Die regterstoel-oordeel van Christus

Lering oor die regterstoel-oordeel (in Grieks: die bēma-stoel) van Christus raak nie net die lering oor verlossing (soteriologie) of die lering oor die Kerk (ekklesiologie) nie, maar ook die lering oor die eindtye (eskatologie). Ten spyte hiervan, waarom is daar so min lering oor die regterstoel-oordeel van Christus beskikbaar? Amillenniale en postmillenniale kerke verwaarloos hierdie leerstelling omdat hulle net één algemene oordeel aan die einde verwag. Ander glo verkeerdelik dat die leer van beloning by die regterstoel-oordeel van Christus in stryd is met die verlossingsleer. Soms word gedink dat hierdie leerstelling van beloning tot selfsugtige motivering lei. Alhoewel nog redes genoem kan word (sien Hixson & Fontecchio 2013:223-224), is die punt duidelik: die Bybelse leer oor die regterstoel-oordeel van Christus word dikwels verwaarloos. Dit is jammer, want die Bybel leer dat gelowiges beloning kan ontvang wanneer hulle voor Christus verskyn.

Die bēma-stoel

Die Nuwe Testament gebruik die woord ‘bēma’ 12 keer (bv.: Mat 27:19; Joh 19:13; Hand 18:12, 16-17; 25:6, 10, 17). Die woord beteken ʼn verhoogde plek wat jy met trappe bereik. In die Romeinse wêreld het die bēma na ʼn amptelike setel van ʼn regter verwys. Vir die Grieke van daardie tyd het die ‘bēma-stoel’ verwys na ʼn podium waarop beoordelaars gesit het toe hulle by Griekse sportbyeenkomste vasgestel het watter deelnemers beloon moes word en watter nie. Twee Nuwe-Testamentiese tekste verbind die bēma-stoel (regterstoel) spesifiek aan ʼn oordeel wat Christus sal voltrek:

  • Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee (Rom 14:10b-12); en
  • Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad (2 Kor 5:10).

Die bēma-stoel oordeel: Verlossing of beloning?

Gelowiges is deur Jesus gered van die straf van ons sondes. Jesus het aan die kruis ʼn verskriklike dood gesterf en sy bloed vergiet sodat ek en jy nie vir ons sondes hoef te betaal nie. Ons kan in elk geval nie vir ons eie sondes betaal nie. Slegs Jesus (nie die Dalai Lama nie, nie Boeddha of Mohammed nie, ens.) kan vir ons sondes betaal omdat slegs Jesus sonder sonde is en net Jesus het ʼn self-opofferende dood vir almal gesterf. Gelowiges is dus juridies-forensies-geregtelik deur God in Christus vrygespreek, soos wat Romeine 8:1 duidelik leer: ‘Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees’. Aangesien dit so is, vir watter rede moet gelowiges voor die regterstoel van Christus verskyn?

By die bēma-stoel van Christus sal gelowiges se werke beoordeel word. Hierdie oordeel is nie om vas te stel of die gelowige gered is of nie (die gelowige is reeds gered en daar is nou geen veroordeling nie – sien weer Romeine 8:1), maar of die werke van die gelowige beloon kan word of as waardeloos afgeskryf gaan word. Die punt is: hoe het die gelowige sy of haar geestelike lewe geleef? Hoyt (2011:92; eie vertaling) som dit goed op: ‘Die doel van die regterstoel-oordeel van Christus is nie om te bepaal of iemand gered is al dan nie. Dit gaan ook nie om straf vir die gelowige se sondes te bepaal nie, hetsy die sondes vóór of ná bekering plaasgevind het en of dit bely was al dan nie. …Die gelowige se lewe sal ondersoek en geëvalueer word met betrekking tot sy [of haar] getrouheid as ʼn dienaar van die vermoëns en geleenthede wat God aan hom [of haar] toevertrou het. Getrouheid sal genadiglik beloon word, terwyl onbetroubaarheid wat sonde is volgens Jakobus 4:17, onbeloond sal gaan. Die primêre doel van die regterstoel-oordeel van Christus is dus om te openbaar hoe die Christen se lewensdiens was en dan te beloon vir werke wat God waardig ag’.

Bogenoemde beteken nie dat sonde in die lewe van ʼn gelowige nie gevolge het nie. Soos Hoyt (2011:72) tereg uitwys, sonde in die gelowige se lewe het tydelike (verlies van gemeenskap met God; verlies van mag; en verlies van geleenthede om God te dien) en ewige gevolge (nie om jou redding te verloor nie, maar moontlik die verlies van beloning).

Die doel van die regterstoel-oordeel van Christus is dus, negatief beskou, nie om te bepaal of iemand gered is al dan nie of om gelowiges te straf vir sondes na hul wedergeboorte nie. Christus se doel is om gelowiges se werke te toets om te bepaal of beloning gegee kan word al dan nie.

Die toets van gelowiges se werke

ʼn Belangrike teks vir die lering oor beloning vir gelowiges by die regterstoel van Christus is 1 Korintiërs 3:10-15: ‘Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ʼn bekwame boumeester die fondament gelê, en ʼn ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ʼn ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen’.

Elke gelowige se werk gaan getoets word om te sien of dit die vuurproef kan deurstaan. Hout, hooi en stoppels sal nie die vuur kan deurstaan nie, want dit sal heeltemal weggebrand word. Goud, silwer en edelstene sal die vuur deurstaan – en enige onsuiwerhede hierin sal weggebrand word. Dié wat met wysheid op die fondament bou, sal beloon word; dié wat dit nie doen nie, sal verlies ly. Laasgenoemde gelowiges wat verlies lei sal nie hul verlossing verloor nie, maar hulle sal beloning verloor (1 Kor 3:15b). Paulus dui aan dat die gelowige sy of haar geestelike lewe net op Jesus Christus kan bou – nie op jou eie vlees nie, maar op die enigste ware fondament, naamlik Jesus Christus.

Motivering

Christus gaan alles aangaande ons werke evalueer, insluitende ons motivering. Wat is die regte motivering vir werke wat God positief gaan waardeer? Die suiwerste motivering is sekerlik liefde vir God (vgl. Mat 22:37-39), maar ander motiewe bestaan ook. Gelowiges wil God behaag. Ons wil God verheerlik in wat ons doen. Ons doen werke vir God uit groot eerbied en respek vir die Here. Al hierdie dinge moet lei tot getroue diens en ‘n heilige lewe. Die ware karakter en motiewe van die gelowige sal dus by die bēma-stoel geopenbaar, beoordeel en beloon word.

Die volgende vrae kan gelowiges help. Hoekom doen ek wat ek doen? Gaan dit oor die verheerliking van God of van myself? Is die werk ooreenkomstig die wil van God of iets anders soos (uitsluitlik) my eie wil? Word die dienswerk gedoen deur die Heilige Gees of uit my (vleeslike) krag? Wat is die kwaliteit van my dienswerk? Is ek getrou aan Christus?

Spesifieke werke

Bogenoemde mag dalk steeds abstrak oorkom. Die Bybel praat egter duidelik oor sekere werke wat beloning kan ontvang. Hixson en Fontecchio (2013:215-221) identifiseer die volgende nie-volledige lys van werke wat beloning kan ontvang:

  • Om versoekinge te verdra (Jak 1:12; Rom 5:3-4; Op 2:10);
  • Om God ywerig te soek (Heb 11:6);
  • Volharding: gelowiges is oorwinnaars, maar diegene wat volhard tot die einde, gaan ʼn beloning ontvang (Op 2:26-27);
  • Getrouheid in die bediening (1 Pet 5:1-4);
  • Om Christus se verskyning lief te hê (2 Tim 4:8; vgl. Tit 2:13);
  • Om ander mense na Christus te lei (1 Thes 2:19);
  • Getrouheid aan Christus (1 Kor 4:1-5);
  • Doelgerigtheid in die Christelike lewenswandel (1 Kor 9:24-27; Heb 6:11-12; 2 Petrus 1:10-11);
  • Goeie rentmeesterskap (Luk 19:11-27);
  • Om belediging en vervolging om Christus ontwil te verdra (Mat 5:11-12; 2 Tim 2:12-13; Heb 10:36);
  • Om in Christus te bly (1 Joh 2:28);
  • Welwillendheid teenoor arm mense (Mark 10:21; Luk 12:32-33);
  • Heelhartige diens aan Christus (Joh 12:26); en
  • Liefde-arbeid vir sy Naam en aan mede-gelowiges (Heb 6:10).

Algemene beloning en spesifieke krone

ʼn Logiese vraag is: Watter belonings noem die Bybel? God gee beloning en die grootste beloning is God self (vgl. Hoyt 2011:108). Ons ewige beloning sal ʼn vermoë wees om die heerlikheid van God te openbaar en uit te straal tot die volle kapasiteit van wat ons gegee is (1 Kor 15:40-42; vgl. ook Mat 13:43; Rom 8:17-18; 9:23; 2 Kor 4:17; Kol 3:4). Die Bybel onderskei tussen algemene belonings en spesifieke krone.

Wat algemene belonings betref, die Bybel noem die volgende: verskillende grade van heerlikheid (1 Kor 15:40-42), lof (1 Kor 4:5), eer (Joh 5:44; Rom 2:7; 1 Pet 1:7), ryklike ingang in die koninkryk (2 Pet 1:11), skatte (Mat 6:19-21), erfenis (Kol 1:12-14; 3:24), bevoorregte diens (Op 22:3) en gesag om in die koninkryk te heers (vgl. Mat 19:28; 25:21, 23; Rom 8:17; 2 Tim 2:12; Op 2:26-27; 3:21; 22:5).

Die Nuwe Testament maak spesifiek melding van vyf krone wat gelowiges kan ontvang:

  1. Die onverwelklike kroon — dit is vir gelowiges wat nie net hulle ou sondige natuur onder beheer gebring het nie, maar ook ʼn lewe van groot oorgawe aan Christus geleef het (1 Kor 9:25; vgl. 2 Tim 2:3-5; Heb 12:1-2).
  2. Die kroon van roem en/of blydskap — vir gelowiges wat mense aan Jesus Christus voorgestel het, wat van Hom getuig het of vir nie-gelowiges gebid het sodat hulle tot bekering en redding kan kom (1 Thes 2:19; vgl. Spr 11:30; Dan 12:3).
  3. Die kroon van geregtigheid — dit is vir gelowiges wat gretig en met liefde uitsien na die koms van die Here Jesus Christus (2 Tim 4:7-8). Sommige dink hierdie teks kan ook beteken dat hierdie gelowiges hul nie skaam vir die lering oor die wegraping nie. Hierdie gelowiges leef as vreemdelinge op aarde vanweë hul hemelse burgerskap (Fil 3:20); hulle leef heilige en godvrugtige lewens in ooreenstemming met byvoorbeeld Kolossense 3:1-4.
  4. Die kroon van heerlikheid — vir leraar-predikers wat die kudde as getroue onder-herders onder die Opperherder bedien het (1 Pet 5:2-4; vgl Hand 20:25-28).
  5. Die kroon van die lewe – dit is vir gelowiges wat versoekinge suksesvol deurstaan het en wat selfs as martelare vir Jesus Christus gesterf het (Jak 1:12; Op 2:10; vgl. Mat 5:10-12).

Slot

Daar is nog baie meer wat oor hierdie onderwerp geskryf kan word (bv.: wanneer vind hierdie oordeel plaas?; word ons individueel beoordeel?; ens.), maar om op te som: Sonder Jesus kan niemand gered word nie. Gelowiges kan werklik net op Jesus Christus roem. Maar noudat ons gered is, wil God hê dat ons goeie werke moet doen (Ef 2:10) deur te bou op die fondament wat Jesus Christus is (1 Kor 3:11-12). Volgens God se Woord gaan sulke werke deur God beloon word. Dit is eintlik genade op genade, want elke beloning is eintlik net nog ʼn lofbetuiging aan die Here Jesus Christus.

————————

Bronne geraadpleeg:

Hixson, J.B. & Fontecchio, M., 2013, What Lies Ahead: A Biblical Overview of the End Times, Lucid Books, Brenham.

Hoyt, S.L., 2011, The Judgment Seat of Christ: A Biblical and Theological Study, Grace Gospel Press, Milwaukee.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']