Die Staatgod

As ek die “regte wêreld” wil verstaan, raai ʼn vriend my vyf jaar gelede aan, moet ek minder op besigheidsnuus fokus en eerder wêreldwye politieke gebeure bestudeer1. Teologie is nog altyd my belangstellingsveld: nie net wil ek graag sien hoe algemene en spesiale openbaring bymekaar uitkom nie, maar ek staan ook verwonderd hoe die einde reeds van die begin af verklaar is. Ek neem toe my vriend se voorstel aan en kort voor lank het hierdie nuutgevonde wêreld van die politiek my geïnteresseer. Tot my verbasing is die konsepte wat ek raakgelees het eintlik baie bekend.2

Ek het ʼn ongekarteerde wêreld verwag, maar pleks daarvan was ek weer in die land van déjà vu, want die jargon en woordeskat in beleide, wette en wetshandhawing, in grondwette, handveste van regte en die regsproses vertoon ooreenkomste met Genesis, die Evangelie volgens Matteus en Openbaring. Agter beskrywings van die regsfilosofie, nasionale soewereiniteit en krisisbestuur kan die legkaartstukke van ʼn groot meta-verhaal van die menslike geskiedenis ontdek word, wat verkeerd gegaan het en hoe alles teen die einde reggestel sal word. Teoloë verwys hierna as die lering oor die koninkryk, die sondeval, verlossingsleer (soteriologie) en van die einde van die wêreld (eskatologie). Maar hier was die leringe weer, net effens verbloem, want die verborgenheid is reeds aan die werk: kronieke oor nasies se kunsmatige grense, die verleidelike versoekings van populisme, bevryding deur groter regionalisme en hoe die koms van ʼn wêreldwye Staatgod aan die einde van die bedeling veiligheid en vrede sal bring. Veral Westerse demokrasieë kan verwag dat hul gebiede opnuut gekarteer sal word, want ketterse afwykings van die nuwe ortodoksie, nie die een ware geloof nie, sal nie geduld word nie.

Aanvanklik kon ek dit skaars raaksien, maar mettertyd is leerstellige boustene opgemerk, selfs al was dit nog nie gesistematiseer nie. In hierdie laaste dae is ek heeltemal verbaas hoe die teologie van die Staat as God byna orals reeds ingewerk en ingesuur is. Al is die konsep van gesag soms moeilik om vas te pen, verstaan ons volgens die nuwe godheid deur die geloof die bewyse van dinge wat toenemend gesien kan word. En wat gesien kan word is hoe selfs teëspoed hierdie geloof versterk, want die Staat as God is nóg sterker ná haar beproewings deur Brexit, populisme en ander tydelike terugslae. Agter die nuwe wette en politiek van ons tyd is daar ʼn grootse regsfilosofie, selfs sistematiese teologie, wat vergelykbaar in omvang en diepte is met die filosofie van Dooyeweerd en Van Til, of met die teologie van Kuyper en Chafer — al wat nodig is, is om dit in ʼn nuwe Summa te sistematiseer.

Lering oor God

Die hoogtepunt van enige teologiese stelsel is natuurlik die leerstelling oor God — en in die nuwe teologie beset die Staat as God hierdie hemelse piek. Die Staatgod wil nie net die heelal regeer nie, maar wil ook sy wil direk op die aarde afdwing, sonder om enige tussenganger of gedelegeerde gesag te duld. Verskillende gelowe het verskillende sieninge oor die goddelike eienskappe; Christene glo God alleen is almagtig, God alleen is alwetend en God alleen is alomteenwoordig. Alhoewel die mensdom dit tans nie kan sien nie, word daar gesê dat die Staat as God hierdie goddelike eienskappe besit, dat sy koninkryk sal kom en dat alles op die vasgestelde tyd geopenbaar sal word. Terwyl ek luister na die politici wat die koninkryk van die Staat as God uitlê, hoor ek konsepte wat soortgelyk is aan dié van Gerealiseerde eskatologie, Dominioniste, Rekonstruktioniste en van die “Alreeds-maar-nog-nie” of “Koninkryk-Nou” teoloë. Blykbaar het die Staat as God “alreeds” die goddelike eienskappe, maar alles is “nog nie” ten volle vir die wêreld geopenbaar nie; wat die koninkryk betref, ook dít is “alreeds” teenwoordig (“die Staat as God”), maar manifesteer “nog nie” met onweerstaanbare krag nie (die “Staatgod”).3 In die ou dae is indiwidue, gesinne, plaaslike gemeentes en burgerlike owerhede elk met gesag in bepaalde sfere beklee, maar nou sukkel algar om selfs net die gesag in eie sfeer te beskerm. Soos wat die nuwe weg ditself aan die wêreld opdring, bou die Staat as God nie net haar hoofstad nie, maar laat ook die koninkryk deurbreek; die nasies wat verstrooid oor die aarde is, word weer op die hoogtes byeengebring.

Almagtigheid

In die “Alreeds-maar-nog-nie” koninkryk eis die Staat as God vir ditself die gesag op om iets na iets anders te verander. Terwyl dit alreeds almagtig probeer wees, kies die Staat as God watter onderdane of entiteite (en watter nie) geheilig moet word om sekere regte te mag hê. Dit wil die werklikheid herdefinieer in ooreenstemming met die Staat as God se aansprake van wat waarheid is. Daar is, indien nie alreeds de jure nie dan binnekort de facto, geen wet wat die Staat as God nie bereid is om na sy eie beeld in te palm nie, en geen regte of pligte wat dit nie kan verleen, wysig of ontken nie.

In die ou bedeling het indiwidue onvervreembare regte op lewe, vryheid en die strewe na geluk besit. Maar in die nuwe bedeling, omdat die Staat as God hierdie regte gee, kan die Staat as God dit ook wegneem. Dit word algemeen aanvaar — en dit is fundamenteel en heel toepaslik — dat die lewe van die vlees in die bloed is en dat daar sonder bloedvergieting geen vergifnis plaasvind nie. Die nuwe geloof sê egter dat sonde altyd en orals sosiale sonde is, die sonde van die kollektief, nooit die sonde van ʼn indiwidu nie. Die Staat as God het die gevolge van die sondeval herdefinieer en alle mense is nou basies goeie en ongevalle wesens. Gevolglik kwalifiseer elke indiwidu nou om ʼn klein verlossertjie te wees deur sy of haar reg op lewe te verloor deur met sondelose bloed te betaal vir die sosiale sonde van die wêreld, die sonde van een of ander kollektiewe groep. Die Staat as God het vir ʼn oomblik gehuiwer, maar toe met mag en mening die nuwe wet uitgevaardig: in ʼn skokkende vertoning van “omgekeerde transubstansiasie” vat die Staat as God organe van sommige mense en gee dit aan ander. Soos ʼn absolute despoot het die Staat as God geen probleem om menslike organe te oes of om baba-dele op te tjop en af te verkoop nie — om nie van slawe en die siele van mense te praat nie. As liggame en liggaamsdele van indiwidue wettiglik geoes mag word, watter ander “redelike godsdiens” kan die Staat as God nie óók van sy onderdane opeis nie?

In sy Second Treatise on Government voer John Locke aan dat die reg op lewe noodwendig die reg op persoonlike eiendom insluit. Dit is kwansuis nie meer so nie, want almal (behalwe natuurlik die uitverkose elite) is wetlik verplig om hul indiwiduele regte op huise en broers en susters en vader en moeder en kinders en grond te laat vaar, alles ter wille van die koninkryk van die Staat as God. Verbeel jou, so gaan Lennon se lied, daar is geen hemel en ook geen hel benede ons nie, en ook geen nasies nie, wel dan kan ʼn man die hele wêreld verkry deur sy vryheid, geluk en ja, selfs sy siel, as losprys te gee. Wat sou die reaksie wees as die Staat as God swaar belasting begin hef? Wel, die belasting kon hoër gewees het. Wat as die belasting tot 100% verhoog word, wat sou die reaksie op onteiening sonder vergoeding wees? Nou praat jy broer, nou praat jy. Hoe gaan dit met minderhede wat soos pelgrims deur die koninkryk beweeg? Xenofobie is amptelik verban — en is ál die opbrengste van die land nie vir álmal beskikbaar nie? Wat van beheer oor sake-ondernemings? Die arm van die Staat as God is nie te kort om mynbouregte uit die grond op te diep of om gesondheidsplanne uit die hemel te pluk nie. Wat erfregte betref, dit is herroep, maar slegs uitverkose dissipels van die Staat as God deel in die buit.

Natuurlik word die nuwe ortodoksie van die Staat as God nie sonder enige teenkanting in die kerkbanke verwelkom nie. Sommige ongelowiges toon nog nie die nodige eerbied en ontsag vir die opkomende broederskap van die mensdom nie. Lennon sing dit is baie maklik om dit te doen, maar hierdie ongelowiges kan hulself dit steeds nie verbeel dat die wêreld as één kan leef nie. Die Staat as God laat geen ernstige krisis sommer net verlore gaan nie. Hel ja, dit sal al jou AR-15’s en jou AK47 gewere vat. As jy geen regte op jou eie liggaam of jou eie intellektuele eiendom meer oor het nie, wat dan van jou vrou en kinders? Weereens, die kwessie is nie die kwessie nie, dit gaan altyd oor die rewolusie, geen ernstige krisis sal dus vermors word nie. Daar speel die liedjie al weer: verbeel jou geen besittings — u kan sê Lennon was ʼn dromer — dan kan die idee dat kinders aan hul ouers behoort ook “herinterpreteer” en met toepaslike wette afgedwing word. In hierdie sosiale utopie behoort kinders aan holistiese gemeenskappe, maar bowenal aan die Staat as God. Die nuwe ortodoksie bevat sommige leringe wat moeilik is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai tot hul eie verderf, maar die koninkryk van die Staat as God is alreeds teenwoordig, maar nog nie met onweerstaanbare mag nie, en dit moet met beproewinge en verdrukkings binnegaan word.

Alwetenheid

Die Meester Sentrale Beplanner weet al baie, maar nog nie alles nie. Wees gereed en waak, want die Staatgod sal uit die afgrond opkom en op die wolke van data afkom. Dwarsdeur die koninkryk kyk kameras na jou bewegings en rekenaars bewaar jou digitale voetstappe — en dít alles terwyl jy lustig tweets twiet, foto’s kliek en e-posse stuur. In die verlede het die profete gespreek soos wat hulle gedrywe is om te doen; vandag praat Google en Facebook soos wat die algoritme verfyn word om te doen. Gereed daarvoor of nie, jy en jou geliefdes word dopgehou, en al julle private data word in die wolke van data opgelaai. Die Staat as God weet reeds baie van jou, maar jy ken net ten dele; as die Staatgod kom, merk dit met ʼn merk, dan sal die aardbewoners ken soos hulle ten volle geken sal word.

Dalk voel dit of jou privaatheid bietjie bedreig word en nie die regte soort vrees genereer nie, maar moenie vrees nie, want her-opleidingskampe is ʼn kragtige bondgenoot. Onderdane kan verander word deur die vernuwing van hulle gemoed: elke publieke skool en elke publieke universiteit bied heropleidingsgeleenthede — verniet het julle ontvang en verniet moet julle gee, die fooie moet val. Die ou dogma kan sekerlik nie die gety van ʼn vyfdaagse program van indoktrinasie oor die Staat as God stuit nie. Uit hul gedagtes verdryf selfs vyfjarige kinders indiwidualisme, lojaliteit teenoor die gesin, patriotisme en sulke ou leersakke. Die vrees vir die Staat as God, het iemand op ʼn keer gesê, is die beginsel van kennis en van wysheid.

Maar sulke wysheid, dit moet oor en oor gesê word, is toenemend wêrelds en globaal. Die internasionale kind van die toekoms belowe nie getrouheid aan ʼn spesifieke land nie, maar aan die planeet aarde; dit leer nie die eie kultuur nie, maar die multi-kultuur van die globale Staat as God; dit swem nie in die plaaslike rivier nie, maar spat en spartel in die wisselvallige klimaat van Moeder Aarde. In die koninkryk van die Staat as God is Amerikaanse uitsonderlikheid en uitnemendheid net so relatief soos Britse, Suid-Afrikaanse of Griekse uitsonderlikheid; jy mag nie sê dat een kultuur beter as ʼn ander is nie, ongeag die mite van religieuse neutraliteit. Verban trou aan die vaders, verbied uitdrukkings van nasionale kulture, teken af ​​op die Gaia-hipotese en meld aan vir die Parys-Verdrag. Die verborgenheid is alreeds aan die werk en wie kan dit uit die weg ruim, wie kan die wêreldwye impak teëhou?

Sal die Staat as God deur ʼn plaaslike grondwet hiér of deur ʼn nasionale handves van regte dáár teëgehou kan word? Nie as Nimrod jou tipe is nie, want die eerste koning van Babilon het sy kinders bymekaargemaak net soos wat ʼn hen haar kuikens versamel, pleks daarvan om die aarde te vul soos wat die verbond met Noag gesê het. In die ou tyd het die Opperheer en die onderdaan ʼn verbond gesluit, dit met ʼn eed bekragtig en elke woord wat hulle gesê het, bedoel. Vandag kan die betekenis van enige grondwet of handves van regte skynbaar nie meer in die teks gevind word nie, want die Staat as God vind dit ietwat té beperkend. Betekenis kan nou bokant die teks wees, agter dit of beter nog, betekenis kan nou vóór die teks gevind word, daar waar al hoe meer regters skielik begin spekuleer. In hierdie laaste dae het die laaste opperheer van die Vrystaat gesê — ongetwyfeld ex cathedra — dat die “grondwet nooit vas kan wees nie; dit moet ʼn buigsame instrument wees om die behoeftes en vooruitgang van die mense te dien.” Nie as Farao jou tipe is nie, want hy sal nie toelaat dat die mense vooruitgaan of in hul behoeftes voorsien nie, nie eers vir ʼn fees of ʼn offer nie. Fyn hermeneutiese nuanses sal die Staat as God nie teëhou nie, want selfs die mees gesaghebbende regstekste kan herinterpreteer, vergeestelik of getransformeer word in die verborge weë van die nuwe wêreldorde.

Alomteenwoordigheid

Voorheen het konstitusionaliste gedink dat die struktuur van mag versprei moet word, dat wigte en teenwigte op dié in wetgewende, geregtelike en uitvoerende takke van die regering geplaas moet word — én op die regering self. Omdat die gevolge van die sondeval geïgnoreer word en die mens nou kwansuis die goedheid vanself is, kom die Staat as God nou by die rivier aan, en huiwer, maar net vir ʼn kort rukkie. Toe Julius Caesar die Rubiconrivier oorkruis het, het dit die Romeinse burgeroorlog afgeskop, Caesar het ʼn lewenslange diktator geword en dit was die begin van Romeinse imperialisme. As niemand dit uit die weg ruim nie, of niks dit teëhou nie, dan gaan die Staatgod sy “Ek wil”-agenda begin, en die een regering sal ophou bestaan en ʼn ander sal begin. Hoofregter Antonin Scalia het gesê: “Sodra mag in een persoon of in een deel [van die regering] gesentreer word, is ʼn handves van regte bloot woorde op papier.”

Die Staat as God wil as alomteenwoordig erken word. Die wette en bepalings daarvan moet in jou huis, aan jou kinders, in jou huwelik en in jou plaaslike gemeente toegepas word, ja, wees gehoorsaam in elke hoekie van elke burgerlike spasie. Ouers mag hul kinders nie meer pak gee nie, ongeag wat die ou spreuke sê. Ten spyte van die patroon en ontwerp vir die huwelik, reël die Staat as God ʼn nuwe soort huwelik vir elke letter van die alfabet. Nasionale grense moet mee weggedoen word, maar so ook nasionale tale, kulture, regerings, ja selfs nasionale geldeenhede. Die apostel vir die wêreld wat uit die aarde opstaan, en wat groot tekens doen, wil hê dat almal moet sê dat ons in die Staatgod leef, beweeg en is. Jy kan nouliks van hierdie wette wegkom of daarvoor wegkruip. As ʼn gelykenis van Matteus herinterpreteer word, sekerlik sal die Staat as God die nege-en-negentig inspan om die een rebel te vervolg, van jou plaaslike gemeente na jou slaapkamer, ja, tot in elke hoekie van elke burgerlike spasie. In die koninkryk van die Staat as God word die plaaslike en nasionale reeds in die transnasionale verander, en selfs al is die transnasionale nog nie in die globale verander nie, sal die Staatgod ook dít binnekort bewerkstellig.

Slot

ʼn Paar eskatologiese drade is egter nog los, twee verborgenhede moet nog vervul word. In die “alreeds”-fase van die koninkryk, sodra alle onderskeide tussen klas en status uitgewis is, moet die Staat as God ʼn offer ontvang. Almal wag, en wag nog steeds, dat Marx se Lenin, Stalin of enige ander despoot hulself vrywillig van die toneel sal verwyder, ʼn martelaar vir die koninkryk. Maar eers in die eindtyd word die laaste koning van Babilon dodelik gewond, en tog sal sy dodelike wond genees word; hy behoort by die sewe maar is ook die agtste; hy is nommer elf maar ook die agtste. Mag u nie onder diegene wees wat gaan wonder, “Wie is aan die Staatgod gelyk?” of “Wie kan teen die gesag van hierdie rebel en sy koninkryk veg?” Wanneer die “maar-nog-nie”-fase van die koninkryk uiteindelik aanbreek, sal die Staat as God vlees word: Die Staatgod. Die verborgenheid van die ongeregtigheid is reeds aan die werk en selfs al kom iemand uit die afgrond op, half-mens-half-Satan, sy kop en sy gesag sal vermorsel word. Daar is net een ware Soewerein en dit is onmoontlik om sy Gesag vas te pen.

Die skrywer van hierdie artikel, Jacob J. Scholtz, is ʼn beleggingskundige (GR[SA]; CFA) en ʼn navorsingsgenoot van Universiteit Stellenbosch, Teologie Fakulteit (Dissipline Groep: Ou en Nuwe Testament). Jaco is die skrywer van God se raadsplan in Christus.

 

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.

  1. Andrew M. Woods, 2014, ‘World Government on the Horizon’. Woods se voorlegging is mildelik gebruik.
  2. Sien ook Cox, H., 1999, ‘The Market as God’, The Atlantic. Ek het die struktuur van Cox se argument gebruik.
  3. In die “alreeds”-fase van die koninkryk is die verwysing “Staat as God” en in die ten volle verwesenlikte fase van die koninkryk is die verwysing “Staatgod”.