Die agt verbonde van die Bybel

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

EN die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. – Génesis 12:1-3

INLEIDING
Aangesien ’n groot deel van God se verhouding met die mens op verbondsverhoudings gebou word, is ’n studie van die agt verbonde ’n baie belangrike aspek daarvan om die Skrif reg te verstaan. Die algemeenste manier om die Bybel te verdeel is in bedelings. Die bedelings is egter op spesifieke verbonde gegrondves, en kennis van hierdie verbonde sal Bybellesers help om ‘die woord van die waarheid reg [te] sny’ (2 Tim 2:15). Hoewel die bedelings tot ’n einde mag kom, duur die verbonde self dikwels voort.

A. Die tipes verbonde
Daar is twee tipes verbonde in die Bybel: voorwaardelike en onvoorwaardelike verbonde. Dit is belangrik om tussen hierdie twee tipes verbonde te onderskei ten einde ’n duidelike beeld te hê van wat die Bybel ons leer.

1. Voorwaardelike verbonde
’n Voorwaardelike verbond is ’n tweesydige verbond waarin God ’n aanbod aan die mens maak wat deur die volgende formule gekenmerk word: As jy sal, sal Ek; God belowe daardeur om spesiale seëninge aan die mens te skenk, mits die mens sekere voorwaardes nakom wat deel van die verbond vorm. Die mens se versuim om dit te doen, lei dikwels tot straf. ’n Mens se reaksie op die verbondsooreenkoms bring dus óf seëninge óf vloeke. Die seëninge word deur gehoorsaamheid verkry, en die mens moet aan sy voorwaardes voldoen voor God aan syne voldoen.

Twee van die agt verbonde in die Bybel is voorwaardelik: die Verbond van Eden en die Verbond van Moses.

2. Onvoorwaardelike verbonde
’n Onvoorwaardelike verbond is ’n eensydige verbond en is ’n soewereine ingryping deur God waardeur Hy Homself onvoorwaardelik verbind om bepaalde seëninge en omstandighede vir die verbondsvolk te bewerk. Hierdie verbond word gekenmerk deur die formule: Ek sal, wat God se beslistheid verklaar om te doen wat Hy belowe het. Seëninge word verkry deur God se genade. Daar kan moontlik voorwaardes in die verbond wees wat God die ander verbondsparty vra om uit dankbaarheid na te kom, maar dit is nie op sigself die rede waarom God sy beloftes vervul nie.

Ses van die agt verbonde is onvoorwaardelik: die Verbond van Adam, die Verbond van Noag, die Verbond van Abraham, die Palestynse Verbond of Grondverbond, die Verbond van Dawid en die Nuwe Verbond.

B. Die verbonde met Israel
Vyf van hierdie agt verbonde is uitsluitlik met Israel gesluit, terwyl die ander met die mensdom in die algemeen gesluit is. Slegs een van die vyf verbonde wat met Israel gesluit is, is voorwaardelik: die Verbond van Moses. Die ander vier verbonde met Israel is almal onvoorwaardelik: die Verbond van Abraham, die Grondverbond, die Verbond van Dawid en die Nuwe Verbond.

Wat die aard van die onvoorwaardelike verbonde wat met Israel gesluit is, betref, moet ons op vier dinge let. Een: Dit is letterlike verbonde en hul inhoud moet ook letterlik vertolk word. Twee: Die verbonde wat God met Israel gesluit het, is ewig en word nie op enige manier deur tyd beperk of gewysig nie. Drie: Dit is nodig om te herbeklemtoon dat hierdie verbonde onvoorwaardelik is en nie deur Israel se ongehoorsaamheid opgehef is nie; omdat die verbonde onvoorwaardelik is en hul vervulling heeltemal van God afhang, kan ons verwag dat hulle uiteindelik vervul sal word. Vier: Hierdie verbonde is met ’n spesifieke volk gesluit – Israel. Paulus lig hierdie punt uit in Romeine 9:4: Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes.

Hierdie teksgedeelte maak dit duidelik dat hierdie verbonde met die verbondsvolk gesluit is en dat dit aan Israel behoort.

Dit word weer in Efésiërs 2:11-12 uitgelig: DAAROM, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

Vyf van die agt Bybelverbonde behoort aan die volk Israel en, soos hierdie gedeelte noem, word nie-Jode as vreemdelinge ten aansien van die verbonde gereken.

C. Die beginsel van die tydsberekening van die bepalings
’n Verbond kan op ’n spesifieke punt in die geskiedenis onderteken en verseël word, maar dit beteken nie dat al die bepalings onmiddellik in werking tree nie. Trouens, drie verskillende dinge gebeur sodra ’n verbond verseël is. Een: Party bepalings tree dadelik in werking. Twee: Party bepalings tree in die afsienbare toekoms in werking, wat moontlik twintig jaar of vyfhonderd jaar later is. Drie: Party bepalings tree slegs in die verre profetiese toekoms in werking, en is tot op hede nog nie vervul nie.

I. DIE VERBOND VAN EDEN
A. Skrif: Génesis 1:28-30

En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees. Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ’n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so.

Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. (Génesis 2:15-17)

Maar hulle het soos Adam die verbond oortree, daar het hulle troueloos teen My gehandel. (Hoséa 6:7)

B. Die deelnemers aan die verbond
Die Verbond van Eden is gesluit tussen God en Adam, met Adam wat as die verteenwoordigende hoof van die mensdom opgetree het. Adam se optrede word dus aan die hele mensdom toegeskryf.

C. Die bepalings van die verbond
Daar was altesaam sewe bepalings in die Verbond van Eden.

Een: Die mens het die opdrag gekry: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde (Gén 1:28a). Die aarde is geskep met die doel om die mens se woonplek te wees, en die mens is daarna op die sesde dag geskape. Die mens is aangesê om die aarde te vul; die vermeerdering van die bevolking is dus deel van sy opdrag. Die mensdom moes die aarde vul.

Twee: Die mens moes die aarde onderwerp (Gén 1:28b). Satan het vroeër gesag oor die aarde ontvang (Eség 28:11-19). Maar toe Satan geval het, het hy sy gesag oor hierdie aarde verloor. Dit is waarom Génesis 1:2 die aarde beskryf deur te sê dat dit met water bedek was, en dat daar duisternis … op die wêreldvloed was. Daarna het God die aarde nuut begin vorm en brei om dit bewoonbaar vir die mens te maak, en hierdie keer het Hy die gesag oor die aarde aan die mens gegee. Die mens moes dit onderwerp; hy moes die aarde se natuurlike hulpbronne en kragte gebruik wat God vir hom voorsien het. Dit het egter nie beteken dat hy toegelaat is om dit te besoedel nie!

Drie: Die mens het heerskappy oor alle lewe dinge ontvang (Gén 1:28c). Die vroeëre bepaling het aan die mens gesag gegee oor die aarde in soverre dit nie-lewende dinge betref het. Hierdie bepaling het die mens se gesag uitgebrei oor alle lewende skepsels. Die hele diereryk op die aarde, in die lug en in die see is onder die mens se gesag geplaas. Die eerste uitoefening van hierdie gesag was die mens se benoeming van die diere (Gén 2:19-20).

Die vierde bepaling het oor die mens se dieet gehandel (Gén 1:29-30; 2:16). Die mens was in hierdie stadium bestem om ’n vegetariër te wees. Daar is geen bepaling in hierdie verbond wat hom toegelaat het om van die diereryk te eet nie, hoewel hy gesag daaroor moes uitoefen. Geen bloed van enige aard mog gestort word nie.

’n Vyfde bepaling het die mens aangesê om die Tuin van Eden te bewerk en te bewaak (Gén 2:15). Selfs in sy sondelose staat was die mens nie veronderstel om ’n lewe van suiwer ontspanning te lei nie; werk was selfs voor die Sondeval al deel van die menslike etos. Toe was werk egter maklik, en die grond het maklik voortgebring; werk was nie swaar nie.

Die sesde bepaling was dat die mens verbied was om te eet van die boom van die kennis van goed en kwaad (Gén 2:17a). Dít was die enigste negatiewe gebod in die hele Verbond van Eden, en was die één punt wat die mens se gehoorsaamheid sou toets. Hy het toestemming gehad om te eet van al die ander bome in die tuin, maar moes hom daarvan weerhou om van daardie een te eet. Dit was die één toets om te sien hoe die mens op die wil van God sou reageer; dit was ’n toets van die erkenning van, en onderwerping aan, God se wil. Die mens was nie veronderstel om aan te neem dat hyself onafhanklik van God was, en van God se wet vrygestel was, omdat daar aan hom gesag oor die aarde en die diereryk gegee is nie. Die vraag wat hieruit ontstaan, is: ‘Sal die mens, soos Satan voor hom, God se reg om te regeer verwerp en verklaar dat hy onafhanklik van God is?’

Die sewende bepaling het ’n straf vir ongehoorsaamheid bevat: die geestelike dood (Gén 2:17b). Dit kan nie na fisiese dood verwys nie, want die mens het nie op dieselfde dag gesterf as wat hy die gebod oortree het nie. Die dood waarvan hierdie gedeelte praat, moet dus geestelike dood wees. Op die dag wat hy eet van die boom van die kennis van goed en kwaad, sal hy van God geskei word en geestelik sterf.

D. Die status van die verbond
Die Verbond van Eden het die grondslag van die Bedeling van Onskuld gevorm. Die verhaal oor hoe die Verbond van Eden verbreek is, word in Génesis 3:1-8 aangetref.

Satan het in die Tuin van Eden as ’n gevalle skepsel verskyn. Dit wys dat die mens nie in ’n perfekte heelal geskep is nie, want sonde het reeds bestaan. Hoewel dit nog nie in die mens bestaan het nie, was dit reeds in Satan teenwoordig. Die Satan het sy taak om die mens te versoek op dieselfde drie terreine aangepak as wat ons in 1 Johannes 2:16 aantref.

Die eerste frase van Génesis 3:6, Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet, stem ooreen met die eerste frase van 1 Johannes 2:16: die begeerlikheid van die vlees. Die tweede frase van Génesis 3:6, en dat hy ’n lus was vir die oë, stem ooreen met die tweede frase van 1 Johannes 2:16: die begeerlikheid van die oë. En die derde frase van Génesis 3:6, wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry, stem ooreen met die derde frase van 1 Johannes 2:16: en die grootsheid [trots] van die lewe.

Eva het geswig voor die versoeking en die één negatiewe gebod verbreek. Adam het besef wat gebeur het, maar nog steeds gekies om sy vrou in ongehoorsaamheid te volg. Hul eerste reaksie was om te probeer om vir God weg te kruip, wat bloot die waarheid van Génesis 2:17 illustreer. Die mens het op daardie juiste oomblik geestelik gesterwe, en kon nie meer dieselfde gemeenskap met God geniet wat hy voor sy ongehoorsaamheid gehad het nie. Met daardie daad het die Verbond van Eden, wat voorwaardelik was, geëindig.

II. DIE VERBOND VAN ADAM
A. Skrif: Génesis 3:14-19

Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt. Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers. En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

B. Die deelnemers aan die verbond
God en Adam is betrokke by hierdie verbond, waarin Adam weer eens die hele mensdom verteenwoordig. Die oordeel oor Adam is dus die oordeel oor die hele mensheid.

C. Die bepalings van die verbond
God het die slang, Satan, Eva en Adam afsonderlik aangespreek.

1. Die slang: Génesis 3:14
Daar is drie bepalings wat oor die slang handel. In die eerste plek is hy vervloek bo al die ander diere van die diereryk. Alle skepsels val nou onder ’n vloek, maar daar rus ’n spesiale vloek op hierdie besondere lid van die diereryk. ’n Dier word nie normaalweg moreel verantwoordelik gehou vir sy dade nie. As dit die mens egter skade berokken, word dit wel verantwoordelik gehou (Gén 9:5). Diere is geskep tot voordeel van die mens, en as hierdie beginsel verbreek word, haal dit God se oordeel op die hals.

In die tweede plek moes die slang voorts op sy maag seil. Dit wys dat die slang oorspronklik in ’n regop posisie beweeg het. Dit het gelei tot die debat of die slang oorspronklik bene gehad het, maar daardie vraag het nie betrekking op die kwessie nie. Die enigste punt is dat die slang, in plaas daarvan om regop te beweeg, nou op sy maag seil.

Derdens sal die slang stof eet. Kritici van die Bybel het hierdie feit al met groot vermaak uitgewys as ’n fout in die Bybel, aangesien reptiele nie stof eet nie. Dit was egter bloot ’n Hebreeuse idioom wat beteken het om besonder vervloek te wees (Miga 7:17). Die vloek sal voortduur, selfs in die Messiaanse Koninkryk (Jes 65:25).

2. Satan: Génesis 3:15
Vier bepalings word oor Satan gegee. Eerstens sou daar voortdurende haat tussen Satan en die vrou wees. Tweedens sou daardie haat ’n hoogtepunt bereik tussen Satan se saad, die Antichris, en die vrou se Saad, die Messias. Derdens sou die slang die hakskeen van die vrou se Saad byt; dit het by die Kruisiging gebeur. Vierdens sê hierdie eerste profesie van die Here se oorwinning oor Satan verder dat die vrou se Saad Satan se kop sal vermorsel; dit het finaal met die Opstanding gebeur (Heb 2:14-15). Maar die finale vermorseling van Satan moes nog aanbreek op die tydstip toe Paulus Romeine 16:20 geskryf het; dit sal kom wanneer Satan in die poel van vuur en swawel gewerp word (Op 20:10).

Die hoofpunt van hierdie profesie is dat die Messias uit die Saad van die vrou sal kom. Dit druis teen die bybelse norm in wat leer dat afstamming deur die manlike lyn nagespeur word, nie deur die vroulike lyn nie. Die rede vir hierdie uitsondering sou vir eeue lank duister bly, tot Jesaja 7:14 onthul het dat ’n maagd swanger sou word en die Messias sou baar. Die profesie van Génesis 3:15 het gelei tot die gebeure van Génesis 6:1-4, toe Satan probeer het om die vrou se saad te verontreinig, en sal in die toekoms lei tot die bonatuurlike ontvangenis (konsepsie) van die Antichris.

3. Die vrou: Génesis 3:16
Eva en alle vroue is aan drie bepalings onderwerp. In die eerste plek sou menstruele pyn en konsepsie vermenigvuldig word. Die aard van konsepsie was skynbaar aansienlik anders vóór die Sondeval as daarna. Sedert die Sondeval kan ’n vrou normaalweg ten minste een keer per maand bevrug word. Verder gaan ’n vrou se maandstonde met pyn en ongemak gepaard. Tweedens sou die vrou met pyn geboorte skenk. Voor die Sondeval sou sy sonder pyn bevrug kon word en geboorte skenk, maar dit was nie meer so nie. Sodra die geboorte plaasvind, is daar egter blydskap (Joh 16:21). Op hierdie manier word die vrou gered (1 Tim 2:15). Sy word nie geestelik gered deur geboorte te skenk nie, maar haar vermoë om kinders te hê red haar daarvan om in ’n verlaagde posisie te wees, want daardeur verseker sy die kontinuïteit van die mensdom wat nie aan fisiese dood onderwerp is nie. Derdens sou die vrou se man oor haar heers. Dit was reeds voor die Sondeval so, maar die nuwe aspek was dat sy nou die begeerte sou hê om teen daardie heerskappy te rebelleer en sou besluit om hom te probeer beheer.

4. Die man: Génesis 3:17-19
Adam en alle mense en die hele mensdom is in Génesis 3:17-19 aan vyf bepalings onderwerp. Eerstens staan Adam as die verteenwoordiger van die mensdom; die oordeel oor Adam is die oordeel oor die hele mensdom. Adam, nie Eva nie, word verantwoordelik gehou vir die mensdom se toestand.

Tweedens is die aarde vervloek. Werk was nie ’n nuutjie van die Verbond van Adam nie; die Verbond van Eden het reeds daarvoor voorsiening gemaak. Die verskil het in die grond se reaksie gelê. Onder die Verbond van Eden het die grond geredelik op die mens se bewerking en verbouing gereageer. Maar nou het die grond nie so gunstig gereageer nie; daar was dorings, distels en onkruid.

Derdens sou die mens se dieet vegetaries bly, soos wat dit onder die Verbond van Eden was; dit is nie duidelik of dieselfde vir die diereryk gegeld het nie. Diere is gebruik om suiwelprodukte en wol vir klere te lewer, en hulle is geoffer, maar nie geëet nie.

Vierdens sou die mens se werk deur moeitevolle arbeid gekenmerk word. Werksomstandighede onder die Verbond van Eden was maklik, eenvoudig en genotvol. Nou sou sweet die mens se werk kenmerk, en arbeid sou moeilik en swaar wees.

Vyfdens is fisiese dood ingestel. Waar die mens met die Verbond van Eden geestelik gesterf het, sou die mens onder die Verbond van Adam uiteindelik fisies sterf (Rom 5:12-21). Tot dusver was daar net twee uitsonderings op hierdie reël: Henog en Elia. Daar sal in die toekoms nog wees wanneer die Wegraping gebeur.

D. Die status van die verbond
Die verbond van Adam het die grondslag geword van die Bedeling van Gewete. As ’n onvoorwaardelike verbond geld dit beslis vandag nog.

III. DIE VERBOND VAN NOAG
A. Skrif: Génesis 9:1-17

EN God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee. Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie. Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak. Maar julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder daarop. Verder het God met Noag en sy seuns by hom gespreek en gesê: Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle, en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die wilde diere van die aarde by julle – al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere van die aarde. En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie. En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: my boog gee Ek in die wolke; dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ’n vloed word om alle vlees te verdelg nie. As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is. En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.

B. Die deelnemers aan die verbond
Die verbond is gesluit tussen God en Noag. Noag het, net soos Adam, as die hele mensdom se verteenwoordiger opgetree. As gevolg van die Sondvloed, stam die mensdom nie net van Adam af nie, maar ook van Noag.

C. Die bepalings van die verbond
Een: Die mens moes die aarde herbevolk (v 1, 7). Die Sondvloed het op agt mense na die hele mensdom uitgewis. Die mense het aansienlik meer geword, maar die boosheid van die mens op die aarde [was] groot (Gén 6:5). God het dus ’n universele oordeel oor die aarde gebring. Ná die Sondvloed was die aarde basies weer leeg. Slegs agt mense het oorgebly om die hele aarde te herbevolk. Net soos met die Verbond van Eden, het die mens weer opdrag gekry om die hele aarde te vul; die opdrag om die aarde te onderwerp is egter nie herhaal nie. Met die sondeval het die mens sy gesag prysgegee en het Satan dit wederregtelik opgeëis. Satan is dus die owerste van hierdie wêreld (Joh 12:31) en die god van hierdie wêreld (2 Kor 4:4). Satan voer gesag oor al die koninkryke van hierdie wêreld en kan hulle aanbied vir wie hy wil (Luk 4:6). Hy het daardie aanbod aan die Saad van die vrou, Jesus, gemaak, maar Jesus het dit van die hand gewys. Hy gaan dit eendag aan die saad van Satan, die Antichris, bied, wat dit wel gaan aanvaar (Op 13:1-3).

Twee: ’n Vrees vir die mens is in diere geplaas, en hulle is in die mens se hand oorgegee (v 2). Hoewel die mens gesag oor die aarde verloor het, moes hy steeds die diereryk beheer en gesag daaroor uitoefen. Om hierdie rede is ’n vrees vir die mens in diere geplaas. Hierdie vrees was ’n middel tot selfbehoud wat genoodsaak is deur die volgende bepaling.

Drie: Die mens se dieet sou bestaan uit alles wat beweeg en die groen plante (v 3). Voorheen was sy dieet vegetaries, maar nou was alle diere inbegrepe. Geen beperkings hoegenaamd word in hierdie teksgedeelte opgelê nie, dus was alle diere geskik om te eet.

Vier: Die mens is verbied om bloed te eet (v 4). Alle stoflike lewe, mens sowel as dier, word deur bloed onderhou. Bloed is die simbool van lewe, en die vergieting van bloed is ’n simbool van die dood. Omdat bloed die simbool van lewe is, het God beveel dat dit nie geëet of gedrink kan word nie.

Vyf: Die doodstraf het vir die eerste keer (v 5-6) deel van die mensdom se ekonomie geword. Toe Kaïn vir Abel doodgemaak het, is Kaïn nie tereggestel nie, aangesien die doodstraf nog nie ingestel was nie. Die instelling van die doodstraf was deel van die Verbond van Noag, en alle moordenaars moes voorts tereggestel word.

Ses: Die belofte van die verbond is dat die mensdom nooit weer deur ’n wêreldwye vloed uitgewis sal word nie (v 8-11). Hoewel daar plaaslike vloede sou wees wat dele van die mensdom sou uitwis, sou daar nooit weer ’n wêreldwye vloed wees nie. Daar sal wel in die toekoms ’n verbygaan en uitwissing van die aarde se huidige stelsel wees, maar dit sal nie deur middel van ’n allesverswelgende vloed gebeur nie. Dit wys dat die Sondvloed universeel was, nie plaaslik nie.

Sewe: Die reënboog was die bewys van die verbond (v 12-17). Nie elke verbond het ’n teken of bewys gehad nie, maar hierdie een het wel. Dit was die eerste keer in die mensdom se geskiedenis dat die reënboog verskyn het. Voor die wêreldwye vloed was daar nie reën nie; die aarde is natgelei deur ’n mis wat daagliks op die plante gekom het. Reënboë en reën gaan hand aan hand. Die reënboog het dus vir die eerste keer in die mens se ervaring sy verskyning gemaak; God se belofte dat die mensdom nooit weer deur ’n vloed vernietig sal word nie, behoort elke keer by ons op te kom as ons ’n reënboog sien.

D. Die status van die verbond
Die Verbond van Noag het die grondslag geword van die Bedeling van Burgerlike Regering. Hoewel hierdie bedeling deur ander vervang is, geld die onvoorwaardelike Verbond van Noag beslis nog. Die Verdrukking se oordeel oor die Nie-Jode sal gebeur weens oortredings van die Verbond van Noag. Volgens Jesaja 24:5-6, sal die oordeel plaasvind omdat die mens die ewige verbond verbreek het, ’n naam wat in Génesis 9:16 aan die Verbond van Noag gegee word. Om daardie rede het die profeet die beeldspraak van die Sondvloed gebruik, die sluise uit die hoogte en fondamente van die aarde in Jesaja 24:18. Die volgende keer sal God egter die mensdom se massas deur vuur vernietig.

IV. DIE VERBOND VAN ABRAHAM
A. Skrif

Een: Génesis 12:1-3
EN die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.

Twee: Génesis 12:7
Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ’n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.

Drie: Génesis 13:14-17
En die HERE sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word. Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee.

Die vierde en vyfde teksgedeeltes wat oor die Verbond van Abraham handel, is Génesis 15:1-21 en Génesis 17:21. Hoewel dit nie volledig in hierdie studie aangehaal word nie, bevat hierdie langer Skrifgedeeltes baie bepalings van die Verbond van Abraham. Génesis 15 se klem is drieledig: Eerstens sou Abraham die vader van een volk in die besonder wees; tweedens sou hy die vader van baie volke in die algemeen wees; derdens onderteken en verseël God die Verbond van Abraham en stip hy die juiste grense van die Verbond van Abraham uit van die rivier van Egipte in die suide af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier in die noorde. Die ondertekening is op ’n manier gedoen wat die verbond onvoorwaardelik maak. Die klem van Génesis 17 is op die bewys van die verbond: fisiese besnydenis op die agtste dag van ’n seun se lewe. Net soos die reënboog die bewys was van die Verbond van Noag, is die besnydenis die bewys van die Verbond van Abraham.

’n Sesde teksgedeelte is Génesis 22:15-18: Toe roep die Engel van die HERE vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.

B. Die deelnemers aan die verbond
God en Abraham is betrokke by hierdie verbond waarin Abraham optree as die verteenwoordigende hoof van die hele Joodse nasie, nie vir die hele mensdom nie.

C. Die bepalings van die verbond
’n Lys wat uit hierdie teksgedeeltes saamgestel is, toon dat daar altesaam veertien bepalings in hierdie verbond is.

Een: Daar sou ’n groot nasie uit Abraham voortkom, by name die nasie Israel (Gén 12:2; 13:16; 15:5; 17:1-2, 7; 22: 17b).

Twee: Daar is ’n land aan hom belowe, naamlik die land Kanaän (Gen 12:1, 1; 13:14-15, 17; 15:17-21; 17:8).

Drie: Abraham sou self ryklik geseën word (Gén 12:2b).

Vier: Abraham se naam sou groot wees (Gén 12:2c).

Vyf: Abraham sou ’n seën wees vir ander (Gén 12:2d).

Ses: Dié wat Israel seën, sou self geseën word (Gén 12:3a).

Sewe: Dié wat Israel vervloek, sou self vervloek word (Gén 12:3b).

Agt: Almal sal uiteindelik in Abraham geseën word (Gén 12:3c; 22:18).

Nege: Abraham sou ’n seun ontvang deur sy vrou Sara (Gén 15:1-4; 17:16-21).

Tien: Sy nageslag sou verdruk word in Egipte (Gén 15:13-14).

Elf: Israel, sowel as ander nasies, sou uit Abraham voortkom (Gén 17:3-4, 6); die Arabiese state tel onder hierdie nasies.

Twaalf: Sy naam sou verander word van Abram, wat ‘verhewe vader’ beteken, na Abraham, wat ‘vader van ’n menigte’ beteken (Gén 17:5).

Dertien: Sarai se naam, wat ‘my prinses’ beteken, sou verander word na Sara, wat ‘die prinses’ beteken (Gén 17:15).

Veertien: Besnydenis sou ’n bewys van die verbond wees (Gén 17:9, 14); volgens die verbond van Abraham, sou besnydenis dus ’n teken van ’n mens se Joodsheid wees. Die praktyk van besnydenis het nie by Abraham begin nie, aangesien ander in die ou Nabye Ooste dié ritueel óf met geboorte óf in puberteit beoefen het. Die uniekheid van die Joodse besnydenis is nie die daad self nie, maar die tydsberekening daarvan: op die agtste dag. Besnydenis sou toon dat dit ’n bloedverbond is en daardeur die plegtigheid daarvan beklemtoon. Dit sou ook wys dat hierdie teken van Joodsheid deur natuurlike verwekking oorgedra word.

Hierdie bepalings van die Verbond van Abraham kan in drie terreine ingedeel word: dié vir Abraham; dié vir die Saad, Israel, en dié vir die Nie-Jode.

1. Vir Abraham
Abraham was bestem om die vader van ’n groot nasie, Israel, te wees. Hy sou die hele Beloofde Land besit. Ander nasies, insluitend die Arabiese state, sou uiteindelik van Abraham afstam. Baie van sy nageslag sou konings – Joods sowel as nie-Joods – word. Abraham sou persoonlike seëninge ontvang. Abraham sou ’n seën wees vir ander. Sy naam sou groot wees, en dit is inderdaad ook die geval onder Jode, Moslems en die hele Christendom.

2. Vir die saad: Israel
Die nasie Israel sou groot word. Hulle sou uiteindelik ’n ontelbare menigte word. Hulle sou die hele Beloofde Land in besit neem. Hulle sou oorwinning oor hul vyande behaal. Die feit dat die beloftes aan Abraham én sy saad gemaak is, wys dat die seëninge nog nie ten volle vervul is nie, maar dat dit wag op die Messiaanse Koninkryk.

3. Vir die Nie-Jode
Die Nie-Jode sou geseën word as hulle Israel seën, en vervloek word as hulle Israel vervloek. Hulle sou ook geestelike seëninge ontvang, maar dít sou uiteindelik deur een spesifieke Saad van Abraham kom. Die Verbond van Abraham bevat fisiese sowel as geestelike beloftes. Hoewel die fisiese seëninge beperk was tot die Jode, het die geestelike seëninge die nie-Jode ingesluit, maar slegs deur die Messias.

D. Die grondslag vir die ontwikkeling van ander verbonde
As die Verbond van Abraham in sy eenvoudigste elemente afgebreek word, kan ’n mens sien dat dit drie aspekte bevat: die Grond-aspek, die Saad-aspek en die Seën-aspek. Die Grond-aspek word in die Grondverbond uitgebrei. Die Saad-aspek word in die Verbond van Dawid gedek. Die Seën-aspek word in die Nuwe Verbond aangebied.

E. Die bevestiging van die verbond
1. Bevestiging deur Isak

Abraham het agt seuns by drie verskillende vroue gehad, en die vraag het ontstaan: deur watter seun sou die Verbond van Abraham bevestig word? God het openbaar dat dit slegs deur Sara se seun, Isak, sou wees. God se verskyning aan Isak is in Génesis 26:2-5 aangeteken: En die HERE het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys. Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.

Die verbond is later in Génesis 26:24 aan Isak bevestig: En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg.

2. Bevestiging deur Jakob
Isak het twee seuns gehad, en God het besluit om die verbond met Jakob te bevestig, soos wat blyk uit Génesis 28:13-15: En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.

3. Bevestiging deur die seuns van Jakob
Hierna is die verbond bevestig deur al twaalf seuns van Jakob (Gén 49), wat die Twaalf Stamme van Israel se stamvaders was.

F. Die status van die verbond
Die Verbond van Abraham het die grondslag geword vir die Bedeling van Belofte. Omdat die Verbond van Abraham onvoorwaardelik is, is dit beslis nog van krag, hoewel dit grootliks onvervuld bly. Die hoogste vervulling sal tydens die Koninkrykstydperk kom. Enkele voorbeelde hiervan sluit in: Exodus 2:23-25; 4:24-26; 6:2-8; 32:11-14; Levítikus 26:46; Deuteronómium 34:4; 2 Konings 13:22-23; 1 Kronieke 16:15-19; 2 Kronieke 20:7-8; Nehemía 9:7-8; Psalm 105:7-12; Lukas 1:54-55, 68-73; Galásiërs 3:15-18, en Hebreërs 6:13-20. Hierdie verse laat blyk dat die Verbond van Abraham die grondslag was vir die Uittog, om vir hulle die Land te gee, vir die oorlewing van die Jode ten spyte van ongehoorsaamheid, vir die koms van die Messias, vir die opwekking van die dode en vir Israel se finale redding en herstel.

Die Verbond van Abraham is ’n goeie voorbeeld van wat vroeër genoem is: dat ’n verbond op ’n spesifieke punt in die geskiedenis onderteken en verseël kan word sonder dat elke bepaling onmiddellik in werking tree. In plaas daarvan gebeur drie verskillende dinge. Party bepalings, soos die naamsveranderinge en die besnydenis, het dadelik in werking getree. Party sou eers in die afsienbare toekoms in werking tree – daar was ’n wagtyd van 25 jaar voor die geboorte van Isak en ’n 400 jaar lange wagtyd voor die inname van die Land. Party bepalings, soos die vestiging van die hele Beloofde Land, tree eers in die verre profetiese toekoms in werking, en is tot op hede nog nie vervul nie.

V. DIE VERBOND VAN MOSES
A. Skrif

Die Verbond van Moses bevat baie uitgebreide, gedetailleerde inligting, en die Skrif se weergawe van die verbond strek van Exodus 20:1 tot Deuteronómium 28:68.

B. Die deelnemers aan die verbond
Die partye wat by hierdie ooreenkoms betrokke is, is God en Israel. Die verbond is met Israel gesluit, en nie slegs met Moses wat as Israel se verteenwoordiger opgetree het nie. Dit word duidelik gestel in Exodus 19:3-8: Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig: Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel. En Moses het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het. Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die HERE oorgebring.

Die verbond is nie met die Nie-Jode of die Kerk gesluit nie, net met Israel, ’n feit wat ook in Deuteronómium 4:7-8; Psalm 147:19-20 en Maleági 4:4 gestel word.

C. Die bepalings van die verbond
Die sleutelbepaling van die Verbond van Moses was die Wet van Moses, wat altesaam 613 gebooie bevat het. Die Wet se bepalings het seëninge vir gehoorsaamheid en vloeke vir ongehoorsaamheid ingesluit. Dit is onderteken en verseël deur die Shekinah-heerlikheid in Exodus 24:11, maar op só ’n manier geteken dat dit die verbond voorwaardelik maak. Die verbond het dus in wese 613 bepalings, te veel om individueel hier te lys. In plaas daarvan sal ons sewe waarnemings oor die bepalings van die Verbond van Moses maak.

1. Die volkomenheid van die Wet
Soos vroeër genoem, was daar altesaam 613 spesifieke gebooie, nie net tien nie – ’n redelik algemene wanopvatting. Hiervan was 365 negatiewe gebooie, dinge wat verbode is; 248 was positiewe gebooie, dinge wat wel gedoen moet word.

2. Die seëninge en oordele van die Wet
Hierdie verbond was voorwaardelik, wat beteken het dat daar seëninge sou wees vir gehoorsaamheid, maar oordeel vir ongehoorsaamheid (Ex 15:26; 19:3-8).

3. Die bloedoffer bygevoeg
Die sleutelelement van die hele Wet van Moses was die bloedoffer, wat in Levítikus 17:11 uitgelig word: Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.

In Levítikus 1-7 word daar vyf verskillende offers uiteengesit. Die Hebreeuse woord vir versoening beteken nie die verwydering van sonde nie, maar bloot die bedekking van sonde. Hoewel die bloed van diere die sonde van die Ou-Testamentiese gelowiges bedek het, het dit nooit daardie sonde weggeneem nie; slegs die Messias se bloed kan sonde verwyder (Heb 10:1-4). Die bloedoffer het egter wel voorsiening gemaak vir die vergifnis van sonde en die herstel van gemeenskap.

4. Die voedselbeperkings ingestel

Die Verbond van Moses het strenger bepalings as die Verbond van Noag vir die Jode gehad. Diere moes gesplete hoewe hê én herkou; visse moes vinne én skubbe hê; wat voëls betref, is geen roofvoëls toegelaat nie; en wat insekte betref, is slegs een tipe sprinkaan toegelaat.

5. Die doodstraf uitgebrei
Die verbond het die doodstraf vir die Jode uitgebrei na ander sondes soos, onder meer: afgodsdiens, owerspel, vervloeking van God, vervloeking van ouers, verbreking van die Sabbat en beoefening van heksery.

6. Die teken van die verbond
Dit het die praktyk van die besnydenis herbevestig (Lev 12:3), maar nie om dieselfde redes nie. Kragtens die Verbond van Abraham was die besnydenis die verbondsteken, en dit was slegs vir die Jode verpligtend. Kragtens die Verbond van Moses was die besnydenis ’n manier van onderwerping aan die Wet van Moses en dit was verpligtend vir alle Jode, maar ook vir Nie-Jode wat deel van die burgerskap van Israel wou word. Dit is hoekom Paulus die Nie-Joodse gelowiges in Galásië waarsku dat hulle verplig sal wees om die hele wet te onderhou as hulle hul laat besny, nie net hierdie een gebod nie (Gal 5:3).

7. Die bewys van die verbond
Die Sabbat was die bewys of teken van die Verbond van Moses. Daar kan vyf spesifieke waarnemings gemaak word wat die Sabbat betref.

Een: Die Sabbat was, in sy hoedanigheid as die bewys van die Verbond van Moses, ’n teken tussen God en Israel; dit was ’n teken dat Israel deur God uitgesonder is (Ex 31:12-17); dit was ’n teken van die Uittog (Deut 5:12-15; Eség 20:10-12); en dit was ’n teken dat die HERE Israel se God was (Eség 20:20). Elke rede wat verstrek is om die Sabbat te vier, het slegs op Israel betrekking, nie op die Nie-Jode of die Kerk nie.

Twee: Die Sabbat was nie ’n skeppingsordinansie nie; dit het eers by Moses begin. Génesis 2:1-3 noem slegs wat God op daardie dag gedoen het, maar daar is geen opdrag om die dag te vier nie. Die woord Sabbat word nie eens in die Génesis-verhaal gebruik nie; daardie dag van die week word bloot die sewende dag genoem. Daar is geen bewys dat enigiemand van Adam tot Moses die Sabbat onderhou het nie. Hoewel God in die vorige verbonde ’n sekere getal verpligtings op die mensdom gelê het, was die viering van die Sabbat nie een daarvan nie. Die boek Job handel oor ’n gelowige voor die tyd van Moses; dit noem ook baie verpligtings wat die mens teenoor God gehad het, maar die viering van die Sabbat was nie een daarvan nie. Moses het in Exodus 16:23-30 met die viering van die Sabbat begin en dit is in Exodus 20:8-11 deel van die wet van Moses gemaak.

Drie: Die Sabbat was ’n rusdag, nie ’n dag van gesamentlike aanbidding nie – nog ’n algemene wanopvatting. Namate die Sabbat-gebod verder uitgebrei is in ander dele van die Wet van Moses, het die betekenis van ‘rus’ op die Sabbat grootliks ’n kwessie van verbode handelinge geword: geen insameling van manna nie (Ex 16:23-30); ’n reisverbod (Ex 16:29); geen vuurmakery nie (Ex 35:3), en geen bymekaarmaak van hout nie (Núm 15:32). Op ander plekke as in die Wet, het ander verbode handelinge op die Sabbat die volgende ingesluit: geen dra van laste nie (Jer 17:21); geen handeldrywery nie (Amos 8:5), en geen bemarking nie (Neh 10:31; 13:15, 19). Niks word oor gesamentlike aanbidding gesê nie. Die Sabbat – in die Wet van Moses – was ’n dag van rus en weerhouding van arbeid, nie ’n dag van gesamentlike aanbidding nie. Die sinagogedienste op die Sabbat wat in die Nuwe Testament gevind word, het tydens die Babiloniese Gevangeneskap ontstaan, nie in die Wet van Moses nie. Hoewel dit nie ’n dag van algehele niksdoen was nie, was dit veronderstel om ’n dag van rus en versterking te wees ná die werkroetine van die ander ses dae. Hoewel die rus self dalk ’n daad van aanbidding was, was gesamentlike aanbidding op die Sabbat nie ’n faktor in die Ou Testament nie.

Die frase heilige samekoms word dikwels in verband met die Sabbat aangetref. Hierdie frase word soms as bewys gebruik om te leer dat die Sabbat ’n dag van gesamentlike aanbidding vir almal was. Dit word egter slegs in verband met die priesterskap en offers gebruik. Die gesamentlike aspek is slegs vir die priesters bedoel, en die plek van hierdie gesamentlike aanbidding is in die Tabernakel of Tempel met die oog op offers. Aangesien slegs die priesters die offers kon bring, het die heilige samekoms slegs op hulle betrekking gehad. Hierdie frase kom altesaam negentien keer voor, almal in drie van Moses se boeke: Exodus, Levítikus en Númeri. Elf van die negentien word in een hoofstuk aangetref: Levítikus 23. Nog ses word in twee hoofstukke, Númeri 28-29, aangetref. In al die gevalle verwys die frase heilige samekoms na ’n samekoms van priesters met die oog op die bring van spesiale offers, en die Sabbat was een van daardie geleenthede. Dit was nie ’n tyd van gesamentlike aanbidding vir die hele Israel nie. Die een teksgedeelte wat dus gebruik word om gesamentlike aanbidding op die Sabbat te probeer staaf, Levítikus 23:3, verwys na die Sabbat as ’n heilige samekoms en het te doen met gesamentlike priesterlike offers. Hoewel dit betrekking het op familiebyeenkomste, was dit nie gesamentlike aanbiddingsdade nie. Soos dr. Louis Goldberg van die Moody Bybelinstituut dit stel: ‘Daar was veronderstel om op die Sabbat volkome rus (fisies) en ’n heilige samekoms (geestelike versterking) voor die Here te wees.’

Selfs Levítikus 23:3 sê oor die Sabbat dit is ’n sabbat van die HERE in al julle woonplekke. Die klem word weer eens daarop gelê om tuis te bly (Ex 16:29) en om as ’n gesin te rus, eerder as om byeen te kom vir gesamentlike aanbidding. Soos dr. Goldberg ook aandui, was die rus ‘veronderstel om ook geestelike vernuwing in te sluit’. Die uitdrukking heilige samekoms het beklemtoon dat die priesters by sulke geleenthede spesiale offers moes bring. Die Wet van Moses het in werklikheid slegs gesamentlike aanbidding by drie geleenthede voorgeskryf: op Paasfees, die Fees van die Weke en die Huttefees. Tydens hierdie geleenthede moes hulle trek na waar die Tabernakel, of later die Tempel, ook al gestaan het, hetsy by Silo of by Jerusalem. Gesamentlike aanbidding vir nie-Leviete is slegs drie keer ’n jaar voorgeskryf, maar nie op die weeklikse Sabbat nie. Dit sou fisies onmoontlik gewees het as ’n mens die tyd in ag neem wat dit in Bybelse tye geneem het om te reis. Die straf vir die skending van die Sabbat was die dood; om die Sabbat soos enige ander dag te behandel was om dit te skend. Daarom moes hulle op die Sabbat geen werk doen nie, tuis bly en rus.

Vier: Die Sabbat as die bewys of teken van die Verbond van Moses was net vir Israel bedoel, en nie vir die Kerk nie.

Vyf: Die Sabbat bly van krag as ’n teken van die Verbond van Moses so lank as wat die Verbond van Moses van krag bly. Indien die Verbond van Moses tot ’n einde kom, sal die verpligte viering van die Sabbat ook ophou.

D. Die doeleindes van die Wet
Dit moet uitdruklik gestel word dat die Wet van Moses nie ’n middel tot saligheid was nie. Hierdie konsep word verwerp, want dit sou saligheid deur middel van werke beteken. Redding het nog altyd uit genade, deur geloof gebeur, en sal ook altyd. Hoewel die inhoud van geloof van tydvak tot tydvak verskil, afhangende van die voortgaande openbaring, verander die middel tot saligheid nooit nie. Die Wet is nie gegee om as ’n middel tot saligheid te dien nie (Rom 3:20, 28; Gal 2:16; 3:11, 21). Dit is aan ’n volk gegee wat reeds uit Egipte gered was, nie om hulle te red nie. Daar was egter verskeie redes waarom die Wet gegee is. Soos wat blyk uit albei testamente, was daar ten minste nege doeleindes vir die Wet van Moses.

Die eerste doel was om die heiligheid van God te openbaar en om die standaard van geregtigheid te openbaar wat God vir ’n behoorlike verhouding met Hom vereis het (Lev 11:44; 19:1-2, 37; 1 Pet 1:15-16). Die Wet self was heilig en regverdig en goedheilig (Rom 7:12).

Die Wet se tweede doel was om gedragsreëls vir die Ou-Testamentiese gelowiges daar te stel. Romeine 3:28 maak dit byvoorbeeld duidelik dat geen mens deur die werke van die Wet geregverdig word nie. Die Wet het van die begin af ander doeleindes gehad as om ’n middel tot saligheid te wees. In hierdie geval het dit die gedragsreëls vir die Ou-Testamentiese gelowige daargestel (Lev 11:44-45; 19:2; 20:7-8, 26). Die Wet was vir die Ou-Testamentiese gelowige die middelpunt van sy geestelike lewe en sy vreugde, soos genoem word in Psalm 119, veral in verse 77, 97, 103, 104 en 159.

Die derde doel van die Wet was om vir Israel geleenthede vir individuele en gesamentlike aanbidding daar te stel. Israel se sewe heilige seisoene (Lev 23) is een voorbeeld hiervan.

Die vierde doel was om die Jode ’n aparte volk te hou (Lev 11:44-45; Deut 7:6; 14:1-2). Dit was juis die rede agter baie van die wette, soos die voedsel- en kledingwette. Die Jode moes hulleself op ’n verskeidenheid maniere van ander volke onderskei, te wete deur hul aanbiddingsgewoontes (Lev 1, 7, 16, 23), hul eetgewoontes (Lev 11:1-47), hul seksuele gewoontes (Lev 12), hul aantrekgewoontes (Lev 19:19) en selfs die manier waarop hulle hul baarde geknip het (Lev 19:27). Ander teksgedeeltes vir hierdie punt sluit Exodus 19:5-8 en 31:13 in.

Die vyfde doel is dat die Wet van Moses as die middelmuur van skeiding gedien het, soos Efésiërs 2:11-16 verklaar. Die vier onvoorwaardelike verbonde is Joodse verbonde; God se seëninge, fisies sowel as geestelik, word deur die vier verbonde, die verbonde van die belofte wat in vers 12 genoem word, bemiddel. Weens die Joodse aard van hierdie onvoorwaardelike verbonde, is daar ook ’n voorwaardelike verbond bygevoeg – die Verbond van Moses wat die Wet van Moses bevat, die wet van gebooie wat in insettinge bestaan volgens vers 15. Die doel van die wet was dus om die middelmuur van skeiding te word om te keer dat Nie-Jode, in hul hoedanigheid as Nie-Jode, deel kry aan die Jode se geestelike seëninge van die onvoorwaardelike verbonde. Weens hierdie doel was die Nie-Jode vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte. Die enigste manier waarop Nie-Jode tydens die tydperk van die Wet deel kon kry aan die geestelike seëninge van die Joodse verbonde, was deur die voorskrifte van die Wet op hulleself te laai, die besnydenisritueel deur te gaan en dan te lewe soos elke Jood moes lewe. Nie-Jode kon nie in hul hoedanigheid as Nie-Jode deel hê aan die Jode se geestelike seëninge nie; slegs Nie-Jode wat proseliete van Mosaïese Judaïsme was, kon dít doen.

Die sesde doel van die Wet van Moses was om sonde bloot te lê. Drie teksgedeeltes in die boek Romeine dui hierdie feit aan. Die eerste teksgedeelte is Romeine 3:19-20, waar Paulus beklemtoon dat daar geen regverdigmaking deur die Wet is nie; geen Joodse persoon sal deur die Wet geregverdig word nie. Wat is die Wet dan as dit nie ’n wyse van regverdigmaking, ’n weg tot saligheid is nie? Die Wet is gegee om die kennis van sonde te voorsien, om te onthul wat sonde eintlik is. Die tweede teksgedeelte is Romeine 5:20, waar die Wet gegee is sodat oortredings baie duidelik gemaak kan word. Hoe weet ’n mens dat hy gesondig het? Hy weet, want die Wet stip in fyn besonderhede uit wat geoorloof is en wat nie. Die Wet met sy 613 gebooie het sonde blootgelê. Die derde teksgedeelte is Romeine 7:7. Paulus beklemtoon weer eens die feit dat die Wet gegee is sodat sonde geken kan word. Paulus het oortuig geraak van sy eie sondetoestand deur die Wet te ondersoek en te besef dat hy op grond van die Wet tekortskiet.

Die sewende doel was om ’n mens meer te laat sondig. Romeine 4:15 sê: Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie. Paulus voeg in Romeine 5:20 by: Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword. Die beeld wat Paulus skets, is dat die Wet gekom het om meer sonde te veroorsaak, om ’n mens in werklikheid meer te laat sondig.

Paulus verduidelik in Romeine 7:7-13 en 1 Korinthiërs 15:56 hoe dit werk. 1 Korinthiërs 15:56 sê: Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.

Wat Paulus basies hier oordra, is dat die sondige natuur ’n teelaarde benodig. Verder gebruik die sondige natuur die Wet as ’n teelaarde. Toe Paulus gesê het: Waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie, het hy natuurlik nie bedoel dat daar geen sonde was voor die Wet gegee is nie. Die term oortreding is ’n spesifieke soort sonde: dit is die verbreking van ’n spesifieke gebod. Mense was sondaars vóór die Wet gegee is, maar hulle was nie oortreders van die Wet voor die Wet gegee is nie. Nadat die Wet gegee was, het die sondige natuur ’n teelaarde gehad, en het dit veroorsaak dat die individu hierdie gebooie oortree en des te meer sondig.

Die agtste doel was om aan die sondaar te wys dat daar niks was wat hy op sy eie kon doen om God te behaag nie; hy was hoegenaamd nie in staat om die Wet volkome te onderhou of om die geregtigheid van die Wet te behaal nie (Rom 7:14-25).

Dit het aanleiding gegee tot die negende doel, naamlik om ’n mens volgens Romeine 8:1-4 en Galásiërs 3:24-25 tot geloof te dwing. Die finale doel van die Wet was om die mens tot ’n reddende geloof in die Messias te lei.

Die Wet van Moses se doeleindes kan in vier kategorieë ingedeel word. Een: In verband met God, om sy heiligheid te openbaar en om sy standaarde van geregtigheid te openbaar. Twee: In verband met Israel, om Israel as ’n aparte volk te bewaar, om gedragsreëls vir die Ou-Testamentiese gelowige daar te stel en om voorsiening te maak vir individuele en gesamentlike aanbidding. Drie: In verband met Nie-Jode, om as ’n middelmuur van skeiding te dien en hulle só weg te hou van die onvoorwaardelike Joodse verbonde, sodat hulle nie as Nie-Jode deel sou hê aan die Jode se geestelike seëninge nie, maar slegs as proseliete van Mosaïese Judaïsme. Vier: In verband met sonde, om sonde bloot te lê en te wys wat dit is, om ’n mens meer te laat sondig, om te wys dat ’n mens nie die geregtigheid van die Wet op sy eie kan behaal nie, en om ’n mens tot geloof te dwing.

E. Die status van die verbond
Die verbond van Moses was die grondslag vir die Bedeling van die Wet. Dit was die één Joodse verbond wat voorwaardelik was, en het uiteindelik geëindig met die dood van die Messias (Rom 10:4; 2 Kor 3:3-11; Gal 3:19-29; Ef 2:11-18; Heb 7:11-12, 18). Die Wet van Moses is dus nie meer van krag nie. Profeties gesproke, is dit as verbreek beskou selfs nog vóór die Messias gesterf het om die Jode van die straf van die wet te bevry (Jer 31:32). Die status van die Verbond van Moses sal onder sewe hofies bespreek word.

1. Die eenheid van die Wet van Moses
Daar het twee faktore in die gedagtes en leringe van baie gelowiges ontstaan wat bygedra het tot die verwarring oor die Wet van Moses. Een daarvan is die verdeling van die Wet in ‘seremoniële’, ‘wetlike’ en ‘morele’ gebooie. Op grond van hierdie verdeling het baie mense begin dink dat die gelowige vrygestel is van die seremoniële en wetlike gebooie, maar steeds aan die morele gebooie moet voldoen. Die tweede faktor is die oortuiging dat die Tien Gebooie vandag nog geld, maar nie die ander 603 gebooie nie. Die individu wat hierdie benadering volg, kry die wind van voor as ’n Sewendedagadventis hom oor die vierde gebod – die viering van die Sabbat – konfronteer. Dan begin ’n mens kleitrap, en dit lei tot inkonsekwensie. ’n Mens moet verstaan dat die Skrif die Wet van Moses as ’n eenheid beskou. Die woord Torah, wat ‘wet’ beteken, is altyd in die enkelvoud wanneer dit op die Wet van Moses betrekking het, selfs al bevat dit 613 gebooie. Dieselfde geld vir die Griekse woord nomos in die Nuwe Testament. Die verdeling van die Wet van Moses in seremoniële, wetlike en morele dele is gerieflik vir die bestudering van die verskillende tipes gebooie wat dit bevat, maar die Skrif self tref nooit hierdie onderskeid nie. Daar is ook geen skriftuurlike grondslag vir die skeiding van die Tien Gebooie van die 613, en om slegs die Tien Gebooie immer geldend te maak nie. Al 613 gebooie is ’n enkele eenheid wat die Wet van Moses uitmaak.

Dit is hierdie beginsel van die eenheid van die Wet van Moses wat die stelling in Jakobus 2:10 verklaar: Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.

Die punt is duidelik. ’n Mens hoef slegs een van die 613 gebooie te breek om skuldig te wees aan die verbreking van die hele Wet van Moses. Dit kan slegs waar wees as die Wet van Moses ’n eenheid vorm. As dit nie is nie, is die skuld slegs ten opsigte van die spesifieke gebod wat oortree is, nie ten opsigte van die hele Wet nie. Met ander woorde, as ’n mens ’n wetlike gebod verbreek, is hy skuldig aan die verbreking van die seremoniële en morele wette ook. Dieselfde geld vir die verbreking van ’n morele of seremoniële gebod. Om die punt nog duideliker te stel: indien ’n persoon ham eet, is hy – volgens die Wet van Moses – skuldig aan die verbreking van die Tien Gebooie, hoewel nie een van hulle iets oor ham sê nie. Die Wet is ’n eenheid, en om een van die 613 gebooie te verbreek, is dieselfde as om almal te verbreek.

Ten einde die Wet van Moses – en die verhouding waarin die gelowige, Joods of Nie-Joods, daarmee staan – te begryp, is dit nodig om dit te beskou soos wat die Skrif dit beskou: as ’n eenheid wat nie verdeel kan word in dele wat afgeskaf is en dele wat behou is nie. Net so min kan sekere gebooie uitgesonder word en daardeur ’n ander status as ander gebooie ontvang.

2. Die Wet van Moses is kragteloos gemaak
Die Nuwe Testament leer onomwonde dat die dood van die Messias die Wet van Moses kragteloos gemaak het; met ander woorde, die Wet in sy geheel het nie meer gesag oor enige indivdu nie. Dit blyk uit verskeie teksgedeeltes.

Die eerste teksgedeelte is Romeine 7:5-6: Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra. Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.

Paulus verklaar dat die gelowige vrygestel is van die wet. Die Griekse woord wat gebruik word, is katargeo, wat beteken ‘om kragteloos te maak’. Die Wet is kragteloos gemaak in soverre dit die grondreël van die gelowige se lewe was.

Die tweede teksgedeelte is Romeine 10:4: Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.

Die Griekse woord vir ‘einde’ is telos en kan óf ‘beëindiging’ of ‘doel’ beteken. Die bewyse dui die betekenis van ‘einde’ egter duidelik aan as ‘beëindiging’. Thayer gee byvoorbeeld die hoofbetekenis van telos aan as: ‘einde, m.a.w. (a) beëindiging, die perk waar iets ophou om te bestaan … in die Skrif ook gebruik vir ’n einde in terme van tyd … Christus het die wet tot ’n einde gebring …’ Thayer noem nie net ‘beëindiging’ as telos se hoofbetekenis nie, maar sluit ook Romeine 10:4 by daardie gebruikskategorie in. ‘Doel’ word ook nie gelys as die tweede of selfs derde betekenis wat gebruiksprioriteit betref nie; dit kom vierde op die lys. Arndt en Gringrich verstrek die hoofbetekenis van die werkwoordvorm as ‘om tot ’n einde te bring, klaar te maak, te voltooi’. Die naamwoordelike telos kry die hoofbetekenis: ‘einde … in die sin van beëindiging, ophou.’ Hulle noem ook Romeine 10:4 as deel van hierdie kategorie en plaas die betekenis ‘doel’ derde op die lys. Die betekenis ‘ophou’ pas daarby beter by die wyer konteks van Romeine en strook met wat hy in Romeine 7:5-6 gesê het. Op die ou end maak dit nie saak nie, aangesien ander Skrifgedeeltes albei waarhede verkondig: die Messias is die doel van die Wet, maar Hy is ook die beëindiging van die Wet. Aangesien die Messias die einde van die Wet is, beteken dit dat daar geen regverdiging daardeur is nie (Gal 2:16). Dít was natuurlik altyd waar, maar daar is boonop geen heiligmaking of volmaking deur die Wet nie (Heb 7:19). Dit behoort dus baie duidelik te wees dat die Wet tot ’n einde gekom het in die Messias, en dat dit nie vir regverdigmaking of heiligmaking gebruik kan word nie. Dit is veral vir die gelowige kragteloos gemaak.

Drie: Die Wet was nooit bedoel om ’n permanente reëling te wees nie, maar ’n tydelike een. Dit word in Galásiërs 3:19 genoem: Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom.

Paulus verklaar in hierdie konteks dat die Wet van Moses ’n byvoeging tot die Verbond van Abraham was (v 15-18). Dit is bygevoeg met die doel om sonde baie duidelik te maak, sodat almal sou weet dat hulle ontbreek aan God se standaard van regverdigheid. Dit was ’n tydelike byvoeging tot die Saad, die Messias, sou kom; noudat Hy gekom het, is die Wet verby. Die byvoeging het by die kruis ophou werk.

Vier: Danksy die Messias is daar ’n nuwe priesterdom volgens die Orde van Melgisédek, nie volgens die Orde van Aäron nie. Die Wet van Moses het die grondslag gevorm van die Levitiese Priesterdom; daar was ’n onverbreekbare verband tussen die Wet van Moses en die Levitiese Priesterdom. ’n Nuwe priesterdom het dus ’n nuwe Wet genoodsaak waaronder dit kon funksioneer, aldus Hebreërs 7:11-18. Die punt wat in Hebreërs 7:11-12 gemaak word, is dat slegs een tipe priesterdom kragtens die Wet toegelaat is, naamlik die Levitiese Priesterdom. Die Levitiese Priesterdom kon nie volmaaktheid bewerk nie. Dit word in Hebreërs 9:11-10:18 verduidelik, wat taamlik duidelik verklaar dat dierebloed nie volmaaktheid kon bewerk nie; slegs die Messias se bloed kon dit doen. Die Wet van Moses was die grondslag van die Levitiese Priesterdom. Die afskaffing van die Levitiese Priesterdom en die vervanging daarvan deur ’n nuwe priesterdom, die Priesterdom van Melgisédek, het ’n vervanging van die Wet genoodsaak. Solank die Wet van Moses van krag was, was geen ander priesterdom buiten dié van Aäron of die Leviete geldig nie (Heb 7:13-17). Is die Wet vervang? Hebreërs 7:18 verklaar dat die Wet van Moses ‘opgehef’ is. Omdat dit nie meer van krag is nie, is daar nou ’n nuwe priesterdom volgens die Orde van Melgisédek. Indien die Wet van Moses nog steeds van krag was, sou Jesus nie as ’n priester kon optree nie. Maar omdat die Wet van Moses nie meer van krag is nie, kan Jesus ’n priester wees volgens die Orde van Melgisédek. Die Wet van Moses is gevolglik ‘opgehef’ ten gunste van ’n nuwe Wet, wat die grondslag vorm vir die priester volgens die Orde van Melgisédek.

Vyf: Die skrywer van Hebreërs sê verder dat bogenoemde waarheid reeds in 8:8-13 deur die profete voorsien is. In verse 8-12 haal hy die Nuwe Verbond van Jeremia 31:31-34 aan, en kom dan in vers 13 tot die slotsom: As Hy sê ’n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.

Die Wet van Moses het dus saam met Jeremia ouer geword, en verdwyn met die Messias se dood.

Ses: Die Wet was die middelmuur van skeiding wat nou volgens Efésiërs 2:14-15 afgebreek was: Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het,naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep.

Soos vroeër genoem, het God vier onvoorwaardelike, ewige verbonde met Israel gesluit. Al God se seëninge, materieel sowel as geestelik, word deur middel van hierdie vier Joodse verbonde bemiddel. God het ook ’n vyfde verbond gehad wat tydelik en voorwaardelik was, naamlik die Verbond van Moses wat die Wet van Moses bevat het. Die Wet van Moses het as die middelmuur van skeiding gedien om te verhoed dat Nie-Jode, in hul hoedanigheid as Nie-Jode, deel kry aan die Jode se geestelike seëninge. Indien die Wet van Moses steeds van krag was, sou dit steeds ’n muur van skeiding gewees het om die Nie-Jode weg te hou; hierdie muur van skeiding is egter afgebreek met die dood van die Messias. Aangesien die muur van skeiding die Wet van Moses was, beteken dit dat die Wet van Moses afgeskaf is. Nie-Jode kan, in hul hoedanigheid as Nie-Jode, deel kry aan die Jode se geestelike seëninge deur mededeelgenote te word aan die belofte in die Messias op grond van geloof, en hulle doen dit dan ook.

Die sewende bewys van die afskaffing van die Wet van Moses is gegrond op Galásiërs 3:23-4:7. In hierdie teksgedeelte, word die Wet beskou as ’n minderjarige se onderwyser of tugmeester wat sy geloof in die Messias tot wasdom moet bring (v 24). Nadat hy ’n gelowige geword het, is hy egter nie meer onder hierdie tugmeester, wat die Wet van Moses is, nie (v 25). Hierdie teksgedeelte wys so duidelik soos daglig dat die Wet weens die Messias se koms nie meer van krag is nie.

Die agtste bewys van die afskaffing van die Wet van Moses is 2 Korinthiërs 3:2-11, wat die deel van die Wet wat mense die graagste wil behou, die Tien Gebooie, onder die loep neem. ’n Mens moet in die eerste plek sien wat Paulus aangaande die Wet van Moses sê. In vers 3 en 7 kom die Tien Gebooie ter sprake, aangesien dit hulle is wat op klippe gegraveer was. In vers 7 word dit die bediening van die dood genoem. In vers 9 word dit die bediening wat veroordeel genoem. Hierdie beskrywings is negatief, maar geldig. Die hoofpunt is dus dat die Wet van Moses, wat by uitstek deur die Tien Gebooie verteenwoordig word, ’n bediening van die dood en ’n bediening wat veroordeel is. Indien die Tien Gebooie vandag steeds gegeld het, sou dit steeds waar gewees het. Hulle geld egter nie meer nie, want daar staan in vers 7 en 11 dat die Wet ‘vergaan’ het. Die Griekse woord wat gebruik word, is katargeo, wat beteken ‘om kragteloos te maak’. Aangesien die klem in hierdie gedeelte op die Tien Gebooie val, beteken dit dat die Tien Gebooie verbygegaan het. Die kernboodskap is baie duidelik. Die Wet van Moses, en die Tien Gebooie in die besonder, is nie meer van krag nie. Trouens, die voorrang van die Wet van die Messias blyk uit die feit dat dit nooit kragteloos gemaak kan word nie. Bedelingsleer dring nie – soos Verbondsteologie – daarop aan dat die Tien Gebooie steeds van krag is, en doen dan eksegetiese gimnastiek om die Sabbatsviering, wat eintlik deur die Tien Gebooie vereis word, te vermy nie.

Om hierdie afdeling op te som, die Wet is ’n eenheid van 613 gebooie, en hulle almal is kragteloos gemaak. Daar is geen gebod wat verby die kruis van die Messias strek nie. Die Wet bestaan en kan as ’n onderrigmiddel gebruik word om God se standaard van geregtigheid, die mens se sondigheid en sy behoefte aan ’n plaasvervangende soendood te illustreer. Dit kan gebruik word om baie geestelike waarhede oor God se menswording oor te dra. Dit kan gebruik word om iemand na die Messias toe te lei (Gal 3:23-25). Dit het egter heeltemal opgehou om te funksioneer as ’n gesagsfiguur oor die individu. Dit is nie meer die grondreël van gelowiges se lewe nie.

3. Die morele wet
Die derde punt onder die status van die Verbond van Moses handel oor die vraag: ‘Wat van die morele wet?’ Baie mense probeer gewoonlik om hierdie deel van die Wet van Moses te behou, en kom daarom tot die slotsom dat die Wet van Moses nog geld. Die morele wet het egter die Wet van Moses voorafgegaan. Die morele wet is nie dieselfde as die Wet van Moses nie. Adam en Eva het die morele wet lank voor Moses se tyd al verbreek. Satan het die morele wet al selfs voor Adam verbreek. Die Wet van Moses het gestalte gegee aan die morele wet, maar dit het nie die morele wet geskep nie. Die morele wet is nou beliggaam in die Wet van die Messias.

4. Matthéüs 5:17-18
Die vierde punt onder die status van die Verbond van Moses draai om ’n gunstelingbeswaar teen die lering dat die Wet van Moses beëindig is. Hierdie beswaar spruit uit die Messias se woorde in Matthéüs 5:17-18: MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.

Mense wat hierdie teksgedeelte aanhaal, lewe dikwels in stryd daarmee. Dit is duidelik dat Jesus oor die Wet van Moses gepraat het. Tog aanvaar die mense wat hierdie teksgedeelte gebruik nie hul eie lering daaroor nie, want hulle moet noodwendig baie van die gebooie van die Wet van Moses, of die meeste, op die een of ander manier afskaf. Die gebooie oor die priesterdom en offerandes is bloot een voorbeeld; ander voorbeelde wat genoem kan word, sluit die voedselwette en kledingwette in. Ongeag watter betekenismoontlikhede – soos, onder meer, ‘vervang’, ‘tot groter vervulling bring’, ‘die ware betekenis voortbring’ – ingespan word om hierdie verandering te beskryf, is dit duidelik dat ’n groot klomp van die 613 gebooie nie meer geld soos wat dit geskryf staan nie. Indien hulle met die Wet van Moses slegs na die morele gebooie verwys, staaf hul aanhaling van Matthéüs 5:17-18 nie hul argument nie.

Vers 19 voeg die minste belangrike gebooie by, wat meer as bloot die morele gebooie insluit; die klem is op die hele wet, al 613 gebooie. Vers 19 sê: Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.
Vers 19 kan nie geïgnoreer word nie. Dit is waar: Jesus het gekom om die Wet te vervul, maar die Wet van Moses het nie geëindig met die koms van die Messias of deur sy lewe nie, maar deur sy dood. Hy was sy lewe lank onderworpe aan die Wet van Moses, en moes elke gebod wat op Hom van toepassing was, nakom – nie soos wat die rabbi’s dit vertolk het nie. Hy het die stelling in Matthéüs 5:17-19 gemaak terwyl Hy nog geleef het. Selfs toe Hy nog geleef het, het Hy reeds geïmpliseer dat Hy besig was om die Wet af te skaf. Ons vind een voorbeeld in Markus 7:19 (1983-vertaling): Daarmee het Hy alle kos rein verklaar. Kan dit hoegenaamd duideliker gestel word as dít dat Jesus ten minste die voedselgebooie afgeskaf het? By wyse van herhaling: Almal moet erken dat groot dele van die Wet nie meer van toepassing is soos wat Moses dit voorgeskryf het nie. Is dit afgeskaf of nie? Om heeltyd aan te voer dat die Wet van Moses steeds van krag is, of dat dit dieselfde as die Wet van die Messias is, terwyl ’n mens die besonderhede van die einste Wet ignoreer, is teenstrydig en ’n teologiese denkfout.

Wat die betekenis van die woord vervul betref, gebruik Matthéüs die Griekse term deurgaans met verwysing na die vervulling van profesie en die gevolglike afhandeling daarvan. Matthéüs 1:22-23 sê dat die profesie van Jesaja 7:14 vervul is, dat dit die profesie afgehandel het en dat niks in die toekoms dit dus kan vervul nie. Om ’n profesie te ‘vervul’ beteken om te bereik wat dit vereis het; daarteenoor beteken ‘ontbind’ om dit nie te bereik nie.

5. Die Wet van Christus
Die vyfde punt onder die status van die Verbond van Moses is dat die Wet van Moses afgeskaf is en dat gelowiges nou onder ’n nuwe Wet staan. Galásiërs 6:2 noem hierdie nuwe Wet die wet van Christus, en Romeine 8:2 noem dit die wet van die Gees van die lewe. Dit is ’n splinternuwe Wet, heeltemal apart van die Wet van Moses. Die Wet van die Messias bevat al die Messias en die apostels se individuele gebooie wat van toepassing is op ’n Nuwe-Testamentiese gelowige. Die besonderhede van hierdie tydperk sal onder die Nuwe Verbond bespreek word.

6. Die beginsel van vryheid
Die sesde punt onder die status van die Verbond van Moses is dat iemand wat in die Messias glo, vrygestel is van die Wet van Moses. Dit beteken dat hy vrygestel is van die vereiste om enige gebod van daardie stelsel na te kom. Aan die ander kant is hy ook vry om dele van die Wet van Moses na te kom indien hy wil. Die bybelse grondslag vir hierdie vryheid om die Wet te onderhou, kan in die optrede van Paulus, die beste voorbeeld van vryheid van die Wet, gesien word. Sy gelofte in Handelinge 18:18 spruit uit Númeri 6:2, 5, 9 en 18. Sy begeerte om Pinkster in Jerusalem deur te bring, kom uit Deuteronómium 16:16. Die duidelikste teksgedeelte is Handelinge 21:17-26, waar ons sien hoe Paulus, die apostel van vryheid van die Wet, die Wet onderhou. Die gelowige is vrygestel van die Wet, maar hy is ook vry om dele daarvan te onderhou. Indien ’n Joodse gelowige dus gedring voel om hom daarvan te weerhou om varkvleis te eet, is hy vry om dit te doen. Dieselfde geld vir al die ander gebooie.

Enige gelowige wat vrywillig instem om sekere gebooie van die Wet van Moses na te kom, moet egter twee gevare vermy. Een gevaar is die idee dat hy daardeur bydra tot sy eie regverdigmaking en heiligmaking. Dit is onwaar. Die tweede gevaar is dat ’n mens verwag dat ander dieselfde gebooie moet nakom wat jy besluit het om na te kom. Dit is net so verkeerd en grens aan wettisisme. Die persoon wat sy vryheid uitoefen om die Wet te gehoorsaam, moet die ander persoon se vryheid respekteer om dit nie te gehoorsaam nie.

7. Die Sabbat
Die sewende punt onder die status van die Verbond van Moses is dat die Sabbat die teken, seël en bewys van die Verbond van Moses is. Solank as wat die verbond van krag was, was die Sabbatswet verpligtend. Aangesien die Wet van Moses kragteloos gemaak is, is die Sabbatsgebod nie meer van toepassing nie. Diegene wat in stryd hiermee aandring dat die Wet van Moses nog geld, dring ook daarop aan dat die Sabbatswet geld. Hulle ignoreer egter dít wat Moses oor Sabbatsviering geskryf het heeltemal, en verander selfs die dag van die week – iets wat die Wet van Moses nie toelaat nie. Baie Joodse gelowiges dring ook aan op verpligte Sabbatsviering. Hoewel hul aandrang op die nakoming van die Wet van Moses ’n teenstrydigheid skep, hou hulle dit ten minste op die sewende dag van die week. Die argumente wat vir verpligte Sabbatsviering aangevoer word, word natuurlik byna uitsluitlik op die Ou Testament gegrond; daar is geen Nuwe-Testamentiese gebod vir gelowiges in die algemeen, of vir Joodse gelowiges in die besonder, om die Sabbat te vier nie. Die aanspraak dat Sabbatsviering deel van die Nuwe Verbond is, word nêrens deur Skrifgedeeltes oor die Nuwe Verbond self gesteun nie. Indien daar hoegenaamd iets staan, sal dit trouens die teenoorgestelde sê.

VI. DIE GRONDVERBOND
Hierdie verbond is, by gebrek aan ’n beter naam, algemeen bekend as die Palestynse verbond, want dit handel grootliks oor die land wat eeue lank as Palestinië bekend gestaan het. Hierdie term is tans onvanpas weens twee redes. Een: Die naam is ná die Tweede Joodse Opstand onder Bar Kochba (132-135 n.C.) deur die Romeinse keiser Hadrian aan die land gegee. Sy doel was om enige Joodse sentiment aan die Land uit te wis as deel van sy beleid om die Land te ‘dejudaïseer’. Twee: Weens die historiese gebeure in die Midde-Ooste in Israel se moderne geskiedenis, word die naam meer met Arabiere verbind as met Jode. Die ‘Grondverbond’ sal waarskynlik ’n beter titel vir hierdie verbond wees, aangesien ‘Palestinië’ in elk geval nie ’n Bybelse benoeming is nie. In hierdie studie sal ons dus daarna verwys as die Grondverbond, maar let daarop dat dit dieselfde is as wat baie boeke die ‘Palestynse Verbond’ noem.

A. Deuteronómium 29:1-30:20
Hoewel hierdie verbond in die vyfde boek van Moses val, wys Deuteronómium 29:1 duidelik dat daar ’n onderskeid tussen die Grondverbond van die Verbond van Moses is: DIT is die woorde van die verbond wat die HERE Moses beveel het om met die kinders van Israel te sluit in die land Moab, behalwe die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het.

Deuteronómium 30:1-10 beskryf ’n paar van die Grondverbond se bepalings: EN as al hierdie dinge oor jou kom, die seën en die vloek wat ek jou voorgehou het, en jy dit ter harte neem onder al die nasies waarheen die HERE jou God jou verdryf het, en jy jou tot die HERE jou God bekeer en na sy stem luister net soos ek jou vandag beveel, jy en jou kinders, met jou hele hart en met jou hele siel, dan sal die HERE jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die HERE jou God jou verstrooi het. Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die HERE jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal. En die HERE jou God sal jou bring in die land wat jou vaders in besit geneem het, en jy sal dit in besit neem; en Hy sal aan jou goed doen en jou vermenigvuldig meer as jou vaders. En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe. En die HERE jou God sal al hierdie vloeke op jou vyande en op jou haters lê wat jou vervolg het. Maar jý sal weer na die stem van die HERE luister en al sy gebooie doen wat ek jou vandag beveel. En die HERE jou God sal die goeie aan jou oorvloedig gee in al die werk van jou hand, in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land; want die HERE sal weer oor jou ten goede bly wees soos Hy bly was oor jou vaders, as jy na die stem van die HERE jou God luister om sy gebooie en sy insettinge te hou wat in hierdie wetboek geskrywe is; as jy jou tot die HERE jou God bekeer met jou hele hart en met jou hele siel.

B. Die deelnemers aan die verbond
Die verbond is tussen God en Israel gesluit, dieselfde twee partye as in die Verbond van Moses.

C. Die bepalings van die verbond
Daar kan agt bepalings uit hierdie teksgedeelte afgelei word. Een: Moses het profeties oor Israel se toekomstige ongehoorsaamheid aan die Wet van Moses en haar gevolglike verstrooiing oor die hele wêreld gepraat (29:2-30:1). Al die oorblywende bepalings handel oor verskillende fasette van Israel se uiteindelike herstel. Twee: Israel sal hulle bekeer (30:2). Drie: Die Messias sal terugkeer (v 3a). Vier: Israel sal weer versamel word (v 3b-4). Vyf: Israel sal die Beloofde Land in besit neem (v 5). Ses: Israel sal vernuwe word (v 6). Sewe: Israel se vyande sal geoordeel word (v 7). Agt: Israel sal oorvloedig geseën word, spesifiek die seëninge van die Messiaanse Tydperk (v 8-20).

D. Die belangrikheid van die verbond
Die spesiale kenmerk van die Grondverbond is dat dit bevestig dat die Land se kaart en transport aan Israel behoort. Hoewel sy ontrou en ongehoorsaam sou wees, sou die reg op die Grond nooit van haar af weggevat word nie. Verder bewys dit dat die voorwaardelike Verbond van Moses nie die onvoorwaardelike Verbond van Abraham opgehef het nie. Party mense mag dink dat die Verbond van Moses die Verbond van Abraham vervang het, maar die Grondverbond wys dat dit nie die geval is nie. Die Grondverbond is ’n verbreding van die oorspronklike Verbond van Abraham. Dit brei die Grondkwessie uit en beklemtoon die Grondbelofte aan God se aardse Joodse volk ten spyte van hul ongeloof. Die Verbond van Abraham wys dat eienaarskap van die Grond onvoorwaardelik is, terwyl die Grondverbond wys dat die genieting van die Grond afhang van gehoorsaamheid.

E. Die bevestiging van die verbond
Die Grondverbond is eeue later in Eségiël 16:1-63 bevestig. In hierdie baie belangrike teksgedeelte oor God se verhouding met Israel, vertel God van sy liefde vir Israel in haar beginjare (v 1-7). Later het God Israel gekies; Israel het met God getrou en sodoende die Here se Vrou geword (v 8-14). Israel het egter gehoereer en haarself deur afgodediens skuldig gemaak aan geestelike owerspel (v 15-34); daarom was dit nodig om haar deur middel van die verstrooiing te straf (v 35-52). Hierdie verstrooiing is egter nie finaal nie; danksy die Grondverbond sal Israel in die toekoms weer herstel word (v 53-63). Hulle was skuldig aan die verbreking van die Verbond van Moses (v 53-59), maar God sal dink aan die verbond wat Hy met Israel gesluit het in die dae van haar jeug (v 60a) en ’n ewige verbond oprig, die Nuwe Verbond (v 60b), wat sal lei tot Israel se redding (v 61-63).

F. Die status van die verbond
Die Grondverbond, synde ’n onvoorwaardelike verbond, is beslis nog steeds van krag.

VII. DIE VERBOND VAN DAWID
A. Skrif

In die eerste teksgedeelte, 2 Samuel 7:11b-16, val die klem op Salomo: Die HERE gee jou te kenne dat die HERE vir jou ’n huis sal stig. As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. Hý sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ’n menslike roede en met slae van mensekinders. Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het. En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.

Die tweede beskrywing, waar die klem op die Messias val, word in 1 Kronieke 17:10b-14 aangetref: Daarom gee ek jou te kenne dat die HERE vir jou ’n huis sal stig. En as jou dae vol is om heen te gaan saam met jou vaders, sal Ek jou nakomeling wat uit jou seuns sal wees, laat optree en sy koningskap bevestig. Hý sal vir My ’n huis bou, en Ek sal sy troon bevestig tot in ewigheid. Ék sal vir hom ’n vader wees, en hý sal vir My ’n seun wees, en my goedertierenheid sal Ek van hom nie laat wyk soos Ek dit onttrek het aan hom wat voor jou gewees het nie. Maar Ek sal hom laat bestaan in my huis en in my koninkryk tot in ewigheid, en sy troon sal vas staan tot in ewigheid.

B. Die deelnemers aan die verbond
Die verbond is gesluit tussen God en Dawid in sy hoedanigheid as hoof van die Huis en die Ryk van Dawid, die enigste regmatige aanspraakmaker op die Troon van Dawid in Jerusalem.

C. Die bepalings van die verbond
’n Noukeurige studie van albei Bybelse beskrywings bring sewe bepalings van die Verbond van Dawid na vore. Een: Dawid kry die belofte van ’n ewige ryk (2 Sam 7:11b, 16; 1 Kron 17:10b). Niks sou ooit die Huis van Dawid tot niet maak nie; dit sou vir ewig voortbestaan. Hoewel hul identiteit nie bekend is nie, is daar tot vandag toe nog lede van die Huis van Dawid wat êrens in die Joodse gemeenskap leef.

Twee: Een van Dawid se seuns, te wete Salomo, sou die troon ná Dawid bestyg (2 Sam 7:12). Absalom en Adónia, twee van Dawid se ander seuns, het die troon wederregtelik probeer toeëien, maar Salomo – en slegs Salomo – sou Dawid se troon bestyg.

Drie: Salomo sou die Tempel bou (2 Sam 7:13a). Hoewel Dawid hard begeer het om God se Tempel te bou, het hy baie bloed aan sy hande gehad en was hy op een tydstip aan moord skuldig. Hy is dus verbied om die Tempel te bou. Die taak sou op sy seun, Salomo, se skouers rus.

Vier: Die troon van Dawid se koninkryk sou vasstaan tot in ewigheid (2 Sam 7:13b, 16). Dit was nie Salomo self wat vir ewig sou vasstaan nie; eerder die troon waarop hy sou sit.

Vyf: Salomo sou gestraf word vir ongehoorsaamheid, maar God sou nie sy goedertierenheid (2 Sam 7:14-15) van hom laat wyk nie. God het vroeër sy goedertierenheid van koning Saul laat wyk weens Saul se ongehoorsaamheid. Die belofte word egter gemaak dat, hoewel Salomo ongehoorsaam kan wees en God se straf op die hals kan haal, God se goedertierenheid nie van hom sal wyk nie. Die woord goedertierenheid beklemtoon verbondslojaliteit. Salomo het wel in afgodediens verval, die ergste moontlike sonde in die Skrif. Saul se sonde was nie so erg soos Salomo s’n nie, en tog is die koninkryk van Saul se Huis af weggeneem, maar nie van Dawid se Huis nie. Dit illustreer die aard van ’n onvoorwaardelike verbond. Salomo was deel van so ’n verbond, maar Saul nie.

Ses: Die Messias sal uit die Saad van Dawid kom (1 Kron 17:11). In die teksgedeelte uit 2 Samuel val die klem op Salomo, maar in die teksgedeelte uit 1 Kronieke, dui dit op die Messias. In die gedeelte uit 1 Kronieke bedoel God nie dat een van Dawid se eie seuns se troon tot in ewigheid bevestig sal word nie, maar die Saad van een van sy seuns wat baie jare later sou kom.

Sewe: Die Messias en sy troon, huis en koninkryk sal tot in ewigheid vas staan (1 Kron 17:12-15). In hierdie gedeelte is dit die Persoon Self wat vir ewig op Dawid se troon gevestig word, nie net die troon nie. Die klem in dié gedeelte van 1 Kronieke val duidelik nie op Salomo nie, maar op die Messias. Dit is hoekom hierdie gedeelte nie – soos die gedeelte in 2 Samuel wel doen – die moontlikheid van sonde noem nie; in die Messias se geval is sonde nie moontlik nie. Die Messias en sy troon, sy huis en sy koninkryk sal vas staan tot in ewigheid.

Om die Verbond van Dawid op te som: God het aan Dawid vier ewigdurende dinge belowe: ’n ewige Huis of ryk, ’n ewige Troon, ’n ewige Koninkryk en ’n ewige Afstammeling. Die ewigdurendheid van die Huis, Troon en Koninkryk is gewaarborg, omdat die Saad van Dawid ’n hoogtepunt bereik in Een wat Self ewig is: die Messiaanse God-Mens.

D. Die belangrikheid van die verbond
Die unieke belangrikheid van die Verbond van Dawid is dat dit die Saad-aspek van die Verbond van Abraham uitbrei. Volgens die Verbond van Abraham, sou die Messias uit Abraham se Saad kom. Dit het bloot verklaar dat Hy ’n Jood sou wees en dat Hy aan enige van die Twaalf Stamme kon behoort. Later, in Jakob se tyd, is die Saad-aspek beperk tot slegs ’n lid van die Stam van Juda (Gen 49:10). Nou is die kring om die Messiaanse Saad-aspek nóg nouer getrek na een familie in die Stam van Juda, die familie van Dawid.

Die kring om die Saad is dus geleidelik nouer getrek. Volgens die Verbond van Eden, moet die Messias uit die Saad van die vrou kom, maar dit het beteken dat Hy uit enige deel van die mensdom kon kom. Volgens die Verbond van Abraham moes Hy uit die Joodse ras kom, wat beteken het dat Hy uit enige stam van Israel kon kom. Met die bevestiging van hierdie verbond deur die twaalf seuns van Jakob is dit bepaal dat Hy uit die Stam van Juda moet kom, maar dit gee Hom die vryheid om uit enige familie in Juda te kom. Die Verbond van Dawid het bepaal dat die Messias uit Dawid se saad moes kom. Die kring sou in Jeremia 22:24-30 nog verder verklein word, waar daar staan dat die Messias uit die Huis van Dawid sou kom, maar nie deur Gonja (Jojagin, 1983-vertaling) nie.

E. Die bevestiging van die verbond
Die Verbond van Dawid is in ’n hele paar ander teksgedeeltes verder bevestig: 2 Samuel 23:1-5; Psalm 89:1-53; Jesaja 9:6-7; 11:1; Jeremia 23:5-6; 30:8-9; 33:14-17, 19-26; Esëgiël 37:24-25; Hoséa 3:4-5; Amos 9:11; Lukas 1:30-35, 68-70, en Handelinge 15:14-18.

F. Die status van die verbond
Die Verbond van Dawid is ook ’n onvoorwaardelike verbond en is as ’n ewige verbond beslis nog van krag.

VIII. DIE NUWE VERBOND
A. Skrif

’n Aantal teksgedeeltes handel oor of hou verband met die Nuwe Verbond, en daar sal hieronder na baie van hulle verwys word. Die grondliggende teks is egter Jeremia 31:31-34: Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.

B. Die deelnemers aan die verbond
Hierdie verbond word tussen God en Israel gesluit, en dit word in ander teksgedeeltes verder bevestig, insluitende: Jesaja 55:3; 59:21; 61:8-9; Jeremia 32:40; Eségiël 16:60; 34:25-31; 37:26-28, en Romeine 11:26-27.

C. Die bepalings van die verbond
Uit die oorspronklike verbond, die onderskeie bevestigings en die inwyding daarvan in die Nuwe Testament, kan altesaam nege bepalings gelys word.

Een: Dit is ’n onvoorwaardelike verbond wat God en albei Huise van Israel betrek (Jer 31:31). Dit word nie bloot tussen Juda en God, of tussen Israel en God, gesluit nie, maar dit het albei Huise van Israel ingesluit. Dit omvat dus die hele Joodse nasie: die afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob. Let wel dat die verbond nie met die Kerk gesluit is nie.

Twee: Dit is duidelik onderskeibaar van die Verbond van Moses (Jer 31:32). Dit is nie bloot ’n verdere uitbreiding van die Verbond van Moses nie, maar staan apart daarvan. Dit moet uiteindelik die Verbond van Moses, wat nou verbreek is, vervang.

Drie: Dit beloof die vernuwing van Israel (Jer 31:33; Jes 59:21). Die sleutelaspek van hierdie hele verbond is die seëning van verlossing, wat Israel se nasionale vernuwing insluit.

Vier: Die vernuwing van Israel is bestem om universeel onder alle Jode te wees (Jer 31:34a; Jes 61:9). Die nasionale verlossing is bestem om elke individuele Joodse persoon te dek, en dit is bestem om waar te wees vir opeenvolgende geslagte, vanaf die tyd wanneer die aanvanklike vernuwing van Israel plaasvind. Tydens die Koninkryk, sal al die nie-wedergebore mense dus Nie-Jode wees. Daar sal daar geen ongeredde Jode wees in die hele tydperk wat die Koninkryk duur nie. Dit is die rede waarom dit nie nodig sal wees vir een Jood om vir ’n ander te sê Ken die HERE nie, want hulle sal Hom almal ken.

Vyf: Daar is voorsiening vir die vergifnis van sonde (Jer 31:34b). Die Nuwe Verbond sal die juiste ding doen wat die Verbond van Moses nie kon doen nie. Die Verbond van Moses was slegs in staat om die sonde van Israel te bedek, maar die Nuwe Verbond sal dit wegneem. Dit is ’n aanvullende seëning by die seëning van verlossing.

Ses: Die inwoning van die Heilige Gees word ’n werklikheid (Jer 31:33; Eség 36:27). Die rede waarom Israel onder die Verbond van Moses versuim het om die Wet te onderhou, is omdat die mense die krag gekort het om aan God se standaarde van regverdigheid te voldoen. Die Wet van Moses het nie die inwoning van die Heilige Gees bewerkstellig nie; dit was nie die Wet se doel nie. Maar die Nuwe Verbond gaan juis dít doen, en elke Jood sal bemagtig word om God se werk van regverdigheid te doen. Dit is ’n seëning wat uit die seëning van verlossing spruit.

Sewe: Israel sal oorvloedig geseën word met materiële seëninge (Jes 61:8; Jer 32:41; Eség 34:25-27). Die Wet van Moses het wel gehoorsaamheid met materiële seëninge beloon, maar Israel was meestal ongehoorsaam weens haar versuim om die Wet na te kom. Daardie versuim sal egter nie onder die Nuwe Verbond plaasvind nie. Die Here sal, in samehang met Israel se vernuwing en bemagtiging om die Wet na te kom, materiële seën uitstort.

Agt: Die Heiligdom sal herbou word (Eség 37:26-28). Die Verbond van Moses het voorsiening gemaak vir die oprigting van die Tabernakel. Die Verbond van Dawid het voorsiening gemaak vir die oprigting van die Eerste Tempel deur Salomo. Die Nuwe Verbond sal voorsiening maak vir die oprigting van die Messiaanse of Millenniale Tempel. Hierdie Tempel sal Israel konstant herinner aan alles wat God gedoen het.

Nege: Net soos die Verbond van Moses die Wet van Moses bevat het, bevat die Nuwe Verbond die Wet van die Messias (Rom 8:2; Gal 6:2). Die Wet van die Messias bevat, net soos die Wet van Moses, baie individuele gebooie wat van toepassing is op Nuwe-Testamentiese gelowiges. Hierdie bevele is óf deur Jesus Self óf deur die apostels gegee. ’n Eenvoudige vergelyking van die besonderhede wys gou dat dit nie dieselfde as die Wet van Moses is of kan wees nie. Vier waarnemings kan aangeteken word. Eerstens, baie gebooie is dieselfde as die Wet van Moses s’n. Nege van die Tien Gebooie verskyn byvoorbeeld ook in die Wet van die Messias. Tweedens is daar egter baie wat van die Wet van Moses verskil. Daar is byvoorbeeld geen Sabbatswet (Rom 14:5; Kol 2:16) of voedselbeperkings (Mark 7:19; Rom 14:20) meer nie. Derdens word party gebooie in die Wet van Moses versterk deur die Wet van die Messias. Die Wet van Moses het byvoorbeeld gesê: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Lev 19:18); dit het die mens as die standaard gestel. Die Wet van die Messias sê: Julle [moet] mekaar liefhê net soos Ek julle liefgehad het (Joh 15:12); dit maak die Messias die standaard, en Hy het die mens lief genoeg gehad om vir hom te sterwe. Vierdens verskaf die Wet van die Messias ’n nuwe motivering. Die Wet van Moses was naamlik gebou op die voorwaardelike Verbond van Moses. Die motivering was dus: Doen, sodat jy geseën kan word. Die Wet van die Messias is gebou op die onvoorwaardelike Nuwe Verbond. Die motivering is dus: Jy was reeds en is steeds geseën, doen dus. Die rede waarom daar so baie verwarring oor die verhouding tussen die Wet van Moses en die Wet van die Messias bestaan, is omdat baie gebooie soortgelyk is aan dié wat ’n mens in die Wet van Moses aantref. Baie mense het dus tot die gevolgtrekking gekom dat die Wet behou is. Daar is alreeds gewys dat dit nie die geval kan wees nie, en die verduideliking oor die ooreenkomste tussen die gebooie kan elders gevind word.

Hierdie verduideliking maak die meeste sin as ’n mens besef dat daar ’n aantal kodes in die Bybel is, soos die Kode van Eden, die Kode van Adam, die Kode van Noag, die Kode van Moses, die Nuwe Kode en die Koninkrykkode. ’n Nuwe kode bevat dalk party van dieselfde gebooie as die vorige kode, maar dit beteken nie dat die vorige kode nog van krag is nie. Hoewel sekere gebooie in die Kode van Adam ook in die Kode van Eden voorkom, beteken dit nie dat die Kode van Eden nog gedeeltelik van krag is nie. Dit het opgehou toe die Sondeval gebeur het. Dieselfde geld wanneer ons die Wet van die Messias met die Wet van Moses vergelyk. Daar is baie soortgelyke gebooie. Byvoorbeeld, nege van die Tien Gebooie kan gevind word in die Wet van die Messias, maar dit beteken nie dat die Wet van Moses nog van krag is nie. Die Wet van Moses is kragteloos gemaak, en ons staan nou onder die Wet van die Messias. Daar is baie verskillende gebooie. Onder die Wet van Moses mog ons byvoorbeeld nie varkvleis eet nie, maar volgens die Wet van die Messias mag ons. Daar is baie soortgelyke gebooie, maar hulle behoort nietemin aan twee verskillende stelsels. As ons ons deesdae daarvan weerhou om te moor of te steel, doen ons dit nie weens die Wet van Moses nie, maar weens die Wet van die Messias. Aan die ander kant, as iemand steel, is hy nie skuldig aan die verbreking van die Wet van Moses nie, maar skuldig aan die verbreking van die Wet van die Messias. Die verpligting wat ons tans het om die Wet van die Messias te gehoorsaam, spruit uit die huidige werking van die Nuwe Verbond.

D. Die belangrikheid van die verbond
Die belangrikheid van die Nuwe Verbond is dat dit die Seën-aspek van die Verbond van Abraham uitbrei, veral ten opsigte van verlossing. Dit wys uiteindelik hoe die geestelike seëninge van die Joodse verbonde oorvloei na die Nie-Jode.

E. Die Kerk se verhouding tot die Nuwe Verbond
Op hierdie punt het daar verwarring ontstaan oor die verhouding van die Kerk tot die Nuwe Verbond. Volgens Jeremia word die verbond nie met die Kerk gesluit nie, maar met Israel. Daar is wel ’n paar Skrifgedeeltes wat die Nuwe Verbond met die Kerk verbind (Matt 26:28; Mark 14:24; Luk 22:14-20; 1 Kor 11:25; 2 Kor 3:6; Heb 7:22; 8:6-13; 9:15; 10:16, 29; 12:24; 13:20).

Die gewildste oplossing in die kerkgeskiedenis was die teologie van vervanging of oordrag, wat leer dat die Kerk Israel ten opsigte van verbondstatus vervang het. Die verbondsbeloftes word met ander woorde tans in en deur die Kerk vervul. Dit is egter duidelik dat hulle nie letterlik vervul word nie, dus voer hulle aan dat die bedoeling was dat hulle geestelik vervul moes word. Hierdie oplossing noodsaak egter ’n allegoriese vertolking van die verbonde en verg dat ’n mens al die besonderhede soos die Grondbeloftes buite rekening moet laat.

Hierdie siening word met reg verwerp deur dié wat ’n letterlike benadering tot die verbonde volg; hulle het twee ander oplossings aan die hand gedoen. Een: Party skrywers sê dat daar twee nuwe verbonde is, een wat met die Kerk gesluit is en een wat met Israel gesluit is. Hierdie siening word nie deur die Skrif se lering gesteun nie. Twee: Ander het gesê dat daar slegs een verbond is, maar dat dit twee aspekte het – een wat met Israel verband hou en een wat met die Kerk verband hou. Tog sê niks in die verbond dat daar twee heeltemal verskillende aspekte is nie. Verder is selfs dié wat hierdie siening handhaaf nie in staat om te sê watter aspek met die Kerk verband hou, en watter aspek met Israel verband hou nie.

Eintlik is die oplossing nie so moeilik nie, want dit word duidelik in twee teksgedeeltes uiteengesit. Die eerste is Efésiërs 2:11-16: DAAROM, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het,naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.

Die tweede teksgedeelte is Efésiërs 3:5-6: … wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie.

Dit kan die ‘deelgenoot-siening’ genoem word. Die punt van hierdie teksgedeeltes is dat God vier onvoorwaardelike verbonde met Israel gesluit het: die Verbond van Abraham, die Grondverbond, die Verbond van Dawid en die Nuwe Verbond. Al God se seëninge, fisies sowel as geestelik, word deur middel van hierdie vier verbonde bemiddel. Daar is egter ook ’n vyfde verbond, die voorwaardelike Verbond van Moses. Dit was die middelmuur van skeiding. Dit het die Nie-Jode basies daarvan weerhou om deel te kry aan die vier onvoorwaardelike verbonde se geestelike seëninge. ’n Nie-Jood wat die seëninge van die onvoorwaardelike verbonde wou geniet, moes homself heeltemal aan die Wet van Moses onderwerp, besny word, die voorskrifte van die Wet aanvaar, en – vir alle praktiese doeleindes – soos ’n kind van Abraham leef. Nie-Jode kon nie in hul hoedanigheid as Nie-Jode deel kry aan die geestelike seëninge van die Joodse verbonde nie; hulle was dus vervreemd van die burgerskap van Israel. Hulle het nie enige van die geestelike voordele wat deel van die verbonde is, ontvang nie. Nou kan Nie-Jode, in hul hoedanigheid as Nie-Jode, deur geloof deel hê aan die geestelike seëninge van die vier onvoorwaardelike verbonde. Dit is waarom Nie-Jode vandag ‘deelnemers’ is aan die Jode se geestelike seëninge, en nie ‘oornemers’ nie.

Die konsep van deelgenootskap word ook in Romeine 11:17 gevind: En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ’n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom. Die Olyfboom verteenwoordig die plek van die Joodse Verbonde se geestelike seëninge. Die tipe takke wat deel het aan die seëninge sluit natuurlike takke, die Joodse gelowiges, en wildeolyftakke, die Nie-Joodse gelowiges, in.

Volgens vers 24 behoort die Olyfboom self egter nog steeds aan Israel: Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word?

Die verhouding van die Kerk tot die Nuwe Verbond is dieselfde as die verhouding van die Kerk tot die Verbond van Abraham, die Grondverbond en die Verbond van Dawid. Die fisiese beloftes van die Verbond van Abraham, soos wat dit deur die Grondverbond en die Verbond van Dawid uitgebrei is, is uitsluitlik aan Israel belowe. Die Seën-aspek, soos wat dit deur die Nuwe Verbond uitgebrei is, is egter bestem om die Nie-Jode in te sluit. Die Kerk geniet die geestelike seëninge van hierdie verbonde, maar nie die materiële en fisiese voordele nie. Die fisiese beloftes behoort nog aan Israel, en sal uitsluitlik aan Israel vervul word, veral dié waarby die Grond betrokke is. Alle geestelike seëninge word egter nou met die Kerk gedeel. Dit is die Kerk se verhouding tot hierdie vier onvoorwaardelike verbonde tussen God en Israel.

Die bloed van die Messias is die grondslag van verlossing in die Nuwe Verbond, en dít is by die kruis gestort. Die bloed van die Messias het die Nuwe Verbond bekragtig, onderteken en verseël (Heb 8:1-10, 18). Die bepalings van die Nuwe Verbond kan nie in, deur of via die Kerk vervul word nie, maar moet in, deur en via Israel vervul word. Dit is waar dat die Verbond nie tans met Israel vervul word nie, maar dit beteken nie dat dit daarom met die Kerk vervul moet word nie. Hier sien ’n mens weer dat nie alle bepalings dadelik van krag word nie. Die Kerk het slegs deel aan die Nuwe Verbond in soverre dit die Verbond se geestelike voordele – soos die voordeel van verlossing – ontvang; die Kerk vervul egter nie die Verbond nie. Die Kerk het ’n deelnemer geword aan die Jode se geestelike seëninge, maar die Kerk is nie ’n oornemer van die Joodse Verbonde nie. Die Kerk het deel aan die geestelike seëninge en beloftes, maar nie aan die materiële of fisiese seëninge nie.

F. Die Nie-Jode se plig
Die feit dat Nie-Joodse gelowiges deelgenote geword het van die Jode se geestelike seëninge, plaas volgens Romeine 15:25-27 ’n verpligting op hulle: Maar nou reis ek na Jerusalem in diens van die heiliges. Want Macedónië en Acháje het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem. Hulle het dit goedgevind, sê ek, en hulle is ook hul skuldenaars; want as die heidene deel gekry het aan hulle geestelike voorregte, is hulle ook verskuldig om hulle met stoflike goedere te dien.

Namate Paulus die einde van sy brief aan die Romeine nader, stip hy sy onmiddellike planne uit. In vers 25 verduidelik hy waarom hy nie dadelik na hulle toe kan kom nie. Hoewel hy in Hoofstuk 1 ’n langtermyn begeerte uitgespreek het om na Rome toe te gaan, was sy begeerte onderhewig aan sy plig. Sy plig was om ’n kollekte op te neem en dit na die Joodse gelowiges in Jerusalem te neem. Hierdie spesiale kollekte word elders, in 1 Korinthiërs 16:1-4 en 2 Korinthiërs 8-9, ook genoem. In vers 26 maak Paulus die bydraers en die ontvangers van die kollekte bekend. Die Nie-Joodse gelowiges van Macedónië en Acháje het die geld gegee, wat spesifiek vir arm Joodse gelowiges in die stad Jerusalem en die land Israel bestem was. In vers 27 verduidelik Paulus die Nie-Jode se skuld teenoor die Jode. Hy verklaar onomwonde dat Nie-Jode skuldenaars van die Jode is, en noem dan die rede daarvoor: Die Nie-Jode het mededeelgenote aan die Jode se geestelike seëninge geword. Vroeër, in Romeine 11, het Paulus hulle geleer dat die Nie-Jode mededeelgenote aan geestelike seëninge geword het, maar dit is die Jode se geestelike seëninge wat deur die Joodse verbonde bemiddel word. Die blote feit dat die Nie-Jode deelgenote gemaak is van die Jode se geestelike seëninge, het gemaak dat hulle die Jode se skuldenaars is. Volgens hierdie vers is die manier waarop hulle hul skuld teenoor Joodse gelowiges vereffen om hulle met materiële middele te bedien.

G. Die status van die verbond
Wat die Kerk betref, vorm die Nuwe Verbond dus die grondslag van die Bedeling van Genade. Wat Israel betref, vorm die Nuwe Verbond die grondslag van die Bedeling van die Koninkryk.

Die Nuwe Verbond self is ’n onvoorwaardelike verbond en daarom ewig van krag.

SLOTSOM
Alle geestelike seëninge is vir gelowiges in die Messias, ongeag of hulle Jode of Nie-Jode is. Deur die Messias se dood aan die kruis vir hul sonde, ontvang gelowiges geestelike voordele wat hulle nooit andersins sou kry nie. Die agt verbonde van die Bybel is baie duidelik in hul bepalings, en is nuttig vir ’n grondige begrip van die Skrif.
[end]

Inhoudsopgawe
INLEIDING
     A. Die tipes verbonde
         1. Voorwaardelike verbonde
         2. Onvoorwaardelike verbonde
     B. Die verbonde met Israel
     C. Die beginsel van die tydsberekening van die bepalings
I. DIE VERBOND VAN EDEN
     A. Skrif: Génesis 1: 28-30
     B. Die deelnemers aan die verbond
     C. Die bepalings van die verbond
     D. Die status van die verbond
II. DIE VERBOND VAN ADAM
     A. Skrif: Génesis 3:14-19
     B. Die deelnemers aan die verbond
     C. Die bepalings van die verbond
         1. Die slang: Génesis 3:14
         2. Satan: Génesis 3:15
         3. Die vrou: Génesis 3:16
         4. Die man: Génesis 3:17-19
     D. Die status van die verbond
III. DIE VERBOND VAN NOAG
     A. Skrif: Génesis 9:1-17
     B. Die deelnemers aan die verbond
     C. Die bepalings van die verbond
     D. Die status van die verbond
IV. DIE VERBOND VAN ABRAHAM
     A. Skrif: Génesis 12: 1-3, 7; 13: 14-17; 15: 1-21; 17: 21; 22: 15-18
     B. Die deelnemers aan die verbond
     C. Die bepalings van die verbond
         1. Vir Abraham
         2. Vir die saad: Israel
         3. Vir die Nie-Jode
     D. Die grondslag vir die ontwikkeling van ander verbonde
     E. Die bevestiging van die verbond
         1. Bevestiging deur Isak
         2. Bevestiging deur Jakob
         3. Bevestiging deur die seuns van Jakob
     F. Die status van die verbond
V. DIE VERBOND VAN MOSES
     A. Skrif: Exodus 20:1 – Deuteronómium 28: 68
     B. Die deelnemers aan die verbond
     C. Die bepalings van die verbond
         1. Die volkomenheid van die Wet
         2. Die seëninge en oordele van die Wet
         3. Die bloedoffer bygevoeg
         4. Die voedselbeperkings ingestel
         5. Die doodstraf uitgebrei
         6. Die teken van die verbond
         7. Die bewys van die verbond
     D. Die doeleindes van die Wet
     E. Die status van die verbond
         1. Die eenheid van die Wet van Moses
         2. Die Wet van Moses is kragteloos gemaak
         3. Die morele wet
         4. Matthéüs 5:17-18
         5. Die Wet van Christus
         6. Die beginsel van vryheid
         7. Die Sabbat
VI. DIE GRONDVERBOND
     A. Deuteronómium 29:1-30:20
     B. Die deelnemers aan die verbond
     C. Die bepalings van die verbond
     D. Die belangrikheid van die verbond
     E. Die bevestiging van die verbond
     F. Die status van die verbond
VII. DIE VERBOND VAN DAWID
     A. Skrif
     B. Die deelnemers aan die verbond
     C. Die bepalings van die verbond
     D. Die belangrikheid van die verbond
     E. Die bevestiging van die verbond
     F. Die status van die verbond
VIII. DIE NUWE VERBOND
     A. Skrif
     B. Die deelnemers aan die verbond
     C. Die bepalings van die verbond
     D. Die belangrikheid van die verbond
     E. Die Kerk se verhouding tot die Nuwe Verbond
     F. Die Nie-Jode se plig
     G. Die status van die verbond
Slotsom

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

‘n Sleutel wat gebruik kan word om die onderskeie dele én die geheel te verstaan, is met behulp van die sewe bedelings (wat ook ‘dispensasies’ genoem word) wat in die Skrif gevind word. Die term ‘bedeling’ verwys aan die een kant na ’n bepaalde manier waarop God sy program en sy wil in die wêreld bestuur, en aan die ander kant na ’n tydperk wat gedek word. God bestuur sy ekonomie, sy heerskappy, sy gesag en sy program in elke bedeling op ’n ander manier as in die vorige bedeling. Bedelings is aparte tydperke waartydens God sy wil op ’n spesifieke en eiesoortige manier uitoefen, op grond van ’n verbond waarop ’n spesifieke bedeling gegrondves is.