Die ster van die Koning van die Jode

Die reis na Jerusalem is lank, maar die moeite werd. Ons reis eers noord-wes, al met die Eufraat-rivier op tot in die suide van Assirië. Dan draai ons suid-wes, af na Damaskus, op die koningsweg, deur die Dekapolis, oor die Jabbok- en Jordaan-riviere en dan op na Jerusalem [ref]Die koningsweg neem jou deur die hedendaagse Jordanië, van Ammon in die noorde, deur Moab en dan al die pad suid tot in Edom, deur Petra (vgl. Numeri 20:17) tot by Akaba, by die Golf van Akaba.[/ref]. Met ons gevolg en kamele beweeg ons maar stadig, 15 tot 20 kilometer per dag.

Eintlik het ons familie se reis ses eeue gelede begin toe my voorvader deur ʼn Jood gered is. My groot-groot-groot oupa-grootjie, Abdi-ili, was ʼn wyse man van Nebukadnésar, die koning van Babel [ref] Vergelyk Daniël 2:15. ‘Abdi-ili’ is ʼn Babiloniese naam wat ‘dienskneg van die Here’ beteken.[/ref]. Een nag kry die koning ʼn droom wat sy gees onrustig maak. Die volgende oggend roep hy al sy wyse manne (eintlik astroloë en sterrewiggelaars) om voor hom te verskyn, en hy sê vir die Chaldeërs: “Die saak staan by my vas: as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word. Maar as julle die droom en sy uitlegging te kenne gee, sal julle geskenke en gawes en groot eer van my ontvang; gee my daarom die droom en sy uitlegging te kenne”[ref]Daniël 2:5-6.[/ref].

Tesame met die ander wyse manne het Abdi-ili vir Nebukadnésar gesê: “Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chaldeër verlang nie. Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie”.[ref]Daniël 2:10-11.[/ref] Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring.[ref] Daniël 2:12.[/ref]

ʼn Jood met die naam Daniël, ʼn kind van Israel uit hulle koninklike geslag Juda, vra vir Áriog, die owerste van die koninklike lyfwag, om die koning oor die droom en die uitlegging daarvan te sien. Na die afspraak gemaak is, gaan Daniël en sy drie vriende, Hanánja, Mísael en Asárja, en bid tot die God van die hemel om vir hulle die geheim van die droom en die uitlegging bekend te maak. In ʼn naggesig gee die God van die hemel vir Daniël die geheim en kort daarna maak hy nie net Nebukadnésar se droom bekend nie, maar ook die uitlegging daarvan. So het Daniël my voorvader Abdi-ili se lewe gered.[ref] Vgl. Daniël 1:3; 2:14-23.[/ref]

Na ʼn lang geskop teen die prikkels het Daniël se geloofslewe uiteindelik my groot-groot-groot oupa-grootjie oortuig dat die aanbidding van sterre, mane, planete en konstellasies niks anders as afgodsdiens is nie. Toe aanbid Abdi-ili die God van Israel. Ook sy seun Shukura[ref]Shukura is ʼn Babiloniese naam wat ‘Vertrooster’ beteken.[/ref] het ʼn gelowige geword— en ook dié se kinders, ja sedertdien deur al die geslagte heen, aanbid ons familie die God van Israel, die Allerhoogste. En nou reis ek, Melchior, na Jerusalem saam met ander wyse manne van Mesopotamië.[ref] Daar was beslis meer as een wyse man van die Ooste wat Jesus aanbid het. Dat daar presies drie wyse manne was, is ʼn spekulatiewe raaiskoot, waarskynlik omdat drie geskenke vir Jesus gegee is (vgl. Matteus 2:11). Carson (1992:85) bespreek verskillende teorieë oor die wyse manne en sê dat in die 6de eeu n.C. drie wyse manne benoem is, naamlik Melchior, Balthasar en Gaspar – maar ook dít is eintlik net spekulasie. Alhoewel ek hierdie name gebruik, dink ek dit is fiktief. Melchior beteken die “stad van die koning”, Balthasar beteken “beskerm die koning” en Gaspar beteken “skatkishouer”.[/ref] Kyk, ons het die ster van die Koning van die Jode sien opkom![ref] Matteus 2:2 kan vertaal word as dat die wyse manne die ster sien opkom het, nie noodwendig “in die Ooste” sien opkom het nie.[/ref]

Balthasar, Gaspar en van die ander was eers skepties om saam te kom. “Hoe weet jy, Melchior,” het Gaspar gevra, “dat hierdie ster enigiets met ʼn Joodse koning te doen het? Selfs al het dit, waarom wil jy hierdie koning gaan aanbid? Geen wyse man van die Ooste het al ooit enige Joodse koning aanbid nie, waarom dan nou?”

“Onthou jy nie die profesie wat die profeet Daniël naby die einde van sy lewe ontvang het nie?” het ek gevra en toe aan hom begin verduidelik: “Sewentig sewetalle is oor Daniël se volk en heilige stad Jerusalem bepaal. Van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot ʼn Gesalfde, ʼn Vors, is in totaal 69 sewetalle, of te wel 483 jaar. Die opdrag om Jerusalem te herbou is lankal deur Artaxerxes toegestaan en die profesie is dat die Gesalfde uitgeroei sal word, sonder iets vir Hom. Tel die jare af en weet, hierdie Gesalfde moet op die toneel verskyn, nou enige dag!”[ref]Daniël 9:24-27; vgl. Nehemia 2:1-8.[/ref]

“Dink jy die Jode verwag hul Gesalfde, hul Messias?” vra Balthasar?

“Sekerlik sal daar ʼn man in Israel wees wat regverdig en vroom is en wat die vertroosting van Israel verwag, iemand op wie die Heilige Gees is. Sekerlik sal daar ʼn vrou in Israel wees wat God met vas en gebede dien, nag en dag. Ons sal nie weet as ons nie ʼn tree in geloof neem nie, as ons nie na Jerusalem toe gaan nie!”[ref]Verwysings na Simeon en die profetes Anna (Lukas 2:25-26; 36-38).[/ref]

“Ek kan die profesie oor die sewentig sewes volg Melchior, en dit met die Gesalfde verbind, maar wat het dit met hierdie ongewone ster uit te make?” vra Gaspar.

“Het jy jou geskiedenis vergeet, my broer? Watter ander profeet kom van Mesopotamië af?” vra ek.[ref] Fruchtenbaum (2005:4) sê “die Ooste” in die Bybel verwys na Mesopotamië en omliggende streke.[/ref]

“Hier in Petor, by die Eufraat?” snap Balthasar skielik. “Jy bedoel die een wie se esel met hom geraas het!”[ref]Numeri 22:5, 28.[/ref]

“Ja, ek verwys na Bileam, die seun van Beor,” antwoord ek. “Vir ʼn waarseêrsloon van Balak, die Moabitiese koning, moes Bileam die Jode vervloek sodat hulle uit die land verdryf kon word. Die Engel van die HERE het egter vir Bileam gesê, ‘net die woord wat Ek jou sê, dit moet jy spreek’. As deel van ʼn reeks profesieë sê Bileam toe: ‘Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie; ʼn ster kom te voorskyn uit Jakob, en ʼn septer kom uit Israel op’. Hierdie ster wat ons sien is die ster van Jakob, die ster van die Gesalfde, die Koning van die Jode!”[ref]Numeri 22:6-7, 35; 24:17. Ons stem saam met kommentators (Barbieri 1980:20-22; Toussaint 1983:47-53; Davies & Allison 2004:19-29) wat die ster van Matteus 2:2, 9-10 met Bileam se profesie verbind.[/ref]

Twee weke later het ons reis begin en nou, later, is ons naby Jerusalem.

“Dit is reg dat ons goud en wierook vir die Koning van die Jode bring,” sê Gaspar, “maar waarom bring ons ook vir hom mirre?”[ref]In die antieke tye was dit die gewoonte om geskenke vir ʼn meerdere saam te bring (Genesis 43:11; 1 Samuel 9:7-8; 1 Konings 10:2). Ou-Testamentiese profete (Psalm 72:10-11; Jesaja 60:5, 11; Haggai 2:7-8) het gesê dat nie-Jode vir die Messias geskenke sal bring. Dit sal in volle vervulling kom ná Christus se tweede koms.[/ref]

“Ek is ook nie seker oor die mirre nie, Gaspar,” antwoord Balthasar, “maar vermoedelik het dit te doen met Daniel se profesie oor die Gesalfde wat uitgeroei gaan word. Al verstaan ek nie alles nie, glo ek die geskenk is gepas.”

Toe ons by die berg Scopus kom en oor die Olyfberg kyk, onderbreek ek die gesprek: “Kyk! Dáár is die stad van die groot Koning!”

In Jerusalem vra ons: “Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.” Tot ons uiterste verbasing kry ons nie dadelik ʼn antwoord nie. Ons vra voetgangers, handelsmanne en ook iemand wat lyk soos ʼn regeringsamptenaar, sonder enige sukses.[ref]Die wyse manne was nie éérs na Herodes toe nie, maar het in Jerusalem hul vrae gevra – sien Matteus 2:2-3.[/ref]

Kort daarna roep iemand vir Balthasar eenkant: “Kom saam met my, jy en die hele gevolg, want koning Herodes roep julle,” sê die man geheimsinnig.

Toe ons by Herodes aankom, vra die koning: “Wanneer het julle die ster se verskyning opgemerk? Hoe lank terug het dit gebeur?”[ref]Vergelyk Matteus 2:7.[/ref]

Balthasar antwoord: “Vandat ons die ster gesien het plus die tyd om vir die reis voor te berei plus ons reistyd van die Ooste af tot nou toe.”

Herodes antwoord, “Ek stuur julle na Bethlehem in Judéa. Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.”[ref]Matteus 2:8.[/ref]

“Hoe ver is Bethlehem in Judéa van hier af?” vra ek.

“Net vyf myl suid,” antwoord Gaspar.

Ons het skaars vertrek, toe word ons stom van verbasing. En toe roep ons almal dit jubelend uit, “Kyk, die ster! Die ster gaan voor ons uit!” Balthasar wonder hardop, “Is die ster van die Koning van die Jode dan nie sy Shekinah-glorie nie?”[ref]Dit is die siening van onder andere Barbieri (1983:22) en Fruchtenbaum (2005:5). Geen gewone ster kan verskyn en dan verdwyn, van noord na suid beweeg, of bo-oor ʼn plek bly staan nie. Tans glo ek ook dat die ster na God se Shekinah-glorie verwys. Sien egter gerus ook die DVD van Rick Larson, “The Star of Bethlehem”, vir ʼn moontlike alternatiewe siening.[/ref]

Van Jerusalem af tot by Bethlehem, ja selfs in die dorp in, lei die ster ons totdat dit kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie is.[ref]Matteus 2:9-10.[/ref] Die reis hierheen was lank maar dit is geen moeite nie. In die huis vind ons die Kindjie by Maria, sy moeder. Ons val neer om Hom hulde te bewys. Gaspar maak ons skatkis oop en ons almal bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.[ref]Matteus 2:11. Dit is onwaarskynlik dat die wyse manne vir Jesus in die krip by die herberg gevind het, baie kort na Jesus se geboorte. Constable (2015:33) som vyf redes op. Eerstens, Matteus 2:11 beskryf Jesus as ʼn Kindjie (Grieks: paidion) en nie as ʼn kleiner babetjie (Grieks: brephos) soos wat Lukas 2:27 beskryf nie. Tweedens, Jesus se familie was in ʼn huis (Matteus 2:11) en nie by ʼn krip van ‘n herberg nie (Lukas 2:7). Derdens, die feit dat Herodes seuntjies twee jaar en jonger laat doodmaak het (Matteus 2:16), suggereer dat Jesus se ouderdom toe binne hierdie wye tydspan was. Vierdens, as die wyse manne se geskenke binne Jesus se eerste 40 dae vir Hom gegee was, kon Josef en Maria byvoorbeeld die goud gebruik het om ʼn duurder offer te bring as ʼn paar tortelduiwe of twee jong duiwe (Lukas 2:24). Vyfdens, toe Josef en Maria teruggekom het van Egipte, lyk dit of hulle na Judéa wou teruggaan (Matteus 2:22), maar op grond van ʼn goddelike waarskuwing is hulle Nasaret toe (Matteus 2:22-23). Vir hierdie redes dink ek nie dat die wyse manne tydens of baie kort na Jesus se geboorte in Bethlehem opgedaag het nie, maar eers ʼn tydjie daarna. Nog ‘n opmerking: Die wyse manne het nie vir Maria aanbid nie. Hulle het ook nie vir die Kindjie deur Maria aanbid nie. Om Maria te aanbid is pure afgodsdiens.[/ref]

Dié nag is ons harte bly, ons gesigte blink en ons drome besig. Omdat ons (veral Balthasar) in ʼn droom ʼn goddelike waarskuwing ontvang om nie na Herodes terug te keer nie, neem ons ʼn ander pad terug na ons land toe.[ref]Matteus 2:12.[/ref] Ons reis eers suid, verby Hebron, die Dooie See, En-Gedi en dan ooswaarts oor die berge tot op die koningsweg. By die rots en die water van Petra rus ons om voor te berei vir die reis deur die woestyn. Ons sien, soos almal voor ons ook gesien het, die onvervalste Diereriem wat sonder woorde die eer van God vertel en die werke van sy hande verkondig. Eintlik het ons mensdom-familie se reis duisende jare gelede begin toe ons begin wag het vir die ster uit Jakob, die ster van die Gesalfde Koning van die Jode.[ref]Jesus Christus is beide God én mens, een Persoon met twee nature, volkome die goddelike natuur en volkome die menslike natuur.[/ref] Nou sien ons nog nie dat alle dinge aan sy septer onderwerp is nie, maar ons sien Hom, naamlik JESUS.

Bronne geraadpleeg:

Barbieri, L.A., 1983, ‘Matthew’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (reds.), The Bible Knowledge Commentary: New Testament, David C Cook, Colorado Springs.

Carson, D.A., 1995, Matthew chapters 1 through 12, Zondervan Publishing House, Grand Rapids (The expositor’s Bible commentary with the New International Version of the Holy Bible).

Constable, T.L., 2015, Notes on Matthew, 2015 edn., from www.soniclight.com.

Davies W.D. & Allison. D.C., 2004, Matthew, a shorter commentary, T&T Clarke, London.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘How did the wise men know? Or is astrology valid?’, Ariel Ministries, Tustin.

Larson, R., 2009, The Star of Bethlehem. Die DVD is beskikbaar by Amazon en by www.bethlehemstar.net Toussaint, S.D., 1980, Behold the King: A study of Matthew, Kregel Publications, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']