Die pastorale briewe: 1 Timótheüs, Titus en 2 Timótheüs

Paulus se eerste gevangenskap in Rome eindig in 61-62 n.C. en deur die Here se bystand en krag kon Paulus sy ‘prediking heeltemal volbring’ sodat ‘al die heidene dit kan hoor’ (2 Timótheüs 4:17). In 62-67 n.C. besoek Paulus ten minste die volgende plekke: Macedónië (1 Timótheüs 1:3), Efese (1 Timótheüs 1:3), Kreta (Titus 1:5), Nikópolis (Titus 3:12), Troas (2 Timótheüs 4:13), Korinte (2 Timótheüs 4:20) en Miléte (2 Timótheüs 4:20). Alhoewel dit vir alle Christene bedoel is, beklemtoon die pastorale briewe kerkleiers se pastorale pligte soos die verdediging van suiwer lering, dissipline en die orde in ʼn plaaslike kerk (vgl. Bailey & Constable 1999:458). 1 Timótheüs en Titus is waarskynlik in 63-66 n.C. geskryf terwyl 2 Timótheüs aan die einde van Paulus se lewe in omtrent 67 n.C. geskryf is. Paulus se tweede gevangenskap in Rome eindig in 67 of 68 n.C. in ʼn martelaarsdood, maar hy is deur die Here gered ‘om in sy hemelse koninkryk in te gaan’ (2 Timótheüs 4:18).

Temas in die pastorale briewe

As ʼn ‘ou man’ (Filémon 9) is Paulus besorg dat die waarheid van die evangelie suiwer bewaar en oorgedra sal word aan toekomstige Christene en plaaslike kerke (vgl. Litfin 1983:729). Timótheüs word aangesê om sekere persone te beveel ‘dat hulle geen ander leer moet leer nie’ maar moet leef ‘volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God’ (1 Timótheüs 1:3-4a, 11; vgl. 1:18; 3:6-7, 11, 13, 16; 6:3). Titus word aangesê om opsieners aan te stel om ‘met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprakers te weerlê’ (Titus 1:9; vgl. 1:14; 2:1, 7, 10; 3:9). Timótheüs moet die gesonde woorde wat hy van Paulus gehoor het bewaar in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is (2 Timótheüs 1:13; vgl. 2:2, 15-16; 3:10-11, 14; 4:2-4). In hierdie pastorale briewe inspireer die Heilige Gees vir Paulus om praktiese waarhede aan leiers van plaaslike kerke oor te dra (vgl. Bailey & Constable 1999:458).

Meer oor Timótheüs

Timótheüs was die seun van ʼn gelowige Joodse vrou (Eunice) en Griekse vader asook die kleinkind van ʼn gelowige vrou (Loïs) (Handelinge 16:1; 2 Timótheüs 1:5). Timótheüs vergesel Paulus op die tweede en derde sendingreise. Nadat hy uit die Romeinse gevangenskap vrygelaat is, laat Paulus vir Timótheüs in Efese agter om hom daar te verteenwoordig en om valse lering te bestry (vgl. Handelinge 20:29-30; 1 Timótheüs 1:20). Terwyl Paulus ander gemeentes en plekke besoek het, moet Timótheüs in Efese bly totdat Paulus weer kom (1 Timótheüs 3:14; 4:13; Constable 2015:1-2). Vanweë sy Joodse agtergrond en omdat Jode in die plekke was waar Paulus wou heengaan, is Timótheüs besny in terme van die Abrahamitiese verbond (Handelinge 16:3; Fruchtenbaum 2005:8-9).

Struktuur van die pastorale briewe

Litfin (1983:730-731) stel die volgende uiteensetting vir 1 Timótheüs voor: Inleiding (1:1-2); Timótheüs se uitdagende taak en opdrag (1:3-20); Opdragte aangaande die lewe in die plaaslike kerk (2:1-4:5); Opdragte vir leiers in die plaaslike kerk (4:6-5:25); Opdragte vir groepe in die kerk (6:1-19); en dan die Slot (6:20-21). FaithEquip verskaf elders op ons webwerf ʼn detail struktuur vir Titus voor. Bailey & Constable (1999:478-479) stel die volgende struktuur vir 2 Timótheüs voor: Inleiding (1:1-2); Danksegging vir getroue mede-arbeiders (1:3-18); Aanmoediging om te volhard (2:1-26); Instruksies aangaande die laaste dae (3:1-4:8); en dan Laaste persoonlike opdragte en inligting (4:9-22).

Meer oor Titus

Titus het tot geloof gekom tydens Paulus se eerste sendingreis en is as onbesnedene na die vergadering in Jerusalem saamgeneem (Handelinge 15; Galásiërs 2:1). Tydens Paulus se derde sendingreis is Titus as gesant na die moeilike gemeente in Korinte gestuur om orde te bring en om geld in te samel vir die arm gelowiges in Jerusalem (2 Korintiërs 7:6-16; 8:1-24). Na sy vrylating uit die Romeinse gevangenskap, laat Paulus vir Titus in Krete agter om reg te maak wat oorgebly het en om ouderlinge aan te stel (Titus 1:5). Sodra Paulus iemand anders na Krete kon stuur, moes Titus weer by Paulus in Nikópolis aansluit (Titus 3:12). Omdat Titus geen Joodse agtergrond gehad het nie en tot geloof gekom het tydens Nuwe-Testamentiese tye, is hy nie besny in terme van die Abrahamitiese of Mosaïese verbonde nie (vgl. Handelinge 15:1, 24; Galásiërs 2:3; Fruchtenbaum 2005:9).

Inhoud van die pastorale briewe

As ʼn ou man wie se tyd van heengaan naby was (2 Timótheüs 4:6), beklemtoon Paulus in sy laaste drie briewe die lewe en leierskap in die plaaslike kerk. In 1 Timótheüs moet die plaaslike kerk God se waarheid in die wêreld verkondig en die leiers van die plaaslike kerk moet die waarheid in die kerk uitlê (1 Timótheüs 3:15; Constable 2017:5). Titus fokus op die organisasie en leierskap binne die plaaslike kerk sodat hierdie opdragte as goeie werke uitgevoer sal word (Constable 2017:5). In 2 Timótheüs val die klem weer op die verantwoordelikhede van die leiers sodat die plaaslike kerk lewendig bly (Constable 2017:5). Sodat ‘die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus’ inspireer die Heilige Gees vir Paulus om te skryf (2 Timótheüs 3:17).

Slot

In die doodsnikke van sy tweede Romeinse gevangenskap in 67-68 n.C. skryf Paulus hy ‘het die wedloop voltooi’ en die ‘geloof behou’ (2 Timótheüs 4:7). Hy wat eens Klein Asië en Europa oorkruis het met die evangelie van Christus is alweer die gevangene van onse Here in boeie en in kettings. Elke Christen moet toeneem in godsaligheid (vgl. 1 Timótheüs 3:16; 6:3-6, 11), goeie werke (Titus 1:8, 16; 2:7, 14; 3:1, 8, 14) en hul bediening vervul al beteken dit om verdrukking te ly (2 Timótheüs 4:5). Paulus skryf as iemand wat ‘alreeds as ʼn drankoffer uitgegiet’ word, as iemand wat ‘die goeie stryd gestry’ het (2 Timótheüs 4:6-7). Sy martelaarsdood is egter glad nie die einde nie, want vir Paulus is weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here vir hom in dié dag sal gee — en nie aan hom alleen nie, maar aan elkeen wat die Here se verskyning liefgehad het (2 Timótheüs 4:8).

————————-

Bronne:

Bailey, M.L. & Constable, T.L., 1999, Nelson’s New Testament Survey, Thomas Nelson, Nashville.

Constable, T.L., 2015, Notes on 1 Timothy 2017 edition, Sonic Light.

Fruchtenbaum A.G., 2005, ‘The second missionary journey: Acts 15:36-18:22’ MBS 171, Ariel Ministries.

Litfin, A.D., 1983, ‘1 Timothy’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, bladsy 727-748, David C Cook, Colorado Springs.

Tenney, M.C., 1985, New Testament Survey, revised edition, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']