Die verbonde van die Bybel Deel 1

Dit is makliker om ʼn groot legkaart te bou as die buitenste stukke eers aanmekaar is. Sodra die legkaart se raamwerk klaar is, kan die detail binne-in voltooi word. Net so, indien ʼn raamwerk van die Bybel se meta-verhaal gebou word, watter stukke moet gebruik word? Een belangrike stuk (waarop FaithEquip reeds gefokus het) is lering oor die koninkryk van God, want hierdie lering vertel van God se Ewig-Universele koninkryk selfs van vóór die skepping af. Dit sluit die verhaal van die Mediatoriale (of Bemiddelende) koninkryk van God op aarde in en toon aan hoe hierdie twee aspekte van die een koninkryk weer in die Ewige orde saamsmelt. Nog ʼn belangrike ‘raamwerk-stuk’ kan die tipologiese vervulling van die feeste van die HERE wees, want dit fokus op Christus se dade (en die herdenking daarvan) van sy eerste koms af tot aan die einde van die millennium. Net so kan die verborgenhede van die Nuwe Testament ook ʼn belangrike hoofstuk in die meta-verhaal wees. Die fokus in hierdie reeks is egter op die verbonde van die Bybel, ongetwyfeld ʼn belangrike raamwerk-stuk om die legkaart van God se meta-verhaal te bou.

Verbonde is primêre boublokke om verhoudinge in die geskiedenis te reël. Of dit nou ʼn verhouding tussen God en die mensdom is (Genesis 9:1-17), onderling tussen mense (vgl. 1 Samuel 18:3-4) families (Genesis 31:54) of nasies is (vgl. Eksodus 23:32), basies reguleer ʼn verbond sekere verhoudinge. Gewoonlik is daar ʼn gebeurtenis waartydens die verbond tot stand kom of ‘gesny word’ (vgl. Genesis 15:12-18; 1 Samuel 22:8). Dan kom die verbondspartye sake ooreen wat hulle verhouding reël (sien Genesis 21:23-24) en menigmaal word beloftes gemaak en ede word gesweer (Deuteronomium 29:12, 14; Psalm 89:3). Dit is juis die beloftes wat God in sekere verbonde gemaak het wat uiters belangrik is vir die leer oor die einddinge of die eindtye. Die sny van ʼn verbond word ook deur verbondstekens gekenmerk, soos byvoorbeeld ʼn reënboog (Genesis 9:14-17) of die Sabbat (Eksodus 31:13). Soms is getuies geroep om die maak van ʼn verbond waar te neem (2 Konings 11:4), ander kere nie.

Wat verbonde tussen God en die mens betref, hou in gedagte dat die gesag vir hierdie verbonde in God gesetel is, dat die meeste van hierdie verbonde ten tye van ʼn krisis aan die mens gegee is, dat geen verbond ʼn vorige verbond kragteloos kan maak om die belofte(s) tot niet te maak nie (vgl. Galasiërs 3:17-19) en dat redding van sonde nóóit verkry word deur die nakoming van enige verbondsbepalings nie (vgl. Barrick 1999:213). Redding is slegs deur God se genade uit geloof in Christus.

Wat verbonde tussen God en die mens betref is dit voorts belangrik om tussen voorwaardelike en onvoorwaardelike verbonde te onderskei. Fruchtenbaum (2005:5) beskryf ʼn voorwaardelike verbond as ʼn tweesydige verbond waarin God ʼn aanbod aan die mens maak wat deur die volgende beginsel gekenmerk word: As jy sal, sal Ek. God belowe om seëninge te gee mits die mens sekere verbondsvoorwaardes gehoorsaam; ongehoorsaamheid lei dikwels tot straf.

ʼn Onvoorwaardelike verbond is ʼn eensydige verbond waar God belowe met die formule: Ek sal, om sekere seëninge en omstandighede te bewerk (Fruchtenbaum 2005:5). Selfs al bly die mens in gebreke om ooreenkomstig die verbondsbepalings op te tree, sal God steeds toesien dat onvoorwaardelike verbondsbeloftes wat Hy gemaak het, uiteindelik nagekom en vervul word.

ʼn Verbond tussen God en die mens kan gedefinieer word as (1) ʼn soewerein-bepaalde ingesteldheid van God om ʼn onvoorwaardelike en verklaarde ooreenkoms met die mens te sluit waar God in genade Homself verbind met die beginsel ‘Ek wil’ om sekere omstandighede of sekere seëninge vir die verbondspartye tot stand te bring; OF (2) ʼn voorstel waarin God voorwaardelik belowe volgens die beginsel ‘Indien jy wil’ sodat as die mens sekere voorwaardes nakom, seëninge ontvang sal word, maar by versuim sal sekere straf ontvang word (Pentecost 1958:67-68).

Ongeag of ʼn verbond tussen God en die mens voorwaardelik of onvoorwaardelik is, te alle tye ontvang ʼn mens die voordele en seëninge van God se verbondsbeloftes deur voor die Here in geloofsgehoorsaamheid te wandel. Die verskil is dat die mens se ongehoorsaamheid en ongeloof nie ʼn onvoorwaardelike verbond kan beëindig of die vervulling van sulke verbondsbeloftes vir ewig en altyd kan uitstel nie, want God is getrou en Hy sal sy onvoorwaardelike beloftes nakom.

Nie net is ʼn begrip van die verbonde van die Bybel noodsaaklik om God se handelinge met die mensdom te verstaan en om die einde van die meta-verhaal reg te lees nie, maar so ʼn studie lei ongetwyfeld tot vrug (Busenitz 1999:182). Watter voorwaardelike en onvoorwaardelike verbonde het God volgens die Bybel met die mens gemaak? Dié vraag word in Deel 2 van hierdie reeks behandel.

—————
Bronne gebruik:

Barrick, W.D., 1999, ‘The Mosaic Covenant’, The Master’s Seminary Journal 10(2), 213-232.

Busenitz, I.A., 1999, ‘Introduction to the Biblical covenants; the Noahic covenant and the Priestly covenant’, The Master’s Seminary Journal 10(2), 173-189.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘Die agt verbonde van die Bybel’, Ariel Ministries, Tustin.

Pentecost, J.D., 1958, Things to come: a study in Biblical eschatology, Zondervan, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']