Die verbonde van die Bybel Deel 4

God begin om die nasionale beloftes te vervul wat hy aan Abraham belowe het deur Israel uit Egipte te red (vgl. Genesis 15:13-14). Vyftig dae nádat die pasga vir die eerste keer gevier is, sluit God ʼn verbond met Israel by die berg Sinai — nie met enige nie-Joodse nasies nie en ook nie met die Kerk nie (Eksodus 19-24; vgl. Deuteronomium 4:7-8; Psalm 147:19-20; Maleagi 4:4).

Wanneer God die Mosaïese verbond gee begin die Teokratiese koninkryk waar God oor die nasie Israel regeer en God wandel tussen hulle. Hierdie Teokratiese koninkryk het met die Babiloniese inval geëindig, maar wanneer Christus terugkeer aarde toe, sal die Messiaanse koninkryk wat Hy dan sal oprig en vestig, die herstel van Israel se teokrasie insluit.

Volgens Barrick (1999:223) bevat die Mosaïese verbond ʼn historiese inleiding (Eksodus 19:1-4), ʼn aanhef (Eksodus 19:5-6), verskeie bepalings (Eksodus 20:3-23:19), ʼn boek van die verbond wat gelees moet word (Eksodus 24:4-7) asook seëninge en strawwe (Eksodus 23:20-23). Ingevolge die Wet van Moses sal Israel geseën word mits hulle ál 613 bepalings van die Wet nakom, maar indien Israel nie hierdie Wet nakom nie, sal sekere vloeke hulle tref. Van hierdie 613 bepalings was 365 negatiewe gebooie, dinge wat verbode was; 248 was positiewe gebooie, dinge wat gedoen moes word.

Die Wet van Moses is ʼn eenheid: óf al 613 bepalings is geldig óf niks nie (vgl. Galasiërs 5:3; Jakobus 2:10). Om die Wet van Moses in ‘seremoniële’, ‘morele’ of ‘wetlike’ kategorieë te verdeel is kunsmatig en word nié deur die Skrif ondersteun nié (Barrick 1999:230; Fruchtenbaum 2005:16).

Die Mosaïese verbondsteken was dat Israel die Sabbat sou hou (Eksodus 31:12-17). Vir Jode kan die teken van die Mosaïese verbond onmoontlik die fisieke besnydenis wees, want gehoorsame Joodse ouers het hulle seuns op die 8ste dag besny in ooreenstemming met die Abrahamitiese verbond.

Die Mosaïese verbond het verskeie doelwitte gehad.

Eerstens het dit gewys dat die mens sondig is (Romeine 3:19-20).

Tweedens hoe erg en sleg sonde is (Romeine 7:8-13).

Derdens het dit God se heiligheid en ook die standaard van geregtigheid geopenbaar wat God vir ʼn behoorlike verhouding met Hom vereis het (Levitikus 11:44; 19:1-2, 37).

Die vierde doel van die Wet was om vir Israel geleenthede vir individuele en gesamentlike aanbidding daar te stel, soos byvoorbeeld die sewe feeste van die HERE (Levitikus 23).

ʼn Vyfde doel was om Israel as ʼn aparte volk te hou (Levitikus 11:44-45; Deuteronomium 7:6; 14:1-2). Dit was juis die rede agter baie van die wette, soos die voedsel- en kledingwette.

Sesdens het die Wet as ʼn tugmeester vir die sondaar gedien na Christus toe (Galasiërs 3:24). Die Wet van Moses het ook as ʼn middelmuur van skeiding gedien (Efesiërs 2:11-16).

(Vir nog doelwitte van die Wet van Moses, sien gerus Fruchtenbaum 2005:14-15.)

As Israel die volheid van die geestelike én fisieke seëninge van hulle onvoorwaardelike verbonde wou geniet (Abrahamitiese, Land, Dawidiese en Nuwe verbonde), moes hulle die voorwaardelike Mosaïese verbond nakom. Die teologiese konteks van die Wet van Moses is dat die nasie Israel vir God sal aanbid en dien (vgl Eksodus 3:12; 20:3; 23:25) en dat hierdie nasie as ʼn voertuig sal dien waardeur God al die ander nasies op aarde sal seën — in ooreenstemming met God se universele of ekstra-nasionale beloftes wat Hy aan Abraham gemaak het.

Die Nuwe Testament leer onomwonde dat die dood van Jesus Christus by die kruis ʼn einde gebring het aan die Wet van Moses: ‘Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo’ (Romeine 10:4; vgl. Galásiërs 3:19) en daar is geen regverdiging, heiligmaking of volmaking deur die Wet nie (Galasiërs 2:16; Hebreërs 7:19).

Ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie (Romeine 7:6).

Die Wet in sy geheel (al 613 bepalings) het nie meer gesag oor enige individu nie (Romeine 6:14; Galasiërs 5:18; vgl. Fruchtenbaum 2005:16-20), maar gelowiges in Christus leef onder die Nuwe verbond, ons is onder die Wet van Christus (1 Korintiërs 9:21; Galasiërs 6:2), die volmaakte wet van die vryheid (Jakobus 1:25), die koninklike wet (Jakobus 2:8).

Danksy Christus is daar ʼn nuwe priesterdom volgens die orde van Melgisédek, nie volgens die orde van Aäron nie. ʼn Nuwe priesterdom noodsaak ʼn nuwe wet waaronder dit funksioneer, aldus Hebreërs 7:11-18. Eintlik is die Wet van Christus wat geregtigheid betref selfs strenger as wat die Wet van Moses was (vgl. Matteus 5:17-48; Barrick 1999:233).

As God nasionale beloftes aan Abraham en sy nageslag belowe het, en indien die Teokratiese koninkryk by die berg Sinai begin het, kan ʼn nasie ʼn koninkryk hê as dit nie ʼn land het nie?

In Deel 5 van hierdie reeks, is die klem op die Landverbond en in Deel 6 op die Dawidiese verbond.

—————–
Bronne gebruik:

Barrick, W.D., 1999, ‘The Mosaic Covenant’, The Master’s Seminary Journal 10(2), 213-232.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘Die agt verbonde van die Bybel’, Ariel Ministries, Tustin.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']