Die geestelike lewe en dissipelskap

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. – Romeine 12:1-2

Dissipelskap is ’n baie belangrike faset van die geestelike lewe. Hierdie onderwerp sal in twee hoofkategorieë bespreek word. Die eerste is ‘Toewyding’, die manier hoe ’n mens ’n dissipel word. Die tweede is ‘Ware dissipelskap’, aangesien dít is wat op toewyding in die gelowige se lewe volg.

I. TOEWYDING: DIE PAD NA DISSIPELSKAP
Die eerste hoofkategorie is toewyding; ses aspekte daarvan sal bespreek word.

A. Die grondslag vir toewyding
Die eerste aspek van toewyding is die grondslag daarvan. ‘Wat is die grondslag wat die Skrif gee om onsself aan die Here te wy, om Hom die Here van ons lewens te maak?’ In die Skrif rus toewyding altyd op die grondslag van seëninge wat ontvang is. Ons behoort onsself aan God te wy oor dit wat ons van God ontvang het. Romeine 12:1-2 sê: EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Paulus baseer sy aansporing om onsself te gee en toe te wy op die ontferminge van God. In dié enkele stelling die ontferminge van God som Paulus alles op wat hy in die eerste elf hoofstukke van die boek Romeine geskryf het. Ons behoort ons lewens toe te wy op grond van al die seëninge wat ons ontvang het, op grond van dit wat God vir ons gedoen het deur regverdigmaking, heiligmaking en verheerliking te bewerk.

’n Mens tref dieselfde waarheid in 1 Korinthiërs 6:19-20 aan: Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam.

Ons behoort God in [ons] liggaam [te] verheerlik omdat ons seën ontvang het, omdat die Heilige Gees in ons woon en omdat ons ’n tempel … van die Heilige Gees geword het.

Die grondslag van toewyding rus altyd op seëninge wat ontvang is. Ons behoort bereid te wees om ons lewens aan God toe te wy op grond van dit wat Hy vir ons gedoen het.

B. Die elemente van toewyding
Daar is drie spesifieke elemente in die tweede aspek van toewyding.

1. Oorgawe
Die eerste element is oorgawe; dit is die eerste toewydingsdaad. Dit is die punt van Romeine 12:1. Dit is ’n besliste aanbieding van ons liggaam om dit aan die Here se werk toe te wy. In die Griekse teks verskyn die woord in die aoristos-tydvorm (Rom 6:13; 12:1-2). Dit beklemtoon ’n besliste, besondere daad. Dit is ’n onherroeplike daad van oorgawe.

B. Afsondering
Die tweede element van toewyding is afsondering en ongelykvormigheid aan die tyd waarin ons lewe. Dit is die punt van Romeine 12:2. Nadat ons onsself aan die Here gewy het, moet ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig [word] nie. Ons moet met ander woorde ‘uit die mode’ raak volgens die wêreld se standaard (1 Pet 1:14). Dít is die sleutelkenmerk van die geestelike lewe. Dit is die deel wat die klem op uiterlike gelykvormigheid plaas; ons word nie aan die wêreld gelykvormig nie, maar wel aan die Woord. Wat die wêreld betref, is ons uit die mode.

3. Transformasie
Die derde element van toewyding is transformasie. Dit is die ander punt van Romeine 12:2. Die wyse waarop transformasie gebeur, is deur die vernuwing van [die] gemoed. Die resultaat sal wees dat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God geken sal word. Dit is die innerlike gebied, innerlike gelykvormigheid aan wat die Bybel vereis.

C. Die betekenis van toewyding
Die derde aspek van toewyding is die betekenis. Die betekenis van toewyding is, eenvoudig gestel, onderwerping van ’n mens se lewe aan die Messias. Die beste teksvers hiervoor is Jakobus 4:7a: Onderwerp julle dan aan God.

Die betekenis van toewyding is dat ons onsself onderwerp; ons onderwerp ons lewens aan die Messias.

D. Die terreine van toewyding
Die vierde aspek is die terreine van toewyding. Daar is twee fasette in die bespreking oor terreine van toewyding. Die eerste is die gelowige self. Die gelowige moet persoonlik aan die Messias toegewy wees, soos Romeine 6:13 dit stel: En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.

Die tweede faset van die terreine van toewyding is die liggaam. Die liggaam moet spesifiek toegewy word, nie net die individu nie (Rom 12:1; 1 Kor 6:19-20).

E. Die gereeldheid van toewyding
Die vyfde aspek van toewyding is die gereeldheid daarvan. ‘Hoe dikwels moet ons onsself en ons liggame toewy?’ Die feit dat die Skrif die aoristos-tydvorm gebruik, impliseer dat dit slegs één keer is; ons moet onsself en ons liggame eenmalig aan die Here se werk toewy. Nadat ons hierdie eenmalige vir-eens-en-vir-altyd toewyding gemaak het, verg dit egter ’n volgehoue verbintenis aan ons kant. Die gelowige moet dan uitvind wat die wil van God in elke besondere situasie is.

Die vraag wat hieruit spruit, is: ‘Sê nou ’n gelowige se toewyding verflou? Gestel daar is ’n verbreking van die toewydingsgelofte? Beteken dit dat hy sy lewe heeltemal van voor af moet toewy?’ Die antwoord is ’nee’. Die antwoord op ’n verbreekte toewydingsgelofte is nie hertoewyding nie; ons hoef nie wéér te doen wat klaar by die aanvanklike toewyding gedoen is nie. Ons begin nie outomaties van voor af nie. Ons moet eerder daaraan dink om die verhouding te herstel as om ons van voor af toe te wy. Dit beteken dat ons die spoor moet vat by dieselfde punt waar ons dit byster geraak het; ons moet voortgaan om ’n lewe van toewyding te lewe, selfs al sal die sonde altyd ’n klad op ons lewens laat. Wanneer ons die pad byster raak, keer ons nie terug na die begin toe nie. Ons moet eenvoudig teruggaan na die punt waar ons opgehou het en voortgaan. Wanneer ’n persoon sy toewydingsbelofte verbreek, beteken dit nie dat alles verlore is nie. En omdat alles nie verlore is nie, hoef ons nie van voor af – waar hertoewyding nodig is – te begin nie.

Die vraag is nou: ‘Aan watter kant van die toewydingslyn staan jy op die oomblik?’ As jy nog nooit as ’n gelowige jouself en jou liggaam só toegewy het nie, is dit nóú – nou dat jy besef wat God van jou verwag – die tyd om dit te doen. Aan die ander kant, as jy wel op ’n tydstip in jou lewe jou liggaam aan die Here gewy het en Hom die Here van jou lewe gemaak het, moet jy nou kyk waar jy ten opsigte van die toewydingslyn staan. Wat nodig is, is herstel, nie hertoewyding nie.

F. Die vrug van toewyding
Die sesde aspek van toewyding is die vrug daarop. Jy sal naamlik die wil van God ken, doen en geniet (Rom 12:2). Toewyding stel die Heilige Gees in staat om die gelowige te vul, want toewyding is ’n voorvereiste vir vervulling in die geestelike lewe. Dit word die begin van die pad na dissipelskap.

II. WARE DISSIPELSKAP
Die tweede kategorie van ‘Die geestelike lewe en dissipelskap’ is Ware Dissipelskap, wat in elf dele bespreek sal word.

A. Die betekenis van dissipelskap
Die eerste deel handel oor die betekenis van dissipelskap. Die Griekse woord vir ‘dissipelskap’ beteken ‘om iemand ’n student of ’n leerling te maak’. Die term ‘dissipel’ verwys na ’n student of ’n leerling, en word in die Nuwe Testament gebruik om drie verskillende kategorieë studente aan te dui.

1. Die nuuskierige dissipel
Dié wat nuuskierige dissipels is – mense wat nuuskierig is oor die woorde, leringe en leerstellinge oor Jesus – val in die eerste kategorie studente. Hulle noem hulleself dalk selfs dissipels op hierdie tydstip, hoewel Jesus hulle nie noodwendig as sulks beskou nie.

Ons vind ’n voorbeeld van hierdie eerste kategorie studente in Johannes 8:31: En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.

Die groep in hierdie konteks is mense wat bloot nuuskierig was. Jesus wys daarop dat hulle eers ware dissipels sal wees wanneer hulle aanváár wat Hy hulle leer in plaas daarvan om net nuuskierig te wees daaroor.

2. Die oortuigde dissipel
Die tweede kategorie studente is die oortuigde dissipels. Hulle begin ook uit blote nuuskierigheid, maar word dan oortuig dat Jesus se lering waar is. Hulle is seker dat Jesus die waarheid oor Homself praat. Hulle is egter nie bereid om ’n verbintenis op grond hiervan te maak nie; hulle wil nie hul lewens daarop waag nie. Ons vind die tweede kategorie studente in Johannes 2:11: Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.

Hierdie dissipels was oortuigde dissipels. Hulle was oortuig daarvan dat Jesus die Messias is, maar hulle wou nie op hierdie tydstip hul lewens daarop verwed nie.

Hulle word ook in Johannes 6:60-66 genoem: EN baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister? En Jesus het in Homself geweet dat sy dissipels hieroor murmureer, en Hy sê vir hulle: Is dit julle tot ’n aanstoot? Hoe dan as julle die Seun van die mens daarheen sien opvaar waar Hy tevore was? Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe. Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie, en wie hy was wat Hom sou verraai. En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.

Hierdie mense val ook onder die tweede kategorie studente, die oortuigde dissipels. Hulle was vas oortuig dat Jesus die Messias is, maar was nie bereid om hul lewens daarop te verwed nie. Toe Hy hulle enkele diep waarhede wou leer, kon hulle dit nie aanvaar nie, en het toe besluit om Hom te verlaat.

3. Die oorgegewe dissipel
’n Mens kry dus nuuskierige dissipels en oortuigde dissipels. Nie een van hierdie twee kategorieë handel eintlik oor dit wat ons met dissipelskap in die geestelike lewe bedoel nie, maar die derde kategorie doen wel. Die derde tipe is die oorgegewe dissipel. Die oorgegewe dissipel is die een wat bereid is om die waarheid te volg, ongeag waarheen dit lei en ongeag wat hy moet ontbeer. Dit beteken om met die Messias se verwerping te identifiseer, om die kruis van algehele oorgawe op te neem ten einde hierdie verbintenis te maak.

Johannes 6:67-69 praat van hierdie soort dissipel: Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.
Petrus en tien van sy mededissipels gee hier gestalte aan die derde kategorie studente. Hulle het begin as nuuskieriges, het oortuig geword en is nou oorgegewe. Wanneer ons oor dissipelskap en die geestelike lewe praat, praat ons van oorgegewe dissipels. Hierdie kategorie kom weer ter sprake in Lukas 9:23-26; 14:27-33.

‘Wat is dissipelskap volgens hulle wat oorgegewe dissipels is?’ Die beste manier om dissipelskap te omskryf, is deur 2 Timótheüs 2:2: En wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.

Let op die driefase-progressie. Aanvanklik het Paulus Timótheüs deur ’n dissipelskapproses geneem en het Timótheüs baie waarhede by Paulus geleer. Tweedens moes Timótheüs ander mense vind om dissipels van te maak en vir hulle dieselfde waarhede leer. Derdens moes hulle op hul beurt ander vind om dissipels van te maak en hulle leer. Dít is wat dissipelskap is: om gewillig te wees om jouself heeltemal aan die Here oor te gee, om Hom te leer ken en die waarheid te volg, ongeag waar dit heen lei. Dít is die betekenis van dissipelskap in die konteks waarin ons dit in hierdie studie sal bespreek.

B. Die oproep tot dissipelskap
Die tweede deel van ware dissipelskap is om die oproep tot dissipelskap te bespreek. Die teksgedeelte wat dit die beste uitbeeld, is Matthéüs 11:28-30: Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.

Die oproep tot dissipelskap beteken in hierdie konteks ‘onderwerping aan Jesus as die Messias, in teenstelling met onderwerping aan Fariseïsme’. Hierdie punt word ook in Matthéüs 23:1-12 en Markus 2:18-22 gemaak. ’n Voornemende dissipel is dus gekonfronteer deur die kwessie van watter juk hy moet volg. Moet hy die juk van die Fariseërs of die juk van die Messias kies? Dit is dieselfde opsie as wat aan die Nie-Joodse gelowiges in Handelinge 15:7-11 voorgehou is. In die konteks van Matthéüs 11 beteken dit: ‘Om die juk van die Wet van Moses en die juk van Fariseïsme af te werp ten einde die nuwe juk, die juk van die Messias, op te neem.’ Die wyse om dit te doen is: leer van My. Onthou, die betekenis van ‘dissipel’ is basies ‘leerder’. Iemand wat bereid is om daardie oorgawe te maak, om ’n dissipel te word, om die nuwe juk van die Messias op te neem, sal dus by Hom leer. Dit het behels om die Wet van die Messias te leer ken, en om bereid te wees om daardie wette te gehoorsaam, ongeag wat hulle vereis.

Dít is die oproep tot dissipelskap. Dit is ’n roeping wat aan elke gelowige gerig word. As jy ’n gelowige is wat nog nie verder gekom het as om die Here in jou lewe in te nooi nie, is jy wel ’n geredde, herskape mens, maar nog nie ’n dissipel nie. Om ’n dissipel te word, moet jy daardie stap van toewyding doen en dan ’n leerling van die Messias en van sy Wet word.

C. Dissipelwording
Die derde segment van ware dissipelskap is dissipelwording. Die raakste teksgedeelte hiervoor is Lukas 9:23-26: EN Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit ’n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen? Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.

Om ’n dissipel te word behels twee elemente: ’n negatiewe een en ’n positiewe een. Negatief gesproke, is die handeling: hy [moet] homself verloën. Dit beteken: ‘Laat hy vir homself “nee” sê.’ Dit gebeur wanneer ’n mens homself en sy liggaam aan die Here toewy. Dan word daar ’n positiewe handeling vereis: om sy kruis elke dag op [te] neem. Om ‘die kruis op te neem’ beteken om met die Messias &ndash en spesifiek met sy verwerping &ndash te identifiseer. Positiewe gesproke, beteken om elke dag jou kruis op te neem om ‘bereid te wees om verag en verwerp te word’. Dit gebeur deur middel van Romeine 12:1. Om ’n dissipel te word is dieselfde as toewyding, hoewel ons ’n ander teksgedeelte gebruik om dieselfde waarheid te illustreer. Dit moet daardie vir-eens-en-vir-altyd toewyding van die persoon en sy liggaam aan die Here hê. Dit beteken: Hy [moet] homself verloën en sy kruis elke dag opneem.

D. Gehoorsaamheid en dissipelskap
Die vierde deel van ware dissipelskap is gehoorsaamheid en dissipelskap. Twee teksgedeeltes word hier bespreek.

1. Lukas 9:57-62
Dit is die hoofteksgedeelte oor dissipelskap en gehoorsaamheid. Jesus leer ons drie beginsels hierin:

a. Bereken die koste: Lukas 9:57-58
EN terwyl hulle op reis was, sê iemand op die pad vir Hom: Here, ek sal U volg, waar U ook mag gaan! Toe sê Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.

Die eerste beginsel is: Bereken die koste. In die eerste illustrasie het ’n man aangemeld om ’n dissipel van Jesus te word. Hy het waarskynlik aangemeld ter wille van die materiële voordele; hy het ’n paar van Jesus se wonderwerke en die materiële voordele wat daaruit gespruit het, gesien. Jesus het gesê dat hierdie sake nie ’n dissipel se alledaagse verwagting moet wees nie. Die dissipel was te haastig; hy het nie die koste bereken nie. Dit kan beteken dat hy baie ongerief sal moet verduur. ’n Mens moet dus eers die koste bereken voor jy ’n dissipel word.

b. Moenie talm nie: Lukas 9:59-60
En Hy sê aan ’n ander een: Volg My. Maar hy antwoord: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. En Jesus sê vir hom: Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God.

Die tweede beginsel is: Moenie talm nie. In die tweede illustrasie het Jesus ’n man vir dissipelskap geroep, maar die man het gesê: ‘Laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.’ Jesus het geantwoord: ‘Laat die dooies hul eie dooies begrawe.’ Hierdie teksgedeelte skep vir baie mense probleme, want dit lyk ’n bietjie onsensitief van die Messias om nie die man toe te laat om sy pa te begrawe nie. Dit moet egter verstaan word binne die Joodse verwysingsraamwerk waarin dit geskryf is. Die pa was nog nie oorlede nie; hy het nog gelewe. Die Fariseërs het destyds verkondig dat ’n seun by die huis moes bly tot die pa gesterf het sodat hy ’n jaar lank die Kaddish-gebed, die spesiale gebed vir die gestorwenes, kon bid. Daarna kon hy weggaan. In hierdie geval het die pa gelewe, en die man was nie bereid om ’n dissipel te word terwyl sy pa nog gelewe het nie.

Waar die eerste man te haastig was, was hierdie een te stadig. Die punt is: Wanneer jy gekonfronteer word met die oproep tot dissipelskap, moenie talm om te besluit nie.

c. Moenie agtertoe kyk nie: Lukas 9:61-62
Die derde beginsel is: Sodra jy jou besluit geneem het, moenie omdraai nie; as jy eers jou hand aan die ploeg geslaan het, moenie agtertoe kyk nie.

En ’n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is. En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.

2. Johannes 14:23-24
Die tweede teksgedeelte sê dat gehoorsaamheid die merk van dissipelskap is: Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.

Die merk van ’n dissipel is gehoorsaamheid aan die opdragte van die Here en aan die opdragte van die Skrif. ’n Gelowige wat nie die Here gehoorsaam nie, is nie ’n dissipel nie. Die bewys van dissipelskap is gehoorsaamheid aan die opdragte van die Skrif. Sonder daardie gehoorsaamheid is daar geen sprake van dissipelskap nie.

E. Die Woord en dissipelskap
Die vyfde deel van ware dissipelskap is die Woord en dissipelskap. Johannes noem drie hoofpunte in die kernteksgedeelte, Johannes 8:31-47: En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. Hulle antwoord Hom: Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word? Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ’n dienskneg van die sonde is. En die dienskneg bly nie vir altyd in die huis nie; die seun bly vir altyd. As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees. Ek weet dat julle die geslag van Abraham is; maar julle probeer om My om die lewe te bring, omdat my woord geen ingang in julle vind nie. Ek spreek van wat Ek by my Vader gesien het, en julle doen ook wat julle by jul vader gesien het. Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen; maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie. Julle doen die werke van jul vader. Toe sê hulle vir Hom: Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God. En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan. Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie. Wie van julle oortuig My van sonde? En as Ek die waarheid spreek, waarom glo julle My nie? Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.

1. Deur die Woord beheer
’n Dissipel is iemand wat deur die Woord van God beheer word. Hy word nie deur sy gevoelens beheer nie. Hy word nie deur lojaliteit teenoor kerkgenootskappe beheer nie. Hy word nie deur materialisme beheer nie. Hy word deur die Woord van God beheer, wat beteken dat hy met die Woord van God gevul is. Dit beteken om die Woord goed te ken. Dit beteken dat ons die Woord bestudeer met ’n bereidheid om daaraan gelykvormig te word, ongeag waarheen dit ons lei.

2. Om voortdurend in die Woord te bly
’n Dissipel is iemand wat in die Woord bly. Die woord bly beteken hier ‘ ’n verhouding waaruit voeding en koestering verkry word’. Om te bly beteken dus ‘om uit iets te put wat lewe onderhou’. Ons geestelike lewe word deur die Woord van God onderhou. Dít is hoekom Kolossense 3:16 ons aanmoedig om die Woord van God ryklik in ons te laat woon; om die Woord van God in ons te laat bly. Om in die Woord te bly beteken dat ons in die Woord lewe. Daarby beteken dit dat die Woord ook in ons bly. Aan die een kant moet ons in die Woord bly; aan die ander, moet ons die Woord toelaat om in ons te bly.

3. Voortdurend aan die Woord onderwerp
Volgens Johannes 15:7 moet ons voortdurend deur die Woord beheer word. Dit beteken dat ons ons voortdurend aan die eise van die Woord moet onderwerp namate ons nuwe waarhede daaruit leer.

F. Die merk van dissipelskap
Die sesde deel van ware dissipelskap is die merk van dissipelskap. Die kernteksgedeelte is Johannes 13:34-35: ’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.

In hierdie teksgedeelte is liefde die merk van ’n dissipel. Iemand wat homself en sy liggaam aan die Here toegewy het, en wat hom in hierdie verskillende fasette van dissipelskap geoefen het, sal liefde betoon, liefde onder mekaar, veral vir dié wat ook mededissipels is en dieselfde stap van toewyding gedoen het.

Johannes 15:9-13 maak dit duidelik dat hierdie liefde volgehou moet word. Net soos God die Vader sy liefde vir God die Seun volhou, moet ons volhou in ons liefde vir mekaar. Ander Skrifgedeeltes wat dieselfde punt tuisbring, is Efésiërs 3:18-19; 4:2-3.

G. Gesag en dissipelskap
Die sewende deel wat bespreek word onder ware dissipelskap, is gesag en disspelskap. Die kernteksgedeelte is Lukas 14:16-27: Maar Hy antwoord hom: ’n Sekere man het ’n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi. En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed. En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het ’n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk Ek vra u, verskoon my tog. En ’n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog. En ’n ander een het gesê: Ek het ’n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie. En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in. En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek. Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word. Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie. EN groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê: As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.

Die kwessie van gesag en dissipelskap lê nie op die terrein van die emosies nie, maar op die terrein van die wil. Daar moet ’n onderwerping van die wil en die areas van gesag in ’n dissipel se lewe plaasvind. Ons hele wil en al ons gesag moet aan die Here onderwerp word, sodat Hy die Here kan wees wat volle gesag oor ons lewens het.

Vers 26 kan problematies wees vir mense wat dit nie vanuit ’n Joodse verwysingsraamwerk verstaan nie. Die vers sê ‘as jy nie jou vader, moeder, vrou, kinders, broers en susters, en jou eie lewe haat nie, kan jy nie ’n dissipel van Jesus wees nie’. Het Jesus regtig bedoel dat ons emosionele vyandskap teenoor ons familielede moet handhaaf ten einde sy dissipels te word? Glad nie!

Die uitdrukkings ‘liefde’ en ‘haat’ is nie net op die terrein van die emosies gebruik nie, maar ook op die terrein van die wil. Op die terrein van die wil het ‘om lief te hê’ beteken ‘om te kies’, en ‘om te haat’ het beteken ‘om nie te kies nie’. Dit is destyds op ’n alledaagse manier in Joodse literatuur gebruik, byvoorbeeld vir ’n man wat na ’n skoenwinkel toe gaan. Uit al die skoene waaruit hy kan kies, is daar slegs twee pare skoene wat hom pas. Hy gaan slegs een van die twee pare koop, dus is hy ‘lief’ vir die een en ‘haat’ hy die ander. Hy het uit die aard van die saak nie emosioneel verlief geraak op die een paar skoene en ’n emosionele haat vir die ander een ontwikkel nie. Hy was ‘lief’ vir een paar skoene in soverre hy dit gekies het. Hy het die ander paar ‘gehaat’ in soverre hy dit nie gekies het nie.

Ons word as gelowiges geroep tot dissipelskap; dissipelskap beteken ’n totale onderwerping van iemand se wil en sy lewe aan die Here. Indien ’n familielid &ndash hetsy ’n ouer, vrou, kind, broer of suster &ndash dit vir ons moeilik maak om ’n dissipel te word, of indien ons ’n keuse moet maak tussen Jesus en ons familielede, moet ons vir Jesus kies. Op daardie manier het ons Hom ‘lief’. Ons kies nie dan ons familielede nie, en op daardie manier ‘haat’ ons hulle.

H. Opoffering en dissipelskap
Die agtste deel van ware dissipelskap is opoffering en dissipelskap. Die kernteksgedeelte hieroor is Lukas 14:28-35: Want wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? – sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie. Of watter koning wat optrek om teen ’n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tienduisend die een te ontmoet wat met twintigduisend teen hom kom nie? Anders stuur hy ’n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes. So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie. Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word? Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

Hierdie teksgedeelte wys ons op twee dinge: In die eerste plek beteken dissipelskap ‘ons bereidheid om alles te laat vaar’. Ons moet so ten volle met die Messias, sy lyding en sy verwerping identifiseer, dat ons bereid is om van alles af te sien.

Tweedens beklemtoon hierdie teksgedeelte die Messias se heerskappy oor elke sent wat ons het. Die vraag wat uit hierdie teksgedeelte ontstaan, is: ‘Watter deel van sy reserwes is ’n mens bereid om op die spel te plaas om ’n dissipel te word? Hoe baie van jou materiële hulpbronne is jy bereid om te belê om ’n ware dissipel te word?’ Die Messias eis alles. Indien jy slegs ’n gedeelte daarvan wil gee en nie alles nie, kan jy nie ’n dissipel wees nie. Daarom moet ons bereid wees om alles op te offer om ’n dissipel te word.

I. Die bediening van ’n dissipel
Die negende deel van ware dissipelskap is die bediening van ’n dissipel. ‘Wat moet ’n dissipel doen? Wat is sy bediening?’ Die kernteksgedeelte hiervoor is Johannes 6:1-14: DAARNA het Jesus na die oorkant van die see van Galiléa, dit is, van Tibérias, gegaan; en ’n groot menigte het Hom gevolg, omdat hulle sy tekens gesien het wat Hy aan die siekes doen. En Jesus het op die berg geklim en daar met sy dissipels gaan sit. En die pasga, die fees van die Jode, was naby. Toe Jesus dan sy oë opslaan en sien dat ’n groot menigte na Hom kom, sê Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet? Maar Hy het dit gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self geweet wat Hy wou doen. Filippus antwoord Hom: Brood vir tweehonderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle ’n stukkie kan kry nie. Een van sy dissipels, Andréas, Simon Petrus se broer, sê vir Hom: Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense? En Jesus sê: Laat die mense gaan sit. En daar was baie gras op dié plek. Die manne het toe gaan sit, omtrent vyfduisend in getal. En Jesus het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels en die dissipels aan die wat daar sit; so ook van die vissies, soveel as hulle wou hê. En nadat hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie. Hulle maak toe bymekaar en het twaalf mandjies gevul met brokstukke van die vyf garsbrode wat oorgeskiet het by die wat geëet het. Toe die mense dan die teken sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom.

In die wonderwerk van die Eerste Vermeerdering van die Brode, is Jesus besig om die aard van die bediening wat Hy aan sy dissipels toevertrou, te illustreer. Op grond van hierdie teksgedeelte, en deur die vertellings in Matthéüs 14:13-21, Markus 6:30-45 en Lukas 9:10-17 te vergelyk, kan vier bedienings uitgesonder word. Om die geheelbeeld te kry, moet ’n mens egter al vier Evangelievertellings saamvoeg. Die tweede, derde en vierde bedienings is nie gegrond op die Eerste Vermeerdering van die Brode nie, maar kom uit ander teksgedeeltes.

1. Laat die skape wei
Die eerste bediening is om die skape te laat wei. In Markus 6:34 het Jesus gesien dat die menigte soos skape sonder herder was. Dit is nie die skape se werk om weiding te soek nie; die herder moet sy kudde laat wei. Daar is drie belangrike punte hier: In die eerste plek moet hulle die skape, oftewel die mense, voed (Luk 9:13). Tweedens moet hulle besef dat hulle nie in staat is om dit self te doen nie (Joh 6:5-9). Derdens moet hulle bloot versprei wat Jesus reeds voorsien het (Matt 14:19). ’n Dissipel is iemand wat bereid is om die skape te laat wei.

2. Onderrig die Woord
Die tweede bediening van ’n dissipel is gegrond op Johannes 14-16. Hierdie bediening is om die Vader te openbaar deur die Woord te onderrig. Die dissipels kry opdrag om dít wat hulle by Jesus oor die Vader geleer het, ook aan ander oor te dra. Aangesien ’n dissipel ’n student én ’n leermeester is, moet hy bereid wees om die Vader te openbaar deur die Woord van God te onderrig.

3. Wees ’n evangelis
Derdens beteken die bediening van ’n dissipel dat hy deur die Messias gestuur is, net soos die Messias deur die Vader gestuur is. Dit is waarop Johannes 17:18 sinspeel: Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.

4. Maak dissipels
Die vierde bediening van ’n dissipel is die Groot Opdrag van Matthéüs 28:18-20. Die Groot Opdrag is om dissipels te maak. Ons moet nie net dissipels word nie; ons moet dissipels maak. Daar is een opdrag, een imperatief in die teksgedeelte: maak dissipels.

Die maak van dissipels het drie fasette. Eerstens moet die evangelie verkondig word met die oog op evangelisasie, want ’n persoon moet eers ’n gelowige word voor hy in aanmerking kan kom om ’n dissipel te word. Tweedens moet ’n nuwe gelowige in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees gedoop word. Derdens moet hulle geleer word om alles te onderhou wat Jesus ons beveel het, want gehoorsaamheid is die bewys van dissipelskap. Voordat al drie fasette &ndash evangelisasie, doop, lering &ndash nie plaasvind nie, is ons nie besig om dissipels te maak nie. Dalk evangeliseer ons net, of dalk evangeliseer en doop ons net, maar ons is nie besig om dissipels te maak voordat ons hulle ook onderrig nie. Al drie fasette is nodig. Dít is die bediening van ’n dissipel.

In Johannes 6:11-12 beskryf die derde en vierde bedienings die vervulling van die profesie wat ons in Jesaja 6:9-13 vind. Jesaja hoor dat ’n golf van oordeel die land sonder inwoners sou laat. Hierdie oordeel is in 70 n.C. voltrek. Rome is tydens die regering van Koning Ussía gestig; Jesaja is tydens die regering van koning Ussía geroep om ’n profeet te word. Rome sou eendag Jesaja se profesie vervul.

J. Die wêreld en dissipelskap
Die tiende deel van ware dissipelskap is die wêreld en dissipelskap. ‘Wat is die dissipel se verhouding met die wêreld?’ Die kernteksgedeelte is Johannes 15:18-25, wat drie stellings maak.

1. Haat vir die dissipel: Johannes 15:18-19
Die wêreld sal die dissipel haat, omdat hy nie meer van die wêreld is nie. As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.

Omdat die dissipel nie meer van die wêreld is nie, voel die wêreld daardeur veroordeel. Die wêreld hou nie daarvan om met hierdie gewaarwording van veroordeling saam te leef nie, en haat daarom die dissipel.

2. Haat vir die Messias: Johannes 15:20-21
Tweedens wys hy daarop dat die wêreld die dissipel sal haat omdat die wêreld Jesus die Messias haat. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.

Maar omdat Jesus nie meer op die aarde is nie &ndash Hy is nou in die hemel waar Hy sit aan die regterhand van God die Vader &ndash het die wêreld nie ’n manier om fisies teenoor Hom op te tree nie. Aangesien hulle Hom nie meer leed kan aandoen nie, sal hulle sy volgelinge, sy dissipels, leed probeer aandoen. Dit is hoekom die wêreld sy dissipels haat: omdat hulle Jesus die Messias Self haat.

3. Haat weens oortuiging: Johannes 15:22-25
Die wêreld sal die dissipel ook haat omdat die dissipel se lewenswandel die wêreld oortuig van sonde: As Ek nie gekom en met hulle gespreek het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hul sonde nie. Wie my haat, haat ook my Vader. As Ek nie die werke onder hulle gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle geen sonde hê nie. Maar nou het hulle dit gesien, en tog het hulle My sowel as my Vader gehaat. Maar die woord wat in hulle wet geskrywe is, moet vervul word: Hulle het My sonder oorsaak gehaat.

Die wêreld hou nie daarvan om van sonde oortuig te word nie, daarom draai dit teen dié wat hulle daarvan oortuig, die dissipels. Die wêreld sal die dissipel derhalwe haat, omdat dit die dissipel se werk is om die wêreld van sonde te oortuig. Kyk hoe reageer die wêreld wanneer gelowiges die wêreld op een van sy grootste sondes wys deur teen aborsie te protesteer. Maar dít is die rol van die wêreld en dissipelskap. ’n Dissipel kan nie voortgaan om vriende met die wêreld te wees nie.

K. Dissipelskap en verantwoordbaarheid
Die elfde deel van ware dissipelskap is dissipelskap en verantwoordbaarheid. Daar is twee kernteksgedeeltes wat hierdie verband uitwys.

1. Verantwoordbaar vir materiële besittings
Die eerste teksgedeelte is Lukas 16:1-13, die gelykenis van die onregverdige bestuurder, iemand wat sy posisie op ’n onregmatige manier gebruik het. Die hoofgedagte van hierdie teksgedeelte is dat gelowiges verantwoording sal moet doen van hul materiële besittings. Ten einde ’n dissipel te word, moet ons al ons materiële besittings aan Hom toevertrou. Dissipels moet daarom verantwoordbaar wees vir hul materiële besittings.

2. Verantwoordbaar vir geestelike seëninge
Die tweede teksgedeelte is Lukas 19:11-27, wat handel oor verantwoordbaarheid en geestelike gawes. Ons gaan nie net verantwoordelik gehou word vir ons aanwending van ons materiële besittings nie, maar ons gaan ook verantwoordelik gehou word vir die wyse waarop ons ons geestelike gawes gebruik of verwaarloos het. Aangesien geestelike gawes misbruik kan word, sal ons verantwoording moet doen vir die regte of verkeerde aanwending daarvan. Ons moet met ons geestelike gawes woeker deur dit te gebruik vir die opbou van die plaaslike liggaam (1 Kor 12:13-14). Volgens Lukas 19:11-27 sal ons toekomstige beloning bepaal word deur die wyse waarop ons ons geestelike gawes gebruik het. Hierdie beloning sal weer ons mate van gesag in die Koninkryk bepaal. Die uitlewing van ons dissipelskap in hierdie wêreld op hierdie tydstip, sal ons ook aansien gee wanneer die Koninkryk gevestig word.
[end]

Inhoudsopgawe
I. TOEWYDING: DIE PAD NA DISSIPELSKAP
     A. Die grondslag vir toewyding
     B. Die elemente van toewyding
         1. Oorgawe
         2. Afsondering
         3. Transformasie
     C. Die betekenis van toewyding
     D. Die terreine van toewyding
     E. Die gereeldheid van toewyding
     F. Die vrug van toewyding
II. WARE DISSIPELSKAP
     A. Die betekenis van dissipelskap
         1. Die nuuskierige dissipel
         2. Die oortuigde dissipel
         3. Die oorgegewe dissipel
     B. Die oproep tot dissipelskap
     C. Dissipelwording
     D. Gehoorsaamheid en dissipelskap
         1. Lukas 9:57-62
             a. Bereken die koste: Lukas 9:57-58
             b. Moenie talm nie: Lukas 9:59-60
             c. Moenie agtertoe kyk nie: Lukas 9:61-62
         2. Johannes 14:23-24
     E. Die Woord en dissipelskap
         1. Deur die Woord beheer
         2. Om voortdurend in die Woord te bly
         3. Voortdurend aan die Woord onderwerp
     F. Die merk van dissipelskap
     G. Gesag en dissipelskap
     H. Opoffering en dissipelskap
     I. Die bediening van ’n dissipel
         1. Laat die skape wei
         2. Onderrig die Woord
         3. Wees ’n evangelis
         4. Maak dissipels
     J. Die wêreld en dissipelskap
         1. Haat vir die dissipel: Johannes 15:18-19
         2. Haat vir die Messias: Johannes 15:20-21
         3. Haat weens oortuiging: Johannes 15:22-25
     K. Dissipelskap en verantwoordbaarheid
         1. Verantwoordbaar vir materiële besittings
         2. Verantwoordbaar vir geestelike seëninge

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.


Die Bybel is absoluut uniek want dit is die onfeilbare Woord van God. Hierdie studie kyk wat die Bybel self oor die Bybel sê. Die Skrif is in die oorspronklike geskrifte geïnspireerd en sonder foute – al is die Bybel oor ‘n tydperk van ongeveer 1600 jaar deur ongeveer 40 skrywers in drie oorspronklike tale op verskillende plekke op die aarde en in verskillende literêre formate geskrywe. Die wonders van die Bybel kan nie net in die ontstaan daarvan gesien word nie, maar ook in die bewaring, die onderwerpe wat dit dek en die invloed daarvan.