Die koningskap van die Messias

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ʼn voetbank vir u voete. – Psalm 110:1

INLEIDING
Hierdie studie oor die Koningskap van die Messias sal in drie hoof afdelings bespreek word: een, die teologie van Koningskap; twee, om die Messias Here van ’n mens se lewe te maak; en drie, die toepassing van die Koningskap van die Messias op ’n paar spesifieke gebiede.

I. DIE TEOLOGIE VAN KONINGSKAP
Die eerste hoof afdeling is die teologie van Koningskap. Ons sal dit in drie afsonderlike afdelings bespreek: eerstens, die betekenis; tweedens, die Koningskap van die Messias; en derdens, die verhouding van Koningskap met betrekking tot verlossing.

A. Die Betekenis van die Terme
Om te verstaan wat met Koningskap bedoel word, moet vier spesifieke terme bespreek word.

1. Jehovah
Heel eerste is die term Jehovah. In Hebreeus bestaan hierdie naam uit vier letters, wat in die Afrikaanse alfabet ooreenkom met JHWH. In die meeste Afrikaanse vertalings word hierdie naam van God vertaal met HERE (Eng: LORD), met al vier letters in hoofletters. In ander (meestal Engelse) vertalings word die woord Jehovah gebruik; so ook waar nodig, vir die doel van hierdie studie.

Hierdie naam vir God, HERE of Jehovah, word in totaal 6,832 keer in die Hebreeuse Bybel gebruik en het vyf spesifieke aspekte. Een, die grondbetekenis is “om te wees”. Dit onderskryf God as die ewige, selfbestaande Een (Ex. 3:14). Twee, dit onderskryf God as ’n verbondhouer, veral ten opsigte van Sy verhouding met Israel, want God staan met Israel in ’n verbondsverhouding (Gen. 15:12-21). Die derde aspek onderskryf God as die onveranderlike Een (Mal. 3:6). Die vierde aspek onderskryf God se geregtigheid en onderskryf Jehovah as die Regter op grond van Sy geregtigheid (Gen. 18:25-26; Ps. 11:4-6). Die vyfde aspek onderskryf God se liefde, omdat Hy, as Jehovah, die Redder en Verlosser van die sondaar is (Jes. 63:7-9; Jer. 31:1-6). Dit is ’n uitvloeisel van die liefde van Jehovah.

2. Adon
Die tweede spesifieke term wat in die konsep van Koningskap gebruik word, is die Hebreeuse woord Adon wat in Afrikaanse Bybels op drie maniere vertaal word: “meester”; “heer”, wanneer dit vir mense gebruik word; en “Here” met ’n hoofletter-H, wanneer dit vir God gebruik word. Terwyl al vier letters van JHWH of Jehovah met hoofletters vertaal word – HERE – word Adon net vertaal met die eerste letter as ’n hoofletter – Here.

Die woord Adon word vir sowel God as mense gebruik. In die Hebreeuse Bybel word dit meer as driehonderd verskillende kere vir mense gebruik en dit het sewe verskillende aspekte: een, dit word gebruik vir ’n man in sy hoedanigheid as hoof van sy vrou (Gen. 18:12); twee, dit word gebruik as ’n beleefdheids-aanspreekvorm, soos in Oudengels my lord en in Afrikaans my heer (Gen. 23:6); drie, dit word gebruik vir die eienaar van ’n slaaf (Gen. 24:12); vier, dit word gebruik as aanduiding van grondbesit (Gen. 42:30); vyf, dit word gebruik vir die opsiener van ’n huishouding (Gen. 45:8); ses, dit word gebruik as ’n titel van eerbetoon (Num. 11:28); en sewe, dit word gebruik as ’n term vir ’n koning (I Sam. 26:17).

Dit word egter ook vir God gebruik, en dertig keer word dit gebruik in verbinding met die term Jehovah of JHWH, wat Sy uitsonderlike Koningskap onderskryf (Ex. 34:23; Deut. 10:17; Ps. 97:5; 114:7; 135:5; 136:1-3; Jes. 1:24; 3:1; 10:16, 33; 19:4; Miga 4:13; Sag. 6:5). Hierdie gebruike van Adon in verbinding met Jehovah toon vyf verskillende aspekte van betekenis: een, Adon beklemtoon God as ’n meester (hoof); twee, God as Here; drie, God as opperheerser; vier, dat God eienaar is van hierdie wêreld; en vyf, dat God die Een in beheer van hierdie wêreld is.

3. Adonai
Die derde spesifieke term is die Hebreeuse woord, Adonai, wat gebou is op die tweede term. Dit is ’n Hebreeuse meervoudsvorm wat beteken “my Here”, en wat God onderskryf as ’n meester (in die betekenis van hoof / gesagvoerder). Waar die enkelvoud Adon vir sowel God as mense gebruik word, word die meervoud Adonai net van God gebruik. Dit word in totaal 449 keer gebruik: 135 keer word dit heeltemal op sy eie gebruik; 315 keer word dit saam met die naam Jehovah gebruik: 310 keer is dit Adonai Jehovah en 5 keer Jehovah Adonai.

Hierdie gebruike het drie verskillende aspekte: een, die vrees van die Here is die bron van wysheid (Job 28:28); twee, dit onderskryf God se eienaarskap van die wêreld (Ps. 8:1-10); en drie, dit beklemtoon God se eis vir absolute gehoorsaamheid (Mal. 1:6). Die naam Jehovah toegepas op Koningskap konsepte, beklemtoon ons afhanklikheid van die Here en die term Adonai lê klem op die gehoorsaamheid wat die Here van ons verwag.

4. Kurios
Die vierde spesifieke term is die een Griekse term wat hoofsaaklik gebruik word: Kurios. In klassieke Grieks was dit op drie maniere gebruik: een, om klem te lê op iemand as ’n eienaar; twee, as iemand wat volledig gesag uitoefen; en drie, as iemand wat wettige beskikkingsmag het. Dit was hoegenaamd nooit vir die Griekse gode gebruik nie.

In die Septuaginta, word dit 6,156 keer van die 6,832 keer waar Jehovah verskyn, as die Griekse ekwivalent van Jehovah gebruik. Dit word ook gebruik om die terme Adon en Adonai te vertaal. Kurios word vir sowel God as mense gebruik, en dit word ook gebruik vir ’n ander Hebreeuse term, Baal, wat eienaarskap beklemtoon. Die Nuwe Testament volg beide die klassieke en Septuaginta gebruike; dit druk die idees van gehoorsaamheid en onderdanigheid uit, en dit is die aanspreekvorm wat respek uitdruk. Dit word gebruik vir die eienaaarskap van ’n dier (Luk. 19:33) en die eienaarskap van ’n slaaf (Luk. 16:3; Mat. 13:27; 25:26; Hand. 16:16-19). Dit word gebruik as ’n regbank term (Mat. 27:62-63) en van ’n man as die hoof van sy vrou (I Pet. 3:6).

B. Die Koningskap van die Messias
Die tweede afdeling van die teologie van Koningskap, is die Koningskap van die Messias. Ten opsigte van die Koningskap van die Messias as sodanig, moet drie punte uitgewys word.

1. Die Messias is Here van die Ou Testament
Die eerste punt aangaande die Koningskap van die Messias, is dat Hy die Here van die Ou Testament is. Dit is op drie verskillende wyses voor die hand liggend.

Die eerste wyse is dat God in die Ou Testament na Homself verwys as die EK IS, en Jesus verwys na Homself as EK IS (Joh. 8:58; 18:5-6).

Die tweede wyse waarop dit voor die hand liggend is, is dat baie “Jehovah skrifgedeeltes” in die Ou Testament, in die Nuwe Testament op Jesus van toepassing gemaak word. Byvoorbeeld, in Psalm 102:13, 25-28, word God aangespreek as Jehovah; hierdie verse word in die Nuwe Testament aangehaal in Hebreërs 1:10-12 en word van toepassing gemaak op Jesus. Nog ’n voorbeeld is Jesaja 6:5, waar God aangespreek word as Jehovah; Johannes 12:41 pas hierdie vers toe op Jesus. Dit is duidelik dat Jehovah in die Ou Testament dikwels dieselfde is as Jesus in die Nuwe Testament.

Die derde wyse waarop dit voor die hand liggend is, is dat ook die Ou-Testamentiese Hebreeuse terme Adon en Adonai, in die Nuwe Testament op Jesus van toepassing gemaak word. Byvoorbeeld, in Deutoronómium 10:17 word God aangespreek as Adon of Adonai, en hierdie vers word aangehaal en op Jesus van toepassing gemaak in I Timothéüs 6:15. Jesaja 6:1, 8-10 word op Jesus van toepassing gemaak in Johannes 12:39-40. Jesaja 53:1 word op Jesus van toepassing gemaak in Johannes 12:38. Psalm 110:1 gebruik die term Adonai, wat verskeie kere in die Nuwe Testament op Jesus van toepassing gemaak word (Mat. 22:41-45; Mark. 12:35-37; Luk. 20:41-44; Hand. 2:34-36; Heb. 1:13). Dit is dus baie duidelik dat Jesus die Here van die Ou Testament is.

2. Die Messias is Here van die Nuwe Testament
Die tweede punt ten opsigte van die Koningskap van die Messias omvat twaalf fasette.

Die eerste faset is dat die Griekse term Kurios die Griekse woord is wat ooreenkom met Jehovah, Adon, en Adonai, in die Ou Testament. Kurios word in al die verskillende nuanses van betekenis waarin dit in die Ou Testament gevind word, in die Nuwe Testament op Jesus van toepassing gemaak. Kurios word inderdaad 747 keer vir Jesus gebruik.

Die tweede faset is dat Hy die Here van almal is (Hand. 10:36; Rom. 10:12; Ef. 4:4-6).

Die derde faset is dat Hy die Here van die heerlikheid is (I Kor. 2:8).

Die vierde faset is dat Hy Here God, Almagtig, Koning van die heiliges, die Koning van die konings en die Here van die here is (Op. 15:3-4; 19:16).

Die vyfde faset is, omdat Hy die Here is, is alle engele aan Hom onderwerp (I Pet. 3:22).

Die sesde faset is, omdat Hy die Here is, is Hy die hoof van die mensdom (Rom. 14:9; I Kor. 11:3).

Die sewende faset is, omdat Hy die Here is, oefen Hy hoofskap uit oor die heelal (Ef. 1:21-22).

Die agtste faset is, omdat Hy die Here is, is Hy ook die Hoof [van die] gemeente (Ef. 1:22-23).

Die negende faset is, omdat Hy die Here is, is Hy Here ook van die sabbat (Mat. 12:8; Mark. 2:28).

Die tiende faset is, Hy is die Here, die Christus en Saligmaker, die Messias (Mark. 1:3; Luk. 2:11; 3:4). Inderwaarheid was die algemene rabbynse naam vir die Messias “Koning Messias”, en hierdie rabbynse konsep word gereflekteer in die verwysing na Jesus as “Christus, die Here” in die Nuwe Testament.

Die elfde faset is dat Hy ook geken word as die Here God (Luk. 5:8; Joh. 20:28).

En die twaalfde faset is dat Hy ook die Here van die gelowige is (Joh. 13:13-14; II Kor. 4:5; 12:8; Ef. 6:9).

3. Gevolgtrekkings oor die Koningskap van die Messias
Die derde punt is ’n paar gevolgtrekkings aangaande die Koningskap van die Messias. Gebaseer op die feit dat Hy die Here van die Ou Testament en Here van die Nuwe Testament is, is daar sewe spesifieke gevolgtrekkings ten opsigte van die Koningskap van die Messias.

Een, Hy is die Skepper. Omdat iemand die Here moet wees om die Skepper te kan wees, is Hy die Skepper. Dit is hoekom Johannes 1:1-3 dit onderstreep dat alle dinge deur Hom ontstaan het en dat niks wat tans bestaan, sou bestaan het sonder Hom nie, want Hy is die bewerker van die skepping.

Twee, Hy is die Verbondhouer. Die primêre betekenis van die term “Jehovah” is om God as die Verbondhouer te onderskryf en dit is wat die Messias is. Hy sal seker maak dat al God se verbonde inderdaad volbring word.

Drie, Hy bestaan in Selfheid. Omdat ’n ander kern betekenis van die term “Jehovah” God as die Een in selfbestaanheid onderskryf, bestaan Jesus, dus, in Selfheid. Sy bestaan is nie afhanklik van enige ander element nie.

Vier, Hy is Meester (Hoof). ’n Hoof is iemand wat gehoorsaam moet word. Die feit dat Hy ons Hoof is, beteken dat ons Hom moet gehoorsaam; ons moet ons in gehoorsaamheid aan Hom onderwerp.

Vyf, Jesus is Eienaar. Hy is die Eienaar van die wêreld, want Hy het die wêreld geskape. Hy is die Eienaar van die hele mensdom, want Hy het die hele mensdom geskape. Maar Hy is ook op ’n besondere manier die Eienaar van elke gelowige op grond van herskepping, deurdat ons ’n nuwe skepsel, ’n nuwe skepping in Hom is kragtens die wedergeboorte. Omdat Hy ons Eienaar is, het Hy die reg om ons te plaas waar Hy wil en met ons te handel soos Hy wil.

Ses, Hy is die Heerser. As Here moet Hy die Heerser wees, en hierdie feit wys dat Hy ons soewereine Heerser is en kan doen wat Hom behaag.

En sewe, Hy is sentraal ten opsigte van alles. Hy is sentraal ten opsigte van die heelal, sentraal ten opsigte van menslike bestaan, sentraal ten opsigte van ons geloof, en sentraal ten opsigte van ons redding.

C. Die Verhouding van Koningskap met betrekking tot Redding
Die derde afdeling van die teologie van Koningskap, is die verhouding van Koningskap met betrekking tot redding. Die kwessie is: word ’n mens verplig tot ’n verbintenis met die Messias as Here van jou lewe, om gered te kan word?

Baie mense sê, “Ja, as ’n persoon gered wil word, moet hy ’n verbintenis met die Messias aangaan en die Messias Here van sy lewe maak. As hy nie die Messias Here van sy lewe maak nie, dan is hy nie gered nie.” Daar is inderdaad goeie mense wat dit leer. Byvoorbeeld, Arthur Pink skryf: “Daardie predikers wat aan sondaars vertel dat hulle gered kan word sonder oorgawe aan die Koningskap van Christus, is net so verkeerd en gevaarlik as andere wat daarop aandring dat redding deur werke verkry word.”

’n Tweede voorbeeld, ook van Pink, in sy werk getiteld Studies on Saving Faith, stel dit so: “In die meeste gevalle verseker die moderne evangelis sy gemeente dat al wat enige sondaar moet doen om die Hel te ontsnap en seker te maak van die Hemel, is om Christus as persoonlike saligmaker aan te neem, maar dié soort lering is uiters misleidend. Niemand kan Christus as die redder aanneem terwyl hy Hom as Here verwerp nie. Dus, diegene wat nie neergebuig het voor Christus se septer en Hom op die troon van hulle harte en lewens geplaas het nie, maar hulleself nogtans verbeel hulle kan Hom as redder vertrou, is mislei.”

Wat ek wil uitwys, is dat diegene wat nie glo ’n mens is verplig om die Messias as Here van jou lewe aan te neem om daardeur gered te word nie, nie voorhou dat ’n persoon gered kan word deur Jesus as redder aan te neem maar as Here te verwerp nie. Wat hulle sê, is dat die ongelowige nie regtig hierdie konsep so verstaan nie. Dit sal later in meer besonderhede bespreek word.

’n Derde voorbeeld van diegene wat Koningskapredding leer, is John Stott: “Ek beweer daarom dat dit ewe onbybels as onrealisties is, om ’n skeiding te maak tussen Jesus Christus se Koningskap en Sy verlossingswerk.”

Vierdens, dit is wat J. I. Packer skryf: “Of sal dit hulle met die veronderstelling laat dat al wat hulle moet doen, is om Christus te vertrou as ’n sondedraer, terwyl hulle nie besef nie dat hulle ook hulleself moet kruisig en Hom as hulle Here op die troon moet plaas? Hierdie fout kan ons net bestempel as liggelowigheid.”

Nog ’n voorbeeld van Koningskapredding is: “As iemand nie die beheer van sy lewe aan die Here oorgee wanneer hy Hom as Redder aanneem nie, kan hy nie gered word nie.”

Miskien is die mees algemene voorbeeld die Vier Wette boekie: die vierde wet sê ons moet persoonlik vir Jesus as Redder en Here aanneem, en dan kan ons God se plan vir ons lewens ken en ondervind.

1. ’n Duidelike Definisie van die Evangelie
Om die kwessie van Koningskapredding aan te spreek, moet die definisie van die evangelie duidelik wees. Twee opsies kan voorgehou word: Is redding uit genade deur geloof alleen; of is dit geloof plus die verpligting om jou lewe aan die Koningskap van die Messias oor te gee? Een van hierdie twee opsies moet ’n vals evangelie wees. Volgens die definisie van die evangelie, laat Koningskapredding ons met net twee opsies: word ’n mens gered deur geloof alleen; of is dit geloof plus oorgawe van ’n mens se lewe?

In die Skrif is daar voorbeelde van onoorgegewe gelowiges, mense wat duidelik gered was maar sonder oorgawe van hulle lewens. Een voorbeeld is Handelinge 10:14. Petrus was ’n gelowige. Hy het sekerlik ten opsigte van verskeie aspekte van sy lewe die Messias Here van sy lewe gemaak, maar hy het dit moeilik gevind om hom oor te gee aan die Koningskap van die Messias in twee sake: om na ’n nie-Jood se huis toe te gaan, en die doodmaak en eet van onheilige of onrein dinge. Nog ’n voorbeeld van ’n onoorgegewe gelowige is miskien Bárnabas in Handelinge 15:39; nogtans, soos met Petrus, was die versuim tot oorgawe net tydelik. ’n Beter voorbeeld sou die dissipels in Handelinge 19:18-19 wees. Dit word duidelik gesê dat hulle gelowiges was, maar uit hulle vroeëre dade kan gesien word dat hulle nie oorgegewe gelowiges was nie. Hulle versuim om hulle aan die Koningskap van die Messias oor te gee, het lank en moedswilliglik voortgeduur, in teenstelling met Petrus en Bárnabas waar dit net kortstondig en tydelik was. Daar is voorbeelde in die Nuwe Testament van gelowiges wat op een of meer gebiede van hulle lewens versuim het om hulle oor te gee, wat dit duidelik maak dat Jesus nie op daardie spesifieke gebiede die Here van hulle lewens was nie.

2. Die Betekenis van die Woord “Here” in Verhouding tot Redding
Om die kwessie te probeer oplos, moet ’n mens die betekenis van die woord “Here” / “heer” in ag neem. Soos vroeër uitgewys, die term “heer” het ’n aantal verskillende fasette en aspekte. Selfs as ons die aspek van Koningskap beperk tot redding, is daar binne die Skrif variasies in die konsep. In ’n bespreking van die aspek van die Koningskap wat red, moet drie dinge uitgewys word.

a. Here Beteken “Meester”
Heel eerste, die uitdrukking “Here” in die titel “Here Jesus”, beteken meer as om net die meester (hoof / gesagvoerder) van ’n mens se lewe te wees. Dit is nie eenvoudig Here Jesus in die sin van “Meester Jesus” nie. Veel eerder onderskryf die term “Here” Jesus as God, en dus onderskryf die term “Here Jesus” Hom as die God-Mens. Jesus onderskryf Sy mensheid. Here onderskryf sy Godheid. Dus, Here Jesus beteken Hy is die God-Mens.

I Korinthiërs 12:3 verklaar dat geen mens kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees. Ongeredde mense mag dit wel in die sin van “meester” sê, maar Here beteken ook “die sin van God te wees”, en ’n mens kan die Godheid van Jesus erken sonder om gewillig te wees om Hom oppergesag oor ’n sekere saak te gee, soos in die geval van Petrus in Handelinge 10:14. Iemand kan Jesus as God erken, maar dit beteken nie dat hy Hom die Here maak in elke aspek van sy lewe nie. Petrus het geweet van die Godheid van die Messias, hy het dit geglo, en hy het dit erken, maar op daardie spesifieke oomblik het hy gefaal om Hom op daardie een gebied die Here van sy lewe te maak.

Om die Here Jesus aan te neem, is om Hom te erken as die God-Mens en nie as die gesagvoerder oor elke gebied van ons lewens nie. Wanneer die Bybel sê die ongelowige moet glo in die Here Jesus, die Messias, beteken dit eenvoudig hy moet Hom erken as die God-Mens. Dit is wat hy glo en aanvaar wanneer hy gered word. Hy maak Hom nie, op daardie stadium, die gesagvoerder oor elke aspek van sy lewe nie. Die kwessie vir redding, dan, is die Here Jesus as die God-Mens, nie die Here Jesus as die Meester-Mens nie.

b. Here Beteken “Jehovah”
Die tweede saak waarna opgelet moet word, is dat die Messias Here in die sin van Jehovah moet wees ten einde te kwalifiseer as Redder, want net God kan red. Maar Sy persoonlike Koningskap oor die individu se lewe is nie ’n voorwaarde vir redding nie.

c. Kurios Beteken “God”
Die derde saak waarna opgelet moet word, is dat die Griekse term Kurios die betekenis het van “God”, iets wat nuut was in die Septuagint. In die Nuwe Testament, word die term Kurios gebruik vir God, of ’n getroude man, of ’n meester (hoof), of ’n Romeinse offisier, of eenvoudig net as die titel “Meneer”. Die Koningskap oor ’n gelowige is net een aspek van Kurios. Hierdie een aspek alleen kan nie ’n voorwaarde vir redding gemaak word nie.

d. Wat dit Beteken om Jesus as Here Aan te Neem
So, moet die Messias meester wees van elke gebied van ons lewens ten einde gered te wees? Is dit wat dit beteken om Jesus as Here aan te neem, of beteken dit slegs om Jesus as die God-Mens te erken omdat Hy sowel God as mens moet wees om as Redder te kwalifiseer? Daar is vyf kern skrifgedeeltes wat hierdie kwessie aanspreek.

(1) Romeine 1:1-4
Paulus, ’n dienskneg van Jesus Christus, ’n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God – wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte, aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here. In hierdie verse lê Paulus die evangelie duidelik uit. Hy wys die mensheid van Jesus uit deur na Hom te verwys as die Seun van Dawid. Hy wys ook die Godheid van die Messias uit deur Hom die Seun van God te noem. In hierdie vier verse wys hy die mensheid en die Godheid van Jesus uit. Dit is wat red. Wat die gelowige Romeine gered het, was die feit dat Jesus sowel God as mens was; Sy Koningskap onderskryf Sy Godheid, nie sy meesterskap oor almal se lewens nie.

Paulus bespreek inderwaarheid nie eens Jesus as Here van ’n mens se lewe, voordat hy by Romeine 12 kom nie. Maar hy bespreek die Koningskap van Jesus in die sin dat Jesus God is en dis dit wat ’n mens glo wanneer jy Jesus as Here aanneem – dat Hy die God-Mens is, nie dat Hy Here is oor elke individuele aspek van ons lewens nie.

(2) Romeine 10:9-10
As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Volgens hierdie verse moet ons, ten einde gered te word, Jesus bely as die Here. Dit is nie Here in die sin van meester word oor elke faset van ons lewens nie, maar eerder Here in die sin van Godheid. Ons moet die Koningskap van Jesus bely. Die term Here onderskryf sy Godheid, en die term Jesus onderskryf sy mensheid, so wat bely moet word, is die God-Mens vir redding. Ons erken Hom as die God-Mens ten einde gered te word. Ons erken Hom nie as die meester van ons lewens ten einde gered te word nie.

(3) Handelinge 2:36
Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. Hierdie vers verklaar dat die Vader Hom Here en Christus [of die Messias] gemaak het. Die term Here onderskryf die Godheid; die term Christus beteken “Messias”, wat sy mensheid onderskryf. Weer eens, ons erken Hom as die God-Mens ten einde gered te word.

(4) I Korinthiërs 12:3
Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ’n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees. Ons weet mense kan die woorde: Jesus [is] die Here uitspreek sonder om Hom as die Here God te erken. Weer eens, hierdie vers benadruk dat Jesus sowel God as mens moet wees om as Verlosser te kwalifiseer.

(5) Filippense 2:8-11
en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. Hier weer, moet ons Jesus die Messias bely as Here in die sin dat Hy God is, nie in die sin dat Hy die meester van ons lewens word die oomblik wanneer ons gered word nie.

Hierdie vyf skrifgedeeltes wat gebruik word om Koningskapredding te leer, leer dit inderwaarheid nié. Die aspek van Koningskap wat red, is Sy Godheid. Inderdaad, Jesus moet God wees om in staat te wees om ons te red. Wanneer ons Hom ten tyde van ons bekering en redding as ons Here aanneem, neem ons Hom aan as God ons Redder. Ons onderneem nie om Hom op daardie oomblik Here van elke aspek van ons lewens te maak nie. ’n Sekere mate van geestelike groei is nodig voordat daardie doel bereik word.

Ek sal die bespreking oor die verhouding van Koningskap met betrekking tot redding, afsluit met ’n analogie. Die twee terme “Jesus” en “Here” het verskeie fasette. Byvoorbeeld, die naam “Jesus” wys op sy ware mensheid, die mens wat vir ons sondes gesterf het. Die naam “Jesus” onderskryf sy mensheid as die voorbeeld vir ons lewens (I Pet. 2:21; I Joh. 2:6). Die naam “Jesus” impliseer die Wederkoms (Hand. 1:11; Sag. 12:10). Die naam “Jesus” het hierdie verskillende aspekte. Moet ons al hierdie aspekte glo ten einde gered te word? Nee, ons moet net die eerste aspek glo om gered te word: dat Hy, as ’n mens, vir ons sondes gesterf het. Die term “Here” het ook verskeie aspekte. Dit kan beteken “God” of “skepper” of “koning” of “oppermagtige”. Is dit nodig om al hierdie fasette te glo om gered te word? Weer is die antwoord “nee”. Net die eerste punt is nodig vir redding: om te glo dat Hy God is.

Wanneer ons Hom erken as Here, erken ons Hom as God, en dit is wat ons red. Ons erken Hom nie as meester oor elke aspek van ons lewens op die oomblik wanneer ons gered word nie. Dit is iets wat ná redding kan gebeur, maar dis nie deel daarvan nie.

II. OM DIE MESSIAS HERE VAN ’N MENS SE LEWE TE MAAK
Die tweede hoof afdeling oor die Koningskap van die Messias, is om die Messias Here van ’n mens se lewe te maak. Dit is reeds uitgewys dat ’n mens nie, deur Hom Here van jou lewe te maak, gered word nie. ’n Mens word gered deur te glo dat Hy vir sondes gesterf het, begrawe is en weer opgestaan het, en dat Hy die God-Mens is. Dit is wat red. Die Bybel spoor gelowiges aan om, soos wat hulle groei, die Messias die Here van hulle lewens te maak. Ten opsigte hiervan, is daar twee hoof onderwerpe wat bespreek sal word: die kwessie van toewyding; en die kwessie van ’n Geesvervulde lewenswandel.

A. Die Kwessie van Toewyding
Die eerste onderwerp, die kwessie van toewyding, sal in ses afdelings bespreek word.

1. Die Wanbalans in die Leer van Toewyding
Die eerste afdeling wat bespreek word in die kwessie van toewyding, is die groot wanbalans ten opsigte van wat daaroor geleer word. Hierdie wanbalans word aan drie dinge toegeskryf. Een, sommige mense glo toewyding is die algehele antwoord vir die geestelike lewe met al sy probleme. ’n Tweede rede vir die wanbalans is dat toewyding in sommige kringe min plek in die geestelike lewe het. Daar word nie daaroor gepraat nie, dit word nooit bespreek nie. In werklikheid is dit twee uiterstes: een uiterste maak van toewyding die volledige antwoord en die ander uiterste neem dit nie eens in ag nie. Daar is ’n derde rede vir die wanbalans: die klem wat in sommige kringe gelê word op hertoewyding. Daar is diegene wat aanhoudend hamer op hertoewyding en hertoewyding en hertoewyding, en periodiek moet ’n mens ’n proses van hertoewyding ondergaan.

2. Die Basis van Toewyding
Die tweede afdeling in die kwessie van toewyding, is die bespreking van die rol, en die konsep, van verlossing.

a. Die Rol van Verlossing
Toewyding is altyd op grond van seëninge wat alreeds toegeken is. Wanneer die Bybel ons aanspoor om ons lewens aan God toe te wy, om tot die daad van toegewydheid oor te gaan, is die oproep tot toewyding altyd op grond van seëninge wat alreeds toegeken is.

Die hoof seëning, is natuurlik verlossing. Dit is die punt van Romeine 12:1, wat die groot vers oor toewyding is, maar dit is gebaseer op die woord daarom (in die OAV: dan). Die rede hoekom ons ons lewens moet toewy, is omdat God alreeds alles vir ons gedoen het, soos wat Paulus dit uitlê in hoofstukke 1-11 van die Brief aan die Romeine.

Volgens Romeine 3:24, is ons op grond van ons posisie in die Messias geregverdig deur verlossing, en omdat ons geregverdig is deur verlossing, moet ons onsself aan God toewy. Volgens Romeine 8:23 moet ons, omdat ons die versekering van die toekomstige verlossing van ons liggame het, ons lewens aan God toewy. In I Korinthiërs 6:19-20 moet ons, op grond van wat dit God gekos het om ons te verlos, op grond van die prys van verlossing, die bloed van die Messias, op grond van wat dit God gekos het, die dood van Sy Seun, ons lewens aan die Messias toewy. Die basis van toewyding is altyd die seëninge wat alreeds deur God toegeken is en die seëninge wat ons alreeds ontvang het.

b. Die Konsep van Verlossing
Omdat toewyding op die basis van verlossing rus, is dit belangrik dat ons die konsep van verlossing moet verstaan. Daar is drie Griekse kern woorde wat die konsep van verlossing onderskryf.

Die eerste Griekse woord is agorazo, wat beteken “om te koop” of “om aan te koop” of “om ’n prys te betaal”. Op die terrein van verlossing, beteken dit, “om die prys wat ons sondes vereis het, te betaal sodat ons verlos kon word”. Hierdie woord word gebruik in II Petrus 2:1 en Openbaring 5:9.

Die tweede Griekse woord is exagorazo, wat beteken, “om uit die mark uit te koop”. Op die gebied van verlossing, beklemtoon dit die feit dat die bloed van die Messias ons uit die markplek van sonde verwyder het om sodoende vir ons die versekering te gee dat ons nooit nodig sal hê om terug te gaan onder die slawerny van sonde nie. Hierdie woord word gebruik in Galasiërs 3:13 en 4:5.

Die derde Griekse woord is lutreo, wat beteken, “om los te koop en te bevry”. Op die gebied van verlossing, beteken dit “die losgekoopte persoon is vrygelaat ”. Dit word gebruik in Matthéüs 20:28 en Titus 2:14.

Hierdie Griekse woorde onderskryf verlossing. Verlossing is die basis waarom ons ons lewens aan die Messias moet toewy en Hom die Here van elke faset van ons lewens moet maak.

c. Gevolgtrekkings
Op die basis van hierdie drie Griekse woorde, kan ons ses gevolgtrekkings maak.

Een, die verloste persoon is gekoop, weggeneem uit die markplek, losgekoop en vrygelaat.

Twee, dit beteken nie dat ons wegdraai van die slawerny van die sonde na die slawerny van die Messias nie; dit is nie outomaties nie. Ons is nie langer slawe van die sonde nie, maar dit beteken nie ons is outomaties slawe van die Messias nie.

Drie, dit beteken ons beweeg van slawerny na vryheid.

Dus, vier, nou het ons ’n keuse: ons kan kies om ’n slaaf van die Messias te word of ons kan kies om nie ’n slaaf van die Messias te word nie.

Vyf, waarom sal ons kies om slawe van die Messias te word? Per slot van sake, ons is gered, ons is verseker van die Hemel, ons sal nie ons redding verloor nie, so hoekom die moeite doen om ’n slaaf van die Messias te word? Die rede gaan oor wat die Messias gedoen het: Hy het regverdigmaking, heiligmaking, en saligmaking, voorsien. Deutoronómium 15:16-17 bespreek die vrygemaakte slaaf. ’n Slaaf wat vrygemaak is, kan kies om weer ’n slaaf te word. As hy weer ’n slaaf word, is dit omdat hy sy eienaar liefhet en omdat sy eienaar vir hom goed was. Hy gaan oor van slaaf wees na slaaf wees vir altyd, en nou het hy die reg tot spesiale versorging, volgens Exodus 12:43-45 en Levitikus 22:10-11.

En ses, ons wil ons toewy uit ons harte, op grond van ons verlossing. Ons is gekoop, ons is weggeneem, ons is vrygelaat. Ons moet nou ons lewens toewy, omdat Jesus vir ons goed was en omdat ons Hom liefhet.

3. Die Inhoud van Toewyding
Die derde afdeling wat bespreek word oor die kwessie van toewyding, is die inhoud daarvan. Die vraag hier is: wat presies moet toegewy word? Wanneer die Bybel ons tot toegewydheid aanspoor, wat wil dit hê moet ons toewy? Drie kern skrifgedeeltes is relevant.

Die eerste skrifgedeelte is Romeine 6:12-13: Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.

Die tweede kern skrifgedeelte is Romeine 12:1: Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige offer – dit is julle redelike godsdiens.

Die derde skrifgedeelte is I Korinthiërs 6:19-20: Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

Volgens hierdie drie skrifgedeeltes is dit wat toegewy moet word, die liggaam; die persoon self. Wat God wil hê ons aan sy diens moet toewy, is onsself, veral ons werktuie, ons fisiese werktuie, ons fisiese liggaam. Dit word die terrein van toewyding. Dit is die inhoud van toewyding. Dit is die onderwerp van toewyding.

In die lig hiervan, wat is die verhouding tussen redding en toewyding? Party mense verwar die twee. Soms word Romeine 12:1 aan mense geleer asof dit ’n reddingsvers is. Sover dit redding aangaan, redding verwys na Jesus die Messias as die plaasvervanger vir sonde; redding behels die kwessie van sonde. Maar, toewyding verwys na die Messias as Here van ’n mens se lewe; toewyding behels onderworpenheid. Toewyding, dus, is iets wat volg op redding. Dit is nie die oorsaak van, of weg tot, redding nie.

Die hoof kwessie op die gebied van toewyding is: wie sal jou lewe beheer? Toewyding het nie te doen met spesifieke dinge nie; soos na watter sendingveld toe sal ek gaan, watter Bybelskool sal ek bywoon, moet ek trou met hierdie een of met daardie een. Toewyding het nie te maak met sulke besonderhede nie. Die hoof kwessie op die gebied van toewyding is: wie gaan jou lewe beheer, God of jyself? Die kwessie in toewyding is nie om iets oor te gee nie, maar om iemand oor te gee. En dit is jy, jou liggaam, wat God in sy diens toegewy wil hê.

Die gevolgtrekking aangaande die inhoud van toewyding is: die terrein van toewyding is ’n mens se lewe en ’n mens se liggaam. Dit, natuurlik, sluit die besonderhede van die lewe in, nie as ’n oorsaak vir toewyding nie, maar eerder as ’n gevolg van toewyding. As jy jouself verbind, as jy jouself en jou hele liggaam toewy in diens van God, sal hierdie besonderhede outomaties ook betrek word. Maar die besonderhede is die gevolg van toewyding, nie die oorsaak vir toewyding nie.

4. Die Aspekte van Toewyding
Die vierde afdeling wat bespreek word oor die kwessie van toewyding, is die aspekte daarvan. Wat is die aspekte van toewyding? Die aspekte van toewyding kan opgesom word as die aanvanklike onderneming tot toewyding, en daarna ’n voortdurende verbintenis daartoe.

Die hoof skrifgedeelte wat oor die aspekte van toewyding handel, is Romeine 12:1-2: Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

a. ’n Eerste Stap van Oorgawe
Een, daar moet ’n eerste stap tot toewyding wees. Daar moet ’n krisis oorhandiging van die liggaam wees vir God se diens. Die Griekse vorm van die werkwoord stel is die onbepaalde verlede tyd infinitief. Die onbepaalde verlede tyd beklemtoon ’n eenmalige handeling, nie herhaaldelike handelinge soos die teenwoordige tyd nie. Dieselfde tydvorm word gebruik in Romeine 6:13, waar dit die onbepaalde verlede tyd bevelvorm is.

Ons moet ’n eenmalige, beslissende stap doen om ons liggame aan God se diens toe te wy. Paulus wys uit dat dit ’n redelike, rasionele, en logiese ding is in die lig van die ontferminge van God, wat ons deur ons redding ontvang het. Toewyding word altyd gebaseer op vorige seëninge van God, en Paulus lê hierdie seëninge uit in Romeine 1-11, waar hy uitwys dat God ’n redding voorsien het wat regverdigmaking, heiligmaking, en verheerliking, insluit. In die lig van alles wat God vir ons gedoen het, in die lig van die ontferminge van God, wat ons deur ons redding ontvang het, is dit ’n redelike, rasionele, en logiese ding om te doen.

Hy wys uit dat dit ’n offersaak is. Ons moet nou vir die Messias lewe in die daaglikse loop van die lewe. Ons offer ons liggame in sy diens. Wat meer is, dit moet ’n lewende offer wees, nie ’n dooie een nie. Dit moet ’n volledige en volkome oorgawe wees.

b. Nonkonformiteit
Die tweede aspek van toewyding is nonkonformiteit. Dit behels afskeiding van die bose tyd waarin ons leef, of om nie gelykvormig daaraan te wees nie. Dit is die punt van Romeine 12:2 en Galasiërs 1:4. Dit is die negatiewe aspek van toewyding; dit behels die uiterlike. Konformiteit beteken, die uiterlike voorkoms kom ooreen met die wêreld, al het ’n innerlike transformasie plaasgevind. Nonkonformiteit beteken, “om outyds te wees”, en dit is ook die punt van I Petrus 1:14. ’n Lewe van nonkonformiteit, al is dit outyds, is ’n nodige eienskap vir ’n toegewyde lewenswandel.

c. Transformasie
Die derde aspek is transformasie. Dit is die positiewe aspek van toewyding; dit behels die innerlike. Volgens II Korinthiërs 3:18 is die Heilige Gees die bewerker van die transformasie. Die sentrum is ons denke, en dit word ’n saak van herprogrammering van ons denke. Die Heilige Gees doen dit om ons te laat dink soos wat God dink.

5. Die Herhaling van Toewyding
Die vyfde afdeling van bespreking in die kwessie van toewyding, is of dit herhaal moet word. In baie kringe word daar klem gelê op hertoewyding, en omtrent elke somer tydens Christenkampe en konferensies, word getuienisse rondom gesellige vure uitgeruil en mense vertel vir mekaar hoe hulle hul lewens hertoegewy het. Dit wil voorkom of hulle dit periodiek nodig het, ten minste eenmaal ’n jaar.

Die Bybel leer egter nie voortdurende hertoewyding nie. Die kern vers ten opsigte van toewyding is Romeine 12:1, wat ’n eenmalige handeling onderskryf. Wanneer ons hierdie eenmalige handeling van Romeine 12:1 uitgevoer het, en ons het ons lewens eens en vir altyd aan Sy diens toegewy, het ons ’n toegewyde lewe. Daar is geen rede om ons lewens herhaaldelik toe te wy nie. By daardie eerste stap, is die lewe oorgegee aan toewyding. Die kwessie is nie: Sal ons die wil van God doen as ons by ’n kruispad in ons lewens kom nie? Die kwessie is eerder: Wat is die wil van God? Dan, as ons die wil van God ken, doen ons dit.

a. Die Probleem: Sonde in ’n Gelowige se Lewe
Kom ons veronderstel ’n gelowige het daardie eerste, eenmalige oorgawe tot volkome toewyding gemaak, en op ’n sekere stadium daarna, toe hy ’n keuse moes uitoefen, het hy die verkeerde keuse gemaak en gekies om nie die wil van God te doen nie. Die vraag is: Wat is sy status? Moet hy nou sy lewe hertoewy? Duidelik is sy status, dat hy teruggegaan het op sy gelofte wat hy gemaak het toe hy sy liggaam aan die Here se diens toegewy het. Sonde het nou in sy lewe gekom en die toewydingstatus is geskend.

b. Die Regstelling: Restourasie
Hoe kan dit reggestel word? Die regstelling is nie hertoewyding, waar die toegewyde lewe weer van heel voor af moet begin nie. Die regstelling is restourasie. Die regstelling is om terug te kom in die regte baan. Met ander woorde, ons het daardie eenmalige oorgawe tot toewyding gemaak, en begin op die pad van ’n toegewyde lewe, maar toe ons teruggegaan het op ons gelofte, het ons in die verkeerde baan beland. Die regstelling is om terug te kom in die baan op die plek waar ons dit verlaat het. Ons hoef nie die hele ent pad terug te gaan tot by die beginpunt en die proses van heel voor af te begin nie. Ons moet terugkom op die plek waar ons die baan verlaat het. Ons hoef nie terug te gaan na punt A toe nie. As ons, in ’n toegewyde lewe, van punt A na B na C gegaan het, en die pad byster geraak het toe ons by D gekom het, is die argument om op die pad terug te kom by punt D, en voort te gaan in die geestelike lewe. Dit is die regstelling.

Dit is restourasie. Die regstelling is nie hertoewyding nie; die regstelling is restourasie.

c. Die Weg: Belydenis
Die weg tot restourasie is die belydenis van I Johannes 1:9: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Die resultaat sal herstel van gemeenskap met gelowiges wees. Dit is dus die regstelling: restourasie deur die weg van belydenis.

Elke gelowige is of aan die een kant, of aan die ander kant, van die toewydingslyn. Ons het die onderneming of aangegaan, of dit nie aangegaan nie. As jy nog nooit onderneem het om toegewy te wees volgens Romeine 12:1 nie, is dit jou volgende stap. Jy moet Romeine 1-11 bestudeer, leer wat God vir jou gedoen het, en besef dat jy al die erbarminge van God ontvang het. Sodra jy dit besef, dan pas jy Romeine 12:1 toe, en jy gaan oor tot daardie beslissende, eerste stap tot toewyding. Weer eens, elke gelowige is of aan die een kant, of aan die ander kant, van die toewydingslyn. Of ons het ons liggame toegewy, of ons het nie ons liggame toegewy nie. As jy nie het nie, is die volgende stap in die geestelike lewe, daardie daad van oorgawe tot toewyding.

Nou het jy tot die daad oorgegaan, en nou begin jy groei in jou geestelike lewe. As jy iewers langs die pad struikel, hoef jy nie weer jou lewe van voor af toe te wy nie; nee, jy moet jou sonde bely en terugkom in die baan, en voortbeur op die pad na geestelike volwassenheid. Het jy tot daardie stap van toewyding oorgegaan? As die antwoord “nee” is, is dit jou volgende stap. As die antwoord “ja” is, is dit altyd voordelig om die huidige stand van ons toegewydheid te ondersoek: waar staan ons in verhouding tot die toewyding waartoe ons ons verbind het? Leef ons nog in ooreenstemming daarmee, of leef ons nie meer in ooreenstemming daarmee nie? As ons nie langer in ooreenstemming met ons verbintenis tot toewyding leef nie, is die stap wat ons moet volg, om te bely, en terug te kom in die regte baan. Dit is restourasie, nie hertoewyding nie.

6. Die Resultate van Toewyding
In die sesde afdeling oor die kwessie van toewyding, bespreek ons twee resultate. Een, Romeine 12:2 bring die kennis, die doen, en die vreugde, van God se wil. Dis vir ons moeilik om God se wil te ken sonder die verbintenis tot toewyding, want daarsonder het ons nie die Gees se verligting wat nodig is om die wil van God uit sy Woord te verstaan nie. Toewyding bring kennis van die wil van God. Sodra ons die kennis van God se wil het, is die volgende stap om God se wil te doen. Met die kennis wat ons het, is die logiese uitwerking van die toegewyde lewe nou, om die wil van God te doen. En die doen van God se wil, beteken vreugde in God se wil. Daar is werklik groot vreugde daarin om die wil van God te doen.

Die tweede resultaat is dat dit lei tot ’n Geesvervulde, of ’n Geesbeheerde lewenswandel, wat in die volgende afdeling in meer besonderhede bespreek sal word. Dit is die verbintenis tot toewyding wat lei tot die tweede resultaat: ’n Geesvervulde of Geesbeheerde lewenswandel.

Daardie eerste stap van oorgawe tot toewyding, is die wegspringplek vir oorwinning in die geestelike lewe. As ons nie verbind is tot toewyding nie, sal ons nooit in die geestelike lewe voortdurende oorwinning hê nie. Maar, as ons ons verbind het, het ons die grondslag en die fondament vir oorwinning. Wanneer ons Hom die Here van ons lewens maak, word Hy ons meester en ons word sy slaaf. As ons meester, het Hy die reg om gehoorsaamheid te verwag, maar as sy slaaf, het ons die reg om van Hom te verwag om die krag daarvoor te gee. En dit doen Hy, volgens Filippense 4:19.

B. Die Kwessie van ’n Geesvervulde Lewenswandel
Die tweede hoof onderwerp ten opsigte van die aanneming van die Messias as Here van ‘n mens se lewe, het te doen met dit wat op toewyding volg; die Geesvervulde lewe. Waar toewyding ’n eenmalige oorgawe en verbintenis is, is die Geesvervulde lewe voortdurend deel van al ons doen en late. Hierdie onderwerp sal in drie afdelings bespreek word.

1. Die Bedieninge van die Heilige Gees in Verhouding tot Redding
Die eerste afdeling ten opsigte van ’n Geesvervulde lewenswandel, is dat die bedieninge van die Heilige Gees in verhouding tot redding, eenmalige handelinge is. Dit is dinge hierdie wat die Heilige Gees doen sodra Hy in die gelowige se lewe kom op die oomblik van bekering en redding, en hierdie handelinge word nie herhaal nie. Daar is vyf sulke bedieninge van die Gees.

Die eerste bediening is die werk van oortuiging, waar Hy die evangelie baie duidelik maak sodat dit deur die menslike verstand begryp kan word (Joh. 16:7-11).

Die tweede bediening is die werk van vernuwing. Vernuwing laat die persoon wat glo, weer gebore word. Op daardie punt kom woon die Messias in die lewe van die gelowige. Hierdie bediening is opgeteken in Johannes 3:3-8 en Titus 3:5-7.

Die derde bediening is inwoning. Die bediening van inwoning is wanneer die Heilige Gees in die gelowige se lewe is, wanneer die Heilige Gees in die gelowige inwoon net soos wat die Messias doen in vernuwing (II Kor. 3:16; 6:19; II Tim. 1:14).

Die vierde bediening is die Gees se bediening van die doop. Wanneer ons glo, doop die Heilige Gees ons in tot die Liggaam van die Messias (I Kor. 12:13; Ef. 4:4-6).

Die vyfde bediening is verseëling. Met hierdie bediening, word ons binne die Liggaam van die Messias verseël sodat ons nooit kan uitval nie; dis die waarborg van ons ewige sekerheid (II Kor. 1:21-22; Ef. 1:13-14; 4:30).

2. Die Bedieninge van die Heilige Gees in Verhouding tot Geestelike Volwassenheid
Waar die bedieninge op die gebied van redding eenmalige handelinge is, is die bedieninge van die Heilige Gees in verhouding tot volwassenheid voortdurend. Daar is vyf sulke bedieninge.

Een, die Gees se bediening om geestelike waarheid te leer (Joh. 16:12-16).

Die tweede bediening is dat die Gees ons lei (Rom. 8:14).

Drie, is die Gees se bediening van versekering (Rom. 8:16).

Die vierde bediening is dat die Heilige Gees vir ons bid (Rom. 8:26).

En in die vyfde bediening is daar die vervulling met die Heilige Gees (Ef. 5:18).

Hierdie vyf bedieninge is voortdurend en herhalend. Hulle staan in verband met geestelike volwassenheid. Omdat hulle in verband staan met geestelike volwassenheid, is dit hulle wat betrokke is by die Geesvervulde lewe. Dit is veral waar van die laaste een, en dus sal ons aanbeweeg deur uit te brei op die vervulling met die Heilige Gees.

3. Die Vervulling met die Heilige Gees
Die derde afdeling is die kern skrifgedeelte wat handel oor die vervulling met die Heilige Gees, Efesiërs 5:18: Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

Dit is hierdie bediening wat ons in staat stel tot die Geesvervulde lewenswandel wat op die verbintenis tot toewyding moet volg.

a. Die Definisie van Vervulling
Volgens definisie beteken om vervul te wees, “om beheer te word”. Net soos wat iemand wat vol alkohol is, deur die alkohol beheer word, net so word die persoon wat vol van die Gees is, deur die Gees beheer. Volgens definisie beteken om met die Gees vervul te wees, “om Geesbeheerd te wees”. Ten einde die Gees toe te laat om ons elkedagse lewens te beheer, moet ons ons eers daartoe verbind om ons lewens aan God toe te wy (Rom. 12:1).

b. Die Kenmerke van Vervulling
Die vervulling met die Gees het vier kenmerke.

Een, dit is ’n opdrag, want die vorm van die Griekse woord in Efesiërs 5:18 is die bevelvorm. Dus, dit is ’n vereiste; ons word deur God verplig om ons lewens deur die Gees te laat beheer.

’n Tweede kenmerk is dat vervulling herhaal word. Die bevelvorm is in die teenwoordige tyd, wat herhaaldelike handeling uitdruk. Vervulling moet meer as een keer gebeur. In die Boek van Handelinge, byvoorbeeld, is die dissipels eers vervul in hoofstuk 2:4, weer vervul in hoofstuk 4:8, en weer vervul in hoofstuk 4:31. Stéfanus is met die Heilige Gees vervul in Handelinge 6:5 en weer in Handelinge 7:55. Paulus is met die Gees vervul in Handelinge 9:17 en weer in Handelinge 13:9. Vervulling is iets wat herhaal word.

Die derde kenmerk is dat iemand anders die vervulling doen. In die Grieks is die teenwoordige tyd bevelvorm in die lydende vorm, wat beteken dat iemand anders die vervulling doen; iemand anders is in beheer. In hierdie geval is die Heilige Gees in beheer en ons onderwerp ons in ons daaglikse lewe aan daardie beheer.

Die vierde kenmerk is dat die vervulling met die Gees die beeld van die Messias uitstraal, want in die res van hoofstukke 5 en 6 van die Brief aan die Efesiërs, lê Paulus uit hoe die Geesvervulde lewe lyk wat die beeld van die Messias weerspieël.

c. Die Voorwaardes vir Geesvervulling
Daar is drie voorwaardes ten opsigte van Geesvervulling.

Een, daar moet ’n toegewyde lewe wees; ons moet oorgegee wees aan die Gees se beheer. Dit behels die eerste stap tot toewyding (Rom. 12:1) en die voortdurende bestuur van ’n mens se daaglikse lewe deur die Gees. ’n Toegewyde lewe is ’n voorvereiste. Tensy ons daardie eerste verbintenis tot toewyding aangegaan het, kan ons nie ’n Geesvervulde lewe lei nie.

Die tweede voorwaarde is ’n onoorwinlike lewe in die daaglikse wandel. ’n Onoorwinlike lewe beteken ons leef konsekwent, in ons daaglikse doen en late, oorwinnend oor sonde (Ef. 4:30). Dit word reggekry as ons deurlopend in die lig van die Woord wysheid kry en daarvolgens optree (I Joh. 1:7).

En die derde voorwaarde is die vereiste van ’n afhanklikheidslewe; ons moet staat maak op die Gees se leiding (Gal. 5:16).

Dis duidelik, hierdie voorwaardes behels oorgegewenheid en gehoorsaamheid aan die Woord van God.

d. Die Resultate van Geesvervulling
Die vervulling met die Gees sal vyf resultate oplewer.

Een, dit sal die beeld van die Messias weerspieël omdat dit die vrug van die Gees sal voortbring (Gal. 5:22-23).

Twee, dit sal aanbidding en lofprysing voortbring (Ef. 5:19-20). Ons sal God wil aanbid en prys. Uiterlik sal ons Hom prys deur onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere te kommunikeer. Innerlik, sal ons ’n houding van aanbidding hê waarvan die bewys sal wees, sing en psalmsing in ons hart tot eer van die Here.

Die derde resultaat is ’n gees van dankbaarheid; ons sal die Vader altyd vir alles dank (Ef. 5:20).

Die vierde resultaat sal onderdanigheid wees (Ef. 5:21). Dit sluit onderdanigheid teenoor mekaar in: vroue teenoor hulle mans, kinders teenoor ouers, werknemers teenoor werkgewers.

Die vyfde resultaat is diens, want ’n toegewyde, Geesvervulde lewe loop uit op krag in die beoefening van ’n mens se geestelike gawes.

Hoe kan jy weet of jy ’n Geesvervulde lewe lei? Jy kan weet deur ’n paar vrae te beantwoord. Eerstens, het jy jou reeds verbind om toegewyd te wees volgens Romeine 12:1? As die antwoord “ja” is, dan, tweedens, sover dit jou kennis strek, is jy oorgegee op elke gebied van jou lewe? As jy “ja” kan sê, dan lei jy ’n Geesvervulde lewe. Nietemin, onthou altyd dat môre dalk nuwe toetse kan bring.

III. TOEPASSINGS VAN DIE KONINGSKAP VAN DIE MESSIAS OP SPESIFIEKE GEBIEDE
Die derde hoof afdeling van die Koningskap van die Messias is die toepassing. Hierdie afdeling sal vier afsonderlike gebiede behandel: dissipelskap, bydraes, gebed, en die huwelik.

A. Dissipelskap
Die eerste afsonderlike gebied, dissipelskap, sal in vyf kategorieë bespreek word.

1. Die Definisie
In die eerste kategorie, kan dissipelskap die beste gedefinieer word as ’n mens se verhouding tot Jesus die Messias in drie hoedanighede: as ’n leraar, as ’n meester, en as Here.

2. Die Gebruike van die Woord “Dissipel”
In die tweede kategorie oor dissispelskap, is daar ’n duidelike ontwikkeling in betekenis, want in die Bybel is daar, wanneer daar oor dissipels gepraat word, drie vlakke van dissipelskap. Die woord op sigself beteken net “leerder”.

a. Die Nuuskieriges
Die eerste vlak van dissipelskap verwys na dié wat bloot nuuskierig is. Hulle word genoem in Matthéüs 5:1: En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom.

Later, in Matthéüs 13:2, lees ons: En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in ’n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan.

’n Derde skrifgedeelte wat hierdie kategorie behandel, is Johannes 8:31: En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.

Die mense wat in hierdie verse beskryf word, is die nuuskieriges. Op hierdie stadium was hulle slegs leerders, wat wou weet wie Jesus was of Sy aansprake oor wie Hy was. Op hierdie stadium was hulle niks meer as leerders by ’n skool nie. Vir eers was dit vir hulle net ’n intellektuele oefening. Die lede van hierdie groep het nog nie eenkant toe of anderkant toe gereageer op die aansprake van Jesus nie. Die eerste vlak van dissipelskap is die blote nuuskierige, die leerder, die intellektuele soeker, en niks meer nie.

b. Die Oortuigde Dissipel
Die tweede vlak van dissipelskap verwys na iemand wat oortuig is; die oortuigde dissipel. Hierdie kategorie word genoem in Johannes 2:11: Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo. Wanneer ’n persoon oorgaan van een wat nuuskierig is tot een wat oortuig is, beweeg hy van die eerste vlak van dissipelskap na die tweede vlak van dissipelskap. Hy glo die feite; hy is oortuig van die waarheid van die aanspraak. In hierdie geval, was hulle oortuig van die waarheid van Sy aanspraak dat Hy die Messias was.

c. Die Dissipel wat Verbind en Toegewy is
Daar is ’n derde vlak van dissipelskap, die soort waar die Koningskap van die Messias werklik geld. Dit is die dissipel wat hom verbind het. Dit is die een wat die feite leer ken het, geglo het en gered is, en hom nou verbind het en sy lewe toewy aan daardie waarheid. Van hierdie soort dissipel word daar gepraat in Matthéüs 16:13-16: En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

Nog ’n skrifgedeelte op hierdie selfde vlak van dissipelskap, is Johannes 6:66-68: Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. In hierdie skrifgedeelte lees ons eintlik van twee verskillende groepe dissipels: dié wat darem oortuig was maar Hom nie langer wou volg nie, hulle was miskien die blote nuuskieriges; maar die ander groep, die elf, was die derde vlak van dissipels. Hulle het hulle verbind; hulle sou by Jesus bly, maak nie saak wat gebeur nie, want hulle het geweet Hy het die woorde van die ewige lewe.

Dus, daar is drie vlakke van dissipelskap: die blote nuuskieriges of die leerders; die wat oortuig is maar hulle nie wil verbind nie; en die wat hulle verbind het, die toegewyde gelowiges. Diegene wat die oorgawe tot toewyding gemaak het en ’n Geesvervulde lewe lei, val in die kategorie van die dissipels wat hulle verbind het. Dit is ware dissipelskap. Dit is ’n volledige verbintenis. Dit wys werklik dat die Messias die Here van ’n persoon se lewe geword het, en dat hy ’n Geesvervulde lewe lei.

3. Die Eise van Dissipelskap
In die derde kategorie van dissipelskap, word die eise van dissipelskap in drie skrifgedeeltes uitgelê. Eerste is Matthéüs 16:24-26, wat leer dat ’n dissipel homself moet verloën en sy kruis opneem, wat beteken hy moet gewillig wees om verwerp te word net soos wat Jesus verwerp was. Die tweede skrifgedeelte is Lukas 14:27, wat ook onderstreep dat ’n mens met die Messias se verwerping moet identifiseer. Derde, Lukas 14:33 leer dat dissipelskap van ’n mens vereis om volledig afstand te doen van dit wat die belangrikste in jou lewe is.

Die eise van dissipelskap beteken dat ons nie langer baas van ons eie lewens is nie. Die Messias is die Here van ons lewens; Hy beheer ons en ons identifiseer volledig met Hom. Ons het volledig geïdentifiseer met sy verwerping en ons het alles wat buiten Hom die middelpunt van ons lewens mag wees of word, totaal versaak.

4. Hoe om ’n Dissipel te Word
In die vierde kategorie van dissipelskap, toon drie skrifgedeeltes hoe om ’n dissipel te word.

a. Matthéüs 11:28-29
Die eerste skrifgedeelte wys twee stappe uit. Die eerste stap is, Neem my juk op. Om “Sy juk op te neem” beteken om Sy dissipel te word. Om Sy dissipel te word, is om ’n mens se lewe eens en vir altyd toe te wy. Die tweede stap is, leer van My. Dit is die weg: leer van Hom en raak intiem bekend met Hom. Ons leer meer van Hom wanneer Hy die Here van ons lewens is, en ons ’n dissipel is, omdat ons hierdie volle oorgawe gemaak het.

b. Johannes 8:30-32
Die tweede skrifgedeelte leer, om ’n dissipel te word beteken om in die leringe van die Messias te bly. Jesus het gesê: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. Om “in die Woord te bly” beteken “om Sy Woord te ken, dit te volg en dit te gehoorsaam”. Gehoorsaamheid is die hoof kenmerk van ’n dissipel.

c. Lukas 9:57-62
Die derde skrifgedeelte wys uit, om ’n dissipel te word, behels drie dinge. Eerstens, “bereken die koste”. Moenie ’n oorhaastige of oningeligte besluit neem om jou te verbind nie. Bereken die koste, kom tot die besef dat sodra ons hierdie verbintenis aangegaan het, ons geen waarborg het van aardse gerief nie. Bereken die koste van dissipelskap, want dit is ’n verskriklike ding om ’n verbintenis aan te gaan en dan nie daarmee vol te hou nie. Tweedens, sodra die besluit geneem is, moet daar geen versuim wees om daarmee voort te gaan nie. Sodra jy ’n besluit geneem het, voer dit uit. Dan, derdens, wanneer jy op die pad van dissipelskap begin het, moet daar geen terugdraai wees nie, want dit is afvalligheid.

5. Die Groot Opdrag
In die vyfde kategorie van dissipelskap, is die Groot Opdrag in Matthéüs 28:18-20, nie om te evangeliseer nie, maar om dissipels te maak. In die Griekse teks is daar net een bevelvorm, en dit is, maak dissipels. Die bevelvorm word gebruik saam met drie ondergeskikte deelwoordelike bysinne: gaan, doop, leer. Hulle lê die drie elemente uit van hoe om dissipels te maak: een, gaan beteken “evangelisering”; twee, doop hulle wat geglo het; en drie, leer hulle al die dinge wat God gebied het, want gehoorsaamheid is die merkteken van ’n dissipel.

B. Bydraes
Bydraes is die tweede afsonderlike gebied waar die Koningskap van die Messias van toepassing is. Daar is vyf skrifgedeeltes in die Bybel wat leer oor gee en die verhouding daarvan ten opsigte van die Koningskap van die Messias.

1. I Johannes 3:17
In die eerste skrifgedeelte, word ons geleer dat mededeelsaamheid teenoor ’n medegelowige in nood, ’n bewys is van ’n geestelike lewe.

2. II Korinthiërs 8:1-5
Die tweede skrifgedeelte leer dat gelowiges die bediening, en diegene wat in die bediening staan, finansieel moet ondersteun. As ’n gelowige nie bydra tot die ondersteuning van ’n bediening of bedieninge nie, beoefen hy nie op hierdie gebied die Koningskap van die Messias nie.

3. Galasiërs 6:6
Die derde skrifgedeelte leer dat iemand wat geestelike voordele van ’n leraar ontvang, verplig is om materiële voordele met daardie leraar te deel. As jy onderrig in die Bybel ontvang deur ’n leraar van ’n kerk, ’n Sondagskool onderwyser, of ’n radiobediening, en jy dra nie by tot die finansiële ondersteuning van diegene deur wie jy voordeel trek nie, leef jy nie op hierdie gebied van jou lewe die Koningskap van die Messias uit nie.

4. I Korinthiërs 16:1-2
Die vierde skrifgedeelte leer vier dinge omtrent bydraes.

a. Almal Moet Gee
Die eerste ding wat hierdie skrifgedeelte leer, is dat dit van almal verwag word om te gee, want dit sê: moet elkeen van julle. Dit word van elke gelowige vereis om te gee.

b. Bydraes moet Proporsioneel wees
Twee, dit leer dat bydraes proporsioneel moet wees: na die mate wat God voorspoed gee. Die gee van die tiende geld nie vir die Nuwe-Testamentiese gelowige nie. Die gee van tiendes was net onder die Wet van Moses; dit is nie deel van die Wet van die Messias nie. Nogtans, as ons die Koningskap van die Messias gaan uitleef, moet ons leer om Geesvervulde bydraes te maak. Soms sal daar miskien net die moontlikheid van nege persent wees, op ’n ander keer miskien elf persent, somtyds negentig persent. In werklikheid was die Ou-Testamentiese tiende nie tien persent nie; as al drie vereiste tiendes bymekaar getel sou word, was dit twee-en-twintig persent.

’n Gelowige se bydrae moet proporsioneel wees en na die mate wat God hom voorspoedig maak. Gebaseer op die voorspoed wat God jou gegee het, moet jy ’n sekere hoeveelheid geld vir die werk van die Here opsysit, of dit nou tien, vyftig, of negentig persent is.

c. Bydraes is ’n Persoonlike Saak
Die derde ding wat hierdie skrifgedeelte leer in verband met gee, is dat bydraes in privaat besit moet wees: self opsy sit. Die Griekse woord wat hier gebruik word, beteken “om op te gaar” of “om te spaar”. Dit is refleksief, dit beteken “vir homself”, en dit kom in ’n persoonlike rekening, nie in een of ander algemene fonds soos die kerkkas nie. Met ander woorde, dit praat van ’n privaat fonds waarin die Here se geld gedeponeer word en waaruit ’n mens vir spesifieke doeleindes uitdeel soos die Gees lei.

Kom ons veronderstel ons gesin het twee aparte tjekrekeninge. Een is ons lopende rekening, waaruit ons kos koop, motor- en huispaaiemente betaal, ens. Ons het ’n tweede tjekrekening wat ons “God se Rekening” noem. Ons deponeer die Here se geld daarin en wat in daardie rekening ingaan, word nooit gebruik vir persoonlike behoeftes nie. Nooit! Van daardie oomblik af is dit die Here se geld, en soos ons deur die Gees gelei word, deel ons hierdie geld uit ter ondersteuning van verskeie bedieninge.

Daar is verskeie opsies oor hoe dit gedoen kan word, maar dit moet ’n privaat bydrae van een of ander aard wees. “Om op te gaar” sluit nie gereelde bydraes uit nie, soos om die bediening van ’n sekere gemeente te ondersteun. En dit sluit ook nie uit om ’n gelofte te maak nie, want die Korinthiërs het ’n gelofte gemaak in II Korinthiërs 8:10-11. Daar moet altyd ’n beskikbare voorraad geld wees om onmiddellik te kan uitgee soos die Gees lei, en die beste manier om dit te doen, is deur middel van ’n privaat rekening.

d. Bydraes moet Gereeld en Georganiseerd Wees
Die vierde ding omtrent bydraes is dat dit beide gereeld en georganiseerd moet wees: elke eerste dag van die week. Die wegsit van geld moenie ongereeld wees nie, maar op elke eerste dag van die week. Vanuit Paulus se Joodse perspektief, was dit enige tyd van sononder Saterdag tot sononder Sondag. Op elke eerste dag van die week moet ons gaan sit en bereken hoe God ons finansieel voorspoedig gemaak het. Dan, volgens die mate waarna Hy finansiële voorspoed geskenk het, moet ons ’n gedeelte van daardie geld vat, watter persentasie ook al, en dit wegsit in een of ander privaat rekening. Dan, soos die Gees lei, neem ons uit hierdie rekening en ondersteun die werk van die Here.

5. Romeine 15:25-27
Die vyfde skrifgedeelte oor gee wys dat ons, ten opsigte van ons sending bydraes, moet gee volgens die reël: eerste vir die Jood (Rom. 1:16). Soos nie-Jode deelgenote word van die Jode se geestelike seëninge, is die nie-Jode nou verplig om materiële dinge met Joodse gelowiges te deel.

Op hierdie verskillende maniere moet die Koningskap van die Messias toegepas word op verskeie gebiede van gee.

C. Gebed
Die derde afsonderlike gebied waar die Koningskap van die Messias toegepas word, is gebed. Die beste skrifgedeelte is Lukas 11:2-4, wat ses dinge uitwys aangaande die Koningskap van die Messias ten opsigte van gebed.

Een, gebed moet altyd gerig word tot God die Vader, nie tot die Seun of die Heilige Gees nie.

Twee, ons moet God heilig maak: Laat u Naam geheilig word.

Drie, ons moet bid vir die Koninkrykprogram, wat die werk van God is. Ons weet uit die profesieë dat die Koninkryk gaan kom, en ons kan daarvan seker wees dat dit sal kom. Daarom moet ons bid dat die Koninkryk sal kom. ’n Deel van die Koninkrykprogram is redding, daarom moet ons bid vir evangelisasie- en sendingwerk.

Vier, ons moet bid vir ons persoonlike behoeftes, met klem op ons afhanklikheid van God. Dit klink miskien na ’n kleinigheid, maar dit toon afhanklikheid van die Koningskap van die Messias. Dit is hoe ons in ons gebedslewe die Koningskap van die Messias toepas.

Vyf, daar moet belydenis van sonde wees om ons familieverhouding met God die Vader te herstel. Dit is by hierdie punt dat ons, deur middel van belydenis, ons stand van toewyding en die stand van ons Geesvervuldheid ondersoek om seker te maak dat ons nog op die pad van ’n toegewyde lewe is, dat ons steeds die toegewyde lewe leef.

Ses, ons moet bid oor geestelike oorlogvoering.

D. Die Huwelik
Die vierde afsonderlike gebied waar die Koningskap van die Messias toegepas word, is die huwelik. Die huwelik, miskien meer as enigiets anders, weerspieël navolging van die Messias as Koning. Soos die man die hoof is van sy vrou, net so moet die Messias die Hoof wees van die gelowige (Ef. 5:22-33). Deur die Koningskap van die Messias toe te pas op die huwelik, kan ons vyf dinge uitwys wat op hierdie skrifgedeelte gebaseer is.

Een, die vrou moet haar onderwerp aan die hoofskap van haar man tot dieselfde mate wat sy haar onderwerp aan die Hoofskap van die Messias.

Twee, ’n vrou wat nie onderdanig is nie, is in opstand teen die Koningskap van die Messias. As ’n vrou rebels is teenoor haar man, is sy rebels teenoor God. Dis hoe eenvoudig dit is.

Drie, die rede vir die onderdanigheid, berus op die liefde vir die Messias.

Vier, die man is verplig om sy vrou in liefde te onderwerp, nie om haar tot onderdanigheid te dwing nie. Om ’n vrou tot onderdanigheid te dwing deur haar te mishandel, verbaal of fisiek, is opstand teen die Koningskap van die Messias. ’n Man wat sy vrou mishandel is nie onderdanig aan die Messias se Koningskap nie. Dit is hoe eenvoudig dit is. ’n Man wat nie sy vrou liefhet nie, het ook nie vir God lief nie.

En vyf, ’n man moet sy bes doen om sy vrou te help ontwikkel op die gebied van haar gawes en talente.

Dit sluit ons studie oor die Koningskap van die Messias af.

Inhoudsopgawe

I. DIE TEOLOGIE VAN KONINGSKAP
     A. Die Betekenis van die Terme
         1. Jehovah
         2. Adon
         3. Adonai
         4. Kurios
     B. Die Koningskap van die Messias
         1. Die Messias is Here van die Ou Testament
         2. Die Messias is Here van die Nuwe Testament
         3. Gevolgtrekkings oor die Koningskap van die Messias
     C. Die Verhouding van Koningskap met Betrekking tot Redding
         1. ‘n Duidelike Definisie van die Evangelie
         2. Die Betekenis van die Woord “Here” in Verhouding tot Redding
             a. Here beteken “Meester”
             b. Here Beteken “Jehovah”
             c. Kurios Beteken “God”
             d. Wat dit Beteken om Jesus as Here Aan te Neem
                 (1) Romeine 1:1-4
                 (2) Romeine 10:9-10
                 (3) Handelinge 2:36
                 (4) I Korinthiërs 12:3
                 (5) Filippense 2:8-11
II. OM DIE MESSIAS HERE VAN ’N MENS SE LEWE TE MAAK
     A. Die Kwessie van Toewyding
         1. Die Wanbalans in die Leer van Toewyding
         2. Die Basis van Toewyding
             a. Die Rol van Verlossing
             b. Die Konsep van Verlossing
             c. Gevolgtrekkings
         3. Die Inhoud van Toewyding
         4. Die Aspekte van Toewyding
             a. ’n Eerste Stap van Oorgawe
             b. Nonkonformiteit
             c. Transformasie
         5. Die Herhaling van Toewyding
             a. Die Probleem: Sonde in ’n Gelowige se Lewe
             b. Die Regstelling: Restourasie
             c. Die Weg: Belydenis
         6. Die Resultate van Toewyding
     B. Die Kwessie van ’n Geesvervulde Lewenswandel
         1. Die Bedieninge van die Heilige Gees in Verhouding tot Redding
         2. Die Bedieninge van die Heilige Gees in Verhouding tot Geestelike Volwassenheid
         3. Die Vervulling met die Heilige Gees
             a. Die Definisie van Vervulling
             b. Die Kenmerke van Vervulling
             c. Die Voorwaardes vir Geesvervulling
             d. Die Resultate van Geesvervulling
III. TOEPASSINGS VAN DIE KONINGSKAP VAN DIE MESSIAS OP SPESIFIEKE GEBIEDE
     A. Dissipelskap
         1. Die Definisie
         2. Die Gebruike van die Woord “Dissipel”
             a. Die Nuuskieriges
             b. Die Oortuigde Dissipel
             c. Die Dissipel wat Verbind en Toegewy is
         3. Die Eise van Dissipelskap
         4. Hoe Om ’n Dissipel te Word
             a. Matthéüs 11:28-29
             b. Johannes 8:30-32
             c. Lukas 9:57-62
         5. Die Groot Opdrag
     B. Bydraes
         1. I Johannes 3:17
         2. II Korinthiërs 8:1-5
         3. Galasiërs 6:6
         4. I Korinthiërs 16:1-2
             a. Almal Moet Gee
             b. Bydraes moet Proporsioneel Wees
             c. Bydraes Is ’n Persoonlike Saak
             d. Bydraes moet Gereeld en Georganiseerd Wees
         5. Romeine 15:25-27
     C. Gebed
     D. Die Huwelik

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

‘n Deeglike studie van die verskillende bedienings van die derde Persoon van die Drie-Eenheid word aangebied. Dit word op vyf belangrike terreine bestudeer:

 

  • Met betrekking tot die Skrif (openbaring, inspirasie en verheldering);
  • Die bedienings van die Heilige Gees in die Ou Testament (die skepping, die wêreld, inwoning, neerdaling en vervulling);
  • In verhouding tot ongelowiges: oortuig van sonde, geregtigheid en van oordeel;
  • Met betrekking tot gelowiges, spesifiek wat betref: Redding (wedergeboorte, inwoning, doping, verseëling en salwing) Geestelike groei (vervulling, lering, leiding, sekerheid, intersessie en gebed, getuienis, gemeenskap); en

 

 

  • Die bedienings van die Heilige Gees in die toekoms (tydens die Groot Verdrukking, die nasionale wedergeboorte van Israel en die millennium).