Die plaaslike gemeente

Hoe kan ’n plaaslike gemeente gedefinieer word? Wat is die doel van ’n plaaslike gemeente? En hoe moet plaaslike gemeentes bestuur word? Ons het reeds in baie detail na die universele Kerk gekyk, en vandag bespreek ons die plaaslike gemeente.

. . .

Definisie

Hoewel daar nie ’n eksplisiete definisie van die plaaslike gemeente in die Nuwe Testament verskyn nie, is daar genoeg beskrywings en besonderhede in die Bybel oor die normale kenmerke van ’n funksionerende plaaslike gemeente sodat ’n mens ’n omskrywing uit al die beskikbare getuienis kan aflei. Dr. Arnold Fruchtenbaum definieer ’n plaaslike gemeente as “’n groep belydende gelowiges in Christus wat gedoop is en hulself onder die leierskap van ouderlinge en diakens georganiseer het met die doel om die Groot Opdrag uit te voer; om die ordinansies van die doop en die Nagmaal te onderhou; en om die Liggaam op te bou deur die aanbidding van God, die gemeenskap van gelowiges, die onderrig van die Woord, en die beoefening van geestelike gawes.” ’n Plaaslike gemeente is dus baie meer as net “waar twee of drie … vergader” (vgl. Matthéüs 18:20).

Bestaansredes van die plaaslike gemeente

Daar word dikwels gevra waarom ons plaaslike gemeentes het of behoort te hê. Hierdie vraag spreek die rede vir of die doel van gemeentes aan. Plaaslike gemeentes moet voldoen aan die volgende vereistes om as plaaslike gemeente te kan bestaan:

  1. Plaaslike gemeentes moet onderrig gee in Bybelse leer, die inhoud van die Skrif, en die volle waarheid van God (Handelinge 2:42; 11:26; 1 Timótheüs 3:15-16).
  2. Plaaslike gemeentes moet die funksie van priesterskap vervul (1 Korinthiërs 16:1-2; 2 Korinthiërs 8:1-15; Filippense 4:18).
  3. Die plaaslike gemeente moet gesamentlik as ’n plaaslike liggaam bid (Handelinge 2:42; Hebreërs 13:15).
  4. Die plaaslike gemeente moet die ordinansies van die Nagmaal en die doop onderhou (Handelinge 2:41-42; 1 Korinthiërs 11:23-29).
  5. Die plaaslike gemeente moet geestelike gawes beoefen (1 Korinthiërs 12-14).
  6. Die plaaslike gemeente moet kerklike tug sowel as geestelike dissipline toepas (1 Korinthiërs 5:1-13; 2 Thessalonicense 3:14-15).
  7. Die plaaslike gemeente moet sendelinge na alle wêrelddele stuur (Matthéüs 28:18-20; Handelinge 11:22-24; 13:1-4).
  8. Die plaaslike gemeente moet armes versorg, veral behoeftige gelowiges wat in nood verkeer (Handelinge 6:1-6; 2 Korinthiërs 8:4-7; Jakobus 1:27).
  9. Die plaaslike gemeente moet deur die verkondiging van die evangelie dissipels maak, hulle doop en die Woord van God onderrig (Matthéüs 28:18-20).
  10. Die plaaslike gemeente moet die Liggaam van Christus opbou deur individuele lidmate van die Liggaam stewig te grondves in die Woord van God sodat hulle nie meer deur elke wind van lering meegesleur word nie (Efésiërs 4:11-16).
  11. Die plaaslike gemeente moet goeie werke in die wêreld doen, veral ten opsigte van die huisgenote van die geloof (Galásiërs 6:10).
  12. Die plaaslike gemeente moet die liefde vir Christus uitleef sodat die wêreld dit kan sien (Openbaring 2:4-5).
  13. Die plaaslike gemeente moet God verheerlik in die bediening van die plaaslike gemeente (Romeine 15:6; Efésiërs 3:21; 1 Petrus 4:11).

Kerkregering of -bestuur in plaaslike gemeentes

Wat sê die Bybel oor die regering van plaaslike gemeentes? Moet dit ’n nasionale vorm aanneem, soos ’n koning of koningin wat oor alle plaaslike gemeentes heers? Hoegenaamd nie. Eerstens is so ’n heerser dalk nie eens ’n gelowige nie. Tweedens is daar glad nie so iets soos ’n nasionale kerk nie. Die kerk (wat uitdrukking vind in plaaslike gemeentes) en die staat moet apart funksioneer. Ons sien nog hierdie soort kerkregering in Engeland (die koning of koningin is die hoof van die Church of England) en in sommige Skandinawiese lande (die koning of koningin is die hoof van die Lutherse kerk).

Wat van ’n hiërargiese regeringsvorm gebaseer op apostoliese opvolging, waar daar ’n veronderstelde aaneenlopende ordineringslyn is vanaf die tyd van die apostels tot nou toe, soos ’n koningskap wat van dinastie na dinastie oorgedra word? Hierdie soort regeringsvorm word nêrens in die Nuwe Testament geleer nie. Die Bybel leer doodeenvoudig nie apostoliese opvolging nie. Wat meer is, die Bybel onderskei ook nie tussen ’n ‘stand van geestelikes’ en ‘leke’ nie. Inteendeel, die Bybel leer vir ons die priesterdom van alle gelowiges. Dit was eers toe die Christendom in die vierde eeu na Christus as ’n ‘staatsgodsdiens’ in die Romeinse Ryk geïnkorporeer is dat hierdie hiërargiese regeringsvorm in die plaaslike kerke gekom het. Vandag vind ons nog hierdie regeringsvorm in die Rooms-Katolieke Kerk, die Episkopaalse Kerk en die Metodiste Kerk.

Is ’n federale of Presbiteriaanse vorm van plaaslike kerkregering miskien Bybels? Tipies, en beginnende by die ‘laer’ vlak van verteenwoordigers, word die plaaslike gemeente regeer deur ’n liggaam wat bestaan uit die regerende ouderlinge wat verkies word deur die lidmate van ʼn gemeente en ’n predikant of leraar-ouderling as die voorsittende beampte. Die predikante of leraar-ouderlinge word deur ander predikante bevestig terwyl die regerende ouderlinge deur die gemeente bevestig word. Daar is egter ook ’n hoër orde in die gesagstruktuur wat bekend staan as die “ring”, en wat saamgestel is uit alle bevestigde predikante of leraar-ouderlinge en een regerende ouderling uit elke plaaslike gemeente in ’n gegewe distrik. Hierdie “ringe” vorm die volgende regeringsvlak, naamlik die sinode. Groepe sinodes vorm dan die hoogste regeringsliggaam, naamlik die algemene vergadering. Daar is ten minste twee probleme met die federale vorm van plaaslike kerkregering. Eerstens moet regerende ouderlinge, volgens die Bybelse model, nie deur die gemeentelede verkies word nie, maar deur ander ouderlinge wat moet bepaal of die persoon aan die vereistes vir ouderlinge voldoen (vgl. 1 Timótheüs 3:1-7; Titus 1:5-9). Tweedens is daar in die federale stelsel gewoonlik net een leraar-ouderling in ’n plaaslike gemeente, terwyl die Bybelse model ’n veelvoud van leraar-ouderlinge vereis. Gemeentes wat hierdie federale regeringsvorm volg, is onder andere die Presbiteriaanse en Gereformeerde kerke, die Nederduits Gereformeerde Kerk en die Christen Gereformeerde Kerk.

Die gemeentelike vorm van plaaslike kerkregering kan soos volg opgesom word: die bron van gesag berus by die gemeentelede van die bepaalde plaaslike gemeente. Dit, egter, is ook nie die Bybelse vorm van plaaslike kerkregering nie. Sommige Baptiste kerke, die Vrye Evangelie Kerk, die Dissipels van Christus en die Kongregasionaliste hang hierdie regeringsvorm aan.

Die Bybelse regeringsvorm is dat elke plaaslike gemeente onafhanklik van ander plaaslike gemeente (of kerkgroepe) sal wees. Daar is geen hiërargiese of denominasionele gesagstrukture oor plaaslike gemeentes nie. Elke plaaslike gemeente moet deur ’n aantal ouderlinge regeer word, nie net een ouderling alleen nie. Die ouderlinge moet die gemeente regeer of bestuur, nie die gemeente die ouderlinge nie. ’n Belangrike punt is dat die mede-herders direk aan die Herder van die skape, die Here Jesus Christus, verantwoording moet doen. Ouderlinge sal strenger deur Christus beoordeel word. Groepe wat hierdie regeringsvorm volg, sluit sommige Broederkerke en sommige onafhanklike Bybelkerke in.

———————————

As jy belangstel in meer inligting oor die plaaslike gemeentes, oorweeg gerus om die artikel, Die plaaslike gemeente deur dr. Arnold Fruchtenbaum te lees, wat as bron vir hierdie blog gebruik is. Dit bespreek onder meer ouderlinge, diakens, die kudde se rol teenoor leierskap, kerkdissipline, die Sabbat en Sondag, die byeenkoms van die plaaslike gemeente en die rol van vroue in die plaaslike gemeente.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']