Die beginsels van gebed

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig. – I Johannes 2:15-17

Hierdie Messiaanse Bybelstudie oor gebed word in tien verskillende kategorieë behandel.

I. DIE DEFINISIE VAN GEBED
Ten einde ’n definisie van gebed te ontwikkel, word hierdie punt in vyf afdelings bespreek.

A. Die Woorde wat Gebruik Word
Verskeie Hebreeuse en Griekse woorde word met betrekking tot gebed gebruik. Ons moet een vir een na hierdie woorde kyk en probeer om tussen hulle te onderskei; dit sal ons help om ’n beter begrip te vorm van waaroor gebed gaan.

1. Die Hebreeuse Woorde
Daar is altesaam drie Hebreeuse woorde.
a. Tphilah en Hitpaliel
Die eerste Hebreeuse woord het twee vorms: tphilah, wat die selfstandige naamwoord is; en hitpaliel, wat die werkwoord is (I Kon. 8:23). In die werkwoordvorm beteken hierdie woord eenvoudig “om te bid”, of in die selfstandige naamwoordvorm beteken dit “gebed”. Die Hebreeuse grondwoord beteken “om toe te tree”, om tussenbeide te tree”, “om in te tree”. As iemand toetree tussen God en mens; of tussenbeide tree tussen God en mens; of intree tussen God en mens, dan bid hy.

b. Techinah en Hitchanein
Die tweede Hebreeuse woord het ook twee vorms: techinah is die selfstandige naamwoord; hitchanein is die werkwoordvorm (I Kon. 9:3). As ’n werkwoord beteken dit “om te smeek”; as ’n selfstandige naamwoord beteken dit “smeking”. Die Hebreeuse grondwoord beteken “om guns te betoon” of “om barmhartig te wees”. In die intensiewe vorm beteken dit “om guns te soek of af te smeek”. Wanneer ons smekend probeer om guns of barmhartigheid te verkry, dan bid ons.

c. Challah
Die derde Hebreeuse woord is challah, wat beteken “om te soebat of te smeek vir die guns van” (I Kon. 9:3). En wanneer ons smeek vir die guns van God, dan bid ons.

2. Die Griekse Woorde
In die Griekse taal is daar in totaal sewe verskillende woorde wat klem lê op gebed.

a. Eschomai, Proseochamai en Proscuchei
Die eerste Griekse woord het drie verskillende vorms: eschomai, proseochamai en proscuchei. Dit is die woord wat in die Nuwe Testament gebruik word vir gebed tot God in die algemeen. Letterlik beteken die woord, “om vir iets te vra”. Wanneer ons God vir iets vra, dan bid ons. Dit is die gewone, algemene, alledaagse Griekse woord vir gebed tot God.

b. Deomai en Desisis
Die tweede Griekse woord het twee vorms: deomai en desisis (I Thess. 3:10). Hierdie woord dra die begrip van te vra maar te vra in die sin van ’n spesifieke versoek.

c. Aiteo en Aiteima
Die derde Griekse woord het ook twee vorms: aiteo en aiteima (Jak. 1:5). Hierdie woord beteken “om te vra” of “om te versoek”. Wanneer ons God vir iets vra of iets van God versoek, dan bid ons.

d. Erotao en Eroteisis
Die vierde Griekse woord het ook twee vorms: erotao en eroteisis. Hierdie woord beteken ook om iets “te versoek” of om vir iets “te vra”. Weer eens, as ons iets van God versoek of as ons iets vir God vra, dan bid ons.

e. Eutugchano en Uperentugcheo
Die vyfde Griekse woord het ook twee verskillende vorms: eutugchano en uperentugcheo (Rom. 8:27-28). Dit beteken “om in te tree” of “te versoek”. Wanneer ons intree tussen God en mens, wanneer ons ’n versoek tot God rig, dan bid ons.

f. Parakaleo en Parakaleisis
Die sesde Griekse woord het ook twee vorms: parakaleo en parakaleisis (II Kor. 12:8). Hierdie Griekse woord beteken “om te troos”, “om aan te spoor”, “om te versoek”, “om te smeek” of “om ’n beroep te doen”. En wanneer ons in ’n verhouding met God probeer om te troos, aan te spoor, te versoek, te smeek of ’n beroep te doen, dan bid ons. Dit is dieselfde woord wat gebruik word as een van die name van die Heillige Gees: die Parakleet of die Voorspraak of die Trooster.

g. Iketeiria
Die sewende Griekse woord is iketeiria, wat “smeekbede” of “versoek” beteken (Heb. 5:7).

B. Die Definisie
Om te definieer is gebed, eerstens, menslike spraak gerig tot God. ’n Tweede faset van gebed, is dat dit is om iets van God of vir God te vra. Derdens is gebed gesprek met God; ons verkeer in gesprek met Hom.

Uit hierdie definisie kan ons ’n duidelike verskil aantoon tussen Bybelstudie en gebed. As ons die Bybel bestudeer, praat God met ons. Maar as ons bid, dan praat ons met God. Dit is die beste definisie waartoe ons uit die drie Hebreeuse en die sewe Griekse woorde kan kom.

C. Die Voorveronderstellings van Gebed
Gebaseer op hierdie Hebreeuse en Griekse gebruike en gebaseer op ons definisie, is daar sewe voorveronderstellings wat ons maak wanneer ons bid.

Eerstens, ons voorveronderstel dat God ’n Persoon is sodat ons ’n Ek en U verhouding met Hom kan hê.

’n Tweede voorveronderstelling is die nabyheid van God. Die nabyheid van God verseker ons dat Hy naby is sodat Hy ons gebede kan hoor.

’n Derde voorveronderstelling is die alomteenwoordigheid van God. God is oral en wanneer ek byvoorbeeld in Suid-Afrika bid terwyl ’n ander gelowige in Israel bid, kan God ons altwee hoor en ons altwee sien.

’n Vierde voorveronderstelling is die opperheerskappy van God. Ons glo waarlik dat Hy beheer uitoefen oor Sy Skepping. Hy is in beheer van sowel persone as gebeure; van sowel persone as dinge. Omdat ons in God se opperheerskappy glo, rig ons hierdie versoeke tot Hom.

Vyfdens voorverondersel ons ook die alwetendheid van God; dat Hy alles weet en die beste weet hoe om ons gebede te beantwoord.

Sesdens voorveronderstel ons die almag van God; dat Hy almagtig is.

In die sewende plek voorveronderstel ons die beloftes van God; dat hy belowe het dat Hy sal luister.

D. Die Aard van Gebed
Ten opsigte van die aard van gebed, moet ses sake geopper word.

Eerstens is gebed ’n handeling, ’n optrede. Gebed is nie slegs ’n ingesteldheid nie, hoewel ingesteldheid daarby betrokke is; gebed is ’n handeling. Gebed behoort ’n integrale deel van ons lewens te vorm (I Thess. 5:17). Die gelowige behoort elke dag met God gesprek te voer, want gebed is ’n handeling.

Tweedens is gebed ’n handeling van stand (Luk. 11:1-13). Ons het stand by God as ons tot Hom bid.

Derdens is gebed ’n handeling van ’n spesifieke versoek te rig.

Vierdens is gebed ’n handeling van ’n dringende versoek te rig.

Vyfdens is gebed ’n handeling van ’n emosionele versoek te rig.

Sesdens is gebed ’n handeling van ’n kinderlike versoek te rig omdat ons ’n vader-kind verhouding het.

E. Die Objek van Geloof
Geloof is die eerste grondbeginsel van ons gebedslewe; ons het geloof in God as God.

II Timótheüs 1:12 verklaar: want ek weet in wie ek geglo het.

Psalm 18:32 leer: wie is ’n rots behalwe onse God.

Psalm 46:2 verklaar: God is vir ons ’n toevlug en sterkte.

Hábakuk 3:18 bevestig: ek sal juig in die God van my heil. Die implikasie is dat God vertrou moet word ongeag van hoe dinge verloop. Die gelowige kan nie eis dat God sy gebed presies volgens sy eie begeerte moet verhoor nie.

II. DIE SIMBOOL VAN GEBEDA. In die Ou Testament
Die simbool van gebed is wierook; die brand van wierook. In die Ou Testament word dit geleer in Psalm 141:2: Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.

Een van die rituele in die Tabernakel was die brand van wierook en dit het die gebede van die heiliges gesimboliseer.

B. In die Nuwe Testament
Dit word ook deur die Nuwe Testament uitgelig. Openbaring 5:8 verklaar: en toe hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is.

Johannes skryf dat hy in hierdie visioen die vier-en-twintig ouderlinge gesien het, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat hy geïnterpreteer het as die gebede van die heiliges.

Later, in Openbaring 8:3, skryf Johannes: En ’n ander engel het gekom en met ’n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê.

Aan hierdie engel is ’n bak met baie reukwerk gegee, wat dan op die goue altaar gelê word: dit verteenwoordig die gebede van … die heiliges. Die rook van die wierook was die gebede van die heiliges, wat opgegaan het voor God.

Opsommend: Uit die feit dat wierook in die Psalms en in Openbaring die simbool van gebed is, kan twee waarnemings of gevolgtrekkings gemaak word. Een, die doel van die altaar met wierook was om ’n soetgeurende aroma vir die Here te wees. Twee, dit openbaar hoe God die gebede van die heiliges sien; dit is ’n soetgeurende aroma vir die Here.

III. DIE REDES EN DOEL VIR GEBED
In totaal is daar agt spesifieke redes en doelstellings vir gebed.

A. Gebed Is ’n Opdrag
Eerstens, gebed is nie ’n opsie nie; vir die gelowige is gebed ’n opdrag. In I Samuel 12:23 word ons geleer dat dit sonde is om nie vir ander te bid nie. As ons nalaat om te bid vir ander, vir hulle wat God op ons gemoed lê, dan sondig ons. Ons word beveel om te bid.

In I Thessalonicense 5:17 word ons aangesê: Bid sonder ophou en in Kolossense 4:2 moet ons: Volhard in die gebed.

B. Gebed is Reg en Hoort So
Tweedens, gebed is reg en hoort so. Dit is die punt van Lukas 18:1: En Hy het ook aan hulle ’n gelykenis vertel met die oog daarop dat ’n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie.

Jesus het ’n gelykenis vertel om mense aan te moedig om voortdurend te bid, want dit is reg om te bid en dit hoort so.

C. God Verleen Gawes en Seëninge deur Gebed
Derdens is gebed ’n medium waardeur God Sy gawes en seëninge verleen (Dan. 9:3; Matt. 7:7-11; 21:22; Jak. 1:5).

D. Gebed Is Noodsaaklik vir Oorwinning
Vierdens is gebed noodsaaklik vir oorwinning. Dit kom baie duidelik uit in Efésiërs 6:10-18, die welbekende skrifgedeelte oor geestelike oorlogvoering. Paulus handel hier hoofsaaklik oor die stukke van die wapenrusting, wat grootliks die Woord van God is. Drie keer lig hy ons in dat ons, toegerus met hierdie wapenrusting, daartoe instaat sal wees om weerstand te bied teen die duiwel of die duiwel te weerstaan.

Maar dan, nadat hy die verskillende stukke van die wapenrusting in geestelike oorlogvoering afgehandel het, verklaar hy in vers 18: terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges. Die geheime bestanddeel vir oorwinning in geestelike oorlogvoering, is gebed; gebed is noodsaaklik vir oorwinning.

E. Gebed Is die Voorbeeld van die Messias
’n Vyfde rede vir gebed, is om die voorbeeld van die Messias te volg. Hy is ons grootste voorbeeld; Hy is die Een wat ons moet volg, en ons moet Hom ook in gebed navolg. Jesus het dikwels gebid (Mark. 1:35; Heb. 5:7).

F. Gebed Is die Voorbeeld van die Vroeë Kerk
’n Sesde rede vir gebed, is om die voorbeeld van die vroeë Kerk te volg. Die vroeë Kerk is gekenmerk deur gebed (Hand. 6:4; 12:5). Ons moet die voorbeelde van die vroeë Kerk volg.

G. Gebed Is ’n Kanaal van Verlossing
’n Sewende rede vir gebed, is dat gebed ’n kanaal is vir verlossing; deur gebed verlos God ons. Ons sien dit op agt verskillende maniere: een, deur gebed word ons verlos van versoeking (Matt. 26:41); twee, deur gebed word ons verlos van moedeloosheid (Luk. 18:1); drie, deur gebed word ons verlos van moeilike omstandighede (Hand. 12:3-19); vier, deur gebed word ons verlos van onkunde of ’n gebrek aan wysheid (Kol. 1:9; Jak. 1:5); vyf, deur gebed word ons, as dit God se wil is, verlos van fisiese siektes en die dood (Hand. 28:8; Jak. 5:13-17); ses, deur gebed word ons verlos van behoeftes (Jak. 4:7); sewe, deur gebed word ons verlos van ongelowiges (Rom. 15:30-33); en agt, deur ons gebed word ons verlos van Satan (Ef. 6:18). Gebed is dus ’n kanaal van verlossing waarvan ons konsekwent gebruik moet maak. Hierdie kanaal van verlossing is nog ’n rede waarom ons moet bid.

H. Gebed Is die Kanaal vir Geestelike Volwassenheid
Die agtste rede vir gebed, is dat gebed ook die kanaal is vir geestelike volwassenheid; dit is die medium waardeur God ons tot volwassenheid bring. Dit word gesien op vyf verskillende maniere: een, dit is die wyse waarop ons geestelike oorlog voer (Ef. 6:10-18); twee, dit is die medium tot geestelike groei (Ef. 1:15-23; 3:14-21; Kol. 1:9-14); drie, dit is deur gebed dat ons geestelike vrymoedigheid aankweek (Hand. 4:19-21; Ef. 6:8-19); vier, deur gebed verkry ons die redding van verlorenes (Rom. 10:1); en vyf, deur gebed doen ons die werk van wêreldevangelisering (Matt. 9:37-38).

IV. DIE VERMANINGS OM TE BID
Daar is agt kern skrifgedeeltes wat ons vermaan om te bid.

A. Lukas 18:1-8
Hierdie skrifgedeelte val uiteen in drie dele.

Die eerste deel is in vers 1 waar Jesus handel met die beginsel wat Hy wil ontwikkel. En Hy het ook aan hulle ’n gelykenis vertel met die oog daarop dat ’n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie.

Die punt is dat Hy wil hê die mense moet bid, en ’n mens [moet] gedurig bid en nie moedeloos word nie. Die woord gedurig beteken “om in elke situasie en onder alle omstandighede te bid.” Ons moet gewillig wees om in elke situasie en onder alle omstandighede te bid. Die woord moedeloos beteken “om terneergedruk te wees”, en die punt is dat gebed ’n mens daarvan sal weerhou om in terneergedruktheid te verval. Dit is hoekom ’n mens in elke situasie en onder alle omstandighede moet bid.

Tweedens gee Hy in verse 2-5 die gelykenis: en [Hy het] gesê: Daar was ’n regter in ’n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie. En daar was in daardie stad ’n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty. En ’n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.

Die punt van hierdie gelykenis is: Die afsydige regter was nie van plan om ’n oordeel te vel nie, maar as gevolg van die vrou se volharding, het hy uiteindelik ingegee.

Die derde deel van hierdie skrifgedeelte, verse 6-8, gee die toepassing: Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

Die punt van die toepassing is om volharding in gebed te leer. Anders as die regter, is God nie afsydig nie. En as ’n regter, wat afsydig is, uiteindelik op volharding sal reageer, hoeveel te meer sal God, wat nie afsydig is nie, reageer. God sal reageer op volgehoue gebed. ’n Mens moet aanhou vra ten spyte van vertraging. Die doel van volharding is nie om God meer gewillig te maak nie; God is altyd gewillig. Die doel van volharding is om vir ons geloof te leer en om ons geloof te versterk; om ons ingesteldheid teenoor gebed te verander; om ons te leer om geduldig te wag, in volgehoue gebed.

B. Romeine 12:12
Die tweede skrifgedeelte is Romeine 12:12: verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.

Ons moet volhard in die gebed. Dit is wat sal veroorsaak dat ons ons in die hoop verbly en wat sal maak dat ons in verdrukking geduldig sal wees.

C. Kolossense 4:2
Die derde skrifgedeelte is Kolossense 4:2: Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging.

Ons moet: Volhard in die gebed. Ons moet gebed kragtig maak of toegewyd bid. Ons moet energiek wees in gebed.

D. I Thessalonicense 5:17
Die vierde skrifgedeelte is I Thessalonicense 5:17: Bid sonder ophou.

Hierdie vers beteken nie dat al wat ons doen, is om gedurigdeur te bid en nooit daarmee op te hou nie. Die Griekse woord wat hier voorkom, is ’n woord buite die Nuwe Testament, wat gebruik word vir ’n aanhoudende hoes. As ’n mens ’n aanhoudende hoes het, hoes jy nie die hele tyd sonder om eenkeer op te hou nie, maar dit voel of jy die heeltyd wil hoes. Dit is wat dit beteken om sonder ophou te bid. Dit beteken nie om te bid sonder om ooit op te hou bid nie. Dit beteken nie dat ons aanhoudend bid nie. Maar ons moet deurentyd ’n ingesteldheid hê om voortdurend te wil bid.

E. I Thessalonicense 5:25
Die vyfde vermaning om te bid, is in I Thessalonicense 5:25: Broeders, bid vir ons.

Ons moenie net vir onsself bid nie; ons moet ook vir andere bid.

F. I Timótheüs 2:8
Die sesde vermaning is in I Timótheüs 2:8: Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.

Waar ons onsself ookal bevind, moet ons ingesteldheid teenoor gebed altyd dieselfde bly. Iets is verkeerd as ons voel ons wil eerder binne-in ’n kerkgebou bid as by die huis, of op straat, of langs die grootpad, of in ’n vliegtuig. Hou in gedagte dat daar geen kerkgeboue in die eerste eeu was toe hierdie woorde geskryf is nie. Daarom moet ons begeerte om te bid dieselfde bly, ongeag van waar ons ookal mag wees.

G. Filippense 4:6b
Die sewende skrifgedeelte is Filippense 4:6b: laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.

Die punt van hierdie vermaning is dat ons konstant in ’n geestelike staat van gebed moet verkeer; instaat om aan te hou bid sonder enige inagneming van steurings van watter aard ookal. Ons moet in alles bid. Wat alles betref, moet ons smeek en ons begeertes by God bekend maak, en dit moet gedoen word met danksegging.

Paulus sê ons moet ons begeertes in alles … by God op drie maniere bekend maak: eerstens, deur gebed, wat beteken om met ons lippe tot God te nader; tweedens, deur smeking, wat spesifieke versoeke is; en derdens, deur danksegging – deur God te dank vir hoe Hy ons gebed gaan beantwoord. Nie deur te veronderstel dat Hy ons gebed gaan verhoor op die manier waarop ons dit graag beantwoord wil hê nie, maar dankbaar vir enige manier waarop Hy verkies om daardie gebed te beantwoord.

H. Psalm 32:6
Die agtste skrifgedeelte is Psalm 32:6: Daarom sal elke vrome U aanbid in ’n tyd as U te vinde is.

Die punt is ’n vermaning om op ’n tyd te bid wanneer God gevind kan word; en aangesien God altyd gevind kan word, moet ons altyd bid.

V. DIE BELOFTES VAN GEBED
God het sekere spesifieke beloftes omtrent gebed gemaak. Om ’n volledige beeld te kry van hoe God gebed sien, sal ons na vyftien skrifgedeeltes kyk.

A. Exodus 22:22-24
Die eerste skrifgedeelte is Exodus 22:22-24, wat verklaar dat God die geroep van die weduwee sal hoor en na haar regte sal omsien. Onder die Mosaïese Wet was die weduwee onder Sy besondere beskerming. God het die oortreding van die regte van die weduwee in ’n baie ernstige lig beskou. As ’n weduwee se regte aangetas was en sy haar tot God gewend het, sou Hy haar geroep hoor en haar wreek.

B. Deuteronómium 4:7
Die tweede skrifgedeelte is Deuteronómium 4:7, wat verklaar dat God naby Israel sal wees as hulle Hom aanroep. Israel sal afdwaal; maar elke keer as hulle God aanroep, sal Hy altyd naby genoeg wees om te hoor.

C. II Kronieke 7:12-18
Die derde belofte is in II Kronieke 7:12-18 wat verklaar dat, as die Joodse volk God se aangesig soek, dan sal Hy hulle land genees. Op sommige plekke in die wêreld, soos Amerika en ook Suid-Afrika, word hierdie verse dikwels buite hulle konteks verstaan. Baie mense pas hierdie skrifgedeelte toe op Amerika of op Suid-Afrika; en glo as al die gelowiges saamkom en opreg bid en hulle bekeer, sal God hulle land genees. Maar God het glad nie so ’n belofte aan enige ander volk of omtrent enige ander land gemaak nie; dis gemaak aan die Joodse volk en gaan oor die Land Israel. “ ’n Teks buite sy konteks is ’n versinsel.” En in die korrekte konteks van hierdie belofte is dit spesifiek gerig tot die Joodse volk en die land is spesifiek die Land Israel.

D. Job 22:27
Die vierde skrifgedeelte is Job 22:27, wat verklaar dat God iemand sal verhoor wat tot Hom bid. God is gretig om ons gebede te hoor.

E. Job 33:26
Die vyfde skrifgedeelte is Job 33:26, wat verklaar dat God welbehae het in iemand wat tot Hom bid. God wil ons gebede hoor. Nie alleenlik sal Hy ons gebede aanhoor nie, Hy sal ook begin om guns te betoon aan diegene wat konsekwent is in hulle gebedslewe.

F. Psalm 50:14-15
Die sesde skrifgedeelte is Psalm 50:14-15, wat verklaar: Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy moet My eer.

In albei Testamente word gebed beskou as ’n offer. Een van die maniere waarop ons tot God offer, is om tot Hom te bid. Ons moet veral ons bidoffers of ons dankoffers tot God offer wanneer ons onsself in ’n moeilik hanteerbare situasie bevind; op sulke oomblikke moet gebed ons toevlug wees.

G. Psalm 65:3
Die sewende skrifgedeelte is Psalm 65:3, wat verklaar: o Hoorder van die gebed.

Weer eens word die belofte gemaak dat God ons gebede sal hoor. As dit Sy kenmerkende eienskap is om ons gebede aan te hoor, moet dit ons eienskap wees om na Hom toe te gaan en tot Hom te bid.

H. Psalm 86:5-7
Die agtste skrifgedeelte is Psalm 86:5-7. Vers 5 sê dat God altyd gereed is om te vergewe. In verse 6-7 sê die psalmdigter: HERE, luister na my gebed en let op die stem van my smekinge. In die dag van my benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my.

Hier pas die psalmis die feite toe van Psalm 65 wat in die vorige paragraaf bespreek is. Die belofte in Psalm 65:3 is dat God gebede sal aanhoor. Omdat God gereed is om te vergewe, keer die psalmis hom nou tot God in gebed en hy vra God om te luister na sy gebed en smekinge. Hy het die volle versekering dat God hom sal antwoord as hy in die dag van nood tot Hom roep.

I. Psalm 102:18
Die negende skrifgedeelte is Psalm 102:18, wat sê dat God die gebede verhoor van hulle wat ontbloot is, dit wil sê, hulle wat verlate of armoedig is. Hy verag nie hulle gebed nie. God het besondere mededoë met diegene wat nooddruftig is en tot Hom nader, en Hy sal nie hulle gebed verag op grond van hulle ekonomiese status nie.

J. Spreuke 15:8
Die tiende skrifgedeelte is Spreuke 15:8: die gebed van die opregtes is Hom welgevallig. God verbly Hom wanneer die opregtes van hierdie aarde besig is om te bid. Wanneer God se gelowige kinders tot Hom bid, vind Hy vreugde in hierdie gebede.

K. Spreuke 15:29
Die elfde skrifgedeelte, Spreuke 15:29, sê: die gebed van die regverdiges hoor Hy.

Die regverdiges is nie diegene wat “volmaak sondeloos” is nie. As enige een van ons volmaak sondeloos moes gewees het om te kon bid, sou ons nooit daartoe in staat gewees het om te bid nie. Die regverdiges op hierdie aarde is hulle wat regverdig verklaar is op grond van die toerekening van God se geregtigheid deur ons geloof. God belowe dat almal van ons wat ons in geloof na Hom wend, se gebede verhoor sal word.

L. Lukas 11:13
Die twaalfde skrifgedeelte is Lukas 11:13, wat sê dat God die Heilige Gees sal gee aan hulle wat daarvoor sal vra. In die Ou Testament is die Gees nie outomaties gegee aan iemand wat geglo het nie. Hierdie stelling van Jesus in Lukas 11:13 is nog gemaak in die Bedeling van die Wet en nie die Bedeling van Genade nie. Onder die Wet is die Heilige Gees nie aan elke gelowige gegee nie; en selfs diegene wat wel die Heilige Gees gehad het, het nie die Gees permanent gehad nie. Dawid se gebed in Psalm 51:13: Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie, was dus ’n geldige, Ou Testamentiese gebed. Dit is egter nie ’n geldige, Nuwe Testamentiese gebed nie. Maar hier, in Lukas 11, het dit wel nog gegeld vir daardie gelowiges in die evangelieperiode wat steeds onder die ou bedeling gestaan het toe die gee van die Gees nie outomaties was nie. God sou die Heilige Gees gee aan daardie gelowiges wat Hom daarvoor sou vra. Vandag hoef ons egter nie hierdie gebed van Dawid te bid nie; die oomblik wanneer ons glo, ontvang ons die Heilige Gees.

M. Johannes 4:10
Die dertiende skrifgedeelte is Johannes 4:10, wat sê dat God die ewige lewe sal gee aan hulle wat vra. Om vir God te vra, is om tot Hom te bid. As ons tot God bid en Hom vra vir die ewige lewe, sal Hy dit vir ons gee. Ons moet egter aan die voorwaarde voldoen; en dit is om in geloof te bid. In hierdie geval vereis die geloof wat red, dat ons moet glo dat Jesus vir ons sondes gesterf het; begrawe is; en weer opgestaan het.

N. Johannes 9:31
Die veertiende skrifgedeelte is Johannes 9:31, wat sê dat God iemand hoor wat God aanbid. As ons God aanbid, as ons Sy Godheid vrees, as ons God aanbid ten opsigte van al Sy attribute, sal God ons hoor.

O. Jakobus 1:5-7
Die vyftiende skrifgedeelte is Jakobus 1:5-7. Vers 5a sê: En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt.

As jy gekonfronteer word deur ’n besluit wat geneem moet word, moenie bid vir tekens nie, moenie bid vir geopende of geslote deure nie, moenie tot God bid vir sulke spesifieke manifestasies, wat hedendaags gewoonlik nie in God se wil is om te gee nie. Ons word vermaan om ons keuses uit te oefen op grond van goddelike wysheid. Moenie bid vir spesifieke tekens nie, maar bid vir wysheid om die regte besluit te neem.

VI. DIE BEPLANNING VAN GEBED
Ons het ’n voorbeeldgebed wat bekend staan as “Die Onse Vader” en wat elke Sondag in baie verskillende kerke voorgelees of opgesê word. Dit was egter nie wat Jesus met hierdie gebed bedoel het toe Hy dit bekendgestel het nie. Die bedoeling was om ’n voorbeeld te gee waarvolgens ons ons gebede kan beplan, want hoewel ons gebede aan die een kant nie in voorgeskrewe vorm moet wees nie, moet dit aan die ander kant ook nie onordelik wees nie. Die balans word gevind in beplanning waarvolgens ons ons gebedslewe kan organiseer.

Die beplanning van gebed word in vier afdelings bespreek.

A. Die Skrifte
Daar is twee kern Skrifverwysings van hierdie voorbeeldgebed.

Die eerste Skrifverwysing is Matthéüs 6:9-13: Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Die tweede Skrifverwysing is Lukas 11:2-4: En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons elke dag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

B. Die Vraag van die Dissipels
Die beginsel soos Jesus dit bedoel het, is duidelik in albei Evangelie weergawes. Matthéüs het gesê: Só moet julle dan bid. Lukas het gesê: Wanneer julle bid. Uit Matthéüs 6:7 is dit duidelik dat dit nie bedoel was as ’n rituele formule vir voorgeskrewe gebed nie. Want as dit bedoel was as ’n rituele formule, as dit bedoel was om week in en week uit herhaal te word, sou dit geval het onder die ydele herhaling van woorde waarteen Matthéüs 6:7 waarsku.

Direk nadat Jesus gesê het om nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene te gebruik nie, het Hy voortgegaan om vir ons ’n plan te gee, nie stellings wat herhaal moet word nie. Tog doen mense met hierdie voorbeeldgebed presies wat Jesus gesê het nie gedoen moet word nie. Weer eens, die bedoeling van hierdie “Onse Vader” gebed was nie om ’n rituele formule vir voorgeskrewe gebed te wees nie; dit was slegs bedoel as ’n skematiese plan vir ’n voorbeeldgebed. Daarom het Hy gesê: [of op so ’n manier]; dit is waar die klem lê.

In die konteks van Lukas 11:1 het die dissipels nie vir Jesus gevra, “Here, leer vir ons ’n gebed” nie. Die dissipels het na Hom toe gekom en gesê: Here, leer ons bid. Die rede hoekom hulle nie geweet het hoe om te bid nie, was omdat gebede in daardie tyd van die Joodse geskiedenis voorgeskryf was in die Judaïsme, net soos in baie kerke vandag. Voorgeskrewe gebed druis in teen wat die Bybel leer. Voorgeskrewe gebed is ydele herhaling van woorde. Teen daardie tyd het die Judaïsme gedegenereer tot ’n godsdiens van voorgeskrewe gebed net soos die godsdienste van die Heidene.

Die dissipels het dus geweet hoe om baie gebede te lees; hulle kon die baie gebede wat hulle uit die kop geleer het, almal opsê; maar hulle het nie geweet hoe om spontaan te bid nie. Die vraag wat hulle gestel het, was hoe hulle spontaan moes bid. Die gebed wat as die “Onse Vader” bekend staan, word nooit in die Boek Handelinge gebid nie. Dit word nooit in enige van die Sendbriewe gebid nie. In sowel die Boek Handelinge as die Sendbriewe is gebede opgeteken, maar hierdie een is nie een daarvan nie.

C. Die Versoeke
In totaal is daar ses versoeke in hierdie voorbeeldgebed. Drie hiervan handel oor God en Sy heerlikheid; en drie hou verband met die mens en sy behoeftes.

D. Die Plan
1. Die Invokasie (Smeekbede)
Daar is ses hoofpunte in die plan.

Die eerste hoofpunt van die plan is die aangespreekte. Ons moet ons gebede rig tot God die Vader. Die weergawes in beide Matthéüs en Lukas lui: Onse Vader wat in die hemele is. Daar is nooit enige grond vir ons om ons gebede te rig tot óf die Seun óf die Heilige Gees nie. Al ons gebede moet gerig word tot God die Vader. In beide weergawes van hierdie gebed is al die voornaamwoorde in die meervoud. Dit toon aan dat ons, wanneer ons bid, as ’n gemeente bid, as die Liggaam van Christus. Dit is die invokasie (smeekbede).

Wanneer ons ons gebed begin, doen ons dit met ’n smeekbede deur ons gebed te rig tot God die Vader. En onthou, alle gebed berus op en word bevestig deur die regte verhouding met God die Vader, en as ons dus in gemeenskap met God verkeer, kan ons tot Hom nader. As ons nie in gemeenskap met God die Vader verkeer nie, kan ons nie tot Hom nader nie. Deur ons gebed te rig tot God die Vader as Vader, onderskryf dit die familieverhouding wat ons met God die Vader het.

2. Om God te Heilig
Die tweede hoofpunt is om God te heilig. Beide weergawes in Matthéüs en Lukas sê: laat u Naam geheilig word. Dit beteken, “veroorsaak dat u Naam geheilig word”; “veroorsaak dat u Naam gewy word”; “veroorsaak dat u Naam afgesonder word”. God se Naam staan vir Sy natuur. Sy natuur beteken alles wat Hy is. Om God te heilig, beteken om God af te sonder; God se Naam moet hooggeag en eerbiedig word.

Gebed is ’n tyd om na te dink oor die kenmerkende eienskappe van God en hoe dit die gelowige raak. Dit is ’n goeie tyd om ’n boek oor die attribute van God te bestudeer en ’n lys daarvan op te stel en te kyk hoe elke attribuut van God ons raak. Hierin heilig ons God; ons sonder Hom af.

3. Betreffende die Koninkrykprogram
Die derde hoofpunt van die plan gaan oor die Koninkrykprogram. Beide weergawes in Matthéüs en Lukas sê: laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. In hierdie deel van ons gebed bid ons vir God se doelwitte in die geskiedenis om volbring en voltooi te word. Dit is die tyd om vir ander se redding te bid. Dit is die tyd om vir die redding van Israel te bid. Dit is die tyd om te bid: Amen, ja kom, Here Jesus! – die tyd om te bid vir die Wegraping; te bid vir die Wederkoms. Dit beteken ook persoonlike onderwerping aan God se gesag met betrekking tot Sy plan en Sy program.

4. Betreffende Persoonlike Versoeke
Die vierde hoofpunt van die plan is om vir ons daaglikse behoeftes te bid. Die weergawe in Matthéüs sê: gee ons vandag ons daaglikse brood. Op hierdie punt rig ons versoeke van persoonlike aard. Ons bid vir ons onmiddellike behoeftes – ons voedselvoorsiening; ons huishuur of ons huispaaiemente; of wat ons behoeftes ookal mag wees.

5. Betreffende Vergifnis van Sondes
Die vyfde hoofpunt van die plan handel oor die vergifnis van sondes. Die weergawe in Matthéüs lui: vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Die weergawe in Lukas lui: vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is.

Die woorde skulde/skuldig hier, verwys na die morele aspekte van die Wet van Moses. Wanneer ons sondig, haal ons onsself ’n skuldlas op die hals. Ons moet van hierdie skuld ontslae raak deur ons sondes te bely (I Joh. 1:9). Soos wat ons andere vergewe, so kry ons gemeenskaps-vergifnis van God. Gemeenskaps-vergifnis van God word vooraf bepaal deur ons vergifnis van ons broers en susters (Matt. 6:14-15; 18:35).

6. Betreffende Geestelike Oorlogvoering
Sesdens bid ons omtrent geestelike oorlogvoering. Die weergawes in Matthéüs en Lukas lui albei: lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is nie ’n pleidooi om ons van toetsing te vrywaar nie, maar ’n pleidooi om ons te bewaar sodat ons nie aan versoeking sal toegee nie. Dit is ’n pleidooi om ons van die bose in die algemeen te bewaar, en om ons in die besonder te bewaar van die Bose een, die duiwel. Ons verpligting is om te waak en te bid dat ons nie in versoeking sal kom nie (Matt. 26:41).

VII. GEBEDSPLEKKE
Die Bybel lê nie klem op enige spesifieke plek waar gebid moet word nie. Die klem in die Bybel val op afsondering.

In Matthéüs 6:6 sê Jesus: Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. Uit hierdie vers kry ons die basiese bybelse beginsel omtrent die korrekte plek vir gebed: die beginsel van afsondering.

In die Bybel sien ons dat mense op verskillende plekke bid. Daniël, byvoorbeeld, het in ’n privaat woning gebid (Dan. 6:10). In Matthéüs 6:6 het Jesus gesê jy moet in jou binnekamer bid. In Matthéüs 14:23 het Hy op die berg geklim om te gaan bid; maar in Markus 1:35 het Hy na ’n eensame plek toe gegaan om te gaan bid (volgens die Engelse Bybel was dit die woestyn). In Handelinge 12:5, 12, het die gemeente in ’n privaat woonhuis gebid. In Handelinge 16:13 en 16, het hulle langs ’n rivier gebid. In Handelinge 21:5, het hulle op die strand neergekniel om te bid. In I Timótheüs 2:8, word daar gesê dat ons op elke plek moet bid.

Daar is dus geen voorgeskrewe gebedsplek in die Bybel nie, want die Woord moedig ons aan om altyd, voortdurend, konstant, op gebed ingestel te wees. Ons moet gebede kan laat opgaan waar ons ons ookal bevind: buite, binne, in ’n motor, in ’n huis, in ’n vliegtuig, in ’n trein, of selfs terwyl ons met die straat afstap. Die Bybel laat ons toe om op enige plek te bid, enige plek waar ons ookal mag wees.

VIII. GEBEDSTYE
Ons het reeds gesien dat daar geen vasgestelde plek vir gebed is nie en dat ons in enige situasie mag bid. Maar watter tyd is die regte tyd vir gebed? Hier kan agt dinge genoem word.

A. Verskillende Tye
Een, die Bybel leer dat ons op verskillende tye moet bid. Psalm 55:18 noem byvoorbeeld saans, smôrens en smiddags. Daniël het drie maal op ’n dag gebid (Dan. 6:11). I Timótheüs 5:5 praat daarvan om te bly in smekinge en gebede nag en dag. Lukas 18:1 leer dat ’n mens gedurig moet bid.

Daar bestaan ’n algemene konsep wat baie geestelik klink, maar nie regtig bybels is nie: die kwessie van ’n stiltetyd in die oggend. Ek is nie teen ’n stiltetyd in die oggend nie. Ek is net teen die mense wat sê dat elke gelowige ’n stiltetyd in die oggend moet hê. Diegene wat dit leer, verwys dikwels na Skrifte wat handel oor gebed in die môre. Maar soos ons pas gesien het, leer die Bybel ons dat daar verskillende tye vir gebed kan wees. Daar word ook gepraat van gebed in die middag en gebed in die aand. As ons die skrifgedeeltes oor oggendgebed gaan gebruik om stiltetyd in die oggend te leer, kan ons ook ander skrifgedeeltes gebruik om stiltetyd in die middag of die aand te leer.

Ek dink die waarheid is dat God van ons verwag om ’n gedeelte van ’n dag aan Hom toe te wy, maar watter gedeelte van die dag dit moet wees, kan deur elke individu self bepaal word. Op hierdie gebied is daar geen bybelse vaste reël of voorskrif nie. Ons moet regdeur die dag daarvoor oop wees om tot die Here te bid; maar ek dink elke individu kan self die besluit neem omtrent die bepaalde gedeelte van die dag. Die Bybel spesifiseer in elk geval geen stiltetyd nie, wat nog te sê in watter gedeelte van die dag die stiltetyd moet wees. Die Bybel praat van verskillende gebedstye net soos dit praat van verskillende gebedsplekke.

B. Oggendgebed
Twee, daar is skrifgedeeltes wat van gebedstyd in die oggend praat. Psalm 5:4: In die môre, HERE, sal U my stem hoor. Psalm 88:14: maar ék, HERE, roep U aan om hulp, en in die môre kom my gebed U tegemoet. Markus 1:35 leer ons dat Jesus vroeg in die môre gebid het.

C. Aandgebed
Drie, die Bybel praat ook van gebed in die aand. In Psalm 141:2, 5, is die gebed: soos die aandoffer. Daar is voorbeelde van aandgebede in Matthéüs 14:23 en 26:36-44. In Lukas 6:12 lees ons van gebed regdeur die nag. Daar is dus verse wat leer van gebed in die môre; maar ook verse wat leer van gebed in die aand en gebed regdeur die nag.

D. Regdeur die Dag
Vier, hoewel ons vry is om regdeur die dag te bid, word dit ook in die Bybel aangetoon dat gelowiges spesifieke tye opsy gesit het vir gebed (Hand. 3:1; 10:9, 30). Hoewel daar dus vryheid is om op enige gegewe oomblik te bid, kan daar ook vasgestelde tye wees vir gebed. Daar is niks mee verkeerd om ’n spesifieke tyd vir gebed te skeduleer nie.

E. In Tye van Nood en Krisisse
Die vyfde saak omtrent gebed gaan oor gebed in tye van nood en krisisse. Die Bybel moedig ons aan om te bid wanneer ons in sulke situasies verkeer. In I Kronieke 5:20 het die Israeliete in die hitte van die geveg tot God gebid. Dieselfde gebeur in II Kronieke 13:13-16 en 20:1-19. Psalm 50:15 sê: en roep My aan in die dag van benoudheid. Psalm 77:2-3 en Psalm 86:7 leer ons dat ’n mens in die dag van benoudheid die Here moet soek. Psalm 130:1: Uit die dieptes roep ek U aan, o HERE! Jona, in Jona 2:1-9, het gebid terwyl hy in die see was. In Lukas 22:35-46 het Jesus gebid tydens Sy foltering in Getsémane.

F. Voor Maaltye
Die sesde saak is om voor maaltye ’n dankgebed tot die Here te rig. Matthéüs 14:19 en Handelinge 27:35 praat van gebed voor maaltye. In I Timótheüs 4:4-5 wys Paulus daarop dat alle voedsel met danksegging ontvang [moet] word en enigiets wat ons eet, word geheilig deur die woord van God en die gebed.

G. In Besige Tye
’n Sewende saak omtrent gebed, is om te kan bid al is ’n mens hoe besig (Luk. 5:15-16). Dis baie maklik om ons af te sonder vir gebed wanneer ons nie besig is nie, maar juis wanneer ons op ons besigste is, behoort ons nou en dan ’n paar sekondes lank stil te raak om net die Here te dank, tot Hom te bid, aanmoediging te soek, en krag te vra. Ons moet nooit so besig raak dat ons dink ons het nie tyd om te bid nie.

H. Voortdurende Gebed
Die agtste saak omtrent gebedstye, is dat gebede te alle tye gebid moet word. Ons moet voortdurend standvastig gereed wees om te bid. Lukas 18:1 verklaar: dat ’n mens gedurig moet bid. Efésiërs 6:18 sê ons moet: by elke geleentheid bid. I Thessalonicense 5:17 sê: Bid sonder ophou. Weer eens, ons moet altyd gereed en gewillig wees en daarna voel om te alle tye te bid.

Soos wat die geval is met gebedsplekke, is daar dus ’n verskeidenheid van gebedstye, maar ons moet versigtig wees om nie wetties op te tree ten opsigte van enige een van die twee gebiede nie.

IX. DIE LIGGAAMSPOSISIE
Net soos dit die geval is met gebedsplekke en gebedstye, kan daar ook verskeie liggaamsposisies wees wanneer ons in gebed verkeer; geen vasgestelde reël geld nie. Wat die liggaamsposisie tydens gebed betref, is daar nege spesifieke opsies waarna die Bybel verwys.

A. Staande
Een, die Bybel noem ’n staande posisie in gebed. Om regop te staan terwyl ’n mens bid, is dus ’n geldige liggaamsposisie (Mark. 11:25; Luk. 8:13; Joh. 17:1).

B. Knielend
’n Tweede posisie is knielend. Deesdae is dit nie eintlik meer gebruiklik in gemeentelike opset nie. Ek dink ons kan dit oorweeg om dit meer dikwels so te doen, maar ons moenie wetties daaroor raak nie. Dit behoort egter definitief in balans gebring te word met sommige van die ander posisies (I Kon. 8:54; Luk. 22:41; Hand. 20:36; Ef. 3:14). Om te kniel, is ook ’n geldige liggaamsposisie tydens gebed.

C. Op die Aangesig
Die derde posisie is om op die aangesig te lê (Matt. 26:39). Wanneer ons staan, staan ons regop op ons voete. Wanneer ons kniel, is ons knieë op die grond terwyl die res van ons liggaam steeds in ’n regop posisie is. Wanneer ons op die aangesig lê, bring ons ons hoofde neer tot by die grond en ons voorkop raak die grond. Die liggaam kan heeltemal plat lê, en dit is soos om in ’n horisontale posisie regop te staan; of anders kan die voete steeds in ’n knielende posisie wees terwyl die hoof plat teen die grond is. Hierdie liggaamsposisie word ook selde ingeneem, behalwe in baie buitengewone omstandighede; maar dit is ’n geldige opsie vir ’n korrekte liggaamsposisie tydens gebed.

D. Lêposisie
’n Vierde posisie is om in die bed te lê. Soms is mense te siek om te beweeg, en om in die bed te lê en bid is ’n geldige liggaamsposisie (II Kon. 20:2; Ps. 63:7).

E. Sittend
’n Vyfde posisie is sittend (I Kon. 18:42). Ek vermoed dit is die posisie wat deesdae by die meeste van ons gebruiklik is, ongeag daarvan of dit in ons privaat gebedslewe of tydens gemeentelike gebed is. Hoewel hierdie posisie dalk vandag te veel in gebruik is, is dit ’n geldige opsie.

F. Opgehang aan ‘n Kruis
Die sesde posisie wat in die Bybel voorkom, is nie by ons gebruiklik nie: Opgehang aan ’n kruis. In Lukas 23:42 het die kwaaddoener gebid terwyl hy aan ’n kruis gehang het. Ons kan egter ’n toepassing hieruit aflei, want die gebed wat daar aan ’n kruis gebid is, was te midde van ’n teregstelling. As ons onsself in ’n ekstreme situasie bevind, moet ons bid ongeag van wat die situasie mag wees. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat ons in ’n sekere liggaamsposisie geforseer word as gevolg van vervolging of iets anders, en selfs in so ’n geforseerde situasie en liggaamsposisie kan ons bid.

G. Lopend op Water
’n Sewende posisie wat ons in die Bybel sien, is Petrus wat gebid het terwyl hy op die water loop (Matt. 14:30). Die meeste van ons sal nooit op water loop nie. Maar weer eens, in ’n situasie waar ons in ’n unieke liggaamsposisie verkeer, soos byvoorbeeld op ’n nou rotslys van ’n berg, behoort ons daartoe instaat te wees om ’n gebed uit te spreek. Ons moet in enige en in alle omstandighede daartoe instaat wees om met God te kommunikeer.

H. Geboë Hoof
’n Agtste posisie is met geboë hoof (Gen. 24:26; Ex. 4:31; 12:27).

I. Oë Toe of Oop
Die negende saak omtrent die liggaamsposisie in gebed, gaan oor die oë. Hoewel ons daaraan gewoond geraak het om met toe oë te bid, is daar nêrens in die Bybel enige voorbeeld van mense wat met toe oë bid nie. Ons lees egter van mense wat met oop oë en opgehefde hoof bid (Joh. 11:41; 17:1). Dit is nie ’n sonde om jou oë in gebed toe te maak nie. Daar is ook niks daarmee verkeerd om met oop oë te bid nie, solank as die oop oë nie maak dat jou aandag afgetrek word nie. Maar dan weer, party mense wat met toe oë bid, se gedagtes dwaal ook maar en baie mense kan dus beter konsentreer wanneer hulle oë oop is terwyl hulle bid. Maar ook hierin, weer eens, is daar vryheid in die Here.

X. DIE KRAG EN RESULTATE VAN GEBED
Die uitvloeisel van gebed is dat dinge gebeur. Daar is ten minste ses dinge in die Bybel waarop gewys kan word om sowel die krag as die resultate van gebed aan te toon.

Een, In Exodus 32 het God gedreig om Israel te verdelg as gevolg van hulle sonde met die goue kalf; maar Moses se gebed in Exodus 32:11-14 het Israel gered.

’n Tweede voorbeeld van die krag en resultate van gebed handel oor Samuel. Samuel was daartoe in staat om die Filistyne deur sy gebedslewe te verslaan (I Sam. 7:5-14).

Derde is Elía. Elía was daartoe instaat om ’n droogte te breek deur op grond van sy gebed reën te bring (I Kon. 18:41-45). Jakobus verwys hierna (Jak. 5:17-18) om mense aan te moedig om te bid, want die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag (vers 16).

Vier, gebed volbring die goddelike doel (I Joh. 5:14-15). God het ’n doel, maar gebed is een van die maniere waardeur daardie doel bereik word. Onthou, die doel van God word nie net volbring nie, dit word ook op sekere wyses volbring. Die wyse waarop God soms Sy wil sal volbring, is deur die bemiddeling van gebed.

Vyf, gebed loop uit op definitiewe antwoorde (Mark. 11:24; Joh. 14:13-14).

Ses, gebed loop uit op die verheerliking van God; God word verheerlik deur ons gebede (Joh. 14:13).

[end]

Inhoudsopgawe
I. DIE DEFINISIE VAN GEBED
     A. Die Woorde wat Gebruik Word
         1. Die Hebreeuse Woorde
             a. Tphilah en Hitpaliel
             b. Techinah en Hitchanein
             c. Challah
         2. Die Griekse Woorde
             a. Eschomai, Proseochamai en Proscuchei
             b. Deomai en Desisis
             c. Aiteo en Aiteima
             d. Erotao en Eroteisis
             e. Eutugchano en Uperentugcheo
             f. Parakaleo en Parakaleisis
             g. Iketeiria
     B. Die Definisie
     C. Die Voorveronderstellings van Gebed
     D. Die Aard van Gebed
     E. Die Objek van Geloof
II. DIE SIMBOOL VAN GEBED
     A. In die Ou Testament
     B. In die Nuwe Testament
III. DIE REDES EN DOEL VIR GEBED
     A. Gebed Is ’n Opdrag
     B. Gebed Is Reg en Hoort So
     C. God Verleen Gawes en Seëninge deur Gebed
     D. Gebed is Noodsaaklik vir Oorwinning
     E. Gebed is die Voorbeeld van die Messias
     F. Gebed is die Voorbeeld van die Vroeë Kerk
     G. Gebed is ’n Kanaal van Verlossing
     H. Gebed is die Kanaal vir Geestelike Volwassenheid
IV. DIE VERMANINGS OM TE BID
     A. Lukas 18:1-8
     B. Romeine 12:12
     C. Kolossense 4:2
     D. I Thessalonicense 5:17
     E. I Thessalonicense 5:25
     F. I Timótheüs 2:8
     G. Filippense 4:6b
     H. Psalm 32:6
V. DIE BELOFTES VAN GEBED
     A. Exodus 22:22-24
     B. Deuteronómium 4:7
     C. II Kronieke 7:12-18
     D. Job 22:27
     E. Job 33:26
     F. Psalm 50:14-15
     G. Psalm 65:3
     H. Psalm 86:5-7
     I. Psalm 102:18
     J. Spreuke 15:8
     K. Spreuke 15:29
     L. Lukas 11:13
     M. Johannes 4:10
     N. Johannes 9:31
     O. Jakobus 1:5-7
VI. DIE BEPLANNING VAN GEBED
     A. Die Skrifte
     B. Die Vraag van die Dissipels
     C. Die Versoeke
     D. Die Plan
         1. Die Invokasie (Smeekbede)
         2. Om God te Heilig
         3. Betreffende die Koninkrykprogram
         4. Betreffende Persoonlike Versoeke
         5. Betreffende Vergifnis van Sondes
         6. Betreffende Geestelike Oorlogvoering
VII. GEBEDSPLEKKE
VIII. GEBEDSTYE
     A. Verskillende Tye
     B. Oggendgebed
     C. Aandgebed
     D. Regdeur die Dag
     E. In Tye van Nood en Krisisse
     F. Voor Maaltye
     G. In Besige Tye
     H. Voortdurende Gebed
IX. DIE LIGGAAMSPOSISIE
     A. Staande
     B. Knielend
     C. Op die Aangesig
     D. Lêposisie
     E. Sittend
     F. Opgehang aan ’n Kruis
     G. Lopend op Water
     H. Geboë Hoof
     I. Oë Toe of Oop
X. DIE KRAG EN RESULTATE VAN GEBED

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Drie tipes gebede word behandel: private gebede, openbare gebede (insluitende ongewensde openbare gebede) en ook eskatologiese gebede.