Die plaaslike gemeente

Spring na die artikel se inhoudsopgawe

LAAT die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. – 1 Timótheüs 5:17

Die universele kerk se omskrywing sê dit bestaan uit al die gelowiges – slegs gelowiges – tussen Handelinge 2 en die Wegraping; die plaaslike gemeente, daarteenoor, het ’n ander definisie. Hoewel daar nie ’n eksplisiete definisie van die plaaslike gemeente in die Nuwe Testament verskyn nie, is daar genoeg beskrywings en besonderhede in die Bybel oor die normale kenmerke van ’n funksionerende plaaslike gemeente sodat ’n mens ’n omskrywing uit al die beskikbare getuienis kan aflei.
Hierdie studie van die plaaslike gemeente word in agt dele verdeel: die definisie, die bestaansredes, kerkregering, organisasie en leierskap, kerklike tug, die Sabbat en Sondag, die samekoms van die gemeente en die rol van vroue in die plaaslike gemeente.

I.DIE DEFINISIE
’n Plaaslike gemeente kan gedefinieer word as ’n groep belydende gelowiges in die Messias wat gedoop is en hulleself onder die leierskap van ouderlinge en diakens georganiseer het om die Groot Opdrag uit te voer, om die ordinansies van die Doop en Nagmaal te bedien, en om die Liggaam op te bou deur die aanbidding van God, die gemeenskap van die gelowiges, onderrig in die Woord, en die beoefening van geestelike gawes.

Party mense definieer die kerk eenvoudig as enige plek “waar twee of drie in my Naam vergader”. Al wat ons in Matthéüs 18:20 sien, is dat die Messias in die twee of drie wat vergader se midde is. Dit is egter nie die definisie van ’n plaaslike gemeente nie. ’n Plaaslike gemeente behels baie meer as die blote samekoms van twee of drie mense.

Aangesien daar slegs een universele kerk is, word die woord “Kerk” altyd in die enkelvoud gebruik om na die universele kerk te verwys. Die woord kan egter in die enkelvoud en meervoud gebruik word, en ons vind albei gebruiksvorme in die Nuwe Testament waar daar na die plaaslike gemeente verwys word. Daar word byvoorbeeld in die enkelvoud verwys na die gemeente in Jerusalem (Hand 8:1; 11:22); die gemeente in Antiochië (Hand 13:1); die gemeente in Éfese (Hand 20:17); die gemeente in Kenchréë (Rom 16:1); die gemeente in Korinthe (1 Kor 1:2; 2 Kor 1:1); die gemeente van die Laodicense (Kol 4:16), en die gemeente van die Thessalonicense (1 Thess 1:1; 2 Thess 1:1). Hierdie kerke was almal plaaslike gemeentes; die woord word in die enkelvoud gebruik, aangesien daar slegs een plaaslike gemeente in elk van hierdie gebiede was. Omdat daar egter ’n klomp plaaslike gemeentes is, vind ons die woord ook in die meervoud. Die Bybel praat byvoorbeeld van die gemeentes van Galásië (Gal 1:2); die Christelike gemeentes van Judéa (Gal 1:22; 1 Thess 2:14), en die gemeentes in Asië (Openb 1:4).

Een laaste aspek wat die noukeurige definisie van die plaaslike gemeente betref: Die plaaslike gemeente is ook die Tempel van God. Volgens die Skrif beskik die Tempel van God vandag oor drie fasette. Eerstens is die gelowige individu ’n Tempel van God, omdat sy liggaam die woonplek van die Heilige Gees is (1 Kor 6:19). Tweedens is die universele kerk ’n Tempel van God (Ef 2:19-22). En derdens is die plaaslike gemeente ook ’n Tempel van God (1 Kor 3:16-17).

II. DIE BESTAANSREDES VAN DIE PLAASLIKE GEMEENTE
In die tweede deel van hierdie studie behandel ons dertien bestaansredes van die plaaslike gemeente. Die eerste hiervan is om onderrig te gee in die Bybelse leer, die inhoud van die Skrif en die volle waarheid van God (Hand 2:42; 11:26; 1 Tim 3:15-16).

Die tweede doel van die plaaslike kerk is om die funksie van priesterskap te vervul (1 Kor 16:1-2; 2 Kor 8:1-15; Fil 4:18). Alle gelowiges is ’n priesterdom, en elke gelowige moet die funksie van ’n priester vervul, naamlik om die mense voor God te verteenwoordig.

Die derde bestaansrede is gesamentlike gebed. Die gelowige moet nie net as ’n individu bid nie, maar gelowiges moet ook gesamentlik as ’n plaaslike liggaam bid sodat hulle in hul gebedslewe met mekaar kan saamstem, God se leiding kan soek of smeekgebede tot God kan rig (Hand 2:42; 4:31; 12:5, 12; Heb 13:15).

Die vierde doel is die bediening van die ordinansies. Hierdie ordinansies is die doop en die Nagmaal (Hand 2:41-42; 20:7; 1 Kor 11:23-29).

Die vyfde bestaansrede van die plaaslike gemeente is die beoefening van die geestelike gawes (1 Kor 12, 13, 14).

Die sesde doel van die plaaslike gemeente is die beoefening van kerklike tug, sowel as geestelike dissipline (1 Kor 5:1-13; 2 Thess 3:14-15; 1 Tim 5:20).

Die sewende doel van die plaaslike gemeente is om sendelinge na alle wêrelddele te stuur (Hand 11:22-24; 13:1-4).

Die agtste bestaansrede is om in die algemeen vir die armes te sorg, maar veral vir behoeftige gelowiges (Hand 6:1-6; 2 Kor 8:4-7; 1 Tim 5:16; Jak 1:27).

Die negende doel is om dissipels te maak, en om gelowiges stewig as dissipels in die Woord van God te anker. Dissipelskap behels drie elemente: om die evangelie te verkondig, die doop te bedien en die Woord van God te onderrig (Matt 28:18-20).

Die tiende bestaansrede van die plaaslike gemeente is om die Liggaam van die Messias op te bou. Die Liggaam van die Messias is die universele kerk, maar die universele kerk bestaan uit ’n klomp plaaslike gemeentes, uit alle gelowiges (Ef 4:11-16). Dit is sodat individuele lede van die liggaam stewig in die Woord van God gegrondves en geanker kan wees, sodat hulle nie meer deur elke leerstellige rukwind heen en weer gedryf word nie.

Die elfde doel van die plaaslike gemeente is om in die algemeen goeie werke in hierdie wêreld te doen, maar veral teenoor die huisgenote van die geloof (Gal 6:10).

Die twaalfde bestaansrede is om die Messias se liefde uit te leef, sodat die wêreld die gelowige se liefde vir Hom kan sien (Openb 2:4-5).

Die dertiende doel van die plaaslike gemeente is om God deur sy bediening te verheerlik (Rom 15:6, 9; Ef 3:21; 2 Thess 1:12; 1 Pet 4:11).

III. KERKREGERING
Die derde afdeling van die studie oor die plaaslike gemeente kyk na die vraag: Wat presies is die bybelse uitdrukking van kerkregering? Verskillende kerkgenootskappe gebruik verskillende uitdrukkings van kerkregering; hierdie afdeling word in vyf dele verdeel op grond van die verskillende vorme van kerkregering wat ons aantref.

A. Die Nasionale Uitdrukking van Kerk
Die eerste uitdrukking van kerkregering wat ons bespreek, staan bekend as die “nasionale kerk”. Dit is gewoonlik eerder ’n uitvloeisel van kerkgeskiedenis as bybelse lering. In hierdie stelsel is die staatshoof ook die hoof van die kerk. Byvoorbeeld, wie ook al die koning of koningin van Engeland is, is ook die hoof van die Church of England. Wie ook al die regeringshoof van die onderskeie Skandinawiese nasies is, is ook die hoof van die Lutherse kerk in daardie spesifieke Skandinawiese land.

Die probleem met nasionale kerke is natuurlik dat die hoof dikwels ’n ongelowige is, aangesien die konings gewoonlik nie gelowiges was nie. Dink aan heersers soos Henry VIII en ander wat outomaties die hoof van die nasionale kerk geword het.

Daar bestaan natuurlik nie iets soos ’n nasionale kerk in die Nuwe Testament nie. Trouens, die kerk en die staat moes apart bly. Daarby is die kerk aan die staat onderwerp, nie die staat aan die kerk nie. Die nasionale kerk se vorm van kerkregering is dus nie bybels nie, ten spyte daarvan dat dit al eeue lank in die kerkgeskiedenis bestaan en vandag steeds bestaan.

B. Die Hiërargiese of Episkopaalse Uitdrukking
Die tweede vorm van kerkregering staan op twee maniere bekend, naamlik hiërargies of episkopaals. Laasgenoemde verwys nie na die episkopaalse kerkgenootskap as sulks nie; dit verwys eerder na ’n spesifieke soort kerkregering. Miskien is “hiërargies” daarom ’n beter term, omdat ’n mens dit nie so maklik met ’n spesifieke kerkgenootskap verwar nie. Hoewel dit wat ons sê oor die hiërargiese uitdrukking van kerkregering vir die episkopaalse kerkgenootskap ook geld, is dit nie net die Episkopaalse Kerk wat op hierdie spesifieke manier funksioneer nie.

Die hiërargiese of episkopaalse uitdrukking van regering behels dat ’n biskop of ’n kerkleier met ’n soortgelyke amp of titel die mag het om die plaaslike kerk uit hoofde van sy amp te regeer. Die biskop is die een wat die kerk regeer; net die biskop het die mag om persone te bevestig. Die hiërargiese of episkopaalse vorm van regering werk volgens ’n stelsel van apostoliese opvolging. Hierdie stelsel voer aan dat daar ’n aaneenlopende lyn van bevestiging van die apostels se tyd tot vandag toe was, en dat hul spesifieke groep daardie lyn in stand gehou het.

Met ander woorde, aanhangers van die hiërargiese of episkopaalse vorm van regering baseer hul oortuiging op die leerstelling van apostoliese opvolging. Dit is egter nie die Nuwe-Testamentiese lering nie. Daar is geen Nuwe-Testamentiese voorbeelde van so ’n opdrag oor opvolging nie. Die Bybel beskou nie die Kerk as een of ander soort koninklike familie wat die septer van dinastie na dinastie aangee nie; daar is eenvoudig nie iets oor apostoliese opvolging in die Bybel nie.

Trouens, in die eerste drie eeue van kerkgeskiedenis was daar hoegenaamd geen historiese opvolging nie. Die konsep van apostoliese opvolging het eers in die vierde eeu n.C. ontstaan, nadat Christenskap die amptelike geloof van die Romeinse Ryk geword het.

Boonop veroorsaak die unieke aard van die apostoliese amp juis dat dit nie oorgedra kan word nie. ’n Mens moet in ag neem dat die gawe van apostelskap sekere voorvereistes of voorwaardes stel. Om as ’n apostel te kwalifiseer, is die eerste vereiste byvoorbeeld dat ’n mens die opgestane Messias moes gesien het; tweedens was ’n apostel soos ’n profeet in dié opsig dat hy ’n direkte openbaring van God ontvang het. Die unieke aard van die apostoliese amp self maak dit dus onmoontlik om deur die een of ander vorm van apostoliese opvolging oorgedra te word.

In die hiërargiese of episkopaalse regeringsvorm is daar altyd ’n stand van geestelikes of priesters wat van die leke onderskei word. Tog leer die Bybel ons dat alle gelowiges deel vorm van die koninklike priesterdom. Hierdie Bybelse lering sluit ’n spesiale priesterstand uit.

Weer eens lees ons nêrens in die Nuwe Testament van hierdie vorm van kerklike regering nie. Dit het eers in die vierde eeu as ’n regeringsvorm na vore getree, en is gerugsteun deur die lering van apostoliese opvolging, wat ook eers in die vierde eeu ontstaan het.

Daar is verskeie groepe wat hierdie hiërargiese of episkopaalse regeringsvorm aanhang. Dit sluit die Rooms-Katolieke Kerk, die Episkopaalse Kerk, die Metodistekerk en die Lutherse Kerk in. Die mate van mag wissel van groep tot groep, maar dit bevat nietemin ’n mate van hiërargiese of episkopaalse orde. Die basiese gesagstruktuur of bevelsorde in hierdie regeringsvorm begin bo by die biskop of biskoppe, wentel dan af na die ouderlinge of priesters onder hulle, en dan nog verder na die diakens onder hulle.

C. Die Federale of Presbiteriaanse Uitdrukking
Nog ’n uitdrukking van kerkregering staan bekend as die “federale” of “presbiteriaanse” regering. Albei hierdie name verwys na dieselfde vorm. ’n Federale of presbiteriaanse regeringsvorm is een waar daar ’n verteenwoordigende regeringsvorm is. Dit erken die gesag van behoorlik aangestelde verteenwoordigers van plaaslike kerke, wat gewoonlik geografies saam gegroepeer word.

Die plaaslike gemeente self word beheer deur ’n kerkraad wat bestaan uit regerende ouderlinge wat deur die lede verkies word, met die ouderling wat lering gee of die predikant as die voorsittende beampte. Die ouderlinge wat lering gee, word deur ander predikante bevestig, maar die regerende ouderlinge word deur die gemeente bevestig.

Buiten die plaaslike gemeente wat deur ’n kerkraad geregeer word, is daar ’n hoër orde in die gesagstruktuur wat as die “ring” bekend staan. Die ring bestaan uit alle bevestigde predikante of ouderlinge wat lering gee, plus een regerende ouderling uit elke gemeente in ’n gegewe distrik. ’n Versameling ringe maak die volgende vlak uit, naamlik die sinode. Die volgende vlak – en hoogste regerende liggaam – bestaan uit groepe sinodes, en staan as die algemene vergadering bekend.

Met hierdie vorm van regering maak ouderlinge en diakens, getrou aan die Nuwe-Testamentiese orde, gewoonlik deel uit van die basiese raamwerk in plaaslike gemeentes, maar met twee uitsonderings. Eerstens kies die gemeente die regerende ouderlinge in hierdie stelsel, hoewel dit nie die geval is met ’n bybelse regeringsvorm nie. Tweedens het hulle gewoonlik net een ouderling wat lering gee, hoewel die bybelse vorm vereis dat daar meer ouderlinge moet wees wat lering gee. Hierdie stelsel het gelei tot kerkgenootskapstrukture soos die Presbiteriaanse en die Gereformeerde Kerk, maar ons vind nie sulke kerkgenootskapstrukture in die Nuwe Testament nie. Die Nuwe Testament praat nie van ’n algemene vergadering, ’n sinode of ’n ring nie. Wat dit wel ken, is plaaslike gemeentes wat onafhanklik is onder sekere owerhede, wat later bespreek sal word. Enkele voorbeelde van groepe wat hierdie vorm van kerklike regering aanhang, sluit die Presbiteriaanse en die Gereformeerde kerke soos, onder meer, die Nederduits Gereformeerde Kerk en die Christelik Gereformeerde Kerk in.

D. Die Gemeentelike Uitdrukking
Die vierde vorm van kerkregering staan bekend as die “gemeentelike” (“congregational”) vorm, en spruit uit die oortuiging dat geen mens of groep gesag oor die plaaslike gemeente behoort te hê nie. Die bron van gesag in die plaaslike gemeente is die mense wat aan daardie plaaslike gemeente behoort. Die gemeentelede besluit oor belangrike sake, ongeag die gesag van ander kerke, hiërargieë of selfs die amptenare in die betrokke plaaslike gemeente.

Ander voorbeelde van groepe wat die gemeentelike regeringsvorm aanhang, sluit die Baptiste, die Vrye Evangeliese Kerk, die Dissipels van Christus, die “Congregationalists” soos die Verenigde Kerk van Christus en enkele Onafhanklike Bybelkerke in. Hoewel die gemeentelike regeringsvorm redelik gewild is, bly die vraag altyd: Is dit ’n bybelse regeringsvorm? Is dit die soort kerkregering waarvan ons in die Bybel lees en leer? Daar is ses argumente wat gebruik word om die gemeentelike regeringsmodel te steun.

1. Om Eenheid te Bewaar
Een gunstelingargument wat gebruik word, is dat dit die hele kerk se plig is om kerkeenheid te handhaaf. Mense wat hierdie argument aanvoer, haal gewoonlik vyf Skrifgedeeltes aan. Die een is Romeine 12:6, maar hierdie gedeelte handel oor die gebruik van geestelike gawes, nie oor kerkregering nie. ’n Ander gedeelte is 1 Korinthiërs 1:10, maar hierdie vers het ook nie betrekking op kerkregering nie. ’n Derde gedeelte is 2 Korinthiërs 13:11, maar hierdie vers handel ook nie oor kerkregering nie. Die vierde gedeelte wat gebruik word, is Efésiërs 4:2, maar hierdie vers het niks oor kerkregering te sê nie. Laastens word Filippense 1:27 ingespan, maar hierdie vers sê eweneens niks oor kerkregering nie.

Dit is waar om te sê dat dit die hele kerk se plig is om die eenheid van die kerk te handhaaf. Maar hierdie stelling het nie betrekking op kerkregering nie. Die teksgedeeltes wat gebruik word om dit te staaf, dui geensins aan dat dit ’n model van kerkregering is nie.

Hoewel elke gelowige verantwoordelikhede het, en die plaaslike gemeente in die geheel ook verantwoordelikhede het, is dit nie op sigself ’n bewys dat die gemeentelede die regering vorm nie. Die Bybel leer ons nie van ’n gemeentelike regeringsvorm nie.

2. Om die Suiwer Leer en Praktyk te Handhaaf
Die tweede argument wat gebruik word om gemeentelike regering te steun, is dat dit die verantwoordelikheid van die hele kerk is om die suiwer leer en praktyk te onderhou. Twee hoofgedeeltes word gebruik om hierdie argument te staaf. Die eerste is 1 Timótheüs 3:15, maar die konteks van hierdie teksgedeelte het betrekking op kerkleiers, nie die gemeente in sy geheel nie. Die tweede teksgedeelte wat gebruik word, is Openbaring 2 en 3, maar die briewe in Openbaring 2 en 3 is gerig aan die engele van die gemeentes.

Dit is inderdaad die hele kerk se verantwoordelikheid om die suiwer leer en praktyk te handhaaf, maar hierdie feit op sigself sê niks oor die tipe regering wat die plaaslike gemeente behoort te hê nie, en dit dien ook nie as bewys van ’n lering ten gunste van die gemeentelike model van kerkregering nie.

3. Om die Ordinansies te Ontvang
Die derde argument ten gunste van die gemeentelike regeringsmodel wys daarop dat die ordinansies aan die hele kerk gegee is. Vier teksgedeeltes word aangehaal om hierdie punt te bewys. Die eerste teksgedeelte is Matthéüs 28:19-20, wat die Groot Opdrag uitstip, maar niks sê oor kerkregering nie. Dit onthul wat die doel van die plaaslike gemeente behoort te wees, maar dit sê nie hoe die regering behoort te werk nie.

Die tweede teksgedeelte is Lukas 24:33, maar hierdie vers sê ook niks oor kerkregering nie; dit noem bloot dat ander saam met die apostels in die bovertrek teenwoordig was.

Die derde teksgedeelte is Handelinge 1:15. Hierdie vers sê niks oor die ordinansies nie, maar noem bloot ’n unieke geleentheid toe Petrus leiding geneem het. Behalwe vir die feit dat ander persone saam met die apostels in die bovertrek teenwoordig was, lyk dit of hierdie vers in stryd is met die gemeentelike regeringsvorm.

Die vierde teksgedeelte wat vir hierdie argument gebruik word, is 1 Korinthiërs 15:6, maar hierdie teksgedeelte handel ook nie oor kerkregering nie; dit sê bloot dat Jesus buiten die apostels ook aan vyfhonderd ander mense verskyn het.

Die feit bly dat die ordinansies nie betrekking het op die regering van die plaaslike gemeente nie, al is dit aan die hele kerk gegee. Hierdie gedeelte sê bloot dat Jesus ook aan vyfhonderd ander gelowiges buiten die apostels verskyn het

4. Om Amptenare te Kies
Die vierde argument wat ten gunste van die gemeentelike regeringsmodel gebruik word, is om uit te wys dat die kerk sy eie amptenare kies. Ses verskillende teksgedeeltes word aangehaal om dit te staaf.

Die eerste gedeelte is Handelinge 1:23-26, waar Matthías gekies word om Judas se plek as apostel in te neem. Die probleem met die gebruik van hierdie teksgedeelte is dat Matthías gekies is deur lootjies te trek; nie eens aanhangers van die gemeentelike model sal ooit lootjies trek om te besluit watter diakens die gemeente moet kies nie.

’n Tweede vers wat gebruik word, is Handelinge 3:5, maar hierdie vers sê niks oor kerkregering nie.

Die derde teksgedeelte is Handelinge 6:3, 5, waar die apostels die gemeentelede vra om manne te kies wat as diakens kan dien. Maar die opdrag vir die verkiesing het van die apostels af gekom. Daarby het die apostels die kerk bloot gevra om manne aan te beveel wat as diakens kwalifiseer; ’n gemeente kan immers sien watter mense die geestelike gawes het wat op die amp van diaken of ouderling betrekking het. Hierdie diakens is in werklikheid deur die apostels aangestel, nie deur die gemeente verkies nie.

Die vierde teksgedeelte is Handelinge 13:2-3, maar hierdie teksgedeelte sê niks oor die verkiesing van amptenare nie; dit handel oor die stuur van sendelinge. Daarby beklemtoon Handelinge 13:1 duidelik die leierskap van die profete en leraars in daardie plaaslike gemeente, toe Paulus en Barnabas as sendelinge uitgestuur is.

Die vyfde teksgedeelte wat gebruik word, is Handelinge 15:2, 4, 22 en 30. As ’n mens egter na die konteks kyk, handel dit nie oor die gemeente wat besluite neem nie. Die klem val duidelik op die apostels en ouderlinge wat besluite geneem het.

Die laaste vers wat hiervoor gebruik word, is 2 Korinthiërs 8:19, maar hierdie teksgedeelte sê eweneens niks oor kerkregering nie, hoewel dit die plaaslike gemeente onder ’n verpligting plaas. Hierdie vierde argument hou dus ook nie water nie.

5. Om Tug Toe te Pas
Die vyfde argument wat gebruik word om die gemeentelike model van kerkregering te steun, is om daarop te wys dat die hele kerk die mag het om tug uit te oefen. Drie skrifgedeeltes word hiervoor aangehaal. Die eerste is Matthéüs 18:17; in konteks gesien, is dit egter die leiers van die kerk wat ’n sondige broer voor die gemeente bring. Ook hierdie teks het niks met die kwessie van kerkregering te doen nie.

1 Korinthiërs 5:4, 5 en 13 word ook aangehaal, maar hierdie gedeelte maak ook geen melding van kerkregering nie, en ander skrifgedeeltes plaas trouens die verantwoordelikheid vir tug op die kerkleiers.

Die finale gedeelte wat gebruik word, is 2 Thessalonicense 3:6, 14 en 15, maar kerkregering is nie hier ter sprake nie. Hoewel die hele kerk in ’n mate by kerklike tug betrokke is, lê die verantwoordelikheid by die leiers, en nie een van hierdie gedeeltes staan ’n gemeentelike regeringsmodel voor nie.

6. Om ’n Leierskorps Daar te Stel
Die sesde argument ter ondersteuning van gemeentelike regering, word uit 1 Timótheüs 3:1-13 gehaal, waar daar sprake is van een opsiener in vers 1-7, maar baie diakens in vers 8-13. As ’n mens egter na hoofstuk 5:17 van dieselfde boek kyk, vind ’n mens dieselfde grondwoord (hier met “ouderlinge” vertaal) in die meervoud. Hierdie argument bewys dus ook niks nie.

7. Slotsom
Nie een van die teksgedeeltes wat aangehaal word, steun inderwaarheid die gemeentelike regeringsmodel nie. Die gemeentelike regeringsmodel word nie in een van hierdie teksgedeeltes voorgeskryf of uitgebeeld nie. Trouens, die gemeentelike regeringsmodel kom, net soos die ander regeringsvorme wat tot dusver behandel is, nêrens in die Skrif voor nie.

E. Die Bybelse Uitdrukking
Die Bybelse vorm van kerkregering behels dat elke kerk heeltemal onafhanklik van ander kerke funksioneer. Daar is geen hiërargie van gesagstrukture oor baie kerke nie, en geen kerkgenootskapstruktuur nie. Die onderskeie bewyse wat aangevoer word om ’n gemeentelike regeringsvorm te steun, is eintlik bewyse vir die onafhanklikheid van die plaaslike gemeente. Daar is geen hoër geestelike appélhof as die plaaslike gemeente nie.

Maar hoe is die regering binne elke onafhanklike plaaslike gemeente veronderstel om te werk? Elke plaaslike gemeente moet deur ’n groep ouderlinge regeer word; hulle is die kerk se gesag. Die gesag lê nie by die gemeente soos wat die gemeentelike regeringsmodel dit wil hê nie. Die verhouding tussen die ouderlinge en die gemeentelede is gewoonlik dié van herders en skape. In ’n gemeentelike regeringsmodel het die skape egter onder meer vir die herder te vertel hoeveel hy kan eet, wat hy kan doen of nie kan doen nie, waar hy kan bly, ens. Hierdie verhouding is kwalik bybels. Elke plaaslike gemeente word deur ouderlinge regeer – nie ’n enkele ouderling nie, want dan kan die mag hom laat swymel en kan hy ’n diktator word. Nee, elke plaaslike gemeente word deur ’n groep gelyke ouderlinge regeer.

Voorbeelde van kerkgenootskappe wat hierdie vorm van kerkregering voorstaan, is die Broederkerke en Onafhanklike Bybelkerke. In die laaste paar dekades het verskeie Onafhanklike Bybelkerke ontstaan.

Die beste argument vir hierdie vorm van kerkregering as die bybelse vorm, is om voort te gaan na die vierde afdeling in hierdie studie oor die plaaslike kerk.

IV. KERKORGANISASIE EN LEIERSKAP
Die vierde afdeling sal toon dat die bybelse model van regering beheer deur ’n groep ouderlinge is, nie deur ’n gemeente of ’n hiërargie of ’n nasionale hoof nie. Die afdeling sal onder vyf hofies bespreek word.

A. Die Feit van Organisasie
Die eerste hofie antwoord die vraag: Is ’n Nuwe-Testamentiese plaaslike gemeente georganiseer? ’n Mens kry diegene wat aanvoer dat ’n plaaslike gemeente enige plek is waar twee of drie mense in die Messias se Naam bymekaarkom, en dat dit derhalwe nie georganiseer hoef te wees nie. Maar is die plaaslike gemeente in die Nuwe Testament georganiseer, of is dit ’n lukrake samekoms van gelowiges?

Die feit dat die Nuwe-Testamentiese kerk baie goed georganiseer was, blyk uit twaalf verskynsels. In die eerste plek het die plaaslike gemeente vaste, beplande, geskeduleerde samekomste gehad wat organisasie geverg het (Hand 20:7; Heb 10:25).

Tweedens is daar aanbeveel dat die plaaslike gemeente diakens kry, wat organisasie geverg het (Hand 6:1-6).

In die derde plek het die plaaslike gemeente beamptes gehad. Die wese van ’n amptenaar is dat hy amptenaar van ’n organisasie is (Hand 14:23; Fil 1:1).

Vierdens moes die plaaslike gemeente tug toepas, wat ’n organisasiestruktuur genoodsaak het (1 Kor 5:4, 5, 13).

In die vyfde plek het die plaaslike gemeente bydraes ingesamel en rekord gehou van sodanige bydraes. Dit verg altyd organisasie (Rom 15:26; 1 Kor 16:1-2; 2 Kor 8:6-9:5).

Die sesde bewys van organisasie in die plaaslike gemeente was dat briewe soms deur een gemeente geskryf is om iemand by ’n ander gemeente aan te beveel. Dit toon organisasie (Hand 18:24-28; Rom 16:1; 2 Kor 3:1; Kol 4:10).

Die sewende bewys van die feit dat plaaslike gemeentes georganiseer was, blyk uit die registrasie van weduwees. Hulle moes geregistreer word sodat die kerk hul verantwoordelikheid teenoor hulle, veral teenoor dié in nood, kon nakom. Hierdie verantwoordelikheid het organisasie genoodsaak (Hand 6:1; 1 Tim 5:9).

In die agste plek was plaaslike gemeentes veronderstel om sekere eenvormige gebruike na te kom wat deur al die samekomste van gelowiges nagekom is. Om dit teweeg te bring, het ’n mate van organisasie geverg. Ons vind een voorbeeld van so ’n gemeenskaplike, eenvormige gebruik in 1 Korinthiërs 11:16, waar Paulus daarop wys dat die lering wat hy in vers 1 tot 15 aan die Korinthiërs gegee het, nie net vir hulle geld nie, maar vir al die samekomste, ongeag waar hulle bymekaarkom, of aan watter kultuur hulle behoort.

Die negende bewys van die plaaslike gemeente se organisasie is dat hulle die ordinansies eenvormig bedien het. Hulle was veronderstel om dieselfde ordinansies te gebruik, ongeag waar hulle was. Hierdie ordinansies was die Doop en die Nagmaal. Die blote feit dat eenvormige ordinansies bestaan het en beoefen is, toon organisasie (Hand 2:41-42, 46; 1 Kor 11:23-26).

Die tiende bewys van kerkorganisasie is dat daar ’n sekere orde was wat in die eredienste gehandhaaf moes word om te keer dat dinge hand uit ruk en chaoties en verwarrend word (1 Kor 14:40; Kol 2:5; 1 Thess 5:14; 2 Thess 3:6-7).

Die elfde bewys van die plaaslike gemeente se organisasie was dat daar rekord gehou is van die ledetal, en dat hulle altyd geweet het hoeveel siele by die gemeente gevoeg is (Hand 2:42; 4:4). Die feit dat hulle die getal gelowiges aangeteken het, wys dat hulle georganiseer was.

Die twaalfde argument wat wys dat die plaaslike gemeente georganiseer moet wees, is dat die kerke baie betaamlik opgetree het. Daar was sekere reëls en regulasies wat in die samekomste nagekom moes word. Die ouderlinge was verantwoordelik vir die handhawing van hierdie betaamlike optrede. Die feit dat die kerk so betaamlik opgetree het, beklemtoon weer organisasie (Rom 16:17; 1 Kor 5:13; 14:34, 40; 3 Joh 5-12).

Samevattend is dit duidelik dat die Nuwe-Testamentiese kerk nie ’n groep ongeorganiseerde gelowiges was wat lukraak bymekaar gekom het nie, maar dat hulle ’n hoë mate van georganiseerdheid gehandhaaf het.

B. Ouderlinge
Die amp van ouderling is die tweede terrein waarop daar bewyse van organisasie en leierskap is. Ouderlinge is die besluitnemergroep in die plaaslike gemeente. Die amp van ouderling sal in agt afdelings bespreek word.

1. Die Aard van die Amp
Die eerste aspek handel oor die aard van die ouderling-amp. Hierdie aard blyk uit drie spesifieke terme wat gebruik word om ouderlinge te beskryf.

Die eerste term is “ouderling”. Die Griekse woord is presbuteros, waaruit die woord “presbiterie” afgelei is. Die woord “ouderling” beklemtoon die amp self en die gesagsposisie wat daarmee gepaardgaan.

’n Tweede naam vir dieselfde amp is “opsiener”. Die Griekse woord is episkopos, wat die wortel van die woord “episkopaals” is. Hierdie term beklemtoon die funksie van die amp, naamlik algemene oorsig (Hand 20:28; Fil 1:1; 1 Tim 3:1-2; Tit 1:7; 1 Pet 2:25).

Die derde hoofterm wat vir dieselfde amp gebruik word, is die woord “pastoor”. Die Griekse woord is poimanos, wat die aspekte van herderskap en voeding beklemtoon (Hand 20:28; 1 Pet 2:25; 5:1-2).

Hierdie drie terme beskryf die amp. Dit is nie drie verskillende ampte nie, maar drie verskillende terme wat dieselfde amp beskryf. Die beste manier om dit te bewys, is om na die Skrifgedeeltes te kyk waar hierdie terme gebruik word om na dieselfde groep leiers te verwys. In Handelinge 20:17 en 28 word al drie terme byvoorbeeld gebruik om na dieselfde groep leiers te verwys. Nog ’n voorbeeld is 1 Timótheüs 3:1-7 in samehang met 5:17 en 3:4; weer eens word hierdie verskillende terme vir dieselfde groep mense gebruik. In Títus 1 vind ’n mens nog ’n voorbeeld as jy vers 5 met vers 7 vergelyk. 1 Petrus 5:1-2 bevat nog ’n voorbeeld. Die terme verwys hier ook na dieselfde groep leiers.

Die konsep van “ouderling” spruit voorts uit die konsep van die oudstes van Israel, wat in die volk Israel gesag uitgeoefen het. Die model van kerkregering deur ouderlinge is verkieslik bo die nasionale, hiërargiese of episkopaalse, federale of presbiteriaanse, en gemeentelike regeringsvorms; dit is die bybelse model en dit vloei natuurlik uit God se vorige omgang met Israel. Die konsep van kerkregering het nie in ’n vakuum ontstaan nie.

Onthou, al die vroeë kerk se leiers en lede was Jode. Hulle sou uiteraard ’n groot deel van hul Joodse verwysingsraamwerk behou het toe die Kerk ontstaan het. Die konsep van “ouderling” het dus ontstaan vanuit die konsep van die oudstes wat oor die volk Israel gesag uitgeoefen het. Dit was nie die gemeente van die sinagoge wat gesag uitgeoefen het nie, dit was die ouderlinge van die sinagoge. Op dieselfde wyse is dit die ouderlinge in die plaaslike gemeente wat eintlik die gemeente lei. Vanuit ’n Joodse verwysingsraamwerk is hierdie vorm van kerkregering bybels. Dit is bemoedigend dat al hoe meer kerke na hierdie vorm van kerkregering oorskakel namate hulle die duidelike Bybelse standpunt hieroor leer ken.

Die amp van ouderling het dus ’n drieledige aard: ’n ouderling wat heers, ’n opsiener wat toesig hou, en ’n pastoor wat die kudde voed en lei.

2. Die Aantal Ouderlinge
Die tweede aspek wat die amp van ouderling betref, is die vraag oor getalle: Hoe baie ouderlinge behoort ’n kerk te hê? Die antwoord is: meer as een. Die Bybel het nooit een pastoor per gemeente voorgeskryf nie. Dit is altyd gevaarlik, en het daartoe gelei dat party pastore soos diktators teenoor hul gemeentelede begin optree. Elke keer as die Bybel oor ’n plaaslike gemeente en dié se ouderlinge praat, is ouderlinge in die meervoud; daar is nooit net één ouderling oor ’n klomp gemeentelede aangestel nie (Hand 14:23; 20:17; Fil 1:1; Tít 1:5; Jak 5:14). Deur ’n groep gekwalifiseerde ouderlinge te hê, bestaan daar natuurlike wigte en teenwigte, sodat die ander ouderlinge ’n ouderling wat die pad byster raak, kan reghelp.

3. Tipes Ouderlinge
Die derde faset van die amp van ouderling is die vraag: Watter verskillende tipes ouderlinge kry ’n mens? Volgens 1 Timótheüs 5:17 is daar twee soorte ouderlinge: LAAT die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.

Hierdie teksgedeelte noem twee tipes ouderlinge: regerende ouderlinge en lerende ouderlinge. Die struktuur van hierdie vers wys dat alle ouderlinge in ’n regerende posisie is, aangesien hulle die hoogste gesag in die plaaslike gemeente dra; onder die regerende ouderlinge sal ’n mens egter enkeles kry wat ook lerende ouderlinge is. Omdat alle ouderlinge regerende ouderlinge is, behoort hulle almal die gawe van organisasie te hê. Nie alle regerende ouderlinge hoef egter die gawe van lering te hê nie. Verder behoort daar nie baie regerende ouderlinge en slegs een lerende ouderling te wees nie. Daar moet eerder ’n groep van elk wees. Daar moet ’n groep regerende ouderlinge en – binne daardie groep – ook ’n paar lerende ouderlinge wees.

Samevattend is daar twee tipes ouderlinge, regerende ouderlinge en lerende ouderlinge. Paulus skryf dat albei veronderstel is om finansiële vergoeding te ontvang, veral die lerende ouderlinge.

4. Die Pligte van ’n Ouderling
Die vierde aspek van die amp van ouderling handel oor die vraag: Wat is die pligte van ’n ouderling? In die eerste plek moet hulle regeer, wat beklemtoon word deur die titel “ouderling” (1 Tim 3:4-5; 5:17; 1 Thess 5:12).

’n Tweede plig wat ouderlinge het, is om toesig te hou. Dit hou verband met hul verantwoordelikheid as opsieners (1 Tim 3:1; 5:1-3).

Derdens moet hulle die kudde versorg, wat hul amp as pastore beklemtoon (Hand 20:28; 1 Pet 5:2).

Die vierde plig of verantwoordelikheid is om die regte leerstellings te bewaar. Hulle moet seker maak dat die suiwer leer onderrig word en dat vals leerstellings uitgewys word (Títus 1:9; Hand 15:1-6; 15:22-29; 16:4; Heb 13:17).

Ouderlinge se vyfde verantwoordelikheid is om die siekes te salf indien ’n siek gelowige hulle laat vra om dit te doen. Indien die sieke weet dat sy siekte aan ’n spesifieke sonde te wyte is, moet hy die kerk se ouderlinge inroep en hulle moet hom salf (Jak 5:14-15).

’n Sesde verantwoordelikheid van ’n ouderling is om ’n ogie oor finansiële sake te hou (Hand 11:27-30).

5. Die Rondreisende Ouderling
Die vyfde aspek van die amp van ouderling handel oor die rondreisende ouderling. Ouderlinge was meestal in een stad gestasioneer en was die leiers van een spesifieke plaaslike gemeente. Dit is interessant om daarop te let dat die apostels ook “ouderlinge” genoem is, al het hulle nie op een plek gebly nie, maar van plek tot plek gereis om óf kerke te plant of bestaande kerke te versterk.

Die apostels word byvoorbeeld in 1 Petrus 5:1 en in 2 Johannes 1 en 3 Johannes 1 ouderlinge genoem. Daar is verskeie voorbeelde van rondreisende ouderlinge in die Nuwe Testament. Hoe dit gewerk het, was dat ’n persoon as ouderling bevestig was, maar dat hy, eerder as om ouderling van een spesifieke gemeente te wees, bevestig is met die gesag om ander te leer. Hy kon rondreis en ’n ander rol vervul as dié van ’n regerende ouderling van ’n plaaslike gemeente. ’n Rondreisende ouderling sou slegs as ’n lerende ouderling optree wanneer hy van plek tot plek beweeg het. ’n Rondreisende ouderling kan ook ’n kerkplanter wees, en in daardie hoedanigheid sal hy as die eerste ouderling van ’n nuwe plaaslike gemeente optree.

6. Kwalifikasies
Die sesde aspek van die ouderling-amp is die vraag: Wat is die kwalifikasies vir ouderlingskap in ’n plaaslike gemeente? Daar is twee hoofgedeeltes in die Nuwe Testament wat die kwalifikasies van ’n ouderling uitstip.

a. 1 Timótheüs 3:1-7
DIT is ’n betroubare woord: as iemand na ’n opsienersamp verlang, begeer hy ’n voortreflike werk. ’n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig; geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie; een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra? Hy moet nie ’n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie. Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie.

Die eerste kwalifikasie wat hierdie teksgedeelte uitwys, is dat ’n mens hierdie posisie moet begeer. Hy moet nie teen wil en dank daarin gedwing word nie; hy moet begeer om ’n ouderling te wees.

Die tweede kwalifikasie is dat hy onberispelik moet wees. Sy lewe moenie kritiek uitlok nie.

Die derde kwalifikasie is dat hy ’n man van een vrou moet wees. In die Nuwe-Testamentiese Grieks staan daar letterlik “ ’n eenvrouman”. Dit kan op twee maniere vertolk word. Eerstens kan dit beteken “een vrou lewenslank”, wat ook geïmpliseer word deur dieselfde tipe konstruksie in 1 Timótheüs 5:9. Indien wel, kan dit op twee maniere toegepas word. In die eerste plek, indien ’n persoon geskei is en weer trou, kan hy nie in aanmerking kom vir die amp van ouderling nie. Tweedens, as ’n man se vrou sterf en hy weer trou, sal dit hom ook onverkiesbaar maak, want ’n ouderling mag slegs een vrou in sy lewe hê. ’n Tweede manier om hierdie teksgedeelte te vertolk, is om dit te sien as ’n spesifieke verbod op owerspel of veelwywery, in welke geval dit nie ’n enkellopende man of ’n wewenaar wat weer trou, uitsluit nie. Die skryfwyse van die Griekse teks maak albei vertolkings moontlik, so ’n mens moet versigtig te werk gaan hier. Elke plaaslike gemeente moet hul eie besluit neem op grond van hul vertolking van hierdie teksgedeelte, en dan konsekwent daarvolgens optree en nie enige uitsonderings op die reël toelaat op grond van elke geval se meriete nie. Daar ontstaan wrywing wanneer ’n gemeente nie konsekwent ten opsigte van hierdie kwessie optree nie.

Die vierde kwalifikasie is om kalm en bedaard te wees. Hy moenie lief wees vir oormatigheid in enige opsig nie. Hy moet skerp van verstand wees en oor goeie oordeel beskik.

Die vyfde kwalifikasie is dat hy verstandig moet wees. Hy moet omsigtig optree en gesonde verstand hê. Hy moet selfbeheersing toepas en nie impulsief optree nie.

Sesdens moet hy fatsoenlik en ordentlik wees. Hy moet geken word aan sy goeie gedrag en ’n goed georganiseerde lewe lei.

In die sewende plek moet hy gasvry wees. Hy moet lief wees vir vreemdelinge en hou daarvan om gasvryheid te betoon teenoor mense in die algemeen, nie net teenoor dié wat deel is van sy binnekring nie.

In die agtste plek moet hy in staat wees om onderrig te gee. Hy hoef nie noodwendig die gawe van lering te hê nie, maar hy moet ’n basiese vermoë hê om ander te leer. Hierbo staan dat daar twee tipes ouderlinge is: lerende ouderlinge en regerende ouderlinge. Die regerende ouderlinge moet darem op ’n basiese vlak lering kan gee, selfs al het hulle nie dieselfde vermoë as dié met die gawe van lering nie.

In die negende plek moet ’n ouderling nie verslaaf wees aan wyn nie. Die Griekse term hier beteken letterlik “niemand wat te lank by sy wyn sit nie”. Hierdie vers sê nie dat ’n ouderling geheelonthouding moet toepas nie. Dit beteken bloot dat hy nie gekenmerk moet word deur dronkenskap of enige ander vorm van vergrype nie. As hy weet hoe om alkohol matig te gebruik, kom hy nog steeds in aanmerking.

In die tiende plek moet hy nie ’n persoon wees wat die hand optel of geneig is tot fisiese geweld nie. Mans wat hulleself skuldig maak aan vroue- of kindermishandeling kwalifiseer nie.

In die elfde plek moet hy sagmoedig en geduldig wees.

Twaalfdens moet hy nie strydlustig of ’n bakleier wees nie.

In die dertiende plek moet hy nie geldgierig wees nie. Sy lewe moenie deur hebsug of gierigheid gekenmerk word nie.

In die veertiende plek moet sy kinders onder beheer wees. Hy moet in staat wees om sy eie huis te regeer. Die feit dat sy kinders onder beheer is, wys dat die persoon sy kinders gedissiplineer het. Indien ’n persoon nie in staat is om dissipline op sy kinders toe te pas nie, hoe gaan hy dit regkry om kerklike tug toe te pas?

In die vyftiende plek moet hy nie ’n nuwe bekeerling wees nie, anders sal hy outomaties geestelik onvolwasse wees, omdat hy pas tot bekering gekom het. Indien so ’n persoon in ’n gesagsposisie geplaas word voor hy geestelik daarvoor gereed is, kan dit hom moontlik trots maak. Dit is dieselfde sonde wat tot Satan se ondergang gelei het. Daarom moet ’n nuwe bekeerling nooit in die amp van ouderling geplaas word nie.

Laastens is die sestiende kwalifikasie dat hy ’n goeie reputasie moet hê onder mense buite die kerk. Hy moet aansien onder mense in die wêreld, mense buite die kerk, hê. Selfs al respekteer hulle nie sy geloof nie, moet hulle sy gedrag en sy lewenswyse respekteer.

Dit is die sestien kwalifikasies wat in 1 Timótheüs 3:1-7 uitgestip word. Indien ouderlinge aangestel word wat aan hierdie kwalifikasies voldoen, sal dinge glad verloop in die ouderling-amp. Daar is wel probleme in kerke wat deur ouderlinge geregeer word, maar die fout lê nie by die kerkregering nie, want dit is die bybelse kerkregeringsmodel. Die probleem lê by ongekwalifiseerde ouderlinge.

b. Titus 1:6-9
As iemand onberispelik is, die man van een vrou, gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie. Want ’n opsiener moet as ’n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie; maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers; een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.

Hierdie gedeelte noem ook sewe kwalifikasies wat ’n ouderling moet hê. Party daarvan is dieselfde as dié in die eerste gedeelte, maar party verskil.

Eerstens moet hy onberispelik wees.

Tweedens moet hy nie eiesinnig wees nie; hy moet nie selfvoldaan of arrogant wees nie.

Derdens moet hy nie opvlieënd wees nie, maar beheersd.

Vierdens moet hy nie aan drank verslaaf wees nie. Die term hier beteken weer eens nie geheelonthouding nie. Die eintlike betekenis is dat ’n ouderling moet weet hoe om matig te drink. Niemand wat deur dronkenskap gekenmerk word, behoort ooit ’n ouderling te word nie, slegs dié wat weet hoe om matigheid voor oë te hou wat dit betref.

In die vyfde plek moet hy nie ’n slaner of ’n bakleier wees nie. Hy moet nie bekend wees vir fisiese geweld nie. Enigiemand wat sy vrou of kinders mishandel, moenie in hierdie posisie wees nie.

In die sesde plek moet hy nie ’n gierigaard wees nie. Hy moenie bekend wees as iemand wat geld liefhet nie.

In die sewende plek moet hy gasvry wees. Hy moet oorloop van gasvryheid en liefdevol teenoor vreemdelinge optree.

In die agste plek moet hy lief wees vir die goeie. Sy gedagtes, sy ingesteldheid en sy optrede moet handel oor die goeie. Die tipe dinge waarmee hy hom moet ophou, word in Filippense 4:8 genoem.

In die negende plek moet hy redelik wees. Hy moet gekenmerk word as ’n redelike persoon wat weet hoe om dinge uit te redeneer.

In die tiende plek moet hy ’n toegewyde persoon wees. Sy lewe moet deur heiigheid gekenmerk word. Hy moet sy pligte teenoor God uitvoer op ’n manier wat spreek van heiligheid in praktyk.

In die elfde plek moet hy deur selfbeheersing gekenmerk word. Sy lewe moet gematig en gedissiplineerd wees.

Twaalfdens moet hy die man van een vrou wees. Weer eens kan die skryfwyse van die Griekse teks vertolk word as “een vrou lewenslank”. In hierdie opsig kan dit beteken dat geen enkellopende persoon die amp van ouderling moet beklee nie, en dat niemand wat geskei is en weer getrou het ’n ouderling moet wees nie, of dat niemand wat sy vrou aan die dood afgestaan het en weer getrou het ’n ouderling moet wees nie. ’n Tweede geldige manier om die Grieks te vertolk, is dat dit praat van owerspel en veelwywery, wat nie ’n enkellopende man of ’n wewenaar wat weer trou, uitsluit nie. Albei hierdie vertolkings van die Skrif is geldig, want die Grieks maak albei moontlik. Elke individuele plaaslike gemeente moet hul eie besluit oor hierdie saak neem en dan konsekwent volgens hul siening optree.

In die dertiende plek moet hy gelowige kinders hê. Die Griekse term hier vereis nie noodwendig dat die kinders gelowiges moet wees in die opsig dat hulle gered is nie, want die Griekse woord kan bloot “getroue” of “betroubare” kinders beteken. ’n Mens moet kinders hê op wie jy kan peil trek, wat gewoond is aan dissipline en wat reg grootgemaak is. Die teks kan só vertolk word dat dit nie noodwendig nodig is vir ’n ouderling se kinders om self gelowiges te wees nie.

In die veertiende plek moet ’n ouderling nie gekenmerk word deur rebellie nie, maar deur ’n gees van onderwerping aan die Skrif en aan die mening van ander ouderlinge, selfs al verskil hulle partykeer van hom.

In die vyftiende plek moet hy vashou aan die betroubare leer. Hy moet die betroubare leerstellinge van God se Woord ken en sy teologie moet vas staan.

In die sestiende plek moet hy iemand met die gesonde leer kan vermaan. Dit beteken dat hy nie net die gesonde leer moet oordra nie, maar dit ook moet kan toepas in situasies waar vals lering in die kerk kan ontstaan.

In die sewentiende plek moet hy ook in staat wees om vals lering te weerlê. As iemand vals lering in die plaaslike gemeente begin verkondig, moet hy in staat wees om die Woord van God op te neem en te bewys dat hulle lering verkeerd is, dat hulle afwyk van die waarheid en hulle dienooreenkomstig vermaan.

Dít is die sewentien kwalifikasies van ’n ouderling volgens Titus 1:6-9. As ’n mens die gedeeltes in Titus en Timótheüs saamvoeg, is daar heelwat kwalifikasies vir ouderlingskap, en dit is baie belangrik dat niemand in die amp van ouderling aangestel word as hy nie aan al hierdie vereistes voldoen nie. Kerke wat die bybelse regeringsmodel volg wat deur ouderlinge geregeer word, ervaar dikwels in elk geval groot probleme, maar nie omdat daar iets verkeerd is met die regeringsmodel nie. Die probleem ontstaan weens mense wat in daardie amp aangestel is wat nooit aan hierdie spesifieke kwalifikasies voldoen het nie.

7. Bevestiging
Die sewende aspek van die amp van ouderling handel oor die vraag: Hoe word ’n ouderling in sy amp bevestig? Een ding wat ons in die afdeling oor kerkregering geleer het, is dat hulle nie deur die gemeente verkies word nie. Die gemeentelike regeringsmodel is nie skriftuurlik nie. Nee, bevestiging geskied spesifiek volgens aanstelling. Paulus het in Titus 1:5 geskryf: OM hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het.

Titus moes in elke stad vir elke plaaslike gemeente ’n groep ouderlinge aanstel. Ouderlinge word in hulle amp aangestel, nie tot hulle amp verkies nie. Hulle word deur ander ouderlinge aangestel, omdat ander ouderlinge bevoeg is om te sien of iemand aan die kwalifikasies hierbo voldoen. ’n Gemeente is geneig om persone te kies op grond van voorkeure, afkeure en gewildheid, maar dit is nie wat ’n ouderling maak nie. ’n Mens het ander ouderlinge nodig om te bepaal of iemand kwalifiseer; as hy wel doen en die amp begeer, kan hy as ’n ouderling aangestel word.

Dit moenie gedoen word sonder om na die kwalifikasies te kyk wat in 1 Timótheüs 3:1-7 en Titus 1:6-9 gelys word nie. Paulus skryf byvoorbeeld in 1 Timótheüs 5:22: Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.

Die oplegging van hande is die manier waarop ouderlinge aangestel word, en dit moenie oorhaastig geskied nie.

Handeoplegging as ’n manier van bevestiging kan in Handelinge 13:1-3 gesien word, waar Paulus en Barnabas bevestig word om rondreisende ouderlinge te wees en ander gemeentes te gaan vestig. In 1 Timótheüs 4:12-16 vermaan Paulus vir Timótheüs oor die aanstelling van ouderlinge, wat ook deur handeoplegging gedoen is.

Wat bevestiging betref, is daar dus drie dinge om op te let: Eerstens geskied dit deur ander ouderlinge wat die persoon aanstel; tweedens word die aanstelling slegs ná sorgvuldige ondersoek gedoen, en derdens word die aanstelling deur middel van handeoplegging gedoen.

8. Beloning
Die agste aspek van die ouderling-amp behandel die vraag: Watter beloning wag daar op ouderlinge wat hul rolle op ’n bybelse manier vervul? Volgens 1 Petrus 5:4 sal dié wat wel hul plek op ’n bybelse manier volstaan een van die vyf krone in die Skrif as hul beloning ontvang: die onverwelklike kroon van heerlikheid.

C. Diakens
Die derde terrein van organisasie en leierskap in die plaaslike gemeente handel oor die amp van diaken. Hierdie amp sal onder ses hofies bestudeer word.

1. Die Aard van die Amp
Die aard van die amp blyk die beste uit die Griekse woord wat “diaken” beteken. Die Griekse woord is diakonos, wat “dienaar” beteken. Dit word met “dienaars” of “bediening” vertaal in 1 Korinthiërs 3:5; 2 Korinthiërs 6:3; Efésiërs 3:7; Kolossense 1:23 en 1 Timótheüs 1:12.

Diakens is die ouderlinge se dienaars. Baie Westerse gemeentes, veral dié wat ’n nie-bybelse regeringsmodel soos die gemeentelike model volg, het die diaken-amp verkeerd vertolk. Die diakens vorm naamlik die regerende liggaam; hulle besluit of hulle ’n pastoor of predikant gaan afdank of aanstel.

In die Bybel is daar geen gesag aan die amp van diaken gekoppel nie. Die amp van diaken het erkenning gegee aan mense wat die gawe van diens en die gawe van hulpverlening het; hierdie mense het die ouderlinge gedien. Die ouderlinge het die gesag gehad, en die diakens was die ouderlinge se dienaars wat die leiers gehelp het om hul pligte uit te voer sodat die ouderlinge hul tyd primêr in die Woord van God kon bestee.

2. Die Aantal Diakens
Hoe baie diakens moet ’n plaaslike gemeente hê? Nie een nie, maar ten minste twee of meer, want elke kerk wat in die Bybel genoem word, het meer as een diaken gehad (Hand 6:1-6; Fil 1:1). Net soos wat elke plaaslike gemeente ’n groep ouderlinge moet hê, moet daar ook ’n groep diakens wees.

3. Die Diakens se Pligte
Die Woord van God beskryf diakens se twee hoofpligte. Die eerste is om die ouderlinge se helpers te wees. Hulle moet hulp verleen aan die ouderlinge; hulle is die ouderlinge se dienaars wat moet help om die verskillende pligte uit te voer waaroor die ouderlinge toesig moet hou (Hand 6:1-6). Die rede waarom die amp van diaken in die plaaslike gemeente in Jerusalem ontstaan het, het te doen gehad met die plaaslike gemeente se fisiese funksies en behoeftes wat deur die diakens hanteer kon word sodat die ouderlinge tyd in die Woord van God kon deurbring en lering kon gee.

Die tweede hoofplig van ’n diaken is om beheer te neem oor diens van barmhartigheid onder behoeftiges en om in fisiese behoeftes te voorsien. Die diakens moet die plaaslike gemeente se bediening ten opsigte van diens van barmhartigheid bestuur, en so ook die bediening ten opsigte van die gemeente se fisiese behoeftes (Hand 6:1-6; 1 Tim 3:13).

Die diaken is in die posisie van helper, nie heerser nie. Die diakens behoort hospitaalbesoek te doen, nie die ouderlinge nie; die diakens behoort huisbesoek te doen, nie die ouderlinge nie. Dit help ouderlinge om tyd te hê om die Woord van God te bestudeer en om onderrig te gee.

4. Kwalifikasies
’n Mens het sekere kwalifikasies nodig om ’n diaken te word. Hierdie kwalifikasies word in 1 Timótheüs 3:8-10, 12-13 uiteengesit.

Vers 8-10 sê: Net so moet die diakens waardig wees, nie uit twee monde spreek nie, nie verslaaf aan wyn nie, geen vuilgewinsoekers nie, manne wat die verborgenheid van die geloof in ’n rein gewete hou. En hulle moet ook eers ’n proeftyd deurmaak; daarna, as hulle onberispelik is, kan hulle dien.

Vers 12-13 sê: Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer. Want die wat goed gedien het, verkry vir hulle ’n eervolle plek en veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus.

Die kwalifikasies vir diakenskap is nie so omvattend soos dié vir ouderlinge nie. Aangesien dit nie ’n leierskapposisie is nie, maar ’n dienaarsposisie, is dit nie nodig om so baie kwalifikasies daar te stel soos met ouderlinge nie. ’n Mens moet nietemin enkele kwalifikasies hê, aangesien dit ’n spesifieke deel van kerkorganisasie is.

Die eerste kwalifikasie is dat ’n diaken iemand met waardigheid moet wees; sy denke en karakter moet spreek van erns; hy moet gekenmerk word deur integriteit.

In die tweede plek moet ’n diaken nie uit twee monde spreek nie, wat beteken dat hy te alle tye die waarheid moet praat.

Derdens moet hy nie aan wyn verslaaf wees nie. Die uitdrukking hier beteken eweneens nie geheelonthouding nie; dit verwys na verslawing. Hy moet nie deur dronkenskap gekenmerk word nie; as hy geleer het om matigheid voor oë te hou, kan hy ’n diaken wees.

Vierdens moet hy nie oneerlike wins najaag nie. Hy moet nie gekenmerk word deur geldgierigheid nie.

Vyfdens moet hy die verborgenheid van die geloof in ’n rein gewete hou. Hy moet self oortuig wees dat die plaaslike gemeente se lering, en in ’n groter mate die Skrif, die waarheid is en daardie oortuiging met ’n skoon gewete aanhang.

Sesdens moet hy getoets word voor hy toegelaat word om te dien. Hy moet waarlik bekend wees as iemand wat die gawe van diens het.

In die sewende plek moet hy die man van een vrou wees. Dit kan weer eens vertolk word as “een vrou lewenslank” of bloot as ’n waarskuwing teen veelwywery. Soos wat met ouderlinge die geval is, moet elke individuele plaaslike gemeente besluit hoe hulle hierdie saak gaan hanteer en ’n konsekwente beleid in werking stel.

In die agtste plek moet hy ’n goeie leier vir sy kinders wees. As hy nie die fisiese eienskappe van sy huishouding kan baasraak nie, hoe kan hy die fisiese behoeftes van die gemeente hanteer?

Dit is die agt kwalifikasies vir diakenskap, en as ’n persoon aan hierdie agt kwalifikasies voldoen, kan hy as diaken aangestel word. Diakenskap kan ’n goeie leerskool wees vir iemand wat hom uiteindelik vir die amp van ouderling in ’n plaaslike gemeente wil bekwaam.

5. Bevestiging
Diakens word op dieselfde manier as ouderlinge bevestig: deur handeoplegging. Dit word in Handelinge 6:6 gesien, waar die ouderlinge van die Jerusalem-gemeente die diakens deur handeoplegging bevestig het. Hoewel ouderlinge deur ouderlinge bevestig word omdat hulle die hoogste gesag in die plaaslike gemeente verteenwoordig, word diakens ook deur ouderlinge bevestig. Diakens word nie deur ander diakens bevestig nie, aangesien diakenskap nie ’n amp is wat gesag dra nie.

6. Beloning
Indien ’n diaken hom goed van sy taak kwyt, kry hy die beloning waarvan 1 Timótheüs 3:13 melding maak: Want die wat goed gedien het, verkry vir hulle ’n eervolle plek en veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus.

Hierdie beloning behels drie elemente. Eerstens sal hy ’n eervolle plek voor God ontvang. Tweedens sal hy veel vrymoedigheid in die geloof ontwikkel terwyl hy in daardie amp is, wat hom op sy beurt vir ’n hoër roeping kan laat kwalifiseer. Derdens kan getroue diens in die diaken-amp lei tot ’n hoër roeping. Filippus is ’n goeie voorbeeld hiervan. Filippus is in Handelinge 6:1-6 as diaken aangestel; hy het met soveel welslae in daardie amp gedien dat hy in hoofstuk 8 ’n hoër roeping ontvang het: Hy het Filippus die Evangelis geword.

D. Diakonesse
Die vierde besprekingsonderwerp wat die organisasie en leierskap van die plaaslike gemeente betref, is die vraag: Het die vroeë kerk ’n orde van diakonesse gehad of nie? Die Griekse term he diaokonos wat gebruik word om hierdie orde te verdedig, kan bloot “dienaar” sonder enige amptelike hoedanigheid beteken. Daar is baie debat oor die akkommodering van die amp van diakones in die kerk, aangesien baie mense voel dat dit in stryd sal wees met die bybelse leer. Dit sal egter net in stryd wees met die bybelse leer as ’n mens die amp van diaken misverstaan. In kerke waar diakens ’n gesagsposisie beklee, sal dit in stryd met die bybelse leer wees om diakonesse aan te stel. Maar volgens die Bybel is die diaken ’n dienaar, en aangesien daar niks fout is met vroulike dienaars nie, is daar nie bybels fout te vind met ’n orde van diakonesse nie, mits die amp bybels beoefen word.

Daar is geen klinkklare bybelse bewys dat daar ’n orde van diakonesse was nie. Daar was dalk ’n amptelike diakones-posisie in die vroeë kerk, maar indien wel, sou hulle dienaars gewees het, nie heersers nie.

Daar is twee belangrike teksgedeeltes wat gebruik word om die amp van diakones te verdedig. Een gedeelte is Romeine 16:1-2, 12, maar hierdie verse beteken moontlik net dat die vrou in ’n nie-amptelike hoedanigheid ’n dienaar was.

Die tweede teksgedeelte is 1 Timótheüs 3:11, maar dit verwys moontlik na die vrou van ’n diaken eerder as na ’n diakones, aangesien die Griekse woord wat hier gebruik word, die woord vir vrou of eggenote is, en nie die Griekse woord vir diakones nie. 1 Timótheüs 3:11 lys eerder vier kwalifikasies vir ’n diaken se vrou: sy moet in die eerste plek waardig wees; tweedens moet sy nie ’n kwaadspreekster of foutvinderig wees of lief wees vir skinder nie; derdens moet sy gematig wees en nie neig tot oormaat nie, en vierdens moet sy in alle opsigte getrou wees; sy moet ’n betroubare vrou wees.

Daar is geen duidelike Nuwe-Testamentiese voorbeeld van ’n orde diakonesse nie. Maar daar is waarskynlik bybels gesproke nie enigiets verkeerd daarmee om diakonesse te hê nie, mits die amp as ’n dienende amp gesien word en nie ’n heersende een nie.

E. Die Kudde se Rol
Die vyfde terrein van die organisasie en leierskap van die plaaslike kerk is die rol van die kudde teenoor hul Herders. Vyf belangrike skrifgedeeltes handel hieroor:

1. 1 Korinthiërs 16:15-16
En ek versoek julle, broeders – julle weet dat die huisgesin van Stéfanas die eersteling van Acháje is en dat hulle hul tot diens van die heiliges gestel het – dat julle ook onderworpe moet wees aan sulke mense en aan elkeen wat saamwerk en arbei.

Paulus skryf hier dat die gemeentelede onderworpe moet wees aan die mense deur wie hulle bedien word. Dit is ’n goeie rede waarom die gemeentelike regeringsmodel nie ’n bybelse regeringsmodel is nie, want die gemeente is die gesag en die ouderling of leraar of pastoor of predikant is aan die gemeente onderwerp. Dit druis direk in teen dit wat Paulus hier skryf; die gemeente moet onderworpe wees aan die ouderlinge deur wie hulle bedien word.

2. 1 Thessalonicense 5:12-13
MAAR ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar.

Die tweede gedeelte bevat twee opdragte. Eerstens, om dié wat die Woord verkondig te erken om hulle ten volle na waarde te skat. Met ander woorde, om diegene wat die Woord van God aan jou verkondig te leer ken sodat jy hulle ten volle kan waardeer. Tweedens, om in liefde die hoogste agting aan hulle te bewys, om hulle as besonder belangrik te ag en te erken hoe belangrik diegene is wat ons in die Woord van God onderrig.

3. 1 Timótheüs 5:17-19
LAAT die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. Want die Skrif sê: Jy mag ’n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd. Moenie ’n beskuldiging teen ’n ouderling aanneem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie.

Die derde teksgedeelte bevat drie belangrike punte. Eerstens ontvang gemeentelede in vers 17 opdrag om al die ouderlinge te vereer, met ’n spesiale verwysing na lerende ouderlinge. Alle ouderlinge is regerende ouderlinge, maar net party van die ouderlinge is boonop lerende ouderlinge. Die gemeente moet aan al die ouderlinge eer betoon, maar veral aan dié wat lerende ouderlinge is.

Die tweede punt, in vers 17-18, sê deur middel waarvan die ouderlinge vereer moet word. Hierdie eer moet uitgedruk word in dubbele materiële vergoeding. Dit is ’n duidelike stelling dat diegene wat met die Woord omgaan, ’n bestaan daaruit moet kan maak, en dat die gemeentelede die materiële welvaart van dié wat hulle onderrig op die hart moet dra. Boonop maak dit aanspraak op dubbele vergoeding. Die woord eer is die Griekse woord wat verwys na finansiële of materiële vergoeding. ’n Ouderling behoort ’n dubbele salaris te ontvang sodat hy geen ekonomiese behoeftes het nie, en al sy tyd kan bestee om ander in God se Woord te onderrig.

In vers 19 word die derde saak aangeroer, naamlik dat geen beskuldiging teen ’n ouderling aanvaar moet word nie, behalwe as daar onbetwisbare bewyse is op die getuienis van twee of drie. Omdat ’n lerende ouderling in die openbare oog is, kan hy moontlik vyande maak weens jaloesie en dergelike redes, en kan hy valslik beskuldig word. Satan werk veral teen diegene wat onderrig gee in die Woord van God.

4. 1 Petrus 5:5-6
Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

Hierdie teksgedeelte handel oor die verantwoordelikheid van die kudde jeens hulle leiers, en dit maak vyf stellings. Eerstens, moet die gemeentelede hulle aan die ouderlinge onderwerp. Hulle heers nie oor die ouderlinge soos in die gemeentelike regeringsmodel nie, maar is aan die ouderlinge onderworpe. Tweedens wys Petrus daarop dat dít die manier is waarop ’n mens nederigheid betoon: ’n Mens wys dat jy Godgegewe nederigheid beoefen deur jou aan die ouderlinge te onderwerp. Derdens wys hy daarop dat God hulle sal weerstaan as hulle hoogmoedig is. Vierdens sê hy: Verneder julle dan onder die kragtige hand van God. In hierdie konteks is die manier waarop ’n mens jouself onder die kragtige hand van God verneder deur jouself aan die ouderlinge te onderwerp. En vyfdens sal dié wat hulleself aan die ouderlinge onderwerp hul beloning ontvang; hulle sal verhoog word op die regte tyd. God sal diegene verhoog wat hulleself verneder deur hulle aan die ouderlinge van die gemeente te onderwerp.

5. Hebreërs 13:7, 17 en 24
Dit is die vyfde belangrike gedeelte wat handel oor die kwessie van die gemeente se verantwoordelikheid jeens die leiers. In vers 7 staan daar: Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.

Die Griekse woord vir gedenk beteken “om noukeurig op iets te let”. Hulle moet met ander woorde deeglik kyk na die lewens van vorige ouderlinge sodat hulle hul geloof kan navolg. Die ouderlinge wat vroeër oor hulle geheers het, het sedertdien êrens anders heen getrek of intussen tot sterwe gekom. Hulle het die gemeente voorheen in die Woord van God onderrig, en was dus lerende ouderlinge.

Tweedens sê hy in vers 17: Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.

Hulle moet nou aan die huidige ouderlinge onderdanig wees, aangesien hulle oor die gemeente se siele moet waak, omdat hulle daarvan rekenskap moet gee. Die ouderlinge sal eendag rekenskap moet gee, nie van die manier waarop hulle hul ouderlingskap beoefen het nie; God self sal daarvan rekenskap gee. Nee, hulle sal rekenskap moet gee van die mense wat aan hul gesag toevertrou is, of die mense gehoorsaam of ongehoorsaam was. Daarom moet ’n mens jou onderwerp aan die ouderlinge wat tans oor jou aangestel is, want hulle waak oor jou siel en moet rekenskap gee daarvan. Indien die gemeentelede onderdanig is, sal die ouderlinge met blydskap rekenskap kan gee; hierdie blydskap hou verband met die die onderdanigheidsfaktor, nie met die gee van rekenskap nie.

Die punt wat hierdie vers maak, is dat die ouderlinge met blydskap toesig sal hou, omdat die gemeente bereid is om die toesig deur hul ouderlinge te aanvaar. Maar as die gemeente weier om aan die ouderlinge se gesag onderdanig te wees, sal hulle dit al sugtende doen. Indien ’n gebrek aan onderdanigheid die ouderlinge al sugtende maak, sal dit nie nuttig wees vir die kudde nie. Dit sal nie nuttig wees vir diegene wat teen die ouderlinge se gesag rebelleer nie, want hulle sal nie in staat wees om die slaggate te vermy waarvan vers 8-16 praat, byvoorbeeld om rondgeslinger te word deur vreemde leringe, nie. Trouens, baie gemeentelede wat in opstand gekom het teenoor ouderlinge en wat nie onderdanig was nie, het mettertyd vals leringe of valse hipergeestelike bewegings begin aanhang.

Die derde punt tref ons in vers 24 aan: Groet al julle voorgangers en al die heiliges. Die wat van Italië is, groet julle.

Die skrywer praat weer eens van die huidige ouderlinge, nie vorige ouderlinge nie. Hulle moet nie net die huidige ouderlinge gehoorsaam nie, maar aan hulle eer betoon deur aan hulle die eer te gee wat hulle toekom. Die Hebreërboek is geskryf om gemeentelede aan te moedig om hulle aan hul heersers te onderwerp, aangesien die heersers van die gemeentes in Judea die regte leer aangehang het. Weens die vervolging was die mense gereed om hul rug op die ouderlinge te keer en weer Judaïsme te begin aanhang. Die skrywer skryf bloot om die ouderlinge te steun omdat hulle reg was in hierdie geval; hulle was besig om die suiwer leer te volg.

Hierdie vyf gedeeltes stip die verantwoordelikheid van die gemeentelede teenoor die ouderlinge van die plaaslike gemeente duidelik uit. Die klem is deurentyd daarop om ’n leerbare gees te behou en jou in nederigheid aan die ouderlinge se gesag te onderwerp, aangesien die bybelse regeringsmodel ’n groep ouderlinge voorskryf.

6. Perke aan Ouderlinge se Gesag
Daar is gevalle waar onderdanigheid aan ouderlinge nie nodig is nie. Ouderlinge se gesag het perke. Die gesag wat aan ouderlinge gegee word, handel oor kwessies wat met die plaaslike gemeente verband hou. Die ouderlinge moet onder meer besluit watter sendelinge of sendingorganisasies die gemeente gaan ondersteun, wat in die onderskeie Sondagskoolklasse onderrig gaan word, watter preekreekse in die Sondagoggenddienste aangebied gaan word, hoe die erediens soggens moet verloop, en wanneer en hoe die Nagmaal bedien gaan word. Die ouderling het egter geen sê oor ’n gelowige se persoonlike geestelike lewe nie. ’n Ouderling kan nie vir iemand sê met wie hulle moet trou of nie moet trou nie, of waar om te werk of nie te werk nie. Die ouderling se gesag geld net in die plaaslike gemeente.

V. KERKLIKE TUG
Die vyfde afdeling in die studie van die plaaslike gemeente handel oor kerklike tug. Hierdie onderwerp sal onder ses hofies bespreek word: die noodsaaklikheid en kategorieë; die prosedure; die vorme; die beoefening; die ingesteldhede en die uitwerking van kerklike tug.

A. Die Noodsaaklikheid en Kategorieë wat Tug Verg
Daar is verskeie plekke in die Skrif wat die nodigheid van kerklike tug beklemtoon en wat die kategorieë wat tug vereis, uiteensit.

Eerstens kan wrywing tussen lede van ’n plaaslike gemeente kerklike tug noodsaak (Matt 18:15-17).

Tweedens is kerklike tug nodig om verdeeldheid te voorkom. Paulus gee die ouderlinge opdrag om dié mense wat verdeeldheid saai te oormerk vir kerklike tug. Indien die leierskap versuim om mense wat verdeeldheid saai te tugtig, gaan die gemeente onnodig skeuring in die gesig staar (Rom 16:17-18).

Derdens is kerklike tug nodig vir die reinheid van die kerk. Dit hou verband met ’n kategorie van kerklike tug, naamlik onsedelikheid. Iemand wat onsedelikheid beoefen of onsedelik lewe, moet deur die plaaslike gemeente getugtig word (1 Kor 5:9-13).

Vierdens moet kerklike tug daartoe lei dat die oortreder berou kry. As tug nie toegepas word nie, sal die persoon dalk nooit berou kry nie (2 Kor 2:5-11).

Vyfdens is dit noodsaaklik dat kerklike tug afbrekende gedrag moet voorkom. Die kategorie van kerklike tug in hierdie teksgedeelte verwys na mense wat weier om te werk. Hulle moet deur die kerk aangespreek word. Die gemeente het geen verantwoordelikheid om ’n lid te ondersteun wat weier om te werk om sy brood te verdien nie (2 Thess 3:6-15).

In die sesde plek is kerklike tug nodig in geval van vals lering. Enigiemand wat begin om ’n vals leer te verkondig en sodoende laster, is onderhewig aan kerklike tug (1 Tim 1:8-20).

In die sewende plek is kerklike tug nodig om growwe sondes te voorkom. Partykeer is dit in die beoefening van kerklike tug nodig om iemand in die openbaar te berispe, soos wat Paulus met Petrus moes doen in Galásiërs 2:11-14 (1 Tim 5:20).

In die agtste plek is kerklike tug nodig om die verspreiding van vals lering te voorkom. Indien die kerk nalaat om ’n valse leraar te tugtig, sal die vals lerings eenvoudig versprei. Indien die kerk wel die vals leraar tugtig, sal die vals lerings op die een of ander manier stop. Die valse leraar moet óf berou toon, óf hy moet padgee (2 Tim 2:17-18).

In die negende plek is kerklike tug nodig om twis en tweespalt te voorkom (Tit 3:9-11).

B. Die Prosedure vir Kerklike Tug: Matthéüs 18:15-20
EN as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar. Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.

Die prosedure wat in hierdie teksgedeelte uitgestip word, vereis vier afsonderlike stappe. Eerstens moet daar ’n private ontmoeting wees tussen die persoon wat aanstoot geneem het en die persoon wat aanstoot gegee het. Dit is die persoon wat te na gekom is se verantwoordelikheid om na die oortreder te gaan en sy aandag op die probleem te vestig. Indien die oortreder reageer, is die probleem daar en dan opgelos.

As die oortreder weier om te reageer, tree die tweede stap in werking waar die benadeelde party weer die oortreder nader, hierdie keer met twee of drie getuies. Volgens Galásiërs 6:1 moet die twee of drie getuies geestelik volwasse mans wees. Hulle kan nie nuwe of jong gelowiges wees nie; dit is dalk wys om twee ouderlinge van die plaaslike kerk te vra om dit te doen.

Indien die persoon reageer op die vermaning van die twee of drie getuies, rus die saak daar. As hy nie reageer nie, is die derde stadium om dit voor die hele plaaslike gemeente te bring. Hierdie punt word in Romeine 16:17; 2 Korinthiërs 2:6 en 2 Thessalonicense 3:6-15 herhaal.

As die persoon steeds weier om te reageer, kom die kritieke vierde stap, naamlik ekskommunikasie, of soos die gedeelte in Matthéüs dit stel: laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar, met ander woorde “onrein”. Ekskommunikasie beteken dat hy buite die plaaslike gemeente se kring geplaas word; hy word uit die plaaslike gemeente geskors. Die plaaslike gemeente se mense word gemaan om nie sosiale omgang met die persoon te hê en die ekskommunikasie vir hom makliker te maak nie; hy geniet nie meer die beskerming van die heiliges se gebede of die plaaslike gemeente se gebede nie. Volgens 1 Korinthiërs 5:1-5 word hy oorgelewer aan Satan tot verderf van die vlees, hoewel die teksgedeelte verder aan duidelik noem dat sy gees nietemin gered sal word.

Dit is die prosedure vir kerklike tug. ’n Plaaslike gemeente moet hierdie vier stappe volg. Indien nie, sal die tug nie bybelse tug wees nie.

C. Die Vorme van Tug
Die derde deel oor kerklike tug bespreek die drie verskillende vorme van kerklike tug. Eerstens is daar vermaning en waarskuwing (1 Thess 5:12-13). Dit pas by die tweede of derde stap hierbo.

Die tweede vorm is skorsing uit die gemeenskap van gelowiges, waar die oortreder uitgesluit word van die gemeente se samekomste en waar lede van die plaaslike gemeente gevra word om nie sosiaal met die persoon om te gaan nie (2 Thess 3:6, 14).

Die derde vorm van dissipline is ekskommunikasie (1 Kor 5:5). Ekskommunikasie plaas die oortreder nie net buite die plaaslike gemeente nie, maar inderwaarheid in Satan se hande vir die vernietiging van sy fisiese lewe. Hoewel God normaalweg die gelowige se lewe neem, neem Satan die lewe van ’n gelowige wat geëkskommunikeer word. Satan het egter geen mag oor sy geestelike lewe nie, hy sal steeds gered word.

D. Die Beoefening van Kerklike Tug
In die vierde deel van kerklike tug is daar twee voorbeelde van die beoefening van kerklike tug in die Skrif. Een voorbeeld is in 1 Korinthiërs 5:1-5, waar tug vir onsedelikheid toegepas word. ’n Tweede voorbeeld is 1 Timótheüs 1:18-20, waar tugstappe vir laster ter sprake is.

E. Ingesteldhede in Kerklike Tug
Die vyfde deel oor kerklike tug verken die ingesteldhede wat ’n mens moet hê as jy kerklike tug wil beoefen. Die Bybel noem twee sleutelingesteldhede. Die eerste is dat dit met sagmoedigheid gedoen moet word (Gal 6:1). Tweedens moet dit gedoen word met ’n bereidheid om die persoon te vergewe as hy uiteindelik besluit om te reageer (2 Kor 2:5-11; 7:10-13).

F. Die Uitwerking van Kerklike Tug
Die sesde deel oor kerklike tug behandel die vraag: Watter uitwerking behoort kerklike tug te hê? Daar is ’n uitwerking op die individu wat getug word, sowel as op die plaaslike gemeente.

Die uitwerking van tug op die individu, indien dit aanvaar word, is tweeledig. Eerstens sal daar droefheid wees (2 Kor 2:7), en tweedens sal daar skaamte wees (2 Thess 3:14).

Die uitwerking van tug op die plaaslike gemeente sal drievoudig wees. Eerstens sal dit beskerm word teen enige verdere verderf (1 Kor 5:5). Tweedens sal die gemeentelede Godgegewe vrees ervaar (1 Tim 5:20). En derdens sal hulle die ingesteldheid aanleer dat die doel van tug is om herstel te bring. Tug se doel is nie om te straf nie; dit is om herstel te bring (2 Kor 2:5-11).

VI. DIE SABBAT EN SONDAG
Die sesde deel van die studie oor die plaaslike gemeente handel oor die kwessie van die Sabbat en Sondag. Hierdie afdeling sal in twee dele verdeel word.

A. Die Sabbat
Die Afrikaanse woord “Sabbat” kom van die Hebreeuse woord shabbat; dit beteken “om op te hou”, “om te staak” of “om te rus”. God het sy kreatiewe werk aan die einde van die sesde skeppingsdag afgesluit en op die sewende dag gerus (Gén 1:2-3). Die term shabbat kom nie in die boek Génesis voor nie; die enigste term wat gebruik word, is die sewende dag.

Teen die agtergrond van hierdie kort verduideliking van die Sabbat, sal die eerste deel in vier dele verdeel word.

1. Van Adam tot Moses
Die Sabbat is nie onderhou in die tydperk tussen Adam en Moses nie. Die een belangrike boek wat in die tyd tussen Adam en Job geskryf is, is die boek Job. Job maak geen melding van die Sabbat nie. Selfs in die geskiedskrywing van Génesis en die eerste deel van Exodus voor Moses se koms is daar geen rekord dat enigiemand die Sabbat onderhou het nie. ’n Mens lees nie van ’n enkele persoon wat die Sabbat onderhou het nie – nie Abraham, Isak, Jakob of Josef nie. Tussen Adam en Moses was daar geen Sabbatsonderhouding nie, want die Sabbat was nog nie as ’n gebod ingestel nie.

2. Van Moses tot Jesus
Van Moses tot en met Jesus die Messias se koms, was die Sabbat verpligtend. Die heel eerste melding van die Sabbat is in verband met Moses in Exodus 16:23, 29-30. Dit is die eerste melding van enigiemand wat die Sabbat onderhou. Die Sabbat is genoem as die sewende dag van die Skepping, maar daar was geen rekord dat enigiemand die Sabbat onderhou het nie. Dit was nie ’n skeppingsgebod nie. Die Sabbat het in Exodus 20:10-11 een van die Tien Gebooie geword. Nehemía 9:14 wys ook daarop dat die Sabbat by Moses begin het.

Die tweede ding wat ’n mens moet weet van die Sabbat tussen Moses en Jesus is dat die Sabbat verpligtend was vir die Jode, maar nie verpligtend vir die nie-Jode nie. ’n Mens moet dit in gedagte hou wanneer dit by die Sewendedag-adventiste se argumente kom. Exodus 31:12-17 noem dat die Sabbat ’n teken tussen God en Israel is. Sewendedag-adventiste is egter nie deel van die volk Israel nie, en die Sabbat geld dus nie vir hulle nie. Die Sabbat dien in Deuterónomium 5:15 as ’n teken van Israel se verlossing uit Egipte. God het nooit die Sewendedag-adventiste uit Egipte bevry soos wat Hy met die Israeliete gedoen het nie. Selfs die profete het dieselfde punt beklemtoon. Hulle het nooit Sabbatsonderhouding verpligtend gemaak vir alle mense nie, slegs vir Israel. Eségiël 20:12 en 20 het die feit onderstreep dat die Sabbat ’n teken tussen God en Israel was.

’n Derde punt oor die Sabbat tussen Moses en Jesus waarvan ’n mens kennis moet neem, is dat daar in Hoséa 2:11 ’n profesie was oor die beëindiging van Sabbatsonderhouding in die toekoms.

3. Die Huidige Bedeling
Die derde afdeling wat oor die Sabbat handel, antwoord die vraag: Wat van die Sabbat in die huidige era? Twee sake moet hier aandag geniet.

Eerstens is die onderhouding van die Sabbat nooit na Sondag toe oorgedra nie; die Sabbat val nog steeds op die sewende dag van die week, nie die eerste dag van die week nie. Die Sabbat is nog steeds van sononder op Vrydag tot sononder op Saterdag.

Tweedens is dit nie in die huidige era meer verpligtend om die Sabbat te onderhou nie. Die Sabbat word nege keer in die boek Handelinge genoem, maar nooit in verband met aanbidding deur gelowiges nie. Elke keer as die Sabbat in die boek Handelinge ter sprake kom, verwys dit na die onderhouding van die Sabbat in ’n sinagoge, nie deur gelowiges nie.

Sewendedag-adventiste wat Paulus se Sabbatsbesoeke aan sinagoges gebruik, moet in gedagte hou dat aanbidding in die sinagoge nie dieselfde is as ’n kerkdiens nie. As hulle regtig Paulus se voorbeeld wil volg, moet hulle nie op Saterdae na hul eie kerke toe gaan nie, maar na sinagoges toe.
Die nege keer wat die Sabbat in die boek Handelinge genoem word, is dit altyd in verband met die onderhouding van die Wet van Moses in die sinagoge, maar nooit in verband met aanbidding deur gelowiges wat nou die Liggaam van die Messias uitmaak nie.

Die Sabbat word in die sendbriewe in Romeine 14:5, Galásiërs 4:9-10 en Kolossense 2:16-17 genoem. Nie een van hierdie gedeeltes lê ’n verpligting op gelowiges om op die Sabbat te aanbid nie. Romeine 14:5 sê byvoorbeeld: Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.

Volgens hierdie vers is daar nie in die huidige era ’n spesiale dag van die week wat opsy gesit moet word nie, want een persoon beskou die een dag as spesiaal en iemand anders beskou al die dae as dieselfde, maar elke persoon moet ten volle oortuig wees in sy eie gemoed. Wat ’n persoon ook al kies, dit staan hom vry. Dit staan hom vry om ’n dag van die week opsy te sit, en dit staan hom vry om nie ’n dag van die week opsy te sit nie. Albei opsies is vir die Here in die haak.

’n Ander gedeelte, Galásiërs 4:9-10, sê: … maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en maande en tye en jare waar.

Paulus het die nie-Joodse gelowiges van Galásië vermaan om hulle nie op te hou met al die Wet van Moses se bepalings nie. Hulle moet hulle nie bekommer oor die nakoming van sekere dinge nie. Hy noem dae, wat verwys na Sabbatdae; maande, wat verwys na nuwemaansfeeste; tye, soos die Paastyd; en jare, soos die Sabbatsjaar. Paulus sê hierdie dinge is nie bedoel vir die nuwe entiteit, die Kerk, nie.

’n Laaste teksgedeelte is Kolossense 2:16-17: Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.

Paulus sê dat niemand ’n gelowige oor die Wet van Moses se bepalings moet oordeel nie. Een van hierdie bepalings is die Sabbatdae. So as iemand nie die Sabbat onderhou nie, en ’n Sewendedag-adventis wil hom daaroor oordeel, is laasgenoemde volgens hierdie vers duidelik buite orde.

Die punt wat hierdie verse maak, is dat Saterdag nog steeds die Sabbat is in die huidige era, want dit is nooit na Sondag toe oorgedra nie. Daar is egter geen gebod om steeds die Sabbat te onderhou nie; die Sabbat is nie meer verpligtend nie.

4. Die Messiaanse Koninkryk
Die vierde eenheid oor die Sabbat bespreek die rol wat dit sal speel wanneer die Koninkryk gevestig word: die Sabbat sal weer eens ’n dag van verpligte rus wees (Jes 66:23; Eség 46:1).

B. Sondag
Die tweede deel van hierdie afdeling bespreek die Sondag-kwessie onder drie hofies: die naam, die manier waarop dit gevier word en die feit dat daar geen gebod ten opsigte van die viering van die Sondag is nie.

1. Die Naam
Die term “Sondag” kom eintlik van ’n heidense naam vir die eerste dag van die week af. Die Bybel gebruik nooit die term “Sondag” vir hierdie spesifieke dag nie. Bybels gesproke word daar nooit gepraat van “Sondag”, “die Sabbat” of “die dag van die Here” nie. Hoewel baie gelowiges dit as ’n algemene term vir hierdie dag gebruik, praat die Bybel nooit van Sondag as “die dag van die Here” nie. Die naam wat in die Bybel daaraan gegee word, is altyd die eerste dag van die week. Hierdie benaming strook met die Hebreeuse benamings vir die dae van die week. In Hebreeus word die eerste dag van die week juis dít genoem: die eerste dag van die week. Dit is die enigste Nuwe-Testamentiese naam wat vir hierdie dag gebruik word.

2. Viering
Die tweede punt onder die bespreking van die Sondag-kwessie is die gelowiges se keuse om op grond van sekere gebeure op Sondae op daardie dag bymekaar te kom. Daar is ses gebeure in die Nuwe Testament wat op die eerste dag van die week plaasgevind het.

Die eerste hiervan is natuurlik die Opstanding van Jesus die Messias. Die Messias is op die eerste dag van die week opgewek, iets wat deur al vier Evangelies gestaaf word (Matt 28:1; Mark 16:2; Luk 24:1; Joh 20:1).

Die tweede gebeurtenis wat op die eerste dag van die week plaasgevind het, was dat Jesus op daardie dag aan tien van sy dissipels verskyn het (Joh 20:19).

Die derde gebeurtenis, presies een week later – ook op die eerste dag van die week, was die verskyning aan die elf dissipels: Thomas, wat die vorige keer nie daar was nie, was hierdie keer by (Joh 20:26).

Die vierde gebeurtenis wat op die eerste dag van die week plaasgevind het, was die verjaardag van die Kerk. Dit kan afgelei word deur dít wat ’n mens in Handelinge 2:1-4 lees met Levítikus 23:15-16 te vergelyk. Deur hierdie twee teksgedeeltes met mekaar te vergelyk, blyk dit dat die Heilige Gees se uitstorting in die kerk op die eerste dag van die week plaasgevind het.

Die vyfde gebeurtenis wat op hierdie dag plaasgevind het, is dat die gemeente in Troas op die eerste dag van die week bymekaargekom het. Dit was vroeg reeds ’n gewoonte onder gelowiges om op die eerste dag van die week bymekaar te kom (Hand 20:7).

En die sesde gebeurtenis wat op die eerste dag van die week plaasgevind het, was dat dit die dag was waarop die offerande opsygesit moes word (1 Kor 16:2).

Die rede waarom gelowiges die hele geskiedenis deur gekies het om die weeklikse viering op Sondag te hou, is dus weens hierdie ses gebeure wat op hierdie dag plaasgevind het. Dit is ’n algemene wanopvatting dat viering op Sondae by die Rooms-Katolieke Kerk begin het. Dit is nie waar nie. Die Joodse gelowiges in die eerste eeu het met die viering op die eerste dag begin.

Die rede was baie eenvoudig: dit was gebruik onder die Joodse gelowiges om steeds saam met nie-gelowige Jode in hul normale aanbidding by die sinagoge op die Sabbatdag, Saterdag, te deel. Die apostels het byvoorbeeld op die Sabbatdag na die Tempel toe gegaan om te aanbid, en die eerste Joodse gelowiges het saam met ander Jode op die Sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Paulus, Barnabas en Silas – onder andere – het dikwels in die boek Handelinge op die Sabbat ’n diens in die sinagoge bygewoon. Aangesien al die eerste gelowiges Jode was, het hulle voortgegaan om saam met ander Jode op die Sabbatdag in die Tempel of die sinagoge bymekaar te kom. Maar synde gelowiges, het hulle ook ’n behoefte gehad om uitsluitlik as gelowiges bymekaar te kom. Dus het hulle die volgende dag, die eerste dag van die week, gekies. Hulle het nie noodwendig bymekaargekom op dit wat ons as “Sondagoggend” ken nie, want hulle sou Sondagoggende werk toe moes gaan. Die Joodse Sabbat is van sononder op Vrydag tot sononder op Saterdag, en die eerste dag van die week begin teen sononder op Saterdag, nie eers teen middernag Saterdagnag nie. Saterdae ná sononder was dit reeds die eerste dag van die week, en die Joodse gelowiges het toe bymekaargekom. Dit was nie die Rooms-Katolieke Kerk wat met die Sondagviering begin het nie, maar die Joodse gelowiges. Hulle het egter nie op Sondagoggende bymekaargekom nie, maar op Saterdagaande.

Daar is ’n verhaal in die Joodse Talmoed wat handel oor ’n rabbynse bespreking oor die kwessie waarom Jode nie op die eerste dag van die week vas nie. Die aanhaling lui min of meer soos volg: “Ons vas nie op die Sabbatdag nie, omdat dit ’n Sabbatdag is; ons vas ook nie op die dag vóór die Sabbat nie, ten einde die Sabbat te eer. Hoekom vas ons nie op die dag ná die Sabbat nie? Weens die Nasareners.”

Die term “Nasarener” was die vroeë Joodse term vir Jode wat in Jesus se Messiasskap geglo het. ’n Mens kan al in die boek Handelinge sien dat die Joodse leiers die Joodse gelowiges “Nasareners” genoem het. Die rede waarom die rabbi’s die Joodse volk probeer verbied het om op Sondae te vas, was om te voorkom dat hulle enige eer betoon aan die dag wat die Joodse gelowiges as heilig beskou het, naamlik die eerste dag van die week.

Sowel bybelse bronne as Joodse bronne uit daardie tydperk toon dat die gebruik om op die eerste dag van die week te aanbid by die Joodse gelowiges begin het, en nie by die Rooms-Katolieke Kerk nie.

3. Geen Opdrag aangaande Sondagviering
Die derde punt wat oor Sondae gemaak moet word, is dat die viering van die Sondag nie ’n gebod is nie. Daar is geen gebod om Sondae te vier nie. Die opdrag wat in die Skrif gegee word, is dat gelowiges bymekaar moet kom (Heb 10:25-26). Die dag wat ’n individuele plaaslike gemeente daarvoor kies, hang heeltemal van daardie plaaslike gemeente af. Indien ’n plaaslike gemeente besluit het om op Sondae bymekaar te kom, is dit heeltemal in die haak. Maar as die plaaslike gemeente eendag besluit om slegs op Dinsdae bymekaar te kom, sal dit ook bybels gesproke reg wees, aangesien daar geen verpligte Sondagviering is nie. Dit is wel verpligtend om bymekaar te kom, maar elke plaaslike gemeente het die vryheid om te kies op watter dag van die week hulle dit wil doen.

In Israel kom gemeentes op Saterdae bymekaar, nie omdat hulle verplig voel om die Sabbat te onderhou nie, maar omdat Sondag ’n gewone werksdag vir Joodse gelowiges is, en hulle ’n bestaan moet maak. Die evangelies fundamentalistiese kerke in Israel wat inheems is, kom op Saterdae, die sewende dag, bymekaar. In Moslemlande kom kerke op Vrydae bymekaar, want dit is die werkvrye dag vir mense wat in Moslemlande woon. Al hierdie reëlings is heeltemal in die haak binne die konteks van dit wat bybels toelaatbaar is.

VII. DIE SAMEKOMS VAN DIE GEMEENTE
Die sewende afdeling van die studie oor die plaaslike gemeente behandel die vraag: Hoe definieer ons die samekoms van die gemeente? Ons vind baie voorskrifte wat betrekking het op die samekoms van die gemeente en hoe dit gehou behoort te word.

Dit blyk duidelik uit verskeie teksgedeeltes in die Nuwe Testament dat daar vyf elemente in die gemeente se samekoms was. Die eerste element was die beoefening van geestelike gawes (1 Kor 14:26). Die tweede element was die gebruik van die Nagmaal (1 Kor 14:26). Die derde element was die opsysit van die offergawe (1 Kor 16:1-2). Vierdens moes daar gebid word (1 Tim 2:1-2). En vyfdens het hulle getuig en verslag gelewer oor hul sendingbedrywighede (Hand 14:27). Tog kan nie een van hierdie elemente gebruik word om ’n samekoms van die gemeente te definieer nie.

Daar is een gemeenskaplike element, en dit spruit uit die kernbetekenis van die Griekse woord vir “kerk”, kaleo, wat beteken “om uit te roep”. Die beste manier om ’n samekoms van die gemeente te definieer, is om te sê dat dit ’n byeenkoms is wat deur die ouderlinge saamgeroep is. Hulle het die gesag om dit te doen. Hul teenwoordigheid is nodig om die byeenkoms te hou. Enige samekoms wat amptelik deur die ouderlinge saamgeroep is, is ’n samekoms van die gemeente. Die doel daarvan kan aanbidding, gemeentesake of iets anders wees, maar elke keer wanneer die gemeente-ouderlinge ’n byeenkoms saamroep, moet hulle teenwoordig wees om die byeenkoms te hou. Dít is ’n samekoms van die gemeente. Dit is by sulke byeenkomste wat die onderskeie reëls vir behoorlike gedrag en die nodige waardigheid deur die plaaslike gemeente geld. Dit geld nie bloot omdat ’n mens ’n gebou betree waar die gemeente saamkom nie; dit geld slegs as die samekoms self deur die ouderlinge saamgeroep is.

VIII. DIE ROL VAN VROUE IN DIE PLAASLIKE GEMEENTE
Die agtste afdeling behandel die rol van vroue in die plaaslike gemeente. Dit is ’n hoogs gedebatteerde onderwerp deesdae, nie omdat die Bybel onduidelik is daaroor nie, maar omdat demokrasie die plaaslike gemeente probeer binnedring het, en omdat moderne konsepte van vroue se rol in die gemeenskap – wat nie noodwendig bybels is nie – dikwels in die Kerk toegepas word. Daarom is dit nodig om vroue se rol in die plaaslike gemeente duidelik uit te lê. Hierdie kwessie sal onder vier beginsels bespreek word.

A. Die Beginsel van Onderdanigheid
Daar is drie sleuteltekste in die Bybel wat oor die beginsel van onderdanigheid handel. Die eerste teksgedeelte is Efésiërs 5:22-24: VROUE, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.

Die punt van hierdie gedeelte is dat ’n vrou aan haar man onderdanig moet wees, soos aan die Here. Haar onderdanigheid in alles teenoor haar man dui op haar onderdanigheid aan die Here. ’n Vrou wat nie aan haar man onderdanig is nie, kan hoegenaamd nie daarop aanspraak maak dat sy aan die Here onderdanig is nie.

Die tweede teksgedeelte is Titus 2:5: … ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie.

Hierdie vers wys daarop dat ’n vrou aan haar man onderdanig moet wees; as sy nie is nie, word die woord van God belaster.

Die derde teksgedeelte is 1 Petrus 3:1-6: NET so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het. Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig, soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.

Hierdie gedeelte maak drie hoofstellings. Eerstens wys vers 1-2 daarop dat ’n vrou aan haar man onderdanig moet wees, selfs al is hy ’n ongelowige. Die feit dat ’n vrou se man ongelowig is, skeld haar nie kwyt van die verpligting om aan hom onderdanig te wees nie.

Tweedens word die onderwerp van versiering in vers 3-4 aangespreek. Daar is niks fout met uiterlike versiering nie, maar hierdie verse wys daarop dat ’n vrou se fokus op innerlike versiering moet val; nie op die uiterlike, sodat die innerlike tweede viool speel nie. Innerlike versiering is die aankweek van ’n sagmoedige en stille gees.

Derdens wys vers 5-6 daarop dat dit die manier is waarop die heilige vroue van die Ou Testament hulle gedra het; hulle moet ’n voorbeeld wees vir die vroue van vandag.

Die eerste beginsel wat vroue se rol betref, is dus die beginsel van onderdanigheid. In al hierdie gevalle was die onderdanigheid spesifiek van die vrou aan die man. Dít vorm die fondasie van hierdie beginsel waarop die rol van vroue in die plaaslike gemeente rus.

B. Die Beginsel van Stilte
Die tweede beginsel wat handel oor die rol van vroue is die beginsel van stilte. Hierdie beginsel word in 1 Korinthiërs 14:33b-35 aangetref: … soos in al die gemeentes van die heiliges. Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek.

Mense het al allerhande eksegetiese gimnastiek gebruik om verby die ooglopende betekenis van hierdie teks te kom, maar wat Paulus sê, is baie maklik om te verstaan. Daar is vier punte om op te let.

Eerstens, in vers 33b, blyk dit dat dít wat hy wil sê die gebruik van alle gemeentes is, en dat dit ’n beginsel is wat deur alle gemeentes gevolg behoort te word, nie net deur party nie.

Tweedens, in vers 34a, bevestig hy sy apostoliese gesag. Die vroue moet ingevolge apostoliese gesag stil wees in die samekomste van die gemeente. Onthou, die samekoms van die gemeente is enige byeenkoms wat deur die ouderlinge saamgeroep is; hulle teenwoordigheid is noodsaaklik, ongeag die doel van die samekoms.

Derdens wys hy in vers 34b daarop dat hierdie beginsel ook in die Ou Testament geleer word; dit is nie bloot ’n Nuwe-Testamentiese lering nie.

Vierdens wys Paulus in vers 35 daarop dat die gebod van stilte selfs van toepassing is op die vra van vrae, ingeval iemand moontlik uit die konteks aflei dat hierdie vers slegs beteken dat vroue nie in die gemeente in tale mag praat nie. Dit beteken in wese dat ’n vrou in die samekoms van die gemeente moet stilbly, en dat sy selfs nie vrae mag vra nie. Dit geld natuurlik nie vir sang nie, want hy tref wel onderskeid in die konteks tussen spraak en sang. Maar wat spraak betref, geld die beginsel van stilte.

C. Die Beginsel van Onderrig
Die derde beginsel wat betrekking het op vroue se rol in die plaaslike gemeente, is die beginsel van onderrig. Daar is twee teksgedeeltes wat oor hierdie beginsel handel.

1. 1 Timótheüs 2:11-14
Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.

Die eerste teksgedeelte oor die kwessie van onderrig sê dat vroue nie toegelaat word om mans in die Skrif te onderrig nie. Paulus maak drie hoofstellings in hierdie gedeelte. Eerstens, sê hy, moet ’n vrou haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid.

Tweedens pas hy die beginsel van onderdanigheid in vers 12 toe op die beginsel van onderrig: vroue word nie toegelaat om mans te onderrig nie. As vroue mans wel in die Skrif onderrig, is hulle nie aan God onderdanig nie. Die rede hiervoor is dat die gee van onderrig op die uitoefening van gesag neerkom. Die onderrig waarna daar verwys word, is nie onderrig in sekulêre vakke nie; dit is onderrig in die Skrif. Hierdie vers verbied nie vroue om mans in wetenskap of wiskunde of geesteswetenskappe te onderrig nie. Maar onderrig in die Skrif word wel verbied. Iemand wat lering gee uit die Skrif, oefen geestelike gesag uit. Dit is nie toelaatbaar vir vroue nie, dus word hulle verbied om mans in die Skrif te onderrig.

Derdens geld hierdie verbod slegs op onderrig aan mans; vroue word nie verbied om die Skrif aan ander vroue of aan kinders te leer nie. Paulus dui in vers 13-14 die rede hiervoor aan. Vers 13 sit die gesagsorde uiteen om te wys dat vroue hul onderdanigheid moet wys deur nie die Skrif aan mans te onderrig nie. Volgens vers 14 is vroue natuurlikerwys meer vatbaar vir valse lering as mans. Hierdie vers spruit uit Eva se verhaal, na haar leidende rol in die oortreding wat tot haar ondergeskikte rol in die Kerk gelei het. Die vrou het in Génesis 3 wederregtelik gesag oor haar man uitgeoefen en die leiding in die Sondeval geneem, en word nou verbied om weer gesag in die plaaslike gemeente uit te oefen deur mans in die Skrif te onderrig.

2. Titus 2:3-5
Die ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie, maar leraresse van wat goed is, sodat hulle die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê, ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie.

Titus sê twee goed oor ’n vrou se rol in onderrig. Eerstens mag ’n vrou ander vroue leer. God gee wel die gawe van lering aan vroue. Vroue wat meer ervare is in die geloof moet dus die jonger vroue leer. En tweedens mag vroue ook kinders onderrig. Hulle mag egter nie volwasse mans onderrig nie.

D. Die Beginsel van die Hoofbedekking
Die vierde beginsel word in 1 Korinthiërs 11:2-16 aangetref. Hierdie teksgedeelte sal vers-vir-vers uitgelê word, en dit sal duidelik word dat Paulus nie vaag was hier nie. Die probleem hier is dat mense eenvoudig nie hierdie teksgedeelte wil gehoorsaam nie, en dat hulle agter die fasade van twintigste-eeuse kultuur wil wegkruip, hoewel hulle dit voor die deur van eerste-eeuse kultuur wil lê. Hierdie teksgedeelte kan in vyf dele verdeel word.

1. Godgegewe Tradisies: 1 Korinthiërs 11:2
EN ek prys julle, broeders, dat julle in alles aan my dink en aan die leringe vashou soos ek dit aan julle oorgelewer het.

In hierdie vers beklemtoon Paulus die belangrikheid daarvan om Godgegewe tradisies in die plaaslike gemeente te handhaaf. Paulus maak nie die onderwerp van hoofbedekking wat hy gaan bespreek as iets onbenulligs af nie. Die vraag is belangrik genoeg om ordentlik beantwoord te word. Paulus het trouens vyftien verse nodig om dit te antwoord. ’n Mens behoort dus aandag te gee en te let op wat hy sê, want daar is ’n regte manier en ’n verkeerde manier om God te aanbid.

Die punt wat hy maak, is dat die saak nie ’n kwessie van smaak of ’n kwessie van nasionale tradisie is nie, maar eerder dat Christelike gebruike aan die Christelike leer moet voldoen. Die praktyk van hoofbedekking is ’n nakoming van spesifieke leerstellings. Hy wys in hierdie vers daarop dat elke plaaslike gemeente ’n plig het om getrou te bly aan die leer van die apostels. Die woord leringe hier verwys nie na ’n kerktradisie nie, maar na ’n opdrag wat deur apostoliese gesag gegee is. Die apostels het die reg gehad om gebooie in te stel of op te hef; hier gee Paulus by magte van apostoliese gesag ’n gebod aan die kerk. Hierdie gebod moet gehoorsaam word, net soos die ander gebooie wat hy neergeskryf het.

2. Die Beginsel van Hoofskap: 1 Korinthiërs 11:3
Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.

Paulus sit die gesagsorde uiteen wanneer hy oor die beginsel van hoofskap praat. Daar is drie skakels in hierdie gesagsorde. Die eerste skakel is God die Vader se hoofskap oor God die Seun, Jesus die Messias. Die tweede skakel is die Messias se hoofskap oor die man. En die derde skakel is die man se hoofskap oor die vrou. Die eerste beginsel van vroue se rol in die plaaslike gemeente is die beginsel van onderdanigheid aan die man se hoofskap oor die vrou.

Wat die beginsel van hoofskap betref, is daar twee verwikkelinge. In die eerste plek het dit niks te doen met meerderwaardigheid of minderwaardigheid nie. Hierdie vers probeer net so min sê dat die vrou minderwaardig is teenoor die man as wat die Bybel sê dat die Messias minderwaardig is teenoor die Vader. Geen vers probeer dit sê nie. Onderdanigheid is nie ’n kwessie van meerderwaardigheid of minderwaardigheid nie. Die Bybel stel dit duidelik dat die Vader en die Seun gelyk is, en tog is die Seun aan die Vader onderdanig. Die man en die vrou is gelyk, maar die een moet onderdanig wees aan die ander.

Die tweede verwikkeling is dat daar in die Griekse teks ’n bepaalde lidwoord (die) voor die woord man is, maar nie voor die woord vrou nie. Dit dui dus op ’n funksionele verhouding, ’n funksionele onderdanigheid. Dit is die onderdanigheid van vroulikheid aan manlikheid.

Dít is die teologiese waarheid waarop die tradisie gegrond is, die teologiese fondasie waarop die praktyk rus.

3. Die Toepassing van die Leer: 1 Korinthiërs 11:4-6
Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan; maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan; want dit is een en dieselfde asof haar hoof geskeer is. Want as ’n vrou se hoof nie bedek is nie, laat sy dan ook haar hare afsny; maar as dit vir ’n vrou lelik is om haar hare af te sny of te skeer, laat sy haar hoof bedek.

Die leer word eers op die man van toepassing gemaak, en dan op die vrou. Die toepassing vir die man in vers 4 is dat sy hoof in die samekoms van die gemeente onbedek moet wees wanneer hy bid of profeteer. Gebed en profesie is aktiwiteite wat in die openbare samekoms gebeur, nie in afsondering nie. Die man se hoof moet nie bedek word as hy in die openbaar gebed of profesie beoefen nie. As sy hoof bedek is, bring hy skande oor sy hoof; hy doen sy eie hoof oneer aan. Hy doen ook vir Jesus, sy geestelike hoof, oneer aan. Die toepassing vir die man is dat sy hoof onbedek moet bly.

In vers 5-6 word die toepassing vir die vrou gegee. Dit begin met ’n gebod in vers 5. Die gebod is dat elke vrou haar hoof moet bedek. Die Griekse teks is só geskryf dat die woorde elke vrou na alle vroue in die algemeen kan verwys, wat beteken dat die woord “vroue” in vers 3 generies gebruik word om “vroulikheid” teenoor “manlikheid” te stel. Dit kan egter ook “elke getroude vrou” beteken, aangesien die woord “vrouepersoon” sowel as “getroude vrou” kan beteken.

Ek vertolk hierdie vers as slegs van toepassing op getroude vroue; dit is getroude vroue wat aan hul mans onderdanig moet wees, nie enkellopende vroue nie. Hulle word opdrag gegee om hul onderdanigheid te wys deur ’n hoofbedekking te dra. Ek sal dus sê dat die opdrag nie vir alle gelowige vroue in die algemeen geld nie, maar spesifiek vir getroude vroue.

Die opdrag aan die vrou is om haar hoof te bedek. Die Griekse woord vir nie bedek … nie wat in hierdie vers gebruik word, is ’n woord wat gebruik word om na ’n kledingstuk te verwys. “Om te bedek” beteken “om ’n kledingstuk aan te trek”, en “om te ontbloot” beteken om ’n kledingstuk uit te trek. Anders as ’n man, moet ’n vrou haar hoof bedek in die samekoms van die gemeente wanneer daar gebid en geprofeteer word.

Wat die uitdrukking bid of profeteer betref, glo party mense dat dit bloot beteken dat ’n vrou slegs ’n hoofbedekking hoef te dra as sy hardop bid of hardop profeteer, maar dit is nie die punt nie. Die twee woorde bid en profeteer is verteenwoordigend van alles wat in die samekoms van die gemeente gebeur. Dit is verteenwoordigend van die totale deelname in die samekoms. Paulus sê later in 1 Korinthiërs 14:33-35 dat die bybelse verwagting vir vroue in die samekoms van die gemeente stilte is. Hierdie teksgedeelte gaan nie oor ’n mens se bediening in die gemeente nie. Paulus behandel dit in hoofstuk 12-14. Nee, hierdie hoofstuk handel oor ’n mens se posisie in die samekoms van die gemeente.

Die uitdrukking bid of profeteer is eintlik beeldspraak vir die hele samekoms van die gemeente – van die geringste aktiwiteit, gebed, wat almal kan doen, tot die belangrikste, profesie, wat slegs ’n paar kan doen. In gebed praat ’n mens met God (1 Kor 14:14-15); in profesie praat ’n mens met mense (1 Kor 14:3-5, 22, 24, 31). Dit is die geringste en belangrikste wat binne die samekoms van die gemeente gebeur, en albei uitdrukkings word in die gemeente se aanbidding tot die mans beperk. Openbare gebed word byvoorbeeld in 1 Timótheüs 2:8, 10-11 tot mans beperk, en profesie word in 1 Korinthiërs 14:33-35 tot mans beperk. Paulus gebruik bid of profeteer as die somtotaal van dít wat in die samekoms van die gemeente plaasvind.

Paulus praat op hierdie tydstip net oor die hoofbedekking; hy is van plan om eers later in hoofstuk 14 die onderwerp van spreekbeurte vir vroue te behandel, wat hy dan verbied. Hy wys dus daarop dat ’n onbedekte hoof ’n skande is vir die vrou, aangesien sy haar eie hoof én haar man, haar figuurlike hoof, oneer aandoen. ’n Onbedekte hoof skaar haar by dié wat hul hare skeer: die owerspelige vrou, die ongehude moeder en die vrouepriesters van die falliese kultus. Hoewel haar hare dalk nie self geskeer is nie, veroorsaak die gebrek aan ’n hoofbedekking dat sy met sulke onsmaaklike vroue wat wel hul hare skeer, geassosieer word. Dit is die rede waarom sy haar hoof moet bedek.

In vers 6 tref Paulus ’n vergelyking. Die vergelyking is dat ’n vrou wat nie haar hoof bedek nie, net sowel haar hare kan afskeer. As ’n vrou die bedekking wat deur hoofskap vereis word, in die wind slaan, moet sy ook van die bedekking wat die natuur haar gee, naamlik haar hare, ontslae raak. Hierdie teksgedeelte wys dat hare en hoofbedekking nie dieselfde is nie. As dit ’n skande is vir ’n vrou om haar hare af te skeer, moet sy ook haar hoof bedek.

4. Die Verdediging van die Leer: 1 Korinthiërs 11:7-15
Die vierde deel van hierdie teksgedeelte is ’n verdediging van hierdie leerstelling. Paulus verdedig hierdie leerstelling met twee hoofbewyse.

a. Uit die Skepping: 1 Korinthiërs 11:7-12
Want ’n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man (v 7).

Hierdie vers dui op die weerspieëling van heerlikheid in soverre die man God se beeld en sy heerlikheid weerspieël, en in soverre die man God se hoofskap en gesag verteenwoordig. Sy onbedekte hoof is die sigbare uitdrukking van daardie onsigbare waarheid. ’n Vrou weerspieël die heerlikheid van die man. Sy moet die man se onderdanigheid aan God weerspieël; deur haar hoof te bedek, doen sy nie afbreuk aan die man se heerlikheid nie en ding sy nie daarmee mee nie.

Die vrou se skoonheid lê deels in haar lang hare. Omdat die man die eer moet kry en die vrou onderdanig moet wees in die samekoms van die gemeente, mag haar onbedekte hoof nie die heerlikheid steel wat die man toekom nie. Daarom gebied hierdie teksgedeelte haar om ’n kledingstuk oor dié deel van haar kop te sit waaruit haar hare groei. Sodoende sal dít wat haar mooi maak, haar hare, nie afbreuk doen aan die man se hoofskap nie.

Paulus wys in vers 8 op die skeppingsorde: Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man.

Die man se oorsprong was onafhanklik van die vrou, want die man is uit die stof van die aarde geskep. Die vrou se oorsprong was wel van die man afhanklik, want sy is uit sy rib gemaak; sonder hom sou sy nie tot stand kon kom nie.

Paulus noem die vrou se doel in vers 9: Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man.

Die man is nie geskep om die vrou te dien nie; die vrou is geskep om die man se hulp te wees (Gén 2).

Paulus kom in vers 10a tot die volgende slotsom oor dit wat pas gesê het: Daarom moet die vrou ’n aanduiding van gesag op die hoof hê.

’n Vrou moet dus, weens die teologiese waarheid wat Paulus uitgestip het, ’n simbool van gesag op haar hoof dra. Let daarop dat Paulus nie ’n enkele kulturele rede verstrek vir die dra van ’n hoofbedekking nie. Elke rede is teologies van aard. As die teologiese redes steeds water hou – soos dit wel doen – is dié praktyk nog steeds ’n opdrag. ’n Vrou moet dus ’n aanduiding van gesag op die hoof hê. Hierdie ’n aanduiding van gesag is ’n kledingstuk wat as ’n hoofbedekking dien. Dit hoef nie ’n hoed te wees nie, maar die een of ander kledingstuk. Die hoofbedekking moet as ’n sigbare teken van die teologiese waarheid dien.

Paulus gee voorts, in vers 10b, nóg ’n rede waarom ’n vrou haar hoof moet bedek: ter wille van die engele.

Een van die funksies van goeie engele is om die gelowiges dop te hou. In Lukas 15:10 sien engele byvoorbeeld wanneer iemand gered word. In 1 Korinthiërs 4:9 neem engele die gelowiges se stryd in die wêreld waar. In Efésiërs 3:10 sien engele God se plan en sy program, en leer hulle God se wysheid ken deur sy plan vir die Kerk. In 1 Timótheüs 5:21 word die gebod om God se wette te gehoorsaam in die teenwoordigheid van engele gegee. Die engele kyk of die mens daardie gebooie nakom. Jesaja 6:1-2 wys daarop dat die engele hulleself in God se teenwoordigheid bedek het; behoort ’n vrou enigsins minder as die engele te doen om God te gehoorsaam? Die feit bly dat die goeie engele kyk of vroue hierdie gebod nakom, en dat dit nóg ’n rede is waarom ’n vrou haar hoof moet bedek.

Paulus gee in vers 11 en 12 die les van interafhanklikheid: En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder die man nie. Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die vrou; maar alles is uit God.

Die doel van hierdie les oor interafhanklikheid is om die vrou teen moontlike misbruik deur die man te beskerm omdat hy die hoof is. Die feit is dat ’n man nie sy hoofskap kan gebruik as ’n verskoning vir arrogansie en om die vrou te verkleineer nie. Hoewel vroue nie tydens die Skepping onafhanklik van die man was nie, was die man onafhanklik van die vrou; mettertyd het die man egter wel van die vrou afhanklik geraak. Hoewel die vrou se bestaan te danke is aan die man wat eerste geskep was, omdat sy uit sy rib geneem is, hang die man se voortgesette bestaan van die vrou af, omdat hy slegs deur die moederskoot in die wêreld kan kom. Hierdie les leer vir ons interafhanklikheid. Net omdat God die gesag van hoofskap aan die man gegee het, beteken nie dat hy enige rede het om die vrou te verkleineer of haar te misbruik nie.

b. Uit die Natuur: 1 Korinthiërs 11:13-15
Paulus haal ’n tweede kategorie bewyse aan om die leerstelling van die hoofbedekking te verdedig, naamlik bewyse uit die natuur. Paulus gebruik die invalshoek van ordentlikheid vir sy les in vers 13: Oordeel self: Is dit betaamlik dat ’n vrou met onbedekte hoof tot God bid?

Die woord “ordentlik” beteken “dit wat gepas is” of “dit wat reg is”. Die woord “oordeel” verwys nie na persoonlike opinie of vooroordeel nie, maar na die goddelike norm, die goddelike standaard. Die vraag oor ordentlikheid is gegrond op die teologiese waarheid wat vroeër aan die orde gekom het. Paulus vra: “Is dit betaamlik vir ’n man om lang hare te hê?” Die antwoord is duidelik “nee”.

Teen hierdie agtergrond hanteer Paulus die kwessie oor lang hare in vers 14-15: Of leer ook die natuur self julle nie dat as ’n man lang hare dra, dit vir hom ’n oneer is nie; maar as ’n vrou lang hare dra, dit vir haar ’n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ’n bedekking?

Eerstens wys hy in vers 14 daarop dat die natuur self ons leer dat ’n vrou se hare langer as ’n man s’n is. Dit is ’n universele verskynsel. ’n Mens kan na enige plek in die wêreld reis, en op enkele uitsonderings na sal ’n mens altyd sien dat die een gebruik wat skynbaar oral geld, is dat vrouens hul hare langer as mans s’n dra. Paulus sê dat daar bybels gesproke ’n objektiewe onderskeid tussen mans en vroue moet wees wat aan die lengte van hul hare gesien kan word. As ’n man lang hare het, is dit vir hom en vir God ’n oneer, want deur lang hare te hê, eis hy wederregtelik die heerlikheid van die vrou vir homself op. ’n Man behoort sy hare korter as ’n vrou s’n te dra.

In vers 15 wend Paulus hom tot die vrou, en wys daarop dat haar hare vir haar ’n eer is. Haar lang hare is ’n versiering wat die basis van haar glansrykheid of skoonheid vorm. Haar lang hare beklemtoon haar vroulikheid. Haar lang hare is haar bedekking. Party mense gebruik hierdie vers om te sê dat die hoofbedekking waaroor Paulus tot dusver gepraat het, die vrou se hare is. Met ander woorde, ’n vrou kom die eise van die hele teks na, mits sy lang hare het.

Dit is nie reg nie, want dit is nie dieselfde woord as wat voorheen gebruik is nie. Dit is wel dieselfde woord in Afrikaans, maar nie in Grieks nie. Wat hier uitgewys word, is dat haar lang hare haar bedekking is en die woord vir hare dui op die rede hoekom haar hare haar eer bevorder. Dit is as ’n permanente geskenk aan haar gegee. Dit word nie aan haar gegee in die plek van ’n hoofbedekking nie, maar – volgens die Griekse betekenis – as iets “wat ooreenstem met ’n hoofbedekking”; die twee gaan dus hand aan hand.

Die Griekse woord vir “hare” dui op ‘n permanente bedekking, maar die woord wat vroeër vir “bedekking” gebruik is, verwys na ’n tydelike bedekking, iets soos ’n kledingstuk. Wat Paulus dus probeer sê, is die volgende: Aangesien ’n vrou se langer hare haar eer is, moet dit in die samekoms van die gemeente bedek word sodat dit nie afbreuk doen aan die man se eer nie. Haar hare is nie die hoofbedekking waarna daar vroeër verwys is nie; anders sou die mans hul hoofde moes skeer ten einde hul hoofde onbedek te laat. Paulus sê nie bloot vir die vrou: “Vrou, hou jou hare op jou kop” nie. Dit is in elk geval van nature daar. Hy het nie nodig om so ’n gebod te maak nie. Indien die hoofbedekking bloot die hare was, wat dan van die man wat sy hoof onbedek moet laat? Die logiese gevolg is dat die man sy hoof sal moet skeer voor hy kerk toe gaan. Dit is nie die punt hiervan nie. Die vrou se hare is ’n permanente bedekking wat haar eer is, maar daardie eer moet deur ’n kledingstuk bedek word in die samekoms van die gemeente.

5. Samevatting: 1 Korinthiërs 11:16
Maar as iemand meen om twisgierig te wees, ons het nie so ’n gewoonte nie, en ook die gemeentes van God nie.

Hierdie vers is ’n samevatting, ’n nota vir die twisgieriges. Paulus sê dat geen ander praktyk geld nie, al is daar sommige wat oor dié kwessie wil debatteer. Die woord “ons” verwys na die apostels wat hierdie gebooie kragtens hul apostoliese gesag ingestel het. Die praktyk wat hier genoem word, is die praktyk van hoofbedekking. Paulus wys daarop dat daar geen ander praktyk buiten die hoofbedekking is nie, en dat ’n debat hieroor gelykstaande is daaraan om oor die apostoliese gesag te debatteer. Nie net Paulus beoefen hierdie gebod nie, maar die gemeentes van God volg dieselfde prosedure. Dit is die gewoonte van al die ander plaaslike gemeentes; kultuurverskille het geen betrekking op die kwessie nie, aangesien die kwessie ’n teologiese een is, nie ’n kulturele een nie. Die gebruik was met ander woorde nie uniek in Korinthe nie; al die ander gemeentes het dit ook gevolg.

Selfs al is dit ’n moeilike bybelse reël om vandag na te kom, geld die reël dat ’n vrou se hoof bedek moet wees tydens die samekoms van die gemeente – met ander woorde enige byeenkoms wat deur die ouderlinge saamgeroep is waar hulle teenwoordig moet wees. Deur dit te doen, mag sy dalk deel vorm van ’n minderheid, maar sy sal gehoorsaam wees aan die Woord van die Here.

[end]

Inhoudsopgawe
I. DIE DEFINISIE
II. DIE BESTAANSREDES VAN DIE PLAASLIKE GEMEENTE
III. KERKREGERING
     A. Die Nasionale Uitdrukking van Kerk
     B. Die Hiërargiese of Episkopaalse Uitdrukking
     C. Die Federale of Presbiteriaanse Uitdrukking
     D. Die Gemeentelike Uitdrukking
          1. Om Eenheid te Bewaar
          2. Om die Suiwer Leer en Praktyk te Handhaaf
          3. Om die Ordinansies te Ontvang
          4. Om Amptenare te Kies
          5. Om Tug Toe te Pas
          6. Om ’n Leierskorps Daar te Stel
          7. Slotsom
     E. Die Bybelse Uitdrukking
IV. KERKORGANISASIE EN LEIERSKAP
     A. Die Feit van Organisasie
     B. Ouderlinge
          1. Die Aard van die Amp
          2. Die Aantal Ouderlinge
          3. Tipes Ouderlinge
          4. Die Pligte van ’n Ouderling
          5. Die Rondreisende Ouderling
          6. Kwalifikasies
              a. 1 Timótheüs 3:1-7
              b. Titus 1:6-9
          7. Bevestiging
          8. Beloning
     C. Diakens
          1. Die Aard van die Amp
          2. Die Aantal Diakens
          3. Die Diakens se Pligte
          4. Kwalifikasies
          5. Bevestiging
          6. Beloning
     D. Diakonesse
     E. Die Kudde se Rol
          1. 1 Korinthiërs 16:15-16
          2. 1 Thessalonicense 5:12-13
          3. 1 Timótheüs 5:17-19
          4. 1 Petrus 5:5-6
          5. Hebreërs 13:7, 17 en 24
          6. Perke aan Ouderlinge se Gesag
V. KERKLIKE TUG
     A. Die Noodsaaklikheid en Kategorieë wat Tug Verg
     B. Die Prosedure vir Kerklike Tug: Matthéüs 18:15-20
     C. Die Vorme van Tug
     D. Die Beoefening van Kerklike Tug
     E. Ingesteldhede in Kerklike Tug
     F. Die Uitwerking van Kerklike Tug
VI. DIE SABBAT EN SONDAG
     A. Die Sabbat
          1. Van Adam tot Moses
          2. Van Moses tot Jesus
          3. Die Huidige Bedeling
          4. Die Messiaanse Koninkryk
     B. Sondag
          1. Die Naam
          2. Viering
          3. Geen Opdrag aangaande Sondagviering
VII. DIE SAMEKOMS VAN DIE GEMEENTE
VIII. DIE ROL VAN VROUE IN DIE PLAASLIKE GEMEENTE
     A. Die Beginsel van Onderdanigheid
     B. Die Beginsel van Stilte
     C. Die Beginsel van Onderrig
          1. 1 Timótheüs 2:11-14
          2. Titus 2:3-5
     D. Die Beginsel van die Hoofbedekking
          1. Godgegewe Tradisies: 1 Korinthiërs 11:2
          2. Die Beginsel van Hoofskap: 1 Korinthiërs 11:3
          3. Die Toepassing van die Leer: 1 Korinthiërs 11:4-6
          4. Die Verdediging van die Leer: 1 Korinthiërs 11:7-15
              a. Uit die Skepping: 1 Korinthiërs 11:7-12
              b. Uit die Natuur: 1 Korinthiërs 11:13-15
          5. Samevatting: 1 Korinthiërs 11:16

If you would like to read this article in English, you can find it here.

© 1985, 2005 Ariel Bedieninge. Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie manuskrip mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewers in enige vorm gereproduseer word nie, tensy in kort aanhalings in ’n oorsig of professionele werk. E-pos: Homeoffice@ariel.org • www.ariel.org

Lees nou die volgende artikel.

Die Kerk het twee ordinansies, naamlik die Nagmaal en die Doop. Hierdie studie oor die Nagmaal word in nege afdelings verdeel: die betekenis van die Nagmaal, die Skrifgedeeltes wat gebruik word, die name van die ordinansie, waarom dit kwalifiseer as ’n ordinansie, die doel van die Nagmaal, die gereeldheid waarmee dit beoefen word, die manier waarop dit beoefen word, die voorvereistes vir deelname en die gevare wat dit inhou as jy op onwaardige wyse daaraan deelneem.