Die tien fasette van ons redding (Deel 2)

Ons het reeds vyf van die tien verskillende fasette van ons redding bespreek, naamlik vernuwing, bekering, berou, geloof en belydenis. Onthou dat dit slegs fasette en nie chronologiese stappe in ‘n proses is nie, met ander woorde, al hierdie fasette of aspekte kom voor, maar nie noodwendig in die volgorde wat hier bespreek word nie. In hierdie artikel bespreek ons ʼn verdere vyf fasette van ons redding. Vertroudheid met hierdie tien fasette gee aan ʼn mens ʼn beter begrip van God se Woord en kan meewerk tot groter groei in die genade en kennis van ons Here Jesus Christus en insig oor wat God vir ons gedoen het toe Hy redding vir ons voorsien het.

. . .

Vergifnis

Die sesde faset van ons redding wat ons bespreek, is vergifnis, wat beteken “om nie ʼn mens se sondes in ag te neem nie”. Wanneer God nie die gelowige se sondes in ag neem nie, is hy/sy deur God vergewe. Die gelowige se sondes word weggestuur, laat gaan en geheel en al oorgesien. ʼn Regverdige Regter kan nie ʼn sondaar kwytskeld of vergewe op grond van toegeeflikheid nie; daarom moet óf die sondaar die straf vir sy/haar sondes dra óf ʼn plaasvervanger moet dit namens die sondaar doen. Wat ongelowiges betref, sal hulle self vir hul eie sondes in die poel van vuur betaal (gestraf word); wat gelowiges betref, het hulle hul geloof gestel in Christus as hul Plaasvervanger. Dit lei tot die sewende faset van redding.

Toerekening

ʼn Goeie voorbeeld waar die konsep van toerekening (in die sin van nie-redding) gebruik word, is Filémon 17-18: “As jy [Filémon] my [Paulus] dan vir ʼn metgesel hou, neem hom [Onésimus] aan net soos vir my. En as hy [Onésimus] jou [Filémon] benadeel het of iets skuld, sit dit op mý [Paulus se] rekening.” Toerekening beteken “om aan iemand anders oor te dra of toe te reken” of “om op iemand anders se rekening te sit”. Wanneer iemand geloof in die evangelie van Christus demonstreer, word die geregtigheid van die Here Jesus Christus aan die gelowige toegereken (Romeine 3:21-22; 2 Korinthiërs 5:21; Filippense 3:8-9), dit word op die gelowige se rekening gesit. Dit vind alles plaas op grond van Christus se plaasvervangende offer (Hebreërs 9:14; 10:14).

Aanneming

As ʼn faset van ons redding, beteken aanneming dat die verloste persoon ʼn seun of ʼn dogter van God word met al die voorregte wat ʼn posisie in die familie van God meebring (vgl. Romeine 8:15; Galásiërs 4:5; Efésiërs 1:5). Johannes 1:12 verklaar: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.” God die Vader word, deur aanneming, die Vader van die gelowige, die Kerkbedeling se gelowige word in Christus ingedoop en die Heilige Gees woon in die gelowige.

Daar is baie uitvloeisels van hierdie aanneming. As ʼn kind van God word die gelowige nie slegs ʼn ontvanger van God se versorging en barmhartigheid nie (vgl. Lukas 11:11-13), maar word ook onderwerp aan teregwysing en dissipline (Hebreërs 12:5-11). Die gelowige het nou die reg om met vrymoedigheid na God te gaan en voor die troon te verskyn (Hebreërs 4:14-16). In die gelowige moet daar ʼn toenemende vorming na die beeld van die Seun van God plaasvind. As broeders en susters in Christus (Hebreërs 2:11), word ons ook erfgename en mede-erfgename saam met Christus (Romeine 8:17; Galásiërs 4:7), funksionerend in vryheid binne die sfeer van God se genade (Romeine 8:14-15; Galásiërs 4:6-7).

Sekerheid

ʼn Gelowige kan weet dat hy of sy gered is – en dit word sekerheid (of: versekerdheid) genoem. (Dit is nie heeltemal dieselfde kwessie as ewige sekerheid nie.) Drie kern beginsels moet begryp word. Een, die wese van redding is dat dit ʼn gratis geskenk van God is en nie verdien word nie: daar is niks lofwaardigs wat ʼn mens kan doen om redding te verkry nie; daar is ook niks onlofwaardigs wat ʼn mens kan doen om redding te verloor nie. Twee, redding is ʼn werk van God vir die mens, dit is nie ʼn werk van mense nie. Drie, redding berus wesenlik op die afgehandelde en volmaakte werk van Christus aan die kruis.

As die negende faset van redding, is sekerheid ʼn bevestigende getuienis van die gelowige se ervaringslewe (2 Korinthiërs 13:5). Die Bybel sê ons kan weet dat ons gered is, en ons moet God se beloftes glo (Johannes 1:12; 1 Johannes 5:13). Die bron van sekerheid is dus die Woord van God, die Heilige Gees wat die werk van sekerheid doen (1 Johannes 2:27-29; 4:13), asook werke wat die gelowige moet doen nadat hy/sy gered is (vgl. 1 Johannes 2:3-5).

Die eerste sendbrief van Johannes gee baie aandag aan sekerheid. Soos in meer besonderhede in Fruchtenbaum se artikel verduidelik word, kan die volgende 13 toetse (sommige wat positiewe en sommige wat negatiewe antwoorde vereis) uit 1 Johannes toegepas word sodat ons die sekerheid kan hê dat ons gered is:

  1. Is dit vir jou aangenaam om in gemeenskap met God te verkeer (1 Johannes 1:3-4)?
  2. Is jy sensitief ten opsigte van sonde (1 Johannes 1:5-10)?
  3. Lewe jy in gehoorsaamheid aan God se gebooie (1 Johannes 2:3-5)?
  4. Hoe is jou ingesteldheid teenoor die wêreld (1 Johannes 2:15)?
  5. Het jy Jesus Christus lief en sien jy uit na sy wederkoms (1 Johannes 3:2-5)?
  6. Doen jy sonde, veral as ʼn gewoonte (1 Johannes 3:4)?
  7. Spoor jy mense aan om lief te hê (1 Johannes 3:14)?
  8. Ondervind jy antwoorde op jou gebede (1 Johannes 3:22; 5:15)?
  9. Beleef jy die innerlike getuienis van die Heilige Gees (1 Johannes 3:24; 4:13)?
  10. Kan jy onderskei tussen geestelike waarheid en geestelike dwaling (1 Johannes 4:1-6)?
  11. Glo jy in die fundamentele leerstellings van die Christelike geloof (1 Johannes 4:1)?
  12. Het jy innerlike vrede (1 Johannes 3:19-21)?
  13. Het jy jou medegelowiges lief (1 Johannes 2:7-11; 3:11-18)?

Verheerliking

Die tiende faset van ons redding dui op die toekoms, wanneer gelowiges ʼn staat van volmaakteid sal bereik (Romeine 8:28-30). Wanneer gelowiges verheerlik is, sal ons nie meer kan sondig nie; ons sal nie meer die sondige natuur hê nie (Kolossense 1:22). In ons verheerlikte staat sal ons verlos wees van struikeling en sal ons gereinig wees (Filippense 1:10), onberispelik (1 Korinthiërs 1:8), foutloos (1 Thessalonicence 3:13; 5:23) en vlekloos (Efésiërs 5:25-27). Verder sal gelowiges volmaakte kennis hê (1 Korinthiërs 13:9-12) – maar nooit alwetend wees soos wat God is nie. Wanneer gelowiges verheerlik word, sal hulle nuwe verheerlike liggame ontvang (1 Korinthiërs 15:50-58), deur God regverdig verklaar word (Romeine 8:31-39), en volgens God se beoordeling hul erfdeel in God se koninkryk ontvang (Efésiërs 1:13-14; 1 Petrus 1:3-5).

Hiermee eindig ʼn tweedelige reeks oor die tien fasette van ons redding. In Christus is daar baie om voor dankbaar te wees en baie om na uit te sien!

———————————

As jy belangstel om meer oor hierdie onderwerp van die tien fasette van ons redding te lees, oorweeg gerus om die volledige artikel, Die tien fasette van ons redding deur dr. Fruchtenbaum te lees.

Wil jy weer na die eerste artikel kyk? Gebruik hierdie skakel: Die tien fasette van ons redding (Deel 1).

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']