Die verbonde van die Bybel Deel 8

Die Wet van Moses word deur Paulus as die ‘middelmuur van skeiding’ beskryf (Efesiërs 2:14) of te wel ʼn ‘wet van gebooie wat in insettinge bestaan’ (Efesiërs 2:15). As iemand gedurende die tyd wat die Wet van Moses gegeld het — vanaf Sinai tot by die kruis van Jesus Christus — uit God se genade deur geloof gered is, watter verbonde was van toepassing en hoe moes gelowiges dan voor God leef? ʼn Jood wat tot geloof gekom het moes onder die Wet van Moses leef, maar die situasie was meer genuanseerd vir die nie-Joodse gelowige gewees.

ʼn Nie-Jood wat van sy of haar sonde gered was in die tyd wat die Wet van Moses gegeld het, kon een van twee roetes volg. Die eerste roete was: bly in jou land en kom die verbond met Noag na asook daardie bepalings van die Abrahamitiese verbond wat op nie-Jode van toepassing is, byvoorbeeld seën Abraham en sy Joodse nageslag (Genesis 12:3). Voorbeelde van gelowiges wat hierdie roete gevolg het, is die koningin van die Suide en die manne van Ninevé (Matteus 12:41-42).

Die tweede alternatief vir ʼn gelowige nie-Jood gedurende die tyd wat die Wet van Moses gegeld het, was om ʼn proseliet te word. So ʼn persoon moes die juk van die Wet van Moses op hul skouers neem. Net soos vir Jode was die teken van die proseliete-man se verbondsverbintenis aan die Mosaïese verbond die onderhouding van die Sabbat. Ook die proseliete-vrou (byvoorbeeld Ragab of Rut) moes onderworpe aan die Wet van Moses wees en die verbondsteken was eweneens die Sabbat.

Let daarop dat een van die 613 bepalings van die Wet van Moses was dat mans besny moet wees. Vir ʼn Joodse man wie se ouers hom reeds op die 8ste dag besny het in gehoorsaamheid aan die verbondsteken van die Abrahamitiese verbond, was hierdie bepaling natuurlik eens en vir altyd reeds aan voldoen. Maar proseliete is nie Jode nie, die verbond van Abraham is vir Abraham as hoof van die Joodse nasie gegee so die proseliete-man moes fisies besny word in terme van die Mosaïese verbond, nié op grond van die verbond met Abraham nié.

Waarom sou nie-Joodse gelowiges hierdie tweede roete volg? Op dáárdie stadium in die geskiedenis was nie-Jode ‘vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte’ (Efesiërs 2:12) – dit is die onvoorwaardelike Abrahamitiese, Land-, Dawidiese en Nuwe verbonde wat God vir Israel of Israel se verteenwoordigers gegee het. Nie-Jode kon nie as nie-Jode die geestelike seëninge van Israel se onvoorwaardelike verbonde deelagtig word nie, want die ‘middelmuur van skeiding’ (Efesiërs 2:14) — dit is die Wet van Moses — het nie-Jode as nie-Jode hiervan weerhou. Maar proseliete kon die geestelike seëninge van Israel se onvoorwaardelike verbonde deelagtig word deur hul aan die Mosaïese verbond te onderwerp.

Die situasie ondergaan ʼn groot wending met Jesus Christus se eerste koms. Die Nuwe Testament leer dat by die kruis van Christus die Wet van Moses tot ʼn einde gekom het, of kragteloos gemaak is (Romeine 10:4; 2 Korintiërs 3:3-11; Galasiërs 3:19-22; Efesiërs 2:11-18; Hebreërs 7:11-12, 18). Christus het die middelmuur van skeiding afgebreek (Efesiërs 2:14-15) sodat die seën van Abraham (die Nuwe verbond) ook na die heidene (dit is: die nie-Jode) ‘kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang’ (Galasiërs 3:14).

In die Kerk-era bou Christus as Hoof sy bruid deur beide Jood én nie-Jood in een liggaam te doop, ʼn verborgenheid wat nie voorheen openbaar gemaak is nie (Efesiërs 3:1-12). Anders as in die tyd toe die Wet van Moses gegeld het, deel nie-Joodse gelowiges in Christus as nie-Jode alle geestelike seëninge in die hemele in Christus (Efesiërs 1:3). Ná die kruis moet nie-Joodse gelowiges nié onder die Wet van Moses leef nié. Galasiërs 3 verbied dit! Nie-Joodse gelowiges hoef nie die verbondsteken van die Sabbat na te kom nie en nie-Joodse gelowige mans moet nie fisies besny word soos wat die Wet van Moses dit van proseliete in die verlede vereis het nie.

Die Nuwe verbond behoort steeds aan die huis van Israel en die huis van Juda, soos wat die Nuwe-Testamentiese brief aan die Hebreërs dit duidelik stel (Hebreërs 8:8-13; vergelyk Romeine 9:4-5). Daar is beslis Skrifgedeeltes wat die Nuwe verbond met die Kerk verbind (Matteus 26:28; 1 Korintiërs. 11:25; 2 Korintiërs 3:6), maar die Kerk deel in die geestelike seëninge van die Nuwe verbond; die bruid van Christus neem nié Israel se onvoorwaardelike verbonde oor nié (vergelyk Efesiërs 3:3-6).

In terme van die Nuwe verbond ontvang elke gelowige vanaf Pinkster die inwonende Heilige Gees en word elke gelowige in die liggaam van Christus gedoop – en dit sal voortduur totdat die bruid na haar Bruidegom geneem is (Johannes 14:2; 1 Korintiërs15:51-52; 1 Thessalonisense 4:13-18). Daarna sal God voortgaan om sy planne met die nasies te voltrek: eers die Verdrukkingsperiode van sewe jaar en daarná die oprigting van die Messiaanse koninkryk.

————————
Bronne wat gebruik is:

Fruchtenbaum, A.G., 2005, ‘Die agt verbonde van die Bybel’, Ariel Ministries, Tustin.

Scholtz, J.J., 2014, ‘Die wisselwerking tussen die verbonde van die Bybel’, FaithEquip, Bellville.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']