Die genade van God

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie.- Romeine 11:6

In hierdie messiaanse Bybelstudie oor die Bybelse leer aangaande God se genade, word die onderwerp in elf kategorieë behandel.

I. DIE HEBREEUSE EN GRIEKSE WOORDE
Die eerste kategorie behandel die oorspronklike Hebreeuse en Griekse woorde waarvan die leerstellige inhoud van genade afgelei is. Twee Hebreeuse woorde en een Griekse woord word ondersoek en bespreek.

A. Chen
Die eerste Hebreeuse woord is chen. In die Ou Testament word dit in totaal tweehonderd-vyf-en-twintig keer gebruik. Uit die omvangryke gebruik van hierdie woord is dit duidelik dat die konsep van God se genade baie verskillende fasette omvat. Tien voorbeelde van die verskillende gebruike van die woord sal bespreek word.

Eerstens beteken hierdie woord, chen, “louter, onverdiende guns van ’n meerdere teenoor ’n mindere”. Hierdie gebruik kom voor in Exodus 33:19 en 34:6-9 waar God, as die meerdere, Sy onverdiende guns aan mindere mense bewys.

Twee, dit beteken “goddelike guns” (Jer. 31:2).

Drie, die bron van hierdie onverdiende, goddelike genade is God Self (Sag. 12:10).

Vier, chen word gebruik in die sin van welwillendheid teenoor die armes, met genade vervat in die begrip (Ex. 22:27).

Vyf, dit is ’n volgehoue genade (Ps. 116:5).

Ses, dit is ’n versorgende genade (Ps. 111:4-5).

Sewe, dit is ’n ontfermende genade, maar dit kan ook bestraffend wees (Ex. 34:7).

Agt, dit is ’n genade wat ’n belydende sondaar aanhoor (II Kron. 30:9; Joël 2:13).

Nege, dit is ’n genade wat saamhang met geestelike bevryding (Job 33:24; Ps. 26:11).

En tien, dit is ’n genade wat saamhang met liggaamlike redding uit die hand van vyande, uit oorloë, en van sondes (Ps. 4:2; 9:14; 25:16-17; 30:11; 31:8-9; 56:1-4; 57:1-2; 86:1-5; 119:132-135; 123:2-3).

Die beste manier om die woord chen op te som, is dat dit die onverdiende guns is van ’n meerdere teenoor ’n mindere; in hierdie geval is dit God, die meerdere, wat aan die mens genade bewys, gewoonlik met aardse of soms met geestelike seëninge, sowel as met bevryding en uitredding, in beide liggaamlike en geestelike sin.

B. Chesed
Die tweede Hebreeuse woord waarvan die konsep van God se genade kom, is chesed. In die Ou Testament word dit in totaal tweehonderd-en-vyftig keer gebruik. Die basiese betekenis van chesed is “troue liefde”. Dit gee die idee weer van intense goedheid en liefde. Dit hou die begrip in van ’n verhouding tussen mense wat by barmhartigheidsdade betrokke is. Hierdie woord het ook ’n aantal verskillende fasette in die Hebreeuse Ou Testament.

Altesame is daar nege verskillende maniere waarop die woord chesed gebruik word, en almal van hulle verwys op een of ander manier na God se genade.

Een, dit beteken “gemeenskap met God” (Ps. 5:8-9).

Twee, hierdie woord vir genade onderskryf God se verbondsverhouding (Deut. 7:12).

Drie, dit lê klem op genade in verlossing (Ps. 6:5).

Vier, dit beteken “die genade van bemagtiging” (Ps. 85:7-8).

Vyf, dit hou die konsep in van genade in voorligting (Ps. 119: 64, 124).

Ses, dit is ’n genade wat vergifnis bewys (Ps. 51:3).

Sewe, dit is ’n genade wat sigbaar is in hoop of wat hoop gee (Ps. 130:7).

Agt, dit is ’n genade wat lofprysing voortbring (Ps. 13:6).

En nege, dit is ’n genade wat bewaring belowe (Ps. 22:12, 20; 23:6).

Om die woord chesed op te som: dit is die standvastige goedertierenheid wat God teenoor mense bewys, veral met betrekking tot die verbonde wat God met Sy mense gesluit het en wat Hy vas gewaarborg het deur Sy belofte. Die basiese betekenis is “troue liefde”, veral soos dit uitgedruk word in die verbonde. Hierdie woord staan in verband met die Mosaïese Verbond (Ex. 20:6; 34:6-7; Deut. 5:10) en met die Dawidiese Verbond (II Sam. 7:15; I Kron. 17:13; II Kron. 1:8; 6:14, 42; Ps. 61:7-8; 89:34-35, 50).

C. Charis
Die derde woord is ’n Griekse woord, charis. Dit is die hoof Griekse term vir die konsep van God se genade, en dit word ook op ’n paar verskillende maniere gebruik.

Een, soms beteken dit, “dit wat vreugde, plesier, genot, bekoring, en lieflikheid gee.” Om hierdie genade te besit, beteken om vreugde, plesier, genot, bekoring, en lieflikheid te hê. Dit is die betekenis in die klassieke Grieks waar dit nie spesifiek na God verwys het nie. Die klassieke betekenis daarvan kom voor in Lukas 4:22 en Efésiërs 4:29.

Twee, dit beteken “welwillendheid” (of “toegeneentheid”), “vriendelike goedheid” (of “goedertierenheid”), “guns”, en “genade” (Luk. 1:30; 2:52; Rom. 11:6; II Kor. 4:15; 6:1; 9:14).

Drie, hierdie genade is ook ’n uitdrukking van dank (I Kor. 10:30; I Tim. 1:2; II Tim. 1:3).

Vier, hierdie spesifieke woord vir genade lê soms klem op die weldade van genade, soos in die algehele geestelike toestand (Rom. 5:2; I Pet. 5:12); genadegawes (I Kor. 16:3; II Kor. 8:6-7); aardse seëninge (II Kor. 9:8); of reddende genade (Joh. 1:17; I Kor. 15:8-10; II Kor. 8:9; I Pet. 1:10, 13).

’n Vyfde gebruik is ’n effens verskillende vorm van dieselfde grondwoord en beteken “om genade te betoon aan”. Aan gelowiges word genade betoon (Luk. 1:28; Ef. 1:6).

Die sesde gebruik is die klem wat gelê word op ’n genadegawe. Daar is twee soorte genadegawes: eerstens, die gawe van redding (Rom. 6:23); en tweedens, geestelike gawes. Dit kan gesien word in nog ’n vorm van hierdie selfde Griekse woord wat die gawes van die Heilige Gees beklemtoon (Rom. 12:3-8; I Kor. 7:7; 12:1-31; Ef. 4:8-11, en I Pet. 4:10).

Dit dan, die drie bronwoorde, twee Hebreeuse woorde en een Griekse woord, en hulle verskeie gebruike waarvan ’n mens kennis moet neem om te kan verstaan wat die genade van God alles beteken.

II. GENADE IN DIE OU TESTAMENT
Die tweede kategorie in hierdie studie is ’n oorsig van genade in die Ou Testament. Hierdie oorsig word in drie afdelings ingedeel: die patriargale tydperk, die Dispensasie van die Wet, en die verbonde.

A. Die Patriargale Tydperk
Gedurende die patriargale tydperk is die genade van God aan minstens vyf persone bewys: Noag (Gen. 6:8); Abraham (Gen. 18:3; 24:27); Lot (Gen. 19:19); Jakob (Gen. 32:10; 33:5); en Josef (Gen. 39:21; 43:29).

B. Die Dispensasie van die Wet
Hoewel teoloë dikwels onderskeid tref tussen die Dispensasie van die Wet en die Dispensasie van Genade, is die genade van God selfs onder die Dispensasie van die Wet bewys. Byvoorbeeld, Moses was ’n ontvanger van God se genade (Ex. 33:12-17) asook die volk Israel (Ex. 15:13).

C. Die Verbonde
Die verbonde van die Ou Testament is ontvang op grond van die genade van God. Inderdaad lê die tweede Hebreeuse woord chesed veral klem op God se trou ten opsigte van Sy verbonde. Die Abrahamitiese Verbond was ’n uitvloeisel van God se genade (Miga 7:20), so ook die Mosaïese Verbond (Ex. 34:6-7), en die Dawidiese Verbond (II Sam. 7:14-15; Ps. 89:34-36; Jes. 55:3; Jer. 31:3).

III. GENADE IN DIE NUWE TESTAMENT
Die derde kategorie van hierdie studie is ’n oorsig aangaande die genade van God in die Nuwe Testament, waar die grootste demonstrasie van God se genade voorkom. Hierdie kategorie word ingedeel in ses afdelings: die Evangelies, die Handelinge van die Heilige Apostels, die Briewe van Paulus, die Brief aan die Hebreërs, die Algemene Briewe, en die Boek Openbaring.

A. Die Evangelies
In die Evangelies word die woord “genade” in totaal elf keer gevind, en die meeste hiervan kom voor in die Evangelie van Lukas (1:30; 2:40, 52; 4:22; 6:32-34; 17:9). Buiten Lukas, kom dit slegs voor in die Evangelie van Johannes (1:14, 16-17).

Drie waarnemings kan gemaak word uit die elf gebruike.

Eerstens, met die uitsondering van Lukas 6:32-34 en 17:9, is die woord nooit deur die Messias gebruik nie. In die gevalle waar Jesus wel die woord gebruik het, dra dit die betekenis van “dank”.

’n Tweede waarneming spruit uit die feit dat dit net elf keer gebruik word en dan primêr deur Lukas. Afgesien van die kere in Lukas, is dit nie ’n woord wat algemeen voorkom in die sinoptiese Evangelies nie. Matthéüs en Markus gebruik die woord glad nie. Die waarskynlike rede hoekom Lukas die woord die meeste gebruik, is sy hegte verhouding met die Apostel Paulus. Paulus was die groot verklaarder en leermeester van die genade van God.

En die derde waarneming is dat die enigste ander Evangelie buiten Lukas waar die woord gebruik word, die Evangelie van Johannes is, en selfs dan is dit net in hoofstuk 1. Volgens Johannes is dit duidelik dat die Messias die volle openbaring van God se genade is.

In die Evangelies omvat die woord “genade” vyf verskillende betekenisse. Een, dit dra die betekenis van “dank”. Twee, dit dra die betekenis van “om ’n guns te bewys” (Luk. 1:28; 7:21, 42-43). Drie, dit het die betekenis van “innemendheid”, iemand wat innemend is (Luk. 2:40, 52). Vier, dit het die betekenis van “aangename woorde oor genade” (Luk. 4:22). Vyf, dit dra, slegs in Johannes 1:14, 16-17, die volle teologiese betekenis van genade.

B. Die Handelinge van die Heilige Apostels
In die Boek Handelinge word die woord “genade” op ses verskillende maniere gebruik.

Een, dit het die betekenis van “guns” (2:47). Twee, dit word gebruik om God se werke in die Ou Testament te beskryf (7:10, 46). Drie, dit het die betekenis van “nie-godsdienstige guns”, “guns met geen godsdienstige inhoud nie” (24:27; 25:3). Vier, soms is dit ’n sinoniem vir die evangelie self en die resultate daarvan (13:43; 14:3; 20:24, 32). Vyf, dit is die bemiddeling waardeur die evangelie aan die mense gebring word (15:11; 18:27). Ses, die woord “genade” onderstreep God se genadegawes aan gelowiges ná hulle bekering en redding (4:33; 6:8; 11:23; 14:26; 15:40).

C. Die Briewe van Paulus
Paulus, die uitmuntendste en volledigste verklaarder van die genade van God, het die woord “genade” in sowel die inleiding as die slot van elkeen van sy briewe gebruik.

Aangesien die Brief aan die Romeine sy hoof brief met betrekking tot die teologie is, is dit nie vreemd dat hy die woord “genade” baie dikwels in hierdie brief gebruik nie (1:5, 7; 3:24; 4:4, 16; 5:2, 15, 17, 21; 6:1, 14-15; 11:5 6; 12:3, 6). Uit al hierdie verwysings is dit duidelik dat Paulus die woord “genade” op ten minste vyf verskillende maniere gebruik het: die genade van apostelskap, die genade van regverdigmaking, die genade van heiligmaking, die genade van uitverkiesing, en die genade van geestelike gawes.

In I Korinthiërs gebruik Paulus die woord “genade” in die inleiding (1:3), en op vyf verskillende maniere in die brief self: Een, wat God vir hom gedoen het op die pad na Damaskus (15:10); twee, as genade wat bevoeg maak vir aanvaarbare geestelike diens (3:10); drie, in die sin van danksegging (10:30); vier, om die gawe van die Heilige Gees, verwysend na die gawe van redding, te onderstreep (1:4); en vyf, om klem te lê op die gawes van die Heilige Gees (12:4, 9, 28, 30-31).

In II Korinthiërs gebruik Paulus die woord “genade” in die inleiding (1:2), en op vyf verskillende maniere in die brief self: Een, as reddende genade (6:1); twee, as genade wat bemagtig (4:15; 12:9); drie, as ’n danksegging (1:11); vier, as ’n lewensfeer waarbinne die gelowige funksioneer (1:12); en vyf, in die gee van geld, wat beskou word as die genade van God (8:1, 4, 6-7, 19; 9:8, 14).

In die Brief aan die Galásiërs word die woord “genade” aangetref in 1:3, 6, 15; 2:9, 21; 3:18; en 5:4. Paulus se klem in hierdie brief val op sy uiteensetting van die uniekheid van die leerstelling oor genade wat God aan hom geopenbaar het.

In die Brief aan die Efésiërs word die woord “genade” in die inleiding gebruik (1:2), en dan word dit op nog drie verskillende maniere gebruik: Om klem te lê op die genade van redding (1:7; 2:5, 8); om klem te lê op die genade van diens (3:2, 7-8; 4:7); en om klem te lê op die genade van taalgebruik (4:29).

In die Brief aan die Filippense word die woord “genade” gebruik in die inleiding in 1:2 en 7.

In die Brief aan die Kolossense word dit in die inleiding gebruik (1:2), en dan op twee ander maniere: Die genade van die evangelie self (1:5-6); en die genade van taalgebruik (3:16; 4:6).

In I Thessalonicense word dit gebruik as deel van die inleiding tot die brief (1:1).

In II Thessalonicense word dit ook gebruik as deel van die inleiding tot die brief (1:2), en dan word dit weer genoem as die bewys van geloof (1:12).

In die Pastorale Briewe van I en II Timótheüs en Titus, skryf Paulus merendeels oor genade in die sin van “reddende genade”. Dit is so in al die gevalle, behalwe in II Timótheüs 2:1, waar Paulus oor genade skryf met betrekking tot die gelowige se posisie in verhouding tot God. Die woord kom voor in I Timótheüs 1:2, 14; II Timótheüs 1:2, 9; en Titus 2:11; en 3:7.

Na aanleiding van hierdie oorsig van die woord “genade” in die Briewe van Paulus, kan Paulus se gebruik van die woord in drie hoof punte opgesom word.

Een, die oorsprong van Paulus se konsep van die genade van God, is sy ervaring op die pad na Damaskus. In sy besprekings oor waar sy opvattings, konsepte, en kennis van God se genade vandaan kom, kom hy dikwels terug na daardie ondervinding op die Damaskuspad.

Die tweede punt in verband met Paulus se gebruik van die woord “genade”, is dat dit altyd gebruik word met verwysing na God se genade teenoor die mens. Paulus gebruik nooit die woord “genade” met verwysing na die guns van een mens teenoor ’n ander mens nie. Op ander plekke word dit wel so gebruik, maar nie in Paulus se briewe nie.

Die derde punt in verband met Paulus se gebruik van die woord ”genade”, is dat sy konsep van genade baie fasette insluit; daar is ten minste ses verskillende fasette: Eerstens, die genade van God was die genade van Jesus die Messias in Sy offer aan die kruis (II Kor. 8:9; Gal. 2:20-21). Tweedens, volgens Paulus is genade absoluut gratis; ’n mens hoef heeltemal niks daarvoor te betaal nie, maar natuurlik, dit het God die lewe van Sy Seun gekos (Rom. 3:24; 5:15; Ef. 2:8). Derdens, genade is die bemagtiging om deur redding en heiligmaking oor die sonde te heers (Rom. 5:12-21; 6:1-23). Vierdens, Paulus leer dat genade vrylik aan alle mense gebied word (Ef. 2:8-9). Vyfdens, genade is die somtotaal van die gelowige se seën in Christus (Ef. 1:7; 3:8). En sesdens, ons lewe in die Dispensasie van Genade (Rom. 6:14).

D. Die Brief aan die Hebreërs
In die Brief aan die Hebreërs word die woord “genade” sewe keer gebruik om klem te lê op vier dinge: die dood van die Messias (2:9); die gelowige se posisie in die genade van God (4:16, twee keer gebruik); die Gees van genade (10:29); en genade in die gelowige se lewe (12:15, 28; 13:9).

E. Die Algemene Briewe
Die algemene Briewe is Jakobus; I en II Petrus; I, II, en III Johannes; en Judas.

In die Brief van Jakobus word die woord “genade” twee keer aangetref, al twee kere in 4:6.

In I Petrus word dit gebruik om vier konsepte te leer: eerstens, dat die profetiese inhoud van die Ou Testament deel was van God se genade (1:10); tweedens, die eskatologiese hoop van genade (1:13); derdens, genade as die konsep van ’n geestelike lewe (3:7; 5:5, 10, 12); en vierdens gebruik Petrus, soos Paulus, die woord “genade” om klem te lê op geestelike gawes (4:10).

In II Petrus kom dit twee keer voor: in 1:2 en 3:18.

In I Johannes word dit glad nie gebruik nie.

In II Johannes kom dit een keer voor, in vers 3.

In III Johannes kom dit glad nie voor nie.

En in Judas word dit net een keer gebruik, in vers 4.

F. Die Boek Openbaring
In die Boek Openbaring kom die woord “genade” net twee keer voor: in die inleidende groeteboodskap (1:4) en in die slotseën (22:21).

IV. DIE BETEKENIS VAN GOD SE GENADE
Noudat die oorspronklike Griekse en Hebreeuse woorde behandel is, en ’n oorsig verkry is oor die gebruik van die woord “genade” in die Ou en Nuwe Testamente, word daar in die vierde kategorie van hierdie studie gefokus op ’n definisie van God se genade.

’n Baie eenvoudige definisie is dat God se genade onverdiende guns is, wat hoegenaamd nie berus op enige, of alle, menslike verdienste nie. Hierdie eenvoudige definisie val uiteen in sewe onderafdelings waarvan daar kennis geneem moet word.

Een, genade word nie weerhou as gevolg van sonde nie; anders sou dit nie ware genade gewees het nie.

Twee, genade word nie minder gemaak as gevolg van sonde nie.

Drie, genade maak nie van ’n mens ’n skuldenaar nie. Waar God genade bewys, kan goeie werke volg, maar nie vir die doel om die genade af te betaal nie. Genade is genade; dit word nie verdien nie. Dit is suiwer liefde wat aan die mens gegee word, met al die weldade daaraan verbonde. Dit is die punt van Efésiërs 2:10; Titus 2:14; en 3:8.

Vier, volgens Romeine 4:3-5 word genade nooit toegereken as regverdige loon nie (soos wanneer iemand ’n werk doen en daarvoor betaal word), maar as gunsbetoon vir geloof.

Die vyfde onderafdeling is dat te veel genade nooit gegee word nie. Genade vermeerder of verminder nie.

Ses, genade word nie regstreeks betoon wanneer God die sondes van die ongereddenes oordeel nie. Dit beteken dat God geen sonde oorsien omdat Hy sommer net toegeeflik is nie, maar Hy oordeel op grond van Sy barmhartigheid. Sonde word nie vergewe omdat God so groothartig is om die straf kwyt te skeld of om Sy regverdige oordeel te laat vaar nie. Vergifnis is nie regstreekse genade nie, dit is geregtelike begenadiging (of kwytskelding) op grond van die feit dat die skuld reeds deur iemand anders betaal is, naamlik die Messias. Genade word bemiddel deur die kruis.

En die sewende onderafdeling is dat genade nie regstreeks betoon word by die goddelike oordeel van die sondes van die gelowiges nie, omdat vergifnis berus op die basis van die kruis van die Messias. Die manier waarop ’n gelowige wat gesondig het vergifnis ontvang, is deur skuldbelydenis (I Joh. 1:9). Selfs vir die gelowiges is genade nie regstreeks nie, maar word bemiddel op die basis van die kruis van die Messias en deur belydenis van sonde.

V. ALGEMENE GENADE
Die vyfde kategorie van die genade van God is ’n studie van algemene genade wat ingedeel word in vyf afdelings: die definisie van algemene genade, die demonstrasie van algemene genade, die wyses van algemene genade, die inhoud en uitvloeisels van algemene genade, en die beperkinge van algemene genade.

A. Die Definisie van Algemene Genade
Iemand het ’n baie lang definisie van algemene genade geskryf: “Algemene genade is daardie algemene werkinge van die Heilige Gees waardeur Hy, sonder om die harte te vernuwe, deur Sy algemene of besondere openbaring so ’n morele invloed op mense uitoefen dat sonde weerhou word, orde in die openbare lewe gehandhaaf word, en siviele geregtigheid bevorder word; en die algemene seëninge soos reën en sonskyn, voedsel en drank, klere en skuiling, wat God sonder aansiens des persoons aan alle mense gee soos en in watter mate Hy dit goed vind.”

’n Eenvoudiger definisie van genade kan wees: “Algemene genade is die onverdiende guns van God teenoor alle mense soos gedemonstreer in Sy algemene versorging vir hulle.” Algemene genade is God se genade of guns wat oraloor aan alle mense gegee word, sonder om onderskeid te tref tussen gelowiges en ongelowiges (Ps. 104:1-35; 145:14-16; Hand. 17:30; Rom. 1:24, 26, 28).

B. Die Demonstrasie van Algemene Genade
Algemene genade word gedemonstreer in drie gebiede of in drie kringe van aktiwiteit: een, in God se algemene voorsienigheid vir Sy wêreld; twee, in die beteueling van sonde deurdat die mens daarvan weerhou word om so sleg te word soos wat die sondenatuur hom sou toelaat om te wees; en drie, in die algemene oortuigingswerk van die Heilige Gees (Joh. 16:7-11).

C. Die Wyses van Algemene Genade
Die derde onderafdeling het te doen met die verskeie wyses waardeur algemene genade betoon word. Vier dinge met betrekking tot die wyses van algemene genade kan genoem word.

Die eerste wyse is algemene openbaring. Algemene openbaring is God se openbaring deur die natuur, deur Sy voorsienigheid, en deur Sy skepping, in teenstelling met besondere openbaring in die geskrewe Woord van God. Terwyl ’n mens die Gees van God nodig het om besondere openbaring te kan verstaan, kan alle mense deur middel van algemene openbaring tot sekere korrekte gevolgtrekkings oor God kom. Algemene openbaring, dus, is een wyse van algemene genade.

’n Tweede wyse van algemene genade is menslike regering. God gebruik menslike regerings om boosheid en die wetteloosheid van sonde teë te hou. ’n Sterk regering wat oortreders toepaslik straf, is ook ’n uitvloeisel van algemene genade.

Die derde wyse van algemene genade is die openbare mening. Soms sal God die openbare mening gebruik om seker te maak dat dinge verloop soos Hy dit wil hê. Konsepte van die openbare mening, soos die mening van die meerderheid of die Morele Meerderheid of ander vorms daarvan, kan soms deur God gebruik word om orde in die menslike samelewing te help skep; dit, ook, is ’n wyse van algemene genade.

Die vierde wyse is meer direk, en dit gebeur deur goddelike straf en beloning. Goddelike oordeel, soos in die geval van Sodom en Gomorra, en goddelike beloning soos in die geval van gebiede in die wêreld wat produktief is en in die liggaamlike behoeftes van die mens voorsien, is ook ’n wyse van algemene genade.

D. Die Inhoud en Uitvloeisels van Algemene Genade
Wat betref die inhoud en uitvloeisels van algemene genade, moet kennis geneem word van sewe dinge.

Een, goeie gawes is ’n uitvloeisel van God se algemene genade (Rom. 2:4). Van hierdie goeie gawes is: die goedheid van God (Ps. 145:9, 15-16); sonskyn en reën (Matt. 5:44-45); God se barmhartigheid (Luk. 6:35-36); voedsel uit die aarde (Hand. 14:16-17); en die voorsienigheid van God (I Tim. 4:10).

Twee, God se beteueling van die boosheid en wetteloosheid van sonde is ’n uitvloeisel van algemene genade (Gen. 6:3; 20:6; 31:7; Job 1:12; 2:6; Jes. 63:10-11; II Thess. 2:6-7).

Drie, die natuurlike mens of die ongeredde mens is daartoe in staat om sekere goeie werke te doen. Die feit dat die natuurlike mens daartoe in staat is om goeie dinge te doen, is ook ’n uitvloeisel van algemene genade (II Kon. 10:29-30; 12:2; 14:3; Luk. 6:33; Rom. 2:14).

Vier, God oordeel nie elke sonde onmiddellik nie. Die vertraging van die voltrekking van God se oordeel oor sonde gee die mens geleentheid om die sonde te laat staan. Die feit dat bose mense, ongeredde mense, nie dadelik God se veroordelende straf ontvang nie, is ’n uitvloeisel van algemene genade (Rom. 2:4; II Pet. 3:9).

Vyf, algemene genade gee die mens ’n sekere begrip van die waarheid, die goeie, die morele, en die mooie. Selfs die ongeredde mens het, op grond van algemene genade, die vermoë om die mooi dinge, die waarheid, en die goeie dinge van hierdie wêreld te waardeer (Hand. 17:22; Rom. 2:14-15).

Ses, siviele regering wat geregtigheid uitoefen, is ’n uitvloeisel van algemene genade (Rom. 13:1-4).

En sewe, algemene genade is ook ’n wegwyser ten opsigte van die evangelie. Met ander woorde, as mense die bewyse van algemene genade sien, kan dit hulle na die waarheid van die evangelie lei; dit, ook, is ’n uitvloeisel van algemene genade (Joh. 16:8-11).

E. Die Beperkinge van Algemene Genade
Daar is drie spesifieke beperkinge van algemene genade.

Een, dit werk in ’n rasionele en morele opsig, maar nie in ’n geestelike opsig nie. Net besondere genade werk in ’n geestelike opsig.

Twee, algemene genade sal nie ’n geestelike verandering teweegbring nie. Dit kan ’n persoon lei om te begin soek na geestelike waarheid, maar algemene genade as sodanig sal nie ’n geestelike verandering teweegbring nie. Dit hoort by ’n ander faset van God se genade.

En drie, dit kan deur die menslike wil weerstaan word. Mense weerstaan algemene genade as hulle die waarheid van God se openbaring in die Skepping en die natuur ontken.

VI. KRAGDADIGE OF BESONDERE GENADE
Die sesde kategorie handel oor die kragdadige of besondere genade van God, en kan in twee afdelings ingedeel word: die definisie en die vertakkings van besondere genade.

A. Die Definisie van Kragdadige of Besondere Genade
’n Definisie van kragdadige of besondere genade is dat dit die werk van die Heilige Gees is wat mense doeltreffend beweeg om te glo in Jesus die Messias as Verlosser.

B. Die Vertakkings van Kragdadige of Besondere Genade
Hierdie definisie van kragdadige of besondere genade het ses vertakkings.

Een, besondere genade is doeltreffend; dit sal altyd sy doel bereik.

Twee, dit kan nie weerstaan word nie, hoewel dit nie die menslike daad van geloof uitsluit nie.

Drie, dit is ’n daad van die Heilige Gees wat mense beweeg om te glo sodat geen mens ooit teen sy wil gered word nie. Besondere genade is die bron van redding wat tot die mens kom, maar die werk van die Heilige Gees in besondere genade, is om in die wil van die mens te werk sodat hy gewillig raak om gered te word.

Vier, besondere genade werk afsonderlik van die menslike wil, maar dit vernuwe die menslike wil doeltreffend deur dit te beweeg sonder om dit te dwing. Hier lê die balans tussen almagtigheid en die menslike wil.

Vyf, kragdadige of besondere genade is ’n oombliklike handeling, nie ’n proses nie.

En ses, dit word vooraf gegaan deur algemene genade. Die mens ervaar eers algemene genade voordat hy kragdadige of besondere genade ervaar.

VII. SOEWEREINE GENADE
Die sewende kategorie in die genade van God handel oor soewereine genade en kan in drie afdelings ingedeel word: die betekenis van soewereine genade, uitverkiesing en die goddelike motiewe van soewereine genade, en die motiewe vir soewereine genade.

A. Die Betekenis van Soewereine Genade
Die woord “soewerein” beteken “om die vernaamste of hoogste gesag te beklee”. Die konsep wat in die woord vervat is, is nie ’n konsep van onbeperktheid nie, want God se soewereiniteit word wel beperk, dog alleenlik deur Homself; God se betoning van Sy genade word slegs deur Sy eie attribute (kenmerkende eienskappe) beperk. Dus, die konsep van die woord “soewerein” is nie een van onbeperktheid nie.

Die punt van Efésiërs 1:11 is dat die konsep van God se soewereiniteit in samehang met God se raadsplan gesien moet word. God se genade, veral Sy soewereine genade, word deur God se voorgenome raadsplan geopenbaar. Hierdie plan volgens die raad van God se wil is allesomvattend, maar dit beteken natuurlik nie dat God dieselfde verhouding handhaaf ten opsigte van elke onderafdeling van die plan nie, want binne hierdie raadsplan het ook God se skepsels ’n verantwoordelikheid. Verder, God gebruik ’n verskeidenheid maniere, sowel direk as indirek, om Sy wil uit te voer. Die konsep van God se soewereiniteit moet dus in samehang gebring word met God se raadsplan.

Verder, die soewereiniteit van God is ’n konsep van doelgerigtheid. Dit is nie arbitrêr nie, nie “ongemotiveerd” nie; en dit is ook nie wispelturig nie, nie “onstandvastig” nie. Om die genade van God te kan ontvang, moet ’n mens glo. Om die genade van God te ondervind, moet ’n mens gehoorsaam wees. Die doel van God se genade met betrekking tot die mens, is dat hy goeie werke moet doen (Ef. 2:10). Die doel van God se genade met betrekking tot Homself, is tot lof van Sy eie heerlikheid (Ef. 1:5-6, 12, 14). Dus, soewereiniteit hou die konsep in van doelgerigtheid.

Nog iets omtrent die betekenis van soewereine genade is dat genade die hoogste, en die bepalende, beginsel is in God se ordening van die heelal.

B. Uitverkiesing en die Goddelike Motiewe van Soewereine Genade
Uitverkiesing is ’n belangrike konsep binne soewereine genade, en daar is ses punte waarna gekyk moet word.

Een, die verhouding van soewereiniteit met betrekking tot uitverkiesing, het spesifiek te doen met redding. Die Bybel leer dat uitverkiesing tot redding is (Ef. 1:5), en dat redding deur genade is (Ef. 2:8).

Twee, God se uitverkiesingswerk is vir die doel om die gelowige gelykvormig te maak aan die beeld van die Messias; gelowiges is voorbestem om gelykvormig gemaak te word aan die beeld van God se Seun (Rom. 8:28-30).

Drie, as God nie Sy soewereiniteit ten opsigte van uitverkiesing uitgeoefen het nie, sou niemand gered kon word nie. Die mens is nie in staat om homself te red nie.

Vier, die vraag is nie, “Waarom gaan party verlore?” nie. Almal is verlore as gevolg van sonde. Die vraag is, “Waarom word enigiemand gered?” Die rede hoekom sommiges deur genade gered word, is tot verheerliking van God.

Vyf, alles wat God doen, berus op die raad van Sy eie wil (Ef. 1:11).

Ses, omdat God ’n soewereine heerser is, ontsnap niks Sy waarneming nie, en niks is buite Sy beheer nie. Daarom kan Hy die mens die nodige vryheid in verantwoordelikheid toelaat (II Thess. 2:13). Dus, genade is die oorsprong en verantwoordelikheid is die reaksie. Ten opsigte van verantwoordelikheid met betrekking tot reaksies, moet daar na drie dinge opgelet word: eerstens, gelowiges moenie God se genade frustreer deur plaasvervangende werke nie (Gal. 2:4); tweedens, gelowiges moenie die Gees van genade smaad deur redding op grond van genade te verwerp nie (Heb. 10:29); en derdens, gelowiges moet hulle roeping en uitverkiesing vas maak; die manier waarop dit vasgemaak word, is om seker te maak dat God se genade getoon word in goeie werke (II Pet. 1:10).

C. Die Motiewe vir Soewereine Genade
Daar is drie motiewe vir soewereine genade.

Die eerste motief is die liefde van God; dit is as gevolg van God se liefde dat God se soewereine genade bewys word (I Joh. 2:5).

Die tweede motief vir genade is die betoning van Sy genade (Ef. 2:7). Hy betoon soewereine genade sodat Hy Sy goedertierenheid kan demonstreer.

Die derde motief is sodat die verlostes goeie werke kan voortbring. Almal wat God se soewereine genade ontvang het en gered is, kan en moet goeie werke doen (Ef. 2:10).

VIII. REDDENDE GENADE
Hierdie agtste kategorie word ingedeel in drie afdelings: die Skrifte, die goddelike motiewe van reddende genade, en die beginsels wat nie naas reddende genade kan bestaan nie.

A. Die Skrifte
Die Bybel leer ondubbelsinnig dat redding deur geloof is op grond van genade plus niks meer nie. Twee skrifgedeeltes wat dit leer, is Handelinge 15:11: Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle [die nie-Jode] ook. En Romeine 11:6: En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie.

B. Die Goddelike Motiewe van Reddende Genade
Volgens Efésiërs 2:7 was die goddelike motief in reddende genade, goeie werke. Wat betref goddelike motivering, kan drie punte gemaak word.

Een, dit word gesê dat die mens gered word sodat goeie werke kan volg (Ef. 2:8-10). Dit is ’n groot onderskeid tussen die Dispensasie van die Wet en die Dispensasie van Genade. Onder die Wet van Moses was werke ’n vereiste. Hierdie werke is voorgehou as verdienstelik en op grond van die werke het seëninge gevolg (Matt. 22:34-40; Mark. 12:28-34; Luk. 10:26-28). Nogtans was hierdie vereiste werke nie werke wat kon red nie. Gelowiges leef onder genade en goeie werke moet die gevolg wees van goddelike seëninge. Onder die Wet was die kwessie, “Doen goeie werke sodat julle God se guns kan ontvang.” Maar onder genade is die kwessie, “Omdat julle God se guns ontvang het, moet julle, daarom, goeie werke doen.”

Twee, werke is ’n geldige toets vir reddende genade omdat ’n mens jou geloof deur jou werke toon (Jak. 2:14-16).

En drie, die gelowige se werke is ’n aanduiding van die instelling van sy hart teenoor God se genade.

C. Die Beginsels wat nie Naas Reddende Genade Kan Bestaan nie
Tussen sekere beginsels en die genade van God is geen naasbestaan moontlik nie. Drie sulke beginsels kan genoem word.

Een, geen opvatting dat die mens verplig is om God se genade te verwerf, kan naas genade bestaan nie, want God moet vry wees om genade te betoon sonder die geringste beperkings as gevolg van die mens se sonde. Genade sou nie gratis genade gewees het as die weldade weerhou moes word as gevolg van sonde nie.

Twee, daar kan geen opvatting wees dat die mens iets moet teruggee vir genade wat hy ontvang nie; genade kan nie genade bly as die weldade daarvan ’n verpligting skep of oplê om daarvoor te betaal nie. Volgens Romeine 6:23 is genade ’n geskenk, ’n genadegawe.

Drie, volgens Efésiërs 2:10 kan daar geen erkenning wees van menslike verdienste nie. Genade is nie genade as dit verdien word nie.

IX. DIE GELOWIGE SE POSISIE IN GENADE
Twee hoof skrifgedeeltes lê klem op die feit dat almal wat gelowiges is, hulle in ’n nuwe posisie bevind; hulle staan in genade.

Die eerste skrifgedeelte is Romeine 5:2: deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God. Hier skryf Paulus dat gelowiges in hierdie genade staan, en dat hulle hierdie posisie verkry het deur geloof. Hulle posisie in hierdie genade gee vir hulle die hoop op die heerlikheid van God; naamlik dat die gelowige eendag verheerlik sal word, net soos wat hulle nou regverdig gemaak is, en heilig gemaak word.

Die tweede hoof skrifgedeelte oor hierdie posisie in genade, is I Petrus 5:12: Deur Silvanus, die getroue broeder, soos ek meen, het ek kortliks aan julle geskrywe om julle te vermaan en om te betuig dat dit die ware genade van God is waarin julle staan. Aan die einde van sy eerste brief verklaar Petrus dat die rede vir sy skrywe was om te getuig aangaande die waarheid van die genade van God waarin hierdie gelowiges gestaan het. Net soos gelowiges vandag, het hulle in die genade van God gestaan.

Daar is twee implikasies met betrekking tot die gelowige se posisie in genade.

Een, die bewarende krag van God deur genade, is ingesluit in al die beginsels van genade. Op grond hiervan moet daar met drie dinge weggedoen word. Eerstens moet daar weggedoen word met elke veroordeling wat as gevolg van sonde deur goddelike geregtigheid opgelê sou kon word. Volgens Johannes 3:18; 5:24; en Romeine 8:1, is daar inderdaad hiermee weggedoen. Die punt van hierdie skrifgedeeltes is dat gelowiges nie langer in veroordeling staan nie, maar dat hulle in genade staan. Dit is die ongelowige op wie die oordeel van God rus. Tweedens moet daar weggedoen word met elke menslike verpligting. Die geskenk van in genade te staan, verplig niemand om God terug te betaal vir hierdie genade nie. Natuurlik is daar verpligtinge, maar hierdie verpligtinge is nie vir die doel van terugbetaling nie. Hierdie genade is ’n absolute gratis geskenk wat geen vergoeding vereis nie. En derdens moet daar weggedoen word met elke menslike verdienste, want geen menslike verdienste kan opweeg teen hierdie genade van God nie.

Die tweede implikasie is dat die bewarende krag van God deur genade, betuig word in elke openbaring van die feit dat die toppunt van genade bereik sal word in die eeue wat nog kom. Die genade wat gelowiges nou reeds ervaar, sal in volle uitnemendheid verwesenlik word in die toekomstige eeue (Joh. 6:37; Fil. 1:6).

X. LEWE ONDER GENADE
Gelowiges staan nou in genade, hulle is nou in die Dispensasie van Genade, en verkeer onder genade. Waaroor gaan ’n lewe onder genade ten diepste? Die kategorie van ’n lewe onder genade word in sewe afdelings bespreek.

A. Die Basis van ’n Lewe Onder Genade
Met betrekking tot die basis van ’n lewe onder genade, moet twee dinge genoem word.

Een, gelowiges moet duidelik besef dat hulle onder genade verkeer, nie onder die Mosaïese Wet nie (Rom. 6:14). Gelowiges moet altyd onthou dat die lewe wat hulle nou lei, nie staan op die basis van die Wet nie, maar alleenlik berus op die genade van God. Die verskil is dat dit onder die Wet geleer is, “Doen dit omdat jy dit moet doen” en “Doen dit sodat jy geseën kan word.” Onder genade is dit egter die teenoorgestelde, “Doen dit omdat jy dit wil doen” en “Doen dit omdat jy reeds geseënd is.”

Twee, hoewel gelowiges vry is van die Wet van Moses, is hulle nie heeltemal vry van die wet nie. Hulle moet nou funksioneer onder ’n ander wet, die Wet van die Messias (I Kor. 9:21; Gal. 6:2). Die basis van ’n lewe onder genade is die ondubbelsinnige besef dat gelowiges onder genade is, nie onder die Wet nie; hulle is vry van die Wet van Moses, maar is onder die Wet van die Messias.

B. Die Voorsiening vir ’n Lewe Onder Genade
Net soos die Mosaïese Wet spesifieke lewensreëls neergelê het, net so lê die Wet van die Messias sekere lewensreëls neer onder genade. Dit is byvoorbeeld die punt van Titus 2:11: WANT die reddende genade van God het aan alle mense verskyn. Die genade van God wat redding bring, het aan alle mense verskyn, en hierdie genade wat redding gebring het, omvat ’n spesifieke stel lewensreëls: die Wet van die Messias. Net soos wat die Wet van Moses ’n stel lewensreëls omvat het, so omvat die Wet van die Messias ’n stel lewensreëls en gedragskodes vir die gelowige. Omdat die Wet van Moses nie meer geld as rigtingwyser vir lewensreëls nie, moet die gelowige in sy daaglikse lewe gelei word deur die leerstellings van genade. Te veel gelowiges is verward oor hierdie saak.

Dikwels gaan gelowiges terug na sekere punte van die Mosaïese Wet om ’n stel lewensreëls vir hulleself te vind, maar dit is nie die regte plek om daarvoor te soek nie. Gelowiges is nie meer onder die Mosaïese Wet nie, maar is onder genade; daarom is die wet waarheen hulle moet gaan vir hulle lewensreëls, die Wet van die Messias. Dit is die huidige stelsel vir reëls en beginsels waarvolgens die gelowige sy gedrag moet bepaal. Weer eens, die Wet van Moses is nie meer vandag ’n geldige stelsel vir lewensreëls nie. Vandag moet die gelowige se lewe gerig word deur die Wet van die Messias, wat ’n uitvloeisel is van genade. Saam met die voorsiening van die Wet van die Messias, wat sowel negatiewe as positiewe gebooie omvat, kom goddelike bemagtiging. God stel die gelowige in staat om aan God se standaarde te voldoen. Aan die een kant, dus, het God die Wet van die Messias aan gelowiges gegee, met reëls en regulasies wat deur hulle gehoorsaam moet word, sodat hulle kan beantwoord aan die gedragskodes van die tyd waarin hulle leef. Aan die ander kant, egter, stel God gelowiges ook daartoe in staat om te kan voldoen aan God se standaarde van geregtigheid (Joh. 7:37-39; Rom. 5:5; 8:9; I Kor. 2:12; 6:19; Gal. 3:2; I Thess. 4:8; I Joh. 3:24; 4:13).

Om die voorsiening vir ’n lewe onder genade op te som: Eerstens, God het die Wet van die Messias voorsien, wat voorskryf wat gelowiges moet doen en nie moet doen nie, maar wat ook vir hulle beginsels gee as riglyne. En tweedens, Hy stel gelowiges deur Sy goddelike genade daartoe in staat om die vereistes van die Wet van die Messias doeltreffend na te kom.

C. Die Stelreëls van ’n Lewe onder Genade
Die stelreëls van ’n lewe onder genade is gebaseer op dit wat al reeds bespreek is, naamlik die Wet van die Messias, wat die gedragsreëls neerlê waarvolgens gelowiges moet lewe. Net soos wat die Wet van Moses baie afsonderlike gebooie omvat het, net so omvat die Wet van die Messias baie afsonderlike gebooie. Hierdie stelreëls kan in vier afdelings gekategoriseer word.

1. Positiewe Gebooie in die Wet van die Messias
Positiewe gebooie word regdeur die Nuwe Testament gevind. In elkeen van die Boeke, afgesien van Paulus se Brief aan Filémon, wat ’n persoonlike brief aan ’n vriend is, is daar baie positiewe gebooie. Die volgende lys gee een voorbeeld van elke boek wat ’n positiewe gebod bevat, vanaf die Brief aan die Romeine tot by die Boek Openbaring:

  • Romeine 13:1
  • I Korinthiërs 11:28
  • II Korinthiërs 6:17
  • Galásiërs 6:2
  • Efésiërs 5:22
  • Filippense 4:9
  • Kolossense 4:6
  • I Thessalonicense 5:16-18
  • II Thessalonicens 3:12
  • I Timótheüs 2:8
  • II Timótheüs 4:2
  • Titus 2:7
  • Hebreërs 10:24
  • Jakobus 1:5
  • I Petrus 2:21
  • II Petrus 3:18
  • I Johannes 2:6
  • II Johannes 5
  • III Johannes 11
  • Judas 22
  • Openbaring 2:5

2. Negatiewe Gebooie in die Wet van die Messias
Daar is ook baie negatiewe gebooie van dinge wat gelowiges nie moet doen nie. Die volgende lys gee een voorbeeld van elkeen van die Nuwe Testamentiese boeke wat ’n positiewe gebod bevat, vanaf Romeine tot by III Johannes, Filémon weer eens uitgesluit:

  • Romeine 12:2
  • I Korinthiërs 6:7
  • II Korinthiërs 6:14
  • Galásiërs 5:13
  • Efésiërs 4:30
  • Filippense 2:4
  • Kolossense 3:21
  • I Thessalonicense 5:19
  • II Thessalonicense 3:13
  • I Timótheüs 4:7
  • II Timótheüs 1:8
  • Titus 2:10
  • Hebreërs 10:25
  • Jakobus 4:11
  • I Petrus 3:9
  • II Petrus 3:8 9
  • I Johannes 4:1
  • II Johannes 10
  • III Johannes 11

3. Beginsels in die Wet van die Messias
Daar is sowel positiewe en negatiewe gebooie, as positiewe en negatiewe beginsels in die Wet van die Messias wat nagevolg moet word, asook bybelse beginsels wat handel oor praktiese gebruike in sekere omstandighede. In die geval van iets wat aanstoot kan gee aan ’n medegelowige, gebruik Paulus die voorbeeld van die eet van vleis. As die eet van vleis ’n medegelowige aanstoot sal gee, moet die gelowige hom daarvan weerhou om in die teenwoordigheid van daardie persoon vleis te eet. Dit is natuurlik nóg ’n positiewe nóg ’n negatiewe gebod. Die Bybel sê nie dat ’n mens vleis moet eet nie en dit sê ook nie dat ’n mens nie vleis mag eet nie. Vleis as sodanig, is ’n neutrale saak, en normaalweg is almal dus vry om daarvan te eet. Dit is egter wanneer die eet van vleis aanstoot kan gee, dat die beginsel moet geld om jouself van die eet van vleis te weerhou. Die omstandigheid bepaal die beginsel. Dus, afgesien van positiewe en negatiewe gebooie, is daar ook beginsels waarbinne ’n mens met wysheid moet oordeel oor hoe daar in ’n spesifieke situasie opgetree moet word.

4. Addisionele Reëls Deur Regeerders
Vierdens is daar nog een kategorie aangaande stelreëls, en dit is reëls wat neergelê word deur regeerders. Die Bybel leer dat gelowiges hulle moet onderwerp aan mense in gesagsposisies, veral diegene wat gesag dra oor ’n plaaslike kerk (Ef. 4:11-12; I Tim. 3:5; Heb. 13:7, 17).

D. Vrae wat Gevra Moet word In ’n Lewe Onder Genade
Hoe stel ’n mens vas watter weg gevolg moet word in die geval van stelreëls wat as beginsels geld? Om ’n antwoord te vind, sal dit wys wees om die volgende vyf vrae te vra voordat ’n besluit geneem word.

Een, “Is dit iets swaarwigtigs, is dit iets wat die gelowige se lewe nadelig sal beïnvloed?” Dit is nie ’n geval van die hantering van iets wat ’n bekende sonde is nie, want sonde is altyd nadelig vir die gelowige se lewe (Heb. 12:1). Dit is hier ’n geval van iets wat as sodanig neutraal is, maar die doen daarvan benadeel ’n mens se persoonlike geestelike lewe. Dit mag ook wees dat ’n spesifieke optrede die geestelike lewe van een gelowige nadelig kan beïnvloed, terwyl dit nie die geval sal wees in die lewe van ’n ander gelowige nie.

Twee, “Is dit ’n gewoonte wat verslawend is?” (I Kor. 6:12). Die Bybel sê byvoorbeeld niks oor die rookgewoonte nie. Die Bybel bespreek nooit die gebruik van tabak nie, maar kan ’n mens gereeld rook sonder om verslaaf te raak? Soos enige roker kan getuig, is die antwoord: “Nee!” Dit is verskriklik moeilik vir mense wat alreeds aan tabak [of ander middels] verslaaf is, om die gewoonte te laat staan. Die vraag, weer eens, is: “Is dit ’n gewoonte, en is dit verslawend?”

Drie, “Is dit ’n struikelblok?” Hierdie vraag is veral belangrik met betrekking tot ander geredde mense. Sal dit veroorsaak dat ’n medegelowige in sy geloof struikel? (I Kor. 8:1-13). Dit is nie ’n geval hierdie waar iemand maar net aanstoot sal neem nie, want deesdae is dit amper onmoontlik om enigiets te doen wat nie vir een of ander persoon aanstoot sal gee nie. Die vraag is, “Sal dit ’n medegelowige in sy geloof laat struikel?” en nie of hy sommer net aanstoot sal neem aan ’n mens se optrede nie.

Vier, “Spreek dit van wellewendheid?” Dit is die vraag wat gevra moet word met betrekking tot ongelowiges. Sal dit ’n ongelowige verhinder om na die Messias te kom of sal dit hom trek om in die Messias te glo? (I Kor, 9:19-21; 10:32; Kol. 4:5).

Vyf, “Toon dit doeltreffend aan wie God is?” of “ Is dit tot lof van God?” Sal dit God verheerlik? (I Kor. 10:31).

Hierdie vrae moet gelowiges hulleself afvra wanneer hulle gekonfronteer word met sake wat as sodanig neutraal is; dit is hier waar die goddelike wysheid wat ons deur genade verkry, toegepas moet word.

E. Die Krag Agter ’n Lewe Onder Genade
Genade gee die krag om onder genade te kan lewe. Hierdie krag kom van die Heilige Gees en hier moet daar op twee punte gelet word. Een, die Gees woon in by alle gelowiges (Rom. 8:9; I Kor. 6:19). En twee, die Gees woon permanent in by alle gelowiges (Joh. 14:17). Te danke aan die permanente inwoning van die Heilige Gees, het gelowiges die krag om ’n lewe onder genade te lei en die stelreëls daarvan te onderhou.

F. Die Doel van ’n Lewe Onder Genade
Eenvoudig gestel, is die doel van ’n lewe onder genade, heiligmaking. Heiligmaking is om die gelowige meer en meer te verander na die beeld van die Seun van God. Daarom, as ’n mens die basis verstaan van ’n lewe onder genade, dat dit berus op genade en nie op wet nie; as jy die voorsiening verstaan van ’n lewe onder genade, dat dit die Wet van die Messias is en die goddelike instaatstelling om dit te onderhou; as jy die negatiewe stelreëls, die positiewe stelreëls, en die beginsels van ’n lewe onder genade duidelik verstaan; as jy weet watter vrae om te vra; en as jy die krag verstaan waardeur ’n lewe onder genade funksioneer, dan sal ’n mens die doel van ’n lewe onder genade volbring: heiligmaking.

XI. GEVOLGTREKKINGS
In die gevolgtrekkings aangaande die genade van God, kan vyf punte gemaak word: genade is God se onverdiende guns aan sondaars; genade bied redding as ’n gratis geskenk aan almal wat glo; God het die vermoë om genade te bewys; genade kan nie verwerf, verdien, of gekoop word nie; en God se genade is onbeperk.

A. God se Onverdiende Guns aan Sondaars
Genade is God se onverdiende guns aan sondaars wat die presiese teenoorgestelde verdien. Die wesenlike natuur van genade is onverdiende guns. Sodra iemand voel hy kan dit verdien of dat God verplig is om dit aan hom te gee, hou dit op om genade te wees.

B. God se Aanbod van Redding As ’n Gratis Geskenk
God se genade bied redding as ’n gratis geskenk aan almal wat hulle geloof stel in Sy Seun, Jesus die Messias. Die genade van God word deurentyd aan alle mense gebied, maar dit word beperk tot diegene wat daadwerklik hulle geloof in Sy Seun stel. God se genade is ’n gratis geskenk, maar soos met alle geskenke, moet dit aangeneem word. Net soos wat ’n mens besluit om ’n geskenk te koop en hierdie geskenk gratis aan iemand anders te gee, net so moet die ander persoon die geskenk aanneem om dit te kan geniet, want hy is ook vry om dit van die hand te wys. Dus, God se genade word gratis aangebied aan alle mense. Nogtans is die aanneming daarvan beperk tot diegene wat dit deur geloof ontvang. God se genade bied redding as ’n gratis geskenk aan almal wat hulle geloof stel in Sy Seun, Jesus die Messias.

C. God se Vermoë om Genade te Bewys
God is in staat om genade gratis aan sondaars te bewys omdat die Here Jesus aan die kruis van Gólgota as ’n plaasvervanger vir sondaars gesterf het. God se genade moenie losgemaak word van Sy ander attribute nie, soos die attribuut van geregtigheid en die attribuut van regverdigheid. Hierdie attribute van God vereis dat Hy sonde moet straf. Waar Hy sonde moet straf, kan genade nie bewys word nie.

Op grond van Jesus se plaasvervangende dood vir die sondaar, het God die Vader die sonde by die kruis geoordeel, en daardeur Sy attribute van geregtigheid en regverdigheid bevredig, sodat Hy nou Sy genade aan die sondaar kan bewys.

D. God se Genade kan nie Verwerf, Verdien, of Gekoop word nie
Die wesenlike natuur van genade is dat dit nie gedeeltelik of in geheel verwerf, verdien, of gekoop kan word nie. Genade kan nie verwerf word nie, want dan word dit ’n mens se salaris, terugbetaling vir dienste gelewer. Genade kan nie verdien word nie, want sodra dit verdien word, is God se genade nie langer ware genade nie; dit word dan iets wat God verplig sou wees om te gee. En genade kan nie gekoop word nie, want as dit iets is wat gekoop is, is dit nie meer wat die Bybel leer dat dit is nie: God se gratis geskenk. Genade kan ook nie onderverdeel word op so ’n manier dat sekere aspekte van genade verwerf, verdien, of gekoop kan word terwyl dit nie vir ander aspekte geld nie. Genade kan nie gedeeltelik of in geheel verwerf, verdien, of gekoop word nie.

E. God se Genade is Onbeperk
In die Skrif word die onbeperkte genade van God op ses verskillende maniere uitgewys: die verskyning van God se genade, die verskyning van genade in redding, die gelowige se posisie onder genade, die gelowige se sfeer van funksionering, die voorsiening in daaglikse behoeftes, en God se kompromislose (beginselvaste) genade.

1.Die Verskyning van God se Genade
God het ’n werk volbring waardeur genade verskyn het. Hierdie punt word in vier skrifgedeeltes geleer.

Romeine 5:15: Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword.

Romeine 5:17: Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus.

II Korinthiërs 8:9: Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.

En Titus 2:11: Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn.

2. Die Verskyning van Genade in Redding
Die tweede manier waarop aangetoon word dat God se genade onbeperk is, is dat die genade wat aan alle mense verskyn het, geopenbaar is in redding. Dit word geleer in drie skrifgedeeltes.

Romeine 3:24: en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.

Romeine 5:20: Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword.

En Efésiërs 2:5-8: ook toe ons dood was deur die misdade, [het God ons] lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered – en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God.

3. Die Gelowige se Posisie Onder Genade
Die derde manier wat aantoon dat God se genade onbeperk is, is deur die gelowige se posisie tans onder genade. Dit word uitgewys deur twee skrifgedeeltes wat die feit onderstreep dat gelowiges nie meer onder die Wet is nie, maar onder genade.

Romeine 5:2: deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.

En Romeine 6:14: Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.

4. Die Gelowige se Sfeer van Funksionering
Die vierde manier wat aantoon dat God se genade onbeperk is, is dat God se beginsel waarvolgens gelowiges vandag moet funksioneer, die beginsel van genade is. Gelowiges moet funksioneer in die sfeer van genade, nie in die sfeer van die Wet nie. Dit word uitgewys in Galásiërs 5:4: Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. Die punt van hierdie vers is nie dat die gelowige sy redding kan verloor nie, maar dat die gelowige die keuse het om óf in die sfeer van die Wet óf in die sfeer van genade te funksioneer. Die punt van hierdie skrifgedeelte uit Galásiërs, is dat God se beginsel waarvolgens gelowiges vandag moet funksioneer, die sfeer is van God se genade.

5. Die Voorsiening in Daaglikse Behoeftes
Die vyfde bewys dat God se genade onbeperk is, is dat God in daaglikse behoeftes voorsien op grond van Sy genade. Dit word geleer in Hebreërs 4:16: Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word. Deur op ’n daaglikse basis na die troon van genade te gaan, kan daar deur genade toepaslik in ’n mens se daaglikse behoeftes voorsien word.

6. God se Kompromislose Genade
Die sesde manier wat aantoon dat God se genade onbeperk is, is dat genade nie kompromie aangaan nie. Dit word uitgewys in Romeine 4:13-16: Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof. Want as hulle wat uit die wet is, erfgename is, dan het die geloof waardeloos geword en die belofte tot niet geraak. Want die wet wek toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie. Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal. Wat vir Abraham geld, geld net so vir almal. Hulle verkry die voorreg van God se genade deur geloof, want genade kan nie gekompromitteer word om deur werke verkry te word nie.

[end]

Inhoudsopgawe
I. DIE HEBREEUSE EN GRIEKSE WOORDE
     A. Chen
     B. Chesed
     C. Charis

II. GENADE IN DIE OU TESTAMENT
     A. Die Patriargale Tydperk
     B. Die Dispensasie van die Wet
     C. Die Verbonde

III. GENADE IN DIE NUWE TESTAMENT
     A. Die Evangelies
     B. Die Handelinge van die Heilige Apostels
     C. Die Briewe van Paulus
     D. Die Brief aan die Hebreërs
     E. Die Algemene Briewe
     F. Die Boek Openbaring

IV. DIE BETEKENIS VAN GOD SE GENADE
V. ALGEMENE GENADE
     A. Die Definisie van Algemene Genade
     B. Die Demonstrasie van Algemene Genade
     C. Die Wyses van Algemene Genade
     D.Die Inhoud en Uitvloeisels van Algemene Genade
     E.Die Beperkinge van Algemene Genade

VI. KRAGDADIGE OF BESONDERE GENADE
     A. Die Definisie van Kragdadige of Besondere Genade
     B. Die Vertakkings van Kragdadige of Besondere Genade

VII. SOEWEREINE GENADE
     A. Die Betekenis van Soewereine Genade
     B. Uitverkiesing en die Goddelike Motiewe van Soewereine Genade
     C. Die Motiewe vir Soewereine Genade

VIII. REDDENDE GENADE
     A. Die Skrifte
     B. Die Goddelike Motiewe van Reddende Genade
     C. Die Beginsels wat nie Naas Reddende Genade Kan Bestaan nie

IX. DIE GELOWIGE SE POSISIE IN GENADE
X. LEWE ONDER GENADE
     A. Die Basis van ’n Lewe Onder Genade
     B. Die Voorsiening vir ’n Lewe Onder Genade
     C. Die Stelreëls van ’n Lewe Onder Genade
        1. Positiewe Gebooie in die Wet van die Messias
        2. Negatiewe Gebooie in die Wet van die Messias
        3. Beginsels in die Wet van die Messias
        4. Addisionele Reëls deur Regeerders
     D. Vrae wat Gevra moet word In ’n Lewe Onder Genade
     E. Die Krag Agter ’n Lewe Onder Genade
     F. Die Doel van ’n Lewe Onder Genade

XI. GEVOLGTREKKINGS
     A. God se Onverdiende Guns aan Sondaars
     B. God se Aanbod van Redding As ’n Gratis Geskenk
     C. God se Vermoë om Genade te Bewys
     D. God se Genade Kan nie Verwerf, Verdien, of Gekoop Word Nie.
     E. God se Genade is Onbeperk
        1. Die Verskyning van God se Genade
        2. Die Verskyning van Genade in Redding
        3. Die Gelowige se Posisie Onder Genade
        4. Die Gelowige se Sfeer van Funksionering
        5. Die Voorsiening in Daaglikse Behoeftes
        6. God se Kompromislose Genade     

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Wat presies moet ’n mens doen om gered te word? Die onderwerp word in twee hoof afdelings behandel. Eerstens word die voorwaarde vir redding positief bespreek. Die enigste voorwaarde vir redding is om te glo dat Jesus Christus vir ’n mens se sondes gesterf het, begrawe is, en opgestaan het uit die dood, en om Hom te vertrou vir jou redding. Tweedens word daar gekyk na die verskillende onwaar byvoegings vir redding deur verskeie groepe regdeur die Christelike geskiedenis.