Die Godheid van die Messias

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. – Johannes 1:3

INLEIDING
In hierdie studie word die Godheid van die Messias (Christus) en die bewyse daarvoor, in sewe afsonderlike afdelings ingedeel. Die agtste afdeling handel oor die betekenis van kenosis.

I. DIE GODDELIKE NAME VAN DIE MESSIAS
Die eerste bewys
is die goddelike name van die Messias. Sekere name is aan Yeshua (Jesus) gegee wat of Godheid impliseer of werklik Godheid beteken. In die bladsye van die Nuwe Testament word sewe sulke goddelike name vir Jesus gebruik.

A. God
Die eerste van hierdie goddelike name is God. Jesus word God genoem in Johannes 1:1: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. In vers 14 maak Johannes dit baie duidelik dat die Een van wie hy in terme van die Woord praat, Jesus is. Vers 1 lees, “die Woord was by God en, daarom, onderskeie van God.” Dan sê Johannes, “en die Woord was God.” Dit beteken Hy is dieselfde God. Hoe dit moontlik is, word slegs duidelik as die Drie-Eenheid verstaan word. Hy was by God in die sin dat Jesus nie die Vader is nie, en ook nie die Heilige Gees is nie. Maar hy was God in die sin dat Hy die Seun is, die Tweede Persoon van die Drie-Eenheid.

’n Tweede voorbeeld van hierdie goddelike naam kom voor in Johannes 20:28: En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God! Thomas, die dissipel wat getwyfel het, het die opgestane Jesus gesien en Hom aangespreek as My Here en my God. Jesus het hom nie gekorrigeer deur te sê, “Nee Thomas, ek is jou Here maar Ek is nie jou God nie.”

’n Derde voorbeeld word gevind in Hebreërs 1:8: maar van die Seun [sê Hy]: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer. In hierdie vers word Jesus God genoem. Die skrywer van die Brief aan die Hebreërs verklaar dat die vers wat hy uit die Ou Testament aanhaal, Psalm 45:7, spesifiek na die Seun verwys. Die Hebreeuse teks gebruik die naam Elohim, wat “God” beteken, en die Nuwe Testament pas dit onteenseglik op Jesus toe.

B. Seun van God
’n Tweede goddelike naam is Seun van God. Die Engelse gebruik van die term impliseer nie noodwendig Godheid nie, maar in die antieke Joodse denkwyse is dit wel die geval. Die naam Seun van God was by uitstek ’n Messiaanse titel, en as ’n Messiaanse titel, onderskryf dit Sy Godheid.

Jesus word op baie plekke die Seun van God genoem. Een voorbeeld is in die konteks van Petrus se belydenis in Matthéüs 16:16. In hierdie hoofstuk vra Jesus vir Sy dissipels: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? Petrus antwoord namens al die dissipels wanneer hy sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Die Grieks is baie nadruklik. Dit lees, “U is die Seun van die God, die lewende een.” Hierdie is ’n goddelike naam wat vir Jesus gebruik word.

C. Here
’n Derde naam vir Jesus wat Sy Godheid onderskryf, is Here. In Grieks word die term “heer” vir sowel mense as God gebruik. In die Nuwe Testament word daar na Jesus verwys as Here in die sin van God. Die rede vir die waarheid van hierdie stelling, is dat die skrifgedeeltes waar die term “Here” vir Jesus gebruik word, dikwels ’n vertaling van Ou Testamentiese skrifgedeeltes is waar God se eienaam, Jehovah, gebruik word.

Twee voorbeelde waar Jesus Here genoem word in die sin van Godheid, in die sin van Jehovah van die Ou Testament, is Matthéüs 22:43-45 en Handelinge 9:17.

D. Die Alfa en die Oméga
Die vierde naam wat die Messias se Godheid onderskryf, is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste letters van die Griekse alfabet. In Openbaring 1:8 word Jesus die Alfa en die Oméga genoem, wat beteken dat Hy die begin en die einde is van alle dinge. Dit is nie baie verskillend van die verklaring in Johannes 1:1 nie: In die begin was die Woord, … en die Woord was God. Met ander woorde, vir so lank as wat God bestaan het, vir net so lank bestaan die Woord, die Messias. As die Messias van alle ewigheid af bestaan het, beteken dit dat Hy God moet wees. Dit is die punt van hierdie vierde naam, die Alfa en die Oméga; Hy is die begin en Hy is die einde. Vir so lank as wat God bestaan het; vir so lank het die Seun bestaan. God het bestaan van alle ewigheid af; die Seun het bestaan van alle ewigheid af. As iemand van alle ewigheid af bestaan, beteken dit dat Hy God is.

E. Die Eerste en die Laaste
Hierdie vyfde naam wat Jesus se Godheid onderskryf, word gevind in Openbaring 1:17: die eerste en die laaste. Dit kom ooreen met die Alfa en die Oméga. Terwyl die Alfa en die Oméga die begin en die einde benadruk, is Hy in hierdie naam die eerste en die laaste. Hy het van altyd af bestaan en sal vir altyd bestaan. Dit, ook, impliseer onteenseglik Godheid.

F. Die Beeld
Die sesde naam wat die Godheid van die Messias onderskryf, word gevind in Kolossense 1:15: Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping. Die woord beeld beteken “prototipe” (of “voorafbeelding”), “die beeld in sy geopenbaarde werklikheid”. Dit is die sigbare openbaring van die onsigbare, spesifiek, die onsigbare God. Hy is die presiese beeld van die onsigbare God. Hy is die beeld in sy geopenbaarde werklikheid. Hy is die sigbare openbaring van die onsigbare God. Dit is ’n beeld wat spesifiek Sy Godheid beklemtoon.

G. Die Afskynsel
Die sewende en finale goddelike naam van die Messias word gevind in Hebreërs 1:3: Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte. Hierdie naam is baie dieselfde as die sesde naam, maar daar is ’n wesenlike verskil. Waar Hy in Kolossense 1:15 die Beeld van die onsienlike God genoem word, word daar in hierdie vers ’n ander Griekse woord gebruik, met die betekenis van “ ’n eksakte beeld”. Dit is ’n beeld in die sin van ’n afdruksel wat op klei gemaak is. Dit is asof iemand ’n voorwerp gevat en in klei gedruk het en toe weer afgehaal het. Die klei het ’n eksakte (noukeurige / juiste) afdruksel van dit wat daarop gedruk is. Wanneer Jesus die afskynsel genoem word, beteken dit Hy is die eksakte afdruksel van die goddelike natuur. Omdat die Vader ten volle God is, is die Seun ook ten volle God. Alles wat waar is van die Godheid van die Vader, is ook waar van die Godheid van die Seun.

II. DIE GODDELIKE ATTRIBUTE (KENMERKENDE EIENSKAPPE) VAN DIE MESSIAS
Die tweede bewys
van die Godheid van die Messias is dat Hy al die attribute (kenmerkende eienskappe) van God besit. Daar is tien attribute wat slegs God besit. Jesus besit ook hierdie selfde attribute, wat beteken dat Hy ook God is.

A. Ewiglikheid
Die eerste attribuut is dié van ewiglikheid. Ewiglikheid beteken nie net dat Hy ewiglik in die toekoms sal bestaan nie – iets wat ook waar is van engele en heiliges – ewiglikheid beteken ook dat Hy ewiglik in die verlede bestaan het.

Miga 5:1b sê aangaande die Messias, sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid. In hierdie vers gebruik Miga die sterks-moontlike Hebreeuse term vir die ewigheidsverlede om die ewiglikheid van die Messias te beklemtoon.

Johannes 1:1 sê, In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Die punt van Johannes 1:1 is dat, vir solank as wat God se bestaan geld, vir net so lank geld die bestaan van die Messias. Omdat God van ewigheid af bestaan, bestaan die Seun, presies net so, van ewigheid af.

Ander skrifgedeeltes wat die ewiglikheid van die Seun leer, is onder andere: Johannes 8:58; Kolossense 1:17; en Hebreërs 1:11.

B. Onveranderlikheid
Die tweede attribuut wat Jesus se Godheid onderskryf, is onveranderlikheid; Hy word nooit oud nie. Die feit dat Hy onveranderlik is, beteken Hy kan nie verander nie. Hy bly dieselfde in Sy goddelike natuur sonder enige afname van Sy goddelike mag. Die onveranderlikheid van die Messias word in twee gedeeltes van die Brief aan die Hebreërs geleer.

Die eerste gedeelte is Hebreërs 1:10-12: U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ’n kleed verslyt, en soos ‘n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie.

Die tweede gedeelte is in Hebreërs 13:8: Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Kontekstueel verwys dit na Sy goddelike natuur. Jesus besit die attribuut van onveranderlikheid.

C. Bestaan in Selfheid
’n Derde attribuut wat Sy Godheid onderskryf, is selfheid; Sy bestaan is nie afhanklik van enige ander voorwerp nie. Ons bestaan is afhanklik van God se instandhoudende bewaringswerk. Maar volgens Johannes 1:1-3 bestaan die Seun in onafhanklike selfheid: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. Hierdie verse onderskryf Sy selfheid in die opsig dat Hy nie geskape is nie; Hy het van altyd af bestaan. Dit is deur Hom dat alles wat geskape is, nou bestaan.

’n Tweede skrifgedeelte wat Sy selfheid beklemtoon, is Johannes 5:26: Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. Die feit dat die Seun lewe in Homself het, toon dat die Seun in selfheid bestaan.

D. Lewe
’n Vierde attribuut wat Sy Godheid onderskryf, is lewe. Johannes 1:4 sê: In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. Dit was nie ’n lewe wat geskape is nie. Dit was nie ’n lewe wat op enige natuurlike manier gegenereer is nie; Hy het lewe in Homself. Dit beklemtoon Godheid. Dieselfde punt word geleer in Johannes 14:6 en Handelinge 3:15.

E. Die Volheid van die Godheid
Die vyfde goddelike attribuut van die Messias word gevind in Kolossense 2:9: Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik. Hierdie attribuut beklemtoon dat alles waaraan goddelikheid moet voldoen, alles wat die goddelikheid van die Vader en die goddelikheid van die Heilge Gees bewys, ook waar is van die Seun; daarom is Hy, ook, God. Alles wat waar is van die goddelike natuur van die Vader en die Gees is daarom ook waar van die goddelike natuur van die Seun.

F. Heiligheid
Die sesde attribuut wat die Godheid van die Messias onderskryf, is die attribuut van heiligheid. Dit word aangetref in Hebreërs 7:26: Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het. Hierdie vers toon baie duidelik dat Jesus heiligheid in Homself besit. Die heiligheid wat die heiliges het, is ’n toegekende heiligheid (’n heiligheid wat verkry word); dit is ’n heiligheid wat van Jesus die Messias kom. Dit is ’n heiligheid wat as heiligheid gereken word wanneer “geregtigheid vir ons toegereken” word. Jesus het nie ’n geregtigheid wat Hom toegeken is (wat Hy verkry het), of wat Hom toegereken is nie; Sy heiligheid is ’n heiligheid wat waar is in Homself. Dit wil sê, Hy besit hierdie attribuut van heiligheid.

G. Soewereiniteit (Oppermagtigheid)
Die sewende attribuut van die Messias is soewereiniteit (oppermagtigheid); Hy is volkome in beheer. Byvoorbeeld, in Matthéüs 5:27-28 het Hy die outoriteit om te oordeel. Die feit dat Jesus die outoriteit het om goddelike oordeel te laat geld, bewys dat Hy oppermagtig is.

Dit word ook geleer in Matthéüs 28:18: En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Jesus verklaar dat Sy outoriteit nie net op die aarde geld nie, maar ook in die Hemel.

Dit word ook geleer in Johannes 17:2: soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. ’n Geskape wese, soos ’n engel of ’n mens, kan nooit die ewige lewe aan iemand anders gee nie.

Die oppermagtigheid van die Seun word ook geleer in Handelinge 2:36; I Korinthiërs 12:3; Filippense 2:9-10; Kolossense 1:18; I Petrus 3:22; en Openbaring 19:16.

H. Almagtigheid
Die agtste attribuut van die Messias is almagtigheid; Jesus is almagtig. Om almagtig te wees, beteken dat Hy God moet wees. Die feit dat Hy almagtig is, word geleer in Johannes 10:18: Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang. Die feit dat Hy die mag het oor Sy eie lewe, om dit te neem sowel as om dit op te wek, toon ’n unieke graad van almagtigheid. Alle mense het die mag om hulle eie lewe te neem, maar nie om hulleself weer tot die lewe op te wek nie.

Die almagtigheid van die Seun word ook geleer in Lukas 8:25; I Korinthiërs 15:25-28; Filippense 3:21: Kolossense 1:16-17; II Timótheüs 1:12; Hebreërs 1:3; 7:25; Judas 24; en Openbaring 1:8.

I. Alwetendheid
Die negende attribuut van die Messias is alwetendheid; Hy is alwetend. Hy weet alles wat daar te wete is; Hy weet alles in realiteit en in moontlikheid.

Die feit dat Jesus alwetend is, word geleer in: Matthéüs 11:27; Johannes 1:48; 2:25; 10:15; 13:1, 11; 16:30; 18:4; 19:28; I Korinthiërs 4:5; Kolossense 2:3; en Openbaring 2:23.

J. Alomteenwoordigheid
Die tiende attribuut van die Messias is alomteenwoordigheid; Hy is orals op dieselfde tyd. Om orals op dieselfde tyd te wees, kan net waar wees van God.

Die feit dat Jesus alomteenwoordig is, word geleer in: Matthéüs 18:20; 28:20; Johannes 3:13; 14:18, 20, en 23.

III. DIE GODDELIKE WERKE VAN DIE MESSIAS
Die derde bewys
van Jesus se Godheid is dat Hy die werk van God doen. Met ander woorde, Jesus doen werke wat net God alleen kan doen. As Jesus die werke doen wat net God alleen kan doen, is dit weereens bewys van Sy Godheid. Daar is ses werke van God wat bespreek gaan word.

A. In die Skepping
Die eerste goddelike werk is die Skepping. Om uit niks te skep is ’n werk wat slegs God kan doen. Tog word dit in Johannes 1:3 en 10 verklaar dat Jesus die Skeppingswerk gedoen het. Vers 3 sê: Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. Vers 10 sê: Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.

Wat Johannes leer, word deur Paulus herbevestig in I Korinthiërs 8:6: tog is daar vir ons maar net een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Paulus herhaal hierdie waarheid in Kolossense 1:16: want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.

Dieselfde waarheid word geleer deur die skrywer van die Brief aan die Hebreërs in hoofstuk 1:3 en 10. In hierdie skrifgedeeltes is dit duidelik dat die Seun die werk van die Skepping doen. Om die werk van die Skepping te doen, beteken dat Hy God is.

B. In Instandhouding (Onderhouding / Bewaring)
Die tweede werk wat die Seun doen wat ’n werk van God is, is onderhouding. Dit word geleer in twee Nuwe-Testamentiese skrifgedeeltes.

Die eerste skrifgedeelte is Kolossense 1:17: En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. Hierdie vers leer dat die Messias die Een is wat die hele skepping in stand hou en onderhou (bewaar). Hy is, wat wetenskaplikes noem, die “atomiese gom” wat die atome geheimnisvol saambind en teëhou om in alle rigtings uitmekaar te spat.

En die tweede skrifgedeelte is Hebreërs 1:3: Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte. Nie alleen is die Skepping van die heelal die werk van God nie, maar die instandhouding van die Skepping is ’n werk van God. Jesus doen die werk van instandhouding / onderhouding, wat beteken dat Hy God moet wees.

C. In die Vergewing van Sondes
Die derde werk wat die Messias doen wat ’n werk is wat slegs God kan doen, is dat Hy sondes vergewe. Die mag om sondes te vergewe, onderskryf Sy Godheid. Ons sien dat Hy sondes vergewe in Matthéüs 9:2, 6; Lukas 5:24; en 7:47-48.

D. In die Sending (Stuur) van die Heilige Gees
Die vierde werk wat die Messias doen wat ’n werk van God is, is dat Hy volgens Johannes 15:26, die Heilige Gees stuur: Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig. Vir iemand om die vermoë te hê om die Heilige Gees te stuur, moet Hy of ’n gelyke wees of groter. Die Heilige Gees is God, en as Jesus die vermoë het om die Heilige Gees te stuur, beteken dit dat Jesus ook God moet wees.

E. In Opstanding
Die vyfde werk wat die werk van God is, is dat die Messias verantwoordelik sal wees om mense uit die dood uit op te wek. Hy sal verantwoordelik wees om sowel die regverdiges as die onregverdiges uit die dood uit op te wek. Johannes 6:39-40 het betrekking op die gelowige heiliges: En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Johannes 5:28-29 het betrekking op sowel regverdiges as onregverdiges: Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling. Aangesien die opwekking uit die dood ’n werk van God is, beteken dit dat Jesus Self ook God moet wees.

F. In Finale Oordeel
Die sesde werk wat die werk van God is, is dat die Messias die finale oordeel sal voltrek. Dwarsdeur die Ou Testament word dit duidelik geleer dat God eendag die finale oordeel sal stuur. Die werk wat in die Ou Testament aan God toegeskryf word, word in die Nuwe Testament aan die Seun toegeskryf. Dis voor die hand liggend dat, as die Ou Testament sê God is verantwoordelik vir finale oordeel, en die Nuwe Testament sê Jesus is verantwoordelik vir finale oordeel, dan moet Jesus God wees.

Sekere skrifgedeeltes wat onder andere leer dat Jesus verantwoordelik sal wees vir finale oordeel, is: Matthéüs 25:31-46, wat handel oor die oordeel van die nasies, en dit is die Seun wat die oordeel voltrek; in Johannes 5:22-29 word die Seun die mag gegee om te oordeel oor die regverdiges en die onregverdiges; in Handelinge 17:31 kondig Paulus aan dat ’n dag bepaal is waarop God alle mense deur die Seun sal oordeel. Dit word ook geleer in Handelinge 10:42; II Korinthiërs 5:10; en II Timótheüs 4:1.

IV. AANBIDDING TOEGEKEN AAN / GERIG TOT DIE MESSIAS
Die vierde bewys
aangaande Jesus se Godheid is dat aanbidding aan Hom toegeken / tot Hom gerig word. Jesus word aanbid op ’n manier waarop slegs God aanbid kan word. Wat meer is, toe Hy aanbid is, het Hy dit aanvaar en verwelkom, en daardeur gewys Hy maak daarop aanspraak dat Hy God is, en Hy aanvaar aanbidding in Sy hoedanigheid as God.

‘n Paar voorbeelde in die praktyk is Matthéüs 14:33; Johannes 9:38; en 20:28. In Johannes 20:28 is Thomas, die dissipel wat getwyfel het, uiteindelik oortuig van die Opstanding. Hy het nie net geglo Jesus was ’n man wat uit die dood uit opgewek is nie, hy het geglo Jesus was “sy Here en sy God”. In hierdie konteks het Jesus nie vir Thomas gekorrigeer deur te sê dat hy Hom nie God moes noem of Hom aanbid nie. Inteendeel, Jesus het Thomas se aanbidding aanvaar.

Jesus word as God aanbid in Filippense 2:10 en Hebreërs 1:6, wat lees: En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid. Jesus word nie slegs deur ander mense, soos Thomas, aanbid nie, Hy word ook aanbid deur die engele. Om deur die engele aanbid te word, impliseer duidelik Godheid.

V. DIE GEE VAN ONSTERFLIKHEID
Die vyfde bewys
van die Godheid van die Messias is dat Hy onsterflikheid of die ewige lewe gee. Die feit dat die Seun in staat is om ewige lewe te gee, toon onteenseglik Sy Godheid; Hy het die goddelike vermoë om onsterflikheid te gee. Dit word geleer in vier skrifgedeeltes.

Die eerste skrifgedeelte is Johannes 5:28-29: Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

Die tweede skrifgedeelte is Johannes 6:39-40: En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Die derde skrifgedeelte is Johannes 17:2: soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.

En die vierde skrifgedeelte is Filippense 3:21: wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.

VI. DIE GODDELIKE VERBINTENIS MET DIE DRIE-EENHEID
Die sesde bewys
van die Godheid van die Messias is dat Hy op twee wyses intiem verbind is met die Drie-Eenheid.

A. Sy Verbintenis met die Vader
Die eerste wyse is dat Hy op die mees intieme manier moontlik, verbind is met God die Vader. Dit word in twee skrifgedeeltes geleer.

Die eerste skrifgedeelte is Johannes 10:30: Ek en die Vader is een. Hierdie vers leer dat die Vader en die Seun in essensie (in wese) een is, die essensie (wesenskenmerk) van Godheid self.

En die tweede skrifgedeelte is Johannes 14:23: Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Neem kennis dat die Vader by die gelowige sal inwoon en, terselfdertyd, sal die Seun by die gelowige inwoon. Hy word in die mees intieme verbintenis moontlik, met die Vader verbind. So ’n verbintenis is slegs moontlik deur dieselfde goddelike essensie te deel.

B. Sy Verbintenis met die Heilige Gees
Die tweede wyse wat Jesus se goddelike verbintenis met die Drie-Eenheid toon, is dat Jesus ook verbind word met sowel die Vader as die Heilige Gees. Dit word geleer in Matthéüs 28:19, waar die Groot Opdrag gegee word. Jesus gaan ook voort deur te sê dat, nadat iemand na die Here toe gelei is, ’n mens die persoon ook moet doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. In hierdie skrifgedeelte word Jesus duidelik verbind met sowel die Vader as die Heilige Gees.

Nog ’n skrifgedeelte wat die verbintenis met die Vader en die Heilige Gees aantoon, is in II Korinthiërs 13:13: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal!

VII. DIE GODDELIKE AANSPRAKE VAN DIE MESSIAS
Die sewende bewys
van Jesus se Godheid is Sy eie aansprake in verband met Sy Godheid. In die lig van hierdie aansprake is daar net drie moontlikhede waaruit gekies kan word.

Die eerste opsie is dat Jesus ’n vals leraar was; Hy het die mense bedrieg. Hy het geweet dit wat Hy leer is nie die waarheid nie, maar Hy het nogtans daarop aanspraak gemaak.

Die tweede opsie is dat Jesus self mislei was. Hy het regtig die aansprake wat Hy gemaak het geglo, maar Hy het Homself mislei, en die aansprake was nie waar nie.

Die derde opsie is die enigste werklike bybelse opsie; die aansprake wat Hy oor Homself gemaak het, was regtig waar. Wat was sommige van hierdie aansprake? Hy het vier baie spesifieke aansprake van Godheid gemaak.

A. Om die mees intieme verhouding moontlik, met God te hê.
Die eerste aanspraak was dat Hy die mees intieme verhouding moontlik, met God geniet het. Dit in sigself kan op vyf maniere gesien word.

1. Om die Messias te ken is om God te ken
Jesus het gesê, om die Messias te ken is om God te ken. Hierdie verklaring is tot ongelowiges gerig, volgens Johannes 8:19: Hulle sê toe vir Hom: Waar is u Vader? Jesus antwoord: Julle ken My nie en ook nie my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het.

’n Baie soortgelyke verklaring het Hy tot gelowiges gerig, in Johannes 14:7: As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.

2. Om die Messias te sien is om God te sien
’n Tweede wyse waarop Hy op hierdie intieme verhouding aanspraak gemaak het, was: om die Messias te sien is ook om God te sien. Hierdie aanspraak is gemaak in Johannes 12:45: En wie My aanskou, aanskou Hom wat My gestuur het. Die Messias is deur God gestuur. Hy het gesê dat enigiemand wat Hom gesien het, ook die Een gesien het wat Hom gestuur het, en daardie Een was God.

Die aanspraak is ook gemaak in Johannes 14:9: Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?

3. Om die Messias te ontvang is om God te ontvang
’n Derde wyse waarop Hy aanspraak gemaak het op die mees intieme verhouding moontlik met God, was Sy lering, om die Messias te ontvang is ook om God te ontvang. Hierdie aanspraak word gevind in Markus 9:37: Elkeen wat een van sulke kindertjies ontvang in my Naam, ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het. Die Een wat die Messias gestuur het, was God. Om die Messias te ontvang is om God te ontvang.

4. Om die Messias te eer is om God te eer
Die vierde wyse waarop Jesus aanspraak gemaak het op die mees intieme verhouding moontlik met God, is Sy lering, om die Messias te eer is om God te eer. Hierdie aanspraak word gemaak in Johannes 5:23: sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Om nie die Seun te eer nie beteken om nie die Vader te eer nie, maar om die Seun te eer beteken om die Vader te eer.

5. Om ’n unieke eenheid met God te besit
Die vyfde wyse waarop Hy aanspraak gemaak het op die mees intieme verhouding moontlik met God, is Sy ondubbelsinnige aanspraak van ’n unieke eenheid met die Vader. Jesus het hierdie aanspraak gemaak in Johannes 10:30: Ek en die Vader is een.

B. Om die Objek van reddende geloof te wees
’n Tweede aanspraak van Godheid wat deur die Messias gemaak is, is Sy aanspraak om die Objek van reddende genade te wees. Hy het hierdie aanspraak gemaak in Matthéüs 11:28: Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

Hy het hierdie aanspraak weer gemaak in Johannes 3:36: Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

Hy het dit weer geleer in Johannes 14:1: Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.

Ook Johannes 17:3: En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

C. Om absolute heerskappy oor Sy volgelinge te hê
Sy derde aanspraak van Godheid is dat Hy absolute heerskappy oor Sy volgelinge gehad het. Dit kom duidelik na vore in Matthéüs 10:37-39, waar Hy aanspraak maak op absolute heerskappy oor almal wat Hom aanneem as Here.

D. Om heerskappy oor die wette en instellings van God te hê
Sy vierde aanspraak van Godheid is dat Hy heerskappy het oor die wette en instellings van God.

Voorbeelde hiervan is: eerstens, dat Hy aanspraak gemaak het op heerskappy oor die Tempel in Matthéüs 12:6; tweedens, Hy het aanspraak gemaak op heerskappy oor die Sabbat in Matthéüs 12:8; derdens, Hy het aanspraak gemaak op heerskappy oor die Koninkryk van God in Matthéüs 16:19; vierdens, Hy het aanspraak gemaak dat Hy die Here van die verbond is in Matthéüs 26:28; en vyfdens, Hy het aanspraak gemaak op absolute heerskappy oor die wette en instellings van God.

VIII. DIE BETEKENIS VAN KENOSIS
In die studie van die Godheid van die Messias moet Filippense 2:5-11 bespreek word. Hierdie skrifgedeelte handel oor ’n saak wat deur teoloë “kenosis” genoem word. Die term kenosis word gebruik op grond van sy oorsprong van ’n Griekse woord wat in een van hierdie verse voorkom. Dit is ’n woord wat beteken “om jouself te ontledig”, “om leeg te maak”, of “om te ontruim”. ’n Sekere soort “ontlediging” het plaasgevind toe die Seun ’n mens geword het. Daar is mense wat leer dat dit waarvan Jesus Homself ontledig het toe Hy ’n mens geword het, die prysgee van Sy Godheid was. As dit vir iemand moontlik sou wees om op te hou om God te wees, kon daardie persoon in die eerste plek nie God gewees het nie. Leer hierdie skrifgedeelte dat Jesus Sy Godheid prysgegee het terwyl Hy op aarde was, sodat Hy toe, nie God gewees het nie? Of probeer dit iets anders leer? Hierdie vrae kan beantwoord word deur ’n studie van die teks.

In hierdie skrifgedeelte is vers 5 ’n oorgangstelling tussen dit wat in verse 1-4 gesê is en dit wat in verse 6-11 gesê gaan word. Vers 5 lees: Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Dit staan in die teenwoordige tyd, en wat Paulus sê is, “Hou aan met die gesindheid” en “Hou aan om die gesindheid van die Messias te hê”. Die Messias moet nagevolg word in die sin dat die denkwyse daagliks uit gewoonte, ingestel moet wees op die besondere deug van ’n gesindheid soos die Messias s’n.

Die eerste deel van vers 6 beklemtoon Sy voorafbestaan wanneer dit sê: Hy, wat in die gestalte van God was. Die wyse waarop Hy van alle ewigheid af bestaan het, is in die gestalte van God. Dit is ’n onafgebroke, ewiglike bestaan. Jesus het ’n vorige bestaan in die gestalte van God gehad voordat Hy ’n man geword het. Om in die gestalte van God te bestaan, beteken om Self God te wees.

Inderdaad, in die tweede deel van vers 6, word Sy Godheid duidelik geleer: het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie. Terwyl die eerste deel van vers 6 die voorafbestaan van Jesus leer, leer die tweede deel van die vers dat Hy aan God gelyk is. Hy het bestaan in ’n gestalte wat vanselfsprekend beteken om aan God gelyk te wees. Om aan God gelyk te wees beteken om God te wees. Die Messias se gesindheid was van so ’n aard dat Hy nie sy verhewe Godgelyke bestaan beskou het as volmag om die heerlikheid vir Homself toe te eien en te roof nie; die heerlikheid wat saamgaan met die feit van Godheid. Met ander woorde, Hy het nie om aan God gelyk te wees gereken as iets om selfsugtiglik Homself mee te verryk nie. Hy was gewillig om in ’n ander gestalte as die gestalte van God te bestaan.

Wat daardie gestalte was, kom na vore in vers 7, waar die Vleeswording van die Messias geleer word: maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word. In hierdie vers moet daar na twee sake opgelet word.

Eerstens, wat hierdie vers nie sê nie aangaande die daad van selfontlediging. Die Messias het nie Homself van die gestalte van God ontledig (ontdaan / losgemaak) nie, en Hy het ook nie die gestalte van God verruil vir die gestalte van ’n mens nie. Die konsep is nie “om prys te gee” nie, dit is eerder “om by te voeg”. In sigself is die stelling homself ontledig in die Griekse teks, ’n onvoltooide gedagte. Dit waarmee die sin opvolg, beskryf die aard van Sy Vernedering deurdat Hy Self die gestalte van ’n dienskneg aangeneem het en aan die mense gelyk [ge]word het. Die gestalte van ’n dienskneg was nie ’n losmaking van die gestalte van God nie, nie ’n losmaking van gelyk wees aan God nie, maar in byvoeging daartoe. Die beeld is dat Hy toegevoeg het tot Sy goddelike gestalte; Hy het die toevoeging van menslikheid vir Homself aangeneem.

Tweedens, waarvan het Hy Homself dan ontledig, as Hy Homself nie ontledig (ontdaan / losgemaak) het van die gestalte van God of Sy gelykheid aan God nie? Die antwoord is dat Hy Homself ontdaan het van die reg van die onafhanklike gebruik van daardie tien goddelike attribute wat ons vroeër in hierdie studie bespreek het. As God het Hy die absolute reg gehad om daardie attribute onafhanklik te gebruik, maar Hy sou dit nie langer gebruik nie tensy in ooreenstemming met die wil van God die Vader.

Dit is waarom die skrywer sê dat Hy nie slegs aan die mense gelyk geword het nie, maar spesifiek die gestalte van ’n dienskneg aangeneem het, die rol van ’n dienskneg. ’n Dienskneg is uit die aard van die saak iemand wat ’n baas het aan wie hy gehoorsaam is. Dit illustreer waarvan Hy Homself ontledig het; Hy het Homself ontdaan van die onafhanklike reg om Sy goddelike attribute te gebruik. Hy het nou ’n aardse dienskneg geword van God die Vader. Hy sou Sy attribute slegs gebruik in ooreenstemming met die wil van God die Vader. Hy sou nie Sy almag gebruik tensy God die Vader dit so wou hê nie. Hy sou nie Sy alwetendheid gebruik tensy God die Vader dit so wou hê nie. Gevolglik was daar dinge wat Jesus in Sy mensheid nie geweet het nie. Byvoorbeeld, Hy het nie geweet wanneer Hy weer sou terugkom nie. Die rede waarom Hy nie geweet het nie, is omdat Hy nie die attribuut van alwetendheid gebruik het nie; dit was nie God die Vader se wil vir Hom om dit te doen nie. Toe Jesus ’n man geword het, het Hy nie minder as God geword nie. Nee, deur ’n mens te word, het Hy menslikheid naas Sy Godheid aangeneem.

Vers 8 beskryf Sy kruisiging: en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Die staat van Jesus waarin die mense Hom gesien het, is: in die vorm van ’n mens. Toe die mensdom Jesus gesien het, het hulle Hom nie in ’n goddelike essensie gesien nie; hulle het Hom gesien as ’n menslike wese. Hy was deur almal herken as ’n man. Dit was deel van Sy Vernedering, deel van Sy gehoorsaamheid aan God die Vader. Hy het Homself van Sy almag ontdaan, deurdat Hy nie Sy almag gebruik het om mense te keer om Hom dood te maak nie. Omdat die Seun gewillig was om Sy bestaan in die uitsluitlike gedaante van God, prys te gee – nie in losmaking van die bestaan in die gedaante van God nie, maar in toevoeging tot daardie gedaante – het Hy die gedaante van ’n man aangeneem.

Omdat Hy gewillig was om Homself op daardie manier te ontledig, is daar ’n belofte van Sy Verhoging in verse 9-11: Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. Gevolglik is Hy verhoog toe Hy opgevaar het na die Hemel. In vers 9, is Hy uit die dood uit opgewek in buitengewone waardigheid en mag. In vers 10, is daar die erkenning van Sy universele oppermagtigheid. En in vers 11, sal daar uiteindelik universele eerbetoon aan die Messias as Here wees.

Wat beteken die kenosis? Eerstens, dit beteken nie dat Hy Homself ontdaan (losgemaak) het van die gedaante van God nie. Tweedens, dit beteken dat Hy die onafhanklike uitoefening van Sy goddelike attribute waardeur die gedaante van God uitdrukking vind, ter syde gestel het. In stede daarvan, het Hy ’n menslike gedaante, vlees, en natuur aangeneem en toegeëien deur die Vleeswording en die Maagdelike Geboorte. Die selfontlediging het ’n veranderde status teweeg gebring vanaf die posisie van God tot die posisie van ’n dienaar. In die ontlediging het Hy Homself nie losgemaak van Sy Godheid of dit afgestaan nie. In Sy menslike gedaante het Hy al die attribute van Sy Godheid behou, maar Hy het nooit Sy Godheid buite die wil van die Vader geopenbaar nie. Dus, selfs in Sy aardse lewe as ’n man, was Hy steeds God.
[end]

Inhoudsopgawe

INLEIDING
I. DIE GODDELIKE NAME VAN DIE MESSIAS
     A. God
     B. Seun van God
     C. Here
     D. Die Alfa en die Oméga
     E. Die Eerste en die Laaste
     F. Die Beeld
     G. Die Afskynsel
II. DIE GODDELIKE ATTRIBUTE (KENMERKENDE EIENSKAPPE) VAN DIE MESSIAS
     A. Ewiglikheid
     B. Onveranderlikheid
     C. Bestaan in Selfheid
     D. Lewe
     E. Die Volheid van die Godheid
     F. Heiligheid
     G. Soewereiniteit (Oppermagtigheid)
     H. Almagtigheid
     I. Alwetendheid
     J. Alomteenwoordigheid
III. DIE GODDELIKE WERKE VAN DIE MESSIAS
     A. In die Skepping
     B. In Instandhouding (Bewaring)
     C. In die Vergewing van Sonde
     D. In die Sending (Stuur) van die Heilige Gees
     E. In Opstanding
     F. In Finale Oordeel
IV. AANBIDDING TOEGEKEN AAN / GERIG TOT DIE MESSIAS
V. DIE GEE VAN ONSTERFLIKHEID
VI. DIE GODDELIKE VERBINTENIS MET DIE DRIE-EENHEID
     A. Sy Verbintenis met die Vader
     B. Sy Verbintenis met die Heilige Gees
VII. DIE GODDELIKE AANSPRAKE VAN DIE MESSIAS
     A. Om die mees intieme verhouding moontlik, met God te hê
         1. Om die Messias te ken is om God te ken
         2. Om die Messias te sien is om God te sien
         3. Om die Messias te ontvang is om God te ontvang
         4. Om die Messias te eer is om God te eer
         5. Om ’n unieke eenheid met God te besit
     B. Om die Objek van reddende geloof te wees
     C. Om absolute heerskappy oor Sy volgelinge te hê
     D. Om heerskappy oor die wette en instellings van God te hê
VIII. DIE BETEKENIS VAN KENOSIS

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Die term “inkarnasie” (of: “vleeswording”/“menswording”) is afgelei van ’n Latynse woord wat “in die vlees” beteken. Dit beteken dat God die Seun, die Tweede Persoon van die Drie-Eenheid, die menslike natuur aangeneem het. Die Woord het vlees geword. Die inkarnasie beteken dat daar, meteens, twee nature in een Persoon was. Die twee nature was altyd afsonderlik, en nooit met mekaar verweef in die een Persoon nie.