Die Nagmaal

Ons het onlangs gefokus op die plaaslike gemeente; hoe dit gedefinieer word, wat die doel van die plaaslike gemeente is en ook hoe plaaslike gemeentes bestuur behoort te word. Vandag is ons fokus op die Nagmaal as ’n kerklike instelling. Ons vra hoe ’n mens bepaal of ’n gebruik ’n kerklike instelling is, wat die betekenis van die Nagmaal is en watter name die Bybel ons gee vir hierdie instelling. Ons kyk ook na die doel van die Nagmaal en hoe en deur wie dit gebruik moet word.

. . .

Die vereistes van ’n kerklike instelling

’n Gebruik kwalifiseer as ’n kerklike instelling as dit aan drie kriteria voldoen. Een, is die gebruik ’n opdrag van Jesus? In die geval van die Nagmaal is die opdrag inderdaad deur die Here gegee (Matthéüs 26:26-29; Markus 14:22-25; Lukas 22:19-20). Twee, is die gebruik nagekom in die boek Handelinge? Die breek van brood was beslis nagekom (Handelinge 2:42; 20:7). Drie, is die gebruik in enige van die Sendbriewe toegelig, verduidelik, of die teologiese belangrikheid daarvan uitgespel? Ja, die apostel Paulus bespreek die Here se tafel in 1 Korinthiërs 10:21 en 11:23-26. Die Nagmaal is sonder twyfel ’n instelling waaraan die Kerk gehoorsaam moet wees.

Die betekenis van die Nagmaal

Wat is die betekenis van hierdie geseënde dankseggingsdiens? Die hoofbetekenis van die Nagmaal is dat dit ’n herdenking van, ’n herinnering aan Jesus is (Lukas 22:19; 1 Korinthiërs 11:26). Jesus het gesê ons moet dit doen “tot [sy] gedagtenis” (Lukas 22:19). Ons moet “die dood van die Here [verkondig] totdat Hy kom” (1 Korinthiërs 11:26). Ander denkrigtings oor die Nagmaal soos byvoorbeeld transsubstansiasie, konsubstansiasie of die geestelike teenwoordigheid word in detail bespreek en weerlê deur dr. Arnold Fruchtenbaum in sy artikel ‘Die Nagmaal’, wat die grondslag van hierdie bespreking vorm.

Bybelse name vir die instelling

Daar is ses Bybelse name vir hierdie instelling. Dit is die nagmaal van die Here (1 Korinthiërs 11:20), die tafel van die Here (1 Korinthiërs 10:21), die breking of die breek van brood (Handelinge 2:42; 20:7), die dankseggingsdiens (vgl. Matthéüs 26:27; Markus 14:23; Lukas 22:17), die lofuiting of seëning (1 Korinthiërs 10:16) of die gemeenskap (1 Korinthiërs 10:16).

Die doel van die Nagmaal

Die eerste doel van die Nagmaal is dié van ’n herdenking van en herinnering aan die lewe en dood van Jesus. Tweedens verklaar dit ook basiese feite van die evangelie deurdat dit die Here se dood bekend maak. Derdens, egter, wakker dit ook ’n verwagting aan van Christus se wederkoms, omdat ons hierdie diens moet nakom totdat Hy terugkom (wat nie net Jesus se dood en begrafnis impliseer nie maar ook sy opstanding). Vierdens word ons ook herinner aan ons eenheid met alle gelowiges (vgl. 1 Korinthiërs 10:17).

Gereelde onderhouding van hierdie instelling

Hoe dikwels moet ons byeenkom om die Nagmaal te gebruik? Die antwoord is, “… so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink” (1 Korinthiërs 11:26). Die gereeldheid moet deur die leierskap van elke plaaslike gemeente bepaal word. Aangesien die konteks van die Nagmaal die Pasgamaaltyd is, moet die absolute minimum kere wat ’n gemeente die Nagmaal gebruik, een keer per jaar wees.

Die vereistes

Drie vereistes moet nagekom word voordat ’n mens aan die Nagmaal mag deelneem. Die eerste is redding, want die Here se tafel is slegs vir gelowiges. Die tweede vereiste word as ’n ‘moontlike’ vereiste gestel. In die vroeë kerk was elkeen wat aan die Nagmaal deelgeneem het, gedoop en dit kan wees dat dit ’n vereiste was. Die derde vereiste is selfondersoek (1 Korinthiërs 11:27-28), sodat die gelowige nie aan hierdie seëning sal deelneem op ’n onwaardige manier of sonder om vooraf alle bekende sondes aan die Here te bely nie. God sal die gelowiges oordeel wat die Nagmaal ligtelik opneem en nie selfondersoek doen voordat hulle dit gebruik nie. Hierdie oordeel kan vier vorms aanneem: tugtiging, dissipline, liggaamlike swakheid en siekte, en fisieke dood (1 Korinthiërs 11:29-31).

Onderhouding van die Nagmaal

Die Nagmaal moet gebruik word wanneer ’n plaaslike kerk byeen is (Handelinge 20:7; 1 Korinthiërs 11:18, 20, 33-34). Suurdeeg wys simbolies op sonde, maar Jesus se liggaam was ’n sondelose liggaam — daarom moet ongesuurde brood gebruik word. Aangesien Jesus rooi wyn gebruik het tydens die laaste Pasgamaaltyd, moet rooi wyn gebruik word. Die brood moet eerste bedien word, en daarna die rooi wyn. Gelowiges moet beide die brood en die wyn gebruik.

Tydens die gebruik van die Nagmaal moet daar ’n gesindheid van ware eerbied en ontsag heers, want “so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Korinthiërs 11:26).

———————————

As jy belangstel in meer inligting oor die Nagmaal, oorweeg gerus om die artikel, Die Nagmaal deur dr. Arnold Fruchtenbaum te lees, wat as bron vir hierdie blog gebruik is.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']