Die skepping van Adam en Eva

Wat volg op Bibliologie, Primêre Teologie, ʼn studie van God die Vader, Christus, die Heilige Gees en Engelogie? Antropologie is die lering oor mense, wat begin met God se skepping van Adam en Eva. Dit neem jou terug na die eerste hoofstukke van Génesis.

Ooreenkomstig die Wet van Herhaling, is Génesis 2:4-25 ʼn spesifieke afdeling van die Skrif wat terugverwys na Génesis 1:1-2:3. In Génesis 2:4-25 word meer inligting omtrent Génesis 1:1-2:3 verskaf. Adam is geskape op die 6de dag (die Hebreeuse woord vir dag is ‘yom’). Wanneer die Hebreeuse woord ‘yom’ (dag) gebruik word, kan dit verwys na ʼn tydsperiode van meer as 24 uur. Wanneer ‘yom’ egter saam met ʼn getal gebruik word, soos bv. die sesde ‘yom’ (dag), dan moet dit verwys na ʼn tydsperiode van 24 uur. Mense is op die 6de dag geskape.

Génesis 2:4 is die eerste van baie geskiedenisse of stambome (Hebreeus: ‘toldots’) in Génesis (sien ook 5:1; 10:1, ens.). Ná die Skepping, begin Génesis 2:4-4:26 verduidelik wat gebeur het met betrekking tot die hemele en die aarde wat God geskape het. Hierdie gedeelte is nie net omvattend van Adam en Eva en hul afstammelinge nie, maar stel ook die Tuin in Eden bekend (Génesis 2:5-25).

Génesis 2:7a sê dat God vir Adam geformeer of gevorm het (Hebreeus: ‘yatzar’) uit die stof van die aarde (Hebreeus: ‘adamah’). Dit is die stoflike deel van die mens wat God geskape het. In Hebreeus is daar ʼn woordspeling tussen die naam van die eerste mens, Adam, en die stof van die aarde (adamah) wat God gebruik het om Adam te formeer. Ons nederige staat is dat ons maar net stof is (vgl. Génesis 18:27; Job 4:19; 10:8-9).

Die asem van die lewe

God het die mens nie net met ʼn stoflike deel geskape nie, maar Hy het ook “in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het die mens dan ʼn lewende siel [of gees] geword” (Génesis 2:7b). Die Hebreeuse weergawe vir ‘het asem ingeblaas’ is ‘neshamah’ en dit is hierdie asem van God wat die lewe in die mens voortgebring het. Job 34:14-15 sê dat, as God sy Gees, sy ‘ruach’ of sy asem (‘neshamah’) sou terugtrek, “dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer”. Die onstoflike (geestelike) deel van dit wat God in die mens geskape het, sal vir ewig aanhou lewe.

Om sake ʼn bietjie vooruit te loop: in die lig van die gegewens van die sondeval se gevolge, en tensy Christus eerste kom om ons weg te ruk, sal ons almal se liggame sterf (en is besig om te sterf), maar ons onstoflike deel kan nie sterf nie. Die saak van belang is: Waar gaan jy die ewigheid deurbring: by God of in die poel van vuur? As ons in Christus sterf, sal ons ʼn opstandingsliggaam kry wat onverganklik is, nie soos die liggaam wat ons tans het wat sterwend is as gevolg van die sondeval nie.

‘n Tuin in Eden

Adam is wes van Eden geskape, maar toe het God ʼn tuin in Eden, in die Ooste, aangeplant en Adam daar gestel (Génesis 2:8-9). Om presies te wees, was dit nie die Tuin ‘van’ Eden nie, maar ʼn tuin met water ‘in’ Eden. Hierdie plek, spesifiek “in die Ooste”, beteken dat dit Mesopotámië moet wees (die land tussen die riviere).

Een enkele rivier het in die tuin ingegaan en vandaar af het dit in vier verdeel (Génesis 2:10-14). Die eerste van dié vier riviere is die Pison (Génesis 2:11-12), wat loop om die hele land Háwila (vgl. Génesis 25:18), waarvan gesê word dat dit Sentraal-Arabië is. ʼn Tweede rivier is die Gihon (Génesis 2:13), waarvan gesê word dat dit geleë is oos van Mesopotámië, oos van die Tigrisrivier. Die derde rivier is die Hiddékel, wat vandag bekend staan as die Tigrisrivier (wat in Noord-Irak ingaan), en die vierde is die Eufraatrivier (hedendaagse Suid-Irak). Adam is dus gestel in ʼn tuin in Eden, ʼn spesifieke plek op die aarde, waar daar volop water was.

God het Adam in hierdie tuin in Eden gestel (die woord vir ‘stel’ in Hebreeus beteken letterlik: “om te rus”). Adam moes die tuin bewerk (onderhou, dien) en bewaak (groot sorg daaroor uitoefen tot op die punt van waghouding). Neem kennis dat Adam in die tuin moes werk. Voor die sondeval, egter, was arbeid nie moeitevol nie en die grond het maklik vrug opgelewer. Adam kon eet van al die bome in die tuin, uitgesonderd die boom van die kennis van goed en kwaad (Génesis 2:16-17a).

Vrye keuse

Toe God Adam en Eva geskape het, is hulle geskape met die mag van vrye keuse. Dit beteken dat hulle keuses kon uitoefen wat strydig is met hul geskape aard. As hul keuse ooreenkomstig God se wil heilig was, sou hulle in hul heiligheid bevestig gewees het, en dus nie meer kon sondig nie. As hulle egter sou kies om aan God ongehoorsaam te wees, sou hulle geestelik sterf, wat beteken dat hulle hul gemeenskap met God sou verloor, en uiteindelik sou hulle ook liggaamlik sterf (Génesis 2:17b). Volgende keer sal ons aandag gee aan die sondeval.

———————————

Dié artikel is ʼn gedeeltelike opsomming van ʼn artikel deur dr. Arnold Fruchtenbaum oor hierdie onderwerp. Die verslag van hoe God vir Eva geskape het, word gevind in Génesis 2:18-25 en word in besonderhede deur dr. Fruchtenbaum (2005:12-16) bespreek.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']