Die verbonde van die Bybel Deel 2

Watter voorwaardelike en onvoorwaardelike verbonde het God volgens die Bybel met die mens gemaak?

Watter verbondstekens gaan saam met watter verbonde, watter krisis in die geskiedenis het moontlik tot die verbond aanleiding gegee, met wie is die verbonde gesluit en waar in die Skrif kan oor hierdie verbonde gelees word?

Sommige Bybelkenners glo God het ʼn voorwaardelike verbond met Adam in die tuin in Eden gesluit, maar ander glo dit nie.

Dié wat glo dat so ʼn verbond gesluit is, stem egter almal saam dat hierdie verbond voorwaardelik was. Wat sou gebeur het indien Adam gehoorsaam was aan God se bepalings in die ‘Edeniese’ verbond? Sy onbevestigde heiligheid (hy moes nog getoets word om te sien of hy sou sondig) sou bevestig geword het én hy sou voortgegaan het om as God se verteenwoordiger oor die aarde te heers. Vanweë hulle ongehoorsaamheid het Adam en Eva geestelik gesterf (hulle sou later ook fisies sterf), hulle is uit die tuin in Eden verban en terselfdertyd eindig die voorwaardelike Edeniese verbond.

Het God ná die sondeval met Adam ʼn onvoorwaardelike verbond gesluit?

Alhoewel baie weer eens hieroor verskil, behoort almal dit eens te wees dat God belowe het om iemand te stuur wat nie net verlossing van sonde moontlik sou maak nie, maar ook dat hierdie Persoon enige aansprake van die duiwel oor die aarde sou vernietig (Genesis 3:15; vgl. Hebreërs 2:14-15; Openbaring 20:10).

Die volgende tabel is opgestel met die aanname dat daar ʼn voorwaardelike Edeniese en ʼn onvoorwaardelike Adamiese verbond tussen God en die mens gesluit is — asook ander Bybelse verbonde wat God op verskillende tye in die geskiedenis en met verskillende menslike verteenwoordigers gesluit het.

Die aard en bepalings van die onvoorwaardelike en ewige verbond wat God met Noag én met sy nageslag gesluit het, word in Genesis 6:17-22; 8:20-22 en 9:8-17 gevind.

God belowe dat alle vlees (mens én dier) nie meer deur watervloede uitgeroei sal word nie en dat ʼn vloed nie weer die hele aarde sal verwoes nie. Die verbondsteken is die reënboog. Die verbond met Noag sal voortduur totdat die aarde deur vuur vernietig word aan die einde van die dag van die Here, of as deel van ʼn aspek van hierdie dag (2 Petrus 3:10-11; Openbaring 21:1). Tot dan sal ‘die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie’ (Genesis 8:22). Vir hierdie rede laat God steeds ‘sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat dit reën op regverdiges en onregverdiges’ (Matteus 5:45). Busenitz (1999:186) beklemtoon dat die impak van die verbond van Noag nie onderskat moet word nie, want die sekerheid van ander verbonde word soms geanker aan die orde van die natuur wat God in die verbond met Noag belowe het. Byvoorbeeld, in Jeremia 33:20-21 gebruik God die reëlmatigheid van die natuur om as waarborg vir die Dawidiese en Priesterlike verbonde te dien (2 Samuel 7; Númeri 25:10-13). Dieselfde kan van die Nuwe verbond gesê word, hetsy met verwysing na Jesaja 54:9-10 of na Jeremia 31:31-36.

Nog ʼn uiters belangrike aspek van die verbond met Noag is dat bloedvergieting strafbaar met die dood is (Genesis 9:5-6). Dit vorm die basis vir die swaardmag wat aan owerhede gegee is (vgl. Romeine 13:1-7). Die primêre taak van regerings is om wet en orde te handhaaf. Hierdie dissipline is afdwingbaar met die gesag wat God aan owerhede gegee het (Romeine 13:4). Nasies sal geoordeel word op grond van hoe hulle die swaardmag gebruik het of nie gebruik het nie.

Die Priesterlike verbond is eweneens ʼn ewige verbond maar is nie met die hele mensdom gesluit nie, maar slegs met Pínehas en sy Levitiese afstammelinge (Numeri 25:10-13).

Hierdie verbond is nie voorwaardelik soos die Mosaïese verbond nie, maar onvoorwaardelik, want dit word as ʼn ‘verbond van ewige priesterskap’ beskryf (Númeri 25:13; vgl. Jeremia 33:20-21). Pínehas het God se ywer onder Israel geywer en so versoening vir die kinders van Israel gedoen (Númeri 25:11-13). God kies vir Pínehas om hierdie vredesverbond met hom en sy nageslag te maak, ʼn nageslag wat later in 1 Kronieke 6:50-53 aangedui word. Eségiël 44:15 en 48:11 plaas die aandag op een van Pínehas se afstammelinge, naamlik Sadok.

Tydens die millennium sal priesters diens doen in die tempel van die HERE, die tempel wat in Eségiël 40-48 beskryf word. Hierdie priesters sal Pínehas en sy afstammelinge wees, met die klem op Sadok en sy nageslag (Busenitz 1999:182, 188).

Maar ons het vooruit in tyd gespring, want vóór die Mosaïese en Priesterlike verbonde het God éérs iemand uit die land van Ur uit afgodery geroep om ʼn baie belangrike verbond met hom te sluit. Deel 3 van hierdie reeks oor die verbonde van die Bybel bespreek hierdie verbond.

—————–
Bronne gebruik:

Benware, P.N., 2006, Understanding end times prophecy: a comprehensive approach, Moody Publishers, Chicago.

Bigalke, R.J., 2008, ‘The Biblical Covenants’.

Busenitz, I.A., 1999, ‘Introduction to the Biblical covenants; the Noahic covenant and the Priestly covenant’, The Master’s Seminary Journal 10(2), 173-189.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘Die agt verbonde van die Bybel’, Ariel Ministries, Tustin.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']