Die jaar 2026

 

Wat gaan in 2026 gebeur? Mense weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie, maar God weet (vgl. Jes 46:9-11). In die Bybel openbaar God baie inligting oor die toekoms. Gelowiges kan weet wat God oor die eindtye gesê het. By FaithEquip glo ons dat die wegraping van die Kerk enige tyd kan gebeur (miskien selfs vandag), maar ons glo nie dat die 7-jaar Verdrukkingstydperk in 2026 kan begin nie.

Wat die toekoms betref, die beste kom nog! Op ʼn stadium, miskien vandag, kom die Bruidegom in die lug om sy bruid te haal (1 Kor 15:51-52; 1 Tess 4:13-18). Die wêreld gaan so ʼn donker plek word dat die opneming van die bruid soos ʼn reddingsmissie sal wees (vgl. 2 Pet 1:19). Die Here Jesus is die Kerk se salige hoop, want ons sien uit na “die salige hoop en glansryke verskyning van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:13).

Ná die wegraping van die Kerk – miskien onmiddellik daarná of dalk ʼn tyd daarná – sal die 7-jaar Verdrukkingstydperk begin. Volgens Daniël 9:27 sal dié tydperk begin wanneer die antichris ʼn verbond “met die menigtes”, wat Israel is, bevestig (of afdwing). Dit sal die 70ste “sewe” van Daniël 9:24-27 afskop, ʼn tydperk van sewe jaar wanneer die “leier wat kom” (Dan 9:26), dit wil sê die antichris, op die toneel sal wees. Die Messias sal aan die einde van hierdie 7-jaar tydperk terugkeer wanneer ʼn gelowige oorblyfsel van Israel sal sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt 23:39). Dan sal die Here na die aarde terugkeer om die Messiaanse koninkryk te vestig om eers vir ʼn duisend jaar te regeer, en daarná vir ewig op die nuwe aarde.

Waarom glo ons die 7-jaar Verdrukkingstydperk sal nie in 2026 begin nie? Daar is baie Bybelprofesieë oor hierdie “uur van beproewing” wat oor die hele wêreld sal kom (vgl. Op 3:10), hierdie dag van “die toorn van die Lam” (Op 6:16), ʼn dag van vernietiging en verwoesting (Sef. 1:15). Volgens die Bybel moet die wêreld op ʼn sekere manier ingerig word, anders kan die Verdrukkingstydperk nie begin nie. Ons beklemtoon sommige van hierdie profesieë om aan te dui waarom die Verdrukkingstydperk nie in 2026 kan begin nie:

  1. Babilon moet ʼn wêreldstad wees, aangesien dit die hoofstad van die antichris sal wees. Met “Babilon” bedoel ons letterlike Babilon in hedendaagse Irak (Jes 13-14; Jer 50-51; Op 17-18). Min weet dit, maar hierdie stad word reeds vandag herbou (en vinnig ook). Die Verdrukkingstydperk kan nie begin voordat Babilon ʼn invloedryke wêreldstad is nie.
  2. Gedurende die eerste helfte van die Verdrukkingstydperk (d.w.s. 3,5 jaar) sal ʼn valse godsdienstige stelsel vanuit die stad Babilon die wêreld oorheers en die harte van baie “aardbewoners” verower (Op 17). Ons sien nog nie so ʼn Babiloniese wêreldgodsdiens vandag in plek nie.
  3. Gedurende die Verdrukkingstydperk sal tien konings op die toneel wees wat deel van die vierde koninkryk, die koninkryk van die dier, sal wees (Dan 7:20, 24; Op 17:12, 16). Hierdie tien konings is skynbaar nog nie geopenbaar nie.
  4. Gedurende die Verdrukkingstydperk sal al die nasies teen Israel en haar hoofstad Jerusalem wees (Sag 12:2-3; 14:2). Vandag ondersteun ʼn paar nasies nog steeds vir Israel, maar teen die einde van die Verdrukkingstydperk sal alle nasies teen haar gekant wees.
  5. Wanneer die Messias terugkeer, sal Hy al die nasies oordeel omdat hulle Israel se land verdeel het, d.w.s. die Messias se land (Joël 3:2; Matt 25:31-46), asof dit kwansuis “vrede en veiligheid” sal bring (vgl. 1 Tess 5:1-3). Vandag word onophoudelike en ondraaglike druk op Israel geplaas om haar huidige land nog verder te verdeel vir ʼn sogenaamde “twee-staat oplossing”. Na my mening het hierdie verdere verdeling van Israel se land nog nie gebeur nie. Tog sê die Bybel dat die land van Israel iewers in die toekoms verdeel sal word – en aan die einde van die Verdrukkingstydperk sal die Here die nasies daarvoor oordeel.
  6. Sommige argumenteer dat die Gog en Magog-oorlog voor die Verdrukkingstydperk sal plaasvind, terwyl ander sê dat dit meer deel van gebeure gedurende die Verdrukkingstydperk sal vorm (vgl. Eseg 38-39). Ongeag wanneer hierdie oorlog sal plaasvind, dit kan nie gebeur tensy sekere sake in plek is nie. Byvoorbeeld, Israel moet veilig in haar land woon (Eseg 38:8, 11) en sy moet rykdom in die vorm van silwer en goud besit (Eseg 38:13). Israel woon nie vandag veilig in haar land nie. Israel is nie bekend vir rykdomme van silwer en goud nie. Persië (oftewel Iran) gaan nie hierdie oorlog lei nie, maar eerder ʼn ondergeskikte rol aan beide Gog van die land Magog en Turkye speel. Aan die begin van Januarie 2026 skryf Iran nog vir baie ander lande voor, so hierdie voorwaarde is ook nog nie vervul nie.
  7. Gedurende die laaste dae sal leerstellings van demone verkondig word (1 Tim 4:1-5). Valse leraars sal verhinder dat mense trou en ook nog die eet van sekere kosse (soos vleis) verbied. Dit lyk nie asof dit al gebeur nie, nee, nog nie.

 

Indien die Verdrukkingstydperk nie in 2026 kan begin nie, watter profesieë word tans vervul om die wêreldtoneel vir hierdie verskriklike tydperk voor te berei? Ons noem sewe prosesse wat van profetiese belang is:

  1. Sedert die dae van koning Dawid (indien nie vroeër nie), was daar nog altyd Joodse mense in die land van Israel (selfs al is dit soms net ʼn paar in getal). Maar sedert 1948, toe die staat van Israel weer opgerig is, bring God meer en meer Jode terug na hulle land toe. Dit vervul sekere verbondsbeloftes (bv. die Abrahamitiese verbond) asook profesieë (bv. Eseg 36:22-25; 37). Die terugkeer van Jode na hulle land is aan die gang en sal in 2026 voortduur (indien nie versnel nie).
  2. As Satan ʼn gelowige oorblyfsel van Jode kan verhoed om die Joodse Messias te vra om terug te keer (vgl. Hos 5:15-6:3; Matt 23:39), dan sal Satan se loopbaan verleng word. ʼn Gevalle en ongelowige wêreld, onder die heerskappy van die bose, haat die Joodse volk. Antisemitisme (of meer spesifiek: anti-Joodsheid) sal in 2026 voortduur. Dit is goed om te onthou dat Yeshua, in sy menslikheid, altyd ʼn Jood sal wees.
  3. Gedurende die middel van die Verdrukkingstydperk sal die antichris in die tempel sit en homself as God voordoen (2 Tess 2:4; vgl. Matt 24:15). Dit impliseer dat die tempel in Jerusalem herbou sal word. Ons weet nie presies wanneer hierdie tempel herbou sal word nie, maar dit moet teen die middel van die Verdrukkingstydperk funksioneer (Dan 9:27). Dit is geen spekulasie om te sê dat pogings om die tempel in Jerusalem te herbou, sal voortduur nie.
  4. Bloedvergieting en geweld het die aarde gedurende die dae van Noag gevul, maar dieselfde toestande sal gedurende die Verdrukkingstydperk heers (vgl. Jes 26:21; Op 6:9-11). God sal die “aardbewoners” (of “bewoners van die aarde”) gedurende die Verdrukkingstydperk oordeel net soos wat Hy die aarde gedurende die tyd van die vloed geoordeel het. Ek hoop my spekulasie is verkeerd: tensy daar bekering en herlewing is – en in die geheel gesien – sal geweld waarskynlik nie afneem totdat die Here na die aarde terugkeer nie.
  5. Die invloed van die antichris se koninkryk van duisternis sal globaal wees (Op 13:7). Gedurende die Verdrukkingstydperk sal daar ʼn wêreldwye godsdiens, ʼn wêreldwye ekonomie en ʼn wêreldwye politieke orde wees (vgl. Dan 7:23-25). Dit vereis geïntegreerde tegnologiese beheer soos die wêreld nog nooit gesien het nie – en pogings om hierdie doelwit te breeik sal in 2026 voortduur, indien nie selfs verder versnel nie.
  6. As ʼn globale agenda vir ʼn globale wêreldorde bevorder word, kan dit impliseer dat die soewereiniteit van nasies toenemend verwater word. Mag troef regte (tensy regte deur mag beskerm en afgedwing kan word).
  7. Gedurende die Verdrukkingstydperk sal slawerny in/vanuit Babilon plaasvind, miskien op ʼn globale skaal (Op 18:13). Die slawehandel het nog nooit regtig opgehou nie. Mag dit nie voortduur of versnel in 2026 nie.

Toe jy oor die einde van die wêreld nagedink het, wat het jy verwag? Toegegee, sommige mense mag bogenoemde verwikkelinge op pad na die Verdrukkingstydperk as erg negatief beskou. Maar totdat die Here kom om sy bruid in die lug weg te neem, word gelowiges steeds geroep om sout van die aarde en lig vir die wêreld te wees (Matt 5:13-16). Hou aan om in die lig te wandel. Doen wat die Here jou in staat gestel het om te doen. Jesus Christus red nog steeds mense – trouens, die Here “stel nie die belofte [om terug te keer] uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet 3:9). As ons aan die jaar 2026 dink, laat ons voortgaan om God te verheerlik, in Christus te groei en om die goeie nuus van verlossing in Hom te versprei – en in Hom alleen.

********************************

Foto-erkenning: Shutterstock 2026

error: Content is protected !!