Die onsigbare stryd

In sy uitstekende reeks oor Openbaring, lê Dr. Andy Woods (2019) klem op die onsigbare stryd wat woed, veral tydens Christus se twee komste na die aarde toe. Tydens Christus se eerste koms ontplooi Satan sy demoniese magte op die aarde om God se raadsplan te probeer verhoed (vgl. Mat 2). Tydens Christus se tweede koms aarde toe sal dieselfde onsigbare stryd weer duidelik wees. Matteus 2 en 24 beskryf hierdie gebeure op ʼn manier waaraan mense gewoond is, maar in Openbaring 12 wys God dieselfde gebeure vanuit die perspektief van die onsigbare stryd in die engelewêreld tydens beide komste van Christus.

Matteus 2 en Openbaring 12:1–5

Tydens die eerste koms het Satan probeer om Christus dood te maak op enige ander manier as wat die Skrifte oor Jesus geprofeteer het. Byvoorbeeld, in die Evangelie van Matteus lei Herodes se onsekerhede oor sy troon direk tot die moord van alle seuntjies van twee jaar en jonger in Betlehem en omstreke (vgl. Mat 2:16). God verhoed egter hierdie poging om Jesus as kind om die lewe te bring, want reeds voor hierdie gebeure plaasvind, verskyn ʼn engel van die Here in ʼn droom aan Josef. Die engel het Josef beveel: ‘Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak’ (Mat 2:13). Josef was gehoorsaam en het dadelik die Kindjie en Maria in die nag geneem en na Egipte gevlug. Ná die dood van Herodes het daar ʼn engel van die Here in ʼn droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê: ‘Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het’ (Mat 2:20).

In Openbaring 12:1–5 lig God as ’t ware die sluier sodat ons kennis kan neem van die onsigbare geveg in die engelewêreld wat tydens Jesus se eerste koms gewoed het. Volgens Openbaring 12:1 het ʼn groot teken in die hemel verskyn, naamlik ʼn vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ʼn kroon van twaalf sterre. Hierdie vrou skenk geboorte aan ʼn manlike kind wat al die nasies met ʼn ystersepter sal regeer (Open 12:4b–5; vgl. Ps 2:9). Hierdie kind verwys onteenseglik na Jesus Christus wat as ʼn Jood uit die volk Israel gebore is. Die beeld van die son, maan en twaalf sterre verwys na Josef se droom in Genesis 37:9–11, waar daar na Jakob (later hernoem as Israel — Gen 32:28), sy vrou en die twaalf seuns van Jakob verwys word as die son, maan en twaalf sterre – dus ʼn simboliese beeld van Israel.

Die vrou in Openbaring 12:1 is nie die Kerk of Maria nie. As ʼn reine maagd wat aan haar Bruidegom belowe is (2 Kor 11:2), kan niemand tog dink dat die Kerk reeds geboorte geskenk het nie — om nie te praat dat sy geboorte aan haar eie Bruidegom sou kon skenk nie. Dit is anachronisties. Christus bou sy Kerk; die Kerk skenk nie geboorte aan Christus nie. Verder, aan die einde van sy eerste koms na die aarde toe, is Christus ‘weggeruk na God en sy troon’ (Open 12:5b), ʼn verwysing na Christus se hemelvaart (Hand 1:9–11). Hierdie dinge het gebeur vóórdat die Kerk gebore is, want die Kerk begin eers op Pinkster in Handelinge 2. Die siening dat die vrou van Openbaring 12:1–5 die Kerk is maak absoluut geen sin nie. Die vrou in Openbaring 12:1 is ook nie Maria nie. Maria is inderdaad die moeder van Jesus (Mat 2:11). Openbaring 12:17 sê egter dat die draak oorlog voer teen die vrou en teen haar ander nakomelinge — die nakomelinge wat die gelowige oorblyfsel van Israel is en wat die 144 000 van Openbaring 7 insluit. Thomas (1995:119) is reg as hy sê dat hierdie oorlog nie net teen die kinders van een moeder (Maria) kan wees nie. Dus, die vrou van Openbaring 12 is nie Maria nie. Die Ou Testament verwys gereeld na Israel as die vrou van die Here wat tans vervreemd van haar Man is en wat in barendsnood verkeer (Jes 26:16–17; 54:1–6; 66:7; Jer 4:31; 13:21; 22:23; Hos 2; 13:13; Mig 4:10; 5:2–3). Die vrou in Openbaring 12 verwys simbolies na Israel.

In Openbaring 12:1–5 maak God dit bekend dat Satan al sy magte op die aarde ontplooi het (Open 12:4a) tydens Jesus se eerste koms. Satan het probeer om Jesus voor die kruis dood te maak. Herodes het die opdrag gegee om babaseuntjies in Betlehem en omstreke dood te maak, maar Satan was die mag agter Herodes se troon. Openbaring 12:4 sê: ‘En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het’. Matteus 2 wys tog baie duidelik dat hierdie diaboliese plan misluk het. Christus het nie net op die kruis oorwin nie, maar Hy het ook uit die dood opgestaan. Meer nog, Christus is ‘weggeruk na God en sy troon’ — ʼn verwysing na Jesus se hemelvaart aan die einde van sy eerste koms (Open 12:5; vgl. Hand 1:9–11).

Matteus 24 en Openbaring 12:6–17

In Matteus 23:39 sê Jesus vir ʼn Joodse gehoor: ‘Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!’ Satan se redenasie en gevolglike reaksie is eenvoudig maar diabolies: indien Satan alle Jode kan uitmoor voordat hulle hierdie woorde in geloof sê, sal Christus nie terugkom na die aarde toe nie. Dan sal Satan die ‘owerste van hierdie wêreld’ bly (Joh 12:31; 16:11; vgl. 2 Kor 4:4; Ef 2:2). Hierdie agtergrond verklaar Satan se aanhoudende maar ook toenemende haat jeens die Jode en ook waarom Satan se wêreldstelsel in wese anti-Joods is. Hierdie stand van sake sal voortduur totdat die Koning van die Jode terugkom na die aarde toe om die wêreld te regeer.

In Matteus 24, as deel van die Olyfberg-predikasie, profeteer Jesus dat die Antichris in die middel van die Verdrukkingstydperk die gruwel van verwoesting in die tempel sal laat staan (Mat 24:15; vgl. 2 Thes 2:1–8). Jode in Judea wat dit sien gebeur, moet alles onmiddellik los en dadelik na die berge vlug (vgl. Mat 24:16–20). Die rede hiervoor is omdat daar dan ‘groot verdrukking [sal] wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie’ (Mat 24:21). Waarom sal daar dan groot verdrukking vir Jode wees, erger as ooit tevore? In Openbaring 12:6–17 lig God die sluier sodat ons die onsigbare geveg in die engelewêreld, wat kort voor Christus se tweede koms gaan woed, en wat op die aarde voortgesit gaan word, kan verstaan.

Gedurende die middel van die Verdrukkingstydperk, en met die fokus op die hemele, sal Migael en sy engele seëvierend oorlog voer teen die draak en sy gevalle engele — die verslane Satan en sy volgelinge sal dan op die aarde neergewerp word (Open 12:7–12; vgl. Dan 12:1). Nooit weer sal die draak, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, toegang tot die hemele hê nie; nooit weer sal hy die gelowiges voor God kan aankla nie (Open 12:8–10). Satan weet dat hy nog net 3,5 jaar oor het as die ‘god van hierdie wêreld’ — ‘hy weet dat hy min tyd het’ — en daarom sal hy die Jode vervolg en probeer uitmoor soos nog nooit tevore nie (Open 12:12–14, 17; vgl. Mat 24:21–22). Die fokus val dan op wat op die aarde gaan gebeur: Israel se vlug na die woestyn in Openbaring 12:6 stem ooreen met die vlug van die Judeërs na die berge in Matteus 24:16 (vgl. Thomas 1995:138).

Openbaring 12:14 sê dat ‘die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ʼn tyd en tye en ʼn halwe tyd’. God sal die gelowige oorblyfsel van die Joodse volk, wat die 144 000 Joodse evangeliste insluit, tydens die tweede helfte van die Verdrukkingstydperk (die 3,5 jaar wat dan nog van die Verdrukkingstydperk oorbly) beskerm. In hul kommentaar oor Openbaring 12:14 sê Bailey en Constable (1999:634–635; eie vertaling) dat die ‘Jode sal goddelike hulp ontvang om van die draak te vlug. God het die Israeliete op “arendsvlerke” gedra om weg te vlug van Farao af (Eks 19:4; Deut 32:11; sien Jes 40:31), so die arend mag metafories dui op watter manier God hulle gaan red: sterk, vinnig en veilig. Duidelik gaan baie Jode uit Jerusalem vlug na afgeleë plekke toe om van Satan se vervolging te ontsnap (sien Sag 14:1–8; Mat 24:16; Mark 13:14). In hul skuilplek sal God hulle voed net soos Hy die Israeliete in die woestyn en ook vir Elia by die spruit Krit gevoed het’.

Slotopmerkings en toepassing

In Openbaring 12:1–5 lig God die sluier oor die onsigbare stryd in die engelewêreld wat tydens Jesus Christus se eerste koms plaasgevind het. Net so bevat Openbaring 12:6–17 profesieë oor wat kort voor Christus se tweede koms na die aarde toe in die onsigbare stryd in die engelewêreld en op aarde gaan gebeur. Hoe gaan gelowiges in die Verdrukkingstydperk die aanslae van die bose oorwin? Alhoewel ons nie bestem is om die Verdrukkingstydperk te ervaar nie, is die antwoord toepaslik vir alle gelowiges: ‘En hulle het hom [die aanklaer, Satan] oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie’ (Open 12:11). Die Here Jesus Christus het reeds oorwin, Hy is die Eersteling wat uit die dode opgewek is (vgl. 1 Kor 15:20). Die tyd kom al hoe nader wanneer groot stemme in die hemel die volgende sal uitbasuin: ‘Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid’ (Open 11:15).

Bronne

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament Survey, Thomas Nelson, Nashville.

Thomas, R. L, 1995, Revelation 8–22: An Exegetical Commentary, Moody Publishers, Chicago.

Woods, A.M., 2019, ‘REVELATION Episode 35. The Long War Against God. Revelation 12:1-5’. Beskikbaar op YouTube by: https://www.youtube.com/watch?v=6rMSaQTmZFw

Woods, A.M., 2019, ‘REVELATION Episode 36: The Mystery of Antisemitism. Revelation 12:6-12’. Beskikbaar op YouTube by: https://www.youtube.com/watch?v=HW2YFKVkAWQ

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.