Die verbonde van die Bybel Deel 3

Ná die vloed ontstaan daar 70 nasies uit die afstammelinge van Sem, Gam en Jafet (Genesis 10). Tien geslagte ná Noag roep God ʼn spesifieke man wat nie net uit die land van Ur van die Chaldeërs moet weggaan nie, maar wat ook afgodery moet los.

Abram is gehoorsaam en wanneer hy in die land Kanaan kom, skep God uit Abraham die nasie Israel. Afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob is Jode; uit Israel se twaalf seuns kom die twaalf stamme van Israel.

Die belangrikheid van die Abrahamitiese verbond word algemeen erken. Van kritiese belang vir eskatologie is of hierdie verbond voorwaardelik of onvoorwaardelik is (vgl. Benware 2006:38). Dat hierdie verbond onvoorwaardelik is, is duidelik te sien in die manier hoe die verbond gesny is (Genesis 15:8-18). Die HERE het alleen in die gedaante van ʼn rokende oond en vurige fakkel tussen die vleisoffers beweeg (vgl. Essex 1999:201); Abram was nie aktief betrokke by die sny van die verbond nie. Dit bevestig ongetwyfeld dat God belowe het om verbondsbeloftes te vervul selfs al het Abram (en sy nageslag) gesondig (vgl. Kaiser 1978:94).

Die onvoorwaardelike Abrahamitiese verbond kan op verskeie maniere opgesom word. ʼn Algemene opsomming fokus op die feit dat die verbond van Abraham as basis dien vir drie ander onvoorwaardelike verbonde wat God later aan Israel of Israel se verteenwoordigers gegee het, naamlik die Landverbond, die Dawidiese verbond (saad-aspek) en die Nuwe verbond (seën-aspek). Volgens McAvoy (1996:27; eie vertaling): ‘Vanuit ʼn verklarende oogpunt, bestuur die Abrahamitiese verbond … God se algehele program vir Israel en die nasies en is dus bepalend van God se program in die geskiedenis. … Dit is die sleutel tot beide die Ou en Nuwe Testament en is die grondslag van die hele program van verlossing. … Die essensie van God se verbond met Abraham bestaan uit drie basiese aspekte: land, saad, en seën. … Elkeen van die Goddelike verbonde wat volg is die uitwerking van die Abrahamitiese verbond. Die Landverbond (Deut. 28-30) lig die aspek van die land van die Abrahamitiese verbond toe. Die Dawidiese verbond (2 Sam 7:8-17) lig die aspek van die saad toe, en die Nuwe verbond (Jer. 31:27-37; Eseg. 36:22-32) lig die aspek van seëninge toe. … Die Abrahamitiese verbond is dus bepalend vir die hele uitwerking van God se program vir beide Israel en die nasies, en is die sleutel tot Bybelse eskatologie.’

Die Abrahamitiese verbond kan ook só opgesom word: God maak persoonlike, nasionale en universele beloftes aan Abraham. Wat persoonlike beloftes aan Abraham betref: Abram sal ʼn groot en ook nuwe naam ontvang, sélf ryklik geseënd en ook ʼn seën vir ander wees en hy sal ʼn seun uit Sara ontvang (Genesis 12:2; 17:5).

Wat nasionale beloftes aan Abraham betref: Israel sal uit Abraham se nageslag ontwikkel en Israel sal die land Kanaan ontvang (Genesis 12:2, 7; 15:5, 18-21). Die verbond van Abraham is bevestig met Isak (Genesis 26:2-5, 24), Jakob (Genesis 28:13-15) en Israel se twaalf seuns (Genesis 49). Dit is nie met Arabiese nasies of nie-Joodse nasies bevestig nie.

Wat universele of ekstra-nasionale beloftes betref: volgens Genesis 12:3 sal dié wat Abraham en sy nageslag seën, seën ontvang, maar dié wat hulle vervloek sal self vervloek word. (Sou dit nie wonderlik wees as Suid-Afrika hierdie beleid jeens Israel huldig nie?) Nie net sal Abraham die vader van baie nasies word en konings uit hom kom nie (Genesis 17:5-6), maar deur Abraham sal al die geslagte van die aarde geseën word (Genesis 22:18).

Deur die nageslag van Abraham, Isak en Jakob skep God ʼn nuwe nasie om sy doelwitte op aarde te bereik. Die belangrikste doelwit is sekerlik om uit een van die twaalf stamme van Israel die Verlosser voort te bring. Maar die Messias gaan nie net die Verlosser uit die nageslag van Juda en uit die huis van Dawid wees nie, maar Hy sal ook die Messiaanse Koning wees. Die Messiaanse koninkryk wat die Messias sal oprig en vestig is op sigself die herstel en restourasie van die Teokratiese koninkryk.

Die Teokratiese koninkryk het by die berg Sinai begin op grond van ʼn verbond wat God vir Israel daar gegee het. Hierdie verbond is die onderwerp van Deel 4 in hierdie reeks.

—————–
Bronne gebruik:

Benware, P.N., 2006, Understanding end times prophecy: a comprehensive approach, Moody Publishers, Chicago.

Essex, K.H., 1999, ‘The Abrahamic Covenant’, The Master’s Seminary Journal 10(2), 191-212.

Goodenough, S., 2010, ‘The Abrahamic Covenant’.

Kaiser, W.C., 1978, Toward an Old Testament Theology, Zondervan, Grand Rapids.

McAvoy, S.L., 1996, ‘Abrahamic covenant’, in Couch, M. (ed.), Dictionary of premillennial theology, pages 27-32, Kregel Publications, Grand Rapids.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']