Die universele koninkryk en die mediatoriale koninkryk van God

Gaan gelowiges eendag op ’n wolkie dryf, ’n harp bespeel en basies verveeld rondhang? Hierdie sekulêre uitbeelding van die “koninkryk” is gewild, maar natuurlik totaal en al vals. Dít is nie die koninkryk wat Christus sê ons eerste moet soek nie (vgl. Mat 6:33). Lering oor die koninkryk van God is belangrik; dit was immers die sentrale tema van Christus se bediening tydens sy eerste koms gewees (vgl. Mat 4:17, 23; 9:35; 10:5-7). Jesus het egter nie na ’n abstrakte, oorvergeestelike koninkryk verwys nie. Die koninkryk is so belangrik dat Jesus gedurende die 40 dae voor sy hemelvaart sy apostels weer “oor die dinge van die koninkryk van God” geleer het (Hand 1:3). Hoe kan die koninkryk van God verstaan word, na watter koninkryk het Jesus in die Evangelies verwys?

Die term “koninkryk”

’n Koninkryk bevat ten eerste ’n heerser wat die reg het om te heers; tweedens, ’n gebied of terrein waaróór regeer word (in terme van onderdane of van ’n area); en derdens, die daadwerklike uitoefening van die funksie van heerskappy (vgl. Barrick 2012:176; Vlach 2017:28-29). Ál drie hierdie aspekte is gelyktydig nodig alvorens daar van ’n koninkryk gepraat kan word.

Volgens Selman (1989:162) kom die frase “koninkryk van die HERE” vyftien keer in die Ou Testament voor (Ps 22:29; 103:19; 145:11-13; Ob 21; Dan 2:44; 4:3, 31; 6:26; 7:14, 18, 27; 1 Kron 17:14; 28:5; 29:11; 2 Kron 13:8. Uit hierdie Skrifverwysings kan twee oorvleuelende en tog onderskeibare koninkryke van God afgelei word, naamlik die universele koninkryk van God en die mediatoriale koninkryk van God (McClain 1959:21, 34-36; Vlach 2017:53-56; Woods 2016:5-6).

Die universele koninkryk van God

God het die hemele en die aarde geskep (Gen 1:1). Daar word gelyktydig aan al drie aspekte van ’n koninkryk aan voldoen: As Skepper het God alle reg om te heers, God die Vader heers van sy troon in die hemel oor alles wat geskep is – en Hy oefen daadwerklik die funksie van heerskappy uit. In kort: God regeer! Beacham (1996:235; eie vertaling) definieer die universele of ewige koninkryk van God as “God se makrokosmiese heerskappy deur sy eksklusiewe, soewereine heerskappy oor die hele skepping, ’n heerskappy sonder pouse of einde.”

Volgens Psalm 145:13 is God se universele koninkryk ewigdurend: “U koninkryk is ’n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.” Psalm 103:19 beklemtoon dat God oor alles heers: “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” 1 Kronieke 29:11 stel dit so: “Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles.”

As God se universele koninkryk oor die hele skepping ten alle tye is, kan hierdie koninkryk “naby kom” (vgl. Mat 3:2; 4:17)? Nee, want dit bestaan ewig en dek die hele skepping. Is Satan en sy gevalle engele deel van God se universele koninkryk? Ja, hulle is, want God se universele koninkryk sluit alles wat geskep is, in. Is alle geskape persone in die universele koninkryk tans aan God gehoorsaam? Nee. Voordat enige rebellie in die engelewêreld en in die mensdom plaasgevind het, was God se wil perfek gehoorsaam, soos in die hemele net so ook op die aarde. Op daardie stadium was die universele koninkryk en die mediatoriale koninkryk presies in ooreenstemming met God die Vader se wil. Tans verdra God rebellie teen sy heerskappy en Hy laat dit binne perke toe, maar dit gaan nie vir altyd so bly nie. Op ’n stadium sal elke knie buig en elke tong bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader (Fil 2:10-11). Op ’n tydstip sal alle rebellie verwyder word (vgl. 1 Kor 15:28).

Die mediatoriale koninkryk van God

Binne-in God se universele koninkryk is daar ’n kleiner sfeer, naamlik die aarde. God het aan die mensdom gesag gedelegeer om namens God oor die aarde te heers. Die Psalmdigter sê: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee” (Ps 115:16). Alhoewel God vanuit die hemel oor sy universele koninkryk regeer, het Hy aan die mens, wat na die beeld van God geskape is, die taak gegee om oor die aarde te heers (Gen 1:26-28; Ps 2; Heb 2:5-8). Daar bestaan dus binne die universele koninkryk van God ’n meer beperkte koninkryk, ’n aards-georiënteerde en tydverwante koninkryk wat die mediatoriale koninkryk van God genoem kan word (vgl. Beacham 1996:235).

Ná Adam se sondeval belowe God om die mensdom se koninkryksregering oor die aarde te herstel (vgl. Gen 3:15). Dit sal bereik word deur ’n afstammeling van Abraham, of nog meer spesifiek, deur ’n afstammeling van Dawid, wie se troon tot in ewigheid sal staan (vgl. 1 Kron 17:14; 2 Kron 13:8). Die Ou Testament wys dat God die Messias as Koning sal aanstel om oor Israel te heers – en om vanaf Jerusalem óók oor al die nasies te regeer (Jes 2:2; Dan 2:44-45; Sag 14:9). In die Nuwe Testament verklaar Openbaring 11:15 dat die “koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” ’n Groot deel van die Bybel gaan oor die laaste Adam wat herstel wat die eerste Adam verloor het.

Die mediatoriale koninkryk van God op aarde word deur veral twee fases gekenmerk, naamlik die teokratiese koninkryk oor Israel en later, as hierdie koninkryk deur die Messias herstel en dan opgerig sal word, die Messiaanse koninkryk. Die teokratiese koninkryk is God se heerskappy oor Israel, welke koninkryk by die berg Sinai begin het en met die Babiloniese inval tot ’n einde gekom het. Voor die einde van die teokratiese koninkryk, toe hierdie koninkryk al agteruit begin gaan het, het God deur die profete belowe dat hierdie koninkryk herstel sal word. Israel is toe na Babilon weggevoer en die Tye van die Nasies het begin. Ná vier heidense ryke sal Christus terugkeer aarde toe en die Messiaanse koninkryk oprig (vgl. Dan 2:44-45; 7:13-14).

Tydens Christus se eerste koms het die koninkryk “naby gekom” in die sin dat Christus die teokratiese koninkryk weer kon oprig – mits Israel hulle geloofsvertroue in die Koning van die Jode geplaas het, maar die tragiese is, hulle het nie (vgl. Mat 4:17; 9:35; 10:5-7; Hand 1:6-7). Onder die misleiding van die godsdienstige leiers van daardie tyd is Jesus deur ’n geslag Jode verwerp (vgl. Mat 12:23-32; 23:37-38). Christus het daarom nie die koninkryk tydens sy eerste koms opgerig nie, maar sal dit doen as Hy weer na die aarde toe terugkeer (vgl. Mat 23:39; 25:31, 34). In Handelinge 1:6 vra die apostels vir Jesus, “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Die koninkryk wat “weer” vir Israel opgerig sal word, is die herstel van die teokratiese koninkryk. Wanneer Christus na die aarde toe terugkeer sal die Messiaanse koninkryk wat Hy dan sal oprig die herstel van Israel se teokrasie insluit. Tussen die eerste en tweede koms bou Christus sy Kerk, sy bruid, ’n liggaam wat uit gelowiges uit al die nasies bestaan.

Die mediatoriale koninkryk van God sal deur die Here Jesus Christus regeer word. Die begin van hierdie koninkryk skop die millennium af – en daarna sal die koninkryk tot in alle ewigheid op die nuwe aarde voortduur. Soos wat Adam en sy vrou Eva moes heers, so sal Christus en sy vrou, die Kerk, in die millennium heers. Ander gelowiges, vernaam Ou-Testamentiese gelowiges en gelowiges wat tydens die verdrukkingstydperk gesterf het, kan ook gesag by Christus ontvang om in die millennium te mag heers. Israel is ’n belangrike deel van God se raadsplan in Christus, maar die Messiaanse koninkryk is nie net vir gelowige Jode bedoel nie. Ook baie nie-Joodse gelowiges sal die koninkryk beërwe (vgl. Mat 8:11-12; 25:34). As iemand egter nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy of sy die koninkryk van God nie ingaan nie (Joh 3:5). Slegs gelowiges sal die koninkryk mag binnegaan wanneer Christus dit kom vestig (vgl. Joh 3:3-5).

Slotopmerkings

Die koninkryk van God is ’n sentrale tema van die Bybel. Ná die engeleval en ná die mens se sondeval werk God om alles te herstel (vgl. Gen 3:15). Die koninkryk is nie ’n geestelike ontsnapping na ’n paar wolkies in die lug nie. Op ’n veranderde planeet aarde – maar dit is nog nie die nuwe aarde nie – sal Israel, die nasies en die verheerlikte Kerk ons groot God en Koning, die Here Jesus Christus, dien. Eers in die ewige bestel sal alles perfek wees, maar in die millennium sal elke aspek van die lewe op aarde reeds ’n goue bloeitydperk ervaar. Aan die einde van die millennium, wanneer die laaste rebellie uitgeskakel en laaste vyand vernietig is, sal Christus die mediatoriale koninkryk aan die Opperkoning van die universele koninkryk, dit is God die Vader, oorhandig (1 Kor 15:24-28). Maar vandag bid dissipels van Christus nog steeds dat die koninkryk sal kom en dat God se wil sal geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde (vgl. Mat 6:9-10).

Amen, ja kom, Here Jesus!

Bronne

Barrick, W.D., 2012, ‘The kingdom of God in the Old Testament’, The Master’s Seminary Journal 23(2), 173-192.

Beacham, R.E., 1996, ‘Universal and Mediatorial kingdoms’, in M. Couch (ed.), Dictionary of Premillennial Theology, pp. 235-237, Kregel Publications, Grand Rapids.

McClain, A. J., 1959, The Greatness of the Kingdom: An Inductive Study of the Kingdom of God, BHM Books, Winona Lake.

Selman, M.J., 1989, ‘The kingdom of God in the Old Testament’, Tyndale Bulletin 40(2), 161-183.

Vlach, M.J., 2017, He Will Reign Forever: A Biblical Theology of the Kingdom of God, Lampion, Silverton.

Woods, A.M., 2016, The Coming Kingdom: What is the Kingdom and How is Kingdom Now Theology Changing the Focus of the Church?, Grace Gospel Press, Duluth.

Volg ons op sosiale media:

Image(s) used under license from Shutterstock, copyright 2019.