Die instelling van die doop

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. – I Korinthiërs 11:26

Die instellings van die Doop en die Heilige Nagmaal is die twee instellings (of ordinansies) van die Kerk. Hierdie studie oor die instelling van die doop sal in twee afdelings bespreek word: die woord “instelling” en die instelling van die doop as sodanig.

I. DIE BETEKENIS VAN DIE WOORD “INSTELLING”
Wat ’n instelling of ordinansie presies is, sal bespreek word ten opsigte van vier gebiede: een, die definisie; twee, die kwalifikasies van ’n instelling; drie, die aantal instellings; en vier, die noodsaaklikheid vir instellings.

A. Die Definisie
Die beste manier om ’n volledige begrip van die woord “instelling” te kry, is om hierdie studie te begin met die definiëring van die woord. Dit is belangrik om tussen twee terme te onderskei: “sakrament” en “instelling”.

1. Sakrament
Vir die Christendom bevat die term “sakrament” die gedagte dat deelname daaraan op een of ander wyse ware genade inhou vir die een wat die ritueel onderhou. Tot watter mate hierdie genade verleen word, word verskillend omskryf deur verskillende groepe. In die Rooms Katolisisme het genade wat deur die sakrament gegee word, reddende waarde. Met die Reformasie is ander begrippe vir die omskrywing van die sakramente geformuleer. Die reformatoriese definisie van ’n sakrament is: “ ’n Sakrament is ’n heilige ordinansie wat deur Christus ingestel is en waarin die genade van God in Christus en die seëninge van die genadeverbond deur sigbare tekens verteenwoordig, beseël, en aan gelowiges gegee word en hierdie tekens en seëls gee, op hulle beurt, uitdrukking aan gelowiges se geloof in en getrouheid aan God.”

Volgens die reformatoriese siening is die sakrament ’n ware genademiddel. Dit is ’n middel wat deur Christus ingestel is en aangewend word om gelowiges te help om die seëninge van Sy verlossing beter te verstaan, en hulle te laat deel in die seën waarvan die sakramente goddelik-ingestelde tekens en seëls is.

Volgens die reformatoriese siening is dit nie die elemente van die sakramente wat die genade bewerk nie, maar die genade is te danke aan die seën van Jesus en die werking van Sy Gees. Verder is hierdie genadegawe slegs effektief vir volwassenes as dit deur geloof ontvang word. Die reddende en heiligmakende invloed kan slegs betrekking hê op gelowiges. Weer eens, volgens die reformatoriese siening, word genade outomaties gegee aan onderhouers van die sakramente.

2. Instelling
’n Instelling kan beskryf word as ’n rite of ritueel of gebruik wat deur Christus voorgeskryf is en wat as ’n uitwendige teken van die reddende waarheid van die Christelike geloof deur die Kerk onderhou moet word. Dit is beter om nie die instellings te sien as die gee van genade nie, maar om hulle te sien as sigbare tekens van reddende waarheid, en dit is waarom die term “instelling” beter is as die term “sakrament”.

B. Die Kwalifikasies van ’n Instelling
Hoe stel ’n mens vas wat is en wat is nie ’n instelling nie? Die beste manier om die kwalifikasies van ’n instelling te bepaal, is om drie toetse toe te pas. As al drie dinge aanwesig is, dan kwalifiseer die gebruik as ’n instelling.

Een, was dit ’n opdrag van Christus? Het Hy gelowiges beveel om dit te onderhou? Hy het gelowiges beveel om baie dinge te doen, maar nie almal daarvan het instellings geword nie. Iets sou egter nie ’n instelling kon word nie tensy dit ’n opdrag van Christus was.

Die tweede toets van ’n instelling is: Is dit in die Boek Handelinge nagekom? Is daar voorbeelde waar dit in die Boek Handelinge deur die Kerk onderhou is?

Die derde kwalifikasie is: Is die rite of die ritueel verder toegelig in die Sendbriewe? Verduidelik die Sendbriewe die teologiese belangrikheid van hierdie uiterlike rite?

C. Die Aantal Instellings
Hoeveel instellings is daar? In die Rooms Katolisisme is daar in totaal sewe instellings of ordinansies. Onder Rooms Katolieke staan dit bekend as die Sewe Sakramente. Hierdie Sewe Sakramente is: ordening, aanneming, die huwelik, die laaste oliesel, boetedoening, die doop, en die hostie of die Nagmaal.

Die verskeie groepe in die Broedergemeentes glo in drie instellings: die doop, die Nagmaal, en “voetewas”. Voetewas word as ’n instelling beskou op grond van Johannes 13:12-15, waar Jesus in vers 14 die dissipels beveel het om mekaar se voete te was. Hulle glo dat voetewas ’n simbool is van die Versoening net soos wat die doop en die Nagmaal simbole van die Versoening is, en daarom is voetewas hulle derde instelling.

Maar is voetewas werklik ’n instelling? In die konteks van Johannes 13 val die klem nie op die was van voete as ’n handeling nie, maar op nederigheid. In daardie selfde konteks is die was van voete ook glad nie ’n simbool van die Versoening nie, maar dit is ’n simbool van die geestelike reiniging van die gelowige aan wie die Versoening al reeds toegereken is. Hierdie skrifgedeelte leer dus glad nie dat voetewas ’n instelling is nie.

Ten slotte, voetewas beantwoord nie aan al drie kwalifikasies nie. Hoewel dit ’n opdrag van Christus was, word dit nêrens in die Boek Handelinge opgeteken as ’n gebruik wat algemeen nagekom is nie, en daar is ook geen teologiese toeligting daarvan in die Sendbriewe nie.

Hoeveel instellings is daar? Slegs twee beantwoord aan al die kwalifikasies: die Nagmaal en die doop.

D. Die Noodsaaklikheid vir die Onderhouding van Instellings
Hoekom is dit nodig om instellings te onderhou? Volgens die Rooms Katolieke leer en die Lutherse leer moet instellings nagekom word omdat hulle vernuwingswaarde het; dit wil sê, instellings het reddende waarde. Die Bybel leer egter glad nie dat dit die rede vir die onderhouding van die instellings is nie.

Die bybelse rede vir die onderhouding van die instellings, is ’n kwessie van gehoorsaamheid; gelowiges doen dit om gehoorsaam te wees aan die opdragte van die Bybel.

II. DIE INSTELLING VAN DIE DOOP
Die bespreking oor die instelling van die doop handel oor sewe sake: die betekenis van die doop, die kwalifikasies van die doop as ’n instelling, die formule vir die doop, die doopmetodes, wie gedoop moet word, die verhouding van die doop met betrekking tot redding, en herdoping.

A. Die Betekenis van die Doop
Die eerste saak omtrent die instelling van die doop, is die betekenis van die doop.

Een definisie is dié van die Belydenis van Westminster, wat deur baie van die reformatoriese kerke gebruik word:

“Die doop is ’n sakrament waar die was met water in die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees sowel ’n teken as ’n seël is van die mens se inenting in Christus, deelname aan die seëninge van die genadeverbond, en ons aansporing om die ontvangers van God se genade te wees.”

Hierdie definisie kan in vyf punte onderverdeel word. Een, dit is ’n goddelike instelling. Twee, dit is ’n genademiddel vir gelowiges. Drie, dit is ’n teken en ’n seël van die “genadeverbond”. Vier, dit is bedoel as ’n ewigdurende verbintenis. En vyf, God belowe om die beloftes, waarvan die doop ’n teken is, na te kom. Een element van die Gereformeerde posisie is dat die onderhouding van hierdie sakrament genade inhou, en hulle verbind dit aan ’n teologiese konsep wat bekend staan as die genadeverbond, iets wat nêrens in die Bybel gevind word nie.

Daar is ’n beter definisie, wat meer ooreenkom met die Joodse oorspronge van die doop: “Die doop is ’n identifisering of assosiëring met ’n persoon of boodskap of groep.”

Die woord “identifisering” is die een enkele belangrikste woord in die beskrywing van wat die doop presies beteken. Byvoorbeeld, in die Judaïsme was dit die gebruik om mense te doop wat tot die Judaïsme oorgegaan het: wanneer ’n heiden hom tot die Judaïsme bekeer het, is hy gedoop; wanneer hy gedoop is, het hy homself met die Judaïsme en die Joodse volk geïdentifiseer. So ook het iemand wat deur Johannes die Doper gedoop is, homself geïdentifiseer met die boodskap van Johannes en homself daartoe verbind om die Messias aan te neem sodra die Messias uitgewys sou word. Die doop van gelowiges of die Christelike doop word ook die beste beskryf deur die woord “identifisering”. ’n Mens identifiseer jouself met drie dinge: die dood, begrafnis, en opstanding van Jesus Christus.

Daar is vyf Griekse woorde waardeur die betekenis bepaal word van die begrip wat as “doop” vertaal word. Die eerste woord is bapto, wat beteken “om in te dompel”/ “nat te maak” en wat drie keer in die Nuwe Testament gebruik word. Die tweede woord is baptizo, wat beteken “om te doop” en wat agt keer gebruik word. Die derde woord is baptisteis, wat “doper” beteken en vier keer gebruik word. Die vierde woord is baptisma, wat “doop” beteken en twee-en-twintig keer gebruik word. Die vyfde woord is baptismos, wat nege keer gebruik word, en op twee maniere vertaal word: “doop” of “was” / “wassing”.

B. Die Kwalifikasies van die Doop as ’n Instelling
Die tweede saak is dat die doop aan al drie kwalifikasies van ’n instelling beantwoord. Een, dit was ’n opdrag van Jesus, die Messias (Matt. 28:18-20). Twee, dit word in die Boek Handelinge beoefen (Hand. 2:38, 41; 8:12-13, 36, 38; 9:18; 10:47-48; 16:15, 33; 18:8; 19:5). Drie, dit word verder toegelig in die Sendbriewe (Rom. 6:3-5; Kol. 2:11-12).

C. Die Formule vir die Doop
Die derde saak omtrent die instelling van die doop, is die formule vir die doop, wat deur Jesus gegee is in Matthéüs 28:18-20: Daar moet gedoop word in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Deur hierdie formule is die gelowige doop onderskei van ander soorte doop wat in daardie dae algemeen voorgekom het. Hierdie formule sou dit onderskei van die doop van bekeerlinge, naamlik die doop wat gedoen is vir ’n heiden wat tot die Judaïsme oorgegaan het, en hierdie formule sou dit onderskei van die doop van Johannes.

Daar is mense wat leer dat die doop slegs in die naam van Jesus moet plaasvind, op grond van die Boek Handelinge waar die doop net in die naam van Jesus genoem word. Hulle siening berus op ’n wanbegrip van die Joodse konteks waarin die Christelike doop se oorsprong lê. Weer eens, die doop was ’n Joodse gebruik lank voordat dit ’n Kerklike gebruik geword het. Wanneer die Nuwe Testament praat van die doop in die naam van Jesus, gebruik dit nooit die woord “slegs” nie. Dit noem die naam van Jesus en nie die van die Vader of die Gees nie, eenvoudig omdat die noem van Jesus se naam voldoende was om dit van die ander vorme van die doop te onderskei. Wanneer die Nuwe Testament verklaar, “Doop in die naam van Jesus,” beteken dit net dat die persoon ingedoop was in die doop van die gelowiges, nie in die doop van Johannes nie, nie in die doop van bekeerlinge nie, en ook nie in enige ander doop wat in daardie dae die gebruik was nie. Die uitdrukking “gedoop in die naam van Jesus” het dit slegs onderskei van ander soorte doop en beteken dieselfde as gelowige doop. Nogtans is die regte formule om tydens die doop te gebruik: “In die naam van die Vader, die Seun, en die Heilige Gees.”

D. Die Doopmetodes
Die vierde saak omtrent die instelling van die doop, is die twispunt tussen diegene wat aandring op algehele onderdompeling en diegene wat metodes van nie-onderdompeling gebruik, soos besprinkeling of begieting.

1. Nie-Onderdompeling Metodes
Wat die nie-onderdompeling metodes betref, is daar twee gebruike. Die een is begieting of natgooi en die ander is besprinkeling. Daar is ses hoof argumente wat gebruik word om die nie-onderdompelings gebruike te verdedig.

Die eerste argument is dat die woord baptizo gebruik word in ’n sekondêre sin van “onder die invloed bring van” en dit word die beste uitgebeeld deur begieting. Hoewel dit so is dat baptizo in ’n sekondêre sin gebruik kan word, is die probleem met hierdie siening dat die Bybel nie op ander plekke so geïnterpreteer word nie. Interpretasie moet eerstens op die primêre betekenis gebaseer wees. ’n Mens verlaat jou nooit op ’n sekondêre betekenis as die primêre betekenis duidelik is nie. Slegs as die primêre betekenis nie sin maak nie, steun ’n mens op ’n sekondêre betekenis. In geen skrifgedeelte waar baptizo voorkom, is dit nodig om op ’n sekondêre betekenis te steun nie. Verder, in hierdie geval is die sekondêre betekenis ’n afgeleide betekenis van die handeling, nie die betekenis van die woord nie. Die uitdrukking “om onder die invloed te bring van” is nie ’n sekondêre betekenis van die woord baptizo nie; dit is slegs ’n sekondêre betekenis ten opsigte van die handeling van die doop. Die primêre betekenis van die woord is altyd “om onder te dompel” / “in te dompel”.

Die tweede argument wat aangevoer word om nie-onderdompeling metodes te verdedig, is die redenasie dat die doop gebruik word om uit te beeld dat die Gees op die persoon neerdaal en dat begieting die beste uitbeelding hiervan is. Maar hierop is die antwoord dat dit nie is hoe die waterdoop en die doop met die Gees in die Skrif met mekaar verbind word nie. Trouens, die doping met die Gees plaas die gelowige volkome in die Liggaam van Christus in, en onderdompeling is ’n baie beter beeld van hierdie geestelike waarheid.

Die derde argument wat gebruik word om nie-onderdompeling metodes van die doop te rugsteun, verklaar dat onderdompeling onwaarskynlik of onmoontlik sou gewees het in plekke soos: Handelinge 2:41, waar daar eenvoudig te veel mense was; Handelinge 8:38, waar daar te min water sou gewees het; Handelinge 10:47 en 16:33, waar daar nie genoeg water in ’n huis sou gewees het nie. Maar is onderdompeling in hierdie skrifgedeeltes in Handelinge werklik onwaarskynlik of onmoontlik? Wat Handelinge 2:41 betref, het die argeologie bewys dat daar regdeur Jerusalem baie waterbaddens was vir doeleindes van sowel rituele as nie-rituele onderdompeling. Daar was dus heeltemal genoeg waterbaddens in Jerusalem om al drieduisend mense te onderdompel wat gered is toe die Kerk op Pinksterdag gebore is. Wat Handelinge 8:38 betref, is die presiese plek waar die doop plaasgevind het onbekend, maar daar is damme regdeur die gebied wat toereikend sou gewees het vir onderdompeling. Wat Handelinge 10:47 en 16:33 betref: dit was Romeinse huise hierdie, en Romeinse huise het almal dammetjies of baddens gehad wat toereikend sou gewees het vir onderdompeling.

Die vierde argument wat gebruik word ter verdediging van nie-onderdompeling metodes van die doop, is gebaseer op Hebreërs 9:10, waar die woord baptizo gebruik word om die Ou-Testamentiese rituele van besprinkeling in te sluit. Die woord hier is egter nie “besprinkeling” nie, maar “wassinge”. Die wassinge van die Ou-Testamentiese Wet het voorgeskryf dat die instrumente vir gebruik in die Tempel, in water ingedompel moes word. Die gereedskapstukke is nie skoongemaak deur water daaroor te sprinkel nie; enigiemand wat gereedskapstukke was, weet dat dit nie skoon kom deur net water daarop te sprinkel nie. Nee, die instrumente is gewas deur dit in water te doop of in te dompel. Verder moet daarop gewys word dat dit bloed was wat regdeur die rituele van die Ou-Testamentiese Wet gesprinkel was, nie water nie. Die Griekse taal het ’n woord vir indompel, bapto, maar die Bybel gebruik nie hierdie woord met betrekking tot die ritueel nie. Dit gebruik die meer intensiewe woord, baptizo, wat die punt selfs beter bewys; bapto beteken “om in te dompel”, maar die meer intensiewe vorm van die woord, baptizo, beteken om die instrument “heeltemal onder te dompel”.

Die vyfde argument gaan oor die voorstanders van nie-onderdompeling se siening omtrent die belangrikheid van die doop. Sommige van hulle leer dat die doop die dood van Jesus aan die kruis verteenwoordig. Hulle aanspraak is dat die doop nie die begrafnis van Jesus verteenwoordig nie omdat die Versoening aan die kruis volbring is; dat die doop nie Jesus se Opstanding verteenwoordig nie want die Opstanding voeg nie by tot die Versoening nie. Daarom is onderdompeling nie nodig nie. Die antwoord op hierdie aanspraak is dat die doop nooit met die wyse van Jesus se dood geassosieer word nie, maar met die handeling van Sy dood, begrafnis en Opstanding, volgens Romeine 6:3-5 en Kolossense 2:11-12. In hierdie twee skrifgedeeltes val die klem van die doop duidelik op die begrafnis aspek, en dit is nie slegs die feit van die Versoening wat deur die doop uitgebeeld word nie, maar die handelinge wat die Messias moes ondergaan om die Versoening: dood, begrafnis, en Opstanding, te volbring. Verder, volgens Romeine 4:25, sou daar sonder die Opstanding geen Versoening gewees het nie, want die Opstanding was belangrik vir regverdigmaking. Dit volg dus nie logies of bybels om te sê dat die begrafnis en Opstanding nie wesenlik deel is van die Versoening nie, en dat onderdompeling daarom nie nodig is nie.

Die laaste argument ten gunste van nie-onderdompeling metodes van die doop, is die stelling dat driekwart van die sigbare kerk van vandag nie onderdompel nie. Aangesien driekwart nie onderdompel nie, kan driekwart van die kerk tog nie verkeerd wees nie? Ongelukkig kan die meerderheid wel dikwels verkeerd wees. Die waarheid word nooit bepaal deur ’n meerderheidstem nie, maar deur wat die Bybel leer. Geen kerk het die reg om die bevel van Jesus te verontagsaam of dit te verander nie, want dit sou die kerk bo Jesus Christus verhef.

2. Onderdompeling
Op watter basis word dit geleer dat onderdompeling die enigste regte manier van die doop is? Daar is tien argumente wat die siening dat onderdompeling die enigste ware, bybelse vorm van die doop is, rugsteun.

Een, die primêre betekenis van die Griekse woord baptizo is “om onder te dompel”. In die Afrikaanse Bybel word die woord nie vertaal as “onderdompeling” nie, maar as “doop”. Om die Afrikaanse vertaling in perspektief te plaas, is dit nodig om uit te brei oor die Engelse woord “baptism”. Dis interessant dat die woord “baptism”, soos die doop in Engels bekend staan, nie ’n regte Engelse woord is nie, maar slegs ’n transliterasie van die Griekse woord. “Baptism” kom van die Griekse woord baptismos. Die Engelse vertaling van daardie vorm van die woord moet “immersion” wees (Afrikaans: “onderdompeling”). As die oorspronklike Engelse vertalers eerlik was, sou hulle elke keer as hulle by die woord baptismos gekom het, dit as “immersion” vertaal het. Ongelukkig het besprinkeling wyd voorgekom teen die tyd toe die Engelse weergawes van die Bybel beskikbaar geraak het, en baie van die vertalers was ook self besprinkelaars. In plaas daarvan dat hulle dus die woord korrek vertaal het, het hulle dit getranslitereer, en die Engelse teks lees “to baptize” en “baptism”, maar die betekenis van hierdie woorde is “to immerse” en “immersion” (Afrikaans: “om onder te dompel” en “onderdompeling”).

Twee, onderdompeling is die beste manier waarop die normale betekenis van die woorde “in” en “uit” verduidelik kan word. In die konteks van die doop, praat die Bybel van iemand wat gedoop word as iemand wat in die water ingaan, en uit die water opkom; en hierdie stellings impliseer duidelik onderdompeling (Matt. 3:11, 16; Mark. 1:5, 8, 9-10; Hand. 8:38-39).

Die derde argument ten gunste van onderdompeling as die regte bybelse metode van die doop, is dat dit is hoe Jesus gedoop was (Matt. 3:16; Mark. 1:9-10).

Die vierde argument vir onderdompeling as die regte, bybelse metode van die doop, is dat dit duidelik die metode was wat Johannes die Doper gebruik het (Joh. 3:23). Volgens hierdie vers moes Johannes na ’n ander deel van die land toe gaan omdat daar baie water was. As slegs besprinkeling voldoende was, kon Johannes gebly het net waar hy was, want daar was altyd ’n sypeltjie water in die Jordaanrivier. Net ’n paar waterdruppels alleen sou egter nie genoeg gewees het nie, en daarom was Johannes genoodsaak om na ’n plek toe te gaan waar daar baie water was, ’n plek waar daar genoeg water sou wees vir die doel om mense te onderdompel.

Vyf, elke Nuwe-Testamentiese geval laat toe vir onderdompeling. Daar is nie ’n enkele voorbeeld op enige plek in die Nuwe Testament waar onderdompeling óf onwaarskynlik óf onmoontlik was, soos wat die kritici beweer nie. In elke Nuwe-Testamentiese geval waar die doop beoefen is, is dit voor die hand liggend dat onderdompeling moontlik was.

Die sesde argument ten gunste van onderdompeling as die enigste regte metode van die doop, is dat die Griekse taal woorde het vir begieting en besprinkeling, maar nie een van hierdie terme word ooit vir die doop gebruik nie. In die geval van begieting is die Griekse woord epicheo. Nog ’n vorm van die woord is katecheo. Hoewel hierdie woorde in die Nuwe Testament gebruik word, word hulle nooit gebruik in verband met die doop nie. Die Griekse taal het ook ’n woord vir besprinkeling, naamlik rantizo. Hoewel rantizo ook in die Nuwe Testament gebruik word, word dit nooit gebruik in verband met die doop nie. Wanneer die Nuwe Testament van die doop praat, is dit altyd met die woord wat “onderdompeling” beteken. Hierdie woord is die algemene woord wat Griekse sprekers sou gebruik het in die sin van “om iets onder die water in te dompel”. Selfs afgesien van die ritualistiese betekenis, sou ’n Griek altyd as hy iets wou sê soos, “Ek wil hierdie mes onder die water indompel,” die woord baptizo gebruik. Die woord wat algemeen vir onderdompeling gebruik word, is dieselfde woord as die een wat altyd gebruik word in verband met die ritueel van die doop.

Die sewende argument is dat onderdompeling die beste uitbeelding is van die doopwerk van die Heilige Gees. Romeine 6:3-5 praat van doping met die Gees, nie doop met water nie. Wanneer ’n mens in Christus Jesus gedoop is, word jy in Sy Liggaam ingedoop deur die Gees, en die gelowige word dan geïdentifiseer met die dood, begrafnis, en Opstanding van Jesus Christus. Hiervan is onderdompeling die beste beeld. In die eerste plek word die gelowige in totaliteit in water geplaas, net soos wat hy deur die Gees in totaliteit in die Liggaam geplaas word. Verder, die doop is ’n beeld van die dood, begrafnis en Opstanding van Jesus Christus: om onder die water in te gaan, is ’n uitbeelding van dood en begrafnis; om uit die water uit op te kom, is ’n beeld van die Opstanding.

Die agtste argument ten gunste van onderdompeling as die enigste regte metode van die doop, is dat die Joodse gebruik van die doop altyd deur onderdompeling geskied het. Bekeerlinge tot die Judaïsme, byvoorbeeld, is deur onderdompeling gedoop en dit is aanduidend daarvan dat die doop van Johannes en die doop van gelowiges op dieselfde manier geskied het: deur onderdompeling. Die doop het nie met die Heidenkerk begin nie, maar wel met Joodse gelowiges wat die gebruik van die doop uit die Judaïsme voortgesit het, maar ’n ander betekenis daaraan geheg en ’n ander formule daaraan gegee het. Die Joodse doop was altyd deur onderdompeling, en daarom sou Joodse gelowiges slegs onderdompeling as ’n gepaste vorm van die doop beoefen het. Vanuit ’n suiwer Joodse perspektief dus, sou ’n Joodse gelowige met ’n Joodse agtergrond nooit ten gunste gewees het van óf besprinkeling óf begieting nie. Hy sou altyd voorkeur gegee het aan slegs onderdompeling.

Die negende argument ten gunste van onderdompeling, is dat dit die gebruik was van sowel die Heidentak as die Joodse tak van die vroeë Kerk. In die eerste eeu was onderdompeling die enigste gebruik wat deur sowel die Joodse gelowiges as die Heidengelowiges beoefen is. Die gebruik van begieting het in die tweede eeu begin. Selfs waar begieting in ’n tweede-eeuse dokument vir die eerste keer genoem word, het dit te doen met ’n gelowige wat op sy sterfbed was en eenvoudig te siek was om na ’n plek toe te gaan waar hy onderdompel kon word. Dit was dus voorgestel dat in hierdie geval, en slegs in hierdie geval, dit toelaatbaar sou wees om water oor sy liggaam te giet. Maar weer eens, die begieting sou beteken het dat die persoon heeltemal nat sou word. Hoewel hierdie tweede-eeuse dokument nie bybelse geldigheid het nie, moet diegene wat hierdie metode gebruik daarop let dat dit in daardie selfde dokument beklemtoon is as die uitsondering op die reël, en dat dit nie bedoel was om ’n algemene gebruik te word nie. Wat besprinkeling as ’n metode van die doop betref: dit het eers in die twaalfde eeu begin.

Die tiende argument is om te wys op die gebruik van die Grieks-Ortodokse Kerk. Hierdie kerk toon baie ooreenkomste met die Rooms Katolieke Kerk, maar hulle gebruik Grieks as hulle taal en nie Latyn nie. Aangesien hulle Grieks ken, weet hulle wat die woord baptismos beteken. Gevolglik beoefen die Grieks-Ortodokse Kerk, tot vandag toe, nie begieting of besprinkeling nie, maar hulle beoefen slegs onderdompeling.

Die enigste regte metode van die doop is dus onderdompeling. Enige ander soort doop, soos besprinkeling of begieting, is nie bybelse doop nie. Mense wat net besprinkel is of oor wie water uitgegiet is, is nog nie op die regte bybelse manier gedoop nie.

E. Wie Gedoop Moet Word
Die vyfde saak omtrent die instelling van die doop, is die vraag: Wie kwalifiseer om gedoop te word? Hierdie saak word in twee onderafdelings bespreek: die doop van babas en gelowige doop.

1. Die Doop van Babas
Babadoop word bespreek ten opsigte van drie aspekte: die redes daarvoor, die argumente daarvoor, en die argumente daarteen.

a. Die Redes vir die Doop van Babas
Daar is verskillende groepe wat babadoop beoefen, maar hulle doen dit nie almal vir dieselfde rede nie. Aangesien die doop van babas nie in die Bybel voorkom nie, moet hulle almal hulle eie redes daarvoor vind. Daar is twee hoof redes hoekom sekere groepe babadoop beoefen.

Een, sommige groepe beoefen babadoop omdat hulle glo in regverdigmaking deur die doop: dat die baba gered word deur middel van die doop. Hierdie siening word gehuldig deur lidmate van die Anglikaanse en Lutherse kerke.

Tweedens is daar ander groepe wat babadoop beoefen, maar nie glo dat die doop kan red nie. Groepe wie se leer gebaseer is op die Verbondsteologie, soos die Presbiteriaanse Kerk en kerke in Gereformeerde verband, beoefen die doop van babas omdat hulle glo die baba word op hierdie manier in die verbondsfamilie ingebring. Dit is hoekom slegs die kinders van ten minste een gelowige ouer vir die doop kwalifiseer.

b. Argumente vir die Doop van Babas
Die tweede aspek van babadoop, is die argumente wat gebruik word ter verdediging van die doop van babas. Vier primêre argumente word aangevoer: die anti-tipe van die besnydenis, huisgesin beloftes, die insluiting van babas in huisgesinne wat gedoop is, en kerklike tradisie.

(1) Die Anti-Tipe van die Besnydenis
Eerstens word dit geleer dat die doop die anti-tipe van die besnydenis is. Aangesien babas besny is moet babas, daarom, gedoop word. [Die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika se FORMULIER VIR DIE BEDIENING VAN DIE HEILIGE DOOP AAN KINDERS, in die Psalmboek, 2001, p. 111, stel dit so: “Omdat die doop nou in die plek van die besnydenis gekom het, daarom moet die kinders as erfgename van die ryk van God en van sy verbond gedoop word.” – Vertaler.] Maar as dit waar is dat die doop die anti-tipe van die besnydenis is, dat dit in die plek van die besnydenis gekom het, dan moet slegs manlike babas gedoop word, want net manlike babas was (en word vandag steeds) besny. Verder word dit nooit in die Bybel gesê dat die doop die anti-tipe van die besnydenis is nie. Wat wel die anti-tipe van die besnydenis in die vlees is, is die besnydenis van die hart. In Handelinge 15 is die strydvraag oor die nodigheid van die besnydenis nie deur die Sinode in Jerusalem opgelos deur te verklaar dat die doop ’n vervanging van die besnydenis was nie. Die vraag is opgelos deur eenvoudig aan te toon dat die Heidene nie onder die Wet was soos die Jode nie.

(2) Huisgesin Beloftes
Die tweede primêre argument wat aangevoer word, is die aanname dat “huisgesin beloftes” die doop van babas veronderstel. Een so ’n belofte aan ’n huisgesin is in I Korinthiërs 7:14, waar dit verklaar word dat die kinders deur die gelowige man of vrou geheilig word. ’n Mens sou egter die doop in hierdie skrifgedeelte moet inlees. Die leer dat huisgesin beloftes die doop van babas veronderstel, is ’n onbewese aanname.

Wat meer is, I Korinthiërs 7:14 sê verder dat die ongelowige man of vrou ook deur die gelowige een van die twee geheilig word. As hierdie vers dus gebruik word om die doop van babas te leer, sal dit ook gebruik moet word om die doop van ongelowige volwassenes te leer, want hulle word ook in hierdie selfde skrifgedeelte aangetref. Maar die voorstanders van hierdie siening doop natuurlik nie ongelowige volwassenes nie. Dit is ’n inkonsekwente manier om hierdie skrifgedeelte te hanteer.

(3) Insluiting van Babas in Huisgesinne wat Gedoop is
Die derde primêre argument wat aangevoer word ter verdediging van die doop van babas, is die aanspraak dat babas logies ingesluit sou gewees het by die doop van ’n huisgesin. Die skrifgedeeltes wat aangevoer word om hierdie argument te rugsteun, is Handelinge 16:15, 33; 18:8; en I Korinthiërs 1:16, waar dit verklaar word dat die hele huisgesin gedoop is. Hulle redeneer verder dat dit vanselfsprekend is dat daar babas in daardie huisgesin sou gewees het.

Die antwoord op hierdie argument is dat die insluiting van babas weer eens ’n aanname is, want dit is ewe moontlik dat daar geen babas in daardie huisgesinne sou gewees het nie. My huisgesin, byvoorbeeld, bestaan uit ouers en ’n totaal van sewe kinders. Albei my ouers lewe nog, en ons kinders lewe ook nog almal. Ek is die oudste en die jongste is twee-en-twintig jaar jonger as ek. Maar elkeen van ons is oud genoeg om te glo en op grond daarvan gedoop te word. As my hele huisgesin gedoop moes word, sou daar nie een enkele baba onder ons gewees het nie. Weer eens, die insluiting van babas is ’n aanname, want dit is ewe moontlik dat daar geen babas in die genoemde huisgesinne sou gewees het nie.

’n Tweede antwoord op hierdie argument is om daarop te wys dat geloof, selfs waar huisgesinne gedoop was, ’n voorvereiste was. Selfs wanneer die hele huisgesin gedoop was, was dit slegs omdat die hele huisgesin geglo het. In die geval van Handelinge 16:15 byvoorbeeld, is dit uit vers 40 duidelik dat almal in die vrou se huis gelowiges was. Wat Handelinge 16:33 betref, toon vers 34 aan dat die hele huis geglo het. Daar was geen babas wat nie sou kon geglo het nie.

Wat Handelinge 18:8 betref, verklaar een en dieselfde vers dat die man se hele huis geglo het en daarom gedoop was; weer eens, geloof het die doop voorafgegaan. Wat I Korinthiërs 1:16 betref, word dieselfde huis weer genoem in hoofstuk 16:15, en elkeen in daardie huis was oud genoeg vir bedieningswerk. As hulle almal oud genoeg was om in die bediening te kon staan, sou daar geen babas onder hulle gewees het nie. As hulle oud genoeg was om in die bediening te wees, was hulle oud genoeg om te glo. Dit was op grond van hulle geloof dat hulle gedoop was.

(4) Kerklike Tradisie
Die vierde argument wat aangevoer word ter verdediging van die doop van babas, het ten doel om kerklike tradisies te onderhou.

Een van die teoloë wat die doop van babas geleer en voorkeur daaraan verleen het, erken in ’n teologieboek wat hy geskryf het dat daar geen bybelse opdrag is om babas te doop nie. Hy het ook toegegee dat daar nie een enkele voorbeeld van die doop van babas in die Nuwe Testament voorkom nie. Nadat hy egter hierdie feite erken het, het hy nietemin voortgegaan om die gebruik te verdedig. Dit is duidelik dat kerklike tradisie voorrang geniet het bo die dinge wat die Bybel leer.

Hierdie teoloog begin sy argument deur terug te gaan na die Abrahamitiese Verbond en om daarop te wys dat babas besny moes word. Maar weer eens, die Bybel leer nie dat die doop die anti-tipe van die besnydenis is, of in die plek daarvan gekom het nie. Wat meer is, hulle doop babadogtertjies, terwyl babadogtertjies nooit besny is nie.

Tweedens maak hierdie teoloog daarop aanspraak dat die Abrahamitiese Verbond dieselfde is as die Nuwe Verbond, en aangesien babas ingesluit was in die Abrahamitiese Verbond, moet babas ingesluit word in die Nuwe Verbond. Die Bybel hou egter nooit hierdie twee verbonde voor as een en dieselfde verbond nie, en hierdie teoloog se teorie berus slegs op sy eie aannames en nie op enige bewyse wat hy aanvoer nie.

Derdens verklaar hierdie teoloog dat babas in die seëninge van die verbonde gedeel het en daarom die besnydenis ontvang het. Hoewel hierdie stelling waar is, is daar geen bewys dat dit oorgedra is na die Nuwe Testament toe en met die doop vervang is nie. Hier word daar baie “ingelees” en baie dinge word veronderstel.

Sy vierde stelling is dat die doop die besnydenis vervang as ’n teken en ’n seël van die genadeverbond. Die antwoord hierop is dat die Bybel inderwaarheid niks leer oor die bestaan van iets wat bekend staan as die genadeverbond nie, en wat meer is, die anti-tipe van die besnydenis van die vlees is nie die doop nie, maar besnydenis van die hart.

Sy vyfde argument is dat daar in die Nuwe Testament geen melding gemaak word van die doop van babas nie, slegs omrede die klem gelê word op die bediening aan volwassenes. Sover die argument strek, is dit waar, maar die ware kwessie vir die rede waarom die Nuwe Testament nie melding maak van die doop van babas nie, is omdat dit nie die gebruik was nie, en nie omdat dit slegs die bediening aan volwassenes beklemtoon nie.

In plaas daarvan dat hierdie mense hulle rug op die tradisies van mense gekeer en hulle tot die Woord van God gewend het, het hulle verkies om hulle rug op die Woord van God te draai en hulle tradisies aan te hang. Hierdie soort tradisionalisme is huigelary. Daar is geen leer, of selfs enige voorbeeld, van die doop van babas in die Bybel nie.

c. Die Argumente Teen die Doop van Babas
Die derde aspek van die doop van babas, is ses argumente daarteen.

Een, die wesenlike betekenis van die doop beperk dit tot diegene wat geloof bewustelik kan bely en beoefen. Die doop beteken die identifisering met ’n persoon of ’n boodskap of ’n groep. Dit is ’n keuse wat deur die individu gemaak moet word. ’n Baba kan nie so ’n keuse maak nie en kwalifiseer daarom nie om gedoop te word nie.

Twee, daar is geen Nuwe-Testamentiese opdrag om babas te doop nie.

Drie, daar is nie eens een Nuwe-Testamentiese voorbeeld van die doop van babas nie.

Vier, die doop van babas was nie die gebruik in die vroeë Kerk nie. Die eerste duidelike geval van ’n babadoop, was eers in die derde eeu.

Die vyfde argument is dat die doop van babas gebaseer is op die sakramentele idee van doopsaligheid, en baie denominasies doop babas omdat hulle glo en leer dat die baba, deur middel van die besprinkeling met ’n paar druppels water, gered sal word. Die doop van babas is nie gebaseer op die Bybel nie, dit is gebaseer op die valse lering van doopsaligheid.

En die sesde argument teen die doop van babas, is dat daar sekere bose uitvloeisels van die babadoop is. Eerstens voorkom dit ’n persoonlike oorgawe en verbintenis. Wanneer ’n mens te doen kry met mense wat as babas gedoop is, kom dit dikwels na vore dat hulle vir hulle redding staatmaak op die “doopverbond” wat hulle as ’n baba ontvang het. Hulle het nooit ’n persoonlike oorgawe gemaak om Jesus Christus vir hulle redding te vertrou nie. Hulle stel hulle vertroue in ’n handeling wat slegs op grond van hulle ouers se besluit op hulle uitgevoer is. Een bose uitvloeisel is dus dat dit persoonlike oorgawe en verbintenis in die wiele ry. Tweedens skep dit ’n bygelowige vertroue in die werking van water. Daar is ’n bygeloof onder baie van hierdie aanhangers van die babadoop dat hulle wonderbaarlik of magies, deur middel van ’n paar druppels water gered is. Die derde bose uitvloeisel van die doop van babas, is dat dit ongeredde mense as lidmate in die kerk inbring. Daar is geen waarborg dat hierdie gedoopte babas waarlik sal glo wanneer hulle volwassenes geword het nie. Met hulle doop word hulle egter outomaties lidmate van daardie kerk; en soos hulle groei en volwasse word, bly hulle altyd lidmate van daardie kerk, selfs al word hulle nooit gelowiges nie. Die gevolg is dat daar baie ongeredde mense in hierdie kerke is, en van alles is dit waarskynlik die heel slegste uitvloeisel van die doop van babas.

2. Gelowige Doop
Die tweede onderafdeling ten opsigte van wie gedoop kan word, is gelowige doop. Gelowige doop beteken dat ’n persoon slegs kwalifiseer om gedoop te word nadat hy of sy geglo het. Dit is die duidelike leer van die Bybel dat ’n mens eers nadat jy geglo het, kwalifiseer om gedoop te word. Handelinge 2:38 beveel byvoorbeeld: Bekeer julle … en laat julle gedoop word; bekering moet die doop voorafgaan. Handelinge 2:41 verklaar dat slegs hulle wat Petrus se woord aangeneem het, gedoop [is]; die aanneming van die Woord moet eerste kom. Handelinge 8:12 verklaar dat hulle geglo het, en toe gedoop is; hulle geloof het hulle doop voorafgegaan. Handelinge 8:36 verklaar dat niks die Ethiópiër se doop verhinder het nie omdat hy al reeds geglo het. In Handelinge 9:18 het Paulus eerstens geglo, en eers toe is hy gedoop. Wat Handelinge 10:44-48 betref: eers nadat dit duidelik was dat die Heidene in die huis van Cornelius gered was omdat die Heilige Gees op hulle geval het, was hulle vry om gedoop te word. In Handelinge 16:30-34 is almal gedoop eers nadat hulle tot geloof gekom het. In Handelinge 18:8 het hulle geglo, en is toe gedoop. Weer eens, ’n mens moet eers glo voordat jy kan kwalifiseer om gedoop te word, en hierdie een vereiste beteken dat ’n baba nie vir die doop kwalifiseer nie en daarom daarvan uitgesluit is.

Een ander saak met betrekking tot die doop van gelowiges, is om te wys op ’n verskil tussen die besnydenis en die doop. Die besnydenis word dikwels gebruik om die doop van babas te verdedig, maar tussen hierdie twee gebruike is daar ’n duidelike verskil. Besnydenis het nooit die geloof van die kind aangetoon nie. Op die ouderdom van agt dae het daardie kind niks geglo nie. Besnydenis het die geloof en die gehoorsaamheid van die ouers getoon, nie dié van die kind nie. Die doop is daar om die geloof en die gehoorsaamheid te toon van die een wat gedoop word.

F. Die Verhouding van die Doop met betrekking tot Redding
Die sesde saak omtrent die doop as ’n instelling, is die leer van sommige groepe wat doopsaligheid verkondig: dat ’n mens gedoop moet wees om gered te word. Drie punte aangaande hierdie kwessie sal bespreek word.

1. Baie Skrifgedeeltes oor Redding
Eerstens, in meer as tweehonderd skrifgedeeltes waar redding genoem word, is geloof die enigste voorwaarde vir redding. As die doop nodig sou gewees het vir redding, sou dit genoem moes word in al die gevalle waar die voorwaarde vir redding duidelik uiteengesit word.

2.Paulus se Verklaring
Die tweede punt is dat Paulus nie die doop as so belangrik beskou het nie. In I Korinthiërs 1:14-17 sê Paulus dat hy God dank omdat hy nie juis baie mense in die Kerk van Korinthe gedoop het nie. Op grond hiervan was die kans dus uitgesluit dat mense hulle hoop sou plaas op die feit dat hulle deur Paulus gedoop was. Verder sê hy, in vers 17, dat God hom nie gestuur het om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig. As die doop nodig was vir redding, sou Paulus gesê het dat hy gestuur was om die evangelie te preek en om te doop. Waar hy in I Korinthiërs 15:1-4 die evangelie bespreek, wys hy in vers 2 daarop dat dit die evangelie is wat red, en die doop is nie deel van hierdie evangelie nie.

3. ’n Paar Probleem Skrifgedeeltes
Die derde punt is dat daar ’n paar “probleem skrifgedeeltes” is wat deur mense gebruik word om die leerstelling van doopsaligheid te verdedig.

a. Markus 16:16
Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

In die eerste skrifgedeelte kan daar na twee dinge opgelet word. Eerstens hang daar ’n groot vraagteken oor die feit of hierdie gedeelte van Markus 16 oorspronklik deel uitgemaak het van die Evangelie van Markus, aangesien die oudste en beste manuskripte nie eens hierdie skrifgedeelte bevat nie. Dit is dwaas om ’n leerstelling te grond op ’n skrifgedeelte wat nie in die beste en oudste manuskripte gevind word nie. ’n Tweede antwoord op hierdie punt, is om daarop te wys dat dit nie negatief gestel word nie. Hy sê nie dat jy, as jy nie glo nie en nie gedoop word nie, verlore sal gaan nie. Hy sê net as jy nie glo nie, sal jy verlore gaan. As die doop nodig was, sou hy ook gesê het dat, as jy glo maar jou nie laat doop nie, jy steeds verlore sal gaan. Hy noem glo en doop saam, omdat die doop in daardie dae direk op die belydenis van geloof gevolg het. In daardie dae het die mense verstaan dat die handeling van die doop hulle geïdentifiseer het met ’n boodskap, persoon, of groep. Vandag is daar soveel verwarring omtrent die doop, dat dit wys mag wees om die doop van die nuwe gelowige uit te stel totdat hy die geleentheid gekry het om geleer te word wat die doop beteken.

b. Johannes 3:5
Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.

Hierdie skrifgedeelte praat van geboorte uit water, nie van die doop nie. As die doop ter sprake was, sou Jesus die woord vir doop gebruik het. Om uit water gebore te wees, was ’n Joodse uitdrukking wat “fisiese geboorte” beteken. Jesus sê vir Nikodémus dat “slegs fisiese geboorte as ’n Jood, nie genoeg is om die koninkryk in te gaan nie.”

c. Handelinge 2:38
En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Die Griekse woord vir tot is eis. Die woord kom ook voor in Matthéüs 12:41, waar dit “omrede van” beteken. In hierdie vers moet die woord eis ook eintlik “omrede van” lees. Wat hy dus sê, is: “Bekeer julle en laat julle gedoop word omrede van of op grond van die vergifnis van sondes.”

d. Handelinge 22:16
En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.

Daar is twee dele van hierdie vers wat apart gehou moet word. In die eerste plek, is staan op ’n deelwoordkonstruksie en laat jou doop ’n bevel. In die Engelse vertaling lui dit: arise, and be baptized. Die woord “and” kom nie voor in die Grieks nie en die Afrikaanse vertaling is dus beter. Dit sê eintlik, “terwyl jy opstaan, laat jou doop.” In die tweede deel van die sin, is [laat] jou sondes afwas ’n bevelsvorm gevolg deur die deelwoord, aanroep. Hierdie vers sê dus dat die doop op die opstaan volg, net soos wat die afwas van sondes, dit wil sê vergifnis, op die aanroep van die Naam van die Here volg. [Dit kan so gelees word: “Roep die naam van die Here aan vir vergifnis en die afwassing van jou sondes; en dan moet jy opstaan en jou laat doop.” – Vertaler.] Deur slegs die Naam van die Here aan te roep, word ’n mens gered. Maar nadat jy redding ontvang het deur Sy Naam aan te roep, moet jy dan, as ’n gebaar van gehoorsaamheid, “opstaan en jou laat doop.”

e. I Petrus 3:20-21
wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God eenmaal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ’n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ’n bede tot God om ’n goeie gewete – deur die opstanding van Jesus Christus.

Hierdie vers praat van die reiniging van die gewete, nie van redding nie. Hierdie mense was Joodse gelowiges wat nie in gehoorsaamheid die waterdoop ondergaan het nie, en wat weens hulle ongehoorsaamheid aan die Here met ’n slegte gewete saamgelewe het. Die skrywer sê aan hulle dat hulle daardie slegte gewete moet aflê deur dit te reinig. Die gewete word altyd op dieselfde manier gereinig: deur gehoorsaamheid aan die Here op watter gebied ’n mens ookal in ongehoorsaamheid lewe. In hierdie geval het hulle in ongehoorsaamheid gelewe aan die opdrag van die doop. Hoewel die doop ’n simbool en ’n teken van reiniging is, is dit nooit die middel tot reiniging nie. Die doop is net nodig vir dissipelskap en gehoorsaamheid, nie vir redding nie. ’n Mens kan ’n gelowige in Jesus wees, maar nie ’n dissipel van Hom wees as jy nie in gehoorsaamheid die waterdoop ondergaan het nie.

G. Herdoping
Die sewende en laaste saak omtrent die instelling van die doop, is die vraag: Is daar ooit enige gronde om oorgedoop te word? Daar is een skrifgedeelte, naamlik Handelinge 19:1-7, waar mense oorgedoop is. Hulle was dissipels van Johannes die Doper wat deur hom gedoop was, maar hulle is nooit in die doop van gelowiges ingedoop nie, omdat hulle die land verlaat het voordat Johannes aangewys het dat Jesus die Messias is. In hierdie skrifgedeelte vertel Paulus aan hulle dat Jesus die Een was van wie Johannes voorspel het dat Hy sou kom. Sodra hulle dit geglo het, het Paulus voortgegaan om hulle in die doop van gelowiges te doop. Omdat die doop van Johannes nie die Christelike doop was nie, moes hulle oorgedoop word.

As ’n persoon bybels gedoop is, is daar geen rede om oorgedoop te word nie. Herdoping moenie plaasvind net om by ’n nuwe kerk aan te sluit, soos dit soms gedoen word nie. Herdoping moenie plaasvind net omdat ’n mens dalk by die Jordaanrivier is en spesifiek daar, ter wille van seremoniële redes, gedoop wil word nie.

As iemand egter op ’n onbehoorlike manier gedoop is, behoort so ’n persoon oorgedoop te word. As ’n mens gedoop is voordat jy ’n gelowige geword het, moet jy oorgedoop word. As ’n mens gedoop is toe jy ’n baba was, moet jy oorgedoop word. As ’n mens volgens die verkeerde metode gedoop is deur óf begieting óf besprinkeling, moet jy oorgedoop word. Nie een van hierdie doopmetodes is doop op die bybelse manier nie; en dit is dus nodig dat ’n mens behoorlik, in gehoorsaamheid aan die Here, op die regte manier gedoop moet word.
[end]

Inhoudsopgawe
I. DIE BETEKENIS VAN DIE WOORD “INSTELLING”
     A. Die Definisie
        1. Sakrament
        2. Instelling
     B. Die Kwalifikasies van ’n Instelling
     C. Die Aantal Instellings
     D. Die Noodsaaklikheid vir die Onderhouding van Instellings
II. DIE INSTELLING VAN DIE DOOP
     A. Die Betekenis van die Doop
     B. Die Kwalifikasies van die Doop as ’n Instelling
     C. Die Formule vir die Doop
     D. Die Doopmetodes
        1. Nie-Onderdompeling Metodes
        2. Onderdompeling
     E. Wie Gedoop Moet Word
        1. Die Doop van Babas
           a. Die Redes vir die Doop van Babas
           b. Argumente vir die Doop van Babas
               (1) Die Anti-Tipe van die Besnydenis
               (2) Huisgesin Beloftes
               (3) Insluiting van Babas in Huisgesinne wat Gedoop is
               (4) Kerklike Tradisie
           c. Die Argumente Teen die Doop van Babas
        2. Gelowige Doop
     F. Die Verhouding van die Doop met betrekking tot Redding
        1. Baie Skrifgedeeltes oor Redding
        2. Paulus se Verklaring
        3. ’n Paar Probleem Skrifgedeeltes
           a. Markus 16:16
           b. Johannes 3:5
           c. Handelinge 2:38
           d. Handelinge 22:16
           e. I Petrus 3:20-21
     G. Herdoping

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Wat is die Bybelse beginsels van gee vir die Nuwe-Testamentiese gelowige? Hierdie onderwerp word in drie hoofkategorieë gedek. Eerstens word die beginsels van gee behandel en sluit in basiese beginsels asook die beginsels wat ons in 2 Korinthiërs 8:15 en in 2 Korinthiërs 9:6-14 vind. Die tweede hoofkategorie is die bedrag wat gegee word. Wat was die Ou-Testamentiese en wat is die Nuwe-Testamentiese beginsel van gee rondom die bedrag – en hoe verskil hierdie twee beginsels? Die derde hoofkategorie wat bespreek word gaan oor die ontvangers van wat gegee word. ’n Mens moet sorg aan die dag lê om die beginsels te gebruik wat vir Nuwe-Testamentiese gawes geld. Die gelowige staan nie onder die Wet van Moses nie. Gelowiges gee nie op grond van die tiende nie, maar op grond van die Nuwe-Testamentiese beginsel, naamlik gee volgens genade, of gee onder leiding van die Gees.