Die Drie-Eenheid

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

INLEIDING
Hierdie studie handel oor die Drie-Eenheid, of die Drie-Enigheid, van God. Miskien is die beste en eenvoudigste definiëring van die Drie-Eenheid, dat daar net een God is, maar in die eenheid van die Godheid is daar drie ewige en gelykwaardige Persone; dieselfde in kern of wese, maar onderskeie in aansyn of bestaan.

Hierdie begrip was nog altyd ’n vername konflikarea ten opsigte van die leer van die Skrifte. Dwarsdeur die geskiedenis van Israel en die geskiedenis van die Kerk was daar geweldige teenstand teen hierdie konsep van die Drie-Enigheid van God. “Hoe kan God een wees, en hoe kan God drie wees?” Dit kom teenstellend voor. In die kerkgeskiedenis word daar vyf hoof dwaalbegrippe aangaande die leer van die Drie-Eenheid onderskei. Party van hierdie dwaalleringe kom van baie ver terug, maar almal van hulle het moderne ekwivalente.

A. Arianisme
Een van die eerste vroeë dwaalleringe word “Arianisme” genoem. Arianisme kom van ’n kerkleier met die naam van Arius wat geleer het dat God die Vader, God die Seun en God die Gees, nie in wese dieselfde is nie, maar verskillend. Arianisme leer dat net God die Vader ewig is. Die Seun is deur God die Vader geskape voor enigiets anders; daarna is alle ander dinge geskape deur die Seun, wat Self ’n geskape wese was. Ons praat nie meer van Ariane nie, maar hulle bestaan steeds in verskeie kultusgroepe soos die Jehovah Getuies en die Mormone, wat ook die ewige voorafbestaan van die Seun ontken deur te leer, dat die Seun deur God die Vader geskape is.

B. Sabellianisme
’n Tweede dwaalleer staan bekend as “Sabellianisme”, ook genoem “Modalisme” of “Modalistiese Monargisme”. Sabellianisme leer dat daar net een persoonlikheid is, en nie drie nie, maar hierdie een persoonlikheid openbaar Homself in drie verskillende wyses. Soms sal Hy Homself openbaar as die Vader, soos wanneer Hy voorgestel word as die Skepper en Wetgewer. Wanneer dit om redding gaan, sal Hy Homself openbaar as die Seun. Soms, wanneer dit gaan om wedergeboorte en heiligmaking, sal hierdie een Persoon Homself openbaar as die Heilige Gees. Dus, as Skepper en Wetgewer, sal Hy Homself as die Vader openbaar; as die Verlosser, sal Hy verskyn as die Seun; as die Gewer van nuwe lewe en as Heiligmaker, sal Hy verskyn as die Heilige Gees. Vandag word hierdie dwaalleer verkondig deur groepe in die Christenwêreld wat bekend staan as “Jesus Alleen”. Hulle sê, net Jesus is God, en Jesus is die Vader, Jesus is die Seun, en Jesus is die Heilige Gees. Die moderne leerstelling van Jesus Alleen ontken die Drie-Eenheid, en is ’n herlewing van die ou Sabellianisme.

C. Socinianisme
’n Derde dwaalleer wat die Kerk geteister het, staan bekend as “Socinianisme”, en word ook “Dinamiese Monargisme” genoem. Socinianisme, wat die Drie-Eenheid gedevalueer het, het nie al drie Persone as gelykwaardig gesien nie; maar het elke Persoon van die Drie-Eenheid beskou as minder as die vorige Persoon. Hulle het geleer dat net die Vader God is. Die Seun is nie God nie; die Heilige Gees is nie God nie; net die Vader is waarlik God. Die Seun is mens; die Heilige Gees is nie ’n persoon nie, maar net ’n goddelike invloed. Hierdie leer is ook algemeen onder sekere hedendaagse kultusgroepe.

D. Unitarisme
Die vierde dwaalleer is “Unitarisme”, wat net eenvoudig die Drie-Eenheid ontken. Dit ontken dat die Godheid uit drie gelykwaardige Persone bestaan. Dit is ’n ontkenning van die drie-likheid, en in hierdie opsig is dit baie soos die Judaïsme.

E. Drie-teïsme
Die vyfde dwaalleer word “Drie-teïsme” genoem. Dit is soortgelyk aan Politeïsme, behalwe dat dit die hoeveelheid gode tot drie beperk. Hierdie leer is ’n ontkenning van die eenheid van die Godheid, en onderskei drie gode eerder as drie persoonlikhede van die een God. Waar Unitarisme drie persoonlikhede ontken en net een God erken, ontken Drie-teïsme die eenheid van die drie Persone en onderskei hulle as drie verskillende gode.

Dis duidelik dat nie een van hierdie vyf beskouings voldoende ingaan op die Skrifte waar die konsep van die Drie-Enigheid onteenseglik geleer word nie. Die ware bybelse leer omtrent die Godheid moet drie spesifieke afdelings omvat: eerstens, “Die Meervoudigheid van die Godheid”; tweedens, “Die Eenheid van die Godheid”; en derdens, “Die Drie-Eenheid van die Godheid”.

I. DIE MEERVOUDIGHEID VAN DIE GODHEID
Die eerste afdeling wat bespreek word, is die meervoudigheid van die Godheid. Dit sal in twee afsonderlike kategorieë bestudeer word.

A. Die Meervoudigheid van die Godheid in die Ou Testament
In die eerste kategorie, leer die Ou Testament by meer as een geleentheid duidelik die konsep van meervoudigheid in die Godheid.

1. Die Meervoudige Selfstandige Naamwoord Elohim
Die Hebreeuse woord wat meestal vir God gebruik word, is die term Elohim, wat “God” beteken, en gebruik word vir sowel die ware God as die baie vals gode. Genesis 1:1 verklaar, In die begin het God, Elohim, die hemel en die aarde geskape. Hier word die woord gebruik vir die ware God. Dit word ook vir die vals gode gebruik in skrifgedeeltes soos Exodus 20:3 en Deuteronómium 13:2. Byvoorbeeld, een van die Tien Gebooie lui, “Jy mag geen ander gode, Elohim, voor my aangesig hê nie.” Hier word dieselfde woord wat vir die ware God gebruik word, vir die heidense, vreemde, okkultiese gode gebruik.

Die punt is dat die Hebreeuse woord vir God, Elohim, ’n meervoudige selfstandige naamwoord is, en die Hebreeuse manlike meervoudseinde het. Wanneer die Hebreeuse woord vertaal word, gebeur die volgende: Waar dit van toepassing is op die ware God, word dit elke keer in die enkelvoud vertaal, maar waar dit van toepassing is op vals gode, word dit altyd in die meervoud vertaal. Die feit dat die woord in die Hebreeus, meervoud is wanneer daar van die een, enigste ware God gepraat word, dui op die konsep van meervoudigheid. Dit is natuurlik nie ’n bewys van meervoudigheid nie, want in Hebreeus geld die gebruik wat bekend staan as “die meervoud van majesteit”. Nietemin, dit maak sekerlik die deur oop vir ’n volledige bespreking van die meervoudigheidskonsep in die persoonlikheid van die Godheid.

2. Die Meervoudswerkwoorde wat saam met Elohim gebruik word
’n Tweede bewys van meervoudigheid van die Godheid in die Ou Testament, is waar meervoudswerkwoorde saam met Elohim gebruik word. Gewoonlik, wanneer Elohim gebruik word vir die een ware God, is die werkwoord wat daarmee saamgaan, enkelvoud. Dit is teenstrydig met die algemene Hebreeuse grammatika, want in die Hebreeuse grammatika moet die werkwoord, wat sowel geslag as getal betref, ooreenstem met die selfstandige naamwoord. Normaalweg sou ’n mens verwag dat ’n werkwoord in die meervoudsvorm saam met die meervoudige selfstandige naamwoord Elohim gebruik moet word. Dit gebeur ook wel wanneer die woord Elohim gebruik word vir vals gode. Maar in die meeste gevalle waar die woord Elohim vir die ware God gebruik word, is die werkwoord wat daarmee saamgaan, in die enkelvoudsvorm om aan te dui dat daar net een enkele ware God is. Daar is egter uitsonderings, en dit werp verdere lig op die bespreking van die meervoudigheid in die Godheid.

Byvoorbeeld, Genesis 20:13a lees: En toe God my uit die huis van my vader laat omswerf het. Die Hebreeuse werkwoord saam met Elohim, wat vertaal word met laat omswerf het, is meervoud. Letterlik lees dit, “En toe hulle, verwysend na God my laat omswerf het.”

Nog ’n voorbeeld is Genesis 35:7: en hy het daar ’n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat God daar aan hom geopenbaar is. Hier ook, is die werkwoord, geopenbaar is, wat saam met Elohim gebruik word, ’n meervoudsvorm in Hebreeus, wat letterlik lees, “want God het hulleself daar geopenbaar.”

’n Derde voorbeeld is II Samuel 7:23: wat God vir Hom as ’n volk gaan verlos het. Weer eens, die Hebreeuse werkwoord vir [ge]gaan verlos het, wat saam met Elohim gebruik word, is meervoud, en lees letterlik: “want hulle, God, het gegaan om te verlos.”

Die vierde voorbeeld is Psalm 58:12b: daar is ’n God wat op die aarde oordeel! Weer eens, die term oordeel, wat saam met Elohim gebruik word, is ’n meervoudswerkwoord in Hebreeus, en dit lees letterlik, “daar is ’n God, hulle oordeel.”

3. Die Selfstandige Naamwoord Elohim van toepassing op Twee Persone
Die derde standpunt wat as bewys aangevoer word vir meervoudigheid van die Godheid in die Ou Testament, is dat die woord Elohim, of God, dikwels op twee verskillende persoonlikhede in dieselfde skrifgedeelte van toepassing is. Soos byvoorbeeld:

In Psalm 45:7-8 verklaar die skrywer: U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer. U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle. Let op dat die woord God in werklikheid op twee verskillende persone in die twee verse van toepassing is. Die skrywer spreek God aan, en nadat hy God aangespreek het, sê hy dat ’n ander God die eerste God met vreugde-olie gesalf het bo sy metgeselle. Let op dat die eerste Elohim in hierdie vers aangespreek word. Die tweede Elohim is die God van die eerste Elohim. Dit is God se God wat Hom met die vreugde-olie gesalf het.

’n Tweede voorbeeld is in Hoséa 1:7: Maar oor die huis van Juda sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die HERE hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie. In hierdie skrifgedeelte is die spreker Elohim of God, wat sê dat Hy ontferming vir die huis van Juda sal hê, en hulle sal verlos deur bemiddeling van die HERE hulle God Elohim. Met ander woorde, Elohim of God nommer een sal Israel red deur Elohim of God nommer twee.

4. Die Naam JHWH (die HERE) van toepassing op Twee Persone
Die vierde bewys wat aangevoer word vir die meervoudigheid van die Godheid in die Ou Testament, is die feit dat God se eienaam, wat saamgestel is uit die vier Hebreeuse letters wat in die Afrikaanse alfabet ooreenstem met JHWH (soms uitgespreek as Jahweh of Jehovah), en in Afrikaans vertaal word as “die HERE”, in een skrifgedeelte op twee verskillende Persone van toepassing is.

Die eerste voorbeeld is in Genesis 19:24: En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel. In hierdie vers laat reën die HERE nommer een, vuur en swawel neer vanaf die tweede HERE uit die hemel. Die eerste HERE is op die aarde; Hy is die Een wat vroeër met Abraham gepraat het. Hierdie HERE het aan hom verskyn by die eikebome van Mamre, en hom gewaarsku aangaande die komende verwoesting van Sodom. Hierdie HERE wat op die aarde was, die HERE nommer een, het nou vuur en swawel laat neerreën vanaf die HERE nommer twee, wat in die Hemel was. Die term die HERE, God se eienaam, word hier gebruik vir twee verskillende Persone.

’n Tweede voorbeeld is Sagaría 2:8-9: Want so sê die HERE van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak sý oogappel aan. Want kyk, Ek sal my hand oor hulle swaai, sodat hulle ’n buit word vir hulle knegte. Dan sal julle weet dat die HERE van die leërskare my gestuur het. Hierdie vers sê dat die HERE nommer een die spreker is: Want so sê die HERE van die leërskare. In Sy rede sê hy dat Hy deur die HERE nommer twee gestuur word om ’n taak uit te voer. Weer eens, daar is een HERE wat ’n ander HERE stuur om ’n spesifieke taak uit te voer.

Nie alleenlik is die woord Elohim, wat “God” beteken, in een skrifgedeelte van toepassing op twee verskillende Persone nie, maar God se eienaam is ook in een skrifgedeelte van toepassing op twee verskillende Persone.

5. Die Meervoudige Selfstandige Naamwoord Adonai (Here)
’n Vyfde bewys wat uit die Ou Testament aangevoer word vir die meervoudigheid van die Godheid, is die Hebreeuse woord Adonai, wat “Here” beteken. Elke keer wanneer hierdie woord vir God gebruik word, word dit in die meervoud aangetref. Die enkelvoudsvorm word nooit vir God gebruik nie. Die feit dat die Hebreeuse woord vir Here, Adonai, ook altyd met verwysing na God in die meervoud is, is ook ’n bewys van meervoudigheid in die Godheid.

6. Die Meervoudige Voornaamwoorde
’n Sesde bewys wat aangevoer word aangaande die meervoudigheid van die Godheid in die Ou Testament, is die feit dat meervoudige voornaamwoorde vir God gebruik word.

Een voorbeeld is Genesis 1:26a: En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis. Neem kennis van die woorde, Ons, ons, en ons. Hierdie woorde is meervoudige persoonlike en betreklike voornaamwoorde wat na God verwys. God kon sekerlik nie engele ingesluit het by die terme Ons, ons, ons, nie, omdat die mense nie na die beeld van engele geskape moes word nie, maar na die beeld van God. Die voornaamwoorde, Ons, ons, ons, kan net verwys na God, nie na enige engel nie; en hulle is meervoudige voornaamwoorde.

’n Tweede voorbeeld waar die meervoudige voornaamwoord “Ons” gebruik word met verwysing na God, word gevind in Genesis 3:22a: Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons.

’n Derde voorbeeld waar die meervoudige voornaamwoord “Ons” weer gebruik word, is Genesis 11:7a: Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar.

Afgesien van die Boek van Genesis, is daar ’n voorbeeld in die Profete, in Jesaja 6:8a: Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Let op, dit begin met ’n enkelvoudige voornaamwoord, maar verander dan na die meervoud: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Die enkelvoud toon dat God een is, en die meervoud toon die meervoudigheid van die Godheid. Hierdie meervoudige voornaamwoorde toon duidelik aan dat God gesien word in terme van meervoudigheid.

7. Die Meervoudige Byvoeglike Naamwoorde
’n Sewende bewys wat aangevoer word wat die meervoudigheid van die Godheid vanuit die Ou Testament aantoon, kom van die feit dat God ook in terme van meervoudige byvoeglike naamwoorde beskryf word. Die selfstandige naamwoorde in Afrikaanse vertalings, kom in die Hebreeuse teks voor as byvoeglike naamwoorde. Hulle is ook in die meervoudsvorm.

Byvoorbeeld, Josua 24:19 lees in Afrikaans, heilige God (enkelvoud). Maar heilige is in Hebreeus ’n byvoeglike naamwoord met ’n meervoudsvorm, wat letterlik lees, “heilige Gode.”

’n Tweede voorbeeld is Psalm 149:2, wat lees: in sy Maker. Die Hebreeuse byvoeglike naamwoord wat vertaal word as Maker, is meervoud in Hebreeus; en dit lees dus letterlik, “Laat Israel hom verheug in sy Makers.”

’n Derde voorbeeld is Prediker 12:1: jou Skepper. Weer eens, die Afrikaanse selfstandige naamwoord Skepper is ’n meervoudige byvoeglike naamwoord in Hebreeus, en dit lees letterlik, “jou Skeppers.”

In Jesaja 54:5 is daar twee voorbeelde. In Afrikaans lees dit, jou Maker is jou Man. Maar albei die terme, Maker en Man, is meervoude in die Hebreeuse teks, en lees letterlik, “jou Makers, jou Mans” met verwysing na God. Dit, ook, onderskryf die konsep van meervoudigheid.

8. Die Engel van die HERE (ook: die Engel van God)
Die agtste bewys wat aangevoer word wat die meervoudigheid van die Godheid in die Ou Testament aantoon, is die leerstellings in verband met die “Engel van die HERE” of die “Engel van God”. Hierdie figuur verskyn sporadies dwarsdeur die Ou Testament. In sommige vertalings word hy die Engel van die HERE genoem; en ander kere word Hy geïdentifiseer deur die uitdrukking, die Engel van God. Wat interessant is, is die feit dat in elke skrifgedeelte waar Hy verskyn, word Hy in een deel binne die konteks, die Engel van die HERE genoem, en in ’n ander deel binne dieselfde konteks, word Hy die HERE Self genoem. Wat duidelik is, is dat die Engel van die HERE nie ’n algemene, gewone engel is nie, maar dat Hy ’n unieke Wese is, wat ’n sigbare manifestasie van God Self is. Binne die konteks is dit altyd voor die hand liggend.

a. Voorbeelde van Uniekheid
Die eerste voorbeeld is Genesis 16:7-13. Hy word die Engel van die HERE genoem in verse 7, 9, 10 en 11; en dan word Hy die HERE Self genoem in vers 13.

’n Tweede voorbeeld is Genesis 22:9-16. Hy word die Engel van die HERE genoem in verse 11 en 15; maar Hy word God genoem in vers 12, en die HERE in vers 16.

’n Derde voorbeeld is Genesis 31:11-13. In vers 11 word Hy die Engel van God genoem; maar in vers 13 sê Hy: Ek is die God van Bet-el.

Die vierde voorbeeld is Genesis 32:24-30. In vers 24 word Hy ’n Man genoem, want dit is hoe Hy verskyn het. Vers 28 sê: jy het geworstel met God; en vers 30 lees: ek het God gesien van aangesig tot aangesig. Die Een wat as ’n Man verskyn het, was in werklikheid die Engel van die HERE; maar as dit gesê word dat Jakob met die Engel geworstel het, word dit ook gesê dat hy met God geworstel het.

Die vyfde voorbeeld is Exodus 3:1-5. Hy word die Engel van die HERE genoem in vers 2; maar in vers 4 word Hy sowel die HERE as God genoem.

Die sesde voorbeeld is Rigters 2:1. Die Engel van die HERE was verantwoordelik vir die uittog uit Egipte; maar uit Exodus 19:3-4 is dit duidelik dit was God, die HERE, wat daarvoor verantwoordelik was.

Die sewende voorbeeld is Rigters 6:11-24. Hy word die Engel van die HERE genoem in verse 11, 12 en 21; die Engel van God in vers 20; maar die HERE in verse 14, 16, 22 en 23.

Die agtste voorbeeld is Rigters 13:2-24. Hy word die Engel van die HERE genoem in verse 3, 13, 15, 16, 17, 18, 20 en 21; en die Engel van God in vers 9. Dan, in vers 18, is Sy naam wonderbaar; een van daardie besondere Hebreeuse woorde, pele, wat slegs vir God gebruik word, soos in Jesaja 9:5. Vers 22 van Rigters 13 sê, die Engel van die HERE wat deur Manóag en sy vrou gesien is (vers 20), was God.

Die laaste voorbeeld is in die Boek van Sagaría, hoofstukke 1-6, waar Hy dikwels die Engel van die Here Self genoem word.

Hierdie manifestasies van die Engel van die HERE wys ook op ’n meervoudigheid in die Godheid.

b. Skriftuurlike Bewyse van Uniekheid
Die feit dat hierdie Engel nie ’n algemene, gewone engel is nie, kom duidelik na vore in drie Ou Testamentiese skrifgedeeltes. Die eerste skrifgedeelte is Jesaja 42:8, waar God sê: Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee nie. Die eer wat ingeslote is in die eienaam van God – JHWH – is ’n eer wat aan God alleen behoort, en dit word nie gegee aan enige ander persoon nie, en aan geen skepsel hoegenaamd nie.

Die tweede skrifgedeelte is Exodus 23:20-23, wat sekere dinge verklaar aangaande hierdie Engel van die HERE. In vers 20, is Hy die Engel wat die uittog uit Egipte sal lei. In vers 21, is dit hierdie Engel aan wie gehoorsaamheid betoon moet word en teen wie daar nooit oortree moet word nie. Die rede is dat Hy nie hulle sonde of opstand sal vergewe nie, want my Naam is in Hom. Hierdie Engel het God se eienaam, dus is Sy naam ook die HERE. In die lig van Jesaja 42:8: Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee nie, het hierdie Engel geen reg om hierdie naam te hê nie, tensy Hy ook deel van die Godheid is. Daarom sê die HERE nommer een dat hierdie Engel ook die naam van die HERE het. In vers 22 is daar seëninge vir gehoorsaamheid en, in vers 23, word Hy weer eens verklaar as die Engel van die uittog uit Egipte. Die feit dat God se naam in Hom is, en die feit dat hierdie Engel die mag het om sonde te vergewe of nie, is nogmaals ’n duidelike leerstelling dat Hy nie ’n gewone engel is nie, maar God Self.

Die derde skrifgedeelte in verband met hierdie punt, is Hoséa 12:3-6, waar Hoséa herbevestig dat hierdie Engel God se eienaam het. Vir die Engel om God se eienaam te kan hê, moet Hy God Self wees.

9. Die Seun van God
Die negende bewys wat aangevoer word vir die meervoudigheid van die Godheid in die Ou Testament, is die konsep van die Seun van God, wat in twee Ou Testamentiese skrifgedeeltes voorkom.

a. Psalm 2
Die eerste skrifgedeelte is Psalm 2, waar hierdie konsep op twee plekke voorkom. Psalm 2:7 verklaar: Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. In vers 7 is daar ’n aankondiging van Seunskap: God het ‘n seun. Iemand is verordineer om daardie seun te wees. Verse 8 en 9 verklaar dat hierdie Seun voorbestem is om die wêreld te regeer. Aangaande hierdie Seun, word die hele wêreld in verse 10-12 gelas dat hulle Hom moet gehoorsaam. En vers 12 verklaar: Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil! Die hele wêreld word opdrag gegee om die Seun te gehoorsaam. Kus die Seun, beteken “om hulde te bring” aan Hom. Dan gee Hy almal opdrag om by die Seun te skuil; en dié wat by die Seun van God skuil, is diegene wat deur God gered sal word. Psalm 2 leer onteenseglik dat daar ’n Seun van God is.

b. Spreuke 30:4
Die tweede skrifgedeelte wat dieselfde punt leer, is Spreuke 30:4, waar die skrywer ’n reeks van ses vrae vra. Die eerste vier is retoriese vrae waarvan die antwoord voor die hand liggend is. Die eerste vier vrae is: Wie het na die hemel opgeklim en neergedaal? Wie het die wind in sy vuiste versamel? Wie het die waters in ’n kleed saamgebind? Wie het al die eindes van die aarde vasgestel? Die antwoord op hierdie vier vrae is voor die hand liggend: dit is God. Al vier vrae vra wie verantwoordelik is vir die skepping en vorming van die heelal. Die ooglopende antwoord in elke geval, is dat dit God is; God is verantwoordelik vir al vier hierdie sake.

Dan volg die vyfde vraag, naamlik: Hoe is sy Naam? Sy naam dwarsdeur die Ou Testament is die vier Hebreeuse letters wat ooreenkom met die Afrikaanse letters JHWH. Sy naam is JHWH, in Afrikaans gewoonlik vertaal met “die HERE”. [Volgens Exodus 3:14, het dit ook die betekenis van “EK IS”.]

Dan volg die sesde vraag: En hoe is die Naam van sy Seun – as jy dit weet? Dit is die netelige deel van hierdie vers. Die vers leer wel dat God ’n Seun het; maar, op daardie tydstip in die geskiedenis, was Sy naam nog nie geopenbaar nie. Al die verskeie name van die Messias word later geopenbaar in die Boeke van die Profete, wat in later tye as die Boek van Spreuke geskryf is.

10. Die God-Mens Konsep
Die tiende bewys wat aangevoer word vir die meervoudigheid van die Godheid in die Ou Testament, is die feit dat die Ou Testament ook die konsep van die God-Mens leer. Dit word gesien in verskeie voorbeelde.

a. Genesis 4:1
En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ’n man verkry met die hulp van die HERE. In die eerste voorbeeld sien ons Eva het haar seun Kain genoem, want: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE. In werklikheid is die frase met die hulp van nie in die Hebreeuse teks nie. Letterlik lees die laaste reël van Genesis 4:1, Ek het ’n man verkry: die HERE. Met ander woorde, Eva het gedink die seun aan wie sy pas geboorte geskenk het, was God Self. Dit verduidelik hoe Eva Genesis 3:15 verstaan het, waar God vir die eerste keer die Messias belowe het: En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt. Dit was die eerste Messiaanse profesie, wat verklaar het dat die Messias uit die saad van die vrou gebore sou word. Wat dit duidelik geleer het, is dat die Messias menslik sou wees. Hy moes uit die mense kom: uit die saad van die vrou. Terselfdertyd het Eva besef, as hierdie man die Verlosser moes wees, as hierdie man in staat moes wees om haar van haar sondes te verlos, sou Hy ook God moes wees. Toe sy geboorte geskenk het aan haar eerste seun, het sy gedink Kain was die vervulling van Genesis 3:15, daarom het sy gesê, “Ek het ’n man verkry: die HERE.” Haar teologie was volkome korrek; die Messias sou sowel God as mens wees. Sy was nie verkeerd in haar teologie nie, haar vergissing het gekom by die toepassing daarvan; sy het gedink dat Kain die vervulling was van daardie belofte in Genesis 3:15. Neem kennis dat daar alreeds met die eerste menslike geboorte die besef was dat die Messias sowel God as mens sou wees; dus kom die God-Mens konsep van so vroeg as Genesis 4:1.

b. Jesaja 9:5-6
Nog ’n voorbeeld is die welbekende skrifgedeelte van Jesaja 9:5-6. Die eerste deel van vers 5 praat van ’n Joodse kind wat in die Joodse wêreld gebore sou word: Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee. ’n Kind sou in die Joodse wêreld gebore word, en dit is Sy mensheid wat beklemtoon word. Maar, in die tweede deel van vers 5, word daar vier name aan Hom gegee, waarvan drie slegs op God van toepassing kan wees.

Eerstens word Hy Wonderbaar, Raadsman genoem. (Die NAV vertaal dit: Wonderbare Raadsman, wat nader is aan die Engelse vertaling: Wonderful Counsellor). In Afrikaans word die woord “wonderbaar” vir sowel mense as God gebruik. Ons sal van God praat as wonderbaar, en ook van ons lewensmaat praat as wonderbaar. Daarteenoor is daar in die Hebreeuse Bybel sekere woorde wat net vir God gebruik word. Die Hebreeuse woord vir Wonderbaar is pele, en is een van daardie woorde wat uitsluitlik vir God gebruik word. Terwyl die naam Wonderbare Raadsman nie noodwendig in Afrikaans op goddelikheid dui nie, is dit definitief die geval in Hebreeus.

Die tweede naam van die kind is Sterke God. Hierdie titel dui onteenseglik op goddelikheid en Godheid.

Die derde naam is Ewige Vader, of meer letterlik, “die Vader van die Ewigheid” of “die Een wat die ewigheid beheer”. Dit, ook, onderstreep Sy Godheid, want net God kan die ewigheid beheer.

Sy vierde naam is Vredevors. Dit is die enigste een van die vier name wat vir sowel God as ’n mens gebruik kan word.

Drie van Sy vier name is name wat net waar is van God. Die eerste deel van vers 5 onderskryf Sy mensheid; die tweede deel van vers 5 onderskryf Sy Godheid; en nogmaals is die konsep dié van die God-Mens.

c. Jeremia 23:5-6
’n Derde voorbeeld van die God-Mens konsep word aangetref in Jeremia 23:5-6. Vers 5 praat van ’n nasaat van Dawid wat, as opvolger van Dawid, as Koning sal regeer; hier word Sy mensheid benadruk. Maar dan, in vers 6, is Sy naam: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Die menslike wese wat in vers 5 as nasaat van Dawid as Koning sal regeer, het God se eienaam in vers 6. Dus, vers 5 onderskryf Sy mensheid en vers 6 onderskryf Sy Godheid; en nogmaals sien ons die God-Mens konsep.

d. Sagaría 13:7
Ontwaak, o swaard, teen my herder, en teen die man wat my metgesel is! spreek die HERE van die leërskare. Slaan die herder, sodat die skape verstrooi word; en Ek sal my hand weer uitstrek oor die geringes. In die vierde voorbeeld, hierbo aangehaal uit die OAV, word die man wat my metgesel is in die NAV vertaal met: die man wat so na aan My is. Die Hebreeuse woord wat op enige een van hierdie twee maniere vertaal word, is ’n woord wat letterlik beteken: “my gelyke”. Die vers lees dus letterlik: “Ontwaak, o swaard, teen my herder, en teen die man, met klem op Sy mensheid, wat my gelyke is, sê die HERE van die leërskare.” Hierdie man is God se gelyke, en God se gelyke moet God Self wees. Aan die een kant word Sy mensheid onderskryf: Ontwaak, o swaard, teen my herder, en teen die man; en dan word Sy Godheid onderskryf met “wat my gelyke is”.

In bogenoemde vier voorbeelde leer die Ou Testament onteenseglik die God-Mens konsep.

11. Die Heilige Gees
Die elfde bewys wat aangevoer word aangaande die meervoudigheid van die Godheid in die Ou Testament, is die veelvuldige verskynings van die Heilige Gees. Die Heilige Gees word soms gesien as God, en soms word Hy gesien as een Persoon van die Godheid. Sy talryke verskynings in die Ou Testament is ook bewys van die meervoudigheid van die Godheid. Een voorbeeld is Genesis 1:2, waar dit die Gees van God is wat oor die duisternis van die wêreldvloed gesweef het; die Heilige Gees was dus betrokke by die Skepping; en die Skepping is ’n werk van God. In Exodus 31:3, word die Heilige Gees God genoem. In Job 26:13, is die Heilige Gees (God se asem) betrokke by die Skepping. In Psalm 51:13, word Hy die naam Heilige Gees gegee. Psalm 139:7 leer dat die Heilige Gees alomteenwoordig is. En in Jesaja 11:2 word die Gees die Gees van die HERE genoem.

B. Die Meervoudigheid van die Godheid in die Nuwe Testament
In die tweede kategorie word die meervoudigheid van die Godheid ook in die Nuwe Testament geleer, deurdat meer as een Persoon God genoem word. Byvoorbeeld, die Vader word God genoem (Joh. 6:27; Gal. 1:1, 3). Tweedens, die Seun word God genoem (Joh. 1:1; Rom. 9:5; Tit. 2:13; I Joh. 5:20). Derdens, die Heilige Gees word ook God genoem in Handelinge 5:3-9, waar dit geleer word dat, om vir die Heilige Gees te lieg, dieselfde is as om vir God te lieg; en in II Korinthiërs 3:17.

Opsomming: Dwarsdeur die Bybel leer die Skrifte dat daar meervoudigheid in die Godheid is; die Godheid bestaan uit meer as een Persoon.

II. DIE EENHEID VAN DIE GODHEID
Die tweede afdeling wat bespreek word, is die eenheid van die Godheid. Daar sal aangetoon word dat, hoewel die Bybel aan die een kant meervoudigheid in die Godheid leer, dit nooit ’n meervoudigheid van Gode leer, soos in Politeïsme nie; net ’n meervoudigheid van Persone. Daar is een God, en die meervoudigheid is ’n eenheid van net een God.

A. Die Eenheid van die Godheid in die Ou Testament
“Watter bewyse is daar vir die eenheid van die Godheid?” Ten opsigte van die Ou Testament, is daar vyf spesifieke bewyse.

1. Dieselfde Beeld en Gelykenis
Die eerste bewys word gevind in Genesis 1:26, wat sê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis. Hierdie skrifgedeelte is vroeër in die studie aangehaal om aan te toon dat daar ’n meervoudigheid in die Godheid is. Hierdie selfde vers toon ook ’n eenheid in die Godheid aan, omdat die spreker en die aangespreekte dieselfde beeld en gelykenis het: na ons beeld, na ons gelykenis. Die meervoudige voornaamwoorde ons, ons, onderskryf meervoudigheid. Die feit dat sowel die spreker as die aangespreekte dieselfde beeld en gelykenis het, onderskryf hulle eenheid.

2. Die Gebruik van Enkelvoudswerkwoorde saam met Meervoudige Selfstandige Naamwoorde
Die tweede bewys wat aangevoer word vir die eenheid van die Godheid in die Ou Testament, is die feit dat, hoewel die woord “God” in Hebreeus Elohim is en meervoud is, word dit omtrent altyd saam met ’n enkelvoudige werkwoord gebruik, en dit is teenstrydig met normaal geldende Hebreeuse grammatikareëls. Die reëls van Hebreeuse grammatika vereis dat die werkwoord met die selfstandige naamwoord moet ooreenstem wat sowel geslag as getal betref. Wanneer die selfstandige naamwoord Elohim vir die ware God gebruik word, het dit somtyds, synde ’n meervoudige selfstandige naamwoord, ’n meervoudswerkwoord volgens Hebreeuse grammatikareëls. Verskeie voorbeelde hiervan is vroeër aangehaal as bewys vir die meervoudigheid van die Godheid. Maar die feit dat die oorgrote meerderheid gevalle die enkelvoudswerkwoord saam met Elohim gebruik, onderskryf eenheid. ’n Voorbeeld is Genesis 1:1: In die begin het God, Elohim – ‘n meervoudige selfstandige naamwoord, geskep – ’n enkelvoudige Hebreeuse werkwoord. Dit kom nie ooreen met die selfstandige naamwoord wat getal betref nie, en verbreek dus die normaal geldende Hebreeuse grammatikareël. Hierdie verbreking van die normaal geldende Hebreeuse grammatikareël, in die meerderheid gevalle waar die woord Elohim vir die ware God gebruik word, toon ook eenheid in die Godheid aan.

3. Die Gebruik van Enkel- en Meervoudsvorms saam met mekaar
’n Derde bewys wat aangevoer word vir die eenheid van die Godheid in die Ou Testament, is die gebruik van El Elohim. El is die enkelvoudsvorm, en Elohim is die meervoudsvorm; maar albei word saam in een vers vir dieselfde God gebruik. Een voorbeeld is Genesis 33:20: Daar het hy ook ’n altaar opgerig en dit genoem: Die God van Israel is God. Engelse Bybels vertaal dit: And he erected there an altar, and called it El-Elohe-Israel. El is die enkelvoud, maar Elohe is die saamgestelde vorm van Elohim, wat ’n meervoudsvorm is. Letterlik lees dit dus: “God, die Gode van Israel.” Die feit dat die enkelvoud deur die meervoud gevolg word, en dat albei woorde na die een ware God verwys, onderskryf eenheid.

’n Tweede voorbeeld waar beide die enkelvoud en meervoud saam gebruik word, is Josua 22:22: Die God van die gode, die HERE, die God van die Gode, die HERE, Hy weet dit; en ook Israel mag dit weet: as dit deur opstandigheid of deur troubreuk teen die HERE is – verlos ons nie vandag nie, HERE! Die Hebreeuse woord wat vertaal is as Die God van die gode, is die woord El, wat die woord in die enkelvoud is vir God. Hierdie woord wat vertaal is as God, is Elohim, en dit is ’n meervoudige selfstandige naamwoord wat “God” of “gode” beteken. Die woord wat vertaal is as die HERE, is God se eienaam: El, Elohim, die HERE. Die HERE is God se eienaam; Elohim benadruk Sy meervoudigheid; maar die enkelvoud El benadruk Sy eenheid. Eenheid kan dus gesien word in die gebruik van El Elohim, die enkelvoud en meervoud saam gebruik vir een en dieselfde God.

4. Die Gebruik van die Kompositum (Samestellende) Een
Die vierde bewys wat aangevoer word vir die eenheid van die Godheid in die Ou Testament, is Deutoronómium 6:4; ’n vername vers vir die Jodedom. Deutoronómium 6:4 word genoem die sh’ma, en dit word beskou as die kern van alle vorms van die Judaïsme.

Die vers lees: Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE. (NASB: The LORD is our God, the LORD is one!) Hierdie vers, meer as enige ander skrifgedeelte, onderskryf die konsep van ’n eenheid. In pogings tot Joodse evangelisasie, word Deutoronómium 6:4 dikwels deur die Jode gebruik om teen die meervoudigheid van die Godheid te betoog. Maar as hierdie vers baie noukeurig bestudeer word, is dit duidelik dat dit nie ’n absolute eenheid leer nie, maar ’n samestellende eenheid. In plaas van teen ’n meervoudigheid van die Godheid te argumenteer, onderskryf Deutoronómium 6:4 in werklikheid die konsep van meervoudigheid in die Godheid.

Om mee te begin, moet dit uitgewys word dat waar dit lees, die HERE onse God, is die Hebreeuse woord vir God meervoud, en dit lees letterlik, “onse Gode”. Maar die sleutelwoord waarop die aandag gevestig moet word, is die woord enige (of: een).

a. Echad
Die Hebreeuse woord vir een is echad. Deur ’n vergelykende studie van die gebruik van echad elders in die Ou Testament, is dit duidelik dat hierdie woord na ’n samestellende een verwys, nie ’n absolute een nie. Byvoorbeeld, Genesis 1:5 sê: en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. Die samestelling van aand en môre omvat die eenheid van echad, of een dag.

Nog ’n kern skrifgedeelte is Genesis 2:24: Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees. Van ’n man en ’n vrou wat saamkom in ’n huwelik word gesê, hulle word een, echad, vlees. Daar is twee persoonlikhede, ’n man en ’n vrou, wat saamkom in ’n huwelik, en die twee word een. Vanselfsprekend word hulle nie ’n absolute een nie, want elkeen van hulle behou hulle onderskeie persoonlikhede; nietemin is daar definitief hier ’n eenheid.

Nog ’n voorbeeld is Esra 3:1, waar die hele volk van Israel as een, echad, saamgekom het. Alhoewel die byeenkoms bestaan het uit ’n groot aantal individue, word hulle almal saam as een gesien; klaarblyklik ’n samestellende een.

Nog ’n voorbeeld is Esegiël 37:17, waar Esegiël die opdrag kry om twee stukke hout bymekaar te voeg om een, echad, stuk hout te wees.

Hierdie voorbeelde van die woord echad in die Hebreeuse teks, wat presies dieselfde woord is as wat in Deutoronómium 6:4 gebruik word, toon aan dat daar van ’n samestellende eenheid gepraat word, nie ’n absolute eenheid nie.

b. Yachid
Daar is ’n ander Hebreeuse woord, wat wel ’n absolute een beteken: yachid. Dit kom voor in Genesis 22:2, waar dit Isak beklemtoon as Abraham se enigste, unieke seun. As Moses dus absolute eenheid van God wou onderskryf het, sou hy die term yachid gebruik het. Hy het egter nie daardie term gebruik vir die eenheid van God nie. Deutoronómium 6:4 is, daarom, ’n argument vir die meervoudigheid van die Godheid en, terselfdertyd, leer dit die eenheid van hierdie meervoudigheid van die een God.

5. Die HERE Verklaar as Een
Die vyfde bewys wat aangevoer word vir die eenheid van die Godheid in die Ou Testament, is dat die HERE verklaar word as een, echad, in Sagaría 14:9.

B. Die Eenheid van die Godheid in die Nuwe Testament
In die Nuwe Testament word die eenheid van die Godheid geleer in Efésiërs 4:4-6; I Timótheüs 2:5; en Jakobus 2:19.

III. DIE DRIE-EENHEID VAN DIE GODHEID
Die derde afdeling van hierdie Messiaanse studie gaan oor die wesenlike Eenheid van die Godheid. Tot dusver is daar aangetoon dat die Bybel leer daar is meervoudigheid in die Godheid, en dat hierdie meervoudigheid ’n eenheid is van net een God. Dit is nou nodig om aan te toon dat hierdie meervoudigheid beperk is tot ’n Drie-Eenheid en dat daar nie minder, en ook nie meer, as drie Persone is nie.

A. Die Drie-Eenheid van die Godheid in die Ou Testament
Uit die Ou Testament kom die bewys dat God, inderdaad, ’n Drie-Eenheid is, vanweë die feit dat net drie Persone ooit God genoem word, en dat nie meer as drie Persone ooit saam onderskei word nie.

1. Jesaja 42:1
Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Neem kennis van die drie Persone in hierdie eerste voorbeeld. Die eerste Persoon is die spreker, soos gesien kan word uit die selfstandige naamwoord Ek. Die tweede Persoon is die spreker se Kneg, die dienskneg van die HERE. En die derde Persoon is die Gees van God. Hier is ’n skrifgedeelte waar daar drie, en net drie, Persone is, nie meer as drie nie en ook nie minder as drie nie.

2. Jesaja 61:1
Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis. Die tweede voorbeeld noem net drie individue: die Here HERE; die Gees van die HERE; en die voornaamwoord My, wat verwys na die spreker: Die Gees van die Here HERE is op My. Weer eens, daar is drie Persone en nie meer as drie nie.

3. Jesaja 63:7-14
’n Derde voorbeeld van die Drie-Eenheid van die Godheid in die Ou Testament, kom voor in die konteks van Jesaja 63:7-14, wat ’n opsomming gee van die uittog uit Egipte. In die konteks van hierdie skrifgedeelte word drie Persone genoem, en nie meer as drie nie.

Byvoorbeeld, in vers 7 is daar een Persoon: Ek sal die goedertierenhede van die HERE prys, die roemryke dade van die HERE, ooreenkomstig alles wat die HERE aan ons bewys het, en die veelvuldige goedheid jeens die huis van Israel wat Hy aan hulle bewys het, na sy barmhartighede en na die grootheid van sy goedertierenhede. Die verwysing in vers 7, is na die Persoon wat die HERE genoem word. In hierdie geval is die HERE God die Vader.

’n Tweede Persoon wat genoem word, is in vers 9: In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hý hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd. ’n Tweede persoonlikheid wat in hierdie konteks genoem word, is die Engel van sy aangesig. Hy is dieselfde as die Engel van die HERE, wat Self die naam van die HERE het. Neem kennis dat hierdie Engel in vers 9, die Engel is wat daarvoor verantwoordelik was om hulle te verlos en hulle te dra.

’n Derde persoonlikheid is die Heilige Gees wat genoem word in drie verskillende verse. Eerstens, vers 10 lees: Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef. Tweedens, vers 11: Waar is Hy wat sy Heilige Gees in hulle midde gegee het? En vir die derde keer in vers 14: Soos vee wat aftrek in die laagte, het die Gees van die Here hulle na die rus gelei. In hierdie skrifgedeelte is die drie persoonlikhede duidelik te onderskei. Daar is nie minder as drie nie, en daar is nie meer as drie nie.

4. Jesaja 48:12-16
Die vierde voorbeeld wat as bewys dien van die Drie-Eenheid van die Godheid in die Ou Testament, is in die konteks van Jesaja 48:12-16. Verse 12-14a: Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam. Kom bymekaar, julle almal, en luister! Wie onder hulle het dit verkondig? Hy vir wie die HERE liefhet, sal sy welbehae voltrek. In hierdie verse is dit duidelik dat die spreker God Self is, want die spreker verwys na Homself as die Een wat verantwoordelik is vir die Skepping van die hemele en die aarde. Aangesien God verantwoordelik is vir die skepping van die hemele en die aarde, moet die spreker, dus, God Self wees.

Dan verklaar vers 16: Kom julle nader na My, hoor dit: Ek het van die begin af nie in die geheim gespreek nie; van die tyd af dat dit gebeur, is Ek daar! En nou het die Here HERE my met sy Gees gestuur. Let noukeurig op na die drie Persone: die spreker, die Gees, en die Here HERE. In vers 16 is die spreker die Skepper van die hemele en die aarde, en Hy verwys na Homself deur die voornaamwoorde Ek en my. Hierdie spreker onderskei Homself van twee ander Persone. Een Persoon van wie Hy Homself onderskei, is die Here HERE. Die tweede Persoon van wie Hy Homself onderskei, is die Gees van God. Hier vind ons die heel duidelikste Ou-Testamentiese skrifgedeelte van die Drie-Enigheid. Hier, in Jesaja 48:12-16, word die Drie-Enigheid so duidelik as wat die bedoeling van die Ou-Testamentiese Skrifte kon gewees het, uiteengesit.

In die Ou Testament word net drie Persone ooit God genoem, en nie meer as drie Persone word ooit saam onderskei nie.

B. Die Drie-Eenheid van die Godheid in die Nuwe Testament
In die Nuwe Testament is daar drie hoofbewyse wat aangevoer word vir die Drie-Eenheid van die Godheid.

1. Net Drie Persone word ooit God genoem
Net drie Persone word ooit God genoem, en nie meer as drie Persone word ooit saam onderskei nie.

a. Matthéüs 3:16-17
En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ’n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ’n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.

Neem kennis, nie meer as drie Persone word aangetref in die konteks van Jesus se doop nie. Die Seun word gesien in die Persoon van Jesus; die Gees word gesien omdat Hy fisies neerkom in die vorm van ’n duif; en die Vader word teenwoordig gemaak deur die hoorbare stem wat uit die hemele neerkom en sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.

b. Matthéüs 28:19
Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. In die tweede voorbeeld van die Drie-Eenheid van die Godheid in die Nuwe Testament, word net drie Persone spesifiek genoem, nie minder as drie nie, maar ook nie meer as drie nie. Hierdie drie Persone word nou die titels gegee van Vader, Seun, en Heilige Gees. Let op na die skynbare teenstelling wat die grammatika betref. Die opdrag is om te gaan doop in die naam van, en die woord naam is enkelvoud. Dit sê nie, “in die name van die Vader, Seun en Heilige Gees” nie, wat grammatikaal meer korrek sou wees. In plaas daarvan sê dit, in die naam van. Die woord naam is enkelvoud, wat die eenheid van die Godheid onderskryf. Maar dan, hierdie een naam behoort aan die Vader, die Seun, en die Heilige Gees, wat die Drie-Eenheid van die Godheid onderskryf.

c. Johannes 14:16-17
En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. In die derde voorbeeld van die Drie-Eenheid van die Godheid in die Nuwe Testament, moet daar weer kennis geneem word van die drie Persone wat in hierdie konteks genoem word. Een Persoon is die spreker, Jesus, wat geïdentifiseer word deur die persoonlike voornaamwoord Ek. Die tweede Persoon is die Vader, tot wie Hy sal bid. Die derde Persoon is die Heiige Gees, wat gestuur sal word.

d. I Korinthiërs 12:4-6
Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. In die vierde voorbeeld van die Drie-Eenheid van die Godheid in die Nuwe Testament, word weer eens drie Persone genoem, maar nie meer as drie nie. Vers 4 noem die Gees, wat die Heilige Gees is. Vers 5 noem die Here, wat die Seun is. En vers 6 noem God wat, in hierdie geval, God die Vader is.

e. II Korinthiërs 13:13
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Neem kennis van die drie Persone in die vyfde voorbeeld van die Drie-Eenheid van die Godheid in die Nuwe Testament: Die genade van die Here Jesus Christus, die Seun, die liefde van God, die Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees, die Heilige Gees. Weer eens, drie Persone word genoem, nie meer nie, en ook nie minder nie.

f.I Petrus 1:2
… uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! In die laaste voorbeeld van die Drie-Eenheid van die Godheid in die Nuwe Testament, word daar in vers 2 drie Persone genoem: God die Vader, wat verantwoordelik is vir die voorkennis; die Gees, wat verantwoordelik is vir heiligmaking; en die Seun, Jesus Christus, wat verantwoordelik is vir die besprenkeling met sy bloed, die offer vir die sondes van die wêreld.

Uit hierdie skrifgedeeltes is dit duidelik dat net drie Persone ooit “God” genoem word, en nie meer as drie Persone word ooit saam onderskei nie.

Opsomming: In ooreenstemming met die leer van die Ou Testament, erken die Nuwe Testament onteenseglik dat daar drie Persone in die Godheid is. Maar, terwyl die Ou Testament duidelik ’n Drie-Enigheid leer, noem dit nie werklik die name van die drie lede van hierdie Drie-Enigheid nie; dit gebeur eers met Nuwe-Testamentiese openbaring. Die eerste Persoon word God die Vader genoem. Die tweede Persoon word God die Seun genoem. Dit is die Nuwe Testament wat die vraag in Spreuke 30:4 beantwoord: En hoe is die Naam van sy Seun? Die naam van Sy Seun is Jesus. In ooreenstemming met die Ou Testament, is Hy deur God gestuur om die Messias te wees, maar hierdie keer as ’n man, in plaas van ’n Engel. Wat meer is, Hy is gestuur vir ’n spesifieke doel: om vir ons sondes te sterf. Wat in wese gebeur het, is dat God ’n mens geword het om die werk van die Versoening te volbring. Die derde Persoon word God die Heilige Gees genoem. Dwarsdeur die Nuwe Testament word Hy, in ooreenstemming met die leer van die Ou Testament, verbind met die werk van die Tweede Persoon.

2. Net Drie Persone besit die Attribute (Kenmerkende Eienskappe) van God
Die tweede hoofbewys ten opsigte van die Drie-Eenheid van die Godheid in die Nuwe Testament, is dat net drie Persone die attribute van God besit. Daar is vier spesifieke, goddelike attribute, wat net drie Persone besit.

a. Ewiglikheid
Die eerste attribuut is dié van ewiglikheid. Van net drie Persone word daar gesê dat hulle hierdie attribuut besit, deurdat net drie Persone van altyd af bestaan het en vir altyd sal aanhou bestaan.

Die Vader het hierdie attribuut van ewiglikheid in Psalm 90:2, wat van die Vader praat as van geslag tot geslag (Nuwe Afrikaanse Vertaling: van ewigheid tot ewigheid is U God).

Die Seun het ook hierdie attribuut van ewiglikheid in Miga 5:1 (aangehaal in Matthéüs 2:5-6). Hoewel Hy in Sy mensheid, in Betlehem gebore sou word, verklaar Miga 5:1 ook dat Hy, in Sy Godheid, uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid is. Die Hebreeuse woorde wat Miga gebruik, is die sterks-moontlike terme vir die konsep van die ewigheidsverlede.

Die Seun se ewiglikheid word ook geleer in Johannes 1:1: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Volgens hierdie vers, het die Seun in die begin by God die Vader bestaan. Met ander woorde, vir so lank as wat God bestaan het, vir net solank het die Seun ook bestaan. Aangesien God die Vader van alle ewigheid af bestaan het, moes die Seun, daarom, ook van alle ewigheid af bestaan het. Johannes 1:1 is ’n onteenseglike bewys dat sommige kultiese leerstellings wat verklaar dat die Seun deur God die Vader geskape is, verkeerd is. Die punt van Johannes 1:1 is dat, vir solank as wat die Vader bestaan het, en dit is van alle ewigheid af, dit is vir hoe lank die Seun bestaan het. Die ewiglikheid van die Seun word ook aangetref in Johannes 1:15 en 8:58.

Die Heilige Gees besit ook die attribuut van ewiglikheid, volgens Hebreërs 9:14.

b. Almagtigheid
Die tweede attribuut is dié van almagtigheid, (wat in Afrikaans, in die onderstaande skrifgedeeltes, ook beskryf word as “krag”). Net drie Persone besit die attribuut van almagtigheid. God die Vader is almagtig in I Petrus 1:5. Die Seun is almagtig in Hebreërs 1:3. Die Heilige Gees is almagtig in Romeine 15:19.

c. Alwetendheid
Die derde attribuut is dié van alwetendheid, wat beteken “om alles te weet”. Die Vader is alwetend in Jeremia 17:10. Die Seun is alwetend in Johannes 16:30; 21:17; en Openbaring 2:23. Die Heilige Gees is alwetend in I Korintiërs 2:10-11.

d. Alomteenwoordigheid
Die vierde attribuut, wat net deur drie Persone besit word, is alomteenwoordigheid, wat beteken “God is orals”. Die Vader is alomteenwoordig volgens Jeremia 23:24. Die Seun is alomteenwoordig volgens Matthéüs 18:20 en 28:20. Die Heilige Gees is alomteenwoordig volgens Psalm 139:7-10.

Opsomming: Die tweede bewys wat aangevoer word dat die meervoudigheid van die Godheid beperk is tot ’n Drie-Eenheid, is dus die feit dat net drie Persone die attribute van God besit; in besonder die unieke goddelike attribute van ewiglikheid, almagtigheid, alwetendheid, en alomteenwoordigheid.

3. Net Drie Persone Ken die Werke van God
Daar is ’n derde bewys wat aangevoer word vir die Drie-Eenheid van die Godheid in die Nuwe Testament: net drie Persone handel soos God en doen die werke van God. Ten opsigte hiervan is daar drie spesifieke voorbeelde.

a. Die Werk van die Skepping van die Heelal
Die eerste voorbeeld is die Skepping van die heelal. Die stukrag van die hele Bybel, Ou sowel as Nuwe Testament, is dat God die Skepper is van die heelal. Die Skepping van die heelal is ’n spesifieke werk van God, en tog, in die Skrifte is daar drie verskillende Persone wat verantwoordelik is vir die Skepping. Die Vader is verantwoordelik vir die Skepping van die heelal in Psalm 102:26. Die Seun is verantwoordelik vir die Skepping van die heelal in Johannes 1:3; en Kolossense 1:16. Die Heilige Gees is verantwoordelik vir die Skepping van die heelal in Genesis 1:2; Job 26:13; en Psalm 104:30. Ten opsigte van die Skepping van die heelal, wat die werk van God is, word hierdie drie Persone as aanspreeklik uitgewys.

b. Die Werk van die Skepping van die Mens
’n Tweede spesifieke werk van God is die skepping van die mens. Weer eens, die stukrag van die Bybel in albei testamente, is dat God die mens na Sy beeld geskape het. En weer, die Skrifte leer dat drie verskillende Persone gemoeid is met die skepping van die mens. Die Vader is verantwoordelik vir die skepping van die mens volgens Genesis 2:7. Die Seun is verantwoordelik vir die skepping van die mens volgens Kolossense 1:16. Die Heilige Gees is verantwoordelik vir die skepping van die mens in Job 33:4. Soos dit waar is met die Skepping van die heelal, so is dit ook waar met die skepping van die mens: drie Persone is aanspreeklik vir hierdie werk, wat ’n werk van God is.

c. Die Werk van Inspirasie
Die derde werk is die werk van inspirasie. Die stukrag van die Skrifte is dat God die werk van inspirasie doen; God is die openbaarmaker van Homself. Maar weer eens, van drie verskillende Persone word gesê dat hulle verantwoordelik is vir die werk van inspirasie. God die Vader doen die werk van inspirasie volgens II Timótheüs 3:16. God die Seun is verantwoordelik vir die werk van inspirasie in I Petrus 1:10-11 (die Gees van Christus was in die profete wat van Hom getuig het). Die Heilige Gees is verantwoordelik vir die werk van inspirasie in II Petrus 1:21. Dit, ook, is ’n werk van God, en tog, drie Persone is aanspreeklik.

GEVOLGTREKKING
Aangaande die Godheid leer die Bybel drie groot waarhede.

Eerstens, die meervoudigheid van die Godheid: daar bestaan ’n meervoudigheid van persoonlikhede in die Godheid.

Tweedens, die eenheid van die Godheid: die meervoudigheid is nie ’n meervoudigheid van gode soos in Politeïsme nie, want daar is net een God.

Derdens, die Drie-Eenheid van die Godheid: die meervoudigheid van die persoonlikhede van die een God is beperk tot drie: Vader, Seun, en Heilige Gees, nie meer nie, en nie minder nie.

[end]

Inhoudsopgawe

INLEIDING
      A. Arianisme
      B. Sabellianisme
      C. Socinianisme
      D. Unitarisme
      E. Drie-teïsme
I. DIE MEERVOUDIGHEID VAN DIE GODHEID
      A. Die Meervoudigheid van die Godheid in die Ou Testament
          1. Die Meervoudige Selfstandige Naamwoord Elohim
          2. Die Meervoudswerkwoorde wat saam met Elohim gebruik word
          3. Die Selfstandige Naamwoord Elohim van toepassing op Twee Persone
          4. Die Naam JHWH (die HERE) van toepassing op Twee Persone
          5. Die Meervoudige Selfstandige Naamwoord Adonai (Here)
          6. Die Meervoudige Voornaamwoorde
          7. Die Meervoudige Byvoeglike Naamwoorde
          8. Die Engel van die HERE (ook: die Engel van God)
              a. Voorbeelde van Uniekheid
              b. Bybelse Bewyse van Uniekheid
          9. Die Seun van God
              a. Psalm 2
              b. Spreuke 30:4
          10. Die God-Mens Konsep
              a. Genesis 4:1
              b. Jesaja 9:6-7
              c. Jeremia 23:5-6
              d. Sagaría 13:7
          11. Die Heilige Gees
      B. Die Meervoudigheid van die Godheid in die Nuwe Testament
II. DIE EENHEID VAN DIE GODHEID
      A. Die Eenheid van die Godheid in die Ou Testament
          1. Dieselfde Beeld en Gelykenis
          2. Die Gebruik van Enkelvoudswerkwoorde saam met Meervoudige Selfstandige Naamwoorde
          3. Die Gebruik van Enkel- en Meervoudsvorms saam met mekaar
          4. Die Gebruik van die Kompositum (Samestellende) Een
              a. Echad
              b. Yachid
          5. Die HERE Verklaar as Een
      B. Die Eenheid van die Godheid in die Nuwe Testament
III. DIE DRIE-EENHEID VAN DIE GODHEID
      A. Die Drie-Eenheid van die Godheid in die Ou Testament
          1. Jesaja 42:1
          2. Jesaja 61:1
          3. Jesaja 63:7-14
          4. Jesaja 48:12-16
      B. Die Drie-Eenheid van die Godheid in die Nuwe Testament
          1. Net Drie Persone word ooit God Genoem
              a. Matthéüs 3:16-17
              b. Matthéüs 28:19
              c. Johannes 14:16-17
              d. I Korinthiërs 12:4-6
              e. II Korinthiërs 13:14
              f. I Petrus 1:2
          2. Net Drie Persone Besit die Attribute (Kenmerkende Eienskappe) van God
              a. Ewiglikheid
              b. Oppermagtigheid
              c. Alwetendheid
              d. Alomteenwoordigheid
          3. Net Drie Persone Ken die Werke van God
              a. Die Werk van die Skepping van die Heelal
              b. Die Werk van die Skepping van die Mens
              c. Die Werk van Inspirasie

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Die leerstelling van die Drie-Eenheid leer ons dat daar drie spesifieke Persone in die Godheid is. In die meeste studies oor die Bybel word daar meestal op twee van die Persone gefokus, naamlik God die Seun en God die Heilige Gees. Gevolglik het gelowiges dikwels ’n redelike vae idee van wie God die Vader is, wat Hy doen en waarvoor Hy verantwoordelik is. In hierdie studie bespreek ons twee eienskappe van God die Vader: eerstens, die Vaderskap van God, en tweedens, die werke van God die Vader.