Die Hoof en die liggaam

Die Nuwe Testament gebruik simboliese illustrasies om die universele Kerk se verhouding met Jesus Christus uit te beeld. Ons het reeds die simboliese illustrasie van die Kerk as ’n gebou en die Kerk as ’n heilige en koninklike priesterdom bespreek. Vandag bespreek ons die illustrasie van die universele Kerk as ’n liggaam met Christus as die Hoof.

. . .

Christus is die Hoof van die Kerk

Christus se verhouding met sy universele Kerk word in die Nuwe Testament uitgebeeld deur die figuur van ʼn Hoof en sy liggaam. Efesiërs 1:22-23 sê dat Christus is “as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” Soos wat die hoof gesag het oor die fisiese liggaam en dit rigting gee, so is Christus die Hoof van die Kerk: Hy het gesag daaroor en gee dit rigting (Enns 2014:365). Kolossense 1:18 stel dit so: “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.” God die Vader het aan Christus die posisie van eer gegee, sodat Hy in alles die eerste kan wees.

Identifikasie met Christus

In die Kerk-era (van Pinkster tot by die wegraping) vind toegang tot die liggaam van Christus by wedergeboorte plaas wanneer Christus die gelowige deur een Gees doop “tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (1 Korintiërs 12:13). Deur hierdie doop word elke lid van die liggaam vir ewig met die Hoof verbind (Fruchtenbaum 2005:15). Dissipels identifiseer in die openbaar met Christus deur die ordinansie van die doop te gehoorsaam.

Christus versorg en koester die liggaam

Wat is die gesindheid van die Hoof, Christus Jesus? Filippense 2:5-11 dui dit aan: Jesus se gesindheid en leierskap as Hoof is om God die Vader te gehoorsaam, om te dien en om op te bou. Christus Jesus versorg en koester die liggaam deur vir dit leiers te gee en om vir hierdie leiers sekere gawes te gee (Efesiërs 4:11-16). Die doel hiermee is om “die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus” (Efesiërs 4:12; vgl. Kolossense 2:19). Nie net die leiers nie, maar elke gelowige in die Kerk-era het ten minste een gawe van die Heilige Gees ontvang (1 Korintiërs 12:11) sodat ons nie passiewe toeskouers is nie, maar “mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Petrus 4:10; vgl. Fruchtenbaum 2005:15). Vir hierdie rede behoort elke lid van die liggaam van Christus dieselfde sin en gesindheid van Christus te openbaar (1 Korintiërs 2:16; Filippense 2:5).

Eenheid in die liggaam

Daar is eenheid in die liggaam van Christus selfs al is daar verskillende funksies — en ons vier hierdie eenheid deur die ordinansie van die nagmaal. Daar is interafhanklikheid in die liggaam van Christus omdat niemand al die gawes ontvang het nie (vgl. 1 Korintiërs 12-14; Efesiërs 4). Elke lid asook die hele liggaam gesamentlik bly totaal en al afhanklik van die Hoof van wie dit krag, sterkte en rigting ontvang. Aan Christus al die eer en heerlikheid, groot werke het Hy gedoen, groot werke doen Hy nou en groot werke gaan Hy nog doen!

Ons volgende artikel in hierdie reeks oor die simboliese illustrasies van die universele Kerk sal fokus op die Eersteling en die oes.

———————————

As jy belangstel om meer oor die universele Kerk te lees, oorweeg gerus om die artikel, Die universele Kerk deur dr. Arnold Fruchtenbaum te lees, wat as bron vir hierdie blog gebruik is.

’n Ander bron wat ook gebruik is, is The Moody Handbook of Theology deur P.P. Enns wat in 2014 deur Moody Press in Chicago uitgegee is.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']