Die sondeval

Wat was Adam en Eva se oorspronklike toestand toe God hulle geskape het? Wat is wyse waarop versoeking in drie fases verloop? Wat is die gevolge van die sondeval?

Toe God vir Adam en Eva geskape het, was hulle in ʼn toestand van volwassenheid. Alles wat die menslike samestelling betref, het gespreek van volkome harmonie en ondergeskiktheid. Adam en Eva het kennis, geregtigheid en heiligheid gehad (vgl. Efésiërs 4:24; Kolossense 3:10) en was onskuldig met betrekking tot enige misdryf. Mense is na (volgens) die beeld van God geskape. Sommige van God se eienskappe is ook waar van die mens: daar is ʼn persoonlike gelykenis, ʼn geestelike gelykenis, ʼn morele gelykenis, ʼn sosiale gelykenis en ʼn gesagdraende gelykenis. Voor die sondeval het Adam en Eva ononderbroke gemeenskap met God gehad (Génesis 3:8). Die mens het ook van God die gesag ontvang om oor die aarde te heers (Génesis 1:26; Psalm 8:5-8; Hebreërs 2:5-8).

ʼn Toestand van onbevestigde heiligheid

Adam en Eva is egter ook geskape in ʼn toestand van onbevestigde heiligheid, wat beteken dat, hoewel hulle heilig geskape is, hulle die mag van vrye keuse gehad het en hulle dus kon kies om aan God ongehoorsaam te wees en te sondig. Daar was natuurlik geen rede om dit te doen nie, want hulle was gestel in ʼn tuin in Eden waar alles volop voorsien is. Hulle taak was om die tuin te bewerk en te bewaak en God te gehoorsaam. Byvoorbeeld, in hierdie aanvanklike omgewing kon daar geen hebsug wees nie (want Adam het die gesag gekry om oor die aarde te heers) en geen immoraliteit nie (want Adam het die enigste vrou op aarde as sy vrou gehad).

ʼn Tydelike toets

Die toets wat aan Adam en Eva gegee is, was om nie te eet van die boom van die kennis van goed en kwaad nie. Hierdie toets sou tydelik wees, want as Adam en Eva die toets sou slaag, sou hulle in hul heiligheid bevestig gewees het. Dit beteken dat hulle, as hulle die toets sou slaag, nie meer die vermoë sou gehad het om sonde te kies nie. Die toets was in werklikheid of hulle God en sy Woord gehoorsaam sou wees – of nie.

Die verloop van die versoeking

Die versoeking het in drie fases verloop. Eers, ʼn beroep op onskuldige behoeftes (Génesis 3:1), dan die inplanting van twyfel oor wat God gesê het (Génesis 3:4), daarna ʼn definitiewe ontkenning van God se Woord (Génesis 3:5). Dit is ʼn tipiese verloop waarmee alle mense te kampe het wanneer hulle voor versoeking te staan kom. Die aard van versoeking word in 1 Johannes 2:14-16 beskryf as die begeerte van die vlees (vgl. Génesis 3:6a – “sien dat die boom goed was om van te eet”), die begeerte van die oë (vgl. Génesis 3:6b – “dat hy ʼn lus was vir die oë”), en die grootsheid van die lewe (vgl. Génesis 3:6c – “ʼn boom wat ʼn mens kan begeer om verstand te verkry”).

Die sondeval is ʼn kritieke gedeelte van die Bybelse verslag (vgl. Job 31:33; Romeine 5:12-21; 1 Korinthiërs 15:21-22; 1 Timótheüs 2:13-15). So baie van wat in die Bybel gebeur, is gebaseer op die feit van die sondeval. Jesus Christus se bediening maak slegs sin in die lig van die mens se sondeval.

Die gevolge van die sondeval

Die onmiddellike gevolge van die sondeval was skuld en skaamte (Génesis 3:7), wegkruip vir God in plaas van gemeenskap met Hom (Génesis 3:8), oordeel (oor die slang, oor Satan, ens.), gevolg deur uitsetting uit die tuin in Eden. Dit het ook die bedeling van onskuld beëindig.

Bykomend tot bogenoemde, het die uitvloeisels van die sondeval ses verdere gevolge gehad. Een, mense het steeds die beeld van God, maar die beeld van God in die mens is deur die sondeval geskend.

Twee, die mens se verhouding ten opsigte van sy omgewing is op twee maniere verander: in die dierewêreld het ʼn lyn van diere vleisetend geword terwyl alle diere voor die sondeval ʼn vegetariese dieet gehad het. God het ook die stoflike wêreld en die natuur vervloek. Dit is hoekom arbeid vandag so moeisaam en moeilik is (vgl. Romeine 8:18-22).

Drie, as gevolg van die sondeval is mense nou onderhewig aan liggaamlike siektes, swakheid, ongesteldhede en, uiteindelik, liggaamlike dood.

ʼn Vierde gevolg van die sondeval is dat die mens nie meer in ʼn wesenlike, lewende, geestelike verhouding of gemeenskap met God verkeer nie, maar geestelik dood is. Fruchtenbaum (2005:12) beskryf twee aspekte van geestelike dood soos volg:

  • Algehele verdorwenheid beteken dat die sonde elke deel van die mens se wese aantas, dat die mens ʼn slaaf is van die sonde en dood is in sy oortredinge en sonde (vgl. Johannes 5:42; Romeine 7:23; Efésiërs 2:1). Dit beteken nie dat die mens deel het aan elke sonde nie, en dit beteken ook nie dat die mens niks goeds kan doen nie. Selfs al is die mens nie so sleg soos wat hy kan wees nie (hy kan inderwaarheid selfs slegter wees), is hy tot elke sonde in staat.
  • Algehele onvermoë beteken dat die sondaar nie deur een enkele daad of wilsbesluit, sy karakter en lewe in volmaakte ooreenstemming met God se wet kan bring nie. Mense kan nie hul fundamentele voorkeur vir sonde verander ten gunste van die liefde vir God nie.

ʼn Vyfde gevolg van die sondeval is die mens se skuld en die sesde gevolg is die effek van die sondeval op die mens se verhouding tot die opgelegde straf, die uiteinde van die skuld. Die straf vir sonde is die dood (Romeine 6:23). Bybels gesproke, beteken die dood skeiding. Die straf behels liggaamlike dood, geestelike dood en ewige of die tweede dood. Ons liggame wat agteruitgaan en uiteindelik sterf, is as gevolg van die sondeval. Soos hierbo beskryf, beteken geestelike dood om nie ʼn verhouding met God te hê nie (vgl. Johannes 17:3).

Versoening is moontlik

God het egter vir ons ʼn manier voorsien om met Hom versoen te word. As iemand die prys vir ons sondes betaal, kan ons met God versoen word. Dit is wat Jesus Christus kom doen het. Hy het aan die kruis die prys vir al ons sondes betaal (vgl. 1 Johannes 2:2). As ons ons geloof en vertroue stel in Jesus Christus – Hy wat gesterf het, begrawe is en opgestaan het (vgl. 1 Korinthiërs 15:1-4) – kan ons met God versoen word. Jesus is die weg, die waarheid en die lewe – niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie (Johannes 14:6). As jy nie hierdie geskenk van die ewige lewe van God ontvang nie (Romeine 6:23), sal jy vir ewig van God geskei wees; dit is die tweede dood (vgl. Openbaring 20:14-15).

Het jy al jou geloof en vertroue in Jesus Christus gestel?

———————————

Dié artikel is ʼn gedeeltelike opsomming van ʼn artikel deur dr. Arnold Fruchtenbaum oor hierdie onderwerp.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']