Die manne van naam?

Was die ondertrouery in Genesis 6:1–4 tussen die lyn van Set en die lyn van Kain, of was dit ʼn ondertrouery tussen gevalle engele en die dogters van mense? Wat het werklik gebeur? Wie is hierdie ‘manne van naam’? Waarom het God hierdie ondertrouery so streng gestraf?

Relevante tekste

Hier is drie relevante tekste, aangehaal uit die 1933/53-vertaling:

  • Genesis 6:1–4: ‘Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God [1983-vertaling; hemelwesens; Bybel vir Almal: engele] dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar. In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam’.
  • 2 Petrus 2:4–5: ‘Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word; en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het…’.
  • Judas 6–7: ‘En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ʼn voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan’.

Genesis 6:1–4

Die ondertrouery waarna Genesis 6:1–4 verwys, het tussen die ‘seuns van God’ (of ‘hemelwesens’ (NAV) of ‘engele’ (Bybel vir Almal)) en die ‘dogters van mense’ plaasgevind. Die term ‘seuns van God’ verwys na persone wat God direk geskep het. Alle engelewesens is persone wat God direk geskep het (vgl. Job 1:6; 2:1; 38:7). God het Adam ook direk geskep en daarom word hy ook ʼn ‘seun van God’ genoem (Luk 3:38). Voortaan word Adam se afstammelinge egter indirek deur menslike voortplanting geskep en nie direk deur God nie.

Dit is dus duidelik dat die ‘seuns van God’ in Genesis 6:1—4 (OAV) na gevalle engele (of ‘hemelwesens’) verwys. Die rede hoekom dit hier gevalle engele is, en nie goeie of heilige engele nie, is omdat Christus gesê het dat die engele van God wat in die hemel is nie in die huwelik uitgegee word nie (Mat 22:30). Let wel, goeie of heilige engele is daar waar God hulle wil hê, en hulle word nie in die huwelik uitgegee nie, terwyl die gevalle engele van Genesis 6 die teenoorgestelde gedoen het, naamlik hul ‘eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het’ (Jud 6). Dit blyk dus dat dit moontlik vir gevalle engele is om liggaamlikheid aan te neem en om gemeenskap met vroue te hê. Verder, God noem hierdie gemeenskap nie ʼn ‘huwelik’ nie, maar ‘hoereerdery’ (Jud 7), want seksuele handelinge buite God se orde vir die huwelik tussen ʼn man met ʼn vrou ontvang daardie beskrywing. Genesis 6:3–4 stel dit baie duidelik dat God hierdie ondertrouery ten sterkte afgekeur het.

Indien geredeneer word dat die ‘seuns van God’ eintlik verwys na die lyn van Set (net die mans) wat met die lyn van Kain (maar net vroue) ondertrou het — en die vooronderstelling is dat die lyn van Set net goeie mense ingesluit het en dat die lyn van Kain net bose mense opgelewer het — indien dit die redenasie is, waarom sal godvresende manne in die eerste plek met bose vroue wil trou (Fruchtenbaum 2009:147)? En sou dit in die geskiedenis gebeur, watter oordeel tref die hele aarde elke keer as dit gebeur? Die nageslag-van-Set-met-die-nageslag-van-Kain redenasie klop nie. Ook, as dit normale huwelike was waarna Genesis 6:1–4 verwys, waarom was die ondertrouery net in die een rigting gewees maar nie ook andersom nie, naamlik dat die dogters van mense ook seuns van God gekies het om mee te trou nie? Daar is geen aanduiding in Genesis 3 tot 6 dat God die nageslag van Set verbied het om met die nageslag van Kain (of andersom) te trou nie. Met die uitsondering van agt mense (Noag se gesin) het ál Set en ál Kain se afstammelinge in die vloed omgekom. Die redenasie dat Set se lyn net uit goeie mense bestaan het ignoreer verder die feit dat Adam se afstammelinge almal die gevalle natuur geërf het (maar nie Jesus nie).

Wat die term ‘dogters van mense’ betref, ongetwyfeld word hier na die vroulike deel (‘dogters’) van die menslike geslag (‘van mense’) verwys. Daar is egter niks in die teks wat aandui dat hierdie vroue beter of slegter as ander vroue was nie (vgl. Unger 1994:47–48). Verder, dit is dogters van mense wat hier trou — en ook ‘mense’ is ʼn generiese term van die mensheid in die algemeen op daardie stadium.

Die produk van hierdie vreemde en sondige vereniging tussen gevalle engele en vroue was manlike afstammelinge (altyd slegs manlike afstammelinge — heel ongewoon) wat ‘nefilim’ genoem word. Hierdie wesens was nie suiwer mense nie, maar ʼn vermenging tussen gevalle engele en mensheid. Hulle word ook genoem ‘gibborim’ (wat ‘die geweldiges’ of ‘die magtiges’ beteken). Hierdie ‘manne van naam’ of ‘reuse’ (OAV) was in ʼn sin uitsonderlik gewees, maar wat hulle was het nie God se goedkeuring weggedra nie. Inteendeel, die vloed, wat 120 jaar later plaasgevind het, vorm deel van God se oordeel oor hierdie gebeure (Gen 6:3; 7:1–8:12; 2 Pet 2:4–5). Behalwe vir die agt mense in die ark is die mensdom van daardie tyd in die vloed verdelg. Wat die oordeel oor die gevalle engele betref, die Nuwe Testament kleur die prent verder in.

Relevante Nuwe-Testamentiese tekste

God het spesifiek hierdie gevalle engele wat hul natuurlike woning verlaat het, in Tartarus in ewigdurende kettings of boeie ingeperk (2 Pet 2:4–5; Jud 6–7). Tartarus is ʼn plek van tronkstraf vir hierdie gevalle engele waar hulle hul finale, ewigdurende vonnis in die poel van vuur afwag (Showers 1997:89). Hulle word permanent ingeperk en sal vanaf Tartarus na die groot wit troon oordeel en dan na die poel van vuur gebring word. In die drie-dae tydperk tussen Jesus se dood en sy opstanding, het Christus ʼn verklaring aan hierdie gevalle engele in die gevangenis gaan maak, vermoedelik om aan te kondig dat Satan se bose plan misluk het en dat Christus oorwin het (1 Pet 3:19). Wat was Satan se bose strategie gewees?

Die bose strategie

Direk na die sondeval belowe God aan die slang — maar dit is Satan wat agter die slang was (vgl. Op 12:9; 20:2) — dat God vyandskap sal ‘stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad’ (Gen 3:15a). Daar is sedertdien beslis ʼn vyandskap tussen vroue/vrouwees en Satan; dit is veral duidelik daar waar God nie gedien of erken word nie. God het in die eerste Messiaanse profesie belowe dat die Messias uit die nageslag (letterlik ‘saad’) van die vrou gebore sou word, en dié Saad sou Satan se kop vermorsel (Gen 3:15). In ʼn poging om te verhoed dat hierdie profesie uitkom, het Satan sekere van sy gevalle engele gestuur, wat toe met vroue ondertrou het. Die doel was om die menslike geslag se genetiese poel met gevalle engele te vermeng, sodat daar nie meer suiwer ‘mense’ oorgebly het nie (vgl. dan met Gen 3:15). Hierdie interpretasie word bevestig deur Genesis 6:9: ‘Noag was ʼn regverdige, opregte [geneties onberispelik] man onder sy tydgenote’. Noag se afstammelinge, sy lyn, was nie geneties besoedel deur die vermenging van gevalle engele en mensheid nie.

Christus het Satan by die kruis verslaan, maar die duiwel se vonnis is nog nie voltrek nie en daarom sê die Nuwe Testament dat Satan nog vir ʼn rukkie die ‘owerste van hierdie wêreld’ is (Joh 12:31; 16:11; vgl. 2 Kor 4:4; Ef 2:2). Vir hierdie rede bevorder die wêreld-stelsel onder Satan dat jy as ʼn mens ʼn ‘man van naam’ moet wees, dat jy ʼn ‘reus’ moet wees (Gen 6:4; vgl. ook 11:4). Dieselfde wêreld-stelsel onder Satan bevorder Griekse en Romeinse mitologieë wat eintlik terugkyk na die dade van gevalle engele. Die Bybel vertel egter die ware verhaal: gevalle engele het met vroue ondertrou het en (slegs) manlike afstammelinge met buitengewone eienskappe voortgebring. God het dit egter veroordeel as die uiterste boosheid.

Slot

Gegewe die gevalle natuur van die mens, hoeveel kan ons sonder Christus doen? Vir sommige mag Jesus se woorde ʼn bitter pil wees om te sluk: ‘Sonder My kan julle niks doen nie’ (Joh 15:5). As jy ʼn ware man of ʼn vrou van naam wil wees, buig voor jou Skepper en los die ‘weg van Kain’ (Jud 11) waar jy op jou eie stoom en op jou eie manier God wil probeer behaag. Jesus Christus is die Weg en die Waarheid en die Lewe, niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie (Joh 14:6). Die wysheid is geregverdig deur sy kinders — en een van hulle getuig: ‘Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee’ (Fil 4:13; vgl. Mat 11:19b). Die wat wil roem moet in die Here roem. Die manne en die vroue wat waarlik van naam is, is die geloofsreuse wat met ‘volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof’ (Heb 12:1b–2a).

Bronne

Fruchtenbaum, A.G., 2009, The Book of Genesis, Ariel Ministries, San Antonio.

Showers, R.E., 1997, Those Invisible Spirits called Angels, The Friends of Israel Gospel Ministry, Bellmawr.

Unger, M.F., 1994, Biblical Demonology: A Study of Spiritual Forces at Work Today, Kregel Publications, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.