Die inspirasie van die Bybel

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. – 2 Timótheüs 3:16-17

INLEIDING
Hierdie studie behandel die verhouding tussen die Bybel en die konsep van die inspirasie van die Skrifte. Die onderwerp kan in drie primêre afdelings verdeel word: die definisie van inspirasie, teorieë van inspirasie en bewyse van inspirasie.

I. DEFINISIE VAN INSPIRASIE
Bybelse inspirasie kan gedefinieer word as: ‘God se toesig oor die menslike skrywers sodat, met gebruikmaking van hul eie persoonlikhede, hulle God se openbaring aan die mens in die woorde van die oorspronklike manuskripte foutloos saamgestel en aangeteken het’. Hierdie gedetailleerde definisie kan in vyf onderafdelings verdeel word.

A. God se toesig
‘God se toesig’ beteken dat God toesig gehou het oor, maar dat Hy nie die Skrifte gedikteer het nie. Daar is duidelik sekere dele van die Bybel wat God gedikteer het en hierdie dele is woordeliks neergeskryf. Byvoorbeeld, die Tien Gebooie en baie van die ander gebooie in die wet van Moses is woordeliks gedikteer van God se mond na Moses se ore; Moses het dit aangeteken op die perkamente wat hy voor hom gehad het. Maar die meeste van die Bybel was nie woordeliks gedikteer nie. In plaas daarvan het God gekies om toesig oor die skrywers te hou. Deur toesighouding oor die skrywers, was Hy in staat om sorgsame beheer uit te oefen oor wat geskryf was sonder om te dikteer. Dus was die resultaat steeds presies wat Hy wou gehad het.

B. Menslike skrywers
God gebruik menslike skrywers en hul individuele style. As God eenvoudig die Skrif woordeliks gedikteer het, sou die hele Bybel duidelik dieselfde geklink het. As jy van skrywer na skrywer gaan, is dit natuurlik nie dieselfde nie. Elk van die skrywers van die ses-en-sestig boeke van die Bybel gebruik hul eie individuele styl; byvoorbeeld Paulus se styl verskil van Petrus s’n; Moses se styl verskil van Josua s’n. Vanweë God se toesighouding en Sy beheer oor die skrywers, was Hy in staat om hul eie individuele skryfstyl toe te laat en nog steeds het die skrywers presies woordelik voortgebring wat God wou gehad het hulle moes voortbring.

C. Foutloosheid
Foutloosheid beteken dat toe die oorspronklike manuskripte geskryf is, dit sonder foute was. Byvoorbeeld, toe Moses sy vyf boeke klaar geskryf het, was dit volkome deur God geïnspireer en daar was geen foute in enige boek nie; toe Josua geïnspireer was om sy boek te skryf, het hy dit foutloos gedoen. Die inspirasie van die Bybel het alleen betrekking op die oorspronklike manuskripte van die Bybel.

1. Rakende afskrifte van die Bybel
Dit beteken nie dat afskrifte van die Bybel geïnspireer is nie. Vandag is daar meer as een manuskrip van die verskeie boeke van die Bybel. Daar is ʼn aantal Hebreeuse afskrifte en selfs ʼn groter aantal Griekse afskrifte en daar is klein verskille in woordorde tussen een manuskrip en ʼn ander, want hierdie manuskripte is bloot afskrifte. Ongelukkig is afskrifte tot ʼn sekere mate onderhewig aan menslike foute maar die woordelike inspirasie van die oorspronklikes is foutloos. Daar moet dus onthou word dat afskrifte nie geïnspireer is nie.

2. Rakende vertalings van die Bybel
Vertalings van die Bybel is ook nie geïnspireer nie. Wanneer van een taal na ʼn ander vertaal word kan foute tot ʼn sekere mate insluip. Die King James vertaling, die Amerikaanse Standaardvertaling en die Nuwe Amerikaanse Standaardvertaling het foute. Gelukkig is hierdie foute nooit betekenisvol nie en dit is moontlik om duidelik te weet wat die oorspronklike manuskripte bedoel. Daarom, vertalings van die oorspronklike manuskripte is nie geïnspireer of noodwendig foutloos nie.

D. God se openbaring
God het die menslike skrywers so gelei dat, sonder om hul individualiteit, literêre styl of persoonlike belangstellings te vernietig, hulle Sy volledige openbaring aan die mens neergeskryf het. Alhoewel mans in werklikheid die skryfwerk gedoen het, was hulle deur God geïnspireer. Die Bybel is God se boodskap aan die mens. Dit bevat nie net die Woord van God nie; dit is die Woord van God.

Dit is duidelik dat God verskillende maniere gebruik het om Sy inspirasie oor te dra. Ongeag of God die woorde gedikteer het – en soms het Hy – en of die skrywers deur God gelei is om antieke literatuur te kopieer – en hulle vertel self hulle het – en of hulle geskrifte die resultaat van navorsing was – soos in die geval van Lukas; op elke spesifieke manier het God mans so gelei dat hulle presies geskryf het wat Hy bedoel het hulle moes skryf. Die resultaat was dat die Bybel die Woord van God is.

E. Tweeledige outeurskap
God het die skrywers so gelei en gebruik dat, deur hul eie individuele style op enige wyse wat vir hulle haalbaar gelyk het, hulle God se presiese woorde foutloos voortgebring het. Maar die vraag kom nou op: hoe het God dit gedoen?

Daar is verskillende teorieë oor inspirasie. Die fondament van al hierdie verskillende teorieë is een belangrike saak: die tweeledige outeurskap van die Bybel. Aan die een kant: God het dit geskryf; aan die ander kant, die mens het dit geskryf. Byvoorbeeld, in Exodus 20: 12 staan daar: Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee. Wie het dit gesê? Volgens Mattheüs 15:4 het God dit gesê; maar volgens Markus 7: 10 het Moses dit gesê. Is dit ʼn teenstrydigheid? Glad nie. God is die primêre bron en die mens die sekondêre bron. God het dit gesê, maar Hy het gekies om dit deur Moses te sê. Moses het in werklikheid die skryfwerk gedoen, onder die inspirasie van God soos Hy Moses gelei het. Die konsep van tweeledige outeurskap – dat beide God en mens die Skrifte voortgebring het – het tot verskeie teorieë van inspirasie gelei .

Nog ʼn voorbeeld van tweeledige outeurskap kom in Psalm 110: 1 voor: Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand. Wie het daardie stelling gemaak? Volgens Markus 12: 36 het die Heilige Gees dit gesê, maar volgens vers 37 het Dawid dit gesê. Het Dawid dit gesê of het die Heilige Gees dit gesê? Die antwoord is: albei.

Nog ʼn voorbeeld van tweeledige outeurskap is gebaseer op Jesaja 6: 9-10. In Johannes 12: 39-41 noem die skrywer dat Jesaja hierdie woorde gesê het, maar Handelinge 28: 25-27 verklaar dat die Heilige Gees die woorde gesê het. Soms word beide God en die profeet in dieselfde gedeelte genoem. Byvoorbeeld, wanneer Hosea 11:1 in Mattheüs 2:15 aangehaal word, word genoem dat beide God en die profeet dit gesê het.

Die verhouding is soos volg: God is die primêre bron van die Bybel en die mens is die skrywer daarvan; die mens is die instrument of die werktuig waarmee God die Bybel voortgebring het. Aan die een kant moet daar nie na die Bybel as eksklusief goddelik of eksklusief menslik gekyk word nie; aan die ander kant behoort daar ook nie daarna as gedeeltelik menslik of gedeeltelik goddelik gekyk word nie. Inspirasie in tweeledige outeurskap is beide goddelik en menslik, sonder dat een die ander aantas; albei is aanwesig in elke woord, van die begin tot die einde toe.

Weereens, tweeledige outeurskap het tot verskillende teorieë van inspirasie gelei. Die basis vir al hierdie teorieë is die wete dat die Bybel tweeledige outeurskap het, dat die Bybel deur beide God en mens geskryf is. Maar God is die primêre bron terwyl die mens die sekondêre bron is. Miskien is ʼn meer korrekte manier om dit só te stel: die verhouding tussen die tweeledige outeurskap van God en die mens is dat God die bron is terwyl die mens die instrument of werktuig is. Maar hoe het dit gebeur?

II. TEORIEË VAN INSPIRASIE
Daar is ʼn hele aantal teorieë oor inspirasie maar ongelukkig is die meeste hiervan duidelik verkeerd en faal om die gewigtigheid wat die Bybel daaraan koppel weer te gee.

A. Valse teorieë van die inspirasie van die Bybel
1. Natuurlike inspirasie of natuurlike intuïsie teorie

Hierdie valse teorie voer aan dat die Bybel geskryf is deur manne wat ongewone godsdienstige insig gehad het; manne met uitstaande insig oor morele en godsdienstige waarheid wat die natuurlike mens betref. Die skrywers van die Bybel het eenvoudig ʼn hoër ontwikkeling van natuurlike insig gehad. Hierdie teorie sê dat die skrywers inderdaad geïnspireer was, maar op dieselfde manier as wat kunstenaars, digters en musikante geïnspireer is. Soos wat kunstenaars, digters en musikante meesterstukke in kuns, digkuns en musiek voortgebring het, net so het die skrywers van die Bybel met ʼn hoor vlak van inspirasie eenvoudig ʼn ‘meesterstuk’ in die area van godsdienstige gedagtes voortgebring.

Die probleem met hierdie teorie van natuurlike inspirasie is dat die menslike oorbeklemtoon word. Natuurlike inspirasie verwys slegs na die suiwer geniale; daar is niks bo-natuurliks hieraan nie. Om die waarheid te sê, dit lei tot selfweerspreking want in hierdie teorie kan een geïnspireerde skrywer ʼn ander weerspreek. Dit maak alle godsdienstige en geestelike gedagtes van die Skrif heeltemal subjektief. Die natuurlike inspirasie of natuurlike intuïsie teorie behandel nie die aard van die Bybel voldoende nie.

2. Mistiese of illuminasie teorie
Hierdie teorie is basies dieselfde as die natuurlike inspirasie of natuurlike intuïsie teorie. Die enigste verskil tussen die twee teorieë is dat die eerste teorie die konsep van hoër inspirasie op alle mense in die algemeen van toepassing maak, terwyl die mistiese of illuminasie teorie beperk is tot gelowiges en bietjie meer krediet aan die Heilige Gees gee. Hierdie teorie laat ʼn intensivering van godsdienstige persepsie toe wat sekere gelowiges betref. Die teorie sê daar is ʼn intensivering van die illuminasie van die Heilige Gees vir sommiges – en hulle is die skrywers van die Bybel. Daar word verder gesê dat dit vandag steeds moontlik is en dat gelowiges, te enige tyd, heilige Skrif deur goddelike energie kan skryf.

Die probleem met die teorie is dieselfde as die eerste een: daar is ʼn oorbeklemtoning van die menslike outeurskap van die Bybel en dit laat toe dat nog Skrif vandag geskryf kan word. Bybels gesproke, illuminasie openbaar nie nuwe waarheid nie, dit help alleen in die verstaan van waarheid wat alreeds geopenbaar is. In hierdie teorie is inspirasie die werk van die Heilige Gees maar slegs tot ʼn hoër graad van illuminasie. Verder glo hierdie teorie nie dat die skrywers vry van foute is nie. Die tweede teorie is dus nie voldoende om die gewigtige rol wat die Bybel aan inspirasie koppel te behandel nie.

3. Gedeeltelike inspirasie teorie
Hierdie teorie is vals en beteken presies wat dit sê: die Bybel was geïnspireer in sekere areas van lering soos byvoorbeeld voorskrifte en geestelike waarhede wat aan die skrywers bekend was. Maar dit was nie noodwendig geïnspireer in ander areas soos wetenskap, biologie, geologie, aardrykskunde of argeologie nie. Dit sê verder die Bybel bevat inspirasie maar is nie sonder foute nie.

Die probleem met hierdie teorie is dat dit die tweeledige outeurskap te ver van mekaar skei en dit lei tot subjektiwiteit by die leser wat dan moet besluit wat is geïnspireer en wat is nie geïnspireer nie.

4. Mate van inspirasie teorie
Hierdie teorie is ʼn bietjie anders as die gedeeltelike inspirasie teorie. Die mate van inspirasie teorie voer aan die hele Bybel is geïnspireer, nie net gedeeltelik nie, maar dat nie elke gedeelte tot dieselfde mate geïnspireer is nie. Hierdie konsep word uitgebeeld in die rooi-letter uitgawes van die Bybel, waar die woorde van Jesus (Yeshua) in rooi gedruk is. Sommige gelowiges is sowaar van mening dat dit impliseer dat die woorde van Jesus meer geïnspireer is as die res van die Bybel. Maar die woorde van Jesus is nie deur Hom neergeskryf nie; dit was geskryf deur Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes.

Hierdie teorie se probleem is dit maak aanspraak daarop dat sekere dele meer geïnspireerd is as ander. Daar is altyd ʼn mate van inspirasie maar terselfdertyd laat hierdie teorie ʼn groter of kleiner mate van foute toe. Soos die vorige teorie is die probleem met hierdie teorie dat dit te veel skeiding tussen die menslike en goddelike toelaat. Soos die vorige teorie lei dit tot spekulasie en subjektiwiteit.

5. Konseptuele inspirasie teorie
Hierdie valse teorie maak aanspraak daarop dat alleen die gedagtes van die Bybel geïnspireerd is, nie die woorde nie. Dit leer dat God eenvoudig sekere idees in die skrywers se verstande ingeplant het en dat hierdie idees inderdaad geïnspireerd was. Maar die skrywers was aan hulself oorgelewer om die idees in hul eie woorde uit te druk.

Hierdie teorie laat ook te veel skeiding tussen die menslike en die goddelike toe. Daar moet altyd in gedagte gehou word dat idees in woorde uitgedruk moet word. Idees is nie oordraagbaar behalwe in woorde nie. Dit is ook nie ʼn goeie teorie nie.

6. Dinamiese inspirasie teorie
Hierdie teorie is ook vals en beteken dat die Bybel net geïnspireer is in daardie areas wat oor die geloof en die lewe van ʼn gelowige gaan. Daar is foutloosheid in die sake van geloof en praktyk, foutloosheid in die areas van geestelike waarheid en redding. Maar dit gaan so ver as om te sê die Bybel kan foute bevat oor sake wat onverwant aan geloof en redding is. Die aanhangers van hierdie teorie glo in volkome inspirasie maar nie in woordelike inspirasie nie.

Die probleem met hierdie teorie is dat dit tot spekulasie en subjektiwiteit lei. Wie gaan besluit watter dinge is noodsaaklik vir geloof en watter dinge is nie noodsaaklik vir geloof nie? As die Bybel nie foutloosheid in sekere dele van Skrif kan waarborg nie, is daar geen manier hoe dit ook foutloosheid in die areas van geloof en praktyk kan waarborg nie.

7. Meganiese of diktasie inspirasie teorie
Die laaste valse teorie leer dat die hele Bybel woordeliks deur God gedikteer is en die skrywers was maar bloot sekretarisse of stenograwe. Hierdie teorie oorbeklemtoon die goddelike. As die teorie waar was, sou elke deel van die Bybel dieselfde geklink het en dieselfde styl gehad het. En tog het die Bybel as ʼn geheel nie dieselfde styl nie; style verskil van skrywer tot skrywer. Baie van die skrywers het hul binneste emosies uitgedruk, soos Paulus in Romeine 9: 1-3 gedoen het.

B. Die ware teorie van die inspirasie van die Bybel
1. Volkome, woordelike inspirasie teorie

Die enigste geldige manier om te sien hoe inspirasie plaasgevind het is deur die ware teorie: volkome, woordelike inspirasie.

a. Definisie
Volkome, woordelike inspirasie beteken dat die Bybel geheel en al geïnspireer is; dit is terselfdertyd die Woord van God en die woorde van menslike skrywers. God is die bron, maar Hy het mense gebruik om die woorde te skryf. Volkome inspirasie beteken dat die inspirasie van die Bybel op elke deel van die Skrif van toepassing is. Die woord ‘volkome’ beteken ‘voltallig en volledig’. Die Bybel is nie alleen die finale gesag oor sake van geloof en praktyk nie, maar is ook gesaghebbend oor enige onderwerp wat dit aanspreek. Enige iets wat die Bybel as waar bevestig, is waar. Nie net is dit waar van elke saak van geloof en praktyk nie, maar is waar oor elke saak wat dit aanspreek. As dit iets oor die wetenskap sê, kan dit vertrou word. As dit iets oor geologie sê, kan dit vertrou word. As dit iets oor argeologie sê, kan dit vertrou word. As dit iets oor sosiologie sê, kan dit vertrou word. Elke onderwerp waaroor die Bybel spreek en wat dit as waar bevestig, is waar. Volkome inspirasie is volledig; dit het betrekking op elke deel van die Skrif; dit is die finale gesag van waarheid oor alle onderwerpe wat dit aanspreek.

Woordelike inspirasie beklemtoon die woorde self; dat die woorde deur die Heilige Gees gekies en gebruik is. God het die menslike skrywers gerespekteer deur elke skrywer se styl en kenmerke te bewaar. Uit die skrywer se woordeskat het God gekies watter woorde neergeskryf gaan word. Die woorde wat die skrywer gekies het, was die presiese woorde wat God wou gehad het hy moet kies. Woordelike inspirasie beteken die inspirasie het betrekking op elke woord wat die skrywers geskryf het. Dit beteken nie diktasie nie. Die hele Bybel was nie woordeliks gedikteer nie; slegs sekere dele daarvan was. Woordelike inspirasie beteken eenvoudig dat God die skrywers toegelaat het om hul eie kenmerke, styl en woordeskat te gebruik. Toe hulle uit hul woordeskat die woorde gekies het wat hulle normaalweg gebruik, was dit eintlik God wat hulle bestuur het in die keuse van die woorde.

Nog ʼn belangrike woord wat ingesluit moet word in die behandeling van die ware teorie van inspirasie is die woord onfeilbaar. Onfeilbaarheid beteken ‘onophoudelike akkuraatheid’. Die Bybel is onfeilbaar akkuraat oor elke onderwerp waaroor dit spreek; dit maak die Bybel betroubaar. Nog ʼn belangrike woord is foutloos. Daar is geen valse stelling of feit in die oorspronklike geskrifte nie; dit maak die Bybel waarheidsgetrou. Volkome, woordelike inspirasie beteken die Bybel is heeltemal geïnspireerd in elke gedeelte, tot by die presiese woorde wat gekies is. Dit is onfeilbaar met onophoudelike akkuraatheid en daarom is dit betroubaar; dit is foutloos want dit bevat geen valse stelling en geen fout nie, daarom is dit waarheidsgetrou.

b. Vyf dinge wat volkome, woordelike inspirasie nie gedoen het nie
Eerstens, dit het nie die skrywer se persoonlikheid oorweldig nie. Die veertig individuele skrywers se persoonlikhede kom duidelik in hul skrywes na vore. Dit wat Petrus geskryf het gee mens ʼn ander begrip van hom as dit vergelyk word met Paulus en wat hy geskryf het.

Volkome, woordelike inspirasie veroorsaak tweedens nie dat die skrywer se intelligensie nutteloos word nie. God het die skrywer se intelligensie gebruik om die Bybel voort te bring.

Volkome, woordelike inspirasie het derdens nie die skrywer van persoonlike navorsing vrygestel nie. Byvoorbeeld, in Lukas 1: 1-4 staan daar dat hy ander geskrifte en vertellinge sorgsaam nagevors het voordat hy sy eie biografie van die lewe van Christus neergepen het. Ook ander skrywers, soos die skrywer van Rigters, het in sy navorsing hom tot ander boeke gewend. Alhoewel die skrywers nie van persoonlike navorsing vrygestel is nie, lê die inspirasie daarin dat God hulle so bestuur het dat toe hulle ander geskrifte geraadpleeg en verklarings hieruit gekies het, hulle alleen daardie verklarings gekies het wat waar was en wat God wou gehad het hulle moes kies. God het hulle so bestuur dat hulle nooit ʼn stelling wat vals was gekies het nie.

Vierdens het volkome, woordelike inspirasie nie die gebruik van ander materiaal verbied nie. Byvoorbeeld, ons weet dat toe Lukas gekies het om sy evangelie te skryf, hy ander bronne wat miskien die evangelies van Mattheüs en Markus insluit, gebruik het.

Volkome, woordelike inspirasie beteken vyfdens nie dat die skrywer altyd verstaan het wat hy geskryf het nie. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is Daniël. Menige keer sê Daniël as hy klaar geskryf het, dat hy nie verstaan wat hy geskryf het nie. Hy het geweet dat hy die woorde gebruik het wat God wou hê hy moes gebruik, maar hy het erken dat hy nie duidelik verstaan wat hy geskryf het nie. Woordelike inspirasie beteken dus nie dat die skrywer altyd verstaan het wat hy geskryf het nie, want baie keer het hy nie.

c. Vyf dinge wat volkome, woordelike inspirasie gedoen het
Dit het eerstens die oorspronklike skrywer van foute bewaar. Toe die oorspronklike manuskripte deur elk van die veertig skrywers van die Bybel voortgebring is, het dit nie ʼn enkele fout – nie eers een nie – in enige van die ses-en-sestig boeke gehad nie.

Woordelike inspirasie het tweedens die Bybel van weglatings bewaar. Nie een van die skrywers het iets uitgelaat wat God wou hê moes ingesluit word nie. Alles wat God wou hê die skrywers moes insluit, is ingesluit.

Derdens is die skrywers bewaar om niks in te sluit wat God nie in die Bybel wou gehad het nie. Byvoorbeeld, daar mag ander waarhede wees maar God wou nie hê dat dit in Sy Woord ingesluit moes word nie. Woordelike inspirasie beteken dus dat die skrywers bewaar is om niks in te sluit wat God nie wou hê hulle moes insluit nie. Aan die een kant van die munt het die skrywers niks uitgesluit wat God wou insluit nie; aan die ander kant van die munt is niks ingesluit wat God wou uitsluit nie.

Die vierde ding wat volkome, woordelike inspirasie gedoen het, was dat dit geskikte woordgebruik verseker het. God het die skrywers toegelaat om hul eie styl en woordeskat te gebruik, maar die woorde wat hul uit hul eie woordeskat gekies het, was die presiese woorde en ook in die presiese woordorde wat God wou gehad het hulle dit moes neerskryf. Beide die Grieks en Hebreeus laat verskillende woordordes toe, maar God se toesig was sodanig dat hulle die geskikte bewoording gebruik het; die skrywers het die presiese woorde in die orde waarin God dit wou gehad het, neergeskryf.

Vyfdens beteken volkome, woordelike inspirasie die mede-outeurskap van die goddelike en die menslike. Beide God en mens het die Skrif voortgebring, maar God was die bron terwyl die mens die instrument of werktuig was. Daarom is geen deel van die Bybel die werk van alleen die mens nie, maar is elke woord onder God se toesig bestuur.

2. Bewyse vir volkome, woordelike inspirasie
Twee belangrike tekste bewys duidelik dat die Bybel volkome en woordelik geïnspireer is.

a. 2 Timótheüs 3: 16-17
Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

In bogenoemde teksgedeelte word die klem op volkome inspirasie geplaas en verwys na ‘algehele inspirasie’. Dit sê: Die hele Skrif, bedoelende elke openbaring wat neergeskryf is, is deur die inspirasie van God gegee. Die Griekse woord wat as deur God ingegee vertaal is, beteken ‘God-geasem’ of, meer korrek, dit is die ‘uitblasing van God’. Met ander woorde, die Skrif is geïnspireer omdat dit die uitblasing van God is. Ons praat van die inspirasie van die Skrif, maar die woord beklemtoon nie in-spirasie nie, maar uit-spirasie. Dit is nie soseer die inspirasie van die Bybel as wat dit die uit-spirasie daarvan is nie, omdat die Skrif die uitblasing van God is. Voorts, daar behoort van die spirasie van die Bybel gepraat te word, eerder as die uit-spirasie daarvan.

Die resultaat van hierdie uitblasing of uit-spirasie van God is dat die hele Skrif nuttig is in vier areas: eerstens lering; tweedens weerlegging; derdens teregwysing; en vierdens onderwysing in die geregtigheid.

b. 2 Petrus 1:21
Want geen profesie is ooit deur die wil van ʼn mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.

Die klem in hierdie teksgedeelte is op die metode van inspirasie. Petrus maak drie punte. Eerstens, geen profesie is ooit deur die wil van ʼn mens nie; die primêre bron van openbaring was altyd God, terwyl die mens ʼn sekondêre bron is of die manier hoe die Bybel geskryf is. Tweedens, die heilige mense van God [het] gespreek; toe die profete gespreek het, het hulle die woorde van God gespreek. Hulle was die sekondêre bronne; God was steeds die primêre bron. Derdens stel die teks dit só: deur die Heilige Gees gedrywe. Die Griekse woord vir gedrywe beteken ‘om te dra’ of ‘om saam te dra’. Dit is dieselfde woord wat in Handelinge 27:15, 17 gevind word wat praat van ʼn skip op die see wat saamgedryf of saam deur die water gedra word. Die beeld is dat die profete gedryf is deur die Heilige Gees en dat hulle geskryf het wat uit-spireer was. Hierdie manne het neergeskryf soos wat hulle gedra, gedryf en saamgeneem is deur die Heilige Gees.

3. Besware teen volkome, woordelike inspirasie
Daar is mense wat beswaar maak teen die hele geloof in volkome, woordelike inspirasie van die Bybel. Hier besware kom uit vier verskillende oorde.

a. Wetenskap en geskiedenis
Wetenskaplikes sê dat die Bybel weerspreek stellinge wat wetenskaplikes as waar aanvaar. Geskiedkundiges sê die Bybel bevat historiese foute. Die antwoord is eenvoudig. Eerstens, die Bybel weerspreek inderdaad sekere wetenskaplike teorieë, maar het nog nooit ʼn wetenskaplike feit weerspreek nie. Tweedens, waar historiese dokumente bestaan, is die Bybel absoluut akkuraat bewys wat die geskiedenis betref. Hou in gedagte dat die Bybel fenomenologiese taal gebruik, of te wel die taal van verskyning. Die Bybel praat van die son wat opkom en wat sak. Maar natuurlik, almal weet dat die son nie werklik opkom of sak nie; dit lyk net asof dit opkom en sak. In werklikheid draai die aarde om sy eie as. Dit is die taal van verskyning en selfs wetenskaplikes wat van sonsopkomste en sonsondergange praat, weet van beter. Wanneer die Bybel die taal van verskyning gebruik, is dit nie besig om te sê dat die son werklik opkom en dat die son werklik sak nie, maar dat dit so lyk; selfs wetenskaplikes gebruik dieselfde taal van verskyning en behoort nie ʼn dubbele standaard toe te pas nie.

Die Bybel is nie ʼn handboek vir wetenskap of geskiedenis nie. Maar weereens, dit is alreeds bewys dat wanneer die Bybel oor wetenskap of geskiedenis praat, dit absoluut akkuraat is. Niks in geologie of antropologie het die Bybel as onakkuraat bewys nie. Die studieveld van argeologie het die Bybel as histories akkuraat bewys; fisiese wette het die Bybel as wetenskaplik akkuraat bewys; en historiese geologie het die Bybel as geologies akkuraat bewys. Die besware van die wetenskap en geskiedenis moet nog steeds duidelike bewys inbring dat die Bybel een enkele fout bevat.

b. Skeptisisme oor profesie en wonderwerke
Hierdie beswaar voorveronderstel dat die bo-natuurlike nie bestaan nie. Maar as daar ʼn God is tesame met al wat die konsep van God inhou, dan bied wonderwerke en voorspellende profesie geen probleem nie. As God bestaan, dan bestaan die bo-natuurlike. As wat ons met ‘God’ bedoel werklik so is, dan beteken dit wonderwerke en voorspellende profesie kan bestaan. Trouens, vervulde profesie bewys die akkuraatheid van die Bybel. Vervulde profesie is die bewys dat onvervulde profesie in die toekoms vervul sal word.

c. Sedes en godsdienste
Beswaarmakers wys graag hoe verskriklik party van die helde van die Bybel was. Hulle wys die vinger na Dawid se owerspel met Batseba en sy moord op Uria, of wys na Noag se dronkenskap. Die feit dat die immoraliteit en gebrek aan geestelikheid van die Bybelse helde uitgewys word, bevestig juis die akkuraatheid van die Bybel. Ander godsdienstige boeke fokus slegs op die weldade van hul leiers, maar die Bybel beklemtoon beide hul swak en sterk punte.

Byvoorbeeld, die verskeie sondige dade van Bybelse helde is opgeskryf, maar word nie goedgekeur nie. Noag se dronkenskap is in Genesis 9 opgeskryf, maar word nie goedgekeur nie. Lot se bloedskande is in Genesis 19 opgeskryf, maar word nie goedgekeur nie. Jakob se leuen is in Genesis 27 opgeskryf, maar word nie goedgekeur nie. Dawid se owerspel is in 2 Samuel 11 opgeskryf, maar word nie goedgekeur nie. Salomo se poligamie is in 1 Konings 11 opgeskryf, maar word nie goedgekeur nie. In die Bybel is sondige dade van menslike helde opgeskryf, maar die opskrywing hiervan beteken nie dit word goedgekeur nie.

Verder, partykeer lyk dit of onregverdige, immorele of sondige dade goedgekeur word, maar dit is die geloof en bedoeling wat goedgekeur word, nie die daad self nie. Byvoorbeeld, toe Ragab vir haar koning gejok het, was dit nie haar dubbelhartigheid wat goedgekeur was nie, maar haar geloof (Hebr. 11: 31; Jak. 2: 25). Net so was dit Jael se geloof en nie haar verraad wat goedgekeur is nie (Rigt. 4-5); dit was Simson se dade, nie sy begeertes wat goedgekeur is nie (Rigt. 14-16; Hebr. 11:32).

Sommige mense wys dat party Bybelse helde duidelik ʼn direkte gebod van die Here weerspreek het en tog is die helde nie hieroor voor stok gebring nie. Die rede hiervoor is partykeer die gevolg van verskillende dispensasies. Nie elke gebod is in elke dispensasie geldig nie. Byvoorbeeld, God het vir Noag gesê hy mag eet van enige iets wat beweeg, maar God het vir Moses gesê dat hy net sekere dinge mag eet. Op die oomblik verklaar God, deur Paulus, dat die mens enige iets met danksegging mag eet. Versigtigheid moet aan die dag gelê word voordat aanvaar word dat ʼn gebod gebreek is, want nie elke gebod is in elke dispensasie geldig nie.

Hierdie besware vanuit die sedelike en godsdienstige velde het baie maal ʼn subjektiewe beoordeling of eenvoudig ʼn misverstand oor wat die Bybel werklik goedkeur en wat dit nie goedkeur nie.

d. Nuwe-Testamentiese aanhalings van die Ou Testament
Die vierde beswaar fokus op die manier hoe die Nuwe Testament die Ou Testament aanhaal. Partykeer, as ʼn Nuwe-Testamentiese aanhaling met dié van ʼn Ou Testamentiese aanhaling vergelyk word, verskil die bewoording. In werklikheid kan die verskil in bewoording toegeskryf word aan ʼn vertalingskwessie en nie ʼn situasie van ʼn verkeerde aanhaling nie.

Die Ou Testament was in Hebreeus geskryf en die Nuwe Testament was in Grieks geskryf. Toe die Joodse skrywers van die Nuwe Testament in Grieks geskryf het, moes hulle die Hebreeuse gedeeltes van die Ou Testament in Grieks vertaal. Met vertaling is dit onmoontlik om op ʼn basis van ʼn woord-vir-woord orde van een taal na ʼn ander te werk. Dit kan net nie gebeur nie. Goeie Hebreeuse grammatika is nie goeie Griekse grammatika nie, net so min as wat goeie Griekse grammatika dit in Engels is. Dieselfde probleem bestaan met Engelse vertalings. ʼn Vers in Engels sal nie dieselfde woordorde hê as wat dit in die oorspronklike Hebreeus of Grieks het nie. Dit sal tot slegte Engels lei indien daar woordeliks en met dieselfde woordorde vertaal word, want die reëls van grammatika verskil van een taal na ʼn ander. Nuwe Testamentiese aanhalings van die Ou Testament is dus nie verkeerde aanhalings nie, maar eerder ʼn verandering in die woordorde toe daar van die oorspronklike Hebreeus na Grieks vertaal is.

III. BEWYSE VAN INSPIRASIE
Dit is een ding om Bybelse aansprake van inspirasie aan te toon, maar wat is die bewyse van inspirasie? Daar is vyf bewyse van inspirasie.

A. Karakter van God
As God Homself in skriftelike vorm openbaar het, sou dit nie ʼn akkurate openbaring gewees het nie? Dit is juis die punt van Romeine 3:4. As God gekies het om Homself te openbaar en aangesien God se karakter absoluut waar is, waarom sou Hy die Skrif – Sy skriftelike openbaring – met foute daarin gee sodat die mens moet kies wat is waar en wat is vals?

B. Aansprake van die Ou Testament
In die Ou Testament verskyn frases soos so sê die Here; die Here het gesê; en die woord van die Here het tot my gekom ʼn totaal van 3 808 keer. Daar is spesifieke gebooie wat God in Sy woorde laat opskryf het, soos byvoorbeeld in die geval van Moses in Exodus 17:14, of van Jeremia in Jeremia 30:2, of van Daniël in Daniël 12:4. Verder, God het die boeke van Moses bekragtig deur ander skrywers, soos dit in Josua 1: 7-8 gedoen is. Die profetiese boeke is ook bekragtig deurdat een profeet ʼn ander profeet bekragtig het. Byvoorbeeld, in Jesaja 34:16 verwys Jesaja na sy boek as die boek van die HERE. Party Ou Testamentiese skrywers haal ander Ou Testamentiese skrywers met volle gesag aan. Byvoorbeeld, Josua 8: 30-35 haal die wet van Moses aan; Joël 2:32 haal Obadja 17 aan; Miga 4:1-4 haal Jesaja 2:2-4 aan; Jeremia 26:17-19 haal Miga 3:12 aan; en Daniël 9:1-3 is gebaseer op Jeremia 25 en 29.

C. Getuienis van die Nuwe Testament
Die Nuwe Testament bevat drie honderd aanhalings uit die Ou Testament; sewentig hiervan is uit die wet van Moses, een honderd en sewentig is uit die Profete en sestig is uit die Psalms. Verskeie aanhalings uit die Ou Testament sê dat God die spreker was, soos byvoorbeeld in Mattheüs 15:4 en Handelinge 28:25. En natuurlik, 2 Timótheüs 3: 16-17 en 2 Pet. 1:21 het die Ou Testament in gedagte. Behalwe vir drie honderd direkte aanhalings uit die Ou Testament, is daar ook 4 105 sinspelings uit die Ou Testament. Die Nuwe Testament maak ses en vyftig keer daarop aanspraak dat God die skrywer van die Ou Testament was.

D. Getuienis van die Messias
Die Messias het die Ou Testament in sy geheel aanvaar en het baie verwysings daarna gemaak. Soos in Lukas 24:44 gesien kan word, die Messias het na die drie afdelings van die Ou Testament as die wet van Moses, die Profete en die Psalms verwys. In Mattheüs 5:17 het Hy gesê Hy het gekom om die wet en die profete te vervul. In Johannes 10:35 het Jesus (Yeshua) in die konteks van die Ou Testament gesê die Skrif kan nie gebreek word nie. In Mattheüs 23:35 verwys Hy na Abel en Sagaría, en die name verwys na die eerste en laaste boeke in die Joodse volgorde van die Ou Testament. Dit is duidelik dat Jesus die Ou Testament hewig gebruik het; dit was die basis van sy leringe, die verduideliking van sy Persoon en sy finale appèl in die debatte wat Hy met sy kritici gehad het.

E. Voor-bekragtiging van die Messias
Die Nuwe Testament getuig van ditself. Dit was voor-bekragtig deur die Messias in Johannes 14:26 en 16:12-14, waar Hy vir Sy dissipels gesê het dat die Heilige Gees hulle sal herinner aan alles wat Hy vir hulle gesê het. Petrus was daarvan bewus dat hy die woorde van God geskryf het (1 Pet. 1: 11-12). Ook Paulus was in 1 Korinthiёrs 2: 13 en 14:37 daarvan bewus dat hy die woorde van God geskryf het. Petrus het selfs in 2 Petrus 3: 15-16 die briewe van Paulus as Skrif aanvaar.

GEVOLGTREKKING
Die gevolgtrekking van hierdie studie oor die verhouding van die Bybel tot die konsep van die inspirasie van die Skrif, kan in dertien punte opgesom word. Eerstens, die hele Skrif is deur God ingegee (2 Tim. 3: 16). Tweedens, dit is die Woord van God aan die mens (Joh. 10:35). Derdens, dit is onfeilbaar (Ps. 19: 8). Vierdens, dit is foutloos (Spr. 30: 5-6). Die vyfde punt is dat dit is soos dit oorspronklik gegee is (2 Pet. 1: 21). Die sesde punt is, dit is goddelike inspirasie en hierdie inspirasie is volkome (Rom. 15:4). Sewende, dit is woordelik geïnspireer (Matt. 4:4). Die agtste punt is dat dit meewerkend is (2 Sam. 23: 2). Negende, dit is die presiese woorde van God en bevat al Sy gesag (Jes. 1: 2). Tiende, dit is voldoende om sondaars te red (2 Tim. 3: 15). Elfde, dit het duidelikheid vir begrip (Ps. 119:106). Twaalfde, dit is effektief om sondaars te oortuig (Hebr. 4:12). Dertiende, die hoofdoel van die Bybel is om te bely en te getuig van die Messias (Luk. 24:44).

Die Bybel is die volkome, woordelike, onfeilbare en foutloos geïnspireerde Woord van God. Die Bybel is ʼn absoluut betroubare bron van wat God wil hê die mens moet weet, wat God wil hê die mens moet glo en hoe God wil hê die mens in sy geestelike lewe moet handel.
[end]

Inhoudsopgawe
I. DEFINISIE VAN INSPIRASIE
     A. God se toesig
     B. Menslike skrywers
     C. Foutloosheid
         1. Rakende afskrifte van die Bybel
         2. Rakende vertalings van die Bybel
     D. God se openbaring
     E. Tweeledige outeurskap
II. TEORIEË VAN INSPIRASIE
     A. Valse teorieë van die inspirasie van die Bybel
         1. Natuurlike inspirasie of natuurlike intuïsie teorie
         2. Mistiese of illuminasie teorie
         3. Gedeeltelike inspirasie teorie
         4. Mate van inspirasie teorie
         5. Konseptuele inspirasie teorie
         6. Dinamiese inspirasie teorie
         7. Meganiese of diktasie inspirasie teorie
     B. Die ware teorie van die inspirasie van die Bybel
         1. Volkome, woordelike inspirasie teorie
             a. Definisie
             b. Vyf dinge wat volkome, woordelike inspirasie nie gedoen het nie
             c. Vyf dinge wat volkome, woordelike inspirasie gedoen het
         2. Bewyse vir volkome, woordelike inspirasie
             a. 2 Timótheüs 3: 16-17
             b. 2 Petrus 1:21
         3. Besware teen volkome, woordelike inspirasie
             a. Wetenskap en geskiedenis
             b. Skeptisisme oor profesie en wonderwerke
             c. Sedes en godsdienste
             d. Nuwe-Testamentiese aanhalings van die Ou Testament
III. BEWYSE VAN INSPIRASIE
     A. Karakter van God
     B. Aansprake van die Ou Testament
     C. Getuienis van die Nuwe Testament
     D. Getuienis van die Messias
     E. Voor-bekragtiging van die Messias
GEVOLGTREKKING

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Om die Woord van God reg te kan sny, is ‘n deeglike studie van die agt verbonde in die Bybel nodig. Hierdie studie kyk na die algemeenste manier waarop die Bybel verdeel word, naamlik bedelings, en ook die spesifieke verbonde waarop elke bedeling gegrond is.