Die Bybel en Goddelike openbaring

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. – Hebreërs 1:1-2

INLEIDING
Daar moet by die begin daarop gewys word dat ’n studie oor die Bybel en Goddelike Openbaring nie die boek van Openbaring bedoel nie, maar eerder God se daad van openbaring soos Hy Homself deur die Heilige Skrif openbaar.

As ’n definisie kom die woord ‘openbaring’ van ’n Griekse woord wat ‘die ontsluiering’ beteken. Dit verwys na ’n goddelike daad van kommunikasie aan die mens wat andersins nie bekend sou wees, of kon wees nie. Goddelike Openbaring, en veral Bybelse openbaring, is ’n ontsluiering; dit is ’n goddelike daad waarmee God aan die mens daardie dinge kommunikeer – daardie waarhede – wat die mens andersins nooit sou kon weet, of op sy eie sou kon ontdek op enige wyse nie.

God kan alleenlik geken word omdat Hy Homself openbaar. Die aard van God is sodanig dat die mens, op sy eie, God nie kan ontdek nie. By sy terugkeer vanaf een van die eerste ruimtevaarte het ’n Sowjetruimtevaarder verklaar dat hy geen bewys van God daar buite kon sien nie, en daarom tot die gevolgtrekking gekom het dat kommunistiese ateïsme heeltemal korrek was. Maar net omdat hy God nie in die ruimte kon sien nie beteken nie dat God nie bestaan nie. God beskik oor ander maniere waarop Hy Homself openbaar. Om die waarheid te sê, iemand anders het die stelling gemaak dat die ruimtevaarder God redelik vinnig sou gesien het as hy uit sy ruimtetuig geklim het.

God is die Onbegryplike Een. Volgens Job 11:7 is dit onmoontlik vir enigiemand om ’n volledige of volmaakte kennis van God te hê. God is ’n oneindige wese, die mens is ’n beperkte wese met beperkte kennis. Die mens kan baie dinge oor God weet op grond van wat Hy oor Homself aan die mens geopenbaar het, maar al die mens se kennis kan steeds nooit ’n volmaakte kennis wees nie. Dit is onmoontlik vir ’n beperkte wese soos die mens om ’n volmaakte kennis van die oneindige God te hê.

Teologie is basies ʼn sistematisering van wat God geopenbaar het. Dit is op grond van Goddelike Openbaring dat daar antwoorde is op sommige van die mens se basiese vrae, soos, ‘Is daar ’n God? As daar is, kommunikeer Hy? As Hy kommunikeer, wat sê Hy?’ Goddelike Openbaring beantwoord al drie hierdie vrae. ‘Is daar ʼn God?’ Ja, daar is. ‘Kommunikeer Hy?’ Ja, Hy doen. ‘Wat sê Hy?’ Goddelike Openbaring handel oor alles wat Hy sê.

Daar is hoofsaaklik twee tipes Goddelike Openbaring: Algemene Openbaring en Spesiale Openbaring.

I. ALGEMENE OPENBARING
A. Die aard van Algemene Openbaring
Algemene Openbaring verwys na die manier waarop God Homself in die algemeen aan alle mense openbaar. Hierdie is dinge waarvolgens dit vir enigiemand op enige plek in die wêreld moontlik is om van God te weet, want God het Homself op ’n algemene manier aan almal geopenbaar. Die aard van Algemene Openbaring is dat hierdie openbaring omvat word in dinge. Algemene Openbaring is al gedefinieer as ‘die omvatting van goddelike denke in die verskynsel van die natuur, in die werklikheid of ervaring van geskiedenis, en die algemene samestelling van die menslike verstand’. Dit beteken dat God Homself op sekere maniere aan alle mense geopenbaar het, en dit is waarom dit Algemene Openbaring genoem word. Dit kom voor aan alle mense; dit is ʼn openbaring wat beskikbaar of bekombaar is aan alle mense. Die hoofdoel van Algemene Openbaring is om te voldoen aan die mens se behoefte aan geestelike antwoorde en om die siel van die mens te oorreed om na God te soek.

Onthou, Algemene Openbaring is die openbaring waarvolgens God Homself aan alle mense openbaar. Die klem daarvan is om die mens te kry om op ʼn werklike en persoonlike manier na God te begin soek.

B. Die metodes van Algemene Openbaring
Op watter wyse en deur watter metode openbaar God Homself in die algemeen aan alle mense? Volgens die Skrif is daar vier verskillende metodes van Algemene Openbaring.

1. Deur die natuur
Die eerste en primêre manier is deur die natuur. God het Homself in die algemeen aan alle mense geopenbaar deur die natuur. As ʼn mens die natuur bestudeer en daarvan leer, kan hy sekere dinge oor God leer. Byvoorbeeld, die psalmis verklaar dat die natuur aan die mens die begrip van die skepping openbaar in Psalm 19:1-6. As ʼn mens werklik die werk van die natuur bestudeer soos omvat in die natuurlike wette van die hemele en ruimte – soos hy die omwenteling en die volmaakte uniekheid van die harmonie van die heelal waarneem, soos hy die werklikheid dat die heelal ʼn ontwerp het, waarneem, dat dit op so ʼn manier werk dat hy sy horlosie daarvolgens kan stel, dat hy sy kalender daarvolgens kan stel – dit, sê die psalmis, openbaar die heerlikheid van God. Jesaja 40:12, 14 en 26 leer dat God ook, deur middel van die natuur, sy individualiteit geopenbaar het. Handelinge 14:14-17 verklaar dat die mens oor die goedheid van God kan leer deur middel van die natuur. Romeine 1:19-20 verklaar dat die mens die krag en goddelikheid van God in die natuur kan ontdek.

Dus is die natuur een manier waarop God Homself deur middel van Algemene Openbaring geopenbaar het, sodat die mens kan leer oor God se heerlikheid, individualiteit, goedheid, krag en goddelikheid.

2. Deur voorsienigheid
Die tweede metode van Algemene Openbaring is deur voorsienigheid. Dit is God se openbaring deur die geskiedenis. Geskiedenis is bloot die uitvoering van God se goddelike program van alle tye in al die detail. Deur geskiedenis te bestudeer, kan die mens oor God se voorsienigheid leer.

Volgens Job 38:22-23 wys die koms van sneeu in die dag van stryd die voorsienigheid van God. Byvoorbeeld, dit was geen toeval dat die Duitsers deur sneeu in Rusland gekeer is nie. Dit was geen toeval dat Napoleon op dieselfde manier gekeer is nie. ’n Mens wat die geskiedenis waarneem sal in staat wees om te sien dat die koms van sneeu geen vloekskoot was nie, maar dat dit God se voorsienigheid was wat in die geskiedenis uitgewerk is.

Psalm 75:6-7 leer dat mens deur voorsienigheid kan sien dat God in beheer is oor wie trone bestyg. Waarom word sekere mense verkies en ander nie? Waarom is daar verskillende sleutel persoonlikhede op dieselfde tyd in geskiedenis tegelykertyd in beheer; soos byvoorbeeld Hitler aan die een kant, en Stalin, Churchill, en Roosevelt aan die ander kant? Dit was die voorsienigheid van God wat hierdie dinge bewerk het. Handelinge 17:26 leer dat mens deur God se voorsienigheid kan sien hoe grense en grenslyne van nasies vasgestel word. Die voorsienigheid van God word ook, volgens Deuteronomium, deur die geskiedenis van Israel geopenbaar.

Voorsienigheid kan ook gesien word in die lewe van die gelowige, volgens Romeine 8:28. Dus is voorsienigheid die tweede manier waarop God Homself aan die mens deur Algemene Openbaring openbaar.

3. Deur bewaring
Die derde metode van Algemene Openbaring is deur bewaring. Die manier waarop God nasies, individue en dinge bewaar het, kan die mensdom ook sekere lesse leer.

Handelinge 17:28 handel oor menslike bewaring, terwyl Kolossense 1:17 en Hebreërs 1:3 handel oor algehele bewaring. Die bewaring van die heelal in inderdaad ʼn geheimenis vir die wetenskap, want die aard van die atoom is sodanig dat dit moet ontplof. En tog hou dit ditself bymekaar deur wat wetenskaplikes ‘atomiese gom’ noem. Wat is hierdie atomiese gom? Dit is God se werk van bewaring.

Hierdie is ook deel van Algemene Openbaring en nog ʼn manier waarop God Homself aan alle mense geopenbaar het.

4. Deur gewete
Die vierde metode van Algemene Openbaring is deur die gewete. Hierdie is die manier waarop God Homself geopenbaar het deur die uitoefening/aanwending van die onbeperkte/absolute wet.

Romeine 2:14-15 wys dat die onderhouding van die wet iets is wat deurgaans kenmerkend is van die ganse menslike wêreld. Oral in die mensdom, in elke gemeenskap, maak nie saak hoe primitief of hoe beskaafd, is daar ʼn stel basiese reëls, wat die resultaat is van hul gewete. Hierdie wys ook op ʼn metode van Algemene Openbaring.

C. Die beperking van Algemene Openbaring
Daar is tog ʼn sekere beperking tot Algemene Openbaring. Algemene Openbaring is beperk in die mate waartoe dit rakende twee aspekte kan openbaar, naamlik redding en veroordeling.

1. Rakende redding
Die eerste aspek waarin Algemene Openbaring beperk is, is in die ontoereikenheid daarvan om die mens tot redding te lei. Dit is onvoldoende om te red. Met ander woorde, hoewel Algemene Openbaring baie dinge oor God kan openbaar, kan mens nie die inhoud van die evangelie ontdek op grond van Algemene Openbaring nie. Geen mens kan die inhoud van die evangelie te wete kom of ken deur die natuur, voorsienigheid, bewaring of die gewete nie. Omdat Algemene Openbaring nie die inhoud van die evangelie uitstip nie, is dit onvoldoende om te red.

Handelinge 17:23 benadruk die feit dat Algemene Openbaring ʼn beperkte kennis bied. In Efesiërs 3:8-9, verklaar Paulus dat die evangelie verborge was vir die verstand van die mens.

2. Rakende veroordeling
Hoewel Algemene Openbaring onvoldoende is om te red omdat die evangelie nie daardeur openbaar word nie, is die tweede aspek waarin dit beperk is dat dit voldoende is om te veroordeel, volgens Romeine 1:20.

Mense vra soms, ‘Sal ʼn mens wat nog nooit van Jesus (Yeshua) gehoor het nie, hel toe gaan?’ Sommige mense wil antwoord, ‘Nee, mense wat nog nooit van die Messias gehoor het nie gaan in elk geval hemel toe.’ Die logiese gevolgtrekking op hierdie stelling is dat geen sendeling ooit na hierdie mense gestuur hoef te word nie. Die gevaarlikste ding om in hierdie geval te doen is om iemand ’n kennis van die evangelie te gee sodat hy dit kan verwerp, en daarom hel toe gaan! As hulle onkunde hulle in die hemel kan kry, behoort niemand teenoor hulle te getuig nie. Waarom moet hulle die geleentheid kry om die evangelie te hoor, dit te verwerp, en hel toe gaan?

Die waarheid is dat selfs hulle wat nog nooit van Jesus gehoor het nie uiteindelik hel toe kan gaan. Die rede hiervoor is dat Algemene Openbaring voldoende is om te veroordeel. Die beginsel van Romeine 1 is dit: As ’n mens volgens die lig wat hy het, leef, sal God seker maak dat hy meer lig kry, totdat hy die evangelie in ’n sekere vorm of op ’n seker manier of wyse hoor. Soos reeds gesê, ʼn mens kan ʼn hele aantal groot waarhede oor God leer deur Algemene Openbaring. As die mens dan volgens die lig van die Algemene Openbaring leef, sal God toesien dat hy meer lig ontvang.

Hierdie is een verklaring van hoe ʼn mens wat gebore en getoë is in die Midweste van Amerika, miskien in Kansas of Missouri, eensklaps ʼn sterk verpligting ervaar om na ʼn afgeleë stam in Afrika of Suid-Amerika te gaan waarvan min mense nog gehoor het. Hy het hierdie verpligting want daar is mense onder hierdie stamme wat volgens die lig leef wat hulle het, en as hulle meer lig gegee word, sal hulle glo. Dus stuur God iemand om die evangelie met hulle te deel. As ʼn mens sterf sonder om ooit die evangelie oor Jesus (Yeshua) die Messias te hoor, beteken dit dat hy nie sou geglo het nie, selfs al het hy die evangelie gehoor. Die bewys hiervan is dat hy nie volgens die lig wat hy gehad het, geleef het nie.

In Romeine 1:18-25 verduidelik Paulus dat die aard en neiging van die mensdom in die algemeen is om dit wat hy van Algemene Openbaring kan leer, te bederf. Byvoorbeeld, die mens kan oor die grootheid van God leer deur Algemene Openbaring, dat God Skepper is (v. 20). Maar wat het die mens met verloop van die geskiedenis gedoen? Het hy die Skepper as Skepper aanbid? Nee, die neiging van die mens was nie om volgens die lig van Algemene Openbaring wat hy reeds gehad het, te leef nie. In plaas daarvan het hy die skepsel aanbid, die geskapene, in die plek van die Skepper. Hy het begin om standbeelde en afbeeldings van diere of mense of engele te maak, en het hierdie dinge aanbid (vv. 23-25). Die gevolg hiervan, sê Paulus, is dat hulle hart verduister is (v. 21). Hulle is verduister omdat hulle nie volgens die lig wat tot hul beskikking was deur Algemene Openbaring, geleef het nie.

Waar Algemene Openbaring enersyds onvoldoende is om te red is dit andersyds voldoende om te veroordeel. By die groot wit troon oordeel wanneer die vraag gevra word, ‘Waarom het jy nie geglo in Jesus die Messias nie?’ mag die sondaar sê dat niemand aan hom die evangelie verkondig het nie, en so meen dat hy nie veroordeel sal word nie. Nietemin sal God dan aan daardie individu wys, deur middel van die rekords wat gehou word in die boeke waarna daar in Openbaring 20 verwys word, dat hy inderdaad kennis tot sy beskikking gehad het by wyse van Algemene Openbaring. Dit is duidelik dat hy die kennis wat tot sy beskikking was verwerp het deur nie volgens die lig wat hy gehad het, te leef nie, daarom is geen verdere lig aan hom gegee nie. Gevolglik het hy nooit die evangelie ontvang nie. Hy sal veroordeel wees omdat hy nie volgens die lig wat hy reeds gehad het, geleef het nie.

D. Opsomming
As opsomming van hierdie gedeelte is Algemene Openbaring dan ʼn metode van Goddelike Openbaring. Dit is die openbaring waarmee God Homself in die algemeen aan alle mense openbaar. Ons kan baie oor God leer deur Algemene Openbaring, maar dit is beperk in die opsig dat niemand die inhoud van die evangelie daardeur sal ontvang nie. Daarom is dit voldoende om te veroordeel, maar onvoldoende om te red.

II. SPESIALE OPENBARING
Die aard van Spesiale Openbaring

Die tweede belangrike metode van openbaring is Spesiale Openbaring. Die aard van Spesiale Openbaring is dat dit omvat word in woorde. Waar Algemene Openbaring omvat is in dinge, is Spesiale Openbaring omvat in woorde. In Spesiale Openbaring maak God Homself bekend op spesifieke tye, deur spesifieke persone, en op spesifieke maniere.

A. Die noodsaaklikheid van Spesiale Openbaring
Daar is drie redes waarom Spesiale Openbaring nodig is. Spesiale Openbaring is eerstens nodig om die waarhede van Algemene Openbaring korrek te vertolk of te verklaar. Deur Algemene Openbaring kan net soveel geleer word, en dit is selfs moontlik om hierdie waarhede verkeerd te vertolk. Daarom is Spesiale Openbaring nodig om die waarhede van Algemene Openbaring korrek te verklaar.

Die tweede rede vir Spesiale Openbaring is om die mens te voorsien van ʼn openbaring van redding. Algemene Openbaring kan nooit die inhoud van die evangelie weergee nie. Terwyl die mens baie oor God kan leer deur Algemene Openbaring, kan hy nooit oor redding te wete kom nie, want die evangelie self is nie beskikbaar deur Algemene Openbaring nie. Algemene Openbaring is onvolledige openbaring, maar deur Spesiale Openbaring is dit moontlik om volledige openbaring te kry op grond van redding wat duidelik aan ons verduidelik word.

Die derde rede vir Spesiale Openbaring is om dit wat voorkom as weersprekende elemente in Algemene Openbaring, te harmonieer. Algemene Openbaring wys beide die goedheid van God en die strengheid van God. Byvoorbeeld, die goedheid van God kan gesien word deur periodieke reën wat saad laat groei. Die strengheid van God kan gesien word deur verwoestende reën wat groeiende plante en graan verwoes. Dit blyk om God se aard te weerspreek. Dit is onmoontlik om hierdie waarhede deur middel van Algemene Openbaring te harmonieer, maar dit is moontlik deur Spesiale Openbaring.

B. Die metodes van Spesiale Openbaring
In Hebreërs 1:1-2 wys die skrywer dat God Homself regdeur Bybelse geskiedenis geopenbaar het deur ʼn aantal verskillende metodes of wyses van Spesiale Openbaring. Wat is hierdie verskeie maniere waarna die skrywer van Hebreërs verwys wanneer hy skryf oor die verskillende wyses van Spesiale Openbaring? Daar is altesaam ses verskillende maniere van Spesiale Openbaring.

1. Deur teofanies
Eerstens, ʼn baie algemene manier van Spesiale Openbaring in die Ou Testament is teofanies. ʼn Teofanie is die verskyning van God in sigbare vorm. In die Ou Testament het hierdie primêr in twee vorms gebeur. Die eerste vorm was deur middel van die Shekinah heerlikheid, wat ʼn sigbare manifestasie van God se teenwoordigheid was wat in die vorm van ʼn lig, ʼn vuur of ʼn wolk, of ʼn kombinasie van hierdie dinge gekom het.

Die tweede belangrike vorm van ʼn teofanie was die Engel van die Here. Wat baie duidelik word regdeur die bladsye van die Ou Testament is dat wanneer die Engel van die Here – die Engel van Jehova – verskyn het, dit nooit ʼn gewone engel was nie, maar altyd die tweede Persoon van die Drie-Eenheid wat in engelvorm verskyn het.

Dus was een manier van Spesiale Openbaring teofanies gewees, wat die verskyning van God in sigbare vorm was, of deur die Shekinah heerlikheid of deur die Engel van die Here.

2. Deur wonderwerke
Die tweede manier van Spesiale Openbaring was deur wonderwerke. Wonderwerke in Skrif is spesiale openbarings oor God.

a. Definisie van wonderwerke
’n Eenvoudige definisie van ʼn wonderwerk is dat dit ʼn ongewone gebeurtenis is wat ʼn bruikbare werk verrig deur die teenwoordigheid en die krag van God te openbaar. ʼn Meer volledige definisie van ʼn wonderwerk lees as volg: ‘ ʼn Gebeurtenis in die natuur wat self so ongewoon is, en so meeval met ʼn profesie of ʼn opdrag van ʼn geestelike leier of leraar, as om die oortuiging te waarborg dat God dit bewerk het met die oog daarop om hierdie leraar of leier as aangestelde deur God te verklaar’.

Basies is ʼn wonderwerk ʼn buitengewone gebeurtenis wat onverklaarbaar is in terme van gewone, natuurlike feite.

b. Die aard van wonderwerke
Die aard van wonderwerke kan op vier maniere gesien word. Eerstens is wonderwerke anders as voorsienigheid. Met voorsienigheid erken mense God nie noodwendig nie, maar met wonderwerke erken selfs ʼn ongelowige die bonatuurlike aard daarvan. Byvoorbeeld, in Handelinge 3:1–4:22, waar die wonderwerk van die genesing van die lam bedelaar gebeur het, het selfs ongelowiges dit erken as God se werk (Handelinge 4:14-16, 21-22). In Handelinge 14:8-18, toe ʼn kreupele genees is, het selfs ongelowiges erken dat dit God se werk was (verse 8-12). ʼn Wonderwerk is dus onderskeibaar van voorsienigheid in die opsig dat selfs ongelowiges wonderwerke se bonatuurlike aard sal erken.

Tweedens is die aard van wonderwerke anders as beantwoorde gebed in die sin dat dit nie beskou moet word as ʼn teken nie. Aan die een kant kan ʼn wonderwerk die gevolg van beantwoorde gebed wees, maar dis nogtans onderskeibaar van die beantwoorde gebed self in die opsig dat wonderwerke sonder gebed kan plaasvind.

Die derde manier waarop die aard van wonderwerke gesien kan word, is dat dit nie natuurlike wette verbreek nie, maar dat dit die gevolg is van bonatuurlike krag wat hierdie wette vervang of ophef.

Die vierde manier waarop die aard van wonderwerke gesien kan word, is dat wonderwerke bonatuurlik is in karakter, wat goddelike krag ontbloot soos gesien in Johannes 3:2.

c. Kategorieë van wonderwerke
Basies is daar twee kategorieë of tipes wonderwerke. Een kategorie is wanneer natuurwette toeneem in intensiteit; soos die algehele vloed in Noag se tyd. Dit is nie onnatuurlik om vloede op hierdie planeet te hê nie, maar in die geval van die wêreldwye vloed, was dit ʼn vloed wat so toegeneem het in intensiteit dat dit wonderwerk status bereik het.

ʼn Tweede kategorie of tipe wonderwerk is wanneer die deelname van die natuur geheel en al uitgesluit word. Waar die natuurwette in die eerste kategorie toeneem in intensiteit deur God en die natuur wat saamwerk, word die natuur in die tweede kategorie heeltemal uitgesluit. Hierdie is wonderwerke soos water vanuit ʼn rots of die opwekking van dooies. In geen opsig kan daar gesê word dat die natuur hier meewerk met God nie.

d. Aspekte van wonderwerke
Daar is drie aspekte van wonderwerke. Die eerste aspek is dat dit buitengewone werke van God is en dat dit die uitoefening van sy bonatuurlike, goddelike krag wys, wat verwondering veroorsaak, soos gesien kan word in Eksodus 14:31 en Lukas 9:43.

ʼn Tweede aspek van wonderwerke is dat dit bewerk word deur verkose mense, maar Handelinge 2:22 en 19:11 wys dat daar erken word dat die krag van God af kom.

Die derde aspek van wonderwerke is dat dit openbaringsgebeure is wat die waarheid ontsluier.

e. Doel van wonderwerke
Daar is drie hoofdoele vir wonderwerke. Die eerste doel is om ʼn nuwe openbaring van God te bevestig soos gesien kan word in Mattheus 12:28.

Die tweede doel is om lering te bevestig. Maar hierdie twee – wonderwerke en lering – moet in samewerking met mekaar wees. ʼn Lering kan alleen staan, maar wonderwerke kan nie alleen staan nie, want Satan kan ook wonderwerke voortbring. Dis hier waar mense meegesleur raak deur bewegings waar hulle nooit volwasse word of nooit gered word nie omdat hulle aanvaar dat die blote bestaan van die bonatuurlike outomaties beteken dat dit van God af kom. Niks kan meer onwaar wees nie, want Satan self kan wonderwerke doen.

Byvoorbeeld, Mattheus 7:22-23 sê dat baie in daardie dag vir Jesus sal sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Wonderwerke bevestig nie lering nie. Maar lering bevestig die wonderwerk. Dit is waarom elke wonderwerk deur lering getoets moet word, deur die Woord van God, om seker te maak dit is van God, en nie van Satan nie.

Die derde doel van wonderwerke is om die krag van God te manifesteer, of sigbaar te maak.

f. Woordeskat van wonderwerke
Daar is vier verskillende woorde wat vir die begrip wonderwerke gebruik word, elk benadruk ʼn besondere aard. Die eerste woord is ‘wonder’. Wanneer ʼn wonderwerk ʼn wonder genoem word, benadruk dit wat die wonderwerk sal meebring; dit veroorsaak verwondering in die waarnemer.

Die tweede sleutelwoord vir wonderwerk is ‘krag’. Wanneer die woord ‘krag’ gebruik word, benadruk dit dat ʼn wonderwerk deur goddelike krag gedoen word.

Die derde woord vir ʼn wonderwerk is ‘werking’. Wanneer die woord ‘werking’ gebruik word vir ʼn wonderwerk, benadruk dit wat die wonderwerk bereik: ʼn praktiese en voordelige werk.

Die vierde term vir ʼn wonderwerk is ‘teken’. Wanneer hierdie woord gebruik word vir ʼn wonderwerk, beteken dit dat die wonderwerk die boodskap se egtheid bewys of bekragtig en dat die boodskapper van God is.

g. Voorkoms van wonderwerke
Ons word dikwels vertel in baie kringe dat daar altyd wonderwerke regdeur die Bybel was, en, daarom, dat daar altyd vandag wonderwerke sal wees. Maar dis nie waar nie.

In werklikheid was daar in die ganse tydperk van bybelgeskiedenis van bykans tweeduisend jaar slegs vier belangrike tydperke van wonderwerke. Die eerste tydperk was die een van die uittog uit Egipte en die rondtrek in die woestyn, wat maar veertig jaar geduur het. Die tweede is die tydperk van Elia en Elisa. Die derde tydperk van wonderwerke is die tyd van Daniël en sy drie vriende. Die vierde belangrike tydperk is die van die Messias en die apostels. Dus was daar maar vier vername tydperke van wonderwerke. Oor die algemeen het wonderwerke nie die hele tyd gebeur nie. As wonderwerke ʼn normale gebeurtenis was, sou dit nie meer wonderbaarlik gewees het nie.

Die aard van wonderwerke is die idée van die buitengewone, die idée van die ongewone, iets wat nie op ʼn gereelde basis gebeur nie.

3. Deur direkte kommunikasie
Die derde manier van Spesiale Openbaring is deur direkte kommunikasie. Hierdie is die primêre manier waarop God met die profete gepraat het, volgens Numeri 12:5-8 en 1 Samuel 28:6. Eintlik is die hele aard van ʼn profeet een wat direkte openbaring van God ontvang.

Direkte kommunikasie het op sewe maniere gebeur. Die eerste was mond tot mond en aangesig tot aangesig. Dit was veral waar vir Moses. Dit was mond tot mond kommunikasie met Moses in Numeri 12:7-8; en dit was aangesig tot aangesig in Deuteronomium 34:10.

ʼn Tweede manier van direkte kommunikasie was deur ʼn hoorbare stem waarin mens die stem van God in die hemel kon hoor. Sommige voorbeelde hiervan is Adam in Genesis 2:16; Kain in Genesis 4:6-15; Noag in Genesis 9; die menigte by berg Sinai in Eksodus 19:9 en 16; Samuel in 1 Samuel 3:4-14; Paulus in Handelinge 9:4 en Petrus in Handelinge 10:19.

ʼn Derde manier van direkte kommunikasie was deur loting waardeur God Homself en sy wil geopenbaar het. Sommige voorbeelde hier sluit in: die geval van Joshua met die verdeling van die land in Joshua 14:1-2; hoe Jona uitgevind is in Jona 1:7; en die manier waarop die twaalfde apostel verkies is in Handelinge 1:26.

ʼn Vierde manier van direkte kommunikasie was deur middel van die urim en thummim. Die urim en thummim verwys na die borsplaat van die hoëpriester waarop die twaalf stene die twaalf stamme van Israel verteenwoordig het. Die borsplaat kon ja-en-nee-vrae beantwoord deurdat die stene verlig het wanneer die antwoord ‘Ja’ was, of nie verlig het nie wanneer die antwoord ‘Nee’ was.

ʼn Vyfde manier was deur middel van drome, beide tot ongelowiges soos Abimeleg in Genesis 20:3-7 en gelowiges soos Josef in Genesis 37:5-9.

ʼn Sesde manier waardeur God direk gekommunikeer het, was deur middel van visioene. Hy het dit met Abraham, in Genesis 15:1; Daniël, in Daniël 2:19 en Amos, in Amos 7:8-9 gedoen.

Die sewende manier waardeur God direk gekommunikeer het, was deur innerlike verligting soos genoem in 2 Petrus 1:21.

4. Deur engele
Die vierde metode van Spesiale Openbaring is deur engele. God het Homself soms op ʼn besondere manier deur middel van engele geopenbaar. Byvoorbeeld, God het die wet van Moses deur engele gegee volgens Handelinge 7:53 en Galasiërs 3:19. God het Spesiale Openbaring aan Daniël gegee deur ʼn engel in Daniël 9:20-21 en 10:10-21. Dit was deur middel van engele wat die herders vertel is van die geboorte van die Messias in Lukas 2:10-13. Byna die hele boek van Openbaring is openbaar aan Johannes deur middel van ʼn engel volgens Openbaring 1:1-3.

5. Deur vleeswording
Die vyfde metode van Spesiale Openbaring was deur die vleeswording. Toe God ʼn mens geword het deur middel van die God-Mens, het Hy Homself geopenbaar in die persoon van Jesus (Yeshua). Alles wat waar is oor die goddelike natuur van die Vader is ook waar oor die Seun.

Baie Skrif leer dat die vleeswording ʼn baie spesiale middel, ʼn baie spesiale vorm van Spesiale Openbaring geword het. In Mattheus 11:27 openbaar die Seun die Vader. In Johannes 1:14 en 18, het Jesus gekom om die heerlikheid van die Vader te openbaar. In Johannes 14:1-9 vra een van sy dissipels hom om aan hulle die Vader te wys, en Jesus antwoord, ‘Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.’ Kolossense 2:9 verklaar in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik. Volgens 1 Johannes 1:1-4 sien mens God as jy Jesus sien. Om Jesus se werk te sien was om die werk van God te sien, om Jesus te hoor leer was om die woorde van God te hoor. In Hebreërs 1:1-2 verklaar die skrywer dat God Homself in verskeie vorme en maniere deur die geskiedenis geopenbaar het, maar in die laaste dae, het Hy Homself aan ons geopenbaar deur sy Seun.

6. Deur Skrif
Die sesde en laaste metode van Spesiale Openbaring is deur die Skrif. Die Skrif is die Woord van God, die geskrewe openbaring van God waardeur ʼn mens alle ander vorme van openbaring kan vertolk. Op grond van die Skrif is dit moontlik om alles oor Algemene Openbaring korrek te interpreteer. Deur die Skrif is dit moontlik om die ander vyf vorms van Spesiale Openbaring korrek te interpreteer, Dit is deur die Skrif wat mens die teofanies kan interpreteer. Dit is deur die Skrif wat mens die wonderwerke kan interpreteer en ook weet hoe ver ʼn wonderwerk kan gaan. Op hierdie manier is die Skrif meer belangrik as enige wonderwerk, want in Lukas 16:31 sê Abraham aan die ryk man: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan. Opstanding uit die dode is ʼn ontsaglike wonderwerk, maar op sigself is dit onvoldoende. Wonderwerke sal nie oortuig as die Skrif nie geglo word nie. Op grond van die Skrif is dit moontlik om vas te stel watter wonderwerke waar is en watter vals. Op grond van die Skrif weet ons dat Satan baie van God se wonderwerke kan naboots. Op grond van die Skrif weet ons dat wonderwerke nie ʼn algemene gebeurtenis is nie, maar ʼn buitengewone gebeurtenis. Verder, op grond van die Skrif, kan ons die verskillende vorme van direkte kommunikasie korrek interpreteer. Deur die Skrif kan ons die openbarings wat deur engele gegee is, interpreteer. Op grond van die Skrif kan ons ten volle verstaan waaroor die vleeswording gegaan het en hoe om die openbaring oor die vleeswording reg te interpreteer. Die Skrif is verreweg die mees belangrike van die ses verskillende metodes van Spesiale Openbaring vir die mens vandag.

Terwyl die Skrif gedeeltelike kennis van God bevat, is dit alles wat God gekies het om aan ons bekend te maak volgens Deuteronomium 29:29. Die primêre doel van die Skrif is vir redding, volgens 2 Timoteus 3:15. Dit voorsien dus wat Algemene Openbaring nie kan nie: die inhoud van die evangelie.

Die Skrif is die voldoende openbaring van God, alhoewel dit nie die omvattende openbaring is nie. Romeine 8:18 verklaar dat alle verdere openbaring in die toekomstige heerlikheid gegee sal word. 1 Korinthiërs 13:12 leer dat daar verdere kennis is en Judas 3 vertel ons dat die uiteindelike openbaring in die verheerlikte staat sal kom. In die huidige staat is Skrif die finale en beslissende openbaring vir nou. Daarom maan Paulus gelowiges om nie te dink bo wat geskrywe is nie in 1 Korinthiërs 4:6. Dit is deur die geskrewe Woord van God, waarmee waarheid en leuen van alle ander dinge waarmee ons in die geestelike stryd gekonfronteer word, vasgestel kan word. Dit is deur openbaring deur middel van woorde, volgens 1 Thessalonicense 2:13. Dit is die Skrif wat die So spreek die Here bevat.

III. VOORTDURENDE OPENBARING
In die konteks van die Skrif is daar ʼn ander vorm van openbaring wat soms Voortdurende Openbaring genoem word. Voortdurende Openbaring is nie ʼn derde metode of tipe openbaring nie, dit verduidelik eerder die openbaring wat deur die Skrif kom.

Voortdurende Openbaring beteken dat God nie gekies het om die ganse Woord op een slag te gee nie; maar dat die skryf van die Skrif oor ʼn tydperk van 1,600 jaar gebeur het. Tree vir tree is die plan van God ontvou. Elke tree was heeltemal foutloos en heel totdat die beslissende openbaring gekom het. Die mens het nou ʼn volledige openbaring in die geskrewe Woord van God en daar is geen behoefte aan kennis buiten die Skrif nie. In die Skrif het God alles gegee wat Hy nou vir ons bedoel om te weet. Hy wil hê dat ons meer weet, maar nie in hierdie lewe nie, eers in die volgende.

Daar is Algemene Openbaring en Spesiale Openbaring met die Skrif, die geskrewe Woord van God as die primêre vorm van Spesiale Openbaring. Ons sluit af met Paulus se vermaning dat die Bybel die finale gesag is, daarom moet ons versigtig wees om nie dink bo wat geskrywe is nie.[end]

Inhoudsopgawe
I. ALGEMENE OPENBARING
     A. Die aard van Algemene Openbaring
     B. Die metodes van Algemene Openbaring
         1. Deur die natuur
         2. Deur voorsiening/voorsienigheid
         3. Deur bewaring
         4. Deur gewete
     C. Die beperking van Algemene Openbaring
         1. Rakende redding
         2. Rakende veroordeling
     D. Opsomming
II. SPESIALE OPENBARING
     A. Die aard van Spesiale Openbaring
     B. Die noodsaaklikheid van Spesiale Openbaring
     C. Die metodes van Spesiale Openbaring
         1. Deur teofanies
         2. Deur wonderwerke
             a. Definisie van wonderwerke
             b. Aard van wonderwerke
             c. Kategorieë van wonderwerke
             d. Aspekte van wonderwerke
             e. Doel van wonderwerke
             f. Woordeskat van wonderwerke
             g. Voorkoms van wonderwerke
         3. Deur direkte kommunikasie
         4. Deur engele
         5. Deur vleeswording
         6. Deur Skrif
III. VOORTDURENDE OPENBARING

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Hierdie belangrike artikel definieer Bybelse inspirasie en behandel dit in detail. Die ortodokse siening van tweeledige outeurskap van die Bybel word verduidelik – asook verskillende verkeerde teorieë van inspirasie. Volkome, woordelike inspirasie word daarna bespreek; vier besware hierteen word weerlê.