Die aard van die Bybel

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ʼn blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is. – 1 Petrus 1:24-25

INLEIDING
Hierdie studie kyk na die Skrifte om te sien wat die Bybel self oor die Bybel sê en om die Bybel se uniekheid te benadruk. Ons gaan kyk na vier primêre afdelings: die terme van die Bybel; die houdings teenoor die Bybel; die wonders van die Bybel; en die bonatuurlike oorsprong van die Bybel.

I. DIE TERME VAN DIE BYBEL
Die eerste afdeling beskryf sekere spesiale terme of terminologie. Ten opsigte van die heilige geskrifte waaraan ons trou bly (vashou), is daar vier belangrike terme.

A. Bybel
Die eerste term is die mees algemene, die woord ‘Bybel’. Ons Afrikaanse woord ‘Bybel’ kom van die Griekse woord biblios, wat ‘rol’ of ‘boek’ beteken. Die woord biblios word in die Griekse teks gebruik in Lukas 4:17, waar dit spesifiek verwys na die boekrol van die profeet Jesaja. Wanneer ons praat van die woord ‘Bybel’, benadruk ons dat die Skrifte ʼn versameling werke is wat oorspronklik in die vorm van ʼn rol of ʼn boekrol was en in meer onlangse tye van ons menslike geskiedenis, in die vorm van ʼn boek.

B. Skrif
Die tweede baie belangrike en algemene term is die woord ‘Skrif’. Die Afrikaanse woord ‘skrif’ is ʼn vertaling van die Griekse woord graphei, wat letterlik ‘geskrifte’ beteken. Dit word gebruik om te verwys na beide wêreldse (sekulêre) en heilige geskrifte. Veral in die Bybel word die woord gebruik om te verwys na boeke wat as heilig beskou is; boeke wat gereken was om uniek deur God geïnspireerd te wees. Byvoorbeeld, in Romeine 3:4 word die term grapho spesifiek in die Ou Testament gebruik wanneer Paulus sê: soos geskrywe is en dan Psalm 51:6 aanhaal. In II Timoteus 3:16 word dit weer gebruik vir die Ou Testament. In II Petrus 3:16 word presies dieselfde woord, graphei of ‘Skrifte’, wat gebruik word vir die Ou Testament, ook gebruik vir Paulus se skrywes. Wat ons sorgvuldig moet oplet hier is dat Petrus, wat ʼn argument met Paulus in Galasiërs 2 gehad het, met verloop van tyd begin besef het dat die skrywes van Paulus Skrif was. Die feit dat hy dieselfde term gebruik wat die Jode gebruik het om na die Ou Testament te verwys, toon aan dat Petrus die skrywes van Paulus net so geïnspireerd soos die Ou Testament self beskou het.

Dus benadruk die woord ‘Bybel’ die konsep van ʼn ‘rol’ of ʼn ‘boek; wat ʼn geskrewe openbaring is wat God aan ons gegee het, terwyl die woord vir Skrif, graphei, benadruk dat hierdie heilige rolle of heilige boeke inderdaad deur God geïnspireerd is.

C. Woord van God
Die derde term, ‘die Woord van God’, is deesdae ʼn baie algemene plaasvervanger vir die terme ‘Bybel’ en ‘Skrif’. In die Bybel word die uitdrukking ‘die Woord van God’ in beide die Ou en Nuwe Testament gebruik om die openbaring van God in geskrewe vorm te beklemtoon. Die Griekse sleutelwoord is logos, wat ‘woord’ beteken.

In Mattheus 15:6 in die Afrikaanse teks word die uitdrukking die gebod van God spesifiek vir die Wet van Moses gebruik, terwyl die Engels verwys na the word of God in hierdie selfde sin. In Johannes 10:35 word die uitdrukking die woord van God gebruik as verwysend na die Ou Testament. In Romeine 3:2 is logion vertaal as die woorde van God in die Afrikaanse teks, terwyl dit as oracles in die Engelse teks vertaal is. In Hebreërs 4:12 word die uitdrukking die woord van God gebruik as verwysend na alle Skrif, hetsy ons van die Skrif in die Ou Testament of die Skrif in die Nuwe Testament praat.

D. Testament
ʼn Vierde term is ‘testament’. Hierdie is nie ʼn baie algemene term nie en is nie naastenby so algemeen soos die terme ‘Bybel’, ‘Skrif’, of die ‘Woord van God’ nie. Die term ‘testament’ beteken basies ‘verbond’. Die woord word gebruik om te onderskei tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond, die Ou Testament en die Nuwe Testament. Die woord word in besonder ook gebruik wanneer die spesifieke, unieke verbonde van die Skrif behandel word.

II. STANDPUNTE TEENOOR DIE BYBEL
Die tweede afdeling van hierdie studie rakende die Bybel behandel die verskillende standpunte wat mense in die verlede teenoor die Bybel gehad het en ook dié standpunte van ons eie moderne tyd. Ons kan hierdie standpunte in ses basiese kategorieë verdeel.

A. Rasionalisme
Die eerste kategorie is Rasionalisme. Die kerngedagte van Rasionalisme is dat die verstand verhewe is. Daar is twee basiese vorms van Rasionalisme: Uiterste Rasionalisme en Matige Rasionalisme. Uiterste Rasionalisme ontken die moontlikheid dat God Homself openbaar of bekend maak, veral deur ʼn geskrewe dokument soos die Skrif. Uiterste Rasionalisme is die siening van Ateïsme of Agnostisisme. In die vroeë Amerikaanse geskiedenis het Uiterste Rasionalisme die teologie van Deïsme ingesluit, wat die teologie van vele van die Amerikaanse voorvaders was. Ateïsme, Agnostisisme en Deïsme is voorbeelde van Uiterste Rasionalisme.

Die tweede vorm van Rasionalisme is Matige Rasionalisme, wat die moontlikheid van sommige openbaring van God erken, maar voortgaan om te verklaar dat die menslike verstand die finale regter van die geldigheid van die openbaring is. Eietydse voorbeelde van Matige Rasionalisme is Modernisme of Godsdienstige Liberalisme.

B. Mistisisme
Die tweede kategorie van standpunte teenoor die Bybel word Mistisisme genoem. Die kerngedagte van Mistisisme is dat ervaring verhewe is; ervaring is die finale gesag. As dit inpas by ons ervaring, is dit korrek en geldig, maar as dit nie inpas by ons ervaring nie, is dit ongeldig. Hulle beweer dat voorskriftelike (normatiewe) openbaring nie op ʼn gewone manier ontvang kan word nie. Dié wat hierdie standpunt handhaaf sal na die Bybel kyk en saamstem dat dit die Woord van God is, maar sal verder verklaar dat die Woord van God nie volledig is nie, dat daar meer geestelike en goddelike waarheid beskikbaar is vir siele wat wakker of verlig genoeg is om dit te ontvang. Hulle glo in bykomende geestelike waarhede buiten die Skrif. Voorbeelde van hierdie tipe valse Mistisisme is die teologie van Panteïsme, Kwakerisme en Thomas á Kempis.

Nie alle Mistisisme is verkeerd nie, want daar bestaan ʼn vorm van Ware Mistisisme. Ware Mistisisme is die verligting van die verstand deur die Heilige Gees deur die Skrif. In Judas 3, verwys die term die geloof na die volheid van die waarheid; ‘die volheid van die waarheid wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is’. Ons het reeds al die waarheid, wat God gekies het om aan ons te gee. Ons hoef nie mistieke ervarings na te jaag om so bykomende waarheid buiten die Bybel te soek nie. Ware Mistisisme glo in verligting deur die Heilige Gees deur die Skrif, terwyl Valse Mistisisme verklaar dat ervaring die finale beslissing is om vas te stel wat waar en wat vals is. ʼn Ware, bybelse mistikus glo dat die Bybel die finale gesag is en dat al ons ervarings deur die Skrif beoordeel moet word; ons moet nie toelaat dat ons ervaring beoordelaar van die Skrif word nie.

C. Romanisme
Die derde kategorie van standpunte teenoor die Skrif is Romanisme, wat leer dat die Roomse Kerk verhewe is. Hierdie siening sê dat die Bybel die produk van die kerk is, dus kan slegs die kerk die Bybel se ware verklaarder of vertolker of uitlêer wees. In Romanisme word die Skrif as onvolledig beskou, dat daar nog meer waarheid beskikbaar is vir die kerk deur die kerk. Romanisme benadruk die troebelheid en onduidelikheid van die Skrif hewig, en omdat die Skrif onduidelik en duister is, kan slegs die kerk dit verhelder en verduidelik, volgens hulle. Daarom is die kerk die deurslaggewende faktor wat bepaal wat enige gedeelte beteken.

In Romanisme word geweldig baie gesag aan kerktradisie toegedig. Ook is Romanisme geneig om voorkeur van gesag aan die Latynse Vulgaat in plaas van die Hebreeuse en Griekse Skrif te gee. Alhoewel die Vulgaat slegs maar ʼn vertaling van die oorspronklike Hebreeus en Grieks is, word daar in Romanisme dikwels voorkeur aan die Latynse Vulgaat teenoor die oorspronklike Hebreeuse Ou Testament en die Griekse Nuwe Testament gegee.

Verder, in verband hiermee, glo Romanisme aan die idee van apostoliese opeenvolging. Hulle leer dat Petrus die eerste Pous was, en dat daar sedertdien ʼn ononderbroke lyn van pouslike gesag is deur pouslike en apostoliese opeenvolging. As gevolg van hierdie apostoliese opeenvolging wat alleenlik in die Roomse kerk gevind word, beskik net die Roomse kerk oor die waarheid van wat die Bybel werklik beteken, en hulle moet die betekenis vir ons bepaal. Dit is waarom hulle glo dat die kerk verhewe is.

D. Nieu-Ortodoksie
Die vierde kategorie van standpunte teenoor die Skrif staan bekend as Nieu-Ortodoksie. In Nieu-Ortodoksie is die onverwagse ontmoeting verhewe. Volgens Nieu-Ortodokse teologie is die Bybel ʼn feilbare getuie van die openbaring van God in die Woord, wat die Messias was. Hulle sê verder dat die Bybel nie die Woord van God is nie, maar dat dit die Woord van God bevat. Die individu moet bepaal wat in die Bybel is die Woord van God, en wat nie. Om duidelik te kan verstaan wat is en wat is nie die Woord van God nie, is daar ʼn behoefte aan ʼn sekere soort onverwagse goddelike ontmoeting. Hulle benadruk almal hierdie behoefte aan ʼn onverwagse goddelike ontmoeting, hoewel hulle nie saamstem presies waaroor hierdie onverwagse goddelike ontmoeting gaan en hoe mens weet of jy een gehad of nie gehad het nie!

Verder is daar geen onderlinge eenstemmigheid oor wat in die Bybel wel die Woord van God is en wat nie. Aangesien hulle nie glo dat die Bybel die Woord van God is nie, maar dat dit slegs die Woord van God bevat, word hulle self die finale beslisser van wat in die Bybel as die Woord van God beskou kan word en wat nie. Omdat die ontmoeting verhewe is, kan elkeen sy eie ontmoeting hê en steeds vorendag kom met totaal verskillende gevolgtrekkings.

E. Kultusse
Die vyfde kategorie van standpunte teenoor die Bybel is kultusse. Basies leer kultusse dat die Bybel plus ’n ander geskrif verhewe is. Die sleutelkenmerk van ʼn kultus is dat, terwyl hulle bevestig dat die Bybel die Woord van God is, hulle ook verklaar dat ʼn ander geskrif gelyke inspirasie het, wat dikwels meer belangrik as die Bybel self word. ʼn Voorbeeld hiervan is Mormonisme, wat die Boek van Mormoon het wat deur hulle as geïnspireer gereken word. Christian Science reken dat Mary Baker Eddy se boek, The Key to the Scriptures, geïnspireerd is. Die sleutelkenmerk van ʼn kultus is dat hulle die Bybel as God se Woord aanvaar plus iemand anders se geskrif as gelyke, indien nie groter nie, gesag. In hierdie kategorie is die Bybel dus nie die enigste gesag nie, maar boonop moet daardie geskrif wees van die stigter van die kultus, wat dan gelyke gesag het.

Opsommend: Hierdie eerste vyf kategorieë van standpunte teenoor die Skrif kan gekategoriseer word as valse standpunte of valse beskouings van die Bybel, want nie een is bereid om die Bybel as die beslissende gesag te aanvaar nie. In Rasionalisme word die verstand verhef tot die beslissende gesag. In Mistisisme is die ervaring verhef as beslissende gesag. In Romanisme is die kerk verhewe en die beslissende gesag. In Nieu-Ortodoksie word die individu se ontmoeting die verhewe gesag. Onder kultusse is die Bybel én die geskrifte van die stigter verhef tot beslissende gesag. Nie een van hierdie eerste vyf kategorieë kan as korrekte standpunte geklassifiseer word nie omdat hulle nie bereid is om die Bybel alleen as beslissende en verhewe gesag te aanvaar nie.

F. Ortodoksie
Slegs die sesde kategorie van standpunte is die regte bybelse standpunt teenoor die Skrif. Dít is die ortodokse standpunt: die Bybel alleen is verhewe en is die beslissende gesag. Ortodokse gelowiges sal bevestig dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is. In die oorspronklike geskrifte is dit geïnspireerd en sonder foute. Die Bybel is die beslissende en enigste gesag rakende alle metodes en sake van geloof en praktyk. Die Bybel is waar in alles wat dit as waar verklaar en bevestig.

Wat die verstand of rede betref, dit moet ondergeskik aan die Woord van God wees. As die verstand dink op maniere wat die Skrif weerspreek, is dit nie die verstand wat die Skrif beoordeel nie, maar die Skrif wat die gedagtes van die verstand beoordeel. Wat die ervaring van Mistisisme betref, is die Bybel die beslissende beoordelaar van ervaring en kan ervaring nie die waarheid van Skrif bepaal nie. Wat Romanisme betref, is dit nie die kerk wat die betekenis van die Bybel bepaal nie, maar eerder die Bybel wat die regte plek van die kerk bepaal. Wat die ontmoeting betref, benodig die mens nie ʼn enkele unieke ontmoeting voordat hy kan verstaan wat die Woord van God in die Skrif is nie. Die Bybel is die Woord van God. As ʼn mens ʼn gelowige is en deur die Heilige Gees geregenereer is, ontvang hy deur sy blote verhouding tot God insette en verligting deur die Heilige Gees om die Skrif te verstaan. Wat die kwessie van kultusse betref, die antwoord van Ortodoksie is dat die Bybel, en die Bybel alleen, verhewe is; die ses-en-sestig boeke van die Skrif is almal deur God in geskrewe vorm geïnspireer. Enige ander geskrif is die skrywes van ʼn valse profeet of profetes.

Hulle wat glo in die oppergesag van die Bybel glo dat kennis ondergeskik is aan die Bybel en dat daar geen ‘innerlike lig’ is wat verdere openbaring byvoeg tot die Bybel nie. Daar is slegs die lig van die Heilige Gees wat die betekenis van die Skrif verlig, maar nie enige openbaring byvoeg nie. Daar word geen gesag aan die kerk gegee, of aan ʼn mens, buiten dit wat in die Skrif gegee is nie.

III. DIE WONDERS VAN DIE BYBEL
Die derde afdeling van hierdie studie behandel die wonders van die Bybel, wat op (deur) vier maniere gesien kan word: in die ontstaan, die bewaring, die onderwerpe en die invloed van die Bybel.

A. Die ontstaan van die Bybel
Die ontstaan van die Bybel wys die verskeidenheid in eenheid. Byvoorbeeld, die tydperk tussen die skryf van die eerste boek en die skryf van die laaste boek is ongeveer 1,600 jaar. Nogtans weerspreek geen gedeelte ʼn ander nie.

Verder gebruik God omtrent veertig verskillende mans om die boeke van die Skrif te skryf. Aangesien daar ses-en-sestig boeke in totaal is, het sommige van hierdie manne meer as een geskryf. Die ses-en-sestig boeke van die Bybel is deur veertig verskillende skrywers geskryf oor ʼn tydperk van 1,600 jaar. Hier is ʼn toetsgeval: neem enige onderwerp soos byvoorbeeld wetenskap en kyk na ʼn periode van 1,600 jaar. Kies veertig wetenskaplikes wat wetenskaplike boeke geskryf het, totdat jy ʼn totaal van ses-en-sestig boeke geskryf deur veertig verskillende wetenskaplikes het, wat oor ʼn tydperk van 1,600 jaar geskryf is. Sal daar enige ware eenheid wees? Sal die resultaat geen enkele weerspreking hoegenaamd wees nie? Die antwoord is voor die hand liggend. Deur eenvoudig na die geskiedenis te kyk, sal dit onmoontlik wees om enigiets te vind wat gelykstaande is aan die uniekheid van die ontstaan van die Bybel. Die ontstaan van die Bybel toon inderdaad ʼn unieke verskeidenheid in die eenheid. Maar omdat dit volmaakte eenheid besit, is daar eenvormigheid in die Skrif sonder enige deel wat ʼn ander weerspreek.

Maar die verskeidenheid in die ontstaan van die Bybel kan op vele meer maniere gesien word. Daar is ander faktore wat die uniekheid en die wonder van die ontstaan van die Skrif wys.

1. Verskeidenheid van taal
Een voorbeeld wat die uniekheid van die ontstaan wys is dat die Skrif in drie verskillende tale geskryf is. Die meeste daarvan is in die Hebreeuse taal geskryf. Die tweede grootste gedeelte is in Grieks geskryf. Die kleinste gedeelte is in Aramees geskryf. Dus is daar nie net veertig skrywers wat ses-en-sestig boeke oor ʼn tydperk van 1,600 jaar geskryf het nie, maar ook het hulle dit in drie verskillende tale geskryf: Hebreeus, Grieks en Aramees, en steeds is daar verskeidenheid in eenheid, wat lei tot volmaakte harmonie.

2. Verskeidenheid van ligging
Verskeidenheid van ligging kan gesien word daarin dat die boeke van die Skrif in ten minste ses verskillende dele van die wêreld geskryf is. Die meerderheid is geskryf in die Land van Israel. Ander dele is in Babilon, Egipte, Griekeland, Rome, Arabië en moontlik ook in ander lande geskryf. Dus kan die verskeidenheid daarin gesien word dat, alhoewel die Skrif in ten minste ses verskillende lande geskryf is, daar steeds volmaakte harmonie bestaan.

3. Verskeidenheid van skrywers
ʼn Ander manier om die verskeidenheid te wys is die feit dat die skrywers nie almal professionele skribente was wat geskryf het as ʼn beroep nie. Om die waarheid te sê, daar was ongeveer elf verskillende beroepe onder hierdie veertig skrywers: konings, priesters, profete, soldate, staatsmanne, skaapwagters, vissermanne, belastinggaarders, ʼn dokter, ʼn tentmaker, en ʼn boer. Hierdie veertig skrywers het ten minste elf verskillende beroepe gehad, wat die groot verskeidenheid skryfvaardighede en styl verklaar. Ten spyte van al hierdie verskeidenheid is daar steeds volmaakte harmonie.

4. Verskeidenheid van literêre formate
Die uniekheid van die verskeidenheid kan op nog een ander manier gesien word, daarin dat daar ten minste agt verskillende literêre formate is: geskiedkundige vertellings, biografieë, digkuns, spreuke, drama, preke, briewe en psalms. Ten spyte van die verskeidenheid van hierdie verskillende literêre formate, is daar steeds volmaakte harmonie.

Opsommend: Die eerste wonder van die Bybel is daarin geleë dat daar geweldige verskeidenheid in die oorsprong is. Dit is geskryf oor ʼn tydperk van 1,600 jaar deur veertig verskillende skrywers, wat ses-en-sestig boeke in drie verskillende tale geskryf het, in ses verskillende lande, vanuit elf verskillende beroepe, en wat agt verskillende literêre formate ingespan het, en steeds algehele harmonie oplewer. Dit sou onmoontlik wees met enige ander onderwerp of boek.

B. Die bewaring van die Bybel
Die tweede wonder van die Bybel is sigbaar in die bewaring daarvan op twee maniere: die onveranderde toestand en die onvernietigbaarheid daarvan.

1. Die onveranderde toestand
Ten eerstens het die teks self ongeskonde gebly. Soms vra mense hoe ons weet dat ons die oorspronklike Skrif het. Hoe weet ons ons het die Bybel soos dit oorspronklik geskryf is?

God het talryke Griekse tekste bewaar en op grond van hierdie vele Griekse tekste is dit moontlik om onteenseglik vas te stel wat die oorspronklike Griekse Nuwe Testament was.

Wat die Ou Testament betref bestaan daar nie meer naastenby soveel manuskripte as wat ons van die Griekse Nuwe Testament het nie, maar ons weet dat die teks self ongeskonde gebly het weens een belangrike feit. Voor 1947 was die oudste bekende Hebreeuse manuskrip die Masoretiese teks, wat dateer vanaf 1000 na Christus. Omdat hierdie teks so laat na die gebeure wat dit beskryf, dateer, het verskeie kritici van die Skrif die spot daarmee gedryf en bevraagteken hoe dit moontlik is om te glo dat die Ou Testament suiwer behoue gebly het.

Toe, in 1947, is die Dooie See-rolle ontdek. Later, soos argeoloë voortgegaan het om te grawe by die plek waar die rolle ontdek is, is ten minste een brokkie van elke Ou Testamentiese boek van die Bybel gevind, behalwe vir Ester. As mens die Hebreeus van die Dooi See-rolle, wat dateer tussen 100 voor Christus en 100 na Christus, vergelyk met die Hebreeus van die Masoretiese teks, is daar bykans geen afwyking nie, selfs al is daar ʼn tydperk van 1,000 jaar tussen die tyd van die Dooie See-rolle en die Masoretiese teks. Waar daar wel ʼn afwyking is, is daar geen verandering in betekenis nie. Byvoorbeeld, een boekrol sê dalk, ‘Hy het na Jerusalem gegaan’, terwyl ʼn ander een sê, ‘Hy het tot Jerusalem gegaan’. Alhoewel daar ʼn effense afwyking tussen die twee tekste is, het die betekenis nie verander nie: die persoon het na Jerusalem gegaan. Dus het die teks ongeskonde gebly.

2. Die onvernietigbaarheid
Die tweede bewys van die Bybel se bewaring is die onvernietigbaarheid daarvan. 1 Petrus 1:23-25 stel dit: want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ʼn blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.

God het beloof dat Hy sy Woord sal bewaar. Daar is inderdaad genoegsame bewys hiervan deur die geskiedenis waar mense probeer het om die Skrif te vernietig, maar die Skrif het vir ons behoue gebly.

Byvoorbeeld, die Romeinse keiser Diocletianus het gesê: ‘Die Christelike godsdiens is verwoes en die aanbidding van die gode herstel.’ Net tien jaar later verklaar keiser Konstantyn die Christelike godsdiens tot staatsgodsdiens. Die Franse filosoof Voltaire het verklaar, ‘Vyftig jaar van nou af sal die wêreld niks meer van die Bybel hoor nie.’ Presies vyftig jaar later het die Genève Bybelgenootskap die drukpers gekoop wat Voltaire gebruik het om sy stellings te druk, en dit gebruik om meer Bybels te druk.

Tyndale was een van die vroeë vertalers van die Bybel in Engels. Hy het geweldige vervolging ondergaan, soveel so dat sy vertaling feitlik vernietig is. Teenstanders het gespog dat die Bybel nooit weer in Engels sou verskyn nie. Tog, vandag is die meerderheid van alle gedrukte Bybels in die wêreld Engelse Bybels.

Thomas Payne, ʼn Amerikaanse filosoof en een van die land se volksvaders, was ʼn kritikus van die Skrif wat ʼn reeks smaadredes teen die Bybel begin skryf het. Hy het gesê, ‘Wanneer ek klaar is, sal daar nie vyf Bybels in Amerika oor wees nie.’ Terwyl Thomas Payne ʼn goeie bydrae gelewer het deur te stry vir die Amerikaanse Rewolusie en Amerikaanse onafhanklikheid in sy skrywes, was hy vir seker heeltemal verkeerd oor die Skrif. Om die waarheid te sê, in my eie biblioteek het ek meer as vyf Bybels. Daar is miljoene Bybels in Amerika, baie meer as die vyf wat hy voorspel het sou oorbly.

Hierdie is klinkklare bewys dat die Bybel onvernietigbaar bly op grond van God se bewarende krag. Die wonders van die Bybel word duidelik sigbaar deur die ontstaan en bewaring van die Bybel.

C. Die inhoud van die Bybel
ʼn Derde wonder van die Bybel is die inhoud daarvan. Die onderwerpe van die Skrif is uniek onder alle boeke, insluitende ander heilige boeke. Byvoorbeeld, die onderwerpe van die Bybel sluit in die persoonlikheid, eenheid en Drie-eenheid van God. Die Bybel spreek van die mens se oorsprong en val. Dit stel die unieke konsep van die God-Mens in die persoon van Jesus (Yeshua) die Messias bekend. Dit behandel God se voorsiening van verlossing. Die profetiese dele spreek van die hoogtepunt van alle geskiedenis. Die inhoud is so uiteenlopend as die ontstaan van die Bybel self.

Ten spyte van die uiteenlopendheid van die inhoud, is daar steeds ʼn verenigende beginsel wat al hierdie dinge, wat blyk om geen verband met mekaar te hou nie, finaal te laat saamwerk tot die hoogtepunt van die geskiedenis tot heerlikheid van God. God word verheerlik deur al die verskeie programme wat Hy deur die Skrif aan ons bekend gestel het, soos die mens se verlossing, Israel se geskiedenis, die Messiaanse Koninkryk, en vele ander. Deur soveel veelsydigheid en verskeidenheid van inhoud saam te vat en die verenigende beginsel van die heerlikheid van God uit te bring wys die uniekheid, ja, die enigheid en wonder van die Bybel vir ons.

D. Die invloed van die Bybel
Die vierde wonder van die Bybel kan gesien word in die invloed van die Bybel. Die Bybel het geweldige invloed op individue, of hulle ware gelowiges of selfs ongelowiges is. Die Bybel het die lewens van menigte individue verander. Die Bybel het die skryf van verskeie klassieke werke en romans geïnspireer. Dit het die skilderye van sommige van die grootste kunstenaars in die geskiedenis geïnspireer. Dit het inderdaad ʼn geweldige invloed op individuele mense in die kunste, die wetenskap en die geesteswetenskappe gehad.

Dit het ook ʼn invloed op nasies gehad. Die begrippe van sindelikheid, wetlikheid, eer, en godsdienstigheid kom alles vanaf die invloed wat die Skrif op nasies gehad het wat dit aangeneem het. Om die waarheid te sê, die meeste van die wetkodes in die westerse wêreld, beide in Europa en die Nuwe Wêreld, is beïnvloed deur die wetkodes van die Skrif.

Maar veel meer belangrik is die invloed wat die Bybel op individue gehad het, en hulle tot ʼn persoonlike verhouding met God gebring het. Deur die Skrif kon hul duidelik sien dat hulle sondaars was en het hulle geweet daar was niks wat hulle op hul eie daaraan kon doen nie. Die prys van sonde moes betaal word en Jesus het daardie prys betaal. Die Bybel het sodoende die regenerasie en verlossing van talryke individue tot gevolg.

IV. DIE BONATUURLIKE OORSPRONG VAN DIE BYBEL
Die laaste afdeling van bespreking rondom die aard van die Bybel handel oor die bonatuurlike oorsprong en kan duidelik gesien word in tien verskillende opsigte.

A. Die boek van God
Ten eerste kan die bonatuurlike oorspring van die Bybel duidelik gesien word daarin dat dit die boek van God is. Die Bybel is Teosentries: God is die middelpunt van die Skrif en alle Skrif sentreer rondom Hom. Verder, terwyl ander heilige boeke na God mag verwys of oor Hom praat, kan die Bybel steeds onderskei word van alle ander boeke in die manier waarop dit van God praat. Die Bybel stel God voor as anders of onderskeibaar van alle ander gode van kontemporêre skrywers. Verder stel die Bybel God voor as monoteïsties teenoor die politeïstiese gode wat opvallend was in die dae toe die Skrif geskryf is. Alhoewel latere heilige boeke soos die Koran en ander ook verwys na monoteïsme, is die Bybel selfs hier uniek in die opsig dat net die Bybel verwys na die Drie-eenheid van hierdie monoteïsme. Die Bybel is inderdaad die boek van God wat Hom as anders voorstel as dié in alle ander heilige boeke, of dit nou eietydse boeke is of die wat later geskryf is.

B. In die probleem van sonde
Die tweede opsig waarin die bonatuurlike oorsprong van die Bybel duidelik gesien kan word is dat net die Bybel die probleem van sonde en ʼn kuur (geneesmiddel) wat werk, voorhou. Net die Bybel verduidelik in detail wat sonde werklik is. Net die Bybel hou ʼn kuur voor wat waarlik en werklik werk, soos vele wat die bonatuurlike werking van die Skrif in hul lewens ervaar het, kan getuig.

C. In die etiek en sedes
Die derde opsig waarin die bonatuurlike oorsprong van die Bybel duidelik gesien kan word, is die Bybel se uniekheid wat die etiek en sedes betref. Byvoorbeeld, die etiek en sedes van die Bybel is omvattend in die opsig dat dit alle areas van menslike handeling dek. Dit dek die areas van man en vrou verhoudings en ouer kind verhoudings; korrekte handeling vir werkgewers en werknemers, regerings en hul burgers, en land en die nasie. Dit dek vele terreine, waaronder die seksuele, sake, ekonomiese, en ontspanning. In al hierdie areas is die etiek en sedes van die Skrif uiters omvattend.

Verder is die etiek en sedes van die Bybel uniek in die opsig dat dit die motiewe of beweegredes self beoordeel. Die Bybel behandel nie net die uiterlike onderwerping aan standaarde van etiek en sedes soos ander boeke nie, maar behandel ook die eintlike beweegredes wat betrokke is.

Ten slotte voorsien die Bybel die enigste grondslag vir ware etiese gedrag, dit is gedrag wat gegrond is op die erkenning dat God bestaan en dat Hy elke mens sal beoordeel na gelang van sy werke.

D. In die kontinuïteit
Die vierde opsig waarin die bonatuurlike oorsprong gesien kan word is die kontinuïteit van die Bybel. Daar is volmaakte harmonie in die Bybel, selfs al is daar ses-en-sestig boeke, deur veertig verskillende skrywers, geskryf oor ʼn tydperk van 1,600 jaar, in drie verskillende tale, vanuit ses verskillende lande, met elf verskillende beroepe, wat agt literêre formate gebruik. Alle ander heilige boek is geskryf deur een skrywer in ʼn kort tydjie. Die Koran, byvoorbeeld, is geskryf deur een skrywer: Mohammed. Dus, die kontinuïteit van die Bybel dien as bewys van die bonatuurlike oorsprong.

E. In die profesieë
Die vyfde opsig waarin die bonatuurlike oorsprong van die Skrif gesien kan word is in die profesieë en hul vervulling. Ander heilige boeke bevat profesieë, wat oop is vir verskeie interpretasies, sodat, maak nie saak wat uiteindelike gebeur nie, hul kan steeds probeer om te beweer dit is vervul. So is dit nie met die Bybel nie. Die Bybel bevat baie duidelike profesieë wat baie spesifiek en beperk is. Daarom, wanneer dit vervul word, is dit baie presies. Geen ander heilige boek kan verwys na ʼn lang reeks profesieë wat gevolg is deur volmaakte en presiese vervulling nie. Tog, in die Bybel is dit presies wat jy sal vind. Alle ander heilige boeke, geskryf deur een skrywer binne ʼn kort tydperk, kan nie, uiteraard, profesie en die vervulling daarvan toon nie. Tog, omdat die Bybel uniek is deurdat dit deur veertig verskillende skrywers oor verloop van 1,600 jaar geskryf is, kan ʼn skrywer ʼn profesie neerpen waarvan die vervulling dan baie jare later deur ʼn ander skrywer aangeteken word.

F. In die tipes en antitipes
Die sesde opsig waarin die Bybel se bonatuurlike oorsprong gesien kan word is die tipes en antitipes. Hierdie tipes en antitipes wys die eenheid van die Ou en Nuwe Testamente. Alhoewel ongeveer vierhonderd-en-vyftig jaar verloop het tussen die Ou Testament en die eerste boek van die Nuwe Testament, en ons oorgegaan het vanaf Hebreeus in die Ou Testament na Grieks in die Nuwe Testament, het die tipologieë van die Ou Testament steeds ʼn duidelike en voor die hand liggende vervulling in die antitipes van die Nuwe Testament. Daar is duidelike eenheid in die Ou en Nuwe Testamente ten spyte van die veelsydigheid van taal en eeue wat die twee skei.

G. In die literêre waarde
Die sewende opsig waarin die bonatuurlike oorsprong van die Bybel gesien kan word, is dat dit uniek is as letterkunde. Selfs ongelowiges beskou die literêre waarde van die Bybel as voortreflik. Vandag nog word die Bybel bestudeer ten opsigte van die literêre waarde in vele van ons universiteite. Eietydse literatuur kan geensins met die uniekheid van die Bybel vergelyk word nie.

H. In die afwesigheid van vooroordele
Die agtste opsig waarin die bonatuurlike oorsprong van die Bybel gesien kan word, is dat die Bybel onbevooroordeeld is. Die meeste ander heilige boeke maak geen melding van die tekortkominge van hul helde nie. Hul helde is net dit: helde. Maar die Bybel is anders. Die Bybel lewer verslag van die tekortkominge en foute, asook die goeie eienskappe van die helde daarin. Koning Dawid is ʼn voorbeeld van ʼn man wat deur die Skrif ‘ ʼn man na God se hart’ genoem word. Dawid was ʼn held, ʼn groot vegter wat die oorwinning behaal het deur sy militêre mag en vermoëns in te span. Die Bybel toon egter ook Dawid se mislukkings aan ons. Sy onvermoë om Absalom reg te hanteer in hul vader-seun verhouding word duidelik aangeteken. Die Bybel teken ook Dawid se egbreuk en moord aan. Die Bybel is, inderdaad, onbevooroordeeld, en wys die tekortkominge en mislukkings van die helde daarin vermeld.

I. In die wetenskaplike korrektheid
Die negende opsig waarin die bonatuurlike oorsprong van die Bybel gesien kan word, raak die Bybel en wetenskap. Die Bybel is nie ʼn boek oor wetenskap nie, maar wanneer die Bybel ʼn wetenskaplike punt aanroer, is dit geheel en al korrek. Slegs wetenskaplike teorieë is in stryd met die Skrif, maar dan is dit, tot vandag toe, slegs teorieë. Daardie dinge wat as wetenskaplike feite bevestig is het nog nooit die Bybel weerlê nie. Die Bybel is beslis nie ʼn boek oor wetenskap nie, maar wanneer dit die wetenskap aanraak, dan is dit sonder twyfel akkuraat en sonder fout.

J. In die blywende varsheid
Die tiende en laaste opsig waarin die bonatuurlike oorsprong van die Bybel gesien kan word, is in die blywende varsheid daarvan. Dit word gelees en weer gelees soos geen ander boek nie. Ek het al ophou tel hoeveel maal ek deur die Bybel gelees het sedert ek as dertienjarige tot geloof gekom het. Ek het die Bybel al telkemale gelees, oor en oor, en was nog nooit verveeld met die Woord nie. Ek kan die meeste boeke selfs nie eens twee keer lees nie, want ek weet reeds hoe die storie gaan afspeel. So ek lees geen boek ʼn tweede keer nie. Maar die Bybel is anders. Ek het dit al gelees, en weer gelees, en weer, want dit bevat ʼn blywende varsheid, dit hou my belangstelling deurlopend.

Soos Lewis Sperry Chafer geskryf het, ‘Die Bybel is nie ʼn boek wat ʼn man kon skryf as hy wou nie, ook is die Bybel nie ʼn boek wat ʼn man wou skryf as hy kon nie.’
[end]

Inhoudsopgawe

I. TERME VAN DIE BYBEL
     A. Bybel
     B. Skrif
     C. Woord van God
     D. Testament
II. STANDPUNTE TEENOOR DIE BYBEL
     A. Rasionalisme
     B. Mistisisme
     C. Romanisme
     D. Nieu-Ortodoksie
     E. Kultusse
     F. Ortodoksie
III. DIE WONDERS VAN DIE BYBEL
     A. Die ontstaan van die Bybel
         1. Verskeidenheid van taal
         2. Verskeidenheid van ligging
         3. Verskeidenheid van skrywers
         4. Verskeidenheid van literêre formate
     B. Die bewaring van die Bybel
         1. Die onveranderde toestand
         2. Die onvernietigbaarheid
     C. Die inhoud van die Bybel
     D. Die invloed van die Bybel
IV. DIE BONATUURLIKE OORSPRONG VAN DIE BYBEL
     A. Die boek van God
     B. In die probleem van sonde
     C. In die etiek en sedes
     D. In die kontinuïteit
     E. In die profesieë
     F. In die tipes en antitipes
     G. In die litirêre waarde
     H. In die afwesigheid van vooroordele
     I. In die wetenskaplike korrektheid
     J. In die blywende varsheid

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Hierdie artikel bespreek die korrelasie tussen die Skrif en God se openbaring. God kan alleenlik geken word omdat Hy Homself openbaar. God is ‘n oneindige wese; die mens is beperk, ‘n geskape wese met beperkte kennis. Teologie is basies ‘n sistematisering van wat God geopenbaar het. Daar is hoofsaaklik twee tipes Goddelike Openbaring, naamlik Algemene Openbaring en Spesiale Openbaring.