Die Bybelse beginsel om te gee

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Want hulle was na vermoë — ek betuig dit — ja, bo vermoë gewillig, en het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang. — 2 Korinthiërs 8:3-4

Hierdie onderwerp sal in drie hoofkategorieë gedek word: eerstens, die beginsels van gee; tweedens, die bedrag wat gegee word; en derdens, die ontvangers van wat gegee word.

INLEIDING
Ons sal ter inleiding drie dinge noem: eerstens, die verhouding tussen rentmeesterskap en gee; tweedens, die basiese waarheid oor gee; en derdens, struikelblokke wat gee verhinder.

A. Die verband tussen gee en rentmeesterskap
Om te gee is slegs ’n deel van die omvattender onderwerp van rentmeesterskap. Rentmeesterskap is ’n baie omvattender konsep, en handel oor alles wat God aan gelowiges toevertrou het. Dit sluit materiële en geestesgoedere in, byvoorbeeld geestelike gawes, kennis en vermoëns. Die omvattende onderwerp van rentmeesterskap het te doen met hoe ’n mens al hierdie dinge namens die Here en vir die Here se werk aanwend.

Om te gee is slegs een faset van rentmeesterskap. Dit handel spesifiek oor die aspek van monetêre of finansiële dinge. Die kern is wat God die gelowige gee, en watter deel aan Hom teruggegee word deur die Here se werk te ondersteun.

Die verhouding tussen gee en rentmeesterskap is dus dat gee ’n deel van die veel groter en omvattender onderwerp van rentmeesterskap is. In hierdie manuskrip sal ons nie rentmeesterskap in die geheel bespreek nie, maar slegs een faset van rentmeesterskap: die bybelse beginsels van gee.

B. Die basiese waarheid oor gee
Die tweede saak wat ter inleiding genoem moet word, is om die basiese waarheid oor gee te beklemtoon wat op Jakobus 1:17 gegrond is. Ons leer drie dinge uit hierdie vers. Eerstens behoort alles aan God. Tweedens is God die Skepper, die Maker en die Gewer van alle dinge. Derdens, as die gelowige gee, besorg hy bloot iets terug wat in elk geval aan God behoort.

Dit is die basiese waarheid wat ons nooit uit die oog moet verloor nie: Wanneer die gelowige gee, gee hy ’n deel terug van dit wat in elk geval aan God behoort.

C. Die struikelblokke wat gee verhinder
Die derde saak wat ons ter inleiding moet noem, is enkele struikelblokke wat gee verhinder. Ons sal vyf struikelblokke bespreek.

1. Die konsep van die tiende
Die eerste struikelblok wat keer dat mense Bybels gee, is die “tiende-konsep”. Party mense is so verknog aan die tiende-konsep dat hulle voel dat hulle altyd net tien persent hoef te gee. Wanneer hulle tien persent van hul inkomste gee, voel hulle dat hulle al hul finansiële verpligtinge teenoor die Here nagekom het. Die tiende-konsep kan dus ’n struikelblok wees vir ’n ware bybelse manier van gee.

2. ’n Gebrek aan begrip oor gee volgens genade
Die tweede struikelblok is ’n gebrek aan begrip vir “gee volgens genade”. Omdat baie gelowiges nie die konsep van gee volgens genade verstaan nie, kan dit ook ’n struikelblok word wat gee verhinder.

3. Die Westerse lewenstyl
Die derde struikelblok wat gee verhinder, is die Westerse lewenstyl. Partykeer word ’n gelowige se aandag so in beslag geneem deur sy pogings om nie by sy vriende en sy bure af te steek nie, dat hy toenemend tyd en geld aan materiële dinge begin bestee, eerder as aan die Here se werk. Dit is verstommend hoe dikwels die Westerse lewenstyl skielik ’n “begeerte” in ’n “behoefte” kan omskep. Iemand wil ’n nuwe motor hê, al makeer die ou een nie regtig iets nie; of iemand wil ’n nuwe TV hê, al is die ouer model se ontvangs nog goed; of iemand dring aan op ’n DVD-speler. ’n Mens kan ewe goed sonder al hierdie dinge klaarkom.

’n Mens het wel die reg om geld te spaar vir dinge wat jy wil hê, maar jy moet versigtig wees om nie begeertes met behoeftes te verwar nie. Ons Westerse lewenstyl is dikwels gegrond op wat ons wil hê eerder as wat ons nodig het. Die Westerse lewenstyl kan om hierdie rede ’n struikelblok word wat gee verhinder as ’n mens dit nie in perspektief sien nie.

4. Belastingaftrekbare kwitansies
’n Vierde moontlike struikelblok wat gee verhinder, is belastingaftrekbare kwitansies. Ons is almal ten gunste van belastingaftrekbare kwitansies. Ariel Bedienings gee sulke kwitansies aan mense wat Ariel Bedienings se werk ondersteun. Die struikelblok hier is egter dat party mense nie enigiets wil gee as hulle nie hul skenking van belasting kan aftrek nie.

As ’n mens wel ’n belastingaftrekking kan kry, behoort ’n mens dit te doen, want ’n belastingaftrekking stel jou in staat om meer geld vir die Here se werk te gee in plaas van vir “die keiser” se werk.

Daar kan egter situasies ontstaan waar daar van jou verwag word om by te dra, maar waar dit nie moontlik is om ’n belastingaftrekbare kwitansie te kry nie. Gestel die werk van ’n onafhanklike sendeling word op ’n mens se hart gedruk. Die persoon kan moontlik om die een of ander rede nie deel van ’n sendingorganisasie wees nie, maar doen baie goeie werk en het ’n vrugbare bediening. Moet ’n mens jou skenking van daardie sendeling weerhou net omdat jy dit nie van belasting kan aftrek nie? Hoewel belastingaftrekbare kwitansies ’n goeie ding is, kan dit ook ’n struikelblok word wat gee verhinder as ’n mens slegs gee as jy een kan kry.

5. Gewone hebsug
’n Vyfde struikelblok wat gee verhinder, is gewone hebsug. Dit sluit nou aan by die Westerse lewenstyl, maar kan ook op sy eie voorkom. Iemand wat baie dinge begeer, neig gewoonlik om sy energie aan die verkryging van daardie dinge te bestee. Hebsug kan ook ’n struikelblok wees wat gee verhinder.

Die hebsugtige persoon volg die beginsel wat in Lukas 12:15 genoem word. Hy glo naamlik dat sy lewe bestaan … uit die oorvloed van sy besittings. Kolossense 3:5 wys daarop dat gierigheid … afgodediens is, en dat dit daarom ten alle koste vermy moet word.

I. DIE BEGINSELS VAN GEE
Die eerste hoofkategorie van hierdie studie is die beginsels van gee, wat in drie afdelings bespreek sal word: eerstens, die basiese beginsels; tweedens, die beginsels wat ons in 2 Korinthiërs 8:15 vind; en derdens, die beginsels wat ons in 2 Korinthiërs 9:6-14 vind.

A. Die basiese beginsels
Die bybelse manier van gee werk volgens vyf basiese beginsels. Eerstens is gee ’n maatstaf van die gelowige se liefde vir God. Tweedens is gee ’n uitdrukking van geloof. Derdens kan die gelowige nooit meer as God gee nie. Vierdens moet gee in die geheim geskied. En die vyfde beginsel is dat die gelowige bereid moet wees om te werk sodat hy meer kan gee.

1. Om te gee as ’n bewys van ’n mens se liefde vir God
Die eerste basiese beginsel is dat die gelowige se gawe ’n maatstaf van sy liefde vir God is. Die manier waarop ’n gelowige gee, en die persentasie wat hy gee, is dikwels ’n maatstaf van sy liefde vir God. Matthéüs 6:19-21 leer vir ons dat die gelowige skatte in die hemel bymekaar moet maak, want waar sy skat is, daar sal sy hart ook wees. As die gelowige vir hom skatte op aarde bymekaarmaak, sal die gelowige se hart op aardse dinge gerig wees. Maar as die gelowige vir hom skatte in die Hemel bymekaarmaak, sal die gelowige se hart op hemelse dinge gerig wees.

1 Timótheüs 6:17-18 sê verder dat die rykes hulle hoop … op die lewende God moet stel, en dat hulle vrygewig en mededeelsaam moet wees om die Here se werk te ondersteun.

1 Johannes 3:17 vra die volgende vraag oor ’n persoon wat nie gee nie: Hoe bly die liefde van God in hom? Indien ’n persoon nie gee nie, kan ’n mens met reg vra of die liefde van God ooit in hom gebly het.

2. Om te gee as ’n uitdrukking van ’n mens se geloof
Die tweede basiese beginsel word in Jakobus 2:15-17 gevind: om te gee is ’n uitdrukking van geloof. Jakobus vertel vir ons dat die gelowige sy geloof wys deur sy dade; een van die maniere waarop ’n gelowige sy geloof kan wys, is deur die daad van gee. Die gelowige word nie deur dade gered nie, maar die geredde staat behoort deur dade duidelik te word. Een van hierdie dade is die daad van gee.

3. Om meer te gee laat ’n mens meer ontvang
Die derde beginsel is dat die gelowige nooit meer as God sal kan gee nie; hoe meer jy gee, hoe meer ontvang jy. Dit is een van God se beloftes waarop die gelowige kan reken. Lukas 6:38 sê: Gee, en aan julle sal gegee word. Filippense 4:15-19 leer vir ons dat God elke behoefte van die gelowige sal vervul as hy getrou gee. Die gelowige hoef hom nie te bekommer oor sy behoeftes nie; God sal sorg. Hy moet meer besorg wees daaroor om te gee, aangesien gee daartoe sal lei dat God in die gelowige se behoeftes sal voorsien.

4. Gee moet in die geheim geskied
Die vierde basiese beginsel van gee is dat dit in die geheim moet geskied, nie ter wille van vertoon nie, soos wat ons leer in Matthéüs 6:1-4. Die gelowige moet nie met sy geëry te koop loop nie; die gelowige moet dit wat hy gee geheim hou. Dit is hoekom die konsep van kerkkoeverte ’n bybelse konsep is.

5. Om te gee lei tot ’n gewilligheid om te werk
Die vyfde basiese beginsel is dat die gelowige ook bereid moet wees om te werk ten einde meer te kan gee. Handelinge 20:33-35 leer vir ons dat Paulus gewerk het sodat hy kon gee. Efésiërs 4:28 leer vir ons dat ander Paulus se voorbeeld behoort te volg.

B. Die beginsels wat in 2 Korinthiërs 8:1-15 gevind word
Die tweede deel van die beginsels van gee is om na ’n paar beginsels te kyk wat in hierdie teksgedeelte gevind word. Namate Paulus die beginsels in hierdie verse bespreek, maak hy agt punte.

Die eerste punt is dat hy die Korinthiërs vermaan om die Masedoniërs se voorbeeld in vers 1-2 na te volg. Hulle het nie hul armoede as ’n verskoning gebruik om nie te gee nie: EN ons maak julle bekend, broeders, die genade van God wat aan die gemeentes van Macedónië geskenk is, dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke milddadigheid.

Die Masedoniërs was nie vermoënde mense nie. Vers 1 sê dat hulle volgens genade gegee het, wat later bespreek sal word. Ons kan hier slegs daarop let dat die Masedoniërs nie die beginsel van die tiende beoefen het nie, maar die beginsel van gee volgens genade. Vers 2 sê verder dat hulle by hulle diepe armoede bereid was om ruim te gee. Hulle het dus nie hul armoede gebruik as ’n verskoning om nie te gee nie, maar eerder volgens genade gegee. Hulle het ruim uit hul armoede gegee.

Die tweede punt onder die beginsels van gee, is dat hulle gee beskou het as ’n geleentheid wat hulle moes nastreef. Ons lees in vers 3-4: Want hulle was na vermoë — ek betuig dit — ja, bo vermoë gewillig, en het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang.

Om te gee was vir hierdie gelowiges ’n geleentheid. Hulle het dit beskou as ’n geleentheid wat hulle moes “najaag” of “nastreef”. Hulle het aktief gesoek na maniere waarop hulle kon gee. Vers 3 sê dat hulle bo vermoë en vrywillig gegee het. Volgens vers 4 het hulle uitgevind wat die behoeftes was en gedoen wat hulle kon om daardie behoeftes te vervul.

Die derde punt wat Paulus maak, vind ons in vers 5: … en het nie alleen gedoen soos ons verwag het nie, maar het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur die wil van God.

In vers 5 vind ’n mens uit waarom hulle in staat was om te gee soos wat ons in vers 1-4 lees: “Hulle het hulself eers aan die Here gegee.” Toe hulle hulself aan die Here gewy het, het dit hulle sensitief gemaak vir die wil van God. Dit was God se wil vir hulle om te gee, en dit is presies wat hulle gedoen het.

Die vierde punt is dat gee ’n bewys van hul liefde was. Ons lees in vers 6-8: … sodat ons Titus versoek het dat hy, net soos hy tevore begin het, so ook by julle nog hierdie liefdedaad moet volbring. Maar soos julle in alles oorvloedig is — in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons — sorg dat julle ook in hierdie liefdedaad oorvloedig is. Ek sê dit nie as ’n bevel nie, maar om deur die ywer van ander ook die egtheid van julle liefde op die proef te stel.

Paulus maak dit duidelik aan die Korinthiërs dat hy geensins van plan is om hulle te beveel om te gee nie. Hy wil nie ’n apostoliese opdrag uitreik dat hulle moet gee nie; hy wys hulle egter daarop dat hulle vanself sal gee as hulle die Here werklik liefhet. Om te gee wys dat hulle God liefhet. Ons vind hier weer eens dat ’n mens jou geloof deur jou dade wys, en in hierdie konteks was die daad wat geloof en liefde gedemonstreer het, die daad om te gee.

Die vyfde punt wat Paulus in vers 9 maak, is om ’n voorbeeld van ’n goeie gewer te verskaf, naamlik die Messias Self: Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.

Die Messias het Homself gegee. Paulus herinner sy lesers daaraan dat die Messias ryk was in die hemel, maar dat Hy tydens sy vleeswording arm geword het – nie net arm omdat Hy mens geword het nie, maar arm omdat Hy in ’n armoedige gesin gebore is.

Die rede hoekom Hy bereid was om arm te word, is sodat gelowiges ryk kan word. Nie materieel gesproke ryk nie; Paulus het alreeds gesê dat hierdie Korinthiërs nie materieel gesproke ryk was nie. Jesus het arm geword sodat hulle geestelik ryk kon word. Dit maak Jesus die beste voorbeeld van ’n gewer. Die Messias het Homself gegee. Die Messias was ryk, maar hy het arm geword, sodat gelowiges ryk kan word.

Die sesde punt wat hy maak, is dat hulle selfs bereid was om ’n skenkingsbelofte te maak. Vers 10-11 sê: En ek gee in hierdie saak my oordeel, want dit is voordelig vir julle, omdat julle alreeds ’n jaar gelede begin het, nie alleen om te doen nie, maar ook om te wil. Maar voltooi nou die daad ook, sodat, net soos die bereidheid om te wil daar was, so ook die voltooiing kan wees uit wat julle besit.

Hulle was bereid om ’n belofte te maak wat oor die bestek van een jaar uitgevoer sou moes word. Die gee van “geloofoffers” of die maak van ’n skenkingsbelofte is ’n bybelse patroon. Die Korinthiërs het dit gedoen. Vers 10 sê dat hulle ’n jaar vantevore bereid was om ’n skenkingsbelofte te maak, en in vers 11 word hulle aangemoedig om die belofte na te kom.

As iemand van Ariel Bedienings van tyd tot tyd by kerkkonferensies as spreker optree, vra ons nooit daardie kerk om die reiskoste te betaal, of vir ’n minimum honorarium of enigiets van die aard nie. Al wat ons vra, is dat daar ’n vrywillige kollekte vir Ariel Bedienings opgeneem word. Ons verduidelik aan die gemeente wat Ariel Bedienings doen, en op daardie punt vra ons hulle om hulself te verbind tot ’n maandelikse bydrae aan die bediening.

Trouens, wanneer mense ’n verbintenis teenoor Ariel Bedienings aangaan, is die verbintenis nie tussen hulle en Ariel Bedienings nie, maar tussen hulle en die Here. As die Here die bedrag voorsien wat hulle beloof het om te gee, stuur hulle dit vir ons. As die Here dit nie voorsien nie, kan hulle dit natuurlik nie voorsien nie. Iets wat ons nooit sal doen nie, is om mense lastig te val met versoekbriewe of aanmanings van enige aard. Ons glo dat die Here sal voorsien as hulle met die regte gesindheid gee.

Die sesde saak wat Paulus dus aanroer, is dat dit in die haak is om ’n skenkingsbelofte te maak. ’n Mens moet bereid wees om so ’n belofte te maak, en selfs meer bereid om dit na te kom, mits die Here voorsien.

Die sewende punt wat hy in vers 12 van hierdie teksgedeelte maak, is dat hulle met ’n bly hart gegee het: Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie.

Hul bereidheid om te gee, het dit vir God welgevallig gemaak. Trouens, enigiemand wat met ’n bly hart gee, behaag God. God aanvaar graag sulke gawes. As iemand teësinnig gee, kan die ontvanger dalk nog steeds baat by die skenking, maar dit verhoog nie die skenker se aansien in God se oë nie. Só ’n gawe is nie in God se oë aanvaarbaar nie.

Die agtste punt wat hy in hierdie teksgedeelte maak, is dat ’n mens nie tot op die punt van armoede moet gee nie, maar tot op die punt van gelykheid. Vers 13-15 sê: Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees. Soos geskrywe is: Hy wat baie gehad het, het nie te veel gehad nie; en hy wat weinig gehad het, het nie te min gehad nie.

Paulus vra nie die Korinthiërs om hulself te verarm nie; hy vra nie dat hulle kos van hul tafels af moet vat of hul kinders klere moet ontsê nie. ’n Mens is veronderstel om te gee totdat daar gelykheid is, nie totdat jy armoede ly nie. Vers 13 sê dat hulle nie arm moes word omdat hulle gegee het nie. Inteendeel, in vers 14 lees ons selfs dat die ontvangers in die toekoms dalk in die skenkers se behoeftes kan voorsien. Op die oomblik moet die gewer in iemand anders se behoeftes voorsien, maar daar kan ’n tyd aanbreek wanneer die ander persoon in staat is om iets terug te gee aan die gewer. Paulus haal in vers 15 ’n Ou-Testamentiese beginsel uit Exodus 16:18 aan om te wys dat almal tydens die wildernisomswerwinge genoeg gehad het. As gelowiges gee tot daar gelykheid is, sal die Here vir ons almal genoeg gee sodat daar in ons behoeftes voorsien kan word.

C. Die beginsels wat in 2 Korinthiërs 9:6-14 gevind word
Die derde deel van die beginsels van gee is ’n paar bykomende beginsels wat ons in die tweede teksgedeelte vind. Paulus beklemtoon weer agt punte; party hiervan is dieselfde as in die vorige gedeelte, maar party is nuut.

Die eerste punt, in vers 6, is dat ’n mens oes wat jy saai: Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.

As ’n mens spaarsamig saai, sal jy spaarsamig oes; as ’n mens oorvloedig saai, sal jy oorvloedig oes. Dit is dieselfde as die beginsel wat hy vroeër uitgelig het: ’n mens kan nooit meer as God gee nie, want hoe meer jy gee, hoe meer sal jy ontvang.

Die tweede punt verskyn in vers 7a: Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie.

’n Mens moet gee soos wat jy jou voorgeneem het om te gee, volgens jou vermoë. Handelinge 11:29 maak dieselfde punt. ’n Mens moet gee volgens jou vermoë en uit vrye wil, soos wat jy jou voorgeneem het. Hy moet nie gedwing voel om dit te doen nie. Soos wat die teksgedeelte hierbo wys, as iemand uit dwang of met droefheid gee, sal die ontvanger nog steeds by hul gawe baat, maar dit is nie ’n aanvaarbare gawe voor God nie. Gelowiges moet daarom volgens hul vermoë gee, en hulle moet met blydskap gee, nie met droefheid nie.

Ons vind die derde punt in vers 7b: … want God het ’n blymoedige gewer lief.

Dit beteken dat die gelowige met ’n gesindheid van blymoedigheid moet gee. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is baie sterker as blote blymoedigheid; die Griekse woord beteken “uitbundig”. Die gelowige moet met uitbundigheid gee; dít is hoe bly hy moet wees oor die geleentheid om te gee. Dít is die regte gesindheid as dit by gee kom.

Die vierde punt wat hy maak, is dat God in die gewer se behoeftes sal voorsien. In vers 8-11 staan daar: En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. Soos geskrywe is: Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid. En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.

Hoe meer ’n mens gee, hoe meer ontvang jy; hoe meer ’n mens ontvang, hoe meer kan ’n mens gee. Filippense 4:19 is ’n belofte wat sê dat God elke behoefte van ons sal vervul na sy rykdom in heerlikheid. ’n Mens moenie die konteks waarin hierdie belofte gemaak word, miskyk nie: God sal in ’n mens se behoefte voorsien namate jy gee. As ’n mens bereid is om te gee, sal God in sy behoeftes voorsien. Die gelowige wat gee, hoef hom nie te bekommer oor lewensnoodsaaklikhede nie. Hoe meer ’n mens gee, hoe meer sal ’n mens kry, sodat jy selfs meer kan gee.

Die vyfde punt is dat gee ’n vorm van aanbidding is. Vers 12 sê: Want die bediening van hierdie hulpbetoning voorsien nie alleen in die behoeftes van die heiliges nie, maar is ook oorvloedig deur baie danksegginge aan God.

’n Mens dink dikwels aan aanbidding as die sing van liedere vir die Here of om lof aan die Here te bring. Hierdie dinge is ook deel daarvan om God te aanbid, maar dit is nie al wat aanbidding behels nie. Om te gee is self ook ’n manier om God te aanbid. Dit is nie net ’n vorm van aanbidding nie, maar dit lei ook tot meer aanbidding, aangesien dit in die behoeftes voorsien van dié wat die werk van die Here doen. Diegene wat hierdie gawes ontvang, bring baie danksegginge aan die Here; hul danksegging en lofprysing teenoor die Here lei daartoe dat God selfs meer aanbid word.

Dit is regtig so. Elke keer as die Here in Ariel Bedienings se behoeftes voorsien, elke keer as ons ’n skenking ontvang wat ons in staat stel om salarisse, belasting en rekenings te betaal, sê ons: “Prys die Here!” Ons dank God vir hierdie gawes, en ons danksegging lei tot meer aanbidding van God.

Om te gee is op twee maniere ’n vorm van aanbidding. In die eerste plek is om te gee self ’n daad van aanbidding; tweedens sal dié wat die gawe ontvang danksegging bring aan God, en dit lei tot meer aanbidding van God.

Die sesde punt wat Paulus in hierdie teksgedeelte maak, is dat die gelowige se gawe as bewys dien van sy liefde vir God, en dat dit God verheerlik. Vers 13 sê: … omdat hulle deur die bewys van hierdie diens God verheerlik oor die onderwerping van julle belydenis aan die evangelie van Christus en oor die milddadigheid van die bydrae aan hulle en aan almal.

Hy het dit meer as een keer beklemtoon, en die herbeklemtoning van hierdie punt maak weer duidelik hoe belangrik dit is. Die beginsel is weer eens dat die gelowige sy liefde en geloof wys deur sy werke. Een van die grootste bewyse dat ’n gelowige God werklik liefhet, is as hy gee. Om te gee verheerlik God. ’n Mens kan dit nie te veel beklemtoon nie. Vandaar die feit dat dit meer as een keer herhaal word: Om te gee is ’n maatstaf van ’n mens se liefde vir God.

Die sewende punt is dat gee ook ’n vorm van gemeenskap is met gelowiges wat nie by ons is nie. Vers 14 sê: … terwyl hulle ook in die gebed vir julle na julle verlang vanweë die uitnemende genade van God aan julle.

’n Mens dink gewoonlik aan die “gemeenskap van gelowiges” as gemeenskap met die gelowiges wat fisies by ’n mens is of kan wees. Volgens hierdie gedeelte is dit egter nie net hulle met wie ’n mens gemeenskap kan hê nie. Wanneer ’n mens aan ’n bediening gee wat honderde of duisende kilometer ver is, het jy gemeenskap met gelowiges wat nie by jou is nie.

Wanneer iemand byvoorbeeld Ariel Bedienings ondersteun, het hy gemeenskap met ons, selfs al sien hy ons nie. Wanneer ’n mens ’n sendeling in die buiteland ondersteun, ongeag waar dit is – in Japan, China, Suid-Amerika, Afrika of Europa – is dit ’n vorm van gemeenskap met daardie gelowiges wat nie by jou is nie. Elke keer as ’n mens buite jou onmiddellike geografiese gebied gee, is dit ’n vorm van gemeenskap met ander gelowiges wat nie by jou is nie.

Die agtste punt wat Paulus maak, is om sy gevolgtrekking in vers 15 te maak: Maar God sy dank vir sy onuitspreeklike gawe.

Wat is God se onuitspreeklike gawe? Die gawe wat God gegee het, was sy eie Seun, wat arm geword het sodat gelowiges ryk kan word. Dit is die grootste gawe wat God kan gee. Hy het vir ons redding gebring, maar dit het Hom iets gekos: Dit het Hom sy Seun se lewe gekos. As die gelowige gee, kan dit hom dalk iets kos, maar net soos wat God sy Seun gestuur het as ’n maatstaf van sy liefde vir die wêreld (Joh 3:16), moet gelowiges ook hul liefde vir God bewys deur te gee.

DIE BEDRAG WAT GEGEE WORD
Die tweede hoofkategorie van die bybelse beginsels wat met gee gemoeid is, handel oor die bedrag wat die gelowige behoort te gee. Hierdie onderwerp sal in drie afdelings gedeel word: eerstens die Ou-Testamentiese beginsel; tweedens, die Nuwe-Testamentiese beginsel; en derdens, die verskil tussen die twee beginsels.

A. Die Ou-Testamentiese beginsel: Die tiende
Die eerste afdeling oor die Ou-Testamentiese beginsel sal onder drie hofies bespreek word: eerstens, die drie tiendes van die Wet van Moses; tweedens, tiendes vir die skathuis; en derdens, skrifgedeeltes wat gebruik word vir onderrig oor die tiende.

Die Ou-Testamentiese beginsel was geskoei op die tiende en die tiende was geskoei op die Wet van Moses, maar dit het niks te doen met die Nuwe-Testamentiese gelowige nie. Die Nuwe-Testamentiese gelowige behoort nie op grond van die tiende te gee nie.

1. Die drie tiendes van die Wet van Moses
Die eerste afdeling van die Ou-Testamentiese beginsel is dat die Wet van Moses nie net een tiende vereis het nie, maar drie afsonderlike tiendes uitgestip het.

a. Onderhouding van die Stam van Levi
Die eerste tiende was dat tien persent aan die Leviete – die pastorale, priesterlike Stam van Levi – gegee moes word om die Tempeldiens in stand te hou. Hierdie tiende kom in twee gedeeltes in die Wet van Moses ter sprake. Die eerste gedeelte is in Númeri 18:21-24: En kyk, Ek gee aan die kinders van Levi al die tiendes in Israel as erfdeel vir hulle dienswerk wat hulle verrig, die dienswerk van die tent van samekoms. En die kinders van Israel moet nie meer nader kom na die tent van samekoms om sonde op hulle te laai sodat hulle sterwe nie. Maar die Leviete, dié moet die dienswerk by die tent van samekoms verrig, en hulle moet hul ongeregtigheid dra — ’n ewige insetting in julle geslagte. En onder die kinders van Israel moet hulle geen erfdeel kry nie. Want die tiendes van die kinders van Israel wat hulle aan die HERE as offergawe afgee, gee Ek aan die Leviete as erfdeel. Daarom het Ek aangaande hulle gesê: Hulle moet onder die kinders van Israel geen erfdeel kry nie.

Deuteronómium 14:27 is die tweede gedeelte wat na hierdie tiende verwys: Maar die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie, want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie.

Die eerste van die drie tiendes moes om verskeie redes aan die Stam van Levi gegee word. Die Leviete het geen deel van die Beloofde Land ontvang nie; geen grondgebied is aan die Leviete toegeken nie. As ’n mens na ’n Bybelkaart kyk wat die gebiede uiteensit waar die stamme hul gevestig het, sien ’n mens dat die Stam van Levi nie ’n enkele stukkie grondgebied ontvang het nie.

Die Stam van Levi het ’n ander funksie gehad. Hulle was die priesterlike stam wat verantwoordelik was om die Geskrifte in stand te hou deur afskrifte te maak namate die oues verweer het; hulle was verantwoordelik om die inhoud van die Skrif aan die ander elf stamme van Israel te leer; en hulle was verantwoordelik vir die Tempel en die offerdiens se instandhouding.

In plaas daarvan dat die Leviete hul eie grondgebied ontvang, is elke stam bloot aangesê om stede – bekend as “die stede van die Leviete” – in hul stamgebied opsy te sit. Die lede van die Stam van Levi sou in hierdie stede woon en hul funksie vervul. Hoewel daar stede vir die Leviete was om in te woon, het hulle nie grond gehad waarmee hulle inkomste kon verdien nie. Die tiende was hul enigste bestaansbron. Hulle moes hulle nie ophou daarmee om ’n inkomste te verdien nie, want hulle was veronderstel om voltyds vir die Here te werk. Hulle werk vir die Here wás hul bestaan. Dit is hoekom die ander stamme verantwoordelik was om die priesterlike stam te ondersteun deur middel van hierdie eerste tiende.

b. Onderhouding van die feeste en offers
Die tweede tiende was dat tien persent van die oorblywende negentig persent gegee moes word ten einde die feeste en offers wat die Here ingestel het te onderhou. Dit tweede tiende kom twee keer in die boek Deuteronómium ter sprake.

Die eerste plek is Deuteronómium 12:5-7 en 10-19. In vers 5-7 staan daar: … maar die plek wat die HERE julle God uit al julle stamme sal uitkies om sy Naam daar te vestig om daar te woon, moet julle opsoek en daarheen moet jy kom. En daarheen moet julle jul brandoffers bring en julle slagoffers en julle tiendes en die offergawe van julle hand en julle gelofte- en julle vrywillige offers en die eersgeborenes van julle beeste en van julle kleinvee. En daar moet julle voor die aangesig van die HERE julle God eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne, oor alles waar julle jul hand aan slaan, waarin die HERE jou God jou geseën het.

Vers 10-19 sê: Maar julle sal deur die Jordaan trek en woon in die land wat die HERE julle God julle laat erwe, en Hy sal julle rus gee van al julle vyande rondom, en julle sal veilig woon. Dan moet julle na die plek wat die HERE julle God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand en al julle keurgelofte-offers wat julle die HERE sal belowe. En julle moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE julle God, julle en julle seuns en julle dogters en julle slawe en julle slavinne en die Leviet wat in julle poorte is, want hy het geen deel of erfenis saam met julle nie. Neem jou in ag dat jy jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie. Maar op die plek wat die HERE in een van jou stamme sal uitkies, daar moet jy jou brandoffers bring en daar alles doen wat ek jou beveel. Maar na hartelus mag jy slag en vleis eet ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou in al jou poorte gee; die onreine en die reine mag daarvan eet, soos van die gemsbok en die takbok. Net die bloed mag julle nie eet nie; jy moet dit soos water op die grond uitgooi. Jy mag in jou poorte nie eet die tiendes van jou koring en jou mos en jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee en al jou gelofte-offers wat jy sal belowe, en jou vrywillige offers en die offergawe van jou hand nie. Maar jy moet dit eet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat die HERE jou God sal uitkies, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is; en jy moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God oor alles waar jy jou hand aan slaan. Neem jou in ag dat jy die Leviet nie aan sy lot oorlaat solank as jy in jou land lewe nie.

Hierdie gedeelte sê dat die tiende na die plek gebring moes word wat God sou uitkies. Daardie plek het uiteindelik Jerusalem geword. Hoewel hulle nie van die eerste tiende, wat in die geheel aan die Leviete gegee is, kon gebruik nie, kon hulle wel aan hierdie tweede tiende deel hê. Hulle moes egter die Leviete ook hier in ag neem (v 18). Die eerste tiende het in sy geheel na die Leviete gegaan. Die tweede tiende is tydens Paasfees, Pinksterfees en die Tabernakelfees gebring, maar hulle moes selfs die tweede tiende met die Leviete deel wat in hul stamgebied gewoon het.

Die tweede gedeelte wat ons van hierdie tweede tiende leer, is Deuteronómium 14:22-26: JY moet noukeurig die hele opbrings van jou saad — wat jaar vir jaar uit die land uitspruit — vertien. En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees. En as die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie, omdat die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, as die HERE jou God jou sal seën, dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek gaan wat die HERE jou God sal uitkies. Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die HERE jou God en vrolik wees, jy en jou huis.

Hierdie teksgedeelte noem ook die tweede tiende en wys op vier dinge. In die eerste plek moes dit gebring word na die plek wat God uitgekies het, wat uiteindelik Jerusalem geword het. Tweedens mag hulle van hierdie tiende geëet het, wat hulle nie met die eerste tiende kon gedoen het nie. Hulle kon slegs tydens Israel se feeste hiervan eet, maar nie tuis nie. In die derde plek kon hulle geld saamgebring het as hulle te ver gebly het om die verskillende tiendes saam met hulle te vervoer. Vierdens kon hulle daardie geld gebruik sodra hulle in Jerusalem gekom het om alles te koop wat hulle wou hê om fees te vier – soos meel, wyn en ander benodigdhede – en om voor die Here vrolik te wees.

Dit was die tweede tiende: tien persent van die oorblywende negentig persent moes gebruik word om die feeste van die Here te onderhou.

c. Onderhouding van die armes
Die derde tiende was tien persent wat elke derde jaar vir die armes opgeneem moes word, soos wat ons lees in Deuteronómium 14:28-29: Aan die einde van drie jaar moet jy uitbring al die tiendes van jou opbrings in dié jaar en dit in jou poorte wegsit; dan moet die Leviet kom — omdat hy geen deel of erfenis saam met jou het nie — en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, en hulle moet eet en versadig word, sodat die HERE jou God jou kan seën in al die werk van jou hand wat jy doen.

Die derde tiende is elke derde jaar opgeneem, wanneer tien persent vir die armes opsy gesit is.

d. Samevatting
Volgens die Wet was die Jode se hele tiende nie tien persent nie, maar nader aan drie en twintig persent. As ’n mens vandag op grond van die Ou-Testamentiese tiende wil gee, moet jy drie en twintig persent gee, nie net tien persent nie. Maar die Wet van Moses geld nie meer nie, so nie een van hierdie tiendes geld vandag vir die gelowige kerkganger nie.

2. Tiendes vir die skathuis
Die tweede afdeling van die Ou-Testamentiese beginsel is die konsep van “tiendes vir die skathuis” wat sommige kerke voorstaan. Die beginsel van “tiendes vir die skathuis” behels die volgende: die kerklidmaat moet alles wat hy gee, aan die plaaslike gemeente gee wat dit op hul beurt in die kerk se tesourie berg. Die kerk word dan die alleenverspreider van dit wat gegee is. Die grondslag waarop kerke die konsep van tiendes vir die skathuis bou, is Maleági 3:8-10: Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.

Die konsep van tiendes vir die skathuis wat op hierdie gedeelte uit die boek Maleági gebaseer word, verteenwoordig ’n wanopvatting dat die Nuwe-Testamentiese gelowige nog onder die tiende-verpligting staan. Die konsep skryf voor dat die gelowige nie sy tien persent aan verskeie bedienings of kerke moet gee nie. In plaas daarvan moet hy dit in die geheel aan die plaaslike gemeente gee. Dit moet alles in die kerk se tesourie geberg word. Die kerk se tesourie word dan die skathuis, en die plaaslike gemeente is die alleenverspreider wat bepaal hoe die fondse toegeken word.

Is dit regtig wat Maleági ons leer? Die antwoord is uit die aard van die saak “nee”. Die Wet van Moses is die grondslag van Maleági se lering. Toe Maleági geprofeteer het, was Israel nog onder die Wet; as sodanig, moes hulle hul tiendes na die skathuis bring. Gelowiges staan egter nie vandag meer onder die Wet nie, maar onder genade. Maleági se vermaning is nie gegrond op die beginsels van gee volgens genade nie; dit is gegrond op die beginsels van die Wet van Moses.

Verder is die skathuis in hierdie konteks die Joodse Tempel in Jerusalem, nie ’n plaaslike gemeente nie. Die skathuis se doel was om die priesters te onderhou, nie vir verdeling onder verskeie bedienings nie. In die eerste deel van die afdeling oor die drie tiendes, het ons gesien dat een van die tiendes vir die priesterdiens bestem was, en dat dit in die Tempelkompleks gehuisves moes word. Die skathuis waarvan Maleági praat, is die Joodse tempel, nie die plaaslike gemeente nie. By wyse van herhaling: Die skathuis was vir die onderhoud van die priesterdiens, nie as ’n opgaarplek vir verdeling soos wat dit vandag voorgehou word nie. Hierdie gedeelte uit Maleági geld glad nie vir die hedendaagse Kerk nie. Dit handel nie oor die Kerk of oor die Kerk se verantwoordelikhede nie.

3. Skrifgedeeltes wat gebruik word vir onderrig oor die tiende
Die derde afdeling van die Ou-Testamentiese beginsel is die Skrifgedeeltes wat gebruik word deur dié wat tiendes as ’n opdrag vir gelowige kerkgangers probeer afdwing. Dit sal onder twee hofies bespreek word: eerstens, die Nuwe-Testamentiese skrifgedeeltes; en tweedens, die Ou-Testamentiese skrifgedeeltes.

a. Die Nuwe-Testamentiese skrifgedeeltes
Wanneer party leraars besef dat hulle nie die gee van tiendes uit die Wet van Moses of uit die gedeelte in Maleági kan regverdig nie, probeer hulle ’n ander manier om die tiende af te dwing. Die metode wat hulle gebruik, is om mense daarop te wys dat tiendes in die Nuwe Testament genoem word. Hulle reken dat tiendes vandag steeds verpligtend is vir gelowiges, aangesien dit in die Nuwe Testament genoem word.

Tiendes is in vier teksgedeeltes in die Nuwe Testament ter sprake. Die eerste drie verwys nie na gelowige kerkgangers nie, maar na die manier waarop die Fariseërs dit beoefen het. Hierdie drie teksgedeeltes kom almal in die Evangelies voor: Matthéüs 23:23; Lukas 11:42 en 18:9-12. As ’n mens na hierdie drie Evangelieverwysings kyk, sien ’n mens dat, hoewel tiendes ter sprake is, dit nie na die praktyk van Nuwe-Testamentiese gelowiges verwys nie. Dit verwys nie na die gewoonte van ’n gelowige kerkganger nie. Dit verwys eerder na die Fariseërs se praktyk; hulle gee van tiendes was gegrond op die Wet van Moses. Vandag se gelowige staan nie onder die Wet van Moses nie, maar onder die genade.

Die vierde plek waar tiendes in die Nuwe Testament genoem word, is in Hebreërs 7:4-10. In hierdie konteks verwys dit na die Stam van Levi. Die Kerk is nie die Stam van Levi nie. Hierdie teksgedeelte handel dus ook nie oor tiendes deur die Nuwe-Testamentiese gelowige nie.

Tiendes verskyn nooit in die Nuwe Testament as ’n opdrag vir die gelowige kerkganger nie. Hoewel tiendes ter sprake kom, verwys dit nooit na die Nuwe-Testamentiese gelowige nie.

b. Die Ou-Testamentiese skrifgedeeltes
Daar is nog ’n teksgedeelte wat mense gebruik om tiendes as norm voor te hou, en dit is Génesis 14:17-20: Ná sy terugkoms van die oorwinning op Kedor-Laómer en die konings wat saam met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe, dit is die Koningslaagte. En Melgisédek, die koning van Salem, wat ’n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.

Mense baseer hul saak op die laaste gedeelte van vers 20, wat sê dat Abraham ’n tiende, die tiende van alles [wat hy daar gehad het], aan Melgisédek oorhandig het. Aangesien Abraham se handeling die Wet voorafgegaan het, sê mense dat tiendes nie beperk is tot mense onder die Wet nie, maar dat dit ook van ander vereis word. Is dit regtig wat Génesis 14:17-20 ons leer? Is Abraham se geval ’n geldige voorbeeld om die konsep van die verpligte tiende aan ander te leer?

In konteks gesien, sê hierdie teksgedeelte vyf goed. In die eerste plek het dit gespruit uit Abraham se vrye wil. Abraham het nie opdrag ontvang om ’n tiende aan Melgisédek te gee nie; Abraham het dit bloot uit vrye wil gedoen. In die tweede plek het Abraham dit nie aan ’n kerk se tesourie of ’n Tempel se skathuis gegee nie. Hy het dit aan een individu gegee, en daardie persoon was Melgisédek. Die derde saak is dat hy hierdie tiende op die ouderdom van tagtig jaar gegee het. Daar is geen rekord dat Abraham voor of na hierdie insident ’n tiende betaal het nie. Nee, hierdie was ’n eenmalige situasie, nie die heersende praktyk nie, en is nie herhaal nie. Die vierde saak waarop ’n mens moet let, is dat Abraham nie ’n tiende van sy rykdom of sy inkomste gegee het nie; hy het ’n tiende van die buit gegee wat hy verower het in die veldslag teen die vyf konings. As ’n mens hierdie teksgedeelte wil gebruik om ander te leer dat hulle hul tiende moet gee, moet jy hulle na regte ook leer dat hulle eers oorlog toe moet gaan, buit moet plunder en dan tien persent daarvan moet gee! Die vyfde saak is dat hierdie teksgedeelte nie ’n grondslag vorm om gelowige kerkgangers te leer dat ’n mens jou tiende moet gee nie.

c. Samevatting
Wat die bedrag betref wat die gelowige moet gee, is die Ou-Testamentiese beginsel dié van die tiende. Dit geld egter in geen opsig vir die Nuwe-Testamentiese gelowige nie.

B. Die Nuwe-Testamentiese beginsel: Gee onder leiding van die Gees
Die tweede afdeling oor die bedrag wat ’n gelowige moet gee, handel daaroor dat die Nuwe-Testamentiese beginsel nie op die tiende gegrond is nie, maar op gee onder leiding van die Gees. Ons sal twee dele van die Nuwe-Testamentiese beginsel bespreek.

1. Die nuwe grondslag vir gee
Die eerste deel van die beginsel van die Nuwe-Testamentiese, Geesbeheerde manier van gee, is dat die gelowige nie onder die Wet staan nie, maar onder die genade. Paulus skryf in Romeine 6:14: Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.

Hy herhaal dit in Galásiërs 5:18: Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.

Die eerste ding wat Paulus in albei hierdie teksgedeeltes beklemtoon, is dat die gelowige nie meer onder die Wet staan nie. Nie-Jode was nooit onder die Wet nie; Joodse gelowiges was voorheen onder die Wet, maar hulle is nie meer nie. In plaas daarvan word hul doen en late deur twee ander faktore beheer. In die eerste plek is hulle, volgens die gedeelte in Romeine, onder die genade. Om onder die genade te wees beteken dat hulle nie meer “onder die wet [is] nie”; die gelowige gee dus nie op grond van die Wet van Moses nie. Die tiende was altyd op die Wet van Moses gegrond en daarin geanker; aangesien die gelowige nou onder die genade staan, is dit nie die grondslag waarop hy moet gee nie. Die gelowige is nou onder die genade, en behoort nou uit genade te gee, nie “volgens die Wet” nie.

In die tweede plek maak Paulus in die gedeelte uit Galásiërs die punt dat, as die gelowige deur die Gees gelei word – soos wat wel die geval is – staan die gelowige nie meer onder die Wet nie. Die gelowige moet die leiding van die Heilige Gees volg. Die gelowige moet dus op grond van die Gees se leiding gee. Die gelowige moet gee volgens genade, met ander woorde onder die leiding van die Gees.

Ons kry ’n goeie voorbeeld van hierdie metode in die praktyk in Handelinge 4:32-35: EN die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad. En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het.

Die beginsel van gee volgens genade of gee onder leiding van die Gees is duidelik in hierdie teksgedeelte te sien. Almal het gegee soos wat hulle gelei gevoel het om te gee; geen spesifieke, verpligtende wette is voorgeskryf nie; geen spesifieke persentasies is neergelê nie. Die beginsel is dat die gelowige nie onder die Wet is nie, maar onder die genade. Die gelowige moet dus gee volgens genade, oftewel gee onder leiding van die Gees.

2. Die prosedure
Die tweede deel van die Nuwe-Testamentiese, Geesbeheerde manier van gee, gee volgens genade, is die prosedure wat in 1 Korinthiërs 16:1-2 staan: WAT die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.

Die prosedure vir Geesbeheerde gawes of gee volgens genade bestaan uit vier stappe.

a. Sistematies
In die eerste plek moet gee volgens genade sistematies gedoen word, nie lukraak nie. Hierdie prosedure moet op die eerste dag van die week gedoen word, wat die tydperk vanaf sononder op Saterdag tot sononder op Sondag is. Die gelowige moet op daardie dag gaan sit en op ’n sistematiese manier uitwerk watter deel van sy inkomste hy aan die Here gaan gee.

Die eerste stap in Geesbeheerde gee, gee volgens genade, is dat dit sistematies gedoen moet word, en dat dit op die eerste dag van die week gedoen moet word. ’n Mens moet sistematies besluit watter deel van jou inkomste jy aan die Here gaan teruggee; dit moet nie lukraak gedoen word nie.

b. Individueel
Die tweede stap van gee volgens genade waarop Paulus ons wys, is dat dit individueel gedoen moet word: elkeen van julle self. Om te gee is verpligtend vir elke gelowige individu. Paulus praat nie in hierdie gedeelte van gesamentlik gee nie. Hierdie vers weerspreek die konsep van tiendes vir die skathuis, waar gelowiges al hul geld na die skathuis bring, en die ouderlinge of diakens besluit hoe dit verdeel moet word. Nee, hier sien ons die teendeel. Gelowiges moet individueel gee: elkeen van julle self.

Die tweede stap leer vir ons twee dinge. Eerstens, dit is elke gelowige se plig om te gee. In die tweede plek moet dit nie gesamentlik gedoen word nie, maar individueel. Dit beteken nie dat ’n mens nooit gesamentlik kan gee nie; dit is heeltemal in die haak om geld te gee vir ’n plaaslike gemeente se sendingprogram. Die punt hier is dat hierdie tipe gee nie al manier moet wees waarop ’n individu vir die sending gee nie. ’n Mens moet die plaaslike gemeente se sendingprogram ondersteun, maar as daar ’n spesifieke sendingprojek of sendeling op ’n mens se hart gedruk word wat nie deur ’n plaaslike gemeente gefinansier of ondersteun word nie, moet ’n mens vry voel om ’n deel van ’n mens se gawe aan daardie persoon of projek af te staan. Gee moet individueel geskied.

c. Privaat
Ons vind die derde stap onder die Geesbeheerde manier van gee in die uitdrukking opsy sit en opspaar. Die Grieks sê letterlik “by homself opspaar”. Die derde beginsel is dié van ’n private deposito. Die beeld wat gebruik word, impliseer dat die geld wat ’n mens besluit om aan die Here terug te gee op ’n spesifieke, privaat plek gebêre moet word, nie op ’n openbare plek soos die kerk se tesourie nie. As die gelowige individu die geld op ’n privaat plek gebêre het, kan hy dit versprei soos wat die Heilige Gees hom lei.

Hoe ek en my vrou besluit het om dit te doen, is om ’n afsonderlike tjekrekening te open. Ons het twee tjekrekenings: die een is ons bedryfsrekening, waaruit ons ons rekenings betaal, en die tweede noem ons “God se rekening”. Die geld wat ons opsy sit vir die Here se werk, gaan nie na die kerk se tesourie nie, maar na God se rekening toe. As dit eers daar is, is dit God se geld. Ons is verbind daartoe dat ons die geld in God se rekening sal versprei soos wat die Gees lei, ongeag hoe baie geld ons op ander plekke nodig kry. Sodra ons die geld opsy gesit het, is dit God se geld. Wanneer die plaaslike gemeente ’n spesifieke sendeling of bediening aan ons voorhou, hoef ons nie te gaan sit en kopkrap om te sien of ons kan bekostig om iets te gee om aan hierdie behoefte te voldoen nie. Die geld is reeds opsy gesit; dit is al klaar God se geld. Ons moet bloot besluit hoeveel van die geld ons vir daardie spesifieke doel, program, sendingprojek, sendeling of plaaslike gemeente gaan gee.

Dit is die derde stap: Sit geld opsy wat jy privaat deponeer. Dit moet op ’n spesifieke, privaat plek geberg word – nie in ’n openbare plek nie – sodat die individu dit kan uitdeel soos wat die Gees lei.

d. Proporsioneel
Die vierde stap is dat gee onder leiding van die Gees, gee volgens genade proporsioneel gedoen moet word: namate sy voorspoed is. Gee onder leiding van die Gees is nie op die tiende gegrond nie. Die gelowige moenie besluit dat hy deur die bank tien persent gaan gee en niks meer nie. Partykeer sal ’n gelowige slegs in staat wees om vyf persent te gee; partykeer kan dit tien persent wees. Partykeer kan dit twintig, dertig, veertig, vyftig, sestig, selfs negentig persent wees. Partykeer, as al ’n mens se behoeftes vervul is, kan jy selfs eenhonderd persent gee. Die bedrag of deel wat ’n gelowige gee, sal verskil na gelang van die tyd. Dít is ook deel van gee onder leiding van die Gees: dat dit proporsioneel gedoen moet word.

e. Samevatting
Die vier stappe van gee onder leiding van die Gees, oftewel gee uit genade, is: Dit moet sistematies gedoen word; dit moet individueel gedoen word; dit moet in ’n privaat deposito gebêre word; en dit moet proporsioneel gedoen word. Hoeveel ’n individu gee, sal verskil na gelang van die tydstip, want God maak die gelowige op verskillende tye op verskillende maniere voorspoedig.

C. Die onderskeid tussen die twee beginsels
Die derde afdeling van die bedrag wat die gelowige behoort te gee is die verskil tussen die Ou-Testamentiese beginsel en die Nuwe-Testamentiese beginsel.

In die Ou Testament het jy vir jouself toorn en oordeel op die hals gehaal as jy versuim het om die tiende ingevolge die Wet te betaal. Daarteenoor ontsê jy jouself God se beloning as jy versuim om ruim by te dra volgens genade. Die Nuwe Testament leer vir ons dat hoe meer ’n mens gee, hoe meer ontvang jy.

III. DIE ONTVANGERS VAN GAWES
Die derde hoofkategorie van die bybelse beginsels wat met gee gemoeid is, is die ontvangers: Aan wie of aan watter saak behoort die gelowige te gee? Daar is vyf ontvangers van die bybelse manier van gee.

A. Die gelowige se gesin
Die eerste ontvanger van die bybelse manier van gee, is die gelowige se gesin; die gelowige se sleutelverantwoordelikheid is sy gesin se behoeftes. Die Bybel keur mense wat in hierdie verband faal sterk af. In 1 Timótheüs 5:8 skryf Paulus: Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.

Kyk net hoe beskou die Bybel ’n persoon wat nie in sy gesin se behoeftes voorsien nie. Volgens Paulus tree hierdie persoon glad nie geestelik op nie, selfs al maak so ’n persoon daarop aanspraak dat hy dit om geestelike redes doen. Hy het deur sy praktyk en daaglikse wandel reeds die geloof verloën, al het hy dit nie verbaal gedoen nie, want om in jou gesin se behoeftes te voorsien is ’n belangrike deel van geloof. Iemand wat versuim om vir sy gesin te sorg, het – deur sy optrede – die geloof verloën, en om hierdie rede is hy slegter as ’n ongelowige.

Hoe kan ’n gelowige slegter wees as ’n ongelowige? ’n Ongelowige maak nie daarop aanspraak dat hy enigiets vir die Here doen nie. Hy gee nie voor dat Hy God probeer verheerlik nie, maar ’n gelowige maak wel sulke aansprake. Maar as sy lewe in die praktyk daardie feit weerspreek, is hy slegter as ’n ongelowige, want Hy stel die Here wat hy kwansuis dien in ’n slegte lig en doen sy Naam oneer aan.

Die gelowige se eerste verantwoordelikheid is om in sy gesin se behoeftes te voorsien. ’n Mens moet beklemtoon dat dit hier om die gesin se behoeftes gaan, nie om hul begeertes nie. ’n Mens moet nooit versuim om te gee omdat daar onvervulde begeertes is nie. ’n Mens moet dalk die geleentheid om elders te gee laat verbygaan ter wille van jou gesin se behoeftes, maar dit moet nooit gedoen word ter wille van blote begeertes nie.

B. Bedieningswerk
Die tweede ontvanger van jou gawes moet bedieningswerk soos die plaaslike gemeente wees. Die gelowige het ’n plig om die plaaslike gemeente waar hy aansluit te ondersteun. Ons vind hierdie opdrag in 1 Korinthiërs 9:7-14: Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant ’n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ’n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie? Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? Want in die wet van Moses is geskrywe: ’n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ’n groot saak as ons julle stoflike goed maai? As ander deel het aan die reg op julle diens, het ons nie nog meer nie? Ons het ewenwel nie gebruik gemaak van hierdie reg nie, maar ons verdra alles om geen hindernis vir die evangelie van Christus te veroorsaak nie. Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie? So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.

Paulus beklemtoon in hierdie verse dat die bedienaar die reg het om van die evangelie [te] lewe. Hy sit hierdie beginsel duidelik in vers 11 uiteen: Iemand wat geestelike saad saai, het die absolute reg om materiële dinge daaruit te oes. Gelowiges het ’n verantwoordelikheid om bedieningswerk te ondersteun en – in die besonder – die werk van die plaaslike gemeente.

Ons vind in Filippense 4:10-16 ’n voorbeeld van gelowiges wat hierdie plig nagekom het en die bedieningswerk ondersteun het: EK het my grootliks verbly in die Here dat julle nou eindelik weer opgeleef het om aan my belange te dink; waaraan julle ook gedink het, maar julle het die geleentheid nie gehad nie. Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Nogtans het julle goed gedoen toe julle deel gehad het in my verdrukking. En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur.

Die Filippense is ’n goeie voorbeeld van mense wat hul verantwoordelikheid om bedieningswerk te ondersteun nagekom het. Die plaaslike gemeente in Filippi het die bedieningswerk wat Paulus gedoen het, naamlik om nuwe kerke te plant, ondersteun. ’n Mens moet dus bedieningswerk, veral die werk van die plaaslike gemeente, ondersteun.

Binne die raamwerk van die plaaslike gemeente is daar ook individue wat ondersteun moet word. Dit sluit sendelinge en evangeliste in, soos wat ons in 2 Korinthiërs 8:1-9:15 sien.

Die pastor moet ook binne die raamwerk van die plaaslike gemeente ondersteun word, soos ons lees in 1 Timótheüs 5:17-18: LAAT die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. Want die Skrif sê: Jy mag ’n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.

Die ouderling wat onderrig gee, is gewoonlik die pastor. Hy is dubbele eer waardig. Die Griekse woord wat hier vir eer gebruik word, is nie die gewone woord nie, maar ’n finansiële term wat “vergoeding” beteken. Die pastor of ouderling wat onderrig gee, verdien dus dubbele vergoeding. As ’n mens Paulus se woorde letterlik vertolk, behoort die pastor dubbel die gemiddelde inkomste van die gemeente te ontvang.

Bedieningswerk behoort die tweede ontvanger van ’n mens se gawes te wees. Dit behels die plaaslike gemeente se aktiwiteite en hul sendeling, evangelis en pastors of ouderlinge wat onderrig gee.

C. Sending onder Jode
Die derde ontvanger van die bybelse manier van gee, volg op die tweede een. As ’n mens vir die sending gee, moet daar altyd klem wees op sending onder Jode. Die Bybel verdeel sending in twee kategorieë. Westerse kerke deel gewoonlik hul sendingbedrywighede in twee kategorieë, naamlik plaaslike sendingaksies en oorsese sendingaksies. Hierdie kategorieë is egter nie die kategorieë wat ons in die Skrif vind nie. Die twee bybelse kategorieë is Joodse sendingwerk en nie-Joodse sendingwerk (Gal 2; Rom 11; Hand 15).

Aangesien daar twee verskillende tipes sendingwerk is, behoort die klem – veral vir nie-Joodse gelowiges – op sendingwerk onder Jode te val. Dít leer ons uit Romeine 15:25-27: Maar nou reis ek na Jerusalem in diens van die heiliges. Want Macedónië en Acháje het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem. Hulle het dit goedgevind, sê ek, en hulle is ook hul skuldenaars; want as die heidene deel gekry het aan hulle geestelike voorregte, is hulle ook verskuldig om hulle met stoflike goedere te dien.

Paulus ontwikkel in hierdie teksgedeelte ’n gedagte waaroor hy ook in Efésiërs 2:11-3:6 geskryf het. Daar het hy in fyn besonderhede beskryf hoe die nie-Joodse gelowiges aan Joodse geestelike seëninge deelgekry het. Aangesien die nie-Joodse gelowiges deelgenote van die Joodse geestelike seëninge geword het, is hulle – volgens Paulus – in die skuld by die Jode, veral by Joodse gelowiges. Die manier waarop hulle hierdie skuld kan aflos of betaal, is deur hul materiële besittings met Joodse gelowiges te deel. Aangesien nie-Jode deel gekry het aan hulle geestelike voorregte, moet hulle hul skuld vereffen deur materiële besittings aan Joodse gelowiges te gee. Dit is waarom elke plaaslike gemeente ’n organisasie vir sending onder Jode deur hul sendingbegroting moet ondersteun, sodat hulle hul plig in hierdie verband kan nakom.

Wat Paulus ons hier leer, strook met dit wat hy vroeër in Romeine 1:16 gesê het: WANT ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.

Die evangelie is eerste vir die Jood; hierdie beginsel geld vir aktiewe én passiewe evangelisasie. Aktiewe evangelisasie is wanneer ’n mens die werk van ’n evangelis doen. Dit is wat Paulus deur die hele boek Handelinge doen. Hy was die apostel vir die nie-Jode, maar hy het altyd eerste na die Jode toe gegaan met aktiewe evangelisasie. In die tweede plek geld die beginsel van Romeine 1:16 ook vir passiewe evangelisasie. Passiewe evangelisasie vind plaas wanneer ’n mens ander ondersteun wat evangelisasiewerk doen; dit is waaroor Romeine 15 handel. Die beginsel van eerste vir die Jood geld ook vir passiewe evangelisasie. Dus behoort sending onder die Jode beklemtoon te word in ’n mens se bydraes vir sendingwerk.

As ’n mens se plaaslike gemeente nie sending onder die Jode ondersteun nie, kan ’n mens hulle dalk aanmoedig om ten minste een van verskeie Joodse sendelinge te ondersteun deur hulle in hul sendingbegroting in te sluit. Of as ’n individuele gelowige nog nie sending onder Jode ondersteun nie, kan hy bid en die Here vra dat Hy hom sal lei oor watter sendingprojek onder Jode hy op ’n gereelde grondslag moet ondersteun.

Die derde ontvanger is ’n sendeling onder die Jode, wat evangelisasie en dissipelmaking onder die Jode beoefen.

D. Die Bybelleraar
Volgens Galásiërs 6:6 moet die Bybelleraar die vierde ontvanger van ’n mens se gawes wees: Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee.

Die persoon wat onderrig ontvang in die Woord, is verantwoordelik om die leraar met sy materiële besittings te ondersteun. Dit kan ’n pastoor, ’n Sondagskoolonderwyser of ’n dissipelmaker wees, iemand wat mense met behulp van radio of televisie in die Bybel onderrig, of iemand wat ander deur middel van oudio-opnames leer. Indien ’n mens by ’n spesifieke individu of organisasie Bybelonderrig ontvang, het jy ’n verpligting om jou materiële besittings met daardie Bybelleraar te deel.

E. ’n Broer wat gebrek ly
Die vyfde ontvanger is ’n broer wat gebrek ly. Jakobus 2:15-17 sê: As daar nou ’n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie — wat baat dit? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.

’n Broer wat in nood verkeer weens omstandighede buite sy beheer behoort die vyfde ontvanger van ’n mens se gawes te wees. As iemand eenvoudig weier om te werk, het ’n mens geen verpligting teenoor so ’n individu nie. As hy sy werk om die een of ander rede verloor het, as hy op ’n manier finansieel in die knyp geraak het en in nood verkeer, is hy ook ’n waardige ontvanger van geld uit God se rekening. ’n Mens kan dit nie as ’n skenking aan ’n bediening beskou nie, maar om ’n broer in nood te help is op sigself ’n bediening.

’n Mens kan natuurlik nie in hierdie geval vra vir ’n belastingaftrekbare kwitansie nie. In hierdie soort situasie is ’n mens nie in staat om die bedrag van belasting af te trek nie. Persone wat teologiese opleiding ondergaan, val ook in hierdie kategorie. Ek is dankbaar dat daar individue was wat bereid was om my te help toe ek aan die Bybelskool en Kweekskool studeer het, al kon hulle dit nie van belasting aftrek nie. Hierdie kategorie is ’n manier om te gee sonder om ’n belastingaftrekbare kwitansie te kry. ’n Broer in nood is ’n waardige vyfde ontvanger.

GEVOLGTREKKING
Hierdie is die bybelse beginsels wat met gee gemoeid is. ’n Mens moet sorg aan die dag lê om die beginsels te gebruik wat vir Nuwe-Testamentiese gawes geld. Ek kan nie genoeg beklemtoon dat die gelowige nie onder die Wet van Moses staan nie. Gelowiges gee nie op grond van die tiende nie, maar op grond van die Nuwe-Testamentiese beginsel, naamlik gee volgens genade, of gee onder leiding van die Gees.

[end]

Inhoudsopgawe
INLEIDING
     A. Die verband tussen gee en rentmeesterskap
     B. Die basiese waarheid oor gee
     C. Die struikelblokke wat gee verhinder
         1. Die konsep van die tiende
         2. ’n Gebrek aan begrip oor gee volgens genade
         3. Die Westerse lewenstyl
         4. Belastingaftrekbare kwitansies
         5. Gewone hebsug
I. DIE BEGINSELS VAN GEE
     A. Die basiese beginsels
         1. Om te gee as ’n bewys van ’n mens se liefde vir God
         2. Om te gee as ’n uitdrukking van ’n mens se geloof
         3. Om meer te gee laat ’n mens meer ontvang
         4. Gee moet in die geheim geskied
         5. Om te gee lei tot ’n gewilligheid om te werk
     B. Die beginsels wat in 2 Korinthiërs 8:1-15 gevind word
     C. Die beginsels wat in 2 Korinthiërs 9:6-14 gevind word
II. DIE BEDRAG WAT GEGEE WORD
     A. Die Ou-Testamentiese beginsel: Die tiende
         1. Die drie tiendes van die Wet van Moses
             a. Onderhouding van die Stam van Levi
             b. Onderhouding van die feeste en offers
             c. Onderhouding van die armes
             d. Samevatting
         2. Tiendes vir die skathuis
         3. Skrifgedeeltes wat gebruik word vir onderrig oor die tiende
             a. Die Nuwe-Testamentiese skrifgedeeltes
             b. Die Ou-Testamentiese skrifgedeeltes
             c. Samevatting
     B. Die Nuwe-Testamentiese beginsel: Gee onder leiding van die Gees
         1. Die nuwe grondslag vir gee
         2. Die prosedure
             a. Sistematies
             b. Individueel
             c. Privaat
             d. Proporsioneel
             e. Samevatting
     C. Die onderskeid tussen die twee beginsels
III. DIE ONTVANGERS VAN GAWES
     A. Die gelowige se gesin
     B. Bedieningswerk
     C. Sending onder Jode
     D. Die Bybelleraar
     E. ’n Broer wat gebrek ly
GEVOLGTREKKING

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Hierdie studie oor die beginsels van gebed behandel tien sake: die definisie van gebed, die simbool van gebed, redes en doel vir gebed, die vermanings om te bid, die beloftes van gebed, die beplanning van gebed, gebedsplekke, gebedstye, liggaamsposisies tydens gebed asook die krag en resultate van gebed.