Die Kerk en die Jode

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou? – Deuteronómium 4:7-8

I. WAT DIE KERK VAN DIE JODE ONTVANG HET
Altesame vyf dinge wat die Kerk van die Jode ontvang het, kan opgenoem word: die Skrifte, die Verlosser, redding, die konsep van die plaaslike kerk, en geestelike seëninge.

A. Die Skrifte
Die eerste ding wat die Kerk van die Jode ontvang het, is die Skrifte. Dit word uitgelig deur vier skrifgedeeltes.

1. Deuteronómium 4:7-8
Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?

Die Mosaïese Wet was God se standaard vir geregtigheid. As ’n Jood in die Ou Testament wou weet wat die regverdige standaard van God was, het hy die Mosaïese Wet gehad om hom daarvan te vergewis. Dit was die lewensreël, die gedragskode vir die Ou Testamentiese heilige. Maar hierdie twee verse wys uit dat dit uniek vir Israel gegee is.

Daar was twee unieke dinge wat God aan Israel gegee het. Die eerste ding wat uniek aan Israel gegee is, is die konsep van een God en dat God Homself aan Israel geopenbaar het soos aan geen enkele ander nasie nie. Die tweede ding wat God uniek aan die Jode gegee het, is die Wet, wat die primêre Skrifte van daardie tyd was. Met die voltooiing van die Wet, het God die eerste vyf Boeke van die Skrifte gegee, en vir ’n tyd lank was dit die enigste Skrifte. Weer eens, dit is iets wat God aan die Jode gegee het.

2. Psalm 147:19-20
Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja!

Hierdie skrifgedeelte verklaar dat God hierdie skriftuurlike waarhede aan Israel geopenbaar het soos wat Hy dit aan geen ander nasie geopenbaar het nie. Geen ander nasie het ooit hierdie unieke voorreg gehad nie. Weer eens, die klem val daarop dat God hierdie dinge aan die Jode gegee het.

3. Romeine 3:1-2
Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte; ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is.

In hierdie verse wys Paulus op die uiterste voorregte van Israel. Die voordeel van die Jood was nie op die gebied van redding nie, want Jode word nie gered omdat hulle Jode is nie. Jode, soos nie-Jode, word gered op grond van genade deur geloof in die plaasvervangende dood en Opstanding van Jesus, die Messias. Maar hulle word op ’n ander gebied bevoordeel, en dit is die gebied van die Skrifte, want aan die Jode is die woorde van God, die Skrifte, geopenbaar.

Die uiterste voorreg van Israel is nie dat redding na die Jode kom omdat hulle Jode is nie, maar omdat die Skrifte aan hulle gegee is, omdat hulle die openbaring van redding ontvang het.

4. Romeine 9:4
Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes.

Paulus noem verskeie eienskappe of fasette van die Skrifte op, en wys uit dat hulle in die besit van die Israeliete is. Vier fasette van die Skrifte is aan die Israeliete gegee.

Een, die verbonde, wat verwys na die vier onvervulde, onvoorwaardelike, ewige verbonde wat God met Israel gesluit het: die Abrahamitiese Verbond, die Landverbond (of die Kanaänitiese Verbond), die Dawidiese Verbond, en die Nuwe Verbond.

Die tweede faset wat hy noem, is die wetgewing, wat verwys na die een verbond wat God met Israel gesluit het wat sowel voorwaardelik as tydelik was: die Mosaïese Verbond.

Die derde faset is die erediens, wat verwys na die Levitiese diens, die Levitiese stelsel; die hele Skrifgebied wat oor die Levitiese stelsel handel, behoort ook aan die Israeliete.

Die vierde faset is die beloftes, spesifiek die beloftes van die profete.

Hierdie verskillende fasette sluit al die beloftes in van die profete, maar bowenal die belofte van Messiaanse redding. Dit is egter meer as dit, want die woord beloftes, is in die meervoud.

5. Gevolgtrekkings
Daar is drie gevolgtrekkings ten opsigte van die Jode en die Skrifte.

Een, die Skrifte is van die Jode omdat hulle deur die Jode daargestel is, en hulle is deur die Jode bewaar; dit geld vir beide die Ou en die Nuwe Testament.

Twee, die Skrifte is aan die Jode; hulle is aan die Jode toevertrou vir veilige bewaring. Dit was in die dae toe die drukpers nie bestaan het nie, dus was massaproduksie van Skrifkopieë ’n onmoontlikheid. Daarom het die Jode opdrag gekry om die bewaarders van die Woord van God te wees. Wanneer ’n ou teks verslete geraak het, en te oud geword het vir gebruik, het die Jode versigtig nuwe kopieë gemaak; dit was aan hulle toevertrou vir veilige bewaring.

Drie, die Skrifte gaan oor die Jode. Hulle is die verslag van Israel se verlossingsgeskiedenis, maar hulle voorspel ook Israel se verloste toekoms.

Dus, die Kerk het inderdaad die Skrifte van die Jode ontvang.

B. Die Verlossser
Die tweede ding wat die Kerk van die Jode ontvang het, is die Verlosser, want Jesus was ’n Jood.

1. Die Joodsheid van die Verlosser
Die Joodsheid van die Verlosser word verskeie kere in die Skrifte uitgewys. In Johannes 4:9, byvoorbeeld, het die Samaritaanse vrou Hom duidelik uitgeken as ’n Jood toe sy gesê het: Hoe is dit dat u wat ’n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ’n Samaritaanse vrou is?

Later, in Romeine 9:5, nadat Paulus in vers 4 verklaar het dat die Skrifte van die Jode is, voeg hy by in vers 5: uit wie die Christus is na die vlees. Wat betref Sy vlees, Sy mensheid, was Jesus ’n Jood en ’n lid van die Joodse volk.

Hebreërs 7:14 verklaar: Want dit is volkome duidelik dat onse Here uit Juda voortgespruit het, bedoelende dat Hy ’n lid van die Stam van Juda was; en as ’n lid van die Stam van Juda, het dit beteken dat Hy inderdaad ’n Jood was.

Nog ’n skrifgedeelte wat Sy Joodsheid duidelik aantoon, is Galásiërs 4:1-7. Die hoof punt van die konteks is die onderskeid tussen die Abrahamitiese Verbond en die Mosaïese Verbond. Verse 4-7 verklaar: Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.

Volgens hierdie skrifgedeelte, is Jesus gebore onder die wet, bedoelende Hy was ’n Jood. Verder, Hy was gebore as ’n Jood vir twee redes soos gesien in die omruiling van die voornaamwoorde tussen die derde persoonlike voornaamwoord hulle [in die Afrikaanse Bybel vertaal met die wat …] en die eerste persoonlike voornaamwoord ons in vers 5. Die eerste rede hoekom Hy as ’n Jood gebore is, is om die wat onder die wet was [Jode], los te koop. Die tweede rede hoekom Hy as ’n Jood gebore is, is sodat ons [Jode en nie-Jode saam] die aanneming tot kinders kan ontvang.

2. Die Konsep van die Losser
Nog ’n skrifgedeelte ten opsigte van die belangrikheid van die Joodsheid van Jesus, is Hebreërs 2:14-17: Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. Want waarlik, hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.

Die klem in hierdie skrifgedeelte is om te wys hoekom Jesus as ’n mens moes gekom het, en meer spesifiek, as ’n Joodse mens. Dit onderskei, eerstens, tussen gevalle engele en gevalle mense.

Vers 16 wys uit dat Jesus nie besluit het om redding vir engele te voorsien nie, en om daardie rede het Jesus nooit “engelheid” aangeneem nie. Hy het nooit ’n engel geword om ’n plaasvervangende versoening vir ander engele te word nie. God het redding net vir mense voorsien, en daarom het God ’n mens geword. Maar omdat daar met betrekking tot die werk van verlossing ’n besondere verbintenis was ten opsigte van Israel onder die Wet, wys vers 16 uit dat Hy nie as sommer enige mens gekom het nie; Hy het spesifiek gekom as ’n lid van die saad van Abraham. Hy het gekom as ’n Jood.

Die agtergrond van dit waaroor die skrywer handel, is die konsep van die losser in die Ou Testament. Daar was verskeie maniere waarop ’n Jood onder die Wet in die moeilikheid kon gekom het. Een manier was om in ’n posisie te beland waar hy nie die vermoë gehad het om sy skuld terug te betaal nie. As dit met hom gebeur het, was daar net een opsie vir hom beskikbaar; dit was om homself as ’n slaaf te verkoop, vir sy baas te werk vir ses jaar lank, en dan op die sewende jaar, die Sabbatsjaar, vrygelaat te word.

Wanneer hy homself in slawerny verkoop het, was daar twee ander opsies wat hy kon volg. Die eerste opsie was om die ses jaar uit te dien. Die ander opsie het daarvan afgehang of hy ’n losser gehad het wat gewillig sou wees om sy skuld te vereffen sodat hy vroeër vrygelaat kon word. Onder die Wet was daar egter drie vereistes vir ’n losser. Eerstens moes hy die naaste bloedverwant wees; ’n totale vreemdeling kon dit nie doen nie. Tweedens moes hy in die vermoë wees om die losprys te betaal; hy moes oor genoeg persoonlike middele beskik om sy familielid se skulde te betaal. En derdens, hy moes gewillig wees om die prys te betaal, want die Wet het dit nie verpligtend gemaak nie; dit was opsioneel.

Dit is wat in hierdie konteks gebeur. Omdat, menslik gesproke, ’n mens ’n slaaf word van die sonde as jy die sonde dien, het almal, die hele mensdom, onder die slawerny van die sonde gekom. Die Jode, in die besonder, vanweë hulle onvermoë om die Wet volkome te onderhou, het onder die slawerny van die vloek van die Wet gekom. Om aan die eerste vereiste van losserskap te voldoen, moes Jesus as ’n mens gebore word, maar spesifiek as ’n Jood. Tweedens moes Hy die prys van verlossing gehad het, wat in hierdie geval onskuldige bloed was. En derdens moes Hy gewillig gewees het om die prys te betaal, want die Wet het dit nie verpligtend gemaak nie. Jesus was inderdaad gewillig om die prys te betaal. In Johannes 10:18 het Jesus self verklaar: Niemand neem [My lewe] van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Dus, die hele konsep van Jesus se verlossingswerk sluit nou aan by die feit dat Hy ’n Jood was.

C. Redding
Die derde ding wat die Kerk van die Jode ontvang het, is redding. Terwyl Jesus met ’n Samaritaanse vrou gepraat het wat haar eie persepsie van redding gehuldig het, verklaar Hy in Johannes 4:22: Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.

Daar is drie maniere waarop die saligheid uit die Jode [is]. Eerstens, die belofte van Messiaanse verlossing is aan die Jode gegee. Tweedens is daar die plan van verlossing wat Joodse bloed vereis het. En derdens, die eerste verkondigers van verlossing was Jode. In hierdie drie opsigte het die Kerk, inderdaad, verlossing uit die Jode ontvang.

D. Die Konsep van die Plaaslike Kerk
Die vierde ding wat die Kerk van die Jode ontvang het, is die konsep van die plaaslike kerk (of die plaaslike gemeente). Dit kom van die konsep van die bymekaarkomplek, die plaaslike sinagoge, ’n konsep wat geheel en al Joods is. Selfs die term “ouderling,” wat die hoof term in gebruik is vir kerkleierskap, is van Joodse herkoms, want in die Joodse gemeenskap was daar ouderlinge. Die hele konsep van die plaaslike samekoms, is dus ’n Joodse konsep.

Verder was die beoefening van die doop ’n Joodse gebruik lank voordat dit ’n kerkgebruik geword het.

Laastens, selfs die Nagmaal is iets wat van die Jode kom, want die Nagmaal is ’n verkorte weergawe van die Joodse Pasga. Die twee hoof elemente van die Pasga, naamlik ongesuurde brood en wyn, is die twee dinge wat Jesus in die kerklike konsep ingebring het om te onderhou totdat Hy terugkom.

Hierdie drie dinge het die Kerk van die Jode ontvang: die plaaslike samekoms, die doop, en die Nagmaal, wat al drie van Joodse oorsprong is.

E. Geestelike Seëninge
Die vyfde ding wat die Kerk van die Jode ontvang het, is geestelike seëninge. Dit word baie duidelik deur twee belangrike skrifgedeeltes uitgewys.

1. Romeine 15:27
Hulle het dit goedgevind, sê ek, en hulle is ook hul skuldenaars; want as die heidene deel gekry het aan hulle geestelike voorregte, is hulle ook verskuldig om hulle met stoflike goedere te dien.

Hierdie vers verklaar duidelik dat nie-Joodse gelowiges deelagtig geword het aan Joodse geestelike seëninge.

2. Efésiërs 2:11-16 en 3:5-6
Wat dit presies beteken, word in besonderhede uitgelê in die tweede skrifgedeelte, wat in twee dele uiteenval.

Die eerste deel is Efésiërs 2:11-16: Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis in die vlees wat met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daarna die vyandskap doodgemaak het.

Die tweede deel is Efésiërs 3:5-6: wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie.

Die punt van hierdie skrifgedeeltes is dat God vier onvervulde verbonde met Israel gesluit het, wat onvoorwaardelik en ewig is. Al God se geestelike seëninge word deur hierdie vier verbonde bemiddel. Hulle toon ook aan dat God ’n ander verbond gemaak het, die Mosaïese Verbond, wat die wet van gebooie is wat in insettinge bestaan (2:15). Een van die baie redes vir hierdie ander verbond, die tydelike een, was om te dien as ’n middelmuur van skeiding om die nie-Jode as nie-Jode, te weerhou van die voorreg van Joodse geestelike seëninge. Toe Jesus gesterf het, het Hy hierdie middelmuur van skeiding afgebreek. Nou kan nie-Jode, as nie-Jode, deur geloof in die Messias, begin deel in die vreugde van die geestelike seëninge van hierdie Joodse verbonde. Hulle het nie “oornemers” geword nie, maar mededeelgenote (3:6). Die geestelike seëninge van redding, die inwonende Heilige Gees, voorsiening, versorging, beantwoorde gebede, is geestelike seëninge waarvan die nie-Jode mededeelgenote geword het.

II. WAT DIT DIE KERK GEKOS HET OM DIE EVANGELIE VAN DIE JODE TE WEERHOU
Teen die vierde eeu het Joodse evangelisering feitlik opgehou. Toe Joodse evangelisering opgehou het, het die getal Joodse gelowiges minder en minder begin word totdat hulle uiteindelik uit die kerkgeskiedenis verdwyn het. Eers in die 1800’s het die aantal Joodse gelowiges, vergelykenderwys gesien, weer teen ’n vinnige pas begin toeneem.

Maar die Kerk se mislukking om die evangelie met die Jode te deel, het tot vier hoof probleme gelei: die Kerk het sy balans verloor, die Kerk het sy Goddelike seëninge verloor, die Kerk het sy leerstellige eenheid verloor, en die Kerk het sy leerstellige suiwerheid verloor.

A. Die Kerk het sy Balans Verloor
Efésiërs 2:11-16 leer nie net dat die Kerk geestelike seëninge deur die Jode ontvang het nie, maar dit handel ook oor die konsep van die een nuwe mens, die Kerk. In vers 15 wys Paulus uit dat hierdie een nuwe mens saamgestel is uit sowel Joodse gelowiges as nie-Joodse gelowiges. Vir die Kerk om sy balans te kon behou, het dit beide Joodse gelowiges en nie-Joodse gelowiges nodig gehad wat in een liggaam verenig was.

Ongelukkig het die Kerk, weens die versuim om die evangelie aan die Jode te verkondig, sy balans verloor; baie van ons kerkskeurings en leerstellige probleme is veroorsaak omdat daar geen Joodse gelowiges in die Kerk was om ’n korrektiewe maatstaf te voorsien nie.

B. Die Kerk het sy Goddelike Seëninge Verloor
Die tweede ding wat die Kerk verloor het deur die evangelie van die Jode te weerhou, is sy Goddelike seëninge.

1. Die Beginsel van die Verbond: Génesis 12:3
Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek.

Een manier waarop ’n mens die Jode kan vervloek, is deur die evangelie van hulle te weerhou. Diegene wat teen Joodse evangelisering gekant is, en erger nog, diegene wat hierdie standpunt in die praktyk toepas, ontneem hulleself en ook die Kerk outomaties van God se seëninge.

2. Die Werking van die Verbond
Om die evangelie van die Jode te weerhou, was ’n vorm van meerderwaardigheid teenoor die Jode, die afgebreekte takke. Hierteen het Paulus die nie-Joodse wêreld gewaarsku in Romeine 11:13-29, waar hy die nie-Joodse wêreld, die wilde olyftakke, vermaan om hulle nie aan te stel teenoor die natuurlike, Joodse takke wat afgebreek is nie. Maar toe die nie-Joodse gelowiges ’n hovaardige houding begin inneem het en gesê het, “Die Jode kan nie meer gered word nie,” het hulle in wese begin spog teenoor die Joodse takke.

Hierdie grootspraak neem verskillende vorms aan. Een van die hoof vorms is in die sistematiese teologie wat bekend staan as “Verbondsteologie.” Daar is drie hoof strominge van die Verbondsteologie: Verbonds-Postmillennialisme, Verbonds-Amillennialisme, en Verbonds-Premillennialisme. Al hierdie strominge identifiseer tot ’n mindere of meerdere mate die Kerk as die “Nuwe Israel.” Hulle almal sê dat sekere van die beloftes wat God aan Israel gemaak het, nooit aan ’n letterlike, etniese Israel vervul sal word nie, maar dat dit inteendeel net aan die Kerk vervul sal word. Verbondsteologie, wat die Joodse seëninge op homself van toepassing gemaak het, maar die Jode met die vervloekinge gelos het, is skuldig aan aanstellery teenoor die takke, en dit is presies waarteen die hele Brief aan die Romeine waarsku.

Die Brief aan die Romeine, die eerste sistematiese teologie, bevat die temas van Bybelse geloof in leerstelling en praktyk. In die eerste agt hoofstukke handel Paulus met die teologie van God se geregtigheid. Hy wys uit dat die geregtigheid van God geopenbaar is teenoor al die ongeregtighede van die mense, en dat alle mense, Jode eweneens as nie-Jode, tekort skiet en nie kan opweeg teen God se geregtigheid nie. Omdat die mens, op sy eie, nie kan opweeg teen die geregtigheid van God nie, het God die stap gedoen om geregtigheid vir die mens deur Sy Seun te voorsien.

Daar is drie fasette van God se geregtigheid in die werk van verlossing. Die aspek in die verlede is regverdigmaking; sodra ’n persoon glo dat Jesus die Messias is, is hy vir eens en vir altyd geregverdig van die sonde. Die teenwoordige faset van God se verlossende geregtigheid, is heiligmaking; die Heilige Gees woon nou by ons in, en verander ons met verdrag meer en meer na die beeld van die Seun van God. Die toekomstige faset van God se verlossing is verheerliking; eendag sal ons verheerlik word, en dan sal ons soos Hy wees. Dit is die teologie van God se geregtigheid.

In die lig van die teologie van God se geregtigheid in hoofstukke 1-8, behandel Paulus dan in hoofstukke 12-16 die geregtigheid van God in die praktyk. Die vraag is, “Nou goed, watse verskil maak dit nou eintlik?” Hy wys hoe ’n mens van dag tot dag God se geregtigheid moet uitwerk in jou lewe. Dit is die rede hoekom die Brief aan die Romeine die groot geskrif is oor beide die leer en die toepassing van God se geregtigheid.

Tussen die teologie van God se geregtigheid in hoofstukke 1-8, en die toepassing van God se geregtigheid in hoofstukke 12-16, behandel Paulus in hoofstukke 9-11 die kwessie van Israel en hoe God se geregtigheid in verlede, hede en toekoms, uitgewerk word in Sy handelwyse met Israel. Wat die verlede betref, het Israel se verwerping van die Messiasskap van Jesus, God nie onverhoeds betrap in hoofstuk 9 nie; dit was baie wesenlik deel van die goddelike plan. Wat die hede betref, handel God nie met die Jode as ’n volk nie, maar met individuele Jode, sodat wie ookal wat die naam van die Here aanroep, Jood of nie-Jood, gered sal word in hoofstuk 10. Dan behandel hy beide die hede en die toekoms in hoofstuk 11. In die hede, selfs vandag, is daar ’n Oorblyfsel onder die Jode volgens die uitverkiesing van God se genade. Daar is Jode wat individueel tot reddende geloof kom, en hulle word die Oorblyfsel van Israel, die ware Israel van God. Wat die toekoms betref, gaan die hele Israel gered word wanneer die dag aanbreek dat die volheid van die nie-Jode ingekom het. Paulus behandel dus die teologie van Israel of Israelogie tussen sy bespreking van die teologie van God se geregtigheid en die toepassing van God se geregtigheid.

3. Die Sentrum van ’n Mens se Teologie
Die punt is duidelik: die Jood moet die sentrum van ’n mens se teologie wees. Dit is die presiese gebied waar die Verbondsteologie misluk het. Dispensasionalisme vervul hierdie bybelse vereiste. Verbondsteologie misluk om hierdie vereiste na te kom vanweë sy volgehoue verwardheid tussen Israel en die Kerk.

Op grond van die rol wat Dispensasionele Teologie aan Israel toeken, is daar ’n gevoel van dringendheid op die gebied van Joodse evangelisering. Dit is waarom, selfs vandag nog, die meeste Joodse sendingaksies in lande soos Amerika deur dispensasionele kerke ondersteun word eerder as deur kerke wat die leer van die Verbondsteologie huldig. Hulle ingesteldheid teenoor Joodse evangelisering word ’n standaard waarvolgens hulle teologie geoordeel word: aan hulle vrugte sal hulle geken word. Aanhangers van die Verbondsteologie kan Israel nie in ag neem nie, omdat daar by hulle verwarring bestaan tussen Israel en die Kerk; vir hulle is die Kerk die hele “sak patats” van God se program.

’n Teologie van enige aard wat daartoe lei dat die evangelie nie aan die Jode verkondig word nie, wys uit dat die voorstanders daarvan hulle skuldig maak aan grootpratery teenoor die afgebreekte takke. Diegene wat hulle aanstel teenoor die afgebreekte takke, ontvang nie sekere seëninge van God nie.

C. Die Kerk het sy Leerstellige Eenheid Verloor
Die derde ding wat die Kerk verloor het, is sy leerstellige eenheid. So baie kerke het geskeur oor kwessies wat dalk voorkom kon gewees het deur net eenvoudig die Joodse perspektief te verstaan.

1. Die Kwessie van die Doop
’n Voorbeeld is hoe die Kerk in twee opsigte oor die kwessie van die doop geskeur het. Die een opsig is die manier van die doop: Moet daar gedoop word deur onderdompeling of deur besprenkeling of deur die uitgooi van water? Die antwoord is: net deur onderdompeling. Dit moet in gedagte gehou word dat die doop ’n Joodse gebruik was lank voordat dit ’n gebruik in die Kerk was. As daar Joodse gelowiges in die gemeente was vir wie daar gevra kon word, “Hoe het die Jode gedoop?” kon hulle geantwood het, “Ons het altyd gedoop deur onderdompeling.” Maar wat van die doop van babas? Jode onderdompel nie babas nie. Onderdompeling is vir die wat oud genoeg is om ’n besluit te neem.

Die doop is een van die hoof areas waar die Kerk geskeur en sy leerstellige eenheid verloor het, en hierdie kwessie kon opgeklaar gewees het as die Joodse gelowiges nie uit die kerke verdwyn het nie.

2. Die Kwessie van die Nagmaal
’n Tweede voorbeeld is die kwessie van die Nagmaal. Kerke het geskeur oor die kwessie van transubstansiasie of konsubstansiasie. Maar hulle sou vir die Joodse gelowige kon gevra het, “Wat is die betekenis van die Nagmaal?” Die Jood sou kon uitwys dat dit net deel is van die Pasga, en dat die Here Jesus die twee hoof elemente van die Pasga, die brood en die beker, geneem het en dit geïdentifiseer het met Sy liggaam en Sy bloed.

Die sleutelwoord in die Pasga is “gedagtenis.” Dit is wat Jesus benadruk het: om dit te doen ter gedagtenis aan Hom. Dit is die betekenis van die Nagmaal; daar bestaan nie so ’n ding soos verandering van brood en wyn in die liggaam of die bloed van die Messias nie.

3. Die Leer van Amillennialisme
’n Derde voorbeeld van hoe die Kerk sy leerstellige eenheid verloor het, is die leer van Amillennialisme wat sê dat, hoewel die Messias eendag sal terugkom, Hy nie sal kom om letterlik enige soort koninkryk op hierdie aarde te kom vestig nie. ’n Joodse gelowige sou gesê het, “Dit kan jy nie beweer sonder om Sy Messiaanse geloofwaardigheid in gevaar te stel nie.” Byvoorbeeld, as Jesus nie uit ’n maagd gebore was nie, is Hy nie die Messias nie, want dit vorm deel van Sy Messiaanse geloofwaardigheid. Of, as Jesus nie in Betlehem gebore was nie, is Hy nie die Messias nie, want dit vorm deel van Sy Messiaanse geloofwaardigheid. Of, as Jesus nie gesterf het volgens die beskrywings in Psalm 22 en Jesaja 53 nie, dan is Hy nie die Messias nie, want dit vorm deel van Sy Messiaanse geloofwaardigheid. Op dieselfde basis, as Jesus nie gaan kom vir die doel om ’n letterlike konkinkryk op hierdie aarde te kom vestig nie, dan weer eens, is Hy doodeenvoudig nie die Messias nie, omdat ook dit deel vorm van Sy Messiaanse geloofwaardigheid.

4. Die Kwessies van Wettisisme
’n Vierde voorbeeld van hoe die Kerk sy leerstellige eenheid verloor het, is die kwessies van wettisisme. Kerke het geskeur oor sulke sake soos watter gedeeltes van die Wet om te onderhou of nie te onderhou nie, wat geld vir die Sabbat, sowel as vir drink en dans. Weer eens, niemand het vir ’n Joodse gelowige gevra nie, “Wat beteken hierdie dinge in die Joodse verwysingsraamwerk waarin die Bybel geskryf is?”

D. Die Kerk het sy Leerstellige Suiwerheid Verloor
Die vierde ding wat die Kerk verloor het omdat hy die evangelie van die Jode weerhou het, is sy leerstellige suiwerheid.

1. Deur Vals Leerstellings
Een manier waarop die Kerk sy leerstellige suiwerheid verloor het, is deur vals leerstellings soos dié van Katolisisme, wat die kwessie van beelde ingebring het en die gebruik begin het om te buig voor standbeelde van Jesus, van Maria, van Josef, en van die heiliges, en die kruis oor hulleself te slaan. Omdat hulle die evangelie lank genoeg van die Jode weerhou het om hulle uit die Kerk uit te laat verdwyn, het die nie-Jode geen probleem daarmee gesien om hierdie beelde in die kerk in te bring en voor hulle te buig nie. Geen Joodse gelowige sou ooit hierdie soort vervalsing van God se waarheid toegelaat het nie. Die probleem van Katolisisme en al die vals leringe wat daarmee saam gekom het, kon vermy gewees het as daar Joodse gelowiges in die Kerk was.

2. Deur Liberalisme
Nog ’n manier waarop die Kerk sy leerstellige suiwerheid verloor het, is deur liberalisme. Liberalisme het met die draai van die twintigste eeu in die kerke begin posvat toe predikante sulke fundamentele leerstellings soos die maagdelike Geboorte, die inspirasie van die Skrifte, en die letterlike Opstanding van Jesus begin ontken het. En weer eens, dit het gebeur omdat daar nie meer Jode in die Kerk was om hierdie soort vals leringe in die kiem te smoor nie. As ’n predikant van die kansel af gesê het dat Jesus nie uit ’n maagd gebore was nie, sou ’n Joodse gelowige dit nie kon aanvaar het nie, want dit was deel van Sy Messiaanse geloofwaardigheid. As hy ontken het dat Jesus uit die dood uit opgestaan het, sou geen Joodse gelowige dit aanvaar het nie, want ook dit is deel van Sy Messiaanse geloofwaardigheid. Verder, as hy die inspirasie van die Skrifte begin ontken het, sou ’n Joodse gelowige wat die Skrifte liefhet, en wat weet dat baie bloed gevloei het vir die bewaring van die Skrifte, dit eenvoudig nie aanvaar het nie. En so het die Kerk ook sy leerstellige suiwerheid verloor deur die evangelie van die Jode te weerhou.

III. DIE KERK SE VERANTWOORDELIKHEID TEENOOR DIE JODE
Daar is ten minste drie aspekte van die Kerk se verantwoordelikheid teenoor die Jode: evangelisering van die Jode, die deel van materiële dinge, en bid vir die Jode.

A. Evangelisering van die Jode
Die eerste aspek van die Kerk se verantwoordelikheid is op die gebied van evangelisering: die Kerk is daarvoor verantwoordelik om die evangelie eerste aan die Jood te verkondig.

1. Die Beginsel van Evangelisering – Romeine 1:16
Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.

Hierdie vers gee die beginsel van evangelisering: altyd wanneer die evangelie uitgedra word, op watter manier dit ookal uitgedra word, moet dit eerste vir die Jood uitgaan. Daar is net een werkwoord wat die laaste twee sinsdele beheer, naamlik die werkwoord is. Dit is in die Griekse teenwoordige tyd, wat voortgaande handeling uitdruk. Dit beteken dat die evangelie voortdurend God se krag tot redding is, en daarom is dit voortdurend eerste vir die Jood. As ’n mens probeer om hierdie vers te herinterpreteer, soos wat so baie al gedoen het, naamlik dat dit net eenvoudig sou beteken dat “die evangelie eerste vir die Jood was, maar nie langer is nie,” dan sou die vers ook moes beteken het dat “die evangelie God se krag was om te red, maar dit nie meer is nie.” As die evangelie altyd God se krag is om te red, dan is dit altyd eerste vir die Jood en ook vir die Griek.

2. Die Beginsel Geld vir Alles
Hierdie beginsel geld ongeag die metode van evangelisering, of dit persoon tot persoon, deur tot deur, radio, TV, massa evangelisering, of wat ook al is. Hierdie beginsel geld ongeag spesifieke individuele geroepenheid. Dit geld vir beide aktiewe evangelisering, wanneer ’n mens die werk van ’n evangelis doen, en vir passiewe evangelisering, wanneer ’n mens diegene ondersteun wat die werk van evangelisering doen. In altwee gevalle is die evangelie eerste vir die Jood.

Daar is mense wat sê, “Dis een ding vir die evangeliste van Ariel Bedieninge om hierdie beginsel te volg, want hulle is voltyds in die bediening van Joodse evangelisering, maar geld hierdie beginsel ook wel vir iemand wat geroepe is om na ander plekke toe te gaan; soos Sjina, Japan, die Amerikaanse Indiane, Taiwan, Afrika, Australië, Nieu-Seeland? Geld dit regtig in hierdie gevalle?”

Paulus spreek hierdie presiese kwessie aan in Romeine 11:13-14: Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek ’n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening – as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!

Hier wys Paulus na homself as iemand wat nie geroep was om na die Jode te gaan nie. Sy roeping was om die apostel vir die nie-Jode te wees, terwyl Petrus die apostel vir die Jode was. En tog, hoewel Paulus se roeping tot die nie-Jode was, het hy nooit die beginsel van Romeine 1:16 vergeet nie. Orals waar hy heen gegaan het, het hy eerste vir die Jood gegaan.

3. Die Beginsel in die Praktyk
Paulus se optrede in die Boek Handelinge, wys presies hoe hierdie beginsel werk, beginnende by Handelinge 13:2-3: En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan.

Dit was in Handelinge 9 dat Paulus sy opdrag gekry het om die apostel vir die nie-Jode te wees, maar eers vanaf hoofstuk 13 word hy deur die Kerk van Antiochíë gestuur om presies dit te gaan doen. Nou gaan die apostel vir die nie-Jode na die nie-Jode toe, maar sy werkwyse is altyd eerste vir die Jood.

Handelinge 13:5 verklaar: En toe hulle in Sálamis kom, het hulle die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig.

Vers 14 verklaar: Maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit.

Handelinge 14:1: En op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat ’n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het.

Handelinge 16:12-13a: en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, ’n kolonie. En ons het in hierdie stad ’n paar dae deurgebring. En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ’n rivier waar die gebruiklike bidplek was.

Hierdie bidbyeenkoms was op die Sabbatdag, wat beteken dat dit ’n Joodse biddag was. In Filíppi waar Paulus aangekom het, was die Joodse gemeenskap te klein om ’n sinagoge te hê, en hy kon dus nie onmiddellik na die sinagoge toe gaan om die evangelie te verkondig nie. As daar nie genoeg Jode in ’n gemeenskap was om ’n sinagoge te finansier nie, was die Joodse reël dat hulle hul bidbyeenkoms op die Sabbat, by ’n plek moes hê waar daar water was. Paulus het gewag tot op die Sabbatdag, na ’n plek toe gegaan waar hy geweet het die Jode bymekaar sou kom, en sy opdrag uitgevoer om die evangelie eerste aan die Jood te verkondig.

Nog ’n geleentheid waar die beginsel van Romeine 1:16 in die praktyd gesien word, is Handelinge 17:1-2: Toe het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar ’n sinagoge van die Jode was. En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte.

En weer in Handelinge 17:10: Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.

En in Handelinge 17:16-17a: En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was. Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense.

Toe Paulus in Athéne gekom en gesien het die stad was oorgegee aan afgodsdiens, is sy gees opgewek om vir die mense wat die afgode aanbid het, te preek. Dit was egter nie die Jode wat hierdie afgode aanbid het nie, want teen daardie tyd was afgodery nie meer ’n Joodse probleem nie. Dit was die nie-Jode van Athéne wat hierdie afgode aanbid het, en hy was opgewek om vir hierdie nie-Jode te preek. Maar die beginsel van Romeine 1:16 moes geld, en daarom het hy in vers 17 eers na die sinagoge gegaan, en daarvandaan in vers 18, na die Griekse heidene toe gegaan.

Handelinge 18:1 verklaar: En daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom.

Vers 4 verklaar: En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig.

Vers 19 verklaar: En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek.

Handelinge 19:1 verklaar: En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom.

Vers 8 verklaar: En hy het in die sinagoge ingegaan en vrymoediglik drie maande lank met hulle geredeneer en hulle probeer oortuig van die dinge wat die koninkryk van God aangaan.

Ten slotte in Handelinge 28:17: En ná drie dae het Paulus die vernaamste Jode saamgeroep. Omdat Paulus ’n gevangene was toe hy in Rome aangekom het, kon hy nie na die sinagoge toe gaan nie. Om dus aan Romeine 1:16 te voldoen, het hy die Jode na hom toe laat kom sodat hy die evangelie eerste aan die Jood kon verkondig.

Romeine 1:16 is die beginsel; Romeine 11:13-14 leer dat die beginsel vir alles geld; en die Boek van die Handelinge wys die beginsel en die handeling in die praktyk. Die evangelie moet altyd eerste vir die Jood wees, in sowel aktiewe evangelisering wanneer ’n mens die werk van ’n evangelis doen soos wat hierdie skrifgedeeltes in Handelinge aantoon, asook in passiewe evangelisering wanneer ’n mens diegene ondersteun wat die werk van ’n evangelis doen.

B. Deel in Materiële Dinge
Die tweede aspek van verantwoordelikheid wat die Kerk teenoor die Jode het, is om materiële dinge met hulle te deel, veral met Joodse gelowiges.

Romeine 15:25-27 verklaar: Maar nou reis ek na Jerusalem in diens van die heiliges. Want Macedónië en Achajé het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem. Hulle het dit goedgevind, sê ek, en hulle is ook hul skuldenaars; want as die heidene deel gekry het aan hulle geestelike voorregte, is hulle ook verskuldig om hulle met stoflike goedere te dien.

Hierdie skrifgedeelte leer dat die heidene die Jode se skuldenaars geword het omdat die heidene deel gekry het aan die geestelike voorregte van die Jode, ’n punt wat vroeër gemaak is. Die manier waarop die nie-Joodse gelowiges hulle skuld betaal of daarvoor vergoed, is om aan die fisiese behoeftes van die Joodse gelowiges te voldoen. Dit sluit ook die finansiële ondersteuning in van bedienige vir Joodse evangelisering. Dit is ’n goeie voorbeeld van passiewe evangeslisering eerste vir die Jood. Nie-Joodse gelowiges is verplig om op een of ander materiële manier met Joodse gelowiges en Joodse evangeliseringsbedieninge te deel.

C. Bid vir die Jode
Die derde aspek van die Kerk se verantwoordelikheid teenoor die Jode is om vir hulle te bid. Psalm 122:6 verklaar: Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe! Hierdie vers begin met ’n bevel: Bid om die vrede van Jerusalem. Die wat vir die vrede van Jerusalem bid, word seëninge belowe wat op geen ander manier verkry kan word nie. Die wat bid, sal deur God geseën word deur die onderhouding van die verbond: Ek sal seën diegene wat jou seën. Volgens Bybelse profesieë is die vrede van Jerusalem verbind met die Wederkoms.

Die een voorvereiste vir die Wederkoms is Israel se nasionale redding. Die manier waarop daar vir die vrede van Jerusalem gebid moet word, is om te bid vir die redding van die Jode. Jesaja 62:1-2 verklaar: Ter wille van Sion sal Ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos ’n glans en sy heil soos ’n fakkel wat brand. En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou heerlikheid; en jy sal met ’n nuwe naam genoem word wat die mond van die HERE sal noem.

In die oorhoofse konteks wat hierdie skrifgedeelte voorafgaan, is daar aan die profeet Jesaja openbarings gegee oor die toekomstige glorie van Jerusalem as ’n geredde stad en die hoofstad van ’n geredde nasie. Op grond van daardie profesie, verklaar Jesaja nou dat hy sal bid, en sal aanhou bid, totdat die profesie vervul word.

Later, in verse 6-7 voeg hy by: o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ’n lof op aarde!

Die punt van hierdie twee verse is dat God engele op die mure van Jerusalem uitgesit het. Hulle enigste bediening is om God voortdurend te herinner aan Sy belofte om Jerusalem die sentrum van die aarde en ’n geredde stad te maak. Dis nie net Jesaja wat bid nie, maar engele bid ook vir die redding van Jerusalem.

Nog een voorbeeld in dieselfde trant is Romeine 10:1: Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.

Paulus is ’n voorbeeld van ’n Nuwe Testamentiese heilige; sy gebedslewe, te midde van baie dinge, het onder andere bestaan uit versoeke vir die redding van die Jode. Dit is die derde verantwoordelikheid wat die Kerk teenoor die Jode het: om te bid vir die redding van die Jode.

[end]

Inhoudsopgawe

I. WAT DIE KERK VAN DIE JODE ONTVANG HET
     A. Die Skrifte
         1. Deuteronómium 4:7-8
         2. Psalm 147:19-20
         3. Romeine 3:1-2
         4. Romeine 9:4
         5. Gevolgtrekkings
     B. Die Verlosser
         1. Die Joodsheid van die Verlosser
         2. Die Konsep van die Losser
     C. Redding
     D. Die Konsep van die Plaaslike Kerk
     E. Geestelike Seëninge
         1. Romeine 15:27
         2. Efésiërs 2:11-16 en 3:5-6
II. WAT DIT DIE KERK GEKOS HET OM DIE EVANGELIE VAN DIE JODE TE WEERHOU
     A. Die Kerk het sy Balans Verloor
     B. Die Kerk het sy Goddelike Seëninge Verloor
         1. Die Beginsel van die Verbond – Génesis 12:3
         2. Die Werking van die Verbond
         3. Die Sentrum van ’n Mens se Teologie
     C. Die Kerk het sy Leerstellige Eenheid Verloor
         1. Die Kwessie van die Doop
         2. Die Kwessie van die Nagmaal
         3. Die Leer van Amillennialisme
         4. Die Kwessies van Wettisisme
     D. Die Kerk het sy Leerstellige Suiwerheid Verloor
         1. Deur Vals Leerstellings
         2. Deur Liberalisme
III. DIE KERK SE VERANTWOORDELIKHEID TEENOOR DIE JODE
     A. Evangelisering van die Jode
         1. Die Beginsel van Evangelisering: Romeine 1:16
         2. Die Beginsel Geld vir Alles
         3. Die Beginsel in die Praktyk
     B. Deel in Materiële Dinge
     C. Bid vir die Jode

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Die Leer omtrent die Oorblyfsel van Israel word in hierdie artikel beskryf met verwysing na die verlede, die hede en die toekoms. As ’n leerstelling, het die teologie van die Oorblyfsel met Elía begin, is toe deur die geskrifte van die profete ontwikkel, en is in die Nuwe Testament voortgesit. In kort beteken hierdie leer dat daar altyd binne die Joodse volk as geheel sommiges is wat glo, en almal wat glo, vorm die Oorblyfsel van Israel. Daar is dus twee Israels: die Hele Israel en die Oorblyfsel van Israel. Etnies (dit is: biologies gefundeerd) is die twee dieselfde, maar geestelik is hulle nie.