Die lering oor die nasies

Wat is God se plan vir die nasies? Waarom het Hy Israel as die uitverkore nasie verkies? Hoe moet ʼn ‘nasie’ Bybels gedefinieer word? Hoe probeer Satan die plan van God vir die nasies kortwiek? Hierdie en ander belangrike vrae word in die lering oor die nasies behandel.

Die 70 nasies voor Babel — plus Israel daarna

Die verwysing na nasies kom die eerste keer – en in ʼn positiewe sin – in Genesis 10:5, 20, 31, 32 voor. Merk op dat dit God is wat nasies maak om oor die hele aarde te woon (Hand 17:26). Sewentig nasies stam biologies uit die nageslagte van Sem (26 nasies), Gam (30 nasies) en Jafet (14 nasies). Al ontstaan hierdie nasies eers na die sondeval en na die sondvloed, is daar geen aanduiding dat die konsep van verskillende nasies ongeestelik of verkeerd is nie; inteendeel, dit is deel van God se raadsplan (Deut 32:8–9; Hand 17:26; Vlach 2010:169). Eers by die toring van Babel word die 70 nasies vanweë hulle rebellie teen God geoordeel (Gen 11). Dit is in hierdie konteks dat God ʼn nuwe nasie deur een van Sem se afstammelinge skep: Israel. Wright (2006:455) skryf: ‘God’s mission is what fills the gap between the scattering of the nations in Genesis 11 and the healing of the nations in Revelation 22’.

Oorsig oor God se koninkryksprogram

Barrick (2012:177-178) identifiseer twee chiastiese strukture wat ʼn oorsig oor God se koninkryksplan bied — en dié plan sluit nasies in. Figuur 1 toon dat God die hemel en die aarde geskep het, die mens aanstel om oor die aarde te heers, maar die mens het geval en die aarde is toe vervloek. God het egter onmiddellik daarna die eerste Messiaanse profesie aangekondig (Gen 3:14-15): die Messias sal nie net verlossing van sonde bewerkstellig nie, maar ook enige eise wat Satan oor die aarde mag hê, vernietig. Die oorwinning is reeds aan die kruis behaal sodat die vloek opgehef sal word, die God-man Jesus Christus sal oor die aarde regeer en God sal uiteindelik ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde skep.

Figuur 1: Chiastiese struktuur van die koninkryksprogram in die Bybel

A Genesis 1:1 Skepping
B Genesis 1:3 God se lig
    C Genesis 1:26 Mens ontvang heerskappy
      D Genesis 2:8–17 Ou Eden
        E Genesis 3:17 Vloek
          . . . ens.
        E’ Openbaring 21:4; 22:3 Geen vloek
      D’ Openbaring 22:1–2 Nuwe Eden
    C’ Openbaring 20:4 Mens se heerskappy
B’ Openbaring 21:23; 22:5 God se lig
A’ Openbaring 21:1 Nuwe skepping

ʼn Tweede struktuur wat Barrick (2012:178) identifiseer — sien Figuur 2 — beklemtoon die effek van sonde en oordeel, maar niks kan God se plan vir Sy skepping fnuik nie.

Figuur 2: Chiastiese struktuur van die anti-koninkryksprogram in die Bybel

A Genesis 1:1 Skepping
B Genesis 3:1 Satan se vryheid
    C Genesis 6–8 Wêreldwye oordeel
      D Genesis 10–11 Babel/Babilon
        . . . ens.
      D’ Openbaring 17–18 Babilon
    C’ Openbaring 19:11–19 Wêreldwye oordeel
B’ Openbaring 20:2–3 Satan se gevangenis
A’ Openbaring 21:1 Nuwe skepping

Israel se rol in God se plan vir die nasies

Israel bestaan uit die afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob — of, om dit kortliks te stel, die afstammelinge van Jakob (wie se naam na ‘Israel’ verander is). Hierdie definisie van Israel het nie in die Nuwe Testament of tydens die Kerk-era verander nie. Waarom het God Israel as die uitverkore nasie verkies? Die basiese antwoord is dat Israel vir God sal verheerlik deur as ʼn instrument gebruik te word om ʼn seën vir die nasies te wees. Hoe sal dit gebeur?

Binne die uitverkore nasie moet die priesterstam van Levi Israel voor God verteenwoordig (Fruchtenbaum 1989:820), maar as ʼn koninkryk van priesters moet Israel die ander nasies voor God verteenwoordig (Eks 19:5–6): ‘[Israel se rol] sal voortaan wees om as priesters tussen die heilige God en die afvallige, wêreldse nasies te bemiddel’ (Merrill 2008:98). In die Ou Testament is verskeie offers op die Dag van Versoening vir Israel gemaak, maar net daarna het die fees van die Tabernakels gevolg — en vir hierdie huttefees moes die Leviete 70 offers vir die 70 nasies bring. Wanneer Christus terugkom om die Messiaanse koninkryk te vestig, sal nasies na Jerusalem kom om die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid en die fees van Tabernakels (huttefees) te vier (Sag 14:16-21; vgl. Mat 17:4).

God het Jode gebruik om die boeke van die Bybel te skryf (Rom 3:2). God sal sy koninkryksplan vervul ooreenkomstig onvoorwaardelike verbonde (bv. die Abrahamitiese, Land-, Dawidiese en Nuwe Verbonde) wat met Jode gesluit is. Let daarop dat net die gelowige oorblyfsel van Israel, dit wil sê Joodse gelowiges van alle tye, die Messiaanse koninkryk sal binnegaan wanneer Christus kom om dit te vestig.

Nog ʼn rede waarom God Israel as die uitverkore nasie gekies het, is omdat saligheid uit die Jode is (Joh 4:22). Alle mense, Jode ingesluit, moet hul geloof in Christus vir verlossing plaas (vgl.1 Kor 15:1-4). Maar dit is deur die Joodse Messias dat God verlossing bewerkstellig het, en hierdie selfde Christus sal oor die nasies regeer.

Iemand mag dalk sê dat Jode nie so spesiaal is nie. Dit is waar dat Israel gestruikel het, maar is die Noord-Koreaanse of Britse nasies (om maar net ʼn paar te noem) gehoorsaam aan God? Israel is glad nie perfek nie, maar God se genadegawes en roeping is onberoulik (Rom 11:29). Uiteindelik sal die Jode wat die Verdrukkingstydperk oorleef almal in Jesus hul Messias glo, hulle sal Hom aanroep (Hos 5:15-6:3; Mat 23:39) en hulle sal die Messiaanse koninkryk as ʼn verloste nasie binnegaan (Jes 59:20-21; Rom 11:25-27).

Hoe moet ʼn nasie gedefinieer word?

Wat is die sina qua non van nasies, daardie noodsaaklike eienskappe waarsonder ʼn nasie nie kan bestaan nie? Hier is iets om eers in gedagte te hou: daar is net een menslike ras. Met die uitsondering van Jesus word alle mense met ʼn gevalle natuur (in Adam) gebore. Dit is dus heeltemal absurd vir een groep mense om te dink hulle is beter as ʼn ander groep mense, want waarom sal een groep mense hulle gevalle natuur verhef bo die gevalle natuur van ʼn ander groep mense? Wat van gelowiges wat wedergebore is (in Christus, die Laaste Adam) en wat nou ook ʼn nuwe natuur het, is gelowiges beter as ander mense? Nee, stellig nie, laat niemand roem nie, behalwe in die Here.

ʼn Tweede ding om in gedagte te hou: God se reëls en beloftes vir Israel, die uitverkore nasie, kan nie onnadenkend geëkstrapoleer word na al die ander nasies toe nie. ʼn Verdere risiko is om bepalings vir verskillende dispensasies met mekaar te vermeng. Byvoorbeeld, onder die Wet van Moses mag Jode nie trou met mense van ander nasies nie — en die rede is sodat Jode nie die Here verlaat en ander gode aanbid nie (Deut 7:3-4). So ver my kennis strek, mense uit nie-Joodse nasies word nie verbied om te trou met mense wat nie uit hul eie nasie is nie. Wat betref bepalings vir verskillende bedelings, ʼn gelowige vandag mag met ʼn Joodse of ʼn nie-Joodse persoon trou, mits daardie gade ook ʼn gelowige is. Ten spyte van al die kwalifikasies wat genoem is, is die nasie Israel biologies-etnies gedefinieer as synde die nageslag van Jakob (wat ʼn nuwe naam ‘Israel’ ontvang het). Israel is God se uitverkore nasie en God het met die Jode onvoorwaardelike verbonde gesluit (Rom 9:4; Ef 2:12). Dit is dus verkeerd om onvoorwaardelike beloftes wat God aan Israel gemaak het onnadenkend net so te ekstrapoleer na al die ander nasies toe.

Hoe definieer die Bybel ʼn nasie? Die volgende word opgemerk:

  1. Taal: Mense kan nie sosiale samehorigheid of ʼn gedeelde kultuur hê tensy hulle in ʼn gemeenskaplike taal kan kommunikeer nie (Gen 11:6-9). Hierdie gemeenskaplike taal kan uniek aan ʼn spesifieke nasie wees of dit mag deur baie nasies gebruik word (soos wat die geval voor Genesis 11 was toe alle nasies Hebreeus gepraat het). Tog moet almal in ʼn spesifieke nasie ten minste ʼn gemeenskaplike taal verstaan en praat, anders is daar nie kommunikasie nie.
  2. ʼn Land met grense: Paulus sê in Handelinge 17:26 (my onderstreping): “En Hy [God] het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het…” Grense impliseer duidelik ʼn spesifieke land. Kyk byvoorbeeld na die grense van die land wat God aan Abraham beloof het (Gen 15:18-21).
  3. Politiese regering: ʼn Land se grense kan nie beskerm word sonder politiese organisasie nie (vgl. Gen 9:5; Rom 13:1-7). Nasies kan nie sonder een of ander vorm van regering bestaan nie, anders kan grense nie beskerm word nie.
  4. ʼn Gedeelde kultuur: Selfs as mense ʼn gemeenskaplike taal deel, in ʼn spesifieke land met spesifieke grense onder een of ander vorm van regering leef, is hulle steeds nie ʼn nasie nie tensy hulle ook ʼn kultuur deel.

Hoe probeer Satan om God se plan vir die nasies te kortwiek?

By die kruis het Christus reeds die oorwinning behaal, Satan se straf is reeds aangekondig (Mat 25:41) maar hierdie vonnis is nog nie voltrek nie. Tot Christus se wederkoms is die koninkryke van die wêreld — en dit sluit beslis nasies in — steeds onder Satan (Mat 4:8-9). Tans is die owerste van die mag van die lug nog steeds besig om die nasies te verlei (Ef 2:2; Open 20:3). Tans is Satan nog steeds die god van hierdie wêreld wat die sinne van ongelowiges verblind sodat hulle nie die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus ontvang nie (2 Kor 4:4). Die einde van hierdie eeu kom egter nader wanneer Satan sy bose koninkryk sal manifesteer deur die Antichris: ons kan nou al sien dat grense tussen nasies afgebreek word, dat nasies hul regeringsvorm opoffer om deel van groter magsblokke te word, tale word vernietig en ons sien reeds die vernietiging van unieke nasionale kulture. Maar die Here sal die seun van die verderf met die asem van sy mond verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet maak (2 Thes 2:8). Die draak en sy gevalle engele sal uit die hemel gegooi word om die hele wêreld nie meer te verlei nie en Satan sal ʼn duisend jaar lank in die bodemlose put gebind word (Op 12:9; 20:1-2). Want die koninkryke van hierdie wêreld sal die eiendom van onse Here word en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid (Open 11:15). Satan wil God se plan, posisie en glorie vat, maar hierdie geskape en gevalle gérub is reeds oorwin en sy vonnis sal beslis voltrek word.

Slotopmerkings

Wanneer Christus na die aarde terugkeer sal Hy die nasies oordeel (Joël 3:1-3; Mat 25:31-46) en dan die Messiaanse koninkryk oprig. God sal verheerlik word deur die nasies wat Hy geskape het, eers deur Israel maar ook deur ander nasies (vgl. Jes 19:19-24). Na die finale rebellie en die groot wit troon oordeel, sal die Messiaanse koninkryk met die ewige bestel saamsmelt. In die ewige bestel sal Israel en die nasies wat gered is in die lig van die heerlikheid van God wandel, en die konings van die aarde sal hul heerlikheid en eer in die Nuwe Jerusalem bring (vgl. Open 21:22-27).

————————

Bron:

Barrick, W.J., 2012, ‘The kingdom of God in the Old Testament’, The Master’s Seminary Journal 23(2), 173-192.

Fruchtenbaum, A.G., 1989, Israelology: The missing link in Systematic Theology, Ariel Ministries, Tustin.

Merrill, E.H., 2008, Kingdom of priests: A history of Old Testament, Baker Academic, Grand Rapids.

Scholtz, J.J., 2017, ‘Israelologie: ʼn Bybels-teologiese perspektief oor Israel se verlede, hede en toekoms’, In die Skriflig 51(1), a2231.

Vlach, M.J., 2010, Has the Church replaced Israel? A theological evaluation, B&H Academic, Nashville.

Wright, C.J.H., 2006, The mission of God: Unlocking the Bible’s grand narrative, InterVarsity Academic, Downers Grove.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']