Die tye van die nasies 1

In Lukas se Olyfberg-predikasie sê Jesus ‘Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is’ (Luk 21:24). Wat is die ‘Tye van die Nasies’? Wanneer en hoe sal hierdie tye vervul word? Hoe is Jerusalem verwant aan die Tye van die Nasies?

Beskrywings van die Tye van die Nasies

Daar is verskillende maniere om die ‘Tye van die Nasies’ te beskryf. Die eerste manier is om Jesus se woorde in Lukas 21:24 noukeurig te gebruik om hierdie tye met Jerusalem te koppel. Gedurende die Tye van die Nasies sal Jerusalem nie permanent onder die beheer van die Jode wees nie; selfs al word Jerusalem deur die Jode regeer tydens die Tye van die Nasies, sal so ʼn reël slegs tydelik wees (vgl. Open 11:1–2). Jerusalem sal slegs onder permanente Joodse beheer kom wanneer Jesus Christus na die aarde toe terugkeer (Walvoord 1968:7; Fruchtenbaum 2004:21).

Die Tye van die Nasies kan ook beskryf word as die tyd wanneer God vier heidense ryke mag gee om oor die aarde te heers, naamlik die Babiloniese, Medo-Persiese, Griekse en Imperiale vorme van heerskappy — welke ryke sal eindig wanneer die Seun van die mens in heerlikheid kom (Dan 2:34–35, 44–45; 7:13–14; Showers 1982:25). Hierdie beskrywing fokus op heidense ryke, maar mens sou ook die situasie kon beskryf met verwysing na ʼn gebrek in permanente Joodse self-regering. Die Tye van die Nasies dek die tyd tussen die einde van die koninkryk in Israel ten tyde van die Babiloniese gevangenskap en die werklike vestiging van die Messiaanse koninkryk wanneer Christus na die aarde terugkeer. Nog ʼn manier om min of meer dieselfde te sê, is om die Tye van die Nasies te beskryf as die tyd tussen die heerskappy van die laaste koning van Juda, Sedekía, en die werklike uitoefening van gesag deur die Koning van die Jode, oor Israel maar ook oor die hele aarde (Unger 2002:1603; Woods 2016:31).

ʼn Vierde beskrywing is as volg: gedurende die Tye van die Nasies is God se Shekinah-glorie nie sigbaar in die tempel nie. Tydens die Babiloniese gevangenskap het God se glorie die tempel in Jerusalem verlaat (Eseg 8–11). God se glorie sal net sigbaar terugkeer wanneer Christus na die aarde toe terugkeer (Eseg 43:1–5; Mat 23:38–39). Gedurende die Eerste Koms het Christus nie sy goddelike heerlikheid sigbaar vertoon nie, behalwe vir ʼn kort tydjie op die Berg van Verheerliking (Mat 17:1–8).

Die letterlike vervulling van hierdie profesieë

Woods (2016: 32) sê met reg dat al die nasies wat in Daniël 2 en 7 ‘uitgebeeld is, letterlike ryke was wat werklike gebiede gehad het wat vir spesifieke tydperke bestaan het’. Hierdie profesieë is nie geestelik vervul nie (wat dit ook al mag beteken), maar bevat eerder profesieë wat letterlik vervul is, of dit nog steeds sal doen. Omdat die ryke van die Babiloniërs, Mede en Perse en Grieke (ensovoorts) almal letterlik op die aarde vervul is gedurende bepaalde tydperke, behoort profesieë aangaande ʼn toekomstige regering op die aarde deur tien konings of daarna deur die Antichris (vgl. Dan 2:31–45; 7:1–28; Open 13:1–10; 17:7–14) aanvaar te word. Nog belangriker, die klip wat sonder toedoen van mensehande van die berg losgeraak het (vgl. Dan 2:45), die Here Jesus, sal ook oor die aarde en in die geskiedenis heers (d.w.s. vóór die ewige bestel aanbreek).

Oorsig van die Tye van die Nasies

Daniël 2 en 7 beskryf nie net die vier heidense ryke nie, maar ook die fases wat sommige van hierdie ryke sal hê. Hoe moet ʼn mens hierdie vier heidense ryke met verskillende fases verstaan? ʼn Begrip van die vierde heidense ryk is belangrik vir so ʼn oorsig. Fruchtenbaum (2004:33) beskryf die vierde heidense ryk se aard van regering as ‘imperialisme’:

But Rome began a new system called imperialism. This is what made the fourth empire diverse from all the others. … Rome was merely the first of five stages of the Fourth Empire of Imperialism.

Die uiteensetting wat Fruchtenbaum (2004:21–44) uit Daniël 2 en 7 aflei is in lyn met die Skrif:

  1. Die Babiloniese ryk.
  2. Die Medo-Persiese ryk.
  3. Die Hellenistiese ryk.
    1. Die verenigde fase.
    2. Die vier-afdeling fase.
  4. Die Vierde heidense ryk: Imperialisme.
    1. Die verenigde fase: die Romeinse ryk.
    2. Die twee-afdeling fase: die Oos-Wes magsbalans.
    3. Die een-wêreldregeringsfase.
    4. Die tien-konings fase (tien horings).
    5. Die Antichris-fase.
  5. Die Messiaanse Koninkryk.

In die tweede deel van ‘Die Tye van die Nasies’ sal ons op die vierde heidense ryk fokus. In watter fase van hierdie vierde ryk leef ons tans? Hoe sal die wêreldgeskiedenis volgens die Woord van God ontvou?

Bronne

Feinberg, C.L., 1981, Daniel, the Kingdom of the Lord, BMH Books, Winona Lake.

Fruchtenbaum, A.G., 2004, The Footsteps of the Messiah: A Study of the Sequence of Prophetic Events, Ariel Ministries, Tustin.

Sien ook: Fruchtenbaum, A.G., 2005, The Times of the Gentiles MBS029, Ariel Ministries, Tustin. Dié artikel kan gekoop word.

Price, J.R., 1996, ‘Daniel’s seventy weeks, dispensational interpretation’, in M. Couch (red.), Dictionary of Premillennial Theology, pp. 76–78, Kregel Publications, Grand Rapids.

Showers, R.E., 1982, The Most High God, The Friends of Israel Gospel Ministry, Bellmawr.

Unger, M.F., 2002, Unger’s Commentary on the Old Testament, AMG Publishers, Chattanooga.

Walvoord, J.F., 1968, ‘The Times of the Gentiles’, Bibliotheca Sacra, 125(497):1–9.

Woods, A.M., 2016, The Coming Kingdom: What is the Kingdom and How is Kingdom Now Theology Changing the Focus of the Church?, Grace Gospel Press, Duluth.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']