Die huidige werk van die Messias

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete. – Psalm 110:1

INLEIDING
Waarmee is Yeshua (Jesus) vandag besig? Die mense wat ons oor die Bybel leer praat gewoonlik van die Messias (Christus) se werk in die verlede tyd, dit wil sê terwyl Hy op aarde geleef het. Hulle praat ook oor dit wat Jesus in die toekoms gaan doen, dit wil sê die wegraping, die wederkoms, die koninkryk en die ewige lewe. Dit is eintlik vreemd om iemand te hoor preek oor dit wat Jesus vandag doen. In hierdie artikel bespreek ons die huidige werk van die Messias, oftewel die “huidige sessie”, soos teoloë dit noem. Dit gaan oor die dinge waarmee Yeshua vandag besig is.

Ons gaan hierdie onderwerp in vier afdelings bespreek. Eerstens, die Messias se huidige posisie; tweedens, sy huidige werk in die hemel; derdens, sy huidige werk op aarde; en vierdens, die sewe beelde wat sy teenwoordige werk illustreer.

I. DIE HUIDIGE POSISIE VAN DIE MESSIAS
Wat is die Messias se teenwoordige posisie? Posisioneel gesproke sit Jesus vandag aan die regterhand van God die Vader. Die Ou Testament het voorspel dat die Messias aan die regterhand van God sal gaan sit. Dit is ook in Psalm 80:18 voorspel: Laat u hand wees oor die man van u regterhand, oor die menseseun wat U vir Uself grootgemaak het. Hierdie vers maak gebruik van een van Jesus se bekende Messiaanse titels, naamlik die Seun van die mens, of “menseseun” soos dit hier gebruik word.

Dit is ook in Psalm 110:1 geprofeteer, waar God die Vader met die Messiaanse Seun praat en vir Hom sê: Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.

Nadat God die Seun vlees geword het, nadat Hy deur sy lewe die doel van die vleeswording vervul het, en ná sy dood, opstanding en hemelvaart het Hy aan die regterhand van God gaan sit. Hy het die hemel in die vorm van God verlaat, maar Hy het teruggekeer na die hemel in twee vorme: goddelik en menslik. Hy is nou die God-Mens, en, as die God-Mens vervul Hy die profesie dat Hy aan die regterhand van God sal gaan sit.

Die Nuwe Testament bevestig dat Psalm 110:1 van die Messias praat (Mat. 22:43–45; Mk. 12:5–37; Luk. 20:41–44). Eintlik het Yeshua hierdie vers (Psalm 110:1) aangehaal toe hy vir die Fariseërs gevra het: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” Hul antwoord was reg: “Dawid s’n.” Toe het Jesus geantwoord: “As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun?” Dit was ’n vraag wat die Fariseërs nie kon antwoord nie. Die antwoord lê egter in die God-Mens-konsep: wat sy menslikheid betref, is Yeshua Dawid se seun, maar wat sy godheid betref, is Hy Dawid se Here. Behalwe vir die voorspellings in die Ou Testament is daar ook die Messias se eie voorspellings. Terwyl Hy op aarde was, het Jesus self voorspel dat Hy aan die regterhand van God die Vader sal gaan sit (Mat. 26:64; Luk. 22:69).

Laastens is die vervulling van hierdie profesieë in die Nuwe Testament aangeteken. Yeshua sit nou aan die regterhand van God die Vader in vervulling van die Ou Testament se skrifgedeeltes. Hierdie vervulling word bevestig deur Markus 16:19; Handelinge 2:33–36; 5:31; 7:55–56; Romeine 8:34; Efesiërs 1:20–22; Kolossense 3:1; Hebreërs 1:3, 13, 8:1; 10:12–13; 12:2; en 1 Petrus 3:22. Sover dit sy huidige posisie aangaan, sit Jesus vandag aan die regterhand van God die Vader.

II. DIE HUIDIGE WERK VAN DIE MESSIAS
Die tweede deel van hierdie studie fokus op die huidige werk wat die Messias in die hemel verrig. Ons weet Hy is in die hemel waar Hy aan die regterhand van God die Vader sit, maar wat doen Hy daar? Hy is besig met vyf dinge.

A. Hy oefen sy outoriteit uit
Eerstens oefen Hy sy universele outoriteit uit: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde (Matteus 28:18). Hy beheer die heelal en Hy beheer ook die dinge wat in ’n gelowige se lewe gebeur (Ef. 1:20–22; Kol. 1:16–17; Heb. 1:2–13; 1 Pet. 3:22).

B. Hy maak ’n plek vir gelowiges gereed
Tweedens is Yeshua op hierdie oomblik besig om ’n plek in die hemel gereed te maak. Hy het die dissipels belowe dat dit is wat Hy gaan doen wanneer Hy hulle verlaat het (Joh. 14:1–3). Hy maak op hierdie oomblik ’n plek vir gelowiges gereed sodat, wanneer hulle by Hom aansluit in die hemel, Hy ’n plek vir hulle gereed sal hê.

C. Hy is die middelaar tussen God en mens
Die derde werk wat Jesus in die hemel het, is dié van middelaar. Hy is die een middelaar tussen God, die Vader; en die mens (1 Tim. 2:5). Dit was nodig dat die middelaar menslik moet wees en dis hoekom Yeshua mens geword het. Israel het die Levitiese hoë priester as hul middelaar, maar vandag se gelowiges het die Leeu van Juda as hulle s’n.

D. Hy dien as advokaat en vertrooster
Die vierde werk wat Jesus in die hemel doen is dié van advokaat en vertrooster. Die Griekse woord vir “advokaat” is parakleitos, wat letterlik “vertrooster” beteken. Die Griekse woord spreek van iemand wat gevra word vir hulp, pleit vir die saak van ’n ander en wyse raad gee. Yeshua is inderdaad die Een op wie ons om hulp kan roep. Jesus is die Een wat voor die troon van God vir ons saak pleit, veral in gevalle waar Satan rede het om ons te beskuldig. Yeshua is die Een wat vir ons raad en wysheid gee. Jesus is dus die parakleitos; Hy is die vertrooster en die advokaat.

Dit kan in drie skrifgedeeltes gesien word. Die eerste gedeelte is Johannes 14:16, wat die Heilige Gees ’n ander parakleitos, oftewel ’n ander vertrooster, noem. Die term “vertrooster” in daardie skrifgedeelte verwys na die Heilige Gees en nie na die Messias nie. Let egter op die woord “ander”. Die Heilige Gees is ’n ander vertrooster. Van die twee Griekse woorde wat “ander” beteken is die een wat Yeshua hier gebruik die een wat beteken “’n ander van dieselfde soort”. Die Heilige Gees is dus ’n ander vertrooster van dieselfde soort. Die vraag is nou van dieselfde soort as wat? Dieselfde soort as Jesus! Net soos wat Jesus ’n vertrooster is, is die Heilige Gees ook een. Die Heilige Gees is ’n goddelike vertrooster en daarom is Yeshua ook ’n goddelike vertrooster.

Die tweede skrifgedeelte waarin ons dit vind is Hebreërs 9:24, wat ons leer dat dit deel van Jesus se huidige priesterlike bediening is om die “paraclete”, dit wil sê die advokaat, te wees. Dit beteken Hy verskyn voor God se aangesig vir ons. Die derde skrifgedeelte is 1 Johannes 2:1, wat melding maak van die feit dat Hy ons advokaat is en die behoefte vir ’n advokaat uitspel. Ons het Hom nodig as gevolg van werklike sondes wat deur gelowiges gepleeg is. Wanneer ’n gelowige sondig, gee hy ’n regverdige God aanstoot, en dit is hoekom ons steeds die Messias as ons advokaat nodig het; sodat Hy ons saak kan bepleit.

Die laaste aspek waarvan ons moet kennis neem oor die advokaat is die volgende: Die basiese rede hoekom ons ’n advokaat nodig het, is om die beskuldigings van Satan teen te werk. Volgens Openbaring 12:10 het Satan die reg om voor die troon van God te verskyn om die broeders te beskuldig. Wanneer ’n gelowige ’n sonde pleeg en nie bely dat hy dit gedoen het nie, sal Satan voor die troon verskyn om daardie gelowige voor God die Vader te beskuldig. Dit is hoekom gelowiges die bediening van Yeshua as ’n advokaat nodig het: Wanneer Satan enige rede vir beskuldiging het, kan Jesus sê: “Plaas daardie sonde op my rekening; Ek het alreeds vir daardie sonde betaal toe ek vir daardie mens aan die kruis gesterf het.”

E. Om namens ons in te tree
Die vyfde groot werk wat Jesus tans in die hemel verrig is as die een wat namens ons intree. Hierdie aspek van sy werk is nodig as gevolg van ons swakheid. Dit is ’n werk wat te doen het met ons hulpeloosheid en swakheid. Die twee belangrikste skrifgedeeltes wat oor die Messias se intersessiewerk praat is Romeine 8:34 en Hebreërs 7:25. Hierdie skrifgedeeltes, tesame met Hebreërs 9:24, beeld die Messias baie duidelik uit as die een wat vir ons intree. Eerstens het Hy, omdat Hy aan die regterhand van God sit, die voortdurende, oneindige vermoë om voor die aangesig van God die Vader te verskyn en vir ons in te tree (Romeine 8:34). Die Griekse woord vir “vir ons” beteken “namens ons” en “tot voordeel van”. Tweedens kan ons deur Hom tot God gaan (Heb. 7:25). Die Griekse woord vir “deur Hom” beteken “om te ontmoet met”. Met ander woorde, die prentjie wat ons van die Messias het wat vir ons intree, is dat Hy voor God die Vader verskyn, van aangesig tot aangesig namens ons met Hom ontmoet en ons saak tot ons voordeel bepleit.

Die aard van sy intersessie is priesterlik. Jesus funksioneer nou in die tweede van sy drie ampte, naamlik die amp van hoë priester. Yeshua het drie ampte: profeet, priester en koning. Hy funksioneer nie gelyktydig in al drie ampte nie, hy funksioneer eerder chronologies. Toe Hy hier op aarde was tydens sy eerste koms, het Hy in sy eerste amp gefunksioneer as profeet. Wanneer Hy terugkom om sy Koninkryk te vestig, sal Hy in sy derde amp funksioneer as koning. Tot tyd en wyl, in die teenwoordige tyd, funksioneer hy in sy tweede amp, naamlik as priester. Een van ’n priester se funksies is om die werk van intersessie te verrig. Die intersessiewerk wat die Messias doen is dus dié van priester in sy priesterlike amp. Dit is slegs gelowiges wat voordeel trek uit sy intersessie. Hy het immers in Johannes 17:9 en 20 gesê dat dit is wat Hy gaan doen. Hy tree nooit namens ongelowiges in nie.

Die laaste aspek van Jesus se intersessiewerk hou verband met die inhoud van sy intersessie. Die Messias tree vir ons in wat twee dinge betref. Eerstens tree Hy vir gelowiges in as hulle versoek word. Versoekings wat gelowiges in die gesig staar is deel van die inhoud van sy intersessiewerk (Heb. 4:14–16). Die tweede aspek van sy intersessiewerk het te doen met die reinheid van gelowiges, dit wil sê om hulle te help om nie te sondig nie (Heb. 10:21–22).

III. DIE MESSIAS SE HUIDIGE WERK OP AARDE
Die derde deel van hierdie studie handel oor die Messias se huidige werk op aarde. Wat doen Hy op aarde terwyl Hy in die hemel aan die regterhand van God die Vader sit? Hy doen altesaam elf dinge.

Eerstens staan Hy aan die hoof van die kerk op aarde (Ef. 1:22–23; Kol. 1:18).

Tweedens bou Jesus sy kerk op aarde (Mat. 16:18). Hy bou die kerk en sal voortgaan om dit te bou totdat dit klaar is. Op daardie punt sal Hy die kerk verwyder en dit na die hemel toe vat waar Hy is.

Derdens is Hy teenwoordig in die kerk (Mat. 28:20; Jak. 17:23,26). Die Messias is goddelik sowel as menslik. In sy menslikheid is Hy slegs in die hemel. In sy godheid is Hy alomteenwoordig, dus is Hy ook in die kerk.

Vierdens gee Hy ons die ewige lewe. Dit is Jesus wat die ewige lewe aan dié wat glo gee. Elke mens wat gered is ontvang die ewige lewe. Hierdie geskenk van die ewige lewe is een van Jesus se werke hier op aarde (Jak. 1:14; 10:10; 11:25; 14:6; 1 Joh. 5:12; Kol. 3:4).

Die vyfde werk wat Yeshua op aarde doen is dat Hy in gelowiges woon. (Joh. 14:20,23; 15:4–5; Gal. 2:20; Kol. 1:26–27; 1 Joh. 3:24). Weer eens sit Hy in sy menslikheid aan die regterhand van God die Vader, maar in sy godheid is Hy alomteenwoordig en woon Hy in elke gelowige.

Sesdens is Hy die bron van krag vir gelowiges hier op aarde (Fil. 4:13).

Sewende is Hy die bron van mag vir gelowiges hier op aarde (Mat. 28:18–20).

Agste beantwoord Hy die gebede wat gelowiges hier op aarde bid. Elke antwoord wat ’n gelowige op ’n gebed kry, is die werk van die Messias (Joh. 14:14).

Die negende werk wat Hy op aarde doen is dat Hy gelowiges help wat spesifieke behoeftes het (Heb. 2:18; 4:16).

Die tiende werk wat Jesus op aarde doen is dat Hy die basis van gelowiges se hoop is. Alhoewel gelowiges op aarde fisieke beperkings het en in geestelike oorloë swaarkry, het ons die hoop van glorie, die hoop van aanneming en die verlossing van ons liggaam. Yeshua is die basis, die fondasie en die grondslag van daardie hoop (Kol. 1:27; Rom. 8:23).

Die elfde werk wat Jesus op aarde doen terwyl Hy aan die regterhand van God die Vader sit is dat Hy die Gees stuur. Yeshua is verantwoordelik vir die verskillende werke en bedieninge wat die Heilige Gees op aarde verrig (Luk. 24:29, Joh. 14:16,17,26; 15:26; 16:7–5).

IV. DIE SEWE BEELDE
Die verhouding tussen die Messias in die hemel, en die kerk wat sy liggaam op aarde is, word op sewe verskillende maniere uitgebeeld, gesimboliseer of geïllustreer. Elke beeld beklemtoon een of meer sleutelpunte.

Die eerste beeld is dié van “Die laaste Adam en die nuwe skepping”. Die laaste Adam is Jesus, wat nou in die hemel is, en die nuwe skepping is die liggaam van die Messias, die kerk. Die verhouding word in 1 Korintiërs 15:45 en 2 Korintiërs 5:17 uitgebeeld. Die basiese betekenis van hierdie verhouding is om nuwe lewe te gee. Omdat ons almal in Adam doodgaan, sal ons almal in die laaste Adam, oftewel die Messias, lewend gemaak word. Die basiese krag van hierdie verhouding lê in die geskenk van ’n nuwe lewe, die ewige lewe.

Die tweede beeld is dié van “Die hoof en die liggaam”. Die Messias is die hoof van die kerk en die kerk self is sy liggaam. Die belangrikste skrifgedeelte wat oor hierdie verhouding gaan, is Kolossense 1:18,24. Hierdie verhouding beklemtoon vier aspekte. Eerstens het dit die betekenis van rigting. Net soos ’n fisiese kop of brein rigting gee aan ’n fisiese liggaam, gee die Messias as die hoof (kop) rigting aan die kerk. Tweedens beteken dit beheer. Nes die kop die aksies van die liggaam beheer, so beheer die Messias die kerk. Derdens het dit die betekenis van versorging. Die kop beskik oor die beheer van die brein, en dit versorg die res van die liggaam. Net so versorg die Messias sy kerk. Vierdens beteken dit die gee van geestelike gawes. Die belangrikste gedeelte oor geestelike gawes, 1 Korintiërs 12, se boodskap word op hierdie verhouding tussen die kop en die liggaam gebaseer.

Die derde beeld is dié van “Die herder en die skaap”. Die skrifgedeelte wat hier belangrik is, is Johannes 10:1–30. Die betekenis van hierdie verhouding is drievoudig. Eerstens het dit te doen met leiding. Dit gaan oor ’n herder wat ’n letterlike trop skape lei. Net so lei die Messias, die goeie herder, die kerk. Tweedens het dit te doen met versorging. Nes ’n goeie herder vir sy skape sorg, so sorg die Messias vir die kerk. Derdens het dit die betekenis van voorsiening. Dis nie die skape se verantwoordelikheid om weiding te vind nie, dis die verantwoordelikheid van die herder om die skape na ’n plek te neem waar hulle gevoed kan word. Dus neem die Messias ook die verantwoordelikheid om na die kerk se basiese fisieke en geestelike behoeftes om te sien.

Die vierde beeld is dié van “Die wynstok en die loot”. Die skrifgedeelte wat hier van toepassing is, is Johannes 15:1–7. Dié verhouding het twee betekenisse. Die eerste betekenis is dié van vrugbaarheid. ’n Loot kan nie vrugte dra as dit nie gekoppel is aan die wynstok waar dit die sap wat lewe gee van die stok kan kry nie. As dit hierdie sap van die stok ontvang, raak die loot vrugbaar. Net so moet die gelowige in die Messias bly om vrug te kan dra. Die tweede betekenis van hierdie verhouding is dié van voortplanting. Nie net produseer die wynstok vrugte nie, dit produseer ook saad wat nog meer wingerdstokke sal produseer en wat, op hulle beurt, nog meer vrug sal dra. Die gelowige het ook die verantwoordelikheid van voortplanting – om heiliges te voort te bring deur oor die evangelie te getuig en dit met ander te deel. Wanneer daardie mense dan wedergebore word, kan hulle op hul beurt ook vrug dra.

Die vyfde beeld is dié van “Die boumeester en die stene waarmee hy bou”. Hier is die sleutelskrifgedeeltes 1 Korintiërs 3:10–11 en 1 Petrus 2:4–8. Hierdie verhouding het twee sleutelbetekenisse. Eerstens het dit te doen met lewe en stabiliteit. As die gelowige ’n stewige fondament of basis het, dit wil sê die Messias, bou hy ’n stabiele gebou. As hy nie ’n stewige basis het nie, bou hy sy gebou op ’n fondasie van sand en is die resultaat onstabiliteit. Die tweede betekenis van hierdie verhouding is dat dit ’n fondasie vir die geestelike lewe is. Die Here Yeshua is die fondasie en geen mens kan ’n ander fondasie lê as dit wat deur Jesus die Messias gelê is nie. Die Messias en sy werk aan die kruis is die fondasie vir die geestelike lewe.

Die sesde beeld is dié van “Die hoëpriester en die koninklike priesterskap”. Die belangrikste skrifgedeeltes wat oor hierdie verhouding gaan, is Hebreërs 7:1–10:18 en 1 Petrus 2:5 en 9. Dié verhouding het vier betekenisse. Eerstens het dit die betekenis van opoffering omdat dit die plig van ’n priester is om opofferinge te maak. Die opoffering wat Jesus gemaak het was die opoffering van sy eie bloed. Die opoffering wat gelowiges maak is lof, danksegging, gasvryheid en finansiële ondersteuning vir die Here se werk (Heb. 13). Tweedens beteken dit intersessie. Net soos wat Yeshua vir gelowiges intree, moet gelowiges ook vir ander gelowiges intree. Derdens beteken dit reiniging, want die funksie van ’n hoë priester was om die mense wat hy verteenwoordig, dit wil sê die mense van Israel, te reinig. Vandag reinig Jesus gelowiges deur die heiligmakende werk van die Heilige Gees. Gelowiges moet ook aan die reiniging deelneem deur middel van ons belydenis soos dit in 1 Johannes 1:9 staan: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Die vierde betekenis van hierdie verhouding is gebed. Die funksie van ’n priester is om die mense by God te verteenwoordig en dit is hoekom Yeshua namens die gelowiges gebid het (Johannes 17). Op dieselfde manier moet gelowiges namens mekaar bid.

Die sewende beeld is dié van “Die bruidegom en die bruid”. Hierdie verhouding word in Efesiërs 5:25–32 uitgebeeld. Die verhouding het drie basiese betekenisse. Eerstens het dit die betekenis van gereedheid. Nes ’n bruid haarself vir haar man gereedmaak, so moet gelowiges voortdurend gereed wees. Jesus het nog nie teruggekom om sy kerk te kom haal nie, maar gelowiges moet altyd gereed wees vir die oomblik wanneer Hy wel kom. Tweedens beteken dit verbintenis. Die kerk is op ’n unieke manier met die Messias verbind; alle gelowiges is nou in Christus. Derdens beteken dit gemeenskap. ’n Man en ’n vrou deel ’n vlak van gemeenskap wat nie deur ander gedeel word nie en gelowiges moet ook ’n unieke gemeenskap met die Messias deel.

Hierdie sewe beelde illustreer die huidige werke van die Messias. Jesus is werksaam en omdat Hy werksaam is, is gelowiges die ontvangers van baie seëninge.

Inhoudsopgawe

I. DIE HUIDIGE POSISIE VAN DIE MESSIAS
II. DIE HUIDIGE WERK VAN DIE MESSIAS
     A. Om sy outoriteit uit te oefen
     B. Om ’n plek vir gelowiges gereed te maak
     C. Om as middelaar op te tree tussen God en mens
     D. Om as advokaat en vertrooster te dien
     E. Om namens ons in te tree
III. DIE MESSIAS SE HUIDIGE WERK OP AARDE
IV. DIE SEWE BEELDE

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Hierdie studie oor die koningskap van die Messias (Christus) word in drie hoof afdelings bespreek: een, die teologie van Koningskap; twee, om die Messias Here van ’n mens se lewe te maak; en drie, die toepassing van die Koningskap van die Messias op ’n paar spesifieke gebiede.
Belangrike kwessies wat aangeraak word sluit in: Koningskapsredding; Dissipelskap (eenmalige toewyding; die inhoud van toewyding; die aspekte van toewyding; die herhaling al dan nie van toewyding; sonde in die lewe van die gelowige dissipel; restourasie); Geesvervulde lewenswandel (vervulling met die Heilige Gees; kenmerke van vervulling; voorwaardes vir Geesvervulling; die resultate van Geesvervulling); en Spesifieke toepassings van die Koningskap van Christus in die lewe van sy dissipels word bespreek.