Die Nagmaal

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. – 1 Korinthiërs 11:26

Die Kerk het twee ordinansies, naamlik die Nagmaal en die Doop. Hierdie studie oor die Nagmaal word in nege afdelings verdeel: die betekenis van die Nagmaal, die Skrifgedeeltes wat gebruik word, die name van die ordinansie, waarom dit kwalifiseer as ’n ordinansie, die doel van die Nagmaal, die gereeldheid waarmee dit beoefen word, die manier waarop dit beoefen word, die voorvereistes vir deelname en die gevare wat dit inhou as jy op onwaardige wyse daaraan deelneem.

I. DIE BETEKENIS VAN DIE NAGMAAL
Wat is die ware betekenis van die Nagmaal? In die Christendom is daar hoofsaaklik vier sieninge oor die betekenis van die ordinansie van die Nagmaal.

A. Transsubstansiasie
Die eerste siening staan bekend as Transsubstansiasie. Dit is die Rooms-Katolieke siening. Transsubstansiasie verkondig dat die elemente, oftewel die brood – of hostie – en die wyn, fisies deur priesterlike wyding in die Messias se liggaam en bloed verander. Met ander woorde, wanneer die Nagmaal bedien word, word die Messias se offer as ’t ware opnuut aangebied deur middel van Transsubstansiasie.

Omdat hulle glo dat die brood werklik die liggaam word en die wyn werklik die bloed, is die brood nog altyd aan almal beskikbaar gestel. Die wyn is egter tot onlangs net aan die priesterdom beskikbaar gestel. Die wyn was nie aan leke gegee nie, weens die gevaar dat die regte bloed van die Messias gemors kan word.

Hierdie siening is dwarsdeur die Joodse geskiedenis gereeld as ’n rede vir anti-Semitiese veldtogte gebruik. Die priesters het Jode dikwels daarvan beskuldig dat hulle by ’n kerk ingesluip het, die hostie ná wyding gesteel het en dit aan ’n boom gaan vasspyker het om die Messias as ’t ware weer te kruisig. Die priesters het dit gebruik om skares aan te hits om die Joodse woonbuurte van ’n dorp aan te val. So is baie Jode deur die loop van die geskiedenis doodgemaak te wyte aan die Dogma van Transsubstansiasie.

1. Die grondslag van hierdie siening
Die rede waarom mense Transsubstansiasie aanhang, is Jesus se stelling: “Dit is my liggaam; dit is my bloed.” Daarom beweer hulle dat die brood en die wyn werklik in die liggaam en die bloed van Jesus verander. Hulle gebruik ook Johannes 6:53-56 – waar Jesus gepraat het oor die eet van sy liggaam en die drink van sy bloed.

2. Weerlegging van Transsubstansiasie
Hierdie vertolking is duidelik nie wat die Bybel ons leer oor die betekenis van die Nagmaal nie, en wel om die volgende redes. Eerstens was Jesus nog nie dood toe Hy hierdie woorde gespreek het nie. Toe Hy die stellings in Lukas 22:19-20 gemaak het (“Dit is my liggaam …”) het Hy die teenwoordige tyd gebruik, want Hy het nog nie gesterf nie. Daarom kon Hy nie bedoel het dat hierdie elemente werklik sy liggaam en sy bloed geword het nie.

Tweedens het Hy wel in vers 19 gesê: “Dit is my liggaam,” maar Hy het nie in vers 20 gesê: “Dit is my bloed” nie. Wat Hy wel gesê het, was: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.” As transsubstansiasie waar was, sou hierdie stelling van Hom totaal sinneloos gewees het.

Derdens is die gedeelte in Johannes 6, waar Jesus gepraat het oor die eet van sy liggaam en die drink van sy bloed, se konteks nie dié van die Nagmaalsdiens nie. Trouens, Jesus het nooit van die Nagmaal gepraat nie. Tot en met die laaste Pasga van sy aardse wandel het Hy nie eens daarvan melding gemaak nie.

Die vierde rede waarom hierdie vertolking nie Bybels is nie, is omdat transsubstansiasie die volkomenheid van die Messias se offer weerspreek. Dit is juis die boodskap van die boek Hebreërs: Die Messias het een keer gesterf, vir eens en vir altyd, en geen offer hoef herhaal te word nie. Daarom is dit nie nodig om die Messias weer tydens die mis te offer nie. Transsubstansiasie kan dus nie die Bybelse betekenis van die Nagmaal wees nie.

B. Konsubstansiasie
Die Christendom se tweede siening oor die betekenis van die Nagmaal staan bekend as konsubstansiasie. Dit is die Lutherse Kerk se siening. Hierdie uitgangspunt erken dat die elemente, dit wil sê die brood en die wyn, nie verander soos wat transsubstansiasie aanvoer nie. Hulle glo egter wel dat die liggaam en die bloed fisies teenwoordig is in die elemente. Dit is dus nie trans-substansie in die sin dat die elemente verander nie, maar kon-substansie, wat beteken dat die liggaam en die bloed eintlik “binne-in” die elemente is, al verander die elemente self nie. Volgens hierdie denkrigting is die liggaam en die bloed ook fisies teenwoordig in die elemente.

Die grondslag van hierdie siening is dieselfde as dié van die Rooms-Katolieke. Die argumente wat deur die Katolieke gebruik word, word ook deur die Lutherane Kerk gebruik om konsubstansiasie te verduidelik. Die reaksie op en weerlegging van daardie redes is dus dieselfde, daarom herhaal ons dit nie hier nie.

C. Die geestelike teenwoordigheid
Die Christendom se derde algemene siening oor die Nagmaal staan bekend as die geestelike teenwoordigheid. Dit was die siening wat Johannes Calvyn gehandhaaf het, en dit is die siening van die Gereformeerde Kerke. Volgens hierdie siening is die liggaam en die bloed nie fisies teenwoordig in die elemente nie, maar wel geestelik.

1. Die grondslag van hierdie siening
Die grondslag van hierdie siening is die konsep dat die ordinansie ’n sakrament is. ’n Sakrament is altyd iets wat genade oordra. Al sê diegene wat hierin glo dat die elemente nie verander nie, en dat die liggaam en die bloed nie werklik teenwoordig is in die elemente nie, glo hulle wel dat die liggaam en die bloed geestelik teenwoordig is in die elemente. Die basis is die konsep van die sakrament as ’n genademiddel; omdat dit ’n sakrament is, moet daar ’n geestelike teenwoordigheid wees.

2. Weerlegging van die geestelike teenwoordigheid
Hierdie siening is verkeerd, want die Here se woorde het net so min ’n geestelike teenwoordigheid geïmpliseer as wat dit ’n fisieke teenwoordigheid – transsubstansiasie of konsubstansiasie – geïmpliseer het. Waar die eerste twee sieninge glo dat daar ’n fisieke teenwoordigheid is, handel hierdie siening oor ’n geestelike teenwoordigheid. Jesus se woorde spreek egter nie van ’n geestelike óf ’n fisiese teenwoordigheid nie.

strong>D. ’n Gedenkmiddel
Die Christendom se vierde siening oor die Nagmaal is die mees logiese siening, asook die siening wat die Bybel handhaaf: dat dit bedoel is om ’n gedenkmiddel te wees. Onder die gereformeerdes het Zwingli hierdie siening gehandhaaf. Dit is die korrekte siening: Die Nagmaal is ’n gedenkmiddel.

Ons sien dit in Lukas 22:19. Wanneer die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 11:24-25 die teologiese belang van die Nagmaal bespreek, is dít die frase wat hy beklemtoon. Daarom is die belangrikste element van die Nagmaal se betekenis dat dit ’n gedenkmiddel is, ’n herinnering aan Jesus. Dit word verder benadruk in 1 Korinthiërs 11:26 waar Paulus skryf dat ons deur die Nagmaal die dood van die Here [verkondig] totdat Hy kom. Deur die Here se dood te verkondig, gehoorsaam ons die opdrag om dit in herinnering aan Hom te doen. Dit is dus gewoon ’n gedenkmiddel.

II. DIE SKRIFGEDEELTES WAT GEBRUIK WORD
Die tweede afdeling van die Nagmaal is die skrifgedeeltes wat daaroor handel. Daar is vyf hoofgedeeltes waaruit ons die teologie van die Nagmaal aflei: Matthéüs 26:26–29, Markus 14:22–25, Lukas 22:19–20; 1 Korinthiërs 10:16–17 en 11:23–26.

III. NAME VIR DIE ORDINANSIE
Die derde afdeling in die studie van die Nagmaal handel oor die verskillende name vir die ordinansie. Daar is altesame sewe verskillende name vir hierdie ordinansie, maar slegs die eerste ses is Bybels.

A. Die Nagmaal van die Here
Die eerste naam is die nagmaal van die Here. Dit is die naam wat in 1 Korinthiërs 11:20 gebruik word. Die Grieks sê letterlik “van die Here ’n maal”. Die Griekse woord wat hier vir “Here” gebruik word, is ’n byvoeglike naamwoord, nie ’n selfstandige naamwoord nie, en as byvoeglike naamwoord is daar geen presiese Engelse ekwivalent daarvoor nie. Die enigste ander plek waar hierdie woord gevind word, is in Openbaring 1:10. Die naaste manier om die Griekse byvoeglike naamwoord in Afrikaans uit te beeld is die woord “Heer-agtig”. Dit beteken dit is ’n “Heer-agtige maal”.

Hierdie spesifieke naam, die nagmaal van die Here, is heel moontlik ’n verwysing na die agape-fees wat gewoonlik die nagmaalsdiens voorafgegaan het. In die vroeë kerk se tyd het hulle eers aandete geniet en daarna ’n Nagmaalsdiens gehou, wat om daardie rede bekend gestaan het as die “maal(tyd) van die Here”. In die meeste kerke vandag bestaan Nagmaal uit die gebruik van ’n klein stukkie brood en ’n vingerhoedjie vol wyn of sap. Dit kan nie juis as ’n maal(tyd) beskou word nie.

B. Die Tafel van die Here
Die tweede naam is die tafel van die Here. Dit word in 1 Korinthiërs 10:21 gebruik. Die Grieks beteken letterlik “van ’n tafel van die Here”, en daarom is dit moontlik dat dit nie ’n besliste verwysing na die Nagmaal is nie.

C. Die Breking van die Brood
Die derde naam vir hierdie ordinansie is die breking van die brood. Dit word gevind in Handelinge 2:42, waar daar staan die breking van die brood en ook in Handelinge 20:7 waar daar staan om brood te breek.

D. Eucharistie
Die vierde naam is die term “Eucharistie”. Dit kom van die Griekse woord wat “danksegging” beteken. Dit is gegrond op dít wat Jesus tydens die laaste Pasga gedoen het. Matthéüs 26:27, Markus 14:23 en Lukas 22:17 en 19 sê Jesus het gedank, of meer letterlik, Hy het dank gegee. 1 Korinthiërs 11:24 sê nadat Hy gedank het. So het dit die naam “Eucharistie” gekry, wat beteken “om dank te gee”, gegrond op wat Jesus destyds gedoen het.

E. Eulogie
Die vyfde naam vir die ordinansie is eulogie. Dit kom van 1 Korinthiërs 10:16 af en beteken “seën”. Die vers sê: die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, want tydens Pasga het hulle ’n beker wyn gehad wat bekend gestaan het as die “beker van seën”.

F. Kommunie
Die sesde naam vir hierdie ordinansie is die term “kommunie”, wat “gemeenskap” beteken. Dit kom ook uit 1 Korinthiërs 10:16. Dit is die Griekse woord koinonia en word vir die liggaam sowel as die bloed gebruik, dit wil sê vir die brood én die beker. Ek dink dit is my eie gunstelingnaam vir hierdie diens.

G. Die mis
Die sewende naam vir hierdie ordinansie is die enigste een wat geen Bybelse ondersteuning het nie, en dit is die Katolieke naam “die mis”. Soos vroeër genoem, impliseer die mis opnuut ’n offer en is daar hoegenaamd geen Bybelse ondersteuning hiervoor nie.

IV. DIE DEFINISIE EN VEREISTES VAN ’N ORDINANSIE
Die vierde gedeelte van die studie oor die Nagmaal word in twee afdelings bespreek: eerstens die definisie daarvan en tweedens die vereistes waaraan dit moet voldoen om as ’n ordinansie te kwalifiseer.

A. Definisie
’n Ordinansie kan gedefinieer word as ’n rite, ritueel of gebruik wat die Messias voorgeskryf het en wat die kerk moet uitvoer. Dit is ’n uiterlike teken van die reddende waarheid van die Christelike geloof. Dit is beter om hierdie ordinansies te sien as sigbare tekens van die reddende waarheid, eerder as iets wat ’n soort genade meebring. Dit is waarom die term “ordinansie” meer geskik is as die term “sakrament”.

B. Vereistes
Daar is gewoonlik drie vereistes waaraan iets moet voldoen om as ’n ordinansie te kwalifiseer. Eerstens moes Jesus self die opdrag daarvoor gegee het. Tweedens moes dit in die boek Handelinge beoefen gewees het. Derdens moes die sendbriewe van die Nuwe Testament oor die teologiese belang daarvan uitgewei het.

Die Nagmaal voldoen aan al drie hierdie vereistes. Eerstens het Jesus in Lukas 22:19–20 opdrag gegee daarvoor. Tweedens het dit in die boek van Handelinge plaasgevind (sien drie voorbeelde hiervan in Handelinge 2:42, 46 en 20:7). Derdens word daar in die briewe van die Nuwe Testament oor die teologiese belang daarvan uitgebrei. Twee voorbeelde hiervan kan gevind word in 1 Korinthiërs 10:16, 17 en 11:23–31. Die Nagmaal beskik dus oor al die nodige vereistes om as ’n ordinansie te kwalifiseer.

V. DIE DOEL VAN DIE NAGMAAL
Die vyfde afdeling van die studie oor die Nagmaal is die doel daarvan. As ’n mens na die skrifgedeeltes gaan kyk wat oor hierdie ordinansie handel, is dit moontlik om vier doelwitte af te lei. Eerstens is dit in Lukas 22:19 ’n gedenkteken en ’n herinnering aan die lewe en dood van Jesus. Die tweede doel word in 1 Korinthiërs 11:26 gevind: Dit maak die basiese feite van die evangelie bekend deur die Here se dood te verkondig. Die derde doel word ook in 1 Korinthiërs 11:26 gevind: Dit bespoedig ’n verwagting na die terugkeer van die Messias omdat ons dit moet uitvoer totdat Hy eendag terugkeer. Die vierde doel is dat dit ons herinner aan ons eenheid met alle ander gelowiges (sien 1 Korinthiërs 10:17).

VI. GEREELDHEID VAN NAGMAALBEOEFENING
In die sesde afdeling van hierdie studie van die Nagmaal is dit duidelik dat die gebruik onder verskillende lidmate van die vroeë kerk verskil het. In Handelinge 2:46 het hulle dit byvoorbeeld op ’n daaglikse basis beoefen, terwyl hulle dit in Handelinge 20:7 net weekliks beoefen het. Daar is geen spesifieke opdrag wat sê of dit daagliks, weekliks of, soos baie kerke dit doen, die eerste Sondag van elke maand moet plaasvind nie. 1 Korinthiërs 11:26 sê gewoon: Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

In Lukas 22:19b het Jesus gesê: doen dit tot my gedagtenis. Deur hierdie twee gedeeltes te kombineer, is die boodskap dus: “So dikwels as julle dit doen, doen dit tot Jesus se gedagtenis.” Elke gemeente kan dus self besluit hoe gereeld hulle die Nagmaal wil beoefen. As een gemeente kies om dit weekliks te beoefen, het hulle die vryheid om dit so te doen; as ’n ander gemeente kies om dit daagliks of maandeliks te beoefen, is dit ook in orde.

In die konteks van die gedeelte in Lukas 22 moet ons onthou dat Jesus hierdie stelling in verband met die Pasga gemaak het. Die aanwysende voornaamwoord dit het verwys na die Pasga, wat op ’n jaarlikse basis plaasgevind het. Die absolute minimum aantal kere wat ’n kerk dit moet beoefen, is dus jaarliks. Die kerk is wel vry om dit meer gereeld te doen. Dit moet egter nie so gereeld gedoen word dat dit maar net ’n ritueel word wat nie meer betekenis het nie. Daarom het elke kerk die vryheid om te kies hoe gereeld hulle Nagmaal wil beoefen, maar die minimum is ten minste een keer per jaar.

VII. DIE MANIER VAN NAGMAALBEOEFENING
Die sewende gedeelte van ons studie oor die Nagmaal is die manier waarop dit beoefen moet word. Daar is vier dinge waarvan ons hier kennis moet neem: die omgewing, die elemente, die volgorde van die diens en die deelnemers.

A. Die omgewing
Eerstens moet dit beoefen word wanneer die liggaam plaaslik as die kerk bymekaarkom. Ons sien dit in Handelinge 20:7 en 1 Korinthiërs 11:18, 20, 33 en 34. In hierdie gedeeltes word daar gepraat van die liggaam wat bymekaarkom om die Nagmaal te gebruik. Dit is nie reg om die Nagmaal te beoefen as daar net een of twee mense is nie. Dit moet iets wees waaraan ’n groep deelneem. Toe Jesus die Nagmaal ingestel het, was dit deel van ’n groep se deelname aan die Joodse Pasga. Daarom moet dit gedoen word tydens ’n bymekaarkoms van die gemeente, en nie privaat onder ’n paar individue nie.

B. Die elemente
Die tweede vereiste oor die manier waarop dit beoefen moet word, het te doen met die twee elemente wat gebruik moet word: die brood en die wyn.

1. Die brood
Die eerste element wat gebruik moet word, is die brood. Dit moet altyd ongesuurde brood wees. Wanneer suurdeeg simbolies gebruik word in die Skrif, is dit altyd ’n simbool van sonde. God het nie eens die simbool van sonde tydens die Pasga in ’n Joodse huis toegelaat het nie. Daarom, toe Jesus die Nagmaalsdiens in die konteks van die Joodse Pasga ingestel het, was die brood wat Hy gebruik het spesifiek ongesuurde brood. Ongesuurde brood is ’n simbool vir sondeloosheid, en die liggaam van Jesus was ’n sondelose liggaam.

2. Die wyn
Die tweede element moet ’n rooi vloeistof wees. Omdat dit bloed simboliseer, moet dit ’n rooi kleur hê. Die meeste kerke in Amerika gebruik tradisioneel druiwesap, maar eintlik moet dit regte wyn wees, want dit is wat Jesus tydens die Pasga gebruik het. Vir dié wat nie wyn wil gebruik nie, moet daar druiwesap beskikbaar wees, maar die swakker lede van die liggaam moenie toegelaat word om die reëls vir die liggaam in die geheel te maak nie.

C. Die volgorde van die diens
Die derde vereiste vir nagmaalbeoefening, is dat die verspreiding van die elemente soos volg moet wees: eers die brood, dan die wyn. Dit is die volgorde wat Jesus gebruik het: Hy het eers die brood bedien en toe die wyn. Daarom is dit die volgorde waarin die diens moet plaasvind.

D. Die deelnemers
Die vierde vereiste oor die manier waarop die Nagmaal moet plaasvind, is dat die gelowige albei elemente moet gebruik. In die Katolieke kerk was dit vir eeue lank so dat net die priester die wyn mag gebruik, en nie gewone lidmate nie. Die Bybelse praktyk is egter dat die gelowige die brood én die wyn moet gebruik.

VIII. DIE VOORVEREISTES VIR DEELNAME
Die agste deel van die studie van die Nagmaal het te doen met die vereistes waaraan iemand moet voldoen om daaraan deel te neem. Daar is altesaam drie hoofvereistes waaraan voldoen moet word voordat iemand aan die Nagmaal mag deelneem: redding, die waterdoop en selfondersoek.

A. Redding
Die eerste vereiste is dat iemand gered moet wees. Die Nagmaal mag nooit bewustelik aan ’n ongelowige bedien word nie. Die Nagmaal is iets wat beperk word tot gelowiges.

B. Die waterdoop
Die tweede vereiste is dat iemand met water gedoop moet wees. Dit is egter ’n vereiste wat bevraagteken word. In die dae van die vroeë kerk is ’n persoon gedoop sodra hy tot geloof gekom het. Maar in daardie dae het mense geweet wat die doop beteken. Vandag is daar soveel verwarring wat die doop betref, dat dit dalk wys sal wees om die beoefening van doop te weerhou totdat die nuwe gelowige die kans gehad het om te leer wat die doop beteken en wat dit nie beteken nie. In die vroeë kerk was almal wat aan die Nagmaal deelgeneem het reeds gedoop. Dit is dalk daarom dat dit ’n voorvereiste was, al is dit nie iets wat die Bybel duidelik vir ons leer nie. Daarom is waterdoop slegs ’n moontlike voorvereiste.

C. Selfondersoek
Die derde vereiste is selfondersoek. Hoewel die eerste beperking sê dat die Nagmaal slegs aan gelowiges bedien mag word, is daar ’n tweede vereiste: Die Nagmaal mag slegs bedien word aan gelowiges wat selfondersoek gedoen het. Dit is die punt wat in 1 Korinthiërs 11:27–28 gemaak word. Voor ’n gelowige homself toelaat om aan die Nagmaal deel te neem, moet hy eers selfondersoek ondergaan en alle sonde waarvan hy bewus is, bely. Hy moet homself afvra: “Is ek besig om ’n gehoorsame geestelike lewe te leef?” Hy moet homself ook afvra: “Verstaan en waardeer ek dat die brood en die wyn die boetedoening verteenwoordig wat God vir my op die kruis ondergaan het?” Daar moet ’n ware sin van eer en ontsag wees wanneer iemand aan die Nagmaal deelneem. ’n Mens moet jouself ondersoek om seker te maak waar jy tydens hierdie geleentheid voor God staan.

Daar is party kerke wat nog ’n verdere beperking het. Dit staan bekend as “geslote nagmaal” en beteken dat hulle slegs Nagmaal bedien aan mense wat lidmate van daardie kerk is. Daar is egter geen Bybelse bewys vir die dogma van geslote Nagmaal nie. Die Nagmaal moet beskikbaar gestel word aan alle gelowiges wat hulself ondersoek het.

IX. DIE GEVARE VAN ONWAARDIGE DEELNAME
Die negende en laaste gedeelte oor die Nagmaal het te doen met die gevare wat dit inhou as iemand daaraan deelneem sonder om aan die vereistes te voldoen. Ons lees hiervan in 1 Korinthiërs 11:29–31: Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ’n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ’n aantal het ontslaap. Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.

God sal diegene wat die Nagmaal ligtelik behandel en hulself nie voor deelname ondersoek nie, dissiplineer. Hierdie vier gevare is eerstens tugtiging, wat ’n oordeel van dissipline is (in vers 29), tweedens fisieke swakheid (in 30a), derdens sieklikheid of siektes (ook in vers 30a) en vierdens fisiese dood (vers 30b).

[end]

Inhoudsopgawe
I. DIE BETEKENIS VAN DIE NAGMAAL
     A. Transsubstansiasie
         1. Die grondslag van hierdie siening
         2. Weerlegging van Transsubstansiasie
     B. Konsubstansiasie
     C. Die geestelike teenwoordigheid
         1. Die grondslag van hierdie siening
         2. Weerlegging van die geestelike teenwoordigheid
     D. ’n Gedenkmiddel
II. DIE SKRIFGEDEELTES WAT GEBRUIK WORD
III. NAME VIR DIE ORDINANSIE
     A. Die Nagmaal
     B. Die Tafel van die Here
     C. Die Breking van die Brood
     D. Eucharistie
     E. Eulogie
     F. Kommunie
     G. Die mis
IV. DIE DEFINISIE EN VEREISTES VAN ’N ORDINANSIE
     A. Definisie
     B. Vereistes
V. DIE DOEL VAN DIE NAGMAAL
VI. GEREELDHEID VAN NAGMAALBEOEFENING
VII. DIE MANIER VAN NAGMAALBEOEFENING
     A. Die omgewing
     B. Die elemente
         1. Die brood
         2. Die wyn
     C. Die volgorde van die diens
     D. Die deelnemers
VIII. DIE VOORVEREISTES VIR DEELNAME
     A. Redding
     B. Die waterdoop
     C. Selfondersoek
IX. DIE GEVARE VAN ONWAARDIGE DEELNAME

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Wat beteken die doop regtig? Wie behoort gedoop te word? Wat is die regte metode vir doop: besprinkeling of onderdompleing? Wat is die doop van gelowiges? Die instellings van die doop en die nagmaal is die twee ordinansies van die Kerk. Hierdie studie oor die doop word in twee afdelings bespreek: die woord “instelling” (of: ordinansie) en die instelling van die doop as sodanig. Die bespreking oor die instelling van die doop behandel sewe sake: die betekenis van die doop, die kwalifikasies van die doop as ’n instelling, die formule vir die doop, die doopmetodes, wie gedoop moet word, die verhouding van die doop met betrekking tot redding, en herdoping.