Bedienings van die Heilige Gees

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees. – Titus 3:5

INLEIDING
Ons sal die bedienings van die Heilige Gees op vyf belangrike terreine bestudeer: eerstens, met betrekking tot die Skrif; tweedens, die bedienings van die Heilige Gees in die Ou Testament; derdens, in verhouding tot die natuurlike ryk; vierdens, met betrekking tot gelowiges; en vyfdens, die bedienings van die Heilige Gees in die toekoms.

I. DIE BEDIENINGS VAN DIE HEILIGE GEES MET BETREKKING TOT DIE SKRIF
Die Heilige Gees het drie terreine van bediening met betrekking tot die Skrif: openbaring, inspirasie en verheldering.

A. Die bediening van openbaring
Openbaring beteken “om die waarheid te ontvang en te onthul”. Openbaring behels die onthulling van iets wat nog nie voorheen onthul is nie. Die bron van goddelike openbaring wat voorheen verborge waarhede onthul, is die Heilige Gees. Ons lees in die Ou Testament hiervan in 2 Samuel 23:2-3, Eségiël 2:2; 8:3; 11:1, 24 en Miga 3:8. Ons vind dit in die Nuwe Testament in Johannes 16:12-15, 1 Korinthiërs 2:9-10 en 2 Petrus 1:21. Openbaring gaan daaroor om waarheid van God te ontvang.

B. Die bediening van inspirasie
Die tweede bediening wat verband hou met die Skrif, is die werk van inspirasie. Inspirasie het te doen met die opteken van waarheid. Toe mense dít wat aan hulle geopenbaar was, opgeteken het, kon hulle dit danksy hierdie bediening van die Heilige Gees heeltemal foutloos opteken. Openbaring beteken bloot dat God die waarheid direk aan ’n persoon bekend gemaak het; inspirasie, daarteenoor, behels die opteken van die waarheid wat geopenbaar is.

Nie alles wat geopenbaar is, is noodwendig opgeteken nie. Die apostel Johannes het byvoorbeeld in Openbaring 10 ’n openbaring ontvang oor iets wat die sewe donderslae geuiter het. Toe hy dit probeer neerskryf, is daar onmiddellik vir hom gesê: “Skryf dit nie op nie.” Dit is ’n voorbeeld van openbaring: iets is sonder inspirasie aan Johannes geopenbaar, en hy is nie toegelaat om dit op te teken nie.

Dít wat egter deur die Heilige Gees geopenbaar is en toe opgeteken is, het gebeur danksy die inspirasie van die Heilige Gees. Die Heilige Gees is die bron van inspirasie. Ons lees in die Ou Testament hiervan in Jesaja 59:21, en in die Nuwe Testament in Matthéüs 22:43-44, Markus 12:36-37, Handelinge 1:16; 4:25-26; 28:25-28 en 2 Timótheüs 3:16.

C. Die bediening van verheldering
Die derde bediening van die Heilige Gees wat verband hou met die Skrif, is sy werking om verheldering te verleen. Verheldering beteken “om die waarheid te verstaan”. Hoewel die Heilige Gees se bedienings van openbaring en inspirasie beperk is tot die profete, is sy werking om verheldering te verleen iets waarin alle gelowiges kan deel. Volgens 1 Johannes 2:20 kry alle gelowiges die salwing van die Heilige wanneer hulle gered word. Dit maak die Heilige Gees se werking om verheldering te verleen moontlik.

Verheldering is gemoeid daarmee om die waarheid te verstaan. Toe die Heilige Gees besig was met openbaring, het Hy ’n waarheid aan ’n profeet bekend gemaak. Toe die Heilige Gees besig was met inspirasie, het Hy die profeet sonder foute laat opteken wat geopenbaar was. Die verlening van verheldering volg hierna; dit is hoe die Heilige Gees gelowiges help om te verstaan wat die profete geskryf het.

Die inwoning van die Heilige Gees help gelowiges om die Skrif op twee maniere te verstaan: deur die gelowige se verstand te verlig tydens persoonlike Bybelstudie, en deur aan sekere gelowiges die gawe van lering te gee, sodat hulle op hul beurt ander gelowiges kan help om die Woord te verstaan. Wanneer ’n gelowige geestelike waarhede begryp, is dit te danke aan die Gees se bediening van verheldering. Ons lees in die Ou Testament hiervan in Nehemía 9:20, en in die Nuwe Testament in 1 Korinthiërs 2:14-16 en Efésiërs 1:15-18.

II. DIE BEDIENINGS VAN DIE HEILIGE GEES IN DIE OU TESTAMENT
Die tweede terrein van ons studie handel oor die Heilige Gees se werk in die Ou Testament. Dit kan in drie kategorieë verdeel word.

A. Die bediening van die Heilige Gees met betrekking tot die skepping
Die eerste kategorie is gemoeid met sy werk in die skepping. Die Vader en die Seun was nie alleen betrokke by die skepping nie; die Heilige Gees was ook betrokke. Die Heilige Gees het byvoorbeeld in Génesis 1:2 oor die wêreldvloed gesweef om orde uit die chaos te skep. In Job 26:13 het die Heilige Gees die hemel tydens die skepping met sy asem versier (helder gemaak). Job 33:4 gee erkenning aan die Heilige Gees se rol in die skepping van die mens. Psalm 33:6 sê die Gees, die Gees van sy mond, is verantwoordelik vir die skepping van die stoflike heelal. In Psalm 104:29-30 is die Heilige Gees verantwoordelik vir die skepping en onderhouding van lewe. In Jesaja 40:12-14 ontwerp die Heilige Gees die ganse skepping. Een van die Heilige Gees se belangrikste take in die Ou Testament was sy rol in die skepping.

B. Die bediening van die Heilige Gees met betrekking tot die wêreld
Die tweede kategorie is die Heilige Gees se werk met betrekking tot die wêreld. Daar is een teksgedeelte, Génesis 6, wat hieroor handel.

Ons kry die eerste profesie oor die Messias in Génesis 3:15. Daar word voorspel dat Hy uit die saad van die vrou gebore sal word, en dat Hy voortdurend met die slang sal bots. Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Daar sou vyandskap tussen Satan en die vrouegeslag van die menseras wees; hierdie vyandskap sou voortduur tussen Satan en die Persoon wat uit die “saad van die vrou” sou voortkom: die Messias.

Ons sien al in die eerste twee verse van Génesis 6 hoe hierdie vyandskap in werking gestel word. Satan het naamlik aan party van sy gevalle engele of demone ’n menslike gestalte gegee en hulle met vrouens uit die menseras laat trou, omdat hy die saad van die vrou wou bederf. Hierdeur wou hy die profesie van Génesis 3:15 ongedaan maak. Satan se vyandskap teenoor die vrou word duidelik in hierdie hoofstuk uitgebeeld. Die feit dat hierdie gevalle engele by die vroue ingegaan het, het ’n afskuwelike ras laat ontstaan wat uiteindelik die Sondvloed sou veroorsaak.

In Génesis 6:3 tref ons die werklike oorsaak van die Sondvloed aan: Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar.

Ons verstaan hieruit dat die Heilige Gees ’n heersersrol met betrekking tot die wêreld gespeel het. Sy heerskappy was teen sonde gemik. As die Gees sou ophou heers, sou daar vernietiging volg. Hy het honderd-en-twintig jaar lank teen hierdie spesifieke sonde van ondertrouery gestry; op die ou end het hy opgehou om in die mens te heers, en ná 120 jaar het die Sondvloed gekom en – op een familie na – almal uitgewis.

Die Gees het ná die Sondvloed sy taak van heerskappy voortgesit namate die mens begin vermeerder het, en Hy het daarbenewens ook gewerk om boosheid hok te slaan. Die demone wat met die mensevroue ondertrou het, is na Tartarus (2 Pet 2:4: die hel) verban. Demoniese inmenging in mense se lewens was skynbaar van daardie tydstip af hokgeslaan, want ons sien nie weer hierdie spesifieke sonde van ondertrouery opduik nie. Die mens se sonde het egter weer begin om duidelik te manifesteer. Die Heilige Gees het dus wat die wêreld in die algemeen betref, in mense geheers en boosheid hokgeslaan.

C. Die bediening van die Heilige Gees met betrekking tot die mens
Die derde kategorie is die werk van die Heilige Gees in die Ou Testament met betrekking tot sy bediening aan die mens.

’n Belangrike verskil
Daar is ’n belangrike verskil tussen die Heilige Gees se werk in die Nuwe Testament en sy werk in die Ou Testament. Hierdie verskil word in Johannes 7:37-39 uitgelig: En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

Hierdie gedeelte het beloof dat die Heilige Gees eendag aan alle gelowiges gegee sou word. Maar Jesus het daarop gewys dat die Gees nog nie gegee is nie. Dit beteken nie dat die Heilige Gees stilgesit het nie; Hy was dwarsdeur die Ou Testament en die Evangelies aan die werk. Maar daar was iets wat die Heilige Gees nog nie gedoen het nie, wat Hy ná die Messias se Hemelvaart vir Nuwe-Testamentiese gelowiges sou begin doen.

Ons vind die verklaring van Johannes 7:37-39 in Johannes 14:16-17: En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

Volgens hierdie teksgedeelte was die Heilige Gees op daardie tydstip by die gelowige. Later sou Hy in die gelowige wees. Hoewel die Heilige Gees reeds by die dissipels was met wie Jesus gepraat het, sou die Heilige Gees later in hulle wees. Dít is die groot verskil.

Vanaf Handelinge 2 woon die Heilige Gees in alle gelowiges. Hy het nie vóór Handelinge 2 in alle gelowiges gewoon nie, hoewel Hy in sommige gewoon het (Num 11:17, 25; 27:18). Daar was selektiewe inwoning in die Ou Testament, in soverre die Heilige Gees in party gelowiges gewoon het, maar nie in almal nie. 2 Konings 2:9-12 sê duidelik dat sy bediening van inwoning nie algemeen onder gelowiges was nie.

Die inwoning van die Heilige Gees in Ou-Testamentiese persone was boonop nie noodwendig permanent nie. In 1 Samuel 16:14 het die Gees van die Here byvoorbeeld van Saul gewyk. In Psalm 51:13 het koning Dawid gebid: … neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Die Heilige Gees het wel in Dawid gewoon, maar die Heilige Gees kon ook van Dawid wyk. Dawid se gebed was dus geldig volgens die Ou Testament, maar dit sou nie in die Nuwe Testament geldig wees nie.

Die verskil tussen die Ou en Nuwe Testament is tweeledig: In die eerste plek het die Heilige Gees in die Ou Testament slegs in sommige gelowiges gewoon; in die Nuwe Testament, vanaf Handelinge 2, woon hy in alle gelowiges. ’n Tweede verskil is dat mense wat wel in die Ou Testament die inwoning van die Heilige Gees geniet het, dit nie noodwendig permanent gehad het nie. In die Nuwe Testament, vanaf Handelinge 2, woon die Heilige Gees vir altyd in die gelowige. Ons sal in Afdeling IV meer hieroor uitwei.

2. Die spesifieke bedienings
Die Heilige Gees het in die Ou Testament drie spesifieke bedienings onder mense gehad.

Die eerste bediening was inwoning. Die Heilige Gees het in party mense gewoon. Die Heilige Gees het nie in alle gelowiges gewoon nie, maar Hy het wel in party gelowiges gewoon. Hy het byvoorbeeld in Joshua (Num 27:18), in Daniël (Dan 6:3) en in die Ou-Testamentiese profete (1 Pet 1:10-11) gewoon.

Die tweede bediening in die Ou Testament was dat die Heilige Gees op sommige mense neergedaal het. Hy het byvoorbeeld op Ótniël (Rig 3:9-10), Gídeon (Rig 6:34), Jefta (Rig 11:29), Simson (Rig 13:24-25, 14:6, 19; 15:14), Saul (1 Sam 10:9-10) en Dawid (1 Sam 16:13) gekom.

Die derde bediening was dié van vervulling. Die verskille tussen inwoning en vervulling sal later in hierdie artikel, in Afdeling IV, bespreek word. Voorbeelde van die Heilige Gees se bediening van vervulling kom in Exodus 28:3; 31:3 en 35:30-31 voor.

3. Opsomming
’n Mens moet vyf implikasies in gedagte hou as ’n mens die Heilige Gees se werk onder mense in die Ou Testament opsom.

Die werk van die Heilige Gees was in die eerste plek gekoppel aan spesiale diens. Diegene wat opgeroep was vir spesiale diens, was dié wat die spesiale werk van die Heilige Gees ontvang het.

In die tweede plek was die Heilige Gees se werk gemik op bonatuurlike toerusting. Die Heilige Gees het persone wat ’n spesiale taak moes uitvoer, op ’n spesiale manier toegerus.

Derdens het die Heilige Gees se werk dikwels die voorsiening van bonatuurlike insig behels. Dit was veral waar in Daniël se geval, wat deur die werking van die Heilige Gees unieke wysheid by God gekry het.

In die vierde plek het die Heilige Gees se werk ingesluit om mense met spesiale vaardighede toe te rus. Die twee mans wat verantwoordelik was om toesig te hou oor die werk aan die Tabernakel het hierdie bediening van die Heilige Gees ontvang (Ex 31:1-5). Hulle het spesiale vaardighede ontvang, met die gevolg dat die werk wat hulle aan die Tabernakel gedoen het, van uitstekende vakmanskap getuig het.

Vyfdens het die werk van die Heilige Gees somtyds die voorsiening van bonatuurlike krag ingesluit. Mense het krag ontvang om uitsonderlike dade te doen wanneer die Heilige Gees hulle toegerus het. Een so ’n voorbeeld is Simson (Rig 13:25; 14:6, 19; 15:14).

III. DIE BEDIENINGS VAN DIE HEILIGE GEES IN DIE NATUURLIKE RYK
Die derde hoofterrein van die Heilige Gees se bedienings is sy werk in die natuurlike ryk. Dit is die werk wat hy doen onder ongelowiges. Die hoofbediening van die Heilige Gees onder ongelowiges is die werk van oortuiging. Die Gees se oortuigingswerk behels dat Hy “die feite van die saak in so ’n duidelike lig stel, dat die waarheid daarvan erken moet word, selfs al word dit nie ter harte geneem nie”. Wat die evangelie betref, beteken oortuiging dat die evangelie in só ’n duidelike lig gestel word dat die ongelowige persoon die inhoud daarvan begryp en erken dat dit waar is, ongeag of die persoon dit sy eie maak of nie.

Die teksgedeelte wat die Gees se oortuigingswerk die beste beskryf, is Johannes 16:7-11: Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.

Volgens hierdie gedeelte sal die Heilige Gees se oortuigingswerk op drie terreine plaasvind: sonde, geregtigheid en oordeel. Aangesien elke terrein verduidelik word, is dit moontlik om te bepaal van watter tipe sonde, watter tipe geregtigheid en watter tipe oordeel die Heilige Gees die wêreld sal oortuig.

In die eerste plek sal die Heilige Gees die ongelowige wêreld van sonde oortuig. Watter spesifieke sonde? Die sonde van ongeloof: omdat hulle in My nie glo nie. Die mens word voor God geoordeel – nie omdat hy ’n sondaar is nie, maar omdat hy in ’n sondetoestand verkeer. Hy is in hierdie sondetoestand, ’n toestand van ongeloof, gebore. Weens hierdie sondetoestand het hy geweier om in die Verlosser te glo.

Tweedens sal die Heilige Gees mense oortuig van geregtigheid. Watter geregtigheid? Die geregtigheid van die Messias wat bewys is deur sy Hemelvaart na sy Vader. Jesus se geregtigheid is bewys deur sy Hemelvaart en sy ontvangs in die Hemel. As hy nie vol geregtigheid was nie, sou Hy nie na die Hemel toe kon opvaar nie. Die sonde van ongeloof veroorsaak dat die sondaar versuim om die geregtigheid te ontvang wat aan die Messias te danke is.

Die Heilige Gees sal die wêreld derdens van oordeel oortuig. Watter oordeel? In hierdie geval is dit die finale oordeel: omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is. As die owerste van hierdie wêreld geoordeel is, sal sy onderdane ook geoordeel word. Versuim om die geregtigheid wat die Messias verdien het, aan te gryp, sal egter op hierdie finale oordeel uitloop: die oordeel van die Groot Wit Troon.

Die Heilige Gees se oortuigingswerk volg dus hierdie logiese stappe. Hy sal ongelowige mense oortuig van die sonde van ongeloof. Hul ongeloof veroorsaak dat hulle nie die geregtigheid wat die Messias verdien het, ontvang nie. En omdat hulle nie hierdie geregtigheid ontvang nie, sal hulle by die finale oordeel Satan se lot in die Poel van Vuur deel.

IV. DIE BEDIENINGS VAN DIE HEILIGE GEES IN DIE GELOWIGE SE LEWE
Die grootste deel van hierdie studie sal aan hierdie vierde hoofterrein gewy word: die bedienings van die Heilige Gees in die gelowige se lewe. Dit is ’n terrein waaroor daar baie openbaring is. Ten einde al hierdie materiaal beter te verstaan, sal dit in twee hoofkategorieë bestudeer word. Die eerste hoofkategorie is “Die bedienings van die Heilige Gees met betrekking tot redding”. Die tweede hoofkategorie is “Die bedienings van die Heilige Gees met betrekking tot geestelike groei”.

A. Die bedienings van die Heilige Gees met betrekking tot redding
Die Heilige Gees het vyf bedienings met betrekking tot redding.

1. Die bediening van wedergeboorte
Die eerste bediening is die werk van wedergeboorte. Die woord “wedergeboorte” (Engels: regeneration) word op twee plekke in die Nuwe Testament aangetref. Matthéüs 19:28 praat van die wedergeboorte van die stoflike heelal, die hemele en die aarde, wat tydens die Messiaanse Koninkryk sal plaasvind. Die tweede plek is in Titus 3:5, wat wedergeboorte in verband bring met mense.

a. Die betekenis van wedergeboorte
Die basiese betekenis van wedergeboorte is die konsep van ’n nuwe geboorte, ’n voortplanting, ’n hernuwing, ’n herskepping. Die beste definisie van wedergeboorte is om iemand “die ewige lewe deelagtig te maak”. Dit beteken “om uit God gebore te word”. Dit is God se ingryping wat ons die ewige lewe deelagtig maak. Dit is wat “nuwe geboorte” beteken. Die nuwe geboorte is bloot ’n vorm van beeldspraak wat dieselfde as wedergeboorte beteken. Tydens die nuwe geboorte word ’n mens uit God gebore en word jy die ewige lewe deelagtig.

b. Die middel tot wedergeboorte
Die Heilige Gees is die middel tot wedergeboorte. Dit blyk uit die bekendste teksgedeelte oor die nuwe geboorte, Johannes 3:5-6: Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Titus 3:5, wat ook die term “wedergeboorte” bevat, leer vir ons dieselfde waarheid en gee aan die Heilige Gees erkenning vir dié werk: … nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees.

Die Heilige Gees is die middel tot wedergeboorte. Geloof is nie op sigself die middel tot wedergeboorte nie, maar geloof word van die mens vereis, want dit stel die Heilige Gees in staat om die werk van wedergeboorte te doen. Wanneer ’n mens glo en Jesus in geloof as sy Messias aanvaar, stel daardie geloof die Heilige Gees in staat om die werk van wedergeboorte te doen. Geloof en wedergeboorte vind in die praktyk gelyktydig plaas, want die oomblik wanneer ’n mens begin glo, word jy wedergebore.

God se Woord is ook nie die middel tot wedergeboorte nie, hoewel dit die inhoud van ons geloof verskaf. Dit sê wát ’n mens moet glo om deur die Heilige Gees wedergebore te word.

c. Die grondslag van wedergeboorte
Die grondslag van wedergeboorte is geloof. Geloof is nie die middel nie, maar dit is die vereiste wat die mens moet nakom om die Heilige Gees in staat te stel om die werk van wedergeboorte te doen. Ons lees dit in Johannes 1:12-13: Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is.

Johannes 3:16 sê dit ook: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

d. Die beeldspraak vir wedergeboorte
Die Bybel gebruik twee vorme van beeldspraak vir wedergeboorte. Die eerste is “om weer gebore te word” (Joh 3:3-7) en “opwekking uit ’n geestelike dood” (Rom 6:1-6; Ef 2:5-6).

e. Die implikasies van wedergeboorte
Wedergeboorte is ’n werk wat die Heilige Gees doen waardeur ’n mens die ewige lewe ontvang. Hierdie bediening het twee implikasies.

(1) Nie ervaringsgebonde nie
In die eerste plek is dit nie ervaringsgebonde nie. Wedergeboorte kan dalk gepaard gaan met ervaring, maar wedergeboorte op sigself is nie ervaringsgebonde nie. Dit is nie iets wat gevoel kan word nie. Dit is iets wat die Heilige Gees doen. Mense wat gered word, reageer op verskillende maniere: party reageer baie emosioneel, ander reageer heeltemal sonder emosie, en tussenin lê daar ’n hele reeks reaksies. Maar wedergeboorte self is nie ervaringsgebonde nie.

(2) Oombliklik
In die tweede plek is wedergeboorte oombliklik; dit is nie ’n proses nie. Die oomblik wat iemand glo, is hy eens en vir altyd wedergebore, en hy bly wedergebore van daardie tydstip af verder. Die Griekse aoristos-tydvorm word in Johannes 1:13; 3:3, 5, 7 gebruik. Dit beklemtoon die onmiddellike aard van hierdie werk. Die Griekse voltooid teenswoordige tyd word in 1 Johannes 2:29; 3:9; 4:7; 5:1, 5, 18 gebruik. Die voltooid teenswoordige tyd in Grieks beklemtoon dat ’n handeling in die verlede voltooi is, maar dat dit onveranderd voortduur in die hede. Die Griekse voltooid teenswoordige tyd sê dus dat wedergeboorte beteken dat ’n mens volkome wedergebore is in die verlede, en dat hierdie wedergeboorte tot in die hede voortduur. Wedergeboorte vind oombliklik plaas; dit is nie ’n proses nie.

f. Die resultate van wedergeboorte
“Wat is die resultate van wedergeboorte?” Sodra ’n persoon wedergebore word, is daar vier resultate.

(1) Ewige lewe
In die eerste plek ontvang die gelowige die ewige lewe (Joh 3:16). Die oomblik wat iemand glo, word hy wedergebore; omdat hy wedergebore is, het hy die ewige lewe.

(2) ’n Nuwe skepping
Die tweede resultaat is ’n nuwe skepping. Die wedergebore persoon word as ’n nuwe skepping beskou, iemand wat nuut geskep is (2 Kor 5:17; Gal 6:15; Ef 2:10; 4:24).

(3) Ewige sekerheid
Die derde resultaat is ewige sekerheid (Fil 1:6). Die werk van wedergeboorte kan nie ongedaan gemaak word nie. Wanneer ’n persoon in hierdie wêreld gebore word, kan hy nie teruggaan in die moederskoot en weer ’n fetus word nie. Die werk van fisiese geboorte kan nie ongedaan gemaak word as dit eers plaasgevind het nie. Dieselfde geld vir geestelike wedergeboorte. Die werk van wedergeboorte kan nie ongedaan gemaak word nie. Sodra ’n persoon deur wedergeboorte deel word van God se familie, kan hy nooit teruggaan na enige soort “geestelike moederskoot” nie. Daarby ontvang die wedergebore persoon reeds die ewige lewe. As hierdie lewe verlore kan raak, was dit in die eerste plek nie ewig nie, maar slegs tydelik.

(4) Nuwe lewe en ’n nuwe natuur
Die vierde resultaat is ’n nuwe lewe en ’n nuwe natuur. Die boek 1 Johannes beskryf hoe hierdie nuwe lewe en nuwe natuur werk. 1 Johannes 2:29 beskryf ’n lewe wat geregtigheid beoefen. 1 Johannes 3:9 beskryf ’n nuwe natuur wat nie sondig nie. 1 Johannes 4:7 en 5:1 hou ’n lewe voor wat uitdrukking vind in liefde. 1 Johannes 5:4 wys vir ons ’n lewe wat die wêreld deur geloof oorwin. 1 Johannes 5:18 beskryf die gelowige se nuwe natuur; hy sondig nie en lewe in die waarheid.

2. Die bediening van inwoning
Die tweede belangrike bediening van die Heilige Gees met betrekking tot redding is die bediening van inwoning. Waar wedergeboorte die Messias deel van die gelowige se lewe maak, maak inwoning die Heilige Gees deel van die gelowige se lewe.

a. Skrifgedeeltes oor die bediening van inwoning
Daar is ’n paar skrifgedeeltes wat daarop wys dat die Heilige Gees in gelowiges woon.

In Johannes 7:37-39 het die inwoning nog in die toekoms gelê; die Heilige Gees het nog nie in alle gelowiges begin woon nie, omdat die Seun nog nie verheerlik was nie. Die verheerliking van die Seun het plaasgevind toe Hy Hemel toe gevaar het. Die Heilige Gees het tien dae later gekom en begin om in gelowiges te woon.

Jesus het in Johannes 14:16-17 beloof om ’n ander Trooster, die Heilige Gees, te stuur wat tot in ewigheid in gelowiges sou woon – nie tydelik nie, nie totdat hulle weer sondig nie, nie totdat hulle die gemeenskap van gelowiges verlaat nie, maar tot in ewigheid.

In Handelinge 11:17 word die inwoning van die Heilige Gees ’n gawe van God genoem, en God trek nie sy gawes terug nie.

In Romeine 5:5 lees ons dat die gawe van die Heilige Gees te danke is aan die liefde van God wat in ons lewe uitgestort word.

In Romeine 8:11 waarborg die inwoning van die Heilige Gees dat die gelowige se liggaam weer lewend gemaak sal word as hy te sterwe kom.

In 1 Korinthiërs 6:19-20 maak die inwoning van die Heilige Gees die liggaam [van die gelowige] ’n tempel … van die Heilige Gees.

In Galásiërs 4:6 is die Heilige Gees in die gelowige se hart, besig om vir hom in te tree.

In 1 Johannes 3:24 en 4:13 bly die Heilige Gees in die gelowige.

Die punt wat telkens hieruit na vore tree, is dat die Heilige Gees danksy die dood, begrafnis, opstanding, hemelvaart en verheerliking van die Messias, nou in alle gelowiges bly. In die Ou Testament het die Heilige Gees slegs in sommige gelowiges gebly. Nou bly Hy in alle gelowiges.

b. Die middel tot inwoning
Die middel tot inwoning is geloof. Volgens Galásiërs 3:2 begin die Heilige Gees se inwoning die oomblik wanneer ’n mens glo, wanneer ’n mens tot geloof kom.

“Maar waar pas gehoorsaamheid in?” Die verhouding tussen gehoorsaamheid en inwoning word in Handelinge 5:32 uitgespel, wat handel oor die gehoorsaamheid van ’n ongelowige persoon. ’n Ongelowige persoon moet ’n sekere gehoorsaamheid openbaar om die inwoning van die Heilige Gees te ontvang, en dit is geloofsgehoorsaamheid. Die gehoorsaamheid wat die ongelowige persoon volgens Handelinge 5:32 moet hê om die inwoning van die Heilige Gees te ontvang, is geloofsgehoorsaamheid, en geloof is nie werke nie (Hand 6:7; Rom 1:5; 16:26). Die enigste opdrag wat ’n mens moet gehoorsaam om die Heilige Gees te ontvang, is die opdrag om in die Here Jesus te glo. Dit is die geloofsgehoorsaamheid waardeur ’n mens die inwoning van die Heilige Gees ontvang. Die middel tot inwoning is geloof.

c. Die algemeenheid van inwoning
Hierdie inwoning is universeel onder alle gelowiges. Hoewel die Gees in die Ou Testament slegs in sommige gelowiges gebly het, bly Hy sedert Handelinge 2 in alle gelowiges. Dit blyk op verskillende maniere.

(1) Die bewys van die ongeredde staat
Romeine 8:9 sê: … julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.

In die eerste plek leer die Nuwe Testament ons dat die afwesigheid van die Heilige Gees se inwoning bewys is van ’n ongeredde toestand. Iemand in wie die Heilige Gees nie woon nie, is in die eerste plek nie ’n gelowige nie: dié behoort nie aan Hom nie.

Judas 19 is nog ’n vers waar ons dieselfde waarheid lees: Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie.

Die woord “hulle” in vers 19 verwys na ongelowiges wat spotters genoem word in vers 18. Judas sê die Heilige Gees woon nie in hulle nie.

(2) Die Gees woon in sondige gelowiges
Die tweede bewys van die universele inwoning van die Heilige Gees is die feit dat die Heilige Gees selfs in sondige gelowiges woon. Die beste voorbeeld hiervan is die gemeente in Korinthe, wat ongetwyfeld die sondigste gemeente in die Bybel was. Daar het allerhande sondige aktiwiteite in die kerk in Korinthe gebeur, byvoorbeeld verdeeldheid, strydende faksies, onsedelikheid, gelowiges wat ander gelowiges hof toe sleep, mense wat dronk geraak het tydens die Nagmaal, en die misbruik van geestelike gawes.

Tog, ten spyte van die feit dat die gelowiges in Korinthe al hierdie vreeslike sondes gepleeg het, skryf Paulus in 1 Korinthiërs 6:19-20: Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

Paulus skryf dat die Heilige Gees ten spyte van hul jammerlike geestelike toestand steeds in hulle gebly het, omdat hulle ware gelowiges was. Hierdie inwoning is die grondslag van die geestelike lewe, en Paulus het die Korinthiërs aangemoedig om hiervolgens te lewe. Die Gees woon dus selfs in sondige, wêreldse gelowiges. Dit is die tweede bewys dat die Heilige Gees in alle gelowiges woon.

(3) Die gawe van inwoning
Die derde bewys dat die Heilige Gees universeel is onder alle gelowiges, is dat die inwoning deur die Heilige Gees ’n gawe is. Gawes word nie toegeken volgens meriete nie (Joh 7:37-39; Hand 11:17; Rom 5:5; 1 Kor 2:12).

Die Heilige Gees se werk van inwoning is ongetwyfeld universeel onder gelowiges; Hy woon in alle gelowiges.

d. Die permanensie van inwoning
Die inwoning van die Heilige Gees is permanent. Ons sien dit in Johannes 14:16: En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid.

Indien die Heilige Gees weggeneem kan word van ’n gelowige, sou die Heilige Gees nie tot in ewigheid in hom kon woon nie. Tot in ewigheid beteken presies wat dit sê; anders sou dit slegs “tydelik” wees. Inwoning is nie net universeel onder alle gelowiges nie; dit is ook permanent.

e. Die resultate van inwoning
Daar is twee resultate wat uit inwoning spruit. Die Gees se inwoning is ’n onderpand (belofte) van baie meer seëninge wat voorlê. Die feit dat die Heilige Gees in iemand kom woon sodra hy begin glo, is bloot ’n onderpand of paaiement van nog seëninge wat voorlê (2 Kor 1:21-22; 5:5; Ef 1:14).

Die tweede resultaat van inwoning is dat die gelowige ’n woning van God word. Gelowiges is in drie opsigte ’n woning van God: in die eerste plek, as deel van die universele Kerk, in wie die Heilige Gees woon (Ef 2:21-22); tweedens, as deel van ’n plaaslike gemeente, in wie die Heilige Gees ook woon. In 1 Korinthiërs 3:16-17 praat Paulus met die hele gemeente in Korinthe en sê: Weet julle [meervoud] nie dat julle [meervoud] ’n tempel van God is … nie? In die derde plek woon die Heilige Gees in elke gelowige individu, wat beteken dat die gelowige individu ’n tempel van God is. In 1 Korinthiërs 6:19-20 praat Paulus met individue en sê: Of weet julle [Grieks: enkelvoud] nie dat julle [Grieks: enkelvoud] liggaam ’n tempel is … nie?

3. Die bediening van doping deur die Gees
Die derde bediening van die Heilige Gees met betrekking tot redding is die bediening van doping. Daar is deesdae baie verwarring, debat en dwaling oor hierdie spesifieke bediening. Die Bybel self is baie duidelik oor hierdie saak, maar daar het baie dwaling ontstaan omdat mense dikwels die Skrif eerder aan die hand van hul eie ervaring vertolk as om te kyk na wat die teks sê.

a. Verskeie redes vir verwarring oor doping deur die Gees
(1) Die unieke bediening vir die Kerk in hierdie bedeling

Die eerste rede vir die verwarring is dat baie mense nie die eiesoortigheid van die Kerk in hierdie tydvak besef nie. Doping deur die Gees word verkeerd verstaan omdat baie mense nie besef dat dit ’n unieke bediening van die Heilige Gees is wat slegs vir hierdie tydvak en slegs vir die Kerk bestem is nie. Die Gees het nooit hierdie bediening in die Ou Testament beoefen nie. Hy het wel sekere gelowiges gewederbaar en in sommige gelowiges gewoon, maar Hy het nooit in die Ou Testament enigiemand gedoop nie. Mense het verkeerde gevolgtrekkings gemaak omdat hulle nie besef dat doping deur die Gees ‘n unieke bediening vir hierdie tydvak is nie.

(2) Die oordrewe klem op waterdoop
’n Tweede rede vir die verwarring wat vandag oor doping deur die Gees bestaan, is die oorbeklemtoning van waterdoop. Teksgedeeltes soos Romeine 6:1-4 wat oor doping deur die Gees handel, is te wyte aan hierdie oorbeklemtoning verkeerdelik op waterdoop toegepas. Die oorbeklemtoning van waterdoop het tot ’n verkeerde begrip van doping deur die Gees gelei.

(3) Die verband tussen die gawe van spreek in tale en doping deur die Gees
’n Derde rede waarom daar verwarring oor doping deur die Gees bestaan, is omdat mense dit met die gawe van spreek in tale verbind. Daar is, soos wat ons later sal bewys, ’n verskil tussen spreek in tale en doping met die Heilige Gees. Die verwarring hieroor het ontstaan weens mense wat ander leer dat ’n mens in tale spreek as jy met die Heilige Gees gedoop word – en dat iemand wat nie in tale spreek nie, nie met die Heilige Gees gedoop is nie; sulke mense verbind hierdie twee werkings van die Heilige Gees verkeerdelik met mekaar.

(4) Die verskil in Engelse vertalings
’n Vierde rede vir die verwarring is dat dieselfde Griekse woord op meer as een manier in party Engelse Bybelvertalings vertaal is. Handelinge 1:5 in die King James Version sê byvoorbeeld: baptized with the Holy Ghost, maar 1 Korinthiërs 12:13 sê: For by one Spirit are we all baptized.

Iemand wat hierdie Engelse vertaling lees kan die afleiding maak dat daar ’n verskil is tussen doping met die Heilige Gees en doping deur die Heilige Gees. Enkele groepe het op grond van hierdie Engelse vertaling hierdie onderskeid getref, en bely dat, hoewel alle gelowiges deur die Heilige Gees gedoop is, slegs party – dié wat in tale spreek – met die Heilige Gees gedoop is, of andersom. Die probleem met hierdie teologie is dat die woorde “met” en “deur” dieselfde grondwoord is; geen onderskeid kan dus getref word nie. Aangesien dieselfde Griekse woord egter op verskillende maniere in Engels vertaal is, het mense doping deur die Gees verkeerd verstaan.

(5) Die verhouding tussen doping deur die Gees en vervulling met die Gees
Die vyfde rede vir die verwarring is dat mense dikwels nie die verband tussen doping deur die Gees en vervulling met die Gees verstaan nie. Om met die Gees vervul te word en om deur die Gees gedoop te word is twee verskillende sake. Doping deur die Gees is ’n handeling wat verband hou met redding. Vervulling met die Gees is ’n handeling wat verband hou met geestelike groei. Die bediening van vervulling met die Gees sal later in hierdie artikel in fyner besonderhede bestudeer word. Baie dwaling het ontstaan omdat mense doping deur die Gees met vervulling deur die Gees verwar het.

b. Skrifgedeeltes oor die bediening van doping deur die Gees
Doping deur die Gees word slegs in die Nuwe Testament genoem, omdat dit nog nie in die Ou Testament ter sprake was nie. In die vier Evangelies word dit altyd genoem as iets wat in die toekoms wag (Matt 3:11; Mark 1:8; Luk 3:16; Joh 1:33). Doping deur die Gees word in die Evangelies slegs deur Johannes die Doper aangeroer. Hy het voorspel dat die Messias mense met die Heilige Gees sou doop wanneer Hy kom. Johannes die Doper het ’n onderskeid getref tussen sy werk – waterdoop – en die Messias se werk – doping deur die Heilige Gees. Nêrens in die Evangelies lees ons egter dat doping deur die Gees plaasgevind het nie.

Doping deur die Gees word weer in Handelinge 1:5 genoem, maar steeds met die oog op die toekoms. In die Evangelies het Johannes die Doper doping deur die Gees voorspel; in Handelinge 1:5 het Jesus dit voorspel. Tot en met Handelinge 1 het dit nog nie gebeur nie.

In Handelinge 11:16 word doping deur die Gees weer genoem. Handelinge 11:16 is ’n aanhaling van Handelinge 1:5. Indien dit in samehang met vers 15 gelees word, verstaan ’n mens daaruit dat doping deur die Gees in Handelinge 2 begin het. In Handelinge 1 het dit nog in die toekoms gelê, maar in Handelinge 2 het dit begin. Hoewel Handelinge 2 nie melding maak van doping deur die Gees nie, sê Handelinge 11:16 dat doping deur die Gees op daardie tydstip begin het.

Romeine 6:3-5 sê dat gelowiges hulle deur doping deur die Gees met die dood en opstanding van die Messias vereenselwig.

Volgens 1 Korinthiërs 12:13 is gelowiges almal deur die Heilige Gees gedoop tot een liggaam; almal, nie net party nie.

Galásiërs 3:27 sê dat gelowiges in Christus gedoop is.

Efésiërs 4:4-6 praat van een doop, synde die doping deur die Gees, aangesien dit aan ander elemente in die vers gekoppel is wat duidelik aan die geestesryk behoort, nie aan die fisiese ryk nie. Dit kan dus nie na waterdoop verwys nie.

Kolossense 2:12 sê ook dat doping deur die Gees gelowiges aan die begrafnis en opstanding van die Messias bind.

Ons moet ons lering en leerstellings oor doping deur die Gees uit hierdie teksgedeeltes haal wat oor doping deur die Gees handel. Ons moet versigtig wees om nie hierdie bediening met ander bedienings van die Gees te verwar nie. As ’n mens hierdie spesifieke teksgedeeltes bestudeer, moet ’n mens daarop let dat die Griekse konstruksie altyd dieselfde bly, ongeag hoeveel Engelse vertaalwyses gebruik word. Doping is altyd deur die Heilige Gees. Gelowiges word deur die Heilige Gees gedoop. Gelowiges word tot die Liggaam van die Messias gedoop. Die woord deur beklemtoon die tussenganger: gelowiges word deur die tussenkoms van die Heilige Gees gedoop. Die woord tot beklemtoon die sfeer: gelowiges word altyd tot die sfeer van die Messias se Liggaam gedoop. Daar kan geen onderskeid getref word tussen doping deur die Gees en doping met die Gees nie. Die Griekse konstruksie is, sonder uitsondering, altyd dieselfde. ’n Mens word altyd deur die Gees tot die Liggaam van Christus gedoop.

c. Die tussenganger van doping deur die Gees
“Wie is die tussenganger by doping deur die Gees?” Daar is ’n primêre en ’n sekondêre tussenganger. Die primêre tussenganger is die Heilige Gees. Dit is wat 1 Korinthiërs 12:13 ons leer: ons is almal deur een Gees gedoop tot een liggaam. Die Heilige Gees Self is die primêre tussenganger by doping deur die Gees, want gelowiges word deur die Heilige Gees gedoop. Die Messias is die indirekte tussenganger, want Hy vaardig die Gees af om die werk van doping deur die Gees te doen (Matt 3:11; Mark 1:8; Luk 3:16; Joh 1:33). Die Messias is die uiteindelike, indirekte tussenganger, en die Heilige Gees is die onmiddellike tussenganger in die handeling van doping deur die Gees.

d. Die begin van doping deur die Gees
Nog ’n belangrike feit oor doping deur die Gees is dat dit ’n unieke bediening vir die Kerk in die Bedeling van Genade is. Dit is ’n eiesoortige, unieke bediening in soverre dit iets is wat die Gees nooit in die Ou Testament of in die Evangelies gedoen het nie, maar eers toe die Kerk in Handelinge 2 gebore is. Dit blyk uit ’n vergelyking van vier skrifgedeeltes.

Die eerste teksgedeelte is Kolossense 1:18, waar ons lees dat die Kerk die Liggaam van die Messias is: En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.

Die tweede teksgedeelte is 1 Korinthiërs 12:13, wat vir ons leer dat doping deur die Gees die manier is waarop ons deel van die Liggaam word: Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Die Kerk is die Liggaam van die Messias, en ons word slegs deur doping deur die Gees deel daarvan.

Die derde teksgedeelte is Handelinge 1:5, wat sê dat doping deur die Gees op daardie tydstip nog in die toekoms gelê het: Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.

Die vierde teksgedeelte is Handelinge 11:15-17, wat Handelinge 1:5 aanhaal en vir ons leer dat doping deur die Gees tydens Pinkster in Handelinge 2 begin het: En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word. As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?

Die Kerk is die Liggaam van Christus. Die enigste manier om deel te word van hierdie Liggaam is deur doping deur die Gees. In Handelinge 1 het doping deur die Gees nog in die toekoms gelê. Volgens Handelinge 11 het doping deur die Gees tydens Pinkster in Handelinge 2 begin. Uit die aard van die saak is die Kerk ook op daardie tydstip gebore. Dit is dus ’n baie unieke bediening vir hierdie bedeling. Dit is ’n bediening van die Heilige Gees wat uitsluitlik op die Kerk gemik is. Sodra die Kerk voltooi en weggeraap is, sal die Heilige Gees nie meer doping deur die Gees beoefen nie. Hy het nie in die Ou Testament enigiemand deur die Gees gedoop nie; Hy doen dit slegs in die Kerk se tydvak. Sodra die Kerk weggeraap word, sal die bediening van doping deur die Gees nie in die Verdrukking of in die Duisendjarige Ryk beoefen word nie. Doping deur die Gees het eers in Handelinge 2 begin.

e. Die algemeenheid van doping deur die Gees
Nog ’n feit oor doping deur die Gees is dat dit universeel onder alle gelowiges voorkom. Gelowiges word nie selektief deur die Gees gedoop nie; sedert Handelinge 2 word elke gelowige deur die Heilige Gees gedoop. Hierdie waarheid word in 1 Korinthiërs 12:13 uiteengesit: Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Hierdie gedeelte leer duidelik vir ons dat elke gelowige, sonder uitsondering, deur die Gees gedoop word. Hierdie vers is in dieselfde hoofstuk wat oor die gawes van die Gees handel. Let daarop dat Paulus in vers 13 sê dat alle gelowiges deur die Heilige Gees gedoop is, en in vers 29-31 daarop wys dat nie almal in tale spreek nie. Dit is hoekom ’n mens nie doping deur die Gees en spreek in tale as ’n oorsaak-en-gevolg-verskynsel moet sien nie. Nie almal spreek in tale nie, maar almal word deur die Heilige Gees gedoop. Dit deug nie om tussen doping deur die Gees en doping met die Gees te onderskei nie, want in die Griekse teks, die taal waarin die Nuwe Testament oorspronklik geskryf is, is daar geen onderskeid nie; die konstruksie is altyd dieselfde.

Efésiërs 4:5 wys boonop duidelik dat daar slegs een tipe doping deur die Gees is. Net soos daar slegs een Here is, is daar slegs een doop [deur die Gees], nie twee of meer nie. Dit sal ook nie deug om tussen verskillende soorte spreek in tale te onderskei deur byvoorbeeld te sê dat die gawe slegs aan sekere gelowiges gegee word, hoewel alle gelowiges dit as ’n gebed of taal kan ontvang nie. Daar is eenvoudig nie so ’n onderskeid in die Bybel nie.

f. Wanneer doping deur die Gees plaasvind
Wat doping deur die Gees se tydsberekening betref, gebeur dit met ’n persoon op dieselfde oomblik as wat hy tot geloof kom. Die gelowige word deur die Gees gedoop sodra hy gered word. Die Nuwe Testament sê onomwonde dat elke gelowige deel word van die Liggaam van die Messias sodra hy glo (Ef 2:11-22). 1 Korinthiërs 12:13 sê dat elke gelowige deel geword het van die Liggaam van die Messias omdat hy deur die Heilige Gees gedoop is.

As alle gelowiges nie deur die Gees gedoop is toe hulle gered is nie, beteken dit dat party gelowiges tans deel is van die Liggaam van die Messias, en dat ander gelowiges nie deel is van die Liggaam van die Messias nie. Volgens die Nuwe Testament is dit presies hoe sake nie staan nie. Elke gelowige, sonder uitsondering, is deel van die Liggaam van die Messias. Die enigste manier om deel te word van hierdie Liggaam is deur doping deur die Gees. Aangesien elke gelowige deel word van die Liggaam van die Messias sodra hy glo, beteken dit uiteraard dat doping deur die Gees plaasvind sodra ’n mens glo. Doping deur die Gees vind plaas wanneer ’n mens gered word.

g Die gereeldheid van doping deur die Gees
“Hoe dikwels gebeur doping deur die Gees?” Aan die een kant, gebeur dit eenmalig; aan die ander kant, is dit ’n herhaalde aksie. Dit gebeur eenmalig in die gelowige se lewe, aangesien die Gees hom tot die Liggaam van die Messias doop sodra hy tot geloof kom. Elke gelowige word slegs een keer gedoop; as ’n ander persoon egter tot geloof kom, word doping deur die Gees “herhaal”. Elke persoon word slegs een keer gedoop, maar doping deur die Gees word elke keer as iemand anders gered word, herhaal.

h. Die resultate van doping deur die Gees
Daar is drie resultate van doping deur die Gees. In die eerste plek verenig doping deur die Gees alle gelowiges in soverre dit hulle deel van die Liggaam van die Messias maak. Daar staan nêrens dat enige spesifieke geestelike gawe die resultaat van doping deur die Gees is nie. Die resultaat van doping deur die Gees is eerder dat dit gelowiges in een Liggaam verenig; dit maak alle gelowiges lede van die Liggaam van die Messias (1 Kor 12:13).

Die tweede resultaat is dat gelowiges ten opsigte van hul sondige natuur deel kry aan die Messias in sy kruisiging, begrafnis en opstanding (Rom 6:3-4; Gal 3:27; Kol 2:12).

Die derde resultaat is vier nuwe verhoudings: eerstens, omdat gelowiges saam met die Messias gekruisig, begrawe en opgewek word, is daar ’n nuwe vereenselwiging. In die tweede plek is daar ’n nuwe posisie, aangesien gelowiges hulle nou in die Liggaam van die Messias bevind. Derdens is daar nuwe eenwording met God en met medegelowiges, aangesien die Messias die hoof en gelowiges die Liggaam is. En vierdens is daar ’n nuwe verbintenis, aangesien gelowiges nie meer “in Adam” is nie, maar in Christus.

i. Die vertraging van doping deur die Gees in die boek Handelinge
Enkele van die sake wat hierbo aangeroer word, skep probleme in die lig van die boek Handelinge. Daar is plekke in die boek Handelinge waar dit voorkom asof doping deur die Gees vertraag word. Dit staan skynbaar in stryd met die leerstelling van die Sendbriewe wat sê dat elke gelowige deur die Gees gedoop word sodra hy tot geloof kom. Dit is dus nodig om die vraagstuk oor die vertraging van doping deur die Gees in die boek Handelinge onder die loep te neem. Hierdie vertraging het nie net betrekking op doping deur die Gees nie, maar ook op inwoning. Hoewel wedergeboorte reeds plaasgevind het, het die inwoning en doping deur die Gees in vier gevalle eers later gebeur: in Handelinge 2, 8, 10 en 19.

Dit is nodig om in elk van die gevalle agter die kap van die byl te kom om te verstaan hoekom daar ’n oponthoud was. Dit het te doen gehad met bekragtiging. Daar was iets wat voor iemand bekragtig moes word. Sodra ’n mens dit begryp, begin dinge sin maak. Ons sal ses vrae vra wanneer ons die vier gedeeltes in die boek Handelinge waar die koms van die Gees vertraag is, ondersoek: Eerstens, “Wie het dit ontvang?” Tweedens, “Wie was hulle?” Derdens, “Wat was die omstandighede?” Vierdens, “Wat was die metode?” Vyfdens, “Wat was die doel?” En sesde, “Wat was die resultate?” Al ses vrae sal op elk van hierdie vier gedeeltes waar die koms van die Gees vertraag is, toegepas word.

(1) Handelinge 2
Die eerste vraag is: “Wie het dit ontvang?” Die antwoord is: die Twaalf Apostels. Dit was nie al honderd-en-twintig wat daardie keer die Gees ontvang het nie, net die twaalf; die laaste persoonsnaam wat die hulle in Handelinge 2:1 voorafgaan, is Matthías … saam met die elf apostels (Hand 1:26). Daarby beskryf Handelinge 2:7 hulle bloot as die Galiléërs, en Handelinge 2:14 meld slegs vir Petrus en die ander elf. Wie het dus die Gees in Handelinge 2 ontvang? Die antwoord is die Twaalf Apostels.

Die tweede vraag is: “Wie was hulle?” Die antwoord is: Hulle was apostels (Hand 1:26), met Petrus as die voorste apostel (Hand 2:14), die een wat die preek in Handelinge 2 gelewer het. Petrus het in Matthéüs 16:17-19 die sleutels van die koninkryk ontvang; hy het die gesag gehad om “die deur oop te maak”.

Die derde vraag is: “Wat was die omstandighede?” Volgens Handelinge 1:4 was hulle besig om te wag en te bid vir die belofte van die Vader. Die ervaring in Handelinge 2:1-4 was die antwoord op daardie gebed (Hand 2:33).

Die vierde vraag is: “Wat was die metode?” Die antwoord is: Die Heilige Gees het direk gekom. Daar was ’n aanvanklike vervulling met die Heilige Gees (Hand 2:4); hulle is deur die Heilige Gees gedoop (Hand 11:15-17) tot die liggaam van die Messias (1 Kor 12:13), en het ’n geestelike gawe ontvang. Die gawe in hierdie geval was die gawe van spreek in tale. Die Heilige Gees het direk op hulle neergedaal, nie op enige indirekte manier nie.

Die vyfde vraag is: “Wat was die doel?” Die doel was bekragtiging. Dit het die feit dat die belofte van die Vader vervul is, vir die apostels bekragtig. Die koms van die Heilige Gees met die gawe van spreek in tale het hul roeping en boodskap bekragtig; hulle wás die apostels wat hulle gesê het hulle is. Dit het die boodskap wat die apostels verkondig het, aan hulle Joodse toehoorders bekragtig.

Die sesde vraag is: “Wat was die resultate?” Die resultate was drieledig: Eerstens kon die Jode in die Diaspora die evangelie in hul eie taal hoor (Hand 2:8-11). Tweedens is hulle diep in hul hart getref (Hand 2:37). Derdens het drieduisend van hulle hulle daardie dag bekeer (Hand 2:41).

Die Heilige Gees is nie werklik in Handelinge 2 “vertraag” nie, aangesien die Heilige Gees eers op daardie tydstip met sy bediening van doping deur die Gees begin het. Die gebeure het die apostels se boodskap aan die Joodse volk bekragtig. Die Jode het op daardie tydstip vir die eerste keer deel gekry aan die Liggaam van die Messias. Petrus, die persoon wat die sleutels gehad het, het in Handelinge 2 die deur vir die Jode oopgemaak; van toe af was dit nog altyd vir die Jode oop.

(2) Handelinge 8
Die eerste vraag is: “Wie het dit ontvang?” Die antwoord is: gelowiges in Samaría (Hand 8:14).

Die tweede vraag is: “Wie was hulle?” Die antwoord is: Hulle was Samaritane (Hand 8:14-17). Die Samaritane was die Jode en Judaïsme vyandiggesind. Die Samaritane het ’n godsdiensbestel op die been gebring wat in stryd was met Judaïsme. Hulle het ’n eie weergawe van die Wet van Moses gehad waarin alle verwysings na Jerusalem geskrap was. Hulle het ook hul eie tempel op die berg Gerisim gehad wat met die Tempel in Jerusalem moes meeding. Die aard van Samaritaanwees was om ’n stelsel te hê wat in stryd was met die Jode s’n.

Die derde vraag is: “Wat was die omstandighede?” Die omstandighede was dat Filippus, een van die diakens in Handelinge 6, na Samaría toe gestuur is om te preek. Terwyl hy gepreek het, het baie Samaritane Jesus die Messias as hul Verlosser leer ken. Dit het vrae laat ontstaan onder die Jode in Jerusalem wat nie hierdie vyandiggesindheid uit die oog kon verloor nie. “Is dit moontlik dat Samaritane gered kan word? Kan Samaritane werklik Jesus as die Messias, as hul Verlosser, leer ken?” Die gemeente in Jerusalem het Petrus en Johannes gestuur om die berigte dat Samaritane gered is te ondersoek en te bekragtig. Hoewel hierdie Samaritane werklik gelowig geword het en wedergebore is, het hulle nie die inwoning van die Gees of doping deur die Gees ervaar nie.

Die vierde vraag is: “Wat was die metode waardeur die Samaritane die Heilige Gees ontvang het?” Hoewel die Samaritane geglo het en daarom deur die Heilige Gees wedergebore is, het die Heilige Gees om die een of ander rede nie dadelik in hulle woning gemaak, of hulle tot die Liggaam van die Messias gedoop nie. Die manier waarop hulle uiteindelik die Gees ontvang het, was deur Petrus en Johannes se handeoplegging (Hand 8:17). Dit was met ander woorde nodig dat Petrus by was.

Petrus het die sleutels van die koninkryk gehad. Hy was dus verantwoordelik om die Kerk se deure oop te maak vir elk van die drie groepe mense in die Nuwe Testament: Jode, Samaritane en nie-Jode. Petrus het die deur vir die Jode in Handelinge 2 oopgemaak; daarna was dit altyd oop vir die Joodse volk. Van daardie tydstip af is elke Jood wat gered is, onmiddellik deur die Gees tot die Liggaam van die Messias gedoop.

Hier in Handelinge 8 het Petrus vir Samaritaanse gelowiges die hande opgelê en het hulle die Heilige Gees ontvang. Die manier waarop die Samaritane die Heilige Gees ontvang het, was deur Petrus se handeoplegging. Die Samaritane het op daardie tydstip deel van die Liggaam van die Messias geword. Petrus het die deur vir die Samaritane oopgemaak; van toe af, het die deur vir die Samaritane oopgebly. Van daardie oomblik af is elke Samaritaan wat geglo het, onmiddellik deur die Gees tot die Liggaam van die Messias gedoop.

Die vyfde vraag is: “Wat was die doel?” Die doel was bekragtiging. Dit het die feit dat Samaritane gered kon word vir die apostels en Joodse gelowiges in Jerusalem bekragtig. Dit het ook die gesag van die Joodse apostels vir die Samaritaanse gelowiges bekragtig. Dit was belangrik, want die apostels was van Jerusalem, die stad wat voorheen deur die Samaritane as hul opposisie beskou is.

Die sesde vraag is: “Wat was die resultate?” Die resultate was tweeledig. Eerstens het die Samaritane die Heilige Gees ontvang, en is hulle tot die Liggaam van die Messias gedoop (Hand 8:17). Daar word geen melding gemaak dat hulle in tale gespreek het nie, hoewel dit moontlik kon gebeur het. Tweedens het hulle nie, soos wat die geneigdheid was, ’n Samaritaanse kerk gestig om met die kerk in Jerusalem mee te ding nie. Die rede waarom hulle dit nie gedoen het nie, was omdat hulle die Heilige Gees ontvang het deur die handeoplegging van Petrus, die apostel wat van Jerusalem af na hulle toe gekom het.

(3) Handelinge 10
Die eerste vraag is: “Wie het dit ontvang?” Die antwoord is: Cornelius en sy familie en besondere vriende (Hand 10:24, 44).

Die tweede vraag is: “Wie was hulle?” Hulle was nie-Jode (Hand 10:1). In die Nuwe-Testamentiese tyd was daar drie mensegroepe: Jode, Samaritane en nie-Jode. In hierdie stadium het Petrus al Jode en Samaritane in die Kerk verwelkom, maar nog nie nie-Jode nie.

Die derde vraag is: “Wat was die omstandighede?” Die omstandighede was Petrus se verkondiging van die evangelie aan hierdie nie-Jode (Hand 10:44, 46). Petrus se teenwoordigheid was noodsaaklik, aangesien hy die sleutels van die koninkryk gehad het. Paulus is in Handelinge 9 gered om “’n uitverkore werktuig … voor nasies en konings” (Hand 9:15) te wees. Hoewel Paulus die apostel onder die nie-Jode sou word, het hy nie die sleutels van die koninkryk gehad nie; Petrus was dus die eerste persoon wat die evangelie aan nie-Jode verkondig het om die deur vir die nie-Jode oop te maak. Paulus het in Handelinge 13 sy opdrag om die evangelie aan die nie-Jode te verkondig begin uitvoer. Maar wat die omstandighede in Handelinge 10 betref, was dit Petrus wat vir hierdie nie-Jode gepreek het.

Die vierde vraag is: “Wat was die metode?” Die Heilige Gees het direk op hulle gekom, soos wat Hy met die Jode gemaak het. Met die Samaritane het die doping deur middel van Petrus se handeoplegging gebeur. Dit was nie nodig om vir die nie-Jode hande op te lê nie, want daar was geen gevaar dat hulle ’n opposisiekerk sou stig, soos wat die geval was met die Samaritane, nie. Die Gees het dus direk op die nie-Jode gekom.

Die vyfde vraag is: “Wat was die doel?” Die doel was bekragtiging. Hierdie ervaring het Petrus se boodskap aan die nie-Jode bekragtig. Dit het die feit dat nie-Jode gered kon word vir die Joodse gelowiges bekragtig. Die Jode wat hierdie ervaring gade geslaan het, was verbaas (Hand 10:45-46) dat hierdie nie-Jode ook die Heilige Gees saam met die gawe van spreek in tale ontvang het; dit het die feit dat die nie-Jode waarlik gered was vir hulle bekragtig. In Handelinge 11:1-2, 15-18 het Petrus hierdie ervaring gebruik om sy optrede, die besoek aan ’n nie-Jood se huis, te verdedig. Hierdie ervaring van nie-Jode se redding en doping deur die Gees is ook in Handelinge 15:7-14 gebruik om vir die Raad in Jerusalem te wys dat nie-Jode werklik gered kon word.

Die sesde vraag is: “Wat was die resultate?” Die resultate was tweeledig. Eerstens het dit die Kerk se deure in afwagting op Paulus se bediening vir nie-Jode geopen. Petrus was die een wat die deur moes oopmaak; van toe af het dit altyd vir die nie-Jode oopgebly. Van daardie tydstip af is elke nie-Jood wat gered is, deur die Gees tot die Liggaam van die Messias gedoop. Die tweede resultaat was dat nie-Joodse Christenskap as geldig aanvaar is (Hand 10:45-46; 11:18).

(4) Handelinge 19
Die eerste vraag is: “Wie het dit ontvang?” Die antwoord is: Jode in die Diaspora wat dissipels van Johannes die Doper was (Hand 19:1-3) en wat in Éfese gewoon het.

Die tweede vraag is: “Wie was hulle?” Hulle was dissipels van Johannes die Doper wat nog nie gehoor het dat die Messias reeds gekom het, en dat sy Naam Jesus was nie. Hulle was Jode wat Johannes die Doper se dissipels geword het, wat vroeg in sy bediening deur hom gedoop is en toe die land verlaat het om terug te keer Éfese toe. Nadat hulle weg is uit Israel, het Johannes vir Jesus as die Messias geïdentifiseer. Hierdie dissipels het egter nooit van Jesus gehoor nie, dus het hulle nie in Hom geglo nie. Hulle was deel van ’n spesifieke groep binne die Joodse kultuur. Hulle het aan die een kant nie meer in die Judaïsme van die Fariseërs geglo nie, maar aan die ander kant het hulle ook nie getel onder die Jode wat in Jesus geglo het nie; hulle was bloot dissipels van Johannes die Doper. Hulle het dieselfde geglo as wat Apollos geglo het voordat Áquila en Priscílla vir hom verduidelik het dat Jesus die Messias was van wie Johannes gepraat het (Hand 18:24-28).

Die derde vraag is: “Wat was die omstandighede?” Die omstandighede was dat Paulus hierdie Joodse mans teëgekom het en besef het dat hulle die een of ander oortuiging gehuldig het, maar dat hul geloof skynbaar gebrekkig was. Hulle het wel in ’n mate geglo, maar het nie werklik geloof in Jesus se Messiasskap beoefen nie. Paulus se vraag aan hulle wys dat hy verwag het dat hulle die Heilige Gees sou ontvang het toe hulle tot geloof gekom het. Paulus het gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? Die King James Version het hierdie frase vertaal met “sedert julle gelowig geword het”, maar dit is verkeerd; dit moet wees “toe julle gelowig geword het”. Die meeste ander vertalings het dit wel so vertaal. Paulus het verwag dat hulle die Heilige Gees sou ontvang het toe hulle in die Messias begin glo het. Die probleem was dat hulle nog nie in Jesus geglo het nie, al het hulle Johannes se boodskap geglo dat die Messias op pad was. Omdat hulle nog nie in Jesus geglo het nie, het hulle nog nie die bediening van doping deur die Gees ervaar nie.

Die vierde vraag is: “Wat was die metode?” Die antwoord is: Daar was twee. Hulle moes in die eerste plek weer met water gedoop word, want die doop van gelowiges is anders as Johannes se doop. Hierdie handeling het gewys dat hulle werklik geglo het dat Jesus die Messias was oor Wie Johannes geprofeteer het. Tweedens moes die apostel Paulus vir hulle hande oplê. Dit is beduidend, want Paulus was – anders as die ander apostels – nie voorheen een van Johannes se dissipels nie. Daar was dus twee metodes: die doop van gelowiges teenoor die doop van Johannes, en handeoplegging deur die apostel Paulus, eerder as deur ’n apostel soos Petrus, wat voorheen ’n dissipel van Johannes die Doper was.

Die vyfde vraag is: “Wat was die doel?” Die doel was bekragtiging. Daar was ’n wesenlike gevaar dat hierdie apostels ’n opposisiekerk in Johannes die Doper se naam kon stig. Die ervaring wat Johannes die Doper se dissipels gehad het, het vir hulle bekragtig dat die doop van gelowiges die regte metode van identifikasie is, en nie meer die doop van Johannes die Doper nie. Van hierdie tydstip af was die regte formule vir die doop om in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees gedoop te word. Dit het die feit bekragtig dat geloof in Jesus die enigste vereiste was, nie geloof in Johannes én Jesus nie; hulle het immers die Gees ontvang deur Paulus se handeoplegging, en Paulus was nooit deur Johannes gedoop nie. Dit het dus Paulus se boodskap bekragtig.

Die sesde vraag is: “Wat was die resultate?” Die resultate was dat Johannes se dissipels in Jesus die Messias begin glo het, en dat geen opposisiekerk gestig is nie.

(5) Die oorgangskarakter van die boek Handelinge
Ons het die vier hoofstukke in Handelinge waar daar skynbaar ’n vertraging in die koms van die Heilige Gees was, bestudeer, asook die redes vir elke vertraging. Die boek Handelinge is ’n oorgangsboek; dit dui die oorgang tussen die Bedeling van die Wet en die Bedeling van Genade aan. Daarmee saam beskryf dit ook ’n bedelingsverandering in die bediening van die Heilige Gees. Die boek Handelinge benadruk ook die apostoliese gesag van Petrus en Paulus.

Een van die gevolge wat uit die gevalle hierbo gespruit het, was dat die betrokkenes die gawe van spreek in tale ontvang het. Dit het in Handelinge 2, 10 en 19 gebeur, en moontlik ook in Handelinge 8, hoewel dit nie daar spesifiek genoem word nie. Ons het ook daarop gewys dat die gawe om in tale te spreek slegs in sekere groepe se geval vertraag is, en dat hierdie gawe nie voor die voet aan almal gegee is nie. Die gawe om in tale te spreek is eerder as ’n “aanvangsgeskenk” aan elke afsonderlike groep gegee: Jode, nie-Jode, Samaritane en Johannes die Doper se dissipels.

Daar is geen bewys in Handelinge dat die gawe om in tale te spreek met ander lede van dieselfde groep herhaal is nie. Die gawe om in tale te spreek is byvoorbeeld in Handelinge 2 aan die Jode gegee, maar daar is geen melding van ander Jode wat later die gawe om in tale te spreek ontvang het nie. Tweedens het die Samaritane dit moontlik in Handelinge 8 ontvang; weer eens is daar geen melding van ander Samaritane wat dit later ontvang het nie. In Handelinge 10 het die nie-Jode die gawe om in tale te spreek ontvang, maar daar is geen bewys dat ander nie-Jode dit later ontvang het nie. In Handelinge 19 het Johannes die Doper se dissipels die gawe om in tale te spreek ontvang, maar daar is geen bewys dat ander dissipels van Johannes die Doper dit later ontvang het nie.

Die Bybelse standaard is dat elkeen deur die Gees gedoop word sodra hy glo. Die vertragings in die boek Handelinge het ontstaan omdat elke groep afsonderlik geïnisieer moes word. Sodra ’n groep eers deel gemaak was van die Liggaam, het die deur vir daardie groep oopgebly. Van daardie tydstip af het die standaard vir al die ander lede van elke groep in werking getree. Dit is tot vandag toe steeds waar. Paulus het trouens al in Handelinge 19 verwag dat mense die Gees sou ontvang het toe hulle tot geloof gekom het. Die belangrikste doel van die gawe om in tale te spreek in die boek Handelinge was bekragtiging.

(6) Die gevaar daarvan om leerstellings uit historiese vertellings af te lei
Nog ’n belangrike stelling wat ons moet maak, is dat leerstellings uit duidelike, positiewe, rigtinggewende stellings in die Skrif geformuleer moet word, en nie uit beriggewing oor historiese gebeure nie. Die gevaar om teologie op historiese beriggewing te bou, lê in die wanopvatting dat dinge altyd op ’n sekere manier moet gebeur omdat dit op ’n sekere tydstip in die verlede so gebeur het.

Omdat sekere persone in die boek Handelinge dus in tale gespreek het toe hulle deur die Gees gedoop is, het party mense ander begin leer dat slegs diegene wat in tale spreek deur die Gees gedoop is. Hulle sê dat spreek in tale die enigste manier is om te weet of iemand deur die Gees gedoop is. Hierdie leerstelling is uit historiese beriggewing afgelei.

Ons vind egter ’n positiewe, rigtinggewende, leerstellige stelling hieroor in 1 Korinthiërs 12. Paulus sê duidelik dat almal nie in tale spreek nie, maar dat almal deur die Gees gedoop is. Dit is kritiek belangrik om te verstaan dat ’n mens nie leerstellings uit historiese berigte moet aflei nie. Historiese berigte kan wel gebruik word om leerstellings te illustreer, maar nie om dit te formuleer nie. Leerstellings moet uit duidelike, positiewe stellings in die Skrif afgelei word.

Die dwaling dat ’n mens leerstellings uit historiese beriggewing kan aflei, kan met behulp van die volgende voorbeeld geïllustreer word. Die boek Exodus bevat die verhaal oor hoe Moses die volk Israel uit Egipte gelei het. Toe hulle by die Skelfsee kom, het die see vir die Jode oopgegaan, en het hulle droogvoets daardeur na die ander kant toe getrek. Dit is die historiese gebeure.

Sal dit reg wees om ’n leerstelling te formuleer dat die Skelfsee elke keer vir die Jode moet oopgaan as hulle daar kom? Sal dit altyd gebeur? Nee, dit was ’n eenmalige gebeurtenis. Die Jode het al baie kere sedertdien weer by die Skelfsee gekom, maar dit het nooit weer vir hulle oopgegaan nie. Dit was bloot ’n geskiedkundige gebeurtenis; ’n mens kan nie leerstellings daaruit aflei nie. Dit is byvoorbeeld ’n bybelse lering dat God Israel se beskermer is, en dat Hy Israel sal red. Die oorsteek van die Skelfsee is ’n illustrasie van daardie leerstelling; dit wys een van die maniere waarop God Israel beskerm en gered het. Dit is ook ’n bybelse lering dat God almagtig is; Hy kan enigiets doen en wondere verrig. Die verdeling van die Skelfsee is ’n illustrasie van die leerstelling dat God almagtig is. Die punt is dat die leerstelling uit duidelike stellings in die Skrif afgelei moet word. Historiese gebeure kan slegs gebruik word om leerstellings te illustreer. Dit is verskriklik gevaarlik om leerstellings uit historiese gebeure af te lei.

Dieselfde geld vir die historiese gebeure in die boek Handelinge. Mense probeer dikwels leerstellings oordra wat lynreg in stryd is met duidelike stellings in die Skrif omdat hulle die leerstellings uit historiese gebeure aflei. Een voorbeeld van so ’n vals lering is dat slegs sommige gelowiges deur die Gees gedoop word, of dat doping deur die Gees altyd tot spreek in tale lei. As ons na leerstellige gedeeltes in die Skrif kyk, weerspreek daardie gedeeltes hierdie einste gevolgtrekkings. 1 Korinthiërs 12:13 sê byvoorbeeld dat alle gelowiges, sonder uitsondering, deur die Gees gedoop is. 1 Korinthiërs 12:28-30 sê ook dat almal nie in tale spreek nie. Die lering wat uit die historiese gebeure in die boek Handelinge afgelei is – dat doping deur die Gees altyd tot spreek in tale lei en dat slegs party gelowiges deur die Gees gedoop word – is dus duidelik verkeerd.

Soos ons gesê het: Die boek Handelinge is ’n geskiedenisboek. Dit moet gebruik word om leerstellings te illustreer, nie om dit te formuleer nie. Die Heilige Gees is selfs nie eens vir die duur van die boek Handelinge op ’n konsekwente manier uitgestort nie. In Handelinge 2 het Hy direk neergedaal. In Handelinge 8 is Hy ná Petrus se handeoplegging uitgestort. In Handelinge 10 is Hy uitgestort net voordat hulle met water gedoop is. In Handelinge 19 is Hy eers ná die waterdoop en Paulus se handeoplegging uitgestort.

Neem byvoorbeeld die leerstelling in Matthéüs 16:19 dat Petrus die sleutels van die koninkryk ontvang het, en dat hy verantwoordelik was om die deure van die Kerk vir die drie groepe van die destydse mensdom oop te sluit: Jode, nie-Jode en Samaritane. Die boek Handelinge is die illustrasie van daardie leerstelling: Petrus het in Handelinge 2 die deur vir die Jode oopgemaak; in Handelinge 8 het hy dieselfde gedoen vir die Samaritane, en in Handelinge 10 ook vir die nie-Jode. Dit is hoekom Petrus by moes wees toe al drie groepe by die Liggaam van die Messias ingelyf is. Hierdie drie gevalle illustreer die leerstellige stelling wat in Matthéüs 16:19 gemaak word.

j. Opsomming van doping deur die Gees
Om dus die lering oor doping deur die Heilige Gees in die Sendbriewe saam te vat: elke persoon word, sonder uitsondering, deur die Gees gedoop sodra hy tot geloof kom. Die resultaat van doping deur die Gees is nie ’n spesifieke gawe nie, maar eerder deelwording van die Liggaam van die Messias, die Kerk. Aangesien alle gelowiges deel is van die Liggaam van die Messias, is alle gelowiges dus deur die Gees gedoop. Dit is die standaard dwarsdeur die Kerktydvak.

4. Die bediening van verseëling
Die Heilige Gees se vierde bediening met betrekking tot redding is die bediening van verseëling. Elke gelowige word deur die Heilige Gees verseël.

a. Skrifgedeeltes oor die bediening van verseëling deur die Gees
Daar is drie teksgedeeltes waar ons lees oor die Gees se bediening van verseëling. Die eerste gedeelte is 2 Korinthiërs 1:22: … wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.

Die Heilige Gees is Self die seël in hierdie gedeelte. Hierdie seël is die onderpand, die aanvangsbetaling van en vir die gelowige se finale redding, wat nog in die toekoms lê.

Die tweede teksgedeelte is Efésiërs 1:13-14: … in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

In hierdie gedeelte is die Heilige Gees die tussenganger én die seël. Gelowiges word verseël … met die Heilige Gees van die belofte wanneer hulle gered word, want daar staan dat, nadat [die gelowiges] geglo het, [die gelowiges] verseël is met die Heilige Gees van die belofte. ’n Mens word verseël sodra jy glo. Die basis vir verseëling is geloof.

Die derde teksgedeelte is Efésiërs 4:30: En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.

Die Heilige Gees is ook in hierdie gedeelte die tussenganger vir verseëling. Hy is die waarborggewer van ons uiteindelike redding. Aangesien gelowiges deur die Heilige Gees verseël is, moet hulle nie die Heilige Gees bedroef nie.

b. Die implikasies van die bediening van verseëling deur die Gees
Hierdie drie teksgedeeltes wys heen na vyf implikasies van die Heilige Gees se bediening van verseëling.

In die eerste plek is die Heilige Gees die tussenganger én die seël. Hy is die tussenganger, met ander woorde die Een wat die werk doen, maar Hy Self is ook die seël.

Tweedens is die Heilige Gees die middel van die verseëling. God is die Persoon wat die verseëlwerk van buite af doen. Anders gestel: God die Vader is die groot rede vir ons verseëling, en die Heilige Gees is die sekondêre rede vir ons verseëling.

In die derde plek is verseëling universeel onder alle gelowiges. Die enigste voorwaarde om deur die Gees verseël te word, is geloof. Aangesien elke gelowige uit die aard van die saak in Jesus die Messias glo, is elke gelowige deur die Heilige Gees verseël. Verseëling is die vertrekpunt om nie die Heilige Gees te bedroef nie, iets wat net gelowiges kan doen.

Die tydstip van verseëling is wanneer iemand gered word (Ef 1:13). Die Griekse teks kan soos volg woordeliks vertaal word: “in wie julle, nadat julle geglo het, verseël is met die Heilige Gees van belofte”. Verseëling gebeur eenvoudig wanneer ’n mens hoor en glo. Sodra iemand glo, word hy deur die Heilige Gees verseël.

En vyfdens, is die beduidendheid van verseëling deur die Heilige Gees dat ’n mens sekerheid oor die ewigheid ontvang. ’n Gelowige word deel van die Liggaam van die Messias deur doping met die Gees. Verseëling deur die Gees bind die gelowige onherroeplik aan die Liggaam, sodat hy nooit daarvan los kan raak nie. Die sleutelgedagte agter verseëling is dié van ewige sekerheid.

Daar lê selfs meer verskuil in die konsep van die seël as ’n mens die Ou-Testamentiese agtergrond daarvan in ag neem.

Eerstens is die konsep van die seël in die Ou Testament ’n teken van gesag (1 Kon 21:7-9; Est 3:9-12; 8:7-10). Gelowiges ontvang gesag van God oor die wêreld en oor Satan, juis omdat hulle verseël is.

Tweedens was die seël in die Ou Testament ’n teken van ’n voltooide transaksie (Jer 32:10-15). Vir die gelowige is redding ’n voltooide saak. Omdat hy glo, geniet hy al die voordele van iemand wat gered is; die seël van die Heilige Gees is dus die teken van ’n voltooide transaksie.

In die derde plek was die seël ’n teken van sekerheid (Dan 6:18). Dit is die hoofdoel van die Gees se bediening van verseëling in die Nuwe Testament: Dit is ’n teken van die gelowige se sekerheid oor sy ewige bestemming.

d. Die betekenis van die bediening van verseëling deur die Gees
Die betekenis van die Gees se bediening van verseëling is vyfvoudig.

In die eerste plek dui dit op die versekering dat ’n gelowige aan God behoort. God beskik nou oor die gelowige se lewe; die seël is die teken van God se eienaarskap of beskikking in die gelowige se lewe.

In die tweede plek dui dit op die vastheid van die belofte van redding. Slegs God kan hierdie seël breek, en Hy het beloof om dit nie te doen nie; die gelowige se redding is dus verseker.

Derdens dui dit op die sekerheid van God se plan om die gelowige tot op die Dag van Redding te beskerm. Die redding wat voorlê, is die redding van die gelowige se liggaam wat uit die dood opgewek sal word. Die seël waarborg dat die gelowige op die dag van redding opgewek sal word indien hy in die tussentyd te sterwe kom.

Vierdens beteken dit dat die gelowige oor die Messias se gesag beskik en die reg het om dit uit te oefen. Die gelowige voer gesag oor sy sondige natuur, Satan en die wêreld.

Vyfdens beteken die seël dat die transaksie vir die gelowige se redding voltooi is, hoewel die volle voordeel hiervan eers later geniet kan word.

5. Die bediening van salwing
Die vyfde en laaste bediening van die Heilige Gees met betrekking tot redding is die Gees se bediening van salwing. Daar is drie teksgedeeltes wat oor die Heilige Gees se bediening van salwing handel.

a. Skrifgedeeltes oor die bediening van salwing deur die Gees
Die eerste teksgedeelte is 2 Korinthiërs 1:21-22: Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God, wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.

In hierdie gedeelte sien ons dat die Gees die gelowige nie net verseël nie, maar ook salf. Die tussenganger wat salf, is God; die Heilige Gees is die middel waardeur Hy dit doen. Soos verseëling, hou salwing verband met die gelowige se stand in Christus. Die gelowige word deur middel van die Heilige Gees deur God gesalf.

Die tweede teksgedeelte is 1 Johannes 2:20: En julle het die salwing van die Heilige en weet alles.

In hierdie gedeelte is die Heilige die tussenganger wat salf. Die resultaat is dat “julle alles weet”. In hierdie konteks beteken alles alles in verband met redding.

Die derde teksgedeelte is 1 Johannes 2:27: En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly.

In hierdie gedeelte kom die salwing van Hom wat in die gelowige woon, naamlik die Here. Die resultaat is dat die gelowige nie nodig het dat iemand hom leer nie. Daar word in hierdie konteks na die waarheid van die evangelie verwys. Niemand hoef vir die gelowige die waarheid van die evangelie te probeer leer nie. Die gelowige het reeds die waarheid van die evangelie aanvaar en is deur die Heilige Gees wedergebore. Danksy die salwing wat die gelowige nou van die Heilige Gees ontvang het, is dit vir altyd bevestig. Die salwing leer die gelowige die waarheid aangaande alles.

Hierdie gedeelte word somtyds voorgehou om te bewys dat die gelowige nie lering deur mense nodig het nie, omdat die Heilige Gees die gelowige se enigste leraar is. Sulke aansprake is egter in stryd met ander skrifgedeeltes. Een van die Heilige Gees se gawes is byvoorbeeld die gawe van lering; God gee begaafde leraars aan die Kerk sodat die gelowiges kan leer. Hierdie gedeelte sê dat die gelowige nie oor die waarheid van die evangelie onderrig hoef te word nie, aangesien hierdie waarhede reeds danksy die gelowige se geloof bevestig is.

b. Die implikasies van die bediening van salwing deur die Gees
Ons kan die volgende drie implikasies oor die Gees se bediening van salwing uit hierdie drie teksgedeeltes aflei. In die eerste plek is dit God wat die salwing doen. Tweedens word dit nie herhaal nie; sodra ‘n persoon tot geloof kom, word hy eens en vir altyd gesalf. Derdens, nadat ’n persoon gesalf is, bly die salwing voortdurend op hom.

c. Die betekenis van die bediening van salwing deur die Gees
Die betekenis van salwing is drieledig. In die eerste plek vorm dit die grondslag vir ’n vaste oortuiging van die evangelie se waarheid. Tweedens vorm dit die vertrekpunt vir die aanleer van ander geestelike waarhede. En derdens, is dit die vertrekpunt vir diens.

Mense is dikwels op verskeie plekke in die Skrif vir ’n spesifieke bediening gesalf. Mense het dikwels ’n spesiale taak om vir die Here te verrig; die aard van daardie spesiale taak hang af van die geestelike gawes wat die Here aan daardie gelowige gegee het.

6. Opsomming
Dit is die Heilige Gees se vyf bedienings met betrekking tot redding: In die eerste plek, wedergeboorte, waardeur iemand geestelik wedergebore word en die Messias in sy lewe ontvang. Tweedens, inwoning, waardeur die Gees vir Homself ’n woonplek in die gelowige inrig. Derdens, doping deur die Gees, waardeur die gelowige deel word van die Messias se Liggaam. Vierdens, verseëling, waardeur ’n gelowige onherroeplik aan die Liggaam gebind word. En vyfdens, salwing, waardeur die waarheid van die evangelie aan die gelowige bevestig word, en wat die gelowige ontvanklik maak vir ander geestelike waarhede. Dit is vyf dinge wat gebeur sodra ’n mens tot geloof kom; dit gebeur oombliklik en gelyktydig.

B. Die bedienings van die Heilige Gees met betrekking tot geestelike groei
Die tweede hoofkategorie van die Heilige Gees se bedienings hou verband met geestelike groei. Daar is sewe bedienings van die Heilige Gees met betrekking tot geestelike groei.

1. Die bediening van vervulling met die Gees
Die eerste – en by verre die belangrikste – bediening van die Heilige Gees met betrekking tot geestelike groei is die bediening van vervulling met die Gees, om met die Gees vervul te word.

a. Die Griekse woorde
Drie verskillende Griekse woorde word hiervoor gebruik, en almal word in Afrikaans met “om te vul” of “om vervul te word” vertaal.

Die eerste gebruiksvorm is ’n werkwoord wat agt keer gebruik word. Slegs Lukas gebruik hierdie woord, in sy evangelie en in die boek Handelinge. Die woord word in Lukas gebruik vir Johannes die Doper (Luk 1:15), vir Elisabet (Luk 1:41) en vir Sagaría (Luk 1:67). In die boek Handelinge word dit gebruik om die twaalf dissipels in die bovertrek (Hand 2:4), Petrus (Hand 4:8), die apostels (Hand 4:31) en Paulus (Hand 9:17; 13:9) te beskryf.

Die tweede Griekse woordvorm is ’n byvoeglike naamwoord wat vier keer gebruik word – weer eens slegs deur Lukas in die Lukas-evangelie en die boek Handelinge. In Lukas 4:1 word daar genoem dat die Messias vol was van die Heilige Gees. In die boek Handelinge word dit gebruik met verwysing na die sewe diakens wat vol moes wees van die Heilige Gees (Hand 6:3), na Stéfanus (Hand 7:55) en Bárnabas (Hand 11:24).

Die derde Griekse woord is ook ’n werkwoord. Dit word twee keer gebruik – een keer deur Lukas in Handelinge 15:32 om na die dissipels te verwys, en een keer deur Paulus in Efésiërs 5:18, waar die gelowiges opdrag ontvang om met die Gees vervul te word.

Hierdie is die teksgedeeltes waar vervulling met die Gees ter sprake is. Met uitsondering van een geval, is Lukas elke keer aan die woord, hetsy in sy evangelie of in die boek Handelinge. Die enigste uitsondering is Efésiërs 5:18, waar Paulus die term gebruik. Lukas was een van Paulus se getroue medewerkers, en het ver saam met hom gereis. Ons kan die bybelse lering oor vervulling met die Gees uit hierdie gedeeltes in Lukas, Handelinge en Efésiërs aflei.

b. Die betekenis van vervulling met die Gees
Om vervul te word, beteken “om beheer te word”. Efésiërs 5:18 sê byvoorbeeld: Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

As ’n mens vol wyn is, word jy deur die wyn beheer. Om met die Gees vervul te word, beteken dat jy deur die Gees beheer word. Dit beteken dat die Gees beheer uitoefen oor dié terreine in die gelowige se lewe wat deur Hom vervul is. Die bediening van vervulling met die Gees kom tot sy reg wanneer die gelowige homself aan die inwonende Heilige Gees onderwerp. Die Gees kom woon in gelowiges sodra hulle tot geloof kom; dit is sy bediening met betrekking tot redding. Wanneer ’n gelowige egter ’n spesifieke terrein van sy lewe aan die inwonende Gees se beheer oorgee, word Hy op daardie lewensterrein met die Gees vervul, en word daardie aspek van sy lewe voortaan deur die Gees beheer.

c. Die aard van vervulling met die Gees
Daar is drie aspekte van vervulling met die Gees waarop ons moet let. Al drie kom uit Efésiërs 5:18.

(1) Vervulling met die Gees is ’n opdrag
Dit is in die eerste plek ’n opdrag. ’n Gelowige word nooit gebied om wedergebore, inwoning van die Heilige Gees, gedoop, verseël of deur die Heilige Gees gesalf te word nie. Hierdie dinge gebeur outomaties sodra ’n mens tot geloof kom. Maar die gelowige word aangesê om met die Gees vervul te word.

(2) Vervulling met die Gees is ’n herhaalde aksie
Die tweede waarheid oor die aard van vervulling met die Gees is dat dit ’n bediening is wat herhaal kan word. Nie een van die Heilige Gees se bedienings met betrekking tot redding kan herhaal word nie; dit is handelinge wat eenmalig plaasvind sodra ’n mens tot geloof kom. Maar die bedienings met betrekking tot geestelike groei kan herhaal word, soos wat die geval is met vervulling met die Gees. Die tydvorm wat in Efésiërs 5:18 gebruik word, is die teenswoordige tyd; dit beteken om “voortdurend gevul te word” met die Gees. Die Griekse teenswoordige tyd benadruk voortdurende, herhaalde optrede.

Aangesien vervulling met die Gees ’n voortdurende handeling is, beteken dit nie noodwendig dat die gelowige sy vorige vervulling kwyt is nie, hoewel dit partykeer die geval kan wees. Dit kan ook beteken dat ’n nuwe terrein van ’n mens se lewe onder beheer van die Gees geplaas word. Die apostels is byvoorbeeld ten minste drie keer met die Gees vervul (Hand 2:4; 4:8; 4:31). Stéfanus is ten minste twee keer met die Gees vervul (Hand 9:17; 13:52). Bárnabas is in Handelinge 11:24 met die Gees vervul. Die aanvanklike vervulling het nie in een van hierdie gevalle verlore gegaan nie. In elk van hierdie gevalle was dit egter nodig om ’n nuwe lewensterrein onder beheer van die Gees te plaas. Die betrokke persone is dus op elk van hierdie terreine met die Gees vervul.

(3) Vervulling met die Gees is passief
Die derde saak onder die aard van vervulling met die Gees het te doen met die gebruik van die lydende vorm in Efésiërs 5:18, wat impliseer dat iemand anders die vervulling doen. Al wat die gelowige kan doen, is om homself beskikbaar te stel sodat die vervulling kan plaasvind; die Heilige Gees doen die eintlike vervulwerk.

d. Die voorwaardes vir vervulling met die Gees
Daar is vier voorwaardes waaraan ’n gelowige moet voldoen ten einde met die Gees vervul te word.

(1) ’n Toegewyde lewe
Die eerste voorwaarde vir vervulling met die Gees is ’n lewe van toewyding (Rom 12:1-2). Aangesien ’n Geesvervulde lewe deur die Gees beheer word, is dit logies dat die gelowige se lewe aan God en aan sy werk toegewy moet wees. Tensy die gelowige sy liggaam as ’n lewende offer aan God toewy, is hy nie werklik met die Gees vervul nie; in so ’n geval is die gelowige nog in beheer, nie die Gees nie.

Romeine 12:1 moedig gelowiges aan om hul liggame uit die staanspoor as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer te stel. Die werkwoord verskyn in die aoristos-tydvorm, wat beteken dat daar ’n eenmalige beskikbaarstelling van die liggaam moet plaasvind. Romeine 12:2 sê vir ons dat die gelowige voortdurend ’n eiesoortige lewenstyl moet handhaaf en homself voortdurend beskikbaar moet stel om verander te word [Grieks: teenswoordige tyd] sonder om aan hierdie wêreld gelykvormig te word. Hierdie daad van toewyding in Romeine 12:1 is iets wat ’n mens doen nadat jy ’n gelowige geword het. Indien ’n mens Jesus as jou Redder en Messias aanvaar het, maar nog nie hierdie eenmalige, algehele oorgawe van sy liggaam as ’n lewende offer vir God se gebruik gemaak het nie, is hy nog nie met die Gees vervul nie, want sy liggaam is nog nie onder beheer van die Gees nie. Die gelowige moet aanvanklik hierdie daad van toewyding doen (Rom 12:1), en God dan toelaat om van daardie punt af voortdurend in sy lewe te werk (Rom 12:2).

(2) ’n Oorwinningslewe
Die tweede voorwaarde om met die Gees vervul te word, is om ’n oorwinningslewe te leef. In Efésiërs 4:30 staan daar: En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.

Om die Heilige Gees te bedroef is ’n sonde wat net gelowiges kan begaan. As ’n gelowige met sy liggaam sondig, sondig hy teen die inwonende Gees wat hom verseël het tot die dag van verlossing; deur dit te doen, bedroef hy die Gees. Indien die gelowige die Gees bedroef, kan hy nie deur die Gees vervul word nie. Om nie ’n oorwinningslewe te lei nie, beteken dat ons die Gees bedroef. Om wel ’n oorwinningslewe te lei, weerhou ons daarvan om die Heilige Gees te bedroef. Dit is op die ou end ’n voorwaarde vir vervulling met die Gees.

(3) ’n Afhanklike lewe
Die derde voorwaarde om met die Gees vervul te word, is om ’n lewe van afhanklikheid te lewe. Galásiërs 5:16 sê: MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.

In hierdie gedeelte verwys die Gees waarskynlik na die mens se wedergebore gees, en nie na die Heilige Gees nie. Dit benadruk dat die gelowige ’n lewe moet lei wat staatmaak op sy nuwe natuur, sy nuwe natuur wat onder die Gees se beheer staan. Die gelowige moet ’n lewe van afhanklikheid lei.

(4) ’n Gehoorsame lewe
Die vierde voorwaarde vir vervulling met die Gees is gehoorsaamheid. Indien ’n gelowige die gebooie van die Wet van die Messias verontagsaam, spreek sy lewe uiteraard nie van Geesvervuldheid nie. Jesus het gesê: As julle My liefhet, bewaar my gebooie. Die gelowige wys sy liefde vir God deur gehoorsaamheid. ’n Gelowige wat ’n lewe van gehoorsaamheid aan die gebooie van die Wet van die Messias leef, leef ook ’n Geesvervulde lewe.

e. Die resultate van vervulling met die Gees
Daar is tien resultate van ’n Geesvervulde lewe. Die eerste resultaat is dat die gelowige toenemend aan die Messias gelykvormig word (Gal 5:22-23). Indien die gelowige toelaat dat sy lewe deur die Gees beheer word en met die Gees vervul word, sal hy meer en meer aan die beeld van die Seun gelykvormig word.

Efésiërs 5:18 waar gelowiges opdrag ontvang om met die Gees vervul te word.

Die tweede resultaat is aanbidding en lofprysing. Dit word in Efésiërs 5:19-20 genoem, wat ná die opdrag in vers 18 om met die Gees vervul te word volg. Dieselfde punt word ook in Filippense 3:3 gemaak.

Die derde resultaat is onderdanigheid. Dit word in Efésiërs 5:21 aangetref, in dieselfde konteks as Efésiërs 5:18, waar die gelowige opdrag ontvang om met die Gees vervul te word. ’n Gesindheid van onderdanigheid teenoor mekaar en teenoor gesag – huis, kerk of regering – spruit uit vervulling met die Gees.

Die vierde resultaat is diens (Joh 7:37-39; 2 Kor 3:6). ’n Geesvervulde gelowige sal ’n lewe van diens aan die Here lei. Dit is eweneens ’n natuurlike gevolg van Geesvervuldheid; as die gelowige onder die Gees se beheer lewe, sal hy noodwendig die Here wil dien.

Die vyfde resultaat is bevryding (Rom 8:2). Deur die Geesvervulde lewe te lewe, word die gelowige vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. In plaas daarvan lewe hy ’n nuwe lewe.

Die sesde resultaat is geestelike krag (Ef 3:16). ’n Gelowige wat ’n Geesvervulde lewe lei, vind dat sy geestelike lewenskrag versterk en aangevul word.

Die sewende resultaat is bonatuurlike bemagtiging en toerusting (Hand 1:8; Rom 15:13, 19; 1 Thes 1:5). As ’n gelowige met die Gees vervul is, sal hy ook deur die Gees bemagtig word.

Die agtste resultaat is getuienis (Hand 4:8-12; 11:23-24). Geesvervuldheid sal die gelowige aanspoor om oor sy geloof te getuig. Nie alle gelowiges word groot evangeliste nie. Gelowiges wat egter die Geesvervulde lewe in alle eenvoud lei en toelaat dat die Gees hulle beheer, sal vanself begin om teenoor ander van Jesus die Messias en sy aansprake te getuig.

Die negende resultaat is gemeenskap met God en ander gelowiges (Fil 2:1-4). Wanneer ’n gelowige nie met die Gees vervul is nie, geniet hy nie ander gelowiges se geselskap nie. Wanneer hy wel met die Gees vervul is, soek hy sulke geselskap op en dors hy daarna. Hierdie behoefte aan gemeenskap is ’n uitvloeisel van Geesvervuldheid.

Die tiende resultaat is toenemende heiligmaking. Die gelowige word meer en meer heilig gemaak of afgesonder as ’n spesiale werktuig vir God; hy word meer en meer aan die Messias gelykvormig en leef toenemend ’n heilige lewe.

f. Opsomming van vervulling met die Gees
Daar is ’n aanvanklike vervulling wat plaasvind wanneer ’n mens tot geloof kom; die Gees neem beheer van die gelowige se lewe wat geloof en redding betref. Namate die gelowige geestelik groei, wys God vir hom ander terreine van sy lewe uit wat deur die Gees vervul of beheer moet word. Elke keer as ’n gelowige ’n nuwe terrein van sy lewe aan die Gees oorgee, word hy opnuut vervul. Dit is hoekom ’n gelowige baie kere in sy lewe met die Gees vervul kan – en behoort te – word.

2. Die bediening van lering
Die tweede bediening van die Heilige Gees met betrekking tot geestelike groei, is om geestelike waarheid aan gelowiges te leer.

a. Die hoofteksgedeelte: Johannes 16:12-15
Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.

Hierdie gedeelte wys vir ons dat die Heilige Gees ’n bediening het om die gelowige te onderrig as deel van sy geestelike groei. Wát hy die gelowige leer, sluit twee dinge in: in die eerste plek, algemene bybelse waarheid; en tweedens, spesifieke profesie. Hoe meer die gelowige algemene bybelse waarheid verstaan, hoe meer verstaan hy profesie in die besonder. Die resultaat van die Heilige Gees se bediening van lering in die gelowige se lewe is dat die Messias verheerlik word. Hoe meer geestelike waarheid die gelowige leer, hoe meer word sy optrede deur hierdie kennis gerig, en hoe meer strook sy optrede daarmee. Dit lei daartoe dat Jesus die Messias meer verheerlik word.

b. Die metodes
Die Heilige Gees gebruik drie metodes om die gelowige te onderrig. Die eerste metode is die die Heilige Gees se bediening van verheldering (1 Kor 2:9-16). Dit is die Heilige Gees wat die gelowige se verstand verhelder om hom te help om geestelike waarheid te verstaan.

Die Gees se tweede metode is om mense te gebruik wat die gawe van lering het (1 Kor 12:29; Ef 4:11). Een van die gawes van die Heilige Gees is die gawe van lering. Hy gee hierdie gawe aan sekere mense en maak hulle verantwoordelik om die lering van God se Woord met ander gelowiges te deel.

Die derde metode rus op die Heilige Gees se bediening van salwing wat vroeër bespreek is (1 Joh 2:27). Die kennis wat die gelowige deur die Heilige Gees se bediening van verheldering en deur mense met die gawe van lering ontvang, word deur die Heilige Gees bevestig. Hierdie bevestiging gebeur nie deur die een of ander gevoel nie, maar deur die geskrewe Woord van God, in soverre die kennis wat oorgedra word, ooreenstem met die Skrif.

3. Die bediening van leiding of rigtinggewing
Die derde bediening van die Heilige Gees met betrekking tot geestelike groei, is dié van leiding of rigtinggewing. Twee gedeeltes handel oor hierdie bediening van leiding of rigtinggewing.

Die eerste teksgedeelte, waar die Gees se leiding as bewys van ons kindskap dien, is Romeine 8:14: Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Alle gelowiges word deur die Gees van God gelei, want alle gelowiges is kinders van God. Hoe meer ’n gelowige se kindskap wasdom bereik, hoe duideliker sal die Gees se leiding en rigtinggewing in die gelowige se lewe wees.

Die tweede teksgedeelte is Galásiërs 5:18: Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.

Om deur die Gees gelei [gestuur] te word beteken dat ’n gelowige nie meer onder die Wet van Moses staan nie. Die gelowige wend hom nie na die Wet van Moses vir rigting nie, maar na die Heilige Gees. Die Gees lei die gelowige in ooreenstemming met die geskrewe Woord van God.

Daar is ’n paar gevalle in die boek Handelinge wat die Heilige Gees se leiding aan gelowiges illustreer. Onder hierdie voorbeelde tel Filippus (Hand 8:29), Petrus (Hand 10:19-20; 11:12); Bárnabas en Saulus (Hand 13:2, 4); Paulus (Hand 16:6-7; 20:22-23), en die ouderlinge van Éfese (Hand 20:28).

4. Die bediening van sekerheid
Die vierde bediening van die Heilige Gees met betrekking tot geestelike groei, is die bediening van sekerheid. Danksy die bediening van sekerheid wéét die gelowige dat hy waarlik gered is en waarlik ’n kind van God is. Daar is drie teksgedeeltes wat oor hierdie bediening handel.

Die eerste gedeelte is Romeine 8:16: Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

Volgens hierdie vers kry ons sekerheid danksy die feit dat die Heilige Gees saam met die gelowige se wedergebore, menslike gees getuig dat hy inderdaad ’n kind van God is.

Die tweede gedeelte is 1 Johannes 3:24: En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly aan die Gees wat Hy ons gegee het.

Volgens hierdie vers wéét die gelowige dat God in Hom woon danksy die Gees wat aan hom gegee is. Die Heilige Gees getuig deur sy inwoning in die gelowige, wat gebeur sodra die persoon tot geloof kom, dat dit inderdaad God is wat in die gelowige woon.

Die derde gedeelte is 1 Johannes 4:13: Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.

Hierdie vers wys dat die gelowige wéét dat God in hom bly, en dat hy in God bly, danksy die feit dat God sy Gees aan die gelowige gegee het.

5. Die bediening van gebed en intersessie
Die vyfde bediening van die Heilige Gees met betrekking tot geestelike groei is dié van gebed en intersessie. Drie hoofteksgedeeltes handel oor hierdie bediening.

Die eerste is Romeine 8:26-27: En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.

Volgens hierdie gedeelte bid die Heilige Gees vir die gelowige. Die rede waarom die Heilige Gees vir die gelowige moet bid, is weens die gelowige se swak gebedslewe. Omdat die gelowige sterflik is, weet hy nie altyd wat sy werklike behoeftes is nie. Die gelowige bid vir die dinge wat hy reken hy nodig het, maar hy ken nie altyd sy ware behoeftes nie. Die Heilige Gees ken dit egter. Aangesien die gelowige se gebedslewe, en veral sy kennis van sy ware gebedsbehoeftes, gebrekkig is, bid die Heilige Gees namens die gelowige.

Die metode wat die Heilige Gees gebruik, kan gevind word in die woord “hulp”. Die Griekse teks beteken letterlik: “Die Heilige Gees steek sy hande uit om saam met die gelowige te werk.” Die Heilige Gees “sit eintlik hand by” in die gelowige se gebedslewe.

Die Heilige Gees bid voorts met onuitspreeklike sugtinge. Hierdie vers word soms misbruik om aan te voer dat hierdie onuitspreeklike sugtinge na spreek in tale verwys. Maar die vers sê duidelik dat hierdie sugtinge onuitspreeklik is … punt! Daar staan nie: “onuitspreeklike sugtinge, tensy ’n mens in tale spreek nie.” Daar staan: “onuitspreeklike sugtinge” … punt! Hierdie bediening van die Gees is nie net bestem vir diegene wat in tale spreek nie; dit is ’n bediening vir alle gelowiges. Paulus praat hier in die konteks van Romeine 8:26-27 van dinge wat vir alle gelowiges geld.

Die tweede teksgedeelte is Efésiërs 6:18: … terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges.

Hierdie vers noem twee sake waarvoor ’n mens in die Heilige Gees kan bid: eerstens, vir volharding vir die heiliges, en tweedens, vir smeking vir al die heiliges.

Die derde teksgedeelte is Judas 20: Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid.

Hierdie vers handel daaroor om getrou in die Heilige Gees [te] bid vir die opbou van gelowiges se geloof.

6. Die bediening van die Gees wat getuig
Die sesde bediening van die Heilige Gees met betrekking tot geestelike groei is die getuienis van die Gees. Daar is ’n paar teksgedeeltes wat die getuienis van die Gees en die dinge waaroor Hy getuig, beskryf.

Die eerste teksgedeelte is Romeine 8:16, wat vir ons leer dat die gelowige sy wete dat hy deur Jesus die Messias gered is, aan die Heilige Gees se werk te danke het. Die Gees se getuienis is die rede waarom die gelowige seker is van sy redding. Die Gees maak die gelowige bewus van sy identiteit as gelowige.

Die tweede teksgedeelte is 1 Korinthiërs 2:9-16, waar die Gees getuig dat die gelowige die sin van Christus het. Omdat die gelowige die sin van Christus het, kan hy dít wat deur die sin van Christus voortgebring is, naamlik die Skrif, verstaan.

Derdens, volgens 1 Korinthiërs 12:3, bevestig die Gees se getuienis die goddelike status van Jesus die Messias, aangesien niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.

Die vierde teksgedeelte is 2 Korinthiërs 1:22, waar die Gees getuig dat die gelowige die seël van sy uiteindelike redding dra. Net soos wat die gelowige se ontasbare wese gered is, sal sy tasbare wese ook eendag gered word. Die gelowige sal óf tydens die Wegraping verander word, óf hy sal tydens die Wegraping opgewek word.

Die vyfde gedeelte is 2 Korinthiërs 3:1-8, wat handel oor die roeping vir die bediening. Die rede waarom party mense hulle vir die bediening geroepe voel, is die Heilige Gees se getuienis.

In die sesde plek sê Galásiërs 4:6 dit is die Gees in die gelowige se hart wat hom laat besef wat sy verhouding met God is. Dit is die Gees se getuienis wat die gelowige laat besef dat hy ’n goeie of ’n slegte verhouding met God het.

Die sewende teksgedeelte is Efésiërs 1:17-21, wat sê dat die Heilige Gees aan die gelowige insig gee in God se raadsplan. Die rede waarom die gelowige kan begryp wat God se plan is, en waarom God partykeer dinge anders doen as ander kere, is aan die Gees se getuienis te danke.

Die agtste teksgedeelte is Efésiërs 3:16-19, wat daaroor handel om die liefde van Christus te ken. Danksy die innerlike getuienis van die Gees, wéét die gelowige dat die Messias hom liefhet.

Die negende teksgedeelte is 1 Johannes 2:20-27, waar die Heilige Gees teenoor die gelowige getuig oor die waarheid van die lering wat hy ontvang het. Die vrede waarmee ’n gelowige ’n waarheid wat hy geleer het, kan aanvaar, is aan die innerlike getuienis van die Heilige Gees te danke.

Die tiende teksgedeelte is 1 Johannes 3:24, wat praat van die Gees se versekering aan die gelowige dat God in hom bly.

Die elfde teksgedeelte is 1 Johannes 5:7-12, wat sê dat die Heilige Gees teenoor die gelowige getuig dat hy in die Seun die ewige lewe het.

Dit is belangrik om daarop te wys dat die getuienis van die Gees nie deur emosies bevestig word nie. Emosies kan baie misleidend wees. ‘n Gelowige kan baie goed voel oor dinge wat baie, baie verkeerd is. Die Bybel verduidelik gelukkig ook presies hoe die Gees se getuienis bevestig word. Die Gees se getuienis en die oortuiging dat dit waar is, gebeur deur die Woord van God. Efésiërs 6:17 leer vir ons dat die swaard van die Gees die woord van God is. Die getuienis word bevestig omdat dit ooreenstem met die lering in God se geskrewe Woord. Openbaring 2-3 is ’n goeie voorbeeld. Al sewe briewe aan die gemeentes bevat die stelling: wat die Gees aan die gemeentes sê, ’n verwysing na die skrywe wat dit voorafgegaan het.

Die getuienis van die Gees gebeur nie deur middel van emosies nie, maar deur die Woord van God. Die Gees woon in die gelowige en verhelder sy verstand om die Skrif te verstaan. Die Gees gebruik die verheldering van die gelowige se verstand as die middel om teenoor die gelowige te getuig oor die waarheid of valsheid van wat hy gehoor het.

Die bediening van gemeenskap van die Heilige Gees
Die sewende bediening van die Heilige Gees met betrekking tot geestelike groei, is die gemeenskap van die Heilige Gees. Daar is twee teksgedeeltes wat oor die gemeenskap van die Heilige Gees handel. Die eerste een is 2 Korinthiërs 13:13, waar staan: die gemeenskap [Engels: communion] van die Heilige Gees. Die tweede is Filippense 2:1, waar staan: gemeenskap [Engels: fellowship] van die Gees. Die Griekse woord wat gebruik word, is koinonia, wat “gemeenskap” of “geselskap” beteken. Hierdie besondere bediening van die Heilige Gees maak gemeenskap onder gelowiges moontlik.

Daar is twee dimensies aan die gemeenskap van die Gees: ’n vertikale dimensie en ’n horisontale dimensie. Die vertikale dimensie is die gelowige se gemeenskap met God die Vader deur die Heilige Gees. Die horisontale dimensie is die gelowige se gemeenskap met ander gelowiges deur die Heilige Gees. Gemeenskap van en in die Heilige Gees het twee bestemmings.

Wat die vertikale verhouding betref, moet ’n mens ’n persoonlike verhouding met God hê as ’n mens ware gemeenskap met God wil beoefen. Dit is waar die bedienings van gemeenskap van die Gees en vervulling met die Gees mekaar aanvul.

Wat die horisontale verhouding betref, noodsaak gemeenskap met ander gelowiges drie dinge. In die eerste plek noodsaak dit die samekoms van die gemeente. Die kerk moet byeenkom voordat ware koinonia, ware gemeenskap van die Heilige Gees kan plaasvind. Dit is hoekom die Bybel gelowiges aanmoedig om in ’n plaaslike gemeente onder die leiding van ouderlinge en diakens byeen te kom. Tweedens noodsaak dit die ordening van die byeenkoms op ’n manier wat kommunikasie bevorder. Dit moenie só losweg gestruktureer word dat daar chaos heers nie, maar dit moet nie só oorgereguleer wees dat die Gees nie deur ander gelowiges in die gemeente kan werk nie. Ware gemeenskap verg vryheid in die Heilige Gees en ’n struktuur wat wel deur die ouderlinge beheer word, maar tog informeel is. Daar moet balans wees. Dit is in só ’n struktuur dat ware gemeenskap op ’n horisontale vlak kan plaasvind.

V. DIE BEDIENINGS VAN DIE HEILIGE GEES IN DIE TOEKOMS
Drie sake sal in hierdie afdeling van die Heilige Gees se bedienings bespreek word: die Groot Verdrukking, die nasionale wedergeboorte van Israel, en die duisend jaar.

A. Die Groot Verdrukking
Die Heilige Gees sal hoofsaaklik drie bedienings hê tydens die Groot Verdrukking.

1. Die bediening van wedergeboorte
Hy sal in die eerste plek steeds die bediening van wedergeboorte beoefen. Openbaring 7:1-17 wys daarop dat baie mense tydens die Verdrukking gered sal word. Redding is die Heilige Gees se werk. Redding spruit uit wedergeboorte. Die feit dat mense uit die Jode en nie-Jode tydens die Verdrukking gered sal word, wys dat die Heilige Gees mense in die Groot Verdrukking sal wederbaar.

2. Die bediening van verseëling
Die Heilige Gees sal in die tweede plek mense in die Verdrukking verseël (Openb 7:3-4; 9:4). Verseëling is altyd ’n waarborg van veiligheid. Gelowiges word tans deur die Heilige Gees verseël om hul geestelike veiligheid te waarborg. Diegene wat die seël van die Heilige Gees dra, se ewige geestelike veiligheid sal in die Verdrukking gewaarborg wees, asook hul fisiese veiligheid en vrywaring van die Verdrukking se oordeel en vervolging. Danksy hierdie bediening van verseëling deur die Heilige Gees, sal hulle die Verdrukking oorleef.

3. Die bediening van profesie
’n Derde bediening wat die Heilige Gees tydens die Verdrukking sal beoefen, is profesie. Mense sal weer direkte openbaring van God af ontvang. Een voorbeeld is die twee getuies in Openbaring 11:3-6 wat in Jerusalem sal profeteer. Hierdie twee getuies is die twee olyfbome in Sagaría 4:11-14 en hou verband met die Heilige Gees as die olie [Engels: golden oil].

Hoewel die Heilige Gees hierdie drie sleutelbedienings tydens die Groot Verdrukking sal beoefen, is daar een sleutelbediening wat Hy nie sal beoefen nie: doping deur die Gees. Soos ons vroeër in hierdie artikel benadruk het, is doping deur die Gees ’n bediening wat uitsluitlik vir die Kerk bestem is. Hoewel mense wedergebore, met die Gees vervul, verseël en met die Gees gesalf sal word, sal niemand in die Verdrukking deur die Gees gedoop word nie, aangesien dit ’n daad is wat slegs vir die Kerktydvak, vanaf Handelinge 2 tot en met die Wegraping van die Kerk, bestem is.

B. Die nasionale wedergeboorte van Israel
’n Tweede belangrike taak van die Heilige Gees in die toekoms sal die nasionale wedergeboorte van Israel wees. Die nasionale wedergeboorte van Israel word konsekwent met die uitstorting van die Heilige Gees verbind. ’n Mens kan dit in ’n paar Ou-Testamentiese teksgedeeltes sien.

1. Jesaja 32:9-20
Die eerste teksgedeelte kan in drie dele verdeel word. Eers beskryf Jesaja 32:9-14 die tydperk van die Groot Verdrukking. Die tweede deel, vers 15, beskryf die uitstorting van die Heilige Gees: … totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn ’n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir ’n bos gereken.

Jesaja praat in hierdie vers van ’n uitstorting van die Heilige Gees op Israel wat ná die Groot Verdrukking gebeur (Jesaja 32:9-14). In die derde deel (Jesaja 32:16-20) beskryf hy die Messiaanse Koninkryk wat ná die nasionale wedergeboorte van Israel sal volg.

2. Jesaja 44:1-5
In die tweede teksgedeelte benadruk Jesaja 44:1-2 dat Israel God se uitverkore volk is. In Jesaja 44:3-5 beskryf hy die uitstorting van die Gees op die hele volk Israel: Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge. En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope. Die een sal sê: Ek behoort aan die HERE; en die ander sal die naam van Jakob uitroep; en die ander sal met sy hand skrywe: Ek behoort aan die HERE, en hom met die erenaam Israel noem.

3. Eségiël 39:25-29
In die derde teksgedeelte beskryf Eségiël 39:25-28 ’n wêreldwye hereniging van die Joodse volk vir die Messiaanse Koninkryk. Die rede vir Israel se wêreldwye hereniging word in Eségiël 39:29 verstrek: En Ek sal my aangesig nie meer vir hulle verberg nie, omdat Ek my Gees oor die huis van Israel uitgegiet het, spreek die Here HERE. Hierdie vers maak melding van ’n uitstorting van die Heilige Gees op die hele volk Israel. Hierdie uitstorting sal lei tot Israel se wedergeboorte, wat op sy beurt die grondslag sal vorm vir Israel se finale herstel en hereniging.

4. Joël 2:28-29
Joël praat in hierdie vierde teksgedeelte, Joël 2:28-29, oor die laaste dae van die Groot Verdrukking, wanneer die Heilige Gees op die hele volk Israel uitgestort sal word: En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.

Petrus het hierdie gedeelte in Handelinge 2:16-21 aangehaal as ’n voorbeeld van hul ervaring, want daar was ’n beperkte uitstorting van die Heilige Gees op die Twaalf Apostels, of op die eenhonderd-en-twintig op die meeste, maar nie op die hele volk van Israel nie. Die vervulling van Joël 2:28-29 het nie in Handelinge 2 plaasgevind nie, en dit vind ook nie tans plaas nie. Dit sal eers gebeur wanneer die hele volk van Israel gered sal word.

5. Sagaría 4:1-14
Die vyfde gedeelte beeld Israel as ’n geredde volk uit. Die universele uitstorting van die Heilige Gees sal slegs op die volk Israel gebeur, en hou verband met die Heilige Gees in Sagaría 4:6: Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.

6. Sagaría 12:10; 13:
Die sesde teksgedeelte is Sagaría 12:10 en Sagaría 13:1. In Sagaría 12:10 staan daar: Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind.

Hierdie teksgedeelte wys hoe die uitstorting van die Heilige Gees lei tot Israel se nasionale wedergeboorte, wat op sy beurt lei tot die Wederkoms van Jesus die Messias.

Die Heilige Gees sal met hierdie tweede belangrike toekomstaak en -bediening van Hom op só ’n manier te werk gaan dat die hele volk van Israel deur sy werk van wedergeboorte gered sal word. Dit sal gevolglik lei tot die Messias se Wederkoms.

C. Die duisend jaar
Die derde toekomstige bediening van die Heilige Gees sal sy werk in die Duisendjarige Ryk wees. Drie belangrike bedienings verdien vermelding.

1. Die bediening van wedergeboorte
Die eerste is die bediening van wedergeboorte. Daar sal mense wees wat in die Koninkryk gebore word wat steeds die sondige natuur sal beërwe. Hierdie sondige natuur sal deur geloof in die plaasvervangende dood, begrafnis en opstanding van die Messias herskep moet word. Volgens Jeremia 31:31-34 sal mense in die Duisendjarige Ryk deur die Heilige Gees se werk wedergebore word.

2. Die bediening van inwoning
Tweedens sal die Heilige Gees se bediening van inwoning voortgaan. Hy sal in gelowiges woon (Jer 31:33; Eség 36:27;37:14).

3. Die volheid van die Gees rus op die Messias
Derdens sal die Heilige Gees op die Messias in die Koninkryk rus. Die Messias sal deur die Heilige Gees sy gesag uitoefen, en heers met die kenmerke wat in Jesaja 11:2-3 beskryf word: … en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE. En Hy het ’n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie.

Inhoudsopgawe

I. DIE BEDIENINGS VAN DIE HEILIGE GEES MET BETREKKING TOT DIE SKRIF
     A. Die bediening van openbaring
     B. Die bediening van inspirasie
     C. Die bediening van verheldering
II. DIE BEDIENINGS VAN DIE HEILIGE GEES IN DIE OU TESTAMENT
     A. Die bediening van die Heilige Gees met betrekking tot die skepping
     B.Die bediening van die Heilige Gees met betrekking tot die wêreld
     C.Die bediening van die Heilige Gees met betrekking tot die mens
         1. ’n Belangrike verskil
         2. Die spesifieke bedienings
         3. Opsomming
III. DIE BEDIENINGS VAN DIE HEILIGE GEES IN DIE NATUURLIKE RYK
IV. DIE BEDIENINGS VAN DIE HEILIGE GEES IN DIE GELOWIGE SE LEWE
     A. Die bedienings van die Heilige Gees met betrekking tot redding
         1. Die bediening van wedergeboorte
             a. Die betekenis van wedergeboorte
             b. Die middel tot wedergeboorte
             c. Die grondslag van wedergeboorte
             d. Die beeldspraak vir wedergeboorte
             e. Die implikasies van wedergeboorte
                  (1) Nie ervaringsgebonde nie
                  (2) Oombliklik
             f. Die resultate van wedergeboorte
                  (1) Ewige lewe
                  (2) ’n Nuwe skepping
                  (3) Ewige sekerheid
                  (4) Nuwe lewe en ’n nuwe natuur
         2. Die bediening van inwoning
             a. Skrifgedeeltes oor die bediening van inwoning
             b. Die middel tot inwoning
             c. Die algemeenheid van inwoning
                  (1) Die bewys van die ongeredde staat
                  (2) Die Gees woon in sondige gelowiges
                  (3) Die gawe van inwoning
             d. Die permanensie van inwoning
             e. Die resultate van inwoning
         3. Die bediening van doping deur die Gees
             a. Verskeie redes vir verwarring oor doping deur die Gees
                  (1) Die unieke bediening vir die Kerk in hierdie bedeling
                  (2) Die oordrewe klem op waterdoop
                  (3) Die verband tussen die gawe van spreek in tale en doping deur die Gees
                  (4) Die verskil in Engelse vertalings
                  (5) Die verhouding tussen doping deur die Gees en vervulling met die Gees
             b. Skrifgedeeltes oor die bediening van doping deur die Gees
             c. Die tussenganger van doping deur die Gees
             d. Die begin van doping deur die Gees
             e. Die algemeenheid van doping deur die Gees
             f. Wanneer doping deur die Gees plaasvind
             g. Die gereeldheid van doping deur die Gees
             h. Die resultate van doping deur die Gees
             i. Die vertraging van doping deur die Gees in die boek Handelinge
                  (1) Handelinge 2
                  (2) Handelinge 8
                  (3) Handelinge 10
                  (4) Handelinge 19
                  (5) Die oorgangskarakter van die boek Handelinge
                  (6) Die gevaar daarvan om leerstellings uit historiese vertellings af te lei
             j. Opsomming van doping deur die Gees
         4. Die bediening van verseëling
             a. Skrifgedeeltes oor die bediening van verseëling deur die Gees
             b. Die implikasies van die bediening van verseëling deur die Gees
             c. Die Ou-Testamentiese konsep van die seël
             d. Die betekenis van die bediening van verseëling deur die Gees
         5. Die bediening van salwing
             a. Skrifgedeeltes oor die bediening van salwing met die Gees
             b. Die implikasies van die bediening van salwing met die Gees
             c. Die betekenis van die bediening van salwing met die Gees
         6. Opsomming
     B. Die bedienings van die Heilige Gees met betrekking tot geestelike groei
         1. Die bediening van vervulling met die Gees
             a. Die Griekse woorde
             b. Die betekenis van vervulling met die Gees
             c. Die aard van vervulling met die Gees
                  (1) Vervulling met die Gees is ’n opdrag
                  (2) Vervulling met die Gees is ’n herhaalde aksie
                  (3) Vervulling met die Gees is passief
             d. Die voorwaardes vir vervulling met die Gees
                  (1) ’n Toegewyde lewe
                  (2) ’n Oorwinningslewe
                  (3) ’n Afhanklike lewe
                  (4) ’n Gehoorsame lewe
             e. Die resultate van vervulling met die Gees
             f. Opsomming van vervulling met die Gees
         2. Die bediening van lering
             a.Die hoofteksgedeelte: Johannes 16:12-15
             b. Die metodes
         3. Die bediening van leiding of rigtinggewing
         4. Die bediening van sekerheid
         5. Die bediening van gebed en intersessie
         6. Die bediening van die Gees wat getuig
         7. Die bediening van gemeenskap van die Heilige Gees
V. DIE BEDIENINGS VAN DIE HEILIGE GEES IN DIE TOEKOMS
     A. Die Groot Verdrukking
         1. Die bediening van wedergeboorte
         2. Die bediening van verseëling
         3. Die bediening van profesie
     B. Die nasionale wedergeboorte van Israel
         1. Jesaja 32:9-20
         2. Jesaja 44:1-5
         3. Eségiël 39:25-29
         4. Joël 2:28-29
         5. Sagaría 4:1-14
         6. Sagaría 12:10; 13:1
     C. Die duisend jaar
         1. Die bediening van wedergeboorte
         2. Die bediening van inwoning
         3. Die volheid van die Gees rus op die Messias

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Wat leer die Bybel oor engele? Bestaan engele, wat is hul name, hoeveel engele is daar, waar woon hulle en wat doen hulle? Het engele persoonlikheid en, indien so, kan dit bewys word uit die Skrif? Verder, wat is hul aard, het almal vlerke en is hulle net manlik? Is daar ‘n verskil tussen gérubs, serafs en engele? Indien so, wat is elke groep hemelwesens se funksie? Hoe word engele georganiseer?