Die Kerk en die Jode

Die verhouding tussen die Kerk en die Jode is ’n saak waaroor baie gedink, gesels en geskryf word. Ons fokus vandag op hierdie verhouding en ons rig ons bespreking aan die hand van hierdie vrae: Hoe kan die verhouding tussen die Kerk en die Jode beskryf word? Watter vyf spesifieke dinge het die Kerk van die Jode ontvang? Wat is die Kerk se verantwoordelikheid teenoor die Jode?

. . .

Wat die Kerk van die Jode ontvang het

Die Kerk het vyf spesifieke dinge van die Jode ontvang, naamlik die Skrifte, die Verlosser, saligheid is uit die Jode, die konsep van die plaaslike kerk (gemeente), en ook geestelike seëninge.

Die Kerk het die Skrifte van die Jode ontvang

Vier Skrifgedeeltes toon duidelik aan dat die Kerk die Skrifte van die Jode ontvang het, naamlik: Deuteronómium 4:7-8; Psalm 147:19-20; Romeine 3:1-2; en Romeine 9:4. God het die Wet van Moses wat God se regverdige standaarde daarstel, uniek aan die Joodse volk gegee. Verder het God Homself aan Israel geopenbaar op ’n manier wat Hy Homself nie aan ander nasies geopenbaar het nie. In Romeine 3:1-2 skryf Paulus dat die ‘voordeel’ wat God aan die Jode gegee het ‘groot’ is. Die voordeel geld nie op die terrein van redding nie, want Jode word nie van hul sondes gered omdat hulle Jode is nie. Jode word, net soos nie-Jode (die heidene), gered op grond van God se genade, deur geloof in die plaasvervangende dood, begrafnis en opstanding van Yeshua (Jesus) die Messias (Christus). Watter voordeel het die Jood dan? Soos Paulus skryf, is dit ‘ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is’ (Romeine 3:2). Die Jode het egter ook die verbonde ontvang (die vier onvervulde, onvoorwaardelike en ewige verbonde, naamlik die Abrahamitiese, Land, Dawidiese en Nuwe verbonde), die voorwaardelike en tydelike Wet van Moses met die Levitiese tempeldiens, sowel as die beloftes, spesifiek dié wat deur die profete uitgespreek is (Romeine 9:4). God het die Skrifte gegee vir en deur Jode wat dit bewaar en gekopieer het. Die Kerk het die Skrifte van die Jode ontvang.

Die Kerk het die Verlosser van die Jode ontvang

Jesus was (en is) ’n Jood. Yeshua (Jesus) se Joodsheid word onomwonde verklaar in Johannes 4:9; Romeine 9:5; Galásiërs 4:1-7 en Hebreërs 7:14. Verder leer die Skrifte dat elke mens ’n losser nodig het, iemand wat ons sal verlos van die slawerny van sonde. So ’n losser moet ’n menslike natuur hê en gewillig en in staat wees om vir ons sondes te betaal. Jesus het dit gedoen. Nie alleenlik het Hy betaal vir die sondes van die Joodse volk nie maar vir die sondes van elke mens. ’n Mens moet in die geloof op God se genadegawe reageer (Romeine 6:23). Christus se verlossingswerk is ten nouste verbind met die feit dat Jesus ’n Jood was (en is).

Saligheid is uit die Jode

Jesus het gesê, ‘Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode’ (Johannes 4:22).

Die konsep van die plaaslike kerk of gemeente is uit die Jode

Die konsep van die plaaslike kerk (of gemeente) kom van die konsep van die vergaderplek, die sinagoge, wat geheel en al ’n Joodse konsep is. Só ook die konsepte van ’n ‘ouderling’, ‘die doop’, en ‘die Nagmaal’. Die Joodse oorsprong hiervan is welbekend.

Die Kerk het geestelike seëninge van die Jode ontvang

Romeine 15:27 sê uitdruklik dat heidengelowiges ‘deel gekry het’ aan Joodse geestelike seëninge. Presies waarin deel die heidengelowiges? Efésiërs 2:11-16 en 3:5-6 spel dit uit: Heidengelowiges het deel aan geestelike seëninge wat spesifiek aan die Jode belowe is in die vier onvervulde, onvoorwaardelike en ewige verbondsbeloftes (Abrahamitiese, Land, Dawidiese en Nuwe verbonde). Dit is belangrik om te weet dat heidengelowiges nie hierdie geestelike seëninge oorneem nie, maar dat hulle slegs daarin deel. Alle geestelike seëninge kom uiteraard van God die Vader deur Jesus Christus, maar die beloftes wat God in hierdie verbonde gemaak het, was en is aan Joodse mense gemaak. Die Kerk het deel gekry aan hierdie seëninge; dit neem egter nie die verbonde of die seëninge oor nie.

Wat het dit die Kerk gekos deur die evangelie van die Jode te weerhou?

Teen die vierde eeu het Joodse evangelisasie feitlik opgehou en die aantal Joodse gelowiges in Jesus Christus het begin afneem. Die Kerk se versuim om die evangelie met die Jode te deel het gelei tot vier hoof probleme: die Kerk het haar balans, seëninge, leerstellige eenheid en haar leerstellige suiwerheid verloor.

Efésiërs 2:11-16 bespreek die konsep van ‘een nuwe mens’. Hierdie een nuwe mens in Christus bestaan uit beide Joodse- en heidengelowiges. As die Kerk nie Joodse evangelisasie ondersteun nie, kan die ‘een nuwe mens’ beswaarlik gebalanseerd wees, aangesien dit dan bestaan uit minder en minder Joodse gelowiges in Jesus van Násaret. Wat meer is, as die Kerk in plaas daarvan om Israel te seën, die teenoorgestelde doen deur die evangelie van hulle te weerhou, verbeur dit seëninge van God (vgl. Génesis 12:3). Verder, as die heidene, (die wilde olyftakke) teenoor die natuurlike takke (die Jode) begin roem, is die gevolge nie goed nie. Verskeie vorme van die vervangingsteologie leer dat God ‘klaar’ is met die volk Israel omdat die Kerk skynbaar vir Israel permanent en algeheel vervang het. Dit is egter presies wat Paulus kategories NIE in Romeine 11:1, 11 geskryf het nie. Diegene wat teenoor die natuurlike takke roem, ontvang nie sekere seëninge van God nie.

Wat het dit die Kerk nog gekos omdat dit die evangelie van Jode weerhou? Die Kerk het haar leerstellige eenheid en suiwerheid verloor. Twee spesifieke voorbeelde kan genoem word. Een, is die doopmetode dié van onderdompeling of van besprinkeling / begieting? Die antwoord is onderdompeling. Neem kennis dat die beoefening van die doop ’n Joodse gebruik was lank voordat dit ’n Kerkpraktyk geword het. As Joodse gelowiges geraadpleeg sou wees oor die metode van die doop, sou hulle gesê het, “Ons het die doop altyd beoefen deur middel van onderdompeling”. Twee, is die kwessie ten opsigte van die Nagmaal transubstansiasie of konsubstansiasie? Weer eens, as Joodse gelowiges geraadpleeg sou wees, sou hulle daarop gewys het dat die kern woord in beide die Pasga en die Nagmaal altyd ‘herinnering’ is. Nog voorbeelde kan genoem word, byvoorbeeld gesprekke omtrent Christus se maagdelike geboorte, wettisisme, verskeie vals leerstellings, ens.

Wat is die Kerk se verantwoordelikheid teenoor die Jode?

Die Kerk se verantwoordelikheid teenoor die Joodse volk word verklaar in Romeine 1:16: ‘Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Daar is net een werkwoord wat die laaste twee sinsdele beheer, naamlik die werkwoord ‘is’. As die evangelie van Christus God se voortgaande mag is om te red (en dit is), dan moet dit ook voortgaande ‘eerste vir die Jood en ook vir die Griek’ gepreek word. Paulus, die apostel vir die heidene, het altyd hierdie beginsel toegepas oral waar hy gegaan het. Sien Paulus se optrede ten opsigte hiervan in die boek Handelinge (bv.: 13:2-3, 5, 14; 14:1; 16:12-13; 17:1-2, 10, 16-17; 18:1, 4; 19:1, 8; 28:17).

Die twee Skriftuurlike afdelings vir sendingbediening is Joodse en nie-Joodse bedienings (Handelinge 15; Galásiërs 2; Romeine 11). Paulus praat in Romeine 15:26b-27 van nie-Joodse gelowiges se finansiële bydrae “vir die [Joodse] armes onder die heiliges in Jerusalem” en verklaar dat die nie-Joodse gelowiges dit “goedgevind” het om te gee, en dat hulle inderdaad die Joodse gelowiges se “skuldenaars” is, “want as die heidene deel gekry het aan hulle [Jode se] geestelike voorregte, is hulle [nie-Joodse gelowiges] ook verskuldig om hulle [Jode] met stoflike goedere te dien”. Hoekom is daar ʼn skuld wat nie-Joodse gelowiges moet betaal? Nie-Joodse gelowiges het deelnemers geword van die Joodse geestelike seëninge wat voortspruit uit onvoorwaardelike verbonde wat God aan Jode en hul verteenwoordigers gegee het (vgl. Efésiërs 2:11-3:6; Romeine 9:4). Byvoorbeeld, nie-Joodse gelowiges word gered wanneer hulle deelnemers word van “die wortel en die vettigheid van die olyfboom” (Romeine 11:17), maar hierdie olyfboom behoort nie aan die Kerk of aan nie-Jode nie, maar aan Israel (Romeine 11:24). Wat ook onthou moet word, is dat dit aanvanklik Joodse apostels en Joodse gelowiges was wat die evangelie van Christus vanaf Jerusalem na die res van die wêreld uitgedra het (Handelinge 1:8; 8; 10-11). Hoe kan nie-Jode dan hul skuld betaal? Deur materieel te gee (vgl. Romeine 15:27). ʼn Goeie manier is om Joodse sendingbedienings te ondersteun (vgl. Romeine 11).

Laastens, die Kerk moet vir die Joodse volk bid (Psalm 122; Jesaja 62:1-7; vgl. Romeine 10:1).

———————————

Wil jy meer lees oor die verhouding tussen die Kerk en die Jode? Lees gerus die volledige artikel, Die Kerk en die Jode, geskryf deur dr. Arnold Fruchtenbaum, wat hierdie onderwerp in veel meer detail toelig.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']