Die resultate van Christus se dood

In hierdie dissipelskapkursus het ons ʼn vorige keer gevra hoekom Christus moes sterf, maar vandag vra ons: Watter spesifieke resultate is deur die Messias se dood tot stand gebring? Ons wys op tien resultate.

1. Die grondslag vir die uitstel van regverdige goddelike oordeel: Die mensdom se sondes is van so ʼn aard dat God alle reg het om oombliklik te oordeel. Nogtans hou God die oordeel terug en stel dit uit op grond van die Messias se dood, sodat elke mens ʼn verlengde geleentheid kry om God se vrye genade aan te neem. Petrus, die apostel vir die besnydenis en Paulus, die apostel vir die onbesnydenis, is albei deur die Heilige Gees geïnspireer om hierdie feite te verkondig (1 Petrus 3:20; 2 Petrus 3:9, 15; Romeine 2:4-5; 9:22). Die Messias se dood is die rede hoekom regverdige goddelike oordeel uitgestel is.

2. Die grondslag vir vergifnis en reiniging: Aangesien die Messias se dood die grondslag vorm vir vergifnis van sondes tot redding (regverdigmaking, heiligmaking en uiteindelike verheerliking), reinig Christus ook ná redding die gelowige van sondes. Die Messias se dood vorm die grondslag vir die gelowige se vergifnis sowel as reiniging. Lees 1 Johannes 1:1-2:2.

3. Die wegneem van sondes wat gepleeg is voor die tyd van die kruis: Verskillende bloedoffers kon nie die sondes van die Ou-Testamentiese gelowiges wegneem nie, maar kon dit slegs tydelik bedek (vgl. Hebreërs 10:4). Om hierdie rede het God se oordeel oor dié sondes “oorgestaan” totdat die dood van die Messias hierdie sondes wat voor die tyd van die kruis gepleeg is, heeltemal en permanent weggeneem het (vgl. Romeine 3:25). Die goeie nuus is dat die Messias nie net vir die sondes van Ou-Testamentiese gelowiges gesterf het nie, maar ook vir die sondes van Nuwe-Testamentiese gelowiges.

4. Die oordeel van die sondenatuur: Jesus se dood het die sondenatuur se mag tot heerskappy ongedaan gemaak. Die mens se sondenatuur is nie dood nie, maar gelowiges is nie meer verplig om die eise daarvan te gehoorsaam soos wat hulle moes doen voordat hulle gered was nie. Gelowiges is bevry van die sondenatuur se oorheersing; ons moet dood wees vir ons sondenatuur, en gehoorsaam wees aan ons nuwe natuur in Christus wat ons gekry het toe ons gered is (vgl. Titus 2:11-14). Dit word deur die apostel Paulus uiteengesit in Romeine 6:1-8:13.

5. Die ondergang van owerhede en magte: Christus se dood het nie net resultate in die menslike sfeer tot stand gebring nie, maar ook in die engelesfeer. Jesus Christus se dood het nie alleenlik die oordeel volbring oor Satan en sy wêreldstelsel nie (Johannes 16:8, 11), maar ook oor sy hele demoniese korps (Kolossense 2:14-15).

6. Die suiwering van die dinge in die hemele: Dit is nie net die dinge op die aarde wat deur die dood van Christus gesuiwer is nie, maar die hele skepping, insluitend die hemele, is gesuiwer (Romeine 8:21-23). Hoekom sou die dinge in die hemele gesuiwer moes word? Aangesien Satan se val in die hemel plaasgevind het, moes selfs die hemel deur die Messias se bloed gereinig word. Hierdie feite word geleer in Hebreërs 9:11-12 en ook 9:21-24.

7. Die grondslag vir vrede: Christus se dood is die grondslag vir vrede tussen God en die mens (Romeine 5:1), tussen Jode en nie-Jode (Efésiërs 2:1-16; Kolossense 3:11) en dit is ook die grondslag vir vrede in die heelal (Kolossense 1:20).

8. Die grondslag vir die nasionale redding van Israel: Die Messias se dood is die grondslag vir die toekomstige nasionale redding van Israel. Eendag sal die hele Israel in Hom glo. Dit word geleer in Ou-Testamentiese Skrifgedeeltes soos Deuteronómium 30:3 en Jeremia 31:31-34 asook in die Nuwe Testament in Romeine 11:25-29.

9. Die grondslag vir die vestiging van die Messiaanse koninkryk: Christus se dood is die grondslag vir die vestiging van die Messiaanse koninkryk (vgl. Openbaring 5:8-14).

10. Die einde van die Wet van Moses: Christus se dood het die Wet van Moses tot ʼn einde gebring deur dit te vervul. In die konteks van ʼn Skrifgedeelte wat handel oor hoe ʼn nie-Jood gered word, naamlik Handelinge 15:10-11, is die slotsom van die Raad van Jerusalem dat nie-Jode nie die Wet van Moses hoef te onderhou om gered te word nie omdat hulle suiwer op grond van genade deur geloof gered word, sonder enige iets wat bykom. As nie-Jode nie die Wet van Moses hoef te onderhou nie, beteken dit dat Christus se dood die Wet tot ʼn einde gebring het, want as die Wet van Moses steeds geldig sou gewees het, sou nie-Jode verplig gewees het om dit te onderhou. Romeine 10:4 leer dat “Christus … die einde van die wet [is] tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (vgl. Romeine 3:21-22; 4:13-16). Dit word ook geleer in Galásiërs 3:19 wat sê dat die Wet van Moses bygevoeg is vanweë oortredinge “totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom”. Noudat Christus gekom het, het sy dood die tydelike en voorwaardelike Mosaïese verbond opgehef en die onvoorwaardelike en permanente Nuwe Verbond ingebring wat die grondslag vir die priesterorde van Melgisédek is (Hebreërs 7:11-12, 18). Hebreërs 7:19 leer dat daar deur die Wet van Moses geen regverdiging of volkomenheid is nie omdat hierdie Wet niks volkome gemaak het nie. Gelowiges van vandag leef nie onder die Mosaïese Verbond soos dit in die Wet van Moses uitgebrei is nie, maar gelowiges leef onder die Nuwe Verbond soos dit in die Wet van Christus bepaal is – die onderwerp van die volgende artikel in hierdie reeks.

——————————-

Hierdie artikel is ʼn gedeeltelike opsomming van ʼn artikel deur dr. Arnold Fruchtenbaum oor die onderwerp.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']