Die opstanding van die Messias

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.
– Matthéüs 28:6-7

INLEIDING


Die opstanding van die Messias is ’n baie belangrike deel van die evangelie; dit is die derde van die evangelie se drie punte. Ons sal twee belangrike aspekte daarvan bestudeer: eerstens die geskiedenis van die opstanding en die chronologiese volgorde daarvan, en tweedens die teologiese betekenis, implikasies en resultate van die opstanding.

I. DIE GESKIEDENIS VAN DIE OPSTANDING
A. Die aanbreek van die opstandingsdag

Die aanbreek van die opstandingsdag is in twee van die Evangelies opgeteken: Matthéüs 28:1 en Markus 16:1. Matthéüs 28:1 sê: EN laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk. Wanneer die meeste Nie-Joodse gelowiges lees laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, dink hulle aan die vroeë oggendure van die Sondag. Die gebruik om Paasfeesdienste teen sonsopkoms te hou, spruit uit hierdie aanname. Maar dit is nie wat hierdie teks sê nie.

Om die presiese tydstip van die Opstanding te bepaal, moet ons in gedagte hou dat die eerste dag van die week vir die Jode van sononder Saterdagaand tot sononder Sondagaand is. Die term dagbreek (dawn – in die 1953-vertaling vertaal met toe dit begin lig word) word vandag gebruik om na die tyd van die dag te verwys as dit begin lig word op die horison, net voor die son self sy verskyning maak. Maar in die oorspronklike teks het die woord dagbreek bloot ‘amper aan die begin van die nuwe dag’ beteken, ongeag hoe laat dit in die dag was. Waar daar in die teks staan laat ná die sabbat (Engels: late on the sabbath day), beteken dit eintlik die tyd kort duskant sononder die Saterdagaand.

’n Mens moet in gedagte hou dat die Evangelieskrywers almal Jode was, en dat hulle op die Joodse manier tyd sou gehou het, nie volgens ’n Nie-Joodse stelsel nie. Die Nie-Joodse manier om ’n dag te meet, is van middernag tot middernag, maar die Joodse dag strek van sononder tot sononder. Die nuwe dag begin sodra drie sterre ná sonsondergang verskyn. Waar Matthéüs dus sê: laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, het hy laat die Saterdag bedoel, teen die aand se kant; die son was onder, en die eerste van die drie sterre was besig om sy verskyning te maak. Dít was die ‘dagbreek’ van die eerste dag van die week.

Markus se stelling EN toe die sabbat verby was, wys dat hy sy tydaspek begin toe die drie sterre reeds die Saterdagaand hul verskyning gemaak het. Die vroue het die graf dus die Saterdagaand gaan besoek.

Die Opstanding het dus in werklikheid êrens tussen laat Saterdagaand en douvoordag Sondagoggend gebeur. ’n Mens moet weer eens in gedagte hou dat Saterdagaand reeds die eerste dag van die week is. As ’n mens dít in gedagte hou, help dit om hierdie teksgedeeltes beter te verstaan.

B. Die oopbreek van die graf
Die tweede kwessie wat die geskiedenis van die Opstanding betref, is die oopbreek van die graf wat in Matthéüs 28:2-4 aangeteken is: En daar kom ‘n groot aardbewing, want ‘n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit. En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu. En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.

Hierdie teksgedeelte teken die oopbreek van die graf aan, en dit maak drie stellings.

In die eerste plek was daar ’n aardbewing. Dit was die tweede aardbewing binne die bestek van drie dae. Toe Jesus gesterf het, was daar ’n aardbewing; nou, op die tydstip van sy Opstanding, is daar nóg ’n aardbewing.

Die tweede ding wat gebeur het, was dat ’n engel verskyn en die steen weggerol het. Om dit te doen moes hy die Romeinse seël wat op die graf geplaas is, breek.

Die derde ding wat gebeur het, was dat die Romeinse wagte wat daar uitgeplaas was, só bang geword het dat hulle nie eens kon beweeg nie; hulle vrees het hulle soos dooies laat word. Hulle was só bang dat hulle nie eens kon bewe nie! Die rede hoekom die Romeinse wag daar geplaas is, was om seker te maak dat niemand die steen wegrol nie. Hulle moes enigiemand in hegtenis neem wat probeer om dit te doen; nie een van die Romeinse soldate het egter probeer om ’n engel in hegtenis te neem nie!

C. Die aankoms van die vroue
Die derde gebeurtenis in die geskiedenis van die Opstanding is die vroue se besoek aan die tuingraf wat in Matthéüs 28:5-8; Markus 16:2-8; Lukas 24:1-9 en Johannes 20:1 aangeteken is. Teen die tyd toe hulle uiteindelik by die graf uitgekom het, was daar ’n bietjie lig, want die son het reeds begin kop uitsteek. In Israel kom eerstelig partykeer al 04:00 in die oggend. Die vroue het in twee groepe gegaan. Maria Magdaléna het alleen gegaan en het eerste in die tuingraf se omgewing aangekom. Sy het die weggerolde steen en die leë graf gesien, maar vinnig weggegaan voor sy enige engele gesien het. Nog ’n groep met verskeie vroue het aangekom, en hulle het die steen wat weggerol is én die engel wat daar staan, gesien.

Markus 16:3-4 teken hul gesprek aan toe hulle op pad was na die graf toe: En hulle sê vir mekaar: Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol? En toe hulle opkyk, sien hulle dat die steen weggerol was, want dit was baie groot.

Dit is duidelik dat hierdie vroue nie geglo het dat Jesus sou opstaan nie, hoewel Jesus sy Opstanding voorspel en daaroor gepraat het. Hulle was op pad na die graf toe met die doel om sy liggaam te balsem, nie om sy Opstanding gade te slaan nie. Hulle was baie besorg

daaroor dat iemand vir hulle die steen sou kon wegrol, sodat hulle by die graf kon ingaan om sy liggaam te balsem. Maar teen dié tyd was die steen reeds weggerol; die Romeinse wag het genoegsaam herstel van hul vreesbevange toestand om die hasepad weg daarvandaan te kies.

Markus vertel in vers 5 wat volgende gebeur het: En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle ‘n jongman, met ‘n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik.

Hulle het een engel gesien, hoewel Lukas 24:4-5 toon dat daar eintlik twee engele was: En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in blink klere. En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle …

Party mense sien ’n teenstrydigheid hier, maar daar is eintlik geen teenstrydigheid nie. Lukas sê hoeveel engele daar regtig was: daar was twee. Maar toe die vroue binne-in gekyk het, het hulle net een van die engele gesien, en slegs een het met die vroue gepraat. Markus, net soos Matthéüs 28:5, beklemtoon die engel wat die praatwerk gedoen het.

Matthéüs 28:6-7 sê vir ons wat die engel aan hierdie vroue gesê het: Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.

Lukas 24:5-7 voeg by: En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was: Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan.

Die engel se boodskap was tweeledig. Eerstens moes hulle nie Jesus se liggaam soek nie, want die Messias het opgestaan, soos wat Hy immers self gesê het Hy sou. Tweedens moes hulle sy dissipels – en in die besonder vir Petrus – gaan vertel dat Hy uit die dood opgestaan het. Dit was belangrik om vir Petrus te gaan sê, omdat hy die Messias vroeër drie keer verloën het, en dus ’n behoefte sou gehad het om gerusgestel te word. Die dissipels moes na Galiléa gaan, waar Hy hulle sou kry.

Jesus het tydens die laaste Pasga aan die dissipels gesê dat hulle nie in Jerusalem moes bly wanneer Hy gearresteer word nie, maar dat hulle na Galiléa moes gaan, en dat Hy hulle ná sy Opstanding daar sou kry. Aangesien die dissipels nie regtig in die Opstanding geglo het nie, het hulle nooit die Messias se opdrag om na Galiléa te gaan gehoorsaam nie. Die engele gee dus by monde van die vroue die opdrag dat die dissipels Galiléa toe moet gaan ’n tweede keer.

Die vroue het op drie maniere gereageer: eerstens het hulle Jesus se profesie dat Hy uit die dood opgewek sou word, onthou; tweedens het hulle dit aan niemand buite die groep apostels vertel nie, en derdens het hulle gehardloop om die nuus aan die apostels oor te dra, soos wat die engele hulle beveel het om te doen.

D. Die vroue se nuus
Die vierde ding wat gebeur het, is dat die vroue die nuus aan die apostels oorgedra het, soos wat ons lees in Lukas 24:9-12 en Johannes 20:2-10. Onthou, Maria Magdaléna het vóór die ander vroue daar aangekom en gesien dat die steen weggerol en die graf leeg was. Sy het geen engele gesien nie, en aangeneem dat die liggaam na ’n ander plek verskuif is. Daarna het sy gehardloop om vir Petrus en Johannes te vertel wat sy gesien het. Dit is waaroor Johannes 20:2-3 gaan. Die ander vroue, wat die engele gesien het, het aan die ander nege dissipels vertel wat hulle gesien en by die engele gehoor het. Die nege dissipels wat die vroue se nuus oor die Opstanding gehoor het, het nie die nuus geglo nie, en nie die opdrag gehoorsaam om Galiléa toe te gaan nie. Wat Petrus en Johannes betref, het hulle – nadat hulle by Maria Magdaléna gehoor het dat die graf leeg was – na die graf toe gehardloop om te gaan ondersoek instel. In Johannes 20:3-8 staan: Toe gaan Petrus en die ander dissipel uit en kom by die graf. En die twee het saam gehardloop, en die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf gekom. En terwyl hy neerbuk, sien hy die doeke lê; maar hy het nie ingegaan nie. Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die doeke lê; en die doek wat op sy hoof was,sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol op een plek afsonderlik. Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf gekom het, ingegaan, en hy het gesien en geglo.

Petrus en Johannes het na die graf toe gehardloop. Johannes het vinniger as Petrus gehardloop en eerste daar aangekom. Johannes het nie ingegaan nie; hy het bloot ingekyk en gesien dat die doeke wat om Jesus gedraai was, in een deel van die graf gelê het, en dat die doek wat om sy gesig was, op ’n ander plek in die graf was. Die term doeke is in die meervoud, want daar was nie net een enkele kleed nie, maar stroke lap waarin Jesus toegedraai is. Die kopdoek was heeltemal apart van die stroke lap wat om die lyf gedraai was. Dit is een van verskeie redes waarom die kleed van Turyn glad nie die kleed van die Messias kan wees nie.

Waar Johannes net ingekyk het, het Petrus – wat baie meer voortvarend as Johannes was – tot binne-in die graf gehardloop en gesien dat dit leeg was. Johannes het toe ook ingegaan. Petrus het verward by die graf uitgegaan, nie seker wat hy moes dink nie; Johannes, daarenteen, het in die Opstanding geglo toe hy by die graf uitgekom het. Een van die redes vir Johannes se oortuiging is skynbaar dat die doeke nog opgerol was toe hy dit gesien het. Dit was nie afgerol of deur die graf gestrooi, soos wat ’n mens sou verwag indien iemand dit van die liggaam afgehaal het nie. Byvoorbeeld, toe Lasarus uit die dood opgewek is, het Jesus die omstanders aangesê om die stroke lap waarin Lasarus toegedraai was op te rol. In Jesus se geval was die lap nooit afgerol nie, wat beteken dat die Opstanding déúr die doeke gebeur het!

E. Die eerste verskyning: Maria Magdaléna
Die vyfde gebeurtenis in die geskiedenis van die Opstanding is die eerste verskyning van die opgestane Messias. Hierdie eerste verskyning was aan Maria Magdaléna, en is in Markus 16:9-11 en Johannes 20:11-18 opgeteken. Nadat Petrus en Johannes die omgewing van die graf verlaat het, het Maria daarheen teruggekeer. Sy was nog steeds in ’n toestand van ongeloof, en het bloot aangeneem dat die tuinier – of iemand anders – die liggaam weggevat het.

Johannes 20:11-12 sê: MAAR Maria het buitekant by die graf gestaan en ween; en terwyl sy ween, buk sy na die graf toe en sien twee engele daar sit met wit klere aan, een by die hoof en een by die voete waar die liggaam van Jesus gelê het. Só het Maria, wat nie die engele vroeër gesien het nie, uiteindelik die twee engele gesien. Maar sy het hulle nie as engele herken nie, omdat hulle bloot soos jong mans gelyk het.

Daarom, waar hulle in vers 13 vir haar vra: Vrou, waarom ween jy? antwoord sy: Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie. Sy het gekla omdat die liggaam weggevat is, en omdat sy nie kon uitvind waar dit te ruste gelê is nie. Sy het nog nie geglo dat die Opstanding plaasgevind het nie.

Uiteindelik maak Jesus sy opwagting. Die feit dat Maria Magdaléna die eerste persoon was wat die opgestane Messias gesien het, word in Markus 16:9 aangeteken: EN nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het.

Dit is baie beduidend dat die eerste persoon wat die opgestane Messias gesien het, ’n vrou was.’n Vrou se woord is kragtens die Joodse wet in geen Joodse hof as geldige getuienis aanvaar nie. As die Evangelieverhale ’n wolhaarstorie was wat deur Jode geskryf is, sou hulle dit anders gedoen het. As dit ’n wolhaarstorie was, sou hulle manspersone gekies het om die eerste getuies van die Opstanding te wees, want dit sou baie meer aanvaarbaar gewees het in die Joodse gemeenskap. Die feit dat Jesus se eerste verskyning aan ’n vrou was, onderskryf die Evangelieverhale se geldigheid. Die rede waarom hulle dit so moes skryf, was omdat dit was hoe dit gebeur het.

Die eerste persoon wat die opgestane Jesus gesien het, was dus Maria Magdaléna, maar sy het Hom nie onmiddellik herken nie. Nadat die twee engele met haar gepraat het, het Hy skielik aan haar verskyn en vir haar dieselfde vraag gevra as wat die engele vir haar gevra het. Dit staan in Johannes 20:15: Jesus sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy?

Sy het verkeerdelik tot die gevolgtrekking gekom dat die Een wat met haar gepraat het, die tuinier was, en wou geweet het waar hulle die liggaam gesit het sodat sy daarheen kon gaan. Eers toe Jesus vir haar sê: Maria! en dit sê op die manier waaraan sy gewoond was, het sy Hom as die Messias herken (Joh 20:16). Sy het toe in Hebreeus vir Hom gesê: Rabboeni! wat letterlik beteken ‘my onderwyser’ of ‘my rabbi’.

Iets wat duidelik is oor Jesus se opstandingsliggaam, is dat daar genoeg veranderinge aan sy opstandingsliggaam was dat Hy nie onmiddellik herkenbaar was nie. Aan die ander kant was daar genoeg ooreenkomste dat mense mettertyd wel kon sien het dat Hy dieselfde Een was as wat vroeër gesterf het. Baie mense het al ’n soortgelyke situasie ervaar. Twee vriende verloor byvoorbeeld kontak vir ’n paar jaar. Jare later sien hulle mekaar weer, maar genoeg veranderings het deur die jare ingetree dat hulle mekaar nie onmiddellik herken nie. Tog is daar genoeg ooreenkomste dat dit na ’n rukkie duidelik word dat hierdie persoon dieselfde persoon is as die vriend van jare vantevore. Dit is hoe ’n opstandingsliggaam werk. Daar is genoeg veranderings sodat herkenning nie onmiddellik is nie, maar daar is genoeg ooreenkomste om te wys dat die persoon wat opgewek is, dieselfde een is as wat gesterf het. Dit is dieselfde liggaam as die een wat uit die dood opgewek is, maar dit is in sekere opsigte anders.

Toe Maria Magdaléna Jesus uiteindelik herken het, het sy nader aan Hom beweeg. Ons lees in Johannes 20:17: Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie …

’n Belangrike vraag wat oor hierdie ‘aanraking’ gevra word, is: ‘Hoekom het Jesus Maria Magdaléna verbied om aan Hom te raak, maar later die apostel Thomas toegelaat om aan Hom te raak?’ Daar is twee moontlike antwoorde. Een antwoord is om uit te lig dat twee verskillende Griekse woorde gebruik word. Die Griekse woord wat die geval beskryf waar Thomas Jesus aanraak, beteken bloot ‘om ’n hand op iemand anders se vel te plaas’. Al wat Jesus Thomas gevra het om te doen, was om aan die plekke te raak waar sy kruisigingswonde gesit het. In Maria se geval, beteken die Griekse woord wat met ‘raak aan’ vertaal word egter ‘om vas te klou’ of ‘om aan te gryp’. Die beeld is duidelik: Maria was só bly om Jesus lewendig te sien, dat sy aan Hom wou vasklou sodat Hy nooit weer sou weggaan nie. Maar Hy sou hierdie aarde kort daarna moes verlaat, aangesien sy aardse bediening vir sy Eerste Koms afgehandel was; sy moes nie aan Hom vasklou nie, want Hy moes weggaan.

Daar is ’n tweede verduideliking waarvan ek meer hou, wat gegrond is op die volgende frase: want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie. Volgens Hebreërs 9:11-12, 24 en Hebreërs 10:12, moes die hemelse heiligdom ook met bloed gereinig word. ’n Mens moet in gedagte hou dat die Tabernakel wat Moses op aarde opgerig het, ’n weerspieëling was van die Tabernakel wat reeds in die hemel bestaan het. Net soos die aardse Tabernakel reiniging deur bloed nodig gehad het, het die hemelse Tabernakel ook reiniging deur bloed nodig gehad.

Maar waarom het die hemelse Tabernakel reiniging deur bloed nodig gehad? Die hoofrede word in Eségiël 28:11-16 verstrek. In hierdie hoofstuk sien ’n mens dat Satan geskep is; voor hy uit die hemel geban is, het hy verskeie posisies daar beklee: eers was hy deel van die struktuur wat God se troon bedek het; tweedens het hy wag gehou oor God se troon; derdens was hy die hemel se koorleier, en vierdens het hy ook as die hoëpriester in die hemelse Tabernakel gedien. Toe Satan gesondig het, het hy die hemelse Tabernakel verontreinig, met die gevolg dat dit gereinig moes word. Net soos die aardse Tabernakel deur bloed gereinig moes word, moes die hemelse Tabernakel ook deur bloed gereinig word. Die aardse Tabernakel is deur dierebloed gereinig; die hemelse Tabernakel het egter ‘beter’ bloed geverg, die Messias se bloed (Heb 9:23-24).

Jesus moes op hierdie tydstip in die geskiedenis sy bloed neem, opvaar Hemel toe en die hemelse heiligdom daarmee besprinkel om dit skoon te maak. Net soos niemand toegelaat was om aan die aardse priester te raak voor sy offer op die Groot Versoendag afgehandel was nie, net so kon niemand aan Jesus raak voor Hy die hemelse heiligdom gereinig het nie. Hierdie ontmoeting tussen Jesus en Maria Magdaléna het plaasgevind kort voordat Hy Hemel toe gevaar het om die hemelse Tabernakel te reinig. Daarom is Maria nie op daardie tydstip toegelaat om aan Hom te raak nie, want Hy het nog nie na sy Vader toe opgevaar nie.

Skynbaar het Jesus êrens tussen hierdie geleentheid en die keer toe Hy – ’n volle week later – met Thomas gepraat het, opgevaar na die Hemel, die hemelse Tabernakel gereinig en toe teruggekeer aarde toe met die doel om sy dissipels veertig dae lank te onderrig.

Die feit dat Jesus Hemel toe sou gegaan het voordat sy dissipels Hom gesien het, word in die volgende sin geïmpliseer. In Johannes 20:17 sê Jesus vir Maria: … gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.

Hy het aan Maria Magdaléna opdrag gegee om die waarheid oor die Opstanding en oor die feit dat Hy op die punt was om na die Vader toe op te vaar, aan die dissipels te vertel. Let ook daarop dat Hy die dissipels nou broers noem. Hy verwys nie meer na hulle as blote dissipels of dienaars nie, hoewel Hy steeds daardie terme gebruik. Hulle is nou sy broers ook, want daar is, danksy die Opstanding, nou ’n nuwe verhouding tussen Jesus en alle gelowiges. Hulle is dus nou sy broers. Maria Magdaléna het, getrou aan Jesus se opdragte, die nuus van die Opstanding aan sy dissipels oorgedra.

Volgens Markus 16:11 het niemand die eerste ooggetuie van die Opstanding geglo nie: En toe hulle hoor dat Hy lewe en deur haar gesien is, het hulle dit nie geglo nie.

Hulle het, getrou aan die Joodse siening van destyds dat ’n vrou se woord nie aanvaarbaar is nie, geweier om Maria se vertelling te glo.

F. Die tweede verskyning: Die vroue
Die sesde gebeurtenis in die Opstandingsgeskiedenis is Jesus se tweede verskyning. Dit is sy verskyning aan die ander vroue. Nadat Maria weg is, het die ander vroue weer na die tuin toe gekom. Matthéüs 28:9-10 sê: En terwyl hulle op weg was … kom Jesus hulle meteens teë en sê: Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom. En Jesus sê vir hulle: Moenie vrees nie. Gaan heen en vertel my broeders dat hulle na Galiléa moet gaan; en daar sal hulle My sien.

Dit is opmerklik dat die Messias se tweede verskyning ook aan vroue was. Weer eens druis dit loodreg teen die denkrigting in dat die Evangelieverhale blote versinsels is. Al vier Evangelies is deur Jode geskryf, en Jode sou nie ’n storie versin waarin die eerste én tweede verskyning aan vroue was nie, aangesien hulle woord nie aanvaar sou word in die Joodse wêreld van destyds nie. Indien dit ’n versinsel was, sou hulle beslis genoem het dat die eerste getuies van die Opstanding mans was. Maar omdat dit nie so gebeur het nie, moes hulle dit vertel soos wat dit gebeur het – dat die eerste sowel as die tweede verskynings aan vroue was.

Toe hulle die opgestane Messias gesien het, het hulle nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. Die feit dat Hy hulle aanbidding geredelik aanvaar het, wys dat Hy hulle aansprake en oortuiging dat Hy in der waarheid God is, aanvaar het. Hy het die vroue aangesê om nie bang te wees nie. Hy was nie maar ’n verskyning of ’n spook nie. Hy was die opgestane Messias.

Hulle het toe, net soos Maria, opdrag ontvang om vir die dissipels te gaan vertel wat hulle gesien het. Jesus noem die dissipels die tweede keer sy broers. Dit is hul nuwe verhouding danksy die Opstanding. Hulle moes weer vir die dissipels gaan vertel om nie in Jerusalem te bly nie, maar om na Galiléa te gaan, en dat Hy hulle daar sou kry. Soos wat die geval was met die instruksies wat deur Maria Magdaléna oorgedra is, is die instruksies wat deur hierdie vroue oorgedra is, ook met ongeloof begroet. Die gevolg was dat die dissipels nie Galiléa toe gegaan het nie; hulle het eenvoudig nie geglo dat die Opstanding plaasgevind het nie.

G. Die wag se verslag
Die sewende historiese gebeurtenis is die wag se verslag, soos dit aangeteken word in Matthéüs 28:11-15: EN terwyl hulle op weg was, kom daar sommige van die wag in die stad en vertel die owerpriesters alles wat gebeur het. En nadat hulle saam met die ouderlinge vergader en raad gehou het, het hulle die soldate baie geld gegee en gesê: Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was. En as dit by die goewerneur gehoor word, sal ons hom tevrede stel en maak dat julle sonder sorg is. Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer was. En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe.

Die wag wat in hierdie spesifieke teksgedeelte genoem word, is die Romeinse wag wat opdrag ontvang het om seker te maak dat niemand die steen voor Jesus se graf wegrol nie; hulle kon egter nie verhoed dat die engel dit doen nie. Hulle was bang om dit direk aan Pontius Pilatus te rapporteer, aangesien hul versuim die doodsvonnis kon beteken. In plaas daarvan het hulle na die owerpriesters toe gegaan en vir hulle alles vertel wat gebeur het.

Weer eens is daar ’n komplot gesmee. Die owerpriesters, wat Sadduseërs was, het saam met die ouderlinge, wat Fariseërs was, vergader. Hulle het ’n groot som geld ingesamel en die soldate betaal om vir almal te vertel dat Jesus se dissipels sy liggaam gesteel het terwyl hulle geslaap het. Indien hulle geslaap het terwyl hulle aan diens was, kon hulle egter kragtens die Romeinse wet tereggestel word; die samesweerders het dus aan die soldate gesê om hierdie gerug slegs in Joodse kringe te versprei. Indien hierdie storie Pontius Pilatus, wat intussen teruggekeer het na Cesaréa, op die een of ander manier sou bereik, sou die samesweerders tussenbeide tree sodat die soldate niks sou oorkom nie.

Só het hulle begin om die algemeenste en oudste teorie oor die Opstanding te versprei: die ‘gesteelde liggaam’-teorie. Matthéüs noem dat hierdie teorie gewild was ‘tot vandag toe’, synde Matthéüs se era. Maar dit geld vandag nog. Daar is tot vandag toe mense wat verklaar dat die dissipels Jesus se liggaam gesteel het. Maar die manier waarop die soldate die storie vertel het, het dit weerspreek. Hul storie was naamlik dat die dissipels Jesus se liggaam gesteel het terwyl hulle geslaap het. Die ooglopende teenstrydigheid is: Hoe kon hulle hoegenaamd geweet het wie die liggaam gesteel het as hulle aan die slaap was toe dit gebeur het? Daar is geen manier hoe hulle kon weet wie die liggaam gesteel het as hulle geslaap het nie.

Indien Jesus se liggaam wel gesteel is, soos wat baie mense glo, is daar slegs een van twee groepe wat gewillig sou wees om die risiko’s te neem wat gepaardgaan met só ’n diefstal: sy vriende of sy vyande. Mense wat nie regtig wou standpunt inneem nie of wat neutraal was, sou kwalik hul lewe in gevaar stel om Jesus se liggaam te steel.

Een groep wat moontlik daarin kon belangstel om sy liggaam te steel, was Jesus se vriende, die elf dissipels. Indien die dissipels wel die liggaam gesteel het, is hul latere optrede egter ’n raaisel. Uit die elf dissipels het tien ’n martelaarsdood gesterf. Party van hulle het op afgryslike maniere gesterwe – deur kruisiging, deur in kokende olie gegooi te word en deur lewendig afgeslag te word. Selfs die een wat nie gemartel was nie, Johannes, het as ’n banneling op die eiland Patmos gesterf. Party van hierdie dissipels het die geleentheid gekry om hul geloof af te sweer voor hulle tereggestel is. Indien hulle dit gedoen en Jesus verloën het, sou hulle vrygelaat word, of ten minste ’n genadiger dood gesterf het. Dit is onmoontlik om te glo dat tien dissipels bereid sou wees om as martelaars te sterf vir iets wat hulle geweet het ’n leuen was, of dat Johannes bereid sou wees om na die eiland Patmos verban te word vir iets wat hy geweet het ’n leuen is. Dit is onmoontlik om te glo dat hierdie dissipels bereid sou wees om so baie te ly soos wat die geval was as hulle geweet het dat die Opstandingsverhaal ’n leuen was. Die enigste manier om bevredigend te verduidelik waarom hulle hul lewens só opgeoffer het, is dat hulle werklik geglo het dat die Opstanding plaasgevind het.

Die tweede groep wat moontlik daarin belang kon stel om Jesus se liggaam te steel, was sy vyande. Hul latere optrede het egter laat blyk dat hulle niks van sy gesteelde liggaam geweet het nie. In die boek Handelinge het die dissipels begin om die Opstanding te verkondig. Die teenstand het van dieselfde leiergroep gekom wat saamgesweer het om Jesus dood te maak, dieselfde leiergroep wat die soldate betaal het. Indien sy vyande sy liggaam gesteel het, kon hulle die apostels se prediking oor die opstanding verkeerd bewys het deur bloot Jesus se liggaam te voorskyn te bring. Tog kon hierdie leiergroep nooit daarin slaag om die apostels se monde permanent te snoer deur sy liggaam te voorskyn te bring nie, al het hulle hoe hard probeer. Dit is dus duidelik dat sy vyande ook nie sy liggaam gehad het nie.

H. Die derde verskyning: Die twee dissipels op die pad na Émmaüs
Die agtste gebeurtenis in die Opstandingsgeskiedenis is die derde verskyning van die opgestane Messias. Dit was sy verskyning aan die twee dissipels op die pad na Émmaüs, wat in twee Evangelieverhale opgeteken is: Markus 16:12-13 en Lukas 24:13-32. Hierdie twee dissipels was nie deel van die groep apostels wat in Jerusalem gebly het nie. Lukas 24:18 sê dat een van hierdie dissipels se naam Kléopas was, wat nie een van die Twaalf in die binnekring was nie. Hulle het van Jerusalem af na Émmaüs geloop. Terwyl hulle die gebeure van die voorafgaande dae bespreek het – Jesus se dood en die Opstanding waaroor daar berig is – het ’n derde figuur by hulle aangesluit wat hulle nie herken het nie.

In hul gesprek met Jesus, het hulle dinge openbaar wat hulle geglo het, en dinge wat hulle nie geglo het nie. Daar was vier feite wat hulle wel geglo het: eerstens het hulle geglo dat Hy ’n profeet van God was (v 19); tweedens het hulle geglo dat Hy sy profetiese amp bekragtig het deur sy woorde en sy dade, aangesien sy wonderwerke sy aansprake bekragtig het (v 19); derdens het hulle geglo dat Hy die Verlosser van Israel was (v 21), en vierdens – wat ’n vraagteken oor die vorige drie oortuigings geplaas het – het hulle geglo dat Hy deur hul leiers gekruisig is. Die feit wat hulle nie geglo het nie, was die getuienis deur sekere vroue wat vroeg by die graf was en wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle die opgestane Messias gesien het (v 22).

Op hierdie punt het Jesus hulle oor hul ongeloof berispe en begin om die messiaanse profesie, m.a.w. al die profesieë oor sy Eerste Koms, vir hulle uit te lê. Namate Hy die Ou-Testamentiese profesieë vir hulle uitgelê het, ‘was [hul] hart … brandende in [hulle] toe Hy met [hulle] op die pad gepraat en vir [hulle] die Skrifte uitgelê het’ (v 32).

Toe hulle by Émmaüs aankom, het hulle Hom by hul huis ingenooi vir aandete. Net toe Hy die brood breek – elke Joodse maaltyd begin met ’n seëning en die breek van die brood – op daardie oomblik, het hulle uiteindelik besef dat dit die opgestane Messias is. Net toe hulle Hom herken het, het Hy skielik verdwyn.

Hulle het onmiddellik teruggegaan na Jerusalem en dit aan die elf apostels vertel, maar Markus 16:13 toon dat die apostels hierdie twee dissipels ook nie geglo het nie.

I. Die vierde verskyning: Petrus
Die negende gebeurtenis in die verloop van die Opstanding is die vierde verskyning. Hierdie verskyning was aan die apostel Petrus, en word in Lukas 24:33-35 aangeteken. Vers 34 sê: Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.

’n Tweede teksgedeelte wat hieroor handel, is 1 Korinthiërs 15:5, wat noem dat Hy aan Céfas verskyn het. Céfas is die Aramese naam vir die Hebreeuse naam Simon en die Griekse naam Petrus. Petrus was die eerste lid van die groep apostels wat die opgestane Jesus gesien het, want die twee dissipels op die pad na Émmaüs het nie deel van die groep apostels gevorm nie. Jesus het privaat aan die apostel Petrus verskyn voor Hy aan enige ander apostel verskyn het. Dit was heel waarskynlik nodig om Petrus gerus te stel ná sy drieledige verloëning tydens die godsdienstige verhoor.

Die doel van hierdie verskyning was om Petrus op te rig. Tydens die laaste Pasga het Jesus voorspel dat Petrus Hom drie keer sou verloën, maar dat Petrus uiteindelik opgerig sou word. Nou, danksy hierdie private verskyning aan Petrus, het Hy Petrus inderdaad opgerig; later sou Petrus die ander broers oprig.

J. Die vyfde verskyning: Die tien
Die tiende gebeurtenis in die opstandingsgeskiedenis is die vyfde verskyning van die opgestane Messias. Hierdie verskyning was aan tien apostels, soos wat dit opgeteken staan in drie Evangelieverhale: Markus 16:14, Lukas 24:36-43 en Johannes 20:19-25.

Die apostels het vroeër by drie geleenthede opdrag gekry om Jerusalem te verlaat en na Galiléa te gaan. Jesus het hulle die eerste keer tydens die laaste Pasga aangesê om dit te doen, maar hulle het dit nie gedoen nie. Vroue is twee keer ná die Opstanding na die apostels gestuur om vir hulle te sê om na Galiléa toe te gaan en dat Jesus hulle daar sou kry. Maar omdat hulle nie die vroue of Maria Magdaléna se woord, of die twee dissipels op die pad na Émmaüs s’n, geglo het nie, was hulle steeds in Jerusalem. En te wyte aan hul gebrek aan geloof in die getuienisse oor die Opstanding, moes Jesus nou in Jerusalem aan hulle verskyn.

In Johannes 20:19 staan daar: EN toe dit aand was op daardie eerste dag van die week …

Dit beteken dit was die Sondag voor sononder, voor drie sterre verskyn het. Hulle was binne en die deure was dig toegemaak, want hulle het die leierskap van Israel gevrees. Jesus het skielik aan hulle verskyn. Volgens Lukas 24:36 het Hy vir hulle gesê: Vrede vir julle! Hy het natuurlik Hebreeus met sy dissipels gepraat; Hy het hulle op ’n tipies Joodse manier gegroet, Shalom aleichem, wat beteken ‘vrede vir julle’. Maar hul reaksie het hul ongeloof bewys.

Lukas 24:37 dui aan: Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien.

Hulle was bang en het gevrees dat hulle besig was om ’n spook te sien, in plaas van die opgestane Messias.

Jesus se reaksie word in Markus 16:14 aangeteken: … en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie.

Hy het hulle berispe oor hul ongeloof. Hul ongeloof het op drie maniere uiting gevind. Eerstens het hulle nie die getuienisse oor die Opstanding geglo nie, al het hulle dit ten minste drie keer – moontlik vier keer as Petrus ook vir hulle vertel het – gehoor. Tweedens het hulle versuim om na Galiléa te gaan soos wat hulle aangesê is om te doen, en die feit dat hulle nog in Jerusalem was, wys dat hulle in ‘n toestand van ongeloof verkeer het. Derdens het hul ongeloof geblyk uit hul vrees dat hulle besig was om ’n spook te sien toe hulle uiteindelik die opgestane Messias te siene kry.

Om hulle te oortuig dat hulle nie besig was om ’n spook te sien nie, maar die opgestane Messias, het Hy hulle toegelaat om Hom te ondersoek. Johannes 20:20 sê: En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy.

Lukas gee meer detail in vers 24:39-40: Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete.

Hulle is toegelaat om aan Hom te vat en om die wonde in sy sy, sy hande en sy voete te sien. Dit wys dat Jesus teen dié tyd opgevaar het na die Hemel en sy bloed gesprinkel het om die hemelse heiligdom te reinig; Hy kon nou aangeraak word.

Lukas 24:41-43 sê: En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.

Terwyl hulle besig was om tot verhaal te kom, was daar nog twyfel, dus het Jesus hulle gevra vir iets om te eet. Aangesien suiwer geeswesens en spoke nie kan eet nie, het Hy vir hulle gewys dat Hy werklik die Opgestane Een is deur te bewys dat Hy kan eet. Ten einde laaste was tien van die elf apostels oortuig dat die Opstanding plaasgevind het.

1. Die eerste Finale Opdrag
Op daardie tydstip het Jesus vir hulle die eerste van drie finale opdragte gegee; dit het drie punte bevat en is opgeteken in Johannes 20:21-25.

a. Die gee van ’n gesaghebbende bediening
Eerstens het Hy aan hulle ’n gesaghebbende bediening gegee; hulle is deur die Seun gestuur, soos vers 21 sê: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.

God die Vader het sy Seun gestuur met sy gesag, en nou stuur die Seun die dissipels met sy gesag. Hulle het ’n gesaghebbende bediening ontvang, want hulle is deur die Seun gestuur.

b. Die ontvangs van die Heilige Gees
Die tweede punt van hierdie eerste opdrag is dat die dissipels die Heilige Gees moes ontvang, soos Johannes 20:22 sê: En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees.

Dít was nie die ontvangs van die Heilige Gees wat in Handelinge 2 gegee sou word nie. In Handelinge 2 het hulle die permanente inwoning van die Heilige Gees en die Gees se doopbediening ontvang. Wat hulle hier ontvang het, was die Heilige Gees se Ou-Testamentiese bediening van verligting. Jesus het deur die loop van sy bediening vir sy dissipels baie waarhede oor sy dood en Opstanding probeer leer, maar hulle kon nooit verstaan wat Hy hulle probeer leer nie. Toe sy dood gebeur het, het dit hulle onkant gevang, en hulle was baie traag om te glo dat die Opstanding plaasgevind het. Nou het hulle ’n Ou-Testamentiese bediening van die Heilige Gees ontvang – ’n bediening van begrip, ’n bediening van verligting, sodat hulle kon verstaan en sou verstaan wat Hy hulle in die volgende veertig dae van sy bediening ná sy Opstanding sou leer.

c. Die uitbreiding van apostoliese gesag
Die derde punt van die eerste finale opdrag is in Johannes 20:23: As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.

In hierdie opdrag is daar ’n uitbreiding van die apostoliese gesag om sondes te vergewe of om sonde te hou. Die vergifnis en hou van sondes hier is nie in die verlossende sin van die woord nie; slegs God kan sondes vergewe in die verlossende sin van die woord. Hierdie vergifnis en hou van sondes geld ten opsigte van kerkdissipline en kerkorde. Dit is die terrein waarop die apostels gesag gehad het.

Een voorbeeld hiervan verskyn in Handelinge 5, die geval van Ananías en Saffíra. Omdat Ananías en Saffíra vir die Heilige Gees gelieg het, het Petrus hul sonde teen hulle gehou, en hulle het op die plek dood neergeval. Die apostels het nie gesag ontvang om sonde te vergewe met die oog op verlossing nie, maar hulle het wel die gesag om sonde te vergewe in die opsig van straf of weerhouding van straf. In Ananías en Saffíra se geval, het Petrus hul sonde teen hulle gehou en hul straf – en selfs oordeel – uitgevoer. Dit was iets wat saamgehang het met apostoliese gesag, en is nie aan enigiemand anders oorgedra deur enige vorm van apostoliese opvolging nie.

2. Thomas se bevestiging van die Messias se opstanding
Thomas was nie teenwoordig by die Messias se vyfde verskyning – aan die tien apostels – nie. Volgens Johannes 20:24-25, het Thomas geweier om te glo toe die tien dissipels vir hom vertel het dat hulle die opgestane Messias gesien het. Volgens vers 25 het Thomas gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.

Om daardie rede het hulle nog steeds nie Galiléa toe gegaan nie, maar in Jerusalem gebly.

K. Die sesde verskyning: Die elf
Die elfde gebeurtenis in die verloop van die Opstanding was die sesde verskyning van die opgestane Messias. Hierdie verskyning was aan die elf dissipels, en is aangeteken in Johannes 20:26-31 en 1 Korinthiërs 15:5. Johannes 20:26 sê: En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle.

’n Hele week het verbygegaan tussen die vyfde en sesde verskynings van die opgestane Messias. Omdat Thomas geweier het om te glo, was hulle ’n week later nog steeds in Jerusalem; hulle het nog steeds nie Galiléa toe gegaan soos wat hulle by drie geleenthede aangesê is om te doen nie.

Jesus het skielik verskyn en self met Thomas gepraat. In Johannes 20:27 sê Hy: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.

Thomas het uiteindelik die opgestane Messias gesien. Het hy geglo? Ja, vir seker!

In Johannes 20:28 reageer Thomas deur te sê: My Here en my God!

Hy het nie net vir Jesus as sy Heer en Messias erken nie, maar as sy God. Thomas het duidelik verstaan dat die Messias God én mens sou wees. Hy het ’n oortuigde gelowige geword omdat hy die opgestane Messias gesien het. Mense dink dikwels dat die dissipels baie meer geseënd was omdat hulle die gebeure fisies kon sien, maar dit is eenvoudig nie waar nie.

Jesus het self in Johannes 20:29 gesê: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.

Dit is ’n baie groter seëning om te glo op grond van die geskrewe Woord van God as om te glo op grond van persoonlike ervaring. Dié wat nie die opgestane Messias gesien het nie, maar in elk geval geglo het, is beslis meer geseënd.

Thomas se belydenis teenoor Jesus, My Here en my God!, vorm die hoogtepunt van die Johannesevangelie. Jesus, die Messias, die Seun van God is die deurlopende tema van Johannes se Evangelie. Hy het die Godheid van die Messias beklemtoon. Thomas se bevestiging hiervan, My Here en my God!, pas perfek by Johannes se tema in en voer dit tot ’n hoogtepunt.

Johannes lewer sy samevatting in Johannes 20:30-31: Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.
Johannes het sy slotsom met Thomas se belydenis bereik. Thomas se stelling illustreer die doel van die Johannesevangelie: om te wys dat Jesus inderdaad die Seun van God is.

Johannes het wel nog een hoofstuk, hoofstuk 21, in sy boek geskryf, maar dit is soos ’n bylaag. Johannes het sy samevatting in Johannes 20:30-31 gelewer; hy het hierdie Evangelie geskryf sodat die leser tot dieselfde gevolgtrekking as Thomas sou kom: dat Jesus inderdaad sy Here en sy God is!

Johannes wys ook daarop dat Jesus baie ander tekens gedoen het, en dat die hele wêreld nie genoeg plek het om al die boeke te bevat as dit alles opgeteken sou word nie. Johannes het trouens in sy hele Evangelie slegs sewe wondertekens opgeteken. Toe hy na ander tekens verwys het, het hy ander tekens as die Opstanding bedoel. Hy het slegs sewe ander wondertekens opgeteken uit die menigte wat hy kon opteken.

L. Die sewende verskyning: Die sewe
Die twaalfde gebeurtenis, wat ons in Johannes 21:1-25 aantref, was die sewende verskyning van die opgestane Messias. Hierdie verskyning het plaasgevind aan die sewe dissipels by die See van Galiléa. Noudat al die dissipels uiteindelik in die Opstanding geglo het, het hulle uiteindelik Galiléa toe gegaan. Ons lees in Johannes 21:1: NA hierdie dinge het Jesus weer aan sy dissipels verskyn by die see van Tibérias, en Hy het só verskyn …

1. Die apostels se terugkeer na visvangs
Hulle was by die see van Tibérias, wat die See van Galiléa is. Daar was sewe vissermanne onder die elf dissipels, waarvan vyf in vers 2 genoem word: Simon Petrus en Thomas wat Dídimus genoem word, en Natánael van Kana in Galiléa en die seuns van Sebedéüs, Johannes en Jakobus.

Hulle het ’n besluit geneem wat in Johannes 21:3 opgeteken word: Simon Petrus sê vir hulle: Ek gaan visvang. Hulle sê vir hom: Ons gaan ook saam met jou.

Drie jaar nadat hulle die visvangbedryf verlaat het, besluit hulle om dit weer as beroep te begin beoefen. Hulle het nog nie hul nuwe opdrag verstaan nie. Hulle het nie verstaan wat hulle teen die agtergrond van die Messias se Opstanding moes doen nie; hulle het aangeneem dat hulle weer hul brood in die visvangbedryf moet verdien, aangesien Jesus vir hulle gesê het dat Hy van hulle af weggaan. Hulle het visgevang, maar niks gekry nie. Jesus het op daardie tydstip, toe hulle nog op die water was, weer verskyn.

2. Die her-roeping van die apostels
Jesus was op die oewer en het met hulle begin gesels. Dit word in Johannes 21:5-6 beskryf: En Jesus sê vir hulle: My kinders, het julle nie iets om te eet nie? Hulle antwoord Hom: Nee. En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie.

Jesus het skielik aan hulle verskyn en hulle die vraag gevra: ‘Het julle enigiets gevang?’ Hul antwoord was: ‘Nee.’ Op daardie tydstip het hulle nie agtergekom Wie met hulle praat nie. Jesus het dus vir hulle gesê om hul nette aan die linkerkant van die boot op te trek en dit aan die regterkant uit te gooi. Hulle het dit gedoen en skielik ’n ‘menigte van visse’ gevang. Drie jaar vantevore het Jesus party van hierdie mans ná ’n soortgelyke ervaring geroep om dissipels te word. Hulle het heeldag geswoeg, maar niks vis gevang nie. Toe het hulle hul nette uit gehoorsaamheid aan Hom laat sak en onmiddellik ’n menigte visse gevang. Jesus het sy gesag oor die natuur op hierdie manier gedemonstreer. Hierdie keer het Hy sy dissipels op dieselfde manier weer geroep, deur sy krag oor die natuur en sy vermoë om te voorsien te demonstreer.

Volgens vers 7 was die apostel Johannes die eerste om uit hierdie parallelle ervaring agter te kom dat die Een wat met hulle praat niemand minder as die opgestane Messias was nie. Hy het vir Petrus gesê: Dit is die Here! Petrus het in die water gespring en teruggewaad kus toe. Wat hy aangetref het, word in vers 9 aangeteken: En toe hulle geland het, sien hulle ‘n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood.

Hoewel hulle ’n menigte visse gevang het, het hulle nie nodig gehad om ’n enkele een daarvan te eet nie, want Jesus het reeds vir hulle vis gebraai, en daar was reeds brood om te eet. Die punt is dat hulle nie nodig gehad het om weer vissermanne te word nie. Hulle het ’n opdrag gehad om uit te voer, en die Messias sou vir hulle voorsien namate hulle dit uitvoer.

Vers 11 sê vir ons dat hulle altesaam 153 visse gevang het. Daar was al baie spekulasie oor wat hierdie syfer beteken. Een siening, wat jare lank gesirkuleer is, is dat dit die 153 lande van die Verenigde Nasies verteenwoordig. Dit is egter ’n oorontleding van die teks. Die rede hoekom daar staan hulle het 153 visse gevang, is omdat hulle 153 visse gevang het! Dit beteken niks meer nie. Die punt is dat die net nie gebreek het nie, ten spyte van die menigte visse. Vers 14 sê: Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het …

Dit was die derde keer dat Hy aan sy dissipels verskyn het, en sy sewende verskyning ná die Opstanding.

3. Petrus se indiensstelling
Johannes 21:15-23 beskryf ’n privaat gesprek tussen Jesus en Petrus. Petrus se drieledige verloëning van voorheen word nou reggestel deur sy drieledige liefdesbetuiging.

Daar word twee verskillende Griekse woorde in hierdie gesprek vir liefde gebruik. Die eerste is agape of agapao, wat ’n ‘liefde van die wil’ verteenwoordig. Dit is die soort liefde wat God aan ons betoon, die soort liefde wat ons aan mekaar moet betoon. Dit is die soort liefde waarvoor ’n mens bereid sal wees om te sterf. Die tweede woord is fileo, wat ‘vriendskapsliefde’ is. Dit is die ‘liefde van die emosies in reaksie op aangetrokkenheid’. Dit is die soort liefde tussen twee goeie vriende. Dit is ’n liefde wat natuurlik ontwikkel, waaroor daar geen beheer is nie. Om hierdie rede kry gelowiges nie opdrag om almal te fileo nie, aangesien dit onmoontlik is om daardie soort liefde vir almal te koester. Agape-liefde is egter van ’n hoër orde, ’n liefde van die wil, nie die emosies nie. Dit is die soort liefde wat ’n gelowige vir almal moet hê.

Die eerste deel van die gesprek begin in Johannes 21:15: Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?

Die woord wat Jesus gebruik het, was agape. Wat Hy dus vir Petrus vra, is: ‘Petrus, agape jy My meer as hulle; met ander woorde meer as die ander dissipels hier?’ Dit is ’n betekenisvolle vraag, want tydens die laaste Pasga het Petrus daarop aanspraak gemaak dat hy hierdie soort liefde vir Jesus koester. Hy het daarop aanspraak gemaak dat sy agape-liefde vir Jesus op ’n hoër vlak as die ander dissipels s’n was. Petrus het gesê dat hy Jesus nooit in die steek sou laat nie, al doen al die ander dit. Hy was selfs bereid om sy lewe vir Jesus op te offer. Sy aansprake was op die ou end natuurlik vals, want hy het die Messias later drie keer verloën. Dus was die vraag: ‘Simon Petrus, agape jy regtig meer as die ander?’

Petrus het geantwoord: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.

Die woord wat Petrus egter gebruik het, was fileo. Wat Petrus eintlik gesê het, was: ‘Nee, ek kan nie regtig sê dat ek U meer as die ander agape nie. Al wat ek op hierdie tydstip kan bevestig, is dat ek U fileo. Ek kan nie sê dat ek U meer as die ander agape nie.’

Ná hierdie bekentenis kry Petrus sy eerste opdrag by Jesus: Laat my lammers wei.

Lammers verwys na baba-gelowiges, mense wat in hul kinderskoene staan wat geloof betref. Petrus kry opdrag om hulle te voed. Baba-gelowiges word gevoed met die ‘melk’ van God se Woord. Dit is wat Petrus in sy eerste sendbrief, 1 Petrus, gedoen het.

Die tweede deel van die gesprek is in vers 16: Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief?

Jesus gebruik weer dieselfde woord vir ‘liefde’ wat Hy vroeër gebruik het: ‘Simon Petrus, agape jy My?’ Maar die vraag is effens anders gestel. Die eerste keer het Jesus hom gevra: ‘Simon Petrus, agape jy My meer as die ander?’ Petrus moes ‘nee’ antwoord. Die tweede vraag was: ‘Petrus, agape jy My hoegenaamd? Al kan jy nie sê dat jy My meer as die ander agape nie, agape jy my met enige aspek van agape-liefde?’

Petrus het geantwoord: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.

Petrus gebruik weer die woord fileo. Weer eens sê Petrus: ‘Nee, al wat ek op hierdie tydstip kan bevestig, is dat ek U bloot fileo. Ek kan nie sê dat ek U meer as die ander agape nie; ek kan ook nie sê dat ek U hoegenaamd agape nie. Die enigste ding wat ek in hierdie stadium kan sê, is dat ek U fileo.

Hier ontvang Petrus ’n tweede opdrag: Pas my skape op.

Om op te pas beteken ‘om ’n herder te wees’, ‘om heerskappy uit te oefen’ oor die ander gelowiges. Petrus ontvang opdrag om hierdie gesag uit te oefen, en dit is wat hom die hoofapostel gemaak het. Petrus het hierdie tweede opdrag dwarsdeur die boek Handelinge uitgevoer toe hy gesag en heerskappy oor die ander gelowiges gevoer het.

In vers 17 gaan Jesus voort met ’n derde vraag: Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief?

Hierdie keer gebruik Jesus nie die woord agape soos wat Hy die eerste en tweede keer gebruik het nie. In plaas daarvan gebruik hy die woord wat Petrus gebruik het: ‘Fileo jy My?’ Wat Hy sê, is die volgende: ‘Petrus, jy kan nie bevestig dat jy My meer as die ander agape nie; jy kan ook nie bevestig dat jy My hoegenaamd agape nie. Maar kan jy eerlikwaar sê dat jy My ten minste fileo?’

Petrus se reaksie was soos volg: Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief (fileo)? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet.

Petrus gebruik ook die woord fileo hier. Petrus se derde reaksie beteken dus: ‘Dít kan ek wel sê: Ek kan sê dat ek U ten minste fileo.’

Dit is hier waar Petrus sy derde opdrag kry: Laat my skape wei.

Skape is die meer volwasse gelowiges wat gevoed moet word met die ‘vleis’ van God se Woord. Petrus het hierdie opdrag in sy tweede sendbrief uitgevoer.

Ná hierdie drie vrae en antwoorde, gaan Jesus voort om aan te toon dat die tyd sou aanbreek wanneer Petrus sy agape-liefde vir Jesus sou bewys. In Johannes 21:18-19 staan: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ‘n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie. En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik; en toe Hy dit gespreek het, sê Hy vir hom: Volg My.

Jesus het hier ’n bondige profesie gelewer wat skynbaar aangedui het op watter manier Petrus sou sterwe: Hy sou ’n martelaarsdood sterf deur gekruisig te word. Jesus het gesê dat daar ’n tyd in Petrus se lewe sou kom wanneer hy sou bewys dat hy agape-liefde vir Jesus het; Petrus sou sy lewe vir Jesus gee, nie deur ’n vinnige dood nie, maar deur die pyniging van ’n kruisdood.

Ten spyte daarvan dat Petrus bestem was om ’n martelaarsdood te sterf, het Jesus aan Petrus gesê: Volg My. Dit is presies wat Petrus voortaan sou doen. Hy het gewys dat Hy werklik agape-liefde vir Jesus het deur Hom te volg.

Nadat Jesus vir Petrus gesê het dat hy ’n martelaarsdood sou sterf, het Petrus na Johannes gewys en gevra (in vers 21): Here, maar wat van hom? Petrus vra basies: ‘Ek gaan vir my geloof moet sterf, maar wat van Johannes?’

Jesus gee sy antwoord in vers 22: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My.

Die antwoord was dat God se wil vir ’n ander gelowige geen betrekking op Petrus het nie. Petrus moes hom nie verknies oor wat wat God se wil vir Johannes was nie. Petrus se enigste prioriteit moes wees om sý opdrag en roeping uit te voer; Johannes sou wel oor sy eie roeping besin.

Johannes sluit sy Evangelie in vers 25 af deur te sê dat die wêreld te klein sou wees vir al die boeke as al Jesus se dade opgeteken sou word. Dit is waar, want hoewel Jesus benaderd 36 tot 38 jaar lank op aarde gelewe het, word slegs sowat 75 tot 80 dae van sy lewe in die vier Evangelies saam beskryf.

M. Die agtste verskyning: Die vyfhonderd
Die dertiende gebeurtenis in die opstandingsgeskiedenis is die agtste verskyning, aan vyfhonderd mense op een slag, soos aangeteken in Matthéüs 28:16-20, Markus 16:15-18 en 1 Korinthiërs 15:6.

1. Die verskyning aan die vyfhonderd
Die teksgedeelte in 1 Korinthiërs sê dat Jesus aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk verskyn het. Die meeste van hierdie mense het nog gelewe toe Paulus die brief geskryf het. Die vertellings in Markus en Matthéüs beklemtoon egter die stellings wat die Messias spesifiek aan die elf Apostels gemaak het.

2. Die tweede Finale Opdrag
Hoewel hy aan meer as vyfhonderd gelowiges tegelyk verskyn het, was sy woorde hoofsaaklik op die elf gemik; Hy het naamlik die tweede van drie finale opdragte aan hulle gegee, wat vyf belangrike sake bevat het.

a. Die delegering van gesag
Eerstens is alle gesag aan die opgestane Messias gegee (Matt 28:18). Danksy die Opstanding het God die Vader al die gesag aan sy Seun gegee. Aangesien Jesus soveel gesag het, kan Hy hierdie gesag gevolglik aan sy apostels oordra, wat Hy dan ook in die tweede finale opdrag gedoen het.

b. Die opdrag self
Die tweede punt is die opdrag self wat in Matthéüs 28:19-20 gegee word: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Markus 16:15 stel dit só: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.

Mense verwys hierna as die ‘Groot Opdrag’, maar dit is dikwels misverstaan as ’n blote evangelisasie-opdrag. In die vertaalde teks lyk dit asof die opdrag is: Gaan. By baie sendingkonferensies, beklemtoon hulle dat die Bybel sê: ‘Gaan na al die nasies toe.’

Dit is egter nie wat die Griekse teks sê nie. In die Griekse teks het Matthéüs 28:19 slegs een bevelsvorm: maak dissipels. Die Groot Opdrag is nie om te evangeliseer as sulks nie, maar om dissipels te maak. Die bevel om dissipels te maak word dan gevolg deur drie deelwoordfrases, wat verduidelik wat dissipelmaking behels.

i. Prediking
Die eerste deelwoord is ‘om te gaan’. Markus 16:15 verklaar dat ‘om te gaan’ beteken om die evangelie aan die ganse mensdom [te verkondig]. Evangelisasie is beslis ’n deel van die Groot Opdrag, maar dit is nie op sigself die Groot Opdrag nie. Die Groot Opdrag is om dissipels te maak. Die eerste stap in dissipelmaking is om mense te evangeliseer. As iemand egter net die evangelie verkondig, maar niks meer as dit doen nie, is hy slegs besig met evangelisasie; hy is nie besig om dissipels te maak nie. Hy gehoorsaam dus nie die Groot Opdrag nie.

ii. Doop
Die tweede deelwoord is ‘om te doop’ – doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Die apostels moes nou ’n nuwe soort doop bedien. Die doop het nie hier ontstaan nie; dit was ’n Joodse gebruik lank voor die gelowiges dit hoegenaamd beoefen het. Toe Jesus gesê het doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, het hy die doop van gelowiges onderskei van ander soorte doop, soos die Judaïsme se proselietedoop en die doop van Johannes. Ten einde hierdie doop van enige ander doop te onderskei wat destyds beoefen is, moes dit gedoen word in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, die Drie-enige God. Doop is dus die tweede aspek van dissipelmaking. Maar as iemand net die evangelie verkondig en doop, gehoorsaam hy nog nie die Groot Opdrag nie.

iii. Lering
Die derde deelwoord is ‘om te leer’ (om te onderrig): leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Die pas gedoopte gelowiges moet geleer word om die Messias se opdragte te gehoorsaam, want gehoorsaamheid is die toets van dissipelskap.

Die uitvoering van die Groot Opdrag noodsaak die maak van dissipels. Dit behels drie dinge: om die evangelie te verkondig; om in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees te doop, en om mense te onderrig in Nuwe-Testamentiese waarheid ter aanvulling van Ou-Testamentiese waarheid.

c. Dié wat glo, sal gered word
Die derde punt in die tweede van drie finale opdragte is dat dié wat volhou, gered sal word, maar dat dié wat nie die evangelie glo nie, verlore sal gaan. Markus 16:16 sê: Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

Hierdie vers word dikwels gebruik deur mense wat doop-regenerasie voorstaan, die lering dat ons gedoop moet word om gered te word. Ons moet ’n paar dinge uitwys as ons na hierdie vers gaan kyk.

In die eerste plek bevat die oudste, beste manuskripte van die Griekse Nuwe Testament nie hierdie vers nie. Hierdie vers was na alle waarskynlikheid nie deel van die oorspronklike Markusevangelie nie, maar ‘n veel latere byvoeging. Dit is gevaarlik om so ’n leerstelling te baseer op ’n vers wat nie voorkom in die oudste, beste manuskripte wat tot ons beskikking is nie.

Tweedens is geloof die enigste voorwaarde vir verlossing wat genoem word op meer as tweehonderd plekke in die Nuwe Testament wat hieroor handel. Indien die doop nodig was vir verlossing, moes dit in al tweehonderd teksgedeeltes genoem word waar die voorvereistes vir verlossing genoem word. Die feit dat slegs geloof genoem word, wys dat geloof die enigste voorvereiste vir verlossing is; hierdie vers kan derhalwe nie gebruik word om tweehonderd ander gedeeltes te weerspreek nie.

Maar kom ons neem aan dat vers 16 wel deel van die oorspronklike Markusevangelie was. Wat eintlik daar staan, is dat die doop ondergeskik is aan geloof. Doop is nie ’n voorwaarde vir verlossing nie; dit is eerder ’n sigbare teken van die innerlike geloof wat red. Volgens hierdie vers is die doop ondergeskik aan geloof. Let ook daarop dat Markus nie die doop noem as hy die teendeel stel nie. Hy sê nie ‘hy wat nie glo en gedoop word nie, sal veroordeel word’ nie. Hy sê bloot: maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word, sonder om die doop te noem. So selfs al ís hierdie vers deel van Markus se oorspronklike skryfwerk, skryf dit nie voor dat die doop ’n vereiste vir verlossing is nie; daar staan nie dat versuim om met water gedoop te word tot oordeel lei nie. Slegs versuim om te glo kan tot oordeel lei.

d. Daar sal tekens in die Liggaam van Gelowiges wees
Die vierde punt in die tweede finale opdrag word in Markus 16:17-18 opgeteken: En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.

Die vierde punt is dat sekere tekens in die gelowiges as ’n groep te siene sal wees: eerstens sal daar duiwels uitgedryf word; tweedens sal hulle in tale spreek as ’n teken van ’n nuwe element, die Kerk; en derdens sal mense genees word van slangbyte, gif en siektes. Hierdie gedeelte sê nie dat elke individu al hierdie dinge sal doen nie; dit sê bloot dat al hierdie dinge in die gelowiges as ’n groep teenwoordig sal wees. Weer eens word vers 17 en 18, net soos vers 16, nie in die oudste, beste Griekse manuskripte aangetref nie. Dit is waarskynlik ’n latere byvoeging, aangesien dit vreemd voorkom dat hierdie gawes, soos tale, op hierdie punt genoem word, hoewel nie Matthéüs, Lukas of Johannes daaroor praat nie. Die spreek in tale het skynbaar eers in die boek Handelinge sy opwagting gemaak. Maar selfs al neem ons aan dat hierdie verse oorspronklik is, sê Jesus nie dat elke individu al hierdie dinge sal beoefen nie. Hy sê bloot dat al hierdie dinge aanwesig sal wees in die gelowiges as ’n groep. Indien hierdie teksgedeelte ons leer dat elke gelowige in tale moet praat, moet ons ook daaruit verstaan dat elke gelowige gif moet drink en deur slange gebyt moet word, maar die meeste mense wil nie só ver gaan nie.

e. Die Messias se teenwoordigheid tot aan die einde van die tyd
Die vyfde saak in hierdie tweede finale opdrag is dat Jesus teenwoordig sal wees tot aan die voleinding van die wêreld (Matt 28:20).

N. Die negende verskyning: Jakobus
Die veertiende gebeurtenis in die verloop van die Opstanding is Jesus se negende verskyning, hierdie keer aan Jakobus, wat kortliks in 1 Korinthiërs 15:7 opgeteken word: Daarna het Hy verskyn aan Jakobus …

Die Jakobus wat in hierdie boodskap genoem word, is nie die apostel Jakobus nie, maar Jakobus, Jesus se halfbroer. Jesus het vier halfbroers gehad, Maria en Josef se seuns. Sy vier halfbroers het skepties gebly vir die duur van sy aardse bediening. Jesus het egter aan sy halfbroer Jakobus verskyn, wat ongetwyfeld tot sy bekering gelei het. Jakobus het in Jesus se Messiasskap begin glo. Danksy sy geloof was Jakobus later in staat om die eerste hoof van die kerk in Jerusalem te word. Dit is hierdie Jakobus wat die brief Jakobus geskryf het. Die ander drie halfbroers het skynbaar deur sy invloed ook tot bekering gekom. Een van hulle was Judas, wat die brief Judas geskryf het. Die ander twee halfbroers was nie Bybelskrywers nie.

O. Die tiende verskyning: Die elf apostels
Dit bring ons by die vyftiende en finale geskiedkundige gebeurtenis, Jesus se tiende verskyning, wat aan die elf apostels was. Dit is die verskyning wat sy Hemelvaart direk voorafgegaan het, en wat in Lukas 24:44-49 en Handelinge 1:3-8 beskryf word. Lukas het albei verhale opgeteken. Hierdie teksgedeeltes openbaar die inhoud van die Messias se lering aan die dissipels tydens die veertig dae bediening ná sy Opstanding.

Lukas 24:44-46 sê: En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan …

Handelinge 1:3-4 sê: … aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het. En toe Hy nog met hulle saam was …

Tydens die veertig dae van bediening ná die Opstanding, het Jesus twee hoofterreine van Ou-Testamentiese studies aan hulle voorgehou.

1. Die lering oor Messiaanse profesie
Eerstens het Hy hulle onderrig in messiaanse profesie: hoe die waarhede oor sy dood en Opstanding in die Wet van Moses , die Profete en die Skrifte geleer is.

As Jesus die Ou Testament gebruik het, het Hy dit gebruik in die volgorde en verdeling waarin die Joodse volk dit gehad het, nie soos die moderne Christendom se Bybels dit herrangskik het nie. Die getal Ou-Testamentiese boeke in die Joodse en Christelike Bybels is dieselfde, maar die volgorde verskil. Die Joodse volgorde van die Ou Testament word in drie hoofafdelings verdeel, wat in Lukas 24:24 genoem word. Die eerste afdeling is die wet van Moses, wat die boeke Génesis, Exodus, Levítikus, Númeri en Deuteronómium bevat. Die tweede afdeling bevat die Profete, wat die groot profete – Jesaja, Jeremia en Eségiël – asook die twaalf klein profete insluit. Daniël word nie in die Joodse volgorde by die profetiese gedeelte ingesluit nie. Die profetiese afdeling bevat ook sekere geskiedenisboeke soos Josua, Rigters, 1 en 2 Samuel, en 1 en 2 Konings. Al die ander boeke van die Ou Testament verskyn in die derde afdeling, wat die Geskrifte genoem word. Partykeer word daar gewoon na hierdie afdeling as die Psalms verwys, aangesien die boek Psalms die eerste boek van hierdie afdeling is; dit bevat egter al die ander boeke wat nie deel van die Wet of die Profete vorm nie.

Jesus het vir sy dissipels messiaanse profesie en messiaanse waarheid geleer uit die Wet van Moses, die eerste afdeling; die Profete, die tweede afdeling, en die Psalms of Geskrifte, die derde afdeling. Hy het hulle in messiaanse profesie onderrig uit al drie dele van die Ou Testament volgens die Joodse volgorde.

2. Die lering oor die Koninkryksprogram
Die tweede terrein van Ou-Testamentiese waarheid wat Jesus die dissipels geleer het, het gehandel oor God se Koninkryksprogram, sodat hulle kon verstaan waarom die Koninkryk nie in daardie stadium gevestig sou word nie, maar eers later.

In Handelinge 1:6 het die dissipels Jesus gevra: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? Die antwoord wat Hy hulle gegee het, was: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet … nie. Let daarop dat Hy nie gesê het dat die Koninkryk nie vir Israel opgerig gaan word, soos wat sommige mense leer, nie. Trouens, Hy het die teenoorgestelde geleer: ‘Ja, die koninkryk vir Israel sal weer opgerig word, maar dit is julle nie beskore om die tyd te weet wanneer dit sal gebeur nie.’

Dit is omdat Jesus hierdie waarhede aan die apostels moes leer, dat hulle die Gees se spesiale Ou-Testamentiese bediening van verligting nodig gehad het; hulle het dié ontvang toe Jesus vroeër tydens sy bediening ná die Opstanding op hulle geblaas het.

3. Die derde Finale Opdrag
Op die laaste dag wat Jesus by hulle was, die veertigste dag, het Hy die derde van sy drie laaste opdragte, wat twee hoofpunte bevat het, aan hulle gegee.

a. Om te wag vir die Heilige Gees se koms
In die eerste plek moes die apostels tot met die koms van die Heilige Gees in Jerusalem bly. Die ontvangs van die Heilige Gees sou drie dinge beteken. Eerstens sou die Vader se belofte vervul word. Vroeër in die Evangelies het die Vader deur die Messias beloof dat Hy die Heilige Gees sou stuur nadat Jesus weggegaan het. Sodra die Heilige Gees gekom het, sou Hy vir altyd by hulle wees. Toe hulle die Heilige Gees in Handelinge 2 ontvang het, het dit die belofte van die Vader vervul.

Tweedens, volgens Handelinge 1:5, sou daardie ervaring wat hulle sou hê die Heilige Gees se doopbediening wees: Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.

Die ‘nie lank ná hierdie dae nie’ was tien dae later. Die Gees het in Handelinge ’n nuwe bediening begin, naamlik die doping met die Gees. Die doping met die Gees is iets wat elke gelowige ervaar en die gevolg van doping met die Gees is om deel te hê aan die Liggaam van die Messias.

Derdens het dit beteken dat hulle met krag uit die hoogte toegerus sou word (Luk 24:49), omdat die inwonende Gees hulle die krag sou gee vir ’n suiwer leefstyl en krag om die opdragte wat hulle ontvang het uit te voer.

b. Om die Evangelie te verkondig
Die tweede deel van hierdie derde, finale opdrag was dat hulle die evangelie in vier stadiums moes verkondig nadat hulle die Gees ontvang het: eerstens in Jerusalem, tweedens in die hele Judéa, derdens in Samaría, en vierdens tot aan die uiterste van die aarde. Dit verskaf die raamwerk vir die boek Handelinge, want daar sien ons dat die dissipels eers in Jerusalem gepreek het, toe in Judéa, toe in Samaría, en tot aan die einde van die aarde.

II. DIE TEOLOGIESE IMPLIKASIES, RESULTATE EN BETEKENIS VAN DIE OPSTANDING
A. Die Ou-Testamentiese Voorskou

Dit word op twee maniere duidelik dat die Messias se Opstanding deel van die Ou-Testamentiese voorspelling was.

1. Deur tipologie
Die eerste manier is deur tipologie. Daar was drie ‘tipes’ (vgl. ‘argetipe’, ‘prototipe’) in die Ou Testament wat die konsep van messiaanse opstanding oorgedra het. Die eerste tipe is Melgisédek. Die geskiedenis van Melgisédek verskyn in Génesis 14:18-20. Melgisédek het skielik sy opwagting in die geskiedenis gemaak, en net so vinnig weer verdwyn. Daar is geen rekord van sy genealogie, geboorte of kinderdae nie, en geen rekord van sy dood nie. Wat die geskiedkundige rekords betref, lewe hy vir ewig. Die tipologie word in Hebreeus 7:15-25 gebruik. Net so leef Jesus vir ewig danksy die Opstanding.

Die tweede tipe is dié van die twee voëls van Levítikus 14:4-7. Een is doodgemaak, die ander een is laat gaan, vry en lewendig. Dit stel dood en opstanding voor.

Die derde tipe is die Fees van die Eerstelinge in Levítikus 23:9-14. Volgens Paulus in 1 Korinthiërs 15:20-24, is die Fees van die Eerstelinge deur die Messias se Opstanding vervul.

2. Deur profesie
Die tweede manier is deur duidelike voorspellings aangaande die Opstanding, wat in vier teksgedeeltes gevind kan word. Die eerste is Psalm 16:9-10: Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon; want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.

Op twee plekke in die Nuwe Testament, Handelinge 2:24-30 en Handelinge 13:32-37, word daar verklaar dat Psalm 16:9-10 deur die Messias se Opstanding vervul is.

Die tweede profesie oor die opstanding is in Psalm 22:22-31. Psalm 22:1-21 is ’n profesie oor die Messias se dood, maar in vers 22 tot 31 is dieselfde Persoon wat in verse 1 tot 21 gesterf het, weer springlewendig. Derhalwe profeteer hierdie gedeelte ook oor die Opstanding.

’n Derde teksgedeelte is Psalm 118:22, wat in Handelinge 4:10-11 as ’n profesie oor die Opstanding gereken word.

Die vierde profesie is Jesaja 53:10-12. Jesaja 53:1-9 profeteer oor die dood van die Messias, maar in vers 10 tot 12 is Hy eweneens lewendig, want daar staan dat Hy ’n nakroos sal sien en dat sy dae verleng sal word. Dit het ook deur die Opstanding in vervulling gegaan.

Wat die teologiese implikasies betref, het die Ou Testament duidelik die opstanding voorspel, en Jesus het ongetwyfeld hierdie teksgedeeltes tydens sy veertig dae lange bediening ná die Opstanding gebruik om sy apostels te leer dat sy dood en Opstanding noodsaaklik was vir die bevestiging van sy Messiasskap.

B. Die feit van die opstanding
Ons kan op drie maniere sien dat die Bybel duidelik ’n fisiese opstanding uit die dood verkondig. Eerstens het die Messias sy Opstanding verskeie kere voorspel: Matthéüs 16:21; Markus 9:31; Lukas 18:33 en Johannes 10:17-18.

Tweedens word die feit van die Opstanding beklemtoon deurdat geen van die Evangelies met die dood van die Messias eindig nie; almal van hulle gaan verder en beskryf die Opstanding: Matthéüs 28:1-20; Markus 16:1-18; Lukas 24:1-49 en Johannes 20:1-21:3.

’n Derde manier waarop die Bybel die feit van die Opstanding uitwys, is deur die groot klem wat daar in die geskiedkundige boek Handelinge en in die sendbriewe op die Opstanding geplaas word. Byvoorbeeld in die boek Handelinge in Handelinge 2:24, 32; 3:15, 26; 4:2, 10; 5:30; 10:40; 13:30-37 en 17:3. In die sendbriewe word die Opstanding beklemtoon in Romeine 4:24-25; 6:4, 9; 7:4 en 8:11; 1 Korinthiërs 6:14; 2 Korinthiërs 4:14; Galásiërs 1:1; Efésiërs 1:20; Kolossense 2:12; 1 Thessalonicense 1:10; 2 Timótheüs 2:8 en 1 Petrus 1:12.

C. Die teorieë van die opstanding
Daar is verskeie teorieë wat poog om die Opstanding weg te redeneer. Omdat mense besluit om nie in die Opstanding te glo nie, moet hulle die leë graf op die een of ander manier verduidelik. Ongelowiges het vorendag gekom met sewe verskillende verduidelikings.

1. Die ‘sameswering om te lieg’-teorie
Die eerste algemene verduideliking is dat die hele storie ’n leuen is; dat die apostels saamgesweer het om te lieg; dat dit ’n sameswering was om die publiek te mislei. Maar daar is twee dinge wat hierdie teorie weerspreek. In die eerste plek, waarom het die Joodse skrywers prominensie verleen aan vroue wat die Opstanding sien gebeur het, wel wetende dat dit nie vir die Joodse gemeenskap aanvaarbaar sou wees nie? Vroue se woord is nie in Joodse howe aanvaar nie. Indien dit ’n leuen was, sou hulle nie vroue gekies het om die eerste ooggetuies van die opgestane Messias te wees nie. Tweedens, waarom sou hulle bereid wees om ’n afgryslike martelaarsdood te sterf as hulle geweet het dat dit een groot leuen was?

2. Die ‘gesteelde liggaam’-teorie
’n Tweede vals teorie, is die ‘Bedrogteorie’ of die ‘Gesteelde Liggaam’-teorie. Dit is die oudste teorie, en is vroeër in die geskiedenisafdeling bespreek. Soos ek vroeër uitgewys het, kon slegs twee groepe belanggestel het om die liggaam te steel. Die eerste is die dissipels, maar waarom sou hulle elk bereid wees om ’n afgryslike martelaarsdood te sterf wel wetende dat die opstanding ’n leuen was? Die tweede groep, sy vyande, kon nie sy liggaam te voorskyn bring om die apostoliese prediking oor die Opstanding verkeerd te bewys nie. Buitendien sou die teenwoordigheid van die Romeinse wag dit onmoontlik gemaak het om die liggaam te steel.

3. Die beswymingsteorie
’n Derde vals teorie is die ‘Beswymingsteorie’, wat aanvoer dat Jesus flou geword het op die kruis en net skynbaar dood was, maar in die koue van die graf bygekom het. Maar die Evangelies maak dit baie duidelik dat Hy dood was; sy dood het duidelik geblyk uit die bloed en water wat uit sy verwonde sy gevloei het (Joh 19:33-34). Buitendien, indien ’n persoon flou raak op die kruis, is hy outomaties dood, want ’n bewustelose persoon kan homself nie optrek om asem te haal nie. Mense wat gekruisig was, het op die ou end weens asemnood omgekom, aangesien hulle na verloop van tyd nie meer die krag gehad het om hulself op te hys nie.

Hierdie teorie verg baie geloof, want mense word gevra om te glo dat Jesus ná drie dae sonder kos of water, sonder mediese sorg, nadat hy gegésel en gekruisig is, in staat was om Homself uit die styf opgerolde begrafnisdoeke te wikkel, die steen weg te rol, die Romeinse wag die skrik op die lyf te jaag, en te voet te ontsnap met die wonde van die spykers nog gapend aan sy voete. Dit verg baie meer geloof om dít te glo as om in die eenvoudige feit van die Opstanding te glo.

4. Die ‘verkeerde graf’-teorie
Die vierde vals teorie is dat hulle na die ‘verkeerde graf’ toe gegaan het. Die Evangelies maak dit egter duidelik dat die vroue noukeurig gelet het op waar hulle Jesus neergelê het. Die regte graf kon uitgeken word aan die Romeinse wag en die Romeinse seël, en daar was ’n engel teenwoordig. Daar was dus geen manier hoe hulle die verkeerde graf kon beetgehad het nie. Verder is Jesus nie in ’n openbare begraafplaas te ruste gelê waar daar baie ander grafte was nie; Hy is begrawe in ’n tuin wat in privaat besit was.

5. Die geesteorie
Die vyfde vals teorie is die ‘Geesteorie’ wat aanvoer dat slegs Jesus se gees opgestaan het, nie sy liggaam nie. Al vier Evangelies leer egter dat die Opstanding liggaamlik was.

6. Die hallusinasieteorie
Die sesde vals teorie is die ‘Visioenteorie’ of die ‘Hallusinasieteorie’, wat aanvoer dat die dissipels gehallusineer het. Hallusinasies gebeur egter met individue, nie met groepe nie; hallusinasies is ook nie aansteeklik nie. Dit hou gewoonlik verband met gebeure wat verwag word, maar die dissipels het nie die opstanding verwag nie. Verder is daar te veel uiteenlopende kenmerke in sy baie verskynings vir almal om een groot hallusinasie te wees.

7. Die ‘wilde dier’-teorie
Die sewende vals teorie is dat die een of ander ‘wilde dier’ die liggaam opgevreet het. Maar selfs ’n wilde dier sou sekere oorblysels, soos die bene, agtergelaat het. ’n Wilde dier kon nie die steen weggerol het nie. ’n Wilde dier sou die grafdoeke erg versteur het, tog het Jesus se grafdoeke onverstoord gebly. Verder sou die teenwoordigheid van die Romeinse wag enige wilde diere weggehou het.

D. Die bewyse vir die opstanding
Daar is ses bewyse dat die Opstanding van die Messias werklik gebeur het.

1. Die leë graf
Die eerste bewys is die leë graf, wat op die een of ander manier verklaar moet word. Ongelowiges het sewe verskillende teorieë ontwikkel om die leë graf te probeer wegredeneer. Die meeste teorieë verg baie meer geloof as om dié eenvoudige waarheid te glo: Jesus is uit die dood opgewek. Die juiste feit dat die graf leeg was, bewys dat die Opstanding gebeur het.

2. Die uiteenlopende ooggetuieverslae
’n Tweede belangrike bewys van die Opstanding is die feit dat daar ooggetuieverslae was wat uiteenlopend en onderskeibaar was. Daar is byvoorbeeld die ooggetuieverslag van Maria Magdaléna (Mark 16:9-11; Joh 20:11-18). Tweedens is daar die ooggetuieverslag van ’n ander groep vroue (Matt 28:9-10). Derdens is daar die twee dissipels op die pad na Emmáüs (Mark 16:12-13; Luk 24:13-32). Vierdens was daar Petrus se besondere ooggetuie-ervaring van die opstanding (Luk 24:34; 1 Kor 15:5). Vyfdens was daar die verskyning aan die tien apostels (Mark 16:14; Luk 24:36-43; Joh 20:19-25). Sesde was daar die ooggetuieverslae van die verskyning aan die elf apostels ’n week later toe hulle nog in Jerusalem was (Joh 20:26-31; 1 Kor 15:5). Sewende was daar ’n verskyning aan sewe van die elf dissipels by die See van Galiléa (Joh 21:1-23). Agtste was daar die verskyning aan die elf apostels terwyl hulle in Galiléa was (Matt 28:16-20; Mark 16:15-18). Negende was daar die verskyning aan vyfhonderd gelowiges op een slag, van wie baie nog geleef het toe Paulus daaroor geskryf het (1 Kor 15:6). Tiende was daar die verskyning aan Jakobus (1 Kor 15:7). Die laaste verskyning was aan die elf op die Olyfberg op die dag van sy Hemelvaart (Luk 24:44-49; Hand 1:3-8). Hierdie ooggetuieverslae van Jesus se Opstanding tussen die Opstanding en die Hemelvaart, ’n tydperk van veertig dae, is almal bewyse van die Opstanding.

3. Die na-opstandingsverskynings
’n Derde bewys van die Opstanding is dat daar ná die Hemelvaart nog verskynings van die opgestane Messias was. Hy het aan ten minste drie mense verskyn. Hy het eerste aan Stefanus verskyn op die dag van sy marteling (Hand 7:55-56).

Die tweede persoon was Paulus, aan wie Hy ten minste vier keer verskyn het. Die eerste keer was die dag toe Paulus tot bekering gekom het op die pad na Damaskus, iets wat drie keer in die boek Handelinge aangeteken word (Hand 9:3-6; 22:6-11 en 26:13-18). Paulus self het dit bevestig (1 Kor 15:8). Jesus het ook aan Paulus verskyn toe Hy in Arabië was; Paulus verwys in Galásiërs 1:12, 17 hierna. Hy het ’n derde keer aan Paulus verskyn toe hy in die Tempelhofarea was (Hand 22:17-21). Vierdens het hy ten minste nog een keer in Jerusalem aan Paulus verskyn (Hand 23:11).

Die derde persoon aan wie Jesus na sy Hemelvaart verskyn het, was die apostel Johannes. Die besonderhede hiervan word in Openbaring 1:9-3:22 verstrek.

4. Die transformasie van mense wat Hom geken het
Die vierde bewys van die Opstanding is die skielike transformasie van die mense wat vir Jesus voor én na sy Opstanding geken het. Een voorbeeld is die dissipels. Vóór Jesus se Opstanding, is hulle gekenmerk as bangbroekige, paranoïese mans wat hulleself in hul huise moes toesluit omdat hulle Israel se leiers gevrees het. Ná die Opstanding, in die boek Handelinge, het hulle skielik kragtige verkondigers van die Opstanding geword. Hulle is nie meer geïntimideer deur die leiers van Israel se dreigemente nie; hul vreesloosheid het selfs tot marteling gelei. Hulle het die dood met volle geloofsoorgawe in die gesig gestaar.

’n Tweede voorbeeld van die transformasie van die mense wat Jesus geken het, is sy eie halfbroers. Selfs tot met sy dood, het sy vier halfbroers nie sy aansprake op Messiasskap geglo nie. Ná sy Opstanding het ten minste een van sy halfbroers, Jakobus, skielik die opgestane Messias gesien. Hy het ’n gelowige geword en was later die eerste hoof van die kerk in Jerusalem. Ons weet dat ’n ander halfbroer, Judas, wat die sendbrief Judas geskryf het, ook ’n gelowige geword het. Die vierde getuienis van die Opstanding is dus die transformasie van die einste mense wat Hom waarlik voor én na sy dood geken en gesien het.

5. Die Nuwe Testament
’n Vyfde bewys van die Opstanding is die bestaan van die Nuwe Testament. Dit was die Opstanding wat die dissipels aangespoor het om die Evangelies te skryf. Die Nuwe Testament het oorleef, ten spyte van baie pogings om dit te onderdruk. Daar is selfs vandag nog pogings om dit in verskeie dele van die wêreld te onderdruk. Tog is die blote bestaan van die Nuwe Testament bewys dat dit die Woord van God is en dat die getuienis oor die Opstanding waar is.

6. Die bestaan van die kerk
Die sesde bewys van die Opstanding is die bestaan van die Kerk. Die feit dat hierdie entiteit danksy die Opstanding van die Messias tot stand gekom het, en bly voortbestaan ten spyte van tallose pogings om dit te vernietig of te ondermyn, is ook ’n bewys van die Opstanding.

E. Die agent van die opstanding
Al drie lede van die Drie-eenheid het ’n rol gespeel in Jesus se Opstanding.

God die Vader het ’n rol gespeel in die Messias se Opstanding; dit blyk uit ’n aantal Skrifgedeeltes: Hand 2:24, 32; 3:26; 5:30; 13:30; Romeine 6:4; 1 Korinthiërs 6:14; Galásiërs 1:1; Efésiërs 1:20 en 1 Petrus 1:3. God die Vader het ongetwyfeld die grootste aandeel gehad in die Messias se opstanding.

Die Seun het ook ’n rol gespeel in die Opstanding, want Hy het die krag gehad om sy lewe weer terug te neem soos Hy self in Johannes 2:19 en 10:17-18 gesê het.

Die Heilige Gees het ook ’n rol gespeel in die Opstanding van die Messias, soos daar staan in Romeine 8:11.

Al drie lede van die Drie-eenheid het dus spesifieke rolle gehad wat hulle in die Opstanding van die Messias gespeel het.

F. Die redes vir die opstanding
Daar is vier redes waarom die Opstanding nodig was. Die eerste rede het te doen met Wie Jesus is (Joh 1:4; 5:26). Aangesien Hy die Seun van God is, die God-Mens, die Messias van Israel, kon God die Vader Hom nie dood laat bly nie. Hy is dus opgewek oor Wie Hy is.

Die tweede rede hoekom Jesus uit die dood opgewek is, is om die Verbond van Dawid te vervul. Die Verbond van Dawid noem vier ewige dinge: ’n ewige huis, ’n ewige troon, ’n ewige koninkryk en ’n ewige nakomeling. As Jesus doodgegaan en nooit weer opgestaan het nie, sou die vierde ewige element onvervuld gebly het. Aangesien die Verbond van Dawid egter ’n ewige Persoon belowe, moes Jesus opgewek word sodat Hy inderdaad die vervulling van die vierde ewige belofte kon wees. Hierdie belofte word profeties in 1 Kronieke 17:14 gegee, en bevestig deur Psalm 89:29 en 36-37. Die profeet Jesaja wy in Jesaja 9:6-7 meer oor hierdie aspek uit. Die Nuwe Testament bevestig hierdie waarheid (Luk 1:31-33; Hand 2:24-31). Die tweede rede vir die Opstanding is dus om die Verbond van Dawid te vervul.

Die derde rede vir die Opstanding is sodat Jesus die bron van opstandingslewe kon word. Ten einde die bron van opstandingslewe te wees, moes Hy Self opstaan (Joh 10:10; 11:25-26; Kol 3:1-4; 1 Joh 5:11-12). Die rede hoekom ons ook eendag opstandingslewe gaan hê, is omdat Jesus opgestaan het.

Die vierde rede vir die Opstanding is sodat Jesus die bron van opstandingskrag kan word. Omdat Hy die bron van opstandingskrag is danksy sy eie Opstanding, kan gelowiges hul opdrag uitvoer (Matt 28:18; Ef 1:19-20). Gelowiges het nou die krag om die Groot Opdrag uit te voer, want Jesus is die bron van opstandingskrag.

G. Die aard van die opstandingsliggaam
Daar is nege spesifieke sake om in ag te neem wat die aard van Jesus se opstandingsliggaam betref. Eerstens, soos ons vroeër in die studie van die historiese deel genoem het, kon ’n mens Hom nie altyd dadelik herken nie. Daar was genoeg veranderinge aan sy opstandingsliggaam dat Hy nie onmiddellik herkenbaar was nie; tog was daar genoeg ooreenkomste dat dié wat Hom geken het, Hom uiteindelik kon eien as presies dieselfde Persoon wat hulle vroeër geken het (Luk 24:16, 31; Joh 20:15; 21:7). Daar was baie veranderinge, maar ook baie ooreenkomste.

Tweedens het Jesus die vermoë gehad om te verskyn en te verdwyn (Luk 24:31-36; Joh 20:19).

Derdens het sy nuwe liggaam geen fisiese hindernisse geken nie. Hy kon dwarsdeur mure en geslote deure beweeg (Joh 20:19).

Die vierde aspek van die aard van Jesus se opstandingsliggaam, is dat dit ’n fisiese liggaam was. Hoewel Hy die vermoë gehad het om te verskyn en te verdwyn, en om deur fisiese hindernisse te beweeg, het Hy ’n fisiese liggaam met vlees en bene gehad, soos Jesus Homself beskryf het (Luk 24:39-40). ’n Mens verwag natuurlik dat daar moet staan ‘vlees en bloed’, maar die opstandingsliggaam bevat nie bloed nie. Dit word nie deur bloed onderhou nie, maar deur gees. Vandaar die vlees en bene in plaas van ‘vlees en bloed’.

Vyfdens het Jesus se Opstandingsliggaam nog steeds die merke van die spykers en die spieswond gehad (Joh 20:24-27). Die kruisiging se littekens was steeds duidelik op sy liggaam.

Die sesde aspek van die aard van Jesus se opstandingsliggaam, is dat dit nie bloot gees was nie. Jesus het vis en brood geëet om te wys dat Hy nie net gees, ’n skim of ’n spook was nie (Luk 24:41-43).

In die sewende plek kon sy opstandingsliggaam gevoel word. Hoewel Hy die vermoë gehad het om te verskyn en te verdwyn en deur mure te beweeg, het Hy genoeg vlees en beenmateriaal gehad dat sy liggaam gevoel kon word (Matt 28:9; Luk 24:39; Joh 20:17).

Die agtste kenmerk is dat Jesus se opstandingsliggaam sigbaar was. Dit was ’n liggaam wat in die normale gang van sake gesien kon word. Dit was nie maar net ’n visioen of ’n droom nie, maar ’n gewone, alledaags waarneembare gesig (Joh 20:20).

Die negende ding wat ons oor die aard van die Messias se opstandingsliggaam kan sê, is dat dit kon asemhaal en wel asemgehaal het (Joh 20:22).

Op grond van hierdie nege kenmerke kan ons drie gevolgtrekkings maak. In die eerste plek was dit dieselfde liggaam as die een wat gesterf het. Hierdie liggaam is nie van voor af geskep nie; dit was dieselfde liggaam wat in die graf geplaas is. Tweedens het hierdie liggaam ’n verandering ondergaan – nie ’n absolute, algehele verandering nie, maar ’n groot verandering in baie opsigte. Daar was genoeg veranderings sodat Jesus nie dadelik herken kon word nie, nietemin het daar genoeg elemente gebly sodat Hy as dieselfde Jesus herken kon word. Derdens is die Messias se opstandingsliggaam verheerlik, maar daardie heerlikheid was nog versluier tydens die veertig dae lange bediening ná die Opstanding. Toe Hy verskyn het, het Hy net soos ’n gewone man gelyk, soos wat die geval was met die vroue in die tuin en met die twee dissipels op die pad na Emmáüs. Vir die veertig dae lange duur van Jesus se bediening ná die Opstanding, was sy heerlikheid versluier, maar ná sy Hemelvaart was dit nie meer weggesteek nie (Fil 3:21; Op 1:12-18).

Hierdie is die feite oor die aard van Jesus se opstandingsliggaam. Dit is nie altyd duidelik of hierdie dinge so is omdat dit ’n opstandingsliggaam was, en of dit so was omdat Hy God is nie. Party van hierdie kenmerke sal vir ons opstandingsliggame ook geld, maar party dinge sal beslis nie vir ons geld nie. Byvoorbeeld, ons opstandingsliggaam is klaarblyklik perfek, sonder enige tekens van veroudering of skending; tog het Jesus se liggaam nog die spykermerke gehad. Wat dus vir sy opstandingsliggaam geld, sal nie noodwendig vir ons s’n geld nie, maar daar sal baie ooreenkomste wees.

H. Die belangrikheid van die opstanding
Hoekom is dit belangrik om die Opstanding van die Messias te verkondig? Dit is belangrik om twee redes. In die eerste plek is dit ’n integrale deel van die evangelie (1 Kor 15:4; 2 Tim 2:8). Die evangelie bevat drie punte: eerstens, dat die Messias volgens die Skrif vir ons sonde gesterf het; tweedens, dat Hy begrawe is, en derdens, dat Hy op die derde dag weer opgestaan het, volgens die Skrif. Dit is die drie punte van die evangelie; daar kan niks by dit gevoeg word nie; dit is die hele evangelie. Enige toevoegings tot hierdie drie punte maak dit ’n vals evangelie. Die Opstanding is deel van die evangelie, daarom is dit iets wat geglo, verkondig en gepredik moet word.

Die tweede rede waarom die Messias se Opstanding belangrik is, is omdat dit volgens 1 Korinthiërs 15:12-19 die grondslag van die gelowige se toekomstige opstanding uit die dood vorm. Paulus lig verskeie feite uit. In die eerste plek, as Christus nie uit die dood opgewek is nie, is ons prediking vergeefs (v 14). Indien die Messias dood gebly het, het verlossing niks verder as die graf self gegaan nie. Indien Hy nie uit die graf opgestaan het nie, sou ons prediking leeg en vergeefs wees en ons sonder hoop laat. Tweedens, as Jesus nie uit die dood opgewek is nie, is ons geloof nutteloos (v 14, 17). Dit sou met ander woorde ’n leë geloof wees, ’n geloof wat nie ewige resultate lewer nie. Dit sou tydelik van nut kon wees in die teenswoordige lewe, maar dit sou alles tot ’n einde kom as ons sterwe. Geloof is dus nutteloos as die Messias nie opgestaan het nie. Derdens het die apostels nie net Jesus se dood sien gebeur nie, maar ook sy Opstanding (v 15). Indien hul woord nie waar is nie, is hulle vals getuies. Vierdens, as Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, is die gelowiges nog in hul sonde vasgevang (v 17). Hoewel Jesus deur sy dood versoening vir sonde bewerk het, het Hy deur sy Opstanding krag oor sonde voorsien. Ons sou nog steeds in ons sonde vasgevang wees as Hy nie uit die dood opgestaan het nie. Ons moet die evangelie glo om vergifnis vir ons sonde te ontvang, en die Opstanding is deel van die evangelie. Vyfde, as Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, sou daar nie hoop gewees het vir mense wat reeds gesterf het nie (v 18). As Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, sou die gelowiges wat reeds gesterf het, ook nie uit die dood opgestaan het nie. Sesde, as ons ons lewe volgens ’n valse maatstaf leef, sal ons ’n ellendige bestaan voer (v 19). As die Opstanding nie werklik gebeur het nie, sou dié wat die opgestane Messias volg, ’n leuen lewe.

I. Die betekenis van die Opstanding
Die betekenis van die Opstanding lê op vier spesifieke terreine.

1. Die betekenis vir Christus
Die eerste terrein van betekenis hou verband met die Messias, en wel op vier maniere: eerstens het die Opstanding bewys dat Hy die Seun van God is (Rom 1:4); tweedens het dit die waarheid van alles wat Hy gesê het, bevestig (Matt 28:6); derdens beteken sy Opstanding dat Hy die eersteling van die eerste opstanding is (1 Kor 15:20-23); vierdens was Jesus se Opstanding ’n verklaring deur die Vader dat die Messias aan al die vereistes van die Wet van Moses voldoen het (Fil 2:9).

2. Die betekenis vir alle mense
Die tweede betekenis van die Opstanding was vir alle mense in die algemeen, veral vir die ongelowige wêreld, en wel op twee maniere: Jesus se Opstanding verseker in die eerste plek die opstanding van alle mense, gelowiges sowel as ongelowiges (1 Kor 15:20-22); tweedens waarborg sy Opstanding die oordeel van alle ongelowiges. Hy is die Een wat die ongelowiges sal oordeel, wat Hy nie sou kon doen as Hy nie opgestaan het nie. Sy Opstanding waarborg dus die oordeel van alle mense (Hand 10:40-42; 17:30-31).

3. Die betekenis vir Ou-Testamentiese gelowiges
Die derde betekenis van Jesus se Opstanding is vir Ou-Testamentiese gelowiges in soverre dit die vervulling van die Ou-Testamentiese belofte aangaande hul verlossing vervul het: die verwydering van hul sondes en die waarborg van hul opstanding vorentoe (Hand 13:32-33). Die opstanding van die Messias het selfs betekenis gehad vir gelowiges wat gesterf het voor Hy gesterf het.

4. Die betekenis vir gelowiges
Die vierde betekenis van die Messias se Opstanding was vir gelowiges, en wel om sewe redes. Eerstens bewys die Opstanding van Jesus dat ons regverdigmaking bewerk is (Rom 4:24-25). Die Griekse deelword wat Paulus in hierdie teksgedeelte gebruik is dia, wat beteken ‘weens’ of ‘omrede’. Die Messias se dood is die grondslag van ons regverdigmaking. Daar staan dat Hy opgewek is ‘weens’ of ‘omrede’ ons regverdigmaking bereik is. Aangesien ons regverdigmaking deur sy dood behaal is, is Hy op grond van daardie daad uit die dood opgewek om te bewys dat ons deur geloof geregverdig is.

Tweedens waarborg sy Opstanding krag vir ons diens as Christene (Ef 1:17-20). Gelowiges kan in die opstandingskrag deel om hul roeping uit te leef.

Derdens waarborg sy Opstanding die gelowige se individuele opstanding (Rom 8:11; 1 Kor 6:14; 2 Kor 4:14).

Vierdens beteken Jesus se Opstanding die vergifnis van die gelowige se sondes (1 Kor 15:7).

Vyfdens is Jesus op grond van sy Opstanding aangewys as die hoof van die Kerk (Ef 1:20-22).

Sesdens beteken die Messias se Opstanding dat Hy nou, wat gelowiges betref, die sleutels van die doderyk hou (Heb 2:9-18). Satan het nie meer die gesag om ’n gelowige dood te maak nie. Die Messias het beheer oor die magte van die dood omdat Hy Satan se domein – die doderyk – binnegegaan het. Daar het hy die sleutels by hom afgeneem en deur middel van sy Opstanding ‘deur’ daardie dood gegaan. Hy beheer steeds die sleutel van die doderyk (Op 1:18).

Sewende beteken die Opstanding van Jesus dat daar ’n simpatieke Hoëpriester in die hemel is. Hy is in die hemel as Hoëpriester omdat Hy uit die dood opgewek is (Heb 4:14-16).
[end]

Inhoudsopgawe
I. DIE GESKIEDENIS VAN DIE OPSTANDING
     A. Die aanbreek van die opstandingsdag
     B. Die oopbreek van die graf
     C. Die aankoms van die vroue
     D. Die vroue se nuus
     E. Die eerste verskyning: Maria Magdaléna
     F. Die tweede verskyning: Die vroue
     G. Die wag se verslag
     H. Die derde verskyning: Die twee dissipels op die pad na Émmaüs
     I. Die vierde verskyning: Petrus
     J. Die vyfde verskyning: Die tien
         1. Die eerste Finale Opdrag
             a. Die gee van ’n gesaghebbende bediening
             b. Die ontvangs van die Heilige Gees
             c. Die uitbreiding van apostoliese gesag
         2. Thomas se bevestiging van die Messias se opstanding
     K. Die sesde verskyning: Die elf
     L. Die sewende verskyning: Die sewe
         1. Die apostels se terugkeer na visvangs
         2. Die her-roeping van die apostels
         3. Petrus se indiensstelling
     M. Die agtste verskyning: Die vyfhonderd
         1. Die verskyning aan die vyfhonderd
         2. Die tweede Finale Opdrag
             a. Die delegering van gesag
             b. Die opdrag self
                 i. Prediking
                 ii. Doop
                 iii. Lering
             c. Dié wat glo, sal gered word
             d. Daar sal tekens in die Liggaam van Gelowiges wees
             e. Die Messias se teenwoordigheid tot aan die einde van die tyd
     N. Die negende verskyning: Jakobus
     O. Die tiende verskyning: Die elf apostels
         1. Die lering oor Messiaanse profesie
         2. Die lering oor die Koninkryksprogram
         3. Die derde Finale Opdrag
             a. Om te wag vir die Heilige Gees se koms
             b. Om die Evangelie te verkondig
II. DIE TEOLOGIESE IMPLIKASIES, RESULTATE EN BETEKENIS VAN DIE OPSTANDING
     A. Die Ou-Testamentiese Voorskou
         1. Deur tipologie
         2. Deur profesie
     B. Die feit van die opstanding
     C. Die teorieë van die opstanding
         1. Die ‘sameswering om te lieg’-teorie
         2. Die ‘gesteelde liggaam’-teorie
         3. Die beswymingsteorie
         4. Die ‘verkeerde graf’-teorie
         5. Die geesteorie
         6. Die hallusinasieteorie
         7. Die ‘wilde dier’-teorie
     D. Die bewyse vir die opstanding
         1. Die leë graf
         2. Die uiteenlopende ooggetuieverslae
         3. Die na-opstandingsverskynings
         4. Die transformasie van mense wat Hom geken het
         5. Die Nuwe Testament
         6. Die bestaan van die kerk
     E. Die agent van die opstanding
     F. Die redes vir die opstanding
     G. Die aard van die opstandingsliggaam
     H. Die belangrikheid van die opstanding
     I. Die betekenis van die opstanding
         1. Die betekenis vir Christus
         2. Die betekenis vir alle mense
         3. Die betekenis vir Ou-Testamentiese gelowiges
         4. Die betekenis vir gelowiges

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

In hierdie studie word die Messias (Christus) se hemelvaart in twee afdelings bespreek: eerstens, die geskiedenis van die hemelvaart en tweedens, die teologiese implikasies, betekenis en gevolge van die hemelvaart.