Die wet van Moses en die wet van Christus

As iemand vandag tot geloof in Jesus Christus kom, tot watter mate — indien enige — behoort die gelowige die Wet van Moses te onderhou of geld die Wet van Christus vandag? Hierdie onderwerp is veral vir Jode belangrik.

God het vir Moses die 10 gebooie op kliptafels gegee, maar van Eksodus tot by die einde van Deuteronomium moes Moses nog 603 gebooie neerskryf. Alhoewel die Ou Testament dit nie spesifiek sê nie, getuig die Nuwe Testament dat God hierdie addisionele 603 gebooie deur die bemiddeling van engele aan Moses gegee het (Handelinge 7:53; Galasiërs 3:19; Hebreërs 2:2). Die Wet van Moses het dus nie net uit 10 gebooie bestaan nie, maar uit 613 gebooie.

Die Wet van Moses was ʼn eenheid. Soms deel mense hierdie Wet in seremoniële, wetlike en morele gebooie en redeneer dan dat vandag se gelowiges nie die seremoniële en wetlike gebooie hoef na te kom nie, maar steeds onderhewig aan die morele gebooie is. Maar nêrens deel die Skrif die Wet van Moses só op nie. Die Skrif verwys altyd na die Wet van Moses in die enkelvoud — dit is die één Wet van Moses wat vir Israel gegee is — en Jakobus 2:10 bevestig dié beginsel: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Die Mosaïese Wet was ʼn eenheid en om één van die 613 gebooie te verbreek was om hulle almal te verbreek.

Die Skrif openbaar vyf doelwitte van die Wet van Moses.

1. Dit het aan Ou-Testamentiese gelowiges die heiligheid van God geopenbaar.

2. Dit het die gedragskode vir Ou-Testamentiese Joodse gelowiges en proseliete uit die nasies uitgespel (Romeine 3:20, 28).

3. Die Wet van Moses het sonde geopenbaar (Romeine 3:20; vgl. Romeine 7:7).

4. Al klink dit vreemd, die Wet van Moses het die mens méér laat sondig: “maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word” (Romeine 5:20; vgl. Romeine 7:7-13; I Korinthiërs 15:56). Hoe werk dit? Mense was sondaars voordat die Wet van Moses gegee is, maar totdat die Wet gegee is, was die Israeliete nie oortreders van hierdie Wet van Moses nie. Toe hierdie Wet egter gegee is, het dit aanleiding gegee vir die sondige natuur om te funksioneer. Die oomblik toe die Wet van Moses vir die Jode asook proseliete gesê het, “Jy mag nie,” het die sondige natuur gesê, “O ja, ek sal.” Die oomblik toe die Wet gesê het, “Jy moet dit doen,” het die sondige natuur gesê, “O nee, ek sal nie.”

5. Die Wet van Moses is ook gegee om die mens tot geloof in Christus te lei. Galasiërs 3:24-25 sê dat die “wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ʼn tugmeester nie.” Al het iemand ook hoe hard probeer om die Wet van Moses volmaak te onderhou, het niemand dit as gevolg van hul sondige natuur reggekry nie. Soveel te meer moes daar in geloof op Christus vertrou word, want Hy is die uitsondering!

Sonder dat Hy enige sonde gehad het, het Jesus Christus die Wet van Moses perfek nagekom. “God het sy Seun uitgestuur, gebore uit ʼn vrou, gebore onder die wet” (Galasiërs 4:4). Jesus is as ʼn Jood gebore, uit die geslag van Juda (Matteus 1:1-17) om “die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang” (Galasiërs 4:5). Die gróót verandering vind by Christus se kruis plaas, naamlik die ondubbelsinnige leer van die Nuwe Testament dat die Wet van Moses sedert die dood van die Messias nie meer gesag oor enige individu het nie.

Eerstens sien ons dit in Romeine 10:4: “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.” Dit is glashelder, Christus is die einde van al 613 gebooie van die Wet van Moses; gevolglik het die Wet opgehou om te funksioneer.

Tweedens, die Wet van Moses was nooit bedoel om permanent van toepassing te wees nie, maar was slegs tydelik, soos ons in Galasiërs 3:19 lees: “Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom.” In die konteks verwys Paulus na die voorwaardelike en tydelike Wet van Moses as ʼn byvoeging tot die onvoorwaardelike Abrahamitiese Verbond. Dit is bygevoeg met die doel om sonde baie duidelik uit te wys sodat almal kan weet dat hulle nie voldoen aan God se standaarde vir geregtigheid nie, maar hulle geloof en hoop in die beloofde Messias moes plaas. Dit was ʼn tydelike byvoeging totdat die Saad; dit is Christus, sou kom; en noudat Hy gekom het, is die Wet verby. Waar die Mosaïese byvoeging met die kruis opgehou het om te funksioneer, gaan die onvoorwaardelike en permanente Abrahamitiese verbond aan.

Derdens, met die Messias is daar ʼn nuwe priesterorde volgens die orde van Melgisédek, nié volgens die orde van Aäron nié. Die Wet van Moses was die basis vir die Levitiese Priesterorde. ʼn Nuwe priesterorde vereis vanselfsprekend ʼn nuwe wet waaronder dit kan funksioneer, soos wat Hebreërs 7:11-12 dit pertinent leer: “As daar dan volkomenheid deur die Levitiese priesterskap was — want met die oog daarop het die volk [Israel] die wet ontvang — waarom was dit nog nodig dat ʼn ander priester moes opstaan volgens die orde van Melgisédek en dat hy dit nie volgens die orde van Aäron genoem word nie?” Nog redes kan aangevoer word waarom die Wet van Moses nie meer vandag geld nie, maar ons volstaan vir eers hiermee.

Gelowiges van vandag is onder “die Wet van Christus” (Galasiërs 6:2). In Romeine 8:2 word dieselfde wet “die wet van die Gees van die lewe” genoem. Die Wet van Christus bevat al die gebooie wat op die Nuwe-Testamentiese gelowige van toepassing is.

Die rede hoekom daar soveel verwarring bestaan oor die verhouding tussen die Wet van Moses en die Wet van Christus is, is omdat baie gebooie in die Wet van Christus ooreenkom met dié wat in die Mosaïese Wet gevind word. Baie gelowiges dink daarom dat sekere afdelings van die Wet van Moses behoue gebly het. ʼn Nuwe gedragskode sal altyd sekere gebooie bevat wat dieselfde is as dié van die vorige kode, maar dit beteken nie dat die vorige kode steeds geld nie. Dieselfde is waar wanneer ons die Wet van Christus met die Wet van Moses vergelyk. Daar is baie gebooie wat ooreenkom, maar hulle is nogtans in twee verskillende verbonde of stelsels. Byvoorbeeld, nege van die 10 gebooie van die Wet van Moses word in die Wet van Christus gevind, maar dit beteken nie dat die Wet van Moses steeds geld nie. Daar is ook verskille: onder die Wet van Moses is Jode nie toegelaat om varkvleis te eet nie, maar onder die Wet van Christus mag alle gelowiges dit eet.

Die Wet van Moses is by die kruis van Christus tersyde gestel en ons leef nou onder die Wet van Christus. So, as een van ons steel, is daardie persoon nie skuldig aan die verbreking van die Wet van Moses nie, maar aan die verbreking van die Wet van Christus. Positief gestel, onder die Wet van Moses moes die Jode en proseliete uit die nasies hulle naaste liefhê soos hulself, maar onder die Wet van Christus moet gelowiges ons naaste liefhê soos wat Jesus ons liefhet (vgl. Johannes 13:34). Die Wet van Christus is ‘n wet wat veel meer ingrypend en omvangryk is as wat die Wet van Moses ooit was.

———————-

Hierdie artikel is ʼn opsomming van dr. Arnold Fruchtenbaum se Die Wet van Moses en die Wet van Christus.

Volg ons op sosiale media:

Deel met ander:

[apss_share networks='facebook, twitter, pinterest']