Die moderne staat van Israel in Bybelprofesie

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het. – Sagaría 12:10

Oor die onderwerp van die moderne Staat van Israel in Bybelprofesie, kom ’n mens vier sienings teë, wat vier verskillende perspektiewe aanbied. Drie perspektiewe word in die inleiding tot hierdie studie bespreek. Die vierde perspektief sal bespreek word in die konteks van Jesaja 11:11-12:6. En ’n vyfde perspektief sal geopper word ten opsigte van die twee wêreldwye herversamelings.

INLEIDING
A. Drie Perspektiewe oor die Moderne Staat van Israel in Bybelprofesie
1. Die Eerste Perspektief: Vervangingsteologie

Die eerste perspektief is die siening van die Vervangingsteologie, in die besonder Amillennialisme, wat die moderne Joodse Staat sien as ’n suiwer historiese toevalligheid wat heeltemal niks te doen het met enige Bybelprofesie nie.

Volgens hierdie eerste siening word daar geglo dat God klaar was met die Jode toe Israel die Messiasskap van Jesus verwerp het. Gevolglik is daar geen onvervulde profesieë vir die Jode nie en is daar geen toekomstige finale herstel nie. Toe Israel God se verbondsbeloftes verwerp het, is al die verbondsbeloftes van God oorgedra op die Kerk; dit is dus ’n oordragsteologie. Of, anders gestel, toe Israel die Messias verwerp het, het die Kerk Israel se plek in God se oë vervang; dit is dus ’n vervangingsteologie. Die Kerk laat met ander woorde Israel se beloftes in vervulling gaan. Op ’n vraag aan hulle oor al die profesieë wat ’n wêreldwye herversameling van die Jode verklaar, antwoord hulle dat hierdie profesieë nie letterlik geïnterpreteer moet word nie, maar allegories toegepas moet word ten opsigte van die uitverkorenes wat in die Kerk ingebring word totdat die Kerk voltooi is. Jode kan vandag gered word, maar hulle smelt net eenvoudig saam met die groter Kerk; vir Israel as ’n etniese volk voorsien God in die toekoms geen herstel nie. Niks wat dus vandag met Israel gebeur, het op enige manier betrekking op profesie nie. Daar is ook geen toekomsprofesie vir Israel nie, en die moderne Staat van Israel is, soos gesê, net ’n historiese toevalligheid.

2. Die Tweede Perspektief
Die tweede perspektief huldig die teenoorgestelde siening in die opsig dat hulle glo daar sal wel ’n finale herstel van Israel plaasvind. Hulle neem die profesieë wat handel oor die wêreldwye herversameling van Israel letterlik op en glo daar sal in die toekoms ’n finale herstel van die Jode in die Beloofde Land wees. Nogtans sukkel hulle om die moderne Joodse Staat soos dit nou daar uitsien, in Bybelprofesie in te pas. Hulle rede hiervoor is dat hierdie profesieë die beskrywing is van die finale herversameling van Israel as ’n volk wat in die Messias glo. Die chronologiese volgorde van hierdie profesieë is: nasionale bekering gevolg deur nasionale herstel. As hulle na die huidige Joodse Staat kyk, is dit duidelik dat die grootste meerderheid van die bevolking nie in die Messias glo nie; trouens, van die 1.5 miljoen Jode in die Land vandag, is hoogstens net omtrent vier- tot vyfduisend van hulle Joodse gelowiges. [1]

Om sake te vererger, is die grootste meerderheid Israeli’s nie eers Ortodokse Jode nie; hulle sal hulself heel sekulêr beskryf as óf ateïsties óf agnosties. Dit pas nie in by hierdie profesieë nie. Die profesieë wat duidelik praat van ’n nasionale redding wat ’n nasionale herstel in die Land voorafgaan, sluit onder andere in: Deuteronómium 30:1-5; Jesaja 27:12-13; en Eségiël 39:25-29.

Hulle siening verskil dus van die eerste siening in die opsig dat hulle glo daar sal in die toekoms so ’n finale herstel wees. Hulle stem egter saam met die eerste siening dat die moderne Staat van Israel ’n historiese toevalligheid is en glad nie relevant is ten opsigte van Bybelprofesie nie.

3. Die Derde Perspektief
Die derde perspektief sê dat dit wat vandag aan die gebeur is, die finale herstel van Israel is; dit is die begin van die vervulling van al daardie profesieë. Meer en meer Jode sal teruggaan na die Land toe, totdat almal terug is. Op ’n sekere punt sal hulle ’n nasionale geestelike vernuwing en redding ondergaan, en die Messias sal terugkeer. Op ’n vraag omtrent die profesieë wat handel oor ’n tydperk van goddelike oordeel en Verdrukking wat hierdie tyd voorafgaan, sal hulle antwoord dat die profesieë oor die Verdrukking alreeds vervul is in die Nazi-Volksmoord, en dat daar gevolglik in die toekoms geen Verdrukking sal wees nie. Dit is reeds iets van die verlede en wat vandag gesien word, is die finale herstel.

Voorstanders van hierdie siening reis dwarsoor die wêreld en moedig die Jode aan om terug te keer. Hulle gaan ook na groepe Joodse gelowiges, messiaanse bymekaarkomplekke en gemeentes toe, en laat Joodse gelowiges skuldig voel deur te vertel dat, as hulle nie dadelik teruggaan Israel toe nie, hulle in sonde lewe. Hulle sê God roep tans alle Jode, veral Joodse gelowiges in die Messias, terug na hulle eie Land toe. Om buite die Land te woon, soos byvoorbeeld midde-in die “vleispotte van Amerika,” is om in sonde te leef. As hulle gevra word om hulle siening met Bybelse skrifgedeeltes te staaf, verwys hulle na daardie profesieë waar die profete die Jode opgeroep het om uit Babilon weg te gaan. Hulle interpreteer die skrifgedeeltes oor Babilon nie as die regte Babilon van die verlede of die toekoms nie, maar sê Babilon verteenwoordig die Verenigde State van Amerika.

As daar uitgewys word dat hierdie profesieë melding maak van die Eufraatrivier, wat in Babilon is, maak hulle daarop aanspraak dat die rivier nie regtig die Eufraatrivier is nie, maar dat dit eintlik die Hudsonrivier in New York Stad is! Dit sou nogal vir profete soos onder andere Jeremia ’n verrassing gewees het.

Dus, volgens hierdie derde perspektief, is dit tans die finale herstel; dit is die vervulling, ten minste in die aanvangstadiums, van die profesieë oor die finale herstel.

B. Twee Wêreldwye Herversamelings
Wat die eerste drie perspektiewe oor die hoof sien, is dat wanneer die Bybel van die wêreldwye herversameling van die Jode praat, dit eintlik van twee heeltemal afsonderlike wêreldwye herversamelings praat. Dit is die vyfde perspektief. [Die vierde perspektief word later in hierdie studie bespreek.]

Wat die vyfde perspektief betref: Eerstens is daar ’n wêreldwye herversameling in ongeloof ter voorbereiding vir oordeel; in die besonder die oordeel van die Verdrukking. Dit sal gevolg word deur ’n tweede wêreldwye herversameling in geloof ter voorbereiding vir seëninge, in die besonder die seën van die Messiaanse Koninkryk.

Hierdie studie sal fokus op daardie profesieë wat duidelik praat van ’n wêreldwye herversameling in ongeloof ter voorbereiding vir die oordeel, eerder as op die profesieë wat praat van die wêreldwye herversameling in geloof ter voorbereiding vir die seëninge. Sodra dit besef word dat die Bybel van twee herversamelings praat, is dit maklik om te sien hoe die huidige Staat van Israel in Bybelprofesie inpas.

I. DIE HERVERSAMELING IN ONGELOOF TER VOORBEREIDING VIR OORDEEL
Daar is drie kern skrifgedeeltes wat praat van die wêreldwye herversameling in ongeloof ter voorbereiding vir oordeel en ’n vierde skrifgedeelte wat relevant is tot hierdie kwessie.

A. In die Land: Eségiël 20:33-38
So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek sal gewis met ’n sterke hand en met ’n uitgestrekte arm en met uitgestorte grimmigheid oor julle regeer. En Ek sal julle uit die volke uitlei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, deur ’n sterke hand en deur ’n uitgestrekte arm en deur uitgestorte grimmigheid. En Ek sal julle bring in die woestyn van die volke, en Ek sal daar met julle in gerig tree van aangesig tot aangesig. Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal Ek met julle in die gerig tree, spreek die Here HERE. En Ek sal julle onder die herderstaf laat deurgaan en julle bring in die band van die verbond. En Ek sal uit julle afsonder die wat opstandig is en teen My oortree; Ek sal hulle uit die land van hul vreemdelingskap uitlei, maar hulle sal in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die HERE is.

In hierdie skrifgedeelte tref Eségiël ’n vergelyking met die Uittog uit Egipte toe God die hele volk Israel onder leiding van Moses uit Egipteland gelei het en hulle in die wildernis van die Sinai woestyn gebring het. God se plan en program vir Israel in Sinai was die bereiking van twee doeleindes: een, hulle moes die Wet van Moses ontvang; en twee, hulle moes ’n Tabernakel bou waardeur ’n groot deel van die Wet dan onderhou kon word. Met hierdie twee dinge afgehandel, moes hulle dan verder gaan en die Beloofde Land binnegaan. Maar as gevolg van ’n reeks opstande en murmurerings teen God se geopenbaarde wil, het God uiteindelik by die oase van Kades-Barnéa, wat reg op die grens van die Beloofde Land was, met Sy volk in die gerig getree. Die goddelike oordeel was dat die wat uit Egipte uitgekom het, nou vir veertig jaar lank deur die wildernis sou moes aanhou swerf. Tydens daardie veertig jaar sou almal wat uitgekom het sterf, behalwe die twee gelowige verspieders en almal wat onder twintig was. Veertig jaar later dus, was dit ’n nuwe nasie wat toegelaat was om onder die leiding van Josua die Beloofde Land binne te gaan, ’n nasie wat as vry mense in die wildernis gebore is, nie as slawe in Egipte nie.

Daardie historiese verwysingsraam is die agtergrond vir die toekoms. Hierdie keer profeteer Eségiël dat God weer Sy volk sal bymekaarmaak, maar dan uit alle dele van die wêreld. Dit moet besef word dat dit ’n herversameling is uit ’n situasie van grimmigheid, en ook ’n herversameling is vir ’n situasie vir die uitstort van grimmigheid. Hulle is herversamel uit die grimmigheid van die Volksmoord. Die gebeure van die Nazi-Volksmoord, toe sesmiljoen Jode gesterf het, het die wêreldverhoog geskep vir Israel om ’n staat te word, vir die herversameling in ongeloof. Dat hierdie versameling nie in geloof is nie maar in ongeloof, is duidelik uit die feit dat hierdie versameling met ’n sterke hand en met ’n uitgestrekte arm en met uitgestorte grimmigheid gepaard gaan. Hierdie frase word twee keer herhaal en kom voor in verse 33 en 34. God se doelwit is dié van Messiaanse Koningskap, maar die manier waarop dit bereik sal word, is deur grimmigheid en oordeel. Dit is ’n versameling hierdie, beide uit grimmigheid en vir grimmigheid. Hierdie herversameling in ongeloof vind plaas nadat grimmigheid [tydens die Volksmoord] oor die volk uitgestort is.

Maar omdat dit ’n herversameling in ongeloof is, is dit ’n herversameling vir verdere grimmigheid in die toekoms. In daardie toekomstige tyd van grimmigheid, sal God weer eens met Sy volk in die gerig tree, en die rebelle onder hulle uitsuiwer. Die wat sal oorbly, sal hulle na die Here wend; hulle sal gebring word in die band van die verbond; spesifiek, die band van die Nuwe Verbond (Jer. 31:31-34). Hulle sal tot nasionale redding gebring word. Dan sal dit ’n nuwe nasie wees, ’n nasie wat geestelik hernu is, wat toegelaat sal word om die Land onder Koning Messias binne te gaan vir die finale herstel.

In hierdie verse beskryf Eségiël duidelik ’n wêreldwye herversameling in ongeloof, uit grimmigheid en vir grimmigheid, ter voorbereiding vir ’n spesifieke tydperk van oordeel wat dan sal lei tot ’n nasionale geestelike redding, en dit weer vervolgens tot hulle finale herstel.

B. In Jerusalem: Eségiël 22:17-22
Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, die huis van Israel het vir My skuim geword; hulle is almal koper en tin en yster en lood binne die smeltoond; silwerskuim het hulle geword. Daarom, so sê die Here HERE: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ’n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ’n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt. Ja, Ek sal julle versamel en met die vuur van my grimmigheid teen julle blaas, dat julle dáárin gesmelt kan word. Soos silwer in die smeltoond gesmelt word, so sal julle dáárin gesmelt word; en julle sal weet dat Ek, die HERE, my grimmigheid oor julle uitgegiet het.

Eségiël beskryf weer ’n herversameling, hierdie keer met fokus op die Stad Jerusalem. Jerusalem word die smeltoond van beproewing, ’n algemene uitdrukking wat wys op die nodigheid vir Israel se suiwering (Jes. 1:22, 25; 48:10; Jer. 6:27-30; 9:7; Sag. 13:9; Mal. 3:2-3). Verder is dit ook ’n herversameling in ongeloof omdat hulle gevul is met die onsuiwerhede van koper en tin en yster en lood. Hulle word ook versamel vir ’n toekomstige tyd van toorn, wanneer die grimmigheid van God op hulle uitgestort sal word met die doel om hulle te smelt en van onsuiwerhede te reinig. As ’n gesuiwerde, gelowige volk, sal hulle hul dan na die Here wend.

Hier praat Eségiël weer van ’n wêreldwye herversameling in ongeloof ter voorbereiding vir ’n spesifieke toekomstige oordeel, maar die doel van die oordeel is om hulle tot nasionale bekering te bring. Eers dan sal hulle die finale wêreldwye herstel in geloof beleef.

C. Die Aantal Wêreldwye Herversamelings: Jesaja 11:11-12:6
Die vierde skrifgedeelte wat relevant is tot die eerste drie, kom voor in Jesaja. Hoofstuk 11:11-12 verklaar: En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see; en Hy sal ’n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde.

1. Die Vierde Perspektief
Dit is in hierdie verband dat die vierde perspektief bespreek word. Hierdie siening erken dat daar profesieë oor twee soorte herversamelings is: ’n herversameling in ongeloof en ’n herversameling in geloof. Dan gaan die vierde siening egter verder deur te sê ’n mens kan nie regtig daarvan seker wees dat die huidige Joodse Staat, soos dit vandag daar uitsien, ’n vervulling is van daardie profesieë wat handel oor die herversameling in ongeloof nie. Hoekom nie? Want die aanhangers van hierdie siening glo dat dit moontlik is om verskeie herversamelings in ongeloof te hê voor die spesifieke een wat die vervulling van die pasbespreekte profesieë is. Maar hierdie skrifgedeelte in Jesaja wys dat dit presies is wat nié kan wees nie: daar kan nie verskeie herversamelings in ongeloof wees uit die vier hoeke van die aarde nie.

2. Slegs Twee Herversamelings
Die volle konteks is Jesaja 11:11-12:6. In hierdie konteks praat Jesaja van die finale wêreldwye herversameling in geloof ter voorbereiding vir seëninge. Jesaja wys die finale wêreldwye herversameling in geloof ter voorbereiding van die Messiaanse Koninkryk aan as die tweede keer. Met ander woorde, die laaste een is slegs die tweede een. As die laaste een die tweede een is, hoeveel kan daar voor dit wees? Net een. Die eerste een kon nie die terugkeer uit Babilon gewees het nie, want dit was nie ’n internasionale herversameling uit die vier hoeke van die aarde nie, dit was net ’n migrasie vanuit een land, Babilon, na ’n ander land, Judea. Die Bybel laat nie toe vir verskeie wêreldwye herversamelings in ongeloof nie; dit laat toe vir een wêreldwye herversameling in ongeloof, gevolg deur die laaste een, die een in geloof, wat die tweede een is. Hierdie teks laat net toe vir twee wêreldwye herversamelings uit die vier hoeke van die aarde. Daarom is die huidige Joodse Staat baie relevant ten opsigte van Bybelprofesie.

D. Die Herversameling Voor die Verdrukking: Sefánja 2:1-2
Tot dusver is skrifgedeeltes bespreek wat handel oor ’n herversameling in ongeloof ter voorbereiding vir oordeel. Hierdie skrifgedeeltes verklaar egter nie spesifiek dat hierdie herversameling voor die tyd van die Verdrukking sal plaasvind nie. Daar is egter ander skrifgedeeltes wat wel noukeurig aandui dat die herversameling in ongeloof voor die Verdrukking gebeur. Een so ’n skrifgedeete is Sefánja 2:1-2: Kom tot julleself, ja, kom tot inkeer, o nasie wat nie skaam word nie! Voordat die besluit baar – soos kaf gaan die dag verby – voordat daar oor julle kom die toorngloed van die HERE, voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE.

In Sefánja 1:7-18 beskryf die profeet sekere eienskappe van ’n tyd wat hy noem die dag van die HERE of die groot dag van die HERE. Dit is die mees algemene Ou Testamentiese term vir die Verdrukking. Die algemeenste term vandag is “die Verdrukking” of “die Groot Verdukking.” Dan, in Sefánja 2:1-2, praat hy van ’n gebeurtenis wat moet plaasvind voordat daardie tyd van die dag van die HERE begin. In vers 1 word die volk Israel aangespreek met: Kom tot julleself, … o nasie wat nie skaam word nie! (Die NASB lees: Gather yourselves together, yes, gather, O nation without shame.] Uit hierdie vers is dit duidelik dat dit ’n versameling in ongeloof is, want dit is ’n nasie wat nog nie skaam is oor hulle sonde nie. In vers 2 word die woord voordat drie keer gebruik met verwysing na die vorige skrifgedeelte omtrent die Verdrukking, en een van die drie kere sluit dit die term die dag van die toorn van die HERE in.

Hoewel Eségiël 36:22-24 primêr handel oor die geestelike vernuwing van Israel, word dit nietemin duidelik gemaak dat daar, voor die geestelike vernuwing, ’n herversameling plaasvind: Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het. En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken. En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring.

Waar ander tekste dus praat van ’n herversameling in ongeloof ter voorbereiding vir oordeel, stel hierdie skrifgedeeltes dit duidelik dat hierdie herversameling in ongeloof sal plaavind voordat die Verdrukking werklik begin.

II. DRIE AANVERWANTE KWESSIES
Bykomend tot hierdie skrifgedeeltes wat handel oor ’n wêreldwye herversameling in ongeloof ter voorbereiding vir oordeel, is daar drie aanverwante kwessies wat relevant is tot die tema van die moderne Joodse Staat in Bybelprofesie.

A. Die Begin van die Verdrukking
Die eerste aanverwante kwessie is die begin van die Verdruking. In Daniël 9:24-27 het die Profeet sy beroemde visioen ontvang van die Sewentig Sewetalle of die 490-jaar lange tydperk wat God oor die Jode bepaal het. Die doel van hierdie studie is nie om hierdie skrifgedeelte frase vir frase te behandel nie. Opsommend kan net gesê word dat, teen die einde van vers 26, is die eerste 483 jaar van hierdie tydperk reeds histories vervul; dit is beëindig in die tyd van die Eerste Koms van die Messias.

Daar is egter sewe jaar van hierdie profetiese horlosie wat nog moet aftik, dieselfde sewe jaar as die tyd van die Verdrukking. Die vraag is nou: Wat sal die een enkele gebeurtenis wees wat die sewe jaar van Verdrukking, die sewentigste sewetal van Daniël, sal begin?

Die antwoord word gevind in Daniël 9:27: En hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.

In hierdie vers gaan die voornaamwoord hy terug na sy naaste voorganger die vors wat sal kom in vers 26. Met ander woorde, die vors wat sal kom in vers 26 en die hy wat die verbond sluit in vers 27, is een en dieselfde persoon, die individu wat vandag in evangeliese kringe algemeen bekend staan as “die Antichris.”

Die laaste sewe jaar, die sewentigste sewetal, sal begin met een spesifieke, beslissende gebeurtenis, naamlik die ondertekening van die sewe-jaar verdrag tussen Israel en die Antichris. Die Hebreeuse woord beteken nie om ’n bestaande verbond te hernu nie, maar om ’n oorspronklike een op te stel wat sterk waarborge bevat. Dit is die gebeurtenis wat die Verdrukking sal begin, dis nie die Wegraping van die Kerk wat dit begin nie. Die Wegraping is ’n gebeurtenis wat altyd ophande is; dit kan enige oomblik gebeur. Dit word nie bepaal deur enige reeks gebeurtenisse nie. Mense praat dikwels van tekens vir die Wegraping, maar die Wegraping is ’n gebeurtenis waarvoor daar geen tekens is nie; ’n gebeurtenis waarvan die datum nooit bereken kan word nie, ten spyte van al die geld wat mense maak deur boeke te skryf wat dit voorstel asof hulle weet wanneer die Wegraping gaan plaasvind. Die Wegraping sal iewers voor die Verdrukking kom, maar dit mag tien, twintig, dertig, of veertig jaar voor die Verdrukking gebeur. Terwyl die Bybel leer dat die Wegraping die Verdrukking sal voorafgaan, sê dit nooit dat die Wegraping die Verdrukking begin nie. Nee, die gebeurtenis wat die Verdrukking begin, is die ondertekening van hierdie sewe-jaar lange verbond.

Terwyl Daniël 9:27 die verbond wat die Verdrukking begin vanuit die mens se perspektief aanbied, sien Jesaja 28:14-22 die verbond vanuit God se perspektief. Die rede waarom Israel hulle selfs verwerdig om hierdie verbond te sluit, is ter wille van militêre sekuriteit. Wanneer hulle hierdie verbond onderteken, plaas hulle hul vertroue in die Antichris vir hulle militêre sekuriteit. God verklaar egter dat hierdie nie ’n verbond van die lewe is nie, maar ’n verbond van die dood. Dit is nie ’n verbond van die Hemel nie, maar ’n verbond van die Hel. In plaas daarvan dat hulle sekuriteit gaan wen, gaan hulle ’n groot mate van onveiligheid ontvang. Daar bestaan ’n algemene wanopvatting dat die Jode die Antichris sal aanneem as die messias. Dit word nêrens so in die Bybel geleer nie. Al wat die Bybel sê, is dat hulle ’n verbond met die Antichris sluit en hulle vertroue in hom stel vir hulle militêre sekuriteit. Dit lê nog in die toekoms, maar dit vereis die bestaan van ’n Joodse Staat voor die Verdrukking. Hierdie skrifgedeelte toon duidelik dat daar ’n segment van die Jode sal wees wat sal weier om enigiets met hierdie verbond te doen te hê.

Die vervulling van hierdie profesie voorveronderstel dat twee ander dinge in plek moet wees: een is nie in plek nie, maar een is.

Een, dit voorveronderstel dat die Antichris al reeds voor die Verdrukking polities baie magtig sal wees, sodat ’n onafhanklike staat soos Israel ’n verbond van hierdie aard met hom sal wil sluit. Onafhanklike state soos Israel sal nie verbonde sluit met minderwaardige persone nie. Dit het nog nie gebeur nie, maar moet plaasvind voordat die Verdrukking kan begin.

Die tweede ding wat die vervulling van hierdie profesie voorveronderstel, is dat daar ’n Joodse Staat in plek sal wees, met ’n Joodse regering, met wie ’n verbond van hierdie aard gesamentlik onderteken kan word. Dit is eers sedert 1948 die geval. Bybels gesproke kon die Wegraping voor 1948 plaasgevind het, maar die Verdrukking kon nie voor 1948 plaasgevind het nie, want toe was daar geen Joodse Staat nie, geen Joodse regering met wie so ’n verbond gesluit kon word nie. Met ander woorde, hierdie skrifgedeelte vereis dat ’n Joodse Staat moet bestaan voor die Verdrukking, en nou is daar een. Dit is nog ’n manier waarop die moderne Staat van Israel inpas by Bybelprofesie.

Net weer, die Wegraping hang nie af van enige een van hierdie dinge nie. Hou in gedagte dat die Kerk se salige hoop nie gevestig is op die koms van die Antichris nie. In hom is daar geen saligheid nie. Die salige hoop van die Kerk is die wederkoms van die Here Jesus in die lug om gelowiges Hemel toe te neem.

B. Die Derde Tempel en die Gruwel van die Verwoesting
Die tweede aanverwante kwessie tot die moderne Staat van Israel in Bybelprofesie, is die Derde Tempel en die Gruwel van die Verwoesting. Daar is vier skrifgedeeltes wat hierdie spesifieke gebeurtenis beskryf wat in die middel van die verdrukking sal plaasvind.

Die eerste skrifgedeelte is Daniël 9:27: En hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.

Die tweede skrifgedeelte is Matthëüs 24:15: Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet.

Die derde skrifgedeelte is II Thessalonicense 2:3-4: Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

En die vierde skrifgedeelte is Openbaring 11:1-2: En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap.

Al vier skrifgedeeltes beskryf gebeurtenisse wat verband hou met die Joodse Tempel. In almal van hulle vind die gebeurtenisse wat beskryf word in die middel van die Verdrukking plaas. Die Gruwel van die Verwoesting vind plaas wanneer die Antichris die sewe-jaar lange verbond met Israel verbreek; hy sal die Joodse Tempel oorneem, in die Allerheiligste gaan sit, homself as God Almagtig verklaar, en die hele wêreld oproep om hom te aanbid. Deur sy merk van 666 te ontvang, sal hulle aandui dat hulle sy godheid aanvaar. Wat in hierdie tekste duidelik onderskryf word, is dat die Tempel gebou is en in gebruik is teen die tyd van die middel van die Verdrukking.

1. Die Profesie
Aangesien hierdie gebeurtenis in die middel van die Verdrukking plaasvind, is die vraag hoe dit dan relevant is tot die huidige tema van die moderne Joodse Staat in Bybelprofesie?

Dit is relevant in die opsig dat dit beteken Israel is in beheer van die Tempelberg. Die feit dat hierdie gebeurtenisse in die middel van die Verdrukking plaasvind, beteken dat die Tempel teen die middel van die Verdrukking sowel staan as in gebruik is, wat op sy beurt beteken dat dit herbou moet wees voordat die middel van die Verdrukking aanbreek. Daar is twee opsies oor wanneer die Tempel herbou sal word. Die eerste is dat die Tempel gedurende die eerste 3 1/2 jaar van die Verdrukking herbou kan word. Die tweede opsie is dat dit selfs voordat die Verdrukking ’n aanvang neem, herbou kan word. Dit is onmoontlik om meer presies te wees as dit; die enigste ding wat vir seker geweet kan word, is dat die Tempel teen die middel van die Verdrukking sal staan, en reeds vir ’n tyd in gebruik sal wees.

Hoewel Israel in 1948 ’n Staat geword het, was die stad Jerusalem vir negentien jaar lank verdeeld. Van 1948 af tot met die Sesdaagse Oorlog in 1967, was die oostelike deel van Jerusalem – wat die Bybelse Jerusalem is, die Ou Stad waar die Tempelberg geleë is – in Jordaniese hande, nie in Joodse hande nie. Een van die bygevolge van die Sesdaagse Oorlog in 1967, was die Joodse oorname van die Tempelberg. Met ander woorde, voor 1967 was dit onmoontlik dat die Tempel herbou kon word; eers sedert 1967 het dit ’n moontlikheid geword. Hierdie profesie vereis die uiteindelike Joodse beheer oor die Tempelberg, en dit het in 1967 gebeur. Dit is nog ’n manier waarop die moderne Joodse Staat inpas by Bybelprofesie.

2. Die Voorbereidings vir die Derde Tempel
Ten spyte van baie gerugte wat vandag die rondte doen, is daar nog geen werklike, aktiewe oprigting van die Tempel aan die gang nie. Daar is egter twee dinge wat besig is om te gebeur wat relevant is tot die Tempel.

Een, in die Joodse gebied van die Ou Stad is daar ’n groep, die Tempelinstituut, wat besig is met die vervaardiging van toerusting vir die volgende Tempel. Hulle het al reeds ’n hele aantal items gereed, soos byvoorbeeld verskeie soorte gereedskap en skoppe om die as van die Altaar af na buitentoe te dra. Hulle het verskillende soorte komme en kruike gemaak vir die wateroffers, wynoffers, en die uitstorting van die bloed. Hulle het die rooi draad en die plekke vir die sondebok gemaak. Tot op datum (1999) het hulle nog nie die hoëpriesterlike klede gemaak nie, maar is besig met die gewone priesterlike klede. Hulle wil al hierdie dinge gereed hê sodat hulle dit onmiddellik kan begin gebruik wanneer die Derde Tempel gebou word.

Twee, die Ateret Hakohanim, ’n groep wat gesetel is in die Moslemgebied van die Ou Stad, is besig om priesters op te lei vir die offerdiens. Die Stam van Levi was die enigste stam wat deur die Wet van Moses toegelaat was om Tempeldiens te doen en die offerstelsel te onderhou. Die Stam van Levi is die een stam wat sy identiteit behou het. Jode met vanne soos Levi, Levy, Levin, Leventhal, Levinson, Cohen, asook ander vergelykende vanne, is lede van die Stam van Levi. Alle Leviete kan egter nie priesters wees nie, net dié wat afstammelinge van Aäron is. Die van Cohen is die Hebreeuse naam vir “priester.” Ortodokse Cohens word opgelei om die offers korrek uit te voer en daar sal dus Levitiese priesters wees wat gereed is om hierdie dinge te doen sodra die Tempel herbou is.

3. Vrae in verband met die Tempel
a. Wat van die verbondsark?

In sommige populêre boeke oor Bybelprofesie, verskyn verslae van mense wat besig is om na die Verbondsark te soek. Almal van hulle klink of hulle weet waar dit is, maar nie een van hulle het dit al reggekry om dit te vind nie. Die veronderstelling is dat dit nodig is om die Verbondsark te hê voordat die Tempel herbou kan word. Hulle probeer God help om Sy profesieë te vervul, so asof God enigiemand se hulp nodig het.

Die feit is, die Ark is nie noodsaaklik vir die Tempel om herbou te word nie. Toe die Jode uit die Babiloniese ballingskap teruggegekeer het en die Tweede Tempel herbou het, het hulle geen Verbondsark gehad nie. Die Tweede Tempel het gestaan vanaf 515 vC tot 70 nC. Vir amper seshonderd jaar lank het hulle bloed in die Allerheiligste ingeneem, maar dit gesprinkel sonder die Verbondsark. Die Tempel wat in die tyd van Jesus gestaan het, het geen Verbondsark gehad nie. Dit is dus nie nodig om die Ark te hê sodat die Tempel herbou kan word of sodat die Tempel kan funksioneer nie.

Verder is dit hoogs onwaarskynlik dat die Verbondsark steeds bestaan. Dit is waarskynlik vernietig tydens die Babiloniese verwoesting van die Eerste Tempel. Jeremia 52:17-23 noem al die goed op wat Nebukadnésar saam met hom Babilon toe gevat het en die teks sê dat die res met vuur vernietig is. Dit sou die Verbondsark ingesluit het. Die Ark was net ’n houer van hout wat met goud beslaan was, en al wat hulle dus moes doen, was om die goud af te stroop en dan die houer te verbrand. Dit is hoekom daar, toe hulle na sewentig jaar teruggekeer het uit Babilon, geen Verbondsark was om in die Allerheiligste te plaas nie. As hulle dit na slegs sewentig jaar nie kon vind nie, sal hulle dit ook nie regkry om dit na tweeduisend-vyfhonderd jaar te vind nie. Hulle spandeer ’n klomp energie en geld vir niks.

b. Wat van die As van die Rooi Vers?
Die tweede kwessie wat te doen het met die Joodse Tempel, gaan om die as van die rooi vers. Een spesifieke leerkrag reis deur die land en sê hy weet waar die as van die rooi vers is, so gee hom geld en hy sal dit vir jou vind! Verder sê hy hulle moet die as van die vorige rooi vers hê om met die as van die nuwe vers te meng voordat die tempel ingewy kan word. Weer eens, dit is nie waar nie. Die wette in verband met die as van die rooi vers is opgeteken in Númeri 19, en daar word niks daarvan gesê dat dit gemeng moet word met die as van die vorige rooi vers nie. Dit is glad nie nodig om die ou as te vind nie.

Volgens Joodse wet sal hulle, wanneer hulle ten volle gereed is vir die Tempel om te funksioneer, eenvoudig ’n rooi vers slag en dit verbrand, en dan sal hulle die as hê wat vereis word. Hulle is steeds besig om die perfekte rooi vers wat gebruik moet word te probeer produseer. Die Joodse taak is om ’n perfekte rooi vers te produseer wat in Israel gebore word, nie om te soek vir die as van die vorige rooi vers nie.

C. Die Inval van Eségiël 38 en 39
Die derde aanverwante kwessie wat relevant is tot die moderne Staat van Israel in Bybelprofesie, is die inval van Eségiël 38 en 39. Hierdie skrifgedeelte beskryf ’n konfederasie van nasies wat noord en suid van Israel geleë is en Israel vanuit die noorde binneval. Dit is nie die doel van hierdie studie om die identiteit van hierdie invallers of die tyd van hierdie inval te bespreek nie. Die doel hier, is om twee dinge te behandel wat tans direk relevant is tot die moderne Joodse Staat.

1. Die Israel van Eségiël 38 en 39
Eerstens, hoe sien die Israel wat beskryf word in die tyd van hierdie inval daar uit? Hierdie beskrywing word gevind in Eségiël 38:8 en 12b. Vers 8 sê: Ná baie dae sal jy bevel ontvang; aan die einde van die jare sal jy ’n land intrek wat van die swaard weer reggekom het, wat versamel is uit baie volke, op die berge van Israel wat gedurigdeur as puinhoop daar gelê het – ja, dit is uit die volke uitgebring, en hulle woon almal in veiligheid. Vers 12b sê: om jou hand uit te steek teen die puinhope wat weer bewoon is, en teen ’n volk wat uit die nasies versamel is, wat vee en goed verwerf het, wat op die middelpunt van die aarde woon.

Die Israel wat in hierdie skrifgedeelte beskryf word, is ’n volk wat weer vanoor die hele wêreld uit die nasies bymekaar gemaak is. Dit is ’n volk wat vervalle stede wat baie eeue lank in puin gelê het, weer opbou, ’n volk wat weer versamel is nadat hulle met die swaard vervolg is. Dit is ’n herversameling uit ’n situasie van grimmigheid. Kontekstueel is dit ’n herversameling in ongeloof, want hulle begin eers glo ná hierdie inval. Met ander woorde, Eségiël beskryf nie iets wat in die antieke geskiedenis op Israel van toepassing was nie; wat hier beskryf word, is eers van toepassing sedert 1948. Ongeag ’n mens se siening omtrent die tydsbestek van hierdie inval, is die hoofsaak waarop gelet moet word, dat hierdie inval nie kon gebeur het voor 1948 nie; voor hierdie tyd was daar geen Israel wat aan hierdie beskrywing voldoen het nie.

2. Die Plek Waar die Invalsmagte Vernietig Word
Die tweede saak in hierdie skrifgedeelte waarna opgelet moet word, is presies waar die invalsmagte vernietig word. Hulle slaag daarin om deur te dring tot by die middelpunt van die land. Eers dan tree God op om hulle deur Sy goddelike mag te verdelg. Maar waar in die Land sal hulle vernietig word? Die presiese plek word beskryf in Eségiël 39:2 en 4a. Vers 2 sê: En Ek sal jou weglok en jou lei en jou laat optrek uit die agterhoeke van die Noorde en jou laat kom op die berge van Israel. Vers 4a verklaar: Op die berge van Israel sal jy val. Wanneer die profeet verwys na die berge van Israel, verwys hy na die sentrale bergreeks wat die ruggraat van die land vorm. In die Ou Testament was hierdie berge bekend as die gebergte van Efraim en die gebergte van Juda. Sommige van die beroemde Bybelstede wat in hierdie berge geleë is, sluit in: Dotan, Sigem, Samaría, Silo, Bethel, Ai, Rama, Betlehem, Hebron, Debir, en belangrikste van almal, Jerusalem, wat klaarblyklik die doelwit van die invalsmag is.

Maar, vanaf 1948 tot met die Sesdaagse Oorlog in 1967, was hierdie berge nie in Israel nie, hulle was in Jordanië. Polities word daar nou na hulle verwys as “die Wesbank.” Jordaniese magte het hierdie berge in 1948 ingeneem en hulle geannekseer as deel van Jordanië. Al wat Israel gehad het, was ’n klein strokie van Westelike Jerusalem. Die grens tussen Jordanië en Israel het teen die voet van hierdie berge afgeloop, dan in die berge ingesny en Jerusalem in twee verdeel, en dan weer uitgekom en aangegaan langs die voet van die berge. Israel het miskien vyf persent of minder van hierdie berge gehad, maar die berge van Israel was grotendeels in Jordanië. Eers vanaf 1967 was die berge van Israel in Israel.

Afgesien van die Tempelberg wat in Joodse hande gekom het, was nog ’n bygebeurtenis van die Sesdaagse Oorlog dat hierdie berge ook onder Israelse bewind gekom het. Dus, nie slegs kon hierdie profesie nie in vervulling gaan voor 1948 nie, maar dit kon ook nie in vervulling gegaan het voor 1967 nie; slegs op daardie tydstip het die berge van Israel onder Israelse bewind gekom. Die punt is dat die berge, die Wesbank, in die toekoms nog ’n baie belangrike en relevante rol het om in Bybelprofesie te speel. Wat die huidige Staat betref, het hulle in 1967 deel geword van Israel. Dit is nog ’n manier waarop die moderne Joodse Staat inpas in Bybelprofesie.

SLOT
Wat in hierdie studie gedoen is, was om uit te wys dat die Bybel praat van twee wêreldwye herversamelings. Daar word saamgestem dat die huidige Joodse Staat glad nie ’n vervulling is van daardie profesieë wat handel oor ’n wêreldwye herversameling in geloof ter voorbereiding vir seëninge nie. Dit is egter ’n vervulling van daardie profesieë wat handel oor ’n wêreldwye herversameling in ongeloof ter voorbereiding vir oordeel.

’n Balans moet gehandhaaf word oor die kwessie van Israel en Bybelprofesie. Aan die een kant is die algemene tendens vandag om meer vervulling te sien as wat daar werklik is. Aan die ander kant moet ’n mens nie blind wees vir die vervulling voor jou oë nie: die Bybelse profetiese belangrikheid van die huidige Joodse Staat.
[end]

Inhoudsopgawe
INLEIDING
     A. Drie Perspektiewe oor die Moderne Staat van Israel in Bybelprofesie
         1. Die Eerste Perspektief: Vervangingsteologie
         2. Die Tweede Perspektief
         3. Die Derde Perspektief
     B. Twee Wêreldwye Herversamelings
I. DIE HERVERSAMELING IN ONGELOOF TER VOORBEREIDING VIR OORDEEL
     A. In die Land: Eségiël 20:33-38
     B. In Jerusalem: Eségiël 22:17-22
     C. Die Aantal Wêreldwye Herversamelings: Jesaja 11:11-12:6
         1. Die Vierde Perspektief
         2. Slegs Twee Herversamelings
     D. Die Herversameling Voor die Verdrukking: Sefánja 2:1-2
II. DRIE AANVERWANTE KWESSIES
     A. Die Begin van die Verdrukking
     B. Die Derde Tempel en die Gruwel van die Verwoesting
         1. Die Profesie
         2. Die Voorbereidings vir die Derde Tempel
         3. Vrae in verband met die Tempel
             a. Wat van die Verbondsark?
             b. Wat van die As van die Rooi Vers?
     C. Die Inval van Eségiél 38 en 39
         1. Die Israel van Eségiël 38 en 39
         2. Die Plek Waar die Invalsmagte Vernietig Word
SLOT

Voetnoot

[1] In ’n onlangse persoorsig, On Eve of 2011, 75,4% of Israelis are Jews, word gesê dat die getal Jode in Israel tans 5,802,000 is (Bron: Ruth Eglash, Jeruslem Post, 30 Desember 2010; jerusalem-religions.net). Wendy Griffith, Senior Joernalis by CBN News, skryf op 26/12/2008 in ’n artikel, Israel’s Messianic Jews: Some Call it a Miracle, dat niemand seker weet hoeveel messiaanse Jode tans in Israel woon nie, maar die skatting is dat daar 10,000-15,000 in 120 gemeentes is (www.cbn.com/cbnnews/407139.aspx).

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Wie is ‘n Jood? En wie is ‘n nie-Jood? Die hele kwessie omtrent die definisies van Jode, Heidene, Heidengelowiges, en Joodse gelowiges, is uiters verwarrend. In die artikel word gepoog om onderskeide te tref waar die Bybel dit doen en om onderskeide uit te wis waar die Bybel dit doen. En wat is die relevansie hiervan? Leerstellinge rondom die Abrahamitiese verbond, die Oorblyfsel, die olyfboom en die Israel van God word behandel.