Die oorblyfsel van Israel

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ’n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin. – Romeine 11:1

INLEIDING
A.Die Betekenis
Die Leer omtrent die Oorblyfsel van Israel beteken dat daar altyd binne die Joodse volk as geheel sommiges is wat glo, en almal wat glo, vorm die Oorblyfsel van Israel. Daar is dus twee Israels: die Hele Israel en die Oorblyfsel van Israel. Etnies is die twee dieselfde, maar geestelik is hulle nie. Die Oorblyfsel mag groot of klein wees in enige gegewe periode van die geskiedenis, maar daar is nooit ’n tyd wanneer dit nie bestaan nie, behalwe direk ná die Wegraping.

B. Die Uitvloeisels
Daar is vyf onderafdelings ten opsigte van die Oorblyfsel van Israel. Eerstens, die Oorblyfsel bestaan slegs uit gelowiges. Tweedens, nie alle gelowiges vorm deel van die Oorblyfsel nie, want die Oorblyfsel is ’n Joodse Oorblyfsel en bestaan dus net uit Joodse gelowiges. Derdens, die Oorblyfsel is altyd deel van die volk as geheel, en nie losstaande van die volk as ’n afsonderlike entiteit nie; die Oorblyfsel is afsonderlik, maar afsonderlik binne die volk. Vierdens, dit beteken dat Joodse gelowiges dubbele burgerskap het; hulle is deel van beide Israel en die Kerk. En vyfdens, binne die konsep van die Oorblyfsel is daar ’n tweevoudige kontras: ’n kontras tussen die bonatuurlike en die nie-bonatuurlike en ’n kontras tussen die geraas en die stilte.

C. Die Konsep
Heel van die begin van die volk se geskiedenis af toe hulle begin vermeerder het, was die konsep van die Oorblyfsel van Israel daar. As ’n leerstelling, het die teologie van die Oorblyfsel met Elía begin, is toe deur die geskrifte van die profete ontwikkel, en is in die Nuwe Testament voortgesit.

I. DIE VERLEDE
A. Elía: I Konings 16:29-19:18
1. Die Nuwe Godsdienstige Stelsel: I Konings 16
Toe Omri koning geword het, was daar nie net ’n nuwe hoofstad van Israel, Samaría, nie, maar ook ’n nuwe koningshuis. Omri het egter voortgegaan met die sonde van Jeróbeam, naamlik die aanbidding van die goue kalf (I Kon. 12:25-33). Jeróbeam se sonde was nie dat hy ’n totaal vreemde godsdiens ingestel het nie, maar dat hy die ware godsdiens verdorwe het. Dit was ’n korruptering van Godsaanbidding in die opsig dat dit die God van Israel verlaag het tot ’n afgod. Trouens, toe Jeróbeam die aanbidding van sy twee goue kalwers ingebring het, het hy dit aangekondig deur dieselfde woorde te gebruik as wat Aäron gebruik het toe hy sy goue kalf aan die volk bekendgestel het: “Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het” (Ex. 32:4).

In verse 29-34, bestyg Omri se seun Agab die troon en trou met Isébel, ’n Feniciese prinses uit Sidon, en saam met haar het die instelling van ’n heeltemal nuwe godsdiens gekom: die aanbidding van Baäl, die Kanaänitiese stormgod. Hierdeur het die hele godsdienstige situasie van Israel drasties verander, en daarmee ook God se verhouding ten opsigte van die Noordelike Koninkryk. In hierdie nuwe omgewing roep God vir Elía, wie se lewe ’n lewe was van paradokse of ironieë.

2. Die Historiese Gebeurtenis wat Gelei het tot die Leerstelling: I Konings 17
As gevolg van Israel se Baäldiens, het God ’n droogte oor die volk aangekondig in verse 1-7. So word die bediening van Elía ingelui. Hier word die eerste kontras tussen die bonatuurlike en die nie-bonatuurlike gesien. Kos word bonatuurlik aan Elía voorsien deur die kraaie, maar water word nie-bonatuurlik voorsien deur ’n spruit. Uiteindelik het die droogte die spruit geaffekteer en dit het opgedroog. God kon vanselfsprekend baie maklik die water bonatuurlik vir een man voorsien het soos wat Hy dit vir veertig jaar lank vir tweemiljoen Israeliete in die woestyn gedoen het. Maar God besluit nie altyd om bonatuurlik te werk nie.

In stede daarvan, sê God in vers 8 vir Elía om die land Israel te verlaat en noord te gaan na Fenicië toe na die weduwee van Sarfat, ’n dorp in Sidon. Dit is die eerste een van baie ironieë in Elía se lewe. Isébel het uit Sidon na Israel gekom; Elía het van Israel na Sidon gegaan. As gevolg van Isébel het die Jode vir Baäl, die god van Sidon, aanbid; as gevolg van Elía het Sidoniërs, teen die einde van hierdie hoofstuk, die God van Israel aanbid.

3. Die Goddelike Tweestryd: I Konings 18
Toe die droogte op sy heel ergste was, stuur God in verse 1-24 vir Elía terug na Israel toe vir ’n stryd met die profete van Baäl. Die bepalings van die stryd is dat Israel vir eens en vir altyd moet besluit wie God is. As dit bewys word dat Baäl god is, laat Israel dan aanhou om Baäl te aanbid. Maar as dit bewys word dat die HERE God is, laat Israel dan die Baälgodsdiens verwerp en God alleen aanbid.

In hierdie gebeurtenis vind ons die tweede kontras: die kontras tussen die geraas en die stilte. In vers 29 is dit eerste die Baälprofete se optrede wat gekenmerk word deur ’n geraas, maar hoe hard hulle ookal raas, die hemele bly swyg. Toe dit Elía se beurt is, doen hy alles op ’n stil manier deur die altaar oor te bou en ’n eenvoudige gebed te bid. In reaksie op Elía se stilheid, begin die hemele raas en, in vers 38, verteer vuur uit die Hemel die hele offer ten spyte daarvan dat dit deurweek was met water. Die HERE het Homself as God bewys. Die profete van Baäl word verslaan en die droogte word beëindig.

4. Elía se Ondervinding: I Konings 19
a. Elía se Vlug: I Konings 19:1-8
En Agab het aan Isébel meegedeel alles wat Elía gedoen het, ja alles – hoe hy al die profete met die swaard gedood het. Daarop stuur Isébel ’n boodskapper na Elïa om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen – sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle. Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar laat agterbly; maar self het hy ’n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ’n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie. Daarop gaan hy lê en raak onder ’n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak ’n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet! Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent ’n broodkoek, op warm klippe gebak, en ’n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. En die engel van die HERE het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel. Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb.

Elía se oorwinning het versuur toe Isébel sy lewe bedreig. In verse 1-4 het Elía verstaan dat haar optrede beteken het dat die volk nie die Baäldiens sou afsweer nie, en hy vlug uit Israel uit na Juda toe; in ’n toestand van depressie gaan hy die Negev Woestyn in en bid om te sterf. Dit is nog ’n ironie in Elía se lewe: hy is die enigste profeet wat God vra om sy lewe te neem, maar uiteindelik het hy glad nie gesterf nie!

In stede dat God sy lewe wegneem, word hy twee keer, in verse 5 en 8, deur ’n engel gevoed en sit sy reis voort na die berg Horeb, waar hy ’n unieke ontmoeting met God het. Dit is by die berg Horeb waar God in ’n verbondsverhouding met Israel getree het. Daar het God Israel gewaarsku om geen ander gode te aanbid nie en Israel het hulleself verbind om alles wat God beveel het, te gehoorsaam.

b. Elía se Eerste Klag: I Konings 19:9-10
En hy het daar in ’n spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elía? En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem.

In vers 9 vra God Elía na die doel van sy koms na die berg Horeb toe, waar die Mosaïese Verbond gesluit is. In vers 10 is Elía se reaksie sy eerste klagte. Dit is ’n ernstige aanklag teen Israel deur ’n profeet wat gely en gestry het om die volk tot bekering te bring, maar tevergeefs. As hierdie aanklag die waarheid sou wees, sou dit goddelike dissipline vereis.

c. God se Reaksie: I Konings 19:11-13a
En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die HERE. En kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl ’n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En ná die wind ’n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. En ná die aardbewing ’n vuur; in die vuur was die HERE nie. En ná die vuur die gesuis van ’n sagte koelte. En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan.

God se reaksie op Elía se eerste aanklag, was om drie dinge te stuur wat raas en waarin God se teenwoordigheid nie was nie, en toe ’n vierde, stil ding, waarin dit wel was: die gesuis van ’n sagte koelte. Elía se raksie was dat hy sy gelaat met sy mantel toegedraai het; dit was ’n algemene Joodse reaksie wanneer iemand gedink het hy mag hom in die teenwoordigheid van God bevind.

d. Die Interpretasie van die Openbaring: I Konings 19:13b-18
(1) Elía se Tweede Klag: I Konings 19:13b-14
En daar kom ’n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía? En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem.

In vers 13b vra God weer vir Elía waarom hy na die berg Horeb gegaan het. In vers 14 reageer Elía, weer eens met dieselfde aanklag teen Israel.

(2) God se Antwoord: I Konings 19:15-18
Maar die HERE sê vir hom: Gaan terug op jou pad na die woestyn van Damaskus, en gaan heen en salf Hásael as koning oor Aram. En Jehu, die seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel; en Elísa, die seun van Safat, uit Abel-Mehóla, moet jy salf as profeet in jou plek. En die een wat van die swaard van Hásael vryraak, hom sal Jehu doodmaak; en wat van die swaard van Jehu vryraak, hom sal Elísa doodmaak. Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie.

Die parallel van hierdie verse met verse 11-13a moenie misgekyk word nie. In reaksie op Elía se tweede aanklag teen Israel sal God, in vers 17, drie dinge wat raas teen Israel stuur. God sou al drie die dinge stuur wat raas, maar God se teenwoordigheid sou nie in hulle wees nie. Die eerte was Hásael, die koning van Sirië, wat ooreenkom met die wind. Net soos wat die wind teen die berg geslaan het, het Hásael teen Israel geslaan totdat hy Israel se vestings op groot skaal verswak het (II Kon. 8:7-15; 10:32-33; 13:3, 22-25). Die tweede ding wat geraas het, was Jehu, wat ooreenkom met die aardbewing. Net soos wat die aardbewing die berg in twee geskeur het, het Jehu ’n burgeroorlog veroorsaak wat die koningskap en die Koningshuis van Agab, sowel as koninklike lede van die Huis van Juda, vernietig het (II Kon. 9:1-10:36). En die derde ding wat geraas het, was Elísa, wat ooreenkom met die vuur. Net soos wat die vuur teen die berg gebrand het, het Elísa teen Israel gebrand, want dikwels het die dood gevolg op plekke waarheen Elísa gegaan het (II Kon. 2:23-24). Dit is God wat al drie dinge wat raas gestuur het, maar God se teenwoordigheid was nie in hulle nie.

In vers 18 sê God dan vir Elía dat hy nie die enigste getroue een is wat oorgebly het nie, want God het seweduisend ander gehad. Hierdie seweduisend was die Oorblyfsel van daardie tyd, baie klein in vergelyking met die volk as geheel. Die Oorblyfsel kom ooreen met die gesuis van ’n sagte koelte van vers 12. Die Oorblyfsel, in teenstelling met Hásael, Jehu, en Elísa, is dit wat stil is; so stil, dat Elía nie eens geweet het dat dit selfs bestaan nie. God se teenwoordigheid was in hierdie Oorblyfsel. Dit is met hierdie historiese Oorblyfsel, die seweduisend in die tyd van Elía, wat die Leerstelling van die Oorblyfsel van Israel begin het.

B. Die Boek van Immánuel: Jesaja 7:1-12:6
Dit is die Profeet Jesaja wat die konsep van die Oorblyfsel in teologiese terme uiteensit. Dit word grootliks gevind in die eenheid wat saamgestel is uit hoofstukke 7-12 en wat “Die Boek van Immánuel” genoem word. In die Hebreeuse teks kom hierdie naam drie keer voor: in Jesaja 7:14; 8:8, en 10. In Jesaja 7:3-9, sê Jesaja vir Agas, koning van Juda, om nie bevrees te wees nie; hy moes in stil gerustheid op die God van Israel vertrou. In plaas daarvan het Agas op die raserige Assiriese leër vertrou om hom te red. Jesaja 8:5-8 bou voort op die kontras van die geraas en die stilte, en wys uit dat die nie-Oorblyfsel geneig is om hulle vertroue te plaas in dit wat raas, soos die Assiriese leër, maar die Oorblyfsel het ’n stil vertroue in die God van Israel en die Een wat sal kom, Immánuel. Dit word gekontrasteer deur die waters van Silóa wat stilweg vloei, teenoor die Eufraatrivier wat raas. Uiteindelik sal die geraas die nie-Oorblyfsel vernietig, maar Immánuel sal die gelowiges red, volgens Jesaja 8:9-11. Immánuel sal dus die skeidspunt word tussen die Oorblyfsel en die nie-Oorblyfsel. In Jesaja 8:14-15, sal Immánuel bewys word as die heiligdom vir die Oorblyfsel, maar vir die nie-Oorblyfsel sal Immánuel bewys word as ’n klip waar ’n mens teen stamp en ’n rots waar ’n mens oor struikel. Wat die Oorblyfsel in die tyd van Jesaja van die nie-Oorblyfsel afgeskei het, was hulle houding ten opsigte van die Wet en die Profete. In Jesaja 8:16-17, het die Oorblyfsel hulle vertroue in die Wet en die Profete gestel en gewag op die HERE.

So belangrik was die leer van die Oorblyfsel vir Jesaja dat hy, in Jesaja 7:3, een van sy seuns Sjear Ja-sjub genoem het, wat beteken “ ’n Oorblyfsel sal terugkeer.” Met daardie naamgewing het Jesaja, in Jesaja 10:20-23, uitgesien na die toekomstige, finale redding van die Oorblyfsel van Israel. Tot dan, sou God die Oorblyfsel beskerm en hulle oorlewing waarborg, volgens Jesaja 46:3-4. Maar in die toekoms sal Immánuel die nuwe skeidspunt wees tussen die Oorblyfsel en die nie-Oorblyfsel.

II. DIE HEDE
Die leerstelling van die Oorblyfsel van Israel leer dat daar altyd ’n segment van die Joodse volk is wat gelowiges is. Die leer van die Nuwe Testament is dat die Oorblyfsel van Israel tans bestaan uit Joodse gelowiges in die Messiasskap van Jesus. In die Nuwe Testament word hierdie leerstelling primêr gevind in Paulus se Israelogie van Romeine 9, 10, en 11. Daar is een ander skrifgedeelte wat relevant is tot die Huidige Oorblyfsel van Israel, naamlik I Petrus 2:1-10.

A. I Petrus 2:1-10
1. Inleiding: I Petrus 1:1-2
Petrus, ’n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadócië, Asië en Bithínië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!

Deur Petrus se woorde letterlik op te neem, is dit duidelik dat hierdie Brief nie geskryf was aan die oorhoofse Kerk, of aan ’n Liggaam van nie-Joodse gelowiges nie, maar aan Joodse gelowiges wat buite die Land tussen ’n hoofsaaklik nie-Joodse bevolking gewoon het. Petrus gebruik nie een keer die woord “Kerk” in hierdie brief nie. Die term die verstrooiing van I Petrus 1:1 is ’n tegniese Joodse term vir Jode wat buite die Land woon. Twee keer word dit elders gebruik: Johannes 7:35 en Jakobus 1:1, en alle kommentators stem saam dat dit verwys na die Jode van die Verstrooiing. Daar is geen rede om van I Petrus die uitsondering te maak nie, aangesien dit goed inpas in Petrus se roeping as die Apostel vir die Besnedenes (Gal. 2:7-8). Verder maak Petrus heeltyd melding van die feit dat sy lesers tussen die heidene woon (I Pet. 2:12; 4:3). Hoewel baie die betekenis van die term “heidene” as “ongelowiges” probeer deurgee, is dit nooit die Joodse betekenis daarvan nie, en selfs ook nie die Nuwe Testamentiese betekenis daarvan nie, soos dit in enige konkordansie nageslaan kan word. Petrus gebruik die term “heidene” in die normale konteks daarvan as “nie-Jode.” Hy rig sy brief aan Joodse gelowiges wat tussen ’n groter bevolking van heidene woon. Uitdrukkings soos byvoorbeeld julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is (I Pet. 1:18), het ’n duidelike Joodse inslag; dit onderskei hierdie Joodse gelowiges van hulle vorige lewe in Rabbynse Judaïsme.

In hierdie afdeling van die Brief tref Petrus ’n onderskeid tussen die Oorblyfsel en die nie-Oorblyfsel. Sy doel is om aan te toon dat, hoewel die nie-Oorblyfsel in hulle roeping gefaal het, die Oorblyfsel nie gefaal het nie. Wat Petrus dus hier verklaar, is nie noodwendig waar van die Kerk as geheel nie, maar dit geld spesifiek vir Joodse gelowiges wat nou die Oorblyfsel van Israel uitmaak.

2. Die Geestelike Staat van die Oorblyfsel: I Petrus 2:1-3
Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.

Petrus se stellings toon dat hy aan Joodse gelowiges skryf wat die geestelike onvervalste melk van die Woord van God nodig het.

3. Die Steen van Aanstoot en die Rots van Struikeling: I Petrus 2:4-10
Nadat Petrus die geestelike staat van die Oorblyfsel in verse 1-3 aangespreek het, bespreek hy die onderwerp van die Steen van Aanstoot en die Rots van Struikeling.

a. Die Messias, die Lewende Steen: I Petrus 2:4
Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is.

Jesus, die Messias, word beskryf as die lewende steen wat, hoewel Hy deur die mense verwerp is, by God uitverkore en kosbaar is.

b. Die Status van die Oorblyfsel: I Petrus 2:5
en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.

Met Exodus 19:5-6 duidelik voorop in sy gedagte, verklaar Petrus dat Joodse gelowiges, in die lig van die soort redding wat hulle het, twee dinge is. Eerstens is hulle lewende stene en as sodanig is hulle deel van ’n geestelike huis. Hierdie geestelike huis is die geestelike Huis van Israel, die Oorblyfsel van Israel, of in Paulus se woorde, die Israel van God (Gal. 6:16). Tweedens is Joodse gelowiges ’n heilige priesterdom. Dit, ook, was die roeping van die volk as geheel. Die volk het gefaal, maar die Oorblyfsel van Israel het nie gefaal nie en bring vandag geestelike offers aan God.

c. Die Verskil Tussen die Oorblyfsel en die Nie-Oorblyfsel: I Petrus 2:6-8
Om die verskil tussen die Oorblyfsel en die nie-Oorblyfsel te verduidelik, begin Petrus met die status van die Oorblyfsel in verse 6-7a: Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar.

Vers 6 is ’n aanhaling uit Jesaja 28:16 om uit te wys dat die kosbare hoeksteen die Messias is wat uitverkore en kosbaar is voor God die Vader, en dat die wat in Hom glo, nie beskaamd sal staan nie. In vers 7a maak hy dan die toepassing en verklaar dat, hoewel die Messiaanse Steen onteenseglik kosbaar is, dit net kosbaar is vir die Oorblyfsel.

Wat die nie-Oorblyfsel betref, sê verse 7b-8: maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword; en: ’n Steen van aanstoot en ’n rots van struikeling vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.

In vers 7b haal Petrus Psalm 118:22 aan om te wys dat dit voorheen voorspel was dat die Messiaanse Steen deur die leiers van Israel verwerp sou word. In vers 8a haal hy Jesaja 8:14 aan om te wys dat die Messiaanse Steen vir die ongelowige ’n steen van aanstoot en ’n rots van struikeling sou wees. In die skrifgedeelte uit Jesaja wat reeds vroeër bespreek is, word dit aangetoon dat Jesaja gehandel het met die kontras tussen die Oorblyfsel en die nie-Oorblyfsel. Petrus sluit af met ’n toepassing in vers 8b: die nie-Oorblyfsel het inderdaad gestruikel, want diegene wat die Woord verwerp het, was voorbestem tot struikeling. Jesaja het voorspel dat Immánuel die skeidspunt sou wees tussen die Oorblyfsel en die nie-Oorblyfsel. Petrus leer dat dit nou gebeur het en Jesus die Messias het die nuwe punt van skeiding geword.

d. Die Status van die Oorblyfsel: I Petrus 2:9-10
Hierdie skrifgedeelte sluit af met ’n verdere beskrywing van die status van die Oorblyfsel in vers 9a: Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry.

Met Exodus 19:5-6 steeds in gedagte, voeg Petrus nou vier ander beskrywings by om te toon wat die posisie van die Oorblyfsel is in teenstelling met die Hele Israel. Eerstens, gebaseer op Jesaja 43:20, is hulle ’n uitverkore geslag. Hulle is uitverkorenes omdat hulle deur God se inisiatief verkies is (I Pet. 2:4, 6). Dit is ’n verwysing na hulle individuele uitverkiesing. Die gebruik van die term geslag (volk) wys dat Petrus ook praat van hulle nasionale uitverkiesing. Die Kerk, egter, is nie ’n volk (geslag) nie; dit bestaan uit gelowiges uit alle volke. Tweedens, die Oorblyfsel van Israel is ’n koninklike priesterdom. In vers 5 word die Oorblyfsel ’n heilige priesterdom genoem, wat hulle reg onderskryf om tot die Hemelse Heiligdom te nader. Dan is hulle ook ’n koninklike priesterdom. Aangesien die Hoëpriester Jesus, ’n priesterkoning is volgens die Orde van Melgisédek (Heb. 7:1-28), is hierdie gelowiges dus ’n koninklike priesterdom, want hulle is beide priesters en konings. Tans funksioneer hulle as priesters (Heb. 13:15-16), maar in die toekoms sal hulle in die Messiaanse Koninkryk funksioneer as konings met koninklike mag (Op. 5:10; 20:6). Hoewel dit waar is dat alle gelowiges ’n priesterdom verteenwoordig, kan die priesterdom van alle gelowiges nie regtig van hierdie skrifgedeelte afgelei word nie; die konsep van die priesterdom van alle gelowiges word egter geleer in Openbaring 1:6; 5:10; en 20:6. Derdens, die gelowige Joodse Oorblyfsel is ’n heilige volk. Israel het by die berg Horeb ’n volk geword en is opgeroep om heilig en afgesonder van sonde vir God te lewe. Die volk as geheel het egter gefaal, maar die Oorblyfsel het nie gefaal nie. Die Kerk is nie ’n volk nie (Rom. 10:19), dit bestaan uit gelowiges uit alle volke. Vierdens, hulle is ’n volk as eiendom vir God Self. Dit word nie net gebaseer op Exodus 19:5-6 nie, maar ook op Deuteronómium 7:6; 14:2; 26:18; Jesaja 43:21; en Maleági 3:17. Met Abraham deur Isak en Jakob het hulle ’n volk geword, en by die berg Horeb het hulle ’n eiendomsvolk geword. Die Oorblyfsel van die volk is God se eiendom, want daardie Joodse gelowiges is gekoop deur die bloed van die Messias, en daarom behoort hulle uniek aan God (I Pet. 1:18-19).

Nadat Petrus die status van die Oorblyfsel op hierdie wyse beskryf het, gee hy vervolgens die doel van hulle uitverkiesing in vers 9b: om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.

Die agtergrond van hierdie konsep is Jesaja 43:20-21. Hulle moet die deugde of die kenmerkende eienskappe verkondig van die God wat hulle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Hulle moet die boodskap aan almal daar buite verkondig. In vers 10 word hierdie gedeelte afgesluit met ’n verwysing na Hoséa 1:10-2:1 en 23: Julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is. Voorheen was hulle deel van die nie-Oorblyfsel; geestelik, in ’n vroeër tyd, was hulle geen volk aan wie geen barmhartigheid bewys is nie. Tans is hulle lede van die Oorblyfsel, die volk van God, aan wie [barmhartigheid] nou bewys is.

4. Opsomming
In Petrus se opsomming van die status van die Oorblyfsel, tref hy nie ’n onderskeid tussen Israel en die Kerk of tussen ongelowige Jode en gelowige heidene nie. Die onderskeid is tussen Jode wat glo en Jode wat nie glo nie. Sy punt is dat, hoewel Israel as geheel gefaal het, die gelowige Oorblyfsel van Israel nie gefaal het nie, en die Oorblyfsel van Israel vervul dus die roeping van die volk as geheel. Paulus maak hierdie selfde punt in sy teologie van Israel in Romeine 9, 10, en 11.

B. Romeine 9:1-11:24
1. Inleiding

Soms word hoofstukke 9, 10 en 11 oorgeslaan in kommentare oor die Brief aan die Romeine. Sulke kommentators neem nie dit wat God oor Israel sê baie ernstig op nie en leer dat die Kerk die “nuwe Israel” is. Dit is waarom hulle voel dat hierdie drie hoofstukke nie belangrik is nie. Of dalk is dit omdat dit wat Paulus hier te sê het, hulle teologie weerspreek. Hierdie kommentare gee ’n vers vir vers, woord vir woord kommentaar vanaf hoofstuk 1 tot met hoofstuk 8, dan slaan hulle oor na hoofstukke 12-16, en laat hoofstukke 9, 10, en 11 heeltemal uit die prentjie. Ander kommentators wat hierdie hoofstukke bietjie meer ernstig opneem en wel daaroor kommentaar lewer, sal dikwels na hulle verwys as synde slegs “tussen hakies,” en nie deel van Paulus se hoof argument nie. Voordat daar oorgegaan word tot die uiteensetting van hierdie skrifgedeelte, is daar drie dinge waarop daar by wyse van inleiding gelet moet word.

a. Die Plek van Hoofstukke 9, 10, en 11
Dit is altyd verkeerd om drie hele hoofstukke van die Skrif wat God in ’n spesifieke teks geplaas het te ignoreer, want Hy het sekerlik rede gehad om dit te openbaar. Wat meer is, hoofstukke 9, 10, en 11 is nie ’n tussenvoegsel nie. Indien enigiets, is hulle van beslissende belang, want hulle verdedig (of regverdig) God se geregtigheid in Sy verhouding tot Israel.

In hoofstukke 1-8 van die Brief aan die Romeine handel Paulus oor die geregtigheid van God nadat hy die brief in 1:1-17 ingelei het. Dan spel hy in hoofstukke 1-3 die teologie van God se geregtigheid uit en toon aan dat alle mense tekort skiet aan die regverdige standaarde van God, en dit sluit elke segment van die mensdom in: die afgodiese heidene in Romeine 1:18-32; die gekultiveerde heidene in Romeine 2:1-16; en die Jode in Romeine 2:17-3:18. Paulus se slotsom in Romeine 3:19-31 is dat almal gesondig het en tekort skiet aan die geregtigheid van God.

Nadat Paulus uitgewys het dat elke mens, Jood sowel as heiden ’n sondaar is, en dat almal tekort skiet aan die geregtigheid van God, beskryf hy wat God gedoen het om geregtigheid vir die mensdom te verseker: Hy het geregtigheid voorsien deur redding in Jesus die Messias. Hierdie redding het drie aspekte: verlede, hede, en toekoms. Die aspek van redding in die verlede is die toerekening van geregtigheid (Rom. 4:1-5:21); sodra iemand glo, word geregtigheid hom toegereken en word hy deur God regverdig verklaar. Die huidige aspek van redding is heiligmaking (Rom. 6:1-8:18); heiligmaking in die lewe van die gelowige is nou die werk van die Heilige Gees, wat die gelowige meer en meer verander tot gelykvormigheid aan die beeld van die Seun van God. Die toekomstige aspek van redding is verheerliking (Rom. 8:19-39); verheerliking is gewaarborg in die lig van die feit dat gelowiges regverdig gemaak is en heilig gemaak word, en daarom eendag verheerlik sal word en soos Hy sal wees.

Aan die einde van hoofstuk 8, as hy die teologie van God se geregtigheid afsluit, wys Paulus daarop dat daar in die lig van alles wat God vir gelowiges gedoen het ten opsigte van regverdigmaking, heiligmaking, en verheerliking, absoluut niks is wat die gelowiges van die liefde van God kan skei nie. Niks in die hemel kan hulle skei nie, niks op die aarde nie, niks onder die aarde nie, niks buite hulle, niks binne-in hulle, nie eens hulleself, kan gelowiges skei van die liefde van God nie.

’n Mens sou dink dat Paulus, nadat hy dit alles verklaar het, onmiddellik daartoe sou oorgaan om die praktyk van God se geregtigheid te bespreek. In die Brief aan die Efésiërs, byvoorbeeld, handel hy in hoofstukke 1-3 met die teologie, en in hoofstukke 4-6 met die praktiese toepassing van die teologie. Nadat Paulus egter in die Brief aan die Romeine die teologie van God se geregtigheid uiteen gesit het, gaan hy nie onmiddellik oor tot die praktyk van God se geregtigheid nie. Instede hiervan voeg hy tussen die teologie van God se geregtigheid in hoofstukke 1-8 en die praktyk van God se geregtigheid in hoofstukke 12-16, drie hoofstukke in wat handel oor God se geregtigheid in Sy verhouding tot Israel. Hoekom? Omdat Paulus aan die einde van hoofstuk 8 tot die slotsom kom dat, in die lig van alles wat God gedoen het, in die lig van Sy beloftes, daar niks is wat die gelowiges kan skei van God se liefde nie. Op hierdie punt sou ’n mens beswaar kon aanteken en vra, “Maar het Israel nie beloftes van God gehad, en het God nie sekere verbintenisse met Israel aangegaan nie, insluitend nasionale redding en wêreldwye herstel? Tog verkeer die oorgrote meerderheid van Israel in ’n staat van ongeloof. Dit lyk nie asof God se beloftes aan Israel nagekom is nie. As God se beloftes aan Israel nie nagekom is nie, hoe kan enigeen regtig glo dat daar niks is wat hulle kan skei van die liefde van God nie, want dit lyk of dit die geval is met Israel?” Dit is waarom Paulus die vraag oor God se geregtigheid ten opsigte van Sy verhouding tot Israel moet aanspreek.

Dit is om hierdie rede dat hierdie drie hoofstukke nie geïgnoreer moet word soos wat sommige kommentators verkies om te doen nie. Hierdie hoofstukke moet ook nie gesien word as ’n tussenvoegsel wat nie verband hou met sy argument nie. Hulle moet inteendeel as beslissend beskou word omdat hulle God se geregtigheid in Sy verhouding tot Israel regverdig of verdedig. Hulle vorm ’n brug tussen die teologie van God se geregtigheid in hoofstukke 1-8 en die praktyk van God se geregtigheid in hoofstukke 12-16. In hierdie drie hoofstukke, 9, 10, en 11, verduidelik Paulus die program vir die Oorblyfsel van Israel in die huidige bedeling en hoe die Oorblyfsel betrekking het op beide Israel en die Kerk.

b. Die Drie Vrae
Die tweede saak waarop gelet moet word, is dat Paulus drie vrae ten opsigte van die ontwikkeling van Israelogie in die Brief aan die Romeine beantwoord.

Die eerste vraag is, “As dit waar is wat Paulus in Romeine 1:16 skryf, naamlik dat die evangelie eerste vir die Jood is, hoekom word daar so min Jode gered?” Om sy antwoord op te som, bely Paulus in Romeine 9:1-5 dat hy ’n diepe liefde vir Israel voel en ook ’n groot hartseer. In Romeine 9:6-13 leer Paulus dan dat hulle verwerping van die Messiasskap van Jesus nie die gevolg was van die mislukking van God se beloftes nie en hulle verwerping in Romeine 9:14-29 was ook nie ’n onregverdigheid aan God se kant nie. Die ware probleem, in Romeine 9:30-10:21, is hulle eie verwerping van die geregtigheid van God. Nogtans is daar troos opgesluit in Romeine 11:1-10 in die redding van die Oorblyfsel in die huidige bedeling volgens die uitverkiesing op grond van genade. Troos moet ook in Romeine 11:11-22 gesien word ten opsigte van die huidige aanvaarding van die heidene. Troos moet ook gesien word ten opsigte van die toekoms wanneer die hele Israel sal glo, en daar ’n toekomstige herstel van Israel sal wees in Romeine 11:23-32. Ten slotte, in Romeine 11:33-36, is al hierdie dinge die bewys van die wysheid en die heerlikheid van God.

Die tweede vraag is, “Hoe weet die heidene hulle kan God vertrou as Sy beloftes aan Israel nog nie vervul is nie?” Dit is ’n logiese vraag in die lig van wat Paulus aan die einde van hoofstuk 8 sê. Om sy antwoord op hierdie vraag op te som, sê Paulus drie dinge. Eerstens, Israel se mislukking is te wyte aan geestelike trots en selfvoldaanheid, en daarom lê die fout nie by God nie. Tweedens is Israel se verwerping nie afgehandel nie en ook nie algeheel nie; daar was Jode wat nie die Messiasskap van Jesus verwerp het nie. Derdens, Israel se verwerping is nie finaal nie; trouens, iewers in die toekoms sal die volk as ’n volk, die Messias aanneem.

Die derde vraag wat Paulus in hierdie hoofstukke beantwoord is, “Het die prediking van die evangelie aan die heidene God se beloftes aan Israel verydel?” Hierop antwoord hy met ’n ferm “Nee.”

c. Die Uitleg van Romeine 3:1-2a
Die laaste saak wat as inleiding tot hierdie drie hoofstukke uitgewys moet word, is dat Paulus in Romeine 9, 10, en 11 verder uitbrei op ’n stelling wat hy in Romeine 3:1-2a gemaak het: Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte.

2. Die Teologie van Israel se Verwerping: Romeine 9:1-29
a. Paulus se Smart en Israel se Voorregte: Romeine 9:1-5

Paulus lei sy tema oor die teologie van Israel in deur na sy eie hartseer te verwys en sy eie emosies oor Israel se verwerping te beskryf in verse 1-3: Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie – my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees – dat dit vir my ’n groot droefheid is en ’n onophoudelike smart vir my hart. Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ’n vervloeking te wees, wég van Christus af.

Met sy sterk Joodse en Fariseïstiese agtergrond, het Paulus besef die waarheid moet bevestig word by monde van twee of drie getuies. In vers 1 bied hy twee getuies aan vir die feit dat hy diep bedroef is oor die kwessie van Israel se verwerping van die Messiasskap van Jesus: sy gewete, en die Heilige Gees. Paulus se gewete en die Heilige Gees getuig dat hy die waarheid praat oor iets. In vers 2 is daardie “iets” die feit dat Paulus ’n groot droefheid ondervind. Die Griekse woord beteken “smart”, “om in ’n gemoedstoestand te wees wat smart projekteer.” Hy ly ook onophoudelike smart, wat die fisiese uitdrukking is vir sy geestelike foltering. Hy kan waarlik in sy gewete en deur die Heilige Gees getuig dat hy geestelike foltering oor Israel ervaar het, en dat hierdie geestelike foltering fisieke pyn veroorsaak het – só diep besorg was Paulus oor sy eie mense. Dan spreek Paulus sy begeerte uit in vers 3: Ek sou self kon wens. In die Grieks is dit in die onvoltooide tyd; dit onderstreep volgehoue handeling in die verlede wat onvoltooid bly. Paulus wens dat hy ’n vervloeking kan wees, dat hy afgesonder kan word vir vernietiging, as dit Israel se onmiddellike redding sou beteken. Hy was met ander woorde bereid om Hel toe en in die Poel van Vuur te gaan as dit Israel se redding sou kon bewerkstellig. Hierdie begeerte was nie vir die verlorenes in die algemeen nie, maar spesifiek ter wille van die Jode, Paulus se stamgenote na die vlees. Dit was nie sy geestelike broers hierdie nie, dit was sy fisiese broers, die Joodse volk. Nietemin het hy besef dat dit nie die manier was waarop dit sou gebeur nie; hy het slegs ’n persoonlike begeerte uitgespreek.

Vervolgens skets Paulus Israel se agt voorregte en Israel se prerogatiewe in verse 4-5: Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees – Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.

Die doel van die opnoem van hierdie voorregte en prerogatiewe is om aan te toon dat Israel beslis die Messias moes aangeneem het, maar dit nie gedoen het nie. Dit was hulle skuld en nie God se skuld nie.

Verder, as hulle nie sou glo nie, sou hierdie agt voorregte en prerogatiewe nie hulle redding waarborg nie. Een, die aanneming; dit beteken Israel se nasionale aanneming waardeur Israel die nasionale seun van God geword het (Ex. 4:22). Net soos wat gelowiges individueel deur aanneming kinders van God is, is Israel as ’n volk die nasionale seun van God. Israel is nooit uit daardie posisie onterf nie (Jes. 63:16; Jer. 3:17-19; 31:9, 20). Twee, die heerlikheid; dit is die heerlikheid van die HERE, die sigbare manifestasie van God se teenwoordigheid. Hierdie heerlikheid het aan Israel behoort (vgl. onder andere Ex. 13:20-21; 16:10; 40:34-38). Drie, die verbonde; dit is spesifiek die vier onvoorwaardelike, ewige verbonde wat God met Israel gesluit het: die Abrahamitiese Verbond, die Landverbond, die Dawidiese Verbond, en die Nuwe Verbond. Vier, die wetgewing; dit is die een spesifieke voorwaardelike en tydelike verbond wat God met Israel gesluit het: die Mosaïese Verbond, waarin die Wet van Moses vervat was (Ex. 19:16-20:1). Vyf, die erediens; dit het spesifiek die priesterdom ingesluit, die hele Levitiese instelling, en al die verskillende offers. Dit word herbevestig in Hebreërs 9:1-10. Ses, die beloftes; dit is spesifiek die messiaanse beloftes, die beloftes van die Eerste Koms, die Wederkoms, die vestiging van die Messiaanse Koninkryk, waarin die Messias regverdig oor die wêreld in die algemeen en Israel in die besonder sal heers. Sewe, die vaders; dit is die Patriarge: Abraham, Isak, en Jakob (Deut. 10:14-15; Heb. 11:1-12:2). Dit is deur hulle wat die Joodse volk tot stand gekom het en gevestig is. Die Bybelse definisie van ’n Jood is iemand wat ’n afstammeling is van Abraham, Isak en Jakob. Die agtse en laaste voorreg wat hy opnoem, is die Messias Self. Omtrent die Messias verklaar hy drie dinge: Eerstens, na die vlees, wat Sy mensheid onderstreep. Jesus is as ’n Jood gebore en het dus ’n fisiese verwantskap met Israel gehad (Matt. 1:1; Gal. 4:4; Heb. 7:14). Paulus se aanspraak dat die Messias tot Israel behoort, is iets wat Jesus Self bevestig het toe Hy verklaar het Hy was net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel (Matt. 15:24). Tweedens, Hy wat oor alles is, wat Sy soewereiniteit onderstreep. Derdens, Hy is God, lofwaardig tot in ewigheid, wat Sy goddelikheid onderstreep; Hy is God wat vir ewig lofwaardig is.

b. Israel se Verwerping in die Lig van Bybelse Geskiedenis: Romeine 9:6-13
(1) Die Twee Israels: Romeine 9:6
Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie.

Paulus begin hierdie deel van vers 6 met die woord “Maar” om te wys dat hy van plan is om iets te verduidelik. Die probleem is nie dat die Woord van God en ook nie God se beloftes gefaal het of verval het nie. God se Woord en God se beloftes het nie gefaal nie. Dan gebruik Paulus Bybelse geskiedenis om aan te toon dat Jode nie erfgename van seëninge is net omdat hulle die natuurlike saad van Abraham is nie. Hoewel sekere seëninge verkry word op grond van die feit van die natuurlike saad, is daar ander seëninge van God wat van ander sake afhang. Geestelike seëninge wat betrekking het op die kwessie van redding, hang nie suiwer af van die feit dat iemand die natuurlike saad van Abraham is nie, want fisiese afstamming op sigself was nie genoeg nie. Hoewel dit iemand binne die trefwydte van die Abrahamitiese Verbond geplaas het, was daar nog ’n ander vereiste. Hierdie vers is die sleutel tot hierdie hele gedeelte. Die Griekse woord wat as verval vertaal word, beteken “om uit te val” of “om vanaf te val.” Hierdie Griekse woord word gebruik om te praat van blomme wat verdor in Jakobus 1:11 en I Petrus 1:24, en van afdwaal vanaf ’n reguit koers in Handelinge 27:17, 26, en 29. Die punt is dat die Woord van God nie afgedwaal het vanaf die reguit koers, wat die plan en die doel van God is nie. Die Woord van God is nie skielik gedwarsboom deur Israel se verwerping nie. Om die waarheid te sê, Israel se verwerping van die Messiasskap van Jesus was ’n integrale deel van die goddelike program en plan.

Dan brei Paulus verder uit met die gebruik van die voegwoord Want. Soos dit hier voorkom, word dit dikwels gebruik as ’n verduidelikende voegwoord. Die verduideliking is: hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. Dit is belangrik dat hierdie vers nie verkeerd verstaan moet word nie. Paulus onderskei nie tussen Israel en die Kerk nie en ook nie tussen Jode en heidene nie. Nee, hy onderskei tussen Jode wat glo en Jode wat nie glo nie of tussen die Oorblyfsel en die nie-Oorblyfsel. Die eerste uitdrukking, almal Israel, verwys na die gelowige Joodse Oorblyfsel, die gelowige natuurlike saad. Die tweede uitdrukking, uit Israel, verwys na die volk as geheel, die algehele natuurlike saad. Met ander woorde, dit is nie die algehele Israel wat die ware Israel of die gelowige Israel is nie. Wat Paulus sê, is dat daar twee Israels is: eerstens Israel as Geheel, wat al die fisiese afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob insluit; en tweedens, binne die volk van Israel is daar die Israel van God, die gelowige Israel, die ware Israel. Die teenstelling is tussen Jode wat glo en Jode wat nie glo nie. Daar is een Israel wat die hele volk verteenwoordig, en binne hierdie geheel van die fisiese Israel, bestaan die geestelike Israel. Die Bybel sê nooit dat geestelike Israel die Kerk is nie. Geestelike Israel is altyd die Jode, binne die Israelse volk, wat gelowig is. Met hierdie verduideliking brei Paulus uitvoeriger uit op stellings wat hy gemaak het in Romeine 2:28-29.

(2) Die Twee Illustrasies: Romeine 9:7-13
Nadat Paulus dit gestel het dat daar twee Israels is en dat daar ’n onderskeid is tussen Israel as geheel en Israel as die gelowige Oorblyfsel, lig hy dit verder toe met twee illustrasies uit die Ou Testament.

Die eerste illustrasie is die van Ismael en Isak in verse 7-9: Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag. Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal ’n seun hê. Die doel van hierdie eerste illustrasie is om uit te wys dat fisiese afstammelinge wat glo, Abraham se ware kinders is. Hierdie beloftes word nie aan alle fisiese afstammelinge gegee nie, maar net aan daardie fisiese afstammelinge wat die kinders van die belofte is.

Die tweede illustrasie is die van Esau en Jakob in verse 10-13: En nie alleen dit nie, maar Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader. Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie – dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep – is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.

In die eerste illustrasie het die twee seuns dieselfde vader maar verskillende moeders gehad. In die tweede illustrasie het die twee seuns nie net dieselfde vader en moeder gehad nie, hulle was ook ’n tweeling.

Deur hierdie twee illustrasies sê Paulus vier dinge. Eerstens, al het Israel gefaal, het God se Woord nie gefaal nie; God se plan is steeds in werking, en is besig om volgens plan te verloop. Tweedens, die fisiese seëninge kom nie deur ’n mens se fisiese afstamming of persoonlike meriete nie. Derdens, dit kom deur die wil van God, dit is uitsluitlik deur God se wil. Vierdens, hierdie beloftes sal nie slegs deur fisiese afstamming verkry word nie; hulle word verkry deur fisiese afstamming sowel as die geestelike toepaslikheid daarvan. Wat hy nie sê nie, en trouens ook nie sal sê nie, is dat die beloftes by fisiese Israel weggeneem is en vir die Kerk gegee is. Wat hy sê, is dat hierdie beloftes steeds vir die fisiese Israel gegee gaan word, maar slegs aan daardie deel van fisiese Israel wat glo. Soos in I Petrus 2:1-10, is dit die Oorblyfsel van Israel wat die geestelike beloftes verkry.

c. Israel se Verwerping in die Lig van Bybelse Beginsels: Romeine 9:14-29
In hierdie afdeling van die teologie van Israel se verwerping, stel Paulus twee vrae en gee ’n antwoord op elkeen van hulle: Een, “Is God onregverdig?” Twee, “Hoekom vind God steeds fout?”

(1) Is God Onregverdig? Romeine 9:14-18
Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie!

Die eerste vraag word gestel in vers 14a: Wat sal ons dan sê? Elke keer wanneer Paulus ’n vraag met hierdie woorde inlei, is dit ’n vraag wat ontken moet word. Die vraag is: Is daar miskien onreg by God? Is God onregverdig omdat Hy net daardie deel van Israel wat glo uitverkies het en nie die hele Israel nie? Weer eens word ’n negatiewe antwoord op hierdie vraag verwag, en in verse 14b-18 volg dit in drie punte.

Die eerste antwoord is in vers 14b: Nee, stellig nie! Die Griekse woord beteken, “Mag dit nooit wees nie!” “Laat die gedagte vergaan!” Dit is die sterks moontlike negatief in Grieks.

Die tweede antwoord, in verse 15-16, toon dat God die absolute reg het om Sy barmhartigheid te betoon soos wat dit Hom behaag: Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.

In vers 15 haal Paulus Exodus 33:19 aan. As God se guns aan Moses vry en onverdiend was, hoeveel te meer is dit dan die geval met andere. Moses is verklaar as die lydsaamste van alle mense op die aarde, en tog het sy lydsaamheid nie God se barmhartigheid verdien nie. God se ontferming was geheel en al losstaande van enige menslike verdienste, en as dit waar was van Moses, dan is dit sekerlik waar van ons almal.

Nadat Paulus hierdie antwoord gegee het, kom hy tot ’n logiese gevolgtrekking in vers 16. Die woorde So … dan toon ’n logiese gevolgtrekking gebaseer op wat pas gesê is: barmhartigheid hang nie af van die een wat gewillig is of wat hardloop nie. Met ander woorde, barmhartigheid is nie afhanklik van menslike werke nie. Barmhartigheid hang uitsluitend af van God se genade. God het gewil om Sy barmhartigheid net te bewys aan daardie deel van Israel wat glo, die Oorblyfsel van Israel.

In verse 17-18 is die antwoord ’n aanhaling uit Exodus 9:16: Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.

In vers 17 stel Paulus nog ’n skrifgedeelte bekend om goddelike soewereiniteit te bewys, dat God volkome vry is in Sy handelinge met mense. Want in Moses sien ons die goedheid van God; in Farao sien ons die gestrengheid van God. Dit wys dat God in hierdie spesifieke tyd in die geskiedenis vir Farao laat optree het en hom op die troon geplaas het as ’n voorbeeld van dit waaroor goddelike geregtigheid gaan. God het sowel ’n onmiddellike as ’n verreikende doel gehad. Die onmiddellike doel was: dat Ek in jou my krag kan toon. Die verreikende doel was: dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde, en so het dit gebeur. Veertig jaar later, toe Josua die Land binnegegaan het, was die Kanaäniete steeds met vrees vervul oor dit wat hulle gehoor het God met Egipte en Farao gedoen het (Jos. 2:8-11). Dan kom Paulus tot ’n volgende logiese slotsom in vers 18: So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil; Moses is ’n voorbeeld van uitverkiesing ten opsigte van barmhartigheid. Die frase Hy verhard wie Hy wil, verwys na Farao as ’n voorbeeld van verharding met betrekking tot oordeel. Die Oorblyfsel van Israel is die ontvanger van God se barmhartigheid en die nie-Oorblyfsel van God se verharding.

(2) Hoekom Vind God Steeds Fout? Romeine 9:19-29
Die tweede vraag word vanuit ’n menslike oogpunt gestel, in vers 19: Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?

Die vraag is, “As God harte verhard, hoe kan Hy dan enigeen blameer wat doen wat Hy wil hê dat hulle moet doen?” Paulus antwoord nooit hierdie vraag direk nie, maar bespreek die ingesteldheid van die hart wat die vraag voortgebring het. Die vraag impliseer ’n totale negering van die verhouding van die skepsel tot die Skepper, die verhouding van die mens tot God.

Hy begin om die vraag te beantwoord deur ’n illustrasie te gee van die pottebakker en die klei in verse 20-21: Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie. Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? Die punt van die illustrasie is om die mens in die regte verhouding tot God te plaas: as God nie uitverkies het nie, sou niemand gered kon word nie, want daar is niemand wat God soek nie (Rom. 3:11). Die mensdom is nie verlore omdat hulle verhard is nie; die mensdom is verhard omdat hulle al reeds verlore is. Hulle is al reeds vol sonde; hulle het tekort geskiet aan God se standaarde van geregtigheid, en hulle is verlore omdat hulle sondaars is en nie na God soek nie.

Ná die illustrasie kom die toepassing in verse 22-23: En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid.

In vers 22 beskryf Paulus eerstens die ongelowiges as voorwerpe van toorn. Hy gebruik die Griekse tussenvorm, wat beteken dat die mensdom self verantwoordelik is vir hulle eie vernietiging. Dit is hulle eie sonde wat hulle veroordeel, want God het in werklikheid met lankmoedigheid opgetree. Hy is barmhartig, en daar kan geen geldige aanklagte teen Hom wees nie. God [verdra] met groot lankmoedigheid die voorwerpe wat hulleself vir vernietiging toeberei het.

In vers 23 beskryf Paulus dan die voorwerpe van barmhartigheid. Hier gebruik hy die lydende vorm, wat aantoon dat hulle voorberei is vir redding. Terwyl die mens homself toeberei vir vernietiging, berei God die wat glo, vir redding voor. Aan hulle wat Hy voorberei vir redding, wat Hy tevore tot heerlikheid voorberei het, maak Hy die rykdom van sy heerlikheid bekend.

Dan lê hy ’n nuwe waarheid uit in vers 24: ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene?

Hoewel Paulus primêr oor nasionale uitverkiesing handel, geld die beginsel ook ten opsigte van individuele uitverkiesing. Tot hiertoe was Paulus se rede oor twee verskillende groepe Jode: Jode wat glo en Jode wat nie glo nie. Nou beweeg hy aan na die roeping van die heidene om aan te toon dat God ook sommiges onder die heidene vir redding voorberei het.

In verse 25-29 kom Paulus tot sy slotsom van hierdie eerste gedeelte. Hy tel die gedagtegang op by vers 24 en toon in verse 25-26 aan dat voorwerpe van barmhartigheid ook onder die heidene gevind word: Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! – daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.

Op hierdie punt haal hy aan uit twee segmente van die profeet Hoséa. Dit was nie ’n vervulling van Hoséa nie, maar dis ’n toepassing van Hoséa op grond van ’n soortgelyke situasie. Vers 25 is ’n aanhaling uit Hoséa 2:22, waar God verklaar dat Israel Sy volk is; maar as gevolg van hulle sonde sal Hy hulle uit die Land uit verban. Vir ’n sekere tyd sou hulle nie my volk wees nie. Hoewel Israel posisioneel gesproke altyd die volk van God is, ontvang hulle die voordele van God se volk te wees net as hulle glo. Prakties gesproke het Israel begin as God se volk, maar toe het God gesê hulle sou vir ’n tyd lank nie langer die voordele van sy volk te wees, ontvang nie. Maar later sou Israel hulle bekeer en weer prakties God se volk word. Waarvan Hoséa praat, is Israel se veranderde posisie vanaf nie my volk nie, na weer my volk.

Vers 26 is ’n aanhaling uit Hoséa 1:10 waar ’n soortgelyke situasie gebeur ten opsigte van die heidene wat glo. Die heidene, in ’n staat van ongeloof, was nie my volk nie, maar noudat hulle voorwerpe van barmhartigheid gemaak is, en God hulle voorberei het vir redding, het hulle my volk geword; hulle het vanaf nie my volk nie beweeg na my volk. Op grond van hierdie punt van ooreenkoms, word Hoséa 2:22 en 1:10 op hulle van toepassing gemaak. Dit is hierdie roeping van die heidene wat Paulus hier bespreek. Hoséa het vir Israel in gedagte, spesifiek die Tien Stamme. Petrus pas dit toe op die Oorblyfsel teenoor die nie-Oorblyfsel. Maar Paulus, op grond van ’n soortgelyke situasie, maak hierdie verse van toepassing op die heidene.

Terwyl baie heidene voorwerpe van barmhartigheid geword het, het ’n groot deel van Israel voorwerpe van toorn geword, in verse 27-29: En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word; want Hy volbring ’n saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here ’n saak wat verkort is, op die aarde sal doen. En soos Jesaja tevore gesê het: As die Here van die leërskare vir ons nie ’n nageslag oorgelaat het nie, soos Sodom sou ons geword het en aan Gomorra gelyk gewees het.

In verse 27-28 haal Paulus aan uit Jesaja 10:22-23. Die punt van vers 27 is dat net die oorblyfsel gered [sal] word. Die punt van vers 28 is: God sal Sy doel bereik en die Oorblyfsel sal oorleef. Hier herbevestig Paulus die punt wat hy in vers 6 gemaak het, dat die Woord van God nie gefaal het omdat Israel as volk die Messias verwerp het nie. Dit was alles deel van God se plan, en God se Woord gaan voort volgens plan.

In vers 29 haal hy aan uit Jesaja 1:9, en wys uit dat, as God in Sy genade nie ingegryp het nie, hulle geheel en al vernietig sou gewees het. God sal Sy program volbring deur die Oorblyfsel, nie deur die volk as geheel nie. God hou die volk lewend omrede die gelowige Oorblyfsel; dus is die gelowige Oorblyfsel daarvoor verantwoordelik dat die hele volk lewend gehou word. Die rede hoekom alle pogings om die Jode uit te wis konsekwent misluk het, is omdat daar nog altyd ’n gelowige Oorblyfsel onder die Jode was.

d. Opsomming
Om hierdie eerste afdeling op te som, toon Paulus aan dat Israel se verwerping van die Messiasskap van Jesus nie beteken dat God se plan en program tot niks gekom het nie, dat dit tekort geskiet het nie, of dat dit agterweë gebly het nie; maar juis dat alles volgens goddelike plan verloop het. Dit was in God se program dat Israel die Messiasskap van Jesus sou verwerp, en dit was as gevolg van Israel se verwerping van Sy Messiasskap, dat barmhartigheid uitgebrei is na die heidene. Maar die barmhartigheid wat aan die heidene bewys is, is nie met totale uitsluiting van die Jode nie, want selfs onder die Jode is ’n Oorblyfsel besig om tot reddende geloof te kom. Daar is voorwerpe van barmhartigheid onder beide Jode en heidene, en daar is voorwerpe van toorn onder beide Jode en heidene. Die rede hoekom die evangelie vrylik na die heidene uitgegaan het, is omdat Israel as volk dit verwerp het. Dit is iets wat God al reeds in die Ou Testament beplan het, want wat Paulus hier leer, is wat Jesaja voorspel het in Jesaja 49:1-13.

3. Die Verduideliking van Israel se Verwerping: Romeine 9:30-10:21
In die vorige afdeling bespreek Paulus Israel se verwerping van die Messiasskap van Jesus uit die oogpunt van goddelike soewereiniteit. In hierdie afdeling verduidelik hy waarom Israel gefaal het uit die oogpunt van menslike verantwoordelikheid.

a. Die Struikeling van die Volk: Romeine 9:30-33
Paulus begin met die beskrywing van ’n paradoks in verse 30-31: Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is; terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie.

In vers 30 het die heidene nie, soos die Jode, ’n wet van geregtigheid gehad om hulle morele bewustheid aan te wakker nie; en hulle het ook nie soos die Jode daarna gestreef om geregtigheid te verwerf nie. Tog het hierdie heidene geregtigheid verkry, want hulle het gekom op die basis van geloof, nie werke nie. Maar in vers 31 het Israel wat geregtigheid nagejaag het, dit nie verkry nie.

Dan verduidelik Paulus die paradoks in vers 32a: Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was.

Die rede hoekom Israel nie geregtigheid verkry het nie, was omdat hulle dit nie nagejaag het op die basis van geloof nie; hulle het liewer vertrou op hulle eie werke wat op die ou end misluk het om hulle tot geregtigheid te bring. Daarom het Israel wat dit gesoek het, misluk om dit te verkry, want hulle het dit deur hulle werke probeer verkry. Die heidene wat dit nie gesoek het nie, het dit op die ou end verkry, want hulle het dit deur geloof gevind.

Dan bespreek Paulus die gevolge in verse 32b-33: want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ’n steen van aanstoot en ’n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Die gevolg van die soeke na geregtigheid op grond van werke en nie deur geloof nie, word gegee in vers 32b: Hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. Dit was Israel se omseiling van geloof en nadruk op werke wat die probleem veroorsaak het. Dit was te wyte aan Israel se skuld in hulle struikeling ten opsigte van die leer van geregtigheid deur geloof in die Messias. Hulle poging om geregtigheid deur werke te probeer verkry, het saamgehang met hulle ingesteldheid van Messiasverwerping. Redding is alleenlik op grond van genade deur geloof in die Messias, plus niks meer nie. In hierdie vers word Jesus die rots van struikeling omdat hulle Hom vir redding moes vertrou. Toe hulle daarin gefaal het om Hom te vertrou, het hulle oor Hom gestruikel, en die gevolg was dat hulle nie daarin geslaag het om geregtigheid te verkry nie. Hulle het geregtigheid deur die Wet gesoek en hulle het gestruikel.

In vers 33 haal Paulus Jesaja 8:14 aan, wat die tweevoudige ingesteldheid van sowel struikeling as verwerping bevestig. Jesus se aanbod van redding, suiwer deur geloof in Hom, sonder enige werke, is as twee dinge bewys: ’n steen van aanstoot en ’n rots van struikeling. Hulle het oor die leer van redding op grond van genade deur geloof plus niks meer nie gestruikel, en toe is hulle daardeur aanstoot gegee. Dan haal Paulus Jesaja 28:16 aan ten opsigte van hulle wat glo: hulle sal nie beskaam word oor hierdie leer van redding nie. Die Joodse Oorblyfsel het nie oor Jesus gestruikel nie. Vir die Joodse gelowige is Jesus nie die Steen van Aanstoot of die Rots van Struikeling nie; Hy is ’n heiligdom (Jes. 8:14) en Hy is kosbaar (I Pet. 2:1-10).

Die beeld van die Messias as ’n Rots van Struikeling en ’n Steen van Aanstoot is eerste deur Jesaja geleer en verder uitgebou deur Paulus en Petrus. Al drie wys die onderskeid uit tussen die Oorblyfsel en die nie-Oorblyfsel in verhouding tot hierdie Steen.

b. Israel se Onkunde omtrent die Kanaal van Redding: Romeine 10:1-11
Nadat Paulus die struikeling van die volk bespreek het, toon hy aan dat die rede daaragter hierdie lyne van onkunde was. Die lyne van onkunde rus almal die een op die ander.

(1) Paulus se Persoonlike Begeerte: Romeine 10:1-2
Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. Want ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het, maar sonder kennis.

As Paulus begin om hulle onkunde omtrent die kanaal van redding te verduidelik, spreek hy weer eens, soos wat hy gedoen het aan die begin van hoofstuk 9, ’n persoonlike verlange uit. In vers 1 spreek hy sy lesers aan as Broeders, waarmee hy alle gelowiges met homself verenig. Alle gelowiges moet dan ook in hierdie selfde verlange deel. Ten opsigte van hierdie las en verlange, verklaar Paulus: die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. Dit waarvoor Paulus aanhoudend gebid het, was dat die Joodse volk gered sou word. Paulus se begeerte was om die redding van die Joodse volk te kon sien, nie net op nasionale vlak nie, maar ook op individuele vlak.

In vers 2 getuig Paulus dan vir die Joodse volk. Hy getuig dat die Joodse volk wel ’n ywer vir God het, en hierdie ywer is die bron van Paulus se pyn. Die probleem was dat hulle ywer sonder kennis was, want opregtheid is nie genoeg nie. Hierdie vers word die sleutel tot hierdie afdeling, net soos Romeine 9:6 die sleutel was vir die eerste hoof afdeling. Hoewel die Joodse volk ’n kennis van God gehad het, het hulle nie vir God in die Messias geken nie, en dit is dít wat deurslaggewend is vir redding. In die Griekse teks skryf Paulus dat hulle gnosis gehad het, bedoelende “kennis,” maar hulle het nie epignosis, wat “volle kennis” beteken, gehad nie. Dit is dieselfde punt wat Hoséa gemaak het: die rede waarom Israel verlore is, is ’n gebrek aan kennis van geestelike waarheid (Hos. 4:6).

(2) Die Onderskeid Tussen Wetsgeregtigheid en Geloofsgeregtigheid: Romeine 10:3-11
(a) Wetsgeregtigheid: Romeine 10:3-5

Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. Want Moses beskrywe die geregtigheid wat uit die wet is: Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.

Paulus beklemtoon weer eens dat hulle misluk het om die geregtigheid wat uit die wet is te verkry. In vers 3, lê hulle mislukking daarin dat hulle die geregtigheid van God nie ken nie; dit is die sin van regverdigmaking, wat toegeken word aan hulle wat glo. Maar hulle het nie die geregtigheid van God gesoek nie, hulle het nie daarna gestreef om deur geloof regverdig verklaar te word nie. Nee, hulle het hulle eie geregtigheid probeer oprig; dit is die sin van regverdigmaking wat gesoek word deur die manier waarop ’n persoon die Wet onderhou het. Hulle het daarna gestreef om deur werke hulle eie geregtigheid tot hulle eie verheerliking te verkry. Die oomblik toe hulle probeer het om geregtigheid deur hulle eie werke te verkry, het dit beteken dat hulle hul aan die geregtigheid van God nie [wou] onderwerp nie. Omdat die geregtigheid van God verkry word op grond van genade deur geloof plus niks meer nie, was hierdie handeling van hulle ’n daad van ongehoorsaamheid.

Die rede hiervoor verduidelik Paulus in vers 4: Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid. Die Griekse woord wat as einde vertaal word, is telos. Hierdie Griekse woord kan twee dinge beteken. Eerstens kan dit “beëindiging” beteken, dat die Messias die Wet se beëindiging (einde) is. Tweedens kan die woord telos ook “doel” beteken, dat die doel van die Wet die Messias was. Die Wet op sigself was nie die doel nie, maar die doel daarvan was om die mens te lei tot geloof in die Messias. Uit ander skrifgedeeltes is dit duidelik dat albei betekenisse waar is. Die Messias was die doel van die Wet om die mens tot geloof te bring (Gal. 3:10-4:7). Ook het Jesus se dood die Wet tot ’n einde gebring (II Kor. 3:1-18; Heb. 7:11-18). Maar die primêre betekenis van die woord is “beëindiging.” Binne die konteks van die Brief aan die Romeine het Paulus al reeds verklaar dat die Wet van Moses nie meer enige gesag oor die gelowige uitoefen nie (Rom. 7:4-6). In albei gevalle het die Hele Israel in albei opsigte gefaal; Israel het gefaal in die besef dat die doel van die Wet geloof in die Messias was en dat die Wet as ’n riglyn vir die lewe, beëindig is. Die Wet was nooit ’n middel tot redding nie. Hulle het ook gefaal in die besef dat die Wet ongeldig gemaak is en dat Jesus gesien moes word as die Een deur wie die mens geregtigheid verkry, en dat dit nie verkry word deur die werke van die Wet nie.

Om sy punt te bewys, haal Paulus Levitikus 18:5 aan waar Moses self die onmoontlikheid om die Wet te onderhou, gesien het. In hierdie spesifieke skrifgedeelte is die teenstelling nie tussen Wet en geloof nie; die teenstelling is tussen geregtigheid wat voortspruit uit die Wet en geregtigheid wat voortspruit uit geloof. Geen mens verkry geregtigheid wat voortspruit uit die Wet nie, want hy het nie die vermoë om die Wet volkome te onderhou nie. Daarom is geloof as basis die enigste manier waarop die mens geregverdig kan word of as regverdig verklaar kan word. Wetsgeregtigheid is om geregtigheid te probeer kry deur die werke van die Wet, en nie die insig te hê nie dat geregtigheid net gegee kan word op grond van genade deur geloof in die Messias.

(b) Geloofsgeregtigheid: Romeine 10:6-11
Paulus begin met ’n beskrywing van geloofsgeregtigheid in verse 6-7: Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?

In hierdie verse haal Paulus aan uit Deutoronómium 30:12-13 waar Moses die nabyheid van God se geregtigheid verduidelik. Hy sê dat ’n mens nie nodig het om in die hemel op te vaar om dit af te bring nie of om in die afgrond neer te daal om dit op te bring nie. Wat Moses vir Israel gesê het, word hier op die Messias van toepassing gemaak. Om hierdie geregtigheid te verkry, hoef ’n mens nie na óf die Hemel óf die Hel toe te gaan nie, want dit staan buite menslike verdienste. Die mens hoef nie die Vleeswording te inisieer om Christus af te bring nie, want dit is al reeds gedoen. Ook hoef die mens nie die Opstanding te inisieer om Christus uit die dode op te bring nie, want dit is al reeds gedoen. Geloofsgeregtigheid word nie geïnisieer deur menslike verdienste nie.

Dan haal Paulus Deutoronómium 30:14 aan in vers 8, wat verklaar wat die bemiddeling tot geloofsgeregtigheid is: Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig. Die bemiddeling is in jou mond en in jou hart, wat aantoon hoe naby en toeganklik dit is. Die woord van die geloof is die boodskap, en die onderwerp van die boodskap is geloof. Dit is die boodskap of evangelie wat Paulus verkondig het.

Paulus verduidelik in verse 9-11 die een ding wat essensieel is vir redding, naamlik geloof: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Verse 9-10 toon aan hoe geloof natuurlikerwys sal uitvloei in belydenis: met die mond bely ’n mens die Here Jesus (Jesus as die Here); met die hart glo ’n mens dat God Hom uit die dood uit opgewek het. Met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Hierdie kruiskonstruksie, mond hart; hart mond, beteken dat glo en bely op dieselfde tyd plaasvind. Belydenis is nie iets wat ’n mens later doen as ’n onderafdeling van redding nie. Geloof in die hart bring geregtigheid en regverdigmaking. Die belydenis word teenoor God gemaak. Die inhoud van hierdie belydenis is dat Jesus vir ons sondes gesterf het, begrawe is, en weer opgestaan het. Die inhoud van geloof is dat Jesus die Redder is; dit is wat ’n persoon bely die oomblik wanneer hy glo.

In vers 11 haal Paulus dan aan uit Jesaja 28:16 om te bewys dat geloof die enigste voorwaarde vir redding is. Die punt van sy argument is dat geloof die universele manier is om redding te verkry.

c. Israel se Onkunde omtrent die Universele Karakter van Redding: Romeine 10:12-13
Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Die eerste lyn van onkunde het tot die foutiewe slotsom en tweede lyn van onkunde gelei: dat dit God se bedoeling was om net Jode te red. Vroeër het Paulus bewys dat redding in die Ou Testament vir die was wat geglo het, en nie op menslike werke berus het nie. In vers 12 bewys Paulus dat redding universeel is vir almal wat glo. Omdat redding vry is, is dit noodwendig universeel. Dit is ewe vry vir Jode as vir heidene; daar is geen onderskeid in die manier van redding vir enige mens nie. In Romeine 3:22-23 het hy uitgewys dat almal sondaars is, Jode sowel as heidene. Nou wys hy uit dat almal gered kan word, Jode sowel as heidene. Die Here van die Jode is die Here van die heidene; Hy is dieselfde Here. Hierdie Here is ryk in Sy genadige werkinge en reageer in barmhartigheid op elkeen wat die Naam van die Here aanroep. Om dit te bewys, haal Paulus in vers 13 aan uit Joël 2:32, wat die bewys van universaliteit is in die opsig dat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, gered [sal] word. In vers 12 is die klem op die karakter van God: Hy is die Here van almal. In vers 13 is die klem op die belofte van God: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Dit sluit sowel Jode as heidene in.

Paulus sê nie dat elke onderskeid tussen Jode en heidene uitgewis is nie. Die punt hier is dat daar geen onderskeid is in die manier waarop ’n mens gered word nie. Almal word gered op grond van genade deur geloof. Maar Israel se onkunde oor die universele karakter van redding het hulle laat struikel ten opsigte van die geloof in die Messiasskap van Jesus. Aangesien die Wet vir die Jode gegee is en nie vir die heidene nie, het die Joodse volk verkeerdelik tot die gevolgtrekking gekom dat dit God se bedoeling was om Jode te red, maar nie heidene nie. Hulle het verkeerdelik tot die slotsom gekom dat redding nie vir die heidene beskikbaar was tensy hulle die werke van die Wet ten volle op hulleself geneem het nie; hulle het aanvaar dat hulle gered sou word as hulle die Wet sou onderhou. Maar redding was nooit op die basis van die Wet nie; dit was altyd op die basis van genade deur geloof. Dit geld vir sowel Jode as heidene.

d. Israel se Onkunde omtrent die Universele Prediking van die Evangelie: Romeine 10:14-21
Die tweede lyn van onkunde het gelei tot die derde: dat dit nie nodig was om ’n boodskap van verlossing aan die heidene te bring nie, omdat dit God se voorneme was om net Jode te red. In hierdie afdeling is daar nog ’n bewys dat Israel se struikeling Israel se skuld was, en nie God se skuld nie. Die aard van redding, wat hy pas verduidelik het, vereis dat dit sonder onderskeiding gepredik moet word. Hierdie vryheid van die aanbod van redding vir almal het ’n struikelblok geword vir ongelowige Jode, maar hulle het nie die verskoning gehad dat hulle nie gehoor het nie.

In verse 14-15 bespreek Paulus die skakels van die prediking: Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!

Elke vraag is ’n skakel in die ketting van die argument, en elke gevolgtrekking word stilswyend veronderstel, en vorm die grondslag of basis vir die volgende vraag. In hierdie vrae wys hy vier dinge uit. Een, sonder geloof is daar geen aanroep van die naam van die Here nie. Twee, daar kan nie geloof wees sonder om te hoor nie; geloof moet inhoud hê en iemand moet die inhoud van geloof hoor voordat hy dit kan glo. Drie, niemand kan hoor as daar nie gepreek word nie. En vier, sonder om gestuur te word, kan daar nie gepreek word nie. ’n Universele evangelie is ’n noodsaaklikheid vir ’n universele redding, en dit vereis ’n universele bekendmaking van die evangelie. Israel het die prediking verwerp, en hulle onkunde was die oorsaak van die verwerping. Hier haal Paulus Jesaja 52:7 aan om te wys dat die boodskap gepredik was, maar eenvoudig nie geglo was nie. As gevolg van hulle vorige probleem, hulle onkunde omtrent die universele karakter van redding, het hulle nagelaat om redding deur geloof aan die heidene te verkondig. Maar daar kan geen roeping wees sonder geloof nie, geen geloof sonder gehoor nie, geen gehoor sonder prediking nie, en geen prediking sonder gestuurdes nie.

As gevolg van Israel se versuim om die stuurwerk te doen, het die heidene nie gehoor nie. ’n Feit wat nie in Israel se geval gegeld het nie, want Paulus wys in verse 16-18 dat die boodskap wel deur hulle gehoor is: Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja sê: Here, wie het ons prediking geglo? Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. Maar ek sê: Het hulle miskien nie gehoor nie? Ja, seker! Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde.

Die woord gehoorsaam in vers 16 beteken “gehoorsaam” en “ ’n vrywillige onderwerping.” Paulus wys uit dat hulle versuim het om vrywilliglik aan die eise van die evangelie te voldoen. Dan haal hy Jesaja 53:1 aan om hulle ongehoorsaamheid te bewys, en hierdie hoofstuk van Jesaja handel oor Israel se verwerping van die Messiasskap van Jesus.

In vers 17 praat hy van die verhouding tussen geloof en gehoor. Die verhouding is dat iemand ’n boodskap moet hê om te kan glo. Maar hoe gaan hy ’n boodskap glo tensy hy dit hoor? Die glo van ’n boodskap kom deur dit te hoor, en die gehoor is deur die Woord van God.

In vers 18 wys Paulus dat die Jode die boodskap gehad het. Die probleem was nie ’n gebrek aan gehoor nie, maar ’n gebrek aan gehoorsaamheid. Hy haal Psalm 19:4 aan om te wys dat die Joodse volk onverskoonbaar was, want net die boodskap wat deur algemene openbaring van die natuur gekom het, moes hulle al tot geloof beweeg het. Hulle het egter meer gehad wat aan hulle gepredik is as net die boodskap van die natuur; hulle het die evangelie gehad, wat besondere openbaring was. Teen hierdie tyd was die evangelie al in omtrent elke Joodse gemeenskap verkondig. Dit bewys dat Israel gehoor het.

In verse 19-20 haal Paulus Ou Testamentiese profesie aan, naamlik Deuteronómium 32:21 en Jesaja 65:1, wat ’n redding verwag het wat uitgedra sou word na elke volk, en dat heidene onder daardie volke dit sou ontvang: Maar ek vra: Het Israel dit miskien nie verstaan nie? Ten eerste sê Moses: Ek sal julle jaloers maak op dié wat geen volk is nie, en Ek sal julle toorn opwek teen ’n onverstandige volk. En Jesaja durf selfs sê: Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het nie.

Die boodskap wat die Joodse volk verwerp het, is deur die heidene ontvang. Die wat glo, sal ’n nuwe entiteit wees wat, op hulle beurt, die Jode tot jaloersheid sou opwek, ’n punt wat Paulus in besonderhede sal uitlig in Romeine 11:11-14. Hierdie nuwe groep is egter nie ’n volk nie; hulle is geen volk; want hulle is saamgestel uit gelowiges vanuit alle volke.

Dan sluit hy in vers 21 af deur Jesaja 65:2 aan te haal om te wys dat, hoewel Israel Hom verwerp het, God se ingesteldheid teenoor Israel steeds dieselfde ingesteldheid van liefde was: Maar van Israel sê Hy: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na ’n ongehoorsame en teësprekende volk.

God hou voortdurend Sy hande oop; enige tyd wanneer Israel wil reageer, sal Hy hulle aanvaar. Israel het die Here verwerp, maar die Here het nie vir Israel verwerp nie; Hy wag steeds om vir Israel te ontvang.

4. Die Troos van Israel se Verwerping: Romeine 11:1-24
a. Israel se Verwerping is nie Algeheel nie: Romeine 11:1-10

Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ’n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.

Die woord dan verbind vers 1 met Romeine 10:21 wat Israel in ongeloof uitbeeld. Paulus begin met ’n vraag: Het God miskien sy volk verstoot? Die vraag is gebaseer op die stelling in Romeine 10:21 en wys dat die volk van hierdie twee verse dieselfde volk is, nasionale Israel. In hierdie verse leer Paulus dat Israel se verwerping van die Messiasskap van Jesus nie totaal of algeheel is nie, want selfs vandag nog is daar Jode wat kom tot ’n reddende kennis van die Messiasskap van Jesus. Die antwoord kom gou: Nee, stellig nie! of sterker in die Grieks: “Mag dit nooit wees nie!” “Laat die gedagte vergaan!” Die probleem was nie dat God sy volk verstoot het nie. Die feit dat Israel die Messiasskap van Jesus verwerp het, beteken nie dat God vir Israel verwerp het nie. Selfs in ongeloof is hulle steeds Sy volk. Soos wat Paulus verklaar, het God nie Sy volk verstoot nie. As Hy het, sou dit beteken het dat geen enkele Jood ooit gered sou kon word nie. Om dit te bewys, noem Paulus eers homself as ’n voorbeeld. Die feit dat Paulus self ’n Joodse gelowige was, wys twee dinge. Een, dit wys dat Israel se verwerping van die Messias nie algeheel was nie. En twee, dit wys dat God nie Sy volk verwerp of verstoot het nie. Anders sou Paulus nie gered kon word nie. Al glo die meerderheid nie, het God steeds nie Sy volk verstoot nie; Hy het nie Sy uitverkore volk verwerp nie. Die feit dat Paulus na Israel verwys as sy volk in die huidige bedeling, wys dat hulle steeds die Uitverkore Volk is.

Dan toon Paulus God se verkiesing aan in vers 2a: God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie.

Die verhouding tussen God en Sy volk is een van voorkennis. God het, in Sy voorkennis, Israel uitverkies ten spyte van Sy kennis dat Israel die Messiasskap van Jesus sou verwerp. Die

konsep van God se voorkennis verbied in wese die konsep van die verstoting van Israel. Aangesien Israel uitverkies was, kon God Israel nie verstoot nie.

Dan, om te wys dat hy nie alleen is in sy Joodse geloof in die Messiasskap van Jesus nie, handel Paulus vervolgens met die roeping van die Oorblyfsel in verse 2b-10. Daar is baie ander Jode wat tot reddende geloof gekom het, in die verlede sowel as in die huidige tyd. Paulus gee die historiese voorbeeld van Elía in verse 2b-4: Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? – hoe hy by God optree teen Israel en sê: Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself seweduisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie.

Die punt is om aan te toon dat God altyd ’n Oorblyfsel gehad het, al was die Oorblyfsel by tye ook hoe klein. Hoewel afval algemeen was onder die Jode, was dit nie universeel onder hulle die geval nie. Die punt wat Paulus maak met die voorbeeld van Elía, is dat dit wat vandag waar is, nog altyd waar was: dit is die Oorblyfsel wat tot reddende genade kom. Die Oorblyfsel in Elía se tyd was net seweduisend sterk. Wat gebeur het sedert Jesus se bediening is niks nuuts nie want, regdeur die Joodse geskiedenis, was die meerderheid altyd in ’n staat van ongeloof.

Nadat hy die voorbeeld van Elía gegee het, gee Paulus die toepassing in vers 5: Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ’n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.

Die uitdrukking Net so is die vergelyking en die woord dan is die afleiding; wat toe waar was, is nou ook waar: daar is ’n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade. Deur te verklaar dat dit die uitverkiesing van die genade is, gee Paulus die standaard waarvolgens die Oorblyfsel ontstaan. Dit is nie op die basis van die Wet van Moses nie (Rom. 10:4), maar op die basis van genade. Paulus gebruik die Griekse voltooide tyd, wat wys dat die Oorblyfsel in die verlede bestaan het en steeds in die hede bestaan. Die huidige Oorblyfsel van vers 5 kom ooreen met die seweduisend manne van Elía se tyd. Hierdie Oorblyfsel is die Israel van God van Galásiërs 6:16.

Dan gee hy die verduideliking in vers 6: En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie.

Hy bring die punt tuis dat genade en werke mekaar uitsluit; dit is dieselfde punt wat hy in hoofstuk 10 gemaak het. As dit deur genade is, kan dit nie uit werke wees nie; omrede dit dan “genade geen genade meer nie” sou maak. Niemand, nie eens die Jood nie, kan enigiets van God eis nie, maar God sal mense, onder sowel die Jode as onder die heidene, slegs red uit genade deur geloof. Wat die basis van redding betref, sluit Wet en genade, werke en geloof, mekaar uit.

Vervolgens kom Paulus tot ’n logiese gevolgtrekking in vers 7: Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard.

Wat dan? Die afleiding is: dit wat die Hele Israel gesoek het, het hy nie verkry nie. Die Hele Israel het geregtigheid gesoek, maar soos dit blyk uit Romeine 9:31-33, het hulle hierdie geregtigheid gesoek op die basis van hule eie werke en die werke van die Wet, en dit daarom nie verkry nie. Die uitverkorenes het dit [geregtigheid] verkry terwyl die ander verhard [is]. Weer eens, die onderskeid hier is nie tussen die Kerk en Israel of tussen Jode en heidene nie, maar tussen Jode wat glo en Jode wat nie glo nie. Dit wat die Hele Israel misluk het om te verkry, het Israel die Oorblyfsel wel verkry. Joodse gelowiges het hierdie geregtigheid van God verkry. Hierdie selfde punt word gemaak in I Petrus 2:1-10. Hoewel die Hele Israel gefaal het om die geregtigheid van God te verkry, is daar ’n Oorblyfsel binne Israel wat nie gefaal het nie. Dit is hierdie Oorblyfsel, die Joodse gelowiges, wat die Israel van God is. Weer eens, die onderskeid is tussen die Oorblyfsel, die uitverkorenes wat dit verkry [het], en die nie-Oorblyfsel, die ander wat verhard [is].

In verse 8-10 haal Paulus dan aan uit die Ou Testament om te wys dat die huidige verharding van Israel deur al drie afdelings van die Ou Testament verwag is: Soos geskrywe is: God het hulle gegee ’n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe. En Dawid sê: Laat hulle tafel vir hulle wees ’n vangnet en ’n strik en ’n struikelblok en ’n vergelding. Laat hulle oë duister word om nie te sien nie, en buig hulle rug vir altyd krom. Hy haal die Wet aan in Deutoronómium 29:4, die Profete in Jesaja 29:10, en die Geskrifte in Psalm 69:22-23 aan om te toon dat Israel as geheel verhard is.

Die punt van Romeine 11:1-10 is dan dat, hoewel Israel as ’n volk gefaal het om geregtigheid te verkry, is hierdie verwerping van die Messiasskap van Jesus nie ’n algehele verwerping nie; daar is Jode wat glo. Hierdie Joodse gelowiges het God se geregtigheid verkry. In die huidige tyd is daar Joodse gelowiges wat die Oorblyfsel is volgens die uitverkiesing van die genade. Dus, in stede daarvan dat die bestaan van ’n minderheid gelowiges gebruik kan word as ’n bewys dat God Sy volk verstoot het, is dit in werklikheid ’n bewys dat Hy nie het nie.

b. Die Doel van Israel se Struikeling: Romeine 11:11-15
Weer stel Paulus ’n vraag wat weerlê moet word, in vers 11a: Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie!

Die uitdrukking Ek vra dan, lei tot die vraag: Het hulle miskien gestruikel om te val? Was Israel se struikeling in Romeine 9:30-33 vir die doel van Israel se val? Was die doel sodat God Sy volk kon verwerp en verstoot? Paulus verwys na die meerderheid wat wel gestruikel het. Die Griekse woord wat Paulus vir val gebruik, verwys na “ ’n totale en onherroeplike val.” Was Israel se struikeling dus vir die doel dat Israel onherroeplik sou val en nooit weer sou opstaan nie? Dan gee Paulus die antwoord: Nee, stellig nie! “Mag dit nooit wees nie!” “Laat die gedagte vergaan!” In die lig van God se trou is dit ondenkbaar. Hulle het gestruikel, maar dit was nie vir die doel om onherroeplik te val nie. God het beplan dat Israel sou struikel vir die doel van die redding van heidene, maar die redding van heidene is dienstig of ondergeskik aan Joodse redding.

Nadat hy dit gesê het, lê Paulus die doel uit van die redding van die heidene. Verse 11b-14 verklaar: Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek ’n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening – as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!

In vers 11b is die doel om die Jode jaloers te maak. Dit is ’n verwysing na Deutorómium 32:21, wat reeds in Romeine 10:19 aangehaal is. Die antwoord op die vraag, “Waarom red God tans die heidene?” is om die Jode tot jaloesie op te wek. Die uitdrukking jaloers te maak is ’n Griekse woord wat beteken “om tot by iemand te kom, en hom van jaloesie te laat kook of gis.” Die rede hoekom God heidene red, is sodat ’n gelowige heiden tot by ’n ongelowige Jood kan kom en die Jood beweeg om jaloers te word op dit wat die heidense gelowige het sodat hy ook ’n gelowige in die Messias sal word.

Vers 12 gee ’n teenstelling tussen die gedeelte en die volheid. Wat die gedeelte betref, is daar nou ’n vermindering van die volk tot ’n Oorblyfsel van gelowiges vandag, maar in die toekoms sal daar ’n nasionale redding van die hele volk wees en dit sal hulle volheid wees. Paulus toon aan dat, aangesien die doel van Israel se struikeling die redding van die heidene was, en dit die rykdom van die wêreld is, moet hierdie feit lei tot sekere kern lesse. Die eerste les wat omtrent die doel van Israel se struikeling geleer moet word, is dat Israel nie gestruikel het vir ’n onherroeplike val nie, maar dit was sodat redding nou ook tot die heidene kon uitgaan.

Noudat redding tot die heidene uitgegaan het, is die doel van die redding van die heidene om die Jode tot jaloesie op te wek en hulle so tot redding te bring, in verse 13-14. Die doel van Israel se struikeling was die redding van die heidene, en die doel van die redding van die heidene, is redding van die Jode. Dit is die metodiek waarvolgens God verkies het om te werk.

In vers 15 is daar ’n tweede les wat geleer moet word omtrent die doel van Israel se struikeling: Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?

Die tweede les is dat dit alles op seëninge vir Israel sal uitloop. Paulus verklaar dat, as Israel se struikeling die versoening van die heidense wêreld beteken, dan sal die aanneming van Israel lewe uit die dood beteken. Dit is die verklaring van Israel se plek in God se seëninge. Israel se ongeloof was gerig tot die herstel van geloof; Israel se val was gerig tot hulle uiteindelike terugwinning. Hulle volheid in vers 12 verwys na Israel se volledige herstel. As die heidene die evangelie deur Israel se val ontvang het, hoeveel te meer sal die heidene geseën word deur Israel se terugkeer. Dit is ’n argument van die minste tot die meeste. As die heidene soveel seën ontvang het op grond van Israel se struikeling, dink net hoeveel meer seën die heidene sal hê wanneer Israel gered word. Dit sal lei tot die Wederkoms en die vestiging van die Koninkryk. Dit is hoekom Paulus so hard onder die heidene gearbei het. Op hierdie manier sal selfs meer Jode tot jaloesie opgewek word en glo, en op sy beurt weer, sal dit selfs nog meer seëninge vir die heidene beteken.

Die punt wat Paulus in hierdie afdeling maak, is dat dit God se plan vir Israel was om die Messiasskap van Jesus te verwerp; vir ’n tyd lank sou die evangelie na die heidene uitgaan, en in daardie tyd moes hulle die Jode tot jaloesie opwek; totdat die hele Israel uiteindelik gered is. Paulus bou voort op Jesaja 49:1-13 waar Jesja dieselfde ding leer: dat die Messias na Israel sou kom; Israel sou Hom verwerp, en die Messias sou dan, vir ’n tyd lank, die lig van die heidene word; maar uiteindelik sal Israel tot Hom terugkeer en herstel word. Paulus sê hier niks nuuts nie; hy wys net uit hoe Jesaja 49 vandag in vervulling gaan. In verse 1-10 het Paulus geleer dat daar steeds ’n Oorblyfsel is wat tot reddende genade kom. Nou, in verse 11-15, verklaar hy dat die primêre manier waarop Jode nou tot geloof kom, deur jaloesie is wat in hulle opgewek word deur heidense gelowiges.

c. Die Olyfboom: Romeine 11:16-24
Paulus begin hierdie segment deur die illustrasie en die beginsel van die Olyfboom te gee in vers 16: En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook.

Die verbindingswoord as of “nou” gee die rede vir geloof in ’n toekomstige nasionale herstel. Die illustrasie is die van die eerstelinge en die wortel, wat verwys na Abraham, Isak, Jakob, en die Abrahamitiese Verbond. Hulle is heilig omdat hulle deur God afgesonder en geheilig is vir ’n goddelike doel. Israel as ’n volk is die deeg en die takke. Die beginsel is gebaseer op Númeri 15:17-21: die heiligheid of wyding van die eerstelinge en die wortel word deurgegee na die deeg en die takke. Net soos die eerstelinge die hele oes, deeg, heilig, net so sal die hele Israel eendag ook geheilig wees. Die Abrahamitiese Verbond wat met die Vaders gesluit is, is die basis vir die verwagting van Israel se toekomstige nasionale redding.

Die [natuurlike] takke is die Jode en die wilde olyfboom se takke is die heidene in vers 17: En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ’n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom.

Die Olyfboom in hierdie skrifgedeelte verteenwoordig nie Israel of die Kerk nie, dit verteenwoordig die plek van geestelike seën. Israel is die eienaar van die Olyfboom, maar Israel is nie die boom self nie. Die wortel van hierdie plek van seën is die Abrahamitiese Verbond. Hier maak Paulus dieselfde punt as wat hy maak in Efésiërs 2:11-16 en 3:5-6. Heidene het nou, deur hulle geloof, deel gekry aan die Joodse geestelike seëninge soos dit vervat is in die Abrahamitiese Verbond. Hierdie Olyfboom verteenwoordig die plek van seën en nou is heidene ingeënt in hierdie plek van seën en hulle deel in die krag van die lewensap. Die heidene is nie “oornemers” nie, maar deelgenote van die Joodse geestelike seëninge. In hierdie vers praat Paulus van die inenting van wilde olyftakke in ’n goeie olyfboom. Paulus se kritici meen dit is duidelik dat hy nie die beginsels van tuinbou verstaan het nie, want dit is teennatuurlik om ’n wilde olyftak in ’n goeie olyfboom in te ent. Dit is presies die punt wat Paulus wou maak; dit is teennatuurlik vir heidene om ingeënt te word in hierdie plek van seën wat uit die Abrahamitiese Verbond kom. In vers 24 verklaar Paulus dat dit teen die natuur is. Normaalweg sou so ’n inenting onvrugbaar wees. Die punt wat hy maak, is dat God iets doen wat nie natuurlik is nie: Hy bring heidene in die plek van seën in op grond van die Joodse verbonde.

Dan gee Paulus ’n waarskuwing in verse 18-22: moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem – dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou. Jy sal dan sê: Die takke is afgebreek, sodat ek ingeënt kon word. Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie. Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die geregtigheid bly; anders sal jy ook afgekap word.

Die waarskuwing is dat die basis vir heidense seën geloof is, nie verdienste nie; as heidene in die plek van seën wil bly, moet hulle volhou in die geloof. Israel se mislukking moet vir hulle tot ’n les wees. Hy handel nie met individuele gelowiges en ongelowiges nie, maar met nasionaliteite van Jode en heidene. Die Jode as ’n nasionaliteit was in die plek van seën, maar as gevolg van hulle ongeloof is hulle afgebreek. Heidene word nou gevind in die plek van seën; maar as hulle in die geloof faal, sal hulle ook afgebreek word uit die plek van seën. Dit is nie die verlies van redding nie, dis ’n wegneem uit die plek van seën. Die heidene word gewaarsku om nie te roem teenoor die natuurlike takke nie, want hulle is nie selfondersteunend nie; hulle word ondersteun deur die wortel: die Abrahamitiese Verbond, wat ’n Joodse verbond is.

Vervolgens bied Paulus die argument aan van Israel se uiteindelike herstel, in verse 23-24: Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent. Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word?

In vers 23 wys Paulus uit dat die enigste ding wat Israel se herstel verhinder, hulle ongeloof is, want God is ten volle magtig om hulle weer in te ent. In vers 24 gee hy dan die rede waarom almal moet verwag dat Israel herstel sal word. Paulus verklaar dat dit hul eie olyfboom is. Hierdie Olyfboom, hierdie plek van seën, behoort aan Israel. Hoe so? Die plek van seën berus op die vier onvoorwaardelike verbonde wat God met Israel gesluit het. Omdat hierdie verbonde Joodse verbonde is, behoort die plek van seën wettiglik aan die Jode. Dit is deel van Israel se voordeel van Romeine 3:1-2. Die heidene is slegs deelgenote en deel in hulle verbondseëninge. Op grond hiervan moet dit verwag word dat Israel daarbinne herstel sal word. Want as God wilde olyftakke teen die natuur op die mak olyfboom kan inent, hoeveel te meer kan God dan die natuurlike takke op hul eie olyfboom inent. Die feit dat Israel die boom besit, wys dat Israel nie die boom is nie, want die eienaar en dit wat besit word, is twee afsonderlike entiteite. Nadat Paulus die verwagting uitgelê het, verklaar hy in die volgende segment dat dit presies is wat eendag gaan gebeur.

III. DIE TOEKOMS
A. Die Oorblyfsel van Israel Tydens die Verdrukking

Alle individuele Jode wat gelowiges word tydens die sewe jaar van die Verdrukking is deel van die Oorblyfsel van Israel. Dit sluit die 144,000 Jode in (Op. 7) en ook daardie Jode van Jerusalem wat in die middel van die Verdrukking gelowiges word (Op. 11:13). Dit sluit alle individuele Jode in wat gelowiges word as gevolg van die prediking van die 144,000 Jode of die Twee Getuies van Openbaring 11. Dit sluit ook die Oorblyfsel in van Openbaring 12:17 wat op ’n baie spesifieke manier deur Satan aangeval sal word.

B. Die Gelowige Oorblyfsel
1. Die Definisie

’n Groot gedeelte van die Joodse gemeenskap sal eers aan die einde van die Verdrukking lede word van die Oorblyfsel van Israel. Hulle kan die Gelowige Oorblyfsel genoem word. Gebaseer op al die betrokke skrifgedeeltes, sal hierdie groep die meerderheid uitmaak van die eenderde van die volk wat die Verdrukking oorleef. Regdeur die Verdrukking sal hulle ongelowiges wees wat die Messiasskap van Jesus betref en ook ongelowiges wat die Antichris betref. Hulle is die wat in teenstelling met die “baie” van Daniël 9:27 sal weier om enigiets te doen te hê met die verbond van die Antichris. Hulle is die wat volgens Jesaja 28:16 nie haastig [sal] wees nie. Hulle sal gelowig wees in die sin dat hulle volgens Ou Testamentiese openbaring sal glo in die God van Israel en hulle vertroue daarin sal plaas. Uiteindelik sal hulle egter vir Jesus as Messias leer ken.

2. Die Feit van die Gelowige Oorblyfsel: Jesaja 10:20-23
En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die HERE, die Heilige van Israel, in opregtheid. Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe. Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net ’n oorblyfsel van hulle sal terugkom; die verdelging is vas besluit en vloei oor van geregtigheid. Want ’n verdelging wat vas besluit is, sal die Here HERE van die leërskare voltrek in die midde van die hele aarde.

Vers 20 verklaar dat, anders as die res van Israel, sal die Oorblyfsel steun op die HERE, die Heilige van Israel. In vers 21 verklaar Jesaja dat hulle uiteindelik tot die God van Israel sal terugkeer, ’n terugkeer wat net kan gebeur deur geloof in Jesus die Messias. Vers 22a wys uit dat, ten spyte van die getallesterkte van die Jode, net ’n Oorblyfsel tot God sal terugkeer. Verse 22b-23 praat van die voltrekking van ’n verdelging wat vas besluit is oor die hele aarde, en wat die Oorblyfsel sal oorleef. Die woorde wat hier gebruik word, kom baie ooreen met die wat voorkom in Jesaja 28:22 waar die beslissing van die verdelging aangekondig word met die ondertekening van die Sewe-jaar verbond, die gebeurtenis wat die Verdrukking begin. Deur die samevatting van hierdie twee skrifgedeeltes in Jesaja, is dit duidelik dat die Oorblyfsel die vervolging van die Jode deur die Antichris tydens die Verdrukking en die grootskaalse vernietiging van die aarde sal oorleef. Daarom word daar in Jesaja 10:20 na hulle verwys as die wat ontvlug. In Jesaja 4:2; 37:31-32; en Joël 2:32; lees ons dat hulle die vrygeraaktes van Israel is; en Obadja 17 praat van hulle ontkoming.

3. Die Beskerming van die Gelowige Oorblyfsel: Jesaja 41:8-16
Maar jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend, jy, wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde en van sy uithoeke geroep het, en Ek het aan jou gesê: Jy is my kneg; jou het Ek uitverkies en jou nie verwerp nie. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand. Kyk, hulle almal sal beskaamd staan en in die skande kom wat op jou toornig is; hulle sal word soos niks, en jou teëparty sal omkom. Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie – die manne wat met jou twis; hulle sal word soos niks en soos ’n nietige ding – die manne wat teen jou oorlog voer. Want Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou. Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou, spreek die HERE, en jou Losser is die Heilige van Israel. Kyk, Ek maak jou tot ’n skerp, nuwe dorsslee wat baie tande het: jy sal berge dors en fyn maal, en heuwels maak soos kaf. Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegneem en die storm hulle verstrooi; maar jy sal juig in die HERE, jou beroem op die Heilige van Israel.

Dit is ’n belofte hierdie dat die Gelowige Oorblyfsel bewaar sal word te midde van die verskriklike vervolging tydens Satan se veldtog om die Jode te vernietig in die tweede helfte van die Verdrukking.

4. Die Voorsiening vir die Gelowige Oorblyfsel
a. Jesaja 41:17-20

Die ellendiges en die behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die HERE, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie. Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ’n waterplas maak en die dor land waterbronne. Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die wilde-olyfboom; Ek sal in die wildernis plant die sipres, die plataan en die denneboom, dié almal; sodat hulle almal saam kan sien en beken en opmerk en verstaan dat die hand van die HERE dit gedoen het en die Heilige van Israel dit geskape het.

In hierdie skrifgedeelte sal wonderbaarlike voorsiening hulle noop om hulle verhouding tot God te heroorweeg. Net soos wat God wonderbaarlik in die woestyn van Sinai voedsel en water vir Israel voorsien het, sal Hy dit weer doen in die Verdrukking wanneer die Jode die woestyn invlug.

b. Jesaja 65:8-16
So spreek die HERE: Soos wanneer iemand mos vind in ’n tros druiwe en sê: Verniel dit nie, want daar is ’n seën in – sal Ek doen ter wille van my knegte, om nie alles te verniel nie. En Ek sal ’n nakroos uit Jakob laat voortkom en uit Juda die erfbesitter van my berge; en my uitverkorenes sal dit erflik in besit neem en my knegte daar woon. En Saron sal ’n weiveld vir kleinvee word, en die dal Agor ’n lêplek vir beeste, vir my volk wat My gesoek het. Maar julle wat die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ’n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot – Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te word, omdat Ek geroep maar julle nie geantwoord het nie, Ek gespreek maar julle nie geluister het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in my oë en verkies het wat My nie behaag nie. Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan. Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees. En julle sal jul naam vir my uitverkorenes as ’n woord van verwensing laat agterbly, en die Here HERE sal jou ombring. Maar sy knegte sal Hy noem met ’n ander naam, sodat hy wat homself seën in die land, hom sal seën by die God van waarheid; en hy wat sweer in die land, sal sweer by die God van waarheid, omdat die vorige benoudhede vergeet is en verborge vir my oë.

Hierdie skrifgedeelte maak dit duidelik dat die afvalliges toegelaat gaan word om te ly en te sterf, maar die Gelowige Oorblyfsel sal goddelik beskerm word en voorsien word van kos en water. Op hierdie manier sal die Gelowige Oorblyfsel dit regkry om die vervolginge en die verdelging van die Groot Verdrukking te oorleef.

C. Die Gelowige Oorblyfsel en Israel se Nasionale Redding
1. Romeine 11:25-36

Met die verduidelikende verbindingswoord Want, wat hierdie skrifgedeelte laat aansluit by Romeine 11:24, maak Paulus in verse 25-26a ’n duidelike verklaring van Israel se finale herstel: Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word.

In vers 25 wys Paulus uit dat daar beperkings was op Israel se verharding in die opsig dat Israel net ten dele verhard was en net vir ’n tydelike periode. Daar was ’n tydelike verharding, maar nooit ’n algehele verharding nie; dit is ook die punt van Romeine 11:1-10. Die feit dat daar Jode is wat tot reddende geloof kom, bewys dat die verharding gedeeltelik is. Maar Israel is ook net tydelik verhard, totdat die volheid van die heidene ingegaan het. Die Griekse woord wat met volheid vertaal word, beteken “ ’n vol getal” of “ ’n voltooide getal.” Met ander woorde, God het ’n vasgestelde getal heidene wat Hy bestem het vir redding binne die plek van seën, die Olyfboom van verse 16-24.

Nadat die volheid van die heidene ingekom het, nadat daardie vasgestelde getal bereik is, verklaar vers 26a: so sal die hele Israel gered word. Volgens Handelinge 15:14 is een van die kern doelwitte van die Kerkdispensasie om ’n volk vir Sy Naam uit die heidene te roep. Hierdie roeping vanuit die heidene sal voortduur totdat die volheid, daardie vasgestelde getal heidene, bereik is. Op daardie tydstip sal die Kerk volledig wees en sal deur die Wegraping weggeneem word. Dan sal God weer met Israel as ’n volk handel, en nie net met Joodse individue nie. Hierdie handeling met nasionale Israel sal daartoe lei dat die hele Israel gered word. As Paulus praat van die hele Israel, bedoel hy alle Jode wat op daardie tydstip sal lewe, nie alle Jode van alle tye nie. In sommige kringe word hierdie vers verkeerd geïnterpreteer om te beteken dat alle Jode uiteindelik gered sal word, en daarom is Joodse evangelisering en Joodse bedieninge onnodig. Dit is egter nie wat hierdie skrifgedeelte leer nie. Byvoorbeeld, die Bybel praat van die hele Israel, die hele gemeenskap van die Israeliete, wat met die Uittog uit Egipte uit die land gekom het. Natuurllik het nie alle Jode wat ooit gelewe het uit Egipte gekom nie, maar elke Jood wat op daardie tydstip gelewe het, het uit Egipte gekom. Hierdie vers moet op dieselfde manier geïnterpreteer word: elke Jood wat op daardie tydstip lewe, sal gered word. Die verborgenheid van hierdie skrifgedeelte is nie Israel se nasionale redding nie, want dit is in die Ou Testament geopenbaar. Die verborgenheid is ’n gedeeltelike, tydelike verharding van Israel totdat die volle getal van die heidene bereik is. Die Israel van hierdie vers moet verwys na nasionale Israel, want dit is die betekenis van die tien ander kere waar Israel vanaf hoofstuk 9 gebruik word; dit is iets wat selfs deur vervangingsteoloë erken word. Daar is geen rede waarom hierdie vers die een uitsondering gemaak moet word nie, veral omdat dit volkome sin maak en ’n teëstelling is met die heidene van die vorige vers.

Vervolgens bring Paulus in verse 26b-29 Israel se toekomstige nasionale redding in verband met sy huidige status: soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem. Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders. Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.

Verse 26b-27 gee die bewys van Israel se toekomstige redding vanuit die Ou Testament deur Jesaja 59:20-21 en 27:9 aan te haal. Hierdie waarheid word dan in vers 28a ontleed: Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle. Die vervreemding van Israel ten spyte van die verbondsbeloftes is God se manier om heidene tot Hom te bring. Sover as dit die evangelie aangaan, is hulle vyande ter wille van die heidene. Paulus verklaar in vers 28b: maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders. Die woord uitverkiesing verwys na Israel se nasionale uitverkiesing as die Uitverkore Volk van God. Die woorde ter wille van die vaders het te doen met die verbonde wat God met Israel gesluit het, in die besonder die Abrahamitiese Verbond wat met die Patriarge gesluit is. God, wat die Verbondshouer is, sal Sy verbonde nakom ter wille van Homself. ’n Deel van daardie verbondsbelofte is die nasionale redding van Israel. Vir nou is Israel gedeeltelik verhard. Die gevolg daarvan is dat die verharde element ’n vyand van die evangelie is. Uiteindelik moet God die hele volk tot Homself bring omdat hulle bemindes ter wille van die vaders is. Hy het verbondsbeloftes aan hulle gemaak wat Hy moet nakom. Vers 29 verklaar: Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik. Die rede dat Hy dit moet nakom, is op grond van die onvoorwaardelike en onveranderlike aard van God se beloftes. Die roeping het te doen met Israel se nasionale uitverkiesing; die genadegawes is die verbondsbeloftes wat die gevolg is van daardie roeping. Nie een van hulle sal ooit herroep word nie; hulle is onherroeplik.

In verse 30-32 gee Paulus die beginsel vir dit wat gaan gebeur met betrekking tot die roeping van die heidene en Israel se nasionale redding: Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid, so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang. Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees.

Paulus wys uit dat ongeloof God ’n kans gegee het om Sy barmhartigheid te openbaar, nie alleenlik teenoor die verdienstelikes nie, maar ook teenoor die wat dit nie verdien nie. Vroeër was die heidene ongehoorsaam, maar hulle het nou barmhartigheid ontvang. Nou is Israel in ’n staat van ongehoorsaamheid, en die Jode is sodoende op die vlak geplaas waar hulle geskik is vir barmhartigheid: Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal barmhartigheid kan bewys, en dit is die opsomming van die evangelie. Dit is almal sonder onderskeid, nie almal sonder uitsondering nie, want binne hierdie konteks handel hy oor die nasionaliteite van Jode en heidene, nie met alle individue nie. Hy sal barmhartigheid betoon aan almal sonder onderskeid, bedoelende Jode sowel as heidene, maar nie alle individue sonder uitsondering nie. Vanselfsprekend sal nie alle mense as individue gered word nie, maar onder beide Jode en heidene sal daar nasionale redding wees. As enigiemand hoegenaamd gered word, is dit alleenlik deur God se barmhartigheid.

Paulus sluit sy Israelogie af met ’n doksologie in verse 33-36: o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Nadat Paulus God se plan en program met betrekking tot Israel oordink het – hoe Hy Israel tot hierdie posisie gebring het; hoe Hy vandag onder die heidene roep om baie van hulle tot redding te bring en hoe hierdie roeping van die heidene eendag tot ’n einde sal kom; en hoe God weer eens teenoor Israel sal optree en hulle almal tot redding sal bring – sluit hy af met hierdie ontsagwekkende doksologie. Hierdie doksologie verheerlik die wysheid van God en die rykdom van God in daardie wysheid. Inderdaad, as ’n mens God se handeling met die Jode ten volle begryp, as jy God se plan en program vir Israel duidelik verstaan, en as jy dit vanuit God se standpunt waardeer, sal jy ook saam met Paulus moet sê: o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!

2. Die Teenstelling en die Oplossing
Volgens Romeine 11:25-27 sal die hele Israel gered word. Volgens Jesaja 10:20-23 sal net die Oorblyfsel gered word. Dit is nie ’n teenstelling hierdie as dit in die konteks van Israel se nasionale redding verstaan word nie. Soos Sagaría 13:8-9 aantoon, sal tweederdes van die Joodse bevolking tydens die vervolginge van die Verdrukking uitgewis word. Dit sal die hele nie-Oorblyfsel insluit sodat net die Oorblyfsel sal oorleef, die vrygeraaktes van Jesaja 4:2; 10:20; 37:31-32: Joël 2:32; en Obadja 17.

Omdat almal van die oorgeblewe eenderde gelowiges word, word die hele Israel en die Oorblyfsel van Israel op daardie punt een en dieselfde. Dit word aangetoon in Miga 2:12-13: Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in ’n kraal, soos ’n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense. Die deurbreker sal optrek voor hulle uit; hulle sal deurbreek en deur die poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en die HERE heeltemal vooraan.

Die begrip word uitgedruk in die parallelisme van Hebreeuse poësie. Die eerste parallel is in vers 12a, in die opsig dat jou geheel en al en die oorblyfsel van Israel een en dieselfde is, want met Israel se nasionale redding word die hele volk nou deel van die Oorblyfsel. Op grond van Israel se nasionale redding, keer die Messias terug om hulle te red in vers 13.

D. Die Gelowige Oorblyfsel van Israel in die Messiaanse Koninkryk
Aangesien die hele Israel regdeur die Messiaanse Koninkryk ’n geredde volk sal wees, sal die hele Israel regdeur daardie periode die Oorblyfsel van Israel bly. Elke ding wat gesê word van Israel en die Koninkryk, sal waar wees van die Oorblyfsel van Israel. Maar sekere verse lê klem op die motief van die Oorblyfsel in die Messiaanse Koninkryk en daarom sal hulle, ter wille van volledigheid, in hierdie afdeling opgesom word.

Wat die herversameling van Israel betref, beeld Jesaja 11:11, 16 en Sagaría 8:6-7 dit uit as die versameling van die Oorblyfsel. Miga 4:7 onderstreep die redding van die Oorblyfsel. Dit beteken dat die sondes van die Oorblyfsel volgens Miga 7:18-20 vergewe sal word. Dit sal ook beteken dat die Oorblyfsel die Woord van God onder die heidense volke sal verkondig, volgens Miga 5:7-8. Die Oorblyfsel sal ook in besit wees van die Land, volgens Sefánja 2:7, 9 en Sagaría 8:12. Volgens Sefánja 3:13 sal hulle sondeloos en in veiligheid in die Land woon.

[end]

Inhoudsopgawe
INLEIDING
     A. Die Betekenis
     B. Die Uitvloeisels
     C. Die Konsep
I. DIE VERLEDE
     A. Elía: I Konings 16:29-19:18
         1. Die Nuwe Godsdienstige Stelsel: I Konings 16
         2. Die Historiese Gebeurtenis wat Gelei het tot die Leerstelling: I Konings 17
         3. Die Goddelike Tweestryd: I Konings 18
         4. Elía se Ondervinding: I Konings 19
             a. Elía se Vlug: I Konings 19:1-8
             b. Elía se Eerste Klag: I Konings 19:9-10
             c. God se Reaksie: I Konings 19:11-13a
             d. Die Interpretasie van die Openbaring: I Konings 19:13b-18
                 i. Elía se Tweede Klag: I Konings 19:13b-14
                 ii. God se Antwoord: I Konings 19:15-18
     B. Die Boek van Immánuel: Jesaja 7:1-12:6
II. DIE HEDE
     A. I Petrus 2:1-10
         1. Inleiding: I Petrus 1:1-2
         2. Die Geestelike Staat van die Oorblyfsel: I Petrus 2:1-3
         3. Die Steen van Aanstoot en die Rots van Struikeling: I Petrus 2:4-10
             a. Die Messias, die Lewende Steen: I Petrus 2:4
             b. Die Status van die Oorblyfsel: I Petrus 2:5
             c. Die Verskil Tussen die Oorblyfsel en die Nie-Oorblyfsel: I Petrus 2:6-8
             d. Die Status van die Oorblyfsel: I Petrus 2:9-10
         4. Opsomming
     B. Romeine 9:1-11:24
         1. Inleiding
             a. Die Plek van Hoofstukke 9, 10, en 11
             b. Die Drie Vrae
             c. Die Uitleg van Romeine 3:1-2a
         2. Die Teologie van Israel se Verwerping: Romeine 9:1-29
             a. Paulus se Smart en Israel se Voorregte: Romeine 9:1-5
             b. Israel se Verwerping in die Lig van Bybelse Geskiedenis: Romeine 9:6-13
                 i. Die Twee Israels: Romeine 9:6
                 ii. Die Twee Illustrasies: Romeine 9:7-13
             c. Israel se Verwerping in die Lig van Bybelse Beginsels: Romeine 9:14-29
                 i. Is God Onregverdig? Romeine 9:14-18
                 ii. Hoekom Vind God Steeds Fout? Romeine 9:19-29
             d. Opsomming
         3. Die Verduideliking van Israel se Verwerping: Romeine 9:30-10:21
             a. Die Struikeling van die Volk: Romeine 9:30-33
             b. Israel se Onkunde omtrent die Kanaal van Redding: Romeine 10:1-11
                 i. Paulus se Persoonlike Begeerte: Romeine 10:1-2
                 ii. Die Onderskeid Tussen Wetsgeregtigheid en Geloofsgeregtigheid: Romeine 10:3-11
                    – Wetsgeregtigheid: Romeine 10:3-5
                    – Geloofsgeregtigheid: Romeine 10:6-11
             c. Israel se Onkunde omtrent die Universele Karakter van Redding: Romeine 10:12-13
             d. Israel se Onkunde omtrent die Universele Prediking van die Evangelie: Romeine 10:14-21
         4. Die Troos van Israel se Verwerping: Romeine 11:1-24
             a. Israel se Verwerping is nie Algeheel nie: Romeine 11:1-10
             b. Die Doel van Israel se Struikeling: Romeine 11:11-15
             c. Die Olyfboom: Romeine 11:16-24
III. DIE TOEKOMS
     A. Die Oorblyfsel van Israel Tydens die Verdrukking
     B. Die Gelowige Oorblyfsel
         1. Die Definisie
         2. Die Feit van die Gelowige Oorblyfsel: Jesaja 10:20-23
         3. Die Beskerming van die Gelowige Oorblyfsel: Jesaja 41:8-16
         4. Die Voorsiening vir die Gelowige Oorblyfsel:
             a. Jesaja 41:17-20
             b. Jesaja 65:8-16
     C. Die Gelowige Oorblyfsel en Israel se Nasionale Redding
         1. Romeine 11:25-36
         2. Die Teenstelling en die Oplossing
     D. Die Gelowige Oorblyfsel van Israel in die Messiaanse Koninkryk

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Verskillende sieninge oor die onderwerp van die moderne staat van Israel in Bybelprofesie word behandel. Die artikel bespreek spesifiek Israel se wêreldwye herversameling in ongeloof ter voorbereiding vir oordeel in die Verdrukking, gevolg deur ’n tweede wêreldwye herversameling in geloof ter voorbereiding vir seëninge, in besonder die seën van die Messiaanse Koninkryk.