Demonologie: Die leer van demone

Spring na die artikel se inhoudsopgawe.

Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.- Efésiërs 6:11–12

INLEIDING
Die Afrikaanse woord “demoon” kom van die Griekse woord daimonia. Hierdie Griekse woord word 60 keer in die Nuwe Testament gebruik; 19 keer in die enkelvoud en 41 keer in die meervoud. Demonologie is die Leer van Demone of die Leer van Gevalle Engele.

Die doel van hierdie studie is om te ondersoek wat die Bybel oor demone sê. Daar is vyf algemene wanopvattinge omtrent demone waarvan ons reeds in die inleiding melding moet maak. Die redes waarom hierdie opvattinge verkeerd is, sal duidelik word in hierdie studie. Vir eers is dit egter voldoende om net hierdie vyf verkeerde opvattinge te noem.

Die eerste wanopvatting is dat demone eenvoudig nie bestaan nie. Dit is die siening van baie naturaliste en mense wat skepties staan teenoor die Bybel, sowel as die meeste ongelowiges.

Die tweede wanopvatting is dat demone nie persoonlikhede is nie, maar bose uitstralings sonder persoonlikhede. Hulle is met ander woorde slegs invloede of magte en nie persoonlike wesens nie.

Die derde wanopvatting is dat demone verantwoordelik is vir alle sonde. Selfs gelowiges handhaaf soms hierdie verkeerde siening. Hulle glo dat elke sonde wat hulle pleeg die skuld is van ’n demoon of Satan. Daarom hoor ’n mens dikwels dat iemand homself verdedig deur te sê: “Die duiwel het my dit laat doen.” Soms is dit wel so dat Satan veroorsaak dat iemand “dit doen”, maar in die meeste van die gevalle is dit die individu self wat daarvoor verantwoordelik is en nie die duiwel nie.

Die vierde wanopvatting is dat demone verantwoordelik is vir alle vorms van fisieke probleme. Sommige fisieke probleme word wel deur demone veroorsaak, maar nie almal nie.

Die vyfde wanopvatting is dat demone verantwoordelik is vir alle vorms van geestesversteuring. Weer eens, hulle is verantwoordelik vir party versteurings, maar nie vir almal nie.

Dit is dus die wanopvattinge wat mense oor demone het. Wat die waarheid is, sal deur die loop van hierdie studie ondersoek word.

I.
DIE BESTAAN VAN DEMONE
“Leer die Bybel ons werklikwaar dat demone bestaan?” Die antwoord is: “Ja.” Die Bybel leer ons inderdaad dat demone wel bestaan. Dit kan op drie maniere gesien word.

A. Deur Elke Skrywer van die Nuwe Testament
Eerstens word die bestaan van demone deur elke Nuwe Testamentiese skrywer, behalwe die skrywer van Hebreërs, vermeld. Laasgenoemde maak wel melding van Satan, die hoof van die demone.

Matthéüs maak melding van demone in Matthéüs 4:24; 8:16; 28, 31, 33; 9:32, 34; 11:18; 12:22, 24; 15:22; en 17:18.

Markus maak melding van demone in Markus 1:32, 34; 3:15, 22; 6:13; 7:26, 30; 9:38; en 16:9.

Lukas het twee van die Nuwe Testament se Boeke geskryf en in albei praat hy van demone. In die Evangelie van Lukas word demone in Lukas 4:33; 7:33; 8:2, 27, 35, 36, 38; 9:1, 49; en 11:15 gevind. In sy tweede Boek, die Boek Handelinge, maak Lukas melding van demone in hoofstukke 5:16; 8:7; 16:16–18; 19:12–16.

Johannes het vyf van die Boeke in die Nuwe Testament geskryf en verwys in drie van hierdie Boeke na demone: Johannes 8:48–49, 52; 10:20–21; I Johannes 4:1–3 en Openbaring 8:10–11; 9:1–21; 12:7, 9; 16:13–14; 18:2.

Paulus, wat die meeste van die Boeke in die Nuwe Testament geskryf het, maak in drie van hulle melding van demone: 1 Korinthiërs 10:20–21; Efésiërs 6:12; I Timótheüs 4:1.

Jakobus praat van demone in Jakobus 2:19; 3:15.

Petrus praat van demone in II Petrus 2:4.

Laastens maak Judas van demone melding in Judas 6.

Elke skrywer van die Nuwe Testament het iewers in sy skryfwerk melding gemaak van demone, met een uitsondering – die onbekende skrywer van die Brief aan die Hebreërs. Hierdie skrywer het egter wel van Satan melding gemaak. Ons kan dus die gevolgtrekking maak dat as hy in Satan geglo het, hy ook in die bestaan van demone sou geglo het.

B. Deur die Onderrig en Dade van Jesus
Tweedens het Yeshua (Jesus) die bestaan van demone op twee maniere erken.

Eerstens het Hy mense geleer dat demone werklik bestaan (Matt. 7:22; 10:8; 12:27–28; 25:41; Mark. 7:29; 16:17; Luk. 10:20; 11:18–20; 13:32). Tweedens het Hy duidelik die bestaan van demone erken deurdat Hy demone uitgedryf het. Die blote feit dat Jesus demone uitgedryf het, demonstreer dat Hy, op grond van Sy dade, oor die bestaan van demone onderrig het (Matt. 12:22–29; Mark. 1:39; 5:1–20; Luk. 4:35, 41; 8:29–33; 9:42; 11:14). Deur te kyk na Jesus se dade asook dit wat Hy onderrig het, is dit dus baie duidelik dat Hy die bestaan van demone erken het.

C. Deur die Dissipels se Erkenning Daarvan
Derdens het die dissipels, sowel dié binne as dié buite die apostoliese groep, die bestaan van demone erken. Die apostoliese groep het die bestaan van demone volgens Matthéüs 10:1 erken. Buite die apostoliese groep het die sewentig dissipels ook die bestaan van demone erken (Luk. 10:17).

Daar is dus geen twyfel nie dat die Bybel duidelik oor die bestaan van demone onderrig.

II. DIE NAME VAN DEMONE
Demone word ’n hele paar name gegee in die Skrifte. Hierdie onderwerp word in twee kategorieë bespreek: eerstens, die name in die Ou Testament en tweedens, die name in die Nuwe Testament.

A. Die Ou Testamentiese Name
Daar is twaalf name wat in die Ou Testament vir demone gebruik word.

Die eerste naam is engele van boosheid (Ps. 78:49), want dis wat hulle is. Die woord engel beteken “boodskapper” en hulle is die boodskappers van Satan, wat “die Bose Een” genoem word.

Die tweede naam is die seuns van God. Wanneer hierdie frase in die Ou Testament gebruik word, verwys dit altyd na engele. Partykeer verwys dit na goeie engele, maar dit kan ook na bose engele of demone verwys (Gen. 6:2, 4).

Die derde naam is shedim. Dis ’n Hebreeuse woord wat beteken “om te heers” of “om die heerser te wees”. Dit word in Deuteronómium 32:17 en Psalm 106:37 vir demone gebruik. Hierdie naam beklemtoon ’n demoon se begeerte om oor ’n mens te heers, enersyds van binne deur in hom te woon en andersyds deur hom en sy aktiwiteite van buite te beheer.

Die vierde naam is seirim. Dit verwys na demone wat die gestalte van ’n bok het. Soos ons later sal sien, het demone dierlike voorkomste. Van hulle het die gestalte van ’n bok, en hulle staan bekend as seirim. Dis nie toevallig dat satanistiese groepe baie keer die simbool van ’n bok se kop gebruik nie. Hierdie naam vir demone word gebruik in die Hebreeuse teks van Levítikus 17:7; II Kronieke 11:15; en Jesaja 13:21; 34:14.

Die vyfde naam is lilit, ’n Hebreeuse woord wat verwys na ’n nagdemoon of “demone van die nag”. Dit word in die Hebreeuse teks van Jesaja 34:14 vir demone gebruik.

Die sesde naam is bose gees (I Sam. 16:14–16, 23–24; 18:10; 19:9). Dit beklemtoon ’n demoon se ware karakter. ’n Demoon is ’n geestelike wese, maar dis ’n bose geestelike wese, een wat geval het.

Die sewende naam is leuengees (I Kon. 22:21–22). Hierdie woord is ’n perfekte beskrywing van demone: hulle is leuenaars wat deur valsheid gekenmerk word.

Die agtste naam is die geeste van afgestorwenes (Deut. 18:11; Jes. 8:19; 19:3). Dit word gebruik vir demone wat betrokke is by hekse, spiritiste (wat kontak maak met die afgestorwenes), en die dinge wat daarmee saamgaan. Demone wat hulleself deur spiritiste of mediums, towenaars en hekse openbaar, is geeste van afgestorwenes.

Die negende naam is gad, wat “geluk” beteken. Dit is die geluksgod waarvan daar in Jesaja 65:11 melding gemaak word.

’n Tiende Ou Testamentiese naam is meni, en dit beteken noodlot, en kom ook voor in Jesaja 65:11.

Die elfde naam is elelim (Ps. 96:5). Dit word baie keer in Afrikaans met “afgode” vertaal, maar dit verwys in der waarheid na demone van afgodsdiens. Agter afgodsdiens is daar demone aan die werk en daardie demone word die elelim genoem.

Die twaalfde naam is ketev (Ps. 91:6), ’n Hebreeuse benaming wat “vernietiging” beteken. Dit verwys na daardie demone wat betrokke is by die werk van vernietiging of verwoesting.

B. Die Nuwe Testamentiese Name
Daar is vier kategorieë van name wat in die Nuwe Testament gevind word.

1. Name Waarin Dieselfde Griekse Stam Vervat Is
Die eerste kategorie is daardie name waarin die Griekse stam vir “demoon” vervat is. Die betekenis van die stam vir demoon is “intelligensie”. Demone is intelligente wesens en die stamwoord vir demoon word 79 keer in die Nuwe Testament gebruik.

Vanuit die basiese stam vir demoon, het daar ses verskillende vorme ontwikkel. Die eerste vorm is daimon (Matt. 8:31), wat beteken “bose mag”. Die tweede vorm is daimonion. Dis die mees basiese woord vir demoon en word 63 keer gebruik. ’n Voorbeeld hiervan is Lukas 4:33. Die derde vorm van die stam is daimoniodes, wat “demonies” beteken. Dit word slegs een keer gebruik (Jak. 3:15). Die vierde vorm is daimonizomai, wat beteken “om van binne deur ’n demoon beheer te word”. Dit word 13 keer gebruik en een daarvan is in Matthéüs 4:24. Die vyfde vorm is deisidaimonesteros, wat beteken “om eerbiedig teenoor demone te wees”. Dit benadruk die okkultiese wêreld en word slegs een keer gebruik (Hand. 17:22). Die sesde vorm is deisdamonis, wat “demoon-aanbidding” beteken. Dit word ook sterk verbind met die okkultiese wêreld en word slegs een keer gebruik (Hand. 25:19).

2. Name wat die Woord “Gees” Bevat
Die tweede kategorie van name is dié wat die woord gees bevat. Die woord “gees” word in totaal 46 keer in verband met demone gebruik en daar is vyf verskillende name. Eerstens is daar bose geeste (Luk. 7:21; Hand. 19:12–16). Tweedens is daar onreine geeste (Matt. 10:1; 12:43; Mark. 1:27; 3:11; 5:13; Hand. 5:16; 8:7; Op. 16:13). Derdens is daar slegte geeste, oftewel “geeste, slegter as hy self” (Luk. 11:26). Vierdens is daar verleidende geeste (I Tim. 4:1). Vyfdens is daar geeste van duiwels (Op. 16:14), ’n kombinasie van die naam “geeste” en “duiwels”.

3. Engele
Die derde kategorie bevat die woord engele. Die woord engel beteken “boodskapper”. Daar word na demone as engele verwys omdat hulle ook boodskappers is; hulle is Satan se engele. (Matt. 25:41; Op. 12:7–9).

4. Vernietiging
Die vierde kategorie is die naam met die betekenis van vernietiging. Dit is die naam van die demoon van die afgrond, volgens Openbaring 9:11. Sy Hebreeuse naam is Abáddon en sy Griekse naam is Apóllion. Dit maak nie saak of die Hebreeus of die Grieks gebruik word nie, die betekenis is dieselfde: vernietiging.

III. DIE PERSOONLIKHEID VAN DEMONE
“Is demone slegs uitstralings, of is hulle invloede of kragte? Of leer die Bybel ons dat demone persoonlikhede het?” Daar is drie kenmerke van persoonlikheid. As ’n mens kan bewys dat iets oor al drie hierdie kenmerke beskik, beteken dit daardie iets het ’n persoonlikheid. Hierdie drie kenmerke is: intellek, emosie, en eie wil.

A. Intellek
“Het demone intellek?” Die antwoord is, “Ja.” Dit word op ses maniere duidelik gemaak. Eerstens weet demone wie Jesus is (Mark. 1:24). Tweedens is demone bewus van die ondergang wat vir hulle voorlê (Matt. 8:28–29). Derdens het demone vir beide Jesus en Paulus geken (Hand. 16:16–17; 19:15). Vierdens weet demone dat God één is (Jak. 2:19). Vyfdens het demone ’n vals leerstellige sisteem (I Tim. 4:1–3). Sesdens en laastens het demone die vermoë om deur middel van spraak te kommunikeer (Luk. 4:34–35, 41; 8:28–31). Dit is dus baie duidelik dat demone wel oor intellek, die eerste kenmerk van persoonlikheid, beskik.

B. Emosie
“Het demone emosies?” Die antwoord is, “Ja”. Dit kan op twee maniere gesien word: Eerstens kan hulle vol geweld en woede wees (Matt. 8:28); en tweedens het hulle die emosie van vrees (Matt. 8:29; Jak. 2:19). Dus beskik demone ook oor die tweede eienskap, naamlik emosie.

C. Eie Wil
“Het demone hulle eie wil?” Weer eens is die antwoord, “Ja”. Dit kan op drie maniere gesien word: Eerstens het hulle die wil om versoeke te rig (Matt. 8:31; Luk. 8:32). Tweedens het hulle die wil om opdragte en bevele te gehoorsaam (Mark. 1:27; Luk. 4:35–36). Derdens of laastens het hulle die wil om ’n persoon te verlaat, ’n nuwe plek te soek om te bly of terug te gaan na die plek waar hulle voorheen gebly het (Matt. 12:43–45). Al hierdie voorbeelde bewys dat hulle wel oor eie wil beskik.

Demone het dus al drie hierdie kenmerke van persoonlikheid: intellek, emosie, en wil, en dit bewys dat demone wel persoonlikhede het.

D. Persoonlike Voornaamwoorde
Daar is nog ’n manier waarop ons kan bewys dat demone wel persoonlikhede het. Wanneer die Nuwe Testament van demone praat, word die persoonlike voornaamwoord gebruik. As demone slegs uitstralings was, sou die Bybel van “dit” gepraat het. Die Bybel gebruik egter nooit die woord “dit” as daar na demone verwys word nie. Wat die Bybel wel gebruik wanneer dit na demone verwys, is voornaamwoorde soos hy, ek, my, hom, ons en hulle (Mark. 5:6–13; Luk. 8:28–30).

Hierdie persoonlike voornaamwoorde bewys dus baie duidelik saam met die kenmerke van persoonlikheid (intellek, emosie en eie wil) dat demone regte persoonlikhede is.

IV. DIE OORSPRONG VAN DEMONE
Wanneer ons die oorsprong van demone bespreek, moet ons hulle in twee kategorieë indeel: vry demone en ingeperkte demone. Uiteindelik het alle demone, vry en ingeperk, dieselfde oorsprong – hulle is almal engele wat saam met Satan geval het. Alle demone was oorspronklik vry demone, maar van hulle het sedertdien ingeperk geraak. Dis noodsaaklik dat ons daardie onderskeid tref.

A. Die Oorsprong van Vry Demone
1. Demone en Gevalle Engele is Dieselfde
Om die oorsprong van vry demone te verstaan, moet ’n mens verstaan dat demone en gevalle engele nie verskillende kategorieë van wesens is nie, maar presies dieselfde. Die feit dat hulle dieselfde is, kan op vyf maniere gesien word.

a. Dieselfde Verhouding tot Satan
Eerstens word daar van beide demone (of duiwels) en gevalle engele gesê dat hulle in ’n eenderse verhouding tot Satan staan. Hierdie verhouding kom op vier maniere na vore. Eerstens word Satan, wat ’n engel is, die owerste van die duiwels genoem (Matt. 12:24); en dit impliseer dat dié wat hom volg (die duiwels), ook engele is soos hy. Tweedens het Satan ’n goed georganiseerde orde of mag van [gevalle] engele (Ef. 6:11–12) en ons kan redelikerwys aanneem dat hierdie mag van gevalle engele demone is. Derdens word daar na hulle verwys as die duiwel se engele (Matt. 25:41) en hulle is in alle waarskynlikheid demone. Vierdens word hulle ook Satan se engele genoem (Op. 12:7–9) en ook dit dui daarop dat hulle dieselfde is as demone. Hierdie vier skrifgedeeltes bewys dat gevalle engele en demone in ’n eenderse verhouding tot Satan staan, wat impliseer dat hulle een en dieselfde is.

b. Dieselfde in Wese
Tweedens is beide demone en engele geestelike wesens en dit beteken hulle is in wese dieselfde.

c. Dieselfde Aktiwiteite
Derdens het demone en gevalle engele dieselfde aktiwiteite, want albei wil die mens binnegaan en oorlog voer teen die mens en teen God. Gevalle engele doen dit (Op. 9:1–2, 11, 13–15) en demone doen dit ook (Op. 9:3–10), 16–21). Dit bewys dat gevalle engele en demone dieselfde is.

d. Dieselfde Woning
Vierdens deel engele en demone dieselfde woning, dit wil sê die lug – hulle woon in dieselfde atmosferiese hemel (Ef. 2:2; 6:12; Op. 12:7–12).

e. Dieselfde in die Bybelse Teks
Vyfdens kry ’n mens in alle Bybelse tekste óf gevalle engele óf demone, maar nooit albei nie. Nie ’n enkele vers maak terselfdertyd melding van gevalle engele én demone nie. Elke toepaslike vers praat óf van die een óf van die ander.

Om die oorsprong van vry demone te verstaan, moet ons dus onthou dat gevalle engele en demone presies dieselfde is. Wanneer ’n mens dít verstaan, sal jy ook die oorsprong van vry demone verstaan. Vry demone, wat gevalle engele is, se oorsprong is in die tyd van die val van Satan, want demone is die engele wat saam met Satan geval het.

2. Die Gevolge van Satan se Val vir die Engele
Eségiël 28:11–19 beskryf hoe Satan as gevolg van die grootheid van sy koophandel geval het (vers 16). Die Hebreeuse woorde wat hier gebruik word, beteken die volgende: Satan het van een engel na die ander gegaan en God belaster omdat hy die engele aan hom getrou wou maak. Sommige van hierdie engele is deur daardie sataniese leuen mislei –¬¬ hulle het geglo dat hy sy vyf Ek wil uitsprake, insluitende die begeerte om soos God te wees, sou kon uitvoer (Jes. 14:12–14).

Party engele is deur Satan se bewerings oortuig, maar die meerderheid het nie daarvoor geswig nie. Die wat deur Satan oortuig is, is dié wat saam met hom geval het. Hulle is nou die demone wat vry is en Satan se bevele uitvoer.

Daar was drie gevolge van hierdie engele se val: eerstens het hulle hul oorspronklike heiligheid verloor, tweedens het hulle in karakter en optrede verdorwe geword (soos wat die Ou en Nuwe Testamentiese name vir demone demonstreer), en derdens het hierdie engele Satan se demone geword.

B. Die Oorsprong van Ingeperkte Demone
Wanneer ons die oorsprong van die ingeperkte demone bespreek, moet nog ’n onderskeid getref word. Daar is twee verskillende kategorieë van ingeperkte demone: tydelik ingeperkte demone en permanent ingeperkte demone.

1. Tydelik Ingeperkte Demone
Party demone word tydelik ingeperk nadat hulle uit ’n persoon gedryf is. Die demoon in Lukas 8:31, Legio, wou nie na die plek van inperking (die onderwêreld) toe gestuur word nie en het gevra dat hy eerder in die varke ingestuur word. Party demone word tydelik ingeperk nadat hulle uitgedryf is en word dan later weer vrygelaat.

Baie ander word op die oomblik tydelik ingeperk, maar sal vrygelaat word vir die spesifieke oordele van die Groot Verdrukking. Openbaring 9:1–1 praat van demone wat vir ’n periode van vyf maande vrygelaat gaan word om mense te folter, maar nie dood te maak nie. Openbaring 9:13–21 praat van tweehonderd miljoen demone wat vrygelaat gaan word met die doel om eenderde van die wêreld se bevolking dood te maak.

Die plek van tydelike inperking vir hierdie demone is die afgrond. Party is op die oomblik daar ingeperk en gaan gedurende die Groot Verdrukking vrygelaat word, terwyl ander tydelik daar ingeperk word nadat hulle uitgedryf is. Hulle gaan later vrygelaat word sodat hulle weer Satan se bevele kan uitvoer.

2. Permanent Ingeperkte Demone
Die tweede kategorie van ingeperkte demone is dié wat permanent ingeperk is en nooit vrygelaat gaan word nie. Hulle sal direk in die Poel van Vuur ingaan. Daar is drie belangrike skrifgedeeltes wat te doen het met hierdie permanent ingeperkte demone.

a. Génesis 6:1–4
Daar heers ’n debat onder gelowiges of hierdie skrifgedeelte wel na engele verwys of nie. [In die vyfde eeu het die teorie ontstaan dat die seuns van God en die dogters van die mense (vers 2) na manlike afstammelinge van Set en vroulike afstammelinge van Kain verwys.] Die doel van hierdie onderafdeling is om te bewys dat dit wel na engele verwys. Dit verwys om die waarheid te sê na engele wat nou permanent ingeperk is. Om te bewys dat dit wel die geval is, moet ons hierdie verse frase vir frase bestudeer.

(1) Die Vermeerdering van die Mense: Génesis 6:1
Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is…

Vers 1 benadruk die vermeerdering van die mensdom voor die Sondvloed. Die Hebreeuse woord vir mense [Engels: men] wat hier gebruik word, is generies en verwys na die algemene mensdom, dit wil sê manlik én vroulik. Die woord “mense” kan nie, soos beweer word, beperk word tot die betekenis van seuns (afstammelinge) van Set nie, want sowel Setiete as Kainiete word deur die woord mense ingesluit, en albei hierdie groepe het omgekom in die Vloed.

’n Ander sleutelwoord wat in vers 1 gevind word is dogters, ’n Hebreeuse woord wat “vroue” beteken. In die tweede deel van vers 1 val die klem op die vroulike gedeelte van die mensdom: … daar vir hulle dogters gebore is. Weer eens, die uitdrukking dogters kan nie (soos wat beweer word), beperk word tot die vroulike afstammelinge van Kain nie. Dit is gewoon ’n woord wat “die vroulike gedeelte van die mensdom” beteken. Vers 1 kon netsowel gelees het: “Mense (die mensdom) het vermenigvuldig, en dogters (vroue) is vir hulle gebore.” Die onderskeid in vers 1 is nie tussen manlike afstammelinge van Set en vroulike afstammelinge van Kain nie, die klem val op die vroulike gedeelte van die algemene mensdom, wat afstammelinge van Set én Kain insluit.

(2) Die Ondertrouery: Génesis 6:2
…sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.

Vers 2 beskryf ’n ondertrouery.

a) Seuns van God
Die eerste sleutelfrase van vers 2 is: seuns van God. Die frase die seuns van God is ’n algemene term wat beteken “deur God se kreatiewe daad tot bestaan gebring”. Omdat dié term hierdie betekenis het, word dit baie selektief gebruik. Regdeur die Ou Testament word die frase seuns van God altyd gebruik om na engele te verwys. Dit is baie duidelik wanneer hierdie gebruik vergelyk word met die gebruik daarvan in die Ou Testament. Elders word die term in Job 1:6; 2:1 en 38:7 gebruik. Niemand stry dat die ander plekke in die Ou Testament waar daar na seuns van God verwys word duidelik na engele verwys nie. Maar daar is party mense wat Génesis 6:1–4 die uitsondering wil maak, al is daar geen regverdiging vir so ’n uitsondering nie.

In die Nuwe Testament word die frase seuns van God se gebruik uitgebrei. Adam word in Lukas 3:38 die seun van God genoem, want hy is deur God se skeppingsdaad tot bestaan gebring. Gelowiges word in Johannes 1:12 kinders (seuns en dogters) van God genoem omdat gelowiges volgens Galásiërs 6:15 as ’n nuwe skepping beskou word. Maar in Génesis het die teks te doen met ’n spesifieke Hebreeuse uitdrukking, benei elohim. Soos dit in die Hebreeuse Ou Testament gebruik word, is dit ’n term wat altyd vir engele gebruik word. Die onderskeid in hierdie gedeelte is dus nie tussen afstammelinge van Set en afstammelinge van Kain nie, maar tussen die mens en engele. Die woord mense verwys dus hier na die mensdom, en die frase seuns van God verwys na die engele.

b) Dogters van die Mense
Die tweede belangrike frase in vers 2 is: dogters van die mense. Dit is ’n generiese term vir vroue en sluit vroulike afstammelinge van beide Set en Kain in. Wat die vers sê, is dat die seuns van God die dogters van die mense gesien het. Daar is geen regverdiging vir ons om hierdie vers te vertolk as: “godvresende mans [afstammelinge van Set] het ondertrou met goddelose vroue [afstammelinge van Kain]” nie. Sal ware godvresende mans met goddelose vroue trou? Die dogters van mense beteken gewoonweg “vroue” en die seuns van God verwys gewoon na engele. As die betekenis konsekwent is met die gebruik daarvan elders in die Ou Testament, verwys hierdie gedeelte duidelik na gevalle engele wat met menslike vroue ondertrou. Dit is op twee maniere duidelik.

Eerstens vind hierdie ondertrouery net in een rigting plaas, want dis altyd seuns van God wat met dogters van die mense trou. Daar is geen rekord van die “dogters van God” wat met die “seuns van die mense” trou nie. As die onderskeid tussen afstammelinge van Set en Kain was, sou dit doodgewoon nie so plaasgevind het nie. In die menslike samelewing vind ondertrouery tog in altwee rigtings plaas. Vandag is daar mans wat gered is wat trou met vroue wat nie gered is nie, en vroue wat gered is wat trou met mans wat nie gered is nie. As die ander bewering waar was, sou dit beteken het dat manlike afstammelinge van Set wel met vroulike afstammelinge van Kain trou, maar dat manlike afstammelinge van Kain nooit met vroulike afstammelinge van Set trou nie. Dit is hoogs onwaarskynlik. Ondertrouery sou dus beperk gewees het tot godvresende mans met goddelose vroue, en nie godvresende vroue met goddelose mans nie. In Génesis 6 is daar egter ondertrouery wat in een rigting plaasvind: Die seuns van God ondertrou met die dogters van die mense.

Tweedens spreek die konteks duidelik dat hierdie saamwoon as man en vrou ongewoon en onnatuurlik is en die wêreldwye Vloed veroorsaak het. Génesis 6:1–4 handel oor die engele wat die wêreldwye Vloed veroorsaak het, terwyl Génesis 6:5–6 handel oor die menslike aandeel daarin. Saamwoon as man en vrou tussen afstammelinge van Set en afstammelinge van Kain sou nie ongewoon of onnatuurlik gewees het nie, terwyl saamwoon as man en vrou tussen engele en mense wel sou wees.

Diegene wat nie van hierdie interpretasie hou nie, gebruik Matthéüs 22:30 as beswaar daarteen. Hulle beweer dat dit baie duidelik uit hierdie vers blyk dat engele geslagloos is: Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.

Wat Yeshua (Jesus) gesê het, is dat mense in die opstanding en in die Hemel nie trou nie en ook nie in die huwelik uitgegee word nie. Die engele waarvan Jesus gepraat het, is engele in die hemel. Die vergelyking is nie met engele in die algemeen nie, maar met engele in die hemel. Die klem val daarop dat goeie engele in die hemel nie trou nie en nie in die huwelik uitgegee word nie. Matthéüs 22:30 maak dieselfde punt oor mense. Mense wat in die hemel is, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. Maar wat van mense hier op aarde? Mense op aarde trou beslis en word beslis in die huwelik uitgegee. Dit is ’n kontras tussen wat in die hemel gebeur teenoor wat op die aarde gebeur. Génesis 6 praat egter van engele op aarde.

Engele in die Hemel trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie, en mense in die Hemel sal ook nie trou of in die huwelik uitgegee word nie. Daar word nooit verklaar dat engele geslagloos is nie; inteendeel, die manlike vorm word altyd gebruik. Matthéüs 22:30 leer ons dat engele nie volgens hulle eie soort voortplant nie, met ander woorde engele gee nie geboorte aan ander engele nie. In beide die Ou en die Nuwe Testament word engele altyd in die manlike geslag beskryf, nie in die vroulike nie, en ook nie in die onsydige geslag nie. Wanneer engele sigbaar geword het, het hulle altyd as jong mans verskyn, nooit as vroue nie (Gen. 18:1–19:22; Mark. 16:5–7; Luk. 24:4–7; Hand. 1:10–11). Matthéüs 22:30 kan dus nie gebruik word om te bewys dat Génesis 6:1–4 nie na engele verwys nie. Dit handel immers oor ’n situasie op aarde, nie in die Hemel nie. Matthéüs 22:30 leer ons ook nie dat engele geslagloos is nie.

’n Ander vraag is: “Hoekom het Satan toegelaat dat van sy gevalle engele met menslike vroue ondertrou het? Hoekom het hy die moeite gedoen?” Die rede is verstaanbaar as ’n mens na die groter konteks van Génesis kyk. Drie hoofstukke vroeër is die eerste messiaanse profesie opgeteken (Gen. 3:15). Hierdie profesie het verklaar dat die Messias uit die Saad van die vrou gebore gaan word en dat hierdie Saad die kop van Satan sou vermorsel. Wat in Génesis 6:1–4 gebeur het, was ’n sataniese poging om die Saad van die vrou te verderwe deurdat Satan sekere van sy engele ’n menslike gedaante laat aanneem het. Weer eens, engele verskyn altyd as jong mans wanneer hulle ’n menslike gedaante aanneem. Hy wou hê sy engele moes met die mensdom ondertrou sodat die Saad verderwe kon word. Die gebeure van Génesis 6:1–4 was dus ’n sataniese poging om die profesie van Génesis 3:15 tot niet te maak.

(3) Die Gevolg van die Ondertrouery: Génesis 6:3
Die gevolg van hierdie ondertrouery was die oordeel van God: Toe sê die Here: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar.

In vers 3 het God die oordeel aangekondig: die Heilige Gees sou nie vir altyd teen hierdie soort boosheid stry nie en daarom sou die mens oor honderd-en-twintig jaar verdelg word. Hierdie verdelging was die Vloed. Die doel van die Vloed was om die produk van die eenwording tussen engele en vroue te vernietig, soos wat in die volgende vers bespreek word.

(4) Die Produk van die Ondertrouery: Génesis 6:4
In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.

Om ’n beter idee te kry van die betekenis van hierdie vers, moet ons eers na afsonderlike dele daarvan kyk.

(a) Die Nephilim: Dié Wat Geval Het
Eerstens is daar die naam Nephilim. In party vertalings is die woord Nephilim vertaal met die woord “reuse”, soos ook in die Afrikaanse Bybel. Mense wat hierdie vers lees, sien in hul verbeelding reuse mense. Die Hebreeuse woord beteken egter nie reuse nie, dit beteken “dié wat geval het”. Die woord verwys nie na reuse in die sin van ekstra-groot wesens nie, maar na ’n ras van gevalle wesens. Die rede waarom dit vertaal is met “reus”, is baie interessant. In die Septuaginta, die Griekse vertaling van die Ou Testament wat in ongeveer 250 VC gedoen is, het die Joodse geleerdes vers 4 vertaal met die Griekse woord gigentes, wat “Titan”, “titanies” of “reusagtig” beteken. Die Engelse woord “giant” kom van hierdie Griekse woord gigentes.

“Maar wat was die Titane in die Griekse mitologie dan?” Hulle was deels mens en deels god, want hulle was die produk van gode en die mens. Toe die Joodse geleerdes in 250 VC die woord Nephilim in Grieks vertaal het, het hulle die Griekse woord vir Titane gebruik, omdat hulle dit herken het as ’n eenwording, maar nie van twee soorte mense nie. Dit sou ’n verkeerde beskouing gewees het. Hulle was korrek deurdat hulle dit gesien het as ’n eenwording van engele en mense wat ’n wese voortgebring het wat nie ’n engel óf ’n mens was nie. Hierdie Joodse geleerdes, wat soveel nader geleef het aan die tyd toe Moses oorspronklik hierdie skrifgedeelte geskryf het, het duidelik verstaan dat dit ’n ondertrouery tussen engele en mensevroue was. ’n Nuwe ras van wesens is as gevolg van hierdie eenwording tot stand gebring. Hulle is die Nephilim genoem, ’n ras van wesens wat geval het. Hulle was gigentes oftewel superieur, reusagtige mense – hoewel nie noodwendig wat liggaamsgrootte betref nie. Hulle het menslike karaktereienskappe gehad, maar was terselfdertyd bomenslik. Hulle het buitengewone vermoëns gehad – geestelik en fisiek – al was hulle heel moontlik nie groter as enige ander normale mens nie.

Die bron van die Griekse en Romeinse mitologie is afgelei uit die gebeure van Génesis 6:1–4. Hierdie mitologiese verhale vertel hoe gode van die Berg Olimpus met mense op aarde ondertrou het en kinders voortgebring het. Hierdie kinders het bomenslike eienskappe gehad en was meer as mense, maar minder as gode. Die Boek Génesis gee dus vir ons die besonderhede van die werklike geskiedenis, terwyl die Griekse en Romeinse mitologieë die verdraaide, verdorwe weergawe gee. In die Griekse en Romeinse mitologiese verhale word die menslike perspektief op die gebeure gegee, en word dít wat gebeur het verhef tot iets wat besonders en verheerlikend is. God het dit egter sonde genoem.

(b) Die Giborim: Die Manne van Naam
Die tweede woord waarna ons in hierdie vers moet oplet, is giborim, wat vertaal word as die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. Weer eens is hierdie wesens die produk van die eenwording van gevalle engele en menslike vroue. Hulle was uniek en is die giborim genoem. Let daarop dat daar glad nie gepraat word van “geweldige” vroue nie, wat vreemd sou wees as dit ’n produk van ’n normale eenwording was. ’n Normale eenwording het tog beide mans en vroue tot gevolg. As dit ’n natuurlike eenwording was, sou daar “geweldige” mans én vroue gewees het. Maar die resultaat is slegs “geweldige” mans, want dis ’n nuwe ras van wesens wat nie mense óf engele is nie. Die enigste manier om die oorsprong van die giborim te verklaar, is dat hulle vanuit hierdie eenwording ontstaan het. Dit is die punt van vers 4.

Slegs as ons Génesis 6 verklaar deur te sê dit verwys na engele, maak ander areas van Bybelse onderrig ook sin. Dit verskaf die enigste bevredigende verklaring vir sekere stellings in II Petrus en Judas, wat ons hierna gaan bestudeer. Dit is ’n buitengewone sonde wat met die Vloed verbind word en dis anders as die oorspronklike val van die engele; anders sou alle gevalle engele permanent ingeperk gewees het.

b. II Petrus 2:4–5
Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word; en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het…

Vers 4 sê vir ons presies waar die demone is wat permanent ingeperk is. Dié wat tydelik ingeperk is, bevind hulleself in die afgrond, maar dié wat permanent ingeperk is, is elders. Die Griekse woord wat in hierdie gedeelte met hel vertaal word, is Tartarus. Tartarus is ’n gedeelte van Sheol of Hades (die doderyk) en dis waar die demone wat permanent ingeperk is, hulleself bevind. Beide die afgrond en Tartarus is gedeeltes van Sheol of Hades. Die afgrond is vir demone wat tydelik ingeperk is, maar Tartarus is vir demone wat permanent ingeperk is. Daar word na Tartarus as die kettings van duisternis verwys en hierdie engele word vir die oordeel in bewaring gehou. Dit sal die Groot Wit Troon Oordeel wees, die finale oordeel. Dit beteken dat hierdie engele nooit vrygelaat gaan word nie. Wanneer die tyd kom, sal hulle direk van Tartarus af gaan om voor die Groot Wit Troon Oordeel te staan, en dan sal hulle in die Poel van Vuur gegooi word. Daar sal nie ’n tyd kom wanneer hulle vryheid van beweging sal hê nie, want hulle is permanent ingeperk.

Vers 5 sê vir ons op watter tydstip hulle ingeperk is – tydens die Vloed. Dit stem ooreen met die gebeure van Génesis 6:1–4, wat gebeure is wat ook met die Vloed verbind word. Die doel van die Vloed was om die produk van die gevalle engele en menslike vroue se eenwording te vernietig.

Deur die skrifgedeelte in II Petrus met dié van Génesis te vergelyk, is daar goeie bewyse dat Génesis nie praat van afstammelinge van Set wat met afstammelinge van Kain ondertrou het nie, maar van gevalle engele wat met menslike vroue ondertrou het. Dit is die juiste gevolgtrekking waartoe ’n mens kom deur slegs die lees van die Ou Testamentiese skrifgedeeltes. Die Nuwe Testament ondersteun egter ook hierdie spesifieke interpretasie.

c. Judas 6–7
En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.

Vers 6 beklemtoon die val van ’n spesifieke groep van engele en beskryf hulle val in vier stellings. Eerstens het hulle nie hul eie beginsel bewaar nie. Die woord beginsel word gereeld gebruik as daar na die engeleryk verwys word en is een van die verskeie range wat daar in die engeleryk is. Dit beteken hulle het nie in hulle posisie en rangorde binne die sataniese kosmos gebly nie. Tweedens het hulle hul eie woning verlaat. Hulle het die demoniese engelesfeer van werksaamheid verlaat en die menslike sfeer binnegegaan. Hulle het die gedaante van jong mans aangeneem en met menslike vroue ondertrou. Derdens word hulle met ewige boeie onder die duisternis bewaar. Hier maak Judas melding van dieselfde saak as Petrus, dit wil sê dat die engele nou permanent ingeperk is. Petrus het ook die plek van inperking bekendgemaak: Tartarus. Vierdens word hulle daar gehou tot die oordeel van die groot dag. Weer eens bevestig Judas Petrus se stellings dat hulle in gevangeskap gehou sal word tot die oordeel van die groot dag. Dit is ook die Groot Wit Troon Oordeel. Weer word daar bevestig dat hierdie demone nooit weer vry sal kan rondbeweeg nie, maar permanent in Tartarus ingeperk sal wees. Wanneer die tyd aanbreek, sal hulle uit Tartarus geneem word om voor die Groot Wit Troon Oordeel te staan te kom. Hulle sal dan in die Poel van Vuur gegooi word.

Vers 7 gaan oor die aard van hulle sonde. Die sleutelfrase is: op dieselfde manier. Hulle het op dieselfde manier as Sodom en Gomorra agter vreemde vlees aan geloop. Die sonde wat hierdie engele gepleeg het, is soortgelyk aan die sonde van Sodom en Gomorra, dit wil sê die seksuele sonde om agter vreemde vlees aan te loop. Vreemde vlees
verwys na seksuele eenheid wat onnatuurlik of teenstrydig is met dit wat natuurlik is. In Sodom en Gomorra se geval was die vreemde vlees homoseksualiteit. In die engele se geval was die vreemde vlees vroulike vlees. In plaas daarvan dat hulle in hul gewone woning gebly het, het hulle ’n nuwe soort woning van vreemde vlees betrek en walglike seksuele onsedelikhede gepleeg. Sodom en Gomorra en hierdie engele het dus een ding in gemeen: Hulle is skuldig aan seksuele sonde. In Sodom en Gomorra se geval is dit homoseksualiteit; in die engele se geval was dit om in die menslike sfeer te ondertrou.

Deur die skrifgedeelte in Génesis te vergelyk met die skrifgedeeltes in II Petrus en Judas, is dit duidelik dat hierdie wesens wat met menslike vroue ondertrou het, engele was, en nie net afstammelinge van Set wat met afstammelinge van Kain ondertrou het nie.

d. Opsomming
Om die oorsprong van demone op te som: alle demone het dieselfde aanvanklike oorsprong in die sin dat hulle saam met Satan geval het. ’n Sekere tyd na daardie val het sekere van Satan se gevalle engele met menslike vroue getrou. Dis gedoen met die doel om die Saad van die vrou te verderwe sodat die eerste messiaanse profesie van Génesis 3:15 gedwarsboom kon word. Hierdie spesifieke engele is nou permanent ingeperk in Tartarus. Die ander is vry, maar baie van hulle word periodiek ingeperk in die afgrond voordat hulle later weer vrygelaat sal word om vrylik rond te gaan. Die verskil tussen tydelike inperking en permanente inperking is soos die verskil tussen tydelike tronkstraf en lewenslange tronkstraf. Uiteindelik sal alle demone natuurlik vir ewig in die Poel van Vuur ingeperk word ná die Groot Wit Troon Oordeel.

V. DIE AANTAL DEMONE
“Hoeveel demone is daar in die heelal?”

Eerstens is daar verskeie aanduidings dat daar ’n groot hoeveelheid demone is. In Markus 5:9, 15; en Lukas 8:30 word daar byvoorbeeld gepraat van ’n legio demone wat in een persoon woon. ’n Legioen bestaan uit enigiets van vierduisend tot sesduisend demone. Hierdie een persoon het dus tussen vierduisend en sesduisend demone gehad wat in hom gewoon het. Openbaring 9:16 praat van tweehonderd miljoen tydelik ingeperkte demone.

Tweedens maak Openbaring 12:3–4 die persentasie van engele bekend wat saam met Satan geval het, alhoewel die Bybel nooit ’n presiese hoeveelheid demone spesifiseer nie: En ’n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ’n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het.

Hierdie gedeelte sê die draak, wat Satan is, het eenderde van die sterre saam met hom gesleep. Wanneer die woord ster simbolies gebruik word, is dit altyd die simbool vir ’n engel. Die feit dat Satan eenderde van die sterre saamgesleep het, maak dus bekend dat eenderde van die hele engeleskaar vir Satan in sy opstand gevolg het. Eenderde van die oorspronklike getal engele het demone geword, terwyl tweederdes lojaal aan God gebly het.

Wat betref hoeveel demone daar is, is die antwoord: tienduisende. Volgens Hebreërs 12:22–24 is daar tienduisende engele geskape. Volgens die Engelse Bybel is daar ’n ontelbare hoeveelheid engele: innumerable. Daar is dus ’n baie groot aantal demone, maar die presiese hoeveelheid word nie gegee nie.

VI. DIE ORGANISASIE VAN DEMONE
Die gevalle engele is net so georganiseerd soos die goeie engele, met dieselfde titels en range. I Korinthiërs 15:24 praat van drie verskillende range in die organisasie van engele: heerskappy, gesag en mag. Efésiërs 6:12 noem op: owerhede, magte en wêreldheersers. Kolossense 2:15 praat van owerhede en magte. Die Ou Testament vertel ons van demone wat as heersers oor die nasies optree, soos die vors van die koninkryk van die Perse (Dan. 10:13–20) en die vors van Griekeland (Dan. 10:20).

Wat duidelik is, is dat die organisasie van demone ’n nabootsing is van die organisasie van die uitverkore engele, met soortgelyke range en ordes. Satan en al sy demone was eens op ’n tyd deel van die goddelike orde van die Skepping. Hulle is dus heeltemal bewus van die organisasie van engele wat God in die Hemel het.

VII. DIE KARAKTEREIENSKAPPE VAN DEMONE
Die karaktereienskappe van demone kan in drie kategorieë ingedeel word.

A. Hulle Aard
Die eerste kategorie het te doen met demone se aard. Wat dit betref, is daar vier dinge waarvan ons melding moet maak.

Eerstens is hulle geestelike wesens. Demone en onreine geeste is eintlik presies dieselfde. Dit is baie duidelik as ’n mens ooreenstemmende skrifgedeeltes vergelyk. Matthéüs 17:18 maak byvoorbeeld melding van ’n duiwel, maar die ooreenstemmende weergawe in Markus 9:25 noem dit ’n onreine gees. Verder word die terme duiwel en onreine gees afwisselend gebruik in Matthéüs 8:16 en Lukas 9:38–39, 42; 10:17, 20. Die afwisselende gebruik van hierdie terme wys dat demone geestelike wesens is. Dis juis omdat hulle geestelike wesens is dat so ’n groot hoeveelheid van hulle in so ’n klein spasie kan bestaan. Daarom kan ’n legio demone in een mens se liggaam woon (Luk. 8:30). Verder leer Efésiërs 6:12 ons dat demone nie uit vlees en bloed bestaan nie.

Tweedens is demone liggaamloos; hulle het nie fisieke liggame nie (Matt. 12:43–45; Mark. 5:12). Hulle kan ’n fisieke liggaam beset, maar hulle het nie liggame van hul eie nie.

Derdens het hulle duidelike voorkomste en kenmerke wat dikwels dierlik is, ten spyte van die feit dat hulle geestelike wesens is (Op. 9:7–10, 17–19; 16:13–14).

Vierdens probeer demone altyd om mense te beset, want hulle krag is tot ’n groot mate afhanklik van die besetting van mense (Mark. 5:1–13; Hand. 16:16).

B. Hulle Mag
Die tweede kategorie het te doen met demone se mag. Hier is daar vier dinge waarvan ons melding moet maak.

Eerstens het hulle die mag om mense van binne te beheer, soos ons in Markus 5:1–5 en Handelinge 19:16 kan sien.

Tweedens kan hulle mense folter, soos ons in Openbaring 9:1–21 sien wanneer hulle die ongelowiges tydens die Groot Verdrukking vir vyf maande lank gaan folter.

Derdens kan hulle wonderwerke doen, soos ons in Openbaring 16:14 sien.

Vierdens het hulle die vermoë om in ’n sigbare gedaante te verskyn. Dit sien ons in Openbaring 9:7–10, 17–19; 16:13–14.

C. Hulle Moraliteit
Die derde kategorie het te doen met demone se moraliteit. Hier is daar nege dinge waarvan ons melding moet maak.

Eerstens word hulle onreine geeste genoem omdat hulle onrein is wat hul moraliteit betref (Matt. 10:1; Mark. 1:23, 27; 3:11; 5:2; 9:25; Luk. 4:36; Hand. 8:7; Op. 16:13).

Tweedens is hulle bose geeste wat in hul aard verdorwe is (Luk. 7:21).

Derdens is hulle kwaai (Matt. 8:28).

Vierdens is hulle kwaadwillig en gemeen (Luk. 9:39).

Vyfdens word hulle deur wreedheid en gemeenheid gekarakteriseer (Mark. 9:20).

Sesdens het hulle ’n vals leerstellige sisteem (I Tim. 4:1–3). Hierdie vals sisteem het ten minste ses hoofpunte: om afvalligheid van geloof te hê, om in te gee as jy verlei word, om ’n lewe van skynheiligheid te leef, om ’n tong te hê wat lieg, om nie meer jou gewete uit te oefen nie, en laastens om die gelowige se vryheid te ontken op die gebied van die huwelik en wat jy mag eet.

Sewende lei hulle sedeloosheid tot verdere sedeloosheid (Luk. 8:27).

Agtste word hulle beskryf as deel van die duisternis wat deur Satan beheer word (Ef. 6:12).

Negende is almal van hulle nie ewe boos nie, want daar is grade van boosheid, selfs onder demone (Matt. 12:43–45).

VIII. DIE AKTIWITEITE VAN DEMONE
Dit word in vier kategorieë bespreek.

A. Geskiedkundige Aktiwiteite

Die eerste kategorie het te doen met geskiedkundige aktiwiteite omdat demoniese aktiwiteit gedurende sekere tydperke meer of minder word. Regdeur die Ou Testament was daar baie min demoniese aktiwiteit en is dit slegs in uiterste gevalle aangeteken.

In die evangeliese tyd was daar egter ’n skielike stortvloed van demoniese aktiwiteit. Skielik was daar orals demone en is Jesus met hulle gekonfronteer waar Hy ookal gegaan het. Die rede hiervoor word in Openbaring 12:1–5 gevind: Terwyl Jesus tydens sy Eerste Koms op aarde was, het Satan sy hele demoniese mag vanuit hulle teenswoordige woning in die atmosferiese hemel aarde toe gebring. Nie net het hy hulle aarde toe gebring nie, hy het hulle spesifiek na die Midde-Ooste toe gebring, en meer spesifiek na die Land Israel. Satan het die meerderheid van sy demone, indien nie almal nie, na hierdie gebied toe gebring. Die rede hiervoor was om die doel van Jesus se Eerste Koms te probeer dwarsboom. Satan het gekom om gebeure en mense te manipuleer om die Messias sodoende van die kruis af weg te hou. Hy wou dit doen deur Jesus sommer aan die begin al dood te maak, toe Hy nog ’n baba in Betlehem was. Die ander opsie was nog erger, en dit was om Hom later op die verkeerde manier dood te maak, byvoorbeeld deur ’n swaard of steniging. Om hierdie rede was daar ongelooflike demoniese aktiwiteit gedurende die evangeliese tydperk, want Satan het sy hele demoniese mag aarde toe gebring.

Soos wat daar aanbeweeg is vanaf Handelinge se tyd en verder aan, het demoniese aktiwiteit afgeneem tot die vlak wat dit in die Ou Testament was.

Laastens sal daar in die toekoms weer sulke grootskaalse demoniese aktiwiteit wees. Dit sal tydens die Groot Verdrukking gebeur. Die Boek Openbaring maak so dikwels melding van demone, dat dit voorkom asof demoniese aktiwiteit op amper dieselfde skaal sal plaasvind as in die evangeliese fase. Die doel daarmee sal eenvoudig weer wees: om die Tweede Koms van die Messias te probeer verhinder. Die Tweede Koms gaan nie plaasvind totdat die Joodse volk vir Jesus vra om terug te kom nie. Satan weet dit, en gaan al sy demone gedurende die Verdrukking gebruik om die hele wêreld teen die Jode te laat draai. Hy gaan probeer om hulle almal vir eens en altyd te vernietig voordat hulle die kans kry om te pleit dat die Messias moet terugkom. Satan hoop hy sal al die Jode kan verdelg voordat daar ’n nasionale herlewing in Israel is, want dan sal daar geen Tweede Koms wees nie en Satan se “loopbaan” sal vir ewig veilig wees. Om daardie rede gaan daar ’n toename in demoniese aktiwiteit wees gedurende die Groot Verdrukking.

Die geskiedenis van demoniese aktiwiteit kan basies in vier tye verdeel word: Eerstens was daar die bietjie aktiwiteit van Génesis af tot by die Evangelies. Tweedens was daar hoë aktiwiteit tydens die geskiedenis waaroor die Evangelies handel. Derdens is daar weer minder aktiwiteit vanaf Handelinge tot en met die Verdrukking. Vierdens of laastens sal daar tydens die Groot Verdrukking weer ’n geweldige toename in demoniese aktiwiteit wees.

B. Algemene Aktiwiteite
In ’n algemene sin is demone betrokke by drie hoof aktiwiteite. Eerstens probeer hulle om God se doelwit te dwarsboom. ’n Voorbeeld hiervan is te vinde in Daniël 10:10–14: Een van die hoof demone het ’n engel van God vir drie weke gevange gehou om God se openbaring aan Daniël aangaande die toekoms, te probeer voorkom. ’n Ander voorbeeld is in Openbaring 16:12–16, waar demone gaan help om die nasies vir die Armagéddon bymekaar te maak om God se plan vir die Tweede Koms te keer.

Tweedens brei hulle Satan se gesag oor sy kosmos uit deur sy bevele te gehoorsaam (Ef. 2:1–2; 6:11–12).

Derdens kan demone deur God gebruik word om Sy eie doelwit, plan, en wil uit te voer. Dit gebeur dan ook wel. ’n Voorbeeld hiervan is in I Samuel 16:14 waar ’n demoon gebruik is om vir Saul te treiter. In I Konings 22:19–23 is ’n leuengees gebruik om die dood van Agab te probeer bewerkstellig en in II Korinthiërs 12:7 is dit toegelaat dat ’n demoon gebruik word om Paulus nederig te hou. God gebruik demone dus ook om Sy eie doelwitte te bereik.

C. Spesifieke Aktiwiteite
Die derde kategorie van demone se aktiwiteite het te doen met hul spesifieke aktiwiteite. Daar is twaalf aktiwiteite waarvan ons hier melding moet maak.

Eerstens word demone of gevalle engele verbind met die beheer van nasies. Net soos wat God goeie engele het wat die nasies beheer, het Satan bose engele wat die nasies beheer. Daniël 10:10–14 praat van die demoniese vors van Persië en Daniël 10:20–21 van die demoniese vors van Griekeland.

Tweedens kan demone fisieke probleme veroorsaak. ’n Demoon kan byvoorbeeld die volgende veroorsaak: stomheid (Matt. 9:32–33; 12:22; Mark. 9:17); doofheid (Mark. 9:25); erge verkromming van die ruggraat (Luk. 13:10–13); struiptrekkings of epilepsie (Matt. 17:15–18; Mark. 9:20; Luk. 9:37–42); blindheid (Matt. 12:22); en persoonlike besering (Mark. 9:18). Demone kan fisieke probleme veroorsaak, maar tog word nie alle fisieke probleme deur demone veroorsaak nie. Daar is ’n verskil tussen fisieke probleme wat deur menslike verganklikheid of broosheid veroorsaak word en dié wat deur demone veroorsaak word (Matt. 4:24; 8:16).

Derdens kan demone geestelike versteurings veroorsaak (Mark. 5:1–5; Luk. 8:26–27).

Vierdens kan demone vir iemand groot fisieke krag gee (Mark. 5:1–4; Luk. 8:29).

Vyfdens kan demone selfmoord veroorsaak (Mark. 9:22).

Sesdens kan demone diere ook beset (Mark. 5:12–13).

Sewende bevorder demone afgodsdiens (Lev. 17:7; Jes. 65:11; Deut. 32:17; Sag. 13:2; Hos. 13:2; Hand. 17:22; I Kor. 10:20).

Agtste kan hulle veroorsaak dat mense demone aanbid (Op. 9:20–21).

Negende kan demone onreinheid en sedeloosheid veroorsaak (Luk. 8:27).

Tiende bevorder demone vals leerstellings (I Tim. 4:1; Jak. 3:15; I Joh. 4:1).

Elfde staan demone die geestelike groei van gelowiges teen (Ef. 6:12).

Daar is nog ’n ander aktiwiteit, en dis om mense van binne te beheer, maar dis iets wat in ’n heel ander konteks bestudeer moet word, dus bespreek ons dit nie hier nie.

D. Okkultiese Aktiwiteite
Die kategorie van demone se aktiwiteite met betrekking tot die okkulte, is ’n uitgebreide onderafdeling en daarom word dit in ses eenhede ingedeel.

1. Die Griekse Woorde
Daar is drie Griekse sleutelwoorde wat demonisme met die wêreld van die okkulte verbind. Die eerste woord is deisidaimonia, wat “eerbied of ontsag vir demoniese dinge” beteken (Hand. 25:19). Die tweede Griekse woord is deisidaimonesteros, wat “eerbied of ontsag vir demone” beteken. Die eerste woord beteken ontsag vir demoniese dinge soos okkultiese voorwerpe, maar die tweede woord onthul wat daaragter skuil, naamlik ontsag vir demone self (Hand. 17:22). Die derde Griekse woord is daimoniodeis, wat letterlik beteken “demoniese dinge”, soos byvoorbeeld okkultiese dinge (Jak. 3:15).

Ons kan ’n basiese betekenis van die “okkulte” aflei vanuit hierdie drie Griekse woorde. Wat word bedoel met die term “okkulte”? Eerstens verwys dit na dinge wat “bedek” word. Tweedens verwys dit na dinge wat “weggesteek” en “verberg” word. Derdens verwys dit na dinge wat “geheim” is. Vierdens verwys dit na dinge wat “misterieus” is. Hierdie vier elemente help om die betekenis van die okkulte saam te stel: dinge wat bedek, weggesteek en verborge, geheim, en misterieus is. Okkultiese praktyke is dus ’n poging om verder as die vyf sintuie te gaan om verborge kennis en begrip te verkry.

2. Die Fasette van die Okkultiese Wêreld
Wanneer ons die fasette van die okkultiese wêreld bespreek, is daar drie skrifgedeeltes wat ons in ag moet neem.

a. Deuteronómium 18:9–14
Die eerste is Deuterónomium 18:9–14, waar Moses agt fasette van die okkultiese wêreld noem. Eerstens is daar waarsêery, wat beteken “om iemand se fortuin te vertel deur middel van toorkuns”. Tweedens is daar goëlery of wiggelary, wat die toekoms probeer bepaal deur byvoorbeeld diere se ingewande te lees of deur dolosgooiery. Derdens is daar die verklaring van voortekens deur ’n towenaar wat ander onder demoniese betowering of demoniese beheer plaas. Vierdens is daar towery, wat na hekse en heksery verwys en ook die gebied van astrologie insluit. Vyfdens is daar dié wat met besweringe rondgaan, oftewel iemand wat toorkuns beoefen en van inkantasies en hipnose gebruik maak. Sesdens is daar dié wat ’n gees van ’n afgestorwene vra; dit verwys na ’n medium wat deur ’n demoon beheer word. Die demoon word waarskynlik so genoem omdat dit die demoon was wat aan die gestorwe persoon toegeken is. Omdat hierdie demoon die oorlede persoon sy hele lewe lank dopgehou het en weet van al sy geheime, weet hierdie demoon hoe om die persoon na te maak en is hy in staat om voor te gee dat hy die gees van daardie dooie persoon is. Sewende is daar ’n gees wat waarsê, dit wil sê iemand wat heldersiende en psigies is. Die Engelse Bybel praat hier van ’n “wizard”, wat verwys na ’n manlike towenaar of waarsêer. Agtste en laastens is daar dié wat die dooies raadpleeg – dit wil sê die medium wat met die dooies kontak maak.

b. Handelinge 8:9
Die tweede skrifgedeelte is Handelinge 8:11, wat melding maak van iemand wat met towery omgaan.

c. Handelinge 16:16
Die derde skrifgedeelte is Handelinge 16:16 wat melding maak van waarsêery. Dit is interessant dat die Griekse woord wat met waarsêery vertaal word, letterlik lees: “die gees van ’n luislang”. Die luislang is ’n slang, en die slang word in die Skrif met Satan verbind (Gen. 3:1–15; Op. 12:9; 20:2). Hy is dus die primêre bron van alle okkultisme.

Demone en okkultisme gaan hand aan hand. Om die waarheid te sê sou die okkulte nie bestaan het sonder demone nie. As daar geen demone was nie, sou daar geen okkulte gewees het nie.

3. Die Kenmerke van Okkultisme
Daar is ses spesifieke kenmerke van okkultisme.

Eerstens hou dit altyd ’n mate van kontak met die demoniese wêreld in. Dis duidelik te sien in die feit dat die stamwoord in die Grieks altyd terugverwys na demone wanneer daar van okkultiese praktyke gepraat word.

Tweedens is dit die blootlê of openbaring van verborge kennis oor die verlede of die toekoms. Dit is duidelik uit die drie Griekse woorde wat ons voorheen bespreek het.

Derdens maak dit beloftes van buitengewone mag. Dís wat mense tot die okkultiese wêreld aantrek. Dit maak beloftes van geesteskragte; die vermoë om ander mense te beheer; en die mag om wonderwerke te kan doen.

Vierdens kan dit volgens Exodus 20:3–5 lei tot die oordrag van demoniese beheer aan die derde en vierde geslag. Hierdie punt het te doen met herleiding, want die sonde wat oorgedra word aan die derde en die vierde geslag is dié van die aanbidding van ’n ander god. In die konteks van daardie Ou Testamentiese skrifgedeelte het God gewaarsku dat afgodsdiens en die aanbidding van enige ander gode straf tot gevolg sou hê. Hy het gesê Hy sal die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat [Hom] haat. Demone is uitermate betrokke op die gebied van afgodsdiens en moedig die aanbidding aan van afgode, wat die aanbidding is van ander gode. As gevolg van die verband tussen afgodsdiens en demonologie, kan okkultisme daarom lei tot die oordrag van demoniese beheer aan die derde en aan die vierde geslag.

Vyfdens vereis okkultisme ’n mediterende of passiewe gemoedstoestand waar demone kan funksioneer of in beheer kan wees. Dis hoekom gebiede soos hipnose, Oosterse meditasie, en dwelmmisbruik so gevaarlik is.

Die sesde kenmerk van okkultisme is dat dit ’n vreemde magnetisme skep wat die betrokkene terselfdertyd aantrek en bang maak. Mense word daarna aangetrek en raak dan daarin betrokke, maar dis altyd met ’n mate van vrees en bewing.

4. Die Vangstrikke van Okkultisme
Hierdie afdeling gaan oor die okkultiese vangstrikke waarmee Satan mense lok tot in die wêreld van die okkulte en dusdoende ook tot in demonisme. Hierdie vangstrikke kan in drie kategorieë verdeel word.

a. Spiritisme
Basies is “spiritisme” om “met die dooies te praat”. In die geskiedenis van okkultisme het dit vyf hoof kenmerke of vorms.

Eerstens is daar die fisieke verskynsels. Dit sluit in swewing (waarby die liggaam gelig word); apportering (die verplasing van voorwerpe van een plek na ’n ander en die beweging van een vaste liggaam deur ’n ander); en telekinese (die gewone beweging van voorwerpe sonder dat hulle deur ’n ander soliede voorwerp hoef te beweeg).

Die tweede vorm van spiritisme is psigiese verskynsels. Dit sluit in: spiritualistiese visioene; outomatiese skrif, wat die outomatiese neerskryf is van ’n demoon se boodskap; praat in ’n beswyming; materialisering of sigbaarwording; lig van tafels; rondbeweging van ’n beker of ’n glas; en psigiese reise.

Die derde vorm van spiritisme is metafisiese verskynsels. Dit sluit in verskynings (visioene van ’n gees in menslike gedaante); en spoke wat gelokaliseer is in een plek soos ’n “spookhuis”.

Die vierde vorm van spiritisme is verskynsels van toordery. Dit sluit vervolgings deur medium van toordery in, soos die vervloeking waarvan daar in Númeri 22:6–7; 24:1 melding gemaak word. Bíleam was by hierdie vorm van spiritisme betrokke en is “Bileam die waarsêer” genoem (Jos. 13:22). Hierdie vorm sluit ook verdedigingsmeganismes deur medium van toordery in.

Die vyfde vorm van spiritisme is kultiese verskynsels. Dit sluit spiritualistiese kultusse, primêre spiritisme, en nekromansie (swartkuns) in. Nekromansie is ’n ou vorm wat in die Bybelse tye geheers het en in I Samuel 28:3–4; I Kronieke 10:13, en Jesaja 29:4 genoem word.

b. Waarsêery
Die tweede okkultiese valstrik is “waarsêery”. As jy na die stam van hierdie woord kyk, beteken dit “die voorspelling van die toekoms”. Waarsêery is die kuns om geheime en onwettige kennis oor die toekoms te verkry. Daar is twee verskillende soorte: eerstens is daar wiggelary of kunsmatige waarsêery – die vaardigheid om tekens en voorbodes te lees en te interpreteer. Dit word in Eségiël 21:21 gevind. Die tweede soort is geïnspireerde waarsêery – om inligting van ’n demoon af te kry wat deur ’n medium praat. ’n Voorbeeld hiervan is in Handelinge 16:16–18.

Daar is vier Bybelse sleutelwoorde wat na die kategorie van waarsêery verwys en al vier kom in die Boek Daniël voor. In Daniël 1:20; 2:2, 10, 27; 4:7; 5:11, 15 vind ons byvoorbeeld die volgende vier woorde: geleerdes, besweerders, towenaars of wiggelaars, en Chaldeërs.

Soos spiritisme, neem waarsêery verskeie vorme aan waarvan ons ten minste tien kan opnoem. Die eerste een is die gewildste vorm, naamlik astrologie. Dit kom uit die oudste tye en is vandag nog gewild. In die Skrif kom dit voor in Deuteronómium 17:2–7; II Konings 23:5; Jesaja 47:12–13; Jeremia 10:2; Amos 5:25–26; en Handelinge 7:41–43. Tweedens is daar kaartlêery – die uitlê van kaarte en tarotkaarte (toekomsvoorspelling). Derdens is daar psigometrie wat persoonlikheidseienskappe probeer bepaal deur medium van voorwerpe wat aan die eienaar behoort. Vierdens is daar die lees van handpalms en vyfdens water aanwys met ’n (mik)stok. Sesdens is daar die staf (of roede) en die pendulum, of die gebruik van ’n kaart om vermiste voorwerpe en mense op te spoor. Sewende is daar profetiese drome en visioene, wat in Jeremia 29:8–9 voorkom. Agtste is daar die gebruik van Ouijaborde, en negende is daar kristalballe. Tiende en laastens is daar heldersiendheid, wat ook ’n ou vorm is wat in Génesis 44:5 en Jesaja 47:9 genoem word.

c. Toorkuns of Heksery
Toorkuns of heksery is om met behulp van bonatuurlike magte resultate te verkry wat bo die mens se vermoëns is; wesenlik is dit om gebruik te maak van demone vir die bewerkstelliging van bonatuurlike resultate.

Dit neem ook verskillende vorme aan, waarvan ten minste dertien bekend is. Eerstens, swartkuns of nekromansie (“black magic”): Wanneer aanspraak gemaak word op die aanwending van bose kragte of die magte van Satan. Tweedens, goëlkuns (“white magic”): Die aanspraak dat die kragte van goedheid of van God aangewend word. In der waarheid kom beide swartkuns én goëlkuns van Satan af. Derdens, natuurlike toorkuns: Die aanspraak dat die kragte van die natuur aangewend word. Vierdens, verstandelike suggestie: Die verplasing van gedagtes van een verstand na ’n ander. Vyfdens, kriminele hipnose: Om iemand te hipnotiseer om iets boos te doen. Sesdens, toormesmerisme: Om heling te bewerkstellig deur middel van aanraking. Sewende, helende toorkuns. Agtste, liefde- en haattoorkuns of die gebruik van liefdes- en haatdrankies. Negende, vervloeking: Wanneer iemand ’n spesifieke vloek wat waar sal word oor iemand anders uitspreek deur byvoorbeeld ’n pop te gebruik soos in inboorlingtoorkuns (“voodoo”). Tiende, vrugbaarheidsgelukbringers. Elfde, binding en losmaking: Aanspraak op die mag om Satan te bind of los te maak. Twaalfde, doodskuns. Dertiende, die dra van geluksteentjies of gelukbringertjies om teenspoed af te weer, ook ’n redelike ou gebruik wat in Génesis 35:4; Openbaring 8:21, 26; en Jesaja 3:18 voorkom.

5. Die Bybel en Okkultisme
Die vyfde punt wat daar oor die okkultiese wêreld gemaak moet word, is dat die Bybel baie duidelik enige kontak met die okkulte verbied. Voorbeelde van skrifgedeeltes waarin dit verbied word, is in Exodus 22:18; Levítikus 19:26, 31; 20:6, 27; Deuteronómium 18:9–14; I Samuel 15:23; II Konings 21:6; Jesaja 8:19; Jeremia 29:8–9; Miga 5:13; en Handelinge 19:18–20.

6. Die Beoefening van Okkultisme
Ten spyte van al die kere wat dit duidelik verbied word, was die beoefening van toordery baie gewild regdeur die geskiedenis waaroor die Bybel handel (Gen. 41:8; Ex. 7:11; II Kon. 9:22; 17:17; 23:24; II Kron. 33:6; Jes. 19:3; Jer. 27:9–10; Eseg. 21:21; Dan. 1:20; 2:2, 27; 4:7; 5:11; Nah. 3:4; Mal. 3:5; Matt. 7:22–23; Hand. 8:9–11; 19:19; Gal. 5:20; II Tim. 3:8). Die Bybel lewer verslag oor die grootskaalse beoefening van toordery, maar verbied gelowiges uitdruklik om enige kontak met die okkultiese wêreld te hê.

IX. DEMONIESE BEHEER
Die volgende hoof afdeling van Demonologie is demoniese beheer. Soms word dit ook “demoniese besetenheid” genoem, maar in hierdie studie noem ons dit demoniese beheer om redes wat hierna aangegee sal word. Hierdie afdeling word in ses eenhede ingedeel.

A. Die Definisie van Demoniese Beheer
Om ’n duidelike definisie te kry, moet ons eers na die sleutelwoord kyk en dan na die sleuteluitdrukking.

1. Die Sleutelwoord
Die sleutelwoord is daimonizomai, wat beteken “om besit te word”. Dit beteken “om van binne deur ’n demoon beheer te word”. Dit is die woord wat dikwels vertaal word as: “om deur ’n demoon besete te wees”. Die probleem met hierdie vertaling is dat die Griekse woord vir “besete” nooit in verband met demone gebruik word nie. Wat wel gevind word, is altyd daimonizomai of “om van binne deur ’n demoon beheer te word”. As ’n mens dit as “besete deur ’n demoon” sou vertaal of definieer, sou dit eienaarskap deur ’n demoon beteken, met ander woorde dat die demoon ’n mens besit. Daarom is dit beter om dit eenvoudig te vertaal as “demoniese beheer”. Die beste definisie van die sleutelwoord daimonizomai is dus demoniese beheer, dit wil sê iemand word deur ’n demoon beheer. Hierdie sleutelwoord word gevind in die Griekse teks van Matthéüs 4:24; 8:16, 28, 33; 9:32; 12:22; 15:22; Markus 1:32; 5:15–16, 18; Lukas 8:36 en Johannes 10:21.

2. Die Sleuteluitdrukking
Die sleuteluitdrukking wat dieselfde beteken as die woord daimonizomai is “om ’n demoon te hê”, maar die woord self word nooit gebruik nie. Die sleuteluitdrukking benadruk die inwoning van die demoon. Die sleutelwoord se klem val op beheer, maar die sleuteluitdrukking se klem val op inwoning, want in die geval van demoniese beheer leef die demoon binne-in daardie persoon. Hierdie sleuteluitdrukking word gevind in Matthéüs 11:18; Lukas 7:33; Johannes 7:20; 8:48; 10:20; Handelinge 8:7 en 16:16.

3. Die Definisie
Deur die sleutelwoord en die sleuteluitdrukking te kombineer, kan daar ’n spesifieke definisie afgelei word. Volgens hierdie definisie het demoniese beheer te doen met ’n demoon wat in ’n persoon woon en direkte beheer oor daardie persoon uitoefen. Dit lei tot ’n sekere mate van versteuring – van die verstand of van die liggaam. Die definisie neem sowel die sleutelwoord as die sleuteluitdrukking en die gevolge in ag. Weer eens, demoniese beheer behels: ’n Demoon woon in ’n persoon (dit lê klem op die sleuteluitdrukking); oefen direkte beheer uit oor daardie persoon (dit lê klem op die sleutelwoord); en dit het ’n sekere mate van versteuring van die verstand of die liggaam tot gevolg, die resultaat van ’n demoon wat in ’n persoon woon en direkte beheer oor hom uitoefen.

’n Goeie voorbeeld hiervan is in Matthéüs 12:43–45, waar die demoon se plek bespreek word en dit beide die sleutelwoord en -frase beklemtoon. In Markus 5:1–20 is daar ’n voorbeeld van die gevolg van demoniese beheer, in beide die fisieke en verstandelike aspekte.

4. Die Onderskeidings
Om ’n duideliker prentjie te kry van wat bedoel word met demoniese beheer, moet daar ’n onderskeid gemaak word tussen demoniese beheer en twee ander soorte demoniese aktiwiteite.

a. Demoniese Teistering
Die eerste soort demoniese aktiwiteit is demoniese teistering, waar ’n demoon ’n persoon van buite teister. ’n Voorbeeld hiervan word in Romeine 15:22 en I Thessalonicense 2:18 gevind. Hierdie twee gedeeltes praat van pla of lastig val, dit wil sê Satan belemmer die planne van ’n gelowige. Dit is demoniese teistering wanneer demone die werk van ’n gelowige belemmer.

b. Demoniese Invloed
Die tweede soort demoniese aktiwiteit wat nie verwar moet word met demoniese beheer nie, is dié van demoniese invloed. ’n Voorbeeld hiervan kom voor in Matthéüs 16:21–23. Nadat Yeshua (Jesus) die stelling gemaak het dat Hy gaan sterf, het Petrus gesê so iets sal die Here nooit oorkom nie. Jesus het toe omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Satan was baie duidelik besig om te probeer om die Messias van die kruis af weg te hou. Op daardie oomblik het Satan Petrus beïnvloed om vir Jesus te probeer oorreed om nie na die kruis te gaan nie. Petrus was dus onder demoniese invloed.

Demoniese beheer moet van beide demoniese teistering en demoniese invloed onderskei word. Demoniese teistering en demoniese invloed is aktiwiteite wat buite die persoon plaasvind, maar demoniese beheer vind binne-in die persoon plaas.

5. Kan ’n Gelowige Gedemoniseer Word?
In die lig van hierdie definisie: kan ’n demoon ’n gelowige beheer? Normaalweg word hierdie vraag as volg verwoord: “Kan ’n gelowige deur ’n demoon beset word?” Soos ons vroeër uitgewys het, is die woord “besete” nie ’n goeie woord nie, want die Griekse teks gebruik nooit daardie term nie. As ’n mens met “besete” bedoel “besit”, is die antwoord: “Nee! ’n Gelowige kan nooit deur ’n demoon besit word in die sin van eienaarskap nie.” Volgens I Korinthiërs 6:20 is die gelowige deur Christus gekoop. Hy word dus deur Christus besit en kan nooit deur Satan besit word nie; hy kan slegs deur Christus besit word. Maar die Bybelse gebruik van hierdie woord beteken “beheer van binne”. As die vraag dus herbewoord word as: “Kan ’n gelowige van binne beheer word deur ’n demoon?” is die antwoord: “Ja, hy kan.” Daar is twee skrifgedeeltes wat dit duidelik maak.

Eerstens is daar Handelinge 5:1–4, die geval van Ananías en Saffíra. Toe Petrus gevra het: “Waarom het die Satan jou hart vervul?” het hy dieselfde Griekse woord gebruik wat Paulus in Efésiërs 5:18 gebruik waar hy daarna verwys om met die Gees vervul te wees. Net soos wat met die Gees vervul beteken om deur die Heilige Gees beheer te word, so beteken “met Satan vervul” om deur Satan beheer te word. Die Heilige Gees beheer ’n mens van binne, en Satan ook, aangesien dieselfde Griekse woord gebruik word. Die Bybel leer ons dus dat ’n gelowige van binne deur ’n demoon beheer kan word.

Die tweede skrifgedeelte is Efésiërs 4:27, waar Paulus geskryf het: en gee aan die duiwel geen plek nie. Paulus het ’n Griekse woord gebruik wat “strandhoof” beteken. Wanneer ’n weermag die vyand se gebied aanval, stuur hulle eers soldate in om ’n strandhoof in te neem. ’n Strandhoof is ’n beheerde gebied binne-in ’n vyandige gebied. Wanneer ’n strandhoof ingeneem is, kan versterkings inkom terwyl diegene in die strandhoof vir hulle beskerming bied teen die vyand se vuur. As ’n gelowige ’n strandhoof, ’n plek, vir die duiwel of ’n demoon gee, beteken dit die duiwel of die demoon kan daardie gelowige van binne beheer.

Die onderskeid tussen gelowiges en ongelowiges is nie dat ’n gelowige nie beheer kan word en ’n ongelowige wel beheer kan word nie. Die verskil is eerder ’n kwessie van die mate van die beheer. ’n Ongelowige kan geheel en al beheer word, maar ’n gelowige kan slegs gedeeltelik beheer word, nooit geheel en al nie.

’n Algemene beswaar teen hierdie siening is: “Hoe kan ’n demoon in dieselfde liggaam as die Heilige Gees woon?” Die meeste gelowiges besef dat hulle nog steeds ’n sondige natuur het. Die Heilige Gees en die sondige natuur van die gelowige bestaan naas mekaar binne-in die gelowige. Die punt is dat die gelowige twee nature het. Die Heilige Gees leef in die nuwe natuur, nie in die ou, sondige natuur nie. Net so leef die demoon nie in die nuwe natuur nie, maar in die ou, sondige natuur. Die feit dat daar twee nature is wat gelyktydig binne-in dieselfde gelowige bestaan, wys hoe dit kan wees dat ’n demoon én die Heilige Gees op dieselfde tyd binne-in dieselfde gelowige kan wees. Hulle woon immers in twee verskillende nature.

Wat ’n mens laastens oor hierdie definisie moet onthou, is dat demoniese beheer herhaal kan word (Matt. 12:43–45; Luk. 11:24–26).

B. Die Simptome van Demoniese Beheer
Hoe weet ’n mens of iemand van binne deur ’n demoon beheer word of nie? Daar is iets wat ons in gedagte moet hou terwyl ons die spesifieke simptome behandel. Hierdie simptome van demoniese beheer beteken nie noodwendig dat daar demone in ’n persoon woon nie, want daar is dalk ander probleme wat presies dieselfde simptome veroorsaak. Net omdat ’n persoon een of meer van hierdie simptome het, is nie voldoende bewys dat daar ’n demoon in hom is nie. Al die toepaslike simptome moet aanwesig wees om werklike demonisme aan te dui. ’n Mens moet dus ’n balans handhaaf ten opsigte hiervan en baie versigtig wees om nie oorboord te gaan in die een óf die ander rigting nie. Aan die een kant is die een uiterste wat beweer dat daar vandag geen demoniese aktiwiteite is nie, en aan die ander kant is daar die ander uiterste wat demone vir byna alles blameer. Albei uiterstes moet vermy word. Daar is altesaam dertien simptome van demoniese beheer.

1. Fisieke Probleme
Die eerste simptoom van demoniese beheer, is fisieke probleme (Matt. 9:32–33). Weer eens, nie alle fisieke probleme word deur demone veroorsaak nie. Handelinge 5:16 onderskei tussen diegene wat deur demone beheer word en diegene wat beproef word deur gewone fisieke probleme wat niks met demone te doen het nie.

2. Geestesversteuring
Die tweede simptoom is geestesversteuring (Matt. 17:15). Soos met fisieke probleme word nie alle geestesversteurings deur demone veroorsaak nie. Daniël 4:1–37 gaan byvoorbeeld oor ’n geval van geestelike versteuring wat nie deur ’n demoon veroorsaak is nie.

3. Diep Depressie
Die derde simptoom is diep depressie, raak beskryf as ’n donker wolk van depressie. Weer eens, die meeste mense ervaar normaalweg tye van depressie. Wanneer iemand se sakeonderneming misluk, mag hy dalk depressief word en so ook iemand wat nie ’n toets of eksamen slaag nie. Hierdie dinge op hul eie bewys nie dat iemand deur ’n demoon beheer word nie. Maar in die geval van depressie wat deur ’n demoon veroorsaak word, kan ’n mens dit aanvoel. Jy sal in ’n kamer instap en onmiddellik ’n donker wolk van depressie aanvoel – dít is die simptoom waarna hier verwys word.

4. Selfverwyt
Die vierde simptoom is selfverwyt. Demone hou daarvan om vir ’n mens te lieg en vir die persoon te sê hoe min hy werd is.

5. Selfmoord
Die vyfde simptoom is selfmoord. Demone probeer soms om die individu in wie hulle woon dood te maak, en selfmoord is dus ook ’n simptoom. Iemand met selfmoordneigings wat al meer as een poging aangewend het om sy eie lewe te neem, kan dalk deur ’n demoon beheer word. Maar weer eens is dit alleen nie voldoende bewys nie.

6. Passiwiteit
Die sewende simptoom is passiwiteit. Iemand wat permanent in ’n passiewe toestand is, wat lyk asof hy deur niks rondom hom beïnvloed word nie, kan dalk deur ’n demoon beheer word.

7. Sedeloosheid
Die sewende simptoom is sedeloosheid. Demone is “onrein” of “vuil” geeste. Dis in hulle aard om onrein te wees en daarom dryf hulle diegene in wie hulle woon ook na dade van onreinheid oftewel sedeloosheid.

8. Bitterheid
Die agtste simptoom is bitterheid. As iemand voortdurend bitter is teenoor alles en almal – teenoor God, die wêreld, ensovoorts – kan dit ’n simptoom van demoniese beheer wees.

9. Dwelmmisbruik
Die negende simptoom is dwelmmisbruik. Dwelmmisbruik en ’n passiewe toestand gaan hand aan hand. Die skrywer van hierdie artikel het al baie in ’n besige straat in ’n stad gestap en ’n persoon gesien wat duidelik “hoog” op dwelms is. So ’n persoon kyk, maar sien nie; hy is totaal en al passief. Dwelmmisbruik word gekenmerk deur passiwiteit en kan ook ’n simptoom van demoniese beheer wees.

10. Psigiese Krag
Die tiende simptoom is psigiese krag. Wanneer dit lyk of iemand psigiese kragte het of vooruit weet wat gaan gebeur, kan dit ’n simptoom van demoniese beheer wees. Die skrywer het nog nie baie mense teëgekom wat onder demoniese beheer was nie. In al die jare wat hierdie skrywer al in die bediening is, het hy met nog net vier of vyf mense te doen gekry wat baie duidelik ’n demoniese probleem gehad het.

Een so ’n geval was ’n meisie. Elke keer as ’n mens in haar teenwoordigheid gekom het, kon jy skielik daardie donker wolk van depressie aanvoel waarvan vroeër melding gemaak is. Wanneer sy alleen in ’n kamer was, het sy al die ligte afgeskakel om dit donker te hou. As ’n mens nie geweet het sy sit in die kamer nie, en dan daar instap en die ligte aanskakel, was jy heeltemal verbaas om haar daar te sien sit. Die uitdrukking op haar gesig het gelyk asof sy uitgevang is dat sy iets verkeerds gedoen het.

In ’n ander geval van ’n meisie wat ’n demoniese probleem gehad het, het dit altyd gelyk asof sy vooruit geweet het wat gaan gebeur. Dit het gelyk asof sy oor ongewone psigiese vermoëns en kragte beskik het. As die voordeurklokkie lui, het sy altyd geweet wie dit was, al was daar geen kans dat sy kon gesien het wie dit is vanwaar sy gesit het nie. Psigiese krag is inderdaad ’n werklike simptoom.

11. Dierlike Neigings
Die elfde simptoom van demoniese beheer, is dierlike neigings. Een van die meisies wat in die vorige punt genoem is, het byvoorbeeld die vermoë gehad om ’n hele hoender so vinnig met haar vingers te verorber dat dit gelyk het asof sy ’n honger dier was. Sy het dus dierlike neigings in haar eetgewoontes gehad.

12. Rusteloosheid Tydens die Lees van die Bybel
Die twaalfde simptoom is rusteloosheid tydens die lees van die Bybel. Demone hou nie daarvan om die Woord van God te hoor nie. Dit dryf hulle gewoonlik weg en maak hulle onrustig. As iemand heel rustig voorkom voordat die Skrif oopgeslaan word, en dan skielik baie rusteloos raak wanneer daar uit die Bybel gelees word, kan dit ook ’n simptoom van demoniese beheer wees.

13. Meervoudige Persoonlikhede
Die dertiende simptoom is dié van meervoudige persoonlikhede. Demone het ’n manier om die karaktereienskappe van ander mense aan te neem. Dikwels is daar meer as een demoon wat in ’n persoon met meer as een persoonlikheid bly. Een oomblik sal die een demoon nog praat en die ander oomblik sal die ander demoon praat, en dit veroorsaak skielike veranderinge in persoonlikhede.

Hierdie dertien simptome is nie noodwendig al die simptome van demoniese beheer nie. Weer eens, ’n mens moet versigtig wees om nie ’n demoon agter elke bos te soek nie. ’n Mens kan nie aanneem mense is demoonbesete net omdat hulle ’n paar van hierdie simptome het nie. Daar is ook ander oorsake vir hierdie selfde simptome. Slegs wanneer daar ’n hele klomp van hierdie simptome, of selfs al hierdie simptome is, kan ’n mens tot die gevolgtrekking kom dat ’n persoon ’n demoon in hom het.

’n Goeie voorbeeld van ’n geval waar ’n hele klomp van hierdie simptome teenwoordig was in ’n persoon wat deur ’n demoon beheer is, is die besetene van Gádara, waarvan daar in Markus 5:1–20 vertel word. Markus het agt spesifieke simptome uitgewys: daar was demoniese inwoning (vers 2), ongewone fisieke krag (vers 3), woede-aanvalle (vers 4–5), ’n gesplete persoonlikheid (vers 6–7), ’n weerstand teenoor geestelike dinge (vers 7), uitermate sensitiwiteit en gevoeligheid (vers 9), en okkultiese verplasing (vers 13) toe die demone uit die man gegaan en in die trop varke ingegaan het. Dit was nie omdat die man een of twee van hierdie simptome gehad het nie, maar die feit dat hy ’n hele klomp van hierdie simptome gehad het, wat bevestig dat hy ’n demoon gehad het.

C. Die Oorsake van Demoniese Beheer
“Wat veroorsaak dat party mense ’n demoon het wat in hulle woon?” Vanuit die vorige gedeeltes waar demoniese elemente bespreek is, is dit moontlik om af te lei dat daar vier moontlike oorsake is.

1. Oorerwing
Die eerste oorsaak is oorerwing. In die tyd van die Wet van Moses was dit wel die geval, omdat Israel ’n verbondsvolk was. In Exodus 34:6–7 het Moses gesê God laat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag. Die spesifieke sonde wat God aan die derde en vierde geslagte oorgedra het, was die aanbidding van ander gode en afgodsdiens. Soos ons vroeër gesê het, skuil demonisme agter afgodsdiens. As daar ’n vorm van afgodsdiens was, kon die sonde van demoniese beheer oorgedra word aan die derde en vierde geslag. Afgodsdiens is nie net beperk tot die buiging voor standbeelde nie. Enige vorm van die okkulte is in wese ’n vorm van afgodsdiens omdat dit respek behels vir ’n ander god as die ware God.

Die Wet van Moses geld egter nie meer vandag nie en dis nie die reëls waarvolgens gelowiges vandag moet leef nie. Die Wet kan ook nie gebruik word om geestelike beginsels te ontwikkel om demoniese besetting te vermy, of vir die behoefte aan bevryding nie. In sekere kringe van die Christelike kerk het dit mode geword om te beweer dat ’n mens bevry moet word van die sondes van die voorgeslagte. Dit is egter glad nie Bybels nie.

In die eerste plek was die Wet van Moses (met die beginsel van God wat die sondes van die voorvaders aan die vierde geslag toereken), slegs van toepassing op Israel op grond van die verbond met Israel. Dis nie van toepassing op die Heidennasies of die Kerk van vandag nie. Boonop word enige band met die sonde van die voorgeslagte onmiddellik verbreek wanneer ’n persoon die Here in sy lewe aanneem en weergebore word. Dis nie nodig om dan rond te gaan en sondes van die voorgeslagte te verbreek nie, al is daar mense wat ons leer dat ’n mens die vloek wat deur die voorgeslagte oorgedra is, moet verbreek. Dis maar net ’n nuwe mode wat sekere kringe van die evangeliese kerk binnegedring het, en sekere leraars misbruik die Skrifte sodat hulle kan vashou aan hierdie veronderstelling. Dit was wel waar vir Israel onder die Wet van Moses, maar dit was nie waar vir die Heidene wat in dieselfde tydperk geleef het nie en dis ook nie vandag waar vir gelowiges nie. Wanneer ons weergebore word, word ons geheel en al gered en dit sluit reddende bevryding van enige sonde van die voorgeslagte in.

As mense die geestelike beginsels van die Wet van die Messias aanneem en daarby hou, word geestelike probleme maklik opgelos. Dan is dit glad nie nodig om dit te probeer verduidelik deur te beweer dat die Wet van Moses vandag steeds op ’n manier van toepassing is nie. Dit is nie nou van toepassing nie en dit was ook nog nooit van toepassing op die Heidene nie. Mense bid baie keer op die manier wat hulle geleer is en volg graag die nuutste modegiere, soos om “geeste te bind”. Maar die Heilige Gees sondig nie teen Sy eie Woord nie, en daarom word mense nie deur die Gees gelei om teen sondes van die voorgeslagte te bid nie.

Wat die Heilige Gees ookal vandag doen wanneer Hy mense lei, sal ooreenstem met die geskrewe Woord van God. Wanneer dit kom by die kwessie van sonde in verskillende gelowiges se lewens, maak nie een van die gebede van die apostels óf die beginsels van die Nuwe Testament ooit melding van gebed wat die houvas van sonde van die voorgeslagte moet verbreek nie. Mense het eenvoudig ’n beginsel uit die Wet gevat wat van toepassing was op Israel as ’n verbondsvolk, en dit op vandag se gelowiges van toepassing gemaak. Deur dit te doen, het hulle die waarde van dit wat die bloed van die Messias aan die kruis bewerkstellig het gedevalueer, want dít was ’n daad wat onmiddellike bevryding gebring het van enige sondes van die voorgeslagte.

Die regte manier om sonde in ’n gelowige se lewe te hanteer, is die manier wat in Romeine 6 bespreek word: Ons moet besef dat beide ons sondige aard en die ou mens saam met Christus gekruisig is die oomblik toe ons begin glo het. Dit het die sonde se houvas gebreek. Nou moet ons die besluit maak om nie toe te laat dat ons liggame as instrumente vir sonde gebruik word nie. Dít is die Nuwe Testamentiese patroon en die een wat ons moet volg.

2. Eksperimentering
Die tweede oorsaak is eksperimentering. Party mense eksperimenteer met okkultiese dinge en beland as gevolg daarvan onder demoniese beheer (I Kor. 10:14–22). God het enige kontak met die okkultiese wêreld verbied en hierdie verbod moet streng gehoorsaam word. As ’n mens begin om te eksperimenteer met dinge in die okkultiese wêreld, wat natuurlik self onder beheer van demone is, sal dit veroorsaak dat jy ook onder demoniese beheer beland.

3. Verplasing
Die derde oorsaak is verplasing deur middel van kontak met die okkulte. Selfs wanneer iemand nie self okkultisme beoefen nie, kan die waarneming daarvan of die blote teenwoordigheid wanneer dit beoefen word, tot demoniese verplasing lei (Mark. 5:13). Hierdie verplasing lei dan tot demoniese beheer.

4. Onbelyde Sonde
Die vierde oorsaak is onbelyde sonde. Dit kan gesien word in die konteks van Efésiërs 4:27. Volgens hierdie skrifgedeelte is dit vir ’n gelowige moontlik om van binne onder demoniese beheer te wees. Die gelowige word hier gewaarsku om geen plek aan die duiwel te gee nie, of soos ons vroeër gesê het, om nie ’n strandhoof vir die duiwel te gee nie. ’n Strandhoof is altyd ’n gebied van beheer binne-in die vyand se gebied, nie buite hul gebied nie. Die konteks van Efésiërs 4:27 is onbelyde sonde en die implikasie is dat sommige mense onder demoniese beheer beland het as gevolg van onbelyde sonde.

D. Die Toetse vir Demoniese Beheer
Soos vroeër genoem is, kan ’n mens sekere afleidings maak as daar ’n kombinasie voorkom van die simptome wat bespreek is. Omdat dit op sigself nie noodwendig ’n bewys is dat daar demoniese beheer uitgeoefen word nie, is daar ’n bykomende manier, naamlik die toets van geeste.

I Johannes 4:1 leer ons dat gelowiges die geeste moet toets. Daar is sekere toetse wat toegepas kan word om te sien of iets van die Here of van ’n demoon af kom, en daar is drie sulke spesifieke toetse.

1. Die Toets van die Vleeswording
Eerstens is daar die toets van die Vleeswording (I Joh. 4:2–3). Die vraag wat gevra moet word, is: “Het die Messias vlees geword?” Wat dit beteken, is: “Het God mens geword in die persoon van Jesus van Nasaret?” ’n Demoon sal die Vleeswording ontken. As jy vra: “Het Jesus Christus vlees geword?” en die persoon antwoord nie instemmend nie, het daardie persoon nie die toets geslaag nie. Dit kan beteken dat daar ’n demoon betrokke is.

2. Die Toets van Jesus se Koningskap
Tweedens is daar die toets wat vra of die Messias die Here is (I Kor. 12:3). Die vraag wat gevra moet word, is: “Is Jesus die Messias, die Here?” “Here” beteken in hierdie geval nie net “ ’n heer en meester wat toevallig slawe besit” nie, maar Here in die sin van die HERE God van die Ou Testament. Is Jesus die Messias, die Here of die HERE God van die Ou Testament? As dit ontken word dat die Messias die Here is, dat Jesus die Christus is, kan ’n mens vermoed dat daar ’n demoon betrokke is omdat die persoon die tweede toets ook nie geslaag het nie.

3. Die Toets van die Messias se Bloed
Derdens is daar die toets van die Messias se bloed (I Joh. 5:6–7). Indien die persoon negatief reageer as die bloed van Jesus Christus genoem word, kan dit ook demoniese probleme aandui. As die persoon negatief reageer wanneer die bloed van Jesus Christus genoem word, het hy nie die derde toets geslaag nie.

Hierdie drie toetse kan gebruik word om die geeste te toets: ontkenning van die Vleeswording, ontkenning dat Jesus die Here is, en negatiewe reaksie op die bloed van Jesus Christus. Hierdie toetse moet egter net gebruik word wanneer dit duidelik is dat die demoon besig is om beheer uit te oefen, anders gaan dit nie werk nie. Selfs wanneer ’n persoon ’n demoon in hom het, lê die demoon dalk laag. Hy mag dalk nie op daardie oomblik direkte beheer uitoefen nie en is dalk op daardie oomblik goedaardig. In daardie geval is dit die persoon self wat in beheer is, nie die demoon nie. As jy hierdie drie toetse op daardie oomblik doen, sal die persoon wel die toetse slaag. ’n Mens moet wag totdat die demoon in beheer is (soos bepaal deur die simptome wat vroeër bespreek is) en dan die toetse doen. As die persoon dan nie slaag nie, is dit ’n goeie aanduiding dat daar demone betrokke is.

E. Die Geneesmiddels vir Demoniese Beheer
“Wat is die geneesmiddels vir demoniese beheer?” Hier is daar vyf dinge wat ons kortliks gaan noem. Daar sal later uitgebrei word op hierdie punte, wanneer ons oor demonisme en die gelowige praat.

1. Die Ongelowige
Die eerste geneesmiddel vir demoniese beheer het betrekking op die ongelowige, en dit is dat daardie persoon Jesus as die Messias moet aanneem. Die persoon moet glo dat Jesus Christus sy Redder is en Hom as sy Redder aanneem.

2. Die Gelowige
Die tweede geneesmiddel het betrekking op die gelowige, en dit is die belydenis van sonde. Party mense beland onder demoniese beheer omdat hulle sonde het wat hulle nie bely het nie.

Die derde geneesmiddel is die gebed van afswering. Wanneer ’n persoon tot bekering kom en van Satan se gesag bevry word, word enige demoniese beheer vir eens en altyd verbreek. In sulke gevalle is ’n gebed van afswering nie nodig nie. Die gebed van afswering is slegs nodig as ’n gelowige afvallig geraak het en betrokke geraak het by okkultisme en sodoende onder die een of ander element van beheer beland het. Wat alle ander sondes betref wat gelowiges pleeg, moet hulle hul sondes bely sodat hulle lidmaatskap herstel kan word. Die afswering van die beheer sal in so ’n geval deel wees van daardie belydenis.

Die vierde geneesmiddel is dat alle okkultiese voorwerpe verwyder moet word, soos wat voormalige beoefenaars daarvan in Handelinge 19:19 gedoen het. As ’n mens enige okkultiese voorwerpe in jou huis het, soos Ouijaborde, moet hulle verwyder word.

Die vyfde geneesmiddel is weerstand: Bied weerstand teen die duiwel sodat hy sal vlug.

F. Die Uitdrywing van Demone
Die finale geneesmiddel vir demoniese beheer is duiweluitdrywing, oftewel die uitdryf van demone. Hier moet daar drie punte gemaak word.

1. Voorbeelde van Duiweluitdrywing
Ons word met behulp van ’n hele klomp voorbeelde baie duidelik deur die Bybel geleer dat demone uitgedryf kan word. Een hiervan is dat Jesus self demone uitgedryf het. In die Evangelie van Markus alleen lees ons dat Jesus demone uitgedryf het in Markus 1:23–27, 32–34, 39; 3:11–12; 5:1–20; 7:25–30; en 9:17–29. Die tweede voorbeeld is dié van die twaalf apostels (Matt. 10:1; Mark. 3:14–15). Derdens was daar ander dissipels bo en behalwe die apostoliese groep van twaalf wat ook demone uitgedryf het, soos byvoorbeeld die sewentig dissipels (Luk. 10:17). Vierdens bevat die Evangelies voorbeelde van nog ander gelowiges wat demone uitgedryf het, al was hulle nie noodwendig onder dié wat vir Jesus deur die land gevolg het nie (Mark. 9:38–39; Luk. 9:49–50). In die Boek Handelinge het Petrus demone uitgedryf in Handelinge 5:16, Filippus in Handelinge 8:7, en Paulus in Handelinge 16:16–18 en 19:11–12. Hierdie voorbeelde wys dus dat demone wat in mense woon, uitgedryf kan word.

2. Die Maniere Waarop Demone Uitgedryf Kan Word
“Op watter maniere kan demone uitgedryf word?” Daar is altesaam vyf maniere waarop dit gedoen kan word. Die eerste is in die naam van Jesus, die Here (Luk. 10:17).

Tweedens word dit deur die krag van die Heilige Gees gedoen. ’n Mens moenie uit jou eie krag demone probeer uitdryf nie, maar deur die krag van die Heilige Gees (Matt. 12:28).

Derdens moet dit gedoen word met ’n paar eenvoudige woorde, dit wil sê met ’n bevel (Matt. 8:16; Mark. 5:8). Dis nie nodig om deur ’n lang ritueel te gaan om ’n demoon uit te dryf nie. Dit behoort genoeg te wees om die demoon met een sin te beveel, en dit is: “Gaan uit in die naam van Jesus Christus.”

Vierdens moet dit in geloof gedoen word. Die gelowige moet glo dat hy deur Jesus Christus die krag en die mag het om dit te doen (Matt. 17:18–20).

Vyfdens is daar sekere soorte demone wat ’n mens nie net kan beveel om uit te gaan nie, byvoorbeeld die demoon wat veroorsaak dat ’n mens stom word. In die geval van stom of doofstom demone is die manier waarop hulle uitgedryf word deur gebed. Die demoon moet dus uitgebid word (Mark. 9:29). Terwyl sommige demone uitgedryf kan word in slegs die naam van Jesus Christus, deur die krag van die Gees, deur die Woord, en op grond van geloof, is daar uitsonderinge. Party demone kan slegs deur die gebede van heiliges uitgedryf word. In sulke gevalle moet ’n mens nie probeer om ’n demoon uit te dryf op gesag van die gebruik van die naam van Jesus Christus nie. God sal dit bewerkstellig deur die gebede van die heiliges.

3. Duiweluitdrywing met betrekking tot Ongelowiges en Gelowiges
Soos vroeër aangedui is, kan beide gelowiges en ongelowiges deur ’n demoon beheer word. “Hoe dan gemaak met duiweluitdrywing wanneer dit kom by gelowiges en ongelowiges?”

a. Ongelowiges
Die ongelowige het absoluut geen geestelike gesag nie. In die geval van ’n ongelowige moet iemand wat ’n gelowige is die demoon uitforseer in die naam van Jesus Christus, deur die krag van die Gees, en op die basis van geloof. In sekere situasies moet die demoon uitgebid word. Die gelowige moet dit doen, omdat die ongelowige geen gesag het om dit vir homself te doen nie.

b. Gelowiges
Dit is egter nie die beste keuse in die geval van ’n gelowige wat deur ’n demoon beheer word nie. Soos vroeër genoem, is die verskil tussen gelowiges en ongelowiges dat die ongelowige geheel en al beheer kan word deur ’n demoon terwyl ’n gelowige slegs gedeeltelik beheer kan word. Daar is altyd ’n deel van die gelowige wat voortdurend onder God se beheer is. Omdat iemand ’n gelowige is, is dit nie nodig vir ’n ander gelowige om die demoon uit te dryf nie – die gelowige kan self die demoon uitdryf. Dit is hoekom die gelowige aangemoedig word om Satan te weerstaan wanneer ’n mens met hom te doen kry (Jak. 4:7; I Pet. 5:8–9; Ef. 6:10–18). Gelowiges word vyf keer in hierdie drie skrifgedeeltes beveel om Satan te weerstaan. As ’n gelowige Satan weerstaan, kan hy die demoon uit homself forseer.

Die manier waarop dit gedoen word, kan in hierdie skrifgedeelte in Efésiërs gevind word: word kragtig in die Here (Ef. 6:10). Om kragtig in die Here te wees, beteken om die volle wapenrusting van God aan te trek. Om die volle wapenrusting van God aan te trek, beteken om die gelowige se posisie in Christus te verstaan; dit wil sê om die posisionele waarheid te verstaan. Op grond van dit wat gelowiges posisioneel in Christus is omdat hulle in Sy Liggaam ingedoop is, het hulle gesag. Die probleem is dat gelowiges nie altyd weet watter gesag hulle het nie en daarom oefen hulle dit nie altyd uit nie. Gelowiges moet leer van hulle posisie in Christus en die gesag wat daarmee saamhang.

Daar is drie-en-dertig dinge wat waar is van ’n persoon wat in Jesus Christus glo. Die oomblik wanneer ’n mens glo, word hy deur die Heilige Gees in die Liggaam van Christus ingedoop en op daardie oomblik gebeur daar drie-en-dertig dinge. Dit alles dra ’n graad van gesag. Dis noodsaaklik vir ’n gelowige om sy posisie in Christus te bestudeer sodat hy die gepaste gesag wat daarmee saamhang, sal verstaan.

X. DEMONISME EN DIE GELOWIGE
Wat die verhouding tussen demonisme en die gelowige betref, is daar vier punte waarvan ons melding moet maak.

A. Demone Staan Heiliges Teen
Die eerste punt is dat demone heiliges teenstaan. Daar is ’n voortdurende teenstand teen heiliges en dit kan op drie maniere gesien word. Eerstens is daar ’n algemene teenstand. Dit vind soms plaas deur direkte teenstand van demone (Ef. 6:12). Soms is daar ook demoniese teenstand teen gelowiges deur ongelowiges (Ef. 2:2). Tweedens is daar teenstand teen spesifieke individuele gelowiges (Ef. 2:3). Derdens is daar teenstand teen ’n liggaam van gelowiges, soos ’n plaaslike kerk (Op. 2:24).

B. God Gebruik Demone
Die tweede punt wat ons in gedagte moet hou, is dat God wel demone gebruik vir die geestelike groei van gelowiges. God sal ’n sekere mate van demoniese aktiwiteite van buite af toelaat ter wille van die geestelike groei van gelowiges. Hy sal egter nie toelaat dat dit van binne geskied nie. Só het God byvoorbeeld ’n demoon gebruik om vir Paulus nederigheid te leer in II Korinthiërs 12:7.

C. Demone Is by die Kruis Verslaan
Die derde punt wat in gedagte gehou moet word wat gelowiges en demone betref, is dat demone by die kruis verslaan is (Kol. 2:15). Dit beteken hulle het geen wettige gesag oor ons nie, tensy ons ons gewilliglik aan hulle onderwerp. Hulle is verslaan en gelowiges hoef hulle nie te gehoorsaam nie. Gelowiges gehoorsaam hulle slegs as hulle hulself toelaat om in een van die demoniese strikke te val wat vroeër opgenoem is.

D. Gelowiges Het Verantwoordelikhede
Die vierde punt is dat die gelowige vier verantwoordelikhede het wat demone betref. Eerstens moet ’n gelowige leer hoe om die geeste te toets (I Joh. 4:1–4). Tweedens moet daar geen beraadslaging en geen verbintenis met die okkulte wees nie (Lev. 19:31; Deut. 18:9–14; Jes. 8:19). Derdens moet daar nie gemeenskap wees met diegene wat met demoniese aktiwiteite verbind word nie (I Kor. 10:20). Vierdens moet gelowiges die volle wapenrusting van God dra, wat die Woord is (Ef. 6:10–18).

XI. DIE TOEKOMSTIGE AKTIWITEITE VAN DEMONE
Vroeër in hierdie studie is die geskiedkundige aktiwiteite asook die teenswoordige aktiwiteite van demone bespreek. “Wat is die toekomstige aktiwiteite van demone?” Die toekomstige aktiwiteite van demone kan in twee kategorieë ingedeel word.

A. Die Kerk
Die eerste kategorie het te doen met die Kerk. Gedurende die laaste dae sal demone valse leringe in die Kerk versprei ten einde die groot afvalligheid teweeg te bring. Dit is alreeds in die huidige eeu vervul, want die grootste gedeelte van die sigbare Kerk het alreeds afvallig geraak. Dit is in I Timótheüs 4:1–3 voorspel as ’n toekomstige aktiwiteit van demone.

B. Die Groot Verdrukking
Die tweede kategorie is die Groot Verdrukking. In hierdie tyd sal demoniese aktiwiteite weer op geweldige groot skaal plaasvind. Die toename in demoniese aktiwiteite sal weer eens wees soos in die dae van die Evangelies. Tydens die Groot Verdrukking gaan demone ten minste vier spesifieke aktiwiteite uitvoer.

1. Demoniese Invalle
Eerstens gaan daar twee demoniese invalle wees. Die eerste demoniese inval (Op. 9:1–11) gaan plaasvind met die doel om die mense tydens die Groot Verdrukking vir vyf maande lank verskriklik te folter. Hulle sal egter nie die mense doodmaak nie. Die tweede demoniese inval gaan gelei word deur vier leierdemone wat nou in die Eufraatrivier in Irak vasgebind is, en dit sal wees met die doel om eenderde van die mensdom te vernietig (Op. 9:16–19). ’n Totaal van tweehonderd miljoen demone sal uit die afgrond vrygelaat word om tydens die tweede inval deur hierdie vier demone gelei te word.

2. Demoniese Aanbidding
Tweedens gaan mense demone op groot skaal aanbid – meer as wat ooit vantevore in die mens se geskiedenis gesien is (Op. 9:20–21).

3. Demoniese Inperking
Derdens gaan demone saam met Satan uit hulle huidige woning – die atmosferiese hemel, wat Satan se derde woning is – gegooi word. Hulle gaan uitgewerp word en tot die aarde beperk word vir die tweede helfte van die Verdrukking (Op. 12:7–12). Dit verklaar hoekom daar so ’n geweldige toename gaan wees in demoniese aktiwiteite gedurende die Groot Verdrukking.

4. Die Veldslag van Armagéddon
Vierdens gaan demone help om die nasies te versamel vir die finale oorlog – die oorlog van Armagéddon. Openbaring 16:13–14 praat van demone met padda-agtige eienskappe wat seker maak dat die nasies bymekaarkom vir daardie finale stryd, die Veldslag van Armagéddon.

XII. DIE OORDEEL OOR DEMONE
Die oordeel oor demone gaan in twee stadiums plaasvind: die Millennium en die Ewige Orde.

A. Die Millennium
Die eerste oordeel gaan tydens die Millennium plaasvind wanneer die demone in ’n plek van inperking gaan wees. Dit is waaroor Jesaja 24:21–22 handel wanneer dit sê dat God die leërskare van die hoogte in die hoogte gaan straf, dit is naamlik die gevalle engelewesens wat in die gevangenis gesit gaan word. Alle demone gaan vir die volle duur van die Millennium opgesluit word sodat daar hoegenaamd geen demoniese aktiwiteite in die Messiaanse Koninkryk sal wees nie. Baie mense veronderstel hulle gaan saam met Satan in die afgrond opgesluit word, maar dit is nie wat die Bybel ons leer nie. Satan self gaan in die afgrond opgesluit word vir die hele tydperk van die Messiaanse Koninkryk. Die demone daarenteen gaan nie saam met hom daar opgesluit word nie, maar sal in twee groepe verdeel word en in twee plekke opgesluit word.

Die eerste groep demone gaan opgesluit word in die land van Edom, wat vandag die suidelike gedeelte van Jordanië is. Dit is die punt van Jesaja 34:11-15 wat verskeie diere opnoem wat gaan woon in die land van swawel en brandende pik (Jes. 34:9-10). Ons weet egter dat letterlike diere soos dié wat genoem word nie in ’n land van swawel en brandende pik kan leef nie, daarom is hierdie wesens met hulle spesifieke dierlike eienskappe demone. Een groep demone gaan opgesluit word in die land van Edom of Suidelike Jordanië, en die ander groep gaan opgesluit word in die stad Babel wat in die hedendaagse Irak geleë is (Jes. 13:21–22; Op. 18:2). Alle demone sal tydens die Millennium óf in Edom óf in Babel opgesluit word. Om hierdie rede sal hierdie twee gedeeltes van die wêreld regdeur die Koninkryk-periode verlate gebiede wees en lande van swawel en brandende pik word. Die rook van die brandende swawel en brandende pik sal vir die hele 1000 jaar opstyg. Terwyl die hele wêreld dus mooi gemaak word en soos ’n roos bloei, sal hierdie twee gebiede verlate wees. Geen mense sal daar leef nie, slegs demone sal daar opgesluit wees.

In die hele tydperk van die Koninkryk sal daar geen demoniese aktiwiteite van enige aard, geen teistering, invloed of beheer wees nie. Watter sonde ookal in die Koninkryk gevind word, sal die gevolge wees van die mens se sondige natuur en nie van demoniese aktiwiteite nie.

B. Die Ewige Orde
Die tweede stadium van oordeel oor demone is gedurende die Ewige Orde. Dit gaan in twee fases geskied.

Eers gaan elke demoon tydens die Groot Wit Troon Oordeel deur mense geoordeel word. In I Korinthiërs 6:3 sê Paulus gelowiges gaan eendag die engele oordeel. Hy praat nie van goeie engele nie, want goeie engele sondig nooit en misluk nooit in hulle opdragte nie en het daarom nie nodig om geoordeel te word nie. Die engele wat geoordeel gaan word, is die gevalle engele of demone. By die Groot Wit Troon Oordeel gaan alle demone geoordeel word om elkeen se individuele graad van straf te bepaal, want daar is grade van boosheid onder demone. Nie almal het dieselfde graad van boosheid nie en daarom gaan daar selfs vir demone verskillende grade van straf wees. Die graad sal deur die gelowiges bepaal word.

Na die Groot Wit Troon Oordeel sal die tweede fase aanbreek wanneer hulle in die Poel van Vuur gegooi gaan word waar hulle die ewigheid sal deurbring (Matt. 8:29; 25:41, 46). Dit sal die finale ondergang van demone wees.

[end]

Inhoud van hierdie artikel

INLEIDING
I. DIE BESTAAN VAN DEMONE
      A. Deur Elke Skrywer van die Nuwe Testament
      B. Deur die Onderrig en Dade van Jesus
      C. Deur die Dissipels se Erkenning Daarvan

II. DIE NAME VAN DEMONE
      A. Die Ou Testamentiese Name
      B. Die Nuwe Testamentiese Name
             1. Name Waarin Dieselfde Griekse Stam Vervat Is
             2. Name wat die Woord “Gees” Bevat
             3. Engele
             4. Vernietiging

III. DIE PERSOONLIKHEID VAN DEMONE
      A. Intellek
      B. Emosie
      C. Eie Wil
      D. Persoonlike Voornaamwoorde

IV. DIE OORSPRONG VAN DEMONE
      A. Die Oorsprong van Vry Demone
             1. Demone en Gevalle Engele is Dieselfde
                  a. Dieselfde Verhouding tot Satan
                  b. Dieselfde In Wese
                  c. Dieselfde Aktiwiteite
                  d. Dieselfde Woning
                  e. Dieselfde in die Bybelse Teks
             2. Die Gevolge van Satan se Val vir die Engele
      B. Die Oorsprong van Ingeperkte Demone
             1. Tydelik Ingeperkte Demone
             2. Permanent Ingeperkte Demone
                  a. Génesis 6:1–4
                        (1) Die Vermeerdering van die Mens: Génesis 6:1
                        (2) Die Ondertrouery: Génesis 6:2
                              a) Seuns van God
                              b) Dogters van die Mense
                        (3) Die Gevolg van die Ondertrouery: Génesis 6:3
                        (4) Die Produk van die Ondertrouery: Génesis 6:4
                              a) Die Nephilim: Dié wat Geval Het
                              b) Die Giborim: die Manne van Naam
                  b. II Petrus 2:4–5
                  c. Judas 6–7
                  d. Opsomming

V. DIE AANTAL DEMONE
VI.DIE ORGANISASIE VAN DEMONE

VII. DIE KARAKTEREIENSKAPPE VAN DEMONE
      A. Hulle Aard
      B. Hulle Mag
      C. Hulle Moraliteit

VIII. DIE AKTIWITEITE VAN DEMONE
      A. Geskiedkundige Aktiwiteite
      B. Algemene Aktiwiteite
      C. Spesifieke Aktiwiteite
      D. Okkultiese Aktiwiteite
             1. Die Griekse Woorde
             2. Die Fasette van die Okkultiese Wêreld
                  a. Deuteronómium 18:9–14
                  b. Handelinge 8:9
                  c. Handelinge 16:16
             3. Die Kenmerke van Okkultisme
             4. Die Vangstrikke van Okkultisme
                  a. Spiritisme
                  b. Waarsêery
                  c. Toorkuns of Heksery
             5. Die Bybel en Okkultisme
             6. Die Beoefening van Okkultisme

IX. DEMONIESE BEHEER
      A. Die Definisie van Demoniese Beheer
             1. Die Sleutelwoord
             2. Die Sleuteluitdrukking
             3. Die Definisie
             4. Die Onderskeidings
                  a. Demoniese Teistering
                  b. Demoniese Invloed
             5. Kan ’n Gelowige Gedemoniseer Word?
      B. Die Simptome van Demoniese Beheer
             1. Fisieke Probleme
             2. Geestesversteuring
             3. Diep Depressie
             4. Selfverwyt
             5. Selfmoord
             6. Passiwiteit
             7. Sedeloosheid
             8. Bitterheid
             9. Dwelmmisbruik
             10. Psigiese Krag
             11. Dierlike Neigings
             12. Rusteloosheid tydens die Lees van die Bybel
             13. Meervoudige Persoonlikhede
      C. Die Oorsake van Demoniese Beheer
             1. Oorerwing
              2. Eksperimentering
             3. Verplasing
             4. Onbelyde Sonde
      D. Die Toetse vir Demoniese Beheer
             1. Die Toets van die Vleeswording
             2. Die Toets van Jesus se Koningskap
             3. Die Toets van die Messias se Bloed
      E. Die Geneesmiddels vir Demoniese Beheer
             1. Die Ongelowige
             2. Die Gelowige
      F. Die Uitdrywing van Demone
             1. Voorbeelde van Duiweluitdrywing
             2. Die Maniere waarop Demone Uitgedryf kan Word
             3. Duiweluitdrywing met betrekking tot Ongelowiges en Gelowiges
                  a. Ongelowiges
                  b. Gelowiges

X. DEMONISME EN DIE GELOWIGE
      A. Demone Staan Heiliges Teen
      B. God Gebruik Demone
      C. Demone Is by die Kruis Verslaan
      D. Gelowiges het Verantwoordelikhede

XI. DIE TOEKOMSTIGE AKTIWITEITE VAN DEMONE
      A. Die Kerk
      B. Die Groot Verdrukking
             1. Demoniese Invalle
             2. Demoniese Aanbidding
             3. Demoniese Inperking
             4. Die Veldslag van Armagéddon

XII. DIE OORDEEL OOR DEMONE
      A. Die Millennium
      B. Die Ewige Orde

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Die skepping van Adam en Eva is ‘n belangrike lering wat in Genesis behandel word. Nie net het God die mens se stoflike deel geskep nie, maar ook die onstoflike. Die tuin in Eden asook die voorwaardelike Edeniese verbond word bespreek. God se skepping van die vrou, Adam se reaksie asook die beginsel van die huwelik en die beginsel van intimiteit word behandel.