Die onvergeeflike sonde

In die derde en laaste artikel oor Wat die Bybel leer oor sonde, beantwoord ons vrae oor wat die onvergeeflike sonde of lastering teen die Heilige Gees is en of hierdie sonde vandag gepleeg kan word.

Die onvergeeflike sonde

Sommige mense glo dat hulle die onvergeeflike sonde gepleeg het. Hulle is daarvan oortuig dat hulle skuldig is aan hierdie sonde en dit druk swaar op hulle (aangesien dit nie vergewe kan word nie). Daar is nie meer genade nie; hul situasie is sonder hoop – of so dink hulle. Ander mense maak ʼn lys van verskillende soorte sondes en sê dat as jy hierdie of daardie sonde pleeg, dan is jy skuldig aan die onvergeeflike sonde. Daar is ook diegene wat sê, ‘solank jy nog bekommerd is oor wat jy gedoen het, is dit ʼn bewys dat jy nie die onvergeeflike sonde gepleeg het nie.’

Die onvergeeflike sonde kan nie vandag gepleeg word nie. Die enigste konteks waarin die onvergeeflike sonde beskryf word, is in die Sinoptiese Evangelies waar ‘hierdie geslag’ in Israel die Heilige Gees gelaster het deur hul verwerping van die werke wat Jesus Christus gedoen het (Matthéüs 12:22-45; Markus 3:22-30; Lukas 11:14-26). Jesus is nie as Messias aanvaar nie, en die Messiaanse koninkryk is nie gevestig nie.

In God se soewereiniteit en deur die werk van die Heilige Gees, sal die Messiaanse koninkryk herstel en op aarde gevestig word wanneer ʼn geslag Jode tot geloof kom in die Messias, en die persoon erken en volg wat God as koning van Israel gesalf het, naamlik Jesus Christus.

Volgens Ou-Testamentiese profesieë – sien Jesaja 32:15-20; 44:3-5; Jeremia 31:31-34; Eségiël 39:25-29; Joël 2:28-3:1 en Sagaría 12:8-13:1 — ‘sal die hele Israel gered word’ (vgl. Romeine 11:25-26) en die Heilige Gees sal oor Israel uitgestort word pas voor die herstel en vestiging van die Messiaanse koninkryk op aarde. Die probleem was dat baie Jode wat gelewe het in die tyd van Christus se eerste koms, gedink het dat hulle outomaties in die koninkryk sou kom bloot omdat hulle fisiese afstammelinge van Abraham is.

Teen hierdie Joodse misverstand en vals lering dat alle Jode van alle tye outomaties die toekomstige eeu sal beërf (vgl. Matthéüs 3:7-10; 6:33; 12:32) op grond van die patriarg-vaders se verdienstelikhede (vgl. Matthéüs 8:11-12), het die Here Jesus ongetwyfeld aangedring op ʼn geestelike basis vir die koninkryk van die hemel, maar sonder om die polities-teokraties-regeringsaspekte te herroep of te ontbind. Weer eens, om die koninkryk in hul leeftyd gevestig te sien, moes die Jode van daardie geslag vir Jesus as die Messias aanvaar het. Daarom het Johannes en Jesus die noodsaaklikheid onderrig van bekering en om hulle na Jesus Christus te wend vir ʼn geregtigheid wat nie net uiterlik is nie (Matthéüs 3:2, 8; 4:17; 5:17-20; 12:33).

God kies die koning van Israel en Hy stuur ʼn profeet om aan te kondig wie hierdie persoon is. Johannes die Doper word beskryf as ‘meer as ʼn profeet’ en, as die boodskapper van die Koning, het hy die evangelie van die koninkryk verkondig (Matthéüs 3:2; 11:9-11). Die persoon wat God as koning gesalf het (Jesus Christus) moes deur die volk Israel gevolg word (vgl. Deuteronómium 17:14-15; Matthéüs 3:16-17; Lukas 1:32-33). Het hulle?

Matthéüs toon aan dat selfs vroeg in hierdie Evangelie nóg die boodskapper (Johannes die Doper) nóg die Christus, die Seun van God, deur daardie Joodse geslag aanvaar is. Individuele Jode het wel tot geloof in Christus gekom, maar nie ʼn verteenwoordigende getal Jode van daardie geslag as ʼn kollektiewe eenheid nie (‘hierdie geslag’ in Israel se geskiedenis). Jesus vergelyk ‘hierdie geslag’ met kinders wat nie wil dans as die fluit speel nie en ook nie wil treur as ʼn klaaglied gesing word nie (Matthéüs 11:16-17). Selfs stede het hulle nie bekeer nie (Matthéüs 11:20-24). Die konflik tussen Jesus en die godsdienstige leiers van ‘hierdie geslag’ bereik egter ʼn klimaks in Matthéüs 12.

Jesus dryf ʼn duiwel uit ʼn man wat blind en stom was, die skare erken dit as ʼn Messiaanse wonderwerk en vra vir hul leiers, “Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?” (Matthéüs 12:23). Aangesien die wonderwerk nie geïgnoreer kan word nie, skryf die Fariseërs die werk wat die Heilige Gees deur Jesus gedoen het toe aan Beëlsebul, die owerste van die duiwels (Matthéüs 12:24). Dit is die onvergeeflike sonde wat ‘hierdie geslag’ in Israel gepleeg het en hierdie sonde word soos volg beskryf deur Fruchtenbaum (1989:617; vgl. McClain 1959:315-316; Scholtz 2014:4-5):

Die inhoud en definisie van die onvergeeflike sonde is die nasionale verwerping van Jesus se Messiasskap deur Israel terwyl Hy liggaamlik teenwoordig was volgens die uitgangspunt dat Hy duiwelbesete was. Hierdie sonde is onvergeeflik, en oordeel is vasgestel. Die oordeel het in die jaar 70 n.C. gekom met die verwoesting van Jerusalem en die Tempel en die wêreldwye verstrooiing van die Joodse volk. … Van hierdie punt af word ʼn spesifieke klem in die evangelies gelê op “hierdie geslag”, omdat hulle skuldig was aan ʼn baie unieke sonde. Op hierdie punt is sy [Jesus se] aanbod van die Messiaanse koninkryk opgehef. Dit sal nou nie in hulle tyd gevestig word nie op grond van die onvergeeflikheid van daardie sonde.

ʼn Nasionale sonde

Die onvergeeflike sonde is dus ʼn nasionale sonde wat gepleeg is tydens Jesus se eerste koms deur ‘hierdie geslag’ in Israel wat die Heilige Gees gelaster het. Hierdie sonde het verreikende gevolge maar kan nie vandag gepleeg word nie. Wat belangrik is, is dat alles nie vir die volk Israel verlore is nie. Individuele Jode kan steeds gered word en word gered, maar Israel as volk is tydelik en gedeeltelik eenkant toe geskuif terwyl God deur die Kerk werk (vgl. Romeine 11:25-27). Nogtans “vervang” die Kerk nie permanent vir Israel nie. God sal beslis sy onvoorwaardelike beloftes aan die volk Israel vervul (vgl. Romeine 11:29). ʼn Toekomstige geslag Jode sal in die Verdrukkingstydperk vir Jesus Christus as Verlosser-Koning aanvaar en hulle sal sê, “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matthéüs 23:39; vgl. Hoséa 5:15-6:1; Sagaría 12:10). En dan sal die Here Jesus Christus na die aarde terugkom!

———————————

Lees gerus die volledige artikel wat handel oor Wat die Bybel oor die sonde leer.

Bronne:

  1. Fruchtenbaum, A.G., 1989, Israelology: The missing link in systematic theology, Ariel Ministries, Tustin.
  2. McClain, A.J., 1959, The greatness of the Kingdom: An inductive study of the Kingdom of God, BHM Books, Winona Lake.
  3. Scholtz, J.J., 2014, The kingdom of heaven and Matthew 10, In die Skriflig 48(1), Art. #1782, 8 bladsye.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']