Die oorgangstaat tussen dood en opstanding

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. – Efésiërs 1:6

Wat gebeur wanneer iemand sterf, en presies waar is daardie persoon? Hierdie studie aangaande “Die Oorgangstaat Tussen Dood en Opstanding” word in vyf kern afdelings behandel.

I. DIE BETEKENIS
Die eerste afdeling handel oor die betekenis. “Wat word bedoel met die oorgangstaat?”

Die basiese betekenis van die oorgangstaat is dat dit die staat van bestaan is tussen die dood en die opstanding.

In die lewe van die mens word drie verskillende state uitgeken. Alle mense, hetsy gelowiges of ongelowiges, sal hulle in drie verskillende state bevind, maar die lotsbestemming van alle mense is nie dieselfde nie. Die eerste staat van die mens is van geboorte tot dood; die tweede staat van die mens is van dood tot opstanding; en die derde staat van die mens is van opstanding tot ewigheid.

Die oorgangstaat handel oor die tweede staat van die mens: van dood tot opstanding. Wat dus bedoel word met die oorgangstaat, is die staat van bestaan tussen die dood en die opstanding.

II. DIE STAAT VAN DIE GELOWIGE
Die tweede deel van hierdie studie handel oor gelowiges. “Wat is hulle staat tussen dood en opstanding?“

By die dood van gelowiges is hulle siele volmaak in heiligheid en hulle gaan oombliklik oor tot verheerliking; hulle liggame, steeds verenig met die Messias, rus in hulle grafte tot met die opstanding. Dit is dus basies wat die gelowige ervaar by sy dood en in die oorgangstaat tussen die dood en die opstanding. Die oomblik wanneer ’n gelowige sterf, is sy nie-stoflike deel volmaak in heiligheid en gaan oombliklik oor tot verheerliking, in God se teenwoordigheid in die Hemel. Die liggame word iewers in die grond begrawe, maar hierdie liggame is steeds verenig met die Messias, en hulle rus dus net in die dood in hulle grafte tot met die opstanding. Wat die nie-stoflike deel van die gelowige betref, is sy gees of siel by sy dood volkome vry van sonde en lyding, en ervaar triomfantelike heerlikheid en geseëndheid.

Die Bybel gee vir ons sekere beskrywings van hoe die oorgangstaat tussen die dood en die opstanding vir die siel van die gelowige is.

A. Verreweg die Beste Plek
Een skrifgedeelte is Filippense 1:23-24: Want ek word van weerskante gedring; ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar om in die vlees te bly, is nodiger om julle ontwil. In hierdie skrifgedeelte word dit duidelik vir ons gesê dat die staat van die siel na die dood, verreweg die beste is, vér beter as die staat daarvan terwyl dit in die vlees is. Oombliklik na die dood vind daar ’n verandering ten goede plaas. Terwyl die stoflike deel van die mens – die liggaam – agterbly wanneer die dood intree, gaan die nie-stoflike deel van die mens – alles wat betrekking het op die gees en die siel – in God se teenwoordigheid in, en verkeer in ’n triomfantelike posisie, verreweg die beste posisie, vér beter as toe die nie-stoflike deel van die mens nog in die liggaam ingewoon het.

B. ’n Staat van Rus
Volgens twee skrifgedeeltes word die oorgangstaat ook beskryf as ’n staat van rus. Dié wat reeds gesterf het, bestaan nou in ’n staat van rus.

Die eerste skrifgedeelte is Openbaring 6:9-11: En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ’n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.

’n Tweede skrifgedeelte wat hulle staat van rus beklemtoon, is Openbaring 14:13: En ek het ’n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf – salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hulle arbeid, en hulle werke volg met hulle.

C. ’n Staat van Bewustheid
Daar is nog ’n skrifgedeelte wat in besonderhede beskryf hoe die lewe in die oorgangstaat uitsien vir die gelowige wat gesterf het, naamlik Openbaring 7:16-17: Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.

Hierdie twee verse lig vyf dinge uit oor hoe die lewe in die oorgangstaat vir die gelowige is. Al vyf is negatiewe dinge wat lei tot die positiewe: eerstens, geen honger nie; tweedens, geen dors nie; derdens, geen sonsteek nie; vierdens, geen hitte nie; en vyfdens, geen trane nie. Die gelowige, op hierdie tydstip, is in ’n staat van volkome rus; hy het geen behoeftes nie, hy het hoegenaamd geen fisiese swakhede nie. Dit is hoe die lewe is wanneer ’n gelowige sterf. Een ding wat duidelik verstaan moet word, is dat al die skrifgedeeltes wat die siel van die gelowige by die dood beskryf, dit toon in ’n staat van bewustheid; by die dood is die gelowige se nie-stoflike deel volkome bewustelik.

III. DIE STAAT VAN DIE ONGELOWIGE
Die derde afdeling van hierdie studie aangaande die oorgangstaat, is die staat van die ongelowige. “Hoe sien die staat van die ongelowige daar uit?”

Die staat van die ongelowige is die totale teenoorgestelde van die staat van die gelowige. Daar is drie hoof skrifgedeeltes wat die ongelowige in die oorgangstaat beskryf.

A. ’n Staat van Smarte
Die eerste skrifgedeelte is Lukas 16:19-31, wat die verhaal is van die ryk man en Lasarus. Soms word dit “Die Gelykenis van die Ryk Man en Lasarus” genoem, maar dit is ’n mensgemaakte titel; die Bybel sê nie dat dit ’n gelykenis is nie. In gelykenisse kom eiename soos Lasarus en Abraham nie voor nie. Inteendeel, hierdie verhaal wat deur Jesus vertel word, word voorgestel as ’n ware verhaal en nie as slegs ’n gelykenis nie. In die verhaal van die ryk man en Lasarus is nie net Lasarus in ’n staat van rus en algehele bewustheid nie, maar die ryk man is ook in ’n staat van bewustheid, maar hy verkeer in smarte. Die staat van die ongelowige se siel tussen dood en opstanding is dus ’n staat van smarte.

B. ’n Staat van Gevangeskap
’n Tweede skrifgedeelte is I Petrus 3:19, wat hierdie ongeredde geeste beskryf as synde in ’n gevangenis: In wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis. Die beeld is dat, aangesien hulle in die Hel is, hulle in die gevangenis is; hulle verkeer in ’n staat van gevangeskap.

C. ’n Staat van Bestraffing
Die derde skrifgedeelte is II Petrus 2:9, wat die ongelowige se siel beskryf as synde onder bestraffing tot met die dag van oordeel: die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word. Die beeld hier is dat die ongelowige besig is om in die Hel te ly; hy is in die Hel in gevangeskap. Hy verkeer onder bestraffing tot op die dag van die Groot Wit Troon Oordeel wanneer hy opgewek sal word, en dan ’n lyding nog erger as die dood en die Hel sal ervaar, naamlik die lyding in die Poel van Vuur.

D. Afleidings
Van hierdie drie skrifgedeeltes kan dus drie dinge afgelei word aangaande die oorgangstaat van die ongelowige: eerstens verkeer hy in ’n staat van smarte; tweedens is hy in ’n staat van gevangeskap; en derdens is hy in hierdie staat van smarte en gevangeskap tot met die Groot Wit Troon Oordeel. In al die skrifgedeeltes wat ongelowiges in die oorgangstaat beskryf, word hulle ook altyd getoon as synde in ’n staat van bewustheid. Die ryk man in die Hel was by sy bewussyn; hy kon ’n gesprek voer; hy kon dinge emosioneel ervaar, dinge sielkundig ervaar, en dinge fisies ervaar. Ongelowiges word altyd getoon as synde in ’n staat van bewustheid.

Die nie-stoflike deel van sowel die gelowige as die ongelowige is dus na die dood in ’n staat van bewustheid alhoewel hulle in twee verskillende plekke is. Terwyl die gelowige in die Hemel in die teenwoordigheid van God is, is die ongelowige in die Hel en ly smarte, en die smarte sal erger word ná die tweede opstanding, wat die opstanding is van slegs die ongelowiges.

IV. DIE OORGANGSLIGGAAM
Die vierde afdeling van hierdie studie aangaande die oorgangstaat, handel oor die oorgangsliggaam. “Wat is die oorgangsliggaam, indien enige, wat die gelowige het tussen dood en opstanding?”

Hierdie saak wat onder bespreking kom, is ’n saak van erns, en sal daarom behandel word in vyf onderafdelings.

A. Die Kwessie
“Wat is die kwessie wanneer die oorgangsliggaam bespreek word?” Die kwessie is: bly die siel by die dood liggaamloos tot met die opstanding, of word ’n oorgangsliggaam vir die siel gegee tot met die opstanding?

B. Die Hoof Skrifgedeelte
Die tweede saak aangaande die oorgangsliggaam, is die hoof skrifgedeelte, wat gevind word in II Korinthiërs 5:1-10: WANT ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het van God, ’n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning in die hemel oorklee te word, as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie. Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word. Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het. Daarom het ons altyd goeie moed en weet dat as ons in die liggaam inwoon, ons van die Here uitwoon. Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaaam uit te woon en by die Here in te woon. Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.

Dit is die hoof skrifgedeelte aangaande die bestaan of die nie-bestaan van die oorgangsliggaam. Hierdie skrifgedeelte word in drie onderafdelings bespreek: ontleding, afleidings, en gevolgtrekkings.

1. Ontleding
Vers 1 verklaar dat, as die gelowige se tentwoning afgebreek word as sy liggaam deur die dood afgebreek word, hy ’n ander gebou van God het, ’n huis nie met hande gemaak nie, wat ewig is, en wat in die hemele is.

In vers 2 wys hy uit dat ons in die liggame wat ons nou het, sug en verlang. Terwyl gelowiges in hierdie teenswoordige liggame verkeer, verlang ons om met ons woning in die hemel oorklee te word.

Vers 3 sê dat, as ons ten minste gekleed is, sal die gelowige nie naak bevind word nie. Die implikasie hier is dat die gelowige in die oorgangstaat naak is sonder sy liggaam.

In vers 4 sê hy: Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard. Die gelowige voel beswaard in hierdie liggaam vanweë die liggaam se swakhede. Die gelowige verlang nie om ontklee te word nie, maar die gelowige verlang om oorklee (of: beklee) te word. Dit waarmee die gelowige verlang om oorklee/beklee te word, word uitgespel in die volgende reël: sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word. Wat Paulus hier skryf, is ’n opsomming van die stellings wat hy maak in I Korinthiërs 15:50-58, waar hy onderstreep dat, op ’n sekere tydstip, by die opstanding, moet sterflikheid met onsterflikheid beklee word. Waarmee die gelowige dus beklee wil word, is onsterflikheid en sodra die gelowige beklee is met onsterflikheid, sal die sterflike inderdaad verslind wees.

In vers 5 wys hy dan uit wie die Bewerker van dit alles is: Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God. God is die Een wat in die gelowiges werk om vir hulle ’n liggaam te gee wat uiteindelik deur onsterflikheid gekenmerk sal word. Tydelik, het Hy vir die gelowige die Gees as onderpand gegee. Die Gees is ’n “voorsmaak betaling”, ’n deposito of ’n reserveringsbetaling. Die feit dat die gelowige die inwonende Heilige Gees het, is die waarborg dat die dag sal kom wanneer die gelowige se sterflike liggaam onsterflikheid sal aanneem.

Vers 6 verklaar dat hierdie rede, die wete dat die gelowige die Heilige Gees het as die bewys, die waarborg, van die deposito, hulle goeie moed moet gee. Vir solank as wat die gelowige in sy sterflike liggaam lewe, beteken dit dat die gelowige outomaties nie by die Here inwoon nie, maar van die Here uitwoon. Die gelowige is natuurlik nie geestelik afwesig van die Here nie, maar hy is fisies afwesig, want vers 7 sê die gelowige wandel in hierdie lewe deur geloof en nie deur aanskouing nie. Eers wanneer die gelowige die Hemel ingaan, sal hy geloof sowel as aanskouing hê.

Daarom vermaan hy in vers 8 weer die gelowige om goeie moed te hê. ‘n Mens moet besef dat jy van die Here afwesig is solank jy in hierdie sterflike liggaam is, en jy moet altyd gewillig wees om jou lewe te gee, jou sterflike liggaam, om by die Here in te woon. Hier is ’n duidelike vers, wat dit eenvoudig en suiwer stel, dat die gelowige by die aflê van die liggaam, by die dood, in God se teenwoordigheid is.

In vers 9 gaan hy verder deur te sê: Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. Dus, met die kennis van wat die gelowige nou is, met die kennis van wat die toekoms inhou, en met die kennis dat die gelowige die waarborg van die Heilige Gees het, moet die gelowige sy lewe konsekwent lei met die doel om vir die Here welbehaaglik te wees.

In vers 10 sluit hy hierdie bespreking af deur uit te wys dat, sodra alle gelowiges met hulle onsterflike liggame in die Hemel sal wees, hulle almal voor die regterstoel van Christus sal verskyn, soos beskryf in I Korinthiërs 3:10-15. Die doel van hierdie oordeel is om loon te ontvang of nie loon te ontvang nie, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. Hoewel die gelowige se werke niks te doen het met sy redding nie, omdat hy deur genade gered word sonder die bydrae van enige werke, bepaal werke nietemin die gelowige se loon, en dit op sy beurt, bepaal weer die graad van die gelowige se outoriteit in die Koninkryk.

2. Afleidings
Vyf afleidings kan uit bogenoemde analise gemaak word.

Die vraag hier is eerstens, “Praat Paulus van ’n oorgangsliggaam, of praat hy van die opstandingsliggaam? Van watter liggaam praat hierdie skrifgedeelte nou eintlik?” Diegene wat in ’n oorgangsliggaam glo, gebruik hierdie skrifgedeelte om dit te bewys. Die gegewens toon egter dat dit die opstandingsliggaam is.

Tweedens, volgens vers 1 word hierdie liggaam beskryf as ewig en die ewige liggaam kan nie van toepassing gemaak word op die oorgangsliggaam wat tydelik is nie. Aangesien hy hierdie liggaam ewig noem, is dit beter om te verstaan dat hy van die opstandingsliggaam praat, nie van een of ander oorgangsliggaam nie.

Derdens, as dit die oorgangsliggaam moet wees, wat sal van hierdie oorgangsliggaam word by die opstanding? As die liggaam van vers 1 ’n oorgangsliggaam is, en aangesien dit ’n liggaam is wat as ewig beskryf word, is die vraag wat daarvan sal word aangesien dit nie kan verdwyn nie? Wat sal in die opstanding daarvan word? Weer eens dus, dit is beter om te verstaan dat hierdie skrifgedeelte van die opstandingsliggaam praat en nie van die oorgangsliggaam nie.

Vierdens, verse 3-4 impliseer dat daar ’n tydelike periode van naaktheid van die siel sal wees totdat dit oorklee/beklee sal word met die opstandingsliggaam. Die implikasie is dat daar in die oorgangstaat geen oorgangsliggaam is nie. Die gelowige is ontklee; hy is naak; hy het geen liggaam nie totdat hy sy opstandingsliggaam ontvang.

Die vyfde afleiding uit vers 10, is dat dit voorkom of die onderwerp van die liggaam met die regterstoel van Christus verbind word. Die tyd wanneer die regterstoel van Christus plaasvind, is na die Wegraping, wat die tyd is wanneer die opstanding plaasvind. Volgens die tydraamwerk dus, lyk dit of dit die opstandingsliggaam is waaroor dit gaan, nie een of ander oorgangsliggaam nie.

3. Gevolgtrekkings
Die gevolgtrekkings word saamgevat in twee eenvoudige punte. Een, hierdie gedeelte leer nie die bestaan van ’n oorgangsliggaam nie. Twee, die liggaam waaroor dit handel, is die opstandingsliggaam.

C. Die Vraag
Die vraag is: “Kan ’n liggaamlose gees funksioneer sonder ’n liggaam van een of ander aard?” Daar is mense wat onmiddellik sal wil sê, “Nee, ’n liggaamlose gees kan nie funksioneer sonder ’n liggaam van een of ander aard nie.” Dit is hierdie voorveronderstelling wat maak dat sommige mense aan die bestaan van ’n oorgangsliggaam glo en dit verkondig. Maar leer die Bybel regtig dat ’n liggaamlose gees nie sonder ’n liggaam van een of ander aard kan funksioneer nie?

Daar is twee skrifgedeeltes in die Bybel wat praat van dinge wat in geesgestalte bestaan, maar nie ’n liggaam het soos wat ons aan ’n liggaam dink nie.

Johannes 4:24 sê byvoorbeeld: God is Gees en in Johannes 3:8 word die Gees vergelyk met wind. Wind het geen spesifieke vorm, gestalte of liggaam nie en tog is die wind in staat om te funksioneer. In Johannes 4:24 dus, lees ons God is Gees en Hy is in staat om sonder ’n liggaam te funksioneer. Hou in gedagte dat die Tweede Persoon van die Drie-Eenheid ook van alle ewigheid af sonder ’n liggaam was; Hy het eers vanaf die Inkarnasie ’n liggaam aangeneem. Nóg die Vader nóg die Seun het ’n liggaam; hulle is geestelike wesens en hulle is daartoe in staat om sonder ’n liggaam te funksioneer. Verder verklaar Hebreërs 1:14 dat die engele dienende geeste is en hulle funksioneer sonder ’n liggaam.

Die antwoord op die vraag, “Kan ’n liggaamlose gees funksioneer sonder ’n liggaam van een of ander aard?” is dus, “Ja, ’n liggaamlose gees kan funksioneer sonder ’n liggaam van een of ander aard.” ’n Mens moenie voorveronderstel dat dit nie kan nie en daarom net besluit dat daar ’n oorgangsliggaam van een of ander aard moet wees al praat die Bybel nêrens van die bestaan van so ’n liggaam nie. Weer eens, die leer dat so ’n liggaam bestaan, is gebaseer op ’n voorveronderstelling dat ’n liggaamlose gees nie kan funksioneer sonder ’n liggaam van een of ander aard nie. Dit is eenvoudig net nie waar nie.

D. Die Beskrywing
“As die voorafgaande stelling geldig is, wat is dan die staat van diegene wat gesterf het?”

Op al die plekke waar die oorgangstaat van die gestorwenes beskryf word, word hulle gesien as sielegeeste sonder liggame.

In I Samuel 28:12-19, byvoorbeeld, verskyn Samuel in die gestalte van ’n bonatuurlike wese, dit wil sê, die gestalte van ’n gees (vs. 13). Die gees van Samuel het dus opgekom uit die doderyk, en Samuel het opgekom in die gestalte van ’n gees. Volgens vers 14, het Samuel, toe hy as ’n gees verskyn het, gelyk soos wat hy gelyk het met sy dood. Dit wys dat die sielegees in die oorgangstaat dieselfde voorkoms as die liggaam het al was daar geen liggaam daar nie. Samuel se liggaam het gesterf en was steeds dood; Samuel was op daardie tydstip nog nie uit die dood uit opgewek nie. Dit was in werklikheid sy sielegees, die nie-stoflike deel van Samuel, wat uit die doderyk uit opgeroep is. “Hoe het Samuel gelyk?” Op daardie stadium het Samuel net so gelyk soos toe hy dood is, want koning Saul kon hom herken. As Samuel ’n totale ander oorgangsliggaam gehad het, sou Saul hom nie kon herken het nie. Samuel het dus verskyn en gelyk net soos hy gelyk het by sy dood, en dit toon dat die sielegees in die oorgangstaat dieselfde voorkoms as die liggaam het, maar daar is geen oorgangsliggaam in een of ander “verheerlikte staat” nie.

’n Tweede skrifgedeelte is Lukas 16:19-31, wat die verhaal is van die ryk man en Lasarus in hulle gestorwenheid. In geeneen van die gevalle, nie wat betref Lasarus óf die ryk man nie, en selfs nie wanneer Abraham in die verhaal verskyn nie, word daar enige melding gemaak van ’n oorgangsliggaam vir Lasarus, vir Abraham of vir die ryk man nie. Daar was dus nie in die boesem van Abraham, en ook nie in die Hel, enige oorgangsliggaam nie. Maar in hierdie skrifgedeelte word dit opgeteken dat hulle in die dood lyk soos wat hulle in die lewe gelyk het. Weer eens dus, die nie-stoflike deel van die mens lyk soos die stoflike deel van die mens, maar dit is ’n sielegees; daar word geen melding gemaak van enige oorgangsliggaam nie.

Nog ’n bewys van die oorgangstaat van die gestorwenes waar hulle voorkoms beskryf word as synde altyd sielegeeste sonder liggame, is die verhaal van die Verheerliking (Matt. 17:3; Mark. 9:4; Luk. 9:30-31). In die Verheerliking, was daar twee mense wat voor die tyd van Jesus op aarde gelewe het en nie meer daar was nie: Moses en Elía. Die een in wie ons in die besonder geïnteresseerd is, is Moses, want van die drie mans was hy die enigste een wat gesterf het. Jesus het nog nie gesterf nie; Hy was in sy sterflike liggaam. In Elía se geval, was hy in sy onsterflike liggaam, want Elía het nooit gesterf nie; hy is weggeruk Hemel toe, in dieselfde soort ervaring as wat die lewende heiliges sal ondergaan op die tydstip wanneer die Kerk weggeruk word. Moses was dus die enigste een van die drie wat gesterf het, en tog word dit glad nie genoem dat Moses ’n oorgangsliggaam van enige aard gehad het nie. Al wat in genoemde drie skrifgedeeltes gesê word, is dat Moses en Elía saam met die verheerlikte Messias in heerlikheid verskyn het, maar niks meer as dit word gesê nie. Daar is geen aanduiding van enige aard dat daar ’n oorgangsliggaam van Moses was nie. Wat wel vir ons gesê word, is dat hulle deel gehad het in die Heerlikheid van die Here, maar dis nie nodig om ’n oorgangsliggaam te hê om deel te hê in die Heerlikheid van die Here nie.

Nog een laaste skrifgedeelte wat handel oor die oorgangstaat waar geen liggame genoem word nie, is Openbaring 6:9-11: En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ’n klein tydjie moes rus totdat hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees. In hierdie skrifgedeelte sien Johannes siele in die Hemel, en hoewel siele genoem word, word liggame nie genoem nie.

Uit hierdie voorbeelde is dit dus duidelik dat elke keer wanneer die oorgangstaat van die gestorwenes beskryf word, hulle altyd gesien word as sielegeeste sonder liggame.

E. Die Slotsom
Die slotsom is baie eenvoudig, daar is geen oorgangsliggaam nie! Die liggaam wat die gelowige het, is die enigste liggaam wat hy ooit sal hê. Wanneer die liggaam wat nou sterflik is, doodgaan, gaan die sielegees in die Hemel in en dit is ongekleed, dit is naak, en geen oorgangsliggaam is teenwoordig nie, totdat die liggaam opgewek sal word en die sielegees dan weer geklee sal word.

V. DIE VERKEERDE LERINGE
Die vyfde afdeling van hierdie studie aangaande die oorgangstaat, is die bespreking van die twee hoof verkeerde sienings of vals leringe ten opsigte van die oorgangstaat. Die eerste vals siening staan bekend as die Tweede Proeftyd, en die tweede vals siening staan bekend as Sieleslaap.

A. Die Tweede Proeftyd Teorie
Die eerste vals siening is die leer van die tweede proeftyd en word in drie dele bespreek.

1. Die Twee Vorme van die Tweede Proeftyd Teorie
Daar is twee verskillende vorme van die teorie van die tweede proeftyd.

a. Beperkte Tweede Proeftyd
Die eerste vorm is die Beperkte Tweede Proeftyd Teorie wat glo dat die tweede proeftyd beperk word tot hulle wat klein sterf of hulle wat sterf sonder dat hulle die evangelie gehoor het. Die wat as klein kinders sterf, sal later na die dood ’n tweede kans kry om gered te word, en ook die wat sterf sonder om die evangelie te hoor, sal later na die dood ’n tweede kans kry om gered te word.

b. Onbeperkte Tweede Proeftyd
Daar is ’n tweede vorm van die Tweede Proeftyd Teorie, naamlik die Onbeperkte Tweede Proeftyd Teorie wat leer dat almal uiteindelik gered sal word. Van die onbeperkte tweede proeftyd, is daar drie soorte.

(1) Universalisme
Een soort staan bekend as Universalisme. Universalisme leer dat almal uiteindelik gered sal word sonder die noodsaaklikheid van bekering na die lewe. ’n Dag sal aanbreek wanneer almal in die tweede proeftydperk gered sal word, selfs al bekeer hulle hulle nie, al glo hulle nie, of al leef hulle nie hulle geloof uit nie.

(2) Restourasie
’n Tweede vorm van die Tweede Proeftyd Teorie staan bekend as Restourasie. Restourasie is die leer dat almal gered word op grond van ’n tweede kans om na die dood die evangelie te hoor en vervolgens na die dood tot bekering te kom.

Die leer van sowel universalisme as restourasie is dat almal uiteindelik gered sal word; daarom is dit onbeperk. Die verskil tussen die twee is, dat universalisme leer bekering sal nie nodig wees vir almal om gered te word nie; en die wat restourasie voorstaan, leer bekering sal nodig wees vir almal om gered te word, maar dan sê hulle verder dat almal wel op een of ander stadium na die dood tot bekering sal kom.

(3) Universele Versoening
’n Derde soort onbeperkte tweede proeftyd lering, staan bekend as Universele Versoening. Volgens hierdie siening sal almal, na ’n lang tyd van bestaan in die Poel van Vuur, weer met God versoen raak; almal sal gered word, Satan ingesluit.

Die Vergelyking: As die drie sienings van Onbeperkte Tweede Proeftyd met mekaar vergelyk word, sien ons al drie glo dat almal uiteindelik gered sal word. Daar is net ’n paar klein verskille tusen hulle. Universalisme leer almal sal gered word sonder dat bekering nodig is. Die voorstanders van Restourasie leer almal gaan gered word, maar hulle sal eers almal tot bekering kom; bekering is nodig. Geeneen van Universalisme of Restourasie leer dat daar ’n tydelike strafperiode sal wees nie. Universele Versoening leer daar sal ’n tydelike strafperiode in die Poel van Vuur wees, en dan sal almal, Satan ingesluit, versoen raak.

2. Argumente ten Gunste van die Tweede Proeftyd Teorie
Die tweede deel van hierdie bespreking oor die Tweede Proeftyd Teorie, is om die argumente te noem wat ten gunste daarvan aangebied word: “Watter argumente voer hierdie leermeesters aan om ’n tweede proeftyd as waar te probeer bewys?” Basies verwys hulle na vyf skrifgedeeltes.

Die eerste is Handelinge 3:21, wat praat van die tye van die wederoprigting van alle dinge.

Die tweede skrifgedeelte is I Korinthiërs 15:27-28, wat verklaar dat alle dinge aan die Seun onderwerp sal wees.

Die derde skrifgedeelte is Kolossense 1:20, wat verklaar dat God alles met Homself [sal] versoen … die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.

Die vierde skrifgedeelte is Filippense 2:9-10, wat leer dat elke knie [sal] buig.

Die vyfde skrifgedeelte is ’n kombinering van I Petrus 3:19 met 4:6, wat praat van die evangelie wat gepreek/verkondig word … aan die dode. Aangesien dit gepreek word … aan die dode, moet dit daarom ’n tweede proeftyd beteken.

Dit is die vyf argumente wat gebruik word om ’n tweede proeftyd te probeer leer, en al die voorstanders daarvan gebruik dieselfde verse, hetsy hulle aanhangers is van die beperkte vorm of van een van die drie vorms van ’n onbeperkte tweede proeftyd.

3. Argumente Teen die Tweede Proeftyd Teorie
“Watter argumente is daar wat aantoon dat hierdie leer van die tweede proeftyd eenvoudig net nie waar is nie?” Daar is vyf argumente teen hierdie siening.

a. Die Skrifte wat Gebruik Word
Eerstens sal die Skrifte behandel word wat ten gunste daarvan voorgehou word.

Die eerste skrifgedeelte was Handelinge 3:21, maar in hierdie vers is die alle dinge slegs dit waarvan die profete gepraat het, en dit het geen vorm van universalisme, hetsy beperk of onbeperk, ingesluit nie.

Die tweede skrifgedeelte was I Korinthiërs 15:27-28, maar die alle dinge wat “aan die Seun onderwerp is” in hierdie skrifgedeelte, beteken nie die redding van almal nie, maar slegs dat selfs die ongereddes aan Hom onderworpe sal wees. Dit is wat hierdie skrifgedeelte leer.

Die derde skrifgedeelte is Kolossense 1:20, maar in hierdie skrifgedeelte beteken versoening nie dat almal gered word nie. Die term “versoening” beteken trouens net dat almal redbaar is. Hulle moet steeds glo en as hulle sterf sonder om te glo, is daar geen verdere geleentheid vir redding nie.

Die vierde skrifgedeelte is Filippense 2:9-10, maar hierdie skrifgedeelte toon weer eens net die onderwerping van almal aan God; dit beteken nie die redding van almal nie. Ook die ongelowiges sal eendag aan Hom onderwerp wees.

Vyfdens, wat hulle vergelyking van I Petrus 3:19 met 4:6 betref, ignoreer hulle die feit dat hierdie twee verse kontekstueel van mekaar verskil. In 3:19 is die Griekse woord vir “preek”, nie die woord wat beteken “om die evangelie te preek,” “om te evangeliseer,” of “om mense tot redding te bring” nie. Dit is ’n ander woord, keirusso, wat net beteken “om aan te kondig”. Nie ’n aankondiging om hulle te red nie, maar ’n aankondiging om hulle te verdoem. Wat meer is, dit is gerig aan een groep geeste, naamlik dié wat ongehoorsaam was in die tyd van Noag. In 4:6 beteken die Griekse bewoording, dat die evangelie aan daardie mense verkondig is toe hulle nog gelewe het maar nou is hulle dood.

In werklikheid dus, leer nie een van hierdie vyf skrifgedeeltes wat hulle aanvoer, die leerstelling van ’n tweede proeftyd nie.

b. Die Vasgestelde Staat van die Ongelowige Dooies
Die tweede argument wat aan die voorstanders van hierdie leer voorgelê word, is dat die ongelowige dooies gesien word in ’n staat wat vasgestel is en nie verander kan word nie. Byvoorbeeld:

Matthéüs 13:41-42 verklaar, die engele sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

Matthéüs 22:13 verklaar, werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

Matthéüs 24:51 verklaar dat dit ’n plek is waar daar geween [sal] wees en gekners van die tande.

Matthéüs 25:30 verklaar dit is in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.

Lukas 16:19-31 wys uit dat die ryk man nie vanaf sy plek in die doderyk kon oorgaan tot by Lasarus en die boesem van Abraham nie; die grens, naamlik die groot kloof tussen hulle, kon nie oorgesteek word nie, en daar was geen toekomstige moontlikheid om dit te doen nie.

Johannes 8:21 en 14 verklaar dat tensy ’n mens glo, jy in jou sondes sal sterf en daar is geen moontlikheid om te glo nadat ’n mens in jou sondes gesterf het nie.

II Petrus 2:4 verklaar dat die ongelowiges in die hel gewerp word om vir die oordeel van die Groot Wit Troon in bewaring gehou te word.

II Petrus 2:9 sê die onregverdiges word onder oordeel bewaar vir die dag van oordeel.

Judas 7 verklaar dat hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.

En Judas 13 verklaar dat die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word.

Al hierdie skrifgedeeltes toon dat die ongelowige gestorwenes in ’n staat verkeer wat vasgestel is, en wat nie verander kan word nie.

c. Die Basis van die Finale Oordeel
Die derde argument is, om uit te wys dat die finale oordeel gebaseer is op dade wat in die vlees gedoen is en nie op dit wat in die oorgangstaat gebeur nie (Matt. 7:22-23; 10:32-33; 25:31-46; Luk. 12:46-48; II Kor. 5:9-10; Gal. 6:7-8; II Thess. 1:7-10).

d. Die Finale Besluit wat in Hierdie Lewe Gemaak Word
Die vierde argument is dat die finale besluit, volgens die Bybel, in hierdie lewe gemaak word (II Kor. 6:2; Heb. 9:27).

e. Die Weerspreking van die Skrifte
Die vyfde argument is dat enige vorm van Universalisme in direkte teenstelling is met die Bybel (Matt. 25:46; Joh. 5:29; Op. 20:11-15).

B. Sieleslaap
Die tweede en mees populêre vals leer, staan bekend as “sieleslaap.”

Sieleslaap beteken dat die siel, die nie-stoflike deel van die mens, by die dood in ’n bewustelose slaap verval en dat die persoon wat sterf, tot met die opstanding heeltemal onbewus in liggaam en siel bly. Hierdie vals leer van sieleslaap word in twee hoof dele bespreek.

1. Argumente ten Gunste van Sieleslaap
Daar is drie hoof argumente wat die voorstanders van sieleslaap aanvoer om hulle standpunt te verdedig.

a. Die Dooies Gesien as Slapend
Die eerste een is om na skrifgedeeltes in die Bybel te verwys wat van die dooies sê dat hulle “slaap”. Aangesien daar skrifgedeeltes in die Bybel is wat die dooies beskryf as slapend, lei hulle van hierdie skrifgedeeltes af dat dit die siel is wat slaap.

In die Ou Testament kom dit voor in Psalm 13:3 en Daniël 12:2. In die Nuwe Testament: Matthéüs 9:24; 27:52; Markus 5:39; Lukas 8:52; Johannes 11:11-14; Handelinge 7:60; 13:36; I Korinthiërs 15:6, 18, 20, 51; I Thessalonicense 4:13-14; en II Petrus 3:4. Hierdie verse praat van die dooies as slapend; daarom leer sommiges op grond van hierdie skrifgedeeltes dat die siel slaap.

b. Die Dooies Gesien as synde in ’n Staat van Onbewustheid
’n Tweede argument wat hulle graag gebruik, is om verse uit te wys wat van die dooies sê dat hulle in “ ’n staat van onbewustheid” verkeer, en daarom slaap die siel in ’n onbewuste staat tot met die opstanding. Die skrifgedeeltes waarna hulle verwys, is almal in die Ou Testament.

Psalm 6:6: in die dood word aan U nie gedink nie.

Psalm 30:10: … as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit U trou verkondig?

Psalm 115:17: Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie.

Psalm 146:4 sê die gees keer terug na sy aarde toe.

Prediker 9:5-6: die dooies weet glad niks nie, hulle ervaar ook geen emosies soos liefde, haat of naywer nie.

Prediker 9:10 verklaar daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk … nie.

En Jesaja 38:18: Want die doderyk sal U nie loof nie, die dood U nie prys nie; die wat in die kuil neerdaal, sal op u trou nie hoop nie.

Die tweede rede hoekom sommiges die leer van sieleslaap verkondig, is omdat hierdie verse van die dooies praat as synde in ’n staat van onbewustheid.

c. Die Bepaling van die Ewige Bestemming
Die derde argument is dat die ewige bestemming eers by die finale oordeel bepaal word, nie by die dood nie. Die skrifgedeeltes wat hulle voorhou om hierdie standpunt te probeer bewys, is Matthéüs 7:22-23; 25:31-46; Johannes 5:28-29; II Korinthiërs 5:10; en Openbaring 20:11-15. Op die basis van hierdie verse, leer hulle dat die ewige bestemming eers by die finale oordeel bepaal word, nie by die dood nie. Dit word ook gebruik as bewys van onbewuste sieleslaap vanaf die oomblik van dood tot met die opstanding.

2. Argumente Teen Sieleslaap
“As hulle siening nie Bybels is nie, hoe moet ’n mens reageer op hierdie spesifieke argumente van hulle?” Daar is sewe argumente teen sieleslaap.

a. Aangaande die Term Slaap
Die eerste argument handel oor die term “slaap” wanneer dit vir die dood gebruik word. Elke keer wanneer die Bybel van die dood praat in die sin van slaap, word dit altyd van die fisiese liggaam gesê en nie van die siel nie, want die voorkoms van ’n slapende liggaam en ’n dooie liggaam lyk baie eenders. Wanneer die Bybel dus praat van slaap in die sin van die dood, is dit net van toepassing op die liggaam, nie op die siel nie.

Verder moet daarop gewys word dat elke keer wanneer die term “slaap” met verwysing na die dood in die Bybel gebruik word, dit spesifiek nooit vir ongelowiges gebruik word nie. Dit is ’n term wat net gebruik word vir gelowiges, wat God se standpunt toon oor die dood van ’n gelowige. Vanuit God se perspektief is die dood van ’n gelowige ’n tydelike opskorting van fisiese aktiwiteit. Byvoorbeeld, wanneer die liggaam slaap, is daar ’n tydelike opskorting van fisiese aktiwiteit totdat ’n mens weer wakker word, maar daar is geen opskorting van die aktiwiteit van die verstand, die sielegees, en alles in die onderbewuste wat aanhou funksioneer nie. Dit is hoe die Bybel oor die gelowige praat. Wanneer die gelowige sterf, word dit gesien as slaap, omdat dit ’n tydelike opskorting van fisiese aktiwiteit is totdat hy wakker word in die opstanding, maar daar is geen opskorting van sielegees aktiwiteit nie. Die woord slaap met verwysing na die dood word net gebruik van die fisiese liggaam en dit word net gebruik ten opsigte van gelowiges om te toon wat God se standpunt is oor die dood van die gelowige.

b. Aangaande Bewustheid Na die Dood
Die tweede argument wat gebruik kan word teen die leer van sieleslaap, is dat die Bybel duidelik aantoon dat die mens by sy bewussyn is na die dood. Daar is duidelike skrifgedeeltes in die Bybel wat van die dooies praat as synde in ’n staat van bewustheid. Drie skrifgedeeltes praat van die Verheerliking: Matthéüs 17:1-8; Markus 9:2-8; en Lukas 9:28-36. Moses, een van die drie mans, het gesterf en tog is Moses by sy bewussyn al het hy reeds gesterf. In Lukas 16:19-31, wat die verhaal is van die ryk man en Lasarus, is dit duidelik dat die ryk man by sy bewussyn is, Lasarus by sy bewussyn is, en Abraham by sy bewussyn is, al is hulle al drie dood. Twee het onlangs gesterf en een het lank terug reeds gesterf. Inderdaad slaap hulle fisiese liggame, maar nie hulle siele nie.

c. Aangaande die Bestaan van Engele
Die derde argument waarmee mense wat sieleslaap leer, geantwoord kan word, is die bestaan van engele wat wys dat geeste kan lewe en kan funksioneer sonder liggame. Een van die redes hoekom mense leer dat sieleslaap waar moet wees, is omdat hulle glo dat liggaamlose geeste nie sonder ’n liggaam kan funksioneer nie. Dit is hoekom party leer daar is ’n oorgangsliggaam en ander sieleslaap verkondig. Die bestaan van engele toon egter dat geestelike wesens sonder liggame kan lewe en funksioneer en dit ook wel doen (Heb. 1:14).

d. Aangaande die Term Opstanding
Die vierde argument wat gebruik kan word as antwoord aan diegene wat sieleslaap leer, is dat die term “opstanding” net op liggame van toepassing is, nooit op siele nie. ’n Mens sal nooit lees van ’n siel wat uit fisiese dood opgewek is nie (Matt. 27:52).

e. Aangaande die Betekenis van Dood
Die vyfde argument is: die wesenlike betekenis van die dood is dat die gelowige oombliklik in die teenwoordigheid van God is. Die onteenseglike leer van die Bybel is dat die gelowige by sy dood in die teenwoordigheid van God ingaan (Hand. 7:59; Fil. 1:23; II Kor. 5:6-8; Op. 6:9-11; 7:9-17).

f. Aangaande die Taal van Voorkoms
Die sesde argument in reaksie teen die leer van sieleslaap, is dat waar ’n skrifgedeelte verwys na die dooies in ’n staat van onbewustheid, dit nie as sodanig handel oor die siel wat onbewus is nie. Die taal wat gebruik word in sommige van hierdie skrifgedeeltes wat handel oor die onbewuste staat, is die taal van voorkoms. Dit verwys na die liggaam. Maar die kwessie is nie die liggaam nie, die kwessie is die siel. Party van hierdie skrifgedeeltes handel net oor die gestorwenes wat nie meer kan voortgaan met die prosesse wat tydens hulle lewens hier op aarde vir hulle normaal was nie, aangesien die aardse liggaam nie meer kan funksioneer nie.

Wat die skrifgedeeltes in Prediker betref, dit is opgetekende gevolgtrekkings van menslike filosofie en nie die leer van die Woord van God nie. Selfs die skrifgedeeltes dus, wat hulle probeer gebruik om aan te toon dat die mens na die dood in onbewustheid verkeer, leer glad nie die begrip van sieleslaap nie.

g. Aangaande die Bepaling van Bestemming
Die sewende argument wat uitgewys moet word, is dat die bestemming wat by die finale oordeel bepaal word, net handel oor die graad van straf en nie met die feit van straf, teenswoordig of toekomstig nie. Daar is teenswoordige lyding vir die siel in die Hel, met die ergste wat nog kom na die finale oordeel. Vir eers in die Hel, ly net die siel, maar later, in die Poel van Vuur, sal daar lyding wees van sowel die siel as die liggaam. Die verse wat voorgehou word om te probeer bewys dat finale bepaling eers plaasvind by die finale oordeel en nie by die dood nie, verwar te dikwels die verskeie soorte straf. Die kwessie van redding word bepaal by die dood; die finale oordeel bepaal net die graad van straf.

Net soos tweede proeftyd, dus, is sieleslaap nie die leer van die Woord van God nie.
[end]

Inhoudsopgawe
I. DIE BETEKENIS
II. DIE STAAT VAN DIE GELOWIGE
     A. Verreweg die Beste Plek
     B. ’n Staat van Rus
     C. ’n Staat van Bewustheid
III. DIE STAAT VAN DIE ONGELOWIGE
     A. ’n Staat van Smarte
     B. ’n Staat van Gevangeskap
     C. ’n Staat van Bestraffing
     D. Afleidings
IV. DIE OORGANGSLIGGAAM
     A. Die Kwessie
     B. Die Hoof Skrifgedeelte
         1. Ontleding
         2. Afleidings
         3. Gevolgtrekkings
     C. Die Vraag
     D. Die Beskrywing
     E. Die Slotsom
V. DIE VERKEERDE LERINGE
     A. Die Tweede Proeftyd Teorie
         1. Die Twee Vorme van die Tweede Proeftyd Teorie
             a. Beperkte Tweede Proeftyd Teorie
             b. Onbeperkte Tweede Proeftyd Teorie
                  (1) Universalisme
                  (2) Restourasie
                  (3) Universele Versoening
         2. Argumente ten Gunste van die Tweede Proeftyd Teorie
         3. Argumente Teen die Tweede Proeftyd Teorie
             a. Die Skrifte wat Gebruik Word
             b. Die Vasgestelde Staat van die Ongelowige Dooies
             c. Die Basis van die Finale Oordeel
             d. Die Finale Besluit wat in Hierdie Lewe Gemaak Word
             e. Die Weerspreking van die Skrifte
     B. Sieleslaap
         1. Argumente ten Gunste van Sieleslaap
             a. Die Dooies Gesien as Slapend
             b. Die Dooies Gesien as synde in ’n Staat van Onbewustheid
             c. Die Bepaling van die Ewige Bestemming
         2. Argumente Teen Sieleslaap
             a. Aangaande die Term Slaap
             b. Aangaande Bewustheid Na die Dood
             c. Aangaande die Bestaan van Engele
             d. Aangaande die Term Opstanding
             e. Aangaande die Betekenis van Dood
             f. Aangaande die Taal van Voorkoms
             g. Aangaande die Bepaling van Bestemming

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Hierdie artikel behandel die onsigbare wêreld wat die Bybel beskryf. Terme soos Sheol, Hades, Abaddon, die put, die afgrond, Tartarus, die Hel, Gehenna, die Paradys en nog ander word Bybels gedefinieer. Daarna word die plek van die dooies in die Ou Testament – en ook tans – bespreek. Waar was gelowige afgestorwenes voor die hemelvaart van Christus en wat gebeur sedertdien met gelowiges wat sterf? Waar dooie mense in die toekoms na die dood heengaan word uitgestip. Laastens weerlê die artikel valse leringe omtrent die plek van die dooies.