Die illustrasie van die olyfboom

Paulus sê dat niks gelowiges sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie (Rom 8:38–39). As dit dan so is — en dit is! — hoe weet gelowiges dat hulle God kan vertrou as sy onvoorwaardelike beloftes aan Israel nog nie vervul is nie? Waarom word so min Jode, maar meer en meer heidene gered (vgl. Rom 1:16; 9:31; 11:25)? Hoe kan Paulus se illustrasie van die olyfboom geïnterpreteer word (vgl. Rom 11:16–32)?

Agtergrond

Paulus skaam hom nie vir die evangelie van Christus nie, ‘want dit is ʼn krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek’ (Rom 1:16). Elke segment van die mensdom het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (vgl. Rom 3:19–31) — en dít sluit in heidene wat afgode dien (Rom 1:18–32), gekultiveerde heidene (Rom 2:1–16) en ook die Jode (Rom 2:17–3:18). Dan behandel Paulus drie tydsaspekte van redding. In die verlede is die toerekening van Christus se geregtigheid sodra iemand glo (vgl. Rom 4:1–5:21), dan volg heiligmaking in die hede (vgl. Rom 6:1–8:18) gevolg deur verheerliking in die toekoms (vgl. Rom 8:19–39). Daarná verdedig Paulus God se geregtigheid teenoor Israel in Romeine 9–11.

Jode, Israeliete, Israel

In Romeine 9–11 verwys Paulus 11 keer na ‘Israel’, twee keer na ‘Israeliet’ en twee keer na ‘Jood’ of ‘Jode’ (Vlach 2019:26). ʼn Jood is ʼn biologiese afstammeling van Abraham, Isak en Jakob/Israel (Ger 2004:224–226). Israel is die nasie wat uit etniese Jode, dit is Israeliete, bestaan. Romeine 9–11 herdefinieer of gee nie nuwe betekenis aan ‘Israel’ nie, want Paulus praat van etniese Jode, Israeliete, ‘sy stamgenote na die vlees’. Die konsep van wie ʼn Jood is of wie deel van Israel is, word níé uitgebrei om gelowige nie-Jode in te sluit nie, want Romeine 9–11 behou die onderskeid tussen Jode en nie-Jode (Vlach 2019:31).

Oorsig oor Romeine 9:1–11:15

Romeine 9:1–5 verduidelik dat Israeliete nog steeds groot voorregte besit. Selfs al is die meeste Jode vandag ongelowig is daar geen aanduiding dat fisiese en nasionale beloftes skielik vergeestelik, herdefinieer of na iets anders toe verander is nie (Vlach 2019:28). Israel se verwerping van die Messiasskap van Jesus tydens sy eerste koms beteken nie dat God se woord verval het nie (Rom 9:6–13). Die raadsplan van God in Christus is nie skielik gedwarsboom deur Israel se verwerping van die Messias nie (Fruchtenbaum 1989:729). Die feit dat God die volk Israel uitverkies het, beteken egter nie dat elke Jood ʼn gelowige is nie. Israel sluit al die fisiese afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob in, maar binne die volk van Israel is daar die Israel van God, die gelowige Israel, die ware Israel. In Romeine 9:6 is daar ʼn teenstelling tussen Jode wat glo en Jode wat nie glo nie. Dit is ʼn groep ongelowige Jode wat Jesus se Messiasskap tydens sy eerste koms verwerp het.

Is God onregverdig omdat Hy net daardie deel van Israel wat glo uitverkies het en nie die hele Israel nie (vgl. Rom 9:14)? Nee, stellig nie! God betoon sy barmhartigheid soos wat dit Hom behaag (Rom 9:15–16). Dit is God wat roep, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die heidene (Rom 9:23). Terwyl baie heidene geroep is om voorwerpe van barmhartigheid te word, het ʼn groot deel van Israel voorwerpe van toorn geword (Rom 9:27–29). God is egter glad nie onregverdig teenoor Israel nie. Die probleem is ongelowige Jode se verwerping van die geregtigheid van God in Christus (Rom 9:30–10:21). Israel het hulle eie geregtigheid probeer oprig met eie werke en hulle nie aan die geregtigheid van God, dit is Christus, onderwerp nie (Rom 10:3–4). Israel het hul gestamp teen die steen van aanstoot en die rots van struikeling; die fout lê egter beslis nie by God nie.

Daar is egter hoop vir Israel. “Het God miskien sy volk [Israel] verstoot?” (Rom 11:1; vgl. 10:21b). Die antwoord is duidelik: “Nee, stellig nie!” ‘God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie’ (Rom 11:2a). Die bewys dat Israel nie verstoot is nie, is omdat God volgens die uitverkiesing op grond van genade nog altyd ʼn oorblyfsel van gelowiges in Israel gehad het, in die verlede en so ook in die hede (Rom 11:1–10). In die hede is Paulus ʼn duidelike bewys van hierdie oorblyfsel (Rom 11:1), terwyl daar in die verlede, byvoorbeeld in Elía se tyd, seweduisend manne was wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie (Rom 11:4). Die Joodse oorblyfsel waarvan Paulus deel is, wys boonop dat Israel ʼn toekoms het (Rom 11:1–6, 25–31; Coetzee 1965:172). Indien Israel ʼn toekoms sou hê, is hulle dan tydelik in die hede verwerp? Paulus vra, “Het hulle [Israel] miskien gestruikel om te val?” (Rom 11:11). Weer volg die sterk-bewoorde negatiewe antwoord: “Nee, stellig nie!” Redding het na heidene gekom om Paulus se eie volk, Israel, jaloers te maak (Rom 11:11). Israel het oor Christus gestruikel en word ongetwyfeld deur God gedissiplineer, maar Israel het nie permanent geval nie (Rom 9:32–33; 11:11; vgl. Vlach 2019:40). Dissipline deur tydelike en gedeeltelike verharding impliseer nie verwerping nie (Sibley 2015:575–576). Paulus verwerp ten sterkste die idee dat God Israel verwerp het; God het hulle selfs nie eens tydelik verstoot nie (Sibley 2015:577–579). Daar kom nog ʼn wonderbaarlike ommekeer in die situasie.

Die olyfboom

Paulus gebruik die illustrasie van die olyfboom om te leer dat ʼn toekomstige, nasionale herstel van Israel verwag moet word. Die olyfboom behóórt aan Israel (Rom 11:24), maar dit ís nie Israel nie. Natuurlike takke van die olyfboom verwys na Israeliete: die takke wat afgebreek is, verwys na ongelowige Jode (Rom 11:17a, 19–20); die natuurlike takke wat op hul eie olyfboom ingeënt word, verwys na gelowige Jode (Rom 11:24). Die olyfboom en die vettigheid daarvan verwys waarskynlik na die onvoorwaardelike Abrahamitiese verbond wat God met die vaders, Abraham, Isak en Jakob, gesluit het (Fruchtenbaum 1989:744; Vlach 2019:46).

Die Abrahamitiese verbond maak spesifiek voorsiening dat nie-Jode ook geestelike seën kan ontvang (Gen 12:3; 22:18; vgl. Gal 3:8). Die takke van die olyfboom wat van nature wild was, maar wat teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt is, verwys dus na gelowige nie-Jode (Rom 11:17, 24). ʼn Bietjie later verklaar Paulus dat gelowige nie-Jode deel gekry het aan Jode se ‘geestelike voorregte’ (Rom 15:27). Die idee is egter níé dat die nie-Joodse gelowiges wat in die mak olyfboom ingeënt is, hoogmoedig raak en hulle bo die natuurlike ‘takke’ verhef nie (Rom 11:18–20). Nie-Joodse Christene moenie hierdie waarskuwing mis of ignoreer nie.

Die eerstelinge en die deeg (Rom 11:16) gebruik die illustrasie van eerstelinge van die land wat aan God geoffer word in die geloof dat God die hele oes sal seën. In die olyfboom-illustrasie van Romeine 11 kan die eerstelinge en die deeg óf verwys na die patriarge en die ‘hele Israel’ wat uiteindelik gered sal word, óf dit kan verwys na die gelowige oorblyfsel in Israel wat heenwys na die toekomstige redding van die ‘hele Israel’ (Rom 11:1–6, 16, 25–28; Vlach 2019:44).

Die verborgenheid wat Paulus bekend maak, bevat drie komponente: (1) Israel is ten dele verhard; (2) hierdie toestand van gedeeltelike verharding sal voortduur totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en (3) só sal die hele Israel gered word (Rom 11:25–27). Die ‘volheid van die heidene’ verwys na alles wat God vir nie-Jode in die huidige bedeling in gedagte het. Dit sluit in die redding van baie nie-Jode (Hand 15:14) en om Jode jaloers te maak oor die Messias (Rom 11:11). Die ‘volheid van die heidene’ word waarskynlik bereik ten tyde van die wegraping van die Kerk. Daarná, in die toekoms, sal Israel as ʼn volk die Messias aanneem. Die natuurlike takke sal weer in Israel se eie olyfboom ingeënt word, Israel sal as ʼn nasie in die toekoms gered word en daarná in hul land herstel word (vgl. Rom 11:24–27). Die Persoon wat die vervulling van al God se onvoorwaardelike verbondsbeloftes en profesieë moontlik maak, is die Here Jesus Christus.

Die ‘hele Israel’ wat in die toekoms gered gaan word, verwys nie na alle Jode van alle tye nie. Dit verwys na Jode wat gedurende ʼn sekere tydvak leef en wat gered word omdat hulle in die Messias glo. Weer eens, niemand word ooit gered vanweë hul etniese agtergrond nie. Hierdie redding van die hele Israel sal teen die einde van die Verdrukkingstydperk plaasvind. Tydens die Verdrukkingsperiode sal twee-derdes van alle Jode sterf (Sag 13:8–9), maar die oorblywende een-derde Jode wat aan die einde van die Verdrukkingsperiode nog leef, sal egter gelowig wees of dit dan word (Rom 11:26–27; Fruchtenbaum 1989:789). Hierdie redding van die hele Israel is in die Ou Testament geprofeteer (Ps 14:7; Jes 27:9; 59:20–21; Miga 2:12–13; en Sag 13:9 — om net ʼn paar voorbeelde te noem).

Wie is die ‘hulle’ wat tans vyande ter wille van die evangelie is maar terselfdertyd ook bemindes ter wille van die vaders is (vgl. Rom 11:28)? Dit is nie die Kerk nie en dit is ook nie die oorblyfsel van Israel nie, want nie die Kerk of gelowige Jode is vyande van die evangelie nie. Die ‘hulle’ verwys na die hele Israel wat tans in ongeloof is, maar wat eendag gered sal word (Waymeyer 2005:57, 71).

Waarom gaan God in die toekoms hierdie Jode, hierdie ‘hele Israel’, red? ‘Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik’ (Rom 11:29). Die onvoorwaardelike verbondsbeloftes en profesieë wat God aan Israel gemaak het, en wat nog steeds onvervuld is, sál aan Israel vervul word. Heidene uit die nasies ontvang tans barmhartigheid van God, maar God sal weer oor Israel barmhartig wees (Rom 11:30–32). God hét nie en sál nie sy uitverkore volk Israel verstoot nie.

Slot

Aan God al die lof en die eer, want as Israel se val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie (vgl. Rom 11:12, 33–36)!

Bronne

Coetzee, J.C., 1965, Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament, Pro Rege Pers, Potchefstroom.

Fruchtenbaum, A.G., 1989, Israelology: The Missing Link in Systematic Theology, Ariel Ministries, Tustin.

Ger, S., 2004, The Book of Acts: Witnesses to the World, AMG Publishers, Chattanooga.

Scholtz, J.J., 2017, ‘Israelologie: ʼn Bybels-teologiese perspektief oor Israel se verlede, hede en toekoms’, In die Skriflig 51(1), a2231.

Sibley, J.R., 2015, ‘Has the Church put Israel on the Shelf? The Evidence from Romans 11:15’, Journal of the Evangelical Theological Society 58(3), 571–581.

Vlach, M.J., 2019, ‘A Non-Typological Future-Mass-Conversion View’, in J. Compton & A.D. Naselli (reds.), Three Views on Israel and the Church: Perspectives on Romans 9–11, pp. 21–73, Kregel Academic, Grand Rapids.

Waymeyer, M., 2005, ‘The Dual Status of Israel in Romans 11:28’, The Master’s Seminary Journal 16(1), 57–71.

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.