Die verbonde van die Bybel Deel 7

Jeremia 31 is geskryf toe Israel só afvallig van die Here geraak het dat hulle nasionale redding uit Egipte effektiewelik in ballingskap omgekeer is (Barrick 1999:228).

Die Teokratiese koninkryk het by die berg Sinai begin maar eindig met die Babiloniese ballingskap. Dit alles is tragies uitgebeeld in Esegiël 8-11 toe God se heerlikheid die tempel in Jerusalem stadig maar seker verlaat het. Israel het die Wet van Moses verbreek en tesame met baie ander Jode is selfs die koning van Juda uit die land weggevoer. In hierdie konteks belowe ʼn genadige God dat Hy ʼn Nuwe verbond met die huis van Israel en die huis van Juda sal sluit (Jeremia 31: 27-40; vgl. Jesaja 55:3; 59:21; 61:8-9; Esegiël 16:60; 34:25-31; 37:26-28; Romeine 11:25-27; Hebreërs 8:8-13).

Sonder enige twyfel is die Nuwe verbond met die huis van Israel en die huis van Juda gesluit (Jeremia 31:27-40; vgl. Hebreërs 8:8-13). Selfs al is daar Skrifgedeeltes wat die Nuwe verbond met die Kerk verbind (Matteus 26:28; 1 Korintiërs. 11:25; 2 Korintiërs 3:6), is die Nuwe verbond beslis nié met die Kerk gesluit nié.

Jeremia 31:31-32 stel dit baie duidelik dat die Nuwe verbond nie ʼn ‘hernude’ (Engels: ‘renewed’) Mosaïese verbond is nie (Pettegrew 1999:253-254; Fruchtenbaum 2005:23). Dit is ʼn splinternuwe, onvoorwaardelike verbond. Die offers wat ingevolge die Wet van Moses gebring is het sonde bedek, maar op grond van die bloed van die Lam van God word sonde ingevolge die Nuwe verbond heeltemal weggeneem. Verder, ingevolge die Nuwe verbond sal God sy wet in die binneste gee, geskrywe op gelowiges se hart (Jeremia 31:33; vgl. 2 Korintiërs 3:6). Anders as die Wet van Moses gaan die Nuwe verbond mense van binne-af verander — en die krag of vermoë om dit te doen kom deur die inwoning van die Heilige Gees (Esegiël 36:27; vgl. Matteus 3:11). In die Ou Testament het nie elke gelowige die inwoning van die Heilige Gees ontvang of dit selfs permanent ontvang nie.

Die Nuwe verbond bevat spesifieke beloftes vir Israel. Die vernuwing van Israel word belowe (Jeremia 31:33; Jesaja 59:21) wat beteken dat op ʼn stadium sal ‘die hele Israel gered word’ (Romeine 11:25-27). Aan die einde van die verdrukkingstydperk sal elke Jood wat dan nog lewe in Jesus Christus as sy of haar Verlosser en ook Koning glo — en dit is hierdie geredde nasie van Israel wat Jesus sal vra om terug te kom aarde toe (Hosea 5:15-6:1; Sagaria 12:10-12; Matteus 23:39). Wanneer Jesus dan terugkeer, sal Hy die Teokratiese koninkryk herstel en nuut oprig, dit is die Messiaanse koninkryk. Tydens die millenium sal die heiligdom herbou word (Esegiël 37:26-28) en Israel sal oorvloedig geseën word, nie net geestelik nie maar ook materieel (Jesaja 61:8; Jeremia 32:41; Esegiël 34:25-27).

Net soos wat die Mosaïese verbond die Wet van Moses bevat, net so bevat die Nuwe verbond die Wet van Christus (Romeine 8:2; 2 Korintiërs 9:21; Galasiërs 6:2). Nuwe-Testamentiese gelowiges leef onder die Wet van Christus, ons leef nié onder die Wet van Moses nié. Alhoewel baie gebooie van die Wet van Christus dieselfde as die Wet van Moses is, is daar baie gebooie wat ook verskil. Byvoorbeeld, nege van die Tien Gebooie verskyn ook in die Wet van Christus, maar ons is nie onder die verpligting om die Sabbat te onderhou nie (Romeine 14:5; Kolossense 2:16) en ook nie sekere voedselbeperkings nie (Markus 7:19; Romeine 14:20). Party gebooie in die Wet van Moses word deur die Wet van Christus versterk. Die Wet van Moses het byvoorbeeld gesê: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’ (Levitikus19:18), maar die Wet van Christus sê: ‘Julle [moet] mekaar liefhê net soos Ek julle liefgehad het’ (Johannes 15:12). Dit maak Christus die standaard, en Hy het die mens lief genoeg gehad om vir hom of haar te sterwe. Nog ʼn verskil is dat die Wet van Moses op die voorwaardelike Mosaïese verbond gebou is waar die motivering is: ‘Doen, sodat jy geseën kan word’. Die Wet van Christus is op die onvoorwaardelike Nuwe verbond gebou en die motivering is: ‘Jy was reeds en is steeds geseën, doen dus.’ (Lees gerus Fruchtenbaum (2005:23-24) vir ʼn vollediger bespreking oor die verskille en ooreenkomste tussen die Wet van Moses en die Wet van Christus.)

Die eintlike vraag is dit: as die Nuwe verbond aan die huis van Israel en die huis van Juda behoort (en dit doen), wat is dan die Kerk se verhouding tot die Nuwe verbond? Die vraag is veral belangrik aangesien ‘hierdie geslag’ in Israel wat tydens Jesus se eerste koms geleef het, nie net vir Jesus as verlosser en Koning verwerp het nie, maar boonop die onvergeeflike sonde gepleeg het (Matteus 12:23-32). Die antwoord is dat die Kerk ‘mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie’ (Efesiërs 3:6). Die Kerk deel in die geestelike seëninge van die Nuwe verbond maar die bruid van Christus neem nie Israel (die vrou van Jehova) se onvoorwaardelike verbonde oor nie (vergelyk Efesiërs 3:3-6). In die Kerk-era bou Christus as Hoof sy bruid deur beide Jood én nie-Jood in een liggaam te doop, ʼn verborgenheid wat nie voorheen openbaar gemaak is nie (Efesiërs 3:1-12).

Maar hóé word gelowiges hierdie seëninge deelagtig? Wanneer iemand tydens die Kerk-era die evangelie van Christus glo, word daardie persoon ‘in Christus’ geplaas en Jesus is die Middelaar van die Nuwe verbond volgens die priesterorde van Melgisédek (vgl. Efesiërs 2:13; Hebrëers 5-8; Pettegrew 1999:269-270).

Vanaf Pinkster ontvang elke gelowige die inwonende Heilige Gees en word elke gelowige in die liggaam van Christus gedoop.

Wat is die teken van verbondsverbintenis aan die Nuwe verbond? In die Kerk-era moet alle gelowige dissipels, beide Jood en nie-Jood, hulself aan Christus onderdanig stel en die teken hiervan is die doop van gelowige dissipels (Matteus 28:18-20).

————————
Bronne wat gebruik is:

Barrick, W.D., 1999, ‘The Mosaic Covenant’, The Master’s Seminary Journal 10(2), 213-232.

Bigalke, R.J., 2008, ‘The Biblical Covenants’.

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘Die agt verbonde van die Bybel’, Ariel Ministries, Tustin.

Pettegrew,L.D., 1999, ‘The New Covenant’, The Master’s Seminary Journal 10(2), 251-270.

Scholtz, J.J., 2014, ‘Die wisselwerking tussen die verbonde van die Bybel’, FaithEquip, Bellville.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']