Die inkarnasie

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ʼn heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en wysheid. – Johannes 1:14

INLEIDING
Die term “Inkarnasie” (of: “vleeswording” / “menswording”) is afgelei van ’n Latynse woord wat “in die vlees” beteken. Dit beteken dat God die menslike natuur aangeneem het. Omdat dit God die Seun is, die Tweede Persoon van die Drie-Eenheid, wat in die vlees gekom (of mens geword) het, is dit waarskynlik meer korrek en gepas om te sê dit was die Logos of die Woord wat vlees geword het, eerder as om te sê dat God ’n man geword het – maar albei stellings is inderdaad die waarheid. Die Inkarnasie beteken dat daar, meteens, twee nature in een Persoon was. Die twee nature was altyd afsonderlik, en nooit met mekaar verweef in die een Persoon nie. Hierdie studie van die Inkarnasie sal in sewe afdelings bespreek word: die leer van die Inkarnasie, die wyse van die Inkarnasie, die redes en bedoelinge vir die Inkarnasie, die karakter van die vleesgeworde Messias, die mensheid van die Messias, die vernedering van die Messias, en die Godheid van die Messias.

I. DIE LEER VAN DIE INKARNASIE
Daar is vyf hoof Skrifgedeeltes wat handel oor die leer van die Inkarnasie.

A. Johannes 1:1-14
Die mees uitgebreide skrifgedeelte is Johannes 1:1-14. Wat die Inkarnasie betref, is daar vier kern beginsels, almal omskryf in verse 1 en 14:

Vers 1 verklaar: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Vers 14 verklaar: En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid.

Die eerste kern beginsel is, dat die Woord in die begin was (vs. 1a). Die tweede beginsel is, die Woord was by God (vs. 1b). So lank as wat God was, was die Woord. As God ewig is, is die Woord ewig. Die derde beginsel is, die Woord was God (vs. 1c). Hoe die Woord by God kon wees, wat die tweede beginsel is, en nogtans God kon wees, wat die derde beginsel is, kan net verstaan word in terme van die Drie-Eenheid. Die Woord was by God, en daarom, onderskeie van God, want die Woord is nie die Vader nie en die Woord is ook nie die Heilige Gees nie. Maar die Woord was God, deurdat die Woord die Seun is. En die vierde beginsel is, die Woord het vlees geword (vs. 14). Die Woord wat in die begin by God was, wat God was, het op ’n vasgestelde tyd in die menslike geskiedenis vlees aangeneem, ’n mens geword, en dit was die Inkarnasie.

B. Romeine 1:3-4
… aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here …

Twee kern frases aangaande die Inkarnasie kom in hierdie skrifgedeelte voor: na die vlees (vs. 3) en na die Gees van heiligheid (vs. 4). Dit is die Inkarnasie. Hy het mens geword na die vlees. Dit het gebeur deur die krag van die Heilige Gees; daarom was dit ook na die Gees.

C. Filippense 2:6-8
Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

In hierdie skrifgedeelte word drie kern beginsels aangaande die Inkarnasie gevind. Eerstens, hierdie Een het altyd in die gestalte van God bestaan (vs. 6); van alle ewigheid af het Hy in die gestalte van God bestaan, want Hy was die Tweede Persoon van die Drie-Eenheid, God die Seun. Tweedens, Hy wat van alle ewigheid af in die gestalte van God bestaan het, het op ’n sekere tyd in die menslike geskiedenis aan die mense gelyk geword (vs. 7). Dit is die stelling van die Inkarnasie: Hy het die gestalte van sondige mensheid aangeneem. Die term gestalte aangeneem beteken nie dat Hy nie regtig ’n mens was nie. Die term gestalte aangeneem benadruk die ooreenkoms met sondige mense, deurdat Hy op die oog af niks anders as ander mense gelyk het nie. Behalwe net, in Sy geval, het Hy nie een enkele sonde gepleeg nie. Hy was in totaliteit ’n werklike mens, ’n werklike man, maar nie ’n sondige man nie. Derdens, Hy is in gedaante gevind as ’n mens (vs. 8). Weer eens, Hy het soos alle ander mense gelyk. Die Inkarnasie beteken dat Hy vlees aangeneem het en ’n man geword het.

D. I Timótheüs 3:16
En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.

Die nadruk in hierdie vers is dat Hy in die vlees geopenbaar is; ’n verklaring van die Inkarnasie.

E. Hebreërs 2:14
Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel.

Die kern frase in hierdie vers aangaande die Inkarnasie, is vlees en bloed deelagtig is. Die Griekse woord vir deelagtig (wees) beteken “om in die hande te kry”. Hy het iets gekry. Wat Hy gekry het, was menslike vlees.

Die leer van die Inkarnasie word afgelei van hierdie vyf skrifgedeeltes wat die Inkarnasie behandel.

II. DIE WYSE VAN DIE INKARNASIE
Wat, dan, is die wyse van die Inkarnasie (hoe het die Inkarnasie gebeur)? Hoe het God ’n man geword? By die wyse van die Inkarnasie was drie dinge betrokke.

Eerstens, die Heilige Gees was betrokke by die Inkarnasie (Luk. 1:35). Toe Maria gevra het hoe dit moontlik was dat sy ’n kind sou kon verwek aangesien sy ’n maagd was, het die engel haar geantwoord dat die Heilige Gees oor haar sou kom en dat die verwekking ’n wonderwerk sou wees. Die Genereerder van die Inkarnasie was die Heilige Gees. Die Heilige Gees het oor Maria gekom en die krag van die Allerhoogste het haar oorskadu. Die Gees het gewerk om die mensheid van die Messias te verwek of voort te bring (te genereer). Hy was altyd God, daarom was dit nie nodig dat Godheid voortgebring moes word nie; net Sy mensheid moes voortgebring word. Godheid het deelgehad aan Maria se mensheid maar, terselfdertyd, Maria se sondige natuur uitgesluit. By wyse van die oorskaduwing van die Heilige Gees met die krag van die Allerhoogste, het die Heilige Gees die mensheid van Jesus die Messias voortgebring. Die Heilige Gees het die verwekking gegenereer. Die produk, volgens Lukas 1:35, sou twee dinge wees: eerstens, heilig; en tweedens, die Seun van God, die God-Mens.

Tweedens, die Maagd Maria was betrokke by die Inkarnasie. Dat sy ’n maagd was, word bevestig in twee van die vier Evangelies (Mat. 1:18, 22-23; Luk. 1:27, 34). Die verwekking was bonatuurlik. Omdat Maria ’n maagd was, was dit nodig dat daar ’n bonatuurlike verwekking moes wees. Ons praat dikwels van die wonder van die Maagdelike Geboorte, maar tegnies was dit nie die geboorte in sigself wat ’n wonderwerk was nie; Jesus is gebore net soos enige ander baba. Dit was nie die geboorte wat ’n wonderwerk was nie, maar die verwekking. Die vroulike eiersel was Maria s’n, en Jesus was dus werklik Maria se seun, maar daar was ’n algehele afwesigheid van die manlike sperm. Jesus het dus nie ’n natuurlike vader gehad nie, en dit is waarom die verwekking die genererende krag van die Heilige Gees vereis het. Aan die een kant, was die Heilige Gees betrokke, maar aan die ander kant, was die Maagd Maria ook betrokke.

Derdens, die Maagdelike Geboorte was betrokke by die Inkarnasie wat die Vleesgeworde Man voortgebring het. Dit was voorspel in Genesis 3:15 en Jesaja 7:14 en het uiteindelik in vervulling gegaan in Matthéüs 1:16.

III. DIE REDES EN BEDOELINGE VIR DIE INKARNASIE
Wat is die redes of bedoelinge vir die Inkarnasie? Daar is twaalf spesifieke redes waarom die Inkarnasie plaasgevind het.

Een, die Inkarnasie is veroorsaak deur die mens se sonde (en die mens se verlorenheid as gevolg van die sonde). Lukas 19:10 sê, Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was. ’n Meer uitgebreide skrifgedeelte wat hierdie rede vir die Inkarnasie toelig, is Johannes 3:13-21. Die doel van die Inkarnasie was om sondaars te red. Om die straf vir die sonde te betaal, moes Jesus “in die gedaante” of “in die gestalte” van sondige vlees gemaak (voortgebring) word. Hy was nie sondig gemaak nie, maar in uiterlike voorkoms het Hy soos enige ander man gelyk. Dit was nodig vir Hom om in die gestalte van sondige vlees gemaak te word, omdat Hy gekom het met die doel om vir sondaars (mense in sondige vlees) te sterf. Die mens se sonde het die Inkarnasie veroorsaak deurdat die mens se sonde die Inkarnasie genoodsaak het. Soos Hebreërs 2:14 dit stel, dit was nodig vir Hom om vlees en bloed deelagtig te word sodat Hy met die kwessie van die sonde kon afreken.

Twee, die Inkarnasie was om God aan die mense te openbaar met betrekking tot die waarhede van die Vader (Mat. 11:27; Joh. 1:18; 14:9). Hy het met die doel gekom om die Vader te openbaar, volgens Johannes 1:18: Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar. Hy het gekom om die Vader te openbaar; daarom het Hy in Sy preke en redes, die natuur van die Vader geopenbaar. Toe een van Sy eie dissipels oplaas vir Jesus in Johannes 14:8-9 gevra het: Here, toon ons die Vader, het Hy geantwoord: Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. Alles wat waar is van die natuur van die Vader is waar van die Seun.

Drie, die Inkarnasie was om gelowiges toe te rus met ’n voorbeeld van hoe om te lewe (I Pet. 2:21; I Joh. 2:6). In Sy mensheid, het Jesus ’n lewe gelei wat deur die gelowige nagevolg moet word. Dit moet so wees nie net in goeie tye nie, maar ook in slegte tye. Nie alleenlik moet Sy krag vir hulle ’n voorbeeld wees nie, maar ook Sy lyding moet vir hulle ’n voorbeeld wees. Hy het Sy lyding op ’n sagmoedige manier verdra, en hulle moet hulle lyding op dieselfde manier verdra. Hy het ’n mens geword om ’n voorbeeld te stel van hoe daar gelewe moet word.

Vier, die Inkarnasie was om ’n offer vir die sonde te voorsien (Heb. 2:9-10; I Joh. 3:5). Hy het as die Vleesgeworde Man gekom om ’n offer vir die sonde te voorsien. Diere-offers was tydelik toegelaat, maar al wat dit ooit kon bewerkstellig, was om die sondes van die Ou Testamentiese heiliges te bedek; diere-offers kon nooit die sondes van die Ou Testamentiese heiliges wegneem nie. Die uitwissing van die sonde het beter bloed as die bloed van diere vereis. Die beter bloed was mensbloed, maar dit moes sondelose mensbloed wees. Dit het elke mens uitgeskakel wat sedert die val van Adam bestaan het, met een uitsondering, en dit was die God-Mens, Jesus. Die resultaat van die Inkarnasie was dat Hy ’n man geword het. Hy was in die gestalte van ’n mens en het mensbloed gehad, en daarom, beter bloed as dierebloed. Jesus het sondelose mensbloed gehad; om daardie rede was Hy in staat om die offer vir die sonde te word.

Vyf, die Inkarnasie was om die werke van die duiwel te vernietig; om sy werke ondoeltreffend te maak (Joh. 12:31; 16:11; Kol. 2:15; Heb. 2:14; I Joh. 3:8). Van hierdie vyf skrifgedeeltes, is die duidelikste uiteensetting van hierdie feit miskien Hebreërs 2:14: Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel.

Ses, die Inkarnasie was om Jesus in staat te stel om die barmhartige en getroue Hoëpriester te wees. Dit word veral beklemtoon in die Boek aan die Hebreërs (Heb. 2:17-18; 5:1-2; 8:1; 9:11-12, 14). Op die stelling in Hebreërs 2:14, volg dan die verklaring in verse 17-18, dat dit Hom ’n barmhartige en getroue hoëpriester gemaak het. Die skrifgedeelte van Hebreërs 5 beklemtoon dit dat iemand, om ’n ware hoëpriester te kan wees, uit die mense moet wees. Dus, as Jesus nie ’n regte man geword het nie, kon Hy nie ’n hoëpriester wees nie. Deur ’n man te word, deur Vleeswording, kon Hy die Hoëpriester vir gelowiges word, en blywend wees. Dit stel Hom ook in staat om offers te bring, soos wat net priesters kon doen. Hy was in staat om ’n beter offer te bring – Sy eie bloed – nie dierebloed nie.

Sewe, die Inkarnasie was om die Verbond met Dawid te volbring. Die belofte van die Dawidiese Verbond was dat ’n Nasaat van Dawid vir altyd op die troon van Dawid sou sit. Dit was nodig vir Jesus om ’n regte man te word deur die Maagd Maria, want sy was ’n lid van die Huis van Dawid, en daarom was Jesus ook ’n lid van die Huis van Dawid. Omdat Hy sowel God as mens is, leef Hy nou vir ewig, en Hy sal vir ewig op die troon van Dawid regeer (Luk. 1:31-33; 68-70).

Agt, die Inkarnasie was om die beloftes van God te bevestig (Rom. 15:8-9), wat in die Ou Testament voorspel is. Die Inkarnasie was nodig sodat hierdie profesieë vervul kan word.

Nege, die Inkarnasie het voorsiening gemaak dat Jesus die Messias, uitermate verhoog sou word (Fil. 2:9-11). Die verhoging kon net geskied deur middel van lyding. God, as God alleen, is nie in staat om te ly nie. Maar toe God die Seun ’n man geword het, het dit Hom in staat gestel om lyding te ondergaan. Hy het waarlik gely; Hy het vernedering gely, en nog baie meer. Die gevolg was dat Hy uitermate verhoog is. Dit, ook, was die doel van die Inkarnasie.

Tien, die Inkarnasie was om die heerskappy oor die aarde terug te gee aan die mens (Heb. 2:5, 9). God het die heerskappy oor die aarde aan die mens gegee. Maar die mens het dit verloor toe Satan hom laat val het; Satan het toe die heerskappy oor die aarde wat God vir die mens gegee het, vir homself toegeëien (Joh. 12:31; 14:30; 16:11; II Kor. 4:4; I Joh. 5:19). Die Messias het Satan oorwin; en nou, as ’n man, moet Hy die mens se heerskappy oor die aarde herstel, en dit sal Hy doen in die Koninkryk.

Elf, die Inkarnasie was om baie kinders na die heerlikheid te bring (Heb. 2:10-11). Dit, ook, vereis die Inkarnasie.

En twaalf, die Inkarnasie was om gelowiges te bevry van die vrees vir die dood (Heb. 2:15). Dit, ook, is deur die Inkarnasie bewerkstellig.

IV. DIE KARAKTER VAN DIE VLEESGEWORDE MESSIAS
Hoedanig was die karaktereienskappe wat die God-Mens in Sy mensheid gehad het? Die Inkarnasie het sewe karaktertrekke in Jesus bewerkstellig.

Een, Hy was volkome heilig (Luk. 1:35; Joh. 8:46; 14:30; Hand. 2:27; 3:14; 4:27; Heb. 7:26).

Twee, Hy was sondeloos (II Kor. 5:21; Heb. 4:15; I Pet. 2:22; I Joh. 3:5).

Drie, Hy het ware liefde gehad. Omdat Hy sowel God as mens was, kon hy liefhê op sowel ’n heilige manier as op ’n menslike manier. In beide gevalle was dit ’n ware en opregte liefde wat Hy getoon het (Mark. 10:21; Joh. 13:1; 14:31; 19:25-27; Gal. 2:20; Ef. 3:19; 5:25).

Vier, Hy was opreg nederig (II Kor. 8:9; Fil. 2:5, 8).

Vyf, Hy was waarlik sagmoedig (Mat. 11:29; II Kor. 10:1).

Ses, Hy het ’n lewe van gebed gelei (Mat. 14:23; Mark. 1:35; Luk. 6:12; 22:44; Joh. 17:1-26; Heb. 5:7).

Sewe, Hy was ’n onvermoeide werker (Joh. 5:17; 9:4). Maar Hy was nie ’n “werkoholis” nie, want Hy het geweet wanneer om op te hou en te rus. Hy het geweet wanneer om Hom van die massas te onttrek, en Hy het geweet wanneer om die woestyn in te gaan vir ’n tydperk van rus en gebed.

Jesus het hierdie sewe karaktereienskappe besit as gevolg van die Inkarnasie. Soos voorheen uitgewys, was een van die doelstellings van die Inkarnasie om ’n voorbeeld te stel van hoe om te lewe. Hierdie sewe karaktereienskappe doen presies dit en behoort deur gelowiges nagevolg te word in hulle daaglikse geestelike lewens.

V. DIE MENSHEID VAN DIE MESSIAS
Die resultaat van die Inkarnasie was ’n Wese wat God sowel as mens was: Jesus was volkome mens en volkome God. Watter bewyse is daar dat Jesus werklik volkome mens was, dat Hy ’n regte mens was en nie net die voorkoms van ’n man gehad het nie? Daar is tien maniere waarop aangetoon kan word dat Jesus inderdaad ’n regte man was.

Een, Sy mensheid word gesien in al die wesenskenmerke van die menslike natuur wat Hy gehad het: liggaam, siel, en gees. Eerstens, Hy het ’n regte liggaam gehad (Mat. 26:12, 26, 28; Luk. 2:21; 24:39; Joh. 2:21; Heb. 2:14, 10:5, 10) Tweedens, Hy het ’n siel gehad (Mat. 26:38; Joh. 12:27; Hand. 2:27). Derdens, Hy het ’n menslike gees gehad (Mark. 2:8; 8:12; Luk. 23:46; Joh. 11:33; 13:21). Jesus het onteenseglik al die wesenskenmerke van die menslike natuur gehad.

Twee, Sy mensheid word gesien in Sy regte menslike geboorte. Weer eens, dit is nie Sy geboorte wat ’n wonderwerk was nie, dit is Sy verwekking wat ’n wonderwerk was. Sy geboorte was soos dié van enige ander mens (Mat. 1:18-2:12; Luk. 1:26-38; 2:1-20). Dit word as ’n leerstelling verklaar in Galasiërs 4:4 waar Paulus skryf, Jesus is gebore uit ’n vrou.

Drie, Sy mensheid word gesien in die menslike geslagsregister wat Hy gehad het, naamlik die geslag van Abraham en Dawid (Mat. 1:1; Rom. 1:3).

Vier, Sy mensheid word gesien in die menslike name wat Hy gehad het. Hy word Jesus of Josua genoem, ’n algemene naam onder die mense van daardie tyd. Hy word twee-en-tagtig keer die Seun van die Mens genoem, ’n titel wat Sy mensheid beklemtoon.

Vyf, Sy mensheid word gesien in die feit dat ander mense Hom inderdaad ’n man genoem het. Johannes die Doper het Hom ’n man genoem in Johannes 1:30; die menigtes het Hom ’n man genoem in Johannes 10:33; Petrus het Hom ’n man genoem in Handelinge 2:22; en Paulus het Hom ’n man genoem in Romeine 5:15; I Korinthiërs 15:21, 47; Filippense 2:8; en I Timótheüs 2:5.

Ses, Sy mensheid word gesien deurdat Hy Homself ’n man [iemand] genoem het in Johannes 8:40.

Sewe, Sy mensheid word gesien in al die wette van menslike ontwikkeling wat op Hom van toepassing was (Luk. 2: 40, 52). Net soos elke ander mens, het Hy op vier gebiede ontwikkel: verstandelik, fisies, geestelik, en sosiaal.

Agt, Sy mensheid word gesien in elke menslike ervaring waaraan Hy onderworpe was: Hy was honger (Mat. 4:2; 21:18); Hy was dors (Joh. 19:28); Hy was moeg (Joh. 4:6); Hy was vaak (Mat. 8:24). Hy was ook onderworpe aan elke menslike emosie: liefde (Mark. 10:21); medelye (Mat. 9:36); toorn en hartseer, wat Hy gedemonstreer het deur te huil en trane te stort (Mark. 3:5; Joh. 11:35; Heb. 5:7). Ook nog, Hy was in ’n sware stryd (Luk. 22:44); Hy was ontsteld (Joh. 12:27); Hy was versoek (Heb. 2:18; 4:15); Hy het die behoefte gehad om te bid (Mat. 14:23; Mark. 1:35; Luk. 6:12). Al hierdie dinge is bewyse van Sy mensheid.

Nege, Hy het beperkte kennis gehad; daar was dinge wat Hy nie geweet het nie. Twee voorbeelde van Sy beperkte kennis is Markus 13:32 en Johannes 11:34.

En tien, Sy mensheid word bewys deur die feit dat Hy gesterf het (Joh. 19:30, 34; Heb. 2:14; 5:7).

VI. DIE VERNEDERING VAN DIE MESSIAS
’n Deel van Jesus se mensheid was Sy vernedering. Daar is ’n bybelse leerstelling wat onder teoloë bekend is as “Die Vernedering van die Messias”. Sy vernedering word op twaalf verskillende maniere getoon.

Een, Sy vernedering het die Inkarnasie self ingesluit. Die feit dat God ’n mens moes word, was ’n “stap na benede”, ’n vernedering (Gal. 4:4; Fil. 2:6-8; Heb. 2:14).

Twee, Sy vernedering word getoon deurdat Hy in die gestalte van sondige vlees gemaak is. Hy het soos ’n sondige mens gelyk. Dit, ook, is deel van Sy vernedering (Rom. 8:3; Fil. 2:7).

Drie, Sy vernedering word getoon deur die nederige omstandighede van Sy geboorte. Om sake te vererger, is Hy nie gebore in ’n welgestelde familie nie, maar in ’n familie wat baie arm was. In Matthéüs 2:23 lees ons dat van al die plekke waar Hy kon opgroei, is Hy grootgemaak in een van die stede waarop die meeste neergesien is: Násaret. Omdat Hy in Násaret grootgeword het, is Hy ’n Nasaréner genoem, nie ’n titel wat van toegeneentheid gespreek het nie. Dit was nie ’n titel van respek nie. ’n Populêre spreekwoord van die tyd was, Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Dit was ’n stad met ’n slegte naam. Verder, Matthéüs 8:20 sê Hy het geen persoonlike rykdom gehad nie. Lukas 2:7 sê Hy is in ’n stal gebore en is neergelê in ’n krip. Lukas 2:22-24 leer dat Hy in ’n familie gebore is wat so arm was, dat die ouers net twee tortelduiwe as ’n offer kon bekostig, ’n teken van hulle brandarm omstandighede. II Korinthiërs 8:9 sê dat Hy, deur die Inkarnasie, arm geword het.

Vier, Sy vernedering word getoon deurdat Hy gebore [is] onder die wet (Gal. 4:4). Hy moes onderdanig wees aan ’n Wet wat Hy Self ingestel het. Dit, ook, was deel van Jesus se vernedering.

Vyf, Sy vernedering word getoon deurdat Hy onderworpe was aan die beperkinge van menslikheid. Dit is die leer van die Kenosis, wat “Die Ontlediging” beteken. Hierdie punt word gemaak in Filippense 2:5-11. Dit beteken dat, hoewel Hy nie enige van Sy goddelike attribute verloor het nie, Hy beperkte gebruik daarvan gehad het. Hierdie beperkte gebruik van Sy goddelike attribute was ook deel van Sy vernedering.

Ses, Sy vernedering word getoon in al die ellendes van die lewe wat Hy, soos vroeër bespreek onder die opskrif “Die Mensheid van die Messias”, moes ondergaan, en dit, ook, was ’n teken van Sy vernedering (Joh. 7:5; Heb. 4:15; 12:3).

Sewe, Sy vernedering word getoon deurdat Hy ’n dienskneg geword het en as ’n kneg gedien het. Dit word geïllustreer in Johannes 13:1-11 toe Hy die dissipels se voete gewas het. Dit word ook as ’n leerstelling verklaar in Filippense 2:7.

Agt, Sy vernedering word getoon deurdat Hy die mense se sondes op Hom geneem het; Hy moes die mense se sondes dra. En dit was vernederend vir Een wat volkome heilig en sondeloos was (II Kor. 5:21; I Pet. 2:24).

Nege, Sy vernedering word getoon in die vloek van die kruisdood wat Hy ondergaan het. Van al die maniere waarop Hy tereggestel kon word, was die mees oneerbare teregstelling, die mees vernederende manier om te sterf, om aan ’n boom te hang. Volgens die Joodse kultuur en opvattings was dit die heel laagste manier waarop iemand kon sterf. Dit, ook, was dus deel van Sy vernedering (Gal. 3:13; Heb. 12:2).

Tien, Sy vernedering word getoon in Sy dood. Net die feit dat die God-Mens, die Heilige en Sondelose Een, die dood moes smaak, was ’n deel van Sy vernedering (Fil. 2:8).

Elf, Sy vernedering word gesien in Sy begrafnis. Die feit dat Hy soos enige ander mens begrawe moes word, was ’n teken van Sy vernedering (Mat. 27:59-60; Hand. 13:34-35; I Kor. 15:4). Die vernedering van Jesus se begrafnis word verder onderstreep deurdat nie een van die mense wat in die tyd van Sy lewe en bediening na aan Hom was, by die begrafnis betrokke was nie. Hulle het op ’n afstand gebly. Jesus is begrawe deur twee mans wat, tot op daardie stadium, in die geheim en op ’n afstand in Hom geglo het: Josef van Arimathéa en Nikodémus.

En twaalf, Sy vernedering word getoon deur Sy neerdaling in Sheol of die doderyk. Hy, ook, moes neerdaal na daardie tydelike plek van gevangedom vir die regverdiges (Hand. 2:27, 31; Ef. 4:9; I Pet. 3:18-19).

Hierdie twaalf punte leer duidelik die konsep van die Messias se vernedering, wat onteenseglik deel was van Sy mensheid, en wat weer op sy beurt, deel is van die konsep van die Inkarnasie.

Wanneer gelowiges na al hierdie dinge kyk waaraan Jesus Homself onderwerp het, wanneer hulle na al hierdie gesigspunte van Sy vernedering kyk, moet hulle nie nalaat om hulleself te herinner aan presies waarom Hy al hierdie dinge gedoen het nie. Die rede was, sodat Hy hulle Plaasvervanger kon word. Hy het as ’n man gelewe en as ’n man gesterf, maar Hy het ’n plaasvervangende dood gesterf vir die sondes van die mensdom. Wanneer gelowiges die swaarkry van die lewe moet verduur, wanneer hulle blootstelling of vernedering ondergaan, moet hulle altyd hierdie prentjie in hulle gedagtes sien: dat hulle nog nooit enigiets gely het en nooit enigiets sal ly, wat enigsins naastenby vergelykbaar is met die lyding van Jesus die Messias nie. As hulle dit in gedagte hou, sal hulle sien wat ’n wonderbaarlike ding Hy gedoen het, en sal hulle verstaan dat Hy dit vir hulle gedoen het. Gelowiges moet altyd dankbaar wees dat Hy gewillig was om verneder te word sodat Hy redding en krag kon voorsien vir ons bestaan in hierdie lewe. As hulle ly, moet hulle nie teen God draai nie. Laat hulle onthou dat wanneer hulle ly, is hulle mede-lyers met Hom. Die Bybel belowe, as hulle saam met Hom ly, sal hulle ook saam met Hom verheerlik word.

VII. DIE GODHEID VAN DIE MESSIAS
Die resultaat van die Inkarnasie was Een wat sowel mens as God was. Vroeër is dit aangetoon dat Hy ’n regte man was, dat Hy ware menslikheid gehad het. Die Inkarnasie het nie beteken dat Hy enige deel van Sy Godheid prysgegee het nie. Dit was nie ’n vermindering van Godheid nie, maar dit was volmaakte Godheid wat ’n menslike natuur verkry en vir Homself aangeneem het. Daar is sewe bewyse van Sy Godheid.

Een, Jesus het al die goddelike name gehad. Daar is sewe voorbeelde van Sy goddelike name. Hy word God genoem (Joh. 1:1; 20:28; Heb. 1:8); die Seun van die lewende God (Mat. 16:16), sowel as die Seun van Dawid; en Here (Mat. 22:43-45; Hand. 9:17); die Alfa en die Oméga, ’n uitdrukking wat “die begin en die einde” beteken (Op. 1:8); die Eerste en die Laaste (Op. 1:17); die Beeld (Kol. 1:15). Die Griekse woord vir beeld beteken “prototipe” (of “voorafbeelding”), die Beeld in sy geopenbaarde werklikheid; Hy is die sigbare openbaring van die onsigbare God. En die laaste goddelike naam is die Afskynsel (Heb. 1:3); Hy is die eksakte (noukeurige / juiste) afdruksel van die goddelike natuur.

Twee, Hy besit al die attribute (kenmerkende eienskappe) van Godheid. Daar is tien attribute wat Sy Godheid bewys. Een, Hy besit die attribuut van ewiglikheid (Mig. 5:1; Joh. 1:1; 8:58; Kol. 1:17; Heb. 1:11). Twee, Hy besit die attribuut van onveranderlikheid; Hy kan nie verander nie (Heb. 1:10-12; 13:8). Drie, Hy besit die attribuut van [bestaan in] selfheid (Joh. 1:1-3; 5:26). Vier, Hy is lewe (Joh. 1:4; 14:6; Hand. 3:15). Vyf, Hy besit die volheid van die Godheid (Kol. 2:9); alles wat waar is van God die Vader en van God die Heilige Gees is ook waar van die Seun. Ses, Hy besit die attribuut van heiligheid (Heb. 7:26). Sewe, Hy besit die attribuut van soewereiniteit (oppermagtigheid); Hy is die almagtige God (Mat. 28:18; Joh. 5:27; 17:2; Hand. 2:36; I Kor. 12:3; Fil. 2:9-10; Kol. 1:18; I Pet. 3:22; Op. 19:16). Agt, Hy besit die attribuut van almagtigheid; Hy is almagtig (Luk. 8:25; Joh. 10:18; I Kor. 15:25-28; Fil. 3:21; Kol. 1:16-17; I Tim. 1:12; Heb. 1:3; 7:25; Judas 24; Op. 1:8). Nege, Hy besit die attribuut van alwetendheid; Hy weet alles (Mat. 11:27; Joh. 1:48; 2:25; 10:15; 13:1, 11; 16:30; 18:4; 19:28; I Kor. 4:5; Kol. 2:3; Op. 2:23). Terwyl Hy is Sy mensheid beperkte kennis gehad het, is Hy in Sy Godheid alwetend. Tien, Hy het die attribuut van alomteenwoordigheid; Hy is altyd orals (Mat. 18:20; 28:20; Joh. 3:13; 14:18, 20, en 23). Dus, Hy besit al die attribute van Godheid.

Drie, Hy doen al die werke wat slegs God kan doen. Daar is ses voorbeelde van Sy werke. Een, Hy het die werk gedoen van die Skepping (Joh. 1:3, 10; I Kor. 8:6; Kol. 1:16; Heb. 1:3, 10). Twee, Hy doen die werk van instandhouding / onderhouding van die Skepping (Kol. 1:17; Heb. 1:3). Drie, Hy het die mag om sondes te vergewe (Mat. 9:2, 6; Luk. 5:24; 7:47-48). Vier, Hy is die Een wat die Heilige Gees stuur, iets wat net God kan doen (Joh. 15:26). Vyf, Hy sal die dooies opwek, regverdiges sowel as onregverdiges (Joh. 5:28-29). Ses, Hy is die Een wat die finale oordele sal voltrek (Mat. 25:31-46; Joh. 5:22-29; Hand. 17:31; II Kor. 5:10; II Tim. 4:1). Hy doen die werke van God, en dit bewys Sy Godheid.

Vier, Sy Godheid word getoon deurdat aanbidding aan Hom toegeken is en tot Hom gerig word (Mat. 14:33; Joh. 9:38; 20:28; Fil. 2:10; Heb. 1:6).

Vyf, Sy Godheid word getoon deurdat Hy onsterflikheid gee (Joh. 5:28-29; 6:39-40; 17:2; Fil. 3:21).

Ses, Sy Godheid word getoon in Sy verbintenis met die Drie-Eenheid. Een, Hy is verbind met God die Vader (Joh. 10:30; 14:23). Twee, Hy is verbind met sowel die Vader as die Heilige Gees (Mat. 28:19; II Kor. 13:13).

En sewe, Sy Godheid word getoon deur Sy eie goddelike aansprake. Hy het vier sulke goddelike aansprake gemaak. Een, Hy het daarop aanspraak gemaak om die mees intieme verhouding moontlik, met God die Vader te geniet, sodat om die Messias te ken ook is om God te ken (Joh. 8:19; 14:7); om die Messias te sien was om God te sien (Joh. 12:45; 14:9); om Hom te ontvang, was om God te ontvang (Mark. 9:37); om Hom te eer was om God te eer (Joh. 5:23). Hy het gesê: Ek en die Vader is een (Joh. 10:30). Twee, Hy het daarop aanspraak gemaak om die Objek van reddende geloof te wees (Mat. 11:28; Joh. 3:36; 14:1; 17:3). Drie, Hy het daarop aanspraak gemaak om absolute heerskappy oor Sy volgelinge te hê, iets wat net God die reg het om te verwag (Mat. 10:37-39). Vier, Hy het aanspraak gemaak op heerskappy oor die wette en instellings van God: Hy het aanspraak gemaak op heerskappy oor die Tempel (Mat. 12:6); op Here óók van die Sabbat (Mat. 12:8); op heerskappy in die Koninkryk van God (Mat. 16:19); en heerskappy oor die Nuwe Verbond (Mat. 26:28). Die feit dat Jesus hierdie goddelike aansprake gemaak het, beteken een van drie dinge: Óf Hy was ’n bedrieër, óf Hy was self mislei; óf Hy was werklik wie Hy verklaar het om te wees. Diegene wat Hom ken, ken Hom inderdaad as die Een wie hy verklaar het om te wees: hulle Messias, hulle Verlosser, en hulle God.

[end]

Inhoudsopgawe

INLEIDING
I. DIE LEER VAN DIE INKARNASIE
     A. Johannes 1:1-14
     B. Romeine 1:3-4
     C. Filippense 2:6-8
     D. I Timótheüs 3:16
     E. Hebreërs 2:14
II. DIE WYSE VAN DIE INKARNASIE
III. DIE REDES EN BEDOELINGE VIR DIE INKARNASIE
IV. DIE KARAKTER VAN DIE VLEESGEWORDE MESSIAS
V. DIE MENSHEID VAN DIE MESSIAS
VI. DIE VERNEDERING VAN DIE MESSIAS
VII. DIE GODHEID VAN DIE MESSIAS

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Die opstanding van die Messias (Christus) is ’n baie belangrike deel van die evangelie; dit is die derde van die evangelie se drie punte. Twee belangrike aspekte van Christus se opstanding word bestudeer: eerstens die geskiedenis van die opstanding en die chronologiese volgorde daarvan, en
tweedens die teologiese betekenis, implikasies en resultate van die opstanding.